SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

BOOK REVIEW

 

'n Boek oor 'n besondere manier van geloofsgroei

 

 

George Lotter

Department of Practical Theology, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Groei in die geloof ... en vestig God se lewende Woord in jou hart

Book Cover:

 

 

Author: W. Cordeiro

ISBN: 978-1-77000-725-3

Publisher: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2011, R109.95

*Book price at time of review

Wayne Cordeiro huldig 'n interessant benadering in hierdie boek: hy beskryf die bybelse 'mentors' as sy beste vriende, mense soos Dawid, Moses, Jeremia en Nehemia, om maar enkeles te noem. In die tyd waarin mentorskap weer opnuut aandag in die algemene en sakelewe kry, is sodanige benadering besonder toepaslik. Hy gebruik hierdie benadering as vertrekpunt om verder te beskryf hoe die Bybel in die hele proses van geloofsgroei- en ontwikkeling gebruik kan word.

Die boek word in drie dele verdeel, naamlik 'Die stem wat lewe bring', 'Hoe om God se stem te hoor' en 'Hoe soet die klank van daardie stem'.

Agter in die boek is 'n bylaag waarin vrae ten opsigte van die hou van 'n Skrifstudiejoernaal gevra word. Daar is ook voorbeelde van joernale met afdelings waar die Bybelgedeelte, jou eie waarneming, die toepassing en 'n gebed opgeteken kan word. In die boek self word die motivering en agtergrond gestel waarom 'n joernaal van jou eie Skrifstudie en geloofslewe geskryf behoort te word.

Die metafoor wat dwarsdeur die boek gebruik word, noem Cordeiro 'n heilige omheining rondom die wortels van jou geestelike lewe. Dit gaan dus oor die beskerming van jou geestelike lewe op verskillende maniere en op verskillende terreine. Op bladsy 87 beskryf hy die manier om dit as 'n ywerige student van die lewe aan die Universiteit van die Heilige Gees te doen. 'n Mens moet die volgende toerusting beskikbaar hê: die Bybel, 'n pen, 'n joernaal, 'n Bybelleesplan en 'n dagbeplanner. Hy stel self 'n leesplan vir die leser beskikbaar (bl. 158-166) waarin hy planmatig op 'n maandelikse wyse aandui hoe die Bybel binne een jaar deurgelees kan word.

Wat my veral beïndruk het, is die wyse waarop Cordeiro die dissipline van daaglikse Skrifstudie, gebed, nadenke en die toepassing daarvan in die alledaagse lewe beklemtoon. 'n Mens sou dit maklik kon afmaak as tipiese Amerikaanse pragmatisme, maar al lesende deur die boek, besef jy dat hedendaagse Christene sodanige 'geestelike dissipline' nodig het en dat die gejaagde lewe 'n mens verlei (of so besig hou) dat dit nie meer nagekom word nie. Die toets sou waarskynlik wees om die riglyne wat hy in die boek voorstel, ten minste vir 'n jaar na te volg.

Wat 'n mens waardeer, is die aanvaarding van die Bybel as gesagvol en uniek, veral in hierdie tyd waarin sodanige elemente wêreldwyd onder verdenking staan by baie teoloë. Cordeiro formuleer dit in vier stellings soos volg:

 Die Bybel is die enigste boek wat God ooit belowe het om te inspireer.

 Die Bybel is die enigste boek waarin al die hemelse mentors gevind kan word.

 God belowe Sy seën spesifiek aan die wat die Bybel lees.

 Die Bybel is die enigste boek wat vir ewig sal bestaan (bl. 172-175).

Hierdie boek van Wayne Cordeiro handel nie noodwendig oor nuwe, dramatiese sake nie, maar open weer die debat oor die waarde van geestelike dissipline. Geestelike dissipline is uiters nodig in die tyd van geloofsvervlakking en die uitlewing daarvan. Die boek lees gemaklik en word interessant aangebied met vertellings van alledaagse sake asook 'n eietydse parafrasering van bybelse gebeure.

Ek sal graag hierdie boek koop en lesers aanmoedig om dit te koop. Dit is veral geskik vir mense wat erns maak met hulle geloofsgroei en ook vir diegene wat hulle daarin begelei (predikante, pastore en beraders), sowel as vir mense wat jong Christene ondersteun op die nuwe geloofspad waarop hulle loop. Dit word ook sterk aanbeveel vir volwasse gelowiges wat verder in hulle geloof en heiligmaking wil groei.

 

 

Correspondence:
George Lotter
PO Box 20777
Noordbrug 2522, South Africa
Email: george.lotter@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons