SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.84 número1Validation and the further disclosures of language test design'Self' and 'Other' in Non-Dualistic Vedānta: A Moral Interpretation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Koers

versión On-line ISSN 2304-8557
versión impresa ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.84 no.1 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.19108/koers.84.1.2454 

ORIGINAL RESEARCH

 

Filosofie op Potchefstroom die afgelope eeu (1917-2017) Deel 4: Op die tweesprong?

 

Philosophy at Potchefstroom the past century (1917-2017). Part 4: At the cross-roads?

 

 

Barend van der Walt

Skool vir Filosofie, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Correspondence

 

 


SAMEVATTING

In drie vorige artikels in hierdie tydskrif is die geskiedenis van filosofie op Potchefstroom vanaf die begin van die vorige eeu tot ongeveer 2009 behandel. In hierdie en die volgende bydrae bied die skrywer, weer h vlieg teen die muur, h volgende kyk op die huidige situasie teen die einde van 2017. Soos die subtitel van die huidige artikel aandui, wil dit voorkom asof die Potchefstroomse Christelike filosofie tans voor h tweesprong te staan gekom het. Verskillende redes kan daarvoor aangevoer word, soos die voortgaande sekularisering van die Noordwes-Universiteit (NWU). h Oorsaak vir die verskille binne die Skool vir Filosofie kan moontlik ook daarin gesoek word dat dosente van buite die tradisionele Christelik-Reformatoriese tradisie bygekom het en die denkgemeenskap van meer as h eeu nie deel nie. As een voorbeeld van so h alternatiewe visie sal die akademiese agtergrond, publikasies en standpunt van prof. A.H Verhoef in h laaste (vyfde) bydrae in besonderhede nagegaan word. Die huidige artikel oor die hoofkontoere van h Reformatoriese wysbegeerte dien as agtergrond waarteen die filosofiese teologie van Verhoef in die slotartikel analiseer en evalueer sal word

Trefwoorde: Christelik-Reformatoriese denke; filosofie; ontologiese monisme en dualisme; Noordwes-Universiteit; postmodernisme, Potchefstroomkampus; sekularisasie.


ABSTRACT

Three previous articles in this journal reviewed the history of philosophy at Potchefstroom from the beginning of the previous century up to about 2009. In this and the next, contribution the writer, acting again as a fly on the wall, provides a peephole on the current situation at the end of 2017. As the subtitle suggests, it seems that Christian philosophy at Potchefstroom has arrived at the cross-roads. Different reasons, like the on-going secularisation of the North-West University have contributed to the situation. A cause for differences within the School of Philosophy may also be that lecturers from outside the tradition of a Reformational approach are critical about the traditional Christian philosophical approach of more than a century. Since his viewpoint is one clear example of such an alternative approach the academic training, publications and viewpoint of Prof Anné H. Verhoef will be investigated in detail in a last (fifth) contribution. The present article about the main contours of a Reformational approach in philosophy serves as a necessary background from which the philosophical theology of Verhoef will be analysed and evaluated in the conclusion of this series

Key concepts: Christian-Reformational thinking; ontological monism and dualism; North-West University; philosophy; postmodernism; Potchefstroom Campus; secularisation


 

 

1. Inleiding: die probleem

In drie vorige aflewerings is die geskiedenis vanaf die begin van die vorige eeu tot ongeveer 2009 weergegee toe prof Michael Heyns as direkteur van die Skool vir Filosofie aangestel is (vgl. Van der Walt, 2017c, 2018a en 2018b). Hierdie artikel volg die spoor vanaf 2010 tot einde 2017 en begin 2018.

Soos die subtitel van hierdie vierde bydrae suggereer, het die skrywer die indruk dat filosofie as gevolg van die sekularisering van die NWU, maar ook as gevolg van interne prinsipiële verskille tussen die dosente en studente in die Skool vir Filosofie op Potchefstroom, tans waarskynlik op 'n tweesprong aangekom het. Die skrywer wil probeer om duidelikheid oor hierdie situasie te vind.

Tot ongeveer die einde van die eerste dekade van die 21ste eeu was daar min of meer eenstemmigheid onder dosente in die skool dat vanuit 'n integraal-Christelike perspektief gefilosofeer kan word. Die situasie het gedurende die tweede dekade van hierdie eeu verander.

Twee moontlike redes kan daarvoor aangevoer word - eerstens die algemene sekularisering ook van die Potchefstroomkampus van die Noord-Wes Universiteit en tweedens meer spesifiek die aanstelling van dosente wat nie so 'n Christelik-Reformatoriese benadering in hulle beoefening van die wysbegeerte toegedaan is nie.

Hierdie bydrae gee slegs kortliks aandag aan eersgenoemde faktor. Daarna fokus dit op die hoofmomente van 'n Bybels-begronde Christelike werklikheidsvisie. Enersyds omdat dit nog nie so eksplisiet in die voorafgaande drie artikels behandel kon word nie. Maar andersyds ook as agtergrond waarteen prof. Verhoef se alternatiewe filosofie en teologie duideliker verstaan en beoordeel kan word.

 

2. Die situasie by die Universiteit as breër agtergrond

Die eenwording van Potchefstroom- en die Vaaldriehoekkampusse met die vroeëre Universiteit van Bophuthatswana het veel meer behels as net n organisatoriese samesmelting. Die Puk het sy Christelik-georiënteerde karakter geleidelik verloor en word vandag deur baie as 'n religieus-sekulêre instelling beskou.1

2.1 Onnodige verlies

Dié wesentlike verandering word dikwels, myns insiens, te gemaklik toegeskryf aan slegs die onvermydelike politieke druk van die nuwe ANC-regering. Daar word egter vergeet dat die Puk homself oor 'n tydperk ook van binne gesekulariseer het (in Van der Walt, 2014a, 2014b en 2015a breedvoerig beskrywe). Baie dosente het ook weinig begrip gehad vir wat n Christelike beoefening van hulle wetenskap beteken en was bereid om met die sekulariserende stroom saam te swem. Protes daarteen is geïgnoreer.

Volgens n internasionaal-erkende kundige oor konstitusionele wetgewing, Van der Vyver (2000:11) van die VSA was daar egter ten minste twee redes waarom die Puk nie verplig was om 'n neutrale instelling te word nie: (1) Dit was 'n statutêre liggaam en (2) en het lankal bestaan voordat die nuwe SA Konstitusie (1996) aanvaar is. In 'n vorige artikel (Van der Vyver, 1999) het hy ook reeds genoem dat die Puk nie sy Christelike karakter hoef prys te gee nie, aangesien ons Grondwet nie (soos bv. in die VSA), vyandig teenoor enige religie is nie, maar religieus-neutraal is.

2.2 Die reg van h Christelike benadering

Daar bestaan ook niks in die SA Grondwet, of die Handves van Menseregte, of die NWU se New Strategy Structure Statute (van 2017) wat personeel of studente sou verbied om 'n eie, in casu Christelike standpunt te huldig en dit sonder diskriminasie of marginalisasie in kantoor, klaskamer en publikasies te verwoord nie. Inteendeel, daarin staan uitdruklik dat die Universiteit diversiteit tussen studente en personeel wil bevorder (p. 6). Ook onder die waardes wat die NWU voorstaan, word eksplisiet akademiese vryheid en vryheid van navorsing genoem (p. 7).

As gevolg van die verdwyning van die gewetensklousule en die reg om by die onderhoude vir nuwe poste by kandidate navraag te doen oor hulle geloofsoortuigings en houding teenoor 'n Christelike benadering, is egter geleidelik dosente van ander oortuigings benoem, wat nie meer simpatiek teenoor die ou tradisie op die eertydse Puk in die algemeen of filosofie in besonder staan nie. Dit sluit ook diegene in wat persoonlik wel 'n Christelike geloof aanhang, maar van oortuiging is dat iets soos Christelike wetenskapsbeoefening nie belangrik of nie moontlik is nie.

2.3 Die privaat-publiek dualisme

So 'n eeue-oue dualistiese visie tussen 'n heilige (Christelike) en sekulêre (neutrale) terrein is vandag versterk deur n net so dualistiese samelewingsbeskouing wat n skeiding tussen private en openbare lewensterreine maak. Op eersgenoemde gebied van byvoorbeeld die gesins- en kerklike lewe kan n bepaalde geloofsoortuiging nog geduld word, maar op laasgenoemde terrein (die sg. openbare), soos byvoorbeeld op politieke en onderwysgebiede, hoort dit nie tuis nie (vgl. Van Belle, 2018:21-22).

Taylor (2007:25) stel die vraag hoe dit byvoorbeeld 500 jaar gelede nog ondenkbaar was dat 'n mens nie in God sou glo nie, maar dat dit in 2000 nie alleen maklik is nie maar blykbaar 'n onontkombare standpunt geword het. Van Belle (2018:7 e.v.) verduidelik vanuit 'n Christelik-Reformatoriese hoek wat intussen in die Westerse denke gebeur het dat laasgenoemde standpunt moontlik en aanvaarbaar geword het.

2.4 Postmodernistiese invloede

Die postmodernisme het verder 'n sekulariserende invloed op veral sekere fakulteite by die NWU. Na die mislukking van die modernisme of rasionalisme se vertroue op 'n vermeende outonome menslike rede het die irrasionalistiese postmoderniste opgegee om verder enige normatiewe vastigheid te soek deur eenvoudig elke standpunt as ewe waar te beskou. Daar bestaan soveel werklikhede, waarhede en waardes as wat daar mense is wat hulle konstrueer.2

2.4.1 Onuithoubare relativisme, skeptisisme en solipsisme

'n Kenmerk van allerlei variasies van links tot regs onder postmodernistiese denkers is dus hulle relativisme. Selfs n mens se diepste religieuse oortuiginge mag nie as werklik waar beskou word nie. Hulle glo (LW) dat alle sosiale, ekonomiese, politieke, etiese, akademiese en religieuse waarhede en waardes betreklik is. Elke mens se lewensrigting word (subjektivisties) bepaal deur wat hy/sy as individu as waardevol beskou of volgens die wisselende tye, omstandighede, godsdienstige oortuigings en kulture waarin hy lewe. Elke geloof of standpunt is - waar of vals - so goed soos 'n ander.

Die postmodernistiese relativisme is eintlik niks nuuts onder die son nie, want die voorbodes daarvan vind 'n mens reeds in die skeptisisme, solipsisme en eklektisisme van die Grieks-Hellenistiese filosofieë (vgl. Vollenhoven, 2005c:366 en 367, 387 en 123).

Skeptisisme of twyfelsug beteken onsekerheid oor die waarheid van 'n bepaalde bewering. Soms slegs weens die metode wat gevolg word, maar dit kan ook dieper gaan deur selfs die kenbaarheid van iets wat bestaan te ontken. 'n Implikasie is dat enige kritiek as afbrekend beskou word. Die skeptisis skiet homself egter in sy eie voet as hy beweer dat hyself die waarheid praat wanneer hy aanneem dat geen waarheid kan bestaan nie.

Solipsisme (van die Latyn solus = alleen + ipse = self) is 'n sterk individualistiese denkwyse wat glo dat al die kenbare dinge, die medemens ingesluit, slegs in jou eie bewussyn bestaan, beperk is tot jou eie self.

Eklektisisme (van die Grieks elegein = uitkies) dui daarop dat 'n denker nie selfstandig volgens eie oortuiging dink nie, maar uit verskillende heersende en gewilde denksisteme dit wat vir hom as waar voorkom, uitkies en tot 'n geheel probeer saamvoeg. (Meer oor hierdie metode volg onder 4.8 hieronder.)

Vir die meeste mense is al hierdie vorme van relativisme op die lang duur egter onuithoubaar, omdat dit eklekties, glibberig, onduidelik, verwarrend, koersloos, skepties, sinies, en uiteindelik nihilisties is. In die praktyk lei dit tot radikale onsekerheid, besluitloosheid, normloosheid, immoraliteit en sinloosheid.

Talle skrywers wys dan ook vandag op 'n nuwe post-postmodernistiese tendens, die ontwaking van allerlei soorte radikale en selfs gewelddadige ideologieë en godsdienstige oortuigings3 - duidelike reaksies op die postmoderne relativistiese "geloof".

2.4.2 h Standpuntlose standpunt

Agter die sogenaamde ruimdenkende verdraagsaamheid of openheid van irrasionalistiese postmoderniste kan 'n verdere vraagteken geplaas word. Hulle kan net so min neutraal wees as wat die voorafgaande rasionalistiese moderniste kon wees.

So 'n standpunt is - dit is die ironie daarvan - selfondermynend. 'n Mens kan net (soos alreeds deur Descartes probeer) alles bevraagteken in terme van iets wat jy nie bevraagteken nie. As alle ander standpunte relatief is, sluit dit ook die stelling "alles is relatief" in. 'n Konsekwente relativis - 'n onmoontlike posisie - laat 'n mens dink aan iemand wat op 'n tak in 'n boom sit en die tak onder hom afsaag. As alle ander standpunte onseker is, is ook sy eie standpunt (dat alles onseker is) net so onseker! Konsekwente relativisme is 'n onmoontlikheid omdat dit enigiets werklik waar verwerp, terwyl dit self n absolute posisie inneem, naamlik dat die enigste waarheid is dat daar geen waarheid kan bestaan nie (vgl. Tarnas, 1991:402). Ou (rasionalistiese) absolutisme - 'n groot gevaar - word met 'n nuwe (irrasionalistiese) absolutisme beveg!

2.4.3 Onverdraagsame verdraagsaamheid

Postmoderniste staan bekend vir hulle intoleransie teenoor enige ander vorm van intoleransie. Indien hierdie soort denke konsekwent wou wees, sou dit dus enige standpunt - 'n Christelike ingesluit - moes erken en respekteer, ingesluit die reg om dit in die openbaar bekend te maak en te verdedig. Dit gebeur meestal nie. Veral radikale postmoderniste se toleransie is dikwels net n rookskerm vir intoleransie - n stryd vir hul standpuntlose standpunt.

Met sulke denkers, wat meestal ook eklekties dink, maar self nie 'n duidelike eie standpunt het nie, is kommunikasie en diskussie moeilik. Dikwels ontaard dit net in n skynvertoning waarin daar nie die openheid bestaan om na n gespreksgenoot te luister nie. "Dit is jou standpunt en dit is myne" en daarmee is enige verdere diskussie afgesluit

 

3. Die huidige situasie in die Skool vir Filosofie

In die vorige artikels het die skrywer hom as slegs n belangstellende vliegie teen die muur bekendgestel, wat nie Potchefstroomse kopstukke uit die geskiedenis se filosofieë - en veral nie hulle as persone - wou beoordeel nie. Tans moet die vliegie erken dat hy nie langer 'n neutrale toeskouer kan bly nie. Hy voel hom verplig om as die verdediger van 'n ryk tradisie, wat moontlik onder druk verkeer, op te tree.

Hy doen dit nie net namens baie wat vir meer as 'n eeu en met toewyding en opofferings aan 'n lang en kosbare tradisie van 'n philosophia Christiana probeer bou het nie. Of nie bloot omdat hyself die afgelope sestig jaar soveel daaraan te danke het en nou daarby betrokke was nie.

Hy doen dit ook namens huidige en toekomstige dosente en studente. Vir hom is n philosophari in Christo nie net 'n interne aangeleentheid, wat die Skool vir Filosofie maar self moet hanteer nie. Dit raak baie meer mense - van die verlede, die hede, die toekoms. Selfs ook buite Potchefstroom, aangesien dit die enigste kampus in die land is waar so n Christelike wysbegeerte nog te vinde is.

3.1 n Eeu-oue denkgemeenskap onder druk

Soos uit die voorafgaande drie artikels in hierdie reeks geblyk het, is dwarsdeur die geskiedenis van filosofie op Potchefstroom altyd 'n "perd" (filosoof) uit die eie "stal" (tradisie) as dosent en later departementshoof aangestel. Ten spyte van verskille oor detail filosofiese probleme, het almal van hulle die ideaal van 'n Christelike benadering tot die wetenskap in die algemeen en filosofie in besonder gedeel, 'n denkgemeenskap gevorm.

So 'n skoolvorming, veral in 'n vak soos filosofie, is nie iets buitengewoons of nuut nie, maar 'n normale verskynsel. 'n Mens vind dit al in die antieke Griekse denke en daarna dwarsdeur die Westerse denke (vgl. Kok, 1996:182). Dit hoef ook nie negatief beoordeel te word nie, soos byvoorbeeld dat dit noodwendig engheid van denke (filosofiese inteling genoem) tot gevolg sou hê nie. Dit kan ook n inspirasie wees om die implikasies van n belowende tradisie verder te myn (vgl. Van der Walt, 2014c:48-49).

3.2 Filosofie tans op n tweesprong

Hierdie eeu-oue Reformatoriese tradisie het egter die afgelope paar jaar onder druk gekom. Sedert 2016 hoor en lees hierdie vlieg van onderlinge paradigmatiese verskille oor basiese vertrekpunte in die filosofie. Nie alle dosente en (nagraadse) studente wil hulle meer assosieer met 'n Reformatoriese of selfs net 'n Christelike perspektief in die filosofie nie. Die aanvanklike oplossing (teen die einde van 2016) was 'n de facto erkenning van pluralisme in die verskillende modules en selfs strukture. Maar dit het blykbaar nie die spanning gedurende 2017 verlig nie.

3.3 Op soek na die grondliggende oorsake

Wanneer die vlieg hier die moontlike redes vir die huidige kloof probeer opspoor, word op moontlike dieperliggende religieusbepaalde filosofiese oortuigings gefokus.

Soos reeds in die vorige (derde) bydrae genoem, was prof Heyns vanaf 2009 direkteur van die Skool vir Filosofie. 'n Jaar later word dr Anné Verhoef as senior lektor aangestel en (in 2014) tot medeprofessor bevorder. Aangesien Heyns se filosofiese instelling ('n integraal-Reformatoriese) reeds in die vorige aflewering genoem is, sal die fokus in die hieropvolgende artikel op dié van Verhoef val. Is die feit dat hy ander lewensbeskoulike vertrekpunte huldig en dus 'n andersoortige teologie en filosofie voorstaan, nie moontlik ook 'n rede vir die huidige onsekerheid oor die koers in die Skool vir Filosofie nie?

3.4 Aanpak en bedoeling

Om op hierdie vraag 'n antwoord te vind, sal in wat volg eers die skrywer se eie Reformatoriese filosofiese "kaarte" (religieuse en ontologiese uitgangspunte) op tafel gelê word.4 Eers daarna sal Verhoef se standpunt, soos uit sy publikasies afgelei, in 'n volgende bydrae aan die orde kan kom om die verskil daarvan met n Reformatoriese benadering aan te toon. Hierdie teties-kritiese metode word verkies aangesien die skrywer se analise van Verhoef se visie dan eers duidelik sal wees.

Vooraf moet egter uitdruklik gesê word dat dit my hierin nie om Verhoef as persoon sal gaan nie. Ek het groot respek en waardering vir sy ywer, hardwerkendheid en produktiwiteit. Hy is daarin 'n voorbeeld vir baie. Dit gaan my hierin om grondliggende standpuntverskille, wat ek op skrif die beste kan verwoord. Maar met die vertroue dat dit tot indringende gesprekke binne die Skool vir Filosofie mag lei.

Nadat die breëre lewensbeskoulike verskuiwing van die NWU en die huidige situasie in die Skool vir Filosofie geskets is, word nou tot die hoofdis oorgegaan.

 

4. Die hoofkontoere van h Christelik-Reformatoriese religieuse ingesteldheid en werklikheidsleer (ontologie)

Soos reeds genoem, dien die volgende uiteensetting n dubbele doel. Eerstens dien dit as belangrike aanvulling vir n leemte in die drie vorige artikels waarin lengtebeperkings dit nie toegelaat het om eksplisiet genoeg aan te dui wat n Reformatoriese benadering inhou nie. In die tweede plek bied dit die noodsaaklike tetiese agtergrond om in n slotbydrae die verskil duidelik te maak tussen 'n Reformatoriese filosofie en dié van Verhoef.

4.1 Religieuse vertrekpunte

'n Reformatoriese filosofie is gegrond op die diep religieuse oortuiging dat God se drievoudige openbaring (in sy skepping, die Skrif en finaal in Christus) dié lig en rigting vir die hele lewe bied en ook dié finale maatstaf vir 'n Christen se wysgerige werk behoort te wees. Daarom is neutraliteit onmoontlik (vgl. Clouser, 2005:121-122).

Dikwels word veronderstel dat die Skrif slegs die veld van ondersoek vir die teologie sou wees. In die lig hiervan word dan die aantyging gemaak dat 'n Reformatoriese filosofie niks anders sou wees nie as n vermomde of baster teologie. Vir n Christenwetenskaplike behoort enige wetenskap egter met die Skrif rekening te hou.

'n Reformatoriese filosofie is ook nie biblisties-fundamentalisties gegrond op geïsoleerde Bybeltekste nie. Dit gaan van breë voorwetenskaplike Skrifperspektiewe (soos skepping, sondeval, verlossing en voleinding) uit om in die lig daarvan wetenskaplik oor die kosmiese werklikheid te besin.

God se Skrifopenbaring is vir 'n Reformatoriese filosofie dus nie, naas baie ander bronne, net nog n handboek waaruit sekere data geabstraheer en tot n sisteem uitgebou kan word nie. Nee, dit is 'n krag wat gelowige denkers diep in die hart aangryp, dié lig waarbinne elke wetenskap beoefen moet word.

Verder is elke mens volgens hierdie lewensvisie en filosofie daarop gebou 'n religieuse wese wat nie anders kan nie as om in alles wat hy dink en doen óf in gehoorsaamheid óf in ongehoorsaamheid op al God se verordeninge (saamgevat in sy gebod van liefde tot Hom en sy skepping) te antwoord.

So n standpunt kan dus nie vrede daarmee hê as enige Christen sy lewe in twee terreine of ryke probeer verdeel nie. Die een gebied, die sogenaamde bonatuurlike, geestelike of religieuse, sou die terrein wees waarop God gehoorsaam en gedien moet word. Die ander gebied, meestal die grootste, 'n sogenaamde natuurlike, sekulêre en neutrale, sou egter niks met jou geloof te make hê nie.

Nee, n integrale in plaas van so 'n gesplete Christelike benadering beskou elke aspek van die lewe - filosofie en nadenke ingesluit - as religie, diens aan God.

So n filosofie wil, in Bybelse taal gestel, ook nie gelei word deur allerlei gangbare verdigsels en fabels nie (1 Tim. 1:4 en 4:7; 2 Tim. 4:4 en 2 Pet. 1:16) of deur onbybelse filosofiese idees mislei word nie (Kol. 2:8,10). Dit poog om elke gedagte gevange te neem en aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor. 10:5c). Reformatories streef dit krities na die vernuwing van die denke (Ef. 4:23). Wanneer dit gebeur, kan ook onderskei word wat die wil van God is (Rom. 12:2). Ook al is dit hoe feilbaar, streef dit daarna om God en sy skepping lief te hê, nie net met die hele hart nie, maar ook die verstand (1 Matt. 22:37).

4.2 Ontiese vertrekpunte

In die lig van God se Skrifopenbaring gaan 'n Reformatories-filosofiese ontologie (werklikheidsbeskouing) nie monisties uit van net een realiteit (waarvolgens God en kosmos sou saamval) of dualisties uit van net twee werklikhede (net God en kosmos) nie. Dit tref 'n duidelike onderskeid - nie skeiding nie - tussen drie werklikhede, naamlik God, sy skepping en sy wette of verordeninge wat daarvoor geld. Alreeds volgens die eerste Bybelvers het God in die begin die hemel en aarde geskep, waarvoor Hy (vgl. die talle plekke daaroor in die res van die Skrif) duidelike verordeninge gestel het. So byvoorbeeld in Psalm 148 waarin alles wat bestaan opgeroep word om die Here te prys, nie net omdat Hy dit geskep het nie, maar omdat Hy vir dit alles ook sy orde neergelê het (vers 6).

God is nie 'n God van chaos nie, maar van orde. Sy wil is die grond van die kosmiese orde. Christelike denkers soek na die godgegewe orde waarbinne alles kan floreer.

Dit is die antwoorde wat 'n werklik Reformatoriese filosofie in die lig van God se openbaring in die Skrif op die volgende grondvrae bied, naamlik (1) Wie is die Skepper? (2) Wat het Hy in verhouding tot Hom geskep? (3) Wat is die grens wat dit wat geskape is van die Skepper onderskei? (vgl. Vollenhoven, 2005a:14-15; Kok, 1996:183 en Tol, 2010:381 e.v.).

Behalwe 'n religieuse band tussen God en die skepping, handhaaf so 'n Bybels- begronde drie-faktor ontologie - anders as in bogenoemde een- of tweefaktor ontologieë - die radikale ontiese onderskeid tussen die drie werklikhede, God, sy skepping en sy orde vir die skepping.

4.3 Monistiese werklikheidsvisies

In 'n een-faktor of monistiese ontologie (veral populêr vanaf die helfte van die vorige eeu) val die klem op die eenheid van alles. Word, soos in die sekulêre denke, God en sy verordeninge se bestaan ontken, bly net hierdie sigbare werklikheid oor.

In die geval van veral Christelik-gekleurde monistiese werklikheidsvisies word God en die werklikheid egter dikwels as twee divergensies uit die eenheid beskou. Skematies kan dit voorgestel word met n kol (wat die oorsprongseenheid voorstel), met daaruit n lyn na bo en n lyn na onder (wat die hoëre en laere afsplitsings uit die eenheid aandui) (Vollenhoven, 2011:272).

Maar uiteindelik is die oorspronklike eenheid tog die belangrikste en moet die voorlopige tweeheid weer tot een syn of (soos in die prosesteologie) gebeure terugkeer en saamsmelt. Dié proses mag verskillende gevolge hê: óf pankosmisme (alles is kosmies), óf panteïsme (alles is goddelik), óf 'n meer hedendaagse standpunt, naamlik panenteïsme (alles gaan in die godheid op).

Dit is egter onbybels om 'n (ontiese) deel-geheel skema te gebruik om die verhouding tussen die ware God van die Skrifte en sy skepping te verstaan.

Die probleem word nog vergroot deurdat vir God se fundamentele liefdesgebod en sy skeppingsordeninge - terwyl hulle die normatiewe riglyne vir die religieuse verhouding tussen God en mens is - geen plek in so 'n monistiese ontologie is nie. Al wat oorbly, is om subjektivisties in die kosmos (m.a.w. in die aan die wet onderworpe kosmiese dinge) normatiewe riglyne te soek. Wat is word dan ook wat behoort te wees. 'n Ander opsie is om die normatiewe koers vir die menslike lewe na die toekoms te verplaas.

4.4 Dualistiese ontologieë

Terwyl 'n monistiese, een-faktor ontologie probleme ondervind met die veelheid, staan 'n dualistiese, twee-faktor werklikheidsbeskouing (vroeër algemeen by Christendenkers) voor die vraag hoe die eenheid (of verhouding) tussen die tweeheid van 'n godheid/God (die transendente genoem) en die skepping (die nie-transendente) verstaan moet word. Drie antwoorde - waarvan nie een werklik n oplossing bied nie omdat die basiese ontologiese vertrekpunt verkeerd is - kan vir die probleem gegee word (vgl. Kok, 1996:9-10).

Alle klem word op God se transendensie gelê - sodat Hy 'n vêraf, onbetrokke God word, wat (dalk) af en toe nog in die skepping ingryp - deïsme genoem. 'n Tweede antwoord plaas die aksent op sy immanensie in die skepping met die gevolg dat Hy nie meer van die skepping onderskei word nie - panteïsme genoem. 'n Derde poging probeer die prekêre balans tussen die twee onbybelse opsies handhaaf - teïsme genoem.

Omdat n twee-faktor denkwyse meestal ook nie die selfstandige bestaan van God se wet erken nie, maar 'n mens ook nie sonder normatiewe riglyne vir die lewe kan leef nie, skipper dit gewoonlik tussen 'n dubbele normatiwiteit. Soms word aanvaar dat die koers vir die lewe transendent, van bo kom, vertikaal in God geplaas word. Dan weer (soortgelyk aan n monistiese ontologie) moet normatiewe rigting immanent, van onder, horisontaal in iets van die skepping gevind word. Volgens die historisme byvoorbeeld in die historiese ontwikkeling. Dikwels gaan die normatiewe koers op in 'n onduidelike dialektiese spanning tussen die twee pole.

Wat tot sover geskryf is, is van groot belang om (in die volgende artikel) ook Verhoef se teo-ontologie te probeer verstaan. Hy huiwer (a.g.v. tradisionele Christelike oortuigings?) blykbaar soms nog by 'n twee-faktor-teologie. Maar (a.g.v. sy aanleun teen monistiese denkwyses tans in swang), beweeg hy steeds meer na 'n een-faktor teo-ontologie met al die implikasies daarvan.

4.5 n Reformatoriese werklikheidsvisie verder uitgespel

By genoemde basiese ontologiese vertrekpunte van n Reformatoriese ontologie volg nou verskillende verduidelikende opmerkings om moontlike misverstande daaroor (moontlik ook by Verhoef) te voorkom.

In die heel eerste plek mag 'n werklik Reformatoriese filosofie nie minder of meer oor God sê as wat Hy self in sy Woord oor Homself openbaar het nie. Die Skrif leer duidelik dat Hy 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie (1 Tim. 6:16). Dit geld veral die teologie (wat letterlik "wetenskap oor God" beteken en dikwels in dié gees ook beoefen word) omdat God nooit, soos sy skepping, die objek van wetenskaplike analise of spekulasie kan en mag wees nie. Ons kan Hom slegs op voorwetenskaplike wyse in die geloof ken. Kok (1996:108) skryf teenoor allerlei pogings van 'n (natuurlike) teologie:

... we cannot reason and philosophize about God, nor ever fathom his essence: we can only worship him...we must reject the accessibility of God by means of logical argument. God is not the object of logical analysis. God is our Father to whom we come through Jesus Christ.

Vollenhoven stel dit ook duidelik (vgl. Tol, 2010:482) dat, hoewel hy as Christendenker die bestaan van God in sy werklikheidsbeskouing of ontologie insluit, dit geensins impliseer dat hy God se "syn" of "wese" wetenskaplik filosofies of teologies wil of kan navors, deurgrond, daaroor spekuleer of dit uitpluis nie. Die teendeel is waar: God ondersoek ons!

Janse (1982:27 e.v.) skryf tereg dat die Westerse denke met geen ander term willekeuriger omgegaan het as met die begrip "god" nie. Dit het teologieë en filosofieë opgelewer wat god as objek of ding sou analiseer. Sulke wilde spekulasies wat óf meer óf minder oor God sê as wat Hy in sy Woord oor homself openbaar, is 'n ernstige oortreding van sy eerste twee gebooie. (Lees maar weer die bekende Jesaja 40 waarin God die vraag stel waarmee mense Hom probeer vergelyk, terwyl Hy totaal anders as enige mensgemaakte afgod is.) Tot Hom nader 'n mens dus sonder skoene aan jou voete (Eks. 3:5) en jy dink oor Hom met groot ontsag en diepe eerbied (Job 37:22, Jes. 29:23).

Die mens staan in 'n religieuse verbondsverhouding tot Hom. Van hierdie relasie is Hy die Inisieerder en die mens die ontvanger wat in liefde op sy verbond moet antwoord.

So 'n standpunt (wat God as die objek van filosofie uitsluit) maak 'n Reformatoriese filosofie geensins ateïsties nie. Die teendeel is die geval. So 'n filosofie dien God solank dit die grens erken en eerbiedig wat Hy tussen Hom en sy skepping en die mens se denke stel. (Vgl. verder Strauss, 1990 oor hoe wel op n verantwoorde wetenskaplike wyse oor God gepraat mag word.)

Om God te kan ken, openbaar Hy homself aan die mens. Om as mense iets oor Hom te kan verstaan, doen Hy dit in kosmiese terme, sodat ons byvoorbeeld praat van sy Drie-Eenheid, oneindigheid, ewigheid en van God as Vader (n man). Dit beteken hoegenaamd nie dat aards-menslike kategorieë soos getal, die ruimtelike, tydelike, geslagtelikheid en nog meer op Hom van toepassing sou wees nie. Sy Woord leer baie duidelik die radikale verskil tussen God en sy skepping.

Omdat aardse kategorieë nie op die God van die Bybel van toepassing is nie - Hy is die ewige (Ps. 90:2b), ondeurgrondelike (Ps. 145:3), radikaal anders as sy skepping - kan Hy ook nou by sy skepping betrokke wees sonder dat Hy as ontologies immanent, 'n deel van die skepping beskou hoef te word.

Omdat God verder die absoluut Soewereine Wetgewer oor sy hele skepping is, word ook die idee afgewys dat God se wet ook vir Homself sou geld, Hy daaraan onderworpe sou wees. Hy is nie daaraan ondergeskik nie, maar wel daaraan getrou, bly dit handhaaf en seën en straf ook daarvolgens. Van Calvyn bestaan alreeds die bekende uitspraak Deus legibus solutus est (God is nie aan sy wet onderworpe nie) en sed non exlex (God staan egter ook nie buite sy wet nie, Hy bly daaraan getrou).

Die verhouding tussen God en sy skepping mag nie as onties van aard beskou word nie - dit is nie (soos reeds beklemtoon) 'n synsrelasie van ontiese aard nie, maar 'n (religieuse) verbondsverhouding. (Slaan gerus 'n Bybel-konkordansie na waarvolgens talle gedeeltes deur die hele Skrif hierdie verbondsverhouding beklemtoon.)

Omdat "verskil" nie dieselfde as "grens" beteken nie, word met God se wet as grens nie volledig die verskil tussen God en sy skepping weergegee nie. So byvoorbeeld Skepper en skepping, ewig en tydelik, oneindig en eindig.

Verder is die wet of God se verordeninge vir sy skepping nie kosmiese dinge van byvoorbeeld fisiese of ruimtelike of tydelike aard nie.

Anders as in die geval van die realis, Plato, wie se idees blote voorbeelde was, is die bestaanswyse of aard van God se wet dat dit vir die geskape werklikheid geld.

Teenoor alle soorte subjektivisme (wat die normatiewe riglyne in iets binne die skepping self soek) of futuristiese eskatologieë (wat hulle na die toe-koms verplaas) staan die wet (in gebrekkige ruimtelike terme gestel) "buite" en "bo" die subjekte waarvoor dit geld.

God se wet is nie dieselfde as reëlmaat nie. Reëlmaat is prosesse wat God se verordeninge weerspieël.

Wat die wet as grens - en normatiewe band - tussen God en die kosmos betref, moet om verdere misverstande daaroor te vermy, ook opgemerk word dat God se orde wel die geskapene van God onderskei, sodat die skepping of iets daarin nie as goddelik beskou kan word nie, maar nie God van die kosmos afgrens of skei nie. Dit sou in teëspraak wees met wat sy Woord duidelik leer, naamlik dat die alomteenwoordige, almagtige Verbondsgod (vgl. bv. Gen. 17:1 en 35:11) in die kosmos werksaam is. Absoluut niks kan Hom daarin verhinder nie.

Verder moet (soos terloops reeds genoem) in gedagte gehou word dat die wet as grens (net soos ook God) nie ruimtelik verstaan mag word nie. Ruimtelikheid is 'n kenmerk van die geskape werklikheid, sodat die wet nie 'n ruimtelike skeiding tussen God en sy skepping kan wees nie.

Die Soewereine God se verordeninge geld vir alles in sy skepping. Dit im-pliseer egter nie dat die mens se vryheid en verantwoordelikheid daarmee opgehef word nie. Inteendeel, dit is God se "gebruiksaanwysings" tot ware vryheid en volle verantwoordelikheid. Daarom word in byvoorbeeld Psalm 19 en ook op talle ander plekke in Skrif oor die woorde, onderwysings, bevele, gebooie, eise en bepalings - almal woorde wat op sy skeppingsor-deninge dui - gesing en God daarvoor geprys dat Hy daarmee vir die mens duidelik die regte koers aandui. Die feit dat sy verordeninge deur die mens oortree kan word, impliseer ook allermins dat hulle daardeur opgehef kan word.

In die geval van die ryke van stof, plant en dier geld God se skeppingsor-deninge sonder meer, terwyl die meeste van hulle in die geval van die mens ook n vergende karakter het. Mense is as verantwoordelike wesens geskep van wie God 'n antwoord op sy gebooie verwag. Hulle kan (na die sondeval) in óf gehoorsaamheid óf ongehoorsaamheid reageer op God se verordeninge vir hoe hulle behoort te dink en te lewe. In eersgenoemde geval kom wat goed is tot stand, in laasgenoemde word die kwaad gerealiseer.

4.6 God se drievoudige openbaring as die normatiewe rigting vir Reformatoriese denke

Tot sover is 'n Reformatoriese filosofie se antwoord gegee op die vraag wat is of wat bestaan: God, sy skepping en sy wette daarvoor. Om die bestaan van laasgenoemde (sy riglyne) te erken, is in die lig van die postmodernisme se relativisme (soos hierbo by 2.4 beskrywe) van groot belang. Want bloot om te erken dat God se verordeninge 'n werklikheid is, beantwoord naas 'n eerste fundamentele vrag oor wat is ook 'n tweede, net so belangrike vraag, naamlik wat die regte rigting of koers van die mens se lewe behoort te wees.

Hierbo is, terloops, God se drievoudige openbaring genoem. Daaroor, as algemene rigtingwyser, word nou iets meer gesê om in die lig daarvan in meer besonderhede oor sy skeppingsorde as koersaanwysing te besin.

Vooraf moet gestel word dat dit één drievoudige en nie drie verskillende openbarings is nie. n Mens moet dit slegs as verskillende wyses van God se voortgesette gesprek met die mensheid beskou.

Eerstens is daar God se skeppingsopenbaring. (Ek verkies hierdie term in plaas van die teologiese term "algemene openbaring" omdat God se skeppingsopenbaring ook besonder is.) Hierdie bekendstelling van God vind deur sy werke, sy skepping plaas. In beginsel behoort dit vir elke mens daaruit duidelik te wees dat God die almagtige Skepper en Wetgewer is (vgl. Rom. 1:20). Weens ons sondeverlorenheid het ons egter doof geword, sodat ons sy "stem sonder woorde" wat daarvan uitgaan nie meer hoor nie (Psalm 19:4), dit doelbewus onderdruk (Rom. 1:18) en met allerlei afgode vervang (vers 23).

n Reformatoriese filosofie neem sy uitgangspunte nie net in die trits van sondeval, verlossing en dankbaarheid nie. Dit lê ook klem op die skepping en dan nie net in die sin van die ontstaan van alles nie. Dit wil die bestaande skepping bestudeer in die lig van God se Skrifgeworde openbaring - 'n tweede manier waarop Hy Homself en sy verordeninge aan ons bekendstel.

Omdat ons sondige mense so doof en blind is vir God se skeppingsopenbaring "herpubliseer" Hy sy riglyne vir sy skepping in sy Skrifgeworde openbaring. Vir die mens word sy wil saamgevat in die dubbelgebod van die liefde tot Hom en tot sy medeskepsele.

Omdat mense nog steeds nie wil sien en hoor nie, het Hy Homself en sy wil vir ons nog 'n derde en finale keer bekend gemaak in sy vleesgeworde openbaring, naamlik 'n mens, Jesus Christus, wat as voorbeeld al God se verordeninge volmaak gehoorsaam het en deur sy Gees ook die mens op die pad van gehoorsaamheid lei.

Al drie die maniere van God se openbaring is belangrik - ook vir n Christelike benadering in die wetenskap. n Bybelse voorbeeld daarvan is die wyse manne uit die Ooste wat na die nuwe Koning van die Jode gesoek het (Matt. 2:1-11).

Hoewel hulle destyds as wetenskaplikes gereken is, was hulle heelwaarskynlik heidense astroloë wat aan die besondere invloed van sterrekonstellasies geglo het. God lok hulle met sy skeppingsopenbaring, die verskyning van n besondere ster, waarskynlik n komeet, na Jerusalem. Daar verdwyn dit egter en weet hulle nie die pad verder nie.

Met die kennis wat die destydse Skrifgeleerdes van God se Skrifopenbaring in die Ou Testament (Mig. 5:1) lei God hulle egter na die dorpie Bethlehem - en ook die ster verskyn weer om te bevestig dat hulle die regte plek bereik het.

Uiteindelik is hulle gebring by God se mensgeworde openbaring in Jesus Christus, het hulle voor God se finale openbaring gekniel en Hom as die Koning van alle konings gehuldig.

4.7 h Reformatoriese visie op God se skeppingsorde

In die lig van die sentrale liefdesgebod (Matt. 22:37) moet God se skeppingsorde vir die verskillende lewensterreine en binne elke nuwe kultureel-historiese konteks in rigtinggewende norme gepositiveer word om die regte lewenskoers daarin aan te dui.

Hiermee is 'n mondvol gesê, iets veel makliker geskryf as gedoen. 'n Resente versamelwerk onder redaksie van Glas en De Ridder (2017) toon duidelik die verskille onder byvoorbeeld Lutherane, Katolieke en Reformatoriese denkers aan oor wat presies onder so n skeppingsorde verstaan moet word, asook hoe dit geken kan word en toegepas behoort te word.

Volgens Tol (2010:414 e.v.) vorm God se kosmies-ontiese orde-idee egter die ruggraat van Vollenhoven se filosofie. Hy het nie probeer om die bestaan daarvan te bewys nie, maar in die lig van die openbaring oor God as soewereine Wetgewer, dit eenvoudig as tetiese uitgangspunt aanvaar ('n Rasionalistiese denker mag so 'n vertrekpunt egter as "fideïsme" afmaak).

4.7.1 Modale norme

Die Reformatoriese standpunt oor so 'n orde staan verder in noue verband met die verskeidenheid (ongeveer 14) kante wat dit in die kosmiese werklikheid onderskei (die bekende modaliteiteleer). Almal van hulle beantwoord aan n verskeidenheid verordeninge.

Hier volg voorbeelde van wat hierdie goddelike verordeninge vir die verskillende fasette van die menslike lewe kan behels, gepositiveer word tot norme vir bepaalde lewensgebiede en omstandighede en op dié wyse ook verskillende waardes gerealiseer word.

Op fisies-biologiese vlak is waardering en sorg vir sy natuurlike omgewing en die mens se eie liggaam belangrik. Op psigiese gebied is byvoorbeeld sensitiwiteit, selfbeheersing en volharding nodig. Die mens se denke behoort gekenmerk te word deur onder andere onderskeidingsvermoë, insig, duidelikheid en oortuigingskrag. Sy/haar taalgebruik en ander kommunikasiemiddele behoort deur waarheid en betroubaarheid gelei te word.

'n Mens se sosiale verhoudinge moet getuig van respek vir die medemens, goedgesindheid, onselfsugtigheid en nog meer. Op ekonomiese gebied behoort mense as verantwoordelike rentmeesters op te tree, gelei deur spaarsaamheid, soberheid en liefdadigheid teenoor diegene in nood.

Op politiek-juridiese terrein behoort 'n hoofnorm sekerlik onpartydige geregtigheid te wees. Integriteit, betroubaarheid en eerlikheid is belangrike etiese waardes. En in 'n Christen se godsdienstige lewe behoort dit te gaan oor geloofsvertroue op God as laaste sekerheid, oor die gehoorsaamheid, diens en aanbidding van Hom.

Soos reeds genoem, kan die mens egter doof wees vir die stem van God se skeppingsorde, dit doelbewus ignoreer of selfs misbruik. Dit het nie net by nie-Christelike denkers nie, maar ook in die geskiedenis van die Christendom gebeur.

4.72 Skerp reaksies

Veral hedendaagse denkers se reaksie teen goddelike skeppingsordeninge is dus begryplik in die lig van die verkeerde verstaan en selfs gruwelike misbruik daarvan in die verlede, soos byvoorbeeld deur Christene in Nazi-Duitsland of in die geval van die Suid-Afrikaanse Christelik-nasionale apartheidsbeleid. Troost (in Schrotenboer e.a., 1994: 14-15) noem nie minder nie as agt redes waarom dit deesdae nie populêr is om nog in goddelike skeppingsordeninge te glo en vertrou nie.

n Skat van lektuur vanaf lang en ingewikkelde weergawes tot kort en bevatlikes soos byvoorbeeld Spykman (1985:20-31 en 1992:178-194) en Wolters (1992:11-40), is egter beskikbaar oor n Reformatoriese visie op God se skeppingsorde. Wolters (in Schrotenboer, e.a. 1994:42-61), wat ook 'n deeglike samevatting van die essensie van 'n Reformatoriese filosofie en die plek van God se skeppingsorde daarin bied, waarsku nogtans teen twee gevare: n Platonistiese en n historistiese visie daarop.

4.73 Veral twee gevare

Volgens die eersgenoemde (vir eeue lank in teo-ontologiese, ortodoks-Christelike sintesetradisies) is die skeppingsorde as statiese entiteite binne die goddelike intellek beskou. In laasgenoemde (hedendaagse) visie word hulle egter as voortdurend veranderlik beskou, slegs die produkte van menslike geskiedenis. Eersgenoemde standpunt kan tot legalisme lei, wat mense in die Naam van God en met n ongegronde (biblisistiese) beroep op die Bybel kan onderdruk. Laasgenoemde lei egter tot die hedendaagse subjektivistiese relativisme en koersloosheid.

Schrotenboer (1994: 70, 71) formuleer die gevare soos volg. Enersyds dat n mens jou eie - altyd gebrekkige - positivering van God se skeppingsorde aan sy orde gelykstel. Dit is n teken van hoogmoed. Andersyds dat 'n mens nie net jou eie positiverings as een van die baie moontlike menslike, historiese konstruksies beskou nie, maar ook God se skeppingsorde (dié grondslag vir jou eie norme) ontken. Dit beteken egter om die kind met die badwater weg te gooi.

Soos die Latynse spreuk sê: abusus non tollit usum, die misbruik hef nie die goeie gebruik op nie. God se orde is nie bedoel om die lewe te knel en belemmer nie. Dit moet eerder gesien word as sy liefdevolle omhelsing.

4.7.4 Hoe hulle geken kan word

Uit die bydraes van al genoemde Reformatoriese filosowe en teoloë (in Schrotenboer e.a.) blyk dit dat die grootste probleem oor die ordeninge vandag (net soos reeds in die latere Hellenistiese denke) nie op 'n ontiese nie, maar op 'n kennisvlak lê. Spykman (in Schrotenboer, e.a. 1994:39) beklemtoon tereg dat God se orde ook nie staties is nie, maar nogtans stabiel ("dynamic constancy"). Die groot vraag is egter hoe hulle reg geken kan word, veral God se riglyne van normatiewe aard wat op die mens van toepassing is.

Omdat God se wette nie sigbare, ruimtelik-fisieke dinge is nie, is hulle nie regstreeks nie, maar slegs indirek kenbaar deur in die lig van sy Skrifwoord en sy fundamentele liefdesgebod noukeurig te let op hoe al God se skepsele daarop reageer en wat (veral in die geval van die mens) die goeie of slegte gevolge is as hy in gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid daarop antwoord.

4.8 n Eie metode teenoor die eklektiese

Om werklik reformatories te kan dink, volg 'n Reformatoriese filosofie ten slotte ook in 'n eie metode wat as teties-krities beskryf kan word (vir besonderhede vgl. bv. Vollenhoven, 2005a:5-8, Kok, 1996:12-15 en Tol, 2010:30 e.v.). Dit beteken kortliks dat 'n denker eers teties sy eie standpunt formuleer vanwaaruit hy ander denkers se standpunte krities evalueer met die bedoeling om uit hulle aanvaarbare insigte te leer en selfs sy eie visie te verbeter of korrigeer.

So n metode is anti-sinteties ingestel. Daarom is n eklektiese metode, gewild onder hedendaagse postmoderniste, nie aanvaarbaar vir n werklik reformatoriese wysgeer nie. Janse (1982:20,21) skryf die volgende daaroor.

Hierdie werkwyse kies uit verskillende filosofiese konsepsies die "goeie" of vir 'n bepaalde tyd gangbare en dus "aanvaarbare" denkgoed wat dan, soos n lappieskombers, op n sogenaamde redelik-neutrale wyse met mekaar verbind word. Alle denkstrominge en filosofiese insigte word hiervolgens op min of meer dieselfde prinsipiële vlak geplaas.

n Mens sou hierdie modus operandi kon vergelyk met iemand wat, uitgaande van die argument dat alle boustyle waardeer behoort te word, 'n huis sou bou met Gotiese venters, Antieke Griekse of Renaissance pilare en n hedendaagse interieur. Nie een van hulle kom egter werklik tot sy reg nie. Net so kan 'n eklektiese denker nie duidelik maak wat die unieke en diepste dryfvere van sy eie of ander filosofie is nie.

Plato se idees kan byvoorbeeld alleen reg verstaan word in verband met sy hele stelsel, nie as 'n onderdeel van 'n eklektiese sameraapsel nie. Net so het Aristoteles se onbeweeglike godheid niks te make met die Bybelse God nie. Kant se god, deug en onsterflikheid dra insgelyks 'n totaal ander betekenis as wat dit by Augustinus en Calvyn beteken. 'n Eklektiese denkwyse kan dus nie anders as verwarrend wees nie.

Wie 'n teties-kritiese metode gebruik, se eie standpunt is vooraf duidelik. Bowendien kan hy sy teenstanders veel beter begryp en ook by hulle waardeer wat te waardere is. Wie egter klakkeloos uiteenlopende elemente saamvoeg (dikwels gebeur dit op n dialektiese wyse), ontneem homself die geleentheid om raak te sien wat werklik daarin te waardere is.

Heel dikwels is 'n verdere implikasie van hierdie manier van dink ook dat dit nie in staat is om 'n bepaalde filosofiese vraagstuk op te los nie omdat die oorspronklike probleem in die bestaande lektuur waaruit iemand selekteer alreeds onduidelik of verkeerd gestel is (Janse, 1982:18). En valse probleme lei tot skynantwoorde!

Wanneer mense van n Christelike agtergrond eklekties by n heersende en dus gewilde sekulêre wysgerige of teologiese tendens aansluit, word soms nog wel n paar Christelike kanttekeninge daarby gevoeg om aan byvoorbeeld die reeds genoemde god, deug en onsterflikheid van Immanuel Kant 'n ortodokse kleur te gee. Myns insiens is so 'n werkswyse uiters misleidend.

 

5. h Terug- en vooruitblik

Hierdie ondersoek is begin met die belangrike vraag waarom die Skool vir Filosofie op die Potchefstroomkampus van die NWU, nadat dit vir meer as n eeu vanuit n integrale Reformatoriese benadering n denkgemeenskap gevorm het, nou verdeeldheid toon, dalk op n tweesprong beland het omdat al die dosente en gevolglik ook die studente nie meer vanuit tradisionele paradigma filosofeer nie.

5.1 Terugblik

As n meer algemene rede vir die situasie is hierin daarop gewys dat hierdie kampus gedurende die afgelope twee dekades gesekulariseer geraak het. Spesiale aandag is gegee aan n postmodernistiese benadering wat tot sekularistiese relativisme, maar ook tot intoleransie teenoor 'n Christelike benadering mag lei.

'n Meer spesifieke rede vir hierdie proses is dat nuwe dosente, wat nie 'n integraal Christelike benadering tot die wysbegeerte deel nie gedurende die eerste dekade van hierdie eeu deel van die Skool geword het.

Om so 'n stelling te maak, vereis selfrefleksie oor wat presies die unieke van 'n Reformatoriese benadering was en nog behoort te wees. Daarom is die belangrikste deel van hierdie ondersoek gewy aan n uiteensetting van die religieuse vertrekpunte en die daarop gegronde werklikheidsvisie van so 'n filosofie. Spesiale aandag is daarby gegee aan God se skeppingsopenbaring en sy skeppingsordeninge. Ten slotte is ook aangetoon waarom so 'n filosofie 'n teties-kritiese metode verkies in plaas van die hedendaagse voorkeur vir 'n eklektiese aanpak.

5.2 Vooruitblik

Hierdie artikel was nodig om die filosofiese tafel te dek vir 'n opvolgartikel. Dit sal handel oor die filosofiese oriëntasie van een nuwe dosent, sedert 2010 deel van die Skool, prof Anné H. Verhoef. Deur by die lees daarvan in gedagte te hou wat hier oor 'n Reformatoriese oriëntasie geskryf is, sal die wesentlike verskille daarvan met die benadering van Verhoef duidelik blyk. Die kontras tussen die twee kan dien as antwoord op die vraag waarom filosofie op Potchefstroom na 100 jaar op 'n tweesprong beland het, en tans onsekerheid oor sy toekomstige koers beleef.

 

Bibliografie

Anoniem. 2017. Strategy Structure Statute. Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Clouser, R.A. 2005. The myth of religious neutrality; an essay on the hidden role of religious belief in theories. Notre Dame, Indiana: Univ. of Notre Dame Press.         [ Links ]

Glas, G. & De Ridder, J. (eds.). 2017. The future of creation order. Vol. I. Philosophical, scientific and religious perspectives on order and emergence. Cham: Springer International Publishing.         [ Links ]

Gouzwaard, B. & Bartholomew, C.G. 2017. Beyond the modern age; an archeology of contemporary culture. Downers Grove, Illinois: IVP Academic.         [ Links ]

Grenz, S.J. 1996. A primer to postmodernism. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.         [ Links ]

Janse, A. 1982. Inleiding in de Calvinistische filosofie. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.         [ Links ]

Kok, J.H. 1996. Patterns of the Western mind; a Reformed Christian perspective. Potchefstroom: Institute for Reformational Studies.         [ Links ]

Middleton, J.R. & Walsch, B.J. 1995. Truth is stranger than it used to be; Biblical faith in a postmodern age. Drowners Grove, Illinois: InterVarsity Press.         [ Links ]

Schrotenboer, P.G., Troost, A., Von Egmond, A., Van der Kooi,G. Spykman, G.J. Wolters, A.M. Bartholomew, C.G. 1994. God's order for creation. Potchefstroom: Institute for Reformational Studies (Study Pamphlet no. 324, December).         [ Links ]

Smith, J.K.A. 2006. Who is afraid of postmodernism? Grand Rapids, Michigan: Baker Academic.         [ Links ]

Spykman, G.J. 1985. Spectacles; Biblical perspectives on Christian scholarship. Potchefstroom: PU for CHE.         [ Links ]

Spykman, G.J. 1992. Reformational theology; a new paradigm in doing dogmatics. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 1990. Hoe kan ons wetenskaplik oor God praat? Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 36(1 & 2):1-20.         [ Links ]

Tarnas, R. 1991. The passion of the Western mind. New York: Ballantine.         [ Links ]

Taylor, C. 2007. A secular age. London: Harvard Univ. Press.         [ Links ]

Tol, A. 2010. Philosophy in the making; D.H.Th. Vollenhoven and the emergence of Reformed philosophy. Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Van Belle, A. 2018. Coram Deo; living in the presence of God in a secular age. (Ongepubliseerde manuskrip ontvang op 07/06/2018.         [ Links ])

Van der Vyver, J.D. 1999. Institutional perpectives on church-state relations in South Africa. Brigham Young University Law Review, 2:635-672.         [ Links ]

Van der Vyver, J.D. 2000. Die uitdaging van die nuwe eeu vir die Puk as Christelike universiteit op Suid-Afrikaanse bodem. Lesing gelewer by 'n Puk-Forum byeenkoms op 07/07/2000.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2014a How and why the Potchefstroom University for Christian Higher Education became a secular institution. Journal for Christian Scholarship, 50(3):13-48.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2014b. Economism and managerialism. Journal for Christian Scholarship, 50(4):19-42.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2014c. At the cradle of a Christian philosophy in Calvin, Vollenhoven, Stoker and Dooyeweerd. Potchefstroom: The Institute for Contemporary Christianity in Africa.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2015. Six powerful contemporary tendencies secularising Christian higher education. Journal for Christian Scholarship, 51(1):47-76.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2017. Op die spore van filosofiese onderwys op Potchefstroom honderd jaar gelede. Deel 1. Koers, 82(1) https://doi.org/10.19108/koers.82.L2287.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2018a. 'n Kykie na kopstukke; filosofie op Potchefstroom die afgelope eeu (19172017). Deel 2: Die sisteembouers. Koers, jg. 83(1) https://doi.org/10.19108/koers.83.L2371.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2018b. 'n Kykie na kopstukke; filosofie op Potchefstroom die afgelope eeu (19172017). Deel 3: Die uitbouers. Koers, 83(2). https://doi.org/10.19108/koers.83.L2370.         [ Links ]

Van Peursen, C.A. 1994. Na het postmodernisme; van metafysica tot filosofisch surrealisme. Kampen: Kok Agora.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005a. Isagögè philosophiae; introduction to philosophy (Eds. J.H. Kok & A. Tol). Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005b. Wijsgerig Woordenboek. (Red. K.A. Bril.) Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2011. Gastcolleges; erfenis voor het heden. (Reds K.A. Bril & R.A. Nijhoff). Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Wolters, A.M. 1992. Die skepping herwin; Bybelse grondslae vir 'n Reformatoriese lewensbeskouing. Potchefstroom: PU vir CHO. (Ook in Engels as Creation regained. Grand Rapids: Eerdmans, 2005).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Barend van der Walt
Private Bag X6001, Potchefstroom Campus
North-West University, Potchefstroom, 2520
South Africa

Published: 31 Mar 2019

 

 

1 Aangesien die skrywer religie nie tot die kerklike of "geestelike" lewe beperk nie, maar dit as iets inherent menslik, fundamenteel en allesomvattend beskou, word die vrymaking van die res van die lewe uit kerklike heerskappy (gewoonlik "sekularisering" genoem) deur hom positief beoordeel. Hy verwerp egter die gedagte dat enigiets as "sekulêr" beskou word. Sekularisme verwerp, eerstens, die bestaan, teenwoordigheid van of verhouding tot God en erken slegs die sigbare, kosmiese werklikheid. Tweedens ontken dit ook dat Hy as soew-ereine Wetgewer vir die hele skepping, die mens ingesluit, duidelike riglyne of verordeninge gestel het.
2 Vgl. uit die massa lektuur daaroor bv. Grenz, 1996, Middleton en Walsch, 1995, Van Peurs- en, 1994, Smith, 2006 en vir meer populêre weergawes Tarnas, 1991 en Goudzwaard en Bartholomew, 2017:72-79.
3 Vgl. bv. Goudzwaard en Bartholomew, 2017:56 e.v.
4 Hoewel alle Christelik-Reformatoriese filosowe en vakwetenskaplikes nie dieselfde wys- gerige deuntjie sing nie, beskou die skrywer sy breë weergawe as verteenwoordigend van die kernelemente van hierdie tradisie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons