SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1The hymn and communication through word and melodyInstitutionalism - alive and well in the declining Afrikaans reformed church practice author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

In die Skriflig

On-line version ISSN 2305-0853
Print version ISSN 1018-6441

In Skriflig (Online) vol.47 n.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

'n Voorgestelde matriks vir die pastorale berading van die verwonde geloofsvervreemde

 

A proposed matrix regarding the pastoral counselling of the wounded faith-estranged

 

 

Wentzel C. Coetzer; Lutricia E. Snell

School of Ecclesiastical Studies, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel fokus op die rol van pastorale berading aan die emosioneel-verwonde en geloofsvervreemde persoon deur middel van die redding in Christus. Die rol van God Drie-enig en die sentrale posisie van die Skrif word ondersoek. Verder word aspekte wat 'n Skrifgefundeerde mensbeeld onderlê, gekonstrueer. Die verband tussen emosionele trauma en geloofsvervreemding, asook die aspek van reg en geregtigheid, word hierna ondersoek. Die belangrikheid van die heil in Christus in die geestelike genesingsproses word ook bespreek. Ter afsluiting word 'n pastoraal-terapeutiese matriks voorgestel vir ingrype in die huidige lewenskrisis en die bestaande geloofsvervreemding met inagneming van die traumageskiedenis. Praktiese riglyne word verder verskaf as hulpmiddel vir begeleiding in die ondersteuningsproses.


ABSTRACT

This article focuses on the role of the pastoral counselling of the emotionally wounded and faith-estranged person through the mediation of the salvation in Christ. The role of the Triune God and the central position of Scripture in mediating the salvation in Christ are also examined and the Scriptural view of man is constructed. The role of emotional trauma in the estrangement from God as well as the importance of justice and retribution are examined as it relates to the spiritual and emotional healing of the wounded faith-estranged. The article also discusses the prominence of the salvation in Christ in the spiritual healing process. In conclusion, a pastoral-therapeutic matrix of intervention is proposed to help in addressing the present life crisis and current faith-estrangement within the context of the trauma history, with a view to find healing from the woundedness and the faith-estrangement through salvation in Christ. Practical guidelines are offered to guide this supporting process.


 

 

Inleiding

Die probleemstelling wat in hierdie artikel ondersoek word, is hoe om vanuit enkele openbaringshistoriese vertrekpunte en die begrip van 'n bybels-antropologiese perspektief in die pastoraat 'n matriks te bereik vir die pastorale berading van die verwonde geloofsvervreemde. Die artikel word soos volg uiteengesit: na enkele verduidelikende opmerkings betreffende belangrike terminologie, handel die eerste gedeelte verder oor openbarings-historiese vertrekpunte. Dit word gevolg deur 'n verduideliking van 'n bybels-antropologiese perspektief, en afgesluit met 'n voorgestelde praktykgerigte pastorale matriks vir pastorale berading aan die verwonde geloofsvervreemde.

Pastorale berading

Noodlydende persone het fokus, perspektief, stabiliteit en hoop nodig en klop dikwels by pastorale beraders aan. Pastorale berading bied hierdie elemente van uitreiking na die noodlydende op 'n unieke wyse. Die essensie van die pastorale ontmoeting is tweeledig. Eerstens, die kommunikering van die Woord van God, en tweedens die begeleiding van hierdie persoon tot die vestiging van 'n verhouding met God. In wese is die pastoraat as heilsbemiddeling God se uitreiking na die mens ten einde die toekoms vir hierdie persoon te ontsluit (Tan 2011:11, 15, 327; McMinn & Campbell 2007:51; Louw 1999:54; Heitink 1999:9; Murray 1979:78 in Morris et al. 1996).

Geloofsvervreemde

Die pastoraat het die besondere geleentheid om perspektief op die realiteit en implikasies van geloofsvervreemding aan die noodlydende te skenk te midde van sy of haar beproewing, met die keuse tot lewensin en betekenis deur die heilsaanvaarding in Christus. Volgens Romeine 3:23 is Adam se nakomelinge deurgaans sy beelddraers, omdat almal in 'n toestand van vervreemding van geloof in God gebore is, met die geneigdheid om die skepping eerder as die Skepper te dien (Garlington 1993:103). Die begrip geloofsvervreemde sluit dus in hierdie artikel diegene in wat kerklos, kerkvervreemd of totaal ongelowig is, met die veronderstelling dat iemand wel by geleentheid kerklos sou kon wees, maar tog nie heeltemal geloofsvervreemd nie.

Trauma

Die literatuur onderskei tussen akute trauma, klassieke posttraumatiese stresversteuring (PTSV), en gekompliseerde PTSV. Akute trauma word by persone van enige ouderdom geïdentifiseer as die eerste onmiddellike reaksie van psigiese of emosionele ongemak op 'n eenmalige traumatiese gebeurtenis. Hierdie ongemak verdwyn gewoonlik twee tot 14 dae na die gebeure en is verwant aan die mate van begrip en ondersteuning deur andere (Coetzer 2006:12-22; Herman 2001:119; Williams & Sommer 2002:33; Wright 2003:222;). Die American Psychiatric Association se DSM-IV-TR (2007:469) klassifiseer hierdie reaksie as Akute Stressindroom. 'n Diagnose van klassieke PTSV word gemaak indien simptome na vier weke steeds die gesinslewe, asook werksfunksionering negatief beïnvloed. Die voorkoms van simptome soos die herhaaldelike herleef van die gebeure, verhoogde spanningsvlakke en sosiale vermyding mag wissel gedurende hierdie tydperk (Kaplan & Kaplan 2007:615-616).

Gekompliseerde trauma word ook as ontwikkelingstrauma of verhoudingstrauma beskou (Herman 2001:119; Van der Kolk 2005:402). Kwetsbaarheidsaspekte speel 'n sleutelrol in die herstelproses. Dit sluit onder meer in die graad van trauma, ontwikkelingsvlak van die individu, genetiese predisposisie en mate van veerkrag, verbondenheidsgeskiedenis, persepsie van gebeure, traumageskiedenis, kwaliteit van die gesinsfunksionering en die aanvang van intervensie (Sweeney 2011:2).

Volgens Herman (2001:51) word die verwonde se geestelike funksionering ook deur trauma aangetas, aangesien die waardestelsel en godsdienstige beskouings waarmee die persoon grootgeword het, bevraagteken word. Hierdie beskadigde self vind dit uiters moeilik om hulle lewe te herbou weens die vernietiging van basiese vertroue in die wêreld en in mense. Terapie behoort dus die onderskeie paradigmaskuiwe by die verwonde in ag te neem met die oog op volkome herstel op die lang termyn.

 

Openbaringshistoriese vertrekpunte vir pastorale berading met die geloofsvervreemde

God Drie-enig staan sentraal

God se openbaring in Jesus Christus en deur die Heilige Gees is die sentrale vertrekpunt in die Praktiese Teologie (Jonker 1981:41; Van der Walt 2006:23).

Die werklikheid en praksis van God is die raamwerk waarbinne die pastorale ontmoeting verstaan en geïnterpreteer behoort te word, aangesien 'uit Hom, deur Hom en tot Hom alle dinge (is)', en Hy '... die Alfa en die Omega, die begin en die einde [is]' (Rom 11:36, Op 21:6). God neem die inisiatief in die openbaring van Homself (Pieterse 1993:5). Sy verbondstrou, soos vervat in die heilsgebeure, word tydens die pastorale ontmoeting vergestalt (Heitink 1999:9; Murray 1979:78 in Morris et al. 1996).

Die drieledige karakter van die Drie-enige God omvat die Vaderlike ontferming (sy medelye en genadebetoon met die sondaar), die Middelaarsversoening (Christus se plaasvervangende werk aan die kruis) en die pneumatologiese bystand (as parakleet of voorspraak verleen die Heilige Gees trooshulp in swaarkry) (Heitink 1984:294-299; Louw 1999:30; Gilbert & Brock 1985:24-29).

God en sy koninkryk is deur geloof die funksiebestemming van die mens

Die eskatologie omvat God se lotsbestemming met die mens na aanleiding van sy heilshandelinge deur die soendood in Christus. Hierdie sinhorisonne bereik die klimaks in die toeëiening van die inhoud van die eskatologiese perspektief, soos vergestalt in die heilservaring (Louw 1999:15, 19-20). Die eskatologiese perspektief as 'n normatiewe faktor in die pastorale teologie, impliseer dat die pastoraat gerig is op die toekomstige Koninkryk van God, waarvolgens oorwinning oor krisisse moontlik is (Veltkamp 1988:229; Louw 1999:133).

Die Heilige Gees bemiddel die heil in Jesus Christus in die pastoraat

Christus se opstanding verskaf die sinsdimensie aan die mens se lewe (1 Kor 15:20). Die pastoraat begelei die mens tot geestelike volwassenheid in Christus (Kol 1:28; Louw 1999:44-45) deur die vertolking van die heil van God in Christus (Tacke 1975:139). Die Heilige Gees is die Trooster in die dinamiese pastorale gesprek. Die heilswerk van Christus, bemiddel deur die Heilige Gees, bewerk onherroeplike geestesgroei op weg na geloofsvolwassenheid (Louw 1997:215).

Die Skrif het 'n sentrale posisie in die heilsbemiddelingsproses binne die pastoraat

Die klem in pastorale teologie is daarop gerig '... om elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus te bring' (Kol 1:28, vgl. Louw 1999:45). Die goddelike inspirasie en gesag van die Bybel (2 Tim 3:16) plaas die Skrif in 'n sleutelposisie binne die heilsbemiddelingsproses sover dit die verwonde geloofsvervreemde betref. Volgens 2 Timotius 3:16 is die waarde van die Skrif, wat as geopenbaarde Woord van God op die mens gerig is, daarin geleë dat dit in die waarheid wil onderrig, dwalinge bestry, verkeerdhede regstel, en die regte lewenswyse wil kweek (Venter 1993:249-251).

Die Evangelie bied volgens Rom 1:16 ten diepste 'n kwaliteit wat nêrens anders te vinde is nie (Harrison 1980:19). Die geloof is dus '... die weg wat God vir Homself deur sy Woord baan in die hart van die mens in ...' (Jonker 1983:31). Vanuit die Skrif hou die pastoraat as heilsbemiddeling van die Evangelie-boodskap 'n bepaalde pastorale belofte van hoop vir die geloofsvervreemde noodlydende in, en vervul as sodanig 'n sleutelposisie.

 

'n Bybels-antropologiese perspektief

'n Bybels-antropologiese perspektief fokus op die bestudering van 'n Skriftuurlike mensbeskouing. Die konstruksie van 'n Skrifgefundeerde mensbeeld vanuit die Sistematiese en Praktiese Teologie is 'n noodsaaklike vertrekpunt vir die heilsbemiddeling teenoor die geloofsvervreemde. Slegs binne 'n Bybels-antropologiese gegewe bereik die pastoraat sy doelwit. Kennis van God plaas die sondige toestand en selfgerigtheid van die mens in die regte perspektief (MacArthur & Mack 1994:102, 363; McMinn 1996:35).

Die volgende drie aspekte vanuit die teologie en die Skrif vorm 'n integrale deel van die pastorale besinning oor die verband tussen God en die mens:

Die essensie van die mens as mens van God

Die mens se geskapenheid na die beeld van God (Gen 1:27) en as 'n lewende siel (Gen 2:7) dui daarop dat die mens in die gelykenis van God oor sy skepping heers. Voor die sondeval (Gen 3) leef die mens in 'n volmaakte verhouding met God en sy medemens en dien albei op 'n volmaakte wyse. Na die sondeval word hierdie geskapenheid verduister deur sondigheid (Den Heyer & Schelling 2001:176-182).

Kwaliteite wat die mens se menswaardigheid definieer

Die geskapenheid impliseer 'n liggaamlike dimensie met verwysing na 'n liggaam wat aan die Here behoort (1 Kor 6:13), waarin die Heilige Gees woon (1 Kor 6:19), en wat weens die sondeval eenmaal sal sterf en daarna opgewek sal word by die wederkoms van Christus en die finale oordeel (1 Kor 15:42-49). Ook dui geskapenheid voor die sondeval op 'n harmonieuse aardsverbondenheid wat onder meer impliseer dat die mens deur God onbeperkte toegang tot al die bome in die tuin gegee is, behalwe tot die boom in die middel van die tuin (Gen 3:3). Die mens kon so sonder verdienstelike arbeid of swaarkry sekere vrugte in die tuin geniet. Geskapenheid na die sondeval (Gen 3) gaan gepaard met harde arbeid, slegs kortstondige genot, voortdurende beproewings en sterflikheid. Voor die sondeval reflekteer die mens God se sin vir geregtigheid, genadebetoon aan andere, en 'n behoefte aan gemeensaamheid en sinvolle verhoudings (Cloud 2008:57). Na die sondeval is hierdie eens onselfsugtige kwaliteite gerig op die voordele wat dit inhou vir die eie ek en figureer dit nie in die finale analise as selfopofferend nie (Kendall 2008:175, 181) Verhoudingsgewys verbeeld die mens voor die sondeval in sy verbondenheid as man en vrou iets van die harmonieuse verhouding van die drie Persone van die Godheid. Hierdeur word die geestelike dimensie van die mens gereflekteer, insluitend die mens se gewete (Joubert 2004:20).

Vóór die sondeval word die psigiese dimensie deur 'n Godgerigte ingesteldheid gekenmerk. Ná die sondeval word die mens se psigiese waarde-oordele verdonker en weens gedagtes en behoeftes wat op mag en vleeslike plesier in diens van die eie ek gerig is, verloor die lewe alle sinvolheid (Milton 2008:9; Crabb 1977:61-73). Daar is arrogansie te midde van angs (Piper 2008:47, 25-26), met slegs oorblyfsels van ' ... a capacity for beauty in (the) soul ...' (Crabb 2009:2). Hierdie manipulasie van geluk in eie belang (Tolstoy 1984:115; Chesterton 1990:106), wat ook in verhoudings voorkom, bring Eldredge (2011:70) tot die slotsom dat 'we' re cowards, that's why'.

Die doel, koers en betekenis van die mens se bestaan

Die mens word deur God geskape om Hom in 'n verbondsverhouding te dien (Rom 1:23). Die mens se bestaansbestemming moet vanuit sy verhouding met God geïnterpreteer word. Die mens se liggaam en siel word deur Christus verlos om soos sy verheerlikte liggaam te word (Fil 3:19). Na die sondeval sterf hierdie liggaam en word uiteindelik as 'n 'geestelike liggaam' opgewek (1 Kor 15:42-49; Heyns 1981:121).

Ter aansluiting by die voorafgaande bespreking van die wese van die mens vóór en ná die sondeval, ondersoek die volgende gedeelte van hierdie artikel die aspek van trauma of verwonding. Die outeur(s) gaan van die standpunt uit dat die mens se eerste ervaring van pyn, en dus die primêre trauma, opgesluit is in die sondeval en daaropvolgende vervreemding van God. Die rede is dat 'n lewensbestaan weg van God se teenwoordigheid onnatuurlik is en ten diepste (onbewustelik) teen die mens se oorspronklike Godgeskape natuur indruis. Vanuit hierdie oogpunt beskou, sien die outeur(s) 'n direkte verband tussen die getraumatiseerde of verwonde mens en die Godsvervreemde of geloofsvervreemde soekende aardse wese wat as gevolg van sy geloofsvervreemdheid trauma van enige sekondêre aard (hetsy as eenmalige misdaadslagoffer of as 'n slagoffer wat oor 'n lang tydperk binne 'n verhouding misbruik is) as uiters traumaties beleef.

As 'n primêre invalshoek by terapeutiese hulp, kom die rol wat trauma (verwonding) speel in die lewe van die geloofsvervreemde beradene, vervolgens onder die loep.

 

Die rol van trauma (verwonding) by die geloofsvervreemde

Inleiding

As gevolg van die vervreemding van God, beleef 'n betrokke persoon soms ook trauma in die proses (Falsetti, Resick & Davis 2003:392). Die impak van emosionele verwonding mag intensiveer indien daar terselfdertyd 'n verlies van die godsdienstige verwysingsraamwerk plaasvind (Donahue 1985:400-419). Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) sou ook as 'n geestelike wond benader kon word, aangesien daar bevind is dat trauma vrae na vore bring omtrent die sin van die lewe, die persoon se persoonlike verhouding met God, asook skuldgevoelens oor die feit hy of sy die enigste oorlewende slagoffer van 'n traumatiese ervaring is (Klevberg 2005:1). Dit vorm dikwels deel van die oorsake wat aanleiding gee tot geloofsvervreemding (Herman 2001:51-52). In hierdie verband is Sinclair (1993) selfs van mening dat dit by PTSV ten diepste om 'n geestelike disfunksie of versteuring gaan. Hy beweer dat:

... because the person who experiences the full impact of PTSD has been impoverished by the loss of a series of vital spiritual attributes that are essential to living a full life. (bl. 66)

Sinclair bespreek vervolgens tien sodanige geestelike eienskappe wat intens geraak word wanneer ernstige trauma beleef word.

Die aspek van geestelike verwonding is 'n wesenlike element in die pastorale gespreksontmoeting met die geloofsvervreemde (Kol 1:21; Rom 4:12), veral omdat die mens tydens die sondeval (Gen 3; Rom 5:18a) primêr verwond is en sedertdien met angs (Gen 3:8, 10) en 'n soeke na ware identiteit worstel (Rom 7:24). Dit hou verband met die feit dat 'n lewe wat van God se teenwoordigheid verwyder is, eensaamheid en swaarkry inhou (Gen 3:17; Kol 2:9; Payne 2005:52-64). Hierdie afstand tussen die mens en God is teen die bestemde orde in, aangesien die mens geskape is om in ononderbroke gemeenskap met God te wandel (Kol 1:16; Eldredge & Curtis 2007:29-30) as God se erfgenaam en medeerfgenaam saam met sy Seun, Jesus Christus (Rom 8:17). Dit hou ook ooreenkomste in met die bevinding dat mense se reaksie op emosionele en fisiese swaarkry (as sekondêre trauma volgens die konteks van die artikel) direk verband hou met hulle teologiese geloofsformule en aanbidding van God. Dit stem ooreen met die veronderstelling dat God almagtig en in beheer is (Wright 2006:13-15). Sodanige beproewings mag ook ten doel hê dat die betrokke persoon sy of haar heil in God alleen deur bekering sal terugvind (Rom 8:2, 15, 18; Lewis 2002:204).

Blootstelling aan situasies wat emosionele verwonding kan veroorsaak, skep uiteraard 'n unieke geleentheid vir die geloofsvervreemde om deur bemiddeling van heil tot volle genesing te kom. Die pastorale ontmoeting vergestalt enersyds God se onvoorwaardelike genade, en andersyds 'n oproep tot die mens tot verantwoordelikheid en gehoorsaamheid (Louw 1999:19-20).

Sover dit trauma aangaan, kan daar na primêre sowel as sekondêre trauma verwys word. In 'n breër sin kan daar na die mens se primêre trauma verwys word as die verwydering van God sedert die sondeval. Dit is die mens se natuurlike liggaamlike, geestelike en psigiese toestand sedert die sondeval in Gen 3. Dit manifesteer in gedagtes, besluitnemings en verhoudings op alle lewensterreine en kenmerk wantroue in God, asook 'n rustelose soeke na die diepste verbintenis wat slegs God kan vul (Eldredge & Curtis 2007:30, 108; Payne 2005:73).

Binne hierdie konteks verwys sekondêre trauma na die toediening van pyn as gevolg van geestelike, emosionele en/ of liggaamlike verliese, of weens 'n natuurramp. Wanneer die grense wat God vir menslike verhoudings neerlê, oortree word, is die gevolg sekondêre verwonding (Ef 5:1; 1 Kon 11:1-2; 1 Kor 6:16).

'n Spektrum van toestande wat wissel van akute stressindroom (DSM-IV-TR 2007:469) en posttraumatiese stresversteuring (PTSV) (Kaplan & Kaplan 2007:613-621) tot chroniese of gekompliseerde trauma of komplekse trauma (Wilson, Friedman & Lindly 2001:205; Van der Kolk 2005:402; Williams & Sommer 2002:104-106), kenmerk sekondêre verwonding.

Afgesien van natuurrampe word sowel primêre as sekondêre trauma soms gekenmerk deur afgodediens weens sondige keuses (Payne 2005:81-82; Cross 2006:43).

Reg en geregtigheid teenoor die verwonde

Tydens terapie waar gefokus word op die genesing van verwonding wat deur die pleging van 'n wandaad veroorsaak is, is dit belangrik dat die berader die aspek van reg en geregtigheid, asook boetedoening teenoor die getraumatiseerde geloofsvervreemde in gedagte moet hou. Hierdie aspek is belangrik in die lig van die feit dat geloofsvervreemding 'n belangrike komponent mag wees by die totale belewenis van die verwonde persoon. Binne die strafproses fokus vergeldende geregtigheid op die erkenning van die slagoffer se tydelike behoeftes wat as gevolg van die misdaad ontstaan het, en bevorder dit in 'n sekere sin by voorbaat 'n klimaat vir genesing en herstel (Skelton & Batley 2008:38). Dit kan binne die terapeutiese milieu aangewend word om die verwonde tot 'n mate van berusting te begelei sover dit die traumatiese gebeure aanbetref. Aanvaarding van die gebeure tree dan in omdat die finale geregtigheid uiteindelik slegs by God berus (2 Tim 4:8; Matt 28:18).

God se geregtigheid is op die mens se welstand gefokus. God veroordeel onreg, maar betoon genade teenoor die berouvolle oortreder (Ps 146:7-9; Ps 85; Lampman & Shattuck 1999:32, 58). Euforie by die verwonde weens die straf van die oortreder weeg nie op teen die vrede wat oorgawe aan en innige gemeenskap met God bied nie. Volkome geregtigheid staan in die teken van die eskatologiese perspektief deurdat hoopvol gewag word op die Nuwe Jerusalem waar ware geregtigheid finaal sal heers. Slegs God kan dit teweegbring (Rom 8:19-25; Matt 5:6-10; Wolterstorff 1999:120). Dit vertroos die verwonde aan wie die heil in Christus bemiddel is.

Heil

Heil, verlossing en geestelike genesing word in die Nuwe Testament as sinoniem beskou met God se voltooide redding van die mens vanuit sy sondige toestand deur die soendood van Christus. Handelinge 13:26 verwys na heil as 'n proses. Heil bevat ook 'n prominente aspek van eskatologiese geregtigheid. Openbaring 12:10 stel heil en die Koninkryk van God feitlik gelyk aan mekaar (Marshall 2001:257). Die heilsdade bereik die klimaks van volkome genesing by die wederkoms (Morris, Martin, Stuchlmacher et al. 1996:1003). Die aanneming van hierdie heil bring geestelike genesing van die oorspronklike verwonding en herstel die geboë posisie voor God (Foerster, Fohrer, Green et al. 1996:1046; Job 5:15). Hierdie aspekte behoort ook tydens terapie met die geloofsvervreemde deurgewerk te word.

 

'n Voorgestelde praktykgerigte matriks vir die bring van heil en heilservaring deur middel van pastorale berading aan die geloofsvervreemde

Inleiding

Die voorgestelde praktykgerigte matriks probeer om riglyne te bied vir 'n meer omvangryke pastorale begeleiding van onverwerkte trauma en emosionele pyn by die geloofsvervreemde. Bogenoemde is aspekte wat geestelike vordering en emosionele genesing in die breë geblokkeer het. Die onderskeie stappe in die matriks word telkens as inleiding begrond deur gebed (Payne 2005:44, 51; MacArthur & Mack 1994:133-140; Seamands 2004:134-136) en Skriftuurlike fundering (Schaeffer 1982:202).

Die voorgestelde matriks berus enersyds op die reeds vermelde basis-teoretiese en meta-teoretiese perspektiewe in hierdie artikel; en andersyds sal hierdie genoemde perspektiewe en resultate vergelyk en aangevul word met momente vanuit die volgende drie pastorale benaderings:

 Vertrekpunte binne die Meier-klinieke in die VSA (Hemfelt, Minirth & Meier 2003).

 Vertrekpunte binne die House of Hope-inrigtings in die VSA vir emosioneel verwonde kinders (Trollinger 2007).

 Vertrekpunte binne die New Life-klinieke in die VSA (Arterburn 2005).

Fase 1: Geestelike assessering

 Oorhoofse doelwit: singewing in die krisis en die bring van hoop.

 Sekondêre doelwit: identifisering van bydraende faktore tot geloofsvervreemding.

 Terapeutiese fokus: heilsaanvaarding en vergifnis.

Motivering vir geestelike assessering as invalshoek: Matsakis (1996:143) en Herman (1997:156) beskou die bemagtigingsfase na afloop van kliniese assessering, evaluering en terapeutiese begeleiding tot genesing as die laaste fase in die genesingsproses. Hierdie benaderings reflekteer die algemene sielkundige vertrekpunt van die mens as fokuspunt binne die terapeutiese ontmoetingsproses, met die klem op genesing van die self. Sulke benaderings hanteer nie noodwendig die primêre trauma (soos hierbo gedefinieer) nie, en dit mag die persoon met die diepliggende veronderstelling laat dat hy of sy steeds weerloos en sonder beskutting is. Dieselfde prosesse is van toepassing op beradenes binne kerklike konteks. Omdat hierdie model in die algemeen op die geloofsvervreemde van toepassing is, maar ook spesifiek op die geloofsvervreemde wat emosionele verwonding beleef het, is eersgenoemde algemene terapeutiese beginsels ook van toepassing in hierdie bespreking.

Die aspek van geloofsekerheid kom reeds aan die begin van die assesseringsproses tydens aanmelding aan die orde deurdat die geskiedenis van die verwonde se verhouding met God reeds vroeg in die hulpproses geassesseer word. Hierdeur word die aspek van geloofsvervreemding vroegtydig bepaal vir doelwitbeplanning binne die pastoraal-terapeutiese proses. Omdat die pastoraat as onderafdeling van Praktiese Teologie met God Drie-enig en die Skrifopenbaring as vertrekpunt werk (2 Tim 3:16), bied dit aan die verwonde geloofsvervreemde 'n nuwe perspektief van God se voorsiening in Christus. Die troos in Christus word deur die Heilige Gees en God se sorg deur die berader gefasiliteer (Joh 4:7-18, 23-26). Hiertydens word die verwonde bewus van 'n groter behoefte aan genesing en moontlik 'n herstelde of nuwe verhouding met God op 'n onontdekte vlak.

Die pastorale ontmoeting het eerstens singewing in die krisismoment as doelwit. Sinvolle perspektief is moontlik binne 'n herstelde kontak met God deur begeleiding tot 'n terugkeer na die skeppingsdoel en God as enigste God (Giglio 2005:12-13; Eldredge 2004:95, 125; Payne 2005:187). Die toestand van angs maak dan plek vir 'n sekerheid by die verwonde sover dit 'n nuwe doel en bestemming betref, asook sinsdimensie te midde van lyding (Louw 1999:15).

Op hierdie punt kan die gebruik van 'n semi-gestruktureerde vraelys (sien Bylaag 1) tot 'n groot mate van klaarheid by beradenes bydra sover dit hulle interpretasie van die trauma betref. Aan die hand van die vraelys kan sienings omtrent geloof en God, asook gedragsgewoontes en -patrone geïdentifiseer word wat die pastoraal-terapeutiese proses in verband met verwonding tematies verder sou kon rig. Aansluitend hierby sou die verwonde geloofsvervreemde 'n bewustelike insig kon ontwikkel in huidige kognitiewe prosesse en besluitnemingspatrone aan die hand van werklikheidsinterpretasie van die trauma per se, gegewe die persoon se geassosieerde Godsbeeld. Binne die veilige omgewing van die pastorale proses sou die beradene uiteindelik 'n nuwe geestelike toewyding kon maak. Daar is in hierdie verband ook gevind dat direktiewe vrae van kardinale belang kan wees ter bevordering van insig aangaande hulle geestelike nood (Eldredge & Curtis 2007:163, 167).

Stap 1: Die berader evalueer die toepaslikheid van hierdie fase as eerste stap in die pastorale proses: Hierdie fase sou met Fase 3 wat oor die assessering en behandeling van die aanmeldingsprobleem handel gekombineer kon word tydens die beplanning van die beradingsprosedure, afhangende van die tydstip van aanmelding. Evaluering van die erns van die krisisaspek van die trauma en presenterende simptome tydens aanmelding is die eerste doelwit tydens kennismaking. In geval van aanmelding 12 tot 72 uur na die krisisgebeure, mag fase 1 en 3 gekombineer word as die eerste fase van ingrype om simptomatiese gedrag te stabiliseer. Fase 2 volg uiteraard daarna, voordat chroniese trauma in Fase 4 terapeuties belig en die genesingsproses daarmee afgehandel word.

Stap 2: Assesseer optimale geloofsfunksionering:

Bekendstelling en voorbereiding

Kontraksluiting geskied eerstens ten opsigte van vertroulikheid en eties gesproke toestemming tot die pastoraal-terapeutiese proses. Dit omsluit erkenning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees (MacArthur & Mack 1994:133-140; Seamands 2004:134-136), asook toepaslike gebed (Payne 2005:43-44, 50) en Skrifgebruik (McMinn 1996:99, 115, 119; Crabb 2003:233-236) om die emosionele en geestelike instelling op die proses van innerlike genesing te bevorder.

 Assessering van huidige geestelike welstand

Dit is veral noodsaaklik as daar nie 'n persoonlike verhouding met God Drie-enig aanwesig is nie (Eldredge & Curtis 2007:93; Cross 2006:27-30; Rom 11:36).

Taak: ter inleiding tot hierdie assesseringsgesprek word 'n semi-gestruktureerde vraelys gebruik.

Doelwitte: die verwonde geloofsvervreemde kry die geleentheid om hom- of haarself, sowel as sy of haar eie lewensperspektief te ontgin en te verbaliseer. Terugvoering aan die hand van die vraelys lei die pastorale gesprek rakende betekenisinhoude aangaande insigte en sienings met betrekking tot die beradene se huidige lewensopvattings (MacArthur & Mack 1994:173-284).

'n Semi-gestruktureerde vraelys kan ook as 'n inleidende hulpmiddel dien ter blootlegging van die breë traumageskiedenis. Dit kan ook aangevul word met die opstel van 'n volledige tydlyn en 'n gebedslys met die oog op die proses van innerlike genesing (Richardson 2005:149-154; Payne 2006:158; Seamands 2004:20; Payne 2005:60-63, 73, 82; Smith 2007:7).

 Die proses en terapeutiese take in hierdie stap

Bid ter inleiding vir die leiding en werking van die Heilige Gees om herinneringe aangaande traumatiese en kritiese momente uit die verlede na vore te bring ten einde die tydlyn so volledig moontlik te kan formuleer. Struktureer die sessie en verduidelik die gebruik van die vraelys as hulpmiddel en inleiding tot die gesprek. Stipuleer elke herroepbare insident wat moontlik kon bydra tot geloofsvervreemding. Neem kennis van elke pynvolle insident sedert skooljare.

Hiertydens word 'n terapeutiese vertrouensverhouding opgebou en intieme betrokkenheid gevestig. Meelewing met die beradene as draer van die beeld en karakter van God, word ook op hierdie wyse gekommunikeer (Anderson, Zuehlke & Zuehlke 2000:113-116, 165, 171; MacArthur & Mack 1994:152,146; McMinn 1996:117; Straub 2007:3;). Hierdie aspek bevat terapeutiese waarde, omdat die verwonde se geestelike funksionering en vertroue in mense weens die trauma aangetas is (Hicks 1993:15; Coetzer 2006:12-22; Sweeney 2007:1). Hierdie proses dra ook by tot genesing van die persoon se beskadigde self (Powlison 1994:58; Collins 1988:16).

Stap 3: Neem kennis van die volledige geestelike geskiedenis: Die vroegste konsepte aangaande God, lewensin en latere lewensdefiniërende besluite wat daaruit gekonseptualiseer het tydens geestelike tuisopvoeding, betrokkenheid by 'n kerk en die rol van geestelike mentors, insluitend die negatiewe impak van skokke en hartseer moet van kennis geneem word.

Stel die gebedslys op. Dit omvat tersaaklike aspekte soos verliese wat gely is, persone wat vergewe moet word, kognitiewe leuens, wilsbesluite, selfverwyte en leuenagtige gedrag wat selfvergifnis noodsaak, onverwerkte teleurstellings en wraakgedagtes. Die beradene word vervolgens pastoraal begelei tot die evaluering van geestelike leemtes en nood, asook skuldbelydenis en die aanvaarding van die heil in Christus. Die genesing (Barkley, Bennett, Botting et al. 1996:449, 452) en heilsbemiddeling is 'n proses (Hand 13:26) met God as die Gids wat die persoon op die roete na genesing begelei (Carson, France, Motyer et al. 1994:381; Cheung 2003:47). Die proses geskied onder die leiding van die Heilige Gees wat in werklikheid funksioneer as fasiliteerder van die waarheid (Packer 1994:84,193; Rom 8:13; Eseg 36:26; 1 Joh 3:2).

Fase 2: Aktiewe toewyding tot die genesingsproses

Verduideliking van hierdie fase aan die beradene: Die keuse tot genesing impliseer 'n aktiewe wilsbesluit (Payne 2005:37, 70; Eldredge 2004:95,125). Dit impliseer ook die terugkeer na onderdanigheid voor God (Dan 4:28-37). 'n Verbintenis soortgelyk aan bekering en heilsaanvaarding in Christus (Fase 1), kenmerk die verwonde se persoonlike toewyding tot genesing (Joh 4:7-18, 23-26). Die terapeutiese voorbereiding op bepaalde aspekte van die proses van genesing, is noodsaaklik. Na heilsaanvaarding in Fase 1, vorm hierdie stappe in Fase 2 deel van die proses van heiligmaking, aangesien hierdie toewyding 'n oorgawe aan die transformasie na die skeppingsdoel impliseer (Eldredge 2007:177, 229).

Persoonlike verbintenis tot die genesingsproses: Die pastorale proses word bevorder indien die beradene onder leiding van die Heilige Gees deur die volgende stappe begelei word. Die betekenisinhoude van elke stap word hiertydens belig en emosionele hindernisse geïdentifiseer, ondersoek en pastoraal-terapeuties deur Skrifgebruik en gebed hanteer.

Stap 1: Verbind jou lewe opnuut (Gal 6:2; Rom 12:5). Omskep isolasie in kontak met God en mense.

Stap 2: Ervaar jou lewe in al sy dimensies (Matt 6:25; Fil 4:6). Onderdrukking van pyn en woede gee slegs tydelike en kunsmatige vrede.

Stap 3: Soek na waarheid in jou lewe (Kol 3:40). 'n Eerlike selfondersoek mag herhalende patrone blootlê wat onderliggende pyn bedek. Waarheid is selfkonfronterend, bring ongemak en inisieer dikwels 'n vlugmeganisme wat oor die jare heen 'n patroon gevorm het.

Stap 4: Fokus op genesing wat die toekoms betref (Ps 119:28). Onvervulde drome wat nuut ontsluit word, word die energie-meganisme vir 'n nuwe lewensingesteldheid en 'n groter verwysingsraamwerk.

Stap 5: Vind lewenshulp (Jer 6:14; Heb 13:17). Geen persoon kan op geïsoleerde wyse self sy probleme oplos nie.

Stap 6: Neem eienaarskap van jou lewe (Luk 9:23-25). Identifiseer verwarrende aspekte op die pad na heelwording. Mentorskap wat tot geestelike verdieping lei, is dikwels nodig om eienaarskap van jou lewe te neem (1 Sam 17:37, 50; Dan 4:34).

Stap 7: Besluit om te vergewe (Matt 6:14-15; Gen 50:20). Die onvergeetlike kan vergewe word, omdat dit slegs 'n rasionele wilsbesluit vereis (Arterburn 2005:10). 'n Besluit hierteen hou selfs fisiese gevolge in weens die toksiese aard van bitterheid (Retief 2004:31; Coetzer 2007:74; Backus 1996:64).

Stap 8: Wees bereid om alles op die spel te plaas (1 Joh 4:18). Die pad na genesing kronkel deur rou, smart en vergifnis. Die Heilige Gees bied troos hierin (Heb 13:5; 1 Pet 5:7).

Stap 9: Kies om God en andere in nood te dien (Rig 6:11-16; 2 Kor 1:3-4). Midde-in die beproewing word die perspektief verhelder deur diens aan ander (1 Kor 12; Rom 15:2).

Stap 10: Kies om te volhard (Joh 6:66; Heb 10:36). Eskatologies gesproke (2 Kor 4:17) moet erken word dat daar hoop is en dat lyding sal verbygaan (Rom 8:28; Joh 16:20). Eiewaarde moet bereken word (Ps 139:14), daar moet aanvaar word dat genesing en heil 'n proses is en dat losmaking vanuit ou patrone volharding noodsaak.

Die voorafgaande fase sou na een of twee sessies voltooi kon wees.

Fase 3: Assessering en behandeling van aanmeldingsprobleem: Akute stressindroom of posttraumatiese stresversteuring (tipe 1 trauma)

Fase 3 fokus op die mees onlangse verwonding. Terapie wat innerlike genesing teweegbring, kenmerk hierdie stap wat oor drie of vier sessies mag strek.

Stap 1: Gebed: Inleidende gebed berei die weg vir die Gees om sowel die berader as die beradene te begelei. Dit fasiliteer sy vertroosting tydens die ontdekking van en moontlike herbelewenis van emosionele verwonding.

Assesseer die aard en graad van die trauma met betrekking tot die fisiese, kognitiewe, emosionele en gedragsverwante areas (Kaplan & Kaplan 2007:613-621). Versamel bykomende geestelike data. Verwys die persoon na 'n geneesheer vir 'n mediese ondersoek indien fisiese simptome aanwesig is (Backus 1996:64; Kinniburgh, Blaustein, Spinnazola et al. 2005:430).

Stap 2: Pastorale bemiddeling: Wat die proses van genesing en pastorale heilsbemiddeling betref, sal daar voortgegaan word om elke insident van trauma en emosies van skok, woede, hartseer en/of haat te verbaliseer en dit in gebed na God in Christus te bring. Vergewe die oortreder en aanvaar die bevryding in Jesus Christus as gevolg van hierdie vryspraak (Achtemeier 1999:102; Kotze 2008:213; 2 Sam 13:20).

Bid ook vir genesing van elke emosionele verlies wat gely is en vra vergifnis en bely elke sondige besluit weens die verwonding. Bid vir bevryding, genesing, beskerming en die begrensing van verdere oortredings. Laat finale geregtigheid aan God oor en wees onderworpe aan die heerskappy van God alleen. Dank God vir die redding in Christus (Skelton & Batley 2008:38; Spies 2009:16; Lampman & Shattuck 1999:32, 58).

Fase 4: Assessering en genesing van tipe 2 trauma of gekompliseerde trauma

Stap 1: Assesseer die familiegeskiedenis soos volg: Gebed ter aanvang van die sessie dien as begeleiding en vertroosting van die verwonde tydens die ontdekkingsfase van moontlike addisionele verwonding, aangesien verdere geestelike data tydens hierdie sessie na vore kan kom (Anderson 2004:71-136; Brown & Yoder 1995:41-46, 58).

Herevalueer bestaande mediese inligting soos aangeteken in Fases 1 en 3 indien fisiese simptome as bekende patrone tydens hierdie assessering figureer en elimineer potensieel ontoepaslike behandelings. Alternatiewelik word farmakologiese behandeling in werking gestel weens die chroniese aard van die simptome en/of chirurgiese behandeling na aanleiding van 'n mediese aanbeveling (Anderson et al. 2000:172-188, 338, 253; MacArthur & Mack 1994:173-284; McMinn & Campbell 2007:151-174; Kaplan & Kaplan 2007:621).

Stap 2: In-diepte ondersoek, finalisering van gebedslys en voorbereiding op gebedsterapie: Kombineer bovermelde assesseringsriglyne met die volgende evalueringsaspekte:

Ondersoek die aard van die mishandeling en fokus daarop. Fokus ook op faktore wat tot emosionele verwaarlosing gelei het. Begelei die beradene om vorige verwonding te erken en te verbaliseer. Maak 'n lys van hierdie wonde vir latere gebedsterapie (Sigmund 2003:221-272; Van der Kolk 2005:403; Schore 2003:141; Seamands 2004:20).

Begelei die verwonde om te erken dat dit wel gebeur het. In terapie word hierdie bevindings geïnterpreteer en nuut en verklarend gefraseer. Die verwonde se onvervulde en soms onblusbare emosionele behoeftes tydens hierdie ontwikkelingsfase(s), word ook hiertydens geïnterpreteer (Borris 2003:11; Wright 2003:223-228).

Identifiseer en evalueer alle verliese wat weens die verwonding gely is, asook die moontlike betekenis en die emosies wat die ontdekking by die verwonde mag wek (Lindeque 2006:563). Hanteer reaksies en emosies in gebed en met toepaslike Skrifgedeeltes (Ps 31:24; Kol 1:27; Rom 8:26-27; Joh 16:33).

Doen 'n bestekopname van ongesonde verhoudings in die verlede en hede, asook die gevolge van negatiewe herhalende gedragspatrone ten opsigte van hierdie verhoudings. Lys die geïdentifiseerde toksiese emosies soos bitterheid, fantasieë van vergelding, asook name van persone wat vergifnis moet ontvang (Exline, Yali & Lobel 1999:365-379; West 2001:421).

Eksploreer en identifiseer die moontlike verband tussen onvervulde behoeftes wat die persoon as kind weens ongesonde verhoudings ondervind het en huidige kompulsies via verslawende gedrag. Identifiseer moontlike skakels tussen die soeke na vervulling van die innerlike emosionele behoeftes en die huidige verslawende gedragsrepetisies as gevolg van tydelike vervulling. Begelei die verwonde pastoraal om sodoende die grondliggende pyn te identifiseer (Coetzer 2006:40; Stoop & Masteller 1991:247-252).

Begelei die verwonde geloofsvervreemde persoon tot kognitiewe en geestelike begrip van die 'spoke' uit die verlede wat huidige verhoudings en gedrag dikteer. Verduidelik konsepte en begrippe wat moontlik nuut mag wees. Begelei die beradene om 'n eerlike inventaris van die impak van die verslawing weens die 'spoke' op te stel. Maak 'n lys van elke item waaroor gerou moet word. Stel riglyne saam vir grense binne verhoudings om verdere misbruik te voorkom (Schibik 2006:239; Bauer, Duffy, Fountain et al. 1992:150, 153).

Dit is vervolgens ook belangrik om simbolies afskeid te neem van ongesonde verknogtheid aan ouers ter bevordering van volgehoue groei en volwassewording (Louw 1999:58; Stone 1988:55, 76; Powlison 1994:58).

Stap 3: Rou oor verliese: Die beradene moet aan die hand van Skriftuurlike beginsels en gebed deur die rouproses begelei word sover dit geïdentifiseerde verliese betref. Filtreer die woede wat tot depressie sou kon lei (Falsetti et al. 2003:391-398; Kotze 2008:195). Identifiseer en hanteer enige 'onderhandelinge' met God. Begelei hierna die beradene tot vergifnis, berusting en aanvaarding van die verlies (2 Tim 3:16; Rom 1:16; Kol 1:28; Venter 1988:32; Burger 1991:59).

Stap 4: Besef die waarde van 'n unieke godgeskape mens en leef daaruit: Gryp in gebed die nuwe self in Christus aan. Begelei die beradene vanuit die Skrif om nuwe besluite omtrent die self te neem wat gesonde begrensing en 'n ondersteuningsnetwerk binne 'n kerkgemeenskap betref (Anderson et al. 2000:85; Byl & Visker (eds.) 1999:53-62; Louw 1999:35; Meier & Clements 2005:27; ). Hierdie stappe sal instandhouding en voortgesette groei en herstel bevorder.

Stap 5: Kies nuwe ouerskap: 'n Gesonder verhouding in terme van ouerskap word gevestig. By uitstek is God as Vader die nuwe ouer in die beradene se lewe. Verder is 'n sterk geestelike mentor vir groter geestelike groei in Christus van kardinale belang. Die beradene word ook in 'n sekere sin sy eie ouer. Dit impliseer 'n nuwe innerlike teregwysende stem en 'n ingesteldheid teenoor die werking van die Heilige Gees ter begeleiding op hierdie nuwe weg (Powlison 1994:58; 1 Kor 15:20; Kol 1:28).

Stap 6: Stel rentmeesterskap aangaande verhoudings vas: Die herstelproses noodsaak 'n verbintenis aan 'n rentmeester - iemand aan wie daar op 'n gereelde basis verslag gedoen kan word. Deur begrensing word simptomatiese denke en gedrag hiertydens gestabiliseer (Hemfelt et al. 2003:260; Dan 4:34; 1 Sam 17:37, 50).

Stap 7: Instandhouding: Instandhouding sluit voortdurende selfevaluering, begrensing, gemeente-betrokkenheid en geestesgemeenskap met God en medegelowiges, sowel asgetuienislewering aan ander verwonde geloofsvervreemdes van die hoop wat daar in God is in (Hillman 2002:272; Courtois, Ford, Herman et al. 2009:214).

 

Gevolgtrekkings en samevatting

Die pastoraat word die besondere geleentheid gebied om die troos en hoop in Christus teenoor die verwonde geloofsvervreemde te bemiddel. Daar blyk heel dikwels 'n noue verband te wees tussen verskuilde pyn en geloofsvervreemding en dit bied 'n besondere uitdaging aan die pastoraat om hierdie verband te eksploreer. Deur middel van biddende en nougesette terapeutiese ingrype mag die voorgestelde matriks vir die pastorale berader as prakties-toepaslike hulpmiddel dien ten einde die verwonde tot heling van pyn te begelei. Dit sal hierdie persoon in staat stel om met nuwe geloofsperspektief in 'n sinvolle verhouding met God in Christus die toekoms te ontsluit.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Achtemeier, E., 1999, 'Victimization and healing', in L.S. Lampman & M.D. Shattuck (eds.), God and the victim. Teological reflections on evil, victimization, justice and forgiveness, pp. 89-106, William B. Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

American Psychiatric Association, 2007, Diagnostic and statistical manual of mental disorders (DSM-IV-TR), 4th edn., American Psychiatric Association, Arlington, Virginia.         [ Links ]

Anderson, R.S., 2004, Introduction to the practical theology method. Lesing gelewer te Azuza Pacific University op 15 September 2004.         [ Links ]

Anderson, N.T., Zuehlke, T.E. & Zuehlke, J.S., 2000, Christ centered therapy: The practical integration of theology and psychology, Zondervan, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Arterburn, S., 2005, Healing is a choice, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Barkley, W., Bennett, G., Botting, M., Browne, S.G., Cansdale, G.S., Clark, R.E.D., Cole, R.A., Edmunds, V., Scorer, C.G., Geldenhuys, N., Kee, H.C., McEwen, J.S., MacNutt, J.S., Morse, F., Palmer, D., Peddie, J.C., Stott, J.R.W., Sussman, M., Brothwell, D., Sandisan, A.T., Warfield, B.B., Graber, F. & Muller, D. 1996, 'Health, disease and healing', in I.H. Marhall, A.R. Millard,. J.I. Packer & D.J. Wiseman (eds.), New Bible Dictionary, 3rd edn., IVP, Leicester.         [ Links ]

Backus, W., 1996, The healing power of a Christian mind, Bethany House, Minneapolis, Minnesota.         [ Links ]

Bauer, L., Duffy, J., Fountain, E., Halling, S., Holzer, M., Jones, E., Leifer, M. & Rowe, J.O., 1992, 'Exploring self-forgiveness', Journal of Religion and Health 32, 149-160.         [ Links ]

Borris, E.R., 2003, The Healing Power of Forgiveness, Occasional Paper Number 10, The Institute for Multi-Track Diplomacy, Washington D.C., viewed 26 July 2009, from http://imtd.org/imtd/OP10.pdf        [ Links ]

Brown, R. & Yoder, D., 1995, Unbroken curses: Hidden sources of trouble in the Christian's life, Whitaker House, New Kensington, Pennsylvania.         [ Links ]

Burger, C., 1991, Praktiese teologie in Suid Afrika, RGN Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Byl, J. & Visker, T., eds., 1999, Physical education, sport, and wellness: Looking to God as we look at ourselves, Dordt College Press, Sioux City, Iowa.         [ Links ]

Carson, D.A., France, R.T., Motyer, J.A. & Wenham, G.J. (eds.), 1994, New Bible commentary, 21st edn., InterVarsity Press, Downers Grove, Illinois.         [ Links ]

Chesterton, G.K., 1990, Orthodoxy: The romance of faith, Doubleday, New York.         [ Links ]

Cheung, V., 2003, Biblical healing, viewed 29 Aug 2007, from http://www.rmiweb.org        [ Links ]

Cloud, H., 2008, Die geheimenisse van God, Struik, Kaapstad.         [ Links ]

Coetzer, W., 2006, Traumaberading, Ongepubliseerde studiegids, Potchefstroom.         [ Links ]

Coetzer, W., 2007, Die noue wisselwerking tussen die geestelike, emosionele en fisiese dimensies, Ongepubliseerde studiegids, Potchefstroom.         [ Links ]

Collins, G.R., 1988, Christian counselling, A comprehensive guide, Word Publishing, Waco, Texas.         [ Links ]

Courtois, C.A., Ford, J.D., Herman, J.L. & Van Der Kolk, B., 2009, Treating complex traumatic stress disorders: An evidence-based guide, Guilford Press, New York, New York.         [ Links ]

Crabb, L., 1977, Effective Biblical counselling, Zondervan, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Crabb, L., 2003, Soultalk, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Crabb, L., 2009, 66 Love letters, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Cross, D., 2006, Soul-ties, Sovereign World, Lancaster.         [ Links ]

Den Heyer, C.J. & Schelling, P., 2001, Symbolen in de bijbel, Woorden en hun betekenis, Meinema, Zoetermeer.         [ Links ]

Donahue, M.J., 1985, 'Intrinsic religiousness: Review and meta-analysis', Journal of personality and social psychology 48, 400-419.         [ Links ]

Eldredge, J., 2004, Epic, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Eldredge, J., 2007, Desire, Thomas Nelson Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Eldredge, J., 2011, Beautiful outlaw, Faith Books, New York, New York.         [ Links ]

Eldredge, J. & Curtis, B, 2007, The sacred romance, Struik, Cape Town.         [ Links ]

Exline, J.J., Yali, A.M. & Lobel, M., 1999, 'When God disappoints: Difficulty forgiving God and its role in negative emotion', Journal of Health Psychology 4, 365-379.         [ Links ]

Falsetti, S.A., Resick, P.A. & Davis, J.L., 2003, 'Changes in religious beliefs following trauma', Journal of Traumatic Stress 16 (4), 391-398.         [ Links ]

Foerster, W., Fohrer, G., Green, M., Wagner, G., Black, M., Yamauchi, E., Stott, J.R.W., Wells, D.F. & McDonald, H.D., 1996, 'Salvation', in I.H. Marshall, A.R. Millard, J.I. Packer & D.J. Wiseman(eds.), New Bible dictionary, 3rd edn., pp. 1046-1050, Inter-Varsity Press, Leicester.         [ Links ]

Garlington, D.B., 1993, 'The obedience of faith in the letter to the Romans', Westminster Theological Journal 55, 87-112.         [ Links ]

Giglio, L., 2005, I am not but I know I AM, Multnomah Publishers, Sisters, Oregon.         [ Links ]

Gilbert, M.G. & Brock, R.T. (eds.), 1985, The Holy Spirit and counselling, vol. 1, Theology and theory, Hendrikson, Massachusetts.         [ Links ]

Harrison, E.F., 1980, 'Romans', in F.E. Gaebelein (ed.), The expositor's Bible commentary, vol. 10, p. 3-171, Zondervan, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Heitink, G., 1984, Pastoraat als hulpverlening, Kok, Kampen.         [ Links ]

Heitink, G., 1999, Practical theology, Histor, Theory, Action domains, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Hemfelt, R., Minirth, F. & Meier, P., 2003, Love is a choice, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Herman, J.L., 1997, Trauma and recovery, Basic Books, New York.         [ Links ]

Herman, J.L., 2001, Trauma and recovery from domestic abuse to political terror, Pandora Books, London.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1981, Dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Hicks, R., 1993, Failure to scream, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Hillman, J.L., 2002, Crisis Intervention and trauma: New approaches to evidence-based practice, Plenum Publishers, New York.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1981, In die diens van die Woord, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1983, Die brief aan die Romeine, NG Kerkboekhandel, Kaapstad.         [ Links ]

Joubert, P., 2004, Trichotomous therapy: A practical pastoral paradigm, Lesing gelewer by byeenkoms van M- en D-studente, Noordwes Universiteit Potchefstroom op 29 Januarie 2004.         [ Links ]

Kaplan, B.J. & Kaplan, V.A., 2007, Kaplan & Sadock's synopsis of psychiatry, behavioral sciences/clinical psychiatry, 10th edn., Lippincott, Philadelphia, Pennsylvania.         [ Links ]

Kendall, R.T., 2008, Did you think to pray? Making prayer the foundation of your life, Hodder and Stoughton, London.         [ Links ]

Kinniburgh, K., Blaustein, M., Spinnazola, J. & Van Der Kolk, B., 2005, 'Attachment, self-regulation and competency: A comprehensive intervention framework for children with complex trauma', Psychiatric annals 35 (5), 424-430.         [ Links ]

Klevberg, K., 2005, 'The spiritual costs of being in combat, The military chaplain's role in PTSD-work', Pacem 1, 1-12.         [ Links ]

Kotze, H.P., 2008, 'Die belangrikheid van die stappe van rou en vergifnis in die herstelproses van die emosioneel verwonde persoon - 'n pastorale studie', PhD proefskrif, Noordwes Universiteit,         [ Links ].

Lampman, L.B. & Shattuck, M.D., 1999, God and the victim, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Lewis, C.S., 2002, Mere Christianity, Harper Collins, Londen.         [ Links ]

Lindeque, R. C., 2006, Die pastorale berading van persone met gekompliseerde trauma, PhD proefskrif Noordwes Universiteit.         [ Links ]

Louw, D.J., 1997, Pastoraat as vertolking en ontmoeting, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

Louw, D.J., 1999, Pastoraat as vertolking en ontmoeting: Teologiese ontwerp vir 'n basisteorie, antropologie, metode en terapie, (nuwe herfs uitg.), Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Marshall, C.D., 2001, Beyond retribution, A New Testament vision for justice, crime, and punishment, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Matsakis, A., 1996, I can't get over it, A handbook for trauma survivors, 2nd edn., New Harbinger, Oakland, California.         [ Links ]

MacArthur, J.F. & Mack, W.A., 1994, Introduction to Biblical counselling, A basic guide to the principles and practice of counselling, Word Publishing, Dallas, Texas.         [ Links ]

McMinn, M.R., 1996, Psychology, theology and spirituality in Christian counselling, Tyndale, Wheaton, Illinois.         [ Links ]

McMinn, M.R. & Campbell, C.D., 2007, Integrative psychotherapy: Towards a comprehensive Christian approach, Intervarsity Press, Downers Grove, Illinois.         [ Links ]

Meier, P. & Clements, T., 2005, Blue Genes: Breaking free from the chemical imbalances that affect your moods, your mind, your life, and your loved ones, Tyndale, Carol Stream, Illinois.         [ Links ]

Milton, J., 2008, Paradise lost and paradise regained, Vintage Books, London.         [ Links ]

Morris, L., Martin, R.P., Stuchlmacher, P. & Link, H.G., 1996, 'Reconciliation', in I.H. Marshall, J. Murray, 1979, Redemption accomplished and applied, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Packer, J.I., 1994, Growing in Christ, Crossway Books, Wheaton, Illinois.         [ Links ]

Payne, L., 2005, The healing presence, Hamewith Books, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Payne, L., 2006, Restoring the Christian soul, Hamewith Books, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 1993, Praktiese teologie as kommunikatiewe handelings-teorie, RGN, Pretoria.         [ Links ]

Piper, J., 2008, Battling unbelief: Defeating sin with superior pleasure, Christian Art Publishers, Vereeniging.         [ Links ]

Powlison, D., 1994, 'Biblical counseling in the twentieth century', in J.F. MacArthur, & W. Mack, Introduction to Biblical counseling: A basic guide to the principles and practice of counselling, pp. 44-60, Word Publishing, Dallas, Texas.         [ Links ]

Retief, Y., 2004, Genesing vir trauma in die Suid-Afrikaanse konteks, Struik, Kaapstad.         [ Links ]

Richardson, R., 2005, Experiencing healing prayer, Intervarsity Press, Downers Grove, Illinois.         [ Links ]

Schaeffer, F.A., 1982, The God who is there, Intervarsity Press, Downers Grove, Illinois.         [ Links ]

Schibik, J.M., 2006, 'Forgiveness therapy in psychological trauma and chemical abuse treatment', in B. Carruth (ed)., Psychological trauma and addiction Treatment, pp. 227-251, Haworth Press, Binghamton, New York.         [ Links ]

Schore, A., 2003, Affect regulation and the repair of the self, McGraw-Hill, New York.         [ Links ]

Seamands, D.A., 2004, Healing for damaged emotions, Life Journey, Colorado Springs, Colorado.         [ Links ]

Sigmund, J.A., 2003, 'Spirituality and Trauma: The role of clergy in the treatment of posttraumatic stress disorder', Journal of Religion and Health 42(3), 221-229.         [ Links ]

Sinclair, N.D., 1993, Horrific traumata: A pastoral response to the post-traumatic stress disorder, The Haworth Pastoral Press, London.         [ Links ]

Skelton, A. & Batley, M., 2008, 'Restorative justice: A contemporary South African review', Acta Criminologica 21(3), 37-51.         [ Links ]

Smith, E., 2007, 'Theophostic prayer',esing gelewer by Internasionale Konferensie van die AACC gehou op 15 September 2007 in Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Spies, G.M., 2009, 'Restorative justice: A way to support the healing process of a child exposed to incest', Acta Criminologica 22(1), 15-24.         [ Links ]

Stone, H.W., 1988, The Word of God and pastoral care, Abingdon Press, Nashville, Tennessee.         [ Links ]

Stoop, D. & Masteller. J., 1991, Forgiving our parents forgiving ourselves, Servant Publications, Ann Arbor, Michigan.         [ Links ]

Straub, J., 2007, 'Standing strong in times of darkness: Developing a theology of suffering for crisis responders' Lesing gelewer by Internasionale Konferensie van die AACC, Nashville, Tennessee, 12 September 2007.         [ Links ]

Sweeney, D.S., 2007, 'Neurobiological effects of trauma and related treatment considerations', Lesing gelewer by Internasionale Konferensie van die AACC, Nashville, Tennessee, 14 September 2007.         [ Links ]

Sweeney, D.S., 2011, 'Treating the effects of childhood trauma with expressive therapies', Lesing gelewer by Internasionale Konferensie van die AACC, Nashville, Tennessee, 29 September 2011.         [ Links ]

Tacke, H., 1975, Glaubenshilfe als Lebenshilfen, Neukirchen Verlag, Neukirchen, Vluya.         [ Links ]

Tan, S., 2011, Counselling and psychotherapy, A Christian perspective, Baker Academic, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Tolstoy, L., 1984, The Kingdom of God is within you: Christianity not as a mystic religion but as a new theory of life, University of Nebraska, Constance Garnett, Lincoln, Nebraska.         [ Links ]

Trollinger, S., 2007, Advanced triage counseling. Counseling that heals teenagers and parents, Higher Life Press, Ovieda, Florida.         [ Links ]

Van Der Kolk, B., 2005, 'Developmental trauma disorder: Towards a rational diagnosis for children with complex trauma histories', Psychiatric annals 33(5), 401-408.         [ Links ]

Van Der Walt, T., 2006, Die Messias het gekom, Potchefstroom Teologiese Publikasies, Potchefstroom.         [ Links ]

Veltkamp, H.J., 1988, Pastoraat als gelijkenis, Kok, Kampen.         [ Links ]

Venter, C.J.H., 1988, 'Praktiese riglyne uit die Nuwe Testament vir die pastorale gesprekvoering', Praktiese Teologie in Suid Afrika 5, 29-38.         [ Links ]

Venter, C.J.H., 1993, 'Basisteoretiese perspektiewe op kommunikasie in die bediening', In die Skriflig/In Luce Verbi 27(2), 247-260.         [ Links ]

West, W., 2001, 'Issues relating to the use of forgiveness in counselling and psychotherapy', British Journal of Guidance & Counselling 29(4), 415-423.         [ Links ]

Williams, M.B. & Sommer, J.F. Jr. (eds.), 2002, Simple and complex PTSD, Strategies for comprehensive treatment in clinical practice, Haworth Press, Binghamton, New York.         [ Links ]

Wilson, J.P., Friedman, M.J. & Lindly, J.D., 2001, Treating psychological trauma and PTSD, Guilford Press, New York.         [ Links ]

Wolterstorff, N., 1999, 'The contours of justice: An ancient call for shalom', in L.S. Lampman & M.D. Shattuck (eds.), God and the victim, pp. 107-130, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Wright, H.N., 2003, Crisis and trauma counselling: A practical guide for ministers, counselers and lay counselers, Regal, California.         [ Links ]

Wright, H.N., 2006, Recovering from the losses in life, Revell, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Wentzel Coetzer
PO Box 19320
Noordbrug 2522, South Africa
Email: wentzel.coetzer@nwu.ac.za

Received: 29 Aug. 2011
Accepted: 21 Nov. 2011
Published: 04 Apr. 2013

 

 

Bylaag 1

Vraelys: Huidige geestelike funksionering

1. Glo jy dat God jou liefhet en na jou omsien?

2. Is God vir jou onpersoonlik en afwesig in jou daaglikse lewe?

3. Is die lewe vir jou 'n positiewe ervaring?

4. Voel jy vervuld en tevrede met jou lewe oor die algemeen?

5. Is jy bekommerd oor jou toekoms?

6. Put jy krag uit private gebed met God?

7. Voel jy dat jy nie genoeg ondersteuning en krag ontvang vanaf God nie?

8. Glo jy dat God besorgd is oor jou probleme?

9. Kan jy met vertroue bevestig dat jy seker is wie jy is?

10. Is jy vol vertroue oor jou toekoms?

11. Is jou lewe volgens jou mening gevul met ongelukkigheid en konflik?

12. Vertrou jy mense? Motiveer.

13. Vertrou jy God wat jou huidige situasie betref sowel as jou toekoms?

14. Help jou verhouding met God jou om eensaamheid teë te werk?

15. Reken jy dat jy 'n persoonlik bevredigende verhouding met God het?

16. Watter tipe verhouding of aktiwiteit bied aan jou groot lewensvervulling?

17. Is jy van mening dat jou verhouding met God bydra tot jou welstand in die breë?

18. Beleef jy ware lewensin en betekenis? Motiveer.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License