SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.86 issue1Richard Rohr, Mysticism and Neoplatonism[Un] Silencing the Genuine Voices of Young Emerging Scholars on Challenges Facing Young Academics in South African Universities author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.86 n.1 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.86.1.2490 

ORIGINAL RESEARCH
https://doi.org/10.19108/KOERS.86.1.2490

 

Die Bittereindervrede van 31 Mei 1902: 'n Histories-etiese Perspektief

 

The die-hard peace of the 31st May 1902: a historical ethical perspective

 

 

Prof PJ Strauss

Navorsingsgenoot Departement Historíese en Konstruktiewe Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. https://orcid.org/0000-0002-5324-8363

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Die Bittereinderboere wat die Britte in die laaste deel van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) die stryd aangesê het, het nie 'n konsensus gehad oor die aard van 'n bittereinde nie. Onder die - vir hulle - moeilike omstandighede in die laaste fase van die oorlog het vredesamesprekings wat tot die onder tekening van 'n vredesverdrag op 31 Mei 1902 sou lei, 'n besef onder die 60 afgevaardigdes van die Boere geskep dat dit nou die einde van die bittereinde is.
Hierdie besef word binne 'n Christelik-historiese en etiese perspektief bespreek.


ABSTRACT

The remainder of Boers fighting the last part of the Anglo-Boer War (1899-1902), are known as the die-hards. However, the characteristics of a die-hard or bitter end were not defined or uninamously recognized by the Boers. In the circumstances of April-May 1902 peace talks began and led to the signing of a peace treaty on 31 May 1902. In the development of the discussions among themselves a realisation was reached by the vast majority of the 60 Boer delegates that this was inevitably the end of the bitter end: the die-hard end.
This realisation is discussed within a Christian historical and ethical perspective.


 

 

1. Inleidend

Ten minste twee publikasies uit 'n simpatieke oord koppel die Vrede van Vereeniging van 31 Mei 1902 aan die meer as 20,000 Boere wat hulle tot die einde van die Anglo-Boereoorlog (ABO) van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 19021 teen Brittanje verset het: M.A.

Gronum met sy Die Bittereinders Junie 1901 - Mei 1902 uit 1974 en M.C.E vanSchoorse Die Bittereinde Vrede uit 20052.

F. Pretorius (Pretorius 2001:21) wys daarop dat sy berekeninge nie tot op die letter akkuraat is nie, maar dat die volgende getalle in die ABO 'n sterk aanduiding is. Aan Britse kant het 448,435 blankes en 30,000 swartes deur die loop van die stryd aan die oorlog deelgeneem. Hiervan het 5,774 blankes in gevegte gesneuwel, 2,918 aan wonde beswyk en is 13,250 aan siekte oorlede. Hoewel daar met die uitbreek van die oorlog tussen 54,000 en 57,000 Boere aan verpligte krygsdiens onderworpe was, het "altesaam ongeveer" 75,000 man op 'n stadium vir die Boere geveg. Hiervan het 6,189 omgekom. Van hulle het 3,990 gesneuwel of aan hulle wonde beswyk en 924 aan siekte op kommando gesterf. Deur die loop van die ABO is die Boere aangevul met ongeveer 13,000 rebelle uit Natal en die Kaapkolonie en 2,120 ander vrywilligers waaronder Nederlanders, Duitsers, Franse, lere, Russe en Skandinawiërs. Teen die einde van die oorlog was daar "nagenoeg" 20,779 bittereinders in die veld. Hiervan was daar 11,232 Transvalers, 5,822 Vrystaters, 3,574 rebelle en 140 ander vrywilligers.

Dit was met die leiers van hierdie bittereinders as die verteenwoordigers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrijstaat (Rep van OVS) dat Lord Milner namens die Britse Regering en Lord Kitchener as die Britse militêre bevelvoerder of sogenaamde "commander-in-chief" in Suider-Afrika, op 31 Mei 1902 vrede gesluit het3. Beide partye was op daardie stadium die de facto én de iure verteenwoordigers van die drie state wat de iure by die ABO betrokke was. Daarom kon hierdie persone se besluite tot 'n de iure én de facto vrede lei. Vir die Republieke was die verdrag soos geteken kort na 23:00 in Melrosehuis in Pretoria, 'n bittereindevrede waarby die bittereinders betrokke was (Kestell & Van Velden 1982:116-117)4. Dit was 'n vrede wat nie deur president M.T. Steyn van die Rep van die OVS as die sogenoemde "bittereinder van die bittereinders" of "siel van die stryd" onderteken is nie (Strauss 1996:559)5 omdat 'n ernstige kwaal hom van die grootste gedeelte van die samesprekings weerhou en op 29 Mei 1902 gedwing het om as president van die Rep van OVS te bedank. Vir doktersbehandeling moes hy die toneel op 30 Mei verlaat. In die Boererepublieke se aanvaarding van hierdie vrede - hulle aanvaarding van die Britse voorstelle - het die instemming van uitgesproke bittereinders soos De Wet, de la Rey en Beyers by die beraad van die afgevaardigdes van die twee Republieke op Vereeniging van 15-17 en 29-31 Mei 1902, 'n belangrike rol gespeel (SABW II 1972:732; Strauss https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5200). Op die rol van Steyn en dié generaals word in detail teruggekom.

ABO-verwante faktore het op die Boervroue en -kinders op die Afrikanergemeenskap en hierdie twee Republieke as 'n geheel, 'n beduidende invloed gehad. Resente studies toon dat die Britte met Roberts en Kitchener se "verskroeide aarde"-beleid na afloop van die konvensionele fase van die oorlog teen middel 1900 (Pakenham 1981:453) 75% tot 80% van die Boerplase geplunder of verbrand het, dorpe en kerke verwoes en die spoorweë en ander openbare aangeleenthede oorgeneem het (Van Schoor 2005:7,33; Strauss 2015:30-31). Daarby sou - volgens die jongste bronne - 34,051 vroue en kinders in Britse konsentrasiekampe vir die Boere weens - veral aanvanklik - swak georganiseerde toestande omkom en ongeveer 'n 10de van die Afrikanerbevolking van die twee Republieke uitgewis word (Scholtz 1998: 122; F. Pretorius 2001:21; Reynolds 2013:122). Die getal 34,051 is heelwat meer as die 26,370 vroue en kinders wat met die onthulling van die Vrouemonument op 16 Desember 1913 bekend was (Strauss sa:15)6. Van Schoor wys op die "algehele verwoesting van die ganse ekonomiese struktuur van die landelike bevolking in die twee Republieke" (Van Schoor 2005:11).

Die genoemde vernietiging van menselewens waarby ongeveer 22,000 soldatesterftes en groot koste aan Britse kant (Pretorius 2001:21; Van Schoor 2005:165), die verwoesting van die twee Republieke en mite dat die Afrikaner in Kaapland en Natal tot steun van hulle volksgenote in die twee Republieke teen Brittanje in opstand sou kom (Smuts in Kestell en Van Velden 1982:62,160), het die bittereinders wat die ABO tot 32 maande teen "Groot" Brittanje7 uitgerek het, nie as die enigste argumente teen Mei 1902 oortuig om die stryd te laat vaar nie. Die bittereindevrede was nie net die gevolg van die feite - De Wet as Christen sou by die vredesamesprekings sy weerstand teen die sogenaamde feite nogeens op die tafel plaas (Kestell en Van Velden 1982:85: Van Schoor 2005:191) - nie, maar meer as dit. Daarop kom ons terug.

Die groot vraag wat hier gevra word, is wat die Boerebittereinders op 31 Mei 1902 beweeg het om die Britse voorstelle vir 'n ABO-vrede te aanvaar? Hoe rym die oortuigings van hierdie bittereinders met die Britse voorstelle waarop Brittanje net 'n JA of 'n NEE wou hoor? Hoekom het die Boere op hierdie punt besluit om die Britse voorstelle te aanvaar? Het die toestand rondom die ABO die Republieke tot oorgawe gedwing? Immers, reeds met president M.T. Steyn se toespraak in die Vrystaatse Volksraad op 22 September 1899 (op die vooraand van die oorlog) oor moontlike toetrede tot die ABO, was die omstandighede breedweg ongunstig vir die twee Republieke en gunstig vir Brittanje.

 

2. Die aanloop tot die bittereindevrede

'n "ligvaardige" saak nie, toespraak verbatim in OVS Volksraadsnotule 22:09:1899:15-24; vgl verbatim in Van der Merwe I 1921:250-256. Sommige bereken dat sy bemiddeling van prosesse of gebeure waarin hy telkens die middelpunt was, daartoe gelei het dat die ABO as gevolg van Steyn met meer as 'n jaar verleng is (Van Schoor 2009:185vv).

Loe skryf die gebruik van die term "bittereinder" onder die Boere vir hulle wat aan Boerekant in die ABO sou volhard, aan president M.T. Steyn toe (Lou 1985:209). Voor die uitbreek van die ABO lewer die Vrystaatse president op 27 September 1899 'n toespraak in die Volksraad wat as 'n motivering vir hierdie Republiek in sy betrokkenheid by die ABO moet dien (OVS Volksraadsnotule 27:09:1899:145-146; Van Schoor 1997:164-165). Wat hom betref gaan dit hier om 'n geregverdigde stryd, hy is daarin onwrikbaar, tot die bittereinde.

Die bittereinde of laaste tydvak in 'n situasie word Christelik-eties bepaal deur hulle wat die besluite neem en op grond van hulle vertolking van relevante faktore tot die slotsom kom dat dit die laaste fase of einde van die oorlog is. 'n Slotsom wat vra vir Filippense 1:9 se begrip en fyn aanvoeling om die dinge te "onderskei waarop dit werklik aankom". Soos die medikus wat op die oomblik moet kies tussen die lewe van die ma of haar ongebore baba of die selfverdedigende burger wat blitsvinnig moet besluit tussen sy eie lewe of die lewe van die agressiewe, gewapende rower. W. Pretorius wys op 'n keuse in 1902 tussen die veg tot die laaste man, vrou en kind met die uitwis van die Boerevolk of die oorgawe van die Boere aan 'n vyandige oormag na 'n eervolle stryd wat van die bittereinde 'n nuwe begin sou maak (W. Pretorius sa:11).

Omdat die saak van die twee Republieke, volgens Steyn, voor God reg en hulle uit 'n volkeregtelike oogpunt aan die onreg van 'n imperialistiese Brittanje blootgestel is8 - hy wys op voorbeelde van Britse onreg teenoor die twee Boererepublieke in die laaste helfte van die 19e eeu - versoek die president sy Volksraad om hulle burgers te vra om soos helde te stry tot die "bitter einde". 'n Stryd waarin die Britse imperialisme die uitdelging van die Afrikaner en sy republikanisme in Afrika beoog. 'n Volharding tot die bittereinde sodat die vyand respek vir die kinders van die Afrikaner sal hê. Ter wille van sy selfrespek en die respek van ander vir die Afrikaner, mag die Boererepublieke nie voor Brittanje met sy beleid van mag is reg gaan lê nie. Uit selfverdediging as 'n eties geregverdigde laaste uitweg na Steyn se mislukte pogings om die Britse aantygings met ZAR-toegewings regemoet te kom, die Britte te oortuig om arbitrasie in plaas van oorlog vir die oplos van hierdie verskille te kies én met die ZAR te onderhandel (OVS Volksraadsnotule 21:09:1899:10; 26:09:1899:113; Scholtz 1998: 11-17), kan die Boererepublieke bid dat die Here vir hulle sorg in die ABO. Internasionaal erkende onafhanklike state soos die ZAR en die Rep van OVS kan vanuit die aard van hulle struktuur as state hulle onafhanklikheid met die wapen verdedig as dit uit noodweer is. Binne die volkereg mag 'n staat op grond van sy beheer oor die fisiese swaardmag in sy gebied, oor die polisie en die weermag, sy gebiedsintegriteit handhaaf. Steyn staan dus op die strukturele gelykwaardigheid van onafhanklike state as 'n maatskapsfiguur wat in die 20ste eeu as 'n Christelike benadering in die volkereg erken word (Wessels 1975:63).

Hiermee neem sy staatshoof vanaf 'n publieke platvorm die voortou in 'n stryd tot die bittereinde (die naamwoord) vir die Rep van OVS in die ABO. 'n Volharding waaraan sy integriteit en geloofwaardigheid as president en Afrikaner ook verbind sou word - ten minste sover dit hom persoonlik aangaan. Later kom M.T. Steyn uit die ABO as die sogenaamde siel van die vryheidstryd9 en die bittereinder van die bittereinders (Oberholster en Van Schoor sa:14).

As bittereinder-president moes Steyn sy invloed veral op twee fronte gebruik: hy moes sy eie burgers motiveer en hy moes die weifelende Transvalers of ZAR aan boord hou. Wat sy burgers betref was sy meelewing en inspirasie op kommando as die siel van die stryd 'n uitstaande kenmerk van sy optrede in die oorlog. Volgens M.T. Steyn moes die Afrikaner nie verneder uit die ABO kom nie, maar deur sy volharding - tot die bittereinde - vir 'n regverdige saak die morele oorwinning behaal. Op dieselfde gedagtelyn maak hy gewag van die triomferende martelaarskap van die Afrikanervrou en -kind in die konsentrasiekampe. 'n Uitdrukking wat later ook weerklink in die spreuk op die monument vir die Vrede van Vereeniging van 31 Mei 1902: gewond maar onoorwonne (Scholtz 1998:78; Volksblad 04: 01:2014).

Wat die ZAR betref telegrafeer kommandant-generaal Piet Joubert reeds sewe weke na die aanvang van die oorlog aan president Kruger dat vrede gesoek moet word weens die "akelige en onaangenaam toestand..." waarin daar geveg word. Kruger wys dit af, maar in Februarie 1900 herhaal Joubert sy versoek: die twee Republieke moet vrede soek met behoud van hulle onafhanklikheid. Steyn is nie hiervoor te vinde nie. Sulke skuiwe motiveer net die Britte wat onder die indruk kom dat die Boere strydensmoeg is (Van Schoor 2009:240-241). Na die Britse inname van Pretoria in Junie 1900 kom daar 'n versoek van die krygsraad van die ZAR dat die ABO beëindig word. Steyn moet vir samesprekings hieroor na Pretoria haas. Die Vrystaatse president antwoord dat dit onmoontlik is om nou na Pretoria te kom en dat hy en president Kruger 2 weke vantevore in elke geval besluit het om die ABO voort te sit. Hy wys op "een lafhartige wijze de strijd die wij in den Naam des Heeren hebben begonnen, op te geven". Die Vrystaat sal liewer die stryd tot die bittereinde alleen voortsit. Generaals De la Rey, Beyers en Muller distansieer hulle van hulle mede-Transvalers én eersgenoemde gee te kenne dat hy die stryd alleen sal voortsit as sy landgenote volhou met hulle flouhartigheid (Van Schoor 2009:243-244).

Op 15 April 1901 moet Steyn weer vergader met mismoedige Transvaalse regeringslede wat die ABO wil "opgeven". Die bittereinder-president oortuig hulle skynbaar. Maar 3 weke later, op 8 Mei 1901, gee dieselfde lede te kenne dat hulle met president Kruger in die Europa wil praat oor die voortsetting van die ABO: ,n begeerte wat nie verder as dit kom kom nie. Na 'n ontmoeting van Steyn met die ZAR-regering op 22 Junie 1901, word die oorlog voortgesit (Van Schoor 2009:246-250).

Dit is ook M.T. Steyn wat namens die twee Republieke op Kitchener se "papierbom" van 7 Augustus 1901 reageer. Kirchener beweer dat die Boere verslaan is en moet oorgee. Van die - syns insiens - "gewese" Republieke het net gewapende bendes oorgebly. Die Boere wat teen 15 September 1901 nog nie oorgegee het nie, sal "voor altijd" verban en die onderhoud van hulle gesinne teen hulle eiendom belas word. Steyn antwoord 15 Augustus "te velde". Vir hom lyk die Boeresaak beter as 12 maande gelede. Kitchener se "jurisdictie strekt slechts zoo ver als Uw kanonnen kunnen bereiken". Die weerstand van die Boere het die afgelope jaar "verbazend... vooruitgegaan". Die getalle van die Hensoppers en Joiners het afgeneem en die lafhartige Britse aanvalle op rondtrekkende Boervroue en kinders, die lyding van Afrikaners in die algemeen en "ons geloof in een rechtvaardige God" is van die vernaamste faktore wat die Boere aanspoor (volledige antwoord in Van Schoor 1997:187-194)10.

Teen hierdie agtergrond begin die - finale - oorlegpleging van die Boere vir vrede op 9 April 1902 te Klerksdorp (Scholtz 1998:114). Onder die vegtende Boere van die Rep van OVS is daar konsekwente bittereinders. Onder die vegtende Boere van die ZAR is daar egter bittereinders én bittereinders. Laasgenoemde sou in hulle volharding van die stryd 'n kronkelpad loop wat verskil van die pad van die konsekwente bittereinders. Hoe dit ookalsy, die Vrede van Vereeniging11 was op hande.

 

3. Klerksdorp deel van die aanloop

Op 25 Januarie 1902 stuur dr Abraham Kuyper as Minister-President of Eerste Minister van Nederland 'n nota aan die Britse Regering waarin hy die hulp van sy regering aanbied om kontak tussen die Britse owerheid en die Republikeinse Regerings met die oog op vredesamesprekings, te bewerkstellig. Die Britse Minister van Buitelande Sake, Lord Lansdowne, wys hierdie Nederlandse aanbod op 29 Januarie van die hand (Bossenbroek 2012:418-419). Volgens hom moet onderhandelinge tussen die Regerings van die Republieke en Lord Kitchener as bevelvoerder van die Britse magte in Suider-Afrika, plaasvind. Via Lord Kitchener beland afskrifte van hierdie notas op die tafel van die Regering van die ZAR. Om redes wat moontlik draai om hulle bittereinderingesteldheid, ignoreer Kitchener egter die Regering van die Rep van OVS (Scholtz 1998: 114; Kestell 1902:223; De Wet 1959:214-215,217)12.

Hoe dit ookal sy, so kom die Regerings van Boer en Brit deur aangewese verteenwoordigers mettertyd op die pad na samesprekings oor vrede wat eventueel lei tot die einde van die ABO.

Die Regerings van die ZAR en die Rep van die OVS praat van 9-11 April 1902 op Klerksdorp saam oor voorstelle vir vrede. Amptenare of sekretarisse uitgesonder woon 6 leiers van die ZAR en 5 van die Rep van die OVS die gesprekke by. In dié proses gee kommandant-generaal Louis Botha en generaal Koos de la Rey van die ZAR en hoofkommandant Christiaan de Wet van die Rep van die OVS hulle indrukke van die toestand in die ABO. Op 12 April keur die vergadering van Regerings (soos die Boere na hulle verwys, Kestell en Van Velden 1982:30) die volgende punte vir onderhandeling met die Britte goed: 'n "eeuwigdurend" verbond van vriendskap en vrede, die sluiting van alle staatsforte, arbitrasie in toekomstige geskille, gelyke regte vir Engels en Nederlands in die onderwys en amnestie aan weerskante (Kestell en Van Velden 1982:30-40; De Wet 1959:218-219).

Op versoek van die twee Regerings en met die instemming van Lord Kitchener ontmoet die Regerings die Britse bevelhebber op 12 April 1902 "en die daarop volgende dae" in Pretoria. Later word die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, Lord Milner, deel van die vergadering. Op Kitchener se verbasing dat die Boere hulle onafhanklikheid wil behou, antwoord die bittereinder Steyn dat "die volk" nie in 'n toestand gebring moet word waarin hy sy selfrespek verloor en verneder voel voor Brittanje nie. Kitchener, 'n selferkende Ier13wat in sy Britse Regeringsbaadjie pro 'n voorwaardelike vrede is, ontken die moontlikheid van so iets. "'n Volk wat gestry het soos die Boere" kan nie sy selfrespek verloor of gevaar loop dat die Engelse op hulle neersien nie (Kestell en Van Velden 1982:42-43). Hy bevestig dus die standpunt van president Steyn dat die Boerebittereinders nie verniet stry nie. Die volharding van die bittereinders dra ongetwyfeld by tot hierdie kompliment wat die Britse bevelvoerder aan die Boere gee14. Boonop word die bittereinderregerings van die ZAR en Rep van OVS deur Brittanje as die wettige verteenwoordigers van twee wettige Republieke erken. Wettige Republieke wat as sulks erken word ten spyte van die formele Britse anneksasie van die Vrystaat op 24 Mei 1900 en die ZAR op 1 September 1900 (W. Pretorius sa:11; Gronum 1974:129)15. Grundlingh wys ook daarop dat "die Britte" tydens die vredesonderhandlinge nooit gepoog het om die Scouts of Boereverraaiers se posisie of "sekere voordele" te bespreek nie. Moontlik het hulle gevrees dat dit die bittereinders die harnas kon injaag en die "onderhandelinge kon benadeel" - terwyl Brittanje dit begeer het (Grundlingh 1979: 263). Van Schoor kom tot die gevolgtrekking dat die Britte se aanvanklike "oorwinningsvreugde" oor Vereeniging daarna verroes het. Die imperiale Regering en Lord Milner moes gaandeweg erken: "We won the battles, but lost the war". Hulle kon die Afrikaner nie onderwerp nie (Van Schoor 2005:7-8).

In telegrafíese kontak met Kitchener bevestig die Britse staatsekretaris uit Londen dat sy Regering nie die onafhanklikheid van die twee Republieke na vredesluiting gedoog nie. Die Britte vra uitdruklik voorstelle van die verteenwoordigers van die Boere "excluding Independence" (Kestell en Van Velden 1982:45). Met die aansporing van 'n siek M.T. Steyn dring die verteenwoordigers van die Republieke egter daarop aan om eers hulle stemvolk, die vegtende burgers, te raadpleeg oor die kwessie van hulle onafhanklikheid voordat hulle dit prysgee. Hulle grondwette vereis dit. Later beloof Kitchener die Boeregeneraals 'n vrygeleide en die gebruik van die telegraaf en spoorweë om volksvergaderings saam te roep sodat hulle hulle gevoel oor hierdie aangeleentheid kan laat hoor en 60 verteenwoordigers - 30 van die ZAR en 30 van die Rep van die OVS - vir die vredesberaad kan aanwys. Hierdie 60 gesante moet vanaf 15 Mei 1902 op Vereeniging saam vergader oor vrede met Brittanje (De Wet 1959:225; Kestell en Van Velden 1982:45-50; Scholtz 1998:115).

Van 15 tot 17 Mei 1902 vergader die 60 afgevaardigdes van die ZAR en die Rep van OVS in die, soos dit bekend sou word, Tent van Samekoms op Vereeniging (vgl. skets van terrein in Kestell 1902:246). Hulle bespreek die posisie van die Boere en die vraag of die ABO voortgesit of beëindig moet word. Op versoek van die Regering van die ZAR en deur bemiddeling van Lord Kitchener word die generaal en staatsprokureur van die ZAR, J. C. Smuts, uit die Kaapkolonie ontbied om sy Regering by te staan. Smuts val die Kolonie vroeër uit die ZAR met 'n kommando binne. 'n Afvaardiging van die twee Regerings bestaande uit generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Jan Smuts van die ZAR en Christiaan de Wet en Barry Hertzog van die Rep van die OVS praat die voorstelle van die Boere op 19 Mei 1902 en volgende dae met Lords Kitchener en Milner in Pretoria deur. Nadat die ooreenkoms van Pretoria deur die Britse Regering in Londen goedgekeur is, keer die Boere-afvaardiging na Vereeniging terug om die besluit van Pretoria aan hulle 60 afgevaardigdes voor te lê. Vanaf 29-31 Mei vind die klimaks van die Boereberaad by Vereeniging plaas. Die bittereindervrede word tot sy einde gevoer. Die voorstelle van Pretoria soos goedgekeur in Londen, word deur die Boere op Vereeniging met 54-6 aanvaar. Soos aangedui word die vredesooreenkoms van die ABO tussen die A of Anglo's en die B of Boere kort na 23:00 op 31 Mei 1902 in Melrosehuis in Pretoria geteken. Die Britse eis was dat die Boere die verdrag onveranderd "voor middernag van 31 Mei 1902" aanvaar (Gronum 1974:129; Kestell en Van Velden 1982:90,116-120; 121-175; Scholtz 1998: 115-117).

 

4. Vereeniging deel van die aanloop

'n Illustrasie van die regskante van die ABO en daarom ook die naam wat volkeregtelik aan hierdieoorlog gegee word, is diefeitdat dieBoere-afgevaardigdesof'volksverteenwoordigers" (Kestell en Van Velden 1982:50) wat aan die beraad by Vereeniging deelneem, geloofsbriewe gebruik. 'n Gebruik wat herinner aan 'n wettige kerkvergadering soos 'n sinode. 'n Maatreël wat aantoon dat die persoon met 'n geloofsbrief volledig sitting neem én daarop geregtig is om namens sy senders besluite te neem oor dit waaroor die vergadering plaasvind (Kestell en Van Velden 1982:51). Die verteenwoordigers van die A en die B in die ABO word dus by die vredesluiting ten opsigte van die O in die ABO betrek.

Volgens notulehouers J.D. Kestell (Rep van die OVS) en D.E. van Velden (ZAR) begin die Boereberaad van Regerings of die leiersgroep van die ZAR en Rep van OVS én die 60 afgevaardigdes op die "oggend van 15 Mei" met hulle werksaamhede. By die begin - om 11:00 - lê hulle 'n eed af dat hulle as "spesiale volksverteenwoordigers ons land en volk en Regering getrou sal wees en dien en ons pligte naarstig sal betrag... " (Kestell en Van Velden 1982: 55). Die eed beklemtoon die erns van 'n moontlike bittereindevrede. Later verklaar die sameroeper en waarnemende president Schalk Burger (ZAR) die vergadering as wettig gekonstitueerd. Generaal Beyers word deur die beraad tot voorsitter verkies en Kestell en Van Velden as sekretarisse aangewys (Kestell 1902:249). Dit wil voorkom asof regter Hertzog se "juridiese beginsel" dat 'n afgevaardigde nie net 'n blote spreekbuis vir sy kiesers is nie, maar 'n gevolmagtigde gestuurde wat volgens oortuiging handel, deur die verloop van die beraad aanvaar en toegepas word. Voorsitter Beyers vra vir ds. Kestell om die namiddagsitting - soos daaropvolgende sittings - met gebed te open (Kestell en Van Velden 1982:56).

Ongeveer dag en 'n half, 15 en 16 Mei, word hoofsaaklik aan verslaggewing oor die situasie rondom die ABO in die republieke en die "ekspedisie na die Kaapkolonie" van generaal J.C. Smuts en kie, gewy. Later merk Kestell as 'n fyn waarnemer en erkende "vader" van sy mense op (Nienaber 1971: 91):

Het bleek dadelijk dat de vergadering als in twee kampen verdeeld was: het eene, dat tot de overtuiging was gekomen, dat men zich niet meer tegen het onverbiddelijke kon verzetten; het andere dat meende dat het einde nog niet daar was, en dat, indien Engeland op geen andere basis wilde onderhandelen, dan op een, die op het prijsgeven der onafhanklijkheid aandrong, men dan met den oorlog moet voortgaan (Kestell 1902:252).

Kestell vertolk dit so dat die Vrystaters, met uitsondering van 2 of 3, vir die tweede voorbeeld en die meerderheid Transvalers, met uitsondering van "een zestal", vir die eerste voorbeeld voel. In die bespreking swaai enkeles van laasgenoemde 6 na die noodsaak van vrede (Kestell 1902: 252; Gronum 1974:127).

Ten gunste van die beëindiging van die stryd word die volgende geopper: die verwoeste Republieke is op die rand van hongersnood; perde is skaars en talle burgers voetgangers; die voortvlugtende vroue (vir Engelse) is in 'n "allesbeklagenswaardigen toestand", loop "bijna naakt... en leden honger". Hulle word blootgestel aan gevaar terwyl die mans wat die Engelse oormag ook moet ontwyk, hulle moet beskerm. Boonop word die kommando's al swakker en stuur die twee Republieke op 'n gewisse ondergang af (Kestell 1902:253; Gronum 1974:127).

President Burger en generaal Botha praat in hierdie rigting. Botha wys op die gedurige oproep dat die Boere moet volhard "tot het bittere einde" en vra: waar is die bittereinde? Is die bittereinde waar elkeen in sy graf lê, verban is of gestry het tot hy nie meer kan nie?

Op hierdie punt voeg die uitgesproke bittereinder, generaal J.H. de la Rey, hom ook by hierdie lyn van argumentasie. Hyself kan voortgaan, maar baie ander nie. As een nie meer kan nie, kan almal nie meer nie. Uit dit wat hy op die vergadering hoor, kom hy tot die "droevige overtuiging" dat die Boere hulle stryd moet laat vaar.

Vechten tot het bittere einde? Zegt gij dat? Maar is het bittere einde niet nu gekomen? Elk van u heeft op die vraag voor uzelven te beslissen (Kestell 1902:253; Gronum 1974:128).

Die feit dat Kestell vir De la Rey uitvoerig aanhaal, toon dat sy woorde die Vrystaatse notulehouer en bittereinderdominee aanspreek. Wat De la Rey betref, is dit nou die einde van die bittereinde.

Op dieselfde "droevige" lyn deel Smuts die Boereberaad mee dat die Afrikaner in die Kaapkolonie nie van plan is om in opstand te kom en die Republieke te hulp te kom nie. 'n Algemene opstand is buite die kwessie en onmoontlik. Hulle het reeds gedoen wat hulle kon. As daar nie meer 'n rede vir die voortsetting van die ABO in die Republieke bestaan nie, "zou het ijdel zijn, om dien in het Kaapkolonie te gaan zoeken"(Kestell 1902:253-254).

Ten gunste van die voortsetting van die stryd word ook argumente aangevoer. Die verwoesting, gebrek en lyding was 'n jaar of meer gelede reeds daar. Smuts het in sy telegram aan die Deputasie van die Republieke in Europa juis gesê dat toestand in die land "allerontzettendst" was. 'n Gebrek aan ammunisie en perde sou die voortsetting van die ABO vir die Boere onmoontlik maak, maar nou, 12 maande later, volhard die Boere steeds in die stryd (Kestell en Van Velden 1982:84). Ten spyte van die omstandighede veg die Boere 'n oorlog wat hulle in die geloof begin het en in die geloof kan voortsit.

Hoofkommandant De Wet volg hierdie lyn van argumentasie. Hy reageer op die argument dat die "feite" negatief vir die Boere is en

zeide... dat hij niets met feiten te doen had. Het was een geloofsoorlog. Hij had met een feit te doen dan alleen, als hij het uit zijn weg moest ruimen... (Kestell 1902:254; Kestell en Van Velden 1982:85).

De Wet is teleurgesteld dat daar nie 'n algemene opstand in die Kaapkolonie is nie, maar die Kaapse rebelle hou 50,000 Britse troepe uit die Republieke. Hy is jammer vir huisgesinne wat swaarkry en vir burgers in die "kampe". Maar vir hom bly die oorlog 'n geloofsaak (Kestell en Van Velden 1982:85).

Teen laatmiddag op 16 Mei besluit die Boereberaad om generaal J.C. Smuts en regter J.B.M. Hertzog as 'n kommissie aan te wys om in oorleg met presidente Steyn en Burger 'n konsepvoorstel vir die beraad op die volgende dag te formuleer. Na 'n kort bespreking aanvaar die vergadering op 17 Mei 1902 die voorstel van hierdie kommissie. Hy besluit om die volgende punte in Pretoria aan die Britse verteenwoordigers voor te lê.

Die beraad het kennis geneem van die gesprekke en korrespondensie van die Republikeinse Regerings met Lord Kitchener en van Kitchener met die Britse Regering, van die afgevaardigdes uit verskillende dele van die Republieke oor die onderhandelinge vir vrede, van hulle verteenwoordigers of Deputasie in Europa oor moontlike hulp uit Europa en van die Britse Regering se beslisde weiering om op basis van hulle onafhanklikheid met die twee Republieke te onderhandel. Daarom bevestig die beraad weer dat sy mense "vurig verlangen" om hulle onafhanklikheid te behou. 'n Onafhanklikheid waarvoor hulle reeds soveel stoflik en persoonlik opgeoffer het. Die beraad wil met Brittanje vrede sluit op basis van 'n beperkte onafhanklikheid. Hierdie beperking beteken dat die Boererepublieke afstand doen van buitelandse verhoudinge en gesantskappe, 'n protektoraat van Brittanje word, 'n gedeelte van die gebied van die ZAR aan Brittanje afstaan en 'n defensiewe verbond van Brittanje met "Zuid-Afrika" voorstaan (Kestell en Van Velden 1982:87-88; Gronum 1974:128; Scholtz 1998:116).

Die beraad op Vereeniging besluit ook om vir Botha, De Wet, De la Rey, Smuts en Hertzog te stuur om hierdie punte vir 'n vredesooreenkoms met Kitchener in Pretoria op te neem. Die resultaat van dié 5 se onderhandelinge met die Britte moet egter aan die 60 volksverteenwoordigers op Vereeniging vir goedkeuring voorgelê word om deur die Republieke aanvaar te word (Kestell en Van Velden 1982:89; De Wet 1959:227).

In Pretoria op Maandagmöre 19 Mei 1902 en voor hulle ontmoeting met Kitchener en Milner, besluit die kommissie van 5 om 'n lysie te maak van punte wat hulle wil onderhandel indien die voorstelle van die Vereenigingberaad nie aanvaar word nie: die datum vir die instel van verantwoordelike bestuur vir die, dan, voormalige Republieke, die behoud van stemreg vir almal op basis van die Kaapse kieswet, die terugbring van families en krygsgevangenes na hulle huise, die gelykberegtiging van Hollands en Engels en die uitbetaling van oorlogsverliese en amnestie (Kestell 1902:257-258).

Nog is dit nie die einde van die bittereinde nie...

 

5. 'n Potensiële vredesooreenkoms te Pretoria

By hulle ontmoeting met die kommissie van 5 aanvaar Kitchener en Milner inderdaad nie die voorstelle van Vereeniging nie. Die "konferensie" van die 7 sleutelfigure begin om 10:00 waarna generaal Botha uitwys dat alles wat hier besluit word, deur die 60 volksverteenwoordigers in Vereeniging goedgekeur moet word (Kestell en Van Velden 1982: 90).

Die twee Britse verteenwoordigers hou voet by stuk: die Britse Regering is gekant teen 'n onafhanklike ZAR en Rep van die OVS in enige vredesvoorstel. Daarom sal die voorstelle van Vereeniging nie vir Londen aanvaarbaar wees nie. Toe sake na 'n uitvoerige diskussie nie vorder nie, word Hertzog en Smuts as 'n subkomitee aangewys om mee te werk met Milner, geadviseer deur Sir Richard Solomon as regsman, aan 'n konsepvoorstel. Op Woensdag 21 Mei 1902 lê Milner hierdie saamgestelde stuk aan die volle "konferensie" voor. 'n Stuk met vredesbepalings wat na die aanvaarding daarvan op die middag van 21 Mei aan die Britse Regering getelegrafeer word vir sy goedkeuring (Kestell en Van Velden 1982: 103,105; Kestell 1902:262).

Op 27 Mei aanvaar die Britse Kabinet die dokument as die vredesooreenkoms van die ABO. Die besluit word uit Londen aan Kitchener en Milner getelegrafeer en die volgende dag deur laasgenoemde aan die 5 Boeregesante oorgedra. Milner deel die Boere mee dat die Britte die stuk as die finale dokument beskou. Die Britse Regering sal geen verdere wysigings aanvaar nie. Die Republieke moet die stuk voor middernag 31 Mei 1902 teken of verwerp. By ontvangs vervang Smuts die opskrif "Akte van oorgawe" egter met "Akte van vrede". Die stilswye van Kitchener en Milner toon dat hulle hierdie verandering aanvaar (Grobler 2004: 146). Smuts se verandering is 'n aanduiding dat die Boere nie geestelik en fisies oorwin is nie, maar uit oortuiging instem en 'n mondige party by die aanvaarding van die ooreenkoms is. Brit én Boer konstitueer dus die Vrede van Vereeniging. Soos Steyn in die wandelgange die term "bittereinder" gemunt het, so munt Smuts nou die terme "akte van vrede" in die onderhandelinge vir vrede. In die konteks van die ABO is die gebruik van beide gelaai met betekenis.

Die volgende sake word so deur Brittanje aan die beraad van 60 Boere op Vereeniging voorgelê as die punte van ooreenkoms van die Vrede van Vereeniging.

Die burgermagte wat in die veld is, lê dadelik hulle wapens en alles wat daarmee verband hou, neer. Hulle onderneem om hulle te weerhou van enige verdere teenstand teen die gesag van Koning Eduard VII. Na oorgawe sal alle burgers terug gebring word na hulle wonings. Alle krygsgevangenes sal by hulle aanvaarding van onderdaanskap van die koning, gebring word na waar hulle voor die oorlog gewoon het. Burgers wat oorgee of krygsgevange is, behou hulle persoonlike vryheid en eiendom. Geen regstappe - siviel of krimineel - sal teen hulle geneem word oor oorlogsverwante dade nie. Hollands sal in publieke skole in "Transvaal" en die "Oranje-Rivier-Kolonie" gebruik word as ouers dit versoek en toegelaat word in die howe vir meer doeltreffende regspleging. Gelisensieerde gewere sal in hierdie gebiede toegelaat word as dit vir selfbeskerming is. Die huidige militêre regering in die gewese Republieke sal sodra omstandighede dit toelaat, deur verteenwoordigende regering vervang word wat moet uitloop op selfregering. Oor die kwessie van die stemreg van "naturellen" sal besluit word nadat selfregering ingestel is. Geen eiendomsbelasting in Transvaal en die Oranjerivierkolonie sal gehef word om die koste van die ABO te bestry nie. In elke distrik van die voormalige Republieke sal 'n kommissie aangewys word om inwoners te versorg met voedsel, herberg, gereedskap en saad. Inwoners sal op hierdie kommissies verteenwoordig word en die Britse Regering sal 3,000,000 pond daarvoor beskikbaar stel. In 'n bykomende dokument word die Kaapse en Natalse Rebelle wat aan Boerekant geveg het, meegedeel dat hulle hulle stemreg verloor (Oosthuizen 1994:221) en dat rebelle wat regerings- of militêre poste beklee het, op hoogverraad moet teregstaan. Hulle mag egter nie die doodstraf opgelê word nie. Soos gestel kan die Boereberaad op Vereeniging niks aan hierdie besluite byvoeg of daarvan wegneem nie. Die Britse eis is dat die beraad van 60 net "ja" of "nee" sê (Kestell en Van Velden 1982: 104-105; Kestell 1902: 262-265; Grobler 2004:146).

Kestell oordeel dat die 5 Boereleiers alles gedoen het wat hulle kon om aan die wense van Vereeniging uitvoering te gee, maar dat dit nie kon nie: "Het was een zwemmen tegen een stroom, die machtiger was dan zij" (Kestell 1902:265). Vir hom is die Boere met 'n situasie gekonfronteer wat hulle nie kon omkeer nie. De Wet noem die Engelse voorstel 'n verpletterende ultimatum (De Wet 1959:227).

Hierdie "gegewe" moes nou aan die "volksverteenwoordigers" van die Republieke voorgelê word. Op Woensdagaand 28 Mei verlaat die 5 Boeregesante Pretoria om na Vereeniging terug te keer (Kestell en Van Velden 1982:120).

 

6. Vereeniging besluit op vrede

Om 09:00 op Donderdag 29 Mei begin die "volksverteenwoordigers" met die laaste fase en, moontlik, beslissende einde van hulle ABO-bittereinde. Trou aan die ingesteldheid van die 60 afgevaardigdes en voorsitter generaal Beyers, word die bespreking van die dag op versoek van die voorsitter weereens deur dominee J.D. Kestell met gebed geopen (Kestell en Van Velden 1982:121,145,168).

Volgens waarnemende president Burger moet die vergadering op een van drie moontlikhede besluit: die ABO in die omstandighede voortsit, die Britse vredesvoorstel aanvaar of onvoorwaardelik oorgee.

In die besprekings ontleed bittereinder De la Rey die kwessie van bittereinde en vrede op 'n deurdagte wyse:

"... ek sê u dat hierdie byeenkoms die einde van die oorlog is. Maar die einde kan op 'n eervolle of oneervolle wyse kom. Indien ons besluit om voort te gaan met die oorlog sonder gronde vir ons, dan sal die einde oneervol wees. Hier word van geloof gepraat. Wat is geloof? Geloof is: 'Heer laat U wil geskied'. Nie: 'My wil geskied om oorwinnaar te wees' nie. Ek moet my wil dood en ek moet handel en dink soos Hy my stuur en lei " (notule van Kestell en Van Velden 1982:135).

Om sy volk na alles wat hy opgeoffer het deur oorgawe onvoorwaardelik aan Engelse uit te lewer, kan nie. Om die stryd voort te sit sonder vooruitsigte op 'n goeie uitslag, kan ook nie. Die een distrik na die ander sal die wapen moet neerlê en sake sal op 'n skandelike einde uitloop. Die voorstel van die Britse Kabinet voor die beraad "beteken nie veel nie, maar beding tog die een en ander". 'n Besluit om voort te gaan moet nie deur 'n deel van die volk geneem word nie, maar almal. Hy is nou - na Vereeniging - op die hoogte van die toestand oor die hele land en daag enige een om anders as hy te kies. Hy kies vir die die Britse voorstel. Vir voortveg kan hy nie eers op 'n klein "ligstraal" wys nie. Deur voortveg te kies in plaas van die Britse voorstel sal hierdie "volk wat so trou was, tot hensop drywe, en so sal die oorlog tot 'n oneervolle einde loop" (notule van Kestell en Van Velden 1982:135-136) .

Bittereinder De Wet omskryf die einde van die bittereinde as om vol te hou "totdat die laaste middel van weerstand uitgeput is... nie ... totdat die laaste man dood en die laaste patroon weggeskiet is nie". Hy laat dus ruimte vir dit wat moontlik is of vir die "feite" sonder om hom by voorbaat daaraan oor te gee. Hyself is egter sensitief vir eenheid onder die afgevaardigdes (Kestell en Van Velden 1982:141).

Bittereinder Beyers - soos De Wet - praat aanvanklik ten gunste van die voortsetting van die oorlog. Dit sal egter nie baat om die oorlog voort te sit

wanneer almal om my die wapens neerlê nie. Dit sou belaglik wees vir my om voort te gaan... Ons saak was reg en is reg en sal reg bly en mag sal nie oor reg triomfeer nie. Daarom wil ek volhard in die stryd om te sien dat reg triomfeer, al moet daardie triomfering eers na my dood plaasvind... (Kestell en Van Velden 1982:144-145).

In 1905 verklaar Beyers dat die Boere in die ABO "deur die Goddellike wil" verslaan is. Hulle sal die stryd vir hulle regte nou op 'n ander manier moet voer. Die Here het hierdie oortuiging deur Sagaria 4:6 by Vereeniging aan hom geopenbaar. Nie wapengeweld nie, maar die wil Van God bepaal die lot van die Afrikaner: "nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees sê die Here die Almagtige" (Scholtz 1941:97,121).

Op 30 Mei gebruik bittereinder Smuts 'n spreekbeurt. Volgens hom het die Boere besluit om tot die bittere einde

... te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in 'n bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir 'n ieder van ons sou die dood 'n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Maar ons buk voor God se wil. Die toekoms is duister; maar ons sal die... vertroue op God nie prysgee nie... Die vryheidsoorlog van Suid-Afrika is gestry, nie alleen vir die Boere nie, maar vir die ganse volk van Suid-Afrika (Kestell en Van Velden 1982:160).

Dit is onseker met wat Smuts met sy laaste sin bedoel...

Met die doel dat die vredesvoorstel soos aanvaar deur die Britse Kabinet voor Saterdag 31 Mei 1902 om middernag geteken moet wees, stel De Wet die oggend voor dat Smuts en Hertzog 'n voorstel vir die Boereberaad formuleer waarmee hulle as 'n eenheid vorder in die hantering van die Britse besluit. "Ons moet tot één doel geraak, want dit sal vir die toekoms van onberekenbare waarde wees"16.

Behalwe Beyers en De Wet beklemtoon verskillende sprekers die noodsaak van eenheid in die besluite van die beraad. Botha druk dit so uit:

Ons het saam gely en gestry; laat ons nou saam besluit. Ons kan en moet in hierdie saak 'n weg vind om eensgesind te word. (Kestell en Van Velden 1982:169).

Kestell merk dat 'n gees van "tegenzin in verderen tegenstand" in die ABO mettertyd van die beraad besit geneem het. Dat hulle hulle tevergeefs teen hierdie gees verset, het tot die meeste van die 60 afgevaardigdes deurgedring (Kestell 1902:273). Behalwe argumente ter vergadering wat die einde van die bittereinde van die ABO motiveer, het Kestell se emosionele aanvoeling as pastor17 hom hierdie gees of besef as 'n bepalende faktor laat raaksien. Hier het 'n dieper emosie ontwikkel wat bewerk is deur die verslae, standpunte en houdings van die afgevaardigdes én die omstandighede rondom die ABO waarin hulle bymekaar gekom het. Die oortuiging dat die einde van die bittereinde aangebreek het, word in die woorde van generaal De la Rey weerspieël. Om hierdie einde te bepaal, vra 'n besluit of oordeel van die volle mens met al sy funksies.

Die voorstel van Hertzog en Smuts wat die aanname van die Britse vredesvoorstel insluit, word dus op Saterdag 31 Mei 1902 om 14:00 met 54-6 deur die 60 afgevaardigdes of Verenigingsberaad aanvaar (Gronum 1974: 135; Kestell en Van Velden 1982:171; Naudé sa:371). Kestell beskryf hierdie oomblikke as volg:

Het onvermurwbare... harde onverbiddelijke staarde de vergadering in de oogen. Men kon eenvoudig niet tegen de stroom meer op. Men zag dat, hoewel wij uit een militair oogpunt niet overwonnen waren, de oorlog ter wille van het volk niet kon voortgaan. De Boeren hadden aangehouden zoo lang als zij konden - ja maanden, maanden langer dan zij hadden kunnen - en nu Het bittere einde was daar!" (Kestell 1902:273)

Anders gestel, dit was die einde van die bittereinde!

Een van die Boere-afgevaardigdes, dominee J.F. Naude, skryf later:

"Zaterdag, 31 Mei, zal zeker onvergetelijk blijven in het leven van ieder afgevaardigde... Mij dunkt zulk een gevoel komt alleen nog over iemand als hij een brandstapel of schavot moet beklimmen." (Naudé sa:371).

Die "vredeskontrak" word teen 23:05 "op die 31ste dag van Mei in die jaar 1902" in Melrosehuis in Pretoria geteken. Aan die Britse kant teken Lords Kitchener en Milner. Aan die kant van die Republieke teken waarnemende presidente S.W Burger (ZAR) en C.R. de Wet (Rep van die OVS) en die Boere wat hulle vergesél: 5 van die ZAR en 3 van die Rep van die OVS (Kestell en Van Velden 1982:170-175)18.

 

7. Slot

Gronum wys op Ramsey Macdonald, 'n latere Britse Eerste Minister, wat na die oorlog skryf dat hy wou weet in watter geestestoestand die Boer uit die vredesluiting gekom het. Was hy oorwonne? Dit was nie moelik om 'n gevolgtrekking te maak nie. Die Boer is trots want hy het sy onafhanklikheid verloor, maar 'n ry helde en 'n besielende geskiedenis gewen. Daar het niks in die ABO gebeur om Majuba uit sy verhaal te vee nie (Gronum 1974:137). Soos Kitchener bevestig hy die volharding en moed van die bittereinders. Hulle het nie verniet gestry nie. Steyn se kommer is nie bewaarheid nie.

Kestell vertel dat hy saam met die Vrystaters op 31 Mei in die tent van De Wet vergader het.

Sy oë was op die bittereinder-generaal.

Ik zie hem nog, dien onbuigbaren man, met zijn doordringenden oogen, zijn sterken mond en kin - ik zie hem nog daar als een leeuw in een hinderlaag gevallen. Hij wil niet, hij kan niet, maar hij moet den strijd opgeven (Kestell 1902:276).

Die einde van die bittereinde was daar...

Selfs die onwrikbare De Wet het aangevoel dat dit die einde is en voor middernag op 31 Mei die vrede gesteun en geteken. Die ander lede van die Vrystaatse driemanskap naamlik Kestell en Steyn het soos aangedui hierby ingeval. In die omstandighede sou bittereinder De la Rey se woorde weerklink: "Uw wil, niet mij wil geschiede!"19

Vir Kestell as 'n bittereinderpastor was dit emosionele oomblikke. "Wat was toch de aandoening!" (Kestell 1902:276).

Die bittereindervrede is geteken. Binne God se voorsienigheid soos deur hulle verstaan as mense met 'n wil, verstand en aanvoeling, kon die bittereinders nie anders nie.

 

Bibliografie

Blake, A 2011. Boereverraaier. Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Bossenbroek, M. 2012. Die Boereoorlog. Amsterdam: Athenaeum (vertaling Annemarie Mischke).         [ Links ]

De Wet, C.R. 1959. Die stryd tussen Boer en Brit. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grobler, J.E.H. 2004. The War Reporter. Kaapstad: Jonathan.         [ Links ]

Gronum, M.A. 1974. Die bittereinders van Junie 1901-Mei 1902. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grundlingh, A.M. 1979. Die Hensoppers en Joiners. Kaapstad: HAUM.         [ Links ]

Jansen, E. en Jonckheere, W. 1999. Boer en Brit. Menlopark: Protea.         [ Links ]

Kestell, J.D. 1902. Met de Boeren-commando's. Amsterdam: Höveker en Wormser.         [ Links ]

Kestell, J.D. en Van Velden, D.E. 1982. Die vredesonderhandelinge tussen die Regerings van die twee Suid-Afrikaanse Republieke en die Verteenwoordigers van die Britse Regering wat uitgeloop het op die Vrede wat op 31 Mei 1902 op Vereeniginggesluit is. (Afrikaanse vertaling deur F.J. le Roux in oorleg met D.J. van Zyl). Kaapstad: Human en Rousseau.         [ Links ]

Loe, E. 1985. To the bitter end. London: Butler & Tanner.         [ Links ]

Nienaber, P.J. 1971. Vader Kestell. n Lewenskets van dr. J.D. Kestell. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Oberholzer, J.J. en Van Schoor, M.C.E. sa. President Steyn aan die Woord. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

Oosthuizen, A.V. 1994. Rebelle van die Stormberge 1899-1902. Pretoria: J.P. van der Walt.         [ Links ]

OVS Volksraadsnotules 1899.

Pakenham, T. 1979. The Boer War. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Pretorius, F. 2001. Die Anglo-Boereoorlog: 'n Oorsig. Pretorius, F. (redakteur), Verskroeide aarde. Kaapstad: Human en Rousseau.         [ Links ]

Pretorius, W. sa. Bittereinders: veggeneraal Piet Retief Viljoen en seuns gedurende die Anglo-Boereoolog. Sl:sn.         [ Links ]

Schoeman, K. 1983. In liefde en trou. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1998. Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2019. Die Bittereinderstandpunt van Pres M.T. Steyn tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 - 'n etiese beoordeling. HTS Teologiese Studies: 75(4) https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5200.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia. https://doi.org/10.18820/9781920382674.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Biografíese Woordeboek (SABW) II, 1972. Kaapstad: Tafelberg/RGN.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J. 1921. Marthinus Theunis Steyn I en II. 'n Lewensbeskrywing. Kaapstad: Nationale Pers.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1992. John DaniëlKestell. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1993. Die Nasionale Vrouemonument. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1997. n Bittereinder aan die woord. Marthinus Theunis Steyn. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 2005. Die Bittereinde Vrede. Vredespogings en -onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Brandfort: Kraal.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 2009. Marthinus Theunis Steyn - regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Volksblad 04:01:2014.

Wessels, F.J.H. 1975. Die struktuur van die tussenstaatlike - 'n normatiewe analise. Wessels, F. (red) Op alsy akkers. Bloemfontein: Sacum, 61-65.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
straussp@ufs.ac.za

Published: 31 Mei 2021

 

 

1 Ten spyte van ander benaminge word hier gebruik gemaak van Anglo-Boereoorlog omdat hierdie oorlog primêr 'n stryd tussen Groot Brittanje aan die een en die twee Boerepublieke naamlik die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep van OVS) aan die ander kant was. 'n Stryd tussen state wat met hulle amptelike houding oor die ZAR-ultimatum op 9 Oktober 1899 aan die begin en die vredesluiting aan die einde, kort voor middernag op 31 Mei 1902, bevestig is. Burgers van ander lande en lede van die swart bevolking in Suider-Afrika was aan weerskante betrokke, maar die inisiatiefnemers was Boer en Brit, die twee Republieke en Brittanje, vgl Jansen en Jonckheere 1999, Boer en Brit -Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boeroeoorlog. In die vredesverdrag wat voor middernag op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is, het Milner "on behalf of the British Government" en Kitchener as "commander-in-chief" geteken, terwyl die Regerings van die ZAR en Rep van OVS as die "acting" regerings van hulle Republieke, geteken het. Daarmee het vredesluiting ook Brittanje se anneksasie van die Rep van OVS op 24 Mei 1900 en die ZAR op 1 September 1900 ontken. Die dokument is van weerskante as 'n vredesverdrag aanvaar en nie 'n oorgawe van die Boere wat die oorlog verloor het en as verslane rebelle teen 'n "wettige" Britse owerheid moes teken nie. Die kwessie van 'n oorgawe was Milner, 'n Britse aartsimperialis, se bewoording, maar hy het nie enduit daarop aangedring nie (Kestell en Van Velden 1982:117; Van Schoor 2005:195,197,199).
2 Volledig aangedui is hierdie werke Gronum, M.A. 1974, Die Bittereinders van Junie 1901 - Mei 1902, Kaapstad, Tafelberg-Uitgewers en Van Schoor, M.C.E 2005, Die Bittereinde Vrede, Brandfort, Kraal-Uitgewers.
3 Aan Boerekant teken bekende bittereinders soos C.R. de Wet, J.B.M. Hertzog, J.H. de la Rey en C.F. Beyers (afgedruk in Kestell en Van Velden 1982:171-173). Blake is egter reg as hy beweer dat ontwikkelinge in die eerste helfte van die 20ste eeu in Afrikanerpolitiek ander bekende bittereinders soos Botha en Smuts as lede van die Suid-Afrikaanse Party of Sappe en later die Verenigde Party by hulle bittereindervolksgenote onder verdenking geplaas het (Blake 2010:261).
4 By die vredesamesprekings te Vereeniging het die 60 verteenwoordigers van die ZAR en Rep van OVS op Saterdag 31 Mei 1902 met 54 teenoor 6 stemme die Britse voorstel vir vrede met 'n "JA" aanvaar. Onder hierdie 54 was bittereinderleiers uit die Vrystaat (die 30 Vrystaters was onder Steyn en De Wet eenparig in hulle nastreef van 'n bittereinde) en Transvaal (waaronder De la Rey, Beyers en Muller), Kestell en Van Velden 1982:168-173. Dit is die Brit Lord Kitchener wat in Mei 1902 oor Steyn sê: "He is head and shoulders above the others and has great influence" (SABW 11:732; Schoeman 1983:32). Kestell lei die begrafnis van Steyn in 1916. Hy noem die oud-president 'n man van God wat tot die wese van dinge kon deurdring. "De Kroon van ons hoofd was hij, en die Kroon is afgevallen"(Van Schoor 1992:250).
5 Tydens die debat van die 60 Boere tussen 15-31 Mei 1902 oor vrede verwys leiersfigure soos Louis Botha, J.C. Smuts en J.H. de la Rey na die vraag of die Republieke nou die einde van die bittereinde bereik het. 'n Erkenning hiervan moet hulle tot 'n aanvaarding van die vredesvoorstel van die Britse Regering lei. Veral De la Rey as 'n gerespekteerde - onder die Boere - bit-tereinder se verwysing na die einde van die bittereinde wat aangebreek het, het effek: onder Transvalers sowel as Vrystaters (Kestell en Van Velden 1982:79,83,135,160). Omdat Steyn se siekte hom plattrek, word die "smart" van die ondertekening van die "vredeskontrak" hom persoonlik gespaar (Jansen en Jonckheere 1999:307).
6 Op die Vrouemonument staan dat 26,370 vroue en kinders in die kampe omgekom het en dat "andere vrouwen en kinderen ...elders tengevolge van den oorlog 1899-1902 zijn bezweken". Dat hierdie "elders" dui op ander Boervroue en -kinders en nie op ander in Suid-Afrika nie, spreek uit die vader van die Monument, M.T. Steyn, se eerste woorde in sy rede by die onthulling van die Monument in 1913: "Hierdie monument... is opgerig as 'n volk se hulde aan die gedagtenis van sy dierbares" (Van Schoor 1993:1,2,6,29. Toespraak van Steyn volledig afgedruk in Van Schoor 1993:29-30).
7 In sy betoog voor die Vrystaatse Volksraad op 22 September 1899 ten gunste van die Rep van OVS se deelname aan die kant van die ZAR in die ABO, praat president Steyn van Brittanje as "die magtigste ryk wat die wêreld ooitgeken het". Daarom is hierdie oorlog teen die Britte nie
8 Op 8 Mei 1896 verklaar die Britse Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain, nog in die Britse Laerhuis dat 'n oorlog wat president Kruger wil dwing om binnelandse hervormings aan te bring, "would be... as immoral as it would be unwise". 'n Jaar later sê hy in dieselfde praathuis die Britse "race... is the greatest governing race the world has ever seen..." Die gesag en invloed van Brittanje "shall be predominant in South Africa"(Van Schoor 2005:77-78). Sonder dat die wereldkundig gemaak word, keur die Britse kabinet egter op 29 September 1899, 10 dae voor die ultimatum van die ZAR dat Brittanje die saamtrek van troepe op sy grense moet staak, 'n ultimatum aan die ZAR goed wat daarop neerkom dat die ZAR sy onafhanklikheid moet prysgee en 'n Britse protektoraat moet word (Van Schoor 2005:87).
9 Louis Botha by Steyn se begrafnis in 1916, toespraak verbatim weergegee in Van der Merwe II 1921:356-357.
10 Grundlingh dui aan dat hierdie "papierbom" en dreigement van Kitchener 'n "geringe" invloed op individuele Boere gehad het (Grundlingh 1979:137).
11 Vgl W. Pretorius sa:11 wat die vrede van die ABO die Vrede van Vereeniging noem.
12 Vgl Kitchener se brief met die Nederlandse nota en Britse antwoord aan waarnemende president Schalk Burger op Maart 1902 en Burger se briefwisseling met president Steyn "Te Velde"(in Kestell en Van Velden 1982:15-29).
13 Van Schoor wys op A.M.S. Methuen wat die Boerevriende in Brittanje op "miljoene" getel en ander dat dit 'n tiende van die Britse bevolking uitgemaak het. "Veral in Ierland en Wallis het die pro-Boere-aksies groot steun geniet" (Van Schoor 2005:89,91).
14 Blake noem die ABO 'n karaktertoets vir die Afrikaner wat deur die bittereindermans en -vroue met hulle "verstommende deursettingsvermoë en opofferings" met "vlleënde vaandels geslaag is, (Blake 2010:267). Vir Kestell is dit "oogvallend" dat die Engelse in Mei 1902 in Pretoria nie hulle "groote begeerte" na vrede kon verberg nie (Kestell 1902:231). Van Schoor verklaar dat die "volhardende en voortslepende verset van die Republieke" - vir die Britte het 'n verwagte 3 maande aangegroei tot 32 - Brittanje tot 'n "meer toegewende vredesluiting" gedwing het (Van Schoor 2005:7).
15 Lord Roberts wou as Britse Opperbevelvoerder met hierdie "vroeë anneksasies" twyfel oor die permanente Britse besetting van die Republieke uit die weg ruim. Die oorgawe van generaal Piet Cronjé met ongeveer 5000 Boere by Paardeberg op 27 Februarie 1900 en die Britse inname van Bloemfontein (13 Maart 1900) en Pretoria (5 Junie 1900) het ook 'n demoraliserende uitwerking op sommige Boere gehad (Grundlingh 1979:18-19, 23).
16 Kestell toon aan dat Botha en De la Rey vir De Wet vroeg Saterdagoggend in sy tent besoek het om te pleit vir eenstemmigheid. Van Schoor sê dat dit ook Botha en Smuts laat Vrydagaand kon gewees het, Van Schoor 2005: 237. Ook op advies van Steyn het De Wet eventueel ingestem en op die beraad aan die hand gegee dat die ZAR en Rep van OVS se afgevaardigdes in die tyd wat Smuts en Hertzog hulle voorstel formuleer, afsonderlik vergader om tot eenstemmigheid te kom. Daarop het die beraad die voorstel met 54-6 aanvaar (Kestell 1902:275).
17 Kestell toon dieselfde aanvoeling of emosionele intelligensie in sy weergawe van sy goeie verhoudings met Steyn en De Wet. Volgens Kestell het hy hulle gerespekteer maar Steyn met sy persoonlikheid liefgehad en De Wet met sy militêre inslag gevrees. Volgens hom, hy het hom stilweg dopgehou, lê DeWet se krag daarin dat hy met niemand intiem is nie, maar met almal vriendelik (Kestell 1902:99-100).
18 Volgens Jansen en Jonckheere 1999:306-307 is die "kontrak" op perkament gedruk met 4 eksemplare: 1 elk vir die Koning van Engeland, Kitchener, die argief in Pretoria en in Bloemfontein.
19 Hierdie woorde as 'n soort konsensus onder leiersfigure in die ZAR en Rep van OVS staan sen-traal op die naald van die Vrouemonument: "Uw wil geschiede", Van Schoor 1993:2.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License