SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

BOOK REVIEW

 

'n Uitdaging vir elkeen!

 

 

Johannes M. Wessels

School for Biblical Studies and Bible Languages, Northwest University, Mafikeng Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book title: Uitdaging tot 'n nuwe lewe in Christus

Book Cover:

 

 

Author: C. Ingram

ISBN: 978-1-4316-0048-9

Publisher: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2012, R129.95*

*Book price at time of review

Een van die grootste siektes van ons tyd is kulturele Christenskap. In hierdie treffende werk vertel Chip Ingram dat 'n wanbegrip van God en die konsep van oorgawe van hom 'n 'kulturele, wéreldse, skynheilige volgeling van Jesus gemaak het'; hy vertel dat die boodskap van Romeine 12 hom radikaal verander het.

Ingram bewys homself in hierdie boek as 'n skrywer met 'n besondere vermoë. Deur middel van illustrasies uit sy persoonlike lewe, weldeurdagte eksegese en passievolle oordenkings begelei hy die leser tot 'n nuwe lewe in Christus. Hierdie boek het my beslis diep geraak, en 'n onuitwisbare indruk op my lewe gelaat.

Gelowiges het waarskynlik elkeen 'n geliefde Skrifgedeelte wat dikwels 'n kardinale rol in hulle geloof speel. Ingram slaag myns insiens goed daarin om die sleutelhoofstuk in sy geloofslewe, Romeine 12, as 'n paradigma en grondmanifes vir 'n lewende en sinvolle godsdiens aan te bied.

Alhoewel die titel van die boek aanvanklik bietjie stomp mag klink, is dit die moeite werd om hierdie boek in sy geheel te lees en te oordink. Ek vind my baie tuis in Ingram se keuse van tekste wat as kerngedeeltes in die Bybel funksioneer. Die karakter van ware godsdiens in Jakobus 1:27, die Christus-himne in Filippense 2:6-11 en die eis om soos 'n koringkorrel in die grond te val en te sterf en dan weer vrug te dra (Joh 12:24), is sleuteltemas in die Skrif.

In sy inleiding tot Romeine 12 bied Ingram nie net 'n goeie verduideliking van die struktuur van Romeine 1-11 nie, maar hy gee ook aan die einde van die boek sinvolle wenke hoedat die deeglike verstaan van Romeine 13 handig te pas kom in 'n Romeine 12-leefstyl. Die boek word in vyf hoofdele verdeel wat weliswaar die struktuur van Romeine 12 weerspieël, naamlik oorgawe aan God, volkome toewyding, goeie selfkennis, opregte gemeenskap en 'n oorwinning oor die bose.

Vir die Sondagmiddagleser wat die boek binne die kortste moontlike tyd wil deurlees, sal die gereelde herhalings in die boek, veral die stereotipe vrae wat persoonlike (en kollektiewe) besinning wil stimuleer, waarskynlik ietwat van 'n beslommernis wees. Aan die ander kant skep hierdie herhalende prikkelvrae, asook die bondigheid van die 25 hoofstukke die geleentheid om die boek rustig oor 'n tydperk van 'n maand as 'n daaglikse leesgids of selfs groepstudiegids te gebruik.

Die boek is 'n vertaling van die topverkoper, Living on the edge. Die skrywer se lang pastorale loopbaan, sowel as sy ryke lewenservaring, slaan duidelik in die werk deur. Vir elkeen wat bereid is om die Amerikaanse agtergrond waaruit hierdie boek gebore is, te absorbeer, wag die beloning van geestelike verdieping en groei.

Alhoewel bykans onbeduidend in die konteks van die hoeveelheid pitkos wat hierdie publikasie bied, is daar tog enkele sake waarteen die skrywer myns insiens moet waak. In die hantering van opregtheid word die verwysing na die maskergedagte van die Griekse woord effens oorspeel. Alhoewel 'n treffende beeld, moet gemaan word teen die gevaar van 'n ongeldige betekenisoordrag. Die boek lees gemaklik en is vir enige leser toeganklik. Tog is daar etlike terme soos persoonlikheidshologram en slootbal wat vir Jan Alleman moontlik hoofbrekens kan besorg.

Ten spyte van my uitgesproke waardering vir die boek, bly dit uiteindelik 'n vraag of die boek nie tog maar steeds die stempel van kulturele Christenskap dra nie. Ek is oortuig dat die Pneumatologie nie in die boek genoeg aandag kry nie. Die feit dat die gawes wat in Romeine 12 ter sprake is, gawes van die Gees is, word nie in die boek voldoende ontgin nie. Verder is die vernedering wat die skrywer as basketbalspeler ondergaan het, steeds ver verwyderd van die lewe van die armes in die Derde Wéreld, of van die strawwe vervolging wat Christene in Noord-Afrika, die Midde-Oooste en Suidelike Asië verduur.

Ek beveel die boek, Uitdaging tot 'n nuwe lewe in Christus, graag aan as 'n sine qua non vir elkeen wat onvergenoegd is met die kragtelose lewe van 'n kulturele Christen.

 

 

Correspondence:
Johannes M. Wessels
PO Box 15
Bospoort 2730, South Africa
Email: morutijo@gmail.com

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons