SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Bereavement healing ministry amongst Abaluyia: Towards a 'circle for pastoral concern' as a healing modelThe view of Scripture according to feminist theologians, in particular that of Fiorenza, Brenner and Van Dijk-Hemmes - evaluated in the light of the reformed theology índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


In die Skriflig

versión On-line ISSN 2305-0853
versión impresa ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Cape Town ene. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Soorte vrae in 1 Korintiers 7-8 en 10:1-11:1

 

Types of questions in 1 Corinthians 7-8 and 10:1-11:1

 

 

Andreas H. Snyman

Department of New Testament, University of the Free State, South Africa

Korrespondensie aan

 

 


OPSOMMING

1 Korintiers 7-8 en 10:1-11:1 is deel van Paulus se antwoord op 'n brief wat hy van die Korintiers ontvang het (7:1). Die twee gedeeltes handel oor die huwelik en afgodery, meer spesifiek die eet van vleis in heidense tempels. In sy antwoord gebruik hy 'n aantal vrae wat in kommentare bloot as retoriese vrae beskryf word. Die doel van hierdie artikel is om hierdie vrae fyner te onderskei aan die hand van 'n model wat uit die taalhandelingsteorie ontwikkel is. Die model word kortliks opgesom, gevolg deur 'n sistematiese ondersoek van al die vrae in hierdie twee gedeeltes. Die gevolgtrekking is dat die noemer 'retoriese vraag' 'n oorvereenvoudiging is, wat nie reg laat geskied aan die wyse waarop Paulus verskillende soorte vrae gebruik om die impak van sy antwoord aan die Korintiers te verhoog nie. Deur die vrae te onderskei en binne 'n wetenskaplike raamwerk te beskryf, is ook 'n poging om 'n bydrae tot die vertaling en eksegese van die betrokke gedeeltes te lewer.


ABSTRACT

1 Corinthians 7-8 and 10:1-11:1 form part of Paul's response to a letter from the Corinthians, refered to in 7:1. These two sections deal with matters on marriage and idolatry, specifically that of eating meat in pagan temples. In Paul's response he uses a number of questions, which all commentaries simply describe as rhetorical questions. The purpose of this article is to distinguish these questions more clearly on the basis of a model, developed from speech act theory. The model is briefly summarised, followed by a systematic examination of all the questions in these two sections. The conclusion is that the denominator 'rhetorical question' is an oversimplification that does not do justice to the way in which Paul uses various types of questions to enhance the impact of his response to the Corinthians. By distinguishing and describing these questions within a scientific framework, an attempt was also made to contribute to the translation and exegesis of the passages involved.


 

 

Inleiding

Die vraagvorm is 'n konstruksie wat in alle Griekse grammatikas en kommentare op die Nuwe Testament bespreek word. Waar Griekse grammatikas hoofsaaklik oor formele sake handel soos vraagpartikels, direkte en indirekte vrae, ensovoorts, word alle vrae in kommentare gewoonlik as retoriese vrae beskou, sonder om hulle fyner te onderskei of hulle funksies binne 'n taalteoretiese raamwerk sistematies te beskryf.

Die doel van hierdie artikel is om die probleem te hanteer aan die hand van 'n model wat op die taalhandelingsteorie gebaseer is. In die eerste deel word aandag gegee aan die bespreking van vrae in tradisionele grammatikas en kommentare, gevolg deur 'n opsomming en evaluering van die voorgestelde model. Vervolgens word die model op 1 Korintiers 7-8 en 10:1-11:1 toegepas ten einde te bepaal hoe Paulus die verskillende soorte vrae gebruik om sy antwoord op 'die dinge waaroor julle aan my geskryf het' (1 Kor 7:1), te ondersteun. Op hierdie wyse word die sognaamde retoriese vrae fyner onderskei in terme van 'n erkende taalteorie en word aangetoon hoe hulle die kommunikasie van die boodskap versterk.

 

Vrae in tradisionele grammatikas en kommentare

'n Tipiese voorbeeld van die wyse waarop Griekse grammatikas vrae bespreek, is te vind in die werke van Moulton en Turner. In die eerste volume het Moulton (1908:170-194) dit veral oor die onderskeiding tussen me/meti en ou vrae, terwyl Turner (1963:48-50, 282-283 en 330-337) tussen direkte en indirekte vrae onderskei en dan verder ingaan op formele sake soos die verwarring tussen relatiewe en vraende voornaamwoorde, die beraadslagende vraag, partikels wat vraagvorms inlei en die gebruik van direkte vraende voornaamwoorde.

Soortgelyke sake is aan die orde in die meeste ander grammatikas soos die van Robertsen (1919:1043-1046, 1175-1177), Chamberlain (1957:204-210), Goetchius (1965:228-233), Argyle (1965:20, 105-106) en Nunn (1973:82, 127). Burton (1955:76-78) onderskei tussen 'questions of fact and questions of deliberation', asook tussen 'interrogative or real questions and rhetorical questions', terwyl die grammatika van Blass, Debrunner en Funk (1967:272) vier soorte vrae onderskei, naamlik direkte vrae, indirekte vrae, retoriese vrae en dubbele vrae. Veral laasgenoemde twee grammatikas is vir ons doel belangrik en sommige van hulle onderskeidings word hieronder verder gevoer.

In die eerste Afrikaanse grammatika op die Griekse Nuwe Testament, Grieks met begrip, word vraagsinne behandel onder die hoofde informatiewe vrae, nie-informatiewe of retoriese vrae, vraagsinne ingelei deur vraende voornaamwoorde en indirekte vrae (Conradie & Barkhuizen 1995:415-420). Die onderskeiding tussen informatiewe en nie-informatiewe of retoriese vrae bevat 'n interessante bespreking van vrae waarop die antwoord ja en nee respektiewelik verwag word, met bruikbare voorstelle vir die vertaling daarvan in Afrikaans.

Standaard kommentare op 1 Korintiërs soos dié van Conzelmann (1975), Fee (1988) en Thiselton (2000) beskou alle vrae as retoriese vrae. Conzelmann bespreek hulle as deel van Paulus se diatribe of dialogiese styl, Fee gee veral aandag aan die funksies van hierdie soort vrae om 'n argument te begin of af te sluit, terwyl Thiselton die vertaling van më/ou vrae en die gevoelswaarde van retoriese vrae uitlig. Bratcher (1982) fokus op vertaling en is ten gunste van die herskryf van die meeste retoriese vrae as stellings - iets wat oorweging verdien en ook hieronder bespreek word.

Saamgevat: die tradisionele grammatikas onderskei basies tussen informatiewe en nie-formatiewe vrae (met enkele opmerkings oor die funksies van laasgenoemde), terwyl kommenatare slegs die retoriese vraag erken en sporadiese opmerkings daaroor maak.

Hiermee is die verskillende vraagvorms met hulle funksies egter nie uitgeput of aan die hand van 'n teoretiese raamwerk sistematies ondersoek nie. In Snyman (1989) het die outeur die sogenaamde retoriese vrae in Romeine begin onderskei op grond van insigte van die taalhandelingsteorie. Dit is egter nie tot 'n model ontwikkel nie. Dieselfde geld vir Cronjé (1992), wat ook interessante implikasies van die retoriese vraag raakgesien het in sy toepassing van die klassieke onderskeidings oor die retoriese vrae in Galasiërs. Die waarde van Verster se werk is egter daarin geleë dat hy die eerste (en na my wete enigste) volledige model vir die klassifikasie van alle soorte vrae binne 'n taalteoretiese raamwerk ontwikkel het en dit met sukses op 'n Nuwe-Testamentiese brief toegepas het.

In wat volg wil ek die model gebruik om al die vrae in 1 Korintiërs 7-8 en 10:1-11:1 te klassifiseer. In die proses word verwys na die interpretasie en vertaling van die vrae deur kommentatore en vertalers en word (waar nodig) aanbevelings gemaak. Die voorstel van Verster word ook saaklik geëvalueer en met relevante literatuur aangevul.

 

Die taalhandelingsteorie as raamwerk vir die onderskeiding van verskillende soorte vrae

In sy studie van nie-egte vrae in die Romeinebrief het Verster (1999:1) ook gevind dat kommentatore alle soorte vrae in die brief as retoriese vrae beskou. Dit het daartoe gelei dat hy begin soek het na 'n teorie wat 'n fyner onderskeiding moontlik maak. Die doel van sy studie was om 'n model uit relevante literatuur oor die taalhandelingsteorie af te lei, nie-egte vrae aan die hand daarvan in te deel, die model in die Romeinebrief te toets en dit dan - indien nodig - aan te pas (Verster 1999:1-2).

Verster (1999:3-28) se eerste hoofstuk handel oor die grondslae van die taalhandelingsteorie. Dit word opgevolg deur 'n deeglike bespreking van nie-egte vrae as taalhandelings (Verster 1999:29-54), waarna hy eers egte en nie-egte vrae van mekaar onderskei en dan 'n aantal kategoriee nie-egte vrae identifiseer. By egte vrae maak die mededeler (M) gebruik van die vraagvorm om inligting te bekom, terwyl nie-egte vrae nie inligting of 'n antwoord van die ontvanger (O) verlang nie. Elke kategorie nie-egte vrae is voorsien van 'n aantal kriteria op grond waarvan dit van die ander onderskei kan word (Verster 1999:55).

Volgens Verster (1999:56-68) sluit die kategoriee nie-egte vrae die volgende in:

  • Vrae wat 'n aksie verlang, waaronder direktiewe, wat die vraagvorm vir opdragte, versoeke en uitnodigings gebruik.
  • Vrae wat stellings maak, waar die vraagvorm as 'n gewone stelling herskryf kan word - hoewel gewoonlik nie met absolute sekerheid nie; retoriese vrae wat stellings met besondere intensiteit maak; en metakommunikatiewe retoriese interrogatiewe, waar M gevolgtrekkings maak oor aksies wat deur O geneem is.
  • Lee vraagstellings waar M op 'n taalhandeling van O reageer en 'n negatiewe stelling maak, waardeur die gesprek onderbreek word.
  • Vrae wat emosie oordra, waaronder jubelvrae en lamentasies. Ook hier word geen inligting verlang nie, maar die vraagvorm word gebruik om 'n bepaalde emosie te versterk of uit te druk. Dit is vraagvorms waar 'n eksterne O afwesig kan wees.
  • Monologiese selfgerigte vrae wat van ander nie-egte vrae onderskei word daarin dat hulle besinnend van aard is en gewoonlik aan M (ek of ons) self gerig is. Hulle kan primer emosioneel of primer rasioneel wees.
  • Rasioneel-argumentatiewe vrae, waaronder vraagappelle wat nie 'n reaksie van O verwag nie, maar O se aandag wil kry vir 'n nuwe tema of 'n stelling wat M self wil maak; en ironiese retoriese interrogatiewe waar die betekenis van die nie-egte vraag nie in die oppervlak le nie, maar in die teenoorgestelde as wat deur die vraag gei'mpliseer word. Die vraag moet uit die konteks as 'n ironiese toespeling verstaan word.

Vraagappèlle en ironiese vrae dien albei om 'n argument te ontwikkel - daarom is hulle onder hierdie hoofkategorie ingedeel.

Om bogenoemde soorte vrae te onderskei, is die onmiddellike konteks waarin hulle voorkom, veral die konteks van die brief as 'n geheel, van deurslaggewende belang. In die taalhandelingsteorie word na laasgenoemde as Gedeelde Kontekstuele Kennis (GKK) verwys. Dit het betrekking op kennis van sosiale sisteme, tradisionele gewoontes, spesifieke gespreksituasies en veral die verhouding tussen die spreker en die hoorder (Verster 1999:70-71). Hierdie vier aspekte word gewoonlik deur 'n bespreking van die skrywer, lesers, inhoud en doel van 'n brief toegelig - alles wat nodig is om die soorte vrae in die brief reg te onderskei.

Met bogenoemde voorstel het Verster dit moontlik gemaak om nie-egte vrae in die Nuwe Testament te bestudeer in die lig van onderskeidings eie aan 'n erkende taalteorie. Die hoof-en subkategorieë wat hy onderskei, kan egter vereenvoudig word. Naas die ses hoofkategorieë wat hierbo gelys is, onderskei hy ook 'n sewende een, naamlik temaversterkers. Hierdie kategorie word egter nie in die artikel verreken nie, omdat temaversterkers (soos vraagappèlle) die aandag vra vir 'n nuwe tema of stelling wat M wil maak. Hulle kan dus as vraagappèlle geklassifiseer word. Verder kan die term retories geskrap word in die beskrywing van die twee subkategorieë metakommunikatiewe, retoriese interrogatiewe en ironiese, retoriese interrogatiewe, omdat daar reeds 'n subkategorie vir retoriese vrae is. Die onderskeiding tussen jubelvrae en lamentasies kan ook aangepas word. Jubelvrae is ontleen aan Snyman (1989) se artikel, terwyl lamentasies 'n transkripsie is van 'lamentations', wat klaagliedere beteken. Albei fokus op die uiting van 'n bepaalde emosie, sonder om die emosie self te beskryf. Ek stel dus voor dat die hoofkategorie vrae wat emosie oordra, verdeel word in positiewe emosies (dankbaarheid, blydskap, ens.) en negatiewe emosies (afsku, teleurstelling en verontwaardiging) ten einde 'n meer oorkoepelende beskrywing van die twee subkategorieë te verseker. Origens is dit 'n bruikbare model, wat met vrug in die studie van vrae in Paulus se briewe gebruik kan word.

Vervolgens word bogenoemde model gebruik om die verskillende soorte vrae in 1 Korintiërs 7-8 en 10:1-11:1 te identifiseer en hulle funksies binne die konteks te bepaal.

 

Soorte vrae en hulle funksies in 1 Korintiërs 7-8 en 10:1-11:1

Inleiding

Die inligting wat oor die GKK tussen Paulus en die Korintiërs volg, is belangrik vir 'n bespreking van die soorte vrae in die twee gedeeltes.

Daar was aanvanklik 'n goeie verhouding tussen die twee partye, soos blyk uit die feit dat Paulus die gemeente in Korinte gestig het (Hand 18). Die verhouding is versterk deur berigte wat hy gereeld uit die gemeente ontvang het. In die brief reageer hy juis op sommige van die inligting wat hom bereik het. Die eerste handel oor die twiste in die gemeente waaroor 'die mense van Chloê' hom ingelig het (1:11). Hierdie mense was in diens van 'n invloedryke sakevrou in Efese en het Korinte gereeld op hulle reise besoek, waar hulle saam met die Korintiers aanbid het (Thiselton 2000:32). Die twiste was hoofsaaklik intern en het uitgeloop op partyskappe tussen die gemeentelede onderling. Paulus se reaksie op die twiste is die sentrale tema in die eerste ses hoofstukke van die brief.

Die verhouding tussen Paulus en die Korintiêrs is verder versterk deur 'n brief wat hulle aan hom geskryf het (7:1). In die brief vra hulle sy leiding oor 'n aantal kwessies. Sekere Christene in Korinte het ook gevra vir 'n besoek van Apollos, maar hy wou nie op daardie stadium daarheen gaan nie (16:12). Paulus het aangebied om self te gaan (4:21), maar aangesien sy planne onseker was, het hy vir Timoteus in sy plek gestuur (4:17; 16:10-11). Die besoek van Stefanas, Fortunatus en Aga'ikus, waarna in 1 Korintiers 16:17 verwys word, dui ook op die noue sosiale verbintenis tussen Paulus en die gelowiges in Korinte.

Op die stadium toe die brief geskryf is, het die verhouding tussen Paulus en die Korintiêrs egter begin versleg. Daar het 'n anti-Paulus-gevoel in die gemeente ontstaan. Dit is aangestig deur sekere invloedryke leiers en het die hele gemeente bei'nvloed. Benewens die interne twiste tussen faksies binne die gemeente - waarskynlik op sosiologiese gronde - was daar dus ook die groter probleem van die verdeling van die gemeente as 'n geheel aan die een kant en Paulus as hulle stigter aan die ander kant (Fee 1988:8). Hulle het hom op elke punt begin teenstaan. Vir Paulus het hierdie groter konflik 'n krisis ingehou - nie slegs vir sy apostoliese gesag nie, maar ook vir die evangelie wat hy verkondig het. Die kern van die geskil was oor die betekenis daarvan om Gees-vervuld of spiritueel ('pneumatikos') te wees en die belangrikste kriterium hiervoor was die spreek in tale. Omdat Paulus (volgens hulle) nie 'pneumatikos' was nie, het hulle sy gesag oor hulle begin bevraagteken en hulleself begin verhef - iets wat radikaal ingedruis het teen Paulus en sy evangelie. As 'pneumatikoi' was hulle, na hulle eie mening, reeds engele en dus was hulle liggame onbelangrik (6:13). Hierdie standpunt was deels verantwoordelik vir hulle seksuele immoraliteit en hulle vrae oor die huwelik, waarop Paulus in 1 Korintiers 7 reageer. Wat was die oorsaak van die Korintiêrs se valse spirirualiteit? Fee (1988:13-15) verwys na verskillende voorstelle, maar sluit aan by Gerd Theissen wat argumenteer dat die spanning binne die gemeente, sowel as tussen die gemeente en Paulus, die beste verklaar kan word op grond van sosiologiese verskille. Aangesien die ryk mense as beskermhere van gemeentes en rondreisende leermeesters opgetree het, het die strydende faksies uit verskillende beskermhere met hulle huisgemeentes bestaan. Hierdie beskermhere was moontlik die leiers van die anti-Paulus-gevoel in Korinte. Dit blyk uit hulle voorliefde vir 'sophia', hulle ondersoek van Paulus omdat hy hulle nie as beskermhere wou aanvaar nie (9:1-19) en hulle optrede teenoor die armes tydens die Nagmaal (hoofstuk 10).

In 1 Korintiers 7-8 en 10:1-11:1 reageer Paulus op twee van die sake waaroor die Korintiers aan hom geskryf het, naamlik die huwelik en verwante sake (7:1-40) en die eet van voedsel wat aan afgode geoffer is (8:1-13 en 10:1-11:1). In sy reaksie maak hy dikwels van vrae gebruik om die trefkrag van sy antwoord te verhoog. Om die soorte vrae te identifiseer en te bespreek, is die hoofdoel van hierdie artikel.

Soorte vrae in 1 Korintiers 7-8 en 10:1-11:1

Die meeste van die soorte vrae wat hierbo onderskei is, kan in hierdie twee gedeeltes gei'dentifiseer word. Daar is egter nie een voorbeeld van 'n egte vraag gevind nie.

Vrae wat aksie verlang

Onder hierdie hoofkategorie word slegs een kategorie onderskei, te wete direktiewe. Direktiewe is nie-egte vrae waarin die vraagvorm gebruik word met die aanname dat O sal begryp dat M dit as 'n nie-informatiewe vraag bedoel. Die vraagvorm verlang 'n aksie van O en word vir opdragte, versoeke of uitnodigings gebruik (Verster 1999:82, 126).

Twee voorbeelde van direktiewe is in hoofstuk 7 gevind. (Alle kursief-gedrukte vrae in die artikel kom direk uit die 1983-vertaling):

1 Korintiers 7:16: Want hoe weet jy, vrou, of jy jou man sal red?

Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

In die oorspronklike Grieks word altwee die seggings as vrae gemerk en aan 7:15c gekoppel deur 'n redegewende 'gar' [want]. Volgens Thiselton (2000:539-540) is dit nie duidelik watter soort antwoorde verwag word nie; die vrae word bloot oop gelaat. Die interpretasie is verantwoord, omdat daar niks in die sinne self of in die konteks is wat 'n bepaalde antwoord impliseer nie. Wat die vertaling betref, word op die 1933- of 1953-Afrikaanse vertaling, die TEV en die RSV gesteun wat albei as vrae vertaal het - teenoor die 1983-vertaling, wat die eerste een as 'n stelling en die tweede as 'n vraag vertaal het. Dat albei as vrae vertaal moet word, blyk uit die merker 'ê' (of) in die oorspronklike wat hulle as alternatiewe merk, asook uit dieselfde sintaktiese struktuur wat in albei vrae gebruik word.

Die twee vrae verskaf redes waarom getroudes hulle huwelike in stand moet hou - in reaksie op God se oproep tot vrede in 7:15c. Waarom kan ons hulle dan as direktiewe klassifiseer? Volgens Lenski (1963) is daar twee redes:

  • Albei is (implisiete) uitnodigings of versoeke, waardeur die apostel die gelowige wil oorreed om sy of haar huwelik in stand te hou, ondanks geloofsverskille. In plaas van te skei, moet die gelowige die huwelik probeer red in die hoop dat die ongelowige tog tot geloof sal kom. Of dit sal gebeur, weet ons as mense nie. Die vrae word gewoon oop gelaat.
  • Die tweede persoon enkelvoudsvorme, versterk deur die twee vokatiewe ('vrou ... man'), merk hulle as direktiewe. Dit is die enigste keer in die betrokke gedeelte (1 Kor 7:1-16) dat Paulus werkwoorde in die tweede persoon enkelvoud gebruik. Dit, sowel as die twee vokatiewe, maak die vrae streng persoonlik en verhoog die effektiwiteit daarvan. (bl. 296)

Die voorstel is dat albei as (oop) vrae vertaal word om die impak van die kommunikasie te verhoog.

Vrae wat as stellings beskou kan word

Van die drie kategoriee waarin hierdie hoofkategorie uiteenval, is slegs voorbeelde van retoriese vrae gevind. Soos genoem, is hulle onderskeidende kenmerk dat hulle stellings met groot intensiteit maak. Die vrae word nie gebruik om inligting te bekom nie en is dus ook tipiese nie-egte vrae.

Hoewel dit moeilik is om hierdie soort vrae te onderskei, wil dit voorkom asof Paulus hulle slegs twee keer in die gedeeltes onder bespreking gebruik:

1 Korintiers 10:22a: Of wil ons die Here uittart?

1 Korintiers 10:22b: Is ons miskien sterker as hy?

Die twee vraagvorms is deel van Paulus se konklusie in 1 Korintiers 10:14-22. Hulle bevat nie die konklusie nie, maar versterk die argument wat hy besig is om in die konklusie te voer (sien Vraagappèlle hier onder). Volgens 8:1 het die Korintiers in hulle brief aan die apostel navraag gedoen oor die eet van voedsel wat aan 'n afgod geoffer is. In 1 Korintiers 8 en 10 beantwoord hy hulle vraag en sluit dit in 10:14 af met die gevolgtrekking: 'Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie.' Hierop brei hy in 10:15-21 uit deur te redeneer dat so iets onversoenbaar is met 'n lewe in Christus soos dit aan die tafel van die Here gevier word: gelowiges kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die bose geeste nie (10:21). Wie so iets doen, is besig om die Here te tart (10:22a).

In plaas daarvan om stellings te maak, gebruik Paulus in 10:22 twee vraagvorms. Hy koppel dit aan 10:21 deur die partikel 'ê' wat 'n alternatief op sy samevatting in vers 21 bied. Die vrae is skerp en intens, soos blyk uit die inleidende partikel 'ê' in 10:22a: 'In Greek rhetoric the opening conjunction 'e, or, must be translated in a way which reflects its rhetorical function in context', skryf Thiselton (2000:777-778) tereg. Binne die konteks verkies hy die volgende vertaling van Moffat, omdat dit reg laat geskied aan die intensiteit van die oorspronklike Grieks: 'What! Do we intend to rouse the Lord's jealousy?' Volgens Skrifverklaarders (Groenewald 1967:132; Fee 1988:473; Conzelman 1975:174; Lenski 1963:417) verwys Paulus hier na Deuteronomium 32:21, waar die Here Israel bestraf vir hulle afgodediens met die woorde: 'Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks is nie.'

Die intensiteit word in 10:22b voortgesit, wat 'n negatiewe antwoord impliseer. Die blote idee dat ons sterker as God is, is belaglik en stempel die alternatief wat gebied word, tot 'n absurditeit (Lenski 1963:417; Thiselton 2000:779). Om te dink dat ons sterker is as die Here en kan voortgaan om Hom te tart, is ondenkbaar.

Die inhoud van die twee vraagvorms in 10:22 regverdig dus hulle klassifikasie as retoriese vrae. Nie een van die twee vrae verwag inligting nie, maar albei maak stellings met groot intensiteit. Hulle is nie metakommunikatiewe interrogatiewe wat gevolgtrekkings maak, of vraagappèlle wat 'n nuwe tema inlei of aandag vra vir die stellings wat volg nie. Hulle kan as waarskuwings gemodifiseer word: wie die Here tart deur heidense feeste by te woon, sal nie ongestraf bly nie (Fee 1988:473-474; Barrett 1979:238).

Wat die vertaling betref, kan die negatiewe implikasie van 10:22b versterk word deur dit te vertaal met 'Ons is tog seker nie sterker as Hy nie?' (Conradie & Barkhuizen 1995:416).

Monologiese selfgerigte vrae

Hierdie hoofkategorie vrae kan onderskei word daarin dat hulle op M (ek of ons) self gerig is en nie 'n antwoord van O verlang nie. Gevolglik is hulle ook tipiese voorbeelde van nie-egte vrae. Soos die geval is met alle nie-egte vrae, word hulle in grammatikas en kommentare bloot as retoriese vrae aangedui.

Verster (1999:107-110) onderskei twee onderafdelings, te wete selfondersoekende en selfaanvaardingsinterrogatiewe. Eersgenoemde is gerig op M self, terwyl laasgenoemde die indruk wek dat die vraag namens 'n afwesige O geformuleer is. Hulle stem egter daarin ooreen dat albei monologies en refleksief is en deur M gebruik word om oor die opbou van die argument te besin.

Twee voorbeelde van selfaanvaardingsinterrogatiewe is in

1 Korintiers 10 gevind:

1 Kor 10:29b: Waarom, sou jy vra, moet my vryheid beperk word deur 'n ander man se gewete?

1 Kor 10:30: As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaadgepraat oor iets waarvoor ek God dank?

Hierdie twee vrae is deel van die beskrywing van 'n situasie waar 'n Christen uitgenooi word na 'n maaltyd in die huis van 'n ongelowige en aangeraai word om alles te eet wat aan hom voorgesit word, sonder om navraag te doen - ter wille van die gewete (10:27). Die situasie word moeiliker wanneer iemand (wat nie nader gespesifiseer word nie) uitdruklik sou sê dat dit offervleis is wat aangebied word (10:28). Volgens Groenewald (1967:134) is hierdie iemand 'n medegelowige wat as 'n swak (in die geloof) persoon dit meedeel aan 'n gelowig-sterk persoon om te sien of laasgenoemde van die offervleis gaan eet of nie. Indien wel, wil die swakker persoon dan sy voorbeeld volg - tot sy eie geestelike skade (8:10 e.v.). In hierdie omstandighede moet die gewete van die swak persoon in aanmerking geneem word en moet die sterke nie die vleis eet nie.

Teen hierdie voorskrif opper die sterk persoon die twee besware in 10:29b-30 hierbo. Volgens Conzelman (1975:178) en Bratcher (1982:101) is dit woorde wat Paulus in die sterke se mond lê wanneer hy vra: 'Waarom moet my vryheid beperk word deur 'n ander se gewete? En waarom word daar van my kwaad gepraat as ek iets eet waarvoor ek God gedank het?' Die twee vrae is onverwags, soos blyk uit die skielike oorgang na die eerste persoon enkelvoud in 1 10:29b.

Dit word deur Skrifverklaarders as problematies beskou, omdat hulle die gang van die argument onderbreek (Barrett 1979:242-243; Fee 1988:486-487; Thiselton 2000:788). Duane Watson (1989:308-318) gaan ook in op die onverwagte oorgang in 29b-30 vanuit 'n retoriese perspektief. Hy is van oordeel dat die retoriese vrae hier verskeie funksies vervul, waaronder 'n opsomming of herhaling van dit waaroor dit hier gaan, 'n argument in eie reg en 'n gedragslyn wat voorgestel word. Thiselton (2000:788-791) stem hiermee saam en reken ook dat die twee vrae die kern van veral 10:2311:1 saamvat, naamlik hoewel die gelowiges vry is, behoort die welsyn van ander gelowiges prioriteit bo alles te geniet.

Binne die raamwerk van hierdie artikel is dit egter moontlik om die funksie van die twee vrae meer presies te bepaal. Eerstens is hulle nie retoriese vrae nie. As besware van die sterke onderbreek hulle ook nie die argument of vat dit kernagtig saam nie. Die argument word immers in 10:31 voortgesit en bereik sy hoogtepunt in 11:1. Die twee vrae is goeie voorbeelde van monologiese selfaanvaardingsinterrogatiewe wat namens die sterk persoon geformuleer is en primêr rasioneel is. Hulle dien om Paulus se argument te verduidelik en te versterk.

Die twee vrae kan net so behou word om die trefkrag van die kommunikasie te verhoog.

Rasioneel-argumentatiewe vrae

Hierdie hoofkategorie nie-egte vrae word in vraagappèlle en ironiese interrogatiewe verdeel.

Vraagappèle: Die vraagvorm word gebruik met die betekeniswaarde van 'n appèl. Die vraag is dus daarop gerig om die aandag van O te kry. Geen verbale reaksie word van O verwag nie, omdat M self die antwoord verskaf. Die funksie van 'n vraagappèl is om 'n nuwe argument in te lei; minder dikwels om 'n bestaande argument uit te bou aan die hand van 'n logiese vraag wat na aanleiding van die argument ontstaan. In albei gevalle verskaf M self die antwoord. Vraagappèlle is nuttige instrumente om 'n saak rasioneel en argumentatief op te bou. Die intensiteit van die aandag wat M wil trek, bepaal die wyse waarop die vraag geformuleer word (Verster 1999:65-66).

Verskeie vraagappèlle is in

1 Korintiers 10 gevind: 1 Korintiers 10:14-21:

[10:14: Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie.

10:15: Ek praat met julle as verstandige mense. Beoordeel self wat ek sê.]

10:16: Die beker van danksegging waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?

[10:17: Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

10:18: Kyk hoe is dit met die Joodse volk.]

Kom daar dan nie gemeenskap tot stand tussen die offeraltaar en dié wat die offers eet nie?

10:19: Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgodsoffer of 'n afgod enige betekenis het?

[10:20: Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met bose geeste gemeenskap hou nie.

10:21: Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die bose geeste nie.]

Bogenoemde verse is aangehaal om die soort vrae binne die konteks te identifiseer. Die vraagvorms is deel van Paulus se konklusie in 10:14-22, wat voortvloei uit sy antwoord (in hoofstukke 10 en 11) op die Korintiers se vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is (8:1). Die vrae self trek nie die konklusie nie; daarom word hulle nie as metakommunikatiewe interrogatiewe geklassifiseer nie. Hulle vorm deel van 'n lang uiteensetting waarin Paulus 'verstandige mense' probeer oorreed om sy gevolgtrekking te aanvaar. In die proses maak hy gebruik van vrae en antwoorde - daarom word die vraagvorms hierbo as vraagappèlle beskou.

Die kern van Paulus se konklusie is die volgende: 'Daarom ("dioper"), my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie' (10:14). Hy begrond die konklusie deur 'n beroep te doen op 'verstandige mense' se belewenis van die tafel van die Here (10:15-16). Vir ons doel is die twee vrae in 10:16 belangrik. Dit impliseer albei positiewe antwoorde: Ja, inderdaad: deur die wyn en brood hét ons deel aan die bloed en liggaam van Christus! Omdat dit so is, stel Paulus in 10:17 die verdere implikasie van hierdie deelname aan of gemeenskap met Christus se liggaam duidelik: nou 'is ons, al is ons baie, saam een liggaam'. 'Verstandige mense' sal dit toegee op grond van die twee vrae in 10:16 - vrae wat dien om hulle by die gesprek te betrek en hulle te oortuig van die implikasie in 10:17.

Kommentatore wys op die twee belangrike funksies van die vraagvorms in 10:16. Eerstens verleen hulle outoriteit aan die opdrag wat in die konklusie gegee word. Die opdrag om niks met die afgodsdiens te doen te hê nie, berus nie net op Paulus se gesag nie. Hy vra nie blindelingse gehoorsaamheid nie, maar probeer sy lesers oorreed met 'n beroep op 'n hoêr gesag. Hy vra die 'verstandige mense' om self te oordeel oor wat hy sê, en wel aan die hand van hulle eie belewenis van die Nagmaal. Die feite oor laasgenoemde moet die deurslag gee (Lenski 1963:407).

Tweedens berei die vrae die leser voor - nie net vir die implikasie in 10:17 nie, maar ook vir die hele argument wat in 10:18-21 volg. Fee (1988) stel dit soos volg:

... it is especially important to observe that this meal (the Lord's Supper) is not the focus of Paul's concern: the sacred pagan meals addressed in vv. 19-21 are. This passage serves as the presupposition for what he will say in vv. 19-21. On the basis of their ... understanding of the nature of their own sacred meal, as well as a biblical understanding of that of Israel (v.18), he appeals to their common sense that they may not attend the pagan meals. (bl. 465)

In die lig van bogenoemde oorwegings kan die vraagvorms in 10:16 beskou word as vraagappèlle. Hulle lei 'n nuwe tema in en berei die leser voor vir dit wat in 10:17-21 volg. Hulle vestig veral die aandag op die stellings aan die einde van die argument, waar Paulus die gemeenskap aan die tafel van die Here stel teenoor die gemeenskap aan die tafel van die bose geeste. As vraagappèlle behoort hulle as vrae vertaal te word en nie - soos in die TEV - as stellings herskryf te word nie.

Die vraagvorm in 10:18 lei 'n verdere argument in, wat Conzelman (1975:172) beskryf as 'n historiese bewys, een wat 'verstandige mense' sonder twyfel as geldig sal aanvaar. Met verwysing na Israel se geskiedenis, vra Paulus: 'Kom daar dan nie gemeenskap tot stand tussen die offeraltaar en dié wat die offers eet nie?' Die partikel 'ouch' aan die begin van die vraagvorm impliseer 'n positiewe antwoord. Voordat hy egter daarop kan uitbrei en die parallel met die Nagmaal trek, haas hy hom met twee verdere vrae om alle moontlike misverstand oor die afgode uit die weg te ruim: 'Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgodsoffer of 'n afgod enige betekenis het?' (10:19). Die vrae word in 10:20 beantwoord met 'n adversatiewe 'alla', wat in Grieks ellipties is vir: 'Inteendeel, wat ek sê is dat '... Paulus ontken dus nie die bestaan van afgode en afgodsoffers nie, maar stel dit positief dat daar agter sulke afgodsdiens 'n ander realiteit bestaan, naamlik dié van die bose geeste, die ryk van die duisternis (Lenski 1963:415). Die Korintiêrs kan nie gemeenskap hê met die bose geeste én met God nie. Die een sluit die ander uit (10:21). Hiermee keer Paulus terug na sy enigste konklusie in 10:14 en beantwoord finaal die vraag waaroor die Korintiers aan hom geskryf het (8:1).

Die vraagvorms in 10:18-19 kan ook as vraagappèlle geklassifiseer word, omdat die vraag in 10:18 'n nuwe argument inlei en die twee in 10:19 volledig beantwoord word. Die gedagtes in die verse is wel nie netjies georden nie; hulle tuimel ('tumble') oor mekaar - soos Conzelman (1975:172) dit stel. Nietemin word hulle telkens gebruik om aandag te vra vir iets wat Paulus self wil stel. Hy verwag nie antwoorde van die Korintiêrs nie, maar verskaf dit self. Deur die vraagappèlle betrek hy die 'verstandige mense' in Korinte by sy argument en bou dit rasioneel op.

Omdat die vraagvorms duidelik vraagappèlle is, behoort hulle almal as vrae vertaal te word ten einde die gang van die argument te dien en die impak daarvan te verhoog.

Ironiese interrogatiewe: Hierdie soort vraagvorm word gebruik om 'n nie-egte vraag uit te druk waarvan die betekenis nie in die oppervlak van wat gesê word, lê nie, maar in die teenoorgestelde wat deur die vraag geimpliseer word. Die vraag moet uit die onmiddellike konteks verstaan word as 'n ironiese toespeling (Verster 1999:67-68). Wanneer die oênskynlike betekenis van die vraag dus kontrasteer met die werklike betekenis daarvan, is dit 'n ironiese interrogatief.

Hierdie opvatting van ironie is in ooreenstemming met Karl Plank se beskrywing daarvan in sy bekende werk Paul and the irony of affliction (1987). Nadat hy verskeie definisies van ironie bestudeer het, het Plank (1987) drie kenmerke of tendense gevind wat by almal voorkom:

First, irony occurs through an indirect use of language and expresses a covert meaning. The meaning of ironic language lacks self-evidence and must be reconstructed by the reader. Second, the indirect use of language reflects a contrast between appearance and reality. In the ironic text things are not simply as they appear to be. Third, irony works through the introduction or implication of a second perspective from which the text's obvious meaning can be reinterpreted. (bl. 37)

Om ironie in 'n literêre teks te verstaan, speel die konteks en 'n sekere kennis van die outeur se oortuigings en bedoelings 'n deurslaggewende rol. Dit moet die leser waarsku dat die skrywer nie letterlik bedoel wat hy sê nie. Veral die kontras tussen skyn en werklikheid help die leser om die ironie in die onderstaande gedeelte te verstaan.

Een voorbeeld van 'n ironiese interrogatief is in 1 Korintiêrs 8 gevind:

1 Korintiers 8:10: As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie?

[11: Dan gaan die swakke verlore deur jou kennis - 'n broer vir wie Christus gesterf het.]

In hoofstuk 8 begin Paulus die vraag van die Korintiêrs oor die eet van vleis wat aan 'n afgod geoffer is, beantwoord. Die kern van sy argument is dat die sogenaamde kennis van die sterkes nie hulle handelinge moet rig nie, maar wel hulle liefde vir die swakker broers. In vers 10 illustreer hy sy punt aan die hand van 'n vraag in die tweede persoon enkelvoud soos volg:

'n Persoon ('n sterke) word uitgenooi na 'n fees in 'n afgodstempel. Hy is trots daarop dat hy behoorlike kennis het en voel vry om te gaan, omdat hy weet dat hy nie verontreinig sal word nie. Hierdie vryheid hef egter nie sy verantwoordelikheid op nie. 'n Swak broer, wat nog nie bevry is van die opvatting dat die afgode bestaan en sulke maaltye werklike godsdienstige handelinge is nie, sien hom aansit by die maaltyd en oorweeg dit ook om van die vleis te eet. Die sterk persoon is in geen gevaar nie, maar die een wie se gewete swak is, kan verlore gaan as hy die voorbeeld van die sterk een volg.

Die ironie in verse 10 (en 11) is geleê in die terme wat met aanmoedig en kennis vertaal is. Die term wat met aanmoedig vertaal is, 'oikodomeõ', beteken om op te bou, sterk te maak. Louw en Nida (1988:677) definieer dit as 'to increase the potential of someone or something, with focus upon the process involved' en stel as vertalingsekwivalente voor 'to strengthen, to make more able, to build up'. In die Nuwe Testament word dit altyd in 'n positiewe sin gebruik, maar hier beteken dit die teenoorgestelde. Die sterk en hooghartige lidmate in Korinte het hulle onbedagsame optrede teenoor die swakkeres probeer regverdig deur te beweer dat hulle die swakkeres wou opbou en sterk maak deur in hulle teenwoordigheid afgodsvleis te eet. In werklikheid het hulle presies die teenoorgestelde gedoen. Daarom vra Paulus in vers 10: 'Is dít die manier waarop julle hulle wil versterk?' Wat die sterkes besig was om te doen, was om af te breek, nie op te bou nie (Lenski 1963:345; Conzelmann 1975:149).

Die woord kennis is ook ironies bedoel. Deur sy kennis waarop die sterk persoon hom beroem, besef hy nie wat hy besig is om te doen nie. Dit lei hom tot allerlei verkeerde handelinge (Fee 1988:388). Sy veel-geroemde kennis is so groot dat hy nie sy swakker broer genoeg liefhet om homself van die offervleis te weerhou ten einde die swakker een te red nie. Sy kennis is so belangrik dat hy nie besef watter prys Christus betaal het om die swakker broer te red nie. Hierdie kennis staan teenoor die liefde vir sy naaste en moet inderdaad daarmee vervang word. Kortom, deur sy selfsugtige kennis en hoogmoed dra die sterke by tot die vernietiging van sy swakker broer. Dit is hoe lief hy hom het! (Lenski 1963:346).

Soos aangedui, lê die betekenis van 'n ironiese vraag in die teenoorgestelde wat deur die vraag geimpliseer word. Die vraag in 8:10 impliseer dat die sterkes hulle swakker broers opbou deur in hulle teenwoordigheid afgodsvleis te eet. So het die Korintiêrs immers gedink. Die betekenis van die vraag lê egter in die teenoorgestelde van hierdie implikasie: in werklikheid is hulle besig om hom te laat struikel. Dieselfde geld vir hulle veel-geroemde kennis, wat hulle die vryheid gee om afgodsvleis in teenwoordigheid van die swakker broer te eet. Dit is in werklikheid nie kennis nie, maar liefdelose selfsug wat tot die ondergang van die swakker broer lei. Die kennis moet deur die liefde vervang word. Die konflik, wat per definisie in die ironie opgesluit lê, veroorsaak die rasionele en argumentatiewe aard van die vraag.

Die vraagvorm in 8:10 kan dus as 'n ironiese interrogatief beskou word. Om die ironie in die woord kennis uit te lig, kan dit - soos in die TEV - gekwalifiseer word as 'sogenaamde kennis', of dit kan tussen aanhalingstekens geplaas word.

Verse 10 en 11 kan soos volg vertaal word:

1 Korintiers 8:10: As jy wat hierdie sogenaamde kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom tog nie sterk maak om die vleis as afgodsoffer te eet nie?

1 Korintiers 8:11: Dan gaan die swakke, jou broer vir wie Christus gesterf het, mos verlore deur hierdie sogenaamde kennis van jou!

 

Slot

Die doel van hierdie artikel was om die soorte vrae in 1 Korintiêrs 7-8 en 10:1-11:1 sistematies te ondersoek aan die hand van 'n model wat op die taalhandelingsteorie gebaseer is en reeds met goeie gevolg op die brief aan die Romeine toegepas is. Die model het ook hier bruikbare resultate gelewer. Van die ses hoofkategorieê wat Verster onderskei, is vier (met enkele onderafdelings) in die twee Skrifgedeeltes geidentifiseer. Op hierdie wyse is alle vrae nie bloot gelykgestel aan retoriese vrae nie, maar is hulle verder verfyn en is hulle funksies aan die hand van 'n erkende taalteorie beskryf.

Deur die verskillende soorte nie-egte vrae te onderskei, is ook probeer om 'n bydrae tot die eksegese en vertaling van die betrokke tekste te lewer. Die gevolgtrekking is dat Paulus hierdie soorte vrae in 1 Korintiërs 7-8 en 10:1-11:1 effektief gebruik om die impak van sy standpunte oor die huwelik en die eet van afgodsvleis te verhoog.

 

Erkenning

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurvewysings

Argyle, A.W., 1965, An introductory grammar of New Testament Greek, Cornell University, New York.         [ Links ]

Barrett, C.K., 1979, A commentary on the first epistle to the Corinthians, Black, London.         [ Links ]

Blass, F., Debrunner, A. & Funk, R.W., 1967, A Greek grammar of the New Testament and other early Christian literature, University Press, Chicago. PMid:5230166        [ Links ]

Bratcher, R.G, 1982, A translator's guide to Paul's first letter to the Corinthians, United Bible Society, New York. (Helps for Translators Series.         [ Links ])

Burton, E. de W., 1955, Syntax of the moods and tenses in New Testament Greek, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Chamberlain, W.D., 1957, An exegetical grammar of the Greek New Testament, MacMillan, New York. PMCid:1973637        [ Links ]

Conradie, P. & Barkhuizen, J.H., 1995, Grieks met begrip: 'n Inleidende grammatika, toegespits op die Griekse Nuwe Testament, 5de uitg., Die Werkgroep vir Griekse Onderrig, PU vir CHO.         [ Links ]

Conzelmann, H., 1975, 1 Corinthians: A commentary on the first epistle to the Corinthians, Hermeneia, Philadelphia.         [ Links ]

Cronje, J. van W., 1992, 'The stratagem of the rhetorical question in Galatians 4:9-10 as a means towards persuasion', Neotestamentica 26(2), 417-424.         [ Links ]

Fee, G.D., 1988, The first epistle to the Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Goetchius, E. v. N., 1965, The language of the New Testament, Scribner, New York.         [ Links ]

Groenewald, E.P., 1967, Die eerste brief aan die Korintiers, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Lenski, R.C.H., 1963, The interpretation of St. Paul's first and second epistles to the Corinthians, Augsburg, Minneapolis.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English Lexicon of the New Testament, 2 vols., United Bible Society, New York. PMCid:1267932        [ Links ]

Moulton, J.H., 1908, A grammar of New Testament Greek, vol. 1, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Nunn, H.P.V., 1973, A short syntax of New Testament Greek, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Plank, K.A., 1987, Paul and the irony of affliction, Scholars Press, Atlanta, Georgia. (The Society of Biblical Literature Semeia Series.) PMCid:1330032        [ Links ]

Robertson, A.T. 1919, A grammar of the Greek New Testament in the light of historical research, Hodder & Stoughton, New York.         [ Links ]

Snyman, A.H., 1989, 'Vraagvorme as taalhandelinge in die Romeinebrief', in W.J. Henderson & D.A. Pauw (reds.), Theros, bl. 121-131, Studies opgedra aan Professor E.L. de Kock by geleentheid van sy 65ste verjaarsdag, RAU, Johannesburg,         [ Links ]

Thiselton, A.C., 2000, The first epistle to the Corinthians: A commentary on the Greek text. NIGTC, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan. (International Greek Testament Commentary.         [ Links ])

Turner, N., 1963, A grammar of New Testament Greek, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Verster, P., 1999, 'nie-egte vrae in die Romeinebrief: 'n Taalhandelingsperspektief', MA verhandeling (ongepubliseerd), Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Watson, D.F., 1989, '1 Cor 10:23-11:1 in the light of Graeco-Roman rhetoric: The role of rhetorical questions', Journal of Biblical Literature 108, 301-318. http://dx.doi.org/10.2307/3267299        [ Links ]

 

 

Korrespondensie aan:
Andries Snyman
PO Box 29084, Danhof 9310, South Africa
asnyman44@gmail.com

Received: 15 Dec. 2011
Accepted: 22 Mar. 2012
Published: 04 Oct. 2013

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons