SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.87 número1Archaeology of time - activation of installation space by the spect-actorAfCTA and the Trajectory of Industrialisation and Development Sustainability in Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Koers

versión On-line ISSN 2304-8557
versión impresa ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.87 no.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.87.1.2537 

ORIGINAL RESEARCH

 

Generaal JH De La Rey in Mei 1902: 'n Bittereinder vir Vrede

 

General J.H. de la Rey in May 1902: a die-hard Boer opting for peace

 

 

Pieter Johannes Strauss

Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, South Africa https://orcid.org/0000-0002-5324-8363

Correspondence

 

 


Trefwoorde: Anglo-Boereoorlog π oorlog tussen state; Boere en Boervroue wat lank ly, dui op bitter einde; Boereverliese bestaan grootliks uit verwoesting van Republieke en vroue-en kindersterftes in kampe; "U wil geskied" beteken nie "My wil om te oorwin geskied" nie; Afrikanernasionalisme nie afhanklik van politieke mag nie.


ABSTRACT

General J.H. (Koos) de la Rey was, according to historians, a Christian Afrikaner and a Boer aristocrat. Not only did he play a leading role in the Boer community of the old Transvaal - in the 1890s he was a well-known member of the Volksraad or highest governing authority in the South African Republic - but in the Anglo-Boer War of 1899-1902 he became a Boer genera who distinguished himself by leading his burgers in attacks on British military structures and skirmishes on horseback. De la Rey became known as a military strategist of the first rank. In the run-up to the Anglo-Boer War, which started on 11 October 1899, De la Rey tried to avoid this war with Britain as long as he could. After the war became a reality, he gave himself for his country as a die-hard fighter or "bittereinder": somebody who fights till the bitter end. Apart from his natural military abilities, General De la Rey had a soft spot and a feeling for stressed people. He helped badly wounded enemies and in May 1902, in Boer talks about peace, he listened with compassion to those Boers who had suffered much and pleaded for peace, convincing him that they had reached the end of their tether - literally the end of the bitter end.
De la Rey did not speak much at meetings, but during the peace talks at Vereeniging from 15-31 May 1902, he urged and influenced his people to accept Britain's peace proposals. In the end, De la Rey and the die-hard fighters among the Boers who had fought for their politica independence against British imperialism fought for self-rule under British rule as soon as possible.
De la Rey wanted the Afrikaner people to maintain their identity as a nation in new circumstances and not to be wiped out as a nation through the Anglo-Boer War. He died as a leader and a hero of his people in 1914.

Keywords: Anglo-Boer War a war between states; Boers’ suffering for a long time indicates the bitter end; Boer losses mainly result from destroying the Boer Republics and the loss of many women and children; “Thy will be done” does not mean “Thy will be one for me to win”; Maintaining an Afrikaner identity not dependent on political power.


 

 

Inleidend

Historici bestempel generaal J.H. (Koos) de la Rey (22 Oktober 1847-15 September 1914, De Kock, 1976:223), 'n bekende Boeregeneraal gedurende die Anglo-Boereoorlog (ABO) van 1899-1902, as 'n "meesterlike stellingoorlogvoerder" en "uitsonderlike ruitergeneraal" met 'n "indrukwekkende" voorkoms.

Met sy hoë voorkop, arendsneus, vorsende blik en ruie volbaard het 'n patriargale waardigheid uit hom gestraal (Pretorius, 1984:132).

Sy sieleadel het hom afgesonder van gewone mense, sy Godsvertroue was die krag wat sy doelgerigte optrede onderskraag het; in die krygsgeskiedenis het hy sy naam ... geskryf as ['n] onvergelyklike taktikus wie se dade hom ewe merkwaardig as ('n) krygsman gemaak het (De Kock, 1976:227).

Boonop sou generaal Koos de la Rey as 'n krygsman en volkstryder die naam "Leeu van Wes-Transvaal" onder sy volksgenote verwerf (De Kock, 1976:224).

De la Rey was 'n militêre, maar ook 'n geestelik-politieke leier van Afrikaners. Hulle het hom ervaar as iemand wat deurgaans kalm, besadig, gematig, billik, regverdig en beslis kon optree (SABW 1976:223); 'n leier wat teerhartig teenoor "verslane en verwonde" vyande én sy eie mense in hulle tye van swaarkry kon wees;1 met 'n teerhartigheid wat hom by die beraad van 60 Boere-afgevaardigdes2 van 15-31 Mei 1902 (Kestell & Van Velden, 1982:51, 169) op Vereeniging kon beweeg het om deels vanweë die lyding en nood van sy mense tydens die ABO op ander gebiede as sy eie tot die Vrede van 31 Mei 1902 in te stem (vgl. De la Rey se woorde op die Vereenigingsberaad, Kestell en Van Velden 1982:136). Teenoor 'n gebrek aan behoorlike kleding, wapens en voedsel het De la Rey en die burgers onder hom in hulle eie behoeftes voorsien deur beslaglegging op Britse voorrade én die versteking en beskerming van eie voorrade. As De la Rey net namens homself moes praat, sou hy as n bittereinder die oorlog kon voorsit. Hy moes egter ook ag slaan op die "droevige overtuiging" uit ander dele van die ZAR en die Republiek van die OVS wat vir hom - so het hy dit verstaan - wou sê: "... het bittere einde (is) gekomen" (SABW 1976:225; Kestell, 1902:253; Gronum, 1974:128). Kestell en Van Velden, sekretarisse van onderskeidelik die Republiek van die OVS en die ZAR se uitvoerende rade (Kestell, 1902:226, 249) notuleer hierdie inset van De la Rey op die beraad in Vereeniging op 16 Mei 1902 soos volg:

Uit alles dat hij op de vergadering gehoord had was hij tot de droevige overtuiging gekomen, dat men met den strijd moest ophouden ... hij zinspeelde op wat gezegd was van tot het einde volharden. 'Vecthen tot het bittere einde?' zoo vroeg hij, de vergadering toesprekende, 'zegt gij dat?' Maar is het bittere einde niet nu gekomen? (Kestell, 1902:253).

De la Rey het bygevoeg:

Dis alleen die vegtende burgers wat van die nodige kleding voorsien is wat hulle van die vyand afgeneem het. Daarom meen ek dat dit tyd nou aangebreek het om met die vyand te onderhandel. Indien van hierdie geleentheid nie gebruik gemaak word nie, sal die deur gesluit wees. Engeland sal ons nooit weer toelaat om so bymekaar te kom of die kans gee om 'n ooreenkoms te tref nie . (Kestell & Van Velden, 1982:83).

Nie alleen moes generaal Koos de la Rey syns insiens na hierdie pleitende stem onder sy eie mense luister nie; hy moes teen die bitter einde van die ABO - soos baie van die 20 779 Boerebittereinders te velde die bitter einde vertolk het (Pretorius 2001:21) - as een van ses afgevaardigdes namens die ZAR die Vrede van Vereeniging teken. Die ondertekening geskied op 31 Mei 1902 teen 23:05 in Melrosehuis in Pretoria.3 Daarmee word ook aan Brittanje se spertyd aan die Republieke vir die ondertekening van sy vredesvoorstelle voldoen. Vroeër dieselfde Saterdag aanvaar die Boereberaad op Vereeniging die Britse voorstelle met 54-6 (Kestell & Van Velden, 1982:171-173; Scholtz, 1998:117).

Hierdie artikel ontleed die bydraes van De la Rey op die Boereberaad en sy ondertekening van die Akte van Vrede of ABO-vredesooreenkoms namens die ZAR. Twee vrae oor De la Rey se optrede spruit uit die gebeure. Die eerste vraag is: Wat het hom as 'n Christen-Afrikaner beweeg om vrede te sluit?; en die tweede vraag is: Watter rol het hy gespeel in die gesprekke onder die 60 Boere-afgevaardigdes wat tot hulle aanvaarding van die Britse voorstelle gelei het? Twee sake beklemtoon die belangrikheid van De La Rey se aandeel aan hierdie sake: hy was die Boerebevelvoerder in die uitgestrekte Wes-Transvaal én 'n bittereinder-bondgenoot van president M.T. Steyn en hoofkommandant C.R. de Wet van die Republiek van die OVS in die ABO (Van Schoor, 2005:131, 163). Van die ses Transvalers wat die vrede onderteken het, was De La Rey vierde: eers waarnemende president S.W. Burger; gevolg deur staatsekretaris F.W. Reitz; daarna kommandant-generaal Louis Botha, en laastens generaal J.H. de la Rey (Kestell & Van Velden 1982:174). Voor die uitbreek van die ABO op 11 Oktober 1899 was De la Rey as Volksraadslid "tot op die laaste oomblik teen oorlog gekant", maar na sy toetrede tot die stryd het hy 'n bittereinder geword (Pretorius, 1984:118).

Die Vrede van Vereeniging in sy finale vorm is tussen die amptelike verteenwoordigers van Brittanje, lords Kitchener en Milner, en 'n kommissie van vyf as die Regerings van die ZAR en OVS onder die 60 afgevaardigdes van die 20 779 bittereinders onderhandel. Kitchener en Milner het die Britse Regering verteenwoordig en daarom moes hulle in Londen goedkeuring vir hulle uiteindelike vredesvoorstelle kry, terwyl die 60 Boere elk 'n geloofsbrief as bevestiging van sy afvaardiging namens die ZAR en Republiek van die OVS moes toon, en 10 ondertekenaars van die ZAR en Republiek van die OVS as hulle regerings hierdie 60 lede van die Boereberaad in Melrose-huis verteenwoordig het (Kestell & Van Velden, 1982:174). Selfs nadat Brittanje die hoofstede, naamlik Bloemfontein op 13 Maart 1900, en Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem het (Pakenham, 1981:606-607; Scholtz, 1998:59, 67) en die Republiek van die OVS op 24 Mei 1900, en die ZAR op 1 September 1900 geannekseer het (Gronum, 1974:129; W. Pretorius s.a.:11), het die Britte teen Mei 1902 toegegee dat die Republikeinse regerings soos verteenwoordig in die strydende Boeremagte en hulle beraad van 60 op Vereeniging de iure en daarom de facto hulle staatkundig-militêre opponente is, asook dat die ABO n oorlog tussen state is en dat daardie state wat dit amptelik en fisies begin het, dit ook amptelik en fisies kan en moet beëindig (Kestell, 1902:224, 242, 247; Kestell & Van Velden, 1982:174; Van Schoor, 2005:159).4 Die Brits-geskrewe opskrif van die vredesdokument, te wete "Akte van Oorgawe" is by die ontvangs daarvan deur genoemde Republikeinse kommissie van vyf sonder teenstand van Kitchener en Milner deur J.C. Smuts gewysig na "Akte van Vrede" - 'n ooreenkoms tussen juridies-staatkundige gelykes (Grobler, 2004:146). Dit is bekend dat Kitchener oorlogsmoeg was en die ABO selfs met toegewings sou beëindig, terwyl Milner wat in sy lewe geen skoot in militêre omstandighede geskiet het nie, nie so toegeeflik was nie. Die (ewe oorlogsmoë?) Britse regering5 was agter Kitchener wat hierdie rondte gewen het (Lee, 1985: 202, 205). Gevolglik kon De la Rey in sy verstaan van die finale Britse voorstelle sê dat dit - uit 'n Boere-oogpunt - tog "die een en die ander" moontlik maak (Kestell & Van Velden 1982:135). Daarop word teruggekom.

 

Verloop van die ABO tot met vredesluiting

Pretorius wys daarop dat sy berekeninge nie tot op die letter akkuraat is nie, maar dat die volgende getalle in die ABO 'n sterk aanduiding is. Aan die Britse kant het 448 435 wittes en ongeveer 30 000 swartes deur die loop van die stryd aan die oorlog deelgeneem. Hiervan het 5 774 wittes in gevegte gesneuwel, 2 918 het aan wonde beswyk, en 13 250 is aan siekte oorlede. Hoewel daar met die uitbreek van die oorlog tussen 54 000 en 57 000 Boere aan verpligte krygsdiens onderworpe was, het ongeveer 75 000 man op een of ander stadium vir die Boere geveg. Hiervan het 6 189 omgekom; 3 990 het aan wonde beswyk; en 924 het aan siekte op kommando gesterf. Deur die loop van die ABO is die Boeremagte aangevul deur ongeveer 13 000 rebelle uit Natal en die Kaapkolonie, asook 2 120 ander vrywilligers, waaronder Nederlanders, Duitsers, Franse, Iere, Russe en Skandinawiërs. Teen 31 Mei 1902 was daar '"nagenoeg" 20 779 bittereinders in die veld. Onder hulle was daar 11 232 Transvalers, 5 822 Vrystaters, 3 574 rebelle en 140 ander vrywilligers (Pretorius, 2001:21).

ABO-verwante faktore het 'n beduidende invloed op die Afrikanergemeenskap van die ZAR en die Republiek van die OVS gehad. Onlangse studies toon dat die Britte met Roberts en Kitchener se beleid van 'n 'verskroeide aarde' na afloop van die konvensionele fase van die oorlog teen ongeveer die middel van 1900 (Pakenham, 1981:453; vgl. Pretorius met Maart tot Augustus 1900, 2001:18) en voor vrede op 31 Mei 1902, 70-80% van die Boereplase geplunder of verbrand het, dorpe en kerke verwoes en die spoorweë en ander openbare dienste oorgeneem het (Van Schoor 2005:7, 33; Strauss 2015:30-33). Daarby sou - volgens die jongste bronne - 34 051 Boervroue en -kinders in Britse konsentrasiekampe weens -veral aanvanklik - swak organisasie en slegte toestande sterf en 10% van die Afrikaners in die twee Republieke, die ZAR en die OVS, omkom (Scholtz, 1998:122; Pretorius. 2001:21; Reynolds, 2013:122). Die 34 051 is byna 8 000 meer as die getal 26 370 wat by die onthulling van die Vrouemonument in Desember 1913 bekend was (Strauss, s.a:15). Van Schoor praat van die "algehele verwoesting van die ganse ekonomiese struktuur van die landelike bevolking van die twee Republieke" (Van Schoor, 2005:11).

Die groot verlies aan menselewens aan beide kante, die ekonomiese verwoesting van die Boererepublieke en die groot koste aan Britse kant,6 sowel as die mite dat n opstand van Afrikaners in die Kaapkolonie en Natal en buitelandse intervensie ter ondersteuning van die Republieke kon plaasvind, was onder die faktore wat die Boerebittereinders wat sedert middel 1900 'n guerrilla-oorlog geveg het, in Mei 1902 na die vredestafel gebring het (Pretorius, 2001:21; Van Schoor, 2005:165). Die Britse regering se afwysing van n inisiatief tot bemiddeling deur die Nederlandse regering van minister-president Abraham Kuyper op 25 Januarie 1902 stimuleer egter pogings tot samesprekings vir vrede tussen die Britse regering en die regerings van die ZAR en die OVS. Uiteindelik sou die bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, Lord Kitchener, aangevul deur die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, Lord Milner, namens die Britse Regering na die gesprekstafel kom. Namens die Vereenigingberaad van die Republieke sou vyf leiers, drie van die ZAR, waaronder generaal J.H. de la Rey, en twee van die Republiek van die OVS vir die finale beraadslagings met Kitchener en Milner op 19 Mei 1902 na Pretoria gaan (Kestell & Van Velden, 1982:91). Die memorandum vir vrede soos deur die Britse regering aanvaar, word hier op 28 Mei 1902 aan die vyf Boere oorhandig om aan die 60 verteenwoordigers op Vereeniging vir goedkeuring voor te lê; 'n akte van vrede waarop die Boere net ja' of 'nee' moes antwoord en wat hulle nie kon wysig nie. Hierdie ooreenkoms wat uiteindelik deur die twee lords en 11 Boere aanvaar is, word onder hulle name uitgegee: "General Lord" Kitchener of Khartoum as die Britse "Commanding-in-Chief", Lord Milner "High Commissioner" - "on behalf of the British Government" - en die 11 Boere of twee Republikeinse Regerings waaronder ses lede van die ZAR met De la Rey daarby, en vyf van die Republiek van die OVS "acting as the government of the South African Republic" en "... the Orange Free State" (Kestell & Van Velden, 1982:116-117).

Weer word die ABO in hierdie akte of ooreenkoms spontaan aangedui as 'n stryd tussen state (Pretorius 2012:238). Die Britte se weiering om die onafhanklikheid van die Republieke na die Vrede van 31 Mei 1902 te erken, ten spyte van 'n sterk voorkeur daarvoor deur die bittereinderburgers van die Republieke voor 15 Mei 1902 uitgespreek, verander op hierdie stadium van die ABO in beginsel nie aan hierdie status nie (Kestell, 1902:247)

Die kern van die vredesooreenkoms het daarop neergekom dat vrede gesluit word en dat die Boere hulle wapens neerlê. Voorts moes hulle verklaar dat koning Edward VII van Engeland hulle wettige koning is. Alle burgers van die gewese Republieke wat hulle op daardie stadium buite die voormalike ZAR en Republiek van die OVS bevind het en Edward VII as koning aanvaar het, sou na hulle huise teruggebring word sodra dit prakties moontlik was. Hulle sou hulle persoonlike vryheid en eiendom behou. Geen oorlogsmisdade - siviel of krimineel - sou teen daardie burgers wat die Britse koning as hulle regeringshoof aanvaar, gehou word nie, tensy hulle skuldig was aan dade wat deur die Britse opperbevelhebber gelys is en waarvoor hulle deur 'n krygshof skuldig bevind is. Nederlands (Dutch) sou in openbare skole gebruik word as die ouers van kinders daarop aandring én was - ter wille van die "administratie van justitie" of geregtigheid - 'n gebruikstaal in die howe. Die besit van gewere in die Oranjerivierkolonie en Transvaal sou toegelaat word as die beskerming van dié wat dit besit, op die spel was. Verder, vir die vryheidsgesinde bittereinders n belangrike reeling,7 die huidige militêre regerings in Transvaal en die "Orange River Colony", sou "op de vroegst mogelijken datum" vervang word deur verteenwoordigende regering wat tot selfregering lei. Stemreg aan "naturellen" - waaroor Boer en Brit kon verskil - sou na die invoering of inwerkingstelling van selfregering oorweeg word. Oorlogskuld sou nie uit n spesiale belasting op eiendom in die gewese Republieke verhaal word nie. Die beloofde 3 miljoen pond wat Brittanje bewillig het vir die ekonomiese herstel van die Oranjerivierkolonie en Transvaal sou deur plaaslike kommissies met 'n magistraat of 'n ander staatsamptenaar as voorsitter, kommissies waarin die plaaslike inwoners verteenwoordig word, toegeken word.8 Die Kaapse en Natalse rebelle wat vir die Boere geveg het, sou onder hulle spesifieke koloniale wette verhoor en n weg tot die herstel van hulle burgerskap moontlik aangedui word (Kestell & Van Velden, 1982:104-106, 116-120).

Generaal Koos de la Rey se troos van "die een en die ander", was dus daar, al was dit die einde van die Boere se bittereinde .

 

De la Rey en die Vereenigingberaad: die Boerevoorstel

Om by die sogenaamde Vrede van Vereeniging soos regsgeldig geteken in Pretoria op 31 Mei 1902 te kom, moes die Boerebittereinders of twee Republieke deur hulle regerings en bykomende afgevaardigdes op Vereeniging die uiteindelike vredesvoorstelle aanvaar. In hierdie proses sou generaal J.H. de la Rey - tot dusver 'n onderspeelde tema in historiese navorsing - 'n sleutelrol rol speel. Kestell en Van Velden begin hulle notule van die Vereenigingberaad met die volgende verduideliking:

Op die oggend van 15 Mei was die lede van albei Regerings en ... volksverteenwoordigers op Vereeniging, en die werksaamhede het ... begin. Lord Kitchener het tente vir hulle verblyf gedurende die beraadslagings laat opslaan. In die middel ... het 'n groot tent gestaan wat die 60 afgevaardigdes en die lede van die Regerings maklik kon huisves. Aan die een kant was die tente vir die Regering en afgevaardigdes van die Oranje-Vrystaat, en aan die ander kant dié vir die Regering en afgevaardigdes van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Kestell &n Van Velden 1982:51).

Die Boere se Vereenigingberaad het deur verskillende fases gegaan voordat die ZAR en Republiek van die OVS die vredesakte deur middel van hulle regerings op 31 Mei 1902 geteken het.

Vir drie volle dae, van 15-17 Mei, lewer verskillende afgevaardigdes verslag oor die toestand in hulle deel van die land. Hulle gee ook hulle mening of die oorlog voortgesit moet word. Daar is twee duidelike standpunte. Sommige sprekers wil die stryd staak en ander wil die ABO voortsit. Die soeklig val op twee faktore: die algehele verwoesting van die twee Republieke met al die konsekwensies daaraan verbonde en die hoë sterftesyfer onder vroue en kinders in konsentrasiekampe (Scholtz, 1998:115).

Die verkose voorsitter, generaal C.F. Beyers, begin deur aan die drie senior generaals, Louis Botha (ZAR), Christiaan de Wet (Republiek van die OVS) en Koos de la Rey (ZAR-wes) die kans te gee "om die algemene toestand in hulle verskillende afdelings bloot te lê". Gelet op die verslag van die Boere-offisiere in die gebiede verskil die toestand in verskillende dele van die Republieke. Toe De la Rey aan die woord kom, sê hy dat hy nie weet wat sy taak nou eintlik is nie. Die afgevaardigdes moet oor hulle eie gebiede verslag doen. By hom is voedsel skaars, maar niemand het nog honger gely nie. As 'n burger nie kos het nie, moet hy dit gaan haal. Soos gebruiklik druk hy homself kort en saaklik uit. By sy verwysing na die verkryging van voedsel slaan 'n bittereindernoot deur (Kestell & Van Velden, 1982:59). Uit die Kaapkolonie berig generaal Jan Smuts as bevelvoerder van 'n Boere-inval in daardie gebied dat daar geen ondersteunende opstand van Afrikaners uit die Kolonie sal wees nie. Die voortsetting van die ABO "sal meer van die Republieke as van die Kaapkolonie afhang" (Kestell & Van Velden, 1982:63; Van Schoor, 2005:177). Uiteindelik word generaals Smuts en (regter) J.B.M. Hertzog getaak om in oorleg met presidente Steyn en Burger n konsepvoorstel vir die beraad te formuleer (Kestell & Van Velden, 1982:75).

Teen die aand van 16 Mei kry lede van die Boeregrofgeskut spreekbeurte. Generaal Louis Botha as n pleitbesorger vir vrede kla oor Boere wat vra vir n stryd tot die bitter einde. Niemand toon egter waar hierdie einde lê nie. Is dit eers waar as elke Boer in sy graf lê of verban is? So word leiers die "oorsaak van die dood van ons volk ..." (Kestell & Van Velden, 1982:79). Daarna kom generaal Koos de la Rey op sy tipiese manier aan die woord. Sy eerste sin is kenmerkend: "Ek sal kort wees en slegs op 'n paar punte wys ..." Hy praat onder meer oor die - vir die beraad - bitter einde.

Ons moet daaraan dink dat alles - vee, goed, geld, man, vrou en kind - opgeoffer is. By my loop baie mense byna naak. Daar is manne en vroue wat niks meer aan het nie as die skone vel op die naakte liggaam. Is dit nie die bittere einde nie? Dis alleen die vegtende burgers wat van die nodige kleding voorsien is wat hulle van die vyand afgeneem het. Daarom meen ek dat die tyd nou gekom het om met die vyand te onderhandel. Indien van hierdie geleentheid geen gebruik gemaak word nie, sal die deur gesluit wees. Engeland sal ons nooit weer toelaat om so bymekaar te kom of kans gee om 'n ooreenkoms te tref nie ... Wees verstandig ... ons moet probeer om ander en beter voorwaardes te kry (Kestell & Van Velden 1982:83; Van Schoor, 2005:187-189).

'n Medebittereinder van De la Rey in die ABO, generaal Christiaan de Wet van die Vrystaat, verskil hiervan. Vir hom bly die ABO uit die oogpunt van die Republieke "'n geloofsaak". Boerewoordvoerders het die situasie 'n jaar tevore "min of meer in dieselfde kleure geskilder". Die Vrystaat wil nie die oorlog opgee nie. Hy verwyt nie, maar die ABO waarby die Republiek van die OVS omrede sy politieke verbond met die ZAR in 1889, soos hersien in 1897, betrek is (Van der Merwe, I. 1921:256), maak dit "feitlik 'n Transvaalse oorlog". As 'n Christenveldheer het De Wet, sê hy, alleen met 'n feit te doen wanneer hy dit uit die weg moet ruim (Kestell & Van Velden, 1982:84-85; Van Schoor, 2005:189-191).

Die oggend van 17 Mei 1902 aanvaar die Vereenigingberaad die voorstel van Smuts en Hertzog na n kort bespreking. De la Rey se oortuiging dat die Republieke die huidige geleentheid soos gebied deur Brittanje, moet benut, word opgevolg. Die bittereinderstandpunt van vrede met behoud van onafhanklikheid word laat vaar. In die plek daarvan praat die voorstel van n beperkte onafhanklikheid. Die Republieke is bereid om afstand te doen van alle buitelandse betrekkinge en gesantskappe, 'n protektoraat van Brittanje te word, afstand te doen van dele van die grondgebied van die ZAR (waar die goud is), en n defensiewe verbond tussen Suid-Afrika en Brittanje te sluit. Uit die bespreking van die voorstel blyk die gedeeltes van die grond van die ZAR die Randse goudvelde en Swaziland te wees (Kestell & Van Velden, 1982:88).

Daardie middag neem die beraad die pad van onderhandeling n treetjie verder. Die twee regerings word gevra om n kommissie te benoem om met lord Kitchener as die Britse gesant te onderhandel oor enige onderwerp om "tot een bevredigenden vrede te geraken". Net generaal Kemp stem teen hierdie besluit. Die resultaat van sulke onderhandelings moet aan hierdie beraad of "volksvergadering" vir goedkeuring voorgele word (Kestell & Van Velden, 1982:89). De la Rey se gedagte van onderhandelings, aangevoor deur die twee Republieke, word op een na n eenparige besluit van die Boereberaad. Die twee Regerings wys vyf persone aan om met lord Kitchener in Pretoria te gaan onderhandel: kommandant-generaal Louis Botha, hoofkommandant C.R. de Wet, generaal J.H. de la Rey, advokaat J.C. Smuts en advokaat J.B.M. Hertzog (Kestell, 1902:255-256; Kestell & Van Velden, 1982:89). Laasgenoemde twee se siviele in plaas van militêre titels is opvallend. Moontlik impliseer hierdie kwalifikasies 'n vermoë om die staatsregtelike kante van die saak te hanteer.

 

De la Rey en die Vereenigingberaad: die vredesvoorstel

Vanaf 19-21 Mei 1902 praat die Kommissie van Vyf van die Vereenigingberaad met Kitchener en Milner in Pretoria (Kestell & Van Velden 1982:90, 116). Hierdie gesprek lei tot die voorstel van 'n subkomitee onder voorsitterskap van Milner waarby Smuts en Hertzog betrek word (Kestell & Van Velden 1982:122). n Voorstel vir n vredesooreenkoms word op Woensdag 21 Mei deur die twee Britse lords en die Kommissie van Vyf van die Republieke aanvaar (Kestell & Van Velden 1982:103, 116, 122).9 'n Week later, op 28 Mei 1902, ontmoet Kitchener en Milner die Kommissie van Vyf met die mededeling dat hulle regering die voorgestelde ooreenkoms van vrede, soos reeds aangetoon, met wysigings aanvaar wat nie aan die kern van die ooreenkoms verander nie. Die Britse Regering soek op hierdie stadium net 'n 'ja' of 'n 'nee' van die Republieke op die Akte van Vrede en is nie bereid tot verdere wysigings nie. 'n 'Ja' beteken vrede en 'n 'nee' die voortsetting van die ABO. Hierdie ultimatum-agtige houding dui daarop dat De la Rey se aanvoeling dat die Britse Regering die Republieke nie 'n volgende geleentheid sal gee nie, bevestig word.10 Die bal vir moontlik die laaste beweging vir 'n ABO-vrede is nou in die hande van die 60 Boere op Vereeniging (Kestell & Van Velden, 1982:116-120; Van Schoor, 2005:207).

Die Vereenigingberaad word dus gekonfronteer met die eis dat hulle die Akte van Vrede goedkeur: die Republieke moet alle wapens neerlê en die gesag van koning Edward VII aanvaar; burgers wat hierby inval, behou hulle persoonlike vryheid en eiendom; oorlogsmisdade word hanteer soos voorgestel; Hollands word toegelaat soos voorgestel; wapens vir persoonlike beskerming word toegelaat; die militêre regering in die gewese Republieke word so gou moontlik deur siviele verteenwoordigende en later selfregering vervang; aan die stemreg van "natives" word aandag gegee wanneer selfregering intree; geen belasting word op eiendomme gehef om die koste van die ABO te betaal nie; plaaslike kommissies soos voorgestel ken die 3 miljoen pond vir die herstel van gebiede aan die belanghebbendes toe; en koloniale wette geld vir Natalse en Kaapse Rebelle (Kestell & Van Velden, 1982:116-120; Van Schoor, 2005:217).

Kestell en Van Velden se notule van die debatte op 29-31 Mei 1902 (die deurslaggewende, laaste fase) tussen die 60 Boere-afgevaardigdes op Vereeniging dra die volgende opskrif: "Notule van die vergadering van die volksverteenwoordigers op Vereeniging, Zuid-Afrikaansche Republiek, op Donderdag, 29 Mei, en volgende dae" (Kestell & Van Velden, 1982:121). Twee waarnemings hieruit lyk relevant: die eerste is dat die notulehouers blyke gee van die Boere se voorkeur vir republikeinse volksregering vir die sluit van vrede tussen state en die tweede dat kerklik-sinodale invloed by Kestell sigbaar is as hy die notule van die beraad soos die van 'n sinode skryf. Daar word immers in tipiese kerklike (NG Kerk) terme gewag gemaak van Donderdag 29 Mei "en volgende dae" ...

Generaal J.H. de la Rey se teenwoordigheid en invloed speel nou 'n duideliker, groter rol as vroeër op die Vereenigingberaad. Sy groot bydrae kom op Donderdagaand 29 Mei 1902. Hy toon n fyn aanvoeling vir die situasie, maar ook n godsdienstige vertolking van die Bybelse spreuk wat in 1913 as sleuteluitdrukking op die Nasionale Vrouemonument aangebring word: "Uw wil geschiede", daardie monument wat aldus M.T. Steyn getuig van die triomferende martelaarskap van die Boervrou in die ABO (Strauss s.a.:14-15). De la Rey sê onder meer:

My manier van praat is kort. Ek gebruik nie drie woorde waar een genoeg is nie ... En nou is hier agt verteenwoordigers van my distrikte, met één uit die Kaapkolonie ... Elkeen kan begryp dat (my burgers) na die oorwinnings (Tweebosch, ens., Van Schoor, 2005:139) moedig is ... Wat ... ons saak betref, wil ek my (egter) nie doof hou vir die feite nie ... U kan hier praat en besluit soos u wil, maar ek sê u dat hierdie byeenkoms die einde van die oorlog is ... Indien ons besluit om voort te gaan ... sonder gronde vir ons, dan sal die einde oneervol wees. Hier word van geloof gepraat. Wat is geloof? Geloof is: "Heer laat U wil geskied." Nie: "My wil geskied om oorwinnaar te wees" nie. Ek moet my (eie) wil dood en . handel en dink soos Hy my stuur en lei . Ek (persoonlik) het . n baie groot verantwoordelikheid op my. Die voorstel voor ons, die terme wat die Engelse wil gee, beteken nie veel nie, maar beding tog die een en die ander . Ek moet ons toestand in sy geheel neem. Deur anders te besluit, sal ons hierdie volk wat so trou was, tot hensop drywe, en so sal die oorlog tot n oneervolle einde loop. Afgevaardigdes, bedink dus wat julle doen. (Kestell & Van Velden, 1982:135-136)11

 

De la Rey en Vereeniging geweeg

As De la Rey net namens homself moes praat ...

Maar met 'n verstandige benadering soos hy dit vroeër genoem het, neem hy die hele situasie en albei Republieke in ag. Die sagte kant van sy hart het simpatie vir sy mense - ook die buite die Wes-Transvaal - gekweek, en hy as 'n ZAR-leier moes na die gehalte-menswees van almal namens wie hy besluit, omsien. Buitendien het hy sy mense goed geken. Om van hulle n langer bitter einde te verwag sou tot n nie-amptelike oorgawe deur Boere as bittereinders tot op daardie oomblik én daarmee die skande van nog individualistiese of Afrikaners wat eenvoudig self besluit om oor te gee, lei. Koos de la Rey self sou 'n verlengde bitter einde oorleef, maar hy as 'n verantwoordelike leier moes die hele situasie en almal vir wie hy besluit, in ag neem. Die voorsienige God met sy gerespekteerde wil het juis deur die huidige omstandighede gepraat. Die leuse van gehoorsame Christen-Afrikaners moes wees: "Nie my wil nie, maar U wil geskied." Hiermee trek De la Rey 'n duidelike lyn vir godsdienstige Boere of belydende Christen-afgevaardigdes by die Vereenigingberaad. Daarmee baseer hy die antwoord op die vraag waaroor die beraad gaan, op hulle Christelike geloofsoortuiging. Interessant genoeg gee ds. J.D. Kestell as notulehouer generaal De la Rey se weergawe op hierdie punt volledig en, waarskynlik, woord vir woord weer. As 'n Vrystaatse bittereinder, notulehouer en Christen-Afrikaner het Kestell waarskynlik ook deur De la Rey aangespreek gevoel (Kestell & Van Velden, 1982:135-136).

'n Onbekende biograaf van Koos de la Rey sê dat die generaal op

... hierdie kritieke moment ... met sy kort rede veel daartoe (bydra) om die deurslag te gee: al het hy en sy burgers nog kans gesien om met die oorlog voort te gaan, kon hy nie vir die res van Transvaal besluit nie, so verklaar hy: nou dat dit die volk was wat gered moes word, het die einde van die oorlog inderdaad aangebreek. Dit was ook hy wat, saam met Botha, op die laaste oomblik vir De Wet oorreed om, ter wille van volkseenheid, tot vrede toe te stem (De Kock 1976:226).12

Ná De la Rey verklaar generaal C.F. Beyers dat hy die stryd sal voortsit as hy met sy hart besluit, omdat die saak reg en geen probleem, soos genoem, onoorkomelik is nie. Hy moet egter sy kop gebruik (Kestell & Van Velden, 1982:144; Van Schoor, 2005:225). As die voorsitter van die vergadering sien hy n toenemende gees van teensin vir die voortsetting van die ABO onder die afgevaardigdes op die Boereberaad (Kestell, 1902:273).

J.D. Kestell toon 'n pastorale aanvoeling vir die innerlike roeringe by die Boerebittereinders aan die einde van die gespanne Vereenigingberaad as hy Beyers sy waarneming van "een geest van tegenzin in verderen tegenstand" gelyk gee. Dit was syns insiens asof daar stilweg 'n konsensus of geestelike eenheid teen die voortsetting van die oorlog ontwikkel het. "Tegen dien geest zag men was het tervergeefs zich te verzetten." Volgens Hertzog was die beraad ten opsigte van die voortsetting van die ABO deur die twee Republieke 'n fout, omdat dit die laaste stut waaraan vasgehou is onder hulle uitgeslaan het. Die realiteite van die ABO soos deur sommige vanuit hulle omstandighede op die beraad verwoord, kan nie geïgnoreer word nie. Op hierdie punt haal Kestell die woorde van Koos de la Rey instemmend aan:

Gij kunt spreken zooals gij wilt, besluiten wat gij wilt; maar wat gij ook doet: hier in de vergadering is de einde van het oorlog ... Opdracht (van die volk, PS) of geen opdracht - gij zijt het die beslissen moet, en gij hebt te beslissen niet voor uw eigen dorp, of voor uw eigen district; maar voor de ganze land.

Vir sy eie besluit oor die voortsetting van die ABO, sou Koos de la Rey hierdie riglyn ook volg. Uit sy eie waarneming van die beraad voeg ds J.D. Kestell die volgende by:

Het onvermurwbare, het harde onverbiddelijke staarde de vergadering in de ogen. Men kon eenvoudig niet tegen den stroom meer op . hoewel wij uit een militair oogpunt niet overwonnen waren, de oorlog ter wille van het volk niet kon voortgaan. De Boeren hadden aangehouden zoo lang zij konden - ja, maanden, maanden langer dan zij hadden kunnen - en nu ... 'het bittere einde was daar!' (Kestell,1902:273).

Op sy sonderlinge manier was De la Rey in die middelpunt van die ABO én van die Vrede van Vereeniging. Sy naam as die Leeu van Wes-Transvaal was gevestig: 'n bittereinder én vredesoeker wat n teerhartigheid teenoor lydendes betoon het; n gerespekteerde adelike Christen-Boer van sy tyd. Dit is hy wat die aand na die ondertekening van die vrede in Melrosehuis op die stoep aan verslae Boereleiers gesê het: "We are a bloody cheerful-looking lot of British subjects!" (Lee, 1985:206).

Die geestelik-kulturele oorlewing van die Bittereinders van die ABO, ondersteun deur De la Rey se aanvoeling en diepe oortuiging, het die voortbestaan van Afrikanernasionalisme in die 20ste eeu gewaarborg; 'n nasionalisme wat onder politieke druk sou bly staan en dit oorleef het; 'n nasionalisme wat nie afhanklik was van Afrikaners se vermoë om die land te regeer en aan bewind te wees nie (Lee, 1985:210). De la Rey was 'n vredesoeker, maar ook 'n bittereinder. Daarom het die moontlike herstel van die Boererepublieke aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 hom opgewonde gemaak (De Kock, 1976:227).13

Pakenham probeer die gees van De la Rey en die bittereinders by wapenneerlegging na 31 Mei 1902 in woorde raakvat: "Hulle dissipline en moreel - hulle hou hulle koppe hoog, soos manne wat 'n morele oorwinning behaal het - is opvallend" 14 (Pakenham, 1981:593).

 

Slot

Generaal Koos de la Rey, die Leeu van Wes-Transvaal, was n Boerebittereinder in die ABO van 1899-1902, wat teen die neiging onder sommige van sy mede-ZAR-leiers vreesloos met die Vrystaatse en ABO-bittereinderleiers, president M.T. Steyn en hoofkommandant C.R. de Wet, geassosieer het. As iemand met n beeld van egtheid en integriteit, n skerp oordeel in militêre en mensgeoriënteerde situasies en 'n geestelik-fyne Boerepatriarg, het De la Rey respek en verering onder sy burgers en breër afgedwing. In die oorlogspoging van die ZAR en die Republiek van OVS was De la Rey nie noodwendig die een wat die inisiatief neem of die oorhoofse leier nie, maar 'n senior stryder of generaal met begronde Bybels-Christelike oortuigings en n skerpsinnige politiek-militêre oordeel.

By die Vrede van Vereeniging en die Boereberaad sou twee uitstaande redes van De la Rey n prominente soeker van vrede maak: sy verstaan van die inhoud en toepassing van die beginsels van n bitter einde en die wil van God in die situasie - kernfaktore waaroor die beraad moes besluit - én die gerapporteerde lyding en verwaarlosing van sy mense wat volksvernietiging in die gesig staar. Sy omgee vir hulle wat teen die bitter einde sonder die moontlikheid van bevryding ly en swaarkry, het hom oortuig van die noodsaak van vrede wat n agterdeur oophou vir die voortbestaan van die Afrikanervolk en hulle politieke ontwikkeling en uiteindelike onafhanklikheid.

'n Biograaf beskryf die einde van generaal Koos de la Rey teen die aand van 15 September 1914 soos volg:

Hy was nog steeds n republikein, wat in 1902 alleen onder die druk van omstandighede Britse gesag aanvaar het . Onbewus daarvan dat die polisie . op soek is na William Foster en sy berugte moordbende, ry die twee generaals (De la Rey en Beyers op pad na Potch) in Langlaagte, ten weste van Johannesburg, voort sonder om stil te hou nadat hulle deur die polisie (in 'n padblokkade) gedaag is. Daar word agter die motor aangeskiet en De la R. word dodelik in die rug getref (De Kock, 1976:227).15

Gemeet aan sy diepste oortuigings het die bittereinder Koos de la Rey egter in vrede gesterf ...

 

Bibliografie

De Kock, W.J. (hoofredakteur). 1986. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Kaapstad: Tafelberg/RGN.         [ Links ]

De Wet, C.R. 1959. Die stryd tussen Boer en Brit. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, (in Afrikaans vertaal deur J.J. Human).         [ Links ]

Grobler, J.E.H. 2004, The War Reporter. Kaapstad: Jonathan Ball.         [ Links ]

Gronum, M.A. 1974. Die bittereinders van Junie 1901-Mei 1902. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Jansen, E. & Jonckheere, W. 1999. Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boereoorlog. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Kestell, J.D. 1902. Met de Boeren-commando's. Amsterdam: Höveker & Wormser.         [ Links ]

Kestell, J.D. &Van Velden, D.E. 1982. Die vredesonderhandelinge tussen die twee Suid-Afrikaanse Republieke en die Verteenwoordigers van die Britse Regering wat uitgeloop het op die vrede wat op 31 Mei 1902 op Vereeniginggesluitis. Human en Rousseau, Kaapstad (Afrikaanse vertaling deur F.J. le Roux in oorleg met D.J. van Zyl).         [ Links ]

Lee, E. 1985. To the bitter end. Londen: Butler & Tanner.         [ Links ]

Pakenham, T. 1981. Die Boere-oorlog. Johannesburg: Jonathan Ball (vertaal deur Leon Rousseau).         [ Links ]

Pretorius, F. 1984. Die Leeu van Wes-Transvaal, Scholtz, L. (red), Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne. Kaapstad: Rubicon, 117-132.         [ Links ]

Pretorius, F. 2001. Die Anglo-Boereoorlog: 'n oorsig, Pretorius, F. (red), Verskroeide aarde. Kaapstad: Human Rousseau.         [ Links ]

Pretorius, F. 2012. Almal se oorlog: die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), Pretorius, F. (redakteur), Geskiedenis van Suid-Afrika - van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, 235-254. https://doi.org/10.1080/17532523.2013.796135.         [ Links ]

Pretorius, W. s.a. Bittereinders: veggeneraal Piet Retief Viljoen en seuns gedurende die Anglo-Boereoorlog. s.n., s.l.         [ Links ]

Programma van Algemene Regelingen 1913. s.n., s.l.         [ Links ]

Reynolds, C. 2013. Konsentrasiekampsterftesgedurende dieAnglo-Boereoorlog 1899-1902. Brandfort: FAK.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1998. Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015 Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia. https://store.it.si/za/book/gereformeerdes-onder-die-suiderkruis-die-verhaal-van-vier-afrikaanse-kerke/1158243        [ Links ]

Strauss, P.J. s.a. Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonumentgeweeg. Bloemfontein, Drufoma.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J. 1921. Marthinus Theunis Steyn I. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1993. Die Nasionale Vrouemonument. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 2005. Die Bittereinde Vrede - Vredespogings en onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Brandfort: Kraal.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
straussp@ufs.ac.za

Published: 12 Desember 2022

 

 

1 'n Bekende voorbeeld was De la Rey se vrylating van die gewonde en gevange Britse aanvoerder na die Slag van Tweebosch (17:03:1902), Lord Methuen, om beter mediese behandeling by sy eie mense te ontvang as wat die Boere hom kon gee. Hulle twee sou lewenslange vriende word (De Kock, 1976:226; Pretorius, 1984:131).
2 Die Boereberaad van Vereeniging in Mei 1902 het uit 30 afgevaardigdes van die Zuid-Afrikaan-sche Republiek of ZAR en 30 van die Republiek van die Oranje-Vrystaat bestaan en is gereël op voorstel van die twee Republieke; 'n voorstel wat deur lord Kitchener as die opperbevelvoerder van die Britse leër in Suid-Afrika aanvaar is (Kestell, 1902:242).
3 Die notule van Kestell en Van Velden oor die ondertekening van die Vredesooreenkoms lui: "Dit is vyf minute oor elf op die 31ste dag van Mei in die jaar 1902 ..." 'n Kontrak wat deur 'n "skry-fmasjien geskryf" en in viervoud op perkament aangebring is. Namens Brittanje het Kitchener en Milner geteken, ses Boere namens die ZAR, en vier Boere namens die Republiek van die OVS (Kestell & Van Velden, 1982:174).
4 Lord Lansdowne as die Britse Minister van Buitelandse Sake het die ABO ook as 'n staatkundige aangeleentheid beskou wat direk tussen die regerings van die ZAR en die OVS en die bevelhebbers van die Britse magte in Suid-Afrika onderhandel moes word. Op hierdie manier kon n skikking, volgens hom, op die mees bevredigende en spoedige wyse tot stand gebring word (Kestell, 1902:224). Van Schoor wys daarop dat die Britte met hulle aanvaarding van die feit dat die bittereinders of vegtende Boere in Mei 1902 oor die onafhanklikheid van die Republieke voor vredesluiting geraadpleeg word, die hensoppers en joiners daarvan uitgesluit het (Van Schoor, 2005:159).
5 In 1902 verklaar president M.T. Steyn dat dit duidelik is dat die Engelse volk en hulle leër oor-logsmoeg geword het (Van Schoor, 2005:145).
6 Die bedrag van "meer as" 200 000 pond word genoem (Pretorius, 2001:21).
7 Met president M.T. Steyn aan die voorpunt - en verklaarde begrip daarvoor van Kitchener - het die Republikeine daarop gewys dat die uitkoms van die ABO die Afrikaner nie van sy onafhanklikheid en daarmee sy selfrespek moet ontneem nie. In so 'n situasie was eers verteenwoordi-gende en later selfbestuur waardevolle troospryse vir 'n verlies aan onafhanklikheid (Kestell, 1902:228, 234, 252).
8 Pakenham is skerp in sy hantering van die Britse aanwending van hierdie 3 miljoen pond. Volgens hom het 'n buitensporige deel hiervan aan die hensoppers gegaan. Boonop het die Uit-landers en "ander lojaliste ... vergoeding" ter waarde van 10 miljoen pond ontvang (Pakenham, 1981:596).
9 Kestell wys daarop dat Smuts en Hertzog in hierdie subkomitee vir die formulering van 'n vredesvoorstel veel gedoen en vermag het. Die noodsaaklikheid van 'n eed van getrouheid aan die Engelse koning word geskrap; geen siviele of kriminele stappe teen oorlogsdade sou geneem word nie; en die beoogde verdrag word 'n vredesverdrag wat geteken word deur die Regerings van die Republiek van die OVS en die ZAR. Só word die Britse regering gedwing om oor sy "annexaties (van die Republieke) heen te stappen, en te handelen niet met gewezene Republieken, maar met bestaande Staten wier officiële namen, en niet de nieuwe namen, zooals in de annexatie-proclamaties afegkondigd, het erkennen zou door de naamtekening van zijn gevolmachtigden". Boonop verkry Smuts en Hertzog van die Britte die mondelinge verseker-ing dat Kaapse en Natalse rebelle "zoo zacht als mogelijk behandeld zouden worden" (Kestell, 1902:261; Van Schoor, 2005:201).
10 In sy boek oor die stryd tussen Boer en Brit noem generaal De Wet die finale Britse voorstel vir vrede en die inhoud van die vrede 'n ultimatum. "Dit was verpletterend. Geen beter voorstel kon verkry word nie: hulle het ja' of 'nee' geëis ... Om die stryd voort te sit, sou ons in 'n stikdonker nag ingelei het." De Wet wys dan veral op vroue- en kindersterftes in konsentrasieka-mpe en die verwoesting van die Republieke (De Wet, 1959:227).
11 Jansen en Jonckheere vertel dat die oorgawe of vredesooreenkoms die Boere leer bid het: "Here gee ons krag om te glo, krag om nie in vertwyfeling te val nie, krag om staande te bly in die geloof van ons vaders. Krag, Here, om nie soos steen en hout te word nie, nie doof en blind soos die onbesielde skepping om ons heen nie" (Jansen & Jonckheere, 1999:317).
12 Kestell meld dat generaals Botha en De la Rey vroegoggend op 31 Mei 1902 by generaal De Wet in die tent was en met hom ooreengekom het dat die Republieke nie verdeeld moet wees oor die voortsetting van die ABO nie. Die stryd is tot hier verenig gevoer en moes verenig afgesluit word. Daaroor sou hierdie drie leiers hulle afgevaardigdes afsonderlik ontmoet en inlig (Kestell, 1902:275).
13 n Bron praat van generaals van die ZAR (waarby moontlik ook De la Rey, gelet op sy houding voor die Rebellie in 1914) wat generaal De Wet die nag voor die aanvaarding van die Britse voorstelle vir vrede besoek het en met hom afgespreek het om die wapens vir die herstel van die onafhanklikheid van die twee Republieke op te neem sodra Brittanje weer by 'n oorlog betrokke raak. (Van Schoor 2005:237)
14 In die aanloop tot die Vrede van Vereeniging verklaar lord Kitchener dat dit onmoontlik is dat 'n volk wat soos die Boere gestry het, sy selfrespek kan verloor (Van Schoor, 2005:153).
15 Die generaals wat op daardie stadium verkeerdelik van rebellie verdink is, was bang dat die polisie hulle wou aankeer (De Kock, 1976:227).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons