SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 número1Shifting thinking of the 2012 GKSA SynodA quantitative investigation of the influence of some demographic variables as it pertains to clergywomen índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


In die Skriflig

versão On-line ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 no.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Metateoretiese vertrekpunte ten opsigte van wetenskaplike navorsing in die Pastorale Wetenskap

 

Metatheoretical assumptions in scientific pastoral-theological research

 

 

Gert Breed

School for Ecclesiastes, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel is deel van 'n reeks oor die verrekening van die metateoretiese vertrekpunte in die wetenskap van die Praktiese Teologie. Die eerste fase van die reeks bied die teoretiese onderbou vir die werklikheids-, hermeneuties- en wetenskapsteoretiese beskouing van die vak. Die tweede fase fokus op die invloed wat hierdie vertrekpunte op die wetenskaplike navorsing van die verskillende vakgroepe in die Praktiese Teologie het. Hierdie artikel handel oor die wetenskaplike benaderingswyse tot die navorsingsveld van die Pastorale Wetenskap. In hierdie navorsingsartikel word die persoonlike metateoretiese perspektief waarmee die vakgebied van die Pastorale Wetenskap benader word, uitgespel en verantwoord ten opsigte van die volgende aspekte: die werklikheidsbeskouing waarmee daar op die navorsingsveld van die Pastorale Wetenskap gefokus word; die onderbou van die hermeneutiese beskouing wat nodig is om tot 'n verstaan te kom van die elemente in die Pastoraat en om tot 'n verantwoordbare verhouding tussen te kom van die elemente wat in die Pastoraat ter sprake is; en ten slotte, om die wetenskapsteoretiese benadering te beskryf waarmee die navorsingsveld van die Pastorale Wetenskap op 'n wetenskaplik-verantwoorde wyse ondersoek kan word.


ABSTRACT

This article is part of a series about taking into account the metatheoretical assumptions in scientific practical-theological research. The first part of this series gives the theoretical foundation for the view on reality-, hermeneutical- and scientific-theoretical approaches to the research field. The second part focuses on the effect these assumptions will have on the scientific research of the various subject groups in Practical Theology. This article describes the scientific approach to the research field of pastoral care. This research article describes the personal metatheoretical perspective from which the subject area is approached and gives account of the following: the view on reality with which the research field of Pastoral Science is studied; the foundation on which the hermeneutical viewpoint is built to attain an understanding and a founded relationship between the elements that are applicable in Pastoral Science; and, in the last instance, to describe the scientific theoretical approach to the research field in a justified manner.


 

 

Inleiding

Legitieme navorsing moet 'n afgebakende ondersoekveld hê. Hierdie onderwerp van die navorsing moet ook kenbaar wees. 'Theology is the study of God' (Horton 2011:35) soos Hy Homself in die Woord en in die werklikheid openbaar. Hierdie vertrekpunt beskryf die noodsaak van herbesinning oor die metateoretiese vertrekpunte van die wetenskaplike navorsing in die Pastorale Wetenskap (Purves 2004:xvii). Die metateoretiese vertrekpunt dat God, soos Hy Homself openbaar, die studie-objek van teologie en die Pastorale Wetenskap kan wees, sal nie algemene instemming geniet nie (Thompson 2000:29; Vitz 1994:96). Dat God kenbaar is omdat Hy Homself geopenbaar het en steeds openbaar (Bosman 2007:12), word ook nie deur alle navorsers in die Pastorale Wetenskap as 'n gegewe aanvaar nie (Hugo 2009:142; Powlison 1997:45; Verhoef 2000:241). Die vraag is of navorsing in menslike hulpverlening, wat hoofsaaklik op antropologie, kulturele antropologie, sosiologie, psigologie of die geskiedenis van hulpverlening fokus nog as navorsing in die Pastorale Wetenskap gereken kan word (Bezuidenhout 2005:3-5, 119-120; Horton 2011:35). Lotter (2001:320) beklemtoon dat daar 'n reformasie in die pastorale bediening nodig is aangesien hierdie bediening dikwels deur die psigologie opgeslurp word. Worthington (1993:271) praat selfs van 'psychologically-based religions' wat gedurende die pastoraat beoefen word met die terapeut as die 'secular priest'. Wittmer (2008:24) sê dat die Postmodernisme wat verskeie benaderings wil akkommodeer onvermydelik tot die verdringing van die Skrif as bron van waarheid lei en die veld wyd ooplaat vir willekeur in die pastoraat. Ander navorsers is oortuig dat die resultate van ondersoek in die psigologie vir die bediening in die kerk tot groot nut kan wees sonder om die unieke karakter daarvan aan te tas (Joubert 2005:142; Watts, Nye & Savage 2006:xiii-xiv).

Purves (2004:xix-xxiii) toon aan dat die huidige tendens in die pastoraat is om die Drie-enige God se betrokkenheid by die mens buite rekening te laat. Dit gee aanleiding tot heelwat mistastings in die praktyk van die pastoraat (vgl. ook Basson 2010:10). In die eerste plek word die rykdom van die bybelse leer oor die gelowige se deel-hê aan die verlossing in Jesus Christus en 'n oorwinningslewe deur die kragtige werking van die Gees, vereng tot 'n strewe na optimale selfverwesenliking van elke mens op grond van etiese voorskrifte (vgl. ook Bezuidenhout 2005:113). In die tweede plek hou navorsers in die Pastorale Wetenskakp hulle hoofsaaklik besig met die bestudering van psigologiese insigte in die menslike ervaringswêreld en emosies. Die Bybel word slegs as 'n voorbeeld van die menslike reaksie op sy leefwêreld gebruik. Die gevolg hiervan is dat die pastoraat se doel word om die mens te begelei om sin van die lewe te maak eerder as om God se waarheid te ontdek; om aanvaarbaar in die samelewing op te tree eerder as om 'n ware navolger van Christus te wees; en om tot selfaanvaarding te kom eerder as om vanuit die sekerheid van God die Vader se onvoorwaardelike liefde in Christus Jesus te leef. Gemeenskap met God en kennis van God word uitgerangeer tot 'n mite en vervang met die soeke na sin in meditasie en selfbesinning (vgl. ook Peterson 2003:3-22). In die derde plek gee 'n pragmatiese benadering daartoe aanleiding dat die navorsing met die oog op die pastorale praktyk hoofsaaklik met die vraag na funksionele effektiwiteit handel. Vanuit hierdie benadering word die klem geplaas op genesing, ondersteuning en begeleiding met die oog op die welwees van die mens. Die vraag is 'wat werk?' en nie 'wat is die wil van God vir die mens?' nie (vgl. ook Herbst 2008:112-140).

Hierdie situasie maak die besinning oor die metateoretiese vertrekpunte van die Pastorale Wetenskap as wetenskaplike studieveld noodsaaklik. Wat maak die pastorale bediening waarin die teologiese dimensie integraal verreken word, uniek in vergelyking met die oorvleuelende studievelde van die Psigologie, die Sosiologie en die Antropologie?

Hierdie artikel is deel van die tweede fase van die navorsingsprojek 'Metateoretiese vertrekpunte in die Praktiese Teologie.' In hierdie fase word die vraag ondersoek rakende die invloed van metateoretiese faktore op die praksis van vakspesifieke navorsing - in hierdie geval toegepas op die pastoraat en ook op die wetenskaplike benaderingswyse tot die navorsingsveld van die Pastorale Wetenskap.

Pastoraat word in hierdie artikel gesien as die versorgende liefde en genade wat vanuit die totale diakonia van die gemeente na die lidmaat (of persoon wat op die een of ander manier met die gemeente verbind is) vloei deur middel van die gawes wat die Gees gee (1 Pet 4:10). Pastoraat sluit die spontane onderlinge versorging van lidmate in, asook die amptelike bediening van ouderlinge, predikante en diakens. Hierdie artikel wil nie op die praktiese sy van die pastoraat ingaan soos gesprekstegnieke, luistervaardighede, vertrouensverhoudings, die onderskeid tussen pastorale versorging tydens huisbesoek en dié tydens krisisberading nie (vgl. hiervoor Doehring 2006). Die artikel wil ook nie 'n diepgaande ondersoek doen na die verskil tussen die pastoraat en die psigologie (vgl. hiervoor Crabb 1989; Peterson 2003 en Watts et al. 2006;), of die verskillende pastorale modelle of benaderings vergelyk nie (vgl. hiervoor Tidball 1997:147-223). Die artikel fokus op die grondslae waarop die wetenskaplike bestudering van die pastoraat vanuit die reformatoriese perspektief behoort plaas te vind.

 

Pastorale wetenskap en die werklikheidsbeskouing

Wanneer navorsing gedoen word oor die pastoraat het die navorser se mensbeskouing en Godsbeskouing 'n kardinale invloed op die navorsing. Dit is belangrik om die metateoretiese vertrekpunte van die navorser hieroor uit te spel (Horton 2011:36; Watts et al. 2006:267-269).

Die mens is 'n wese in gesprek

Reformatoriese navorsing gaan uit van die bybelse beskouing van die mens (MacAthur & Mack 1994:ix, 5). In die Bybel word die mens as 'n wese in gesprek geteken (Helberg 2005:285; Louw 1999:65, 68, 72). Die mens is na die beeld van God en ook as God se verteenwoordiger geskape. Dat die mens as beeld van God geskape is, veronderstel kommunikasie tussen die mens en God. God versorg die mens in sy genade en die mens antwoord deur gehoorsaamheid en deur met vreugde vanuit die genade van God te leef (Deut 28:13-14, 47). God gee aan die mens opdragte en roep die mens tot verantwoording oor die nakoming van hierdie opdragte (Gen 1-3). Die verhouding tussen die mens en God is dwarsdeur die Bybel ten nouste verbonde aan die gesproke woord: van die skepping af is God met die mens in gesprek; Hy sluit sy verbond deur met Noag, Abraham en Israel te praat. Moses ontmoet God in die tent van getuienis; die profete bring God se Woord tot sy volk en tot heidennasies; Jesus Christus is die Woord wat vlees geword het. Elkeen wat die Woord hoor en glo, sal gered word (vgl. die gesaghebbende werk van Firet 1974:25-54). Elke mens is met God in gesprek, veral wanneer daar probleme of trauma in hulle lewe is waarmee hulle na die berader kom. Selfs die ateïs kan in sy pyn en benoudheid God aanroep of vir homself daarin bevestiging vind dat God nie bestaan nie. Dit beteken egter dat hy wel die moontlikheid kon oorweeg en met God in gesprek kon tree, al was dit onbewustelik. Die wese van sonde is ontrou aan die Woord van God, waarmee die verhouding met God in gedrang gebring word (Hill & Mullen 2001:168).

Die mens is ook met die skepping in gesprek. Onder skepping word alle geskape dinge verstaan asook elke gebeurtenis in die loop van die lewe. Adam moes met die diere in gesprek tree om vir hulle name te gee. Die boom van kennis van goed en kwaad dra 'n bepaalde betekenis aan Eva oor vanweë God se woorde; na haar gesprek met Satan kom sy tot 'n ander oortuiging aangaande die boom en die boodskap wat die boom nou inhou is dat dit begeerlik is om van te eet (Gen 1-3). Na die verkragting van Tamar deur haar halfbroer Amnon (2 Sam 13) was Tamar 'n wrak (1983 AV) en het sy haar afgesonder in Absalom se huis. Die trauma van die verkragting het 'n boodskap aan haar oorgedra wat haar tot die oortuiging gebring het dat sy nie meer normaal met haar lewe sal kan aangaan nie (vgl. Ganzevoort 2008; Van der Schaaf & Dreyer 2004:1131).

Die mens is ook met sy medemens in gesprek. Wanneer Kain se offer nie deur God aanvaar word nie, is hy vir Abel kwaad. In sy gedagtes tree hy met hierdie teleurstelling in gesprek, ook met God en sekerlik ook met Abel. Hierdie gesprek maak hom bedruk en bring hom tot die oortuiging dat hy Abel moet doodmaak (Gen 4).

Tydens die mens se gesprek met God, die skepping, en sy medemens, is die mens ook met homself in gesprek (Müller 1996:135). Wanneer Natan vir Dawid konfronteer met sy sonde, begelei die profeet hom tot 'n gesprek met sy eie optrede, maar ook tot 'n gesprek met homself. Hy word ook tot 'n gesprek met God begelei en leer van God se kant wat die gevolge van sy sonde vir hom en sy gesin gaan wees. Dawid tree onmiddellik in 'n intense gesprek met God (2 Sam 12; vgl. ook die selfgesprek in Ps 42, 73; Klaagl 3; Hab 3).

Die narratiewe benadering in die pastoraat sluit hierby aan deur die verhaal van die mens se lewe by die hulpverlening te betrek. Elke mens is die produk van dit wat met hom gebeur het en sy reaksie daarop asook die oortuigings wat hy op grond daarvan gevorm het (Ganzevoort 2006:3). Hierdie oortuigings moet in die lig van die Woord beskou en verander word indien dit nodig blyk (Camery-Hoggat 2006:468).

Wanneer navorsing oor die pastoraat gedoen word, is dit noodsaaklik dat die werklikheid van hierdie gesprek in berekening gebring word. Tydens pastorale berading tree die pastor tot hierdie gesprek toe; hy moet deur die beradene tot hierdie gesprek toegelaat word (Hill & Mullen 2001:173). Hoe meer insig die pastor in hierdie gesprek van die beradene kry, hoe beter kan die begeleiding gedoen word. Wanneer die pastor tot die gesprek toegetree het, moet hy ook die gesprek stimuleer en in die regte rigting stuur. Deur die Woord saam met die persoon wat pastoraal begelei word, te bestudeer en na die toepassing daarvan op die nood te soek, word God doelbewus deel van die gesprek gemaak. Hierdie gesprek loop uit op die gebed as antwoord op die Woord en as voortsetting van die gesprek (Kylstra 2006:15; Styger & Human 2005:258; Thiessen 2006:209).

Navorsing oor die aard van hierdie gesprek en die wyse waarop die pastor tot hierdie gesprek kan toetree en die gesprek kan lei, is 'n noodsaaklike deel van pastorale navorsing. Die aangrensende navorsingsveld van Kommunikasiekunde kan hier nuttige ondersteunende navorsingstof bied.

Die mens is 'n onvolmaakte wese wat deur God nuut gemaak kan word

Die Bybel teken die mens as 'n wese wat volmaak geskape is, maar wat deur die sonde sy volmaaktheid verloor het en daarom 'n sondige wese geword het. Reeds in die eerste hoofstukke van die Bybel, word die mens na die sondeval geteken waar hulle mekaar beskuldig, doodmaak en so korrup raak dat God byna alle lewe uitwis deur 'n vloed (Gen 3-6). Dwarsdeur die Bybel word die mens aan ons voorgestel as iemand wat nie aan sy skeppingsdoel beantwoord nie (Horton 2011:24). Hierdie toestand word op verskeie wyses beskryf om die ingrypende verandering te beskryf wat in die mens se lewe plaasgevind het. In Efesiërs 2 word gesê dat die mens dood is in sy sonde, dat hy in die mag van die owerste van die bose magte is en dat hy 'n slaaf van sy eie begeertes geword het. In Romeine 1 word dit gestel dat die mens in sy dwaasheid in sy verstand verduister geraak het sodat hy die heerlikheid van God nie kan sien nie (Jordaan 2003:630, 636).

Die Bybel openbaar egter ook die moontlikheid dat die mens 'n nuwe lewe kan ontvang deur die wedergeboorte wat die Heilige Gees bewerk. Weereens word hierdie gebeurtenis met beelde beskryf wat die ingrypendheid daarvan duidelik maak. In Esegiël 11 en 36 word gesê dat God die hart van klip uit sy volk sal verwyder en hulle 'n hart van vlees en 'n nuwe gees sal gee. In 2 Korintiërs 4:6 word dit wat God in die mens tot stand bring, in verband gebring met God se skeppingswoorde, 'Laat daar lig wees'. Die wedergeboorte is 'n herskepping van die mens. Die gevolge van die wedergeboorte word beskryf as dat die mens deur God uit die mag van die duisternis oorgebring is na die ryk van sy Seun Jesus Christus (Kol 1:13). Met die wedergeboorte word die mens met die Heilige Gees gesalf en verseël (Ef 1; Horton 2011:551-586). Omdat diegene wat nuut gemaak is die Gees in hulle het, kan hulle die geheimenisse van God begryp en kan hulle alle dinge beoordeel (1 Kor 2; 1 Joh 2:27; Brueggemann 1997:71).

Navorsing oor berading wat op die Woord geskoei is, sal as vertrekpunt neem dat daar mense is wat nie in die pastoraat gehelp kan word nie; iemand wat nie wedergebore is nie, is nie in staat om te begryp wat die waarheid uit God se Woord is nie en is ook nie in staat om te doen wat die Woord beveel nie (Crabb 2000:32, 2003:194; Jobes 2005:123-124; Mac Intyre 2008:9-10). Aan iemand wat nie glo nie, sal die evangelie eers gebring moet word om sodoende 'n persoon tot die geloof te begelei, voordat ware pastorale begeleiding kan plaasvind. Aan die ander kant kan van die veronderstelling uitgegaan word dat mense wat in Christus glo, in staat is om die sonde in hulle lewens te oorwin en in volwassenheid te groei om meer en meer die vrug van die Gees te dra, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Hier op aarde sal die mens nooit volmaaktheid bereik nie, maar oorwinning, vergenoegdheid en vrede is wel moontlik (1 Joh 1; Ef 6; Fil 4) vanuit 'n herstelde verhouding met God (Naidoo 2006:140).

Verandering in die mens hang ten nouste saam met die mens se gedagtes en oortuigings

Die Bybel gebruik die begrip hart om die diepste oortuigings en gesindheid van die mens te beskryf. Die mens kan in sy hart dink (Gen 6:5; Deut 8:17; Luk 2:19); en die hart is ook die plek waar 'n mens moed skep (Gen 50:21) of moedeloos raak (Gen 45:26); 'n mens kan jou hart verhard om sodoende nie van iets oortuig te wil raak nie (Eks 7:13); jou hart kan ook met 'n sluier bedek wees sodat jy nie die evangelie verstaan nie (2 Kor 3:15). 'n Mens se hart en jou woorde kan mekaar weerspreek (Jes 29:13) en dit wat jy sê, kom uit die oorvloed van jou hart (Luk 6:45). Uit hierdie paar voorbeelde is die bybelse beeld van die mens duidelik, naamlik dat dade voortvloei uit die oortuigings van die hart (Tripp & Tripp 2008; Joubert 2005:95).

Die Griekse woord 'nous' dra ook dikwels dieselfde betekenis as die woord hart. Louw en Nida (1988:325) dui aan dat een van die betekenisvelde van hierdie woord 'the psychological faculty of understanding, reasoning, thinking and deciding-"mind"' is. Volgens Romeine 12:2 vind verandering in die mens se lewenswyse plaas deurdat sy oortuigings ('nous', intellek, begrip, gedagtes) vernuwe word. Volgens Efesiërs 4:22-24 vind die verandering van die ou mens na die nuwe mens plaas deur die vernuwing van die mens se oortuigings ('nous'). Die mens aan wie die Gees die geheimenisse van God se wil openbaar, het die 'nous' (insig, wysheid) van Christus. Verskeie skrywers, ook vanuit die vakgebied van die Psigologie, bou hulle terapeutiese modelle (bv. kognitiewe terapie) op die verandering van die mens se oortuigings as die weg tot heling (Anderson 1995; Joubert 2005:61-62; Moreland 1997; Leaf 2007; Osborn 2008; Schlebusch 2000; Thurman 1999).

In die Nuwe Testament word die werkwoord 'froneo' gebruik om die oortuiging uit te druk waaruit 'n bepaalde optrede voortvloei. Louw en Nida (1988) gee een van die betekenisvelde van hierdie woord aan as 'to hold a view, to have an opinion, to consider, to regard'. In Matteus 16:23 en Markus 8:33 word verhaal hoe Jesus, nadat Petrus Hom bestraf het omdat Hy gesê het dat Hy moet ly en sterf, vir Petrus sê dat hy vir Hom 'n struikelblok is omdat hy nie die dinge van God bedink (froneo) nie, maar die dinge van die mens. In Romeine 14:6 word froneo in die betekenis van beoordeling gebruik: die teks sê dat elke mens 'n bepaalde oortuiging oor sekere gebruike het en dat hy volgens daardie oortuiging byvoorbeeld 'n bepaalde feesdag beoordeel (froneo) en daaruit voortvloeiend dit onderhou of nie. Dikwels word die oortuiging (froneo) in die lede van 'n gemeente ook gekoppel aan hulle onderlinge eenheid. Hierdie eenheid vloei daaruit voort dat almal se oortuiging (froneo) deur Christus bepaal word (Rom 15:5; Fil 2:2, 5). Die mense wat saam met Christus uit die dood opgestaan het, moet hulle gedagtes rig (froneo) op die dinge wat van God kom (Kol 3:2) en moet die sondige dinge uit hulle lewens weer (Kol 3:5-10) en nuut begin leef (Kol 3:11-25). Geloof speel hierin die beslissende rol om, gebou op die heilsgebeure van die verlede en vooruitskouend na die beloofde heil, in die hede op te tree (Van der Walt 2004:75-76).

Navorsing in die Pastorale Wetenskap vanuit 'n reformatoriese perspektief sal dus ook op die verhouding tussen die mens se denke, sy emosies en sy dade moet fokus. Die wedergebore mens se vermoë om in die krag van die Gees nuwe oortuigings vanuit die Woord van God te vorm en om daarvolgens te begin lewe en so te breek met die emosies en optrede wat probleme veroorsaak, is 'n integrale deel van die reformatoriese benadering tot die pastoraat. Die pastoraat van kognitiewe terapie en gedragsterapie verskil daarin dat die beradene nie slegs aangemoedig word om sy oortuigings en gedrag ter wille van sy eie welwese te verander nie (Schlebusch 2000:3-10), maar ter wille daarvan dat hy God verheerlik (Thurman 1999:203-228).

Verandering in die mens se gedagtes en optrede vloei voort uit sy kennis van God

In die gereformeerde pastoraat staan die Woord van God sentraal. In die Woord openbaar God Homself aan die mens. Die wese van die Woord is dus die Persoon van die Drie-enige God. Jesus sê van Homself dat Hy 'die weg, die waarheid en die lewe' (Joh 14:6) is. In Johannes 8:31-58 word Jesus se verkondiging van die pad na vryheid weergegee. Iemand wat aan Jesus se woorde getrou bly, is sy dissipel en so 'n dissipel sal die waarheid ken en die waarheid sal hom vry maak (Joh 8:31). Teenoor die waarheid wat Jesus verkondig, staan die leuen van Satan. Wie die waarheid misken, het Satan as vader en doen die wil van hulle vader omdat hulle volgens sy leuens lewe (Joh 8:44). Hierdie leuens laat hulle sondig en die sonde maak van hulle slawe (Joh 8:31-36; Backus 1985:19-22; Coetzee 2010:39; Kinghorn 1990:314; Ridderbos 1997:308-313). Dit wat Jakobus oor die Woord skryf, sluit hierby aan (Jak 1:19-27). Jakobus roep sy lesers op om nie net die Woord te hoor nie, maar dit ook te doen. In vers 25 noem hy die Woord 'die volmaakte wet wat 'n mens vry maak'. Barclay (2003:65) sê dat hierdie wet Jesus se lewe en woorde is, saam met die tien gebooie, die wet van liefde wat die mens lei om hom aan sy skeppingsdoel te laat beantwoord en hom daarom vry maak en vreugde in sy lewe bring (Joh 8:25). In 2 Petrus 1:1-4 word genade en vrede in die mens se lewe en sy vermoë om te lewe en God te dien, direk aan die kennis van God verbind. Hierdie kennis lei ook daartoe dat die gelowige God se heerlike beloftes ontvang (Joh 8:4) en daaruit kan lewe sodat hulle die verderf van die sonde kan ontvlug en deel kry aan die goddelike natuur wat duidelik word in die vrug van die Gees (Barclay 2003:340341). De Wet (2011:13-26) noem die leer oor die goddelike ekonomie van die Vader, Seun en Heilige Gees die drie ankerpunte van die pastoraat.

Die belangrike rol van die kennis van God het direkte implikasies vir die pastoraat. Pastorale hulp sal definitief die onderrig in en die herinnering aan die kennis van die Drie-enige God insluit. Die betekenis van die liefde van die Vader, die genade van Jesus Christus en die gemeenskap van die Gees sal konkreet op die beradene se lewe toegepas moet word sodat dit die fondament kan vorm van waaruit verandering kan plaasvind. Hiermee word die erediens en besonderlik die prediking as instrument aangedui waardeur die pastoraat kan plaasvind. Dit geld ook elke ander plek in die bediening van die kerk waar die Woord van God verkondig of onderrig word (Purves 2004:160-174). Die waarheid wat vry maak, is in die selfopenbaring van God geleë. Daarom sê Jesus dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is (Joh 14:6); dat Hy die lig vir die mense is (Joh 8:12); dat Hy die brood van die lewe is (Joh 6:35, 48); en dat Hy die water van die lewe kan gee (Joh 4:10; Op 21:6).

 

Verrekening van metateoretiese aspekte rakende 'n hermeneutiese benadering tot die pastorale wetenskap

In prakties-teologiese navorsing moet die probleem of geleentheid wat ter sprake is, verstaan word; die bybelse beginsels wat op die situasie van toepassing is, moet ontgin word; en daar moet tot 'n moontlike oplossing vir die probleem gekom word. Wanneer navorsing oor pastorale berading gedoen word, is dit belangrik dat die navorser homself verantwoord oor die navorsingsvertrekpunte in hierdie hermeneutiese proses. Die volgende kan dien as hermeneutiese vertrekpunte in die reformatoriese navorsing oor gemeentebediening.

Die skeppingsdoel van die mens bepaal die doel van die navorsing

Wanneer die navorser in pastorale bediening na die Woord en die werklikheid gaan om na 'n oplossing vir 'n bepaalde probleem te soek, of om na die verbetering van bestaande teorieë en die praksis te soek, word die navorsingsvraag altyd medebepaal deur die soeke daarna om die mens te begelei om aan sy skeppingsdoel te beantwoord. Die mens is geskape as beeld van God en as sy verteenwoordiger om God te verheerlik.

Die mens verheerlik God wanneer die nuutgemaakte mens:

 al meer en meer die heerlike eienskappe vertoon wat hy gehad het voor die sondeval (2 Pet 1)

 binne die verbond in die noue liefdes- en vertrouens-verhouding met God leef (Gal 3)

 Hom met sy mond bely, Hom loof en prys vir wie Hy is en wat Hy doen (Rom 10:9-10)

 God steeds beter leer ken en groeiend die heiligheid en heerlikheid van Christus uitstraal (2 Kor 3:17-18)

 sy naaste liefhet soos homself en hulle bedien met die dienswerk (diakonia) waarvoor Christus na aarde gestuur is en al sy volgelinge ook gestuur het (Mark 10:42-45)

 doelbewus die evangelie van Christus uitdra na diegene wat God nog nie (reg) ken nie (Matt 28:19-20)

 vol van die Heilige Gees sy gawes tot opbou van die liggaam van Christus (1 Kor 12) gebruik.

Die inligting word dus geïnterpreteer vanuit die oortuiging dat die mens wat groeiend aan sy skeppingsdoel beantwoord, ook as gebalanseerde mens met vrede en vreugde in alle fasette van sy lewe sal kan leef.

Verskeie werklikhede speel 'n rol in die hermeneutiese proses

 Die Woord van God is die openbaring van die waarheid vir die lewe. Die Bybel is die Woord van God waarin Hy Homself, in Christus deur die werk van die Gees, aan die mens openbaar en die mens aan homself openbaar (Heb 1:1-4). Die Bybel is ook die wysheid van God, die volle waarheid waarin die Gees die gelowiges so lei (Joh 16:13) dat hulle daardeur alle kennis ontvang wat nodig is om te lewe en God te dien (2 Pet 1:1-4). Die Woord is deur God geïnspireer en gegee met die doel om die mens in die waarheid waarvolgens hy moet lewe, te onderrig om hom teen dwaling te bewaar, maar wanneer hy gedwaal het (probleme ontwikkel), hom weer op die pad van die lewe te bring en om deur volharding die regte lewenswyse by die gelowige te vestig (2 Tim 3:16). Die pastoraat vind in die Woord riglyne waarmee gelowiges tot insig, genesing, omkeer, vernuwing en groei begele kan word (Grobler 2005:146-172).

 God is met 'n onkeerbare proses in sy uitverkorenes se lewens besig. Volgens Romeine 8:28-30 roep God mense volgens sy besluit. Hierdie mense het Hy bestem om aan die beeld van sy Seun gelykvormig te wees. Diegene wat Hy daarvoor bestem het, roep Hy, dié wat Hy roep, spreek Hy vry en verheerlik hulle. Die pastor word deel van hierdie proses in die pastoraat, aangesien God die lyding wat oor die gelowige kom, gebruik om hom in sy geloof te laat groei (Heb 12; Jak 1:2-4). Tydens die hermeneutiese proses van die navorsing moet die vraag na God se onkeerbare op-weg-wees met die mens, 'n belangrike sleutel tot insig wees (Osborn 2008:145-157). Uiteindelik word die gelowige in nood na die Herder begelei om die barmhartigheid en genade te beleef wat Hy uit vrye guns skenk aan elkeen wat Hom soek.

 God is die geopenbaarde en tog onbegryplike God. Die soewereiniteit van God is 'n kernwaarheid waarop die gereformeerde pastoraat gebou is (Bezuidenhout 2005:16, 31; Lotter 2001:322; Mohler 2000:2). Die navorser wat nie die verhouding tussen die mens se begrip en onbegrip van God, sy optrede en sy openbaring, in ag neem nie, sal nie by God se antwoord op die navorsingsvraag uitkom nie. Vrae wat tydens die pastoraat soms akuut in die beradene se gemoed leef, kan nie met blote logika verduidelik word nie, of kan dalk glad nie beantwoord word nie (Louw & Müller 2002). Die Bybel trek verskillende lyne langs mekaar, waarvan dit soms duidelik is dat hierdie twee lyne alles met mekaar te doen het; maar hoe dit bymekaar kom, is vir die mens dikwels onbegryplik. Om 'n paar voorbeelde te noem: God kies uit, Hy skenk die wedergeboorte en die geloof (Ef 2:1-10), Hy skenk sy Gees aan die mens om hom te laat volhard (Ef 1:13-14), Jesus verseker die gelowige dat niks hulle uit sy hand sal ruk nie en dat hulle nooit verlore sal gaan nie (Joh 10:28-29). Dit is die een lyn. Die lyn wat onverklaarbaar hiernaas getrek word, is die lyn van die mens se verantwoordelikheid. Die mens moet glo om gered te word; die mens kan Jesus aanneem of verwerp (Joh 1:11-12); net sekere mense is uitverkies en tog word baie geroep (Matt 22:14) en niemand wat na Jesus kom, sal verwerp word nie. God haat die sonde, onreg en geweld, tog stop Hy dit nie en Hy gebruik selfs die goddeloses en hulle geweld in sy diens (Hab 1). God verseker sy kinders dat Hy hulle nie 'n slang sal gee as hulle 'n vis vra nie en dat Hy vir hulle sal gee wat hulle vra as hulle dit in die geloof vra (Matt 7:7-11). Tog ontvang sy kinders soms dinge wat na slange en skerpioene lyk en hulle ontvang dikwels nie wat hulle vra nie (2 Kor 12:7-9). In die navorsing oor die pastoraat sal die navorser dikwels bloot aan die geopenbaarde waarheid moet vashou sonder om alles in die lig daarvan te kan verklaar of logies te kan verduidelik. Die metafore (Joh 10, 14) in die Bybel waaruit iets van God se liefde en innige meelewing (Fil 2) duidelik word, staan daarom in die sentrum van die hermeneutiek van die Pastorale Wetenskap (Brueggemann 1997:231; Louw 1999:7; Louw & Müller 2002:343). Dieselfde geld ook vir God se openbaring in sy handeling met mense wat opgeteken is in die historiese stof en die mens se reaksie wat onder andere in die poëtiese en profetiese literatuur van die Bybel opgeteken is.

 Die Heilige Gees alleen kan sowel die pastor as die beradene in die volle waarheid lei (Joh 16:13; 1 Kor 2). Sonder die openbarende en troosryke werk van die Gees deur die Woord, is dit nie moontlik om genesende perspektief op die probleem te verkry nie (Anderson 1995:64; Jordaan 2003). Hierdie vertrekpunt oor die openbaring staan direk teenoor die oortuiging dat openbaring hoofsaaklik te doen het met menslike herinnering, verbeelding en nadenke (vgl. Van Huyssteen 2006; Veldsman 2009), of dat die mens die hoogste outoriteit in sy eie verhaal (narratief) is en dat die Woord as die absolute waarheid in die pastoraat onbelangrik is (Milner & O'Byrne 2002:10).

 Die integrasie van intellektuele kennis (kennis van die Woord) sodat dit 'n nuwe perspektief (God se perspektief) op die werklikheid skep, vrede bring en die mens in staat stel om nuut te dink en te leef ondanks onveranderde pynlike omstandigheid, is 'n geskenk van God (Fil 4:7). Dit berus op die feit dat God se nabyheid vir die persoon wat pastoraal begelei word, 'n werklikheid word (Fil 4:4, 9; Van der Walt 2004:36, 75-76). Hierdie benadering staan in kontras met die modernistiese klem op die wete wat alleen op bewese feite berus en die ontmitologisering van die Bybel versoek voordat dit effektief in mense se lewe kan wees (Van der Walt 2004:155-156).

 Hoop speel 'n kardinale rol in enige berading. Om verandering in jou eie lewe aan te bring, is meestal 'n langsame en uiters moeilike taak wat volharding verg. Indien die beradene nie 'n vaste hoop het dat al die moeite nie vergeefs gaan wees nie, sal hy nie kan volhard nie. Bybelse berading se vertrekpunt is die oorwinning van Jesus Christus wat deur die geloof deel word van die gelowige se lewe en wat deur die Heilige Gees in die gelowige se lewe verwerklik word (Carson 2010:75-76). Hierdie verwerkliking vind plaas deurdat die Gees die gelowige lei om meer en meer volgens die waarheid van die Woord te lewe en meer en meer met oortuigings te breek wat op leuens gebou is. Die voltooidheid van die verlossing, wat oorwinning oor die mag van die sonde insluit, oortuig die gelowige dat hy in Christus reeds regverdig, heilig en 'n oorwinnaar voor God is. Die grond van sy hoop is dat hy nou slegs moet word wat hy reeds in Christus is. Dit is die volharding in afwagting wat in 'n maratonatleet leef wat die versekering ontvang het dat hy die wedloop gaan voltooi. Hoe moeg hy ook al word, hy kan volhard, want sukses is gewaarborg (Thompson 2006:150-152). Hierdie vertrekpunt van die bybelse pastoraat word onder andere uit Efesiërs 6:10-18 duidelik. Hier word die wyse beskryf waarop die gelowige in die worsteling met die bose kan volhard en die oorwinning oor die bose kan behaal. Die gelowige moet sy krag in die Here en in sy groot mag soek (Ef 6:10). Daarvoor moet hy God se wapenrusting aantrek sodat hy staande kan bly teen die aanslag van die bose. Wanneer die wapenrusting beskryf word, is dit duidelik dat die gelowige die geveg kan wen deur die heilswaarhede van die verlossing in Christus te omhels (aan te trek). Die wapens is die waarheid wat ten diepste Christus is, die vryspraak in Christus, die verlossing in Christus, die bereidheid om die evangelie van Christus te verkondig en die geloof waarmee hierdie verlossing verwerklik word (vgl. Horton 2011:688-689, 735-736; Williamson 2009:189-199).

 

Verrekening van metateoretiese aspekte rakende 'n wetenskapsteoretiese benadering tot die pastoraat

Uit die voorafgaande navorsingsresultate kan nou tot 'n eie definisie van die Pastorale Wetenskap gekom word. 'n Wetenskaplike omgaan met die werklikheid van die pastoraat sou die volgende definisie as vertrekpunt kon neem:

Pastorale Wetenskap is die wetenskaplike studie van die Woord van God, die mens, die werklikheid en ander toepaslike vakdissiplines, met die oog op die ontginning van bybelse beginsels, die ontwerp en toepassing van 'n pastorale model met die doel om gelowiges, deur die kragtige werk van die Gees, te begelei tot dieper kennis van God en hulleself, tot geloofsgroei wat hulle in staat kan stel om die krisisse van die lewe met vrede te hanteer tot eer van God en tot verdere geloofsgroei, binne die gemeenskap van die heiliges.

Met hierdie definisie word gepoog om die volgende aan te dui:

 Die Woord van God is die primêre bron van studie van die Pastorale Wetenskap. Sowel die gerigtheid as die inhoud van die pastorale gesprek word deur die Woord bepaal.

 Die pastoraat word deur bybelse beginsels bepaal.

 God is die handelende persoon in die pastoraat. Die vraag van die berader moet wees: 'Wat wil die Gees doen in hierdie persoon se lewe wat Hy vir berading na my gestuur het'? Die Gees van God bepaal die agenda, die verloop en die afloop van die pastorale gesprek. Die Pastorale Wetenskap se studieveld sluit dus die studie van die werking van die Gees in.

 Die studie van die mens, die werklikheid en ander vakdissiplines is gemik op die ontginning van bybelse beginsels vir die bediening van die mens.

 Navorsing behoort 'n pastorale model daar te stel. Die pastoraat moet mense begelei tot die ontdekking van die heerlike waarheid van God Drie-enig in hulle lewe teenoor die leuen wat verslaaf en die dood bring. Pastorale werk behoort gestruktureerd volgens hierdie model aangepak te word en is nie 'n ongestruktureerde troosgesprek nie.

 Die primêre doel van die Pastorale Wetenskap is nie studie met die oog op die welwees van die mens nie, maar kennis- en geloofsgroei wat hulle verhouding met God sal verdiep en verinnig en waaruit vrede in alle omstandigheid kan voortvloei.

 Krisisse sal steeds deel van die gelowige se lewe bly, maar hulle sal dit deur die werk van die Gees en die waarheid van die Woord kan hanteer sodat daar telkens weer vrede in hulle lewe sal kom. Trauma, depressie, kommunikasie en alle onderwerpe wat krisisse in die mens se lewe kan veroorsaak, maak deel uit van die studieveld van die Pastorale Wetenskap. Hierin word aansluiting gevind by ander vakdissiplines soos die Sielkunde, Kommunikasiekunde, Sosiologie en Opvoedkunde.

 Pastorale Wetenskap bestudeer ook die voorkomende (toerustende) pastorale werk wat tot geloofsgroei lei.

 Die eer van God behoort die hoogste doel van die pastoraat en pastorale navorsing te wees en die mens se welwees, geloofsgroei, vrede en vreugde moet met die oog op hierdie hoogste doel gesoek word.

 Die pastoraat is nie bloot gemik op die oplossing van lewenskrisisse nie, maar sien die krisis as 'n geleentheid wat die Gees skep om gelowiges te laat groei in hulle verhouding met God en om ongelowiges tot geloof te begelei.

 Navorsing in die Pastorale Wetenskakp ontgin die kennis van ander toepaslike vakdissiplines as openbaring van God in die skepping, toets dit aan die openbaring in die Woord en integreer dit paslik (vgl. Joubert 2005).

 Navorsing in die Pastorale Wetenskap is deel van navorsing oor gemeentebediening. Die pastoraat is deel van die diakonia van die hele gemeente aan mekaar, want as die een lid ly, ly al die ander lede saam, en as die een lid bly is, is al die ander saam bly (1 Kor 12).

 Die studie van die kommunikasiegebeure in die pastoraat oorvleuel met die studievelde van die Homiletiek en die Kategetiek in hierdie verband.

Die navorser behoort die uitgangspunte waarmee na die navorsing gekom word, duidelik vir homself en sy lesers uit te spel en dit voortdurend aan die Skrif en die belydenisskrifte van die kerk te toets en deur medegelowiges en ander navorsers te laat toets.

 

Slot

Die metateoretiese vertrekpunte van die navorser bepaal die primêre objek en metodiek van die navorsing. (In die geval van reformatoriese navorsing in die Pastorale Wetenskap is dit die Godsopenbaring in die Skrif.) Dit bepaal ook die verhouding tussen die navorsingsresultate uit die studie van die primêre navorsingsveld en die navorsingsresultate van oorvleuelende studievelde. Die werklikheidsbeskouing van die navorser bepaal sy benadering tot die hermeneuse en die hermeneutiese vertrekpunte en die resultate het 'n bepalende invloed op die wetenskaplike benadering tot die navorsing.

'n Navorser wat sy metateoretiese vertrekpunte uitspel, word daardeur gelei om aan sy oortuigings getrou te bly en dit bewaar hom van willekeur. Dit bring die lesers ook in die prentjie en gee hulle riglyne vir die hermeneutiese proses waarmee hulle in die bestudering van sy navorsing besig is.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anderson, N.T., 1995, Helping others finding freedom in Christ: Connecting people to God through discipleship counseling, Regal Books, Ventura, CA.         [ Links ]

Backus, W., 1985, Telling the truth to troubled people: A manual for Christian counselors, Bethany House Publishers, Bloomington, MN.         [ Links ]

Barclay, W., 2003, The letters of James and Peter, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Basson, S.W., 2010, 'Model vir die gebruik van bybelse narratiewe in die pastoraat aan kinders tussen die ouderdom van 6-13 jaar', PhD proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Bezuidenhout, A.P., 2005, 'Die klaarblykllke onversoenlikheid tussen die gereformeerde pastoraat en die moderne sekulêre psigologie: 'n Prakties-teologiese studie', ThM verhandeling, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Bosman, J., 2007, 'Vooronderstellings by die beradene', ThD proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Brueggemann, W., 1997, Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy, Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Camery-Hoggat, J., 2006, 'God in the plot: Storytelling and the many-sided truth of the Christian faith', Christian Scholars Review 35(4), 461-470.         [ Links ]

Carson, D.A., 2010, The God Who is there: Finding your place in God's story, Baker Books, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Coetzee, C.F.C., 2010, 'Belydenisgebondenheid in 'n postmoderne era', In die Skriflig/ In Luce Verbi44(1), 27-15. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v44i1.135        [ Links ]

Crabb, L., 1989, Basic principles of biblical counseling: Showing care through the local church, Courier International, Tiptree.         [ Links ]

Crabb, L., 2000, Finding God, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Crabb, L., 2003, Soul talk, the language God longs for us to speak, Integrity Publishers, Nashville, TN.         [ Links ]

De Wet, F.W., 2011, Pastoraal: Bybelse berading, Studiegids vir Past 121, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. PMCid:3039341        [ Links ]

Doehring, C., 2006, The practice of pastoral care: A postmodern approach, 1st edn., Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Firet, J., 1974, Het agogisch moment in het pastoraal optreden, Kok, Kampen.         [ Links ]

Ganzevoort, R.R., 2006, 'The social construction of revelation', International Journal of Practical Theology 8(2),1-14. http://dx.doi.org/10.1515/IJPT.2006.003        [ Links ]

Ganzevoort, R.R, 2008, 'Scars and stigmata: Trauma, identity and theology', Practical Theology 1(1), 19-31. http://dx.doi.org/10.1558/prth.v1i1.19        [ Links ]

Grobler, L., 2005, 'Hulpverlening aan die gemolesteerde kind met behulp van spelterapie - 'n pastorale studie', ThM verhandeling, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit. PMCid:1087645        [ Links ]

Helberg, J.L., 2005, 'Kyk, beleef of luister? Spiritualiteit in die Psalms in die lig van Psalm 1 en 2', In die Skriflig/In Luce Verbi 39(2), 273-292. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v39i2.385        [ Links ]

Herbst, C., 2008, 'Die pastorale begeleiding van persone wat emosioneel verwond is', ThM verhandeling, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Hill, E.W. & Mullen, P.M., 2001, 'Revisiting the process theology of Daniel Day Williams with implications for pastoral care', Journal of Pastoral Care 55(2), 167-179. PMid:11436494        [ Links ]

Horton, M., 2011, The Christian faith: A systematic theology for pilgrims on the way, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Hugo, C.J., 2009, 'The challenge of postmodernity for church ministry: A practical theological view', Practical Theology in South Africa 24(2), 141-160.         [ Links ]

Jobes, K.H., 2005, 1 Peter, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Baker exegetical commentary on the New Testament.         [ Links ])

Jordaan, G.J.C., 2003, 'Romeine 1:18-25 binne die openbaringshistoriese raamwerk van die Skrifgetuienis aangaande God se openbaring', In die Skriflig/In Luce Verbi 37(4), 617-641. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v37i4.486        [ Links ]

Joubert, P., 2005, 'Trichotomous therapy: A proposed pastoral paradigm', PhD thesis, Faculty of Theology, North-West University.         [ Links ]

Kinghorn, J., 1990, 'John 8:32 - the freedom of truth', International Review of Mission 79(315), 314-319.         [ Links ]

Kylstra, C. & B., 2006, Biblical healing and deliverance, Chosen Books, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Leaf, C., 2007, Who switched off my brain? Toxic thoughts, emotions & bodies: You can learn to control your thought life, Fishwicks, Randburg. PMCid:2083301        [ Links ]

Lotter, G.A., 2001, 'The "reformation" of counselling', In die Skriflig/In Luce Verbi 35(2), 317-329. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v35i2.562        [ Links ]

Louw, D.J., 1999, A mature faith spiritual direction and anthropology in a theology of pastoral care and counseling, Peeters, Leuven.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, Vol. 1, United Bible societies, New York, NY.         [ Links ]

Louw, N.A. & Muller, J.C., 2002, 'Om verbeeldingryk te lewe: Verbeelding in die pastorale narratiewe terapie en die teologie van Walter Brueggemann', Hervormde Teologiese Studies 58(1), 340-354. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v58i1.546        [ Links ]

Mac Intyre, S.M., 2008, 'Pastorale begeleiding aan adolessente wat ly onder prestasiedruk', MA verhandeling, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

MacArthur, J.F. & Mack, W.A., 1994, Introduction to biblical counselling: A basic guide to the principles and practice of counselling, Word Publishing, Dallas, TX. PMCid:2362454        [ Links ]

Mohler, R.A., 2000, 'The reformation of doctrine and the renewal of the church: A response to Dr William R. Estep', viewed 24 October 2010, from http://www.reformedreader.org/rdrc.htm        [ Links ]

Moreland, J.P., 1997, Love God with all your mind: The role of reason in the life of the soul, Navpress, Colorado Springs, CO.         [ Links ]

Milner, J. & O'Byrne, P., 2002, Brief counselling, narratives and solutions, Palgrave, New York, NY.         [ Links ]

Muller, J., 1996, Om tot verhaal te kom: Pastorale gesinsterapie, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.         [ Links ]

Naidoo, M., 2006, 'The healing work of spiritual direction', Practical Theology in South Africa 21(3), 139-154.         [ Links ]

Osborn, I., 2008, Can Christianity cure obsessive-compulsive disorder? A psychiatrist explores the role of faith in treatment, Brazoss Press, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Peterson, G.R., 2003, Minding God: Theology and the cognitive sciences, Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Powlison, D.A., 1997, Power encounters, reclaiming spiritual warfare, Baker, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Purves, A., 2004, Reconstructing pastoral theology: A Christological foundation, Westminister John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Ridderbos, H.N., 1997, The Gospel according to John: A theological commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Schlebusch, L., 2000, Mind shift, stress management and your health, University of Natal Press, Pietermaritzburg.         [ Links ]

Styger, P. & Human, D., 2005, 'Om die Psalms biddend te sing of singend te bid', In die Skriflig/In luce Verbi 39(2), 255-271. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v39i2.384        [ Links ]

Thiessen, W., 2006, 'Inviting God into our stories: A social constructionist description of inner healing prayer', Praktiese Teologie in Suid Afrika 21(3), 207-223.         [ Links ]

Thompson, G.G., 2000, 'Proclaiming the gospel to postmodernists', PhD thesis, Faculty of Theology, PU for CHE.         [ Links ]

Thompson, J.W., 2006, Pastoral ministry according to Paul: A biblical vision, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Thurman, C., 1999, The lies we believe, Thomas Nelson, Nashville, TN.         [ Links ]

Tidball, D., 1997, Skilfull shephards: Explorations in pastoral theology, Apollos, Leicester.         [ Links ]

Tripp, T. & Tripp, M., 2008, Instructing a child's heart, Shepherd's Press, Wapwallopen, PA.         [ Links ]

Van der Schaaf, T. & Dreyer, Y., 2004, Ontferming 'beyond' vergeving als weg naar heling en heelheid: Een theoretisch model voor narratief pastoraat, Hervormde Teologiese Studies 60(3), 1127-1147. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v60i3.579        [ Links ]

Van der Walt, S.P., 2004, '"Ons weet omdat ons glo!" 'n Eksegeties-openbaringshistoriese studie vanuit Hebreers 10:38-11:3 toegepas op die problematiek van die verhouding tussen geloof en kennis', ThD proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Van Huyssteen, W., 2006, Alone in the world?, Eerdmans, Grand Rapids, MI. PMid:16645122        [ Links ]

Veldsman, D.P., 2009, 'Interdisciplinary reimagining of the concept of revelation', Hervormde Teologiese Studies 65(1), 6. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v65i1.134        [ Links ]

Verhoef, C.G., 2000, 'Die noodsaak van 'n Bybelse mensbeskouing in berading: Enkele snitte uit die Skrif en die praktiese implikasies daarvan', MA verhandeling, Fakulteit Teologie, PU vir CHO.         [ Links ]

Vitz, P.C., 1994, Psychology as religion: The cult of self-worship, 2nd edn., Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Watts, F., Nye, R. & Savage, S., 2006, Psychology for Christian ministry, Routledge, New York, NY.         [ Links ]

Williamson, P.S., 2009, Ephesians, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Wittmer, M.E., 2008, Don't stop believing: Why living like Jesus is not enough, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Worthington, E.L., 1993, Psychotherapy and religious values, Baker, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Gert Breed
PO Box 19515,
Noordbrug 2520, South Africa
Email: gert.breed@nwu.ac.za

Received: 25 Nov. 2011
Accepted: 28 Feb. 2012
Published: 08 July 2013

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License