SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1A study of the woman in the crowd and her desperate courage (Mark 5:21-43)Paedosexuality as manifestation of deviant sexuality: A clerical and pastoral challenge author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Ekumeniese kerkreg: Die aangewese weg?

 

An ecumenical church polity: A better way?

 

 

Pieter J. Strauss

Department of Ecclesiology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Die argument word gehoor dat kerkregeringstelsels soos dié van die Rooms-Katolieke, Lutherse en gereformeerde kerke van 'n transendentale aard was en is. Daardeur word geïmpliseer dat hierdie stelsels een transendentale, unieke vaste beginsel gebruik om 'n hele stelsel van kerkregering van buite af te bepaal. Volgens Leo Koffeman, 'n voorstander van 'n ekumeniese kerkreg, plaas hierdie stelsels hulself hiermee buite die diskoers oor kerkreg en kerkregering en die beweging van die Heilige Gees. 'n Ekumeniese kerkreg, daarenteen, is ten gunste van 'n gemeenskaplike kerkreg tussen kerke. Omdat dit verskillende tradisies bymekaar bring, is dit 'n kritiese en daarom beter benadering. Die skrywer oorweeg hierdie argumente krities in die lig van 'n gereformeerde benadering tot kerkreg.


ABSTRACT

The argument is used that church political systems like that of the Roman Catholic, Lutheran and reformed churches were of a transcendental character. By that it is implied that it used one transcendental and unique 'hard principle' from outside to direct a system of church government. Such uniqueness, according to Leo Koffeman who advocates an ecumenical church polity, places it outside the church political discourse and the way of the Holy Spirit. An ecumenical church polity seeks a combined polity between churches and is, by bringing different traditions together, a critical and therefore better undertaking. The author examines these arguments critically in the light of a reformed church polity.


 

 

Inleiding

Ecclesia reformata semper reformanda ['n gereformeerde kerk reformeer voortdurend]. Gereformeerde teoloë het bogenoemde stelreël reeds vroeg aan dosenteknie geleer. Uit die breë tradisionele gereformeerde kring tree die Nederlandse Leo Koffeman na vore as 'n voorstander van ekumeniese kerkreg. Volgens hom is die verbinding van die kerklike ekumene aan kerkreg nodig vir die voortgaande reformasie in kerkreg en daarom is die uitvoering van bogenoemde stelreël belangrik. Hy voorsien dat sekere sake soos om voortdurend in verandering te wees, 'n proseskarakter te hê, of 'n dinamiese beweging te wees die gevolg is wanneer die ekumene aan die kerkreg verbind word.

Koffeman (2009) stel dit sterk:

... ook de kerken van de Reformatie zijn niet ontkomen aan het gevaar de eenmaal gevonden kerklijke gestalten te legitimeren en te verabsoluteren en zich daarmee in zekere mate buiten de beweging van de Geest te stellen [... ook die kerke van die Reformasie het nie aan die gevaar ontkom om die bestaande kerkpraktyke te legitimeer en te verabsoluteer en om hulle daardeur in 'n sekere mate buite die werking van die Gees te stel nie] (bl. 35-36), [outeur se eie vertaling].

Volgens Koffeman (2009:45) moet kerkreg ten diepste ekumenies in plaas van konfessioneel wees, 'al kan en mag men niet "uit de eigen confessie stappen'" [al kan en mag 'n mens nie 'uit jou eie belydenis stap nie']. Ekumeniese kerkreg met sy verskillende gespreksgenote uit verskillende kerklike en geloofstradisies is per definisie krities en daarom beter verantwoord.

Hierdie artikel fokus op die raamwerk of dominante lyne van die ekumeniese kerkreg soos deur Koffeman voorgestaan (vgl. veral Koffeman 2009:9-97). Twee sake word in die beredenering voor oë gehou. Die eerste is dat Koffeman volgens sy eie getuienis aansluit by die fundamentele gedagtes van Hans Dombois, die bekende eksponent van 'n ekumeniese kerkreg (Koffeman 2009:101).1 Die tweede saak is dat hierdie artikel op Koffeman se tipering van die grondlyne of grondtrekke van 'n ekumeniese kerkreg konsentreer en nie op die besonderhede of die invulling daarvan nie.

Wat ook ondersoek word, is die vraag of Koffeman met sy ekumeniese kerkreg gestalte gee aan die reformatoriese stelreël van ecclesia reformata semper reformanda ['n gereformeerde kerk reformeer voortdurend] en of sy ekumeniese kerkreg 'n voortsetting of 'n logiese uitvloeisel van die reformatoriese kerkreg is. Hy verbind homself immers uitdruklik aan hierdie stelreël. 'n Blootlegging van die grondlyne van sy ekumeniese kerkreg kan reeds aandui in watter rigting sy kerkreg loop.

 

Eksklusivisme is teologies ongeloofwaardig

As eerste vertrekpunt beskou Koffeman konfessionele, kerklike en selfs ekumeniese eksklusivisme as kerklik en teologies ongeloofwaardig. Hierdie stelling kan syns insiens geldig wees in die historiese kerke en tradisies sowel as die offisiële ekumene van die Wereldraad van Kerke. In ekumeniese kerkreg word dit aanvaar dat die ekumeniese beweging as 'n proses prinsipieel oopstaan vir die toekoms - die kerk moet uitstrek na die koms van die koninkryk van God (Koffeman 2009:33). 'n Kerkreg wat hom op die eksklusiewe geldigheid van sekere elemente in sy eie tradisie beroep, plaas homself buite elk theologisch discours [elke teologiese debat] en verloor daardeur sy teologiese relevansie (Koffeman 2009:42).

Die Calvinisme met sy beroep op die leiding van die Heilige Gees in sy siening van die ouderling, die ampte en die selfstandigheid van die plaaslike gemeentes2 kan hom skuldig maak aan 'n ekklesiologiese verabsolutering. Om hierdie beskouings toe te skryf aan goddelike reg (vgl. Van 't Spijker 1982 en Kleynhans 1982:24-25), maak die ekumeniese speelruimte vir die kerkreg te klein (Koffeman 2009:32). Evangelikaalse of pentekostalistiese vorms van kerkwees of die African Instituted Churches het deur die ekumeniese benadering in onlangse tye aan betekenis gewen (Koffeman 2009:33).

Volgens Koffeman moet kerkreg prinsipieel gedurig in beweging wees - vanuit die sending van die Here na die realisering van die koninkryk van God toe. Die wortel van ekumeniese kerkreg lê in die verbinding van die ekumene, as 'n kerklike eenheidsproses, met die kerkreg, as 'n regsproses. In die ekumeniese beweging, as 'n beweging van die Gees, moet kerklike strukture en verhoudings sodanig gevorm word dat die voorgeskrewe eenheid van die kerk van Christus meer herkenbaar word. So vorm dit die kerkjuridische dimensie [kerkjuridiese dimensie] van die ekumeniese beweging (Koffeman 2009:36).

Op hierdie punt ontstaan die vraag hoe Koffeman se oortuiging prinsipieel van dié van sommige ander reformatore verskil. Koffeman is van mening dat ekumeniese kerkreg, as deel van die beweging van die Gees, aan die voorgeskrewe eenheid van die kerk gestalte moet gee. Hy verwyt sommige reformatore dat hulle kerkregtelike aspekte verabsoluterend aan die leiding van die Gees en goddelike reg toeskryf. Op grond van watter bybelse gronde kan die gewensde kerkregtelike vrug van die ekumene aan die Gees toegeskryf word? Is dit nie ook verabsoluterend en eksklusivisties om so oor die ekumeniese beweging met sy kerkreg te praat nie? Verminder hierdie houding nie ook die speelruimte vir kritiek en variasie op hierdie standpunt en dié standpunt se openheid teenoor die toekoms nie? Hoe word hulle stelreël dat dit eie aan 'n gereformeerde kerk is om te reformeer, in hierdie verwyt teenoor die reformatore verreken? Waar verskil hierdie stelreël met die vertrekpunt van 'n openheid teenoor die toekoms?

Koffeman gee toe dat die proseskarakter van die kerkreg 'n belangrike rol gespeel het in die visie van die Reformasie op die kerk. Hierdie karakter weerklink in die formulering van genoemde stelreël dat 'n gereformeerde kerk voortdurend moet reformeer. Tog het dit die kerke van die Reformasie nie daarvan weerhou om 'eenmaal gevonden kerkelijke gestalten te legitimeren en te verabsoluteren' [die bestaande kerkpraktyke te legitimeer en te verabsoluteer] en hulle daarmee buite die beweging van die Gees te stel nie (Koffeman 2009:35-36).

Volgens Koffeman bestaan die identiteit van die kerk nie in sy onveranderlikheid nie, maar in sy roeping en die vermoë om te verander of om homself te bekeer. Die identiteit van die kerk met sy kerkregtelike kante is nie 'n konstante verskynsel nie, maar 'n voortdurende proses (Koffeman 2009:36).

 

Geen kerk is kerkregtelik volmaak nie

'n Tweede vertrekpunt in die ekumeniese kerkreg is volgens Koffeman die feit dat geen kerk kerkregtelik volmaak is nie. Omdat kerkreg per definisie ekumenies van aard is, is die kerke in die ekumene op mekaar aangewese. Elke kerk is in sy regstruktuur fundamenteel deficiënt [fundamenteel onvolmaak]. Die Protestante het volgens hom die reg van die gemeente herontdek ten koste van die eenheid van die kerk, terwyl die Rooms-Katolieke Kerk die eenheid van die kerk handhaaf ten koste van die reg van die gemeente.

Hierdie toedrag van sake word in die ekumene die kategorie van komplementariteit genoem. Die stelling dat 'n ekumeniese invulling van kerkreg as teologiese dissipline onontwykbaar is, staan vir Koffeman vas. Volgens hom vertoon ekumeniese gesprekke 'n komplemetariteit waaruit die kerkregtelike tekortkomings van elke kerk duidelik blyk, asook die besef dat hulle daarom fundamenteel op mekaar aangewese is. Die stelling dat die verskillende kerklike tradisies komplementêr teenoor mekaaar staan, is nie 'n uitnodiging om dit as 'n gegewe te aanvaar nie, maar 'n aansporing om die eie tekortkomings raak te vat en op te los (Koffeman 2009:43).

Geen kerk is in die volle sin van die woord 'n kerk wat die ander nie nodig het nie. Selfs die verskillende kerklike tradisies, die Protestantisme en Rooms-Katolisisme ingesluit, het tekortkomings (Koffeman 2009:44). Geen kerkregtelike stelses kan volledig voldoen aan dit wat ekklesiologies van hom gevra word nie (Koffeman 2009:79). Kerkreg bly prinsipieel 'n ius humanum [menslike reg] en is nie 'n ius divinum [goddelike reg] nie (Koffeman 2009:90; vgl. Coertzen 1998:42-43 vir die menslike formulering van die kerkreg).

Volgens Koffeman (2009:103) is die Gees eerder herkenbaar in dit wat die verskillende stelsels van kerkregering met mekaar deel. Hier verbind hy weer die Gees aan die ekumeniese kerkreg. Naas verskille is daar ook fundamentele ooreenkomste wat onder meer in die liturgie na vore kom. In feitlik elke kerk word verkondig en bely, gedoop en nagmaal gevier, getrou en begrawe. Hierin lê daar kerkregtelike aanknopingspunte tussen die verskillende Christelike tradisies indien daar weggedoen word met 'n teologiese selfregverdiging wat vanuit 'n eie transendentale punt gelegitimeer word.

 

Konstantes in die verandering?

Vir Koffeman lê die uitgangspunt vir die Kerkreg as 'n teologiese dissipline in die werking van die Heilige Gees in mense. Hierdie werking kry sigbaar vorm in die erediens, die bediening van die Woord en die sakramente asook die liturgie. Waar die term eucharistie [nagmaal] in die Rooms-Katolieke stelwyse versmal word tot die nagmaal of kommunie (Koffeman 2009:103), word die woord in die ekumeniese teologie gebruik vir die totale viering rondom die Woord en die sakrament en daarom ook vir die Woordverkondiging.

God ontmoet sy gemeente deur die Gees wanneer die Skrifte geopen en mense deur die doop in 'n nuwe gemeenskap ingelyf word (hulle inlywing) asook wanneer hulle deur die uitdeel van die brood en wyn die teken ontvang van hulle inblywing in hierdie gemeenskap (Koffeman 2009:104; Heyns 1992:380, 389). Vir Koffeman is die saak van die Woord en die sakrament die groot en bepalende konstante in die lewe van die kerk. Dit beteken nie dat die werk van die Gees beperk word tot Sondag se erediens nie. Die Gees se werking in mense lewer baie meer vrugte en word in al die aktiwiteite van die gemeente weerspieël. Kerkordelike maatreëls kan slegs gedeeltelik hierdie aktiwiteite as die roeping van die gemeente dek.

Tog vorm die erediens die hart van alle gemeentewerk. In die erediens word die gemeente gebore en hulle vergader rondom die Woord en die sakrament. In die verskillende liturgiese vorms, woorde en rituele in die erediens vind 'n mens die essensie van die ecclesia [kerk] van Jesus. Die kern daarvan is dat dit op die Woord van God gefundeer is. In hierdie proses word die grondlyne vir die kerkreg ook sigbaar. Elke ander vertrekpunt vir die kerkreg lei tot 'n tipe verenigings- of bestuursreg. Hierdie skiening skep die term liturgiese kerkreg waarvoor Karl Barth en Hans Dombois waardevolle gesigspunte ontwikkel het (Dombois 1969:280-438, 866-868). Die samehang tussen liturgie en kerkreg beteken dat die begrip kerklike orde nie alleen vir die kerkorde gebruik word nie, maar ook vir die liturgie, die spiritualiteit en die etiek (Koffeman 2009:104-105; vgl Dombois 1969:296-438).

Koffeman noem die vier konstante vereiste gestaltes van die kerk die 'grote instituties van het kerkrecht' [groot institusies van die kerkreg]. Hierdie vier gestaltes is die plaaslike of lokale kerk wat uit die eie of die wyksgemeente bestaan; die universele kerk soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk of die wêreldwye gemeenskap van dopelinge wat deur die doop met Christus verbonde is en daardeur 'n eenheid vorm (Dombois 1969:296-362); die partikuliere kerk soos die Protestantse Kerk in Nederland wat in 'n bepaalde gemeenskap of omgewing voorkom; en die orde of vormgewing van 'n religieuse gemeenskap. Elkeen van hierdie vier gestaltes veronderstel die ander en het mekaar nodig. Saam vorm hulle die beeld waarom dit in die vormgewing van die kerk van Christus gaan. Hulle is in twee pare op mekaar betrokke, naamlik die plaaslike en universele kerk en die partikuliere kerk en die orde. Nie een hiervan moet verabsoluteer word om die ander drie as minder relevant terug te druk nie (Koffeman 2009:50-51).

Koffeman meen die ideaal is dat die kerk hierdie vier gestaltes gelyktydig vertoon. Dit gebeur egter nie in die praktyk nie. Omdat sowel die universele as die plaaslike kerk 'n noodsaaklike oriëntasiepunt in die kerkreg is, maar teen mekaar afgespeel word, praat Dombois van 'n productieve paradox [produktiewe paradoks]. Die kerkreg orden die plaaslike kerklike lewe, maar rig dit op die universele kerk, wat vir Dombois die uitdaging van conciliariteit [bemiddeling] is (Koffeman 2009:53). Die partikuliere kerk is sigbaar in die nasionale of vrye kerke en speel 'n bemiddelende rol tussen die plaaslike en die universele kerk, tussen die gemeente en ekumeniese liggame. Die partikuliere kerk open die weg vir die plaaslike kerk na ekumeniese verhoudings en aktiwiteite. Op hulle beurt is daar tussen die partikuliere kerk en die orde ook 'n produktiewe paradoks. Dit staan direk in verband met die bybelse uitdrukking 'in die wêreld, maar nie van die wêreld nie' - die kerk in sy omringende kultuur. Die partikuliere kerk en die orde speel hierin elkeen 'n eie rol, maar het mekaar ook nodig (Koffeman 2009:54-55). Die partikuliere kerk neem verantwoordelikheid vir die samelewing, terwyl die orde asketies ingestel is. Dit beteken dat die partikuliere kerk krities solidêr tot die kultuur staan en strukturele vorm daaraan kan gee (Koffeman 2009:58-59). Hierdie vier gestaltes is noodsaaklike basisgestaltes van die kerk en stel 'n uitdaging aan die ekumeniese kerkreg (Koffeman 2009:61).

In sy hantering van die bestaande kerkregeringstelsels soos die episkopaalse, konsistoriale, kongregasionalistiese en presbiteriaal-sinodale stelsels, noem Koffeman (2009:78-79) ook drie stellings wat uit die vertrekpunte van sy ekumeniese kerkreg spruit. Die eerste is dat elke kerkregeringstelsel eensydig is, omdat dit hom natuurlikerwys afsluit van die instellings van ander stelsels. Elke stelsel moet hom daarom, tweedens, deur ekumeniese dialoog aan die kritiek van ander blootstel en so 'n keuse vir 'n ekumeniese leerproses maak. Derdens is elke stelsel prinsipieel voorlopig. Die kerkreg moet die positiewe reg aktief aan veranderende insigte blootstel en vasstel wat in 'n bepaalde konteks kortkom of nodig is om die kerk aan sy taak te laat beantwoord.

 

Drie fases in die geskiedenis van die kerkreg

Koffeman se kerkregtelike uitgangspunte word nog duideliker deur sy siening van die fases van kerkreg in die gekiedenis. Op die voetspoor van Dombois (1974:103 e.v.) onderskei Koffeman (2009:37) drie fases in die kerkreggeskiedenis. Hierdie fases loop breedweg saam met die millennia wat ná Christus volg. Die kerkreg van die eerste millennium funksioneer as epikletiese kerkreg, dié van die tweede millennium kry 'n transendentale en dié van die derde millennium 'n ekumeniese karakter. Koffeman sien die derde fase - die fase waarin ons tans verkeer - as iets wat moet zijn [moet wees]. Hy poog om dit te ontleed en te evalueer.

Die eerste fase: epikletiese kerkreg

In die eerste fase gaan die juridiese vormgewing van die kerk nie uit van 'n sistematiese ekklesiologie nie. Ekklesiologie ontwikkel eers in die tweede fase. Die kerk is 'n eenheid in die Gees wat tot uitdrukking kom in die liturgie, die Triniteitsleer (die konsilies van die vierde eeu; Schulze 1978:33-73), die Christologie (die konsilies van die vierde en vyfde eeue: Schulze 1978:74-115) en die figuur van die biskop. Liturgie, dogma en die biskopamp vorm 'n historiese substruktuur wat die juridiese vormgewing van die kerk bepaal en waarin elkeen vanselfsprekend is en die ander veronderstel. Binne hierdie verband word van 'n epikletiese kerkreg gepraat (Koffeman 2009:38).

In die tweede millennium ontwikkel veral in die Westerse kerk, gaandeweg 'n kerkreg met 'n fundamentele geestelike struktuur. Die groot skeuring tussen Oos en Wes in 1054 (De Jong 1987:102) vorm ook 'n draaipunt vir die kerkregtelike oorgang van die eerste na die tweede millennium. Dit blyk veral uit die resultate van die Vierde (Roomse en Westerse) Lateraanse Konsilie van 1215.

Die uitdrukking transendentale kerkreg word vir hierdie fase gebruik.

Die tweede fase: transendentale kerkreg

Die kerk beleef in die vroeë Middeleeue 'n legitimiteits- en identeitskrisis te midde van wanpraktyke. Om die kerk hieruit te help, word 'n sistematies-teologiese deurdenking en begripsvorming van die kerk begin waaronder ook 'n transendentale vorm van kerkreg. Die kerkreg word op ekklesiologiese beginsels gefundeer waarin daar van transendentale kriteria as die oorspronklike gegewens uitgegaan word (Koffeman 2009:38).

Hierdie ontwikkeling kom hoofsaaklik in die één Westerse Kerk voor, voor die breuk met die Reformasie. Die bieg en boetedoening neem 'n sentrale plek in die kerklike lewe in. Die Vierde Lateraanse Konsilie stel die verpligte bieg in (vgl. ook De Jong 1987:140). 'n Duideliker onderskeid tussen hulle wat die bieg afneem en hulle wat dit ondergaan en tussen die priester- en die lekestand tree in. Die genademiddels van die kerk word van die bieg en boetedoening afhanklik gemaak en die rol van die clerici [geestelikes] wat die sakramente as genademiddels hanteer, word meer verfynd en juridies vasgelê. 'n Sterker hiërargiese klerikale struktuur ontwikkel wat die heil aan mense bemiddel en instansies skep vir die hantering van meer komplekse sondes, of 'n hoër beroep doen teen vonnisse op 'n laer vlak. Dit alles word teologies deurdink en gefundeer en is reeds ver gevorder tydens die Reformasie. Dit bereik sy hoogtepunt met Vatikanum 1 in 1869-1870 wat die onfeilbaarheid van die pous in dogmatiese en etiese kwessies en as die hoogste gesag in en die middelpunt van die kerk formeel vaslê. Alles word uiteindelik van die pous se goedkeuring afhanklik (Koffeman 2009:39; vgl. ook De Jong 1987:290). Koffeman oordeel egter dat hierdie sistematiserende ontwikkeling met sy bieg en sy boetedoening 'n groot krisis met die Reformasie ontwikkel het.

Wanneer die hervormer Martin Luther die regverdiging deur die geloof alleen téénoor die bieg en die boetedoening stel en sy woordsalvo's op die Roomse aflaatpraktyk van sy tyd afvuur, lê hy sy vinger op die seerplek.3 Luther se klem op die verkondiging van die Woord en die amp wat slegs in diens hiervan kan staan, is ook 'n dolksteek na die hart van die heersende Roomse ekklesiologie. Ongelukkig laat Luther die kerkregering aan die staatsowerheid oor (vgl. ook Kleynhans 1982:10-11). Calvyn - so vervolg Koffeman se analise - oordeel dat Luther die redding van die mens van die menslike verkondiging van die evangelie afhanklik maak. Daarom ontwikkel hy God se uitverkiesing van ewigheid af waardeur mense in staat gestel word om heilig te lewe. Die kerk het die opdrag om hulle hieraan te herinner. Gevolglik ontwikkel die Calvinisme naas die suiwere bediening van die Woord en die sakramente ook die kerklike tug as merkteken of kenmerk van die kerk. Anders as Luther, is die kerklike struktuur vir Calvyn belangrik. Daarom kry die ouderlinge by Calvyn die verantwoordelikheid om die gemeente heilig te hou (Koffeman 2009:39-40; vgl. ook Strauss 2010:64).

Koffeman stem in dat drie kerkregtelike benaderings, naamlik die Rooms-Katolieke, die Lutherse en die Calvinistiese (aldus Koffeman)4, transendentaal van aard is. By al drie word die kerk rondom een uitgangspunt gevorm wat as 'n hard principe [vaste beginsel] 'n geslote kerkregtelike stelsel tot gevolg het (Koffeman 2009:40). Sodanige stelsels staan haaks op Koffeman se eie oop, kritiese en voortdurend-veranderende ekumeniese kerkreg. Hy noem so 'n stelsel 'n ekklesiologiese verabsolutering buite die beweging van die Gees om.

Dit lyk egter asof Koffeman homself van sulke denksisteme afsluit sodat die implisiete klag wat hy hou teen, wat hy noem, transendentale kerkregpraktyke as verabsoluterings, by homself ook kan deurslaan. Of Koffeman reg aan die Lutherse en gereformeerde benaderings laat geskied, óf hulle moontlik in 'n sekere ontleding inforseer, is 'n vraag waarop teruggekom word.

Volgens Koffeman is die einde van transendentale kerkreg teologies noodsaaklik, omdat dit sy teologiese legitimiteit en oortuigingskrag verloor het. Hierdie stelling motiveer hy vanuit twee oorwegings. Die eerste is argumente wat vanweë hulle beperkte omvang moeilik oortuig. Die Roomse stelsel sou hiervolgens op pad uit wees, omdat Vatikanum 2 in die sestigerjare van die vorige eeu niemand buite die Rooms-Katolieke Kerk wou vervloek nie. Dit op sigself beteken egter nie 'n prysgawe van die eie kerkregtelike beginsels nie.

Bultmann - so verloop die betoog van Koffeman verder - het in die Lutherse kring getoon dat daar verskillende interpretasies van die Skrif is, sodat die tradisionele sentraalstelling van die Skrif volgens Luther, ook op pad uit is. Die vraag is egter of hierdie soort verskille nie van die beginjare af daar was nie. Dieselfde vraagteken hang oor Barth se algemene versoeningsleer wat die Calvinisme sou laat wankel. Sommige gereformeerdes laat hulle juis krities uit oor Barth.

Koffeman (2009:42) reken dat die kerke nie aan 'n ekumeniese invulling van die kerkreg kan ontkom nie. Die uitdaging wat die opkoms van die evangelikaalse en pentekostalistiese bewegings in die laaste dekades aan die algemene of ekumeniese kerkreg stel, doen geen afbreuk hieraan nie.

Die derde fase: ekumeniese kerkreg

Koffeman oordeel dat geen kerk in hierdie ekumeniese tydsgewrig op sy eie ten volle kerk kan wees en kan verklaar dat hy die ander kerke nie nodig het nie. Paulus se woorde oor die oog en die hand in die liggaam van Christus kan hier as maatstaf geld5 (Koffeman 2009:42).

Volgens hom kan ekumeniese kerkreg in die eerste plek gesien word as die soort kerkreg wat 'n kerk formuleer met die oog op sy ekumeniese verhoudings. Sodanige kerkreg word vanuit die eie ekklesiologiese vooronderstellings opgebou. Dit behels 'n deelname aan die arbeid van die ekumeniese organisasies en die gemeenskap in bilaterale kerklike betrekkings. Om die eenheid te bevorder, bevat dit reëls wat van toepassing is indien daar vereniging tussen die kerke moontlik is.

In die tweede plek gaan ekumeniese kerkreg oor die gesamentlike kerkreg wat die kerke vaslê in hulle onderlinge ooreenkomste, gesamentlike verklarings, en so meer. Die reëls wat hier neergelê word, vorm 'n positiewe kerkreg wat gesamentlik van die betrokke kerke uitgaan. Die doel is om die vasstelling van reëls deur die verskillende kerke met mekaar te laat ooreenstem ter wille van die goeie samewerking in die liturgie en die pastoraat. Die bevoegdheid van elke kerk word so goed moontlik omskryf, maar van die oordra van bevoegdhede is daar nie sprake nie.

Ekumeniese kerkreg gaan in die derde plek oor die gesamentlike kerkreg waarin die kerke sekere bevoegdhede aan ekumeniese organisasies of kommissies oordra om te kan bemiddel. 'n Goeie voorbeeld is die sogenaamde Tussenorde (vgl. Generale Synode van de Protestantse Kerk in Nederland 2003)6 wat gegeld het in die verenigingsproses tussen die drie kerke wat by die totstandkoming van die Protestantse Kerk in Nederland betrokke was. Hierdie orde het deur die jare wat die Samen-op-weg-proses geduur het, in omvang toegeneem. Wedersydse aanvaarding van die reëls vir die gesamentlike optrede is vereis, maar daar is 'n stap verder gevorder toe die gesamentlike kommissies in sommige gevalle by die hantering van die besware en geskille die bevoegdhede van bestaande organe van die drie kerke (die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke in Nederland en die Evangelies-Lutherse Kerk in Nederland; vgl Generale Synode van de Protestantse Kerk in Nederland 2003:10) oorgeneem het (Koffeman 2009:46-47).

Hierdie voorbeelde van gepositiveerde kerkreg wat Koffeman in sy weergawe van die ekumeniese kerkreg noem, laat 'n mens met twee vrae. Laat Koffeman in sy tipering van Luther en Calvyn, as eksponente van 'n tipiese transendentale kerkreg, reg geskied aan hierdie twee reformatore? Is sy ekumeniese kerkreg die produk van voortgesette reformasie in die reformatoriese kerkreg, na aanleiding van die genoemde stelreël?

 

Ekumeniese kerkreg: die aangewese weg?

Die stelling dat Calvyn Luther se menslike verkondiging van die evangelie kontrasteer met God se (uit)-verkiesing van mense om heilig en reg te lewe, stel twee sake teenoor mekaar wat in die verlengde van dieselfde besluit van die genadige God lê. Wou die gereformeerde lyn met sy skynbare klem op die uitverkiesing, toesig en tug 'n korreksie op Luther aanbring - Luther, aldus Koffeman, met sy menslike verkondiging van die Woord?

Die bekende Drie formuliere van eenheid omsluit die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls soos dit aanvaar is by die Sinode van Dordrecht in April/Mei 1619 (Donner & Van der Hoorn s.a.:307 e.v., 320, 325). As belydenisse in die tradisie en op die voetspoor van Calvyn, bevestig die Drie formuliere van eenheid in hulle aanpak van God se verlossing van die mens die relasie van verkiesing-verkondiging-geloof (vgl. Sizoo s.a.:226 e.v.).

Die feit dat die Woord van God deur geïnspireerde mense geskryf is en verkondig word, beteken juis dat die aktualisering van God se verkiesing in die lewe van 'n mens nie buite die mens om, as draer van God se heilsboodskap, plaasvind nie. In die regverdiging deur die geloof staan verkiesing-verkondiging-geloof sentraal. Calvyn se gebruik van die suiwer bediening van die Woord en die sakramente impliseer die tug. Die tug is deur sy opvolger in Geneve, Theodore Beza, as 'n kenmerk van die ware kerk geëkspliseer (vgl. Nederlandse Geloofsbelydenis art 29; Polman, sa.:333). Selfs indien Koffeman sou aandring op die bybels-korrekte hantering van die liturgie en die pastoraat, die kerklike elemente wat volgens hom deur die ekumeniese kerkreg bedien moet word, impliseer dit toesig en tug. 'n Ander moontlikheid is dat hy die normatiewe aard van biblische Weisungen [bybelse norme] (Plomp 1992:38-40; Barth 1967:679 e.v.; Wolf 1961:8, 24, 73 e.v.; Strauss, 2010:8) vir die liturgie en die pastoraat in die lewe van die geredde sondaars ontken; of indien hy 'n normgebonde lewe van die geredde sondaars in 'n bepaalde geloofstradisie as uniek beskou teenoor ander gelowiges, dus soos 'n normatiewe transendentale kerkreg, as irrelevant en nie in die hoofstroom van die ekumene nie.

Hierdie hantering van Luther en Calvyn buite die groter prentjie van hulle denke om, laat die indruk dat Koffeman die inkleding van die idee van 'n transendentale kerkreg wat van 'n vaste beginsel as vertrekpunt uitgaan, op die kerkregtelike denke van die twee reformatore afforseer.

Waar die Reformasie van die sestiende eeu aan die hand van die vier bekende solas en sekere kerkregtelike uitgangspunte wou reformeer (Jonker 1976:124), volstaan Koffeman met 'n gedeelde ekumeniese kerkregtelike vormgewing as kerkregtelike norm. Hierdie vormgewing is normatief, maar moet, aldus Koffeman, as praktiese of gepositiveerde gegewens gedurig verander. Hy betoog immers dat dit eie aan 'n kerk is om nie dieselfde te bly nie, maar voortdurend te verander - 'n toestand waarvoor hy die woord bekeer met sy bybelse ondertone gebruik sonder om dit met 'n bybels-verantwoorde inhoud te probeer vul.

Die stelreël, ecclesia reformata semper reformanda ['n gereformeerde kerk reformeer altyd], waaraan Koffeman homself gebonde ag, impliseer voortgaande reformasie op dieselfde spoor of norm. Die norm aan die hand waarvan 'n mens reformeer, is 'n konstante solank dit reg verstaan word, maar die vormgewing daarvan is 'n eietydse uitdrukking.

Reformasie beteken dus nie 'n totale breuk met die bestaande nie, dit sou rewolusie wees. Dit impliseer 'n verandering as verbetering in 'n poging om die relevante norm of doel beter en eietyds te vergestalt. Reformasie beteken verandering of verbetering, nie ter wille van verandering as 'n doel op sigself nie, maar verbetering aan die hand van die relevante norm. Met sy geformuleerde gesamentlike of ekumeniese kerkreg as die gemeenskaplike besit van meerdere kerke, wyk Koffeman op 'n kernpunt van 'n reformatoriese kerkreg af.

Koffeman vervang die ekklesiologiese vertrekpunte van die Reformasie met sy eie ekklesiologiese vertrekpunt as norm, naamlik 'n ekumeniese kerklike vormgewing wat op grond van konstantes soos die Woord en sakramente deur 'n ongespesifiseerde getal kerke aanvaar is. Sy stelling dat die kerkreg in diens van die liturgie en die pastoraat moet staan, word hiermee geïntegreer. In sy eie ekumenies-geldende kerkreg word die steeds veranderende kerkregtelike vormgewing tussen meer kerke skynbaar ook 'n apriori [vertrekpunt] wat tot 'n vaste beginsel van 'n transendentale kerkreg neig.

Ten slotte beperk Koffeman se uitgangspunt van 'n ekumeniese kerkreg die bestek van sy kerkreg. Dit blyk uit die voorbeelde van ekumeniese kerkregtelike temas wat hy uitwys. Dit is beperkend omdat 'n konsekwente uitbreiding daarvan vereis dat meer kerke dit eers aanvaar. Iets van hierdie spanning en implisiete beperking kom by Koffeman na vore in sy sensitiewe stelling dat die bevoegdhede van kerke goed omskryf word, maar nie oorgedra word aan ekumeniese instansies by die sluiting van ooreenkomste of die uitreik van gesamentlike verklarings nie.

'n Uitbreiding van sy kerkregtelike bestek vra dus ook oorreding en die ingebruikneming daarvan deur meer kerke voordat dit gedoen kan word. Gemeet aan die omvang van die temas wat normaalweg in 'n kerkorde in die Dordtse tradisie voorkom, is die temas wat Koffeman in sy ekumeniese kerkreg aandui, skraal.

Opsommend kom ekumeniese kerkreg op die volgende neer: dit is reëls vir ekumeniese verhoudings met en die vereniging van kerke, ooreenkomste en gesamentlike verklarings en die oordra van sekere kerklike bevoegdhede aan ekumeniese instansies. Die oorwig van kerklike werksaamhede word hier die ekumene. Tog loop 'n verantwoorde, funderende ekklesiologie heelwat breër as net ekumeniese verhoudings tussen kerke en dit wat daaruit mag voortvloei.

Dit is 'n vraag of die drie kenmerke of merktekens van die ware kerk, naamlik die suiwer verkondiging van die Woord, die regte bediening van die sakramente en die handhawing van die kerklike tug as 'n belydeniswaarheid nie steeds deur die kerkreg as 'n dienende reg beskou word nie (Nederlandse Geloofsbelydenis 29; Strauss 2010:1-6). Alhoewel Koffemans hom krities oor gereformeerde kerkreg as transendentale kerkreg uitlaat, voer hy ook aan dat 'n mens nie 'uit de eigen confessie stappen' [uit jou eie belydenis stap nie].

Is 'n ekumeniese kerkreg die aangewese weg? Die antwoord is, 'Nee'. Nee, nie voordat daar deur alle deelnemers - ook uit die gereformeerde hoek - bepalende insette gelewer word nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Barth, K., 1967, Church dogmatics, vol. 4, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Coertzen, P., 1998, Church and order, Peters, Leuven.         [ Links ]

De Jong, O., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Dombois, H., 1969, Das Recht der Gnade, Teil 1: 2. Ausg., Luther-Verlag, Witten, (Oekumenisches Kirchenrecht).         [ Links ]

Dombois, H., 1974, Das Recht der Gnade, Teil 2, Luther-Verlag, Witten, (Oekumenisches Kirchenrecht).         [ Links ]

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., s.a., Acta Nationale Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.         [ Links ]

Generale Synode van de Protestantse Kerk in Nederland, 2003, Kerkorde en ordinanties van de Protestantse Kerk in Nederland inclusief de overgangsbepalingen, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1992, Inleiding tot die dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Halfway House.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1976, Die Woord as opdrag, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., 1982, Gereformeerde kerkreg, Deel 1, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Koffeman, L.J., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.         [ Links ]

Plomp, J., 1992, Kerk en recht, in W. van 't Spijker & L.C. van Drimmelen (eds.), Inleiding tot de studie van het kerkrecht, Kok, Kampen.         [ Links ]

Polman, A.D.R., s.a., Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, Deel 3, Wever, Franeker.         [ Links ]

Schulze, L.F., 1978, Geloof deur die eeue, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Sizoo, A., s.a., Johannes Calvijn Institutie, Meinema, Delft.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sun media, Bloemfontein.         [ Links ]

Van 't Spijker, W., 1982, Goddelijk recht en kerklijke orde: Martin Bucer, Kok, Kampen.         [ Links ]

Wolf, E., 1961, Ordnung der Kirche, Klosterman, Frankfurt am Main.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Pieter Strauss
PO Box 339
Bloemfontein 9300, South Africa
Email: straussp@ufs.sc.za

Received: 29 Oct. 2013
Accepted: 17 Apr. 2013
Published: 23 July 2013

 

 

1. Vergelyk Dombois se trilogie oor Das Recht der Gnade (1969; 1974). Vir steun vir hierdie benaming, vergelyk Wolf (1961:9).
2. Elke kerklike gemeente, soos die Nederlandse munisipale gemeentes, is natuurlik plaaslik.
3. Jonker (1994:25) voer aan dat die sakramentele heilsopvatting, die hele biegen boetstelsel en die leer van verdienstelikheid soos deur die Roomse Kerk voorgestaan, gedurende die Middeleeue die evangelie vir die kerkvolk verduister het. Hierteenoor kom Luther met die klem op die verkondiging van die Woord.
4. Dit is bekend dat Calvyn self nie sy naam aan so 'n stelsel sou wou koppel nie en dat sy geesteskinders voorkeur gee aan die naam gereformeerd. Hy word ook die vader van die gereformeerde kerkreg genoem (Kleynhans 1982:79).
5. Hierdie opmerking verwys waarskynlik na die beeld van die kerk in 1 Korintiërs 12 van die kerk as die liggaam van Christus waarvan die konteks nie die veelheid van kerke in vandag se ekumeniese prentjie is nie, maar wel die erediens in die een gemeente/kerk in die destydse Korinte.
6. Hierdie kerkorde van die PKN in 2003 heet amptelik: 'Kerkorde en ordinansies van de Protestantse Kerk in Nederland inclusief de overgangsbepalingen' (vgl. Generale Synode van de Protestantse Kerk in Nederland 2003).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License