SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1The metaphor of light embedded in the Johannine prologue, Part 1: The Light before the incarnationMetatheoretical assumptions in scientific pastoral-theological research author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Verskuiwende denke van die 2012-GKSA-Sinode

 

Shifting thinking of the 2012 GKSA Synod

 

 

Sophia (Phia) van Helden

Unit for Reformed Theology, North-West University, South-Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die moontlikheid van 'n denkverskuiwing bespreek en gemeet aan die hand van navorsing wat gedoen is onder die afgevaardigdes van die 2012-GKSA-Sinode. Die agtergrond rondom denkverandering word bespreek, waarna die bevindings van die empiriese studie oor die stand van denke aan die hand van drie aktuele stellings aangetoon word. Die stellings spruit voort uit die verskynsel van dalende lidmaatgetalle binne gemeentes. Navorsing wat tydens die Sinode aan die hand van 'n vraelys plaasgevind het, het gefokus op die mate van bewussyn by die afgevaardigdes in verband met die krisissituasie wat gereformeerde gemeentes ervaar ten opsigte van dalende lidmaatgetalle. Daarna is die moontlikheid van verskuiwende denke terug na die eise van die Groot Opdrag ondersoek. Indien verskuiwende denke wel voorkom, is ten slotte nagegaan of die totale Suid-Afrikaanse bevolking, ongeag taal of kultuur, as teikengroep gereken kan word. Die kwantitatiewe en kwalitatiewe benadering verskaf insiggewende statistiek, asook insae in verband met die denkverskuiwing en die sleutelposisie van die Groot Opdrag in die verskynsel van dalende lidmaatgetalle in gemeentes.


ABSTRACT

 This article discusses the possibility of shifting thought and measuring it on the basis of research conducted among the 2012 RCSA Synod delegates. Background regarding the change in thought is discussed and followed up by the findings of an emperical study about the state of thinking, using three relevant statements. These statements stem from the phenomenon of declining numbers in congregations. The research is conducted at the Synod by means of a questionnaire, focused on the degree of awareness among the delegates regarding the declining numbers of members as a crisis situation in the reformed churches. Thereafter the possibility of a turnaround in thinking towards the demands of the Great Commission was addressed. The last statement focused on whether the entire South African population, regardless of language and culture, would be regarded as the target group in case a changing in thought exists. The qualitative and quantitative approach provide informative statistics, as well as insight regarding the shifting in thought and the key position the Great Commission takes in the phenomenon of declining numbers of members in congregations.


 

 

Inleiding

Op 'n verweefde wyse het talle faktore die hedendaagse mens, waaronder ook gelowiges van die gereformeerde susterskerke,1 beïnvloed. Hierdie beïnvloeding was sodanig dat 'n herstrukturering van denke en 'n heraanpassing by die eise van die heersende oorgangsperiode (McLaren 2006:181, 228; Olivier 2006:81) deel geword het van die daaglikse lewe. Die kerkpraktyk kom derhalwe ook onder die druk van denkverandering en heraanpassing - aspekte wat in 'n gevestigde instansie soos die kerk nie noodwendig voldoende aandag kry nie.

Al drie die susterskerke verkeer in die proses van 'n denkverandering en denkverskuiwing. In hierdie artikel word die aandag gefokus op navorsing oor die denkverskuiwing binne die GKSA. Aangesien dit bykans 'n onmoontlike taak is om oor die denkstand van elke GKSA-lidmaat navorsing te doen, is die roete gevolg dat die 2012-Sinodegangers, die leiers van plaaslike gemeentes oor die hele Suid-Afrika, as rigtinggewende respondente gedien het. Die doel van hierdie artikel is om op die stand van huidige denke binne die GKSA te fokus en aan te toon hoe dit deur die plaaslike kerkpraktyk weerspieël word (vgl. 'Denkverskuiwing binne GKSA-Sinodes 2003-2012').

Om die navorsing binne die konteks van denkaanpassing en -verskuiwing (omkeer) duidelik te kommunikeer, is dit nodig om 'n aantal kernsake vooraf te bespreek. Die sake waarop gefokus word, is die volgende:

 'n bondige verduideliking van faktore wat meewerk in die verweefde en komplekse proses van dalende lidmaatgetalle (vgl. De Klerk & Van Helden 2011);

 waarom die Groot Gebod en die Groot Opdrag as uitgangspunt geneem word in die verskynsel van krimpende en groeiende gemeentes (Van Helden, S 2013);

 die bestaan van 'n denkkrisis (vgl. Van Helden, P 2013);

 die huidige stand van denke;

 'n denkverskuiwing binne die GKSA (2003-2012).

Faktore wat die dalende lidmaatgetalle veroorsaak

Om die komplekse en verweefde faktore van dalende lidmaatgetalle te begryp, is dit nodig om 'die onsigbare dimensie van die goddelike werklikheid' (Van Ruler 1969:181) voortdurend in gedagte te hou. Die goddelike werklikheid staan in 'n vaste verhouding met die mens en die omringende werklikheid. Dalende lidmaatgetalle moet ook binne die verbond benader word. Met die verbond as anker moet twee sake, naamlik die onstuitbare voortgang van die Gees, maar ook die onlosmaaklike betrokkenheid van die mens binne die verskynsel van kerkkrimping, in gedagte gehou word.

Onstuitbare voortgang van die Gees (God): Die Gees se ontstuitbare aktiwiteit in verband met Jesus se verlossingswerk, is deur golfbewegings waarneembaar. Die Gees waai waar Hy wil en daarvolgens word gevestigde uitlewingswyses, asook die moontlike stagnasie in die uitlewingswyses verander. Hierdeur ontstaan daar voortdurend nuwe omstandighede waardeur die evangelie kan uitbrei (Tickle 2008). Die golfbewegings word onder andere herken deur die ingrypende gelykmakende beweging van ongeveer elke 500 jaar (sedert die hemelvaart), deur die golfbeweging vanaf die noordelike na die suidelike halfrond en deur die societas- (groei) en communitas-bewegings (kwyn) wat binne die lewensiklus van elke gemeente afspeel.

Die betrokkenheid van die mens: Die mens se betrokkenheid in die verbondsaktiwiteit rondom kerkkrimping kan in moeilik meetbare faktore en in meetbare faktore verdeel word. Die moeilik meetbare faktore waarby die mens betrokke is, behels onder andere die ontwikkelings op die gebied van die wetenskap wat tot ontnugtering (denke) en geloofkrisisse gelei het (Bosch 1991:349, 350). Onbeantwoorde vrae plaas vraagtekens oor die geloofwaardigheid, die integriteit en die relevansie van die kerk (Bosch 1991:378; Du Toit 2000:61, 182, 183). Sekularisme en ander -ismes en veral ook 'n afname in die Godsbegrip, lei tot 'n subjektiwistiewe lewenswyse in die huidige gefragmenteerde, postmodernistiese samelewing (Gill 2003:5, 6, 17; Tickle 2008:50).

Waar denkaanpassings ter sprake is, ontstaan groepering. Die groepering sentreer rondom twee pole, naamlik konserwatiewe en progressiewe denke (Du Toit 2000:36, 49). Die konserwatiewe groepering, waaronder die denke van die susterskerke sorteer, veroorsaak op die lang duur binne die gemeente verskynsels van laervorming, introversie, min aanpassingsvermoë, wantroue en onttrekking (Cameron et al. 2005:51; Olivier 2006:79, 82). Dit lei daartoe dat gelowiges wat nie met die gemeente se denkstand kan of wil identifiseer nie, oorgaan tot die soeke na 'n ander kerk, of bloot tot kerkloosheid (Ward 2004:3).

Die minder moeilik meetbare faktore waarby die mens betrokke is, kan breedweg saamgevat word as ontvolking, verstedeliking, afname van geboorte, intense en diepgaande ekonomiese, politieke en sosiale omstandighede, die enorme invloed van die tegnologie, asook die veranderende gesinskultuur. Toevoegend hierby vertoon die wese van die Afrikaner 'n roepingloosheid binne die multikulturele en postkoloniale Suid-Afrika.

Daar is ook ekklesiologiese faktore wat as bydraende oorsaak van kerkkrimping ter sprake kom. Die kern van die ekklesiologiese faktore is menslike denke. Binne 'n gemeente manifesteer denke in dade wat mettertyd die gewoonte, tradisie en kerkpraktyk word. Hierdie kerkpraktyk (dade) is die resultaat van menslike denke. Die kerkpraktyk word gerig deur die eenheidsisteem wat Jesus deur die Groot Opdrag aan sy kerk gee. 'n Eenheidsisteem impliseer meer as een aspek. Die twee aspekte wat hier in die eenheidsisteem ter sprake is, is opbou en uitbou. Omdat die mens deel is van die verbondsverhouding, bestaan die moontlikheid dat die eenheidsisteem in balans funksioneer of in 'n wanbalans verkeer. 'n Wanbalans tree in wanneer daar in die mens se denke, en derhalwe ook in sy dade (kerkpraktyk), oorwegend net op één van die twee aspekte gekonsentreer word (Burger 1999:88, 111, 149, 150; Schalekamp 2005b:31, 34). Die effektiwiteit van die eenheidsisteem word deur die uitvoerders se kennis van die Groot Opdrag bepaal asook die stiptelike uitvoering daarvan. Oneffektiwiteit in die eenheidsisteem veroorsaak dat kerkgroei met die verloop van tyd negatief beïnvloed word.

In die lig daarvan dat die Gees onstuitbaar en doelgerig voortgaan met die uitbreiding van die evangelie, maak groei, maar ook krimping en die uitsterf van gemeentes, deel uit van die onstuitbare, komplekse en soms onverklaarbare aktiwiteit van die Gees. Die Christelike godsdiens is immers nie 'n toonbeeld van stabiele triomferende progressie nie, maar wel 'n stuwende proses van groei en krimp as deel van die lewenskragtige en altyd-voortgaande magsmanifestasies van Jesus deur die werking van die Gees (Niemandt 2007:34). Bestaande kerke verdwyn en waar daar kontak met ander kulture plaasvind, kan 'n kerk ontstaan waar daar geen kerk was nie (Schalekamp 2005a:24-27; Walls 2002:12, 13, 66, 73-80, 112).

Die Groot Opdrag

Die mens wat deur die verwikkelde samevloei van golfbewegings, denkstrome en lewensomstandighede meegesleur word, kan geen inset lewer om enige van hierdie beïnvloedende faktore te wysig nie. Die enigste terrein waar die mens wél aktief 'n inset kan lewer, is binne die ekklesiologie, dus in die gemeente self, waar die mens se denke en dade die kerkpraktyk daarstel. Om by die basis van die ekklesiologie uit te kom, moet 'n mens na die Groot Gebod terugbeweeg. Die Groot Gebod loop uit op die Groot Opdrag wat deur God beveel is. God is in wese op die nasies (missionêr) gerig (Hendriks 2003), gedrewe deur sy ondeurgrondelike liefde - alles tot die eer van sy Naam (Eseg 20).

Die Groot Gebod wat aan die mens gegee is, kan saamgevat word in liefde: liefde teenoor God en liefde teenoor jou naaste (Matt 22:34-40; Bosch 1991:67). Tydens die Bergrede het Jesus vir sy dissipels te midde van 'n groot groep belangstellendes 'riglyne vir 'n intieme liefdesverhouding met die Vader en die Seun' gegee (Van der Watt et al. 2003:599). Lloyd-Jones (1978:19) stel verder dat die Bergrede primêr en spesifiek gepreek is met die oog op die dissipels; dat Jesus se lering as 'n 'tipe inseëning van die dissipels in hul amp en vir wat voorlê' bedoel was (Van der Watt et al. 2003:599), 'n amp met missionêre dimensie (Bosch 1991:67, 69). Na Jesus se opstanding het Hy sy kerk spesifiek voorberei en toegerus sodat die dissipels (die kerk) Jesus se verlossingsdaad (liefdesdaad) aan alle ander mense (missionêr), soos vervat in die Groot Opdrag, moet bekendmaak (Floor 2007:19; Van der Merwe 2003:303; Van der Walt 2007:303).

God se verbondsliefde word deur die Groot Opdrag aan die mens oorgedra: Hierdie opdrag is in die laaste dae die taak van die mens; die mens wat in 'n gewillige verbondsverhouding staan en God se liefde op aarde primêr teenoor sy medemens moet uitleef (Van der Merwe 2009:7). Die Groot Opdrag, as uitvloeisel van die Groot Gebod en gegee deur die Groot Sender, bied die mens nie net kennis om die kerkpraktyk (opbou en uitbou) te benader nie, maar ook om kerkgroei, met die implikasie van kerkkrimping, deur dieselfde sleutel te ontsluit.

Gelowiges word deur die Gees gedryf om met hulle hele hart, met al hulle krag, met hulle hele siel en met hulle hele verstand, dus deur liefde, die laaste opdrag van Jesus ten volle te gehoorsaam en die Groot Opdrag as 'n marsbevel, tydig en ontydig te bedink en deur te voer (Van Rooy 2007:39). Van Ruler (1969:181) stel dat die verbondsverhouding wat in die Groot Opdrag geleë is, 'n geheim behels. Wanneer hierdie geheim in die Groot Opdrag nagespeur word, toon die eksegese 'n verbondsaktiwiteit tussen God en die mens aan (Bosch 1991:74, 113, 114; Strong 2007:107, 109). Dit kom na vore deur die indikatief wat die magsaankondiging (Matt 28:18) en die vaste belofte van bystand, as die aktiwiteit van God (Matt 28:20b) beskryf. Die imperatief dui op die aktiwiteit van die mens (Matt 18:19, 20a). Struktureel omsluit die indikatief die imperatief. Hierdeur word God se aktiwiteit oor en binne die opdrag bevestig. Die imperatief bestaan uit maak dissipels; dit gebeur deur te gaan (uitbou) en te doop en te leer of onderrig (opbou). Die imperatief is gerig op die mens se aktiwiteit en gee daardeur aan die mens leiding vir 'n gesonde, godgewilde kerkpraktyk; 'n kerkpraktyk wat God bedoel om as 'n eenheidsisteem van opbou en uitbou te funksioneer (Burger 1999:88; Schalekamp 2005b:4; Van der Merwe 2006:15, 16). Die mens moet derhalwe kennis dra van die eenheidsisteem en aan die hand van Christosentriese (verbonds)denke (vgl. 'Denkkrisis') kan aktief en op gesonde wyse kreatief daarmee omgegaan word. Die mens kan die Groot Opdrag sien as die geheim rondom kerkgroei en derhalwe ook rondom kerkkrimping.

In die eenheidsisteem waarbinne die dissipelmaakproses in die gemeente plaasvind, staan opbou en uitbou nooit teenoor mekaar nie. Jesus toon self aan dat terwyl die gemeente opgebou word, moet die uitbouing geskied, en terwyl daar uitgebou word, moet ook opgebou word. Van der Merwe (2006) wys daarop dat Jesus self nie tussen opbou en uitbou onderskei het nie, en ook nie 'n prioriteit aan die een bo die ander gegee het nie. Opbou (gemeentebou) en uitbou (evangelieverkondiging) is een aksie binne die gemeente; 'n aksie wat in die praktyk deur niemand anders as die kerkmens bedink word nie. Ook Burger (1999:88) stel dat een aktiwiteit nie nagelaat moet word wanneer aan die ander een gewerk word nie. Wanneer die eenheidsisteem die opdrag is, mag geen mens, gemeente of kerkverband dit vereng nie. Indien op die een aspek meer gefokus word, ontstaan 'n skeefgetrekte ekklesiologie (Schalekamp 2005b:4). 'n Missionêre gemeente ontkiem egter wanneer die eenheidsisteem van opbou en uitbou binne 'n gemeente 'n werklikheid word (Burger 1999:88).

'n Missionêre gemeente vind verdere motivering in die Groot Opdrag deurdat die verlossingsboodskap na die uithoeke van die aarde, na alle nasies, volke en tale toe moet uitbeweeg. In 'n multikulturele land soos Suid-Afrika dui die Groot Opdrag daarop dat ander tale en kulture van hierdie land deur die plaaslike gemeentes bereik moet word. Dit sluit nie net die Afrika-georiënteerde landsburgers in nie, maar ook die Afrikaanssprekende westers-georienteerde landsburgers en ander groepe wat Suid-Afrika hulle tuiste gemaak het.

Dit is by die verstaan van die Groot Opdrag dat die susterskerke 'n skynbare vriestoestand binnegaan. Die oorsaak van hierdie toestand lê daarin dat die kosbaarhede van die kerk vir hulle skynbaar bedreig word indien enigeen buite hulle eie kultuur- of taalgroep tot die bestaande gemeente toegevoeg sou word. In 'n gesonde eenheidsisteem (opbou en uitbou) is die gegewe dat die gelowiges die bekeerling se belange op dieselfde wyse sal bevorder as dié van gemeentelede wat reeds lank deel van die gemeente is.

Integrasie van persone met 'n ander taal of kultuur, is histories binne die susterskerke problematies. Wat hierdie saak bemoeilik is dat daar nouliks 'n verwysingsraamwerk of ervaring bestaan om sodanige teikengroep te akkommodeer en daarom is die opname van sodanige bekeerlinge in bestaande gemeentes selde suksesvol. Kerkplanting is in hierdie gevalle 'n beter moontlikheid as om integrasie op 'n gedwonge manier te probeer verwesenlik (Malphurs 2004:27). Gevolglik bestaan daar grootskaalse onsekerheid ten opsigte van die integrasie van anderstaliges en word dit grootliks vermy. Hierdie onsekerheid kom veral by konserwatief-denkendes voor (vgl. Altemeyer 2004:77; Ward 2004:10, 11). Dit is ook die geval in die tradisioneel-introverte Afrikaanse gemeentes (Burger 2007:12; Van Helden 2010:350, 351).

Die onsekerhede roep om veranderde denke; denke wat van vernuwende geloofswaagmoed getuig en wat op die magsvertoon, verbondsbelofte en riglyne gegrond is wat is in die Groot Opdrag te vind is (Burger 1995:34; Niemandt 2006:50, 53; Smit & Vorster 2000:530).

Met die geheim van 'n gesonde ekklesiologie geopenbaar, is dit die mens se taak om te vra na die mens se aandeel in die krimpingstendens van die susterskerke. Uiteraard is die weë van God nie die mens se weë nie en sy gedagtes nie die mens se gedagtes nie (vgl. 'Faktore wat die dalende lidmaatgetalle veroorsaak'). Tog praat die Woord duidelik en ondubbelsinnig deur die Groot Opdrag. Die gelowige weet dat 'n eenheidsisteem binne die gemeente bedink en beplan moet word - tydig en ontydig (2 Tim 4:1). Die denke en die dade van gelowiges in 'n gemeente moet derhalwe 'n gebalanseerde en gesonde Christosentriese opbou- en uitboupraktyk vertoon. Indien slegs oormatig op een van die twee aspekte gefokus word, sal 'n skeefgetrekte (Schalekamp 2005b:4) kerkpraktyk noodwendig op die lang duur 'n ongesonde gemeentepraktyk weerspieël. Indien oormatig slegs op gemeentelike opbou gefokus word en die uitbou-aspek binne die gemeente nagelaat word, ontwikkel 'n introverte, ingekeerde en ongesonde kerkpraktyk. Die denkpatroon wat tot sodanige skeefgetrekte kerkpraktyk lei, staan bekend as 'n institusionalistiese denkparadigma (voortaan: I-denke). Hiervolgens word denke in die gemeente hoofsaaklik deur statiese aspekte gerig wat in oormaat voorkom, byvoorbeeld die organisasie wat gerig word deur 'n rasionele, analitiese en deduktiewe aanpak (Schwarz 1999:71, 218-220).

God het in sy alwysheid 'n eenheidsisteem beveel. Dit is dus te verstane dat 'n skeefgetrekte kerkpraktyk nie God se wil vertoon nie en ook nie sy seën sal wegdra nie. So 'n volgehoue skeefgetrekte praktyk loop onvermydelik uit op 'n ongesonde kerkpraktyk. Waarneming van skeefgetrekte kerkpraktyke is die afgelope dekade deur talle teoloë vanuit die susterskerke op 'n baie ernstige wyse aangetoon (vgl. 'Denkkrisis'). Weens die intensiteit van die toestand wat in al drie die kerkverbande voorkom, is navorsing uit en in al drie die kerkverbande gedoen en daar is tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die susterskerkteoloë spreek oor hierdie saak uit een mond; 'n dringende spreke is nodig om die krisisboodskap met die skynbaar doodtevrede susterskerkgelowiges te kommunikeer. Daar is slegs een standpunt wat die krisistendens beskryf: 'n intense denkkrisis (vgl. 'Denkkrisis'; De Wet 2000:2-7, 107; Dreyer 2009:6-9; Erasmus & Hendriks 2003:80-82; Hendriks 1996:142, 144; Niemandt 2007:12, 18; Van Helden 2013; Van Rooy 2006:22).

Denkkrisis

Die tradisionele gereformeerde susterskerkgelowiges het veral sedert die negentiger jare van die vorige eeu grootskaalse denkaanpassings beleef weens talle verweefde invloede (Hendriks 2000:79, 95; 1999:18; 1993:545, 547). Statistiek vanaf 1980, maar veral sedert 1990 toon dat al drie die susterskerke se lidmaatgetalle 'n sterk dalende kurwe toon (NGK 1980:250; 1990:300; 2000:365; NHK 1981:208; 1990:252; 2001:111; GKSA 1979:25; 1989:49; 2000:266; Giliomee 2004:625). Dreyer (2009:6) toon aan dat lidmaatgetalle persentasiegewys vanaf 1999 tot 2008 in die susterskerke soos volg afgeneem het:

 NG Kerk: belydende lidmate 20% en dooplidmate 4.5%

 NH Kerk: belydende lidmate 20% en dooplidmate 12%

 GKSA: belydende lidmate 23% en dooplidmate 9%

Indien denke as 'n beïnvloedende faktor vir kerkkrimping genoem word, kom die kern na vore, naamlik dat die Groot Gebod (Matt 22:34-40) en die Groot Opdrag in die kerkpraktyk moontlik nie bewustelik bedink word nie (vgl. 'Groot Opdrag'). Binne die gereformeerde ekklesiologie fokus I-denke grootliks op die interne opbou van die gemeente; dit dui op slegs een deel van die eenheidsisteem. Hierdie tendens manifesteer landswyd in 'n laertrekverskynsel met die gemeente se eie opbou ter wille van oorlewing voor oë (Hendriks 2003; 1996:142-144; 1999:17-19; Van Rooy 2006:22).

Die kerk se taak, volgens die Groot Opdrag, staan in kontras met dié van 'n gemeente wie se taak oorlewing is. In so 'n gemeente word die Groot Opdrag nie hoog genoeg geag om as eerste prioriteit te dien nie. Die opbou binne die gemeente is egter slegs een deel van die Groot Opdrag. 'n Introverte doel bevorder nie die doel van die eenheidsisteem nie. Die eenheidsisteem moet deur opbou en uitbou die moontlikheid daarstel dat 'n gebalanseerde en gesonde kerkpraktyk met verloop van tyd op 'n natuurlike wyse kan ontwikkel; 'n gesonde kerkpraktyk waar die Gees organiese groei sou kon laat plaasvind (De Kock 2003:17). Denke en dade wat op slegs een aspek van die eenheidsisteem fokus, vertoon 'n ongebalanseerdheid wat op die lang duur organiese groei teëstaan. Binne 'n verbondsverhouding behoort die mens derhalwe op 'n verantwoordelike en biddende wyse gebalanseerde denke (opbou of uitbou) in die kerkpraktyk te bedink. Hierdeur word alle voorsorg menslik moontlik getref om 'n gesonde kerkpraktyk daar te stel waar organiese groei kan plaasvind indien die Gees dit sou wou laat gebeur.

Deur die grootskaalse afwesigheid van die uitbou-aspek in die krimpende tradisionele susterskerke (NG: Niemandt 2007:15; NH: Dreyer 2009:7; GKSA: Van Helden 2010:350, 351), word die suiwer navolging van die Skrif, sola Scriptura [die Skrif alleen], in werklikheid nie in die denke en dade suiwer nagevolg nie. 'n Ongesonde en skeefgetrekte kerkpraktyk kan binne die skrifgestelde riglyne (Groot Gebod en Groot Opdrag) op die lang duur nie groei toon nie. Indien daar nie 'n ware omkeer in die denke plaasvind nie, is die tradisionele Afrikaanssprekende susterskerke tans midde in 'n proses wat op die sterwensfase vir gemeentes kan uitloop (Olivier 2006:80, 128, 129). Hierdie situasie is só aktueel dat dit deur gereformeerde teoloë as 'n ekklesiologiese krisissituasie verwoord word.

Die enigste wyse om hierdie krisissituasie binne die menslike optrede te wysig, is om gelowiges tot 'n besef van die situasie en tot inkeer te laat kom, en om 'n daadwerklike en volhoubare omkeer te bewerkstellig. Ten einde tot insigte, inkeer en omkeer te kom, is bewuste denke ter sprake. 'n Denkverandering is 'n menslike aksie. Alhoewel dit vir die mens 'n moeilike proses blyk te wees, is dit nie 'n onmoontlike proses nie (vgl. Rom 12:2; Malphurs 2004:28; Gilbert 2004:123).

Omdat die mens binne 'n verbondsverhouding staan, is die wete vas en seker dat 'n denkverandering soos in Romeine 12:2 beveel word, nie net van die mens afhanklik nie. Indien Romeine 12:2 geëksegetiseer word, is dit duidelik dat dit in die teenwoordige tyd geskryf is. Dit beteken dat verandering vir die hede bedoel word, maar dat dit ook op 'n voortdurende en aanhoudende proses dui. Die indikatief van hierdie Skrifgedeelte stel dat Jesus se dood die saak met God reggestel het en verandering bewerkstellig het. Die veranderingsproses is nou moontlik gemaak en is blywend aan die gang. Die werkwoord is egter ook in die passiewe vorm geskryf. Dit dui daarop dat die veranderingsproses in die mens bewerk word. Die mens het nie 'n aandeel daaraan nie. Die gedagte om 'n verandering te bewerkstellig, ontspring wel in die menslike denke, maar slegs omdat dit die vernuwende werk van die Gees is wat reeds vooraf in die mens se onderbewuste werksaam was (Strong 2007:107, 109). Laastens is die vorm van die werkwoord ook in die imperatiewe vorm. Die mens kry die bevel om te verander en 'n wilsbesluit te neem wat as gevolg van die vernuwende denke, deur menslike dade na vore kom.

Wanneer verandering derhalwe tot die bewussyn van die mens deurdring, is dit 'n groot troos om te weet dat God in die verbondsverhouding reeds aksie geneem het en aktief werksaam is om die mens tot wederaksie te lei. Vir diegene wat die erns van die krimpende kerke besef (vgl. 'Faktore wat die dalende lidmaatgetalle veroorsaak') en wat die groot opdrag as sleutel (vgl. 'Groot Opdrag') binne die krississituasie gebruik, is dit 'n onomkeerbare saak; 'n saak wat deur geloofsmoed, gebed en volharding gedra word om die omkeer in die praktyk op menslike wyse só te bedink en te bestuur dat 'n gesonde kerkpraktyk - volgens Jesus se voorskrifte - mettertyd kan ontwikkel. Waar 'n gesonde kerkpraktyk bedink en geleef word en waar 'n kerkpraktyk sodanig begin funksioneer dat natuurlike groei kan plaasvind, kan 'n mens vertrou en aanvaar dat die Gees die daad van gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag en die Groot Gebod binne die gemeente seënend gebruik.

'n Gesonde kerkpraktyk wat manifesteer, word vanuit 'n Christosentriese denkparadigma bedink. 'n Christosentriese denkparadigma lê tussen die I-denkparadigma, wat in oormaat op statiese aspekte fokus (vgl. 'Groot Opdrag') en die spiritualistiese denkparadigma (S-denke), wat in oormaat op dinamiese aspekte fokus soos 'n organiese, intuïtiewe, holistiese en induktiewe aanpak (Schwarz 1999:71, 218220). Aangesien die tradisionele kerkpraktyk vir baie jare hoofsaaklik op een aspek (opbou) gefokus het, is dit duidelik dat die denkparadigma wat die dade daarstel op statiese aspekte fokus. Die dinamiese aspekte is grootliks afwesig. Waar statiese aspekte in oormaat die gelowige se denke beheer, is die institusionalistiese denkparadigma (I-denke) heersend en kan die Christosentriese denkparadigma nie na vore kom nie. Saam met die omkeer ter wille van die eenheidsisteem (Groot Opdrag) moet die denke ook volledig gewysig word om op 'n gebalanseerde wyse sowel die statiese as die dinamiese aspekte (Christosentries) binne 'n gemeente te laat funksioneer (Rom 12:3-8; 1 Kor 12:12-31; 3:9-10; 1 Pet 2:4-8; Ef 2:19-22). Bogenoemde sal kwalitatiewe (opbou) en kwantitatiewe (uitbou) groeimoontlikhede daarstel (Schwarz 1999; 2000).

Om die krisis binne die kerkpraktyk sistematies, dog in die geheel te benader, word op kenmerke uit die Skrif gesteun wat Schwarz wêreldwyd nagevors het (1999; 2000). Die navorsing is onder alle Christelike denominasies gedoen om toestande van groeiende en krimpende gemeentes te bepaal. Die fondament van Schwarz se navorsing is die Groot Opdrag wat met opbou en uitbou as eenheidsisteem die sleutel bied vir natuurlike groei en ook die implikasie van krimping daarstel. Die eenheidsisteem word deur bewustelike Christosentriese denke binne elk van die agt kenmerke van die kerkpraktyk ingebou. 'n Omkeer, weg van die I-denke af, moet dus bewustelik, biddend en soekend plaasvind. Omdat die agt kenmerke in der waarheid Skrifbeginsels is, is dit duidelik dat geen voorskrif of reël vir gemeentes gegee kan word om die omkeer te bewerkstellig nie. Elke gemeente moet binne sy eie swak en sterk punte (wat deur 'n gemeenteprofiel vasgestel word, gesien teen die gemeente se kontekstuele en ekklesiologiese begrondings) die Skrifbeginsels bewustelik bedink, daaroor bid en daarrondom beplan.

Denke wat tot beplanning binne die gemeente lei, word sodanig gerig dat die statiese en dinamiese aspekte binne elkeen van die agt kenmerke uitvoerbaar is. Na die tydperk wat gestel word om die beplanning tot uitvoer te bring, word die gestelde doelwitte bewustelik geëvalueer (denke). Volgens hierdie uitkomste word dan weer opnuut beplan. Hierdie manier van bestuur word deur Titus 1:3 en 5 gerugsteun. Daarvolgens word gestel dat dit die gemeente se eie taak is om die huishouding van God in orde te hou deur goeie bestuurders te wees. Hierdie aktiewe proses werk die moontlikheid van introversie en stagnasie teë. In die verweefde kerkpraktyk word die Skrifbeginsels (teorie) dus voortdurend voor oë gehou en toegepas om so die swak punte van die gemeente te probeer verbeter (praksis 1) om mettertyd 'n verbeterende kerkpraktyk (praksis 2) daar te stel.

Navorsing oor die krisissituasie en die omkeer is Praktiese (praksis) Teologie (teorie) in aksie. Praktiese Teologie omsluit Missiologie wat as 'n deeldissipline in die wese van Praktiese Teologie ingebou is (Hendriks 2003). Hendriks (2003) noem Praktiese Teologie 'n twee-orde aktiwiteit: 'Dit is om in gehoorsaamheid aan 'n God wat in die eerste uur met jou gepraat het, reflekterend tot aksie oor te gaan.' Die omkeerbeweging (praktyk) moet in elke gemeente uniek en eiesoortig bedink en beplan word as 'n volhoubare aksie volgens die Skrifbeginsels (teologie), totdat die punt bereik word om tot kerkdeling of tot kerkplanting oor te gaan (Schwarz & Schalk 1998:42, 196, 200). Om gemeentes prakties in hierdie proses by te staan, is daar praktiese rigtingwysers beskikbaar (o.a. Schwarz & Schalk 1998; Schwarz 2000), asook die belofte van toerusting binne die GKSA volgens die Sinodebesluite (vgl. 'Denkverskuiwing binne GKSA-Sinodes'; Acta 2012:820-824).

Om die agt kenmerke volgens die Christosentriese denkparadigma prakties te benader, moet die byvoeglike naamwoord in die opskrifte hieronder, telkens as die dinamiese aspek gesien word. Dit moet saam met die statiese aspek, gestel deur die selfstandige naamwoord, in balans en gesond realiseer:

1. Passievolle spiritualiteit (1 Kor 12:31 - lê jou toe met ywer; Op. 2:4 en 3:15, 16). Godsdienstigheid of spiritualiteit (statiese pool) wat op tradisie en rasionele formaliteite fokus en weinig van entoesiasme, deurleefde gebed en passievolle belewing (dinamiese pool) spreek (Rom 12:11-12), vertoon die I-denke wat om verskuiwing roep.

2. Gawe-georiënteerde bediening (1 Kor 12; Rom 12; Ef 4; 1 Pet 4; HK Sondag 21, vraag en antwoord 55, asook die formulier vir die aflegging van belydenis van geloof 5; vgl. die bespreking oor ampte).

3. Inspirerende aanbidding ('God moet in Gees en in waarheid aanbid word' - Joh 4:24; sing onder invloed van die Gees - Ef 5:18-21; asook Ps 95:1-6; lof en prys in aanbidding). Hier moet besin word of die manier van aanbidding (statiese pool) werklik Christusgesentreerd en inspirerend is (1 Tes 5:16-19; dinamiese pool) en of formalisme, as sprekend van I-denke, nie dalk die botoon voer nie.

4. Holistiese kleingroep (groot groep - tempel en kleingroep - van huis tot huis; Hand 2:46; 1 Kor 16:19). Hier kan gevra word of die kerk wat binne groepsverband (statiese pool) byeenkom mekaar werklik holities (dinamiese pool) benader en versorg.

5. Behoeftegeoriënteerde evangelisasie (Matt 28:19 - Groot Opdrag; Filip 2:15, 16 - ligdraers; Matt 9:35 - Jesus verkondig en genees; en Mark. 6:11, 12 - evangelie verkondig en in behoeftes voorsien). Daar moet besin word of die vorm en inhoud van die aktiwiteite rondom evangelisasie verbind is aan die nood van diegene wat besig is om randlidmate te word, asook diegene wat nie deel van die gemeente is nie (1 Kor 9:20, 21).

6. Funksionele strukture (Matt 7:24-27 - bou jou huis op die rots), waardeur die opdrag die mens vryheid van aksie verleen tot die daarstelling van die beste funksionaliteit van strukture). Dit lei die gelowige tot die ondersoek van die regulasies en alle strukture (statiese pool) van die kerk. Kontroleer of dit so ontwerp en gebruik word dat dit funksioneel (dinamiese pool) is vir die ontwikkeling van die gemeente (Mark. 2:27).

7. Bemagtigende leierskap (Ef 4:12 - toerus vir hulle diens; en Ef 4:13-16 as die uitvloeisel van toerusting, ook die bevestigingsformulier). Die rigtinggewende beginsel wat nagestreef word, is of die leiers, potensiële en latent leiers (statiese pool), toegerus en bemagtig (dinamiese pool) word vir hulle gawegerigte diens (Ef 4:12).

8. Liefdevolle verhoudings (1 Kor 13 - die Groot Gebod). Hierdie kenmerk fokus op die stand van verhoudings (statiese pool) tussen lidmate - of hulle mekaar enigsins groet, belangstel of ken. Dit staan teenoor verhoudings wat van 'n hoë mate van spontane liefde en toegeneendheid (dinamiese pool) spreek.

Op elkeen van hierdie agt kenmerke kan in diepte ingegaan word om denkverandering, denkverskuiwing en omkeer in die kerkpraktyk te bespreek. Dit regverdig eerder die moontlikheid van 'n opvolgartikel met denkverskuiwing in die praktyk as die spesifieke doel. Tog word een aspek van denkverbreding ter wille van die omkeer binne die voorbeeld van die agt kenmerke ietwat uitgebrei, naamlik die ampte. Die ampte betrek nie net die kenmerk van gawegeoriënteerde bediening nie, maar ook elkeen van die sewe ander kenmerke.

Die soeke na gebalanseerde, skrifgetroue denke rakende die ampte veroorsaak 'n verskuiwing weg van die status van die ampte na die meer private rol van die gemeente. Sodoende word die amp van die gelowige op bybelse wyse uitgebrei (De Kock 2003:15). Uiteraard loop die leiers voor, maar terselfdertyd moet opbou en uitbou binne al agt kenmerke deur die gemeentelede, ongeag die amp, bedink, nagestreef en uitgevoer word. Dit sluit geloofshandelings binne die huisgesin en die gemeenskap ook in. Dit geld dus nie net vir kerklike ampsdraers nie, maar veral vir die aktiwiteite van alle gelowiges wanneer die onderrig, sorg, viering, diens of verkondiging van die evangelie ter sprake is (Heyns & Pieterse 1990:19, 20).

Dit impliseer dat die onderlinge versorging in die gemeente deur die gemeente sterker na vore moet kom, eerder as om versorging aan die ampte van die predikant, ouderling en diaken oor te laat. Die liggaam van Christus-metafoor is die vertrekpunt, terwyl die drie ampte steeds ondersteunend dien. Die tradisionele mag van die ampte, oftewel klerikalisme, is in die lig van 'n gawegeoriënteerde bediening taboe (Heyns & Pieterse 1990:326; Schwarz 1999:177-181). Die denke dat die paar amptelike leiers die 'hartklop van kerkwees vergestalt' (Joubert 2008; Burger 1999:109), pas nie waar opbou en uitbou binne 'n eenheidsisteem funksioneer nie.

Die ampte (bediening) maak deel uit van die statiese pool in die denke (Schwarz 1999:17-19), is 'n Skrifgegewe en derhalwe nodig, maar dit verseker nog nie dat die kerk as organisme funksioneer nie. Die ampte help in die ontwikkeling van 'n gesonde organisme indien die gemeentelike denke op die dinamiese pool gefokus is wat tot uiting kom in 'n gawegeoriënteerde bediening (Schwarz 1999:157-177). Dit dui op die deelwees van alle lidmate aan die gemeente. Gawes help diegene in die ampte, terwyl die ampte weer die gawes stimuleer. So roep God elke mens om iewers te dien. Deur gawes dien die mens tot opbou en uitbou van die gemeente en tot eer van God. Prakties word die gemeente hierdeur bemagtig en opgebou sodat kwalitatiewe en kwantitatiewe groei kan plaasvind.

Indien in die praktyk op die predikant gefokus word, beteken dit dat die predikant nie 'n kenner op alle gebiede, of 'n 'geestelike ghoeroe' hoef te wees nie (Schwarz 1999:17-19). I-denke plaas predikante gerieflikheidshalwe op 'n verhogie, met die gevolg dat hy 'n vertoning moet lewer terwyl die gemeente bewonderend toekyk. Lidmaatbemagtiging deur herdefiniëring van die rol van die predikant en die ander ampte, roep om Christosentriese denke, sodat volwaardig gefunksioneer kan word volgens die priesterskap van alle gelowiges (Cloete 2008; Du Toit et al. 2002:47).

Uit hierdie paar voorbeelde is dit duidelik dat 'n denkverandering nie vanuit die mens self kan plaasvind nie. Tog stel Romeine 12:2 asook die beginsel van die nuwe-sak-nuwe-wyn (Matt 9:17), dat dit net die mens is wat die denke kan verander. Dit geskied nie op 'n bonatuurlike wyse nie, maar wel deur 'n natuurlike (organiese oftewel die biotiese) strategie. Denkverandering is 'n proses wat langsaam kan verloop, alhoewel verandering van denke aan die hand van 'n waarderende ondersoek (Cooperrider & Whitney 2005) nie noodwendig op 'n langsame proses hoef uit te loop nie. Die waarderende ondersoek (voortaan WO) is 'n herontdekte metode wat in die Skrif na vore kom en denkverandering grootliks vergemaklik (Chaffee 2004:2; Strong 2007:106; Van Helden 2010:392-396; 2013). Die totale, verweefde aktiwiteit wat by denkverskuiwing betrokke is, lei daartoe dat kerke natuurlik kan groei: kwalitatief (opbou) en kwantitatief (uitbou). Die natuurlike groeibeweging as resultaat is 'n seker bewys dat die Gees saam met die mens aan die werk is; 'n beweging wat pneumaties funksioneel geskied (Schwarz 1999:71, 72). Om dit in die taal van Runia (1988:186) te stel, is 'teonome resiprositeit' ter sprake. Deur 'n aktiewe verbondsaktiwiteit kan die denkkrisis stelselmatig gewysig word, sodat die kerkpraktyk weer volkome op Jesus Christus, die hoof van die kerk, kan fokus.

Die huidige stand van denke

Teoloë soos De Wet (2000:4) en Hendriks (1996:144) verwoord die huidige stand van denke binne die tradisionele gereformeerde kerke as 'n 'verengde' en 'gearriveerde denkwêreld'. Indien die denkwêreld getoets word aan die bevel van die Groot Opdrag (Matt 22:34-40; Hand 1:8), is die gevolgtrekking dat gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag op verengde wyse nie daadwerklik hoog geag word nie.

Huidige kwynende gemeentes kan egter tot 'n betekenisvolle omkeer gebring word (vgl. Gilbert 2004:4-6), wetend dat so 'n verandering 'n hoë prys vra, maar dat mislukking, of die weiering om te verander, 'n nog hoër prys vra. In die heersende krisissituasie is enige gelowige poging ter verbetering, hoe gering ook al, reeds 'n teken van 'n verbeterende praktyk (Schwarz & Schalk 1998:195).

Die plek wat die GKSA tans as deel van die tradisionele susterskerke binne die totale Suid-Afrikaanse Christelike geloofsbevolking inneem, is onaansienlik. Saam met die onbetwisbare tekens van dalende lidmaatgetalle, is daar egter geen alternatief om te oorweeg nie. Die enigste uitweg uit hierdie oorlewingstryd is 'n diep en ware omkeer (Hendriks 2000:79, 95; 1999:18; 1993:545, 547; Tickle 2008:143). In die lig van die omkeerbaarheidsmoontlikheid behoort gemeentes, aldus Hendriks (2003), intenser aandag te skenk aan die verstaan van uitbou (die missionêre hermeneutiek wat as deel van die eenheidsisteem afgeskeep word), sowel as die gevestigde verstaan van opbou (die institusionele hermeutiek wat as deel van die eenheidsisteem voorkeur gekry het). Binne die GKSA behoort die verstaan van die Groot Opdrag daadwerklik en op volhoubare wyse benader te word.

'n Omkeer vereis kennis rakende verandering ter wille van die denkverskuiwing. Verskuiwende denke hou verband met die gelowige bewussyn (denke) dat die Gees omkeer en gewilligheid in die mens bewerkstellig (Heidelbergse Kategismus, Sondag 1; Rom 12:2), maar die menslike aktiwiteite en insigte word ook ondersteun deur 'die hulp van onder meer metodes wat in baie verskillende wetenskappe ontwikkel is' (Hendriks 2003). Insigte uit ander wetenskappe, byvoorbeeld die Sosiologie, is derhalwe waardevol, veral in tye van 'n afwaartse kurwe (communitas-fase; Burger 1995:23-25) en van menslike swakheid (Van Helden 2010:74, 75; 2 Kor 12:8); tye soos dit tans in die dalende lidmaatgetalle weerspieël word.

Giliomee (2004:xv, xvi, 419) maak die uitspraak dat die vrees wat die Afrikaner vir uitsterf het, histories gesien, nog altyd 'n sterk dryfveer in die Afrikaner se oorlewingstryd was. In die lig hiervan kan verskuiwende denke (ter wille van vernuwing en die daarstel van die begin van 'n groeikurwe - societas-fase; Burger 1995:23-25) onder Afrikaner-gelowiges as positief gereken word. Verskuiwende denke skyn moontlik ook verband te hou met die bewussyn in verband met hierdie oorlewingsdryfveer en dat die dryfveer in die tradisioneel-gelowige Afrikaner 'n 'lewenskragtigheid' (Giliomee 2004:610) laat ontkiem.

Onsekerhede tydens die denkverskuiwingsproses word waargeneem deur denke en gedrag binne 'n siklus (harmoniemodel) te herken. Die siklus toon 'n patroon waar mense óf na regs, óf na links wegbreek, terwyl ander 'n middeweg probeer behou (Stilma 1988:78). In hierdie beweging kan die emosionele stand van die gelowige te midde van krisisse en veranderings aan die hand van die stoomrollertendens beskryf word (Brouwer et al. 2007:49).

Die stoomrollertendens begin wanneer verandering na aanleiding van heersende onsekerhede, die mens aanvanklik skok, ontwyking en 'n gevoel van verlies laat ervaar. 'n Emosionele keerpunt tree mettertyd in wanneer die wens by die persoon ontstaan om óf deel van die verandering te wees, óf om die situasie (gemeente) te verlaat. Indien eersgenoemde keuse gevolg word, word die opwaartse kurwe van die stoomrollertendens begin. 'n Soeke na nuwe horisonne en nuwe kennis ontwikkel en die gewilligheid ontkiem om daarvolgens ingeligte keuses te maak. Teen hierdie tyd het die emosionele stand van denke en dade sodanig verskuif dat dit vervang is met meer rasionele denke en dade (vgl. ook Gilbert 2004:57, 76-82). Die verrassende 2012-Sinode-besluit (Acta 2012:509-511) om as kerkverband om te keer en die volle gewig van die uitbou in gemeentes te bedink en te beplan (Acta 2012:509-511), sluit ten nouste aan by die denkstand soos aangedui in die stoomrollertendens.

Hiervolgens kan gestel word dat die denke van GKSA-gelowiges tydens 2011 en 2012 inderdaad verskillende stande begin vertoon het. Die moontlikheid van verskuiwende denke impliseer dat die aanvaarding van die implikasies van die Groot Opdrag binne die totale veranderende Suid-Afrikaanse konteks (vgl. 'Faktore wat die dalende lidmaatgetalle veroorsaak'), nog nie die denke ten volle deursuur het nie; sodanige denkverskuiwing moet roepingsbesef, medemensgerigtheid en medemensdienswilligheid behels waar ook al die gemeente in Suid-Afrika is (Du Toit et al. 2002:48).

Waar kruiskulturele kontak, medemensgerigheid en -dienswilligheid ter sprake is, kom beweeglikheid altyd onder die vergrootglas. Geen enkele kultuur kan met 'n vaste en permanente uitlewingswyse gesien word nie. Walls (2002:26) verwys na Latourette en Bunyan wat die beweeglijkheid van die Christelike godsdiens as advance and recession [vooruitgang en terugsakking] beskryf het (vgl. ook Barret et al. 2001:3-6, 19). Die Christelike patroon vertoon derhalwe inherent die moontlikheid van 'n omkeerbare beweging. In hierdie proses is dit duidelik dat God in sy soewereiniteit en in die pneumatologiese verhouding met sy verbondskinders (De Wet 2000:21, 35-37, 57-58, 222; Pieterse 2010:2-4; 1993:134-140) kerke soms toelaat om heeltemal te verdwyn, soms toelaat om te herleef en soms toelaat dat nuwe gemeentes verskyn. Hierdeur word dit duidelik gestel dat die verskynsel van krimping en groei ook by die huidige susterskerke nie gebonde is aan tyd, ruimte, kultuur of 'n volk nie.

Teen hierdie agtergrond is die navorsing onderneem met die 2012-GKSA-sinodegangers as fokuspunt. Die doel was om deur middel van stellings die grootste moontlike inset van die hele Suid-Afrika in die huidige oorgangstydperk na te gaan en vas te stel wat die GKSA-afgevaardigdes se denke tans is oor die krisissituasie van die kwynende gereformeerde kerke, of daar tekens van moontlike verskuiwende denke waarneembaar is, en indien daar wel 'n verskuiwing te bespeur is, of die verskuiwing op die Groot Opdrag fokus, sodanig dat die beweging op die totale Suid-Afrikaanse bevolking gerig is.

Denkverskuiwing binne die GKSA-Sinodes (2003-2012)

Tekens van 'n denkverskuiwing vanuit die Groot Opdrag al dan nie, is aan die hand van die Handelinge van die afgelope nege jaar se GKSA-Sinodes nagegaan. Dit is interessant dat die beplanning en deurvoering van sekere stappe van die navorsingsprojek soos dit in die artikel vervat is ('Die Groot Opdrag' en 'Denkkrisis'), plaasgevind het voordat die 2012-GKSA-Sinode die besluit vir 'n omkeerstrategie aanvaar het (Acta 2012:509-511).

Tydens die 2003-Sinode is erken (Acta 2003:387) dat daar nog nie genoegsaam aandag en bystand gegee is vir kerke buite die Afrikaanse taal- en kultuurverband nie. Die 2006-Sinode het grootliks in dieselfde denkspore as die 2003-Sinode voortgegaan. Rondom eenheid, waar taal- en kultuurverbande verskil, is tot die besef (denke) gekom dat daar 'reeds vir 35 jaar aan eenheid gedink is sonder dat dit werklik tot in sy volle konsekwensies deurgevoer is' (Acta 2006:387). Terselfdertyd is genoem dat die hantering en uitvoer daarvan 'n dringendheid is. Met die 2009-Sinode is die bespreking van eenheid voortgesit (Acta 2009:377384), asook die daarstel van alternatiewe belydenisskrifte, formuliere en gebede (Acta 2009:453) in samewerking met die ander susterskerke, met ander woorde waar taal en kultuur nie verskil nie. Tydens dieselfde sinode is ook erken dat 'teenstrydige besluite' (Acta 2009:715) oor die Totiusberyming geneem is en dat lidmate van ander tale en kulture in ag geneem moet word. Hieroor is besluit om 'n omvattender beginselontwerp te formuleer waaraan bestaande en nuwe liedere gemeet en getoets kan word (Acta 2009:743). Die belangrikste saak wat 'n stelselmatige, dog gewisse denkverskuiwing as 'n werklikheid in die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu binne die GKSA aandui, is die denke oor teologiese opleiding. Hierdie opleiding verskuif en moet gerig word op die kerkpraktyk as eenheidsisteem (Acta 2009:801-803). Dit word soos volg verwoord:

 '[W]anneer gemeentes só bedien word dat hulle in staat is om self aan die werk te gaan ... is hulle ook toegerus om missionêre gemeentes in hul eie omgewing te wees' (Acta 2009:815).

 '[K]erklike bediening en 'n sendingsituasie is in wese één' (Acta 2009:816).

 Gemeentes moet hulle missionêre karakter '(her)ontdek, ontwikkel en uitleef in hul omgewing'. Tradisioneel is bediening gesien as die werk wat die predikant in die gemeente doen. Volgens die rapport van die Kuratore van die Teologiese Skool (2009-Sinode) dui bediening op 'dienswerk wat enige lidmaat van 'n kerk en sy of haar gemeente doen . op die basis van die gawes wat die Heilige Gees gee' (Acta 2009:817). Dit word ook gestel dat daar behoefte is aan mense ter wille van die 'totale bediening van die gemeente' (Acta 2009:818).

 'n Denkverskuiwing word in hierdie sinode waargeneem deurdat besluit is om die leerstof van die Teologiese Skool te Potchefstroom te ontwikkel ter wille van die totale bediening en dat meer aandag gegee kan word aan die multikulturele lewe, mulikulturele bediening en multikulturele samelewing (Acta 2009:820-824). Op hierdie wyse word Missiologie as dissipline deel van al die ander teologiese dissiplines (Acta 2009:816).

Sake wat tydens die 2012-Sinode ter tafel was en wat van 'n denkverskuiwing getuig, is die volgende:

 Dit is verblydend dat Skrifgetroue liedere gesing kan word (in vergelyking met slegs Totius, en later net Totius en Cloete en slegs sekere Skrifberymings), asook sekere Kerkorde-artikels wat op 'n verskuiwende wyse herformuleer gaan word, aangesien nie-Afrikaanssprekende gemeentes ook deel is van die eenheid binne die GKSA (Acta 2012:385).

 Die versugting is dat die kurrikulum van die Teologiese Skool 'n missionêre gerigtheid moet kry (Acta 2012:477). Deur herkurrikulering moet die missionêre gerigtheid op 'n organiese wyse in elke vak gestalte kry (Acta 2012:495499).

 Missiologie moet met 'n 'ruimer opset en groter effektiwiteit' plaasvind en die totale missionêre gerigtheid, ook in die toerusting van predikante, moet meer aandag kry (Acta 2012:504). Om die erns van die verskuiwing te bevestig, is 'n definisie van 'n missionêre kerk gegee, asook die motivering van die denkverskuiwing, naamlik 'n 'groeiende besef en ontsag vir die eer van God' (Acta 2012:485, 506).

 Kwynende kerke is 'n krisisgegewe. 'n Oplossing moet derhalwe dadelik gesoek word eerder as om tyd te verwyl in spekulering oor die moontlikheid van krimping of nie. Die feit dat kwynende kerkgemeenskappe en die verlating van die kerk deur jongmense nie ontvanklik verklaar is nie (Acta 2012:508), terwyl die omkeerstrategie aanvaar is met die doel om missionêrgerigte lidmate, kerkrade, gemeentes en kerkverband daar te stel (Acta 2012:509), toon die sprong wat deur die denkverskuiwing plaasgevind het.

 Die verbondsverhouding kom na vore deur die 'doelbewuste skepping . van 'n kerklike omgewing waar disssipels groei en vermeerder, waar gemeentes tekens van 'n gesonde lewe toon, en waar hierdie kerke besig is om kerke te plant wat op hul beurt nog meer kerke gaan plant. Dit is hoe gemeentes behoort te funksioneer waar God aan die werk is' (Acta 2012:509-511).

In die lig van die bespreking vroëer in hierdie artikel is die 2012-GKSA-Sinode genader om deel van die navorsing te wees wat binne die konteks van denkaanpassing en -verskuiwing tot en met 2012 plaasvind.

 

Metode

Vir die verkryging van empiriese gegewens is 'n Afrikaanse en Engelse vraelys (aangeheg) aan die dagorganiseerder van die sinode gegee om aan die afgevaardigdes op 'n geskikte tyd uit te deel. Hulle moes dit dadelik beantwoord en weer aan die betrokke organiseerder teruggee. Aangesien die ongeveer 220 afgevaardigdes weens verpligtings nie altyd almal in die saal teenwoordig was nie, het die 164 Afrikaanssprekende en 5 Engelssprekende afgevaardigdes wat op 'n betrokke dag wel teenwoordig was, as respondente opgetree. Die vraelyste is daarna aan die skrywer van die artikel besorg, wat dit aan die Noordwes-Universiteit se Statistiekdienste oorhandig het vir kwantitatiewe verwerking. Die frekwensie en persentasie is by elke stelling bereken. Die kwalitatiewe deel van die vraelys waar geskrewe antwoorde ter sprake is, is deur die navorser aan die hand van relevante literatuur verwerk.

Die interpretasiewyse waarvan die navorser gebruik gemaak het om die bevindings binne die konteks van die stelling te beskryf, is die volgende:

Skaal 1-5: 'n ondergemiddelde bewussyn heers in die denke.

Skaal 6: 'n bewussyn heers in die denke.

Skaal 7: 'n baie sterk bewussyn heers in die denke.

Skaal 8: denke word as heersende gegewe erken.

Skaal 9-10: denke word as heersende gegewe aanvaar.

Die volgende drie stellings is deur middel van die vraelys nagevors:

1. Die dalende getalle van die tradisionele GKSA-gemeentes weerspieël 'n krisistoestand.

2. In die gemeente waar elke respondent betrokke is, is daar gedurende 2011 genotuleerde besluite geneem om daadwerklike aanpassings rakende die dalende getalle daar te stel en deur te voer.

3. Die teikengroep wat deur die daadwerklike evangeliserende optrede die lidmaatgetalle kan laat toeneem, is die Suid-Afrikaanse bevolking in sy totale verskeidenheid (verskillende tale, kulture, ens.).

 

Die drie stellings

Die agtergrond rakende die drie stellings is na aanleiding van die relevante literatuur alreeds bespreek. Die statistiek van elke stelling word deur 'n grafiese voorstelling belig, waarna tot 'n gevolgtrekking gekom word in terme van die spesifieke stelling.

Stelling 1

Stelling 1 lui soos volg: Die dalende lidmaatgetalle van die tradisionele GKSA-gemeentes weerspieël 'n krisistoestand.

Statistiek en grafiek

Die respondente het die stelling dat dalende lidmaatgetalle van die tradisionele GKSA-gemeentes 'n krisistoestand in die GKSA-gemeentes weerspieël, geantwoord deur gebruik te maak van 'n skaal wat van 1 tot 10 gemerk is. Skaal 1 toon die minste ooreenstemming met die stelling en skaal 10 stem die meeste met die stelling ooreen. Die respondente was die afgevaardigdes uit die verskillende GKSA-gemeentes wat op die betrokke dag die vraelys ingevul het. Hierdie stelling is deur 164 Afrikaanssprekende en 5 Engelssprekende respondente ingevul.

Vervolgens die statistiek (Tabel 1: Denkstand na aanleiding van stelling 1) en die grafiek (Figuur 1: Denkstand na aanleiding van stelling 1) wat die denkstand van die respondente in verband met die stelling weerspieël.

 

 

 

 

'n Bespreking na aanleiding van die bevindings:

 Deur middel van die 1-5-skaal het 30 repondente (17.75%) laat blyk dat 'n krisistoestand nie deur die krimpende GKSA-gemeentes weerspieël word nie.

 Die groot verskil tussen skaal 5 en 6 weerspieël dat daar 'n besef van die heersende krisistoestand (skaal 6) bestaan, maar dat daar by sommige respondente tog ook 'n besliste mening is dat dit nie die geval is nie (skaal 5).

 Die sterk opwaartse kurwe wat skaal 6-8 daarstel, toon dat 80 (47.34%) respondente 'n sterk mening huldig dat 'n krisistoestand wel heers.

 Dit is opvallend dat slegs 9 respondente (5.33%) deur middel van skaal 9 bevestiging van 'n heersende krisistoestand aandui, terwyl 50 respondente (29.59%) die denkstap reeds geneem het om die dalende lidmaatgetalle as 'n krisisgegewe te aanvaar. Die oorgrote meerderheid respondente, naamlik 139 (82.25%), het skaal 6-10 aangewend om die stelling as waar te bevestig.

Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat ietwat meer as vier-vyfdes van die afgevaardigdes van die 2012-Sinode van mening is dat daar 'n krisistoestand heers weens die dalende lidmaatgetalle in die tradisionele GKSA-gemeentes.

Stelling 2

Die tweede stelling lui: In die gemeente waar jy betrokke is, is daar gedurende 2011 genotuleerde besluite geneem om daadwerklike aanpassings rakende die dalende lidmaatgetalle daar te stel en deur te voer. Die stelling is deur middel van dieselfde skaal benader en die aantal respondente was ook dieselfde.

Statistiek en grafiek

Hieronder is die statistiek (Tabel 2: Denkstand na aanleiding van stelling 2) en die grafiek (Figuur 2: Denkstand na aanleiding van stelling 2) wat die respondente se denkstand in verband met hierdie stelling weerspieël.

 

 

 

 

Bespreking na aanleiding van die bevindings:

 Dit is opvallend dat skaal 1, wat die minste met die stelling ooreenstem, prominent uitstaan. Van die 169 respondente het 47 respondente (27.81%) aangetoon dat geen genotuleerde besluite oor die krisistoestand in die voorafgaande jaar geneem is nie.

 Die aanduiding van skaal 1 stem op 4 na, ooreen met die 51 respondente wat by die eerste stelling aangedui het dat die dalende lidmaatgetalle nie werklik 'n krisistoestand weerspieël nie.

 Skaal 2-6 verteenwoordig 'n klein speling, naamlik 'n wisseling tussen 3.55% en 7.10% soos deur 47 respondente aangedui is. Saam met skaal 1 weerspieël 94 (47 + 47) van die 169 repondente, dat 'n ondergemiddelde tot 'n mate van bewussyn oor die krisistoestand bestaan, maar dat geen aksie geneem is om die toestand van die dalende lidmaatgetalle te begin omkeer nie. Dit weerspieël weereens die aanwesigheid van die krisistendens. Skaal 7-10 verteenwoordig 75 respondente (44.38%) en weerspieël dat 'n bewussyn van die krisissituasie reeds erken en aanvaar is, en dat 'n aantal gemeentes wel in die voorafgaande jaar begin het om iets, in 'n mindere of meerdere mate, aan die toestand, te doen.

Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat ietwat meer as die helfte van die afgevaardigdes van die 2012-Sinode, tydens 2011 in elkeen se betrokke gemeente, geen genotuleerde besluite geneem het om daadwerklike aanpassings in verband met die dalende lidmaaatgetalle daar te stel en deur te voer nie.

Om die kern van die dalende lidmaatgetalle aan die hand van die 57 geskrewe aanpassings wat by die tweede stelling van die vraelys genoem is, te verstaan, is dit nodig om te weet dat hierdie groep leiers reeds vóór die 2012-Sinode tot die besef (denke) gekom het dat die krisissituasie nie direk oor dalende lidmaatgetalle gaan nie, maar dat dit wel oor die uitvoering van die Groot Opdrag gaan (met die implikasie van 'n balans tussen opbou en uitbou ten einde organiese groei binne 'n eenheidsisteem te bewerkstellig).

Verwerking van die inligting: genotuleerde besluite

Nadat die stelling deur middel van die 1-10-skaal benader is, is aan die respondente gevra om aan te dui watter aanpassing(s) in hulle gemeentes voorgestel is ten einde te begin om die krisissituasie te hanteer. Van die 75 respondente wat die skaal 7-10 aangegee het, het 57 ('n) aanpassing(s) genoem wat oënskynlik in 2011 genotuleer is.

Die aanpassings van die 57 repondente wat reeds in 2011 genotuleer is, word hier onder gegroepeer volgens die gemeentes wat in hulle denke 'n mate van verskuiwing aangetoon het, maar skynbaar hoofsaaklik steeds op opbou fokus, of diegene wat skynbaar hoofsaaklik op uitbou fokus. Die aanpassings van die 57 respondente word verder verdeel volgens aanpassings wat die eenheidsisteem van opbou en uitbou vertoon, asook die aanpassings wat aantoon dat die praktiese verstaan van die Groot Opdrag skynbaar nog nie deurgesuur het nie. Uit laasgenoemde groepering blyk dit dat aanpassings nie bespreek of genotuleer is nie en dat kerkkrimping nie akuut ervaar word nie, met die gevolg dat aanpassings, wat 'n missionêre bediening insluit (Groot Opdrag), nie oorweeg word nie.

Aanduidings van dit wat in 2011 genotuleer is

Van die 169 respondente het 112 (66.27%) nie hierdie deel van vraag 2 beantwoord nie. Die respondente wat wel op hierdie deel van stelling 2 skriftelik gereageer het, se aanduidings word hieronder genoem. Indien daar meer as een respondent is wat dieselfde mening gehuldig het, is die aantal tussen hakies geplaas.

Genotuleerde sake wat hoofsaaklik op die opbou van die gemeente gefokus is:

 'n Groter fokus word op jong werkendes of die jeug geplaas (4).

 Tematiese Bybelstudies word in die wyke deur die ouderlinge gedoen.

 Die gemeente word aangemoedig om gelowiges en afgedwaalde gelowiges op te soek, om laasgenoemde te evangeliseer en na die kerk toe terug te bring (2), om meer betrokke in die gemeente te raak, en om families aan te moedig om by die kerk betrokke te raak.

 Verwittig predikante by universiteite van die jongmense wat in daardie omgewing studeer, selfs al is die attestate reeds by die universiteitsgemeentes ingehandig.

 Aanpassings is aangebring in die sing van liedere, ten opsigte van huisbesoek, verskeie aspekte met betrekking tot die liturgie, asook die doelwitte wat gestel word en hoe dit met die gemeente gekommunikeer word.

 Skerp die kerkraad op, werk aan bydraes, groepe en wyksfunksies.

 Die predikant moet meer huisbesoek doen.

 Die kerkraadslede meld evangelisasiegevalle aan en bespreek elke geval tydens die vergadering.

 Intensiewe leierskapsontwikkeling, asook intensiewe diaken- en ouderlingopleiding (2) en lidmaattoerusting vind plaas.

 Gemeentebouprojekte skop af.

 Die skep van 'n bewustheid dat verandering die kerk se voorland is.

Genotuleerde sake wat hoofsaaklik op die uitbou van die gemeente gefokus is:

 Evangelisasie onder straatmense, in die eie gebied (strooibiljette in posbusse) (2), in die township, deur middel van Koningskinders en ook buitelandse projekte.

 Evangelisasie en direkte hulp vir 'n swart gemeente om die evangelie te kan verkondig en 'n kerkgebou op te rig.

 Meer tyd word vir die dominee geskeduleer om sending en evangelisasie te doen, en meer geld word daarvoor beskikbaar gestel.

 Bediening deur 'n geroepe en bevestigde VDM in die swart woonbuurte.

 Bediening onder Engelssprekendes in die omgewing en/ of Engelse eredienste (2).

 Samewerking met buurgemeentes (2).

Genotuleerde sake wat op die opbou én uitbou van die gemeente gefokus is:

 Verskuif die gemeentefokus van interne gemeentebediening na buite-gemeentelike bediening, terwyl die gemeente bedien word om Christus se gawes te beleef en missionaal te lewe (3).

 Bediening binne geloofsfamiliegroepe vind plaas in die plek van tradisionele wyksbediening deur die ouderlinge. Binne die groepsbediening word veral op die jeugdige lidmate (21-30 jaar) gefokus. Terselfdertyd word aan evangelisasie onder kleurlinge en plakkers (Caritas) gewerk (2).

 'n Poging om die gemeente strategies te lei om haar roeping meer effektief uit te leef.

 Daar is 'n groter sendinggerigtheid en befondsing vir evangelisasieprojekte en kursusse. Bybelstudiegeleenthede wat gerig is op die nuwe lidmate wat opgeneem gaan word. Aandag aan die jeug veral na die aflegging van geloofsbelydenis.

 Die samesmelting van twee gemeentes het plaasgevind ter wille van effektiewer bediening van die evangelie.

 'n Verskerping van die toerusting van lidmate met die oog op evangelisasie (3) en om die gemeente in gasvryheid te oefen.

 Bearbeiding van die lidmate om hulle aan te spoor om vriende, bure en familie met die gemeente vertroud te maak.

 Die skep van 'n multikulturele erediens (2).

 Die daarstel van 'n multikulturele gemeente nadat 'n deeglike studie gemaak is, sodat die proses nie mettertyd uitrafel nie. Veldtogte was deel van die proses en die liturgie is sodanig aangepas dat die lidmate daarin kan deelneem.

 Preekreekse en Bybelstudie fokus op 'n tema en ander en/of nie-lidmate word dan genooi om dit by te woon (2). Reël Gaste-Sondae. Doen meer uitreike.

 Naby en ver uitreike, onder andere om afstandsonderrig saam met Mukhanyo Bible College te begin, die blootstelling van katkisante aan evangelisasie, preekreekse om verskillende fasette te behandel. Die toets van alle besluite om vas te stel of die doel bereik word of nie.

 Diensgerigte en verhoudingsgerigte bediening van die hele gemeente (alle bevolkingsgroepe) en jongmense.

 Kerkplanting en kerkgroei.

Die beantwoording van die tweede deel by stelling 2 wat getuig dat aanpassings nie bespreek of genotuleer is nie, is soos volg gestel:

 Die Here se verkiesende genade moet ons vertrekpunt wees.

 Die omkeerstrategie (2) in terme van die Groot Opdrag kom van die Here, maar ons moet dit uitvoer.

 Die suiwer bediening van die Woord (3), sakramente en die tug is belangrik.

 Die sinode het deputate aangewys om die saak van eenheid in verskeidenheid te ondersoek. Hierdie ondersoek behoort op die Skrifbeskouing gerig te wees en om die seën van die Here af te wag, of om verwerping te verwag (aanvaar).

 Onderwerp ons aan die leiding van die Heilige Gees en die Woord van God (2).

 Ja, dit is indringend in ons kerkraad hanteer.

 Ons sal lidmate van ander kerke moet trek.

Die beantwoording van die tweede deel van stelling 2 wat getuig dat die respondent in 'n gemeente is waar kerkkrimping nie akuut ervaar word nie en dat aanpassings, wat 'n missionêre bediening insluit (Groot Opdrag), nie oorweeg word nie, is soos volg:

 Die getalle groei sterk en/of daar was geen dalende lidmaatgetalle nie (3).

Stelling 3

Die derde stelling lui soos volg: Die teikengroep wat gemeentes se lidmaatgetalle deur daadwerklike evangeliserende optrede kan laat toeneem, is die totale Suid-Afrikaanse bevolking in sy verskeidenheid (verskillende tale, kulture, ens.). Hierdie stelling is op dieselfde skaal as die eerste twee vrae benader. Die aantal respondente was ook dieselfde, alhoewel vyf respondente hierdie vraag nie beantwoord het nie. Die aantal respondente wat dit wel beantwoord het, was derhalwe 164.

Statistiek en grafieke

Hieronder is die statistiek (Tabel 3: Denkstand na aanleiding van stelling 3) en die grafiek (Figuur 3: Denkstand na aanleiding van stelling 3) van die respondente se denkstand na aanleiding van bogenoemde stelling.

 

 

 

 

Bespreking na aanleiding van die bevindings

 Die grafiek wat die respondente se denke oor stelling 3 openbaar, toon twee groepe. Die eerste groep word aangedui deur skaal 1-7, en die tweede groep deur skaal 8-10.

 Die a-deel van die eerste groep is opgebou deur 27 respondente wat deur middel van skaal 1-4 (16.46%) persentasiegewys tussen 3.05% en 5.49% wissel. Die b-deel van die eerste groep betrek 13 respondente (7.93%) wat hulle denke deur skaal 5 aangetoon het. Die feit dat skaal 5 opsigtelik hoër vertoon as skaal 1-4, kan moontlik 'n aanduiding wees dat die 13 respondente hulself eerder op die halfpadskaal op pad na skaal 10 toe wil plaas, aangesien gewilligheid tot 'n Afrika-gerigtheid dan gelykbreek met onwilligheid tot 'n Afrikagerigtheid.

 Skaal 5-7 as die c-deel van die eerste groep, wissel getallegewys slegs tussen 10 en 13 respondente. Dit dui op 35 respondente (21.34%), in vergelyking met die 27 respondente (16.46%) in die voorafgaande skale (1-4). Dit dui aan dat 'n groter persentasie respondente bewus is van die eise omtrent hierdie stelling, veral as gekyk word na die voorafgaande aantal respondente wat skynbaar onbewus is van die eise.

 Die persentasie respondente wat 'n bewussyn en 'n ondergemiddelde bewussyn toon in terme van Afrika-gerigte denke, is 37.8%.

 Die tweede groep is opgebou deur respondente wat skaal 8-10 aangetoon het. Dit is weereens opvallend dat skaal 9 (soos by stellings 1 en 2) nie prominent figureer nie. Dit kan 'n aanduiding wees dat die respondente in hulle denke die bewuste toestand wat vereis word, grootliks erken en aanvaar. Hierdie groep bestaan uit 102 respondente (62.20%).

 Die oorwig respondente getuig dat 'n verskuiwing reeds in hul denke plaasgevind het; 'n denkverskuiwing wat gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag en die Groot Gebod as eerste prioriteit wil stel en daarmee tegelyk 'n Afrika-gerigtheid wil voorstaan. Hierdie bevinding is insiggewend, aangesien hierdie vraelys die Sinodebesluit in verband met die omkeerstrategie, twee dae vooraf gegaan het.

Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat bykans twee-derdes van die afgevaardigdes erken en aanvaar dat die Suid-Afrikaanse bevolking (verskillende tale, kulture, ens.) in sy totale verskeidenheid, die teikengroep is wat 'n gemeente se lidmaatgetalle deur daadwerklike evangeliserende optrede kan laat toeneem.

 

Gevolgtrekking

'n Denkverandering vind plaas wanneer kennis toegevoeg word; in hierdie geval is dit kennis en verstaan rondom kerkgroei en kerkkrimping soos in die Groot Opdrag vervat is. Kennis hieroor begin by die talle verweefde faktore waarby God en die mens binne die verbond betrokke is. Met die verbond as beginpunt kan die huidige communitas-golf van dalende lidmaatgetalle gelowig benader word, deurdat alles menslik moontlik bedink en gedoen moet word om die afwaartse golfbeweging te wysig. Kennis bemagtig die mens om te besef dat 'n denkverandering en lewenskragtigheid binne die konteks van groei en krimping, moontlik tot die begin van die societas-fase kan lei. Kennis aangaande die bevel van die Groot Opdrag, laat die gelowige besef om die eenheidsisteem as 'n hoë prioriteit te benader. Die kennis dring die mens tot aktiewe aanpassings deur Skrifbeginsels volledig te bedink en uit te voer - ongeag hoe groot die aanpassings ook al mag wees. Dit behels om met nuwe gefokusde denke en dade na die beste praktiese uitvoering van die bevel te soek, veral indien die gemeente introvert-georiënteerd is weens 'n skeefgetrekte kerkpraktyk. Die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel sluit direk hierby aan. In hierdie proses is geloofsvertroue en geloofswaagmoed belangrike kenmerke, aangesien dit die vrug van die wete is dat die Verbondsgod se mag, beloftes en riglyne altyd geldig is, ook in die hede. 'n Denkverandering kan die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde gelowige by 'n nuwe roepingsbesef bring ter wille van al die nasies in Suid-Afrika - tot eer van God.

Die enigste terrein waar die mens 'n bewustelike en aktiewe inset teen die krimpingstendens kan lewer, is op die vlak van denkverandering. Tog is die mens nie hierin alleen nie, aangesien die Groot Opdrag, asook Romeine 12:2, 'n denkverandering binne die verbond teologies begrond. Verder versterk sosiologiese insette oor 'n denkverandering die teologiese begronding. In die wete dat die GKSA as verbondskinders deel is van die huidige beweeglikheid binne die Christelike godsdiens, kan 'n verskuiwing weg van 'n skeefgetrekte ekklesiologie (en wel terug na gehoorsaamheid aan die wil van God), gelowiges in die krisissituasie laat moed skep. Hoop motiveer die gelowige om met groter geloofsvertroue en geloofswaagmoed aan God se beloftes vas te hou. Ontkiemende tekens, sprekend van 'n denkverskuiwing, behoort derhalwe tot troos en bemoediging vir die GKSA-gelowiges te dien.

Die strewe om die denke te vernuwe en om die Groot Gebod en die Groot Opdrag prakties in 'n totaal nuwe aanpak te beoefen, behoort aan diegene wat verskuiwende denke ten spyte van onsekerhede ervaar, verdere momentum te gee soos die stoomrollertendens dit ook aandui. Die geheim rondom die beginsels vir kerkgroei (Groot Opdrag), in kontras met die dalende lidmaatgetalle, behoort mettertyd deur verskuiwende denke 'n geopenbaarde én openbare saak te word. Dit behoort algemene kennis te word, van teologiese opleiding tot by die jongste lidmaat êrens in Suid-Afrika.

Waarneming (denke) van introversie, I-denke en die afwesigheid van 'n missionêre bediening behoort gelowiges binne die krisis sensitief te maak en terug te dring na die Skrifbeginsels wat deur die Hoof van die kerk self aan sy volgelinge gegee is. Aangesien verandering vanuit 'n gevestigde opboutradisie as ingrypend beleef word, is dit vanselfsprekend dat verskuiwing nie oornag gebeur nie. Terselfdertyd moet die gelowige besef (denke) dat niemand anders nie as die mens die krisis moet hanteer; 'n krisis wat hy self deur oordrewe I-denke geskep het. Die gelowige wat 'n denkverandering beleef, weet wat die Skrifroete vir groei is en dat Christosentriese denke bepalend is. So 'n gelowige weet ook dat doelbewuste beplanning (dade) asook die deurvoer en opvolg daarvan gedoen moet word om 'n gesonde terrein vir groei daar te stel, sodat die Gees dit kan gebruik indien dit sy wil is.

Denke en dade wat van 'n selfgerigte oorlewingstryd binne 'n gemeente spreek, pas nie waar denkverandering ter sprake is nie. Die leierskap sal derhalwe aan die voorpunt van die verandering moet wees, sodat die gemeente gerig en begelei kan word om tot nuwe insigte, inkeer en omkeer op die onbekende pad vorentoe te kom. Op hierdie pad sal die gelowiges dieselfde tekens van die stoomrollertendens vertoon, en leiers moet besef dat elkeen binne sy eie pas begelei moet word om tot 'n wilsbesluit rakende verandering te kom. 'n Bewusmaking van wat die omvang van die omkeer behels, is derhalwe nodig aangesien 'n denkverandering nie slegs hier of daar iets tydelik verander nie. 'n Omkeer in denke en dade behels 'n totale en diep verandering en kan net deur gebed en afhanklike geloofsafwagting in beweging kom. Enige vorm van stagnasie wat in enige van die agt kermerke van die kerkpraktyk voorkom, moet daarom bewustelik beveg word en met verstandige bestuur vermy word.

Tekens van 'n denkverskuiwing bied troos, omdat die mens die ontkiemingsfase van denkverandering kan waarneem; 'n verandering wat deur God begin word deur die wil om te verander in die mens te plaas, naamlik om die ou mens se denke af te lê en as 'n nuwe mens met nuwe denke op te staan. Uiteraard sal verskillende denkstande aan die begin van die verskuiwingsproses waargeneem word, omdat die proses in elke gelowige op sy eie tyd afspeel. Inderdaad spreek die denkverskuiwingsproses van 'n oorgangstydperk; die bevindings van die steekproef lewer duidelik bewys daarvan. Denkverskuiwing wat deur die Groot Opdrag gerig word, is die afgelope nege jaar duidelik in die GKSA-Sinodes waarneembaar. Gereformeerdes behoort waarnemend te fokus op die denkverskuiwing wat binne die 2012-GKSA-Sinode plaasgevind het, aangesien die omkeerbesluit van 2012 die vrug is van 'n denkverandering wat skynbaar steeds besig is om plaas te vind; die GKSA, as die kleinste susterskerk, kom as voorloper op die gebied van denkverandering na vore deur te reformeer en waarlik deel te wees van die universele marsbevel.

Ten spyte van talle veranderlikes tydens die steekproef, byvoorbeeld afwesighede, moegheid, beperkte tyd om die vraelys in te vul wat ook die opstel van die stellings beïnvloed het, toon die bevindings dat die moontlikheid van 'n ontkiemende denkverskuiwing terug na die beginsels wat vir kerkgroei (Groot Opdrag) neergelê is, wel waargeneem word. Die stellings het aangetoon dat die GKSA-afgevaardigdes by die 2012-Sinode grootliks van mening is dat die dalende lidmaatgetalle in gemeentes 'n krisissituasie weerspieël. Verder is tekens van verskuiwende denke duidelik sigbaar, alhoewel steeds meer as die helfte van die afgevaardigdes getuig het dat geen genotuleerde besluite in die gemeentes geneem is vir daadwerklike aanpassings en die deurvoer daarvan, in 'n poging om die dalende lidmaatgetalle sinvol te verander nie. Ten spyte hiervan is daar wel 'n verskuiwende tendens in die rigting van 'n omkeer te bespeur, deurdat die afgevaardigdes grootliks laat blyk het dat lidmaatgetalle slegs kan groei as die Suid-Afrikaanse bevolking in sy totale verskeidenheid, deur daadwerklike evangeliserende optrede, benader word; daadwerklike optrede wat spruit uit gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag en die Groot Gebod.

 

Slot1

In hierdie artikel is die moontlikheid van 'n denkverskuiwing bespreek en aan die hand van 'n steekproef onder die afgevaardigdes van die 2012-GKSA-Sinode, aangetoon dat 'n bewussyn, dus 'n verskuiwing in denke, aan die gang is. Die krisissituasie wat die gereformeerde gemeentes ervaar in verband met dalende lidmaatgetalle is die dryfveer wat sommige gelowiges reeds laat besef het dat slegs bekering, terug na die eise van die Groot Opdrag, menslik gesproke die enigste uitweg is. Die verskuiwing toon dat van introverte I-denke wegbeweeg word na Christosentriese denke; denke wat tot uiting kom in dade en besluite met groei (deur die eenheidsisteem) as doel, in navolging van die Groot Opdrag - tot eer van God.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Acta kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.         [ Links ]

Altemeyer, B., 2004, 'The decline of organized religion in Western civilization' [Die agteruitgang van georganiseerde godsdiens in die westerse samelewing], International Journal for the Psychology of Religion 14(2), 77-89. http://dx.doi.org/10.1207/s15327582ijpr1402_1        [ Links ]

Barret, D.T., Kurian, G.T. & Johnson, T.M., 2001, A comparative survey of churches and religions in the modern world, Oxford University Press, Oxford. (World Christian Encyclopedia, Vol. 1.         [ Links ])

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission - Paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books, New York.         [ Links ]

Brouwer, R., De Groot, K., De Roest, H., Sengers, E. & Stoppels, S. (reds.), 2007, Levend liggaam: Dynamiek van christelijke geloofsgemeenschappen in Nederland, Kok, Kampen.         [ Links ]

Burger, C., 1995, Gemeentes in transito - Vernuwingsgeleenthede in 'n oorgangstyd, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Burger, C., 1999, Gemeentes in die kragveld van die Gees oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus, BUVTON, Stellenbosch, (Gemeente en bediening 4.         [ Links ])

Burger, I., 2007, 'Kerk groei al hoe meer in Europa', Beeld, 17 September, bl. 12.         [ Links ]

Cameron, H., Richter, P., Davies, D. & Ward, F., 2005, Studying local churches: A handbook, SCM, London.         [ Links ]

Chaffee, P., 2004, Claiming the light: Appreciative inquiry and congregational transformation, viewed 10 June 2008, from www.congregationalresources.org/Appreciative/Introduction        [ Links ]

Cloete, S., 2008, ADGO Lidmaatbemagtiging, besigtig 10 Mei 2010, vanaf http://www.ngkerk.org.za/documents/Lidmaatbemagtiging.pdf        [ Links ]

Cooperrider, D.L. & Whitney, D, 2005, Appreciative inquiry - A positive revolution in change, Berrett-Koehler, San Fransisco.         [ Links ]

De Klerk, B.J. & Van Helden, P., 2011, 'Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in Suid-Afrika', Verbum et Ecclesia, 32(1), 1-10. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v32i1.477        [ Links ]

De Kock, H.K., 2003, ''n Prakties-teologiese beoordeling van Natural Church Development se agt kwaliteitseienskappe van groeiende kerke', MA-skripsie, Fakulteit Teologie, PU vir CHO, Potchefstroom.         [ Links ]

De Wet, F.W., 2000, 'Geloofswaarneming - 'n Teologies-estetiese benadering tot Praktiese Teologie', PhD-proefskrif, Skool vir Praktiese Teologie, PU vir CHO, Potchefstroom.         [ Links ]

Du Toit, B., 2000, God? Geloof in 'n postmoderne tyd, CLF-Uitgewers, Bloemfontein.         [ Links ]

Du Toit, F., Hofmeyr, H., Strauss, P. & Van der Merwe, J., 2002, Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie, Barnabas, Bloemfontein.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2009, ''n Prakties-teologiese perspektief op kerkwees met besondere verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', PhD-proefskrif, Fakulteit Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Erasmus, J.C. & Hendriks, H.J., 2003, 'Religious affiliation in South Africa early in the new millennium: Markinor's World Values Survey' [Godsdienstige affiliasie in Suid-Afrika vroeg in die nuwe millennium: Markinor se World Values Survey], Journal of Theology for Southern Africa, 117, 80-96.         [ Links ]

Floor, B., 2007, 'Hoe ontvang ons die Heilige Gees?' Die Kerkblad, Mei, 19, 20.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1979, Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Jaargang 105, Geredigeer deur F.R.P. de Bruyn, Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1989, Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Jaargang 115, Geredigeer deur F.R.P. de Bruyn, Potchefstroom Herald, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2000, Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Jaargang 126, Geredigeer deur S.P. van der Walt, United Litho, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2003, Acta - Handelinge van die agt-en-veertigste nasionale sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 2003 en die volgende dae en tweede addendum van die emeritaatsversorgingskombinasie, V & R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2006, Acta - Handelinge van die nege-en-veertigste nasionale sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2006 en volgende dae en derde addendum van die emeritaatsversorgingstrust, V & R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2009, Acta - Handelinge van die vyftigste nasionale sinode en tiende sinode Middellande in die eerste algemene sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 2009 en volgende dae, V & R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2012, Acta - Handelinge van die tweede algemene sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2012 en volgende dae, V & R Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Gilbert, D.E., 2004, '"Deep change" or "slow death"? A practical road guide for the highway of change - A learning manual for church boards', DM thesis, Faculty of Theology, Western Theological Seminary.         [ Links ]

Giliomee, H., 2004, Die Afrikaners - 'n Biografie, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Gill, R., 2003, The 'empty' church revisited, Ashgate, Burlington.         [ Links ]

GKSA kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika        [ Links ]

Hendriks, H.J., 1996, 'Kerkspieël en die NGK statistiek in die wyer perspektief van die Suid-Afrikaanse bevolkingsensusse 1911-1991', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 37(1), 38-145.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 2000, 'Di6e Suid-Afrikaanse godsdienstige landkaart aan die begin van die nuwe millennium: Tendense in die eerste post-apartheid bevolkingsensus', Praktiese Teologie in Suid-Afrika 15(2), 73-97.         [ Links ]

Hendriks, H, J, 2003, Die toekoms van die kerk, die kerk van die toekoms, besigtig 10 Mei 2010, vanaf http://academic.sun.ac.za/theology/Profiles/Profile_documents/Prof_Jurgens_Hendriks_Intreerede.pdf        [ Links ]

Hofmeyr, J.W. & Pillay, G.J. (ed.), 1994, A history of Christianity in South Africa, Vol. 1, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Joubert, S., 2008, 'Kerke wat gedy: Doeltreffender kerklike programme nie die antwoord', OosKaap eNuus 6(37), Nov, besigtig 10 Mei 2010, vanaf http://www.ngkok.co.za/enuus/eNuus_2008-37_13_Nov_2008.htm#b01noord        [ Links ]

Lloyd-Jones, D.M., 1978, Studies in the sermon on the mount, One volume ed., InterVarsity, Leicester.         [ Links ]

McLaren, B.D., 2006, The secret message of Jesus: Uncovering the truth that could change everything, Thoms Nelson, Nashville.         [ Links ]

Nederduits Hervormde Kerk, 1981, Almanak, Jaargang 75, Geredigeer deur P.S. Dreyer, N.H.W. Pers, Pretoria.         [ Links ]

Nederduits Hervormde Kerk, 1990, Almanak, Jaargang 84, Geredigeer deur P.S. Dreyer, Gutenberg, Pretoria-Wes.         [ Links ]

Nederduits Hervormde Kerk, 2001, Almanak, Jaargang 95, Geredigeer deur J.G.M. Storm, SENTEK.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1980, Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke, Jaargang 131, Nasionale Boekdrukkery, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1990, Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke, Jaargang 141, Geredigeer deur F. Gaum, Nasionale Boekdrukkery, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2000, Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke, Jaargang 151, Geredigeer deur F. Gaum, Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk, Tygervallei.         [ Links ]

NGK kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk        [ Links ]

NHK kyk Nederduits Hervormde Kerk        [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede, Lux VerbiBM, Wellington.         [ Links ]

Olivier, I.J., 2006, 'The strategic task of the church in creating spaces for spirituality', PhD thesis, Faculty of Theology, NWU, Potchefstroom.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 2010, Die noodsaak van metateoretiese aspekte rakende 'n hermeneutiese benadering tot die Praktiese Teologie, Ongepubliseerde artikel, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Runia, K., 1988, Waar blijft de kerk? Kok, Kampen.         [ Links ]

Schalekamp, M.E., 2005a, 'Multikulturele kerkplanting: Ons moet hande vat met ander gelowiges en kerke', Die Kerkblad, August, bl. 24-27.         [ Links ]

Schalekamp, M.E., 2005b, 'Missiones Ecclesiae: 'n Missionêre visie en strategie in gemeentebou ten opsigte van multikulturele kerkplanting', PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, NWU, Potchefstroom.         [ Links ]

Schwarz, C.A., 1999, Paradigm shift in the church - How natural church development can transform theological thinking, ChurchSmart Resources, Emmelsbüll.         [ Links ]

Schwarz, C.A., 2000, Natural Church Development: A guide to eight essential qualities of healthy churches, S.A. ChurchWise, Randhart.         [ Links ]

Schwarz, C.A. & Schalk, C., 1998, Implementation guide to natural church development, ChurchWise, Randhart.         [ Links ]

Smit, C.J. & Vorster, J.M., 2000, 'Die GKSA en sy gereformeerde identiteit: Kan dit behou word in 'n postmoderne gemeenskap?' In die Skriflig 34(4), 515-533.         [ Links ]

Stilma, L., 1988, Op zoek naar de oorzaken van kerkverlating, Ten Have, Baarn.         [ Links ]

Strong, P., 2007, 'Romans 12:2 as an important paradigm for transformation in a Christian: A practical theological study, PhD thesis, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom.         [ Links ]

Tickle, P., 2008, The great emergence, Baker Books, Michigan.         [ Links ]

Van der Merwe, C., 2009, e-pos, 3 Maart, christo@kpo.co.za        [ Links ]

Van der Merwe, D.G., 2003, 'Jesus appoints his disciples as his agents to continue his divine mission according to John 17:17-19' [Jesus stel sy dissipels aan as sy verteenwoordigers om sy goddelike sending voort te sit volgens Johannes 17:119], Acta Patristica et Byzantina (14), 303-324.         [ Links ]

Van der Merwe, S., 2006, Julle sal krag ontvang ... julle sal my getuies wees'", Die Kerkblad, November, bl. 15-16.         [ Links ]

Van der Walt, T., 2007, Die Messias het gekom! 'n Gids in die Evangelies vir toegewyde Bybelstudente, 2e hers. uitg., Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom. PMCid:1855345        [ Links ]

Van der Watt, J. (red.), Bosman, H., Du Rand, J., Janse van Rensburg, F., Nel, M., Smit, D. & Venter, P., 2003, Die Bybel A-Z, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Van Helden, P., 2013, 'Denke as krisisterrein in die verskynsel van kerkkrimping by tradisioneel Afrikaanssprekende susterkerke', Verbum et Ecclesia 34(1).         [ Links ]

Van Helden, S., 2010, ''n Hermeneuties-empiriese strategie rakende die verskynsel van kerkkrimping in tradisioneel Afrikaanse susterkerke in Suid-Afrika - 'n Prakties-teologiese studie', PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, NWU, Potchefstroom.         [ Links ]

Van Helden, S., 2013, 'Institusionalisme - springlewendig in die kwynende Afrikaanse Gereformeerde kerkpraktyk', In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1).         [ Links ]

Van Rooy, J.A., 2006, 'Ons sendingerfenis ... en die vrugte na 100 jaar', Die Kerkblad, 21 September, bl. 21-22.         [ Links ]

Van Rooy, K., 2007, 'Kan die Gereformeerde Kerke hoegenaamd nog met die evangelie uitreik?' Die Kerkblad 109(3197), 39-41.         [ Links ]

Van Ruler, A.A., 1969, Theologisch werk, Deel 1, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Walls, A.F., 2002, The Cross-cultural process in Christian history - Studies in the transmission and appropriation of faith, Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Ward, K., 2004, 'Is New Zealand's future churchless?,' Stimulus 12(2), May, viewed 10 June 2008, from http://www.puk.ac.za:2048/login?url=http://search.ebscohost.com/login.aspx?direct=true&db=rfh&AN=ATLA0001591483&loginpage=Loginasp&site=ehost-        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Sophia van Helden
PO Box 16197
Lyttelton 0140, South Africa
Email: phia@telkomsa.net

Received: 24 July 2012
Accepted: 15 Mar. 2013
Published: 19 June 2013

 

 

Appendix 1

North West University: Eenheid vir Reformatoriese Teologie

Navorsing: Respondente - Afgevaardigdes van die 2012-GKSA-Sinode

Beantwoord asb. die volgende vrae anoniem deur gebruik te maak van die gegewe skaal - gemerk van 1 tot 10. Die blokkie met 1 dui daarop dat jou oortuiging die minste ooreenstem met die betrokke stelling. Die blokkie met 10 dui daarop dat jou oortuiging die meeste ooreenstem met die betrokke stelling.

 

 

 

1. In hierdie artikel word verwys na die tradisionele susterskerke (Nederduitse Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika). Dit impliseer dat die westers-georiënteerde Afrikaanssprekende gelowiges in Suid-Afrika dieselfde geskiedenis deel en tradisioneel op ongeveer dieselfde tydperk ontstaan het (Hofmeyr & Pillay 1994). Dit impliseer verder dat hulle in leer en lewe op die Woord en die drie Formuliere van Eenheid gegrond is.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License