SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número2The doctrine on God, as demonstrated and confessed in the Heidelberg CatechismThe reception of the Heidelberg Catechism (Sunday 17 and 22) with regard to the resurrection within the Dutch Reformed Church since 2000 (Part 2) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.2 Cape Town jul. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die resepsie van die Heidelbergse Kategismus (Sondag 17 en 22) insake die opstanding in die negentiende-eeuse Nederduitse Gereformeerde Kerk (Deel 1)

 

The reception of the Heidelberg Catechism (Sunday 17 and 22) with regard to the resurrection within the nineteenth century Dutch Reformed Church (Part 1)

 

 

Johannes W. Hofmeyr

Department of Church History and Polity, University of the Free State, South Africa

Correspondence to

 

 


OPSOMMING

Met die 450e herdenking van die Heidelbergse Kategismus (HK) as vertrekpunt word in twee artikels gepoog om lig te werp op die plek, die rol en die interpretasie van die opstanding van Jesus Christus uit veral Sondag 17 en 22, spesifiek in die konteks van twee besondere eras in die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk. Na 'n kort bespreking van die Heidelbergse Kategismus , word in hierdie eerste artikel uitgebreid gekyk na die resepsie van die betrokke HK-geloofsartikels in die era van Andrew Murray, spesifiek teen die agtergrond van die negentiende-eeuse liberale teologie in Nederland. In 'n tweede artikel word soortgelyk gekyk na die resepsie van die betrokke HK-geloofsartikels in die NG Kerk na 2000, veral teen die agtergrond van die herverskyning van die liberale teologie in die vorm van die Jesus Seminaar, die Nuwe Hervorming en die aanhangers daarvan se standpunte binne die NG Kerk. Sowel die negentiende-eeuse liberale stryd in die NG Kerk as die stryd rondom die opstanding in die NG Kerk van die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu, soos in die tweede artikel duidelik sal blyk, was gekenmerk deur kontekstueelbepaalde uniekhede. Die gemene deler is dat albei deel was van tye van teologiese vrysinnigheid. In die lig van hierdie bespreking, ook ten opsigte van die negentiende eeu, sal tot die gevolgtrekking gekom word dat die NG Kerk, wat sy identiteit as gereformeerde kerk betref, tans waarskynlik in 'n kritieke geloofs- en toekomskrisis verkeer wat kommerwekkende gevolge vir sy Skrifverstaan en getuienis as belydenis en belydende kerk van Jesus Christus en sy toekoms inhou. Alleen 'n duidelike visie, verantwoordelike leierskap en die herontdekking van die kruis en die opstanding as ononderhandelbare heilsgebeure, wat ook deur die HK gehandhaaf word, sal die NG Kerk kan red van 'n snelwentelende afwaartse spiraal. Slegs die pasgenoemde faktore kan 'n herstellende, positiewe en dinamiese oplossing vir hierdie proses bied wat sigself tans in die NG Kerk afspeel.


ABSTRACT

 With the 450th celebrations of the origin of the Heidelberg Catechism (HC) in mind, the main aim of two articles is to focus on the place, role and interpretation of the doctrine of the resurrection in this Catechism, within two very specific and critical eras in the history of the Dutch Reformed Church; (DRC) in South Africa. After a brief introduction to the Heidelberg Catechism, the aim in this first article is to focus extensively on the reception of the HC in the time of Andrew Murray during the nineteenth century, and specifically against the background of the then liberal theology in both the Netherlands and South Africa. In the second article I look at the reception of the same HC articles of faith in the DRC since 2000, against the background of the reappearance of the nineteenth century liberal theology in the form of the Jesus Seminar, the New Reformation and those sympathetic to the latter in the DR Church. It will become clear that both these nineteenth and twenty-first century developments had their own unique contexts. What they had in common was a specific theological liberal-mindedness. In view of this discussion about the nineteenth century developments, it will be concluded that the DR Church as a reformed church is currently not only caught up in an identity crisis but even in a survival crisis of no small proportions. This also has serious implications for its use of Scriptures and its confessional character. Only a strong vision, able leadership from all parties within the church and a rediscovery of the redeeming power of the cross and of the resurrection as basic doctrinal tenets, also upheld by the HC, can save the DR Church from an ever moving downward spiral. Only these factors can provide a remedial, positive and dynamic solution to this process in the DR Church.


 

 

Inleiding

In hierdie herdenkingsjaar word ook in Suid-Afrika teruggedink aan die wêreldwye plek en rol van die Heidelbergse Kategismus (HK) in die loop van 450 jaar. Onwillekeurig word ook nagedink oor die NG Kerk se standpunt ten opsigte van verskillende sake in hierdie dokument, synde een van sy drie belydenisskrifte.

Baie kan vandag gesê word oor belydenisskrifte wat 'die tekens dra van die tyd waarin hulle ontstaan het' (Pieterse 2011:44). Net soos die Bybel en sy gesag tans geweldig in die gedrang is, so is ook die belydenisskrifte en dus ook die sentrale en basiese uitgangspunte van die Christelike geloof. Sommige geleerdes herinterpreteer die belydenisse sodanig dat hulle oorspronklike betekenis en bedoeling verlore gaan, terwyl ander teoloë so ver gaan as om kategories te verklaar dat hulle geen nut meer het nie, omdat die inhoud daarvan klaarblyklik nie meer met hulle teologiese nadenke vereenselwig kan word nie. Daar is dus sprake van 'n radikale herinterpretasie van die belydenis, of 'n onversoenbare vervreemding tussen die belydenis en die sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte. In ons tyd is daar 'n neiging ook onder prominente NG-kerkleiers en -teoloë, om die hart van die belydenisse sodanig te verwaarloos of te herinterpreteer (op grond van hulle wetenskaplike insigte), dat 'n verbreking plaasvind van die wesenlike binding wat daaruit met die Vroeë Kerk en God drie-enig verkry word. Die gevolg is ook verder dat die belydenis as 'n verantwoordelike hermeneutiese sleutel vir 'n gesonde, geloofwaardige en groeiende kerk van Jesus Christus verlore gaan.

Ten opsigte van die relatief onlangse diskussies rondom geloofsbelydenisse en die ontwikkelings in die teologie en ander wetenskappe, is die perspektiewe van 'n verskeidenheid resente NG Kerk-denkers waardevol om te ondersoek.

Pieter Potgieter praat van 'n 'kerklike identiteitskrisis' in die konteks van ons belydenisskrifte en lidmate wat 'voel hulle is besig om 'n vaste anker in die lewe te verloor' (Potgieter 1998:10). Tog maan hy dat die kerk nie moet stagneer nie. 'Verandering is van tyd tot tyd nodig en kan goeie gevolge hê,' maar, beklemtoon hy (Potgieter 1998) verder:

die vraag bly egter altyd na die grond en motivering daarvan ... daar kom ... probleme wanneer 'n groep mense in die kerk deur die misbruik van hulle posisie hulle eie siening op die kerk afdwing. Dan word dit 'n ramp vir die kerk en vir die koninkryk van God. (bl. 10)

Wat moet 'n mens se riglyn dan bly om aan die een kant nie te stagneer nie, maar ook nie af te stuur op 'n ramp vir die kerk nie? Potgieter (1998) antwoord soos volg:

Daar is sekere dinge wat in die proses van kerklike verskuiwings en veranderings nie prysgegee mag word nie: die kerk se gebondenheid aan die Skrif en belydenis as riglyn vir leer en lewe moet onverkort gehandhaaf word. (bl. 10)

In 'n waardevolle bydrae oor die NG Kerk se konfessionele identiteit in die lig van die moderne en postmoderne tydsgees, skryf Sybrand Strauss in 1998 dat dit vir die NG Kerk noodsaaklik is om sy gereformeerde belydenis te bly handhaaf, want '[o]m dit los te laat, is werklik geen begaanbare weg nie. So iets sal ons net verder op 'n eerlose pad van geestelike verwildering voer' (Strauss 1998:30). Strauss vervolg dat dit egter nie op 'n 'dooie ortodoksie, gerieflike konserwatisme of geestelike luiheid' dui nie. Inteendeel, daar moet met integriteit kennis geneem word en saam nagedink word oor die nuutste ontwikkelings in die teologie en ander wetenskappe, '[m]aar in dié proses moet die Skrif alleen, die enigste Woord van God, die deurslag gee - en nie allerhande moderne wetenskaplike insigte of teologiese modeverskynsels nie' (Strauss 1998:30).

Die aversie in geloofsbelydenisse in die lig van moderne wetenskaplike insigte is egter steeds aan die toeneem. Conrad Wethmar haal in 'n 2011-artikel resente opskrifte in die pers aan: 'Die tyd is ryp dat van die dogma wegbeweeg word', of 'Die dood van dogma: mense vra na 'n moderne belydenis', of 'Die Drie Formuliere onbemind' (Wethmar 2011:79). Na 'n genuanseerde bespreking oor die geskiedenis van die belydenisskrifte, die dogma, die Bybel en ontwikkelings in die teologie en ander wetenskappe, kom Wethmar (2011) tot 'n soortgelyke konklusie as Strauss:

... die belydenis (is) nie 'n opsionele luukse ... nie, maar veel eerder die manier waarop die kerk wat deur die Woord van God in aansyn geroep word, voortbestaan. Dit is inderdaad die manier waarop die kerk op 'n vaste fondament gebou word. Dié fondament is Jesus Christus (1 Kor 3:11). (bl. 92)

Teen hierdie meer resente agtergrond kan 'met erns nagedink word oor wat Willie Jonker alreeds in 1977 geskryf het ten opsigte van 'n teologie wat hom van die belydenis losmaak:

Ongelukkig het die geskiedenis getoon dat die loslating van binding aan die belydenisskrifte ... in die meeste gevalle tot ongelukkige resultate gelei het. Dit het dikwels uitgeloop op die beoefening van 'n teologie wat homself op sodanige wyse van die kerklike belydenis losgemaak het, dat dit, in plaas daarvan om die kerk te dien, eerder teenoor die kerk te staan gekom en aan die afbraak van die kerk meegewerk het. (Heyns & Jonker 1977:206.)

Jonker en talle ander wetenskaplikes (o.a. Potgieter, Strauss en Wethmar) is dit eens dat die teologie as wetenskap hoegenaamd nie 'n bedreiging vir die belydenis van die Kerk hoef te wees nie. Aan die een kant merk Jonker tereg op dat die waarde en betekenis van die teologie as wetenskap by die vraag staan en val of die teoloog inderdaad volledig, eerlik en vry met sy taak besig kan wees. Vir Jonker is dit duidelik dat daar in die kerk 'geen krampagtigheid moet wees nie. As die kerk oortuig is van die waarheid van sy eie belydenis, behoort hy geen behoefte daaraan te hê om die teologiese worsteling met dié waarheid in beginsel as 'n bedreiging te sien nie.' (Heyns & Jonker 1977:204.)

Aan die ander kant maak Jonker die volgende belangrike opmerking:

Niks verplig die teoloog om hom op die basis van die kerklike belydenis te stel nie, maar as hy dit nie kan doen nie, sal hy ook moet begryp dat die kerk aan hom nie 'n posisie kan gee waarin hy groot invloed op die kerklike lewe uitoefen, terwyl dit by voorbaat vasstaan dat hy 'n ander rigting as die kerk se belydenis gaan beweeg nie ... 'n Gewetensvolle teoloog (en bybelwetenskaplike) behoort sy posisie binne 'n fakulteit waaroor die kerk toesig hou, daarvoor feil te hê as dit duidelik word dat sy oortuiginge en die van die kerk nie meer met mekaar in ooreenstemming gebring kan word nie. (Heyns & Jonker 1977:211; vgl. ook Jonker 1994:166-170.)

In die gevestigte ruimte van die gereformeerde teologiese tradisies in die NG Kerk is daar dus verskillende stemme wat oor 'n lang tydperk reeds die aandag daarop gevestig het dat dialoog tussen die geloofsbelydenis en die nuutste ontwikkelings in die teologie en ander wetenskappe nie net moontlik is nie, maar ook geen bedreiging inhou vir ons volgehoue geloofsverbondenheid aan die hart van ons ryk belydenistradisie nie. Op 'n genuanseerde en verantwoordelike wyse help hulle om belangrike bakens daar te stel wat die altyd lewendmakende hartklop van die Skrif vir toekomstige geslagte kan bewaar. Hierdie hartklop hoor 'n mens onder andere ook in die HK.

In die tweeluik artikels in hierdie tydskrif gaan dit grootliks oor die teologiese ontwikkelings in twee belangrike eras in die NG Kerk; spesifiek oor die resepsie van die opstanding in 'n belydenisskrif soos die HK gedurende daardie twee eras. Indien daar na die vraag van die resepsie gevra word, word dus ook gevra wat die omstandighede in 'n bepaalde era was wat die resepsie medebepaal het. In hierdie twee artikels word dus gepoog om nie geforseerde parallelle en verbande te trek tussen die resepsie van die HK se standpunt oor die opstanding by Andrew Murray en sy tydgenote, en die resepsie van die opstandingsleer in die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu nie. Hierdie twee kontekste maak van die mees kritiese teologiese fases in die NG-kerkgeskiedenis uit. Dit verskaf waardevolle insigte, omdat daar interessante ooreenkomste is tussen die liberale teologieë van die negentiende eeu in veral Nederland en sy eweknieë in die een-en-twintigste-eeuse NG Kerk.

In wat volg word gepoog om hierdie groot lyne te bespreek, beginnende met 'n kort oorsig oor die HK en die opstanding.

 

Die Heidelbergse Kategismus en die opstanding

Inleiding: Belydenisskrifte en die opstanding

In die Skrif neem die opstanding 'n sentrale plek in soos Romeine 10:9 byvoorbeeld getuig. Paulus skryf: 'As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.' Hieruit is dit duidelik dat die belydenis oor die opstanding direk met verlossing verbind word. Hoe die opstanding gebeur, was vroeg reeds belangrik. In Romeine 8 skryf Paulus uitgebreid oor die skepping wat met verlange na die verlossing uitsien en dit is vir Paulus ook besonder belangrik om te verklaar

... as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame (thneta somata) lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Net soos in die Skrif, neem die opstanding ook 'n sentrale plek in die belydenisse in. Dit is daarom verstaanbaar waarom die belydenis oor die liggaamlike opstanding nie net as hermeneutiese sleutel in die Skrif en vroeë belydenisse gedien het nie,1 maar ook in die belydenisskrifte van die Reformasie, waarvan die HK 'n besondere voorbeeld is.

Opstanding in die Heidelbergse Kategismus

De iure en de facto het die aanvaarding van die HK teen 1563 en die bevestiging van hierdie besluit deur die Sinode van Dordt in 1618-1619, naamlik dat die Drie formuliere van eenheid voortaan die geldende belydenisskrifte van die Hervormde Kerk in Nederland sal wees, in wese alle kerke wat uit hierdie Nederlandse Kerk voortgekom het, daaraan verbind. Dit beteken dus dat ook die NG Kerk in Suid-Afrika dit sedert die sewentiende eeu onderskryf het.

Die HK is 'n oorsig van die belangrikste Christelike leerstukke in die vorm van vrae en antwoorde en is wêreldwyd bekend en gewild. Dit is alreeds in tientalle tale dwarsoor die wêreld vertaal. Die Amerikaanse dogmatikus Lyle Bierma bevestig bepaalde sake op grond van sy eie deeglike navorsing (Bierma et al. 2005). Volgens Bierma verklaar Heinrich Bullinger, die leier van die gereformeerde kerke gedurende die sestiende eeu in Zürich, dat die HK die beste kategismus is wat ooit tot en met daardie tyd gepubliseer is. Bierma (s.a.) stel dit op sy beurt soos volg:

Many scholars regard it as the most irenic and catholic expression of the Christian faith to come out of the Protestant Reformation . Why, then, would this document eventually stand out from the rest? ... Why, then has this document had such extraordinary staying power and popularity in Reformed and Presbyterian circles and beyond? It is because this is a catechism that today still connects with believers at the core of their being, beautifully blending biblical doctrine and piety. [Baie navorsers beskou dit as die mees versoenende en katolieke uitdrukking van die Christelike geloof wat uit die protestantse Reformasie na vore gekom het ... Waarom is hierdie dokument ten einde laaste uitsonderlik van die res? ... Waarom het hierdie dokument sulke buitengewone krag om behoue te bly en populêr te wees in gereformeerde en presbiteriaanse kringe tot vandag ook nog? Die rede is dat dit 'n kategismus is wat vandag nog steeds aanklank vind by gelowiges in die kern van hulle bestaan, waar bybelse lering en piëteit pragtig ineengevleg is.] (bl. 2, [outeur se eie vertaling])

Die Heidelbergse Kategismus was die opdragwerk van Frederik III, die keurvors van die Palts, 'n klein staatjie binne Heidelberg, die bekende universiteitstad. Frederik III het die opdrag gegee dat dit opgestel moet word, omdat daar baie godsdienstige verwarring in daardie tyd en in sy gebied geheers het. Die opdrag is aan 'n jong professor in die Teologie te Heidelberg toevertrou, Sagarias Ursinus(1534-1583). Ursinus was 'n breed-georiënteerde teoloog en die gedagtegang van Calvyn, Melanchton en Bullinger was onder andere by hom te vind. Op 'n vroeëre stadium was Ursinus betrokke by die opstel van 'n sogenaamde Groot en Klein Kategismus. Die HK is veral op die Klein Kategismus gebaseer. Die HK as kategismus van die Christelike geloof het gebruik gemaak van die beste wat op die terrein van kategismusse beskikbaar was en is veral sterk deur die teoloë van Zürich en die Switserse Reformasie beïnvloed.

Waarskynlik het 'n kommissie die HK later verwerk tot die vorm waarin dit in 1563 goedgekeur is. Die HK gee in 129 vrae en antwoorde met 'n 52-Sondagsindeling, juis om saam te val met die aantal weke van die jaar, 'n uiteensetting van hoe gereformeerde Christene die bybelse leer wil verstaan. Hierdie leer is op die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis gebou. Piet Naude sê by geleentheid dat hierdie belydenisskrif soos ook die ander, ten diepste 'n stryd was om die waarheid aangaande God vas te lê, net soos die Reformasie. Soos dikwels uit die geskiedenis van belydenisskrifte gesien kan word, byvoorbeeld uit die verhaal van Guido de Brès wat aanvanklik die Nederlandse Geloofsbelydenis opgestel het, maar uiteindelik verbrand is, 'was geloofsverskille dikwels doodsake. En sommige (ook in ons tyd - JWH) kyk na hierdie geskrifte as sommer so-so ...' (Naude 2004:103).

Dit is interessant om daarop te let hoe 'n bekende teoloog soos Günther Bornkamm oor die geloofsbelydenisse in die algemeen, maar ook by name oor Jesus se opstanding, nadink. Vir hom (Bornkamm 1967) is geloofsbelydenisse van die allergrootste belang en veral die belydenis oor die opstanding:

Door de opstanding van Jezus Christus uit de doden te belijden, belijdt men naar oer-christelijke opvatting niet één geloofsartikel onder vele andere, maar het kernpunt, het fundament, de inhoud van heel het geloof en van iedere belijdenis. [Deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood te bely, bely 'n mens volgens die oer-Christelike opvatting nie een geloofsartikel tussen die ander nie, maar die kern, die fondament, die inhoud van die totale geloof en van elke belydenis.] (bl. 44, [outeur se eie vertaling])

Soortgelyke kommentaar kom van die gewaardeerde Nederlandse teoloog A.A. van Ruler (1972) wat in sy bespreking van die Apostoliese Geloofsbelydenis skryf: '... dat werkelijk alles samenloopt in het artikel van de opstanding van het vlees. Wie dit artikel laat vallen, laat het hele christelijke geloof uiteenvallen' [... wat werklik alles saamtrek in die artikel van die opstanding van die liggaam. Wie hierdie artikel verwerp, laat die hele Christelike geloof uitmekaarval.] (bl. 146)

Met hierdie verwysings na die sentrale belang van die opstanding as agtergrond, is die vraag watter rol en funksie die opstanding van Jesus Christus dan in die HK vervul. Die HK handel in sy struktuur van vrae en antwoorde in Sondag 17, Vraag en Antwoord 45, met die opstanding. Die formulering daarvan is welbekend:

Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons 'n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

Indien in ag geneem word dat Christus se opstanding 'vir ons 'n betroubare waarborg van ons salige opstanding' is, is dit sinvol, maar ook noodsaaklik om Sondag 22, Vraag 57 in dieselfde konteks saam te lees:

Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

Die HK se verstaan van Christus se opstanding fokus dus op sowel die inhoud as die hoe van Christus se liggaamlike opstanding, maar ook op gelowiges se toekomstige opstanding wat ten nouste daarmee verbind word (Vraag 57). Die nut en die implikasies daarvan word in Vraag 45 hanteer. In die HK is dus 'n besondere ooreenkoms met Paulus se belydenis oor die opstanding volgens Romeine 10:9, waar die verlossing en dus die implikasie van geloof in die opstanding ter sprake kom, asook Romeine 8:11 waar die hoe van die opstanding aan die orde kom.

 

Andrew Murray en die opstanding

Inleiding en oorsig oor die moderne rigting2 in Nederland en in die NG Kerk

Andrew Murray was 'n prominente predikant wat ses keer moderator in die negentiende-eeuse NG Kerk was. Uit sy pen het bykans twee dosyn geestelike boeke gekom wat vandag nog wêreldwyd in druk is. Hy was egter ook 'n teoloog wat meestersgrade in Aberdeen (Skotland) en Utrecht (Nederland) behaal het. Hierdie internasionale blootstelling was belangrik in die sin dat Murray eerstehands kennis gemaak en geworstel het met die destydse populêre moderne rigting of liberale teologie soos dit vergestalt is in die negentiende-eeuse rasionalisme en panenteïsme in Europa, en Deïsme in Skotland en Engeland. Hierdie blootstelling het hom egter ook op die voorpunt geplaas van gereformeerde en evangeliese nadenke oor geloof, wetenskap én die belydenis in die NG Kerk. Hierdie feit word dalk nêrens beter geïllustreer nie as juis in Murray se omvangryke en steeds relevante werke, Die moderne ongeloof en Die moderne teologie.

Daar bestaan min twyfel dat Murray as opeenvolgende moderator van die NG Kerk, maar ook in Suid-Afrika in die algemeen, 'n sleutelrol in die negentiende eeu gespeel het. Hy het aan die een kant erns gemaak met die stroomversnellings in die teologie en die wetenskap en aan die ander kant probeer om getrou te bly aan sy gereformeerde en evangeliese verstaan van die belydenisskrifte. F.J. Liebenberg vertel:

In die dae van 'storm en drang' het hy die beraadslagings op bekwame en soms indrukwekkende wyse gelei. Dit was hy wat die Kerk verdedig het toe die Kerk voor die regbank gedaag was tydens die stryd teen die toenemende Liberalisme. (Murray 1942a:xvi.)

Liebenberg (Murray 1942a:xvii) sê verder: 'Die geskiedenis getuig voldoende wat hy oor die algemeen vir Suid-Afrika gedoen het.' Murray was selfs in 1978 verder vereer met 'n posseël wat deur die Suid Afrikaanse posdiens uitgegee was! (Murray 1978).

Wat die liberalisme betref, het Murray in die sestigerjare van die negentiende eeu vir agt jaar lank aan die spits gestaan van die stryd wat die kerk uit Nederland ingesypel het. 'n Paar voorbeelde uit die negentiende-eeuse Nederlandse konteks, goed uiteengesit in Mei 2008 deur Schalk du Toit, toon relevante sake aan. In die era toe toekomstige NG-predikante in onder meer Utrecht en Leiden teologiese opleiding ontvang het, het die moderne rigting, of die liberale beweging soos dit bekend gestaan het, in 1846 by Utrecht ontwikkel onder leiding van veral die jong C.W. Opzoomer (Du Toit 2008:4). Die fokus het al hoe meer op die opheffing van die samelewing begin val en op teologiese gebied het die panenteïsme van K.C.F. Krause (1781-1832) begin veld wen. Hiervolgens word 'God verstaan ... as die alomvattende bewussyn van alles en almal' (Du Toit 2008:5). In hierdie verstaan van God, die belydenis en die wetenskap (wat vir 50 of meer jare lewenskragtig was) is die oortuiging sentraal dat daar onder meer:

... nie ruimte vir ingrype van God in die natuur is nie, nie plek vir wonderwerke nie, en gebedsverhoring druis in teen God se wese en natuur. In plaas daarvan dat die kerk die mense opvoed om verstandelik vrede te kry met hulleself deur te verstaan dat hulle denke deel van God se verstandelike openbaring in die natuur is, verkneg die kerk sy lidmate met 'n sondebesef, onmoontlike wonderwerke soos die maagdelike geboorte en opstanding van Christus uit die dood, verlossing en ingrype van God in die skepping. (Du Toit 2008:5)

In Leiden was die leier van die liberale rigting J.H. Scholten by wie veral die latere kontroversiële J.J. Kotze groot aanklank gevind het. Sonder om in detail te verval, kan kortliks genoem word dat Scholten se rasionalisme ontwikkel het in 'n radikalisering van die soewereiniteit van God waarvolgens selfs gebed tot God oorbodig geword het. Scholten het ook onder die invloed gekom van kritiese Duitsers soos F.C. Baur (1792-1860) en D.F. Strauss (1808-1874).3 Die gevolg was dat die Bybel uiteindelik net maar 'n bloot menslike boek geword het wat volgens verstandelike prosesse geïnterpreteer word. Vir Scholten is daar geen sprake van wonders nie; 'niks van bo of buite die natuurlike werklikheid [word] ingegee nie; en geen gebedsverhoring [is] moontlik nie' (Du Toit 2008:8).

Alhoewel daar teologiese verskille tussen die liberalisme in Utrecht en dié in Leiden was, som Du Toit (2008) hulle basiese vertrekpunte soos volg op:

... die Bybel is die weergawe van mense se belewenis van hulle godsdiens; Christus was 'n besonder begaafde mens; God gryp nie in die loop van sake in nie en dus is daar nie sprake van wonders nie; die wetenskap en gepaardgaande wysbegeerte is die manier waarop tot die waarheid gekom word en die kritiese metode waarmee alle aansprake op waarheid getoets moet word. Uiteindelik is 'n mens se toewyding in godsdiens 'n persoonlike saak waarmee jy jou eie menswees help ontwikkel tot 'n verligte en opgevoede mens wat op humanistiese wyse 'n positiewe bydrae tot die samelewing maak. (bl. 8)

Teen hierdie agtergrond het tientalle toekomstige NG-predikante (insluitende Andrew en John Murray) veral in Utrecht teologiese opleiding ondergaan.4 Andrew Murray se jarelange betrokkenheid by die stryd om die liberale teologie in die NG Kerk is daarom betekenisvol, veral omdat hy as moderator en NG-kerkleier die leiding daarin geneem het nie. Dit is egter ook by uitstek van besondere belang omdat hy die liberale rigting veral in die buiteland van binne uit bestudeer en geken het. Dit is egter ook belangrik om te onthou dat die situasie by die teologiese fakulteite van Utrecht en Leiden natuurlik ook nie ongekompliseerd was nie en dat 'n mens teen veralgemening oor die teologiese standpuntinname van die individue aldaar moet waak.

Wat was dus die konteks waarbinne die liberale teologie uit Nederland in die negentiende-eeuse NG Kerk in Suid-Afrika tot uiting gekom het? Daar was 'n verskeidenheid gebeure,5 maar van die mees prominente voorbeelde binne die NG Kerk is ongetwyfel die gebeure rondom sekere predikante, naamlik J.J. Kotzé (wat in Leiden onder die invloed van J.H. Scholten gekom het), T.F. Burgers, H.C.V. Leibbrandt en S.P. Naudé. Kotzé het tydens die Sinode van 1862 verklaar dat hy nie met vraag en antwoord 60 van die HK saamstem wat leer dat 'n mens tot die kwaad geneig is nie. Hy is na twee jaar se onderhandelings uiteindelik as leraar onthef. Burgers is uiteindelik skuldig bevind aan die ontkenning van die 'persoonlike bestaan van die duiwel'.

Verskeie standpunte oor hierdie teologiese stryd in Suid-Afrika is in hierdie en latere tye ingeneem. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit voldoende om ten opsigte van die oorsprong daarvan, aan sluit by T.N. Hanekom se uitgebreide en wetenskaplik, goed verantwoorde verduideliking daaroor (Hanekom 1951:79-190). Die liberale stryd in die NG Kerk van die negentiende eeu het ongetwyfeld sy oorsprong in die liberale teologie afkomstig uit Utrecht en Leiden. Daar was die neiging om die persoonlike en bonatuurlike verstaan van God, asook die wonderkarakter van die lewe en werk van Jesus (soos in die HK verwoord) te laat vaar vir onder meer 'n panenteïstiese verstaan van God en 'n uitsluitlik rasionele verstaan van Jesus, waar alle bonatuurlike gebeure verdwyn. Wat dus oorbly, is 'n rasionele rekonstruksie van Jesus wat ons slegs morele waardes leer; dus 'n Jesus wat net oor die 'opheffing van die samelewing' begaan is. Teen hierdie agtergrond moet 'n mens Andrew Murray se twee belangrike werke, Die moderne ongeloof en Die moderne teologie, asook sy interpretasie van die HK verstaan (Murray 1942b:1-407).

Andrew Murray en die opstanding

In die lig van die Nederlandse liberalisme en spesifiek die panenteïsme (vgl. Opzoomer en Krause in Utrecht) en die ontkenning van enige bonatuurlike ingrype deur God in die natuur (vgl. Opzoomer in Utrecht en Scholten in Leiden), is dit nie vreemd dat Murray in sy uitleg van Sondag 17, na die opstanding van Christus verwys as 'die vesting van die Christelike geloof' nie (Murray 1945). Ter wille van 'n verskeidenheid wetenskaplike redes, maar ook ter wille van beter verstaanbaarheid word die mees betroubare eerste gedrukte uitgawe van Andrew Murray se standpunte oor die HK gebruik. Dit is opgeneem in die Afrikaanse uitgawe wat in 1945 deur Fred J. Liebenberg van die CSV uitgegee is. In die kort inleiding tot die bespreking van die leerstuk, sê Murray (1945):

As die man wat as 'n gekruisigde misdadiger gesterf het, werklik uit die dode opgewek is, dan het Sy sending en prediking daarin 'n hemelse seel ontvang ... Dan sien ons in hoe die prediking van Jesus en die opstanding die krag was waarmee Sy dissipels die wêreld oorwin het. Vir diegene wat nog nie geleer het om dit in te sien nie, is dit ongelooflik hoe baie die welstand en die wasdom van die geestelike lewe afhang van die regte kennis van die opstanding van Christus. Wat ons veral nodig het is dat dit aan ons duidelik word hoedat Hy wat opgestaan het, ja, wat die opstanding is, juis daarom self ons lewe is. (bl. 186)

In die konteks van die Nederlande liberalisme, is Murray se behandeling van die opstanding met verwysing na 'werklik uit die dode opgewek', 'krag' en die 'regte kennis van die opstanding' onteenseglik tekenend van sy afkeur van die liberalisme se ontkenning van 'n God wat natuurwette kan ophef en wonders doen. Voordat na Murray se bespreking van die drie implikasies of 'hoofseëninge van die opstanding' in die HK gekyk word, is dit wenslik om wat die wonderkarakter van die openbaring betref, 'n sleutelparagraaf uit Murray se boek, Die moderne ongeloof aan te haal. Hierin word al die basiese bestanddele van die Nederlandse liberalisme, helder hanteer:

Van watter nut is dit vir u godsdiens of Jesus wonders gedoen het? Dit hang af van wat daardie godsdiens is. As die mens genoeg het aan homself en aan die natuur, as hy rus kan vind by die aanbidding van DIE ONBEKENDE GOD wat nooit deur die voorhangsel van die natuur deurbreek om antwoord te gee op die gebed, of om Hom van die soeker te laat vind nie; as daar aan 'n Goddelike verlossing van die sonde geen behoefte bestaan nie, dan spreek dit vanself dat so 'n godsdiens aan die wondergeloof geen behoefte het en daar geen seën van ontvang nie. Waar iemand nie verlang om God van naby te ken nie, waar iemand in hierdie lewe sy hoogste doel wil vind, waar iemand hom bedrieg met die dwase hoop om deur die ontwikkeling van die maatskappy die sonde te oorwin, in so 'n godsdiens van die mensheid is daar vir die wonderdoenende God geen plek nie. (Murray 1942b:161)

Met hierdie besondere raak beskrywing van die negentiende-eeuse liberale teologie, Murray se verwerping daarvan en ook die aanneem van die wondergeloof wat by uitstek in Christus se opstanding na vore kom in gedagte, kan die drie hoofseëninge wat die opstanding inhou nou ondersoek word soos dit in Murray se bespreking van die HK uiteengesit is. Inleidend stel Murray (1945):

Dit gee vir ons die lewende Heer wat ons Sy geregtigheid kan deelagtig maak; deur Sy krag die nuwe lewe in ons opwek; en ons eenmaal uit die graf sal terugbring. (bl. 186)

Daar is dus geen twyfel nie dat die opstanding vir Murray, anders as vir die aanhangers van die Nederlandse liberalisme, 'n bonatuurlike en konkrete ingrype deur God is en dat dít die basis is waarop die nuwe lewe in ons opgewek word. Vervolgens word kortliks gewys op enkele kernaspekte van Murray se perspektiewe rondom elkeen van die drie hoofseëninge, met enkele opmerkings na elke punt:

Sy dood was dus die verdienende oorsaak van die geregtigheid wat ons in Jesus het. Maar die dood en verdienste was nie genoeg nie. Die Here Jesus moes opgewek word . Hy moes opgewek word sodat Hy self die geregtigheid wat Hy verwerf het, aan ons kon meedeel. (Murray 1945:187)

Maar hoe kom dit dan dat sovele gelowiges wat dit alles verstaan en goedkeur, tog nie tot 'n vaste en blymoedige versekering van hul regverdigmaking kom nie? Ek sal u sê waarom dit is. Hulle sien die geregtigheid van Jesus as iets wat Hy vir hulle klaargemaak het, wat God deur die opstanding as geldig verklaar het en wat God vir hulle sal toereken op die geloof. Maar dit bly altyd vir hulle 'n groot moeilikheid hoe hulle daardie geregtigheid moet aanneem en vashou. Luister tog, u almal wat waarlik verlang om die vreugde en die krag te ondervind wat so gewis voortvloei uit die geregtigheid van Christus, hoor tog wat u ontbreek het! Waar die siel hierdie waarheid in die geloof aanneem, daar sien hy waarom sy geloof aan die heerlike geregtigheid so sukkelend was en so kragteloos in sy uitwerking op die lewe. (Murray 1945:190)

Of Murray spesifiek vir Scholten van Leiden in gedagte gehad het met sy verwysing na die moeilikheid vir sommige gelowiges om die geregtigheid wat verwerf is deur Christus se opstanding te 'moet aanneem en vashou', is moeilik te bepaal.6 Dat laasgenoemde egter verstaan kan word in die lig van Scholten se spekulatiewe rasionalisme waarbinne God se soewereiniteit geradikaliseer word en die mens geen vrye wil het nie, is heel moontlik. Dit kan dus gesien word in die lig van Scholten se verstaan van God se soewereiniteit wat so ver gestrek het dat geen gebedsverhoring meer moontlik is nie. Scholten maak dus 'n radikale breuk met reformatore soos Calvyn en Luther se verstaan van die soewereiniteit van God, omdat gebed nutteloos word. Dit lyk dus moontlik dat Murray die klem wil plaas op die wonder van die gebeure rondom Christus se opwekking en dat gelowiges dit moet aanneem en vashou, want sodoende word die geloof en die uitwerking daarvan in die lewe bekragtig.

Die opstanding gee aan ons die lewende Heer wat deur Sy krag die nuwe lewe in ons opwek:

As sy ondervindings van daardie lewe gering en swak is, soos dit so dikwels die geval is, dan meen hy dat die lewe self maar swak is, en sy ywerigste pogings help nie om dit sterker te maak nie. Weldra word hy moedeloos by die gedagte dat by al sy bid en stry die hemelse lewe in hom tog nie is wat die Skrif beloof het nie. En as die twyfel dan weer opkom of dit vir u moontlik sal wees om hierdie geloof vas te hou en by toeneming te beoefen, hou dan die waarheid vas waarop onder die eerste hoof gewys is. En laat u enigste begeerte wees om Hom te aanbid en Hom aan te kleef. (Murray 1945:194)

Murray is oortuig dat wanneer die waarheid, of die regte geloof insake Christus se opstanding geglo, aanvaar en vasgehou word, dan beleef gelowiges dat dit sy krag is wat die lewe in hulle wek. Wanneer dit nie gebeur nie, word die geloofslewe deur moedeloosheid gekenmerk asook twyfel en die belewenis dat gebed en stryd nie is wat die Skrif daaroor sê nie. Tog kan Murray nie hier van 'n werke-godsdiens beskuldig word nie.7 Al praat Murray van vashou, aanbid en doen (dinge wat die mens doen), is dit deurentyd die binding aan wat God in Christus se opstanding gedoen het, wat die fokus is, naamlik dat dit juis sy opstandingskrag is wat aan die gelowige geskenk word. Murray plaas wel die klem op 'n subjektiewe geloofservaring. Laasgenoemde moet egter verstaan word in die konteks van die uitgangspunte van onder andere Opzoomer en Scholten se liberale teologie in Nederland, waar die gebed tot God verdwyn en die bonatuurlike totaal wegverklaar word.

Die opstanding gee ons die lewende Heer wat ons eenmaal uit die graf sal terugbring:

Net soos die Vader die Seun wat aan Hom so gehoorsaam was, nie in die dood gelaat het nie, maar opgewek het deur die Gees van die heiligmaking waarin Hy gewandel en Hom opgeoffer het, net so min kan die Here Jesus die man wie se lewe Hy op aarde was, in die dood verlaat. Dit is alleen 'n lewe hier op aarde in die krag van die opstanding wat die waarborg kan wees van 'n lewe hierna in die opstanding van die heerlikheid. (Murray 1945:196)

Hier is Murray besig om die kontinuïteit tussen Christus se leë graf en gelowiges se toekomstige liggaamlike opstanding te verduidelik. Wat laasgenoemde betref, moet 'n mens na HK, Sondag 22, Vraag 57 kyk:

Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

Liebenberg, wat Murray se kommentaar oor die HK in Afrikaans vertaal het, vermeld in sy voorwoord dat 'n aantal afdelings van die Kategismus, insluitende Sondag 22, ongelukkig verlore gegaan het. 'n Mens kan daarom nie Murray se interpretasies daaroor bekom nie. Gelukkig handel Murray in Die moderne ongeloof breedvoerig oor Christus en gelowiges se liggaamlike opstanding in Paulus se briewe. Wanneer 'n mens dit aandagtig bestudeer, is dit relatief maklik om aan te toon dat onderstaande aanhaling, redelik naby aan Murray (1942b) se interpretasie van Sondag 22 behoort te kom:

In die opstanding van die Here Jesus het ons nie alleen God se seël op sy prediking en sy soendood, die bewys dat Hy werklik Gods Seun is nie. Dit is vir ons ook nie net 'n heerlike afspieëling van die nuwe, die geestelike lewe wat Christus ons voor Gods aangesig laat lewe nie. Dit is veel meer. Die opstanding is die verlossing self; die openbaring van die lewe van God in die swakheid van die vlees; die oorwinning oor die dood; die verheerliking van die hele menslike natuur. Christus het deur sy opstanding geword die eersgeborene uit die dode ... net soos die liggaam 'n wesenlike bestanddeel is van die mens, en die bevryding daarvan van die mag van die dood 'n onmisbare deel is van die volkome verlossing, so het die liggaamlike opstanding van Christus 'n onuitspreeklike waarde as die belofte en die onderpand dat ook ons sterflike liggaam eenmaal aan sy heerlike liggaam sal gelyk word. (bl. 159)

In die lig van wat in die tweede artikel onder die een-en-twintigste-eeuse interpretasies van die opstanding bespreek gaan word, is dit van besondere belang dat Murray aantoon dat die opstanding 'veel meer' is as die 'geestelike lewe', dus die geestelike realiteit en interpretasie van die opstanding waaruit gelowiges nou reeds leef. Die 'veel meer' gaan oor die feit dat die 'hele menslike natuur' en die 'liggaam (as) wesenlike bestanddeel van die mens' aan die 'onuitspreeklike waarde' van Christus se liggaamlike opstanding gekoppel word. Hierop berus gelowiges se liggaamlike opstanding. Waar Murray die veel meer gebruik om vanaf die geestelike implikasies te beweeg na die groot belang van die liggaamlike opstanding, doen Julian Müller moontlik die teenoorgestelde. Vir hom is die geestelike en metaforiese implikasies voorop in HK, Sondag 17 terwyl HK, Sondag 22 grootliks geïgnoreer word (Müller 2006:10, 68, 89).

Laastens is dit ook merkwaardig dat Murray alreeds in die negentiende eeu nie in die slaggat geval het om 1 Korintiërs 15:44 as 'n fisieke teenoor 'n geestelike liggaam te vertaal nie. Laasgenoemde vertaling was alreeds populêr in liberale kringe en het die basis gevorm waarop skeptiese teoloë die liggaamlike opstanding van Jesus bevraagteken het. Murray was met sy verwysing na 'n natuurlike en geestelike liggaam sy tyd vooruit.8

Uit bogenoemde is dit aantoonbaar dat die resepsie van die HK midde in 'n ernstige liberaal-teologiese stryd, deur Murray in die kleed van 'n bepaalde gereformeerde aksent gehul was. Murray het deurentyd die vertrekpunte van die destydse populêre liberale teologie soos vergestalt in Utrecht en Leiden, in gedagte gehou in sy ontleding van die HK. Sy fokus op die bonatuurlike ingrype van God wat natuurwette deurbreek het, word in die besonder weerspieël in die wyse waarop Murray die opstanding van Christus interpreteer. Murray se klem op die evangeliese teologie is goed bekend, maar in die konteks van die liberale stryd moet sy standpunt nie noodwendig verstaan word as 'n radikale wegbeweeg van die gereformeerde verstaan van die Skrif en die belydenis nie.9 Dit moet eerder verstaan word in die konteks van die negentiende-eeuse liberale teologie se verwerping van wonders, God wat panenteïsties (Opzoomer) of radikaal soewerein (Scholten) verstaan word, die heelal wat volgens suiwer rasionele denke gesistematiseer was en die nutteloosheid van gebed. Hiermee saam was die vroomheid wat kenmerkend aan Utrecht was (spesifiek in die teologie van Opzoomer), suiwer op 'n aardse Jesus gebou wat geen bonatuurlike dimensies besit het nie. Vroomheid was humanisties en gestroop van Christus se heilshandelinge en vir Murray en ander teoloë tekenend van 'n nuttelose moralistiese lewe. Die ortodoksie is vir die ortopraksie prysgegee. Die oproep tot geestelike toeëiening, die ervaringsmatige aard van die geloof en die heiligmaking is dus vir Murray die uitvloeisel van 'n ware geloof in die bonatuurlike ingrype van God in en deur Christus se opstanding. Twyfel, ongeloof en die aanvaarding van die negentiende-eeuse liberale teologie en die gepaardgaande vervlakking van die geloof tot 'n suiwer morele godsdiens, is die gevolg van 'n godsbeeld en 'n Christus wat rasioneel en volgens die heersende wetenskaplike modelle radikaal geherinterpreteer is.

As slotsom is dit dus voor die hand liggend vir Murray dat die negentiende-eeuse liberale teologie in Nederland aan die een kant en aan die ander kant, die belydenismatige reformatoriese teologie wat in die hoofstroom Calvinistiese denke oor die HK weerspieël was, twee onversoenbare vertrekpunte en interpretasies oor God, die skepping, Christus, die Skrif en die belydenis verteenwoordig het. Al was Murray se persoonlike piëteit prominent in talle van sy meer populêr-geestelike werke, is dit onbetwisbaar dat hy inderdaad erns gemaak het met die insigte van die liberale teologie soos sy teologiese werke ook getuig. Murray se interpretasie en bespreking van die opstanding van Christus en die implikasies daarvan vir gelowiges in HK, Sondag 17 (en in die breë gesien: sy verstaan van die wonderkarakter van die opstanding), is dalk 'n klassieke voorbeeld van die onderskeid tussen 'n negentiende-eeuse liberaal-Nederlandse Jesus wat rasioneel verklaar word en hoogstens naasteliefde en humanistiese waardes modelleer (dus slegs ortopraksie), en die Jesus van die reformatoriese belydenisskrifte. Laasgenoemde het in die negentiende eeu wel erns gemaak met die nuutste wetenskaplike insigte, maar kon tog bly vashou aan die Jesus van die belydenisskrifte wat die menslik-onmoontlike vermag het, met sy liggaamlike opstanding uit die dood deur natuurwette gebreek het en die basis is vir die geloof, die persoonlike geloofsbelewenis en ook die etiek (ortodoksie, ortopatos en ortopraksie).

 

Slot

Dit is wel waar dat daar kontekstueelbepaalde verskille is tussen die soort liberale teologie wat in die negentiende-eeuse stryd in die NG Kerk voorgekom het (met Opzoomer, Kotze en Burger aan die een kant en Murray aan die ander kant), en die herlewing daarvan in 'n nuwe gewaad in die vorm van onder meer die Jesus Seminaar, die Nuwe Hervorming en diegene wat laasgenoemde stromings binne die belydenisgrondslag van onder meer HK, Sondag 17 en 22 wil akkommodeer. Die ooreenkomste is egter merkwaardig dieselfde en getuig ten minste daarvan dat dit wat as nuwe wetenskaplike insigte in die verskillende eeue bekend gestaan het, in die negentiende asook die een-en-twintigste eeu nie kon of wou aanvaar dat die God van die heelal sy natuurwette deurbreek het om Jesus, die Seun van God, liggaamlik uit die graf op te wek nie. Met dit in gedagte, word hierdie oorsigtelike artikel afgesluit met Willie Jonker se nadenke in 1977 oor hierdie saak:

... in die Verligting [was Hy] die Man vir die Rede, in die Idealisme die Man met en die Man vir die Idee, in die kultuurprotestantisme is Hy die Deugdeleraar gemaak en by die eksistensieteoloë van die huidige tyd die Man wat die diepste wese van die menslike bestaan onthul. So is Christus voortdurend weer in die gevangenis van nuwe denksisteme opgesluit, en in die naam van redelikheid en menslikheid gegesel en verwond ... Die Christus wat voortdurend weer gekruisig en verwond word, is nie die Christus van die Bybel nie, maar die selfgefabriseerde Christus.

Die Christus van die Bybel is immers die Christus wat lewe -wat dood was ja, maar nou nie meer kán sterwe nie. As die graf van steen en rots, en verseëlde klip, Hom nie kon hou nie, sal Hy Hom gevange laat neem en gevange laat hou in 'n graf van menslike begrippe en wilde spekulasies? Nee! Steeds weer het Hy Homself vertoon aan hulle wat in Sy naam vergader is, en steeds weer is Sy seënende en lewewekkende teenwoordigheid ondervind ook daar waar teoloë in gehoorsaamheid aan die betroubare Woord van die Here, gebou het aan die wetenskap van die teologie - só gebou het dat dit vir mense 'n boodskap was. (Heyns & Jonker 1977:224)

In die opvolgartikel word op 'n deskriptiewe en sistematiese wyse gekyk na uiteenlopende gebeure in die NG Kerk in die jare 2000-2012 wat betref die opstanding van Jesus, en hoe die belydenisskrifte (en dus ook HK, Sondag 17 en 22) in hierdie era verstaan en geïnterpreteer is.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bierma, L.D., s.a., 'The Heidelberg Catechism', besigtig 12 April 2013, vanaf http://ligonier.org/learn/articles/heidelberg-catechism/        [ Links ]

Bierma, L.D., Gunnoe, C.D. & Maag, K.Y., 2005, An introduction to the Heidelberg Catechism: Sources, history and theology, Baker Academic, Grand Rapids.         [ Links ]

Bornkamm, G., 1967, 'Ten derden dage wederom opgestaan van de doden', in G. Rein (red.), De geloofsbelijdenis: Pogingen tot een nieuw verstaan, pp. 44-49, Bosch & Keuning, Baarn.         [ Links ]

Britz, D., 1998, 'Vergeetboeke? Die aktualiteit van die gereformeerde belydenisskrifte', in F. Snyman (red.), Is die NG Kerk nog die NG Kerk?, bl. 89-96, Hugenote-uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Du Toit, S., 2008, God ons Vader en die kerk ons moeder?, besigtig 30 November 2012, vanaf http://www.ngkok.org.za        [ Links ]

Hanekom, T.N., 1951, Die liberale rigting in Suid-Afrika: 'n Kerkhistoriese studie, CSV van SA, Stellenbosch.         [ Links ]

Harris, H., 1973, David Friedrich Strauss and his theology, Monograph supplement to the 'Scottish Journal of Theology', Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Harris, H., 1976, The Tubingen School, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Heyns, J.A. & Jonker, W.D., 1977, Op weg met die Teologie, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid: Die karakter van die gereformeerde belydenis, Hugenote-uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Licona, M.R., 2010, The resurrection of Jesus: A new historiographical approach, Appollos, Nottingham. PMCid:3203514        [ Links ]

Mahne, T.G., 1999, 'Wie was Andrew Murray (1928-1917) in werklikheid?' Skrif en Kerk 20(2), 369-384.         [ Links ]

Müller, J.C., 2006, Opstanding, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Murray, A., 1942a, Die geloofslewe, (Versamelde werke van dr Andrew Murray, Deel 1), CSV van SA, Stellenbosch.         [ Links ]

Murray, A., 1942b, Die moderne ongeloof, (Versamelde werke van dr Andrew Murray, Deel 2), CSV van SA, Stellenbosch.         [ Links ]

Murray, A., 1978, Posseël, besigtig 26 November 2012, vanaf http://www.stamph.ead.com/auction/Sc501-Dr-Andrew-Murray-1978viewedKWW291,name,1131143,aucti on_id,auction_details        [ Links ]

Naude, P., 2004, Drie maal een is een: 'n Besinning oor God vandag, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging. PMCid:1448552        [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 2011, 'Die reformatoriese landskap', in C. Vos en D. Human (reds.), Vaste Rots op wie ek bou, bl. 37-52, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Potgieter, P.C., 1998, 'Die Nederduitse Gereformeerde Kerk - 'n Identiteitskrisis?', in F. Snyman (red.), Is die NG Kerk nog die NG Kerk?, bl. 1-11, Hugenote-uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Strauss, S.A., 1998, 'Die konfessionele identiteit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk', in F. Snyman (red.), Is die NG Kerk nog die NG Kerk?, bl. 20-31, Hugenote-uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Van Ruler, A.A., 1972, Blij zijn als kinderen - Een boek voor volwassenen, Kok, Kampen.         [ Links ]

Wethmar, C.J., 2011, 'Op hierdie rots sal Ek my kerk bou', in C. Vos en D. Human (reds.), Vaste Rots op wie ek bou, bl. 79-94, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Wright, N.T., 2010, The resurrection of the Son of God, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Johannes Hofmeyr
Boardwalk Meander A-216, Olympus
Pretoria 0081, South Africa
Email: linhof@mweb.co.za

Received: 24 Jan. 2013
Accepted: 16 May 2013
Published: 16 Aug. 2013

 

 

1. In die Apostoliese Geloofsbelydenis word bely dat Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het en dat gelowiges in die toekoms liggaamlik uit die dood sal opstaan. Alreeds in die Vroeë Kerk is die gelowiges se toekomstige liggaamlike opstanding met Jesus se opstanding verbind.
2. Die inhoudelike betekenis van hierdie term sal later belig word. Voortaan word die woorde liberale teologie in voorgenoemde konteks gebruik, wel wetend van die uiteenlopende betekenisse wat dit in die een-en-twintigste eeu mag hê.
3. Vir meer oor F.C. Baur, die leier van die sogenaamde Tubingen Skool, sien die gesaghebbende biografie van Horton Harris, The Tübingen School (1975). Vir meer oor D.F. Strauss, sien Harris se David Friedrich Strauss and his theology (1973).
4. Dit is debatteerbaar of John en Andrew Murray, asook sommige ander teologiese studente by Utrecht nie met erns die insigte van die liberale teologie deurworstel het nie. Hulle betrokkenheid by die studentevereniging Sechor Dabar wat vir die studente 'n toevlug was in die lig van die liberale teologie, beteken nie by voorbaat dat hulle die akademie verwaarloos het nie. Anders as studente soos J.H. Beck, P.C. Keytel en nog 'n aantal ander wat nooit die studie voltooi het nie, het die Murrays enduit volgehou. Hulle latere teologiese werke (veral John Murray later by Stellenbosch) getuig van diep en uitgebreide teologiese nadenke.
5. Onder die gebeure was dié van D.P. Faure wat sy eie kerk begin het en by die Vrymesselaars (wat dogmatiese verskille geïgnoreer het) aangesluit het, asook sy standpunt dat die 'belydenisskrifte 'n struikelblok in die ontwikkeling van die beskawing' is (Du Toit 2008:9). Vergelyk verder ook Opzoomer se werke, veral De vrucht der godsdienst (1848).
6. Scholten het, soos reeds aangetoon 'n radikale en suiwer rasionele verstaan van die soewereiniteit van God voorgestaan waarvolgens selfs die gebed tot God oorbodig geword het.
7. Dit is inderdaad die geval dat daar in sommigevan Murray se werke oor gebed, op plekke nie genoegsame aandag aan die genade gegee word nie. Vergelyk die volgende voetnoot hieroor. Dit moet egter ook nie uit die oog verloor word dat die impak van die liberale teologie in Utrecht, volgens Du Toit, daartoe gelei het dat die Nederlandse Hervormde Kerk vir baie studente 'pap en sonder pit' was nie (Du Toit 2008:6). Hierdie gebeure kleur Murray se aksente.
8. Sedert veral die middel van die twintigste eeu was daar 'n groeiende hoeveelheid Bybelwetenskaplikes in Duitsland, Engeland en die VSA wat met onderskeiding aangetoon het dat Paulus nie na 'n fisieke teenoor 'n geestelike liggaam verwys het nie Paulus handel oor die natuurlike liggaam wat sterflik is as gevolg van die sonde, teenoor die toekomstige liggaam wat vry van die dood en sonde, beklee en omarmd en vervuld sal opstaan uit die dood in en deur die kragtige werk van die Gees van God (vgl. Wright 2003; Licona 2010).
9. Daar is geen twyfel nie dat Murray in sommige van sy werke (veral oor gebed) by tye die indruk wek dat die werke die oorhand kry, of ten minste dat die genade nie genoegsaam aanwesig is nie. Vir 'n deurdagte bespreking, vergelyk Mahne (1999:369384). Wat die stryd om die liberalisme betref, is dit egter belangrik om deurentyd in gedagte te hou dat die moralisme van die liberale teologie in Nederland gestroop was van die verankering met 'n bonatuurlike lewe en werk van Christus.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License