SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2Resensies author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.2 Pretoria Jul. 2013

 

BOOK REVIEW

 

Belangrike publikasie oor Kategismusprediking

 

 

Callie Coetzee

Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika

Correspondence

 

 

Book Title: 'De eenvoudige Heidelberger ...!' Een korte geschiedenis van de Catechismuspreek in
Nederland

Book Cover:

 

 

Autor: Arie Baars

ISBN: 978-90-75847-36-9

Publisher: Theologische Universiteit Apeldoorn, 2012, No price available*

*Book price at time of review

In die aanloop tot die herdenking van die 450-jarige bestaan van die Heidelbergse Kategismus in 2013, gee hierdie publikasie in besonder aandag aan die historiese oorsig oor die Kategismusprediking in die Nederlande oor 'n periode van meer as vier eeue. Dit is die eerste en daarom 'n baie belangrike publikasie van hierdie aard wat so 'n 'n volledige historiese oorsig gee en nie beperk is tot 'n bepaalde periode nie.

Die titel is ontleen aan woorde van die bekende teoloog Hermann Friedrich Kohlbrugge, wat op sy sterfbed sou gesê het: 'De Heidelberger! De eenvoudige Heidelberger! Houdt daaraan vast, kinderen! Gij kunt uit uzelven niet één enkele waarheid verstaan; maar het is alles begrepen in deze catechismus, zoals ik het u geleerd heb' (bl. 7). Die skrywer toon dan ook aan hoedat die gereelde Kategismusprediking 'n bepaalde stempel afgedruk het op die kerklike en geestelike lewe in Nederland.

In vier hoofstukke word agtereenvolgens aandag gegee aan die historiese konteks, homiletiese aspekte, dogmatiese en etiese onderwerpe en pastorale en geestelike leiding. Die boek sluit af met 'n aantal konklusies wat grootliks 'n opsomming is van die uitkoms van die onderskeie hoofstukke.

Alhoewel die boek hoofsaaklik handel oor die geskiedenis van Kategismusprediking in Nederland, is dit ook vir ons in Suid-Afrika en veral vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) van besondere belang omdat die kerklike geskiedenis van die negentiende eeu onlosmaaklik verbind is aan die ontwikkelinge in Nederland. Só het Ds Dirk Postma as eerste predikant van die GKSA uit die geledere gekom van die Christelijk Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Nederland, 'n kerk wat teen die agtergrond van die verval in die Nederlande juis die belangrikheid van gereelde Kategismusprediking beklemtoon en toegepas het. So het die GKSA teruggekeer na die Dordtse Kerkorde met die bepaling in Artikel 68 dat die leerprediking elke Sondag moet geskied.

Baars se opmerking op bladsy 21 oor die negatiewe invloed van die postmodernisme op die Kategismusprediking kan ook deur ons ter harte geneem word: 'over het algemeen komen postmoderne mensen niet langer naar de kerk om onderwezen te worden in de leer van de Schrift, maar om geraakt en gevoed te worden in hun religieuze beleving'. Die klem val dus op die ervaring.

Baars gee ook besondere aandag aan die verhouding Skrif en Kategismus, 'n saak wat ook vir ons van besondere belang bly. Ook sy beklemtoning van die fokus wat pastorale en geestelike toespitsing van die leer van die Skrif in die Kategismus ontvang (hfst. 4), is vir die bediening in elke plaaslike gemeente van uiterste belang.

Die publikasie is netjies versorg, stewig gebind en volledig gedokumenteerd met voetnote en bibliografiese verwysings. Dit getuig van deeglike navorsing en word van harte aanbeveel.

 

 

Correspondence:
Callie Coetzee
Posbus 20655
Noordbrug 2522, South Africa
Email: callie.coetzee@nwu.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License