SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

FOCUS REVIEW

 

Praktiese raad vir 'n vervulde lewe

 

 

Amanda du Plessis

Department of Practical Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: 'n Lewe sonder beperkings

Book Cover:

 

 

Author: N. Vujicic

ISBN: 978-1-77000-994-3

Publisher: Christelike Uitgewers-maatskappy, 2012, R99.96

*Book price at time of review

Soos 'n refrein deur 'n Lewe sonder beperkings, geskryf deur Nick Vukicic (uitgespreek: Woi-a-tjietsj) klink die woorde 'Kyk na my, as ek kan, kan jy ook.' Nick vertel van al die uitdagings wat hy (en sy ouers en familie) moes oorkom toe hy sonder arms en bene gebore is. Hierdie motiveringsboek vir alle mense, verskil grootliks van ander motiveringsboeke deurdat die leser stil word en luister, want geeneen kan vir Nick sê 'Jy ken nie my omstandighede nie.' Nick se verhaal is geloofwaardig. Lesers hoef maar net na die foto's in die middel van die boek te kyk, om te weet dat Nick oor swaarkry, beproewings en struikelblokke mag praat asook hoe om dit te oorkom. Hy vertel oop en eerlik van al die twyfel en seer emosies, ook van die nie-verstaan-nie en opstand - selfs teenoor God. Hy vertel van sy blinde kinderlike geloof toe hy as kind gebid het dat sy arms en bene sou aangroei terwyl hy slaap en hoe hy dan wanneer hy wakker word eers gou sou kyk of God sy gebed verhoor het. Hy vertel van die wrede bespotting wat hy by die skool moes verduur en ook (heel komies) van sy eerste en enigste boksgeveg met 'n skoolboelie en hoe hy die geveg gewen het waardeur sy aansien by die teenoorgestelde geslag gestyg het! Hy vertel ook van 'n vriendin wat hom wreed-eerlik uitgevra het oor sy absolute afhanklikheid van ander mense en hoe hierdie gesprek hom uitgedaag het om so onafhanklik as moontlik van sy ouers en familie te funksioneer. Hierdie verandering het egter eers gekom na 'n mislukte selfmoordpoging. Nick moes die waarheid in die oë kyk - of hy aanvaar homself, of hy gaan te gronde.

Die eerste stap van Nick se genesing is in aanvaarding gesetel: 'n algehele oorgawe aan en vertroue in God vir die toekoms. Sy ouers en familie het gehelp deur kreatief hulpmiddels te ontwerp waarmee Nick dinge vir homself kon begin doen, byvoorbeeld om te stort, hare te was en tande te borsel. Soos Nick ouer geword het, het hy kerkgroepe begin toespreek en sy getuienis gedeel. Hy het gou agtergekom dat sy vertelling veranderings in ander mense se lewens gebring het. 'n Sekere John Pingo het Nick na Suid-Afrika genooi, nadat hy Nick se getuienis gehoor het. Nick sê: 'Ek is Suid-Afrika toe as 'n jong man vol selfvertroue, doodseker dat ek 'n verskil in hierdie uitgestrekte land kon maak. Maar dit was Suid-Afrika wat my verander het.' Nick het tot die besef gekom dat wanneer 'n mens van jouself en jou eie probleme wegstap om na ander mense uit te reik, dit jóú sal verander. Hierdie ervaring het daartoe bygedra dat Nick vandag 'n wêreldwye bediening het om mense te inspireer en te vertel van die hoop wat ons in God het. Nick het vanaf Australië na Amerika verhuis vanwaar hy sy bediening beoefen. Hy het die nie-winsgewende organisasie Life without Limbs gestig wat ander gestremde persone help, maar wat ook fondse vir navorsing ten opsigte van gestremdheid genereer.

Lewe sonder beperkings is 'n moet-lees-boek, nie net vir iemand wat depressief is of vir diegene wat onder moeilike uitdagings gebuk gaan nie, maar vir elke mens! Dit bied praktiese raad vir 'n lewe van vervulling. Onderwerpe wat aangeraak word, is onder andere hoe om lyding te deurstaan, aanvaarding van die self, ander mense en omstandighede, die regte opbouende gesindheid, die hantering van konflik, hoe om teleurstellings en vrese te oorkom, hoe om nuut of oor te begin as dit nodig is, hoe om ander mense en God te vertrou, hoe om elke geleentheid aan te gryp en hoe om lig te leef deur die komiese raak te sien. Hierdie is 'n puik, geloofwaardige motiveringsboek.

 

 

Correspondence:
Amanda du Plessis
Private Bag X6001
Potchefstroom 2520, South Africa
Email: amanda.duplessis@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons