SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Resensies índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Pretoria ene. 2013

 

BOOK REVIEW

 

Openhartige beoordeling van die Emerging Church

 

 

Ben J. de Klerk

School of Ecclesiastical Sciences, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Jesus is die EEN! Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie?

Book Cover:

 

 

Author: J. Janse van Rensburg

ISBN: 978-1-920460-26-6

Publisher: Christelike Media Publikasies, 2011, R129.95

*Book price at time of review

In hierdie boek neem Johan Janse van Rensburg deel aan 'n baie sensitiewe en aktuele diskussie op 'n openhartige, reguit, dog beskeie manier. Die diskussie handel oor die sogenaamde Emerging Church wat in die VSA baie veld gewen het. Hy toon in hierdie boek dat hy 'n indringende literatuurstudie van die emerging-beweging en die belangrikste geskrifte gedoen het, asook die werke van skrywers wat ernstige kritiek oor die vertrekpunte en metodes van die beweging gelewer het. Hy stel telkens die pro- en kontra-emergenf-skrywers self aan die woord en gee sodoende aan die leser 'n redelik volledige oorsig van teenoorstaande standpunte.

Janse van Rensburg verdeel die boek in drie groot afdelings, naamlik: 'Die Jesus van die Skrif', 'Die ander teologie' en 'Emerge in perspektief'. In die eerste afdeling verduidelik die skrywer uit 'n skriftuurlike hoek dat Jesus die enigste weg tot saligheid is. Hy doen dit deur kort 'oordenkings' waarin die één tema deurbreek, naamlik Jesus is die één! Hy verklaar die bekende uitsprake van Jesus oor 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe', ten opsigte van wat Jesus oor Homself getuig en wat Hy met betrekking tot die komende oordeel en die maak van dissipels verkondig. Hierdie gedeeltes bied uitstekende stof vir persoonlike verdieping in die geloof. Daar is ook telkens kort verwysings in die eerste afdeling na dwalings ten opsigte van Jesus Christus se identiteit, sy koningskap, sy mag om te oordeel en om apostels uit te stuur om dissipels te maak. Die kernboodskap van die Skrif, dat Jesus met sy opstanding die dood oorwin het, word in geen onduidelike terme uitgespel nie.

In die tweede afdeling lewer Janse van Rensburg reguit kritiek op die emergenf-beweging deur op die werke van die belangrikste verteenwoordigers van die beweging te fokus, onder andere Rob Bell, Brian McLaren, Doug Pagitt, Alan Jones en Leonard Sweet. Hy betoog dat die invloed van hierdie skrywers ook in werke van gereformeerde Suid-Afrikaanse teoloë deurskemer. Die probleme wat Janse van Rensburg met die standpunte van die emergenf-aanhangers uitwys, is dat hulle die evangelie van Jesus Christus by die sogenaamde postmoderne mens wil aanpas. Dit raak veral die eksklusiwiteit van Jesus as die enigste weg tot die Vader. Dit staan teenoor Jesus wat net met sy lewe as weg aangedui word, met die weglating van die kruis en die opstanding, aangesien dit vir die postmoderne mens aanstoot kan gee. Dit raak ook die gelykstelling van gelowe in 'n poging om die moontlikheid vir 'n soort interreligie daar te stel. Die kritiek word gefokus op die emergenf-beweging se daarstelling van 'n ander evangelie, 'n ander Jesus, 'n ander manier van kerkwees, ervaring wat verabsoluteer word, die 'eskatologie' van die beweging en die gesag van die Skrif.

In die derde deel gee Janse van Rensburg riglyne vir die kerk wat in die een-en-twintigste eeu geroep is om Christus se liggaam te wees. Hy dui aan dat dit die uitdaging van die kerk is om uit ou vasgevalde sisteme, gestaltes en denkpatrone los te kom sonder om van die inhoud van die evangelie of die eie identiteit afstand te doen. Die kerk het 'n duidelike roeping van Christus ontvang om dissipels te maak en dit sal noodwendig konfrontasie met ander godsdienste meebring. Die kerk moet opgebou en uitgebou word. Daar moet meer ruimte vir ervaring geskep word, maar altyd in balans met die gawe van die verstand wat die Here gegee het.

Hierdie boek van Johan van Rensburg is 'n waardevolle wetenskaplike bydrae tot die Teologie, veral die Praktiese Teologie, by name die ekklesiologiese aspek daarvan. Die boek het ook waarde vir gemeentes wat die roeping aanvoel om voortdurend te reformeer, maar wat nie die gereformeerde spoor wil verlaat nie. Die individuele gelowige kan uit hierdie boek materiaal verkry om verkennend aan kerkrade leiding te gee om versigtig reformasie te stimuleer. Die boek is 'n belydenis dat Jesus Christus die Here is en dat nuwe lewe deur sy kruis en opstanding deurgebreek het - daarom die titel: Jesus is die EEN!

 

 

Correspondence:
Ben J. de Klerk
PO Box 20764
Noordbrug 2522, South Africa
Email: ben.deklerk@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons