SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1Metatheoretical points of departure with regard to scientific research in LiturgyStreams of living water: New Testament perspectives on the missional character of the church author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Metateoretiese vertrekpunte ten opsigte van wetenskaplike navorsing in gemeentebediening

 

Metatheoretical assumptions in scientific research about the ministry of the congregation

 

 

Gert Breed

School for Eccleciastical Sciences, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel is deel van 'n reeks oor die verrekening van die metateoretiese vertrekpunte in die wetenskap van Praktiese Teologie. Die eerste fase van die reeks bied die teoretiese onderbou vir die werklikheids-, hermeneuties- en wetenskapsteoretiese beskouing van die vak. Die tweede fase fokus op die invloed wat hierdie vertrekpunte op die wetenskaplike navorsing van die verskillende vakgroepe in die Praktiese Teologie het. Hierdie artikel handel oor die wetenskaplike benaderingswyse tot die navorsingsveld van gemeentebediening. In hierdie artikel word die persoonlike metateoretiese perspektief waarmee die vakgebied van gemeentebediening benader word, uitgespel en verantwoord ten opsigte van die volgende: die werklikheidsbeskouing waarmee daar op die navorsingsveld van gemeentebou gefokus word; die onderbou van die hermeneutiese beskouing wat nodig is om tot 'n verstaan te kom en tot 'n verantwoordbare verhouding tussen die elemente wat in die gemeentebouproses ter sprake kom; en ten slotte om die wetenskapsteoretiese benadering waarmee die navorsingsveld van gemeentebou op 'n wetenskaplik-verantwoorde wyse ondersoek kan word, te beskryf.


ABSTRACT

This article is part of a series about taking into account the metatheoretical assumptions in scientific practical-theological research. The first part of this series gives the theoretical foundation for the view on reality-theoretical, hermeneutical-theoretical and scientific-theoretical approaches to the research field. The second part focuses on the effect that these assumptions will have on the scientific research of the various subject groups in Practical Theology. This article describes the scientific approach to the research field of congregational ministry. This article describes the personal metatheoretical perspective from which the subject area is approached and gives account of the following: the view on reality with which the research field of congregational ministry is studied; the foundation on which the hermeneutical viewpoint is built to attain an understanding and a founded relationship between the elements that are applicable in the ministry of the congregation; as well as in the last instance, to describe the scientific-theoretical approach to the research field in a justified manner.


 

 

Inleiding

Hierdie artikel is deel van 'n reeks oor die verrekening van die metateoretiese vertrekpunte in die wetenskap van Praktiese Teologie. Die eerste fase van die reeks bied die teoretiese onderbou vir die werklikheids-, hermeneuties- en wetenskapsteoretiese beskouings van die vak. Die tweede fase fokus op die invloed wat hierdie vertrekpunte op die wetenskaplike navorsing van die verskillende vakgroepe in die Praktiese Teologie het. Hierdie artikel handel oor die wetenskaplike benaderingswyse tot die navorsingsveld van gemeentebediening.

Dit is duidelik uit onlangse ontwikkelings (soos hieronder beskryf; vgl. ook Ungerer & Nel 2011:1-5; Nel 2009a:1-3, 2009b:2) in hierdie vakgebied dat verantwoording oor die vertrekpunte waarmee navorsing oor die bediening van die gemeente benader word, nodig is.

Uit verskeie oorde klink die wekroep dat die kerk in haar bediening by die postmoderne mens moet aanpas (Dreyer 1997; Janse van Rensburg 2000; Pieterse 2002:78; Thompson 2000). Die postmoderne mens het 'n weerstand teen enige standpunt wat op hom afgedwing word of as die absolute waarheid voorgehou word (Louw 2003:35-36; McMinn & Hall 2000:251). Dreyer (2006a:1295) som die Postmodernisme se benadering tot die waarheid soos volg op: 'Waarheid hou altyd verband met die subjektiewe perspektief van die individu en berus op 'n netwerk van interafhanklike oortuigings.'

Daar word verskeie oplossings gebied vir die probleem wat deur die Postmodernisme geskep word soos die volgende: die 'emerging church'-beweging word as een van die oplossings aangebied om die kerk van ondergang te red. Hiervolgens moet daar 'n proses van dekonstruksie wees sodat daar 'n totale breuk met die verlede gemaak word, om daarna die kerk volgens die eise van die Postmodernisme te rekonstrueer (Lose 2003:12-17; Lyotard 1993:41; Niemandt 2007:50; Pieterse 2002:75; Ströh & Jaatinen 2001:148-165). Binne hierdie emerging church-beweging bestaan ook verskillende benaderings (Carson 2009:2; Devine 2009:7). Sommige emergent kerke laat die onderskeid tussen die wêreld en die kerk vervaag. Devine (2009:8) onderskei twee hoofstrome binne hierdie beweging, naamlik die dogmatoegeneë en die dogmavyandige stroming. Die dogmavyandige stroom kan wissel van agterdog teenoor die dogma, tot 'n totale weersin in enige dogma (vgl. ook Barbour & Toews 2010).

Wanneer 'n gemeente oor die bediening binne die gemeente en die bediening van die gemeente na buite moet besluit, kan dit op grond van verskeie redes gedoen word. Die leiers van die gemeente mag beïndruk wees deur die skynbare sukses van 'n bepaalde benadering in 'n ander gemeente en daarom besluit om dieselfde benadering in hulle gemeente toe te pas. Die gemeente se vertrekpunt is dan dat 'n bepaalde benadering wat elders werk, oral sal werk (Schwarz 1999:98-100). Die gemeente kan ook deur navorsing wat in die literatuur weergegee word, oortuig word dat die skrif vir die kerk aan die muur is indien daar nie ingrypende verandering kom nie. Hulle mag ook oortuig wees dat 'n verandering in die struktuur van die bediening ook verandering in die harte van mense sal bring (Gibbs & Coffey 2000:17-40). Verandering kan ook gemaak word ter wille van verandering, sonder dat die onderliggende vertrekpunte vir sodanige benadering duidelik uitgespel is (Olivier 2002:47).

Dreyer (2006b:1312, 1331) wys op die belangrikheid daarvan dat daar in hierdie postmoderne tyd ruimte vir 'n verskeidenheid oortuigings en benaderings tot gemeentebediening in die gemeente moet wees. Sy wys egter daarop dat daar grense aan die verskeidenheid moet wees, anders tree relativisme in. Schwarz (1999:10) wys op dieselfde noodsaak vir die uitspel van grense by die sogenaamde 'church growth movement'. Die 'church growth movement' was op die kwantiteitsgroei van die kerk gemik sodat die teologiese begronding dikwels skade gelei het.

Dit is juis hier waar die uitdaging vir die beoefening van Praktiese Teologie as wetenskap lê. Die antwoord op die vraag waar die grense lê, sal ook die vooronderstellings van die navorser verklap. Dit is belangrik vir die navorser om die grondoortuigings waarmee hy die ondersoek benader, uit te spel. Dit is vir homself belangrik, maar ook vir diegene wat sy navorsing bestudeer (Schwarz 1999). Niemandt (2007) se navorsing handel byvoorbeeld oor kerke se reaksie op Postmodernisme en hy gebruik die emerging churches as navolgenswaardige voorbeeld. Hy spel egter nêrens uit wat die grense vir sy goedkeuring van hierdie beweging met sy wye verskeidenheid (ook ekstreme) benaderings is nie (Chester & Timmis 2009:17). Niemandt (2007) verwys minimaal na die Bybel wanneer hy riglyne vir die gemeentebediening uitspel. Verskeie skrywers word wel aangehaal en die leser word na films en ander boeke aanbeveel. Die antwoord op die vraag waarvandaan die skrywer sy oortuigings ten opsigte van die kerk en gemeentebediening kry en die plek wat die Woord van God vir hom in sy navorsing oor gemeentebediening inneem, bly vir die leser egter onbeantwoord. Die kernvraag is of hierdie wyse van navorsing nie van Praktiese Teologie blote hermeneuse gemaak het nie. Die selfverstaan van die mens, sy eie ervaring en aksies is die bepalende faktor in die verstaan van die werklikheid. Die openbaring van God word uitgerangeer na 'n posissie van onderdanigheid aan die mens se belewing. Die swaartepunt verskuif vanaf openbaring as bepalende waarheid wat tot aksie lei, na ervaring as bepalende faktor van wat waarheid is (Anderson 1979:6).

Hierdie artikel het ten doel om die eie reformatoriese metateoretiese vertrekpunte ten opsigte van die gemeentebou te probeer formuleer. Daar sal ook verantwoording plaasvind ten opsigte van die vraag hoe bediening in 'n postmoderne samelewing op grond van vaste vertrekpunte moontlik is.

Vir die definisie word gebruik gemaak van die elemente wat Osmer (2008:58) gee waaruit 'n metateorietiese perspektief saamgestel is: 'A metatheoretical perspective, thus is composed of the assumptions about reality, knowledge and science that transcends particular research projects and theories.'

In die loop van hierdie artikel word die eie metateoretiese perspektief waarmee die vakgebied van gemeentebediening benader word, uitgespel en verantwoord ten opsigte van die volgende:

 Die werklikheidsbeskouing waarmee daar op die navorsingsveld van gemeentebou gefokus word;

 Die onderbou rakende die hermeneutiese beskouing wat nodig is om tot begrip en verantwoordelike inrigting te kom van die verhouding tussen die kommunikatiewe elemente wat in die gemeentebouproses ter sprake kom; en

 Die wetenskapsteoretiese benadering waarmee die navorsingsveld van gemeentebou op 'n wetenskaplik-verantwoorde wyse ondersoek kan word (De Wet & Pieterse 2010:525, 529).

 

Gemeentebediening en werklikheidsbeskouing

Wanneer navorsing oor gemeentebediening gedoen word, het die navorser se oortuigings oor wat die kerk is, 'n bepalende invloed op die navorsing. Die kerk moet nie in terme van wat sy doen gedefinieer word nie, maar in terme van wat sy is. Begrip van wat die kerk is, moet in die bediening en organisasie van die kerk ingedra word (Van Gelder 2000:21, 32). Enkele bepalende aspekte van die wese van die kerk word vervolgens uitgelig.

Die kerk as beeld van God

Die oorsprong van die kerk gaan terug tot by die skepping van die mens (vgl. Nederlandse Geloofsbelydenis art. 27). God skep die mens om as sy beeld en sy verteenwoordiger die aarde te bewerk, te bewaak en te vul.

Beeld van God-wees stel die mens in 'n werksverhouding tot God

Die mens moet die opdragte wat hy van God ontvang in gehoorsaamheid uitvoer. Hierin lê die mens se waarde en vreugde. Die eerste taak wat die mens ontvang, is om aan die diere wat God geskape het, name te gee (Gen 2). Hierdeur betrek God die mens by sy skepping en stel sy vertroue in die mens om die skepping van die diere met die naamgewing af te rond. Die mens se taak op aarde as medewerker van God word hiermee gedefinieer, om daartoe by te dra dat die skepping sy doel bereik (Chester & Timmis 2009:25). Jesus, die tweede Adam, het met sy lewe, sterwe en opstanding verseker dat die skepping weer sy doel sal bereik. Herhaaldelik bevestig Hy dat Hy slegs doen wat die Vader Hom gegee het om te doen en slegs sê wat die Vader Hom beveel het (Joh 8:38; 12:49; 14:10). Die Gees van God neem hierdie opdrag verder deurdat Hy die kinders van God slegs leer dit wat Jesus geleer het (Joh 16:13).

Jesus stuur sy dissipels uit soos die Vader Hom gestuur het, om sy verlossingsdade as uitverkorenes te verkondig (1 Pet 2). Hulle moet die taak wat God aan Adam en Eva opgedra het en deur Christus vervul is, naamlik om te verseker dat die skepping sy einddoel bereik, voortsit (Pickard 2009:143).

Wanneer die mens in gehoorsaamheid die taak volvoer wat God aan hom opgedra het, word God daar as Koning sigbaar (Nel 2011:2). Die kerk se taak is om mense te roep om die koninkryk deur geloof in te gaan (Richards & Martin 1981:51-64; Chester & Timmis 2009:27).

Die Gees van God dra deur die wedergeboorte die heerskappy van God in die mens se lewe in en stel die nuwe mens in diens van God. Daarom word gelowiges opgeroep om vervul te word met die Gees sodat hulle in diens van God kan staan en nie meer in diens van die sonde nie (Ef 5:18; Rom 6:13).

Die kerk bestaan uit mense in wie se harte die koninkryk van God gekom het. Gemeentebediening is daarop gerig dat God al meer in lidmate en in die gemeente as geheel sal regeer. Die gemeente het ten doel dat die koninkryk van God deur die verkondiging van die evangelie sal kom en dat ongelowiges onder die regering van God sal inkom (Chester & Timmis 2009:28).

Die kerk is 'n volk wat deur die verlossingswerk van God gevorm is. Haar unieke doel is om die verlossende werk van God sienbaar te maak: to demonstrate the reality of God's redemptive power - to live as a fellowship that demonstrates kingdom values and expresses kingdom power' (Van Gelder 2000:89, 118).

Beeld van God-wees bring die mens in 'n intiem-persoonlike verhouding met God

Jesus wat die volmaakte mens is en die volmaakte beeld van God uitstraal, illustreer dit met sy woorde: 'Wie my gesien het, het die Vader gesien' (Joh 14:9). Gelowiges behoort die heerlikheid van Christus uit te straal waardeur dit duidelik sal wees dat hulle meer en meer verander word na die beeld van God (2 Kor 3:18). Ook uit 1 Johannes 4:12 is dit duidelik dat wanneer gelowiges mekaar liefhet, God in hulle sigbaar word. Hierdie verhouding vind ook sy uitdrukking in die verbond van God. God se verbond is 'n belofteverbond. God kom uit louter genade na die mens en skenk aan hom sy versorging en leiding met die volgende woorde: 'Ek sal vir jou 'n God wees' (Gen 17:7; 2 Kor 6:16). Die eis van die verbond is dat die mens uit hierdie genade moet leef. Dit vind sy uitdrukking in die woorde: 'jy moet vir my 'n volk wees' (2 Kor 6:16). Hierin word die onbegryplike, dat die mens ook vir God iets ('n volk) kan wees, uitgedruk. God het die mens na sy beeld geskep omdat Hy 'n medewerker wou hê wat Hy kan liefhê, lei en versorg en wat Hom kan liefhê, volg en uit sy versorging kan leef (Grenz 2000:168 e.v.).

Hierdie aspek van 'beeld van God wees' word ook met die begrip dissipel verwoord. Jesus roep sy dissipels deur te sê: 'Volg my.' (Matt 9:9) Uiteindelik word Jesus se dissipels apostels wat Jesus se oproep om Hom te volg (Matt 8:22; 9:9; Mark 2:14) aan alle mense moet bring. Die mense wat dissipels word, moet in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop word en geleer word om alles te onderhou wat Jesus die dissipels geleer het (Matt 28:18-20).

Die kerk vertoon die beeld van God wanneer hulle Hom liefhet, vertrou en in gehoorsaamheid volg; hulle verheug in sy troue sorg en mekaar liefhet en in liefde uitreik na mense wat God nog nie ken nie (Van Gelder 2000:118). God se trou aan sy verbond en sy beloftes vind vervulling in Jesus Christus se koms na die aarde. Hy is deur Christus 'God met ons' - 'God met ons' sodat die kerk sy eiendom kan wees. Die Gees van God as vervulling van die 'ek sal vir jou 'n God wees'-belofte lei die kerk, vertroos hulle en leef en werk in hulle (Van Gelder 2007:3).

Die verhouding tussen God en sy volk word op 'n verskeidenheid maniere in die Ou sowel as die Nuwe Testament uitgedruk. Die profeet Hosea beeld hierdie verhouding uit met die verhouding van 'n man en sy vrou in die huwelik (vgl. ook Eseg 16).

Jesus noem sy dissipels sy 'vriende' en die kerk word in die boek Openbaring 'die bruid van Christus' genoem (Op 21:2, 9). Die kerk is ook die liggaam van Christus (1 Kor 12), die tempel van God en sy huisgesin (Ef 2).

Beeld van God-wees laat die kerk leef in verwagting van die verheerliking

Jesus as dié Een wat God kom openbaar het, het op aarde in verwagting van sy verheerliking geleef. Reeds op die berg van verheerliking word vir Hom 'n vooruitskouing gegee van wat vir Hom wag na die afhandeling van sy taak op aarde. Wanneer Hy teen die einde van sy lewe tot sy Vader bid (Joh 17), vra Hy die Vader om Hom te verheerlik sodat Hy die Vader kan verheerlik. Hy spreek ook sy verlange uit dat diegen e wat die Vader Hom gegee het, by Hom sal wees en sy heerlikheid sal aanskou (vgl. ook Fil 2). In Efesiërs 5 word dit duidelik uitgespel dat die doel van Jesus se reiniging van sy kerk is dat Hy 'die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik'. Hy het die kerk, deur die werk van die Gees, verheerlik sodat die kerk Hom ook kan verheerlik en Hy hulle eendag in volkome heerlikheid by Hom kan neem waar hulle Hom in ewigheid kan verheerlik (Grenz 2000:115).

Beeld van God-wees getuig van God as die Een wat die kerk tot stand bring en onderhou

God het die mens na sy beeld en sy gelykenis geskep. Met die sondeval is hierdie beeld onmeetlik in die mens geskaad. God het egter nie van sy doel met die mens afgesien nie en is steeds met die mens op weg sodat sy uitverkorenes eendag in volmaaktheid sy beeld en heerlikheid sal vertoon. Om hierdie doel te bereik, maak God sy kinders deel van sy volk, sy kudde, sy huisgesin en sy kerk. Die kerk is die ruimte waar God se Gees die groei in elke gelowige wil laat gebeur (Grenz 2000:112-114). Daarom is elke lidmaat soos 'n lewende steen wat saam met die ander stene in Christus tot 'n woning van God opgebou word (Ef 2:19-22). In hierdie proses, waarin elkeen in die gemeente en ook die gemeente as 'n eenheid na volwassenheid in Christus groei, speel kennis en liefde 'n belangrike rol. Die groei vind immers plaas terwyl die gemeente saam die waarheid in liefde ondersoek (Ef 4:15). Hierdie groei bewaar hulle van die valse leer en daarvan dat hulle weg van die waarheid sal begin lewe. Die groei wat in die gemeente en in elke lidmaat plaasvind, word deur God gebruik om die wêreld na Christus te roep. Soos elke gelowige volgens die waarheid leef, is hulle sout en lig in hierdie wêreld (Newbigin 1989:232-233).

Uit die voorafgaande blyk dat:

 God elke mens na sy beeld geskape het;

 Om beeld van God te wees beteken: om God se werk hier op aarde te doen en om so te werk dat Hy oral Koning sal wees; om in 'n intieme liefdesverhouding met God te leef waarin Hy ons versorg en lei en ons Hom vertrou, volg en uit sy liefde leef; en om in die sekerheid te leef dat ons eendag weer volkome beeld van God sal wees wanneer ons saam met Christus in sy heerlikheid sal wees;

 Die kerk moet die beeld van God vertoon;

 Om beeld van God te wees hou die wedersydse verheerliking van God en mens of kerk in: God verheerlik die kerk deur haar met die bloed van sy Seun te koop en haar van alle sonde te reinig deur haar volkome aan te neem; die mens of kerk verheerlik God met 'n toegewyde lewe.

Die kerk as verlostes

Mense kan alleenlik beeld van God wees as hulle wedergebore is. Met die sondeval het die mens geestelik gesterf. Die mens se verstand is verduister en was onder die mag van die vors van die bose magte (Ef 2:1-2). Die ware kerk bestaan uit mense wat uit hierdie doodsbestaan verlos is (Rom 7:24). Die verlossing is bewerk deur die Vader wat sy Seun gestuur het omdat Hy alle dinge uit liefde vir die wêreld, onder sy Seun se heerskappy wil bring (Ef 1; Joh 3:16). Die Seun bewerk die verlossing deur die opdrag, om beeld van God te wees, volkome uit te voer en deur die straf op die mens se sonde te dra. Die Heilige Gees bewerk die verlossing deur die genade van die Vader en die Seun deur wedergeboorte, geloof en volharding in die mens se lewe in te dra. Die mens bewerk dus op geen manier sy eie verlossing nie; dit is 'n genadedaad van God wat die mens deur die geloof as geskenk ontvang (Ef 2; Tit 3; Joh 6; Doherty 1996:98-105).

Die kerk bestaan uit mense wat hierdie boodskap geglo het. Die ware gelowiges is nuut gemaak deur die Heilige Gees. 'n Kenmerk van hulle nuwe lewe is hulle liefde vir God en hulle naaste. Die stryd teen die bose duur egter voort en hulle bly swak mense wat biddend in die krag van die Heilige Gees die oorwinning oor die bose moet uitleef (1 Joh 2). Om dit te doen, moet hulle die volle wapenrusting van God aantrek (Ef 6). Die wapens waarmee hulle die oorwinning kan behaal, bestaan uit die waarhede van die evangelie. Hierdie waarhede is in die belydenisskrifte van die kerk saamgevat. Wanneer iemand die waarheid wat in die Woord van God beskryf word, uitleef, word die oorwinning wat Christus oor die sonde en die dood en die Satan behaal het, in sy of haar lewe 'n werklikheid. Jesus het gesê: 'As julle aan my woorde getrou bly is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.' (Joh 6:31.) Teenoor die waarheid staan die leuen waarmee Satan as mensemoordenaar die mense wil mislei sodat hulle nie die waarheid sal glo en sal lewe nie (Joh 6:44-47). Die kerk bestaan uit mense wat Jesus se woorde in die geloof aangeneem het en die verlossing wat Hy bewerk het in hulle lewens werklikheid maak deur meer en meer volgens hierdie waarheid te leef. Die onderrig in die waarheid en die begeleiding tot geloof en toepassing van hierdie waarheid is deel van die wese van die kerk. Die kerk is meer as oorwinnaars in Christus. Hulle taak is om deur die krag van die Gees hierdie oorwinning met oorwinning na oorwinning oor Satan en sy bose magte te bevestig (Ef 6). Omdat die kerk hierdie oorwinning slegs kan behaal wanneer hulle hul krag in God en in sy groot mag soek, is die kerk 'n biddende kerk (Ef 6). Elke faset van die gemeentebediening gaan van hierdie oorwinning uit (vgl. Purves 2010).

Die kerk: Eenheid, verskeidenheid en groei

Gemeentebediening vind optimaal plaas wanneer daar eenheid in die verskeidenheid bedienings en gawes in die kerk kom. In 1 Korintiërs 12 word hierdie balans met die beeld van 'n liggaam verduidelik. Almal in die gemeente is een liggaam, naamlik die liggaam van Christus. Soos 'n liggaam 'n verskeidenheid ledemate met elkeen 'n eie funksie het, so is dit ook met die liggaam van Christus. Die een lid kan nie sonder die ander een klaarkom nie en niemand kan sê dat hy of sy nie in die liggaam nodig is nie.

Die eenheid en verskeidenheid is ook daarin geleë dat daar in die liggaam mense is wat as besondere gawes aan die liggaam deur Jesus geskenk is (Ef 4:12). Hulle behoort die liggaam toe te rus vir hulle dienswerk. Hierdie toerusting het die einddoel dat almal tot die eenheid van geloof en die kennis van die Seun van God kom.

Hierdie opbouproses lei daartoe dat die liggaam al meer na volwassenheid in Christus groei, om só meer en meer soos Hy (sy beeld) te word (Ef 4:13).

Wanneer die gemeente en elke afsonderlike lid so groei, bou die liggaam homself op in liefde deur die ondersteuning wat elkeen aan die liggaam gee (Ef 4:16).

Gemeentebou en vernuwing.

Sommige navorsers motiveer die noodsaak van verandering vanuit vrees dat die kerk besig is om te sterf (Labuschagne & Nel 2010:1; Niemandt 2010:1; Ungerer & Nel 2011:1-2). Hulle wys op die postmoderne gees wat onder mense heers, die foute wat die kerke voorheen gemaak het en die gevolglike uittog van mense uit die kerk. Aanpassing en vernuwing moet volgens hulle daarop gerig wees om hierdie probleem te hanteer. Sodanige vertrekpunt sou 'n gemeente by 'n bediening kon uitbring wat deur die eise en behoeftes van mense bepaal word en die beginsels in die Skrif oortree. Dit is daarom belangrik om die vertrekpunte vir verandering en vernuwing in die bestuur in die gemeente duidelik uit te spel. Uitdagings op die pad van die gemeente moet gesien word as geleenthede wat die Gees skep vir groei en vernuwing. Vernuwing word dus vanuit die sekerheid van God se sorg en die oorwinning van Christus aangepak.

Gemeentebou: die verhouding tussen innerlike opbou en missionale gerigtheid

Chester en Timmis (2009:16) stel dit dat daar twee basiese beginsels is wat die werksaamheid van elke gemeente bepaal, naamlik dat die gemeente getrou moet wees aan die evangelie, maar dat die gemeente ook getrou moet wees aan die geloofsgemeenskap waarbinne al hulle aktiwiteite moet plaasvind.

Die feit dat die gemeente getrou is aan die evangelie beteken dat alles wat in die gemeente gedoen word volgens die Woord gedoen moet word en dat die gemeente die Woord na buite moet uitdra met elke aksie binne die gemeente. Die gemeente is draer en beskermer van die waarheid (Ef 3) en daarom is die gemeente 'n missionêre gemeente, 'n gestuurde gemeente. Die gemeente is egter ook missionaal daarin dat selfs die opbou na binne ook op uitreik na buite gerig is. Alle aktiwiteite van die gemeente vloei uit die onderlinge gemeenskap van die gelowiges voort. Die mense buite die kerk sal 'n gelowige alleenlik as dissipel van Christus herken deur die liefde wat hulle vir mekaar koester (Joh 13).

Geloofsgroei vind plaas deur die toerusting van die besondere dienste. Indien die toegeruste gemeente na ander mense uitreik, vind geloofsgroei by die gelowiges plaas (Schalekamp 2005:137). 'n Gemeente wat net op die innerlike opbou fokus en die uitreik na buite nalaat, verloor hulle missionale1 karakter en is ontrou aan hulle roeping. Alles wat hulle as gemeente saam doen en wat elkeen as deel van die gemeente doen, moet so gedoen word dat dit van die Koning van die kerk se heerskappy in hulle lewens getuig. Enigiemand wat met hulle kontak het, moet deur die Woord wat deur die gemeente uitgeleef word en die God wie se beeld hulle vertoon, aangeraak word.

Gemeentebou en verskillende fasette (modi) in die gemeentelewe

'n Ryke verskeidenheid woorde word in die Nuwe Testament gebruik om die verskillende fasette van die gemeentelewe te beskryf (De Kock 2003:32; Hendriks 2004:34; Schalekamp 2005:191). Hierdie fasette of modi staan in 'n besondere verhouding tot mekaar (De Kock 2003:32, 41).

Van Gelder (2000:50) toon aan dat die geloofsbelydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis vyf kenmerke van die kerk bely, naamlik die kerk is een, die kerk is heilig (afgesonder), die kerk is oor die wêreld versprei (katoliek), die kerk is 'n gestuurde kerk (apostolies) om die Woord uit te dra in die wêreld en die kerk is die gemeenskap van die heiliges. Schalekamp (2005:132-154) toon aan hoe hierdie vyf kenmerke van die kerk in die Efesiërbrief beskryf word.

Van Gelder (2000:53-55) is van mening dat die Reformasie 'n verskraling gebring het toe die kenmerke van die ware kerk tot die suiwer verkondiging van die Woord, naamlik die suiwer bediening van die Woord en die suiwer uitoefening van die tug, beperk is. Hiermee saam het die kerke te veel klem gelê op die bewaring van die kerk teenoor die valse leer en teenoor die valse kerk. Die gestuur-wees (apostolisiteit) en die eenheid van die kerk het nie genoeg klem gekry nie. Die klem het ook eensydig op die taak van die ampsdraers geval, terwyl die amp van die gelowige onderbeklemtoon is. 'n Verdere gevolg van hierdie drie kenmerke, as toetssteen vir die ware kerk, is volgens Van Gelder (2000:57) dat die klem te veel begin val het op dit wat die kerk doen en te min op wat die kerk is. Die klem in die bediening het al meer en meer na die amptelike prediking tydens die erediens en die bediening van die sakramente geskuif. Ander fasette of modi van die bediening het hiermee skade gely.

Daar kan ongelukkig nie in hierdie artikel op die geldigheid van hierdie argument ingegaan word nie (vgl. hiervoor Schalekamp 2005:125-130). Wat wel duidelik word, is dat die navorser homself van die verskeidenheid aspekte van die bediening in die gemeente sal moet vergewis en hulle verhouding tot mekaar, anders kan eensydighede in die bediening ontstaan. Die belangrike vraag wat in die navorsing beantwoord behoort te word, is wat die plek en verhouding tot mekaar is van die aanbidding (leitourgia), prediking (kerugma), onderrig (didaskalia), die getuienis (marturia), belydenis (homlogia), genadegawes (charisma), die dienswerk (diakonia), toerusting en hulp (katartismon), die pastorale sorg (paraklesis), oordeel (dikaiosune), administrasie (kubernesis), die onderlinge gemeenskap (koinonia) en ekumenisiteit (oikonomeo) (Hendriks 2004:34; Van der Merwe 2004:132).

Navorsing oor gemeentebediening word dus met die oortuiging aangepak dat die lewe van die kerk uit 'n ryke verskeidenheid fasette bestaan. Die oortuiging is ook dat daar telkens binne 'n bepaalde gemeente, kultuur en gemeenskap onder leiding van die Heilige Gees deur die Woord, die regte verhoudings en klemtone gesoek behoort te word.

 

Verrekening van metateoretiese aspekte rakende 'n hermeneutiese benadering tot gemeentebediening

In prakties-teologiese navorsing moet die probleem wat ter sprake is, verstaan word. Bybelse beginsels wat op die probleem van toepassing is, moet ontgin word en daar moet tot 'n moontlike oplossing vir die probleem gekom word. Wanneer navorsing oor gemeentebediening gedoen word, is dit belangrik dat die navorser homself oor sy vertrekpunte in hierdie hermeneutiese proses verantwoord. Dit wat hieronder volg, kan, na my oordeel, as hermeneutiese vertrekpunte in die reformatoriese navorsing oor gemeentebediening dien.

Die wese van die kerk bepaal die bediening van die kerk

In die proses om tot begrip van die navorsingsprobleem te kom en uiteindelik 'n werkbare oplossing te bereik, moet eerstens na die wese van die kerk gevra word. Daarna moet alle handelinge van die kerk gemeet word aan die vraag of dit in ooreenstemming is met hierdie identiteit van die kerk - die kerk moet doen wat sy is. Die vraag is dus na die kerk se roeping in hierdie wêreld.

Die derde stap in hierdie proses is dat die kerk dit wat sy doen sodanig moet organiseer dat sy haar identiteit effektief kan uitleef. Wanneer die kerk aksies aanpak vir enige ander rede as om haar identiteit uit te leef, word die energie wat in daardie aksie ingaan, vermors. Wanneer elke faset van die organisasie van die kerk nie daarop gerig is om die gelowiges in staat te stel om hulle roeping as kerk te vervul nie, mis die struktuur van daardie gemeente sy doel (Van Gelder 2000:24-26). Die navorser moet die bedieningstrukture ondersoek om die optimale struktuur te bepaal waarin die kerk sy identiteit in sy dienswerk kan uitleef.

Verskeie werklikhede speel 'n rol in die hermeneutiese proses

Die hermeneutiese proses in die navorsing, met die oog op gemeentebediening, vereis betrokkenheid van die navorser by die praktyk. Dit word duidelik wanneer gekyk word na die verskillende werklikhede wat 'n invloed op die bediening in 'n gemeente uitoefen:

Die eerste werklikheid wat in die hermeneutiese proses in ag geneem behoort te word, is die aktiewe handelende betrokkenheid van God deur sy Heilige Gees in die bestaan van die gemeente. Elke gemeente het 'n geskiedenis, dit wat die gemeente oor jare ervaar het, bepaalde kennis, vaardighede, geloofsvolwassenheid of geloofsarmoede en bepaalde worstelinge en gesindhede wat 'n invloed in die gemeente tot gevolg het (vgl. Ef 2:11-22; Heb 5:12-14; Op 2-3; Jak 1:2-4; 4:1-5:6). Elke gemeente bestaan uit bepaalde mense met besondere gawes, tekortkominge en sondes (1 Kor 1:26; Op 2-3) en hierdie samestelling is voortdurend aan die verander. Elke gemeente ontstaan en groei binne 'n bepaalde omgewing en tyd (kultuur). Hierdie omgewing en tyd (kultuur) is ook voortdurend aan die verander. God is by al hierdie dinge handelend, skeppend betrokke. Hy skenk gawes aan die gemeente (Ef 4). Hy beskik sekere lyding oor 'n gemeente en Hy tugtig 'n gemeente wat ongehoorsaam is (Op 2:5; 1 Kor 1:30-34). Die meeste gemeentes is ook deel van 'n kerkverband en 'n tradisie (bv. die Calvinistiese of Lutherse tradisie) waarin 'n bepaalde belydenis, kerkorde en besluite bedien word. In die hermeneutiese proses ten opsigte van gemeentebediening is die vraag: 'Waarmee is God in die kerk, kerkverband, hierdie gemeente, hierdie gemeenskap en in elke individu se lewe besig?', 'n noodsaaklike navorsingsvraag (vgl. Schwarz 1999:151-160; 233-237).

 Die tweede belangrike werklikheid wat in die hermeneutiese proses van die navorsing oor gemeentebediening in ag geneem behoort te word, is die konteks van lidmate wat bedien moet word. Wat is die nood, seerkry, rykdom, armoede, of omstandighede van die ledemate van hierdie besondere liggaam (1 Kor 12). Wat is die vrae wat in hulle gemoedere leef. Wat is die hindernisse wat dit vir hulle moeilik maak om hulle gawes voluit in die bediening te benut? Watter geleenthede is daar vir hierdie mense? Kwalitatiewe navorsing binne die gemeente kan hierin 'n belangrike rol speel. In groter gemeentes behoort daar vanuit die kwantitatiewe navorsing navorsingsvrae opgestel te word wat met kwalitatiewe navorsing gekontroleer behoort te word (Breed & De Kock 2011:781-783). Die pad na die vasstelling of verandering van 'n bedieningsplan is 'n pad wat saam met die gemeente geloop moet word en moet nie deur die leiers of enkelinge afsonderlik gedryf word nie. Deur met die gemeente te konsulteer, hulle voorstelle en besware aan te hoor, kan die Heilige Gees die navorser(s) van sigbare verandering tot verdere insig bring.

 Die derde belangrike werklikheid wat in die hermeneutiese proses van die navorsing oor gemeentebediening in ag geneem behoort te word, is die gemeenskap waarin die gemeente leef. Die vraag is: 'Wie is ons naaste?' en 'Wat wil die Here hê moet ons vir hulle wees?' 'n Gemeente is gemeente in 'n bepaalde plek en tyd. Elke gemeentelid bestaan, werk, kuier en speel in 'n bepaalde omgewing.

 Die vierde belangrike werklikheid wat 'n rol in die hermeneutiese proses speel, is die navorser self. Daar is bepaalde grense aan die navorsing van 'n navorser wat nie noodwendig binne 'n gemeente self is nie. Gemeentebediening is 'n baie unieke en intiem-persoonlike saak. Iemand wat nie binne 'n gemeente leef en nie die hartklop van die gemeente ken nie, kan nie alleen by 'n bedieningsplan vir 'n gemeente uitkom nie (Labanow 2009:42). Dit hang daarmee saam dat 'n bedieningsplan vir 'n gemeente moeilik oornag uitgewerk kan word. Gewoonlik lei die Gees van God 'n gemeente en sy leiers gaandeweg tot insig. Wanneer 'n gemeente voortdurend biddend na die wil van die Here vir die bediening van die gemeente vra, groei 'n bedieningsplan gaandeweg. Verskillende aspekte van die gemeentebediening sal selfs oor jare heeltemal verander of verfyn word. Wanneer 'n bepaalde bediening momentum kry, skep dit nuwe geleenthede wat die bediening in 'n nuwe rigting kan stuur. Deur worsteling heen lei die Gees die gemeente tot insig van hoe die bediening behoort te lyk (Niemandt 2010:2). Die hermeneutiese proses binne die gemeentebediening sal nooit ophou nie. Die hermeneutiese proses word deur die leiding van die Gees voortgesit wanneer probleme ontstaan of geleenthede oopgaan; dit gebeur ook wanneer daar deur die studie van die Woord of nadenke oor die gemeente of gemeenskap se nood tot nuwe insigte gekom word; en wanneer die navorser deur nadenke, navorsing of persoonlike omstandighede tot nuwe insigte gebring word.

Anderson (1997:27-28) maak 'n belangrike onderskeid tussen poiesis en praksis. Poiesis is die daarstel van 'n produk wat die doel op sigself is. Die navorser wat poiesis beoefen se werk is afgehandel sodra die eindproduk daargestel is. Praksis is die daarstel van 'n produk met 'n spesifieke doel en die navorser is by die bereiking van daardie doel betrokke. Indien 'n navorser van buite 'n bedieningsplan vir 'n gemeente sou uitwerk en dit aan hulle oorhandig vir uitvoering, is hy met poiesis besig. Of die bediening deur sy plan inderdaad bevorder gaan word sodat die gemeente aan God se doel vir hulle beantwoord, is nie deel van sy opdrag nie. Wanneer 'n gemeente self biddend navorsing doen, al is dit met die hulp van iemand van buite, hulle bedieningsplan implementeer en evalueer om te bepaal of dit die gemeente begelei om aan haar godgegewe doel te beantwoord, is hulle besig met praksis. 'n Deel van praksis is aanpassing, herformulering vanuit die hermeneuse wat gedurende die praksis plaasvind. Praksis vereis die gawe van onderskeiding. Praksis is aksie in afwagting op die leiding van die Gees. Midde in die praksis kan die Gees die gemeente tot nuwe insig bring, byvoorbeeld dat die tyd (wat nie voorheen geskik was nie) nou vir 'n bepaalde verandering daar is.

Anderson (1997:27) stel dit grafies in Figuur 1 voor.

 

 

Anderson (2001) maak ook die onderskeid tussen 'practice' en 'praxis':

Practice tends to refer to tasks which carry out a plan or actions that relate theory to a task ... praxis also involve tasks but in the performing of the task, meaning is discovered, not merely applied. (bl. 47)

Hermeneutiese taak word ten opsigte van gemeentebediening soos volg opgesom: 'With Scripture as its authority the church is engaging in the hermeneutical task of interpreting the word of Christ in the context of the work of Christ' (Anderson 2001:52).

 

Verrekening van metateoretiese aspekte rakende 'n wetenskapsteoretiese benadering tot gemeentebediening

In hierdie afdeling gaan dit oor die vraag hoe daar op wetenskaplike vlak teorieë ontwerp kan word om die praksis te begryp, lewensontsluitende norme daarop te rig en dit met verantwoordelikheid in 'n rigting te stuur (De Klerk, De Wet & Pieterse 2012:31-33). Gemeentebediening behoort in die lig hiervan aan 'n redelik algemene definisie van wetenskap getoets te word: 'Wetenskap is 'n sisteem van konsepte, teorieë, bevindinge en metodes wat deur 'n aantal wetenskaplikes aanvaar word' (Mouton & Marais 1988:160).

Te Velde (1992) noem hierdie studieveld gemeente-opbou en definieer dit soos volg:

Gemeenteopbouw is het theologisch vak waarin die bezinning plaasvindt op de structuren, werkvormen, processen en middelen waarin en waarmee de gaven en diensten in de gemeente van Jezus Christus - volgens het beeld dat de Heilige Schrift van die gemeente tekent - in een optimale samehang kunnen worden dienstbaar gemaakt in haar intern en extern, horizontaal en verticaal functioneren, met het oog op haar opbouw en volmaking in Christus. (bl. 46; vgl ook Bischoff 1991; Hendriks 1992, 2004; Nel 1986, 1988, 1994, 1995, 2002)

Nel (1994) gee die volgende werksformule vir gemeentebou. Gemeentebou is die bediening waarbinne die gemeente opgelei en begelei word, om:

[1] 'haar eie wese en bestaansdoel te verstaan; [2] self, as gemotiveerde gemeente, haar eie funksionering te evalueer, doelwitte vir haar doelgerigte funksievervulling te formuleer en op beplande wyse te bereik; en [3] self, soos nodig, op 'n voortgaande basis strukture, wat die heilshandelinge van die Drie-enige God in kerk en wêreld dien, vir die gemeentelike funksionering te ontwikkel.' (Ungerer & Nel 2011:2, [outeur se eie beklemtoning])

Op grond van die voorafgaande bespreking en in aansluiting by bostaande twee definisies, kan nou tot 'n eie definisie van gemeentebediening gekom word.

Die teologiese studieveld van gemeentebediening (ekklesiologies praksis) is die wetenskaplike bestudering van alle modi van die bediening - in en deur die gemeente - in hulle wese, samehang, organisasie en gerigtheid op die verwerkliking van die wese en doel van die kerk as beeld van God.

Die wetenskaplike ondersoek na gemeentebediening moet 'n bepaalde werksveld afbaken. In die lewe van 'n gemeente is daar verskillende modi wat reeds die onderwerp van wetenskaplike ondersoek in die Praktiese Teologie is (Homiletiek, Liturgiek en Kategetiek), maar ook in ander teologiese wetenskappe (Kerkreg, Kerkgeskiedenis en Missiologie). Die wetenskaplike navorsing van gemeentebediening opper die vraag hoe die insigte uit al hierdie studievelde saamgevoeg kan word sodat die bediening van God aan en deur die gemeente optimaal georganiseer kan word.

Diakonia as sleutelbegrip in wetenskaplike verkenning van die missionale kerk

Eers wanneer die diakonia van die gemeente goed begryp word, kan verstaan word wat 'n missionale kerk is. Torrance (1979:399) sê dat elke faset van die gemeente se bestaan deur diakonia gestempel behoort te word. Die diakonia van die gemeente word deur die diakonia van Christus bepaal. Christus is deur die Vader na die aarde gestuur om die Vader se werke te kom doen en om die Vader se Woorde te kom verkondig. Hy het in die gesag van die Vader opgetree en sy doel was om die Vader te verheerlik, deur voluit as mens te wees wat die mens self nie kan doen nie, naamlik om waarlik vir God volgens die verbond 'n kind te wees. Hiermee het Hy versoening tussen God en die mens bewerk.

In sy diakonia ontmoet Christus, deur wie God na die mens kom en wat met God se ontfermende genade beklee is en Christus wat as mens na God kom, beklee met die vuil klere van die sondige mens. In Christus se diakonia ontmoet die offerlam en die priester wat die offer bring. Hy het daarmee die reg verwerf om sy Gees in mense te stuur en hulle nuut te maak, die geloof in hulle te werk en hulle deel van sy liggaam te maak. Hy maak hulle egter nie deel van sy liggaam net sodat sy kerk ter wille van hulleself kan bestaan nie.

Die kerk moet nie sy uitreikaksies tot 'n blote stokperdjie maak wat deur 'n kommissie of 'n paar lidmate bedryf word nie. Eers wanneer diakonia met die verkondiging van die goeie boodskap saamsmelt, word 'n gemeente waarlik 'n missionale gemeente (Ungerer & Malan 2011:5).

Die Gees van Christus sit die diakonia van Christus voort, wat Christus gedoen het en volvoer wat die Vader aan Christus opgedra het. Daarom is alle diakonia God se diakonia (Anderson 1979:7). Die Gees kom as die lewensvernuwer wat lewe uit die dood wek. Hy maak die ore en die oë van God se uitverkorenes oop sodat hulle die verlossingsboodskap hoor, verstaan en hulle kruis opneem en Christus volg. Die Gees van God bring die sekerheid in die harte van die gelowiges dat God vir hulle is en dat niemand meer enige grond het om hulle aan te kla nie. Uit hierdie heerlike sekerheid wat die Gees werk, vloei die bereidheid by die kerk voort om hulleself as lewende offer aan God te gee. Hierdie offer is die diakonia van Christus wat nou ook hulle diakonia is (Rom 12) en waarmee hulle ook missionaal na die wêreld uitreik.

Deur die verlossing kry die kerk deel aan Christus se sending deur die Vader (Purves 2004:20-23). Christus het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee ter wille van die verlossing van God se uitverkore kinders. Net so word elkeen wat verlos word ook 'n diakonos in dieselfde sin as wat Jesus diakonos is. Jesus se sending na hierdie wêreld het nog nie finaliteit bereik nie. Hy sit sy sending voort (Hand 1), maar nou deur die kerk - die dienende kerk; die kerk met die opdrag tot diakonia. Elke faset van die kerk se lewe moet uiteindelik op diakonia gerig wees. Soos Christus is die kerk nie hier op aarde ter wille van die gesondes nie, maar ter wille van diegene wat siek is.

Diakonia is die dienswerk wat verrig word deur iemand wat God met 'n bepaalde opdrag geroep en gestuur het (Collins 1990). In die uitvoering van hierdie diakonia kan die kerk seker wees van die krag en die genade van die Een wat hulle gestuur het. In die diakonia lê dikwels lyding opgesluit; die kerk is immers besig om die beker van Christus te drink. Soos Christus is die kerk in hulle diakonia ook tegelyk gesante wat met die versoeningsboodskap as medewerker van God kom en ook mense wat die nood van diegene wat hulle bedien, na God toe bring. Die kerk moet ook die Woord in hulle liefde en ontferming vlees laat word. Dit word duidelik in die diakonia.

Die veld van ondersoek in die Praktiese Teologie wat die totale lewe van die kerk in sy samehang en in sy gerigtheid op diakonia ondersoek, kan gemeentebediening genoem word. Die vrae wat in hierdie ondersoek gevra moet word, is die volgende: Wie is God Drie-enig? Wat beteken dit vir die identiteit van die kerk as beeld van God? Wat moet die kerk in die wêreld wees sodat hulle as beeld van God, hulle roeping tot diakonia kan vervul? Hoe meer die kerk die omvang van sy diakonia ontdek, hoe meer is dit 'n missionale kerk.

Hierdie ondersoekveld sluit baie nou aan by en kan van die navorsingsresultate van al die ander teologiese dissiplines gebruik maak, veral die resultate wat te doen het met die Kerkwetenskappe. Dit sluit alle praktiese teologiese vakke in soos Kerkreg, Kerkgeskiedenis, Dogmatiek, Dogmageskiedenis en Missiologie. Daar kan ook by die sosiologiese en bestuurswetenskaplike vakke aansluiting gevind word.

Orde

Die kerk word volgens God se orde of ekonomie georganiseer (vgl. Torrance 1979:390-405). God se orde word duidelik uit God se ewige raadsplan waarin die ontstaan, wese en doel van die kerk volgens God se welbehae beskik is (Ef 1). Volgens Efesiërs 1 het God sy kinders voor die grondlegging van die wêreld uitgekies en hulle deur die soenverdienste van Jesus Christus verlos. Hierdie uitverkore verlostes is bestem om onder die een Hoof, Christus, in sy kerk verenig te word. Hulle is met die Gees van God verseël sodat God se plan met hulle volvoer sal word. Die einddoel van hierdie plan is die verheerliking van God en dat die mens met alle geestelike seëninge wat daar in die hemel is, geseën word. Elke faset van die gemeentebediening is daarop gerig om hierdie plan van God in die lewe van die kerk 'n werklikheid te laat word. Die wetenskaplike besinning oor gemeentebediening hou homself besig met die ontdekking van hierdie orde van God en hoe dit in elke veranderende tydvak van die kerk se lewe toegepas behoort te word. Die wetenskaplike besinning oor die gemeentebediening moet uiteindelik realiseer in 'n bedieningsplan vir 'n bepaalde gemeente en kerkverband wat die ewige raadsplan van God dien. Die orde in die kerk is God se verlossingsorde wat Hy in Jesus Christus tot uitvoer gebring het en besig is om deur die kragtige werking van die Gees te volvoer. Die vrae wat in hierdie wetenskaplike ondersoek gevra moet word, is: Wat is God se plan? Hoe pas die kerk in hierdie plan in? Wat moet die kerk wees? Wat moet die kerk vandag vir die wêreld wees sodat God se plan ten uitvoer gebring sal word? Hoe moet die kerk se bedieningsplan lyk om God se orde te handhaaf?

Opsommend

Die wetenskaplike ondersoekveld van gemeentebediening hou verband met die ondersoek van die volgende:

 Die selfopenbaring van die Drie-enige God en die betekenis van hierdie selfopenbaring vir die kerk as beeld van God. Die Bybel as openbaring van God is die primêre ondersoekveld waaruit vasgestel kan word wat die kerk is en wat die kerk vanuit sy identiteit moet doen.

 Die openbaring van God se geheimenisvolle plan in die Woord en God wat aktief in die geskiedenis besig is om in die volheid van die tyd, sy plan ten uitvoer te bring. Die Bybel is die primêre ondersoekveld waaruit vasgestel kan word wat die kerk se taak binne hierdie plan is.

 Die roeping van die kerk wat in 'n ryke verskeidenheid modi vergestalt word, maar wat in hulle samehang daarop gerig is om God se liefdesdiens in Christus, deur die werk van die Gees, in die kerk se diakonia te verwerklik.

 Die wêreld waarin die kerk leef en dien. God is ook besig om sy plan ten uitvoer te bring deur dit wat in die wêreld gebeur. Postmodernisme as reaksie op die Modernisme is deel van God se plan. Die studie, gees en nood van die tyd kan die navorser se oë oopmaak vir waarhede in die Bybel wat tot nou toe nie raakgesien is nie, of vir tekortkomings in die kerk se bediening, of vir nuwe toepassings van ou waarhede.

 Die geskiedenis van die bedieningstrukture van die kerk. Die navorser moet diep van sy beperkte insig bewus wees. Soos die mense van die ou Verbond nie insig gehad het in die volle rykdom van God se plan in Christus nie, so is die navorser ook kind van sy tyd. Opvoeding en kultuur kan bepaalde vooronderstellings by hom vestig. Die Gees het oor die eeue heen aan die kerk insigte in God se wysheid geskenk. Sommige van hierdie insigte is in die belydenisskrifte en kerkordes vervat. Terwyl ander weer neerslag in bestaande bedieningspraktyke en liturgieë gevind het. Die navorser ondersoek hierdie neerslag van die kerk se nadenke oor sy bediening op aarde en soek biddend na die aktuele toepassing daarvan vir sy eie tyd.

 

Slot

Die metateoretiese vertrekpunte van die navorser sal bepaal wat ondersoek word, watter metode gevolg sal word en hoe resultate geïnterpreteer sal word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anderson, R.S., 1979, 'A theology for ministry', in R.S. Anderson (ed.), Theological foundations for ministry: Selected readings for a theology of the church in ministry, pp. 6-21, Clark, Edenburgh. PMid:760504        [ Links ]

Anderson, R.S., 1997, The soul of ministry: Forming leaders for God's people, John Knox Press, Westminster.         [ Links ]

Anderson, R.S., 2001, The shape of practical theology: Empowering ministry with theological praxis, InterVarsity, Madison.         [ Links ]

Barbour, T.I. & Toews, N.E., 2010, The emergent church: A methodological critique', Direction 39(1), 32-40.         [ Links ]

Bisschoff, J.H., 1991, 'Gemeentebou: 'n Prakties-teologiese basisteorie', DD proefskrif, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Breed, G. & De Kock, J., 2011, 'Op pad na 'n volwasse gemeente - 'n Empiriese ondersoek met die oog op die ontwikkeling van 'n bedieningsmodel', In die Skriflig/ln Luce Verbi 45(4), 775-801. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v45i4.202        [ Links ]

Carson, D.A., 2009, Becoming conversant with the emerging church: Understanding a movement and its implications, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Chester, T. & Timmis, S., 2009, Total church: A radical reshaping around gospel and community, Ashford Colour Press, Hampshire.         [ Links ]

Collins, J.N., 1990, Diakonia: Re-interpreting the ancient sources, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

De Klerk, B.J., De Wet, F.W. & Pieterse, H.J.C., 2012, 'Die noodsaak daarvan om metateoretiese vertrekpunte in 'n prakties-teologiese wetenskapsbeskouing en -beoefening te verreken', In die Skriflig/ln Luce Verbi 46(2), 31-33. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v46i2.59        [ Links ]

De Kock, H.K., 2003, 'n Prakties teologiese beoordeling van Natural Church Development se agt kwaliteitseienskappe van groeiende kerke', MTh verhandeling, PU vir CHO.         [ Links ]

De Wet, F.W. & Pieterse H.J.C., 2010, 'Die noodsaak van die verrekening van metateoretiese vertrekpunte in prakties-teologiese wetenskapsbeoefening', In die Skriflig/ln Luce Verbi 44(3&4), 525-543. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v44i3&4.160        [ Links ]

Devine, M., 2009, 'The emerging church one movement - Two streams', in W.D. Hennard & A.W. Greenway, Evangelicals engaging emergent: A discussion of the emergent church movement, B&H Publishing Group, Nashville.         [ Links ]

Doherty, S., 1996, How to teach Bible doctrines to children, Child Evangelism Fellowship, Lisburn.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1997, 'Die verhouding prediking en belydenis in 'n postmoderne konteks: 'n "Huwelik" of "saamwoon"', HTS Hervormde Teologiese Studies/Theological Studies 53,1250-1265. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v53i4.1789        [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2006a, 'Die akkommodering en bestuur van diversiteit in gemeenteverband', HTS Hervormde Teologiese Studies/Theological Studies 62(4),1291-1309. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v62i4.414        [ Links ]

Dreyer, Y., 2006b, 'Postmoderne kerk-wees in die lig van publieke teologie - Eenheid en verskeidenheid', HTS Hervormde Teologiese Studies/Theological Studies 62(4), 1311-1334. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v62i4.417        [ Links ]

Gibbs, E. & Coffey, I., 2000, Church next, quantum changes in Christian ministry, InterVarsity, Leicester.         [ Links ]

Grenz, S.J., 2000, Theology for the community of God, Eerdmans.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 1992, Strategiese beplanning in die gemeente, Hugenote, Wellington.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 2004, Studying congregations in Africa, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Janse Van Rensburg, J., 2000, The paradigm shift: An introduction to postmodern thought and its implications for theology, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Kok, J. & Niemandt, C.J.P., 2009, '(Re)discovering a missional-incarnational ethos', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), 1-7.         [ Links ]

Labanow, C.E., 2009, Evangelism and the emerging church: A congregational study of a vineyard church, MPG Books, Bodmin.         [ Links ]

Labuschagne, F.J. & Nel, M., 2010, 'Kerkleierskap as bemiddeling van 'n onmoontlike werklikheid: 'n Prakties teologiese ondersoek na die rol van leierskap in die transformasie van gemeentes', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2), 1-6. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v66i2.853        [ Links ]

Lose, D.J., 2003, Confessing Jesus Christ: Preaching in a postmodern world, Eerdmans, Grand Rapids. PMCid:1738390        [ Links ]

Louw, D.J., 2003, 'The paradigmatic revolution in practical and pastoral theology: From metaphysics (sub-stantial thinking) to empirism (experential thinking); from theism to Theopaschitism (hermeneutical thinking)', Praktiese Teologie in Suid-Afrika/Practical Theology in South Africa 18(2), 33-58.         [ Links ]

Lyotard, J.F., 1993, The postmodern explained. Minneapolis, University of Minnesota Press, Minneapolis.         [ Links ]

McMinn, M.R. & Hall, T.W., 2000, 'Christian spirituality in a postmodern era', Journal of Psychology and Theology 28(4),251-253.         [ Links ]

Mouton, J., Marais, H.C., 1988, Basic concepts: The methodology of the Social Sciences, HSRC, Pretoria.         [ Links ]

Nel, M., 1986, Teologiese perspektiewe op gemeentebou, NG Kerkboekhandel, Pretoria. PMCid:1152996        [ Links ]

Nel, M., 1988, Fases in gemeentebou, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Nel, M., 1994, Gemeentebou, Orion Uitgewers, Halfway House. PMCid:236692        [ Links ]

Nel, M., 1995, 'Gemeentebou: 'n Reformatoriese bediening', Hervormde Teologiese Studies/Theolocial Studies 51(3), 858-864.         [ Links ]

Nel, M., 2002, 'Missionêre koers van 58 gemeentes in Suid-Afrika: 'n Empiriese verslag', Praktiese Teologie in Suid-Afrika/Practical Theology in South Africa 17(1), 1010-8017.         [ Links ]

Nel, M., 2009a, 'Congregational analysis: A theological and ministerial approach', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), 1-17. http://dx.doi.org/10.4102/ hts.v65i1.303        [ Links ]

Nel, M., 2009b, 'Congregational analysis revisited: Empirical approaches', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), 1-13. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v65i1.187        [ Links ]

Nel, M., 2011, 'Missionale integriteit en kontekstuele relevansie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), 1-9. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i3.1084        [ Links ]

Newbigin, L., 1989, 'The gospel in a pluralist society', Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Niemandt, C.J.P., 2010, 'Acts for today's missional church', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 66(1), 1-8. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v66i1.336        [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld, ABC-Boekdrukkers, Epping.         [ Links ]

Olivier, I.J., 2002, 'Kerklike bediening in 'n postmoderne konteks gefokus op die stadsmens', MA verhandeling, Fakulteit Teologie, PU vir CHO.         [ Links ]

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction, Eerdmans, Cambrige.         [ Links ]

Pickard, S.K., 2009, Theological foundations for collaborative ministry, Ashgate Publishing, Farnam.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 2002, 'Prediking in 'n postmoderne lewensgevoel', Praktiese Teologie in Suid-Afrika/Practical Theology in South Africa 17(1), 75-101.         [ Links ]

Purves, A., 2004, Reconstructing pastoral theology: A christological foundation, Westminister John Knox Press, Kentucky.         [ Links ]

Purves, A., 2010, The resurrection of ministry: Serving in the hope of the risen Lord, InterVarsity, Madison.         [ Links ]

Richards, L. & Martin, G., 1981, A theology of personal ministry: Spiritual giftedness in the local church, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Schalekamp, M.E., 2005, 'Missiones ecclesiae: 'n Missionêre visie en strategie in gemeentebou ten opsigte van multikulturele kerkplanting', PhD proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes Universiteit. PMCid:1884901        [ Links ]

Schwarz, C.A., 1999, Paradigm shift in the church: How natural development can transform theological thinking, Church Smart Resources, Carol Stream.         [ Links ]

Ströh, U. & Jaatinen, M., 2001, 'Change management and complexity', Journal of Communication Management 6(2), 148-165. http://dx.doi.org/10.1108/13632540210807008        [ Links ]

Te Velde, M., 1992, Gemeenteopbouw 1: Doelgericht en samehangend werken in de christelijke gemeente, Uitgeverij De Vuurbaak, Barneveld.         [ Links ]

Thompson, C.G., 2000, 'Proclaiming the gospel to Postmodernists', PhD dissertation, Faculty of Theology, Nort-West University.         [ Links ]

Torrance, T.F., 1979, 'The ministry', in R.S. Anderson (ed.), Theological foundations for ministry: Selected readings for a theology of the church in ministry, pp. 390-429, Clark, Edenburgh.         [ Links ]

Ungerer, A.G. & Nel, M., 2011, 'Die verband tussen gemeentebouprosesse en missionale gemeente-ontwikkeling', HTS Teologiese Sudies/Theological Studies 67(2), 1-11. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i2.931        [ Links ]

Van der Merwe, C.N., 2004, 'Kategese as middel tot heilsekerheid en heilstoe-eiening in konteks van die verbond en die koninkryk', ThD proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes Universiteit.         [ Links ]

Van Gelder, C., 2000, The essence of the church: A community created by the Spirit, Baker Books, Grand Rapids.         [ Links ]

Van Gelder, C., 2007, The ministry of the missional church: A community led by the Spirit, Baker, Grand Rapids.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Gert Breed
PO Box 19515
Noordbrug 2522, South Africa
Email: gert.breed@nwu.ac.za

Received: 01 Nov. 2011
Accepted: 28 Feb. 2012
Published: 19 Apr. 2013

 

 

1. Met missionaal word bedoel dat die kerk aan die missio Dei (die sending van die Drieenige God) deel het, om die skepping tot sy oorspronklike volmaaktheid te herstel. Kok en Niemandt (2009:1) gee die volgende definisie: 'The missional church is a reproducing community created by the Spirit, who calls, gathers and sends the church into the world to participate in God's mission.'

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License