SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2Faith and knowledge in the Heidelberg CatechismTowards a better understanding of forgiveness of sins in the first commentaries on the Heidelberg Catechism author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.2 Cape Town Jul. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die wet is evangelie: Die Heidelbergse Kategismus steeds aktueel na 450 jaar

 

The law is gospel: The Heidelberg Cathecism still relevant after 450 years

 

 

Piet Strauss

Department of Ecclesiology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

In die denke van Martin Luther bestaan daar spanning tussen die wet van God en die evangelie. Vir Luther is liefde die eie werk en die wet die vreemde werk van God. Daarteenoor integreer of versoen Johannes Calvyn God se wet met die evangelie. Hy vertolk die openingswoorde van die wet byvoorbeeld as liefdevol en bevrydend en daarom evangelies. Calvyn beskou die wet as die manier waarop 'n Christen sy liefde vir God uitleef en sy dankaarheid teenoor God vir sy verlossing betoon. Calvyn se siening oor die verhouding tussen die wet en die evangelie het 'n betekenisvolle invloed op die Heidelbergse Kategismus se formulering ten opsigte van hierdie saak. Volgens die Kategismus is die wet evangelie, of die vorm wat die evangelie in die lewe van die mens aanneem.


ABSTRACT

In the thought of Martin Luther tension exists between the law of God and the gospel. Luther regards love as the own work of God and the law as something strange to the Lord. John Calvin, however, integrates Gods law and the gospel to the extent that the opening words of the ten commandments are regarded as words of love and redemption and therefore evangelical. To Calvin the law becomes the way in which a converted Christian lives and shows his gratitude to God for his salvation. Calvin's view on the relationship between law and gospel had a significant influence on the way in which the Heidelberg Cathecism formulates these two concepts. For the Cathecism the law is gospel or the form in which the gospel takes shape in human life.


 

 

Inleiding

'n Problematiese saak wat die aandag van sommige geleerdes van die Protestantse Kerkhervorming van die sestiende eeu besig gehou het, was die verhouding tussen die wet van God en die evangelie.

Terwyl die betekenis van die evangelie redelik duidelik is, kan dieselfde nie van die wet gesê word nie. In hierdie artikel word wet gebruik om die dekaloog - soos dit sedert die derde eeu genoem is - ook genoem die tien gebooie, die tien woorde van God se verbond, of die tora (Hebreeus vir wet), aan te dui (vgl. Ridderbos 1963:101).

Die woord dekaloog (in Grieks deka = 10 en logos = woord) is waarskynlik na Clemens van Alexandrië terug te voer. Moontlik was dit hy wat in die teologiese spraakgebruik hieraan 'n staanplek gegee het (Ursinus sa:496 e.v.; Heyns 1970:28-29).

Spanning tussen die wet en die evangelie is deur die invloedryke Hervormer Martin Luther (c. 1546) en sy teologiese tradisie gestimuleer (die Lutherse Augsburgse Konfessie deur Bettenson: Bettenson 1963:210; vgl. ook Bainton 1978:241 e.v.; Jonker 1965:16-17). Tydsgewys vorm dit 'n deel van die teologiese agtergrond waarteen die Heidelbergse Kategismus van 1563 die wet of dekaloog as geïntegreerd met die evangelie gebruik het.

 

Luther

In die Lutherse teologie met sy klem op die regverdiging deur die geloof, is die wet eintlik as oorbodig beskou. Vanuit 'n antinomisme gesien, is die wet tot die opwekking van 'n sonde- en skuldbesef en die beteueling van die sondige wil by die mens beperk. Dit word nie ook gesien as die positiewe reël vir die lewe of vir 'n dankbaarheidslewe wat op God se verlossing volg nie (Bainton 1978:238; De Jong 1987:208).

Volgens Luther oortuig die wet 'n mens van onmag en skuld en om jou geregtigheid in Christus alleen te soek. Hierdie gebruik van die wet (usus paedagogicus, of elenchticus) beklemtoon hy ten - koste van die wetsgebruik vir die burgerlike samelewing (usus politicus), of as 'n reël van dankbaarheid vir die hele lewe (usus normativus). Gevolglik kry die wet as usus politicus of normativus weinig aandag in die Lutherse teologie. Eksponente van hierdie tradisie onderskei twee ryke in die samelewing, naamlik die kerk as die eie werk (opus propium) of die ryk van God waarvoor die bybelse moraal geld en tweedens die staat en die res van die samelewing wat as God se vreemde werk (opus alienum) aan die ordening van die ryk van die wêreld onderworpe is (De Jong 1987:170-171).

Luther maak die landsvors of die politieke hoof 'n noodbiskop vir die regering (wet) van die kerk - die kerk wat in sy wese geestelik is en deur die bediening van die Woord en die sakramente (evangelie) bepaal word (Kleynhans 1982:70). Die formele kerkregering is 'n noodmaatreël en dus 'n kerkvreemde element. Daarom plaas Luther dit in die hande van die politieke of die landsowerheid (sy landsherrliches Kirchenregiment; Bouwman 1985:215-216; De Jong 1987:171; Kleynhans 1982:69-72).

Dit verbaas dus nie dat Sohm in die verlengde van hierdie tradisie in die laat-negentiende eeu tot die slotsom kom dat die wese van die reg met die wese van die kerk in stryd is nie (1923:1). 'n Spanning tussen God se eie en die vreemde werk - soos in die Lutherse tradisie - moet noodwendig tot so 'n interpretasie lei.

Teenoor die spanning tussen die wet en die evangelie in die Lutherse Protestantisme staan die gereformeerde Protestantisme op die voetspoor van Johannes Calvyn. In die manier waarop die Heidelbergse Kategismus die verhouding tussen die wet en die evangelie omskryf, kan die invloed van Calvyn duidelik gesien word.

 

Calvyn

Calvyn (s.a.:369 e.v.) maak 'n onderskeid tussen soos hy dit noem, die sedewet en die Ou-Testamentiese seremonies.

Vir Calvyn is die Here God 'n geestelike Wetgewer en die wet of tien gebooie dus geestelik. Hy koppel dit aan Romeine 7:14. Volgens hom eis die wet gehoorsaamheid van die siel, die wil en die verstand en reinheid soos dié van die engele. Christus self koppel die gebooie aan die innerlike mens wanneer Hy sê dat elkeen wat sy broer haat, 'n moordenaar is. Die wet van die evangelie, of van Christus soos Calvyn dit noem, oortref die wet van Moses. Christus het nie iets by die wet kom voeg nie, maar dit herstel tot sy suiwer staat. Die leuens van die Fariseërs met hulle veruiterlikte godsdiens het dit verduister (Calvyn s.a.:389-391). Die belofte van genade binne die genadeverbond bind die uitverkorenes om die wet van die Here te gehoorsaam. Hierdie belofte is die keersy van die verbondseis aan die mens om God te gehoorsaam (Calvyn s.a.:398). Die Here gee deur die tien gebooie alles wat op sy eer, vrees en liefde betrekking het, asook alles van die liefde wat ons om sy ontwil aan mekaar moet bewys (Calvyn s.a.:396).

Volgens Calvyn verhoed die inleidende sin van die dekaloog, 'Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, die plek van slawerny bevry het ...', dat die majesteit van God se wet verag word. Dit onderstreep sy mag en reg om te heers en bind die uitverkorenes geestelik aan gehoorsaamheid van sy wet. Dit getuig van sy genade en bevryding én die reg om te gebied en gehoorsaamheid te eis (Calvyn s.a.:397-398). Die wet leer die gelowiges nie net om uiterlik eerbaar te lewe nie, maar vorm hulle om innerlik regverdig te wees (Calvyn s.a.:389). In hierdie sin is die wet dus ook evangelie.

Calvyn praat wel van die drieledige gebruik van die wet (die usus triplex, of tertius usus). Hy gee die volgende omskrywing daarvan.

In die eerste plek herinner die wet die mens aan sy sonde en ongeregtigheid. Die mens wat verblind is deur selfliefde moet tot kennis van sy swakheid, onreinheid en hoogmoed of gewaande beterweterigheid gebring word. Die mens moet insien dat hy nie heilig is nie, maar vol ontelbare foute. Die wet is 'n spieël waarin die mens sy eie onmag, ongeregtigheid en vervloeking aanskou: 'n tugmeester na God toe (Calvyn s.a.:370-374).

In die tweede plek bedwing die wet die kwaad. Dit gebeur deur vrees by mense vir die straf wat op die oortreding van die wet volg. Oortreders bekommer hulle nie oor reg en geregtigheid nie en word teen hulle wil aan die wet onderwerp. Gedwonge geregtigheid is egter nodig vir die menslike samelewing. Dit bring rus en sorg dat alles nie in verwarring raak nie. Hierdie gebruik van die wet maak die kinders van God vóór hulle bekering al gewoond om die juk van geregtigheid te dra (Calvyn s.a.:374-376).

In die derde plek leer die wet die gelowiges in wie se hart die Heilige Gees heers, om beter te leer wat die wil van die Here is en in die kennis daarvan versterk te word. Alle gelowiges het hierdie onderwysing nodig. Voortdurende onderrig in die wet spoor hulle aan tot gehoorsaamheid aan God teenoor ongehoorsaamheid. Psalm 19:8-9 sing van die nut van die wet, naamlik dat dit die siel van die mens verkwik en sy oë verlig. Dit gebeur, aldus Calvyn (s.a.:376-378), met mense aan wie God die bereidheid skenk om gehoorsaam te leef.

Calvyn, volgens Van den Berg (1967:46), handhaaf dus 'n drieërlei, onlosmaaklike gebruik (let op die enkelvoud - PJS) van die wet, naamlik die usus elenchticus [die sonde-onthullende gebruik van die wet], usus politicus [norm vir die samelewing] en usus normativus [reël van dankbaarheid of rigsnoer vir die verlosde lewe]. Veral die eerste en die derde gebruik kom in die Heidelbergse Kategismus na vore. Van den Berg noem die impak daarvan respektiewelik vernedering en vernuwing by die mens. Hierdie twee sake het 'n onlosmaaklike samehang en volg op 'n grondige ontmoeting van die sondaarmens met die wet, wat die Kategismus nooit los van die evangelie hanteer nie, en volg daarom ook terselfdertyd op 'n grondige ontmoeting met die evangelie. Volgens Van den Berg (1967:47), lê die wet en die evangelie op hierdie wyse bymekaar. Volgens hom vorm dit 'n onlosmaaklike eenheid in die verkondiging van die kerk.

Twee opvallende perspektiewe op die wet is by Calvyn sigbaar. Die eerste is sy oortuiging dat die wet allesomvattend geld en rigting gee aan 'n lewensomvattende nuwe lewe voor God. Nie net wys die wet die sonde van die mens as omvattend (dit infiltreer elke faset van die mens se bestaan) en ingrypend (dit lei tot die ewige dood) uit nie, maar dit stuur die totale menslike lewe en die samelewing om God in alles te gehoorsaam. Die wet word lewensomvattend gegee1 as tugmeester vir die sonde en die norm vir reg en geregtigheid in die samelewing en vir 'n lewe van gehoorsaamheid.

Die tweede perspektief is Calvyn se verskil met Luther. Vir Calvyn raak die wet nie oorbodig in die lewe van die mens wanneer dit as tugmeester die mens van sy sonde en onmag oortuig het nie. As God se Gees die mens oortuig om sy heilsboodskap te aanvaar en te gehoorsaam, oortuig Hy hom ook om sy wet te aanvaar en te gehoorsaam. Soos die Gees die mens deur die Woord oortuig om in God te glo, so oortuig Hy hom deur die Woord én die wet om omvattend vir die Here te lewe - op basis van die Woord en die wet.

Van den Berg (1967:38) oordeel dat Calvyn die wet en die evangelie in harmonie met mekaar sien. Die wet vorm nie 'n selfstandige heilsweg (redding uit die nalewing van die wet) nie, maar skep die ruimte waarbinne die verlossing in Christus belewe word met die vreugde van 'n nuwe gehoorsaamheid.

 

Die Heidelbergse Kategismus

In ooreenstemming met hierdie redenering, koppel Sondag 33 van die Heidelbergse Kategismus die 'ware bekering' aan die afsterwing van die ou en die opstanding van die nuwe mens. Die nuwe mens doen goeie werke uit 'n ware geloof volgens die wet van God tot sy eer (vraag en antwoord 91). Die manier waarop die Gees van die Here gehoorsaamheid aan die mens skenk, is om hom te oortuig van sy Woord en wet. Die wet en die evangelie loop by Calvyn én die Kategismus ineen en is ten nouste met mekaar verweef. Daarom hanteer die Kategismus die uitlewing van die wet van God (die dekaloog) onder sy derde deel, naamlik die 'natuurlike', spontane dankbaarheid van die mens vir sy verlossing van sondeskuld en -smet op grond van die Here se genade. Dit loop deur van Sondag 32 tot Sondag 52 (vgl. die mede-opsteller, Ursinus, se argumente hiervoor in 1978:250, 254). Hier is weereens sprake van 'n lewensomvattende benadering.

Soos Calvyn, betoog die Kategismus ook dat die sentrale rol van die wet in die bekering van die mens op 'n totale, lewensomvattende benadering dui. God bekeer die hele mens deur sy Gees, Woord en wet. In die woorde van 2 Korintiërs 5:17: 'Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dieselfde spreek uit Kolossense 1:20: 'Hy (God) het deur Hom (Christus) alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen' (kursivering - telkens PJS; vgl. ook Heyns 1970:60).

Zacharias Ursinus verklaar in sy kommentaar op die Kategismus dat die dekaloog innerlik en uiterlik 'volkomen gehoorzaamheid' van die verstand, wil en hart '... in alle werken vereis. Dit is die norm vir goeie werke en gehoorsaamheid daaraan maak 'n substansiële deel van bekering uit (Ursinus 1978:250). Meer lewensomvattend kan hy die saak nouliks stel.

Calvyn (s.a.:384) glo dat die diens wat die Here eenmaal deur die tien gebooie voorgeskryf het, steeds van krag is. Die Jode het daaruit geleer wat die ware vroomheid of godsdiens is en dat hulle daarvoor op Christus as die Middelaar aangewese is. Soos Calvyn, noem Ursinus die tien gebooie die altydgeldende 'zedewet' van God (1978:221).

Vir Calvyn is die wet en die evangelie twee kante van dieselfde munt.

In ooreenstemming hiermee bely Sondag 32 van die Kategismus onder sy derde deel, naamlik 'Die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is', dat 'ons met ons hele lewe (moet) bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade ...'. Dit impliseer die bekering van die hele mens wat op die opstanding van die nuwe mens uitloop - die nuwe mens wat met lus en liefde volgens die wet van God 'in alle goeie werke' tot sy eer lewe (NGK 1988:210; vgl. Ursinus 1978:200-201).

Deuteronomium 6:4-5 neem dieselfde saak op: 'Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag'. Wanneer gelowiges op God se reddende liefde antwoord, moet hulle (die verbondsvolk) uit hartgrondige dankbaarheid met hart en siel en al hulle krag reageer (kursivering - PJS). Al hulle krag is hier die keersy van die Kategismus se hele lewe.

Vir die Kategismus bestaan die hele lewe, wat 'n lewe van dankbaarheid vir God se verlossing is, uit twee dele wat alles saamvat, naamlik die wet of tien gebooie en die gebed of Ons Vader (NGK 1988:209-222).

Die wet en die evangelie staan in die Heidelbergse Kategismus dus nie vreemd teenoor mekaar soos by Luther nie. Inteendeel, dit is vervleg, werk as 'n eenheid en komplementeer mekaar. Die evangelie is op die bekering van die totale mens gerig en sluit die wet as die norm daarvoor in. Die dekaloog is die norm, die patroon of kanon vir die nuwe bekeerde lewe: 'n samevatting van die geopenbaarde wil van God vir die lewe van die mens (Van den Berg 1967:33-34).

Die Heidelbergse Kategismus: Die tien gebooie

Die Kategismus begin met die vraag (vraag en antwoord 92): 'Hoe lui die wet van die Here?'

In die Kategismus begin die wet met die woorde: 'Ek is die HERE, jou God wat ...'

By implikasie is die uitleg van die gebooie as lewenseise vir die gelowiges 'n saak wat voortvloei uit die antwoord - op die vraag van wie die 'HERE jou God' is en wat Hy gedoen het of steeds doen om hierdie eise te mag stel. Die inleidende sin wanneer Moses die wet aan Israel in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 deurgee, word in die Kategismus se verklaring daarvan as deel van die wet opgeneem.

In sy kommentaar op die Kategismus maak Ursinus hierdie inleidende sin deel van die tien gebooie en wel van die eerste gebod, naamlik 'jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie'. Volgens hom is al die ander gebooie hierby inbegrepe. Om die eerste gebod te gehoorsaam, moet 'n mens al die gebooie gehoorsaam. Alle dinge moet immers uit liefde vir God en alleen om sy eer gedoen word. Hom moet 'n mens bo alles liefhê en groot maak (Ursinus 1978:250). Ursinus volg Calvyn op hierdie punt wanneer Calvyn verklaar dat hierdie sin 'n voorrede en deel van die wet is. Dit bevestig die gesag van die Here om sy wet aan die mens deur te gee, naamlik sy belofte van genade of begenadiging en daarom ook sy verbond met sy mense. Die HERE jou God is ook die God van sy genadeverbond waarbinne Hy vir Hom 'n gelowige volk roep en versamel (Calvyn s.a.:397-400).

In teenstelling met 'n populêre opvatting wat hierdie kort inleiding die opskrif van die wet noem, oordeel Van Minnen - soos die Kategismus - dat dit deel van die wet moet wees. Volgens hom is die tien gebooie wat hierop volg 'n verdere uitbouing van hierdie sin. Van Minnen (1967) vervolg:

Een andere wet dan deze eerste zin is er eigenlijk niet. Maar de Here komt ons enigermate te hulp door tienvoudig aan te geven wat deze wet impliceert ... (bl. 50)

Die kort inleiding vertel dat die Here Israel uit Egipte bevry het om te beantwoord aan sy oorspronklike doel, naamlik om die akker te wees waarop die saad van God se belofte van verlossing aan die wêreld uitgestrooi word. Hierdie bevryding stel Israel vry om as hierdie akker bewerk en versorg te word. Die eintlike doel was om Israel en deur hom die hele wêreld, vir die herstel van God se seggenskap en heerskappy voor te berei. God se bevryding van Israel uit die Egiptiese slawerny beteken dat Israel die verbondseiendom van God is en dat Hy op hulle gehoorsaamheid geregtig is. In verbondsterme beteken dit dat die Here uit liefde en genade die God van Israel word, wat weer impliseer dat hulle uit liefde met gehoorsaamheid moet antwoord.

Na die donker dae in die slawehuis van Egipte kon die verhouding tussen die Here en Israel, nadat hulle deur Hom bevry is, nie meer dieselfde wees nie. Die Here se wet of aanspraak op Israel moes vanuit sy vroeëre onbevangenheid meer intensief bewoord en konkreet omlyn word. Die opskrif moes verder uitgewerk word in die geformuleerde gebooie (Van Minnen 1967:50).

Die kort inleiding voorkom die misverstand dat die tien gebooie 'n soort begin van God se verbondsvolk of diegene wat aan Hom behoort, sou wees. Dit wys dat die tien gebooie as 'n slotsom of einde volg op God se ingrype as die bevryder in die lewe van sy volk. Dit wys die standpunt van sommige Christene af dat die mens se gehoorsaamheid aan die wet - meebring dat die Here sy God wil wees. Die Here verbind Hom aan ons, nie omdat ons die wet uitleef nie, maar sodat ons die wet kan uitleef. Hy word ons bevrydende God, nie omdat ons Hom daartoe verplig deur ons gehoorsaamheid aan die wet nie, maar omdat Hy uit liefde en genade besluit het om ons God te wees; 'n God wat dan gehoorsaamheid aan sy wet as 'n bevryding van die ongehoorsaamheid, aan sy kinders skenk (Van Minnen 1967:51; vgl. Heyns 1970:26).

Die kort inleiding toon dat die wet evangelie is en alleen as evangelie reg verstaan kan word. Eintlik gaan dit hier nie om die wet (tien gebooie) met 'n inleidende sin as die opskrif nie, maar om die wet (of inleidende sin) met 'n aanhangsel (die tien gebooie). Indien dit sodanig verstaan word, is die wet suiwer evangelie (Van Minnen 1967:52). Die Heidelbergse Kategismus se insluiting van die inleidende sin by die wet van God vertoon ook hierdie insig. Dit gee gestalte aan die tradisie van Calvyn wat die wet en die evangelie nie teenoor mekaar plaas nie, maar eerder versoen en integreer.

By implikasie erken dit Calvyn se standpunt dat die wet se inleidende sin van God se genade en bevryding getuig en daarom het God reg om gehoorsaamheid aan sy wet te gebied. Dit impliseer verder dat die wet, waarvan hierdie sin deel uitmaak, die uitverkorenes geestelik bind en van ongehoorsaamheid bevry en juis dáárom voluit evangelie is en evangelies werk (Calvyn s.a.:397-398). Anders gestel: die dekaloog bevat hiermee die eis dat die mens die enigste ware God in Christus ken en uit dankbaarheid dien vir die verlossing wat Hy in Christus deur die evangelie bewerk het (Ridderbos 1963:107).

Heyns sluit hom by die denktradisie van Calvyn aan wanneer hy aanvoer dat God se handelinge genadige handelinge is waarin die evangelie die indikatiewe en responsiewe elemente en die wet die imperatiewe elemente verteenwoordig. Hy noem die wet die voltooide evangelie en die evangelie die voltooide wet. Volgens Heyns (1970:46) is die wet die vorm wat die evangelie in die menslike lewe aanneem (of die openbaringsvorm van die liefde; Heyns 1970:42). Hiervoor vind hy aansluiting by Karl Barth wat beweer dat die wet niks anders as die vorm van die evangelie is nie (vgl. Van den Berg 1967:41).

Die wet waarborg 'n lewe van kwaliteit

In dieselfde evangeliese tradisie van verlossing en bevryding noem Veldkamp die tien gebooie nie hand- en voetboeie nie, maar 'bevrijders van ons bestaan'. Vir hom is die wet oor die hele lewenslinie heen 'n seën. God se 'Jy mag nie ...' klink streng, maar dit is gelaai met liefde vir sy verbondskinders. Hy is immers 'die Here jou God ...'. Hy bevry sy volk van die strikke van sonde en ongehoorsaamheid (Veldkamp 1975:138).

Die wet moet nie met die donder op Sinai verbind word nie, maar die seën van dou; met 'n bewaarengel wat sorg dat ons nie ons voet teen 'n klip stamp nie. In hierdie donker lewe na die sondeval is daar geen dagbreek indien die mens nie na die wet terugkeer nie:

... wat de lucht voor de longen, en het water voor de vissen is, wat regen en dauw zijn voor het veld en rails voor de spoortrein, dat is de wet Gods voor her menselijk leven ... breek de rails (de wet) op, en de (levens-) trein deraillert! (Veldkamp 1975:138)

God gee deur sy wet 'n beskermende skild vir ons bestaan en die lewe: vir die heiligheid van die huwelik, vir ons eiendom en goeie naam (Veldkamp 1975:138). Wanneer die mens oor die hele lewenslinie heen God se wet gehoorsaam, sal alle sosiale en maatskaplike vraagstukke, alle internasionale probleme, ook van oorlog en vrede, met een slag opgelos word. Geen nuwe, beter wêreld is moontlik buite God se wet om nie. Die wet is die lug of die omgewing waarin ons moet lewe. Vanuit hierdie oogpunt is Psalm 19 en 119 lofliedere op God se wet. In plaas van 'n dwangbuis waarbinne ons moet lewe, is dit 'n weldaad (Veldkamp 1975:139).

Die kerk het vandag nog dieselfde roeping as Israel van ouds. Die kerk moet die wil van die Here aan mense deurgee en voorlê aan die gewete van almal. In die prediking moet die stem van Johannes die Doper deurklink wat nie skroom om aan die vors te sê: Dit mag jy nie doen nie (Veldkamp 1975:141)!

Wanneer die Kategismus in Sondag 33 oor bekering handel, is dit 'n staf van God wat ons in staat stel om die smalle bybelse pad te loop (Veldkamp 1975:142).

In dieselfde trant beweer Heyns (1970:35) dat soos God se wette vir die mens se asemhaling en bloedsomloop 'n natuurlike, noodsaaklikheid is, so is sy wette ook vir die godsdienstig-sedelike lewe van die mens. Dit is by die skepping in die mens se hart ingeskryf om spontaan en ongedwonge daarvolgens te lewe. Hierdie skeppingswet word in die kern van die dekaloog weerspieël.

Wat God in sy wet gee, is vir die heil en voortbestaan van die mens - álle mense binne en buite die verbond. So kan 'n bende diewe nie funksioneer as hulle by mekaar steel nie en 'n afdeling soldate nie die vyand effektief uitwis as hulle mekaar om die lewe bring nie. Nadat die Russiese Rewolusie van 1917 probeer het om die huwelik ongedaan te maak en vrye liefde en vrye aborsie te bevorder, het hordes, wilde, huislose kinders 'n bedreiging vir die Soviet Unie geword. Boonop het mense neuroses begin ontwikkel wat die werk in die genasionaliseerde fabrieke aangetas het (Heyns 1970:38-39).

Die wet van God lê 'n noodsaaklike orde neer vir elke samelewing (Heyns 1970:93). Waar wette heers en gehoorsaam word, heers daar orde in plaas van chaos (Heyns 1970:20). Die dekaloog is beskryf as die 'grondliggende lewensordening' van die volk van God en ook as die 'grondwet van Israel se godsdiens' (Heyns 1970:30).

 

Die Heidelbergse Kategismus is steeds aktueel na 450 jaar

Die wet is liefde of die vorm wat die liefde of die evangelie in die menslike lewe aanneem. Die wet en die evangelie is twee kante van dieselfde munt. Die liefde neem vorm aan in die uitlewing van die tien gebooie en die tien gebooie word in die sentrale liefdesgebod of liefdeswet saamgevat of opgesom.

Net soos die evangelie en die sentrale liefdesgebod na bykans 2000 jaar aktueel bly, so bly die Heidelbergse Kategismus met sy belydenis en insig dat die wet evangelie is, na 450 jaar ook steeds aktueel.

Bekering volgens die Woord en die wet van God en tot sy eer bly immers aktueel. Die relevansie daarvan vir 'n sinvolle lewensbestaan deur die mens, sal nooit verflou nie - nie in hierdie wêreld as God se wêreld nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bainton, R., 1978, Here I stand: The classic biography of Martin Luther, Lion Publishing Pics., Herts.         [ Links ]

Bettenson, H., 1963, Documents of the Christian church, 2nd edn., Oxford, London.         [ Links ]

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd kerkrecht, Deel 1, De Groot Goudriaan, Kampen.         [ Links ]

Calvyn, J., s.a., Institutie, vertaling van A. Sizoo, Meinema, Delft.         [ Links ]

De Jong, O.J., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1970, Die nuwe mens onderweg, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., 1982, Gereformeerde kerkreg, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

NG Kerk, 1988, Handboek vir die erediens, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Ridderbos, J., 1963, Deuteronomium, Kok, Kampen.         [ Links ]

Sohm, R., 1923, Das Kirchenrecht, Teil 1, Von Dancker & Humbolt, Leipzig.         [ Links ]

Ursinus, Z., s.a., Commentary on Heidelberg Cathechism, Presbyterian & Reformed Publishing, Philipsburg.         [ Links ]

Ursinus, Z., 1978, Schatboek, Deel 2, Vertaling deur Festus Hommius, Van den Tol, Dordrecht.         [ Links ]

Van den Berg, J., 1967, 'Wetsprediking in historisch perspektief', in A.S. van der Woude, Th. Delleman, H.M. Kuitert, J.M. van Minnen, R. Schipper & R.J. van der Veen (eds.), De thora in de thora, Deel 1, bl. 30-49, De Graafschap, Aalten.         [ Links ]

Van Minnen, J.M., 1967, 'Opschrift', in A.S. van der Woude, Th. Delleman, H.M. Kuitert, J. van den Berg, R. Schipper & R.J. van der Veen (eds.), De thora in de thora, Deel 1, bl. 50-52, De Graafschap, Aalten.         [ Links ]

Veldkamp, H., 1975, Zondagskinderen, Wever, Franeker. PMid:1098730, PMCid:PMC1046555        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
PO Box 339
Bloemfontein 9300, South Africa
Email: straussp@ufs.ac.za

Received: 21 Feb. 2013
Accepted: 25 July 2013
Published: 16 Sept. 2013

 

 

1. Heyns (1970:26) sluit hom by hierdie gedagtegang aan as hy aanvoer dat 'onder tora (wet) ... die totaliteit van God se genadige handelinge met sy volk' verstaan kan word. Hieronder betrek hy onder meer die uitverkiesing, verbond en die onderwysende karakter van die tora vir die lewe.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License