SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.86 issue1Criticalities of Non-Verbal Reading Competencies: An Afrocentric Ethnological Approach to Qualitative Research"It is more about the juggling of your muscles": Insights regarding the concept of appoggio as derived from qualitative interviews with Werner Nel and his former students (Article 2) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.86 n.1 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.86.1.2517 

ORIGINAL RESEARCH

 

Bel canto sangonderrigbeginsels met spesiale verwysing na die begrip appoggio - h tweedelige ondersoek in die pedagogiek van Werner Nel- Artikel 1

 

Bel canto principles of singing with specific reference to the term appogio - a two part investigation of the pedagogy of Werner Nel (Article 1)

 

 

Antoinette Olivier

Noordwes-Universiteit Skool vir Musiek MASARA navorsingseenheid. https://orcid.org/0000-0003-2896-2570

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Gedurende sy vaste ampstermyn (1974-2010) as sangdosent by die Skool vir Musiek van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys - sedert 2004 bekend as die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) - is Werner Nel verantwoordelik vir die tegniese ontwikkeling wat sangstudente sou benodig om vokale kunsmusiek in die Europese tradisie uit te voer. Hierdie artikel ondersoek die stemtegniese beginsels wat Nel gebruik het om sy studente op te lei, met spesiale verwysing na die sentrale en kennelik moeilike begrip appoggio. Laasgenoemde is π kernbelangrike stemtegniese en -estetiese ideaal van die bel canto sangtegniek en dit word gevolglik in hierdie artikel as vertrekpunt gebruik om Ne se onderrigmetodes, onderrigbeginsels of opvoedkundige benadering rakende effektiewe asemhaling vir esteties bevredigende klankproduksie in oënskou te neem. Die metodes van data-insameling vir hierdie enkele, beskrywende gevallestudie sluit beide π tradisionele en sistematiese literatuuroorsig van die bel canto sangtegniek in, sommige van Nel se handgeskrewe en getikte dokumente, asook semi-gestruktureerde onderhoude met Nel en geselekteerde deelnemers wat by hom gestudeer het en wat huidig professioneel werk as sangers en pedagoë.

Kernwoorde: appoggio; asemhaling vir sang; bel canto sangtegniek; liggaamspostuur vir sang; Nel, Werner; sangonderrig


SUMMARY

During his fixed tenure (1974-2010) as singing lecturer at the School for Music of the Potchefstroom University for Christian Higher Education - known as the North-West University (Potchefstroom campus) since 2004 - Werner Nel was responsible for the technical development that singing students would need to perform vocal art music in the European tradition. This article investigates the voice-technical principles that Nel used to teach his students, with special reference to the fundamental and admittedly difficult concept appoggio. The latter is a voice-technical and aesthetic ideal of core importance for the bel canto singing technique and accordingly it is used in this article as a point of departure to examine Nel's teaching methods, teaching principles or educationa approach concerning effective breathing for aesthetically pleasing sound production. The methods of data collection for this single, descriptive case study includes both a traditional and systematic literature overview of the bel canto singing technique, some of Nel's handwritten and typed documents, as well as semi-structured interviews with Nel and selected participants who studied with him and who currently work professionally as singers and pedagogues.

Keywords: appoggio; breathing for singing; bel canto singing technique; body posture for singing; Nel, Werner; teaching singing


 

 

1. Inleidend

'n Nuwe generasie van jong Suid-Afrikaanse sangers is 'n tyd lank alreeds internasionaal gevestig as professionele operasangers.1 Hierdie sangers se stemme is egter gewoonlik eers by Suid-Afrikaanse instansies soos musiekskole en universiteite ontwikkel, voordat hulle oorsee vertrek het om daar verder te studeer en uiteindelik as operasangers te begin werk. Uiteraard het Suid-Afrikaanse sangonderwysers soos Werner Nel, Emma Renzi, George van der Spuy, Nellie du Toit, Virginia Davids, Hanna van Schalkwyk, Sidwell Hartman en Eric Muller met hul kennis en ervaring gehelp om die grondslag van hierdie sangers se stemtegniese en -estetiese vaardighede te lê.

Tot op hede bestaan daar geen vakkundige literatuur oor die pedagogiese beginsels waarvolgens suksesvolle Suid-Afrikaanse sangers plaaslik opgelei word nie. Die oorgrote meerderheid literatuur oor bekende Suid-Afrikaanse sangers is tradisioneel eerder hagiografies van aard. Daar is dus 'n belangrike leemte vir diegene wat meer (binne 'n plaaslike konteks) oor die opvoedkundige aspekte van opera-sang wil leer. Die leerplanne wat normaalweg gevolg word om sangers wat in die uitvoering van kunsmusiek in die Europese tradisie wil spesialiseer op te lei, behels o.a. die bemeestering van tegniese en estetiese beginsels wat redelik algemeen as die bel canto (vertaling: mooi sang) sangtegniek geken word.

Alhoewel die begrip bel canto vanuit 'n musiekgeskiedkundige oogpunt 'n Italiaanse musiekstyl van die negentiende eeu definieer, word in hierdie artikel eerder fokus gerig op 'n ander, meer toegespitste sangvakkundige begrip van bel canto - naamlik die sangtegniek of -ideaal wat deur vele sangers nagestreef word om die tegniese en estetiese veeleisendheid van opera en ander kunsmusiek in die Europese tradisie (o.a. kunsliedere en oratorium) te bemeester. Hierdie tweede begrip van bel canto word verder ook nie universeel dieselfde verstaan nie. Soos wat musiek stilisties in verskillende tye en plekke verander, só word verskillende tegniese en estetiese ideale van sangers verlang en word die definiëring van bel canto effens newelagtig. Om 'n kontekstuele agtergrond vir hierdie navorsingstudie te bied, word n kort opsomming van die vakliteratuur rakende die bel canto sangtegniek gebied.

Stark (2003) noem dat sangpedagoë sedert 1592 (Zacconi) en 1602 (Caccini) reeds oor veranderende sangtegnieke skryf, maar tog op maniere wat verbintenis hou met die later ontwikkelende begrip van die sogenaamde bel canto sangtegniek hou. Ware (1997:25) beskryf bel canto as 'n sewentiende- en agtiende-eeuse Italiaanse sangtegniek wat op totale stembeheer geskool is. McHenry e.a. (2014:198) skryf dat bel canto 'n gesofistikeerde, nou gedefinieerde sangtegniek is wat tyd-intensiewe en duur opleiding van sangers vereis en wat vandag die rigtinggewende beginsel van klassieke stemopleiding-programme behels.

Pilotti (2009:19) voer aan dat die bel canto sangtegniek gegrond is op appoggio, stembeweeglikheid en -buigsaamheid, vibrato, chiaroscuro en die vermenging van stemregisters. Miller (1993, 1996, 1997, 2000, 2004, 2008), waarskynlik die vernaamste navorser oor sangtegniek, kombineer fisieke, tegniese en artistieke kwessies in sy verduidelikings van wat n sanger moet kan vermag. Hy moedig emosioneel-roerende interpretasie, stilistiese korrektheid, effektiewe stemfunksie en stemgesondheid in sy pedagogiek aan. Verder neem sy navorsing kennis van interdissiplinêre bevindinge in die mediese wetenskappe, akoestiek, fonetiek en spraakterapie. Hy is n bewonderaar van ouer Italiaanse sangpedagoë en koppel daarom sy insigte oor sake soos liggaamspostuur, asembeheer, stembeweeglikheid, vokaal-aanpassing, stemplasing ensovoort aan die sogenaamde Italiaanse skool van bel canto sang. Brown (2004) argumenteer soortgelyk dat die ideale stem geskool moet wees in Italiaanse bel canto. Ten spyte daarvan dat hy

'n ideale stem voorhou, glo hy steeds (en ietwat teenstrydig) dat elke individuele stem 'n unieke persoonlike kenmerk moet hê. Die stemoefeninge wat hy propageer rig die fokus op gesonde asembeheer, die vermenging van stemregisters en die aankweek van stembeweeglikheid.

Brown (2004) se onderrigbeginsels is ook daarop geskoei om beide die sang- en geprojekteerde praatstem te beskerm. Omdat die sang- en geprojekteerde praatstem dieselfde spiere gebruik om klank te produseer, voel Brown dat sangers daagliks alle dele (registers) van hulle stemme moet vokaliseer en sodoende deur oefening versterk. Soos Miller (2004) begrond Ware (1997) sy benadering tot sang op Italiaanse sangmetodes, omdat hierdie metodes natuurlike fisiologiese funksie en gebalanseerde klank as ideale uitkomste benadruk. Met verwysing na Brown (2004) skryf Ware ook oor die konseptuele verbintenisse tussen sing en geprojekteerde praat, met n aanmaning dat die praatstem gesond moet bly vir 'n goeie sangstem om te kan funksioneer.

In 'n meer onlangse publikasie bied Jones (2017) 'n moderne blik op "ou-wêreldse" sangopleiding - spesifiek soos dit verband hou met die Italiaanse en Sweeds-Italiaanse sangskole. Sy klem val op die aanleer van goeie sangtegniek deur spanning in die kakebeen en nek te vermy, asook die gebruik van Franse nasale klank om spanning in die tong te vermy. Daarbenewens fokus hy op die begrip van strottehoofkanteling (laryngeal tilt) om 'n oop keel te bekom. Soos Jones (2017) bied Chapman (2017) soortgelyke insigte oor die ontwikkeling van 'n sekuur sangtegniek vir ontwikkelende sangers, en soos Brown (2004) rig hy verder sy aandag op die rehabilitasie van stemme wat weens disfunksie beseer is.

In my studie kyk ek na appoggio as kernbelangrike grondbeginsel van die bel canto sangtegniek, bloot as 'n effektiewe lens om Suid-Afrikaanse sangonderrigbeginsels wat geskool is op die bel canto sangtegniek beter te verstaan. Ek rig spesifiek fokus op een van die voorste sangpedagoë, Werner Nel,2 deur kwalitatiewe onderhoude wat ek gevoer het met hom en agt van sy voormalige studente.

 

 

My artikels se navorsingsvraag lui soos volg: Hoe het Werner Nel die sogenaamde bel canto sangtegniek se grondbeginsel van appoggio verstaan en oorgedra aan Suid-Afrikaanse sangstudente? Met die "hoe" in hierdie navorsingsvraag bedoel ek uiteraard veel meer as bloot "op watter manier" het hy sy eie begrip van appoggio aan studente oorgedra. Ek stel belang in pedagogiese metode met hierdie navorsing. Maar ek wil verder ook vir Nel en sy studente binne 'n estetiese en stemtegniese ideaal wat eeue lank alreeds internasionaal nagestreef word plaas. My navorsingsvraag sluit dus bykomende vrae - oftewel subvrae -in: Tot watter mate leer Nel en sy studente 'n Europese sangtegniek in koloniale Suid-Afrika aan? Tot in watter mate is die aanleer van hierdie sangtegniek noodsaaklik vir die genre van opera? Hierdie vrae en hulle antwoorde lei dan tot 'n slotbespreking wat die toekoms van sangonderrig vir opera in Suid-Afrikaanse milieu in oënskou neem.

 

2. Metodologiese kwessies en etiek

My studie behels 'n kwalitatiewe navorsingontwerp, met die doel om te benadruk dat my bevindinge gegrond is op die subjektiewe lewenservaringe en betekenismaak van 'n drasties beperkte hoeveelheid deelnemers. Terwyl die bel canto sangtegniek objektief waarneembaar is as ideaal binne die veld van kunsmusiek in die Europese tradisie, en terwyl my studie kennis neem van die ruim literatuur wat hierdie objektiewe ideaal beskryf, word bevindinge grootliks daarop gemik om nege deelnemers se subjektiewe begrip van die bel canto sangtegniek te verstaan.

Die ondersoekstrategie wat gebruik word vir my navorsing is dié van 'n beskrywende kollektiewe gevallestudie (kyk Rule en John 2011:29; Froelich en Frierson-Campbell 2013:26; Creswell en Creswell 2018:98). Die fenomeen wat bestudeer word, is Werner Nel en die onderrigbeginsels wat hy as pedagoog gebruik het om die ontwikkeling van 'n sangtegniek, geskool op kunsmusiek in die Europese tradisie, vir sy sangstudente te fasiliteer. Verder is die perspektief wat vir hierdie beskrywende kollektiewe gevallestudie gebruik word interpretatief-filosofies (kyk Reeves en Hedberg 2003:32; Merriam en Tisdell 2016:24; Merriam 2009:8; Creswell 2013:24). Die navorsing is empiries van aard. Dit beskryf die fenomeen, sowel as die konteks (kyk Froelich en Frierson-Campbell 2013:26) waarbinne die fenomeen verskyn.

In kwalitatiewe navorsing soos myne is die navorser die hoofinstrument wat die gevallestudie se data moet versamel en subjektief moet vorm en interpreteer (Creswell 2013:45; Merriam 2009:17; Rule en John 2011:19). Sulke navorsing volg 'n induktiewe proses van begrippe bou vanuit onderhoude, waarnemings en dokumente. Verder, in gevallestudie-navorsing soos myne, speel die navorser 'n aktiewe rol in die vorming van die gevallestudie (Rule en John 2011:19). Merriam (2009:25) skryf dat die navorser vooroordeel moet vermy deur haar eie ervaringe en denkraamwerke in ag te neem. Hierdie beginsel maak gevolglik dit nodig dat ek myself moet situeer as navorser vir hierdie studie. My belangstelling in hierdie navorsing spruit voort vanuit my eie werk as sangpedagoog op universiteitsvlak vir die afgelope vyftien jaar. My eie sangonderrig is ook (subjektief) op die estetiese beginsels van die bel canto sangtegniek geskoei, en as onderwyser het ek nog altyd probeer om my eie begrip van die bel canto sangtegniek te gebruik om die nodige stemtegniese en estetiese beginsels aan my studente oor te dra. Met my studie van Werner Nel en sy studente wou ek - bo en behalwe die navorsingsvraag wat ek in hierdie artikel ondersoek - vasstel hoe ek en andere, as sangonderwysers, moontlik kan baat by die sangonderrigbeginsels van 'n meer ervare pedagoog soos Nel.

Tesame met 'n sistematiese literatuuroorsig (kyk Jesson e.a. 2011:103) het ek onderhoude met deelnemers gevoer (kyk Rule en John 2011:62). Ek was ook in die gelukkige posisie om verskeie van Werner Nel se handgeskrewe en getikte dokumente te verkry (vanaf sy vrou Zella); dokumente wat hy gebruik het as begronding om klas te kon gee. Ek het al die onderhoude (kyk Griffin 2005:182; Rule en John 2011:62, 65) self met die deelnemers gevoer en opgeneem. Met transkripsies van hierdie onderhoude is 'n ryk beskrywing van inligting vir die studie moontlik gemaak. Deelnemers is toegelaat om hulle narratiewe in 'n vrye, spontane manier uit te druk (kyk Rule en John 2011:65). Semi-gestruktureerde onderhoude is gebruik wat afsonderlik nuut vir elke deelnemer ontwerp is. Ek het nabye kontak met deelnemers behou deur die hele navorsingsproses. Deelnemers is verder ook toegelaat om my transkripsies van hulle onderhoude na te gaan en goed te keur (kyk Creswell 2013:25).

In hierdie navorsingstudie het ek beide die data van die onderhoude en my eie reflektiewe indrukke gebruik om 'n gegronde interpretasie en dik beskrywing van die kollektiewe gevallestudie te bied (kyk Creswell en Creswell 2019:98; Froelich en Frierson-Campbell 2013:154). Om dít te vermag beeld die data beide my eie uitkyk (deur refleksie) uit, asook die uitkyke van die deelnemers. Betekenis is van die data verkry deur die tersaaklike materiaal te sorteer in kodes en kategorieë (kyk Merriam 2009:173-5). Gedurende hierdie sorteringsproses het ek 'n in-diepte beskrywende narratief van die deelnemers se waarnemings en begrippe gekonstrueer, sowel as patrone en temas in die data geïdentifiseer en gekategoriseer. Dataversameling en -analise is gelyktydig gedoen om 'n meer intensiewe beskrywing van die data te verseker (kyk Merriam en Tisdell 2016:195, 236).

Die agt deelnemers (voormalige studente van Nel) is gekies weens hul geskiktheid vir hierdie beskrywende kollektiewe gevallestudie. Hierdie agt deelnemers is tans aktief as professionele sangers of pedagoë: Mandie de Villiers, Sally du Randt, Erica Eloff, Jacques Imbrailo, Jacques le Roux, Wilhelm Theunissen, Kobie van Rensburg en Santisa Viljoen. Werner Nel was uiteraard 'n bykomende (negende) deelnemer aan hierdie studie.

Die geloofwaardigheid (kyk Lincoln en Guba 1985:294; Creswell 2013:250) van hierdie kwalitatiewe navorsingstudie is deur sogenaamde kristalisering (kyk Pitney en Parker 2009:63; Kelly 2006:287; Ellingson 2009:15) verseker, 'n proses waardeur data deur 'n verskeidenheid prosesse ingesamel, geanaliseer en bevestig word, om die fenomeen wat bestudeer word beter te verstaan. 'n Veelkantige benadering tot die verstaan van die fenomeen verryk nie net die gevallestudie se beskrywing nie, maar maak ook toegeneemde waarneming moontlik deur verskillende invalshoeke met die interpretasie van data (Ellingson 2009:15).

 

3. Literatuuroorsig

Die begrip appoggio word afgelei van die Italiaanse appoggiare, wat beteken om op iets te leun, om te ondersteun of om te stut (Sell 2003:153). Miller (1996:60) skryf dat appoggio as beginsel van goeie sangtegniek spruit vanuit die Italiaanse skool van sang. Met die skrywe van pedagoë soos Garcia en Lamperti kyk ons dat die begrip appoggio alreeds in die negentiende eeu in die vakkundige literatuur bespreek is (Miller 1996:77). Stark (2003:xi) beweer dat hierdie die tydvak is waartydens hierdie begrip eers deel van sangonderrig-terminologie geword het. Tog word geglo dat die castrati ook gebruik van die appoggio meganisme gemaak het, so vroeg alreeds as die sestiende eeu (Christiansen 1984:29).3

Hedendaagse sangpedagoë wat ook publiseer beskryf die appoggio op verskillende maniere: Ware (1997:194) en Pilotti (2009:20) beweer dat dit behels om op die asem te leun, terwyl Jones (2017:30, 31) en McKinney (2005:52) dit weer insien as 'n bewustheid van asemdruk terug hou (Jones voeg by dat die liggaam 'n geleidelike elastiese strekking na buite moet voel). Stark (2009:92) se meer omvattende beskrywing van appoggio lui soos volg: 'n sensasie van op die asem leun - oftewel op 'n kolom lug leun - skep die gevoel van 'n verlaagde diafragma in onderlinge verband met terughouding van subglottale asemdruk in die larinks. Mens verstaan dus dat asemvloeiing tydens sang gekontroleer moet word deur 'n fyn balans tussen die asemhaling- en laringeale spiere.4 Volgens Stark (2003:101) sal enige sanger se uitdrukking van toonhoogte, klankkleur en intonasie slegs sy volle potensiaal bereik wanneer appoggio toegepas word.

Omdat appoggio nou verwant is met die asemhalingsproses tydens sang, is effektiewe diafragmatiese ondersteuning en ekonomiese asemvloeiing (of goeie asembeheer) twee belangrike aspekte van hierdie begrip. Vir effektiewe diafragmatiese ondersteuning word koördinasie tussen die diafragma, abdominale spiere, interkostale spiere en die ribbekas verlang (Miller 1996:78). McKinney (2005:54), Robbin (2013:199) en Sell (2003:153) beweer dat appoggio die gebalanseerde loslating van hierdie spiere behels, terwyl Ware (1997:88) appoggio beskou as die teenwerking tussen abdominale spiere en die diafragma. Marek (2007:73) en Miller (1997:41) beskryf hierdie spieraksie as 'n balans tussen vryheid en asem-energie. Dus is asembeheer gegrond op 'n balans tussen spanning en weerstand in die onderskeie spiergroepe.

'n Bykomende aspek van asembeheer is te sien in die onderlinge verwantskap tussen glottale druk en asemvloeiing (Robbin 2013:199; Stark 2003:92). Brown skryf dat die stemvoue (vocal folds) tydens die voortbring van klank werk as n punt van weerstand vir saamgedrukte lug vanuit die longe. Hierdie stelling stem ooreen met Stark (2003:119) se beskrywing van appoggio as "an elastic cushion of pressurized breath just below the glottis". Daarteenoor maak Smith (2007:40, 67) weer n teenstrydige opmerking dat sangers met vrye asembeheer geen gevoel van weerstand op die stemvoue sal ervaar nie, maar slegs n gevoel van vloeiing.

Celletti (1996:110), Christiansen (1984:29) en Paschke (1984:27) let op die invloed van asembeheer (en dus ook appoggio) op stemkleur, resonans, legato sang en chiaroscuro.

Miller (1996:27), Kiesgen (2005:168) en McKinney (2005:53) benadruk weer hoe asembeheer (en appoggio) gekoppel is aan die produksie van akkurate toonhoogte en toepaslike volume. Hierdie is omdat die vloeiing van lug deur die geslote glottis veroorsaak dat dit vibreer en klank voortbring (Ware 1997:92; Miller 2004:23). Brown beskryf hierdie lugvloeiing as drukking, maar benadruk dat sangers nie druk moet uitoefen op hulle stemme om dit te bewerkstellig nie. Miller (2000:42) noem dat appoggio 'n benadering tot sang behels wat teenstrydig is met enige benadering waar asembeheer berus op die in- of uitstoot van abdominale spiere vir beoogde ondersteuning van die klank. Skrywers soos Brown (2004:33), Miller (2000:32) en Smith (2007:39) kies om eerder nie die terminologie "ondersteuning" (support) te gebruik nie, omdat dit uitermatige asemdruk kan veroorsaak wat die asemhalingsmeganisme styf maak of sluit. Hulle gebruik dus eerder die terminologie lugvloeiing (air flow). Smith skryf dat sangers juis minder lugdrukking en meer lugvloeiing benodig om die stemvoue effektief te gebruik.

'n Derde aspek van asembeheer is te sien in die belangrikheid van postuur (Sell 2003:154; Shore 1995:22). Brown (2004:18) en Smith (2007:37) skryf dat die liggaam korrekte belyning (alignment) benodig om vrye asemhaling toe te laat. Miller (2000:42) noem hierdie belyning appoggio-postuur, terwyl Marek (2007:73) en Pilotti (2009:20) dit edele postuur (noble posture) noem. Miller skryf verder as volg oor hierdie appoggio-postuur:

[T]he two focal points then for arriving at the noble posture essential to the maintenance of the appoggio are the sternum and the pelvic-hip region. The body assumes a linear alignment of the head and neck (offering external frame support for the larynx), torso, hips and legs.

McKinney (2005:49) beweer weer dat die bors gemaklik hoog gehou moet word, terwyl die laer abdomen gemaklik na binne gerig moet word met die hoër abdomen vry om te beweeg. Jones (2017:27) en Ware (1997:50) beskryf effektiewe postuur as die balansering van die kop op n reg-op ruggraat, n verhoogde bors en ribbekas, ontspanne skouers en ontspanne knieë en heupe.

Hierdie eerste artikel se doel was om die breë agtergrond en die verskillende tegniese terme te omlyn. In die opvolgende artikel word in diepte gekyk na Werner Nel se kommunikasie met studente - en uitgewys hoeveel van sy studente in Europa en elders presteer het - hulle is algemeen geprys, afgesien van natuurlike talent, vir die besondere hoë artistieke kwaliteit van hulle sang. Die feit dat hulle ook goed gevaar het in opera bewys nogeens dat Werner sy werk gedoen het met 'n formidabele arsenaal kennis, maar ook 'n groot passie vir sy werk en sy studente - wat nog vir jare kontak met hom behou het en gereeld verslag gedoen het oor hulle vordering en hulle prestasies - veral in Europa maar ook in die Verenigde Koninkryk.

In die volgende artikel word in meer detail ingegaan op die praktiese aspekte van sy sangonderrig - maar die passie wat altyd saam met sy werk gegaan het skyn altyd - die leermeester met die streng aandrang op perfeksie, maar ook 'n groot hart vir sy "kinders".

 

Bronne

Armhold, A. 1963. Singing: based on irrefragable laws. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Blanche, M., K. Durrheim & D. Painter. (reds.) Research in practice: applied methods for the social sciences. 2e uitgawe. Kaapstad: UCT Press.         [ Links ]

Brown, O. 2004. Discover your voice: how to develop healthy vocal habits. San Diego: Singular Publishing.         [ Links ]

Celletti, R. 1996. A history of bel canto. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Chapman, J. 2017. Singing and teaching singing: a holistic approach to classical voice. San Diego: Plural Publishing.         [ Links ]

Christiansen, R. 1984. Prima donna: a history. Middlesex: Penguin books.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2013. Qualitative inquiry and research design: choosing among five approaches. 3e uitgawe. Los Angeles: Sage.         [ Links ]

Creswell, J.W. & Creswell, J.D. 2018. Research design: qualitative, quantitative and mixed methods approaches. 5e uitgawe. Los Angeles: Sage.         [ Links ]

De Villiers, M. 2017. Persoonlike onderhoud. 1 Julie, Passau.         [ Links ]

Du Randt, S. 2017. Persoonlike onderhoud. 29 Junie, Augsburg.         [ Links ]

Ellingson, L. 2009. Engaging crystallization in qualitative research. Thousand Oaks: Sage.         [ Links ]

Eloff, E. 2017. Persoonlike onderhoud. 5 Julie, Reading.         [ Links ]

Froehlich, H. & Frierson-Campbell, C. 2013. Inquiry in music education. New York: Routledge.         [ Links ]

Griffin, G. 2005. Research methods for English studies. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Harrison, S.D. & O'Bryan, J. (reds.) Teaching singing in the 21st century. New York: Springer.         [ Links ]

Husler, F. & Rodd-Marling, Y. 1965. Singing: the physical nature of the vocal organ. Londen: Faber and Faber.         [ Links ]

Imbrailo, J. 2019. Elektroniese onderhoud. 13 Februarie, Londen.         [ Links ]

Imbrailo, J. 2019. Elektroniese onderhoud. 21 Februarie, Londen.         [ Links ]

Jesson, J., L. Matheson en F. Lacey. 2011. Doing your literature review: traditional and systematic techniques. Londen: Sage.         [ Links ]

Jones, D.L. 2017. A modern guide to old world singing: concepts of the Swedish-Italian and Italian singing schools. David L. Jones: www.voiceteacher.com        [ Links ]

Kelly, K. 2006. From encounter to text: collecting data in qualitative research. In Blanche e.a. (reds.) 2006.         [ Links ]

Kiesgen, P. 2005. Voice pedagogy: breathing. Journal of Singing, 62(2):169-171.         [ Links ]

Le Roux, J. 2017. Persoonlike onderhoud. 2 Julie, Linz.         [ Links ]

Lincoln, Y. & Guba, E.g. 1985. Naturalistic inquiry. Londen: Sage.         [ Links ]

Marek, D. 2007. Singing: the first art. Lanham: Scarecrow Press.         [ Links ]

McHenry, M.A., J. Evans & E. Powitzky. 2014. Effects of bel canto training on acoustic and aerodynamic characteristics of the singing voice. Journal of Voice, 30(2):198-204. https://doi.org/10.1016yj.jvoice.2014.11.009.         [ Links ]

McKinney, J.C. 2005. The diagnosis and correction of vocal faults. Long Grove: Waveland Press.         [ Links ]

Merriam, S.B. 2009. Qualitative research: a guide to design and implementation. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Merriam, S.B. & Tisdell, E.J. 2016. Qualitative research: a guide to design and implementation. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Miller, R. 1993. Training tenor voices. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Miller, R. 1996. Energy and freedom of singing. Journal of Singing, 53(2):27-30.         [ Links ]

Miller, R. 1996. On the art of singing. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Miller, R. 1997. National schools of singing. Lanham: Scarecrow Press.         [ Links ]

Miller, R. 2000. Training soprano voices. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Miller, R. 2002. National schools of singing. Lanham: Scarecrow Press.         [ Links ]

Miller, R. 2004. Solutions for singers. Oxford; Oxford University Press.         [ Links ]

Miller, R. 2008. Securing baritone, bass-baritone and bass voices. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Muller, S. 2016. Openings. Professorale intreerede. Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Nel, W. 2016. Persoonlike onderhoud. 29 Januarie, Potchefstroom.         [ Links ]

Nel, W. 2016. Persoonlike onderhoud. 18 Februarie, Potchefstroom.         [ Links ]

O'Bryan, J. & Harrison, S.D. 2014. Prelude: positioning singing pedagogy in the twenty-first century. In Harrison, S.D. & O'Bryan, J. (reds.) 2014. https://doi.org/10.1007/978-94-017-8851-91 .         [ Links ]

Paschke, D. 1984. Treatise of singing by Manuel Garcia. New York: Da Capo Press.         [ Links ]

Pilotti, K. 2009. The road to bel canto: on my retraining to chiaroscuro. Magister verhandeling. Örebro Universiteit.         [ Links ]

Pitney, W.A. & Parker, J. 2009. Qualitative research in physical activity and the health professions. Champaign: Human Kinetics Publishers.         [ Links ]

Reeves, T.C. & Hed berg, J.G. 2003. Interacting learning system. New York: Englewood Cliffs.         [ Links ]

Robin, C. 2013. Appoggio demystified. The Phenomenon of Singing, 9:199-203.         [ Links ]

Rule, P. & John, V. 2011. Your guide to case study research. Pretoria. Van Schaik.         [ Links ]

Sell, K. 2003. The disciplines of vocal pedagogy: a holistic approach. Burlington; Ashgate Publishing.         [ Links ]

Shore, J. 1995. Interviewing Jerome Hines. NATS Journal, 51(2):19-24.         [ Links ]

Smith, W. 2007. The naked voice. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Stark, J. 2003: Bel canto: a history of vocal pedagogy. Toronto: University vof Toronto Press.         [ Links ]

Sundberg, J. 1987. The science of the singing voice. Dekalb: Northern Illinois University Press.         [ Links ]

Theunissen, W. 2017. Persoonlike onderhoud. 8 Julie, Worcester.         [ Links ]

Van Rensburg, K. 2016. Persoonlike onderhoud. 10 April, Potchefstroom.         [ Links ]

Viljoen, S. 2019. Persoonlike onderhoud. 1 Maart, Potchefstroom.         [ Links ]

Ware, C. 1997. Basic vocal pedagogy: the foundation and process of singing. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
antoinette.olivier@nwu.ac.za

Published: 8 September 2021

 

 

1 Hierdie artikel is gegrond op werk wat deel uit maak van my doktorale navorsingstudie (Olivier 2019), waarvoor Santisa Viljoen my studieleier was. Ek bedank Etienne Viviers vir sy hulp met taalversorging en die vertaling van gedeeltes van hierdie navorsingsartikel.
2 Werner Nel is gebore in Duitsland in 1941. Tydens die oorlog, veral in die laaste ruk is hy wees gelaat (hoewel meer familie na die oorlog weer opgespoor is). Hy het Suid-Afrika toe gekom as een van 48 sogenaamde Duitse wesies en is aangeneem deur 'n egpaar van die Ooskaap. Sy oorspronklike naam, Gerd Werner Runge is behou - die nuwe ouers het bloot die Nel bygesit. Hy het in sy ouerhuis reeds met musiek kennis gemaak en het altyd met die grootste waardering van sy ouers gepraat. Hy het wel jare later van sy eie familie weer in Duitsland opgespoor maar sy tuiste het Suid-Afrika gebly met sy vrou Zella en vier seuns - en het heeltemal Afrikaans geword.
Sedert 1964 het Werner Nel homself gevestig as een van Suid-Afrika se voorste baritonsoliste in konsert-, opera- en oratoriumuitvoerings. Met beurse van SAMRO (die Suid-Afrikaanse Musiekregte Organisasie) en DAAD (Deutscher Akademischer Austauschdienste) het hy egter Duitsland toe vertrek om daar sy sangstudies onder Hanno Blaschke se leiding voort te sit. In Duitsland wen hy die Mendelssohnprys by 's-Hertogenbosch Internasionale Sangkompetisie en word hy ook 'n kontrak aangebied as sanger by Gelsenkirchen se operahuis.
In 1973 kom hy egter terug na Suid-Afrika en hy word in 1974 aangestel as sangdosent by die Konservatorium van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (sedert 2004 bekend as die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit). In 1977 word Nel bevorder tot senior dosent. Ten spyte van sy vaste amp in Potchefstroom, keer Nel sporadies terug na Duitsland om meesterklasse by Hanno Blaschke en Erik Werba te ontvang. Daarbene-wens organiseer Nel ook meesterklasse in Potchefstroom waarby Blaschke en Svein Bj0rk0y gereeld klas gee.
Uiteindelik word Nel se sangstudente prominente deelnemers aan musiekkompetisies in Suid-Afrika en die buiteland, o.a. kompetisies van Unisa en SAMRO, asook die Cardiff Singer of the World Competition en die Hans Gabor Belvedere Singing Competition. Verder word hulle ook uitvoerders op die verhoë van internasionale operahuise soos die Metropolitan, Covent Garden en die Bayerischen Staatstheater.
3 Vanuit die merkwaardige asembeheer en -ondersteuning wat die castrati as deel van hul sangtegniek moes bemeester (soos te kenne is in die bladmusiek wat hulle gesing het wat behoue gebly het), die moeilike koloratuurpassasies wat hulle kon sing, en die messa di voce wat n kenmerkende aspek van hul opleiding en uitvoeringspraktyk was, is dit ooglopend en vanselfsprekend dat appoggio (hetsy by 'n ander naam genoem) ook 'n sentrale aspek van die barok- en klassieke tydperke se sangtegniek was.
4 Die bariton Robert Merrill het die gevoel van appoggio (sonder om die begrip uitdruklik te noem) een keer in 'n onderhoud met Hines (1997:33) soos volg beskryf: "Sing only with 90 percent of your voice; never give it all. If you feel like you are weightlifting when you sing, it is wrong. Back off until the voice is floating and easy." Die bariton Pablo Elvira beskryf iets soort-gelyks vir Hines (1982:111): appoggio is om te "sing on the air".

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License