SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria ene. 2013

 

BOOK REVIEW

 

38 Dagreise in die spiritualiteit van die Johannes-evangelie

 

 

De Wet SaaimanI, II

IReformed Church, Krugersdorp
IISchool of Ecclesiastical Sciences, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: 'n Dieper dors: Ervaar die spiritualiteit van Johannes

Book Cover:

 

 

Author: W. Nicol

ISBN: 978-1-4316021-24

Publisher: Christelike Uitgewers-maatskappy, 2012, R129.95

*Book price at time of review

'As julle die pyn daarvan voel dat daar spanning tussen julle waarneming en geloof is', sê Johannes, 'is julle op die regte pad' (bl. 165). Met hierdie aanhaling besef 'n mens dat jy inderdaad nie met nóg 'n leesboek oor die Johannes-evangelie besig is nie, maar in werklikheid met dagreise wat jou dieper in Johannes se spiritualiteit inlei. Die boek toon hoe hy as evangelis en sy mense die aktiewe aanwesigheid van God in hulle daaglikse lewens ervaar het.

Met die titel, 'n Dieper dors, veronderstel Nicol dat om 'n mens te wees, ook beteken dat jy met 'n dors leef. Nicol verwoord hierdie dors treffend wanneer hy skryf:

Ons dors is vir baie dinge, maar ons diepste dors smag daarna om kontak met God te geniet. Ons weet diep binne-in ons dat dié kontak die kanaal is waardeur die lewende water in ons lewens invloei. Ons dors na die ware lewe. (bl. 7)

Vir die moderne gelowige is die wonderverhale wat in die Johannes-evangelie verwoord word nog net so relevant soos vir die eertydse gelowiges. Hierdie verhale dra by tot die versterking van gelowiges se geloofslewe en die outeur van 'n Dieper dors fokus op sewe verhale om die relevantheid daarvan vir eietydse gelowiges te beklemtoon.

Die sewe verhale ter sprake, is:

 Jesus verander water in wyn (bl. 74)

 Die genesing van die offisier se seun (bl. 69)

 Die verlamde van Betesda (bl. 69)

 Die vermeerdering van die brood (bl. 89)

 Jesus loop op die water (bl. 96)

 Jesus genees 'n blinde man (bl. 60)

 Die opwekking van Lasarus (bl. 136)

In 38 dagreise ondersoek Nicol die dieper betekenislae van die verhale. Elke dagreis begin met woorde uit Johannes waaroor lesers luisterend en ontvangend hulle eie eerstehandse ervaring opdoen. Nicol gee hier en daar praktiese leiding om oor die woorde te mediteer. Aan die einde van 'n dagreis is daar weer 'n uitnodiging om by iets tot stilstand te kom. Voordat lesers met die volgende dagreis wegspring, is daar 'n geleentheid om terug te kyk op en na te dink oor die persoonlike betekenis van die vorige dagreis.

Nicol fokus in hierdie deurdagte teks op die wyse waarop kritiese, wetenskaplike navorsing oor die Johannes-evangelie lesers se geloof en spiritualiteit kan voed. Die spiritualiteit van hierdie Evangelie nooi elkeen in die dieptes van die Vader en Seun se liefde in:

Jesus was een met die Vader omdat daar niks van die eie in Hom was wat dié eenheid kon strem nie, geen eie ego, eie wil, eie rigting nie. Vir Jesus het dit oor niks anders as die Vader gegaan nie. Sonder om iets terug te hou laat Hy Hom deur die Vader se aksie bepaal - Hy is 'n skoon kanaal daarvoor. Sy Sentrum van aksie lê nie in Homself nie, maar in sy Vader. (bl. 216)

Hierdie reisboek deur die Johannes-evangelie wil bydra tot elke leser se geestelike transformasie. Lesers moet besef dat hulle inderdaad 38 dae nodig het om deur die boek te lees en hulleself behoorlik in die diepgang en die betekenis van hierdie boek in te grawe. Soos goeie wyn wat 'n mens slukkie vir slukkie moet geniet, is hierdie boek nie bedoel as 'n vinnige deurlees en terugplaas op die rak nie. Die boek is inderdaad bedoel as 'n geloofsreis wat dag vir dag aangepak moet word.

Nicol slaag met sy aanbieding en styl daarin om lesers die Johannes-teks self-ervarend te laat lees en aan die proses van verstaan te laat deelneem. Persoonlik het Nicol se dagreis oor die opwekking van Lasarus (bl. 136) vir my 'n dieper betekenis en 'n heel nuwe verstaan van hierdie bekende bybelse verhaal gegee - veral sy opmerking dat die Vader hartseer voel oor elkeen wat nie werklik leef nie.

Hierdie boek is beslis nie deurentyd 'n maklike leesboek nie. Dit vereis met tye dat 'n mens 'n sin of paragraaf oor en oor moet lees om agter die werklike kap van die byl te kom. In hoofstuk 17 wat handel oor 'My liggaam is betrokke', kan lesers byvoorbeeld maklik verstrengel raak in die filosofiese vertrekpunte van 'n swewende spiritualiteit. 'n Dieper dors is egter deurgaans 'n verrykende ervaring wat lesers dieper in Johannes se spiritualiteit sal inlei.

In hierdie boek word lesers gehelp om te verstaan hoe die skrywer sy eie eenheid met God beleef het en hoe 'n mens daaruit moet leer. 'n Dieper dors wys met ander woorde hoe 'n mens die hart van hierdie Evangelie kan verstaan en ervaar. Dit lei jou in die proses in om 'n dieper belewenis van God en Christus te kry en God se teenwoordigheid elke dag te ervaar.

Ek kan dit van harte aanbeveel vir elke predikant, kerklike leier en lidmaat wat 'n dors het om geestelik verryk te word en 'n behoefte daarna het om geestelik te groei.

 

 

Correspondence:
De Wet Saaiman
PO Box 1627, Rant en Dal
Krugersdorp 1751, South Africa
Email: dsaaiman@isat.co.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons