SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

BOOK REVIEW

 

'n Nuwe boek met nuwe perspektief op die preekvoorbereidingsproses

 

 

Hennie J.C. Pieterse

Departement of Philosophy, Practical and Symantical Theology, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 

Book title: Hoe lieflik is die Lig: 'n Verkenning van die dieptevlak van die homiletiese proses

Book Cover:

 

 

Author: F.W. de Wet

ISBN: 978-0-86955-194-3

Publisher: Potchefstroom Theological Publications, 2011, R150.00

*Book price at time of review

In die laaste vyf dekades het verskuiwende ontwikkelings in die wêreld waarin ons leef, plaasgevind en gevolglik ook in die benaderings tot die prediking. Hierdie verskuiwings in die studie van die Homiletiek kan in breë trekke soos volg gestel word: vanaf die teks na die hoorder, vanaf eksegese na hermeneutiek en vanaf Christologie na Pneumatologie in die homiletiese teorievorming. Soms handhaaf sommige predikers nog 'n bipolêre balans tussen die aspekte wat in die Homiletiek eietyds ter sprake kom, maar meestal word in eensydighede verval. Prof. De Wet se navorsingsvraag is tereg of die verkenning van die dieptevlak van die ruimte waarin die homiletiese proses voltrek word, daartoe kan bydra dat daar nie op 'n eendimensionele, eensydige, rigiede en onverantwoordelike manier met die teks en die gemeente omgegaan word nie. Op 'n sistematiese wyse pak hy, hoofstuk na hoofstuk, hierdie voorgestelde homiletiese derde weg in helder konsepte uit. Sy invalshoek is 'n pneumatologiese verankerdheid in Jesus Christus, die middelaar van die nuwe verbond. Op die oppervlak van die homiletiese proses is 'n kommunikatiewe driehoeksverhouding, naamlik die teks, die hoorders en die prediker. Die gevaar bestaan egter dat Pneumatologie in die kategorie van menslike ervaring en kompetensie ingetrek kan word. In die dieptevlak van hierdie proses kan ankers ook gevind word in Jesus Christus, die middelaar van die nuwe verbond. In die integratiewe verbondsruimte (met Christus in die sentrum daarvan) verbind die Gees die teks, die hoorders en die prediker op 'n hegte manier aan mekaar op 'n wyse waarin God se bedoeling met die teks gevind kan word. Meditasie, gestroop van negatiewe persepsies, is die toegang tot hierdie homiletiese proses op die dieptevlak. Op hierdie wyse ontwikkel De Wet sy ruimtelike model vir die inkleding van die homiletiese proses in hoofstukke 2 en 3. In hoofstuk 4 ontwikkel die outeur homiletiese instrumente met die oog op die praksis van preekvoorbereiding sodat die verhouding tusssen die teks, die hoorders en die prediker op die dieptevlak vergestalting kan vind. In meditatiewe waarneming speel gebed en die oop gemoed vir God se Woord 'n rol, asook die gebruik van die volle spektrum van taal (intensionele spraakhandeling en relasionele spraakhandeling) en elemente van die retoriese styl waarin die aard van die evangelie onbevange tot sy reg kan kom.

In die lig van die ontwikkelings wat in die afgelope 50 jaar in die Homiletiek plaasgevind het, is 'n boek soos hierdie 'n absolute noodsaaklikheid vir elkeen wat prediking doseer, studeer en beoefen. Hierdie boek voorsien in 'n leemte, naamlik dat daar nou in Afrikaans vir ons kerke, kollegas en studente 'n gereformeerde posisionering kom binne die nuwere ontwikkelings in die Homiletiek. Die boek gee rigting aan elkeen wat die Woord van God helder binne die konteks en leefwêreld van die huidige gemeente wil preek. Prof. De Wet voorsien 'n eie, oorspronklike teorie en praktyk vir die voorbereiding en prediking van die Skrif. Hierdie teorie is binne die nuwe ontwikkelings in die vak ontwerp, sonder die eensydighede wat dikwels hiervan kenmerkend is; boonop is dit gedoen vanuit die bronne van die reformatories-teologiese vertrekpunte.

Die boek word sterk aanbeveel vir dosente, teologiese studente en predikante wat 'n behoefte het aan 'n eietydse en diepgaande siening oor die voorbereiding en prediking van die Skrif in ons huidige konteks.

Die werk vertrek vanuit die vooronderstellings van die reformatoriese teologie. Die invalshoek, die oog of lens waarmee na die prediking gekyk word, is skriftuurlik binne die gereformeerde verstaan van die Skrif. Dit neem deeglik kennis van al die nuwere ontwikkelings in die Homiletiek en met 'n grondige kennis van die literatuur gee dit rigting vir werklik eietydse en aktuele prediking van Jesus Christus in ons konteks. Die boek is nie 'n herhaling van ou standpunte nie, maar verskaf 'n nuwe, vars blik op teologiese vertrekpunte, waarin verrassende insigte vir eietydse gereformeerde prediking oopgemaak word.

 

 

Correspondence:
Hennie J.C. Pieterse
Marais Street 262
Brooklyn 0181, South Africa
Email: pietehjc@absamail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons