SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2The Heidelberg Catechism on people as the image of GodCosmologies of the ancient Mediterranean world author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.2 Cape Town Jul. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die eerste vertalings van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans

 

The first translations of the Heidelberg Catechism in Afrikaans

 

 

Dolf Britz

Jonathan Edwards Centre Africa, University of the Free State, South Africa

Correspondence to

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel diep die geskiedenis van die eerste vertalings van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans uit die primêre bronne op. Die Belydenisskrifte (insluitende die Kategismus) is gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu in Afrikaans oorgesit tydens 'n vertalingsprojek waaraan die drie Hollands-Afrikaanse Kerke van gereformeerde belydenis saamgewerk het. In hierdie geskiedenis kan drie fases onderskei word. Die aanvanklike fase (1913-1927) eindig in die gemeenskaplike oortuiging dat die werk aan die Bybelvertalers oorgelaat moet word. Daarmee is beslag gegee aan 'n tweede fase (1927-1936). In 1936 is die vertaling voltooi en in 'n Formulierboek vir die 'drie Hollandse Kerke' gepubliseer. Die derde fase (1936-1950) behels die ontvangs van die Formulierboek. Slegs die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA) het die vertaling amptelik aanvaar, omdat dit op die Nederlandse teksuitgawe berus het wat F.L. Rutgers in samewerking met Herman Bavinck en Abraham Kuyper in 1897 vir die Gereformeerde Kerken in Nederland besorg het. Die ander twee Kerke het aansluiting gevind by hulle eie negentiende-eeuse tekstradisie. In 1945 het die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) 'n eie vertaling as Belydenisskrifte, gebede en formuliere die lig laat sien. Hierdie vertaling is gebaseer op die (Nederlandse) krities bewerkte teksuitgawe wat Van Toornenbergen in sy boek, De symbolische schriften (1895), opgeneem het. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het in 1950 sy vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere voltooi. Dit is hoofsaaklik geanker in die (Nederlandse) tekste van die Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika (1907), wat op sy beurt ook in ooreenstemming was met die tekstradisie waarmee Van Toornenbergen gewerk het.


ABSTRACT

 This article traces the history of the first Afrikaans translations of the Heidelberg Catechism from primary sources. In a mutual project the three Dutch-Afrikaans and reformed churches translated their Doctrinal Standards (including the Catechism) during the first half of the twentieth century in Afrikaans. In this regard three phases can be distinguished. The initial phase (1913-1927) ended in the decision to assign the work of translation to the Bible translators. That inaugurated the second phase (1927-1936). In 1936, their translation was completed and a Formulierboek was published for the 'three Dutch Churches'. The reception of the Formulierboek constituted the third distinctive phase (1936-1950). Only the Reformed Church in South Africa (GKSA) officially accepted the translation, because it was based on the recognised Dutch text edition prepared by F.L. Rutgers in collaboration with Herman Bavinck and Abraham Kuyper for the Reformed Churches in the Netherlands in 1897. The other two Afrikaans Churches followed different text editions. In 1945, the Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) published its own translation of the Belydenisskrifte, gebede en formuliere. This translation is based on the (Dutch) critically edited text edition of Van Toornenbergen, published in his book, De symbolische schriften (1895). In 1950 the Dutch Reformed Church (NGK) received its translation of the Doctrinal Standards and Formularies. This translation was rooted in the (Dutch) texts of the Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika (1907), which was in turn also embedded in the Van Toornenbergen text tradition.


 

 

Inleiding

In 1936 het die 'Drie Hollandse Kerke in Suid-Afrika' die Drie Formuliere van Enigheid en die Liturgie in Afrikaans ontvang. Dit is deur die Bybelvertalers vertaal, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie wat die drie 'Hollandse Kerke' verteenwoordig het. Hiermee het hierdie Kerke, wat gedurende die negentiende eeu uiteengeloop het, hulle belydenis en liturgiese geskrifte in 'n gemeenskaplike Formulierboek ter hand gehad. Kerkhistories en teologies was die verskyning van Die Formulierboek dus van besondere betekenis, omdat dit die onderskeie Kerke (in die omgangstaal bekend as die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk) gehelp het aan 'n Formulierboek waarin die belydenisskrifte en liturgiese formuliere vir al drie kerke dieselfde was.

Hierdie artikel fokus op die Heidelbergse Kategismus wat uiteraard in die Formulierboek opgeneem is. Dit was die eerste vertaling van die Kategismus in Afrikaans (Formulierboek 1936:34-77). Die vraag is hoe hierdie vertaling van die belydenisskrifte én die liturgiese formuliere deur die onderskeie Kerke ontvang is. Watter grondteks het die Bybelvertalers gebruik vir hulle vertalingswerk? Hierdie vrae is tersaaklik wanneer die interessante geskiedenis wat op die eerste vertaling van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans uitgeloop het, nagegaan word vanuit die primêre bronne. Hierdie geskiedenis lê hoofsaaklik in die besluite van vertalingskommissies, kerklike vergaderings en sinodes opgesluit wat tussen 1913 en 1950 plaasgevind het.

 

In die Gereformeerde Kerk word aangedring op die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere 1913-1918

In 1913 is vir die eerste keer op 'n kerklike vergadering gevra dat onder andere die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans vertaal moet word. Dit was die predikant van die Gereformeerde Kerk Phillipstown, dominee J.H. du Plessis, wat by die Sinode van die Gereformeerde Gemeenten van Zuid-Afrika, in sitting te Steynsburg gedurende Maart 1913, in 'n beskrywingspunt versoek dat:

De Synode besluite om de Dordtse Kerkenorde, zooals tans in onze Kerk in gebruik, alsmede de Nederlandse Geloofsbelijdenis, de Katechismus en de vijf Artikelen tegen de Remonstranten in het Afrikaans te laten vertalen. (GKSA 1913:55)

Dit het 'n bespreking uitgelok. Sommige afgevaardigdes het gemeen dat die Kerk nog nie ryp daarvoor is nie. Ander het weer gevoel dat dit eintlik 'n privaat saak is.1 Die Sinode gaan 'n eie weg op. 'n Kommissie (bestaande uit ds. J.H. Krüger, dr. J.D. du Toit en ds. J.H. du Plessis) word benoem om te kyk in hoeverre gevolg gegee kan word aan hierdie beskrywingspunt en 'n rapport by die volgende sinode uit te bring (GKSA 1913:56).

By die Algemene Synodale Vergadering van 1918, wat gedurende Augustus in die Vrystaatse dorp Reddersburg byeenkom, is die 1913-kommissie met 'n verslag gereed. Ses veelseggende punte word gestel:

1. 'n Vertaling in Afrikaans van die Kerkorde en Formuliere van Enigheid, sowel as die Liturgiese Geskrifte, is wenslik. Die Sinode word gevra om onverwyld 'n kommissie te benoem om met die werk te begin.

2. Die kommissie moet oorleg pleeg met die twee ander 'Hollandse Kerke' in Suid-Afrika, sodat hulle ook die geleentheid sou hê om 'n vertaalkommissie te benoem.

3. Daar moet ook sorg gedra word dat 'ons beginsels' by die vertaling nie skade sou ly nie.

4. Lang sinne veral in die liturgie moet korter gemaak word sodat die liturg dit makliker kan lees en die hoorder dit eweneens beter kan volg.

5. Die stukke wat uit die Heilige Skrif geneem word, moet in oorleg met die Bybelvertalers vertaal word.

6. Die kommissie voorsien ook 'n spoedige uitgawe van die Kategismus vir gebruik in die huis en die skool (GKSA 1918:97).

Hierdie verslag kom ter tafel saam met 'n beskrywingspunt van die Burgersdorpse gemeente wat die Sinode eweneens vra 'om onse Kategismus, andere Belijdenisskrifte en Formuliere in Afrikaans te vertaal' (GKSA 1918:33). Vir die Sinode was die saak nou sonder meer uitgemaak en sowel die verslag as die beskrywingspunt word aanvaar. 'n Kommissie word dus benoem om 'onse Formuliere van Enigheid en Liturgie in Afrikaans oor te sit' (GKSA 1918:33). Daar word ook besluit om tien reviseurs te benoem, met die oog daarop dat die werk binne ses maande afgehandel sou wees, dat dit in gedrukte vorm aan kerkrade en lidmate beskikbaar gestel sou word, en dat die volgende Sinode finaal oor die aanvaarding van die oorsetting sou besluit (GKSA 1918:33).

By hierdie Sinode het die saak van 'n Afrikaanse vertaling van die Liturgiese Geskrifte dus dieper inslag gevind. Kerkhistories moet dit in verband gesien word met die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die Afrikaanse taal was 'n gemeenskaplike aangeleentheid, wat die 'Hollandse Kerke' aan mekaar verbind het - 'n gegewe wat al sterker op erkenning aangedring het. Sedert 1916 het die GKSA en die NGK begin saamwerk om die Statevertaling in Afrikaans beskikbaar te maak. Dit is die rede waarom die kommissie in punt twee vra dat met die 'twee ander Hollandse Kerke' in gesprek getree moet word en punt vyf daarvan gewag gemaak het dat die Bybeltekste in oorleg met die Bybelvertalers vertaal moet word. Dit is duidelik dat hier aan Nederlandse tekste gedink is, ook wat die Belydenisskrifte en Formuliere betref.

 

Die saak kom op die tafel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: Maart 1919

As lid van die Vertalingskommissie was dominee W. Postma, predikant van die Gereformeerde Kerk Reddersburg, nie seker of die saak 'bij U. E. thuis behoort nie of bij verschillende Prov. Sinodes,' skryf hy op 07 September 1918 aan die Skriba van die Federale Raad van NG Kerke (NGK 1919b:7). Nietemin deel hy aan die Raad mee dat die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika op 22 Augustus 1918 besluit het 'om oor te gaan tot die oorsetting in Afrikaans van onse Belijdenisskrifte, Formuliere, ens.' (NGK 1919b:7). Hierbenewens moes in oorleg getree word met 'die ander Hollandse Kerke in Suid-Afrika om vas te stel of hulle aan hierdie werk wil deelneem' deur ook vertalers en reviseurs te benoem soos die GKSA reeds gedoen het (NGK 1919b:7).

Hierdie brief het die saak in verband met die vertaling van die belydenisskrifte dus op die (regte) tafel van die NGK gebring. Ses lede van die Federale Raad was van mening dat 'aangezien de vertaling van den Bijbel in het Afrikaansch nog niet voltooid is, en de Raad nog onzeker is, of zoodanige vertaling goede ontvangst zal erlangen,' vir eers nie met die vertaling van die belydenisskrifte te begin nie (NGK 1919b:22). Sestien lede was egter oortuig dat daar onmiddellik saamgewerk moes word. Daarom is besluit om die 'verschillende Synoden' (d.w.s. die NG Kerk in Suid-Afrika [die Kaapse Kerk], die NG Kerk in die Oranje Vrystaat [die Vrystaatse Kerk], die NG Kerk in Natal [die Natalse Kerk] en die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika [die Transvaalse Kerk]) te vra om samewerking te verleen deur vertalers en reviseurs te benoem (NGK 1919b:22, 23). Daarmee is die voorneme om die Belydenisskrifte (en dus ook die Heidelbergse Kategismus) in Afrikaans te vertaal, amptelik na die vier NG Sinodes vir besluitneming verwys.

Die saak was egter toe reeds rugbaar, ten minste by die 26e Sinodale Vergadering van die NG Kerk in die OVS, wat gedurende April 1919 in Bloemfontein byeen was. In 'n beskrywingspunt vra die predikant van Senekal, dominee H.J. Pienaar (NGK 1919a:2), dat die Sinode 'hare goedkeuring geve aan een oversetting en het gebruik van onze Belijdenisschriften (ook het Kort Begrip) en Formulieren in het Afrikaanse taal, en stelle een Kommissie aan ter uitvoering van deze oversetting' (NGK 1919a:167). Hierdie besprekingspunt lok intense diskussie uit. Vir ouderlinge Edward Roberts (Bloemfontein) en A.J. Nel (Winburg) het die tyd hiervoor nog nie aangebreek nie. Wat hulle betref was dit onnodig 'voor de bevordering van onze openbare Erediensten, en de uitbreiding van Gods Koninkryk' (NGK 1919a:76). Hierbenewens is dit ook ongewens, omdat dit tot ergernis, skeuring en skeiding in die (NG) Kerk kan lei, veral omdat hiermee 'aanstoot zal gegeven worden aan andersdenkenden'. Hulle meen ook dat die aandrang op hierdie Afrikaanse vertalingsbeweging nie uit gemeentelede voortgevloei het nie, maar 'geboren is uit de Kerkregeringen, binnen de laatste twee of drie jaren'. Dit het verder ook duidelik geblyk dat 'n groot gedeelte van die gemeentelede, predikante en professore en 'andere hooggeplaatste personen onzer kerk', meen hulle, teen hierdie beweging was. Hulle is ook oortuig dat daar nog geen beswaar geopper is teen die bestaande kerklike boeke nie. Almal was tot nog toe tevrede. Indien die Belydenisskrifte in Afrikaans vertaal sou word, voer hulle verder aan, sou die naam van die Kerk ook noodwendig verander moes word - 'daar het ongerijmd zou wezen de Kerk onder de naam van Ned. Geref. Kerk te laten blijven' (NGK 1919a:77).

Die kerklike boeke waarna hulle verwys, sluit ongetwyfeld in die Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika wat de Catechismus, Geloofs-belijdenis, Kort Begrip der Christelijke Leer, Leerregelen van de Synode van Dordrecht en Liturgie van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika bevat het (1907), en sekerlik ook De Formulieren van Eenigheid met de drie oude Geloofsbelijdenissen, en hare Liturgie met het Kort Begrip en den Ziekentroost soos opgeneem in die Psalm en Gesangboeke (vgl. Het Boek der Psalmen nevens de Gezangen, 1932). Op voorstel van die predikante van Kestell (ds. E.J.P. Smit; NGK 1919a:3) en Odendaalsrus (ds. P.S.Z. Coetzee; NGK 1919a:3) word hierdie beskrywingspunt die besluit van die Sinode en word die beswaar van die twee ouderlinge dus afgewys (NGK 1919a:77).

Klaarblyklik was die tyd nou ryp, nie net vir die vertaling van die Bybel, die Belydenisskrifte en Formuliere in Afrikaans nie, maar ook vir samewerking tussen die drie 'Hollandse Kerke' (GKSA 1920:85). Toe die Raad van Gefedereerde NG Kerke in 1921 op die saak in verband met die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere terugkom, kon hy kennis neem dat die Sinodes van die Transvaalse Kerk, die Vrystaatse Kerk en die Natalse Kerk dit reeds goedgekeur het (NGK 1921:32, 33, 34, 78). Die Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika (die Kaapse Kerk) het die saak nie in behandeling geneem nie (NGK 1921:30). Dit sou eers in 1924 gebeur, toe die vertalingsprojek aanvaar is (NGK 1925b:29).

Die NHK was natuurlik ook ingesluit in die besluit van die Sinode van die GKSA van 1918, maar, klaarblyklik is hierdie Kerk nie amptelik genader om in die vertaling van die Belydensskrifte en Formuliere te deel nie.

 

Die Nederduitsch Hervormde Kerk neem kennis van die vertalingsprojek: 1919

As een van die ander 'Hollandse Kerke' het die NHK met 'n ompad by die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in Afrikaans betrokke geraak.

Teen 1919 was die projek om die Bybel in Afrikaans te vertaal algemene kennis. Anders as die NGK en die GKSA was die NHK egter nog nie amptelik deel van die vertalingsprojek nie. Dit sou by die Algemene Kerkvergadering, wat ook Afrikaans naas Nederlands as die amptlike taal van die Hervormde Kerk aanvaar het (NHK 1919:69-70),2 ter sprake kom in die Verslag van die Algemene Kommissie aan die Vergadering. 'Deze vergadering,' so word besluit, 'nadat gehoort het de Rapport van die Algemene Commissie over de kwestie van de Bijbelvertaling in het Afrikaans, betreurt het dat onze Commissie niet de gelegenheid gehad heeft samen te werken aan die vertaling en hoopt tevens dat er nog zulk 'n gelegenheid zal komen' (NHK 1919:69).3

Klaarblyklik het die geleentheid hom voorgedoen, want dominee J.J. Kuhn en doktor H.C.M. Fourie is teenwoordig by 'n vergadering van die kommissies vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans, 'verteenwoordigende die verskillende Hollandse Kerke gehou in Bloemfontein 01 September 1920'. (NGK 1920)4 Hierdie sou ook 'n rigtinggewende vergadering wees met betrekking tot die vertaling van die Belydensskrifte en Formuliere in Afrikaans.

 

Die vergaderings van die gesamentlike kommissies vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans: 1920-1922

Die rasionaal van hierdie gesamentlike vergadering, waarop verteenwoordigers van al drie 'Hollandse Kerke' gedien het (di. H. Pienaar, J.H. Blignaut, W. de Vos, J.H. Eybers, W. Naude (NGK), di. J.A. du Plessis, W. Postma, D. Postma (GKSA) en dr. H.C.M. Fourie en ds. J.J. Kuhn (NHK), was veral om verder gevolg te gee aan die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere was egter ook 'n punt van bespreking. Lede, so notuleer dominee J.H. Eybers, wat nie hierdie opdrag van hulle onderskeie kerke gehad het nie, 'neem provisioneel deel aan die gesprek'. In hierdie verband word uiteindelik drie belangrike besluite geneem: As teks vir die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere word op die 'Uitgawe van Rutgers' besluit (NGK 1920).5 Hierbenewens word ook vertalers vir die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls aangewys (di. W. Postma, W.J. de Klerk en nog een uit die Gereformeerde Kerk, P.L. Louw (Dealesville), J.F. Mentz en W. Nicol met L.J. Fourie as sekundus). Die konvenor was dominee W. Postma. Die vergadering benoem ook vertalers vir die Formuliere en wys dominee I.D. Krüger as die sameroeper aan. Ook word besluit om aan die verskillende Sinodes (of Sinodale Kommissies) te vra dat die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere onder toesig van die Algemene Kommissie vir die vertaling van die Bybel geplaas moes word (NGK 1920).6

Hierdie besluite het ingehou dat verteenwoordigers uit al drie 'Hollandse Kerke' deel sou wees van die proses om die Belydenisskrifte, insluitende die Heidelbergse Kategismus, in Afrikaans te vertaal. En, daar is ook op die Rutgers-teks ooreengekom. Hierdie was dus nie die teks wat in die Psalmen Gesangboeke van die NGK en NHK opgeneem is nie, maar wat opgeneem is in die Psalmboek 'in gebruijk bij de Gereformeerde Kerken in Nederland'. In hierdie Psalmboek is die 'Formulieren van Eenigheid, met de drie oude Geloofsbelijdenissen, en hare Liturgie met het Kort Begrip en den Ziekentroost. Naar den door die Kerken vasgestelden tekst uitgeven door Dr FL Rutgers, onder medewerking van ds H Bavinck en Dr A Kuyper' gedruk. In die voorwoord, geskryf in Julie 1897, verklaar Rutgers, Bavinck en Kuyper dat 'ten einde die Kerken te helpen aan een Kerkboek, dat niet alleen door taal en spelling voor den tegenwoordigen tijd geschikt zou zijn, maar dat ook den tekst, dien de kerken zelve voor all hare Formulieren hebben vasgesteld, zoo getrouw mogelijk zou teruggeven'. Hulle is bewus dat by uitgawes van hierdie geskrifte daar 'reeds van de 16de eeuw af, onnauwkeurigheid en willekeur maar al te gewoon geweest' is. Wat hulle toe aan die kerke besorg het, kon egter vertrou word (Berymde Psalms 1913:Voorwoord). Uit die notule van die vergadering van die Kommissies vir die vertaling in Afrikaans blyk dat niemand vrae oor hierdie teks geopper het nie. Dit was algemeen aanvaar.

Die volgende vergadering van die gesamentlike komissies vir die Afrikaanse Bybelvertaling vind op 17 Oktober 1922 plaas, weer in Bloemfontein. 'n Belangrike punt op die agenda is 'die oorsetting van die Belydenisskrifte en Formuliere' in Afrikaans. 'Vir die Belydenisskrifte ... word die volgende aanstellings gemaakt: ds. A.S.E. Yssel (Reddersburg) i.p.v. wyle ds. W. Postma, en ds. C.M.W. du Toit (Frankfort) i.p.v. dr. De Wet (Steynsburg)' (NGK 1922).7 Ten spyte daarvan dat hy as Bybelvertaler bedank het, word dotor H.C.M. Fourie as verteenwoordiger van die NHK aangestel (NGK 1922).8 Dominee du Toit word ook as sameroeper aangewys in die plek van dominee W. Postma wat ondertussen oorlede is. Die vertalers van die Belydenisskrifte en Formuliere was nou verteenwoordigend van die drie kerke van gereformeerde belydenis. Uit die GKSA het dominees W.J. de Klerk, A.S.E. Yssel, C.W.M. du Toit (Konvenor) gekom, uit die NGK dominees P.L. Louw, J.F. Mentz, W. Nicol, L.J. Fourie (sekundus) en uit die NHK doktor H.C.M. Fourie. Die vergadering besluit dat die werk 'teen end van April 1923 klaar sal wees' (NGK 1922).9

Hiermee is dus beslag gegee aan 'n gesamentlike kommissie wat aan die Afrikaanse vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in die komende jaar sou werk. By die volgende vertalingsvergadering (op 10 Julie 1923) rapporteer dominee C.W.M. du Toit as sameroeper vir die vertaling van die belydenisskrifte dat hy die vertalings van homself, dominees De Klerk, Yssel, Fourie (d.w.s. ds. L.J. Fourie) en Mentz ontvang het. Maar, so lig hy die vergadering in, 'daar makeer nog drie stukke (NGK 192).10 Watter stukke hy bedoel het, en wie daarvoor verantwoordelik was, en watter gedeeltes van die belydenisskrifte wel voorhande was, lê ongelukkig in die vergetelheid van die geskiedenis. Die vergadering het nietemin insiggewende besluite geneem. 'n 'Proefuitgawe van die Doops-, Avondmaals- en Huweliksformuliere, die Formulier vir Bevestiging van Kerkraadslede en die Heidelbergse Kategismus' sou dadelik uitgegee word. Die 'ent vertalers van die Bybel (sal) ook die ent vertalers van die Belydenisskrifte ... wees' (NGK 1923).11 Daar is laastens besluit dat professore Francke, Kemp en Besselaar as taalreviseurs sou optree (NGK 1923).12

Uit hierdie verslag kan aanvaar word dat 'n vertaling van die Heidelbergse Kategismus teen Julie 1923 in Afrikaans gereed was. By die Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes nege maande later in 1924 het dominee C.W.M. du Toit die vergadering immers daarop gewys dat die Kategismus binnekort in Afrikaans gepubliseer sou word en 'dat die vertalinge gedoen is deur predikante van die drie Hollandse Kerke' (GKSA 1924:32, 144, 145). Die grondteks wat vir hierdie vertaling gebruik is, is ongetwyfeld dié van Rutgers.

Die voorgenome publikasie van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans het egter nie van die grond af gekom nie. Die aandrang om vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans die Masoretiese Teks en die Textus Receptus in plaas van die Nederlandse Statevertaling te gebruik (NGK [1925a]:102) het nie net daardie vertaling vertraag nie, maar ook die aanvanklike momentum van die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in die wiele gery. Die Bybel sou eerste kom.

 

Die vraag na die teks waaruit die Bybel in Afrikaans vertaal word, vertraag ook die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere: 1922-1925

By die NHK het die aanvanklike voorneme om die Bybel in Afrikaans vanuit die Statevertaling oor te sit, in 1922 in die brandpunt gekom. By die Algemene Kerkvergadering van hierdie Kerk (in 1922), deel doktor Fourie die Vergadering mee (soos hierbo reeds aangedui is) dat hy as Bybelvertaler bedank het, 'omdat de vertaling geschiedt niet uit de oorspronkelijke talen'(NHK 1922).13 Onmiddellik was hier 'n wesenlike saak ter tafel. Na 'n indringende debat, stel die Hervormde Kerk sy standpunt:

Deze vergadering ziet met verlangen uit naar de Bijbel in de Afrikaanse Taal en wil derhalve hartelik meewerken met de zuster-kerken teneinde dat doel te bereiken. Het moet echter duidelik worden verstaan dat de Ned. Herv. Kerk deze eerste bewerking van de Staten-vertaling in het Afrikaans beschouwdt als onvoldoende, maar toch kan billiken als een overgangsstadium tot iets beters. Haar ideaal is een standaardwerk in het Afrikaans en dit, meent zij, kan alleen worden bereikt door een vertaling van de Bijbel in het Afrikaans uit de grondteks en verzoekt daarom de Algemene Kommissie in deze richting nu al te arbeiden in samenwerking met de anderen kerken teneinde dat ideaal te verwezenliken. Deze besluit worden dadelik meegedeeld aan de Kommissie van Vertalers. (NHK 1922)14

Wat die vertaling van die Bybel in Afrikaans betref, het hiermee 'n wending gekom. Die vertalers - aan die begin van 1925 sou H.C.M. Fourie as aangewese eindvertaler tot die vertaalwerk en vertalingskommissie terugkeer (NGK 1925a:103) - het hulle aandag nou op die grondtekste gevestig. Dit sou die vordering stadiger maak, maar 'n vertaling in eie reg besorg. Dit het egter ook beteken dat die werk aan die vertaling van die Belydensskrifte en Formuliere nou vertraag sou word. Die vraag na die grondteks wat vir hierdie vertalingswerk gebruik moes word, sou eweneens opduik.

Gedurende 1925 het dit reeds duidelik geword dat die vertaling van die Belydenisskrifte en Liturgiese Formuliere nie voor die voltooiing van die vertaling van die Bybel afgehandel sou kon word nie. By die 1925-Sinode van die NGK in die Vrystaat rapporteer die Kommissie vir Bybelvertaling in Afrikaans dat hy 'onlangs daarvan oortuig geword het dat die uitgee van die Belydenisskrifte en Formuliere in Afrikaans onwenslik sal wees totdat die Bybelvertaling afgedaan is, weens die menigvuldige aanhalings uit die Skrif daarin' (NGK 1925a:101). Dieselfde gedagte het ook in die Gereformeerde Kerk na vore gekom. In die Rapport oor die Vertaling van die Belydenisskrifte aan die Sinode van die Gereformeerde Kerk in 1927 lig dominee C.W.M. du Toit die vergadering in dat die 'kommissie uit die drie Hollandse Kerke wat toesig hou oor die vertaling van die Bybel, en ook te doen het met die vertaling van ons liturgiese formuliere en belydensskrifte, besluit het met die oog op vele moeilikhede in verband met die oorsetting, dat die werk sal gedoen word deur die vertalers van die Bybel' (GKSA 1927:63). 'Met die oog op die vele aanhalings uit die Heilige Skrif' sou dit immers onvanpas wees om Belydenisskrifte uit te gee voorat die Bybel finaal vertaal is. Dit blyk ook 'dat die ou Hollands van die drie formuliere van eenheid baie moeilikheid veroorsaak'. 'Die gedeeltes wat reeds vertaal is deur manne uit die drie "Hollandse Kerke",' gaan die verslag voort, sal dus aan die Bybelvertalers oorhandig word, sodra hulle daarmee kon begin (GKSA 1927:64). Op voorstel van dominee P.J.S. de Klerk en ouderling F.J. Potgieter, besluit die Sinode om die kommissie te kontinueer, en om deur hierdie kommissie te versoek 'dat ook die ander Hollandse Kerke die werk van vertaling van ons belydenisskrifte opdra aan die Bybelvertalers om dit uit te voer direk na die Bybelvertaling klaar is' (GKSA 1927:22).

Uit die bronne blyk dit dat die aanvanklike momentum rondom die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere gestuit het op besinning en heroorweging. Teen 1925 was daar konsensus dat die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere by die Bybelvertalers tuishoort en dat die vertaling van die Bybel eers afgehandel moes word alvorens die Belydenis en Formuliere aangepak kon word. In hierdie verband het 'n derde oorweging na vore gekom, naamlik om die vertaling te benut vir 'n redaksionele vereenvoudiging van veral die Formuliere. Hierdie oorweging het sy oorsprong gehad by 'n Kommissie wat GKSA-Sinode van 1924 benoem het met die oog op die hersiening van die Belydenisskrifte, die Formuliere en die gronde vir egskeiding. By die 1927-Sinode rapporteer die skriba van hierdie Kommissie, I.D. Krüger. Die Kommissie beveel onder andere aan dat die vertaling van die Formuliere in Afrikaans 'n redaksionele vereenvoudiging sal insluit en 'dat met beide ander Holl. Kerke van ons land' in hierdie verband gekorrespondeer is (GKSA 1927:64-65).

Wat het Krüger namens hierdie Kommissie in verband met 'ons Konfessie- en Liturgiese Formuliere' aan die ander twee 'Hollandse Kerke' geskryf? Sy brief is aan die Federale Raad van NG Kerke en aan die Moderator van NHK, dominee L.E. Brandt, gerig. 'By nader oorweging,' so skryf hy op 8 Mei 1926, het die Kommissie gevoel 'dat 'n bloot letterlike vertaling sonder meer nie doeltreffend sal wees nie'. Hulle beveel 'n 'redaksionele vereenvoudiging' aan omdat daarmee reg sal geskied '(1) aan die suiwere Afrikaanse taaleië, (2) aan 'n juiste inhoudsweergawe van genoemde stukke en (3) sal die geskrifte vir ons kerklike publiek weer lewe'. Wat hom betref is hierdie 'simbole die gemeenskaplike eiendom ... van die 3 Hollandse Kerke in ons land' en daarom word die onderskeie Kerke versoek tot samewerking. Hierbenewens word hulle gevoel hieromtrent graag verneem. Daar word ook gevra vir voorstelle met betrekking tot 'n moontlike modus operandi (NHK 1926-1944b).15

Hierdie brief sou onderskeidelik dien by die vergadering van die Federale Raad van NG Kerke in Maart 1927 en die Algemene Kerkvergadering van die NHK in Augustus 1928. En, dit het 'n bepalende invloed uitgeoefen ten opsigte van die verdere verloop van die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in Afrikaans. Daarmee het 'n eerste fase in die vertaling van die Belydennisskrifte en Formuliere tot 'n einde gekom. In die opvolgende fase is die werk van vertaling finaal aan die Bybelvertalers toevertrou.

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk konsolideer sy posisie met betrekking tot die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere 1927-1929

Tydens sy vergadering op Heidelberg gedurende Maart 1927, word bogenoemde skrywe van dominee Krüger deur die Raad van Gefedereerde NG Kerke in behandeling geneem. Daarin word, so lui die notule:

namens de Ger. Synode de Raad gevraagd ... samenwerking van onze Gefedereerde Kerken te bewerken met de hunne in 't overzetten met de nodige redaksionele vereenvoudiging van onze Konfessie en Liturgiese Formulieren. Besloten wordt deze zaak bij de verschillende Synoden gunstig aan te bevelen. (NGK 1927:22)

'Die oorsetting van ons Formuliere en Belydenisskrifte in Afrikaans' is weer deeglik by die vergadering van die Raad van Gefedereerde NG Kerke in 1929 bespeek op grond van die terugvoer oor die betrokke besluite van die verskillende Sinodes. Sowel die Kaapse as die Vrystaatse Sinodes het besluit om die saak aan die Algemene Kommissie vir Bybelvertaling oor te laat (NGK 1929:29, 33). Die Transvaalse Sinode was meer presies en besluit dat:

(a) Die Ger. Kerk word versoek om ook te onderhandel met die Bybelvertalers, om hierdie werk, nl. die oorsetting met die nodige redaksionele vereenvoudiging van ons Konfessie en Liturgiese Formuliere te doen; en (b) Dat die Sinodale Kommissie sanksie sal verleen aan die vertaling. (NGK 1929:34)

Nadat 'n brief van die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging gelees is, word op voorstel van dominee Boshoff en doktor Gerdener besluit: 'Hierdie vergadering versoek die Algemene Bybelvertalingkommissie om so spoedig moontlik voort te gaan met die vertaling ook van onse belydenisskrifte en liturgiese geskrifte' (NGK 1929:6). Die Bybelvertalingkommissie is ook versoek om die uitgee hiervan aan die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging toe te vertrou (NGK 1929:7).

Hierna verdwyn die aangeleentheid uit die Handelinge van die Raad van Kerke. Wat hierdie Kerke betref, was die saak gekonsolideer: die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere sou deur die Bybelvertalers behartig word sodra die vertaling van die Bybel afgehandel was. Klaarblyklik het niemand ook 'n vraag gehad oor die Rutgers-teks wat hiervoor gekies is nie. By die NHK het dit egter anders verloop. Daar het die navraag oor die gebruikte teks wel opgeduik, 'n navraag waarvoor veral professor S.P. Engelbrecht verantwoordelik was.

 

Die Nederduitsch Hervormde Kerk se navraag na die grondteks vir die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere 1928-1931

By die Algemene Kerkvergadering van die NHK van 1928 dien twee belangrike sake: die vertaling van die Liturgiese Geskrifte en die verslag van die Bybelvertalingskommissie. Vir laasgenoemde was J.J. Kuhn verantwoordelik. Sy verslag maak daarvan melding dat die vertaling nou uit die oorspronklike tale gedoen word en dat H.C.M. Fourie amptelik as vertaler daaraan sou meewerk (NHK 1928:235-237).16

Die Algemene Kommissie rapporteer oor vertaling van Liturgiese Geskrifte (NHK 1928:41).17 In hierdie verslag word na die brief van dominee I.D. Krüger verwys. Professor Engelbrecht se toeligting ontlok 'n insiggewende debat in die vergadering. Alvorens hierop ingegaan kan word en ten einde die verband daarvan te verstaan, moet eers enkele briewe tussen Engelbrecht en die Algemene Kommissie gedurende 1926 en 1927 ter sprake gebring word.

Na aanleiding van standpunte wat in die inleidingsartikel van De Hervormer (08 Sept. 1926) en Die Kerkblad (21 Sept. 1926) in verband met die beryming van die Psalms en vertaling van die Liturgiese Geskrifte in Afrikaans gestel is, vra Engelbrecht in 'n brief aan dominee L.E. Brandt, Moderator van die NHK:

(1) of onze kerk er in gekend is en opdracht gegeven heft, om de Liturgiese geschriften in het Afrikaans over te zetten, en indien wel, welke tekst gevolgd wordt .... (2) of de Kommissie van de Bijbelvertaling ook geregeld aan onze Komm. der Alg. kerkverg. verslag doet van de stand der werkzaamheid. (1926-1944b)

Engelbrecht was immers van mening dat die Formuliere wat die drie Afrikaanse Kerke gebruik het inderdaad van mekaar verskil het (NHK 1926-1944b).18

Nagenoeg agt maande later, op 16 Mei 1927, wend Engelbrecht hom weer tot die Algemene Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Hy skryf dat hy op 23 November 1926 deur dominee A.J. Barger, Skriba van die Algemene Komissie, meegedeel is dat hy benoem is 'op die Kommissie wat die Belydenis en Liturgie in Afrikaans wil oorsit'. Daarvan het hy egter nooit weer iets verder gehoor nie. Hy reageer op 'n brief van ds C.W.M. du Toit in Ons Vaderland (06 Mei 1926) waarvolgens 'die Kommissie vir die Bybelvertaling op 'n vergadering in 1920 waar ds Kuhn19 ook teenwoordig was, die Gereformeerde Rutgers-Kuyper teks als officiele teks gekies het'. Hierdie teks, voer Engelbrecht aan, 'is nie die teks wat ons Kerk en ook die Hervormde Kerk in Nederland gebruik nie'. Die Algemene Kerkvergadering het ook nooit hiervan kennis gekry nie. Die vraag is dus of die Kommissie vir Bybelvertaling by magte was 'om aan ons hierdie teks voor te skryf sonder dat ons dit goedkeur? Of selfs daarvan kennis te gee?' (NHK 1926-1944b)20 Hy meen dus dat dit op die weg van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering lê om noukeurig ondersoek in te stel.

Die ondersoek het klaarblyklik plaasgevind en navraag is by dominee Kuhn gedoen. Op 23 Mei 1927 antwoord Kuhn die vrae in hierdie verband van die skriba van die Algemene Kommissie, dominee D.F. Erasmus, in 'n brief. Destyds, merk hy op, toe alles met 'n 'gallop gedryf is ... om so spoedig moontlik die Bybel ... uit die Nederlands te vertaal, [is] ook besluit ... om die liturgiese geskrifte dadelik te vertaal en dan onverwyld uit te gee'. Toe later besluit is om die Bybel noukeuring uit die oorspronklike tale te vertaal, verduidelik hy, is ook besluit om met die vertaling van die belydenisskrifte en liturgie te wag. Wat die keuse vir die Rutgers-Kuyper-teks betref, vermeld hy die volgende: 'Dr du Toit het op die vergadering die goeie hoedanighede van genoemde teks aangeprys en niemand het daarteen iets gesê nie, ook ek nie; want om die waarheid te sê, ek het nie geweet dat daar iets teen bedoelde teks in te bring is nie!' (NHK 1926-1944b)21 Met hierdie inligting ter hand, laat weet die skriba op 01 Maart 1928 aan Engelbrecht dat die Rutgers-Kuyper-teks vir die vertaling van die Belydensskrifte en Formuliere deur die Bybelvertalers aanvaar is. Maar, voeg hy by, sedert 04 Junie 1927, is die werk van die vertaling van die Liturgiese Geskrifte egter gestaak om eerder op die Bybel te konsentreer (NHK 1926-1944b).22

Teen die agtergrond van hierdie korrespondensie moet die toeligting van Engelbrecht aan die Algemene Kerkvergadering van 1928 begryp word. Hy is aangestel, verduidelik hy, as verteenwoordiger van die NHK op die gesamentlike Vertalingskommissie van die Belydenisskrifte en Formuliere, maar daarvan het in werklikheid niks tereg gekom nie. Hy is ook oortuig daarvan dat 'die saak skynbaar stilstaan'. Hy wys die Vergadering verder daarop dat dit met die vertaling van die Liturgiese Geskrifte moeilik sou gaan, omdat die Kerke, anders as met die Bybel, nie dieselfde Formuliere het nie (NHK 1928:41).23 In die debat bevestig doktor H.C.M. Fourie dat die vertalers besluit het om met die vertaalwerk te wag totdat die Bybelvertaling afgehandel is. Na aanleiding van die brief van I.D. Krüger, waarin onder andere vir 'n 'redaksionele vereenvoudiging' van die Formuliere gevra is, was dit vir die Vergadering duidelik dat die vertaling eers behoorlik goedgekeur sou moes word, om seker te maak dat alles wel sodanig vertaal is dat dit reg aan die NHK sal laat geskied. Om die Kerk hierin te help is 'n kommissie benoem, bestaande uit professore S.P. Engelbrecht, J.H. Greyvenstein en dominee S. Vermooten (NHK 1928:43).24

By die volgende Algemene Kerkvergadering (1931) het daar nie 'n verslag oor die vertaling van die Formuliere en Liturgiese Geskrifte gedien nie, omdat die Kommissie nog niks daaraan gedoen het nie. Engelbrecht en Greyvenstein vra wel 'n opdrag van die Vergadering om selfstandig die Formuliere en Liturgiese Geskrifte te vertaal (NHK 1931:98).25 Dit is inderdaad toegestaan, op voorwaarde dat hulle hulle aan die grondteks wat in die NHK gebruik is, moes hou. Professor Gemser word is as adviseur aangewys (NHK 1931:99).26 Hiermee is 'n eie weg opgegaan, wat met 'n ander grondteks as die Bybelvertalers sou werk.

Hierdie Kommissie sou egter ook nie met die werk deurgaan nie. By die Algemene Kerkvergadering van 1934 dien die Verslag van die Kommissie vir die Vertaling van die Formuliere en Liturgiese Geskrifte (opgestel deur E.S. Muller, J.H. Greyvenstein, S.P. Engelbrecht, S. Vermooten) ten opsigte van die tydperk van Mei 1931 tot April 1934 (NHK 1934:133 e.v.).27 Volgens die Verslag is daar 'n begin gemaak met die vertaling wat in September 1933 gereed sou wees. Dominee Vermooten het die kommissielede egter meegedeel, merk hulle op, dat die Bybelvertalers reeds met hierdie werk besig was. Daarom is advies van die Algemene Kommissie gevra. Die Algemene Kommissie het op sy beurt gemeen dat die vertaalwerk aan Bybelvertalers oorgelaat moes word. Daarom het die Kommissie nie met sy opdrag voortgegaan nie (NHK 1934:133).28

In sy verslag aan die Algemene Kerkvergadering het die Algemene Kommissie weer daarvan gewag gemaak:

dat die teks, wat vertaal moet word, deur die Kommissie vir die vertaling van die Liturgiese geskrifte sal aangegee word met motivering waarom juis daardie teks gekies is, en dat die formuliere en liturgiese geskrifte, wat reeds vertaal is, opgestuur sal word na die Bybelvertalers om daarvan gebruik te maak. (NHK 1934:133, 24)29

Die Kommissie is gekontinueer tot tyd en wyl die werk afgehandel en goedgekeur is (NHK 1934:133, 25).30

Alles in oënskou geneem, blyk dit dat die aanvanklike vertalingswerk van die Belydenisskrifte en Formuliere uiteindelik in die hande van die Bybelvertalers oorgegaan het en dat al drie 'Hollandse Kerke' hierin berus het, hoewel sterk voorbehoud by die NHK aanwesig was. By die Sinode van die NGK in die Vrystaat van 1934 rapporteer ds. J.D. Kestell dat die Bybelvertalers (J.D. du Toit, J.D. Kestell, H.C.M. Fourie, E.E. van Rooyen en B.B. Keet) (NGK 1934:149) in die voorafgaande jaar ook die voltooide vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere gesamentlik nagesien het (NGK 1934:152). Dit het beteken dat met die voltooiing van die Bybelvertaling, die vertalers inderdaad die Belydenisskrifte en Formuliere ook vertaal het. Hiervoor het hulle die Nederlandse Rutgers-Bavinck-Kuyper-teks gebruik. J.D. du Toit, B.B. Keet en E.E. van Rooyen was alumni van die Vrye Universiteit in Amsterdam, waar Bavinck, Kuyper en Rutgers in meer as een opsig die rigting bepaal het.

Al drie Kerke kon nou na die verskyning van 'n Formulierboek, waarin die Belydenisskrifte en Liturgiese Formuliere in Afrikaans vertaal is, uitsien. Hierdie boek sou in 1936 vanaf die pers kom. Daarmee is 'n belangrike (tweede) fase in die vertalingsprojek afgehandel.

 

Die 1936-Formulierboek

In 1936 is Die Drie Formuliere van Enigheid en die Liturgie deur die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging uitgegee en deur Nasionale Pers in Kaapstad gedruk. Dit is in Afrikaans vertaal deur die Bybelvertalers, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie wat die 'Drie Hollandse Kerke in Suid-Afrika' verteenwoordig het. In hierdie boek is die Die Heidelbergse Kategismus of Onderwysing in die Christelike Leer vir die eerste keer amptelik in Afrikaans weergegee (Formulierboek 1936:34-77).

'n Voorwoord of verantwoording ontbreek egter by hierdie publikasie. Daar is geen aanduiding van wie vir watter gedeeltes vir die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere verantwoordelikheid geneem het nie. Daar is geen opmerking of enige van die werk wat gedurende die twintigerjare gedoen is, enigsins oorweging geniet het nie. Inligting ontbreek ook of die 1923-vertaling van die Kategismus benut is of enige rol by die vertaling vir die Formulierboek gespeel het. Die Bybelvertalers het wel in 'n Memo insake Formuliere die sluier oor hulle werk gelig. 'Die vertaling is gemaak deur die Bybelvertalers,' so skryf hulle, 'volgens die bekende Flakkeesche-uitgawe van 1908 deur Prof FL Rutgers besorg, wat getrou 'n herdruk is van die oorspronklik-offisiële uitgawe' (NGK 1936:246). Hulle wys ook daarop dat die 'vertaling soos nou gelewer kom nie letter vir letter ooreen met enige Nederlandse uitgawe wat tans in S.A. gebruik word nie. Alleen die drie Formuliere van Enigheid is bloot vertaal, sonder enige wysiging' (NGK 1936:246).

In 1938 het Die Drie Formuliere van Enigheid afsonderlik verskyn. Hierdie uitgawe, so lui die kort voorwoord uit die pen van dominee P.F. Greyling, is in Afrikaans deur die Bybelvertalingskommissie 'oorgesit'. Die afsonderlike uitgawe wat net die Belydensskrifte bevat het, het geskied op versoek van die Algemene Sondagskool Kommissie van die Gefedereerde NG Kerke in Suid-Afrika, vir gebruik in sondagskole en katkisasieklasse. 'Met die oog hierop wens ons die boekie hiermee vir die publiek aan te bied met die bede dat dit mag bydra tot die beter verstaan van die godlike heilswaarhede soos in Gods Woord vervat, en mag meehelp tot die geestelike opbou van die jeug van ons volk.'

Dui hierdie uitgawe op die aanvaarding van die vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in Afrikaans? Of, het die drie 'Hollandse kerke' uiteenlopend daaroor geoordeel? In die laaste deel van hierdie artikel word vervolgens op die ontvangs van die Formulierboek ingegaan.

 

Die ontvangs van die Formulierboek by die drie 'Hollandse Kerke'

Die drie 'Hollandse Kerke' het die Afrikaanse Formulierboek goed ontvang. Die GKSA het hom in 1939 in sy Sinodale Vergadering laat bedien deur die Rapport oor die Revisie van die Afrikaanse Belydenisskrifte en Liturgiese Formuliere (GKSA 1939:39). Hierdie Kommissie (benoem deur die 1936-Sinode, te wete ds. J.A. van Rooy, dr. C.J.H. de Wet en ds. J.M. de Wet), het die geleentheid benut om sy opdrag noukeurig uit te voer (GKSA 1936:177). In sy toeligting wys Van Rooy daarop dat die Kommissie 'die ... voorreg (had) om Prof dr JD du Toit by die nagaan persoonlik te raadpleeg ... ' Die Kommissie bevind dat Die Drie Formuliere van Enigheid en die Liturgie' 'n baie goedgeslaagde oorsetting is van die deur onse kerk goedgekeurde teks, soos vasgestel deur die Gereformeerde Kerke in Nederland en in die Nederlandse taal uitgegee deur Drs Rutgers, Bavinck en Kuyper'. Tweedens verseker die Kommissie die Sinode dat 'in die teks van die Formuliere van Enigheid geen veranderings aangebring is nie' (GKSA 1939:39). Met die aanvaarding van die Rapport (GKSA 1939:40) het hierdie 'Hollandse Kerk' dus die 1936-vertaling van die Belydenisskrifte (insluitende die Heidelbergse Kategismus) amptelik goedgekeur en is dit in Die Berymde Psalms31 (1965:418 e.v.) vir gebruik in die gemeentes opgeneem. Klaarblyklik het 'ons beginsels', soos in 1918 ooreengekom (GKSA 1918:97), nie by die vertaling skade gely nie.

By die Algemene Kerkvergadering van die NHK in Pretoria in 1937, maak die Algemene Kommissie 'met groot blydskap' melding van die verskyning van die Liturgiese Geskrifte in Afrikaans. Aan die Bybelvertalers, wat die werk behartig het, 'kom toe die dank van ons hele kerk' (NHK 1937:3).32 Wat die Algemene Kommissie betref het, kon die Kommissie vir Liturgiese Geskrifte dus nou ontbind. Dit het egter nie gebeur nie. Hierdie punt word in die Vergadering onder die loep geneem. Dit loop uit op 'n besluit dat die Liturgiese Kommissie die Afrikaanse vertaling moet bestudeer, met terugrapportering aan die kerklike vergaderings. Professor S.P. Engelbrecht is die sameroeper (NHK 1937:21).33 Daar was inderdaad voorbehoud.

Die NGK het eweneens 'sy ingenomenheid oor die eindelike verskyning van die Formulierboek in Afrikaans' geboekstaaf. Die Formulierboek is in gebruik geneem, maar sonder om dit finaal goed te keur. 'n Kommissie, aangewys deur die Gefedereerde Raad van NG Kerke sou die Formulierboek aan deeglike hersiening onderwerp (NGK 1936:247; 1937:27). Ook hier was dus voorbehoud.

Kort na die verskyning van die Formulierboek was dit duidelik dat twee van die 'Hollandse Kerke' (die NGK en die NHK) die eerste vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere nie sondermeer aanvaar het nie. Teologies en kerkhistories was die drie Kerke dit dus nie met mekaar eens nie. En, die tipering 'Hollandse Kerke' kom sedert ongeveeer 1940 nie meer in die bronne voor nie. 'n Derde fase in die verhaal van die vertaling van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans het hom aangekondig.

 

Die Nederduitsch Hervormde Kerk verantwoord die Formulierboek en besorg 'n selfstandige vertaling 1940-1945

By die Algemene Kerkvergadering van die NHK, tydens sy sitting in 1940, wys S.P. Engelbrecht die Vergadering daarop dat 'die Bybelvertalers ... nooit van ons kerk opdrag gekry (het) om ook die Belydenisskrifte en Liturgiese geskrifte te vertaal' nie (NHK 1940).34 Hierdie saak moes ondersoek word, met verslag aan die Algemene Kommissie. Op sy vergadering van 03 Maart 1941 was die Liturgiese Kommissie, waarin Engelbrecht die leiding geneem het, gereed om aan die Algemene Kommissie sy bevinding bekend te maak. In 'n brief aan die skriba van die Algemene Kommissie word hy meegedeel dat die vertaling van die Belydensisskrifte en Formuliere soos deur die Bybelvertalers gedoen is, noukeurig nagegaan is. Die Kommissie het die volgende bevindings gemaak:

(1) Dat daar wysiginge aangebring is. (2) Dat nie altyd rede gevind kan word waarom veranderinge aangebring is nie. (3) Dat geen wysiginge aan Belydenisskrifte en Formuliere van die Kerk aangebring mag word sonder toestemming van die Kerk nie. (4) Dat daar bepaald foutiewe weergawes van die oorspronklike teks voorkom. (5) Dat die Ned. Hervormde Kerk om hierdie redes nie die bestaande vertaling kan aanvaar nie. (NHK 1926-1944c)35

By die Algemene Vergadering in Maart 1942 (Potchefstroom) sou die saak tot 'n punt kom. Die rapport van die Kommissie vir die Liturgiese Geskrifte oortuig die Vergadering dat 'n grondige bestudering en hersiening van die werk van die Bybelvertalers gedoen moes word. Hulle bevinding word met 'n lang lys bewyse gestaaf (NHK 1942).36 'n Nuwe vertaling was onvermydelik. Die Kommissie (proff. B. Gemser, S.P. Engelbrecht, di. J.M.G. Dreyer, E.S. Mulder en M.M. Grobler) het dit as hulle vernaamste taak gesien om die Afrikaanse vertaling van die Bybelvertalers met die Nederlandse en waar nodig die Franse, Duitse, Latynse en Grieks grondtekste versigtig en nougeset te vergelyk.

Samewerking met die NGK in hierdie verband kon nie verkry word nie, hoofsaaklik omdat die NGK self hiermee besig was, en, moet bygevoeg word, teen Junie 1943 het die Hervormde Kommissie in elk geval in sy vertaalwerk ook reeds 'n eie momentum opgebou en substansiële vordering gemaak (NHK 1926-1944d).37 Aan die einde van die jaar kon die Kommissie selfs na 'n persklaar uitgawe uitsien. Op 01 Desember 1943 skryf professor Gemser as voorsitter aan die Algemene Kommissie dat:

ons ... hoop om in die eerste week van die Nuwe Jaar gereed te kom met ons bewerking in Afrikaans na die oorspronklike teks soos reeds eeue lank hier in Suid-Afrika en ook by die Hervormde Kerk van Nederland in gebruik, waarvan teks soos deur die Bybelvertalers gebruik en in Afrikaans oorgeset aanmerklik afwyk, veel meer as wat ons Kommissie oorspronklik gedink het. (NHK 1926-1944d).38

Die Kommissie sou in 1944 die vertaalwerk afrond. Vroeg in 1945, nog voor die Algemene Kerkvergadering in Mei byeengekom het, word die Belydenisskrifte, gebede en formuliere van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in druk uitgegee. Vir die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls 'is die uitgawe van dr JJ van Toornenbergen, De symbolische schriften der Nederlandsche Hervormde Kerk, tweede uitgawe, Utrecht 1895 en herdruk in 1906 gebruik'. Die Voorberig stel dat die vertaling ook met De Belijdenisschriften van de Nederduitsch Hervormde Kerk wat in 1897 deur dominee Goddefroy uitgegee is, ooreenstem. Vir die Skrifverwysings by die Heidelbergse Kategismus is die Latynse teks gevolg wat in H.E. Vinke se Libri Symbolici Ecclesiae Reformatae Nederlandicae (1846) opgeneem is (NHK 1945b:Voorberig).

Wat die Liturgiese Geskrifte betref, is die uitgawe van M.A. Gooszen (1899) gevolg, wat inhoudelik 'met dié wat vanaf die dae van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika gebruik is' ooreengestem het, en wat in 1870 en weer in 1906 'op last van de Hoog-Eerw. Synode van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk' uitgegee is (NHK 1945b:Voorberig). Daar is doelbewus daarna gestreef om aansluiting te soek by die 1936-Afrikaanse vertaling van die Bybelvertalers, 'wat egter gebaseer is op 'n teks wat die Sinode van die Gereformeerde Kerk van Nederland eers in 1934 aangeneem het en wat verskillende afwykings ... vertoon' van die teks wat vir die NHK aanvaarbaar was (NHK 1945b:Voorberig). Dit is die belangrikste rede waarom daartoe oorgegaan is om 'n eie vertaling te maak (NHK 1945a:20).39

By die Algemene Kerkvergadering wat op 08 Mei 1945 en die volgende dae sitting gehou het, is die resultaat van die werk van die Kommissie in ontvangs gzeneem. Hiermee het die NHK 'n eie vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere, 'getrou na die grondteks in Afrikaans vertaal', ontvang (NHK 1945a:19-20, 120-121).40

Ondertussen was die NGK eweneens besig om die 1936-Formulierboek te hersien, en ook die Belydenisskrifte en Formuliere te hervertaal.

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk hersien en hervertaal die Formulierboek 1939-1949

By die Kaapse Sinode van die NGK in November 1936 het reeds 'n Rapport van die Kommissie insake die Afrikaanse Formulierboek gedien (NGK 1936:246-248). Hierdie Rapport, opgestel deur dominees J. Rabie, E.G. Malherbe en doktor D.R. Snyman, het die basisdokument geword vir die NGK se hersiening van die Formulierboek, wat uitgeloop het op 'n eie (her)vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere in 1948. Die Kommissie vra vir 'n hersiening, en versoek die Raad van Gefedereerde NG Kerke om hiervoor 'n kommissie (waarop die vier Gefedereerde Kerke verteenwoordig sou wees) te benoem wat 'die vrug van hul arbeid (desnoods met aanbevelings) sal voorlê aan die geagte vertalers, om also gesamentlike optrede en samewerking te verseker, met die oog op die verkryging van 'n Formulierboek (by eersvolgende herdruk) wat in beide vorm en inhoud so goed as moontlik sal wees' (NGK 1936:248).

Hierdeur is die Raad van Gefedereerde NG Kerke by die saak betrek. Op sy vergadering in 1937 word die voorstel van die Kaapse Sinode insake die Afrikaanse Formulierboek aanvaar en derhalwe 'n kommisssie (H.J. Pienaar, D.R. Snyman en P.J. Viljoen) aangewys om aan die opdrag uitvoering te gee (NGK 1937:27). By die volgende vergadering (1939) in Bloemfontein dien 'n uitgebreide Rapport van die Kommissie insake die rewisie van die Afrikaanse Formulierboek (NGK 1939:74-82). Hiervoor is insette gebruik, wat gekom het nadat daarvoor 'amptelik' in Die Kerkbode gevra is, sowel as die Rapport van die Kommissie wat voor die Kaapse Sinode gedien het. Tog het die Kommissie selfstandig te werk gegaan, volgens die inleidende opmerking (NGK 1939:74). Die verslag wys 'n aantal gebreke en leemtes uit en stel enkele verbeterings voor. Die aanbevelings van die Kommmissie word deur die Raad aanvaar (NGK 1939:14).

Op die keper beskou het hierdie verslag, waarin die besware van die NGK teen die 1936-Formulierboek opgeneem is, kerkhistories en teologies geïmpliseer dat hierdie Kerk hom aan sy tradisie sou hou, wat 'n deeglike hersiening van die Formulierboek sou stimuleer en daarvoor 'n ander grondteks sou gebruik (NGK 1941:37, 115, 116). By die Raad se 1943-vergadering in Bloemfontein is in verband met die vertaling van die Liturgiese geskrifte besluit:

(1) Dat 'n kommissie bestaande uit Dr BB Keet, Prof GM Pellisier en ds JPH Steyn aangestel sal word om die vertaling grondig te hersien met inagneming van die besluite van hierdie Raad en van die verskillende Sinodes daaroor; (2) dat verder 'n hersiene vertaling vir goedkeuring voorgele sal word aan die Sinodale Kommissies of Sinodes van die Ned. Geref. Kerke, en dat sodanige goedkeuring die aanvaarding van deur die kerk van die Formuliere in Afrikaans sal beteken. (NGK 1943:24)

Hierdie Kommissie het die finale hersiening ter hand geneem. Sy verslag kom in November 1948 (NGK 1948:20 e.v.) gereed en dien voor die Raad van Gefedereerde NG Kerk in Mei 1949 in Pretoria. Die Kommissie het dit as sy taak geneem om 'n uitgawe van die Formulierboek gereed te maak 'alleen vir gebruik van die Gefedereerde N.G. Kerke'. Daar was dus nie samewerking met die 'ander Kerke' gesoek nie. Die Kommissie was wel oop vir die moontlikheid dat daar met verloop van tyd 'met die ander Afrikaanse Kerke ... onderhandel kan word met die oog op eenstemmigheid oor grondteks en vertaling'. Die Kommissie was ook deeglik daarvan bewus dat daar 'n verskil ten opsigte van die grondteks vir die vertaling tussen die NGK en die NHK bestaan het, en dat laasgenoemde intussen sy eie vertaling van die Belydenisskrifte en Liturgiese Formuliere gepubliseer het (NGK 1948:20). Die verslag maak egter nie melding daarvan dat die GKSA 'n ander grondteks (Rutgers-Bavinck-Kuyper) aanvaar het nie. En, terloops, die inbeelding 'Hollandse Kerke' het nou plek gemaak vir 'Afrikaanse Kerke'.

As grondteks vir die hersiene vertaling, merk die Kommissie in sy verslag op, 'is die Kaapse (Nederlandse) teks van 1906 - wat vroeër algemeen in gebruik was in ons gemeentes -geneem' (NGK 1948:20). Hiermee is aansluiting gesoek by die negentiende-eeuse tradisie van die NGK. Die teks waarna verwys word is die Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika: Catechismus, Geloofs-belijdenis, Kort Begrip der Christelijke Leer, Leerregelen van de Synode van Dordrecht en Liturgie van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika (NGK 1907), 'n teks wat onder andere ook deur die NHK vir sy vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere benut is.

Wat die metode betref, is die bestaande 1936-Afrikaanse vertaling aan die Nederlandse teks getoets, 'en die nodige veranderinge aangebring'. Waar daar twyfel ontstaan het, word aangeteken, is na die oorspronklike Latynse of Duitse teks in die Belydenisskrifte teruggegaan om duidelikheid oor die woordbetekenis en bedoeling te verkry. Ook is die vertaling van die NHK met die bestaande Afrikaanse vertaling vergelyk (NGK 1948:20).

Die Rapport (NGK 1949:41-179) is deur die Raad van Kerke oorweeg en aanvaar (NGK 1949:204 e.v.). Interessant genoeg, oordeel die Raad dat opmerkings in verband met die verskil tussen die NGK en die NHK met betrekking tot die grondteks van die vertaling, weggelaat moes word (NGK [1949]:204). Toe die vier Gefedereerde NG Kerke hulle goedkeuring aan die hersiene en hervertaalde Belydenisskrifte en Formuliere geheg het, het die Moderatuur van die Raad van Kerke die volgende jaar (1950) dit as die Formulierboek van die Gefedereerde Nederduitse Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bevattende die Belydenisskrifte, Liturgiese Formuliere en Christelike Gebede van die Gefedereerde Nederduitse Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (1950) by die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging laat publiseer (NGK 1951:6). Gevolglik het die NGK ook 'n eie vertaling van die Belydenisskrifte en Formuliere ontvang.

Hiermee is die doel van hierdie artikel bereik, naamlik om die geskiedenis van die eerste vertaling van die Heidelbergse Kategismus in Afrikaans oorsigtelik na te gaan. Enkele samevattende opmerkings kan nou gemaak word.

 

Samevatting

In die verhaal van die vertaling van die Belydenisskrifte (insluitend dus die Heidelbergse Kategismus) van die Kerke van gereformeerde belydenis (die GKSA, die NGK en die NHK) in Afrikaans is drie fases te onderskei. Die eerste fase het by die Gereformeerde gemeente Phillipstown in 1913 begin. Sewe jaar later (1920) was al drie Kerke amptelik daarby betrokke. Teen 1927 is ooreengekom om die vertaalwerk aan die Bybelvertalers oor te laat. Daarmee het die tweede fase hom aangekondig. In 1936 is die Formulierboek in druk uitgegee. Daarin is Die Drie Formuliere van Enigheid en die Liturgie opgeneem. Dit is in Afrikaans vertaal deur die Bybelvertalers, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie wat die 'Drie Hollandse Kerke in Suid-Afrika' verteenwoordig het. Die Heidelbergse Kategismus of Onderwysing in die Christelike Leer (Formulierboek 1936:34-77) is hierin in Afrikaans weergegee.

Die derde fase staan in verband met die ontvangs wat die Formulierboek in die drie 'Hollandse Kerke' te beurt geval het. Slegs die GKSA het hierdie vertaling amptelik goedgekeur en aanvaar, omdat dit geskoei was op die teks wat deur F.L. Rutgers vir die Gereformeerde Kerke in Nederland voorberei is (Rutgers 1913:Voorwoord). Die ander twee Kerke het hierdie vertaling en teks nie erken nie en teruggegryp na 'n ander tekstradisie. So het die NGK die teks van die Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika (1907) sentraal gestel vir 'n eie vertaling wat in 1950 gepubliseer is. Hiermee is aansluiting gevind by die lyn wat J.J. Kotze (1865) gevolg het. In 1945 het die NHK 'n vertaling in eie reg in gebruik geneem. Ook hiervoor is die Nederlandse tekstradisie (Vinke-Gooszen-Van Toorenenbergen) soos gevolg deur dominee Goddefroy (1997), as uitgangpunt geneem.

Die Afrikaanse vertaling van die Formuliere van Eenheid, waarin die Heidelbergse Kategismus opgeneem is, het dus in drie vertalings (1936, 1945, 1950) beslag gekry. Onderliggend aan die onderskeie vertalings was verskillende tekstradisies. In die lig van die verhaal wat in hierdie artikel vertel is, is dit te betwyfel of die uitlating van Kuyper, Bavinck en Rutgers in 1897 in aansluiting by 'n sewentiende-eeuse aantekening van Jacobus Trigland van toepassing kan wees op die tekste en vertaalwerk wat in Suid-Afrika gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu gedoen is. Trigland het naamlik beweer dat drukkers en boekverkopers alles 'drucken ende verkoopen ... wat haer belief, ende alsse erghens een Copie van een Psalmboek, Catechismus, of dierghelijcke hebben, zy drucken eenvoudich by haer neus lancks, manneken naar manneken, zonder ondersoeck of het wel of qualijck is, en de boecken worden also in de winkels to verscheiden gebruycken verkoft' (Berymde Psalms 1913:Voorwoord). Net 'n noukeurige vergelyking van die drie Afrikaaanse tekste met mekaar, en met die oorspronklike tekste, sal egter hieroor uitsluitsel kan gee.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Berymde Psalms, 1913, De berijmde Psalmen met eenige gezangen in gebruik bij de Gereformeerde Kerken in Nederland; alsmede hare Formulieren van eenigheid, met de drie oude geloofsbelijdenissen, en hare liturgie met het Kort begrip en den ziekentroost, Naar den door die kerken vasgestelden tekst uitgeven door Dr FL Rutgers, onder medewerking van Dr H Bavinck en Dr A Kuyper, Uitgevers-Genootschap Biblia, Maasluis.         [ Links ]

Berymde Psalms, 1965, Die berymde Psalms in gebruik by die drie Hollandse (Afrikaanse) Kerke in Suid-Afrika, t.w. die Gefedereerde Nederduitse Gereformeerde, die Gereformeerde en die Nederduits Hervormde Kerke en ander Skrifberyminge, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Drie formuliere van enigheid, 1936, Die drie formuliere van Enigheid en die liturgie, in Afrikaans vertaal deur die Bybelvertalers, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie verteenwoordigende die drie Hollandse Kerke in Suid-Afrika, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Formulierboek kyk Drie formuliere van enigheid.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1913, Handelingen van de zeventiende Algemene Synodale Vergadering van de Gereformeerde Gemeenten van Zuid-Afrika, 06 Maart 1913 en volgende dagen te Steynsburg, Van der Heyden, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1918, Handelingen van de negentiede Algemene Synodale Vergadering van de Gereformeerde Gemeenten van Zuid-Afrika, 22 Augustus 1918 en volgende dagen te Reddersburg, Van der Heyden, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1920, Handelinge van die twintigste Algemene Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika te Boksburg, 24 September 1920 en volgende dae, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1924, Handelinge van die 21ste Algemene Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika te Rustenburg, 29 Maart 1924 en volgende dae, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1927, Handelinge van die 22ste Algemene Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika te Reddersburg, 25 Maart 1927en volgende dae, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, [1936], Handelinge van die vyf-en-twintigste Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika in sitting byeen te Bethulie, OVS op Donderdag 5 Maart 1936 en volgende dae, Caxton, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, [1939], Handelinge van die 26ste Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika in sitting te Bloemfontein, OVS op 23 Maart 1939 en volgende dae, s.n., s.l.         [ Links ]

GKSA kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.         [ Links ]

Goddefroy, M.J., 1897, De belijdenisschriften van de Nederduitsch Hervormde Kerk genoemd: De drie formulieren van eènigheid gevolgd door de drie oudste algemeene symbolen en de Dordtsche Kerken-orde, De Bussy, Pretoria.         [ Links ]

Kotzé, J.J., 1865, De belijdenisschriften der Nederduitsch-Gereformeerde Kerk en derzelver geschiedkundige toelichting, Van de Sandt de Villiers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1919, K1/1 1/12 G: Notule van de Algemene Vergadering der Ned. Herv. Kerk ZA, 12 Junie 1919 evd, Pretoria, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1922, SPE IV 3 9(a): Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk van Zuid-Afrika 1922, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika, ook gepubliseer in De Hervormer, 1924, xvii-xviii, 15 Jan.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1926-1944a, K1/2 3/29/27: SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans 1926-1944, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1926-1944b, K30/2: SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans 1926-1944, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1926-1944c, K30/2 1/2/1: SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans 1926-1944, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1926-1944d, K1/2 3/29/27: SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans 1926-1944, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1928, K1/1 1/12 G: Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk ZA, 08 Augustus 1928 evd, Pretoria, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1931, P1 3/5/5: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1931, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1934, P1 3/5/6: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1934, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1937, P1 3/5/7: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1937, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1940, P1 3/5/8: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1940, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1942, P1 3/5/9: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1942, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1945a, K1/1 1/1/3 G: Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1945, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk, 1945b, Belydenisskrifte, gebede en formuliere van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, s.n., Pretoria.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1907, Formulierboek der N.G. Kerk in Z. Afrika: Catechismus, geloofs-belijdenis, Kort begrip der Christelijke leer, leerregelen van de Synode van Dordrecht en liturgie van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika, Van de Sandt De Villiers Drukpers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1919a, Handelingen zes-en-twintigste vergadering van de hoog-eerw.-Synode der Ned. Geref. Kerk in de Oranje Vrystaat, gehou te Bloemfontein op Donderdag 24ste April 1919 en volgende dagen, Nationale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1919b, Handelingen van de zesde vergadering van den Raad der Ned. Ger. Kerken in Zuid-Afrika, gehouden te Johannesburg op 6 Maart 1919 en volgende dagen, Paarl Drukkers Maatschappij, Paarl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1920, 1/1: Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 01 September 1920, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1921, Handelingen van de zevende vergadering van de Raad der Ned. Ger. Kerken in Zuid-Afrika, gehouden aan de Paarl op 3 Maart 1921 en volgende dagen, Paarl Drukkers Maatschappij, Paarl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1922, 1/1: Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 17 Oktober 1922, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1923, 1/1: Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 10 Julie 1923, Ongepubliseerd, Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1925a, Handelinge agt-en-twintigste vergadering van die hoog-eerw.-Sinode van die Ned. Gereformeerde Kerk in die Oranje Vrystaat gehou te Bloemfontein op Donderdag 16 April 1925 en volgende dae, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1925b, Handelingen van de negende vergadering van de Raad der Ned. Ger. Kerken in Zuid-Afrika, gehouden te Durban, Natal, 11 Junie 1925 en volgende dagen, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1927, Handelingen van de tiende vergadering van den Raad der Ned. Ger. Kerken in Zuid-Afrika, gehouden te Heidelberg op 24 Maart 1927 en volgende dagen, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1929, Handelinge van die elfde vergadering van die Raad der kerken te Kaapstad gehou op 13 Maart 1929 en volgende dae, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1934, Handelinge een-en-dertigste vergadering van die hoog eerw. Sinode van die Ned. Gereformeerde Kerk in die Oranje Vrystaat gehou te Bloemfontein op Donderdag 19 April 1934 en volgende dae, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1936, Handelinge van die agt-en-twintigste vergadering van die Sinode van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika, gehou te Kaapstad op Donderdag 22 Oktober 1936 en volgende dae, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1937, Handelinge van die vyftiende vergadering van die Raad van die kerke gehou in Kaapstad 10 Maart 1937 en die volgende dae, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1939, Handelinge van die sestiende vergadering van die Raad van die kerke gehou op Bloemfontein op 15 Maart 1939 en volgende dae, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1941, Handelinge van die sewentiende vergadering van die Raad van die kerke gehou op Pretoria op 26 Maart 1941 en volgende dae, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1943, Handelinge van die agtiende vergadering van die Raad van die kerke gehou in Bloemfontein op 31 Maart 1943 en volgende dae, Nasionale Pers, s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1948, Rapport van die Kommissies vir aktuele vraagstukke en formulierboek, om voorgele te word aan die Raad van die Kerke op 11 Mei 1949, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1949, Handelinge van die een-en-twintigste vergadering van die Raad van die kerke gehou te Pretoria op 11 Mei 1949 en volgende dae, Nasionale Pers, s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1951, Handelinge van die twee-en-twintigste vergadering van die Raad van die kerke gehou in Bloemfontein op 16 Mei 1951 en volgende dae, Voortrekkerpers, Johannesburg.         [ Links ]

Nederlandse Bijbel-Compagnie, 1932, Het boek der Psalmen nevens de gezangen, bij de Kerken van Nederland in gebruik door last van de hoog moogende heeren Staten Generaal der Vereenigde Nederlanden, uit dier berijmingen, in het jaar 1773 gekozen, met de noodige daarin gemaakte veranderingen, Joh. Enschedé & Zonen, Haarlem. (Ook J. Brandt & Zoon, Amsterdam).         [ Links ]

NGK kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk.         [ Links ]

NHK kyk Nederduitsch Hervormde Kerk.         [ Links ]

Van Toornenbergen, J.J. 1906, De symbolische schriften der Nederlandsche Hervormde Kerk in zuiveren kritisch bewerkten tekst, 2e uitg., Kemink & Zoon, Utrecht.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Dolf Britz
PO Box 12654
Brandhof 9324, South Africa
Email: britzrm@ufs.ac.za

Received: 18 Oct. 2012
Accepted: 12 Apr. 2013
Published: 06 Sept. 2013

 

 

1. Vir dominees S.O. Los, J.A. du Plessis en ouderling P.J. Schutte was hierdie 'n privaat aangeleentheid, terwyl dominee J.A. du Plooy en ouderling D.R. Fouche oortuig was dat die Kerk nie hiervoor ryp was nie.
2. K 1/1 1/12G, Notule van de Algemene Vergadering der Ned. Herv. Kerk ZA, 12 Junie 1919 evd, Pretoria, 69-70. 'Deze vergadering besluit na de diskussie over de Afrikaanse taal, ziende dat het Afrikaans door de Staat en de Zusterkerken en andere lichamen, ook door de Akademie als officiële taal erkend is, om Afrikaans naast Nederlands als officiële taal te erkennen.'
3. K 1/1 1/12 G, Notule van de Algemene Vergadering der Ned. Herv. Kerk ZA, 12 Junie 1919 evd, Pretoria, 69, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
4. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 01 September 1920 (Argief-bewaarplek NG Kerk Vrystaat).
5. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 01 September 1920 (Argief-bewaar-plek NG Kerk Vrystaat).
6. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 01 September 1920 (Argief-bewaarplek NG Kerk Vrystaat).
7. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 17 Oktober 1922 (Argief-bewaarplek NG Kerk Vrystaat).
8. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 17 Oktober 1922 (Argief-bewaarplek NG Kerk Vrystaat).
9. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 17 Oktober 1922 (Argief-bewaarplek NG Kerk Vrystaat).
10. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 10 Julie 1923 (Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat).
11. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 10 Julie 1923 (Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat).
12. 1/1, Notuleboek Afrikaanse Bybelvertaling Kommissie 10 Julie 1923 (Argiefbewaarplek NG Kerk Vrystaat).
13. SPE IV 3 9(a), Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk van Zuid-Afrika, 1922, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika). Gepubliseer in De Hervormer, 15 Januarie 1924, xxii.
14. SPE IV 3 9(a), Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk van Zuid-Afrika, 1922, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika). Gepubliseer in De Hervormer, 15 Januarie 1924, xvii-xviii.
15. Sien 'n kopie van die brief in K30/2, SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika). Vergelyk ook NGK (1927:79-81).
16. K1/1 1/12 G, Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk ZA, 08 Augustus 1928 evd, Pretoria, 235-237, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
17. K1/1 1/12 G, Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk ZA, 08 Augustus 1928 evd, Pretoria, 41 e.v., (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
18. K30/2, SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
19. Volgens die notule van die vergadering was dr. H.C.M. Fourie ook teenwoordig.
20. K30/2, SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
21. K30/2, SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
22. K30/2, SP Engelbrecht Museum: Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
23. K1/1 1/12 G, Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk ZA, 08 Augustus 1928 evd, Pretoria, 41, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
24. K1/1 1/12 G, Notule van de Algemene Vergadering der Nederd. Herv. Kerk ZA, 08 Augustus 1928 evd, Pretoria, 43, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
25. P1 3/5/5, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1931, 98, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
26. P1 3/5/5, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1931, 99, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
27. P1 3/5/6, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1934, 133 e.v., (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
28. P1 3/5/6, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1934, 133, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
29. P1 3/5/6, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1934, 133, 24, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
30. P1 3/5/6, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1934, 133, 25, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
31. Sien die opmerking: 'Die Drie Formuliere van Enigheid en Liturgie in Afrikaans vertaal deur Bybelvertalers, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie verteenwoordigende drie Hollandse Kerke in Suid-Afrika' (Berymde Psalms 1965:418 e.v.).
32. P1 3/5/7, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1937, 3, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
33. P1 3/5/7, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1937, 21, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
34. P1 3/5/8, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk 1940, geen bladsy verwysing, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
35. K30/2 1/2/1, SP Engelbrecht, Museum, Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
36. P1 3/5/9, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1942, geen bladsy verwysing, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
37. Sien korrespondenisie 1943: K1/2 3/29/27, SP Engelbrecht, Museum, Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
38. K1/2 3/29/27, SP Engelbrecht, Museum, Liturgiese Geskrifte en Bybelvertaling in Afrikaans, 1926-1944, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
39. K1/1 1/1/3 G, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1945, 20, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).
40. K1/1 1/1/3 G, Notule van die Algemene Kerkvergadering van die Nederd. Herv Kerk, 1945, 19-20, 120-121, (Argiefbewaarplek Ned. Herv. Kerk van Afrika).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License