SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1'n Nuttige gids om werklik soos 'n bevryde te leef38 Dagreise in die spiritualiteit van die Johannes-evangelie índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 2305-0853
versão impressa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Cape Town Jan. 2013

 

BOOK REVIEW

 

Gelowiges wat vrae vra

 

 

Raymond Potgieter

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Het God begin?

Book Cover:

 

 

Author: R. van Niekerk

ISBN: 978-1-77000-908-0

Publisher: Christelike Uitgewers-maatskappy, 2011, R59.95

*Book price at time of review

Het God begin? is 'n dun lekker-lees boek. Dit is 'n pastorale benadering tot belangrike kwessies rondom die skepping, onder andere die materiële ontstaan, die oorsprong van lewe en die mens asook die mens se verhouding met God. Veral die eerste paar hoofstukke hanteer 'n verskeidenheid vrae waarmee baie Christene worstel. Dit word sodanig hanteer dat die leser toegerus word vir 'n lewe in navolging van God. In die laaste paar hoofstukke (11-14) verander die trant van die boek wanneer die getuienisse van die skrywer en ander gelowiges se persoonlike spirituele ervarings weergee word. Die leser kan met die skrywer se persoonlike worsteling identifiseer, alhoewel dit soms prekerig voorkom.

Die skrywer maak ruim gebruik van generiese toepassings om gebeure in die bybelse tyd op die hede toe te pas. Ek vind dat hierdie toepassings soms onjuis gebruik word om dit in die hedendaagse situasie te laat pas. Let byvoorbeeld op die verwysings in hoofstuk 14 van 'Wysvingers na Bo' of Torings van Babel' en die verskeie uitlatings dat daar vir God geen plek is nie. Dit is moeilik om sulke growwe veralgemenings of oppervlakkige uitlatings goedsmoeds te aanvaar. Hierdie boek moet egter gesien word in die lig daarvan dat die skrywer 'n belydende Christen is wat ander Christene pastoraal wil bedien in hulle worsteling met vrae, hetsy klein of groot, wetenskaplik of geestelik.

Die omvang van die vrae wat hanteer word, is baie breed. Dit dek die wye spektrum van die oorsprong van die heelal, die onstaan van die aarde en die mens, asook die antropiese motief. Die skrywer vra ook tussenin allerlei ander vrae, byvoorbeeld aangaande die ateïste se opmars en wie Adam leer praat het. Dit skep die indruk van 'n smorgasbord met groot verwagtings, maar voldoen Van Niekerk werklik aan hierdie verwagtings?

Ten spyte van sy beperkings kan hierdie boek, myns insiens, tog met vrug in kleingroepe gebruik word wanneer die betrokkenes saam met die skrywer vanuit 'n Christelike perspektief met die vrae worstel. Die besprekings behoort sinvol te wees sonder dat dit wetenskaplik te tegnies word. Van Niekerk stel dit dat wetenskaplike denke (sien bv. hoofstuk 7, 'Die oorsprong van die mens') ook in leketaal uitgedruk kan word. Daar is weining oorspronklike denke van die skrywer self, maar dit is nie die doel van hierdie boek nie. Die doel is om die belydende Christen te ondersteun en so hier en daar 'n prikkelgedagte te vorm wat verdere lees sal stimuleer.

Ter ondersteuning van sy sienswyses leun Van Niekerk enersyds sterk op sy persoonlike getuienis (bl. 15) en andersyds ook op die akademiese insigte van Ou-Testamentiese kritici: wetenskaplikes soos Louw Alberts en Francis Collins - albei internasionaal-erkende wetenskaplikes - en ander vertroude belydende Christene soos Ferdinand Deist en Murray Janson. Hierdie bekende name verleen 'n mate van geloofsgerustheid. Die name van Lee Strobel en Walter L. Bradley kom ook telkens ter sprake. Daar is egter ook 'n verwysing na Shapiro - ''n wyd erkende wetenskaplike' (bl. 42) wat egter aan my onbekend is; 'n internetsoektog het verskeie wetenskaplikes met dieselfde naam opgelewer. 'n Meer omvattende bibliografie kon hierdie probleem opgelos het. Die leser kan ook met vrymoedigheid Bernstein Reusch (bl. 61) se stelling oor die ontstaan van spreektaal verder navors.

In die opmars van die ateïste (bl. 43) verwys Van Niekerk na Dawkins, maar maak geen melding van die sogenaamde Four horsemen of the anti-apocalypse (Richard Dawkins, Daniel Dennet, Christopher Hitchens en Sam Harris) nie. Hierdie mense is ateïste wat geen bekendstelling nodig het nie en wat die nuwe ateïsme verteenwoordig deur enige godsdiens of geestelike interpretasie teë te staan. Miskien sal die hersienning by 'n herdruk van die boekie hierdie leemte kan vul.

Die leser sal ook wil weet hoe Van Niekerk Genesis interpreteer om sin te maak uit die hedendaagse wetenskaplike wêreldbeskouing. In 'n neutedop word gestel 'God staan aan die begin!' (bl. 13) en alles herleina hierdie stelling. Dit word op 'n tweeledige wyse behandel. Eerstens is daar 'n verwysing dat die eerste hoofstukke van Genesis nie as 'n letterlike skeppingsverhaal gelees moet word nie. Dit word net sinvol indien dit kontekstueel in poësie gesetel is. Dit is 'n algemene opvatting, maar moet deeglik verstaan word, want daarmee verskuif Van Niekerk die klem van die woorde wat die verhaal uitmaak na die verhaal self. Met ander woorde, dit is die boodskap wat belangstelling geniet en nie die teksverwysings na 'n skeppingsorde of van 'n letterlike opvatting dat die skeppingsdae 24 uur geduur het nie. Volgens hierdie opvatting is Genesis nie daar om die hoe van die skepping te verduidelik nie. So 'n benadering tot die Bybel kan aanleiding gee tot 'n alternatiewe wetenskap soos wat deur die Creation Science-beweging nagevolg word. Hulle neem die hoe van die skepping as bybelse uitgangspunt en bots gevolglik met die aanvaarde wetenskaplike verduideliking. Tweedens ontvou Genesis ook die poëtiese verhaal wat die 'perfeksie en kompleksiteit van die skepping' aandui. Dit word bevestig deur die wetenskap en dui logies op 'n Skepper-God - of die leser nou in Hom glo of nie (bl. 42). Van Niekerk nooi die leser egter uit om in gesprek te tree oor die wonder van die skeppingsoorsprong van die mens (bl. 46), die verskil tussen die mens en die dier (bl. 54), die wonder van taal (bl. 59) en die betekenis van die geskiedenis (bl. 80). Alhoewel Van Niekerk se argumente na dieper denke neig, word dit myns insiens deur die oppervlakkige toepassings op die hede gekortwiek. Of dit werklike sin maak om in 2012 webtuistes met 'katakombes' (bl. 45) te vergelyk, is te bevraagteken. Ateïste is vandag gans te uitgesproke vir so 'n vergelyking - sien byvoorbeeld P.Z. Myers se Pharyngula-webtuiste.

Ek sou verder ook wou hê dat 'n aanvegbare stelling, naamlik dat meer as die helfte van die fisici wêreldwyd gelowiges is, met feite gestaaf moet word. Lesers kan na hierdie 'feite' in gesprekke verwys en behoort die vrymoedigheid te hê om na aanvaarde bronne ter ondersteuning te verwys. Dit lyk egter asof Van Niekerk skimp dat die statistiek ook mense mag insluit wat bloot 'n teïstiese tipe geloof aanhang.

In die algemeen gesien, meen ek tog dat hierdie boek wel aanbeveel kan word, aangesien dit gesprekke rondom die Christelike denkwyse kan stimuleer.

 

 

Correspondence:
Raymond Potgieter
PO Box 19491
Noordbrug 2522, South Africa
Email: ray@csmdist.com

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons