SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número2The Heidelberg Catechism, 1563-2013: After 450 years still alive and relevant índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.2 Cape Town jul. 2013

 

EDITORIAL

 

Die Heidelbergse Kategismus 1563-2013: Na 450 jaar steeds lewend en relevant

 

 

Die jaar 2013 is 'n jaar van besondere betekenis vir kerke van die sestiende-eeuse Reformasie oor die wêreld. Dit is vanjaar 450 jaar gelede dat die Heidelbergse Kategismus as belydenisskrif in Januarie 1563 aanvaar is met die Ursinus en Olevianus as die belangrikste skrywers daarvan. Die Heidelbergse Kategismus is geskryf in opdrag van die politieke hoof van die Palz, keurvors Frederik III. Sy bedoeling was om eenheid van geloof in sy magsgebied te bevorder, maar ook om die jeug in die skole en in die kerk in die ware leer te onderrig. In die eindproduk is die invloed van Calvyn en Luther sowel as teoloë soos Melanchton, Zwingli en Beza te bespeur. Daarom is die Heidelbergse Kategismus as 'n unieke skepping bestempel, 'met 'n eie skoonheid en helderheid' (Schulze 1993:494) met die fokus op die gemeenskaplike teologiese grond van leidende Protestantse teoloë van die tyd (Bierma 2005). In die Heidelbergse Kategismus vind ons 'reformation ecumenism at its best' (Bierma 2005:77).

Daarom is dit gepas dat die Afrikaanse kerke van die Reformasie in Suid-Afrika ook hierdie besondere gebeurtenis herdenk. By die Tussenkerklike Raad (TKR) waarop deputate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke sitting het, is gereël dat 'n gedenkpublikasie uitgegee word om die 450-jarige bestaan van die Heidelbergse Kategismus te herdenk. Die publikasie word hiermee aangebied deur In Luce Verbi/In die Skriflig.

Daar is deur die eeue, en ook vanjaar, wêreldwyd talle kongresse gehou en publikasies uitgegee wat oor hierdie kosbare belydenisskrif handel. Talle kommentare op die Heidelbergse Kategismus het die lig gesien en derduisende Kategismuspreke is gelewer.

Is hierdie maar net nog 'n publikasie? Hopelik nie. In die eerste plek spreek dit van die besondere gesindheid wat in die reformatoriese kerke heers waardeur die Heidelbergse Kategismus steeds as deel van die wese van die kerk en lewende belydenis gehandhaaf word. Dit is verblydend in 'n tyd waarin die aanslag op die waarheid van die evangelie van binne en buite die kerk steeds feller word. In die tweede plek spreek dit van die relevansie en aktualiteit van die Heidelbergse Kategismus in die tyd waarin ons leef. Die kernwaarhede van die Skrif wat in die Heidelbergse Kategismus bely word, word in feitlik elke bydrae op die problematiek van die dag toegepas, byvoorbeeld die vrae rondom die opstanding van Christus, die Godsbegrip, etiese kwessies, kategismusprediking, ensovoorts. In die derde plek is dit ons bede dat hierdie publikasie ook internasionaal gelees sal word as deel van die wêreldwye herdenking. Behalwe die bydraes van 'n hele aantal Suid-Afrikaanse teoloë, is ons ook besonder dankbaar vir die bydraes van twee internasionale kenners, naamlik proff. Erik de Boer en Wim Verboom.

Ons spreek ons besondere dank uit teenoor die redaksie van In Luce Verbi wat aangebied het om hierdie publikasie uit te gee, met die gepaardgaande akkreditasie wat die onderskeie bydraes ontvang. Baie dankie ook vir administratiewe take wat deur die personeel van In Luce Verbi behartig is. Daarmee saam ook ons dank aan die personeel van AOSIS vir hulle hulp, samewerking en leiding om van hierdie 'n prestige-publikasie te maak. Ook aan prof. Natie van Wyk, dr Ben du Toit en ds Etienne Fourie, die ander redaksielede wat vir hierdie projek deur die TKR aangewys is, 'n hartlike woord van dank. Hulle advies en insette was telkens waardevol en sinvol.

Mag hierdie publikasie 'n beskeie bydrae lewer om die belangstelling in en bestudering van hierdie kosbare belydenis lewend te hou en om dit, bo alles, in die eeue wat kom steeds as lewende belydenis van die kerk van Christus te bely.

Aan die enige ware God, Vader, Seun en Heilige Gees kom die eer, lof en dank toe. In die tye van stryd en dwaling 450 jaar gelede, het Hy sy Kerk in die hele waarheid gelei (Joh 16:13) om, deur middel van die Heidelbergse Kategismus, die waarheid van sy Woord gelowig na te sê. Hy sal ook in die troebel en onseker tye van 2013 sy belofte gestand doen. Soli Deo Gloria.

 

Gasredakteur

Carel F.C. Coetzee

Professor, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika (callie.coetzee@nwu.ac.za)

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons