SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.83 issue1The struggle around the direction of Western cultureTowards authentic development author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.83 n.1 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.19108/koers.83.1.2309 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Ned Geref Kerkorde Van 1962: in samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid?

 

The Church Order of 1962 of the Dutch Reformed Church: connected to the rest of life with a feeling for the whole of creation?

 

 

Pieter Johannes Strauss

Ekklesiologie, Fakulteit: Teologie, Universiteit van die Vrystaat

Correspondence

 

 


OPSOMMING

Die eerste kerkorde van die nuwe Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in 1962 poog om Bybels en belydenismatig te wees. Daarom bou dit op konstantes of beginsels wat op die Woord van God en die belydenisskrifte van die Ned Geref Kerk gebaseer is. Hiernaas weerspieël dit norme soos blootgelê deur die samehang van die kerk met die res van die lewe of geskape werklikheid. n Werklikheid waarin daar n verskeidenheid oorspronklike aspekte is wat met mekaar saamhang. n Lewe waarin elke menslike handeling deur n aspek gelei word en die kern van ander aspekte in diens neem as norme vir optrede. Die Kerkorde van 1962 word van artikel 1 tot 70 vir sulke norme of samehange ondersoek Die vraag in die titel word bevestigend beantwoord. Die Ned Geref Kerk leef in samehang en voeling met die res van die lewe.


ABSTRACT

The Church Order of 1962 was the first church order accepted by the new General Synod of the Dutch Reformed Church. Apart from the fact that it tried to be an order according to Holy Scripture and the Three Formulas of Unity as reformed confessions of faith, it contains articles based on norms revealed outside the contact and cooperation of the church with the rest of life. Norms revealed out of the pattern of God's creation in which aspects created with an own character together with other such aspects, form an integrated whole. An aspect will lead a human act and use the core of other aspects to form norms for the act mentioned The Church Order of 1962 is investigated from article 1 till 70. The question in the title is answered in the affirmative. This Church order is connected to the rest of life and contains articles to confirm this


 

 

1. Agtergrond en probleemstelling

Die leidende figuur en redakteur van die konsep wat by sy eerste Algemene Sinode in 1962 tot die eerste Kerkorde van die Ned Geref Kerk (NGKO 1962) sou lei, JD Vorster (Langner, 2007:87), sê in 1960 dat die voorgestelde NGKO 1962 die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO 1619 gelees by Pont 1981: 168-189) 'aangepas by die eise van ons dag' is (Vorster, 1960:13). Hierdie standpunt word deur ander skrywers beaam (Kleynhans, sa: 109; Jonker, 1960:35; Loots, sa:1; Strauss, 2010:31; Strauss, 2016c:1). Daarom word die saak vir die doeleindes van hierdie artikel nie in besonderhede ondersoek nie.

Genoeg om te sê dat NGKO 1962 in die verlengde van belangrike konstantes of waarhede agter die formulering van DKO 1619 lê1. Konstantes wat deur die gebruik van die beginsels vir die uitleg van 'n kerkorde aangetoon kan word. Die eerste is die sistematiese beginsel wat DKO 1619 en NGKO 1962 binne die raamwerk van die norma normans en norma normata of die eerste norm en die hierop gebaseerde tweede norm vir gereformeerde kerkordes plaas: die Bybel en die geloofsbelydenisse van die kerk. Die Ned Geref Kerk verbind hom aan die Bybel as die Woord van God en die formulering van die geloof soos uitgedruk in Drie Formuliere van Eenheid en deur die Nasionale Sinode van Dordtrecht in 1619 aanvaar. Norme wat - ondermeer - die kerkbegrip van DKO 1619 en NGKO 1962 bepaal2. Die tweede is die historiese beginsel wat aandui watter voorgeskiedenis 'n artikel het, wat die artikel in die tyd van sy ontstaan beteken het en hoe hierdie betekenis sedertdien verander het. DKO 1619 en NGKO 1962 bevat voorbeelde hiervan vir kerkvergaderings en kerklike ampte. Dan is daar die beginsel van strukturele hermeneutiek wat vereis dat 'n kerkorde met homself vergelyk word. 'n Beginsel wat aandui dat een artikel nie sonder die ander verstaan kan word nie. Daarom dat die heerskappy van die Woord én die anti-hiërargiese visie op kerklike vergaderings en ampte, saamgelees moet word. Beide word verwoord in DKO 1619 en NGKO 1962. Ten slotte is daar taalkundige hermeneutiek gerig op benamings wat as kerkordetaal vir meer as 300 jaar dieselfde gebly het. Voorbeelde soos 'klassis', 'sinode' en 'sensuur' wat elders uitvoerig bespreek is (Van de Beek, 1988:59-72; Du Toit 1991:46-55).

Uit hierdie bondige uiteensetting blyk dit dat die volgende norme, in rangvolgorde, die inhoud van 'n gereformeerde kerkorde moet bepaal: eers die Woord, dan die hierop gebaseer geloofsbelydenis(se) van die kerk, dan ander relevante kerklike besluite op grond van Skrif en belydenis, daarna dogmaties-kerklike oorwegings én die kerkordelike tradisie of aanvaarbare deel van die historiese aanloop waarin die kerkorde staan - in die geval van die NGKO 1962 bewustelik die Dordtse tradisie. Die Woord van God is die eerste norm met die belydenis, ala Bavinck, diep onder die Woord, maar 'n Woordgebonde tweede norm (Bavinck, 1967:401-402). Die res van die volgorde moet buig voor Woord en belydenis, maar kan, met die uitsondering van geldige kerklike besluite, op gelyke voet met mekaar verkeer. Dat die regering van Christus in sy kerk ten diepste regering deur sy Woord en Gees is, is -aldus Jonker - 'n kern- of belydeniswaarheid (Jonker, 1965:12). Maar, hoewel alles in die kerk Skriftuurlik of in die 'lig van' die Skrif verantwoord moet wees, beteken dit nie dat die Bybel die enigste bron van kerkordelike beginsels is nie (Strauss, 1989a:89-96).

Geen menslike handeling - ook sy kerkwees - geskied los van hierdie lewe of tydelike werklikheid (vgl Psalm 90) nie. Geen kerklike aksie is los van sy eie tyd of die gemeenskap waarin die kerk hom bevind nie. Hierdie stelling geld vir Bybelvertaling, prediking, kerkmusiek, kleremodes, sosiale norme ens. Vanuit 'n neo-Calvinistiese, Reformatoriese kosmologie (leer van die skepping) word aanvaar dat 'die lewe' 'n eenheid is en dat alles met alles in die skepping saamhang. Hierdie samehang rus ten diepste op die skeppingswoord van God waarin Hy 'n eenheid te midde van 'n nie-herleibare (na iets wesenlik anders) verskeidenheid van aspekte (as oorspronklike konstantes) gegee het. 'n Verskeidenheid waarin 'n menslike handeling deur die kern van 'n bepaalde aspek gelei en norme daarvoor blootgelê word in sy samehang met die kern van die ander aspekte. 'n Samehang waarin die leidende aspek sy leiding behou, maar die kern van die ander aspekte in diens neem. 'n Samehang wat 'n verskeidenheid aspekte blootlê waarop menslike handelinge - Godgehoorsaam of -ongehoorsaam - as stande van sake stuit omdat die skeppingswet van God die spoor of bouplan is waarop die alles in die skepping loop. 'n Wet wat nie deur menslike ongehoorsaamheid vervang word nie, maar verwring word. 'n Verskeidenheid aspekte in die skeppingswet wat elke soort bestaan of menslike handeling voorafgaan en moontlik maak. God se skeppingswet wat norme of beginpunte as voorwaardes vir die menslike lewe daarstel, maar na die sondeval deur 'die mens' misken word. Wetmatighede as werklikhede van God wat die oortreder eventueel agterhaal. 'n Verskeidenheid konstantes wat in die Bybel én die tien gebooie gereflekteer word (vgl Kock 1975:142-144; Spykman 1988:137-144; Fowler 1988:28-38).

Teen hierdie agtergrond is die Evangelieboodskap gedra deur die kerk 'n geloofsgerigte handeling. Soos Johannes 20:31 dit stel:

Hierdie dinge is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Die verkondiging van die Evangelie is gerig op die vertroue van die hoorders (Heidelbergse Kategismus vr en antw 21, NG Kerk-Uitgewers 1982:44). 'n Handeling wat as 'n daad van geloof òòk die liefde met sy kern van trou in diens neem om die norm van Skrifgetrouheid bloot te lê. 'n Handeling wat as 'n gehoorsame geloofsaksie moet sorg vir die regte Woordbepaalde beeld van Christus as God-mens (die regsaspek) om sy verlossing reg te verduidelik. 'n Boodskap wat moet rekening hou met die sosiale vlak waarop die hoorders is om met hulle oor hulle geestelike behoeftes en worstelinge geestelik te verkeer. 'n Boodskap wat in verstaanbare taal sonder die hinderlike mors van woorde (woorddiarree is onekonomiese taal) en tyd (?) oorgedra moet word. 'n Boodskap wat in harmonie (kunsaspek) moet wees met die lyftaal van die boodskapper: die lyftaal van die boodskapper wat sy boodskap bevestig en geloofwaardig maak (die geloofsaspek). Daarby moet die boodskap logieserwys klop met die enigste onderskeibare Woord van God.

Die slotsom: die preek as 'n geloofsgerigte boodskap vanuit die kerk, neem die kern van die ander aspekte van die lewe in diens as norme vir 'n goeie preek. Die preek mik op die vaste geloof van die hoorders, maar funksioneer tegelykertyd in die volle werklikheid (Kock 1975:47).

Hierdie argument bring ons by die probleem wat dié artikel ondersoek: praat NGKO 1962 in samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid? Kan NGKO 1962 as 'n dokument met bepalings vir kerklike optrede, los van die res van die lewe of samelewing funksioneer? Moes die Algemene Sinode van 1962 in totale soort kerklike isolasie wees vir die aanvaarding van 'n suiwer NGKO 1962?

NGKO 1962 word gefynkam vir bepalings of bewoordings in bepalings wat spruit uit ander aspekte van die lewe as die geloofsaspek. Die geloofsaspek wat die Ned Geref Kerk as 'n Woordgebonde kerk stempel. Die normatiewe moontlikhede van elke voorbeeld word ondersoek en die herkoms en betekenis daarvan in die kerkordelike tradisie van NGKO 1962 bepaal.

Wat ook in ag geneem moet word, is dat NGKO 1962 'n hersiening van die Kerkorde van 1959 van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN-KO 1959 gelees in Nauta 1971) was. NGKO 1962 het in GKN-KO 1959 'n voorbeeld gesien van 'n kerkorde wat aanvaarbare DKO-waarhede in die eie tyd verwoord en dié tyd reflekteer. In ander gereformeerde kerke is destyds aanvaar dat GKN-KO 1959 die lyne of konstantes van die DKO soos aangepas by die eise van die dag, volg (NGK, 1957:73-74; Langner, 2007:87). Die gevolg was dat NGKO 1962 nie net die hoofstukindeling en sekere woordomskrywings van DKO 1619 by GKN-KO 1959 oorgeneem het nie, maar, vir hom ook bruikbare bewoordings gebou op konstantes in GKN-KO 1959 self.

Hierdie omskrywing van sy hoofstukindelings bepaal die volgorde van ons ondersoek na NGKO 1962.

 

2. Inleiding en ampte

NGKO 1962 bevat twee artikels in sy inleiding - artikels wat die posisie en gesag van die Bybel én die Drie Formuliere van Eenheid in die Ned Geref Kerk kernagtig weergee én op die noodsaak van 'n kerklike orde volgens I Korintiërs 14:40 wys. Hierteenoor volstaan die DKO in sy inleiding met twee sinne. Twee sinne wat die noodsaak van 'n orde vir, agtereenvolgens, die kerklike ampte (DKO 1619 gebruik die reformatoriese 'dienste1), vergaderings, leer, sakramente en die kerklike tug (DKO 1619 in 'n minder ontplooide lewe praat van die 'Christeljke1) tug uitdruk (NGKO, 1962:2; Pont, 1981:176).

Die verwysing na I Korintiërs 14 is die enigste verwysing na 'n Bybelteksgedeelte in NGKO 1962 en kom uit GKN-KO 1959 artikel 1. Daar is geen teksverwysing in DKO 1619 nie (vgl Pont 1981:176-186). NGKO 1962 volg GKN-KO 1959 ook byna woordeliks met die roeping en orde van die kerk onder die volgende hoofstuktitels: ampte, kerkvergaderings, werk, regering en tug van die kerk en sy betrekkinge na buite. Onderwerpe wat in GKN-KO 1959 én NGKO 1962 nuwe hoofstukke aandui (NGKO, 1962:1-16; Nauta, 1971:43-485).

Hoewel DKO 1619 geen verwysings na Bybeltekste bevat nie, word I Korintiërs 14:40 se 'alles moetgepas en ordelikgeskied' in die erediens, reeds deur Calvyn (+1564) as die begronding vir 'n kerkorde gebruik. Vir die Hervormer van Genève is ordelike bepalings vir die kerklike lewe die 'zenuwen' van die kerk (in Sizoo sa:229). Hoewel I Korintiërs 14:40 nie in DKO 1619 gebruik word nie, kom dit by die Konvent van Wezel van 1568 in hierdie kerkordelike tradisie voor. Origens vorm dit by gereformeerdes wêreldwyd 'n locus classicus vir die begronding van 'n kerkorde (Nauta, 1971: 10,11; Van der Linde, 1983:7).

NGKO 1962 verwys na die Bybel as die objektiewe (my invoeging, PS), heilige en onfeilbare Woord van God en na die leer soos 'uitgedruk' in die Drie Formuliere van Eenheid as Bybels. Die noodsaak van hierdie duidelike uitsprake in 1962 spruit uit vrae, ook in die Ned Geref Kerk, oor hierdie geskrifte (Strauss 2013:89). Hoewel die antwoorde van 1962 oor Skrif en belydenis rigtinggewend is én in 2017 nog staan, getuig hierdie verwysings meer van 'n bewussyn van 'n eietydse probleem as 'n samehang met en aanvoeling vir die res van die lewe.

Hoewel NGKO 1962 artikel 1 en 2 dus nie onder die tema van ons artikel val nie, vorm die uiteensetting hiervan 'n noodsaaklike agtergrond vir dit wat kom. Dit gaan immers om nie-kerklike aspekte in die kerkorde wat gekoppel of versoen met Skrif en belydenis die kerkordelike taak van die kerk bepaal.

Dit bring ons by die kerklike ampte of dienste.

NGKO loop - soos die DKO in artikel 84 - 'n anti-hiërargiese pad met die kerklike ampte. Hierin volg hy woordeliks die meer omvattende formulering van GKN-KO 1959: "... die ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei'(NGKO, 1962:2: Nauta, 1971:47). Soos DKO 1619 dui die volgende sin in NGKO 1962 op die anti-hiëargiese bepaling afkomstig uit die gereformeerde kerke van Frankryk in die sestiende eeu: geen ampsdraer mag oor 'n ander heerskappy voer nie omdat Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is (NGKO, 1962:2; Strauss, 1989b:1-4).

NGKO 1962 onderskei drie besondere ampte: die bedienaar van die Woord, ouderling en diaken. Dit is by die bedienaar van die Woord waar NGKO 1962 sy samehang en voeling met die res van die lewe of die nie-kerklike kant daarvan laat blyk.

'n Onbepaalde negatiwiteit vir nie-kerklike lewenskringe kom skynbaar uit die bepaling in NGKO artikel 11: 'n bedienaar van die Woord mag nie sonder gewigtige redes na 'n ander lewenstaak oorgaan nie. Immers, in die omvattende koninkryk van God is die aanvaarding van 'n roeping op watter terrein ookal 'n gewigtige saak. Hoekom sou die dominee hierin 'n uitsondering wees? Beteken dit dat NGKO 1962 nog nie die ou strydvraag in die Ned Geref Kerk beantwoord het nie naamlik of nie-kerklike werk in Gods omvattende koninkryk ook 'n roeping kan wees en of predikante die kansel (behorende tot die sogenaamde genadesfeer of goeie kant van die lewe) vir die politiek en parlement (die sogenaamde natuur of minder goeie kant) mág verruil (Theron, 1988:157-162)? Of gaan dit, verwoord in DKO 1619 artikel 12 en GKN-KO 1959 artikel 14, hier slegs om die erns van die roeping en die plasing van die bedienaar van die Woord? Om 'n bewoording wat sterk loop in die Dordtse tradisie?

Die samehang met en aanvoeling vir die res van die lewe blyk ook uit NGKO 1962 se voorsiening vir die materiële versorging of lewensonderhoud - 'n ekonomiese saak - van die predikant. Hierdie saak kom in artikel 12-14 voor (NGKO 1962:4). 'n Predikant wat na die oordeel van die ring nie langer sy gemeente tot 'stigting' (in hulle geloof) kan dien nie, kan van die gemeente losgemaak word indien daar na die oordeel van die ring 'billike voorsiening' (van materiële versorging) vir die leraar gemaak is. Eie aan 'n gereformeerde kerkorde word die vasstelling van 'stigting'('n kerklike of geestelike saak) en 'billike voorsiening'('n kerklike saak met ekonomiese kante of oorwegings) as 'n norm vir optrede in die situasie aan die betrokke kerkvergadering oorgelaat. Volgens NGKO 1962 moet die ring in die situasie die konkrete besluite neem. Billike voorsiening vir so 'n nie-getugde predikant - hy is nie skuldig aan 'n 'openbare ergerlike sonde' (NGKO ,1962:12) nie - toon 'n samehang van die geloofswerk van die kerk met die ekonomiese aspek van die lewe. Die ekonomie word dus in kerklike diens geneem. Dieselfde samehang blyk uit NGKO 1962 artikel 13 en 14 (NGKO 1962:4) naamlik dat die gemeente moet sorg vir die 'lewensonderhoud' van sy bedienaar én 'n pensioen aan 'n afgetrede predikant. By laasgenoemde word gewag gemaak van reglemente vir pensioenfondse wat, om te kan voortbestaan, ekonomies kundig en vatbaar bestuur moet word.

 

3. Vergaderings van die kerk

Op die oog af spruit die algemene bepalings van NGKO 1962 vir kerkvergaderings of vergaderings wat bindende kerklike besluite neem, uit suiwer kerklike oorwegings. Tog kom daarin 'n samehang met die res van die lewe voor. Hierdie vergaderings word in NGKO 1962 artikel 18 aangedui: die kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode (NGKO, 1962:5).

Teen die agtergrond van DKO 1619 en GKN-KO 1959 (vgl Pont, 1981:179-182; Nauta, 1971:117-234) word die opsig, regering en tug van die kerk aan hierdie vergaderings 'toevertrou' (NGKO 1962:5-10). 'n Wysgerig-sosiologiese onderskeiding help om die take -opsig, regering en tug in geloofsverwante sake - aan kerkvergaderings as vergaderings van 'n geloofsverband in die samelewing, toe te ken. Daar die Bybel of die Drie Formuliere nie die gesag van kerkvergaderings in detail gee nie - die geestelike en geloofsaard daarvan kom wel in gedeeltes soos Efesiërs 4 en die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 30-32 voor - lê 'n wysgerige analise3 aan die wortel van NGKO artikel 20. Artikel 20 wat handel oor die gesag van kerkvergaderings as 'kerklike gesag deur Christus aan hulle verleen'. 'n Verleende gesag wat in Christus sy oorsprong vind en wat Hy in essensie behou. 'n Begrip wat 'n bekende formulering in die neo-Calvinistiese Wysbegeerte is. Beïnvloed deur hierdie rigting gaan haal NGKO 1962 die woorde van sy artikel 20.1 en 20.2 uit GKN-KO 1959 artikel 28 (Nauta 1971:121). Nauta, 'n medestander van hierdie Wysbegeerte, sluit hierby aan as hy 'kerklike gesag' van ander soorte gesag in 'n gevarieerde samelewing onderskei. Hy merk tereg op dat die uitoefening van kerklike gesag nie gepaardgaan met dwang soos in die staat nie, maar die mens bind deur oortuiging. Kerklike gesag word deur Nauta verbind aan die 'vrywillige' of hartelike erkenning daarvan deur gemeentelede.

Wanneer het niet gelukt iemand door middel van overtuiging tot andere gedachten en tot een andere houding te brengen, eindigt het gezag van de kerkraad... (Nauta, 1971:123).

Wat NGKO artkel 20 ook sê, is dat elke kerkvergadering 'na sy eie aard' oor 'n van Christus ontleende gesag beskik. Gesag in daardie sake wat via die kerkorde aan die vergadering toegewys is. Geen ander kerklike vergadering kan hierdie toewysing, buite die kerkorde om, van hom ontneem nie. Die kerkvergadering - gelei deur Woord en Gees - tree met gesag op in daardie sake waaroor hy moet handel. Daarom volg NGKO 1962 artikel 20.2 logieserwys op 20.1: die gesag van die ring oor die kerkraad is dieselfde as die van die sinode oor die ring (NGKO 1962:5).

Dat woorde soos 'eie aard' en 'kerklike gesag' wysgerig-sosiologies van die aard is en van die gesag van ander samelewingskringe onderskei word, geld ook vir NGKO artikel 21. Hier gaan dit oor daardie bekende stelreël dat kerkvergaderings alleen kerklike sake en wel op n kerklike wyse hanteer' (NGKO 1962:5). Weer word 'kerklike sake' op 'n 'kerklike wyse' by implikasie wysgerig-sosiologies van die sake en wyse van ander lewenskringe onderskei. 'n Bepaling wat via DKO artikel 30 (Pont 1981:179) en GKN-KO artikel 29 (Nauta 1971:126) deur NGKO 1962 oorgeneem word. Die samehang ('n eenheid te midde van 'n aspekteverskeidenheid) met die res van die lewe en samelewing word deur Nauta, een van die samestellers van GKN-KO, in sy kommentaar hierop verwoord as hy aanvoer dat enige saak onder die son 'n kerklike aspek kan ontwikkel en kerklike belang kan kruis (Nauta, 1971: 127). In 1998 behou 'n hersiene NGKO 1962 hierdie lyn as hy die bepaling wysig na kerkvergaderings hanteer 'sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse' (NGKO, 1998:9). By implikasie word die samehang of eenheid van die geskape werklikheid verwoord in (alle) 'sake', terwyl die aspekteverskeidenheid opklink uit 'n 'kerklikeperspektief en 'wyse' in die lig van die Skrif.

Die laaste saak in NGKO 1962 onder die vergaderings van die kerk wat dui op 'n samehang en 'n gevoel vir die res van die lewe, word in NGKO 1962 artikel 37 hanteer - 'n saak wat ná die Algemene Sinode van 2004 telkens opklink in gesprekke oor groter kerkeenheid en die moontlikheid van 'n skeuring van die bestaande algemene sinodale verband van die Ned Geref Kerk (NGK 2004:267vv). NGKO artikel 37 praat kerklik as hy verwys na die sinodes (hier 'kerke' genoem) wat die Algemene Sinode van 1962 vorm (Van der Watt, 1973:164). Hy gebruik ook kerktaal as hy reël dat hierdie samestellende 'kerke' uit die algemene sinodale verband kan tree as hulle dit kan regverdig 'in die lig van' die Woord van God. Maar dan voeg hy by: hulle doen dit 'met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam ens' (NGKO, 1962:7). Dat kerklike besluite in die lig van die Woord geneem word, is kerklik én kerkordelik gereformeerd. Die behoud van regte en voorregte is egter nie kerklike taal of tipies kerklike begrippe nie. NGKO 1962 neem hierdie nie-kerklike woorde in diens van 'n kerkordelike taak. 'n Bepaling wat in Sinodes waarin daar 'n huiwerigheid was om tot die nuwe algemene sinodale verband van 1962 toe te tree, meer gemoedsrus kon gee (NGK OVS, 1960: 205-208).

 

4. Die arbeid en tug van die kerk

Die erediens soos gereël in NGKO 1962 artikel 48, vind plaas in samehang en voeling met die res van die geskape lewe. Die elemente van die erediens vertoon dit. NGKO artikel 48 bepaal dat die erediens wat om die bediening van die Woord en sakramente draai, onder leiding van die besondere ampte van die predikant, ouderling en diaken plaasvind. Die gemeente beantwoord God se woorde wat deur die Skrif, kontekstuele Skrifuitleg of preke en die sakramente tot hulle kom (Strauss, 2010:89), met gebede, die kerkliedere en offergawes (NGKO, 1962:10). Kerkliedere wat musikale en letterkundige elemente as nie-kerklike elemente in diens neem om God in aanbidding te eer. Liedere van mense in 'n Afrikaanse kultuursituasie en -idioom wat deur woord, melodie en harmonie afgestem is op die konstante 'God is hier teenwoordig; laat ons biddend nader...' (NG Kerk-Uitgewers, 2001:159:1). Ons sing vir die grote God hier voor sy aangesig en ons begin met 'Grote God aan U die eer...'(NG Kerk-Uitgewers, 2001:190:1)

Meer nog, kerkliedere as 'n antwoord op Gods Woord in die erediens - 'n ontmoeting tussen Hom en sy gemeente - is gebede wat vir God gesing word. Gebed is immers die medium waardeur mense die Here aanspreek. In hierdie tweegesprek van woord-weerwoord (of antwoord) tussen die Here en sy kerk word emosies van vreugde en hartseer getemper deur respek vir God (Kleynhans, 1988:10). Naas liefde en eerbied vir die Here word die aanvaarbaarheid van 'gewyde' liedere vir die erediens gemeet aan die kultuuridioom of nie-kerklike lewensituasie van God se gelowige kinders. Hierdie liedere moet immers 'n deurleefde, eerlike antwoord van die gemeente in hulle mees toepaslike idioom - vir die woorde van, hopelik, 'n Bybelse lied - wees. Liedere vir die Here moet getuig van geloof en respek vir die Here - maar in daardie kultuuridioom waarin mense hulle in hulle tyd eg uitdruk (Strauss, 2010:90).

Die Here aanvaar ons soos ons is om ons - let wel - van ons sondeskuld en -smet te verlos én nuut te maak (oor te maak) sonder om ons kultuurloos te maak. Omdat Hyself van ewigheid tot ewigheid die goeie God is, kan en moet ons Hóm egter aanvaar soos Hy is... en sal bly: van ewigheid tot ewigheid is U God! (Psalm 90:1 en 2). Dit is na alles nie Hy wat van ons afhanklik is nie, maar ons van Hom.

Die Bybel as Gods konkrete Woord gebruik óók nie-geloofsake soos die boekdrukkuns en vertalings om Gods Woord te verstaan en leesbaar oor te dra.

NGKO 1962 artikel 48d reël dat daar 12 maal per jaar in volgorde vanuit die Heidelbergse Kategismus in die gemeente gepreek word. So word 'n nie-kerklike metode soos die herhaling van inligting in diens van die geloof geneem om die kernwaarhede van die geloof in gemeentes te vestig en te vier. Daarby gee hierdie twaalf maal 'n kykie in die meer algemene gereformeerde tendens in die Ned Geref Kerk as in 'n gereformeerde kerk wat die tweede diens op elke Sondag vir 'n Kategsimuspreek reserveer. Vanweë die werkslas van sy gemeentelede in die week het die Ned Geref Kerk aan die Kaap met een diens per Sondag weggespring en al om die ander week 'n leerdiens. DKO artikel 68 wat vir die tweede diens op 'n Sondag 'n Kategismuspreek bepaal het, is dus gewysigd nagekom (Pont, 1981:184; Strauss, 2015:7).

NGKO artikel 49 reël 'n herhaalde gebruik van die sakramente omdat die gereëlde herhaling van God se genade - dit is 'n opvoedkundige waarheid - so aan geredde sondaars verseël word. Boonop bly geredde sondaars sondaars met swak geheues (NGKO, 1962:10).

Onder stoflike of materiële sake het NGKO 1962 'n algemene bepaling. Elkeen van die vier erkende vergaderings van die Ned Geref Kerk neem verantwoordelikheid vir 'n toepaslike 'jaarlikse' verslag - gemeet aan rekeningkundige standaarde en die belastingaar? - van stoflike aangeleenthede onder sy toesig (NGKO, 1962:11).

Die kerklike tug soos bepaal in NGKO 1962 openbaar ook 'n samehang en voeling met die res van die lewe. Dit blyk reeds uit die aard van die tug.

Wat NGKO 1962 artikel 57 betref, het die kerklike tug 'n 'geestelike karakter' wat die toon van die 'burgerlike regspleging' vermy. Kerkvergaderings of 'opsieners' moet hulself nie as regters beskou nie, maar as vaderlike opsieners wat in

...diepe ootmoed voor God en met tere liefde en belangstelling, die oortreders probeer terugbring van hul dwaalweë, sonder aansien van diepersoon... (NGKO 1962:12).

Wat eerstens opval, is die geestelike aard van die kerklike tug. Behalwe dat hierdie aanduiding uit die Dordtse kerkordelike tradisie spruit (Pont, 1981:184), is dit 'n aanvaarbare uitdrukking in kerke met 'n Dordts-gereformeerde 'konneksie' (Jansen, 1952:302; Kruger et al., 1966;423; Van Dellen en Monsma, 1967:288; Nauta, 1971:358). Hiernaas getuig die 'geestelike karakter' van die kerklike tug van 'n wysgerig-sosiologies bepaalde onderskeid daarvan met, byvoorbeeld, die straf van die staat. Daarom kontrasteer NGKO 1962 en DKO 1619 die geestelike karakter van die kerklike tug met die burgerlijke gericht of straf (DKO) of 'burgerlike regspleging'(NGKO). Die pastorale, oortuigende aard van die kerklike tughandeling teenoor die regsvergelding van die staat (Kruger et al., 1966:425-426), blyk uit die terme 'vaderlike opsieners' wat met liefde en belangstelling oortreders wil terugbring van hul dwaalweê 'sonder aansien van persoon'. So bind die Goeie Herder van Johannes 10 sy skape innerlik en maak Hy hulle uiterlik bymekaar sonder aansiens van hulle vroeëre sondige lewe.

Die derde opvallende waarneming van NGKO 1962 artikel 57 raak die gebruik van sekere byvoeglike naamwoorde: diepe ootmoed en tere liefde. Waar diepe ootmoed voor God gangbaar gereformeerd is, is tere liefde teenoor sondaars piëtisties aandoenlik en oorbodig vroom. 'n Trant wat bots met die saaklike aard van gereformeerde kerkordes. Dieselfde neiging tot 'n 'innigheid' word elders in NGKO 1962 aangetref. In artikel 65 uiter die Ned Geref Kerk sy dankbaarheid teenoor die Suid-Afrikaanse owerheid vir sy regsbeskerming. Die regstaak van die staatsowerheid wat in DKO 1619 sonder 'n emosionele noot saaklik aanvaar is (DKO artikel 28, Pont, 1981:179), kom by NGKO 1962 uitsonderlik voor. Hierdie verskynsel kan toegeskryf word aan die redaksie van NGKO 1962 waarvan JD Vorster die voorsitter was. Sy jonger broer, BJ Vorster, was op daardie stadium Suid-Afrika se Minister van Justisie te midde van groot binnelandse onrus, 'n formeel aanvaarde noodtoestand en fel buitelandse kritiek wat op die skietery by Sharpville in Maart 1960 gevolg het. 'n Noodtoestand waarin BJ Vorster 'n groot rol gespeel het en vanuit sekere oorde skerp gekritiseer is (Strauss, 2010:128). Bronne wil dit hê dat JD Vorster die eerste 4 van die 6 hoofstukke van NGKO 1962 geskryf en die res geredigeer het. Sy hand is dus, moontlik, deurgaans in NGKO 1962 aanwesig (Langner 2007:87).

Nog 'n waarneming van NGKO artkel 57 is die hantering van lidmate 'sonder aansien van persoon'. Wat hier ter sprake is, is die gelykheid van almal voor kerklike tugvergaderings afgesien van hulle plek in kerk en samelewing of, anders verwoord, die regverdige behandeling van almal. 'n Regsbeginsel gebaseer op een van die reëls van natuurlike geregtigheid waaraan howe kerkvergaderings meet indien hulle die beslissing van laasgenoemde hersien: die audi alteram partem-reël. Dit beteken die ander kant (alle kante) van die saak moet ook gehoor word (Sadler, 1979:51; Strauss, 2010:109-117).

Hierdie regsbeginsel word ook in NGKO artikel 58 aangesny. Hierdie artikel voorkom dat tugstappe geneem word voordat 'n klag grondig ondersoek is en sonder dat die 'beklaagde' die geleentheid gehad het om hom- of haarself te verdedig (NGKO 1962:12). Met artikel 58 plaas NGKO 1962 twee reëls van natuurlike geregtigheid op die agenda van kerklike tugvergaderings: 'n behoorlike aandagbesteding aan die saak én die audi alteram partem-reël.

'n Interessante onderskeiding word in NGKO 1962 artikel 61c gemaak. Hierin word seker gemaak dat kerkraadslede wat onder die 'opsig en tug' van die ring val - vir 'n meer onpartydige ondersoek omdat hulle emosionele bande met medekerkraadslede ontwikkel - deur of vanuit die kerkraad aangekla kan word. Omrede 'n groter onpartydigheid - 'n saak van natuurlike geregtigheid op grond van die reël nemo iudex in causa sua of, niemand mag regter in sy eie saak wees nie - moet die ring die tugsake van kerkraadslede hanteer (NGKO 1962:13; Sadler 1979:184-194).

Verder konsentreer NGKO 1962 artikel 62 tot 64 op internkerklike tugmaatreëls en die kwessie van hoër beroepe' of appélle (NGKO 1962:13-14).

 

5. Betrekkinge van die kerk na buite

Onder die opskrif van hoofstuk ses, 'Betrekkinge van die kerk na buite', vertoon NGKO 1962 artikel 65-68 twee uitstaande gemeenskaplike kenmerke. Die eerste is dat dit hier gaan om die 'kerk' (die Ned Geref Kerk) in sy verhouding tot die staat, die maatskappy, die onderwys, 'ons volk en die vrye vereniging. NGKO 1962 bevat bepalings vir die Ned Geref Kerk in sy verhouding tot hierdie kringe en nie vir die kringe self nie, omdat NGKO 1962 net jurisdiksie' ('n nie-kerklike term wat hier in diens geneem word!) het in die algemene sinodale verband van die Ned Geref Kerk. Die tweede is dat hierdie artikels deurspek is met terme soos 'selfstandig en eie bevoegdheid' of 'soewerein in eie kring' wat op die kerk en die genoemde samelewingskringe, elk met 'n eie aard en funksie in onderskeiding van mekaar, toegepas word (NGKO 1962:14-15). Wysgerig-sosiologiese terme wat by neo-Calvinistiese wysgere in Nederland en Suid-Afrika soos Abraham Kuyper, Herman Dooyeweerd en Henk Stoker, aangetref word (Strauss, 1993:3-5; Strauss, 2008:1203-12044). 'n Wysgere klimaat wat -gemeet aan sy terminologie en onderskeidings - op die Ned Geref Kerk van die 1960's en NGKO 1962 tasbare invloed gehad het (Strauss, 2010:127-128)5.

Volgens NGKO 1962 is die 'Kerk' wat sy bestaan grond in die 'vrymagtige welbehae van sy Hoof, Jesus Christus' in sy ontstaan en voortbestaan 'selfstandig in eie bevoegdheid' of, in hakies, 'soewerein in eie kring'. In sy deelname aan die regsverkeer van die staat en die uitoefening van burgerlike regte onderwerp die Ned Geref Kerk hom aan die gesag en wette van die staat, mits dit nie bots met God se Woord nie. In die stormagtige sestigerjare in Suid-Afrika is die Ned Geref Kerk nie net dankbaar vir die regsbeskerming van 'n gekritiseerde owerheid nie, maar beloof hy ook dat hy sy vryheid van belydenis en byeenkoms - van godsdiens - nie sal misbruik 'om staatgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie' (NGKO, 1962:14 artikel 65). 'n Houding in kontras met die van die pas verbanne African National Congress (ANC) en SA Kommunistiese Party (SAKP) wat as die hoofaanstigters van die onrus in Suid-Afrika uitgewys is (Lombard, 1981:192).

Eie aan sy aard as kerk aanvaar die Ned Geref Kerk egter ook die roeping om die staat en die wêreld waarin hy bestaan, profeties aan te spreek (NGKO, 1962:15).

Met NGKO 1962 gee die Ned Geref Kerk sy 'medewerking en steun' aan maatskaplike organisasies op 'n Christelike grondslag wat wantoestande wil opruim of bepaalde maatskaplike of opvoedkundige belange wil bevorder. Die 'Kerk' erken immers die 'selfstandigheid in eie bevoegdheid van alle samelewingsverbande... en... vrye maatskaplike verhoudinge, so eie aan 'n moderne gedifferensieerde samelewing' (NGKO, 1962:15). NGKO 1962 besig weer bekende neo-Calvinistiese sosiologiese terme om sy siening van die heersende Suid-Afrikaanse samelewing uit te druk. Op selfstandigheid in eie bevoegdheid is reeds gewys. Wat hier bykom, is die woorde 'n moderne gedifferensieerde samelewing wat in neo-Calvinistiese kringe in Suid-Afrika aan 'n ontplooide Westersgeoriënteerde samelewing verbind is teenoor 'n minder ontwikkelde en ontplooide samelewing in lande van die Derde Wêreld.

NGKO 1962 kondig aan dat die Ned Geref Kerk dit as sy roeping beskou om 'toe te sien' dat die jeug in 'n 'Christelike gees en rigting opgevoed word. Hoewel hierdie kerk die 'selfstandigheid in eie bevoegdheid'van skool- en naskoolse onderwys erken, eien hy homself die reg toe "... om van skole en universiteite Christelike onderwys vir sy kinders en jongmense te verwag.' (NGKO, 1962:15). 'n Paar sake kom duidelik uit hierdie bepaling. In die eerste plek beskik die Ned Geref Kerk skynbaar oor die vermoë om, let wel, toe te sien dat sy kinders se reg op Christelike onderwys in Suid-Afrika en elders, uitgevoer word. Hierdie kerk leef in 'n Suid-Afrika waarin sy stem tel. In die tweede plek is daar 'n samehang en onderskeid tussen kerk en onderwys waarin eersgenoemde sy eie én laasgenoemde se selfstandigheid in sy eie aard en funksie erken, maar ook staan op die reg om die onderwys vanuit hierdie samehang op gemeenskaplike punte kerklik-profeties te nader.

NGKO 1962 beywer hom in dieselfde artikel vir 'n nie-kerklike saak: dat die Ned Geref Kerk hom beywer vir die 'Protestants-Christelike karakter van ons volk'. Die woorde 'ons volk' soos hier gebruik kan net op een volk dui: die Afrikanervolk. Die Ned Geref Kerk onderneem in NGKO 1962 om die karakter van hierdie volk as kerk (?) te beskerm en uit te bou. Weer gee NGKO 1962 blyke van 'n sterk vertroue by die Ned Geref Kerk van die 1960's dat hy sy invloed as kerk op die nie-kerklike terreine van 'n rasverdeelde die Suid-Afrikaanse samelewing met aparte entiteite (Stone 2014:12-21), effektief laat geld. Dieselfde volkse artikel dui op 'n nou band tussen die Ned Geref Kerk en die Afrikaner. 'n Band wat hierdie kerk beïnvloed om 'n nie-kerklike maar Christelik-georiënteerde taak te aanvaar: die behoud en uitbou van die karakter van 'n kultuurgemeenskap. 'n Taak wat die samehang en voeling van die kerk met die volk erken, maar verwring omdat die kerk as die algemene kerk van Christus 'ons volk' uitsonder en die beskerming en bevordering van die karakter van net een Protestants-Christelike kultuurgroep opneem. 'n Beskerming en bevordering wat op meer as 'n profetiese beïnvloeding dui en van die Ned Geref Kerk 'n vennoot in die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikaner met kerklike afgevaardigdes na kultuurkongresse sou maak (Strauss, 2016a:29-30; Strauss, 2016b:4-5).

In artikel 68 en 69 erken NGKO 1962 vrye verenigings op 'n positief Christelike grondslag wat tipies kerklike werk doen (NGKO, 1962:15). Daarvoor gebruik hy die erkenning deur die Ned Geref Kerk van nie-belydenisgeoriënteerde, interkerklike verenigings in die verlede eerder as 'n belydenismatige kerkbegrip. Hierdie bepaling is deel van 'n waarneembare pragmatiese neiging in NGKO 1962 om sake uit die verlede so te aanvaar en te legitimeer: provinsiale sinodes wat die Algemene Sinode in sommige opsigte dupliseer (Jonker, 1960:35-36) en die afvaardiging van gemeentes na meerdere vergaderings wat op die aantal predikante in die gemeente in plaas van die gemeente self as volledig kerk, gebaseer is (NGKO 1962:6-7; Strauss, 1989:4-6, 9-13). Sake wat nie 'n normatiewe voorbeeld vanuit die Ned Geref Kerk bied of 'n korrekte samehang en voeling met die res van die lewe gee nie.

Die laaste artikel van NGKO 1962, artikel 70, se bepalings vir die ekumeniese betrekkinge van die Ned Geref Kerk val buite die skopus van hierdie stuk.

 

6. Slot

'n Ondersoek na NGKO 1962 bevestig die vraag gestel in die titel van hierdie artikel. Daar is 'n duidelike samehang en voeling met die res van die lewe in die eerste kerkorde van die Ned Geref Kerk soos aanvaar by sy eerste Algemene Sinode in 1962. Hierdie samehang is 'n gegewe vir die Ned Geref Kerk wat soos alle menslike handelinge in samehang met die res van die geskape werklikheid funksioneer. Behalwe dat NGKO 1962 'n verbintenis met die Dordts-Nederlandse belydenismatige en kerkordelike ontwikkeling uit die sestiende en sewentiende eeu vertoon, toon dit, soos alle kerklike handelinge, 'n samehang en 'n voeling met die res van die lewe. Om hierdie rede is daar Bybelse en belydenismatige konstantes agter die bepalings van NGKO 1962 én norme wat in sy samehang met die res van die lewe blootgelê word. Norme wat versoenbaar is met die Bybel en die Drie Formuliere van Eenheid wat deur die Ned Geref Kerk as 'n Bybelse formulering van sy geloof beskou word.

Omdat NGKO 1962 egter 'n dokument is wat deur geredde sondaars as kerklidmate opgestel is, is daar ook eietydse spore in sy artikels. Daarom vertoon NGKO 1962 nie net 'n affiniteit vir die Bybel, die gereformeerde belydenis en norme ontwikkel uit sy samehang met die res van die lewe nie, maar ook vir invloede vanuit sy verlede en eietydse omgewing.

 

7. Bibliografie

Bavinck, H. 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.         [ Links ]

Du Toit, P.R. 1991. Die uitleg van 'n kerkorde. In: Strauss, P.J. (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Rege, 46-64.         [ Links ]

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Gaum, F. (hoofred) 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Jansen, J. 1952. Korte verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken. Kampen; Kok (3e druk).         [ Links ]

Jonker, W.D. 1960. Die bevoegdheid van die streeksinodes in die nuwe konsep kerkorde. Ned Geref Teologiese Tydskrif (NGTT), Maart 1960, 33-37.         [ Links ]

Jonker, W.D. 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: UNISA.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. sa, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. Sl:sn.         [ Links ]

Kock, P.de B. 1975. Christelike Wysbegeerte - Inleiding. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

Kruger, L.S. et al 1966. Handleiding by die Kerkorde. Potschefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Langner, D. 2007. Teen die hele wêreld vry - Koot Vorster, segsman of profeet? Pretoria: Griffel.         [ Links ]

Lombard, R.T.J. 1981. Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepolitiek met spesiale verwysing na die jare 1948-1961. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Loots, Z.B. sa. Het die NG Kerk in Suid-Afrika n presbiteriale kerkregeringstelsel? Sl:sn.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerk in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1957. Handelinge van die Raad van Kerke. Sl:sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO 1962), 1962. Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO 1998), 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat (NGK OVS), 1960. Handelinge Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers, 1982. Onsglo... Wellington; NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers. 2001. Liedboek van die kerk. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Sadler, T.H.N. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Sizoo, A sa. Calvijn Institutie III. Delft: Meinema.         [ Links ]

Spykman, G.J. 1988. Christian Philosophy as prolegomena to Reformed dogmatics. In: Wethmar, C.J. en Vos, C.J.A. 'n Woord op sy tyd. Pretoria: NG Kerkboekhandel 1988.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1989a. Die Bybel: enigste bron vir gereformeerde kerkregtelike beginsels? Hervormde Teologiese Studies 45/1, 79-98.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1989b. Geen kerk oor 'n ander... Acta Theologica 9/1, 1-14.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1993. Op die tweesprong? Bloemfontein: UV.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1994. Die Algemene Sinode van 1966 van die Ned Geref Kerk en apartheid. Studia Historiae Ecclesiastica 20/2, 195-214.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2008a. Die Kerkorde van die Ned Geref Kerk: uitgangspunte ten opsigte van Skrif, belydenis en kerkorde. Acta Theologica 28/2, 104-118. https://doi.org/10.4314/actat.v28i2.48886        [ Links ]

Strauss, P.J. 2008b. Wysbegeerte van die Wetsdidee. In: Gaum, F. et al. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Bybelkor.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2013. Kerkwees in die branding. Die Ned Geref Kerk in algemene sinodale verband 19942011. Acta Theologica Supplementum 18. Bloemfontein: Sunmedia. https://doi.org/10.4314/actat.v33i1s.1        [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onderdie Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia. https://doi.org/10.18820/9781920382674        [ Links ]

Strauss, P.J. 2016a. Die Ned Geref Kerk en die Afrikanervolk kerkordelik verwoord. Stellenbosch Theological Journal 2/2, 447-465.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2016b. Die Ned Geref Kerk, kerkorde en onderwys. Koers 81/2, 27-34. https://doi.org/10.19108/KOERS.81.2.2256        [ Links ]

Strauss, P.J. 2016c. Die Ned Geref Kerkorde van 1962: die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van die dag? In die Skriflig 50/1, nr 2135. https://doi.org/10.4102/ids.v50i1.2135        [ Links ]

Theron, P.F. 1988. Natuur en genade, kerk en volk. In: Wethmar, C.J. & Vos, C.J.A. 'n Woord op sy tyd. Pretoria: NG Kerkboekhandel 1988, 157-172.         [ Links ]

Van de Beek, A. 1988. Hermeneutiek van het kerkorde. Van't Sijker, W. & Van Drimmelen, L.C. Inleiding tot de studie van het kerkrecht. Kampen: Kok, 59-74.         [ Links ]

Van Dellen, I. & Monsma, M. 1967.The revised church order commentary. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van der Linde, G.P.L. 1965. Die grondbeginsels van die presbiteriale kerkregeringstelsel. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die kerkorde vir die Ned Geref Kerke: besware daarteen en betekenis daarvan. Ned Geref Teologiese Tydskrif (NGTT) Sept 1960, 12-18.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Pieter Johannes Strauss
Interne Bussie 90, Posbus 339, Bloemfontein, 93002

Published: 21 Aug 2018

 

 

1 Let op Strauss 2010:17 wat die verband tussen 'n eietydse DKO en 'n eietydse NGKO 1962 veral in die gemeenskaplike komstantes of waarhede agter artikels en nie in die herhaling van bewoordings nie, sien. Vir voorbeelde van die DKO oorgeneem in die NGKO 1962, kyk Strauss 2016c.
2 Vgl Strauss 2008a:106-108, Die Kerkorde van die Ned Geref Kerk: uitgangspunte ten opsigte van Skrif, belydenis en kerkorde, Acta Theologica 28/2, 106-108.
3 Spykman wys in die verband op die waarde van 'n Bybelse wêreldbeskouing wat met sy ven-noot 'n Christelike filosofie, lewenskrag gee aan daardie antwoorde wat mense vra, Spykman 1988:138.
4 By Strauss 2008b:1203-1204 gaan dit oor die Wysbegeerte van die Wetsidee wat die denkbeel-de van Kuyper oor soewereiniteit in eie kring verder uitgewerk het en waarvan die vrug in hierdie artikel verpopulariseer word. Oor 'n samevatting van die denke van Kuyper, Dooyeweerd en Stoker kan in Gaum et al 2008:248-9, 634 en 1052 gelees word.
5 Vir die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1966 en apartheid kyk vir 'n Kuyperiaanse onderbou in die dokument 'Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (1966), Strauss 1994:195-214).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License