SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.82 issue1B.J. van der Walt's concentration problemProfessor Bennie van der Walt: A bridge between white Afrikaners and black Africans author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.82 n.1 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.19108/koers.82.1.2289 

ORIGINAL RESEARCH

 

Gereformeerde piëtisme, Hieronymus van Alphen (17461803) en die hemelse versugting in Susanna Smit (1799-1863) se godsdienstige dagboeke

 

Reformed Pietism, Hieronymus van Alphen and the heavenly quest in Susanna Smit's spiritual diaries

 

 

A.W.G. Raath

Research Fellow, Department of History, University of the Free State

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Hieronymus van Alphen se stigtelike poësie sien die lig op n tydstip wat die Nederlandse piëtisme 'n hoogtepunt bereik. Van Alphen se poësie val in twee kategorieë uiteen: poëtiese verse en digsange. Saam met Pieter Leonard van de Kasteele, was Van Alphen verantwoordelik vir die Proeve van stichtelijke mengel-poesij wat in 1771 verskyn het. Dié bron het ook in die Kaapse geloofsgemeenskap neerslag gevind. Sy Proeve van liederen en gezangen (1802 [1801]) het eweneens groot effek in Nederlandse gereformeerde kringe en aan die Kaap gehad. Beide werke speel in die Voortrekkervrou Susanna Smit se geloofsprofiel 'n belangrike rol. Dit is egter veral die sug na die hemelse vereniging met Christus wat in dié verband by Susanna sterk na vore tree. In hierdie artikel word die neerslag van Van Alphen se piëtistiese poësie in Susanna se godsdienstige dagboeke en die effek daarvan op haar godsdienstige mentaliteitsprofiel ondersoek

Sleutelterme: Gedigte, Hieronymus van Alphen, mistiek, piëtisme, Susanna Smit


ABSTRACT

Hieronymus van Alphen's pious poetry saw the light at a time Dutch pietism had reached its zenith. Van Alphen's poetry comprises both poetic literature and hymns. Acting as co-author with Pieter Leonard van de Kasteele, Van Alphen was responsible for Proeve van stichtelijke mengel-poesij [Proofs of pious mixed poems] (1771). This source had a warm reception in religious circles at the Cape. His Proeve van stichtelijke gesangen [Proofs of pious hymns] (1802) had a similar impact in Holland and in Cape Reformed circles. Both works played a significant role in the Voortrekker woman Susanna Smit's religious mentality profile, particularly the quest to be united with Jesus in heaven served as a significant point of reference in Susanna's spirituality. In this essay the impact of Van Alphen's pietistic poetry in Susanna's religious diaries and the effects thereof on her religious mentality profile are investigated

Key terms: Hieronymus van Alphen, mysticism, poems, Pietism, Susanna Smit


 

 

1. Inleiding

Sowel die spekulatiewe as praktiese mistiek is algemeen Christelike verskynsels (McGinn, 1991:xi-xx). Hoewel skrywers oor die fyner nuanses van godsdienstige mistiek verskil, is die kern van hul tiperings van dié fenomeen dat dit die gevoelsmatige gemoedsgestaltes van die Heilige in die godsdienservaring tot uitdrukking bring. Rudolf Otto beskryf dit as 'n "numinous feeling" (Otto, 1975:xiv-xv) met die klem op die nie-rasionele aspekte van die godsdiens-belewenis (Otto, 1975:194). Elders beskryf hy dit as die "preponderance in religious consciousness ... of its non-rational features" (Otto, 1975:197). Bengt Hoffman wys op die belewenisaspek: "By experience the mystic is persudaded that the seeking person can know in a way in which knowledge is not attainable by separate experience alone." Volgens Hoffman kan gebed en meditasie die mistieke band lê tussen aanbidder en God, en "apprehends the reality or some of the reality of that lordship" (Hoffman, 1976:15). Reformatore, soos Martin Luther (1483-1546), het nie onsimpatiek teenoor die mistiek gestaan nie. Veral die bruid-bruidegom-analogieë en ander toespelinge op die bruidsmistiek kom vrywel algemeen in Luther se Skrif-eksegese voor (Hoffman, 1976:155159). In Duitse, Nederlandse en Engelse piëtistiese literatuur van die sewentiende en agtiende eeue het die mistiek eweneens 'n belangrike rol gespeel.

Hoewel die piëtisme sterk mistieke trekke vertoon, verskil dit van laasgenoemde vir sover die piëtisme 'n spesifiek protestantse en kerklike verskynsel is. Die kern daarvan vat P.J. Spener saam as

(D)as Streben nach Vervollständigung der Kirchenreformation des sechszehnten Jahrhunderts als ein blosen Reform der Lehre durch Erweckung der pietas oder durch eine Reform des Lebens (Heppe, 1879: 6).

Bygevolg is die mistiek nie met die piëtisme gelyk te stel nie, hoewel dit 'n noue verwantskap daarmee handhaaf. Jodocus van Lodensteyn (1620-1677), een van die pionier-sangdigters van die Nederlandse Nadere Reformasie, het reeds in sy Beschouwinge van Zion (1683) die mistieke teologie vir die gereformeerd-piëtistiese poësie gelegitimeer. Soos wat die Reformatore die Middeleeuse teologie moes uitsuiwer, só moet dit ook met die mistiek daaraan toegaan: "De Reformateurs hebben door Gods genade geleert/dat men't verder weren/en de ware Gods-geleerdheyd laten blijven can; so moet het ook m de Mystijcke Theologie gaan" (Lodensteyn, 1683:41). Ongekwalifiseerde verwerping van die mistiek is bygevolg, volgens Lodensteyn, negering van alle werkinge van die Heilige Gees in die mens, dit ontken die mistieke liggaam van Christus, voorts "de Mystijcke gemeeynte, de Mystijcke inwooninge van de H. Dryeenicheyd in den mensche/'t Manna dat verborgen is, en al wat Mystijck of verborgen is/dat is alle inwendige onsigbare dadelijckheden en waarheden van de Godt-geleertheyd, van't Woord/ de Kercke/ de Sacramenten ..." (Lodensteyn, 1683:41). Vanaf die aanvang van die piëtistiese poësie tot met die digsange van Hieronymus van Alphen teen die einde van die agtiende eeu was die mistieke inslag van stigtelike poëtiese werke 'n wederkerende verskynsel in gereformeerde kringe.

Volgens Heinrich Heppe is die piëtisme as kerkhistoriese stroming veel ouer en is dit nie beperk tot die Lutherse piëtisme nie. Bygevolg waarsku Heppe teen die (kerk)historise verabsolutering van die Lutherse (oftewel Spenerse) piëtisme. Volgens hom is die Lutherse piëtisme 'n loot van die internasionale piëtisme (Heppe, 1879:490 e.v.). Vir Heppe is sowel die Engels-Skotse puritanisme as die Nederlandse gereformeerde piëtisme vroeëre gestaltes van die piëtisme wat in die sewentiende en agtiende eeu in Europa opgewel het. In laasgenoemde manifestasie van die piëtisme was dit veral Jean de Labadie ([16101774] met sy mistiek) en Johannes Coccejus ([1603-1669] se verbondsteologie) wat die Nederlandse piëtisme rigtinggewend beïnvloed het (Heppe, 1879:74 e.v., 215 e.v., 239 e.v.). Die vergestaltings van die piëtisme in die Engelse en Nederlandse geloofstradisies het op hul beurt tot die piëtistiese spiritualiteit in die Duitse godsdiensgeskiedenis aanleiding gegee,

Und so ist das Licht, welches einst in der reformirten Kirche jener lande [nämlich Englands und Niederlands] aufgegangen war, durch Spener zu einer Leuchte der Wahrheit und des Lebens für die lutherische Kirche geworden (Heppe, 1879:503).

Heppe se tipering van die historiese gang van die piëtisme onderlê F. Ernest Stoeffler se historiografiese tipering van dié geloofsbeweging as synde:

an historical movement within Protestantism which has its major roots in the Zwingli-Butzer-Calvin axis of the Reformation, which began to show its first characteristic evidences within English Puritanism and the Reformed churches of the seventeenth century, which influenced Lutheranism through Arndt, Spener, Francke, Bengel, and their followers, was radicalized by men like Gottfried Arnold and Konrad Dippel, romanticised by Lavater, Jung-Stlling, and others, and perpetuated within and without the major communions of Continental Protestantism for an indefinite period of time (Stoeffler, 1976: 9).

As godsdienstige kultuur sou dit aan die hand van C. Graafland, W.J. op 't Hof en F.A. van Lieburg beskryf kon word as 'n godsdienstige stroming waarvan die spiritualiteit vanaf die sestiende eeu die verinnerliking van die protestantse tradisie en teologie ten doel had, waarvan ware deurleefde vroomheid (of Godsaligheid) die fokus vorm, en mistieke gemoedsgestaltes die verhouding met God versterk en voortdurende selfbeproewing, gebed, meditasie en bestudering van die Bybel as geloofspraxis voorstaan (kyk Graafland, Op 't Hof en Van Lieburg, 1995:119-122).

Teen die einde van die agtiende eeu het Hieronymus van Alphen (1746-1803) as een van die toonaangewende eksponente van die Nederlandse piëtisme na vore getree (Post, 1995: 23, 25, 32, 53-56). Sowel wat die breë terrein van die teologie as die protestantse himnodie betref, het Van Alphen groot invloed in piëtistiese kringe uitgeoefen. Die Kaapse nedersettings- en pioniergemeenskappe in die binneland het vanaf die einde van die agtiende eeu tot die middel van die negentiende eeu ook beduidende piëtistiese invloed van Van Alphen se werke ondergaan. In hierdie artikel word op die piëtistiese inhoud van Van Alphen se digwerk gefokus, spesifiek op die neerslag daarvan in die spirituele ego-teks van Susanna Smit (1799-1863) gelet en die implikasies daarvan vir haar godsdienstige mentaliteitsprofiel kortliks oorweeg.

 

2. Hieronymus van Alphen (1746-1803) en die Nederlandse piëtisme

2.1 Die neiging tot die Nederlandse piëtisme

Hieronymus van Alphen (1746-1803), opgelei as regsgeleerde te Utrecht en Leiden, praktiseer as advokaat (vanaf 1768), dien as prokureur-generaal (vanaf 1780) en word in 1793 as ouditeur-generaal aangestel (in 1793) (De Moor, 1925:89). As stoere Oranje-gesinde kan hy hom nie met die revolusionêre regime sedert die omwenteling in 1795 vereenselwig nie, neem sy ontslag en bring die oorblywende deel van sy lewe as gewone landsburger deur (Molhuysen & Blok, 1911:88; De Moor, 1925:89).

Van Alphen se piëtistiese spiritualiteit vind neerslag in 'n hele aantal publikasies, waarvan veral sy Kleine gedichten voor kinderen (1778) vanweë die eenvoud, maklik-verstaanbare inhoud en piëtisties-moraliserende inslag daarvan spoedig groot opgang maak (Buijnsters, 1973:102). As piëtistiese digter het Van Alphen as mede-outeur van Pieter Leonard van de Kasteele (1748-1810) die bundel Proeve van stichtelijke van mengel-poezij (1771) die lig laat sien, 'n liederebundel met die titel Proeve van liederen en gezangen voor den openbaren godsdienst (1801) geskryf en 'n verskeidenheid musikale werke, historiese verhandelinge en filosofiese werke oor die estetika gepubliseer: die kantate De starrenhemel (1783), De slag van Doggersbank (1783), 'n bewerking van Riedel se Theorie der schoone kunsten en wetenschappen (1778) - waardeur hy aan die hand van Baumgarten se metodologie die grondlyne van die estetika formuleer - en sy ekklesiologiese werk De rechten der Gereformeerde gemeenten en derzelver leeraars op de kerkelijke en geestelijke goederen, van hun bezeten (1796) was enkele van sy belangrikste pennevrugte (Arrenberg, 1832:12-13).

Dit was egter veral sy godsdienstige poësie wat die oorgang van dié genre na die Romantieke digwerk in Nederland ingelui het. P.J. Blok beskryf Van Alphen se bydrae met sy Mengel-poëzij en sy Kleine gedichten as bydraes van "de bekwame maar ietwat zoetelijken Hieronymus van Alphen", en dat laasgenoemde "toonen aan, dat de dagen van de heerschappij der stijve fransche voorgangers voorbij waren en betere duitsche voorbeelden - Klopstock, Wieland - met zuiverder, hoewel naar den geest des tijds wat al te sentimenteel gevoel den dichters begonnen voor oogen te sweven" (Blok, 1914:541).

Die piëtistiese inslag van Van Alphen se literêre produkte kan tot die invloed van sy oupa, oom en dagboekskrywers in dié tradisie, soos Johann Kaspar Lavater (17411801), nagespoor word. Van Alphen se naamgenoot-oupa was 'n befaamde teoloog. Oupa Hieronymus Simons van Alphen (1665-1742) het as hoogleraar in Utrecht groot invloed gehad (Van der Aa, 1852: 205-206). J.A. Cramer beskryf hom as "een aantrekkelijke persoonlijkheid: kundig exegeet, boeiend docent, beminnelijk mens" (Cramer, 1936:21). Teologies was hy van kindsbeen 'n ortodoks-gereformeerde gelowige. Hy was, skryf Cramer, 'n ireniese figuur en van oortuiging dat "(h)et voornaamste doel der evangelieverkondiging lag ... in het aankweken van godzaligheid" (Buijnsters, 1973:2). Benewens teologiese belangstelling, had Hieronymus Simons ook 'n diepgewortelde vaderlandsliefde, patriotisme jeens die Huis van Oranje en 'n liefde vir die Duitse literatuur aan sy kleinseun oorgedra. Saam met sy kollega Friedrich Adolph Lampe (16831792), bring hy studiebeurse vir Hongaarse en Duitse jongelui met die oog op predikanteopleiding te Utrecht tot stand (Buijnsters, 1973:3). Oupa Van Alphen se grootste invloed het neerslag gevind in sy vorming van talle bekwame, vroom piëtistiese teoloë, waarvan die befaamde digter Rutger Schutte 'n sprekende voorbeeld was (Buijnsters, 1973:3).

Deur sy naamgenoot-oom aan vaderskant het Hieronymus van Alphen van die Lutherse graaf Von Zinzendorf en die Herrnhutse Broederskap se piëtisme kennis geneem (Molhuysen & Blok, 1911:88-89). As hofprediker van die prinses-weduwee Marie-Louise van Hessen-Kassel (moeder van Willem Karel Hendrik Friso), het eersgenoemde met die werksaamhede van die Evangeliese Broedergemeente (later bekend as die Herrnhutters) kontak gemaak. Tydens Zinzendorf se besoek aan Nederland in 1719, deur die prinses se vriendskap met Zinzendorf en laasgenoemde se besoek aan Amsterdam in 1736 - met die doel om 'n broedergemeente daar te stig - het oom Van Alphen noue bande met die Herrnhutters opgebou (Molhuysen & Blok, 1911:87-88). Uiteindelik sou Van Alphen met die organisasie van die Broedergemeente in Amsterdam behulpsaam wees, saam met Isaäc le Long en Samuel Rademacher in Zinzendorf se geheime Orde van die Mosterdsaad opgeneem word en in 1738 as praeses van die Broederskap se sendingvereniging optree (Lutjeharms, 1935:104). Hoewel hy uiteindelik van Zinzendorf vervreemd geraak het, sou sy jong broerskind en naamgenoot van die Herrnhutter-spiritualiteit kennis neem (Buijnsters, 1973:4-5). Hoewel oom Van Alphen nie oor noemenswaardige literêre talent beskik het nie, sou sy geestelike affiniteite wel op sy broerskind effek hê. Spore van godsdienstige toegeneentheid is veral te bespeur in sy digwerk wat onder die titel Honderd geestelijke liederen in 1744 te Leeuwarden verskyn het. Van die skrywer en sy werk merk Buijnsters op dat die digter "toont ... zich hier meer predikant dan dichter" en Van Alphen se produk beskryf hy as 'n "kunstloze gerijmel vol stoplappen en gewrongen zinswendingen, meer redenerend dan zingend, mist elke waarde als literair model. Maar ook zonder artistiek raffinement preludeert het bundeltje op de stichtelijke poëzie van de dichter Hieronymus van Alphen" (Buijnsters, 1973:5). Volgens Nepveu was dit egter juis vanweë dié digwerk dat die jong Hieronymus "met de teederste genegenheid" aan sy oom geheg was (Nepveu, 1839:xxvii).

Hoewel die jonger Hieronymus van Alphen 'n geneigdheid tot asketiese teruggetrokkenheid vertoon het, het die ekstrovertiese teoloog-skrywer Johann Kaspar Lavater (1741-1801) groot indruk op hom gemaak. Laasgenoemde was 'n skrywer en godsdienstige digter wat, volgens T.N Hanekom, as 'n gevoelsmens, besielde prediker, apologeet en kerkman beskryf kan word, hoewel ook die Verligtingsdenkers soos Johann Gottfried Herder (1744-1803) en Johann Wolfgang von Goethe (1749-1832) tot sy vriendekring behoort het (Hanekom, 1959:89n). Lavater se verset teen die Verligtingsdenke kom die duidelikste tot openbaring in sy Aussichten in die Ewigkeit, wat vanaf 1768 tot 1778 in vier dele verskyn het. Deur sy spekulatiewe kontemplasies oor die lewe ná die dood, plaas Lavater homself in die geledere van die piëtiste, quietiste en illuministe - in dieselfde spekulatief-spiritualistiese trant as die pre-Romantici Emmanuel Swedenborg (1688-1772), Johann Georg Hamann (1730-1788) en Heinrich Jung Stilling (1740-1817) (Buijnsters, 1973:81). As jong predikant-digter is Hieronymus van Alphen vanweë sy gevoel van verbondenheid met sy vroeg-gestorwe vrou dermate deur dié werk gefassineer dat hy moeite gedoen het om Lavater se werk te vertaal. Dit was egter Lavater se piëtistiese spirituele introspeksie wat in 'n geheime dagboek tot openbaring gekom en sterk op die godsdienstige gemoed van die jong Hieronymus ingewerk het. Dié dagboek, wat in 1771 te Leipzig as Geheimes Tagebuch gepubliseer is, sou uiteindelik as model vir die "gemoedsdagboeke" van onder andere Rheijnvis Feith (1753-1824), Catharina Allegonda van Lier (1768-1806) en Jacob van Loo (1743-1797) dien. Buijnsters tipeer die styl van Lavater se dagboek as "gepraktiseerde zelfontlediging, de minutieuze aandacht voor eigen doen en laten vanaf het moment van opstaan tot het tijdstip van slapen gaan, het streven vooral om die alledaagse bezigheden of gedachten te heiligen" - tendense "geheel in de lijn van de piëtistische praktijk" (Buijnsters, 1973:82). Van Loo se Dagboek van J. van Loo, in leven predikant te Ootmarsum (Amsterdam, 1814) en sy Gedagten en gevoelens van een Christen (Utrecht, 1796) sou sterk stukrag aan dié literêre genre gee. Van Alphen was egter een van die voorlopers wat momentum aan hierdie nuwe Nederlandse literêre styl sou verleen. Sedert 30 Desember 1774 noteer hy vrywel daagliks, soos Buijnsters dit noem, "de temperatuurschommelingen van zijn ziel" ten einde sy geestelike vordering onderweg na hemelse gewestes op skrif te stel (Buijnsters, 1973:82).

Die piëtistiese inslag van Lavater se dagboek, wat in die Nederlandse piëtisme tot ontluiking van 'n outobiografiese ego-spirtualiteit bygedra het, vertoon volgens W.F.G. Breekveld onderskeidende trekke van "groot geestelijk belang van eenzame natuurbeleving; voortdurende ontmaskering van de eigen motieven tot handelen, zelfbeschuldiging van hoogmoed; onvrijmoedigheid als beletsel van geestelijke voortgang; typering van de ongodsdienstige buitenwereld as 'woelig' en 'woest'; aandacht voor markante data: Nieujaar, de eigen verjaardag" (Breekveld, 1949:87 e.v.) - kenmerke wat mettertyd huishoudelike geneigdhede van piëtistiese egotekste sou word.

Benewens invloed van familie en teoloë soos Lavater, het die aktiewe piëtistiese godsdienskultuur te Utrecht met die meegaande funksionering van "geselskappe" en "konventikels" 'n ontvanklike bodem vir piëtistiese neigings gebied. Sowel stigtelike geselskappe as piëtistiese huisoefeninge was deel van die dinamiese godsdienskultuur in Utrecht (Buijnsters, 1973:52). Die leesgeselskappe was merendeels akademies van inslag, synde vergaderings wat 'n wetenskaplike karakter vertoon het. Dié huisoefening van vromes, waar gesing en gebid is, het ook geleentheid vir die gebruik van populêre liederebundels van Johannes Eusebius Voet (1706-1778) en Rutger Schutte (1708-17784) gebied. In Utrecht het Jodocus van Lodensteyn 'n sterk kultuur van dergelike huisoefeninge gevestig (Buijnsters, 1973:54). Van meer resente datum was die konventikels wat onder invloed van die Duitse piëtistiese predikant-digter Friedrich Adolph Lampe (1683-1729) te Utrecht gebloei het. Reeds in sy Uyt-spanningen (1676) maak Jodocus van Lodensteyn melding van "soet geselschap" wat te Utrecht gefunksioneer het (Lodensteyn, c. 1730:82, 134), terwyl Lampe verwys na "gezelschappen" in die vorm van konventikels (Buijnsters, 1973:54). Van Van Alphen se deelname aan dié byeenkomste, verklaar P.J. Buijnsters dat 'n duidelike geesverwantskap tussen die vrome huisoefeninge in Van Alphen se kring en die Lampiaanse konventikels - waarvan dit 'n reëlregte voortsetting was - gevorm het (Buijnsters, 1973:54). Van Alpen was besonder toegewyd aan die hou van huisoefeninge in die vorm van "Avond-huis-stichting" waarby, volgens Nepveu, al sy huisgenote -insluitende die diensbodes - van welke godsdienstige oortuiging ookal, teenwoordig moes wees - waarskynlik 'n uitvloeisel van sy asketies-geneigde persoonlikheid en "dat hij geene dan vrome gezelschappen zocht, en zelden of ooit uitging, tenzij wegens zaken of bezigheid ..." (Nepveu, 1839: lxxxii).

2.2 Hieronymus van Alphen se bydrae tot die Nederlandse piëtisme

2.2.1 Proeve van stichtelyke mengel-poëzij (1771)

Van Alphen se bydrae tot die Nederlandse piëtistiese literatuur kom tot uiting teen die einde van die piëtistiese era in Nederland. Sy bydrae geskied hoofsaaklik langs die weg van sy poësie. Dié poëtiese nalatenskap bestaan uit stigtelike liedere en digwerk. Voorts vorm sy digwerk en liedere 'n onverbreeklike eenheid - 'n groot deel waarvan waarskynlik geïnspireer is deur die sing van piëtistiese liedere en digverse - byvoorbeeld Jodocus van Lodensteyn en andere - by konventikel-byeenkomste wat deur Van Alphen bygewoon is. 'n Beduidende deel van Van Alphen se poësie sou as leesverse beskryf kon word -die meer literêre fasette van sy piëtistiese poësie - terwyl sy liedere meer prominente stigtelike trekke vertoon.

Uit van Alphen se pen (as mede-outeur P.L. van de Kasteele) verskyn in 1771 die eerste besonderlik populêre Proeve van stichtelyke mengel-poëzij (Utrecht). Die volgende jaar volg Stigtelyke mengelpoëzij (eerste stukjen) (Utrecht). Die daaropvolgende jaar publiseer die outeurs Stigtelyke mengelpoëzij (tweede stukjen) (Utrecht) en in 1782 Stigtelyke mengelpoëzij (derde stukjen) (Utrecht). In 1777 volg van Alphen se Gedigten en overdenkingen.

Die Proeve van stichtelijke mengel-poëzij (1771) bevat hoofsaaklik liedere om in huislike kring gesing te word. By elf tekste het die outeurs sangwyses aangegee, terwyl die orrelis J.C. Kleijn in 1774-1775 twee afsonderlike boekies met Zangwyzen tot de proeve van stichtelyke mengel-poëzy die lig laat sien het (Buijnsters, 1973:58). Dié werk is gewy aan "allen die Jesus Christus in onverderflijkheid lief hebben" en die piëtistiese toon deurspek die leesverse in die bundel. Reeds in die wydingsaanhef slaan die piëtistiese ondertone van Jesus-gesentreerde geloofstoewyding onverbloemd deur: "Immanuël! ach! deed uw Geest ons branden!/ Dat ootmoed dat geloof ons kragten gaf!/ Sla nauwer tog om ons uw' liefde banden!/ Dan reizen wij al zingend naar het graf" (1771: "Voorrede").

In die "Voorrede" stel die outeurs die werk ter beskikking van die godvrugtige leser om "tot vermaak en stichting" te dien. Op beskeie toon verklaar die skrywers dat hul digpogings nie opweeg teen Jodocus van Lodensteyn se Uytspanningen nie. Voorts word verskeie bekende agttiende-eeuse piëtistiese digters gehuldig: Johannes Vollenhove (1631-1708), Pieter Boddaert (1694-1760), Johannes Eusebius Voet (1706-1778) en Rutger Schutte (1708-1784), "welker Digt-, en Zang-stukken zo wel volgens kunst en geest te roemen, als wegens Godsvrugt hoog te schatten zijn" (Van Alphen & De Kasteele, 1771: Voorrede). Die outeurs verwag nie om alle lesers tevrede te stel nie, maar om 'n bydrae tot die bevordering van stigtelike sang te lewer:

Allen te behagen kunnen wij niet verwagten - Gods volk te stigten is ons genoeg - andere Digters van hooger geest door onze laagheid tot het zingen van de verhevenste waarheden van het Euangelie aan te spooren zoude ons aangenaam zijn - en zelve door groter gaven der genade, en eene meerder kennis van Jesus Christus bekwaam gemaakt te worden om eens vrolijker, treffender en meer tot Gods eer te zingen ... (Van Alphen & De Kasteele, 1771: Voorrede).

Die Christosentries-hemelsgerigtheid en bruidsmistiek in protologies-metaforiese terme van die digsange is opvallend. Die eerste gedig verskyn onder die opskrif "Opwekking tot heilig zingen", waarvan vers 1 inlui: "Gij, Jesu! lust van 't leven!/ Mijn' vreugd, en zaligheid!/ Hebt u aan mij gegeven;/ Uw' gunst mij toegezeid ..." (Van Alphen & De Kasteele, 1771:1). Soos by Rutger Schutte (1708-1748), figureer die versugting om met Christus in die hemel verenig te wees prominent in talle aspekte van Van Alphen se poësie (Raath, 2016:1-17).

Die verlossingswerk van Christus - vanaf die krip-geboorte te Bethlehem tot met die hemelvaart en vereniging met die gelowige siele in die hemel - word in bruidsmetaforiese beskryf: "Laat ik u dan beminnen;/ En zingen om mijn lot!/ 'k Zal van uw'krib beginnen,/ Mijn Broeder en mijn God!" Daarna word in digterlike taal beskrywings gegee van God se openbaring in die vlees (Van Alphen & De Kasteele, 1771:2); God se genade as sangstof vir die sondaar-mens (Van Alphen & De Kasteele, 1771:6-8); die storting van Jesus se versoeningsbloed (Van Alphen & De Kasteele, 1771:9-10); die sondaar se treurige herinneringe oor eie sonde en blymoedige vertroosting deur die soendood van Christus (Van Alphen & De Kasteele, 1771:11-16). Deurentyd figureer die bewussyn van sonde as 'n sentrale gedagte in die digstukke:

Denk ik aan de uuren, dagen, jaaren, rollend voortgesnelt,/ Denk ik aan mijn dolend zwerven, zwervend hollen, dan vermelt/ 't Weenend hart, dat, voortgedreven, afgeteistert, snood bemorst,/ 't Kneuzend juk der vuile zonden zo gewillig heeft gestort. (Van Alphen & De Kasteele, 1771:11).

Protologies-mistieke Hoogliedmetafore beskryf die intiem-persoonlike verhouding tussen Christus en die gelowige siel: Jesus is die siele-bruidegom (p. 13, 30) en die gelowige siel die "teerbeminde bruid" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:13, 81): "Liefde zal die stem niet smoren,/ Maar verhoren/ 't Bang gekerm van Jesus Bruid" (Van Alphen & De Kastele, 1771:88).

Die vereniging van Christus en die gelowige siel word finaal in die hemel beseël. Derhalwe is die sug van die gelowige deurentyd om hemelwaarts die weg van Christus, wat reeds opgevaar en die hemel vir die gelowiges verwerf het, te bewandel (Van Alphen & De Kasteele, 1771:18). In die dialoog tussen "Immanuel" en die siel getuig laasgenoemde: "Ik volg mijn redder, 'k volg naar 't Hemelsche Vaderland" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:26) en : "Jesus zet den hemel open, dien Gods gramschap voor u sloot" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:29). Ook word geloof van die hemel geskenk: "Ja, zoo we uit den hemel 't geloof niet ontvangen,/ Dan zal men vergeefs naar de vrugten verlangen" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:37).

In "De vrolijke reiziger" word die hemelwaartse weg van die gelowige uit die knellinge van die aardse bestaan verwoord: "Wijk weereldsch gewemel/ Ik moet naar den hemel;/ Verhinder me niet,/ Weg zonden! zwijgt lusten!/ Ik wil hier niet rusten/ In's vijands gebied" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:65). Derhalwe sien die gelowige uit na die hemelse gemeenskap tussen die gelowige bruid en die Bruidegom: "De hemel wagt/ Om eeuwig 't is volbragt/ Met Jesus' Bruid te zingen (Van Alphen & De Kasteele, 1771:81). Dié hemelse vereniging met Jesus word skerp teenoor die ondermaanse wêreld van gewoel en gewemel afgeteken (Van Alphen & De Kasteele, 1771:121, 129).

Teen die einde van die agtiende eeu het Van Alphen se liriese verse oor die aardse stryd van die gelowige en die sug na die saligheid van die hemelse oorde in sowel Nederland as aan die Kaap in talle ego-dokumente vrugbare neerslag gevind. Jacob van Loo (1743-1797) se Dagboek bevat verskeie hartroerende uittreksels uit Van Alphen se poësie - onder andere laasgenoemde se treursang oor die afsterwe van sy vrou (kyk van Loo, 1814:47, 132, 148). Aan die Kaap maak Catharina Allegonda van Lier in haar "Gemeensamen Brieven" met waardering melding daarvan dat sy opgebeur kan word "in 't midden mijner droefheid, en zingen met mijn geliefde Dichters Van Alphen en Van de Kasteele! 'k zet bergen van zonden, in zeëen van genaê'" (Van Lier, 1806:139). Dié reëls kom uit Van Alphen en Van de Kasteele se Stichtelijke mengelpoëzij (1782). Dit vorm deel van vers VI van "Boetzang eener wederkeerende ziele" (Van Alphen & De Kasteele, 1771:83) - 'n lied wat die gelowige se sondelas en die beroep op God se genade in Jesus Christus besing: "Is, hemelsche Vader!/ Uw Zoon nog mijn vrind?/ Is zulk een verrader,/ Als ik ben,/ uw kind? (Van Alphen & De Kasteele, 1782:82).

By oordenking van eie sondigheid, haal Catharina van Lier aan uit die "Avondlied" van Van Alphen en De Kasteele se Stichtelyke mengelpoëzij: "Ach zondigd ik nimmer!/ Die tijd zal eens komen; Gods Vaderlijke oogen/ Bemoedigen mij/ Die tijd zal eens komen, al ben ik nog zondig,/ Och zondigd ik nooit (Van Alphen & De Kasteele, 1782:21).

Teen die middel van die negentiende eeu dien dieselfde bundel vir die Voortrekkervrou Susanna Smit tot versterking en vertroosting in die benarde finansiële en kerklike omstandighede waarin sy haar bevind. Ongeveer 26 Augustus 1843 vertrou sy haar neerslagtigheid aan haar godsdienstige egoteks toe, "geparst door eene geest van ontevredenheid" (Smit, 1842-1863, 2:41). Sy gaan onder andere gebuk onder die aardse las van beswaddering deur 'n mede-inwoner van Pietermaritzbug, die "laaktaal van een arm worm" (Smit, 1842-1863, 2:41). Midde-in haar klaginge skiet die vertroostende voorbeeld van Christus wat alle aardse vernedering moes verduur, haar te binne. Die voorbeeld van Christus bring 'n mate van berusting:

Immers neen; ik moet zwijgen, omdat Jezus zweeg en mijn daar in verheugen dat men liegende alle kwaad tegen mijn spreek, en dan met zwijgend lijden mijn Vader eeren, met Zijne geliefde Zoon te volgen in welk een doornig pad het ook ook zij. Ook hier staan de merken Zijner dierbare voeten geprent! O mijn hart wirt ligter! ik voel mijn ontfermer rijkt mij den hand. Amen Heere. Ik zal volgen, leid uwe worm, zacht moediglijk op den weg die gij voor haar heeft afgebaakt (Smit, 1842-1863, 2:41).

Die vooruitsigte van die hemelse met Christus bring berusting en 'n besef van die "heilzame uitwerking, dien beproewing" in haar lewe (Smit, 1842-1863, 2:41). Van Alphen se gedig "De vrolijke reiziger" beskryf die pelgrimstog van die gelowige na die salige hemelse oorde: "Weg weereldsch gewemel/ Ik moet naar den hemel;/ Verhinder me niet/ Weg zonden! zwijgt lusten!/ Ik wil hier niet rusten/ In 's vijands gebied (Van Alphen & De Kasteele, 1771:16 (vers I). Susanna haal aan uit vers VII: "'k Zie soms aan de kimmen/ Mijn Vaderland glimmen;/ Maar is 't al eens nagt,/ 'k Blijf egter aan 't loopen;/ Gelooven en hopen/ Geeft ijver en kragt. (Van Alphen & De Kasteele, 1771:18).

2.2.2 Proeve van liederen en gezangen voor den openbaaren godsdienst (1802 [1801])

In die "Berigt" tot dié bundel, spreek van Alphen die wens uit dat hoewel die Hervormde Kerk in Nederland indertyd nie oor voldoende liedere en gesange vir gebruik in die "openbaaren Godsdienst" beskik nie, digskrywers sy voorbeeld sou kon volg om 'n bydrae in dié verband te lewer (Van Alphen, 1802:III). In dié gees bied hy sy "kleine proeve aan mijne hervormde mede-Christenen" aan - synde 'n poging waarvan die digstukkies bedoel is om tot stigting te dien (Van Alphen, 1802:IV). Van Alphen se wens is dermate vervul dat 'n hele aantal van sy liedere in die gesangebundel van die Nederlandse Hervormde Kerk opgeneem is. Voorts het sy digsange in die egotekste van gelowige piëtiste neerslag gevind. In die Voortrekkergemeenskap van Pietermaritzburg was Susanna Smit een van waarskynlik talle protestantse gelowiges wat geestelike verkwikking uit van Alphen se gesangebundel geput het.

Ongeveer Donderdag 1 Februarie 1844 voer Susanna Smit 'n intiem-persoonlike gesprek met Christus en vind troosryke gedagtes van Jesus wat haar "geheel doorgrond en kend" (Smit, 1842-1863, 6:52). Die nabyheid van Christus bemoedig haar op haar weg ten hemele: "Hij ziet de nederlaage die ik krijgt. Doch Hij ziet ook hoe ik worstelend, kruijpt en wormt om den reis tot Hem voort te zetten" - 'n weg deur die dood en graf (Smith, 18421863, 6:46). Sy bely ook dat om 'n volgeling van Christus te wees is uitnemende genade soos die apostel Petrus ook moes leer (Smit, 1842-1863, 6:47). Sy bid vuriglik dat Jesus die liefde van die Vader in haar hart mag stort ten einde 'n lewe van dankbare toewyding tot met haar toetrede tot die hemelse vaderland te lewe. Vervolgens bid sy "en laat myn nooit vergete mijn Heiland vlood van mijn vaders stad, land op dat ik tot mijn eeuwig Vaderland zoude weder gebracht worden". Op grond van Jesus se bloed het sy toegang tot die hemel en verwerf sy die reg op toetrede "tot den vaderland daar ik voor eeuwig was uitgevallen weder te keeren" (Smit, 1842-1863, 6:52). Susanna se reis na die hemel is 'n pelgrimstog waarvan sy uit Van Alphen se Proeven aanhaal tot dien effekte dat Jesus die aardse reis na die hemel voltooi het ter verlossing van sondaars: Laat de vijand Hem belagen;/ Drijven uit zijn moederland,/ Waar hij vlugt, zal God Hem dragen,/ En bedekke met zij hand (Van Alphen, 1802:48 (strofe vyf).

Die sewende strofe besing Christus se aardse pelgrimsreis: Jesus voorspel heil aan die mensdom; Hy wek geloof en liefde, maak duiwels gedweë, deel aan armes rykdom mee, skenk voete aan kreupeles, laat blindes sien en maak dooies lewend (Van Alphen, 1802:49). Strofe agt bely dat alle mense slegs één Redder en Saligmaker het: Jesus Christus: "Wie op den Verlosser ziet,/ zingt hetzelfde zegelied;/ Zal met saamgevoegde handen,/ Voor Jehovah wierook branden (Van Alphen, 1802:50).

Te midde van liggaamspyne bepeins Susanna op 23 Mei van dieselfde jaar die weldade van God, "hoewel gebroken door pijn, toch telkens weder werkzaam met zierlijken plaatzen uit Gods Woord" (Smit, Dagboek 8:35). Sy dink oor haar aggressiewe optrede jeens die huishulp Maria en by nadenke oor die omstandighede van haar seun George in die Kaapkolonie, verval sy "tot een graad van angsvalligheid, die mij in een akelige toestand bragt" (Smit, 1842-1863, 8:35). Dan skiet Van Alphen se woorde van God as enigste toevlug vir die verslae gemoed haar te binne tot dien effekte dat Jakob se worsteling aan die Jabbok en Moses by aanblik van die Egiptiese oormag in die Bybelse geskiedenis onderstreep dat tye aanbreek dat geen aardse uitredding moontlik is nie: "Toen bleef hem niets, dan God! ... Hij riep en op zijn smeeken,/ Moest van dien groote Naame vriend en vijand spreken" (Van Alphen, 1802: 73).

Vanaf Sondag 21 September tot Donderdag 2 Oktober 1845 ervaar Susanna erge geestelike aanslae: "harde en ruwe stormen", so erg "dat ik volstrek gene de minsten gelegenheid nog dag nog nacht had iets te schrijven van den leeuw uit den duisterpoel was uitgelaten" (Smit, Dagboek 18:19). God het in sy onmeetlike barmhartigheid egter voorsiening gemaak deur Jesus Christus, "den Zoone Gods", wat haar door Zijne genade over alle zwakheeden des lighaams zal triomferen" (Smit, Dagboek 18:19). Haar dankbaarheid vir verlossing uit die aanslae van die duiwel, het sy aan Christus se genade te danke dat Hy "met Zijne liefling Van Alphen [haar] heeft leeren zingen". Weer eens is dit 'n lied met hemelse gerigtheid: "Ach! niets van ons! maar ý al van Hem!/ Zo komt men in Jerusalem!/ Zo treed men, needrig -onbevreest,/ Gods tempel in, bij 't eeuwig feest! (Van Alphen, 1802:31).

Dinsdagoggend 16 Junie 1845 uit Susanna die versugting dat haar kinders ook in die opstanding van die dode mag deel. Aanleiding daartoe was 'n gedagte wat sy die vorige Sondag onder godsdiens by haar aan huis had. Dié "huiselijke godsdienst" het uiteindelik in getalle verskraal sodat "onzen vergadering bestond slegts uit zes perzoonen". Dit stem haar treurig "om te zie dat de oude gezelschap zoo verminderde" (Smit, 1842-1863, 23:14). Die wekteks van dieselfde oggend skiet haar te binne, synde "schooner dan de schoonste daagen, is de Kerstfees voor de ziel" (Smit, 1842-1863, 23:14). Sy probeer onthou waar sy die uitdrukking gelees het ("in eenig gezang of geestelijke lied" (Smit, 1842-1863, 23: 14) Dan herinner sy haarself daaraan dat sy "zoo-iets in Van Alphens lieder-boek gezien te hebben" (Smit, 1842-1863, 23:14). Die res van die lied kon sy nie sing nie omdat sy die boek nie had (Smit, 1842-1863, 23:14) - 'n aanduiding dat sy hele strofes uit van Alphen uit die hoof probeer weergee. Van Alphen se lied verskil in enkele opsigte van wat Susanna haar kon herinner: "Schooner dan de schoonste dagen/ Is de Kerstnagt voor de ziel,/ Die, door 't wagten diep verslagen,/ Moedeloos als nederviel" (Van Alphen, 1802:48). Dié reëls kom uit Van Alphen se tweede Kerslied wat die geboorte van Christus verhaal -'n lied reeds voorheen deur Susanna vermeld Die Jesus-gerigtheid van die lied vind 'n hoogtepunt in die laaste twee reëls van die laaste strofe: "eeuwig blijft het menschdom hooren:/ UW VERLOSSER IS GEBOOREN! (Van Alphen, 1802: 51).

Susanna het waarskynlik deur middel van haar moeder met Van Alphen se poësie kennis gemaak. 'n Roerende relaas van die laaste ure van haar moeder en haar laaste sterwenswoorde is opgeteken onder 26 Januarie 1847 (Smit, 1842-1863, 28:15). Dié inskrywing getuig van die geloof van Susanna se moeder, haar Jesus-gesentreerde toewyding en die geestelike ondersteuning wat sy uit van Alphen se poësie kon put. Voor sy haar sterwenswoorde uiter, haal sy aan uit Van Alphen se proeve: "Waar ons geen schepsel helpt, helpt Hij;/ Als alles vlugt, staat Hij nabij ... (Smit, 1842-1863, 28: 14-15). Dié woorde kom uit 'n lied in Van Alphen se gesangeboek, gedig op die melodie van Psalm 134 - 'n vroeër aangehaalde digsang in haar spirituele egoteks. Die eersvolgende strofe beskryf Jesus se ondersteunende liefde deur graf en dood: "Als wij de doodsvallei betreen,/ Laat ons de beste vriend alleen./ Maar Jesus draagt ons in zijn schoot,/ Tot aan, en over, graf en dood" (Van Alphen, 1802:30).

 

3. Samevatting en gevolgtrekking

Parallel tot die piëtistiese geneigdhede in Duitsland, Nederland en Engeland in die agtiende en negentiende eeue, met die gepaardgaande klem op mistiek, vroomheid en spirituele toewyding aan Christus, het vroulike protestantse gelowiges in Suid-Afrikaanse voorposgemeenskappe tendense weerspieël wat analoog staan tot die opbloei van die dertiende en veertiende-eeuse mistiek in Europa. Dié tendense is in beduidende opsigte gestimuleer deur mistieke literatuur en die marginalisering en isolasie van veral vroulike gelowiges in Europese gemeenskappe - tendense wat op analoë wyse ook in Suid-Afrikaanse pioniersgemeenskappe ontluik het (Raath, 2014:95-116).

Die pioniersvrou Susanna Smit se verbintenis tot introspeksie, meditasie en eensame oordenking - soos vervat in haar godsdienstige dagboeke - geskied binne die konteks van haar voorkeure vir literatuur met 'n Nederlands-piëtistiese inslag, die ekonomiese, politieke en kerklike omstandighede waarin sy haarself bevind en die onsekerhede waaraan die Voortrekkergemeenskap in Pietermaritzburg teen die dertiger- en veertigerjare van die negentiende eeu blootgestel was. Daarbenewens het persoonlike en huislike omstandighede soos onstipte bediendes, kwellinge oor haar seun, fisieke pyne en die armoedige leefwyse wat sy en haar man gehandhaaf het, tot haar asketiese en spiritueel-geïsoleerde bestaan bygedra (Raath, 2003:121-150).

Hieronymus van Alphen se Stichtelijke mengel-poëzij en sy Proeve was - soos vir ander piëtistiese vroue aan die Kaap en op die binnelandse voorposte - bronne wat hulself spontaan vir eensame meditasie en gebruik in kleiner geloofsbyeenkomste en konventikels aangedien het. Veral die mistieke inslag van protologiese bruidsmistiek en versugtinge om met Christus in die Hemel verenig te word, is belangrike temas van dié literatuur. Van Alphen se liedere aanskou die lig teen die einde van die piëtistiese era in Nederland - 'n tydvak waar die belydenislied al hoe meer deur die persoonlike vroomheidsliedere vervang word. Volgens die Duitse filosoof Dilthey lê die waarde van dié ontwikkeling in die piëtistiese wêreld in die ontluiking van 'n nuwe beskouing van die estetika van God se skepping en Jesus se beminlike verhouding met die gelowige siel. Volgens Dilthey sou dit onder andere in die kerklied sy verhewe gestalte by Georg Frederick Händel (1685-1759), Johann Sebastian Bach (1685-1750) en ander komponiste van kerkliedere uit dié tyd kry. Dilthey vertolk die piëtisme as die laaste intense skepping van Protestantse religieusiteit. Die piëtisme kom tot vergestalting as "eigene mächtige Impulse" ter bevordering van die religieuse lewe in Engeland, Nederland en Duitsland. Die hoogtepunte van dié opwellende gemoedsreligieusiteit kom tot vergestalting in 'n nuwe waardering vir die estetiese - 'n tendens wat sigself veral in die Protestantse kerklied openbaar:

So sprach das Kirchenlied von Paul Gerhardt bis Zinzendorf das Gefühl der friedseligen Schonheit der Welt aus, die der mit Gott vereinigten Seele aufging. Von Milton bis Klopstock reicht dann die grosse Dichtung, welche das Epos des Falles und der Erlösung zum Gegenstande hatte. Und den Höhepunkt dieser künstlerischen Darstellung der protestantischen Religiosität bildete die kirchliche Musik von Bach und Händel (Dilthey, 1976:75).

Mettertyd word die kerklied die mees verfynde uitdrukkingsvorm van Protestantse religieusiteit in dié literatuur. Die inslag van die kerklied transformeer geleidelik vanaf belydenislied na aanbiddingslied. In Duitsland bereik dit 'n hoogtepunt in Paul Gerhardt (1607-1676) en Johan Heermann (1585-1647) se liedere; in Nederland in die liederedigte van Hieronymus van Alphen, P.L. van de Kasteele en Eusebius Voet. Teen die middel van die agtiende eeu verkeer die gemeentelike bewussyn en die betrekking daarvan op die kerklike lewe, die erediens en die kerklike feesdae steeds in harmonie met die persoonlike religieuse ervaring van die geloofsubjek. Die poëtiese uitdrukking van die persoonlike religieuse ervarings kry egter toenemende momentum deur die digterlike nalatenskap van Martin Opitz (1597-1639) en Paul Flemming (1609-1640) in Duitsland. In Nederland lewer Pieter Boddaert en Rutger Schutte 'n betekenisvolle bydrae tot soortgelyke spirituele tendense. Die kerklied as spirituele uitdrukkingsvorm van die persoonlike religieusiteit (wat Dilthey aandui as "individuellen religiösen Innerlichkeit"), ondergaan 'n sterker impak van die mistieke spiritualiteit van Bernard van Clairvaux (1090-1153), Johann Tauler (c. 1300-1361) en Thomas à Kempis (1379-1471) - tendense wat reeds via Nicolaus Ludwig graaf von Zinzendorf (1700-1760) en Paul Gerhardt (16071676) in Duitsland en Jodocus van Lodensteyn (1620-1677), Wilhelmus Schortinghuys (1748-1801) en Willem Sluiter (1627-1673) in Nederland impak op die religieuse lied had. Daarbenewens het die werke van Friedrich von Spee (1591-1635) en Angelius Silesius (Johann Scheffler) (1624-1671) vanuit katolieke geledere ook 'n beduidende invloed op die ontwikkelende Protestantse kerklied-kultuur gehad - 'n tendens wat Dilthey tipeer as "(e)ine Flut von überschwenglicher Liebesmystik drang von hier aus in die protestantische Dichtung" (Dilthey, 1976:77). Onder die invloed van protologiese Hoogliedmistiek bloei die mistieke Jesusliedere tot volwaardige liefdesliedere. In Spee se religieusiteit ontwikkel die mistiek van Jesusliedere tot uitdrukkingsvolle liefdesduette tussen Jesus en die gelowige siel gerugsteun deur gevoelsmatige melodieë (Dilthey, 1976:77). In sy gedig "Rühelosigheit" spreek die siel Jesus aan in intieme minneterme: "Die Lieb' mich zetzt in Leiden;/ O Jesu Liebster mein" (Von Spee, 1817: 27). Onder invloed van mistici soos Molinos, Madame Guyon en Fenelon gee Angelus Silesius op sy beurt van dieselfde gevoelsmatige entoesiasme oorvloediglik blyke. Sy mistiek reik egter veel dieper en versink in mistieke panteïsme. Sy digliedere is onvlugtingsliteratuur wat ter vermyding van die wêreldse leed in die diepte van God, vanuit die ontberingsvolle wêreld in die belangelose liefde versink. God is die onmeetlike niksheid: "God is the purest naught, untouched by time and space/ The more you reach for Him, the more He will escape" (Angelus Silesius, 1986:40).

By Van Alphen en Van de Kasteele bereik die mistiek-getinte piëtistiese lied 'n hoogtepunt in die Nederlandse literatuurgeskiedenis. Die kerklike belydenislied word grootliks deur die persoonlike belewenisliedere vervang. Alphen se Proeve van liederen en gezangen voor den openbaren godsdienst sou in dié verband van die mees populêre gesange van die Nederlandsch Hervormde Kerk oplewer: Gesang 20, 22, 65, 127 en 189 (De Moor, 1925:89). Gelowiges wat hulself vir welke rede ookal as gemarginaliseerde lidmate van gereformeerde oortuiging beskou het, in die piëtisme aanklank vir hul geloofsbelewenisse gevind en asketiese religieusiteit beoefen het, vind meerdere emosionele belewenis-aanklank en geestelike ondersteuning by die Protestantse kerklied en geloofsbeoefening in gemeente-verband.

Die neiging tot introspeksie en individuele geloofsbeoefening in spirituele egotekste het ook geleentheid gebied om piëtistiese poësie op die persoonlike gemoedsgestaltes te projekteer. In die Nederlandse konteks het dié literêre genre van geestelike dagboeke en ander egotekste daartoe aanleiding gegee dat outeurs 'n geneigdheid openbaar tot vervreemding van die wêreld.

Die geestelike dagboekkultuur van individue, waarin die piëtistiese kerklied neerslag vind, neig maklik tot asketiese afsondering. Die intiemste gedagtes word op die duur belangriker as die dade waartoe dit aanleiding gegee het. Die inhoud van die geestelike dagboek -wat aanvanklik in diens van die lewenspraktyk staan - lei dikwels daartoe dat dit self 'n outonome lewe lei. Voorts neig die gedagtes wat saans of in stille oordenkingstyd bygehou word, om die skrywer in die normale lewenspraktyk van sekerheid en spontaneïteit te beroof, tot "vervlugtiging" van die persoonlikheid by te dra en om persoonlikhede wat tot melancholie geneig is in neerslagtige buie of swaarmoedige gemoedsaandoeninge te laat verval. As sodanig staan dit verwyderd van die gereformeerde klem op roepingsbewuste betrokkenheid by God se skepping in alle fasette. As sodanig lê die kiem van spirituele en kulturele stagnering reeds in die kern van die piëtisme opgesluit. Desnieteenstaande het die gereformeerde piëtisme geblyk 'n legitieme teologiese alternatief vir gelowiges te bied wat uit die geloof wil lewe (Raath, 2004:1449-1489). Reeds in die trekboergemeenskap het Hester Venter (c. 1750-c. 1830) teen die einde van die agtiende eeu aan die grense van die Kaapkolonie in haar geestelike geskrifte blyke daarvan gegee. Soos by hierdie gemarginaliseerde gereformeerde vrou, het die lewensomstandighede van Susanna Smit stimuli gebied ter ontluiking van godsdiensbelewenisse wat vrywel algemeen onder pioniersvroue aan die Kaapse voorposte voorgekom het (Raath, 2014:95-116). Vir diesulkes sou Van Alphen se digwerk die troosvolle gemeenskap met Christus en die hoopvolle aanblik van die hemelse vereniging met Christus 'n lewende en betekenisvolle ervaring maak. Vir gelowige vrouegelowiges in pioniersgemeenskappe is die Nuwe Jerusalem die eindbestemming. In die hemelse stad is rus, vrede en stilte. Dié stilte is te vinde in die arms van Jesus en spirituele eenwording met Hom. Dié rus in die vereniging met Christus vorm 'n sentrale tema in verskeie vroulike oordenkingsbundels van piëtistiese inslag. Hendrina Cecilia Kruger se mistiek-getinte lied oor die Nuwe Jerusalem en die rus in Christus is 'n tipiese voorbeeld van vroulike piëtistiese tekste aan die voorposte (Kruger, c. 1750; Raath, 2016:186).

Van Alphen se stigtelike poësie was 'n bron van spirituele bemagtiging onder omstandighede wat buitengewone eise aan die geloofspraxis van talle pioniersvroue onder geïsoleerde en gemarginaliseerde omstandighede gestel het. Die spirituele bemagtigingseffek van gereformeerd-piëtistiese lektuur het geloofspraktisyns in die reël nie buite die grense van die gereformeerde leer en belydenis geneem nie. Hoewel geloofsversterking in ruime mate uit die werke van piëtistiese en metodisties-geneigde skrywers soos Van Alphen, John Newton (1725-1807), James Hervey (1713-1758), Philip Doddridge (1702-1751) en Isaac Watts (1674-1748) geput is, het piëtistiese gelowiges, soos Susanna Smit, getroue lesers van die Bybel gebly, 'n toegeneentheid jeens die gereformeerde belydenis behou, hul gesprekke oor geestelike kwessies gehandhaaf, in kleiner kringe as gelykgesinde gelowiges rondom die Bybel en met gebed vergader en hul belangstelling in die uitbreiding van Gods koninkryk met andere gedeel - aspekte wat 'n beduiende appèl op Christene had in 'n tyd toe 'n wêreldse gees daarvan afkerig geword en rasionalisme binne die mure van die Kerk gebotvier het. As sodanig is die piëtisme 'n legitieme vorm van geloofspraxis vir Christen-gelowiges wat toenemende sekularisasie van kerk en samelewing in die gesig staar - wederkerende tendense wat geloofsbeoefening in gereformeerde geledere sedert die Reformasie konfronteer.

By Susanna Smit is die mistieke onderbou van haar piëtisme ragfyn verweef met die praktiese uitlewing van haar geloof. Haar praktiese mistiek betree egter nie die terrein van eksesse van die Syllogismus mysticus met die meegaande gevare waarteen C. Graafland en T. Brienen waarsku nie: 'n beperking van die kenmerke van die bevindelike godsdiensgestaltes tot die innerlike deurlewing, 'n meegaande versanding in die verinnerliking daarvan, die verabsolutering van die gevoelsmatige sielservarings en die verskraling van die praxis pietatis synde vroomheid in die daaglikse lewe, in die sosiale omgang en die gemeenskapbeoefening van die heiliges (Graafland, 1976:119, 121; Brienen, 1978:159).

 

4. Verwysingslys

Angelus Silesius (pseud. vir Johann Scheffler). 1986. The cherubinic wanderer. New York / Mahwah / Toronto: Paulist Press.         [ Links ]

Arrenberg, R., 1832. Alphabetische naamlijst van boeken, welke sedert het jaar 1790 tot met het jaar 1831, in Noord-Nederland zijn uitgegeven. Amsterdam: De Gebroeders van Cleef, 'sGravenhage /.         [ Links ]

Blok, P.J. 1914. Geschiedenis van het Nederlandsche volk, dle 1-3. A.W. Sijthoff's Uitgeversmaatschappij.         [ Links ]

Breekveldt, W.F.G. 1949. Peilingen in de grondelooze kolk. Een semantisch onderzoek naar de gevoelige woordenschat in het dagboek van Jacob van Loo, in leven predikant te Ootmarsum, Doktorale skripsie, VU, Amsterdam.         [ Links ]

Brienen, T. 1978. Bevinding. Aard en funksie van de geloofsbeleving. Kampen: J.H. Kok.         [ Links ]

Buijnsters, P.J. 1973. Hieronymus van Alphen (1746-1803). Assen: Van Gorcum & Comp.         [ Links ]

Cramen, J.A. 1936. De theologisch faculteit te Utrecht in de 78de en het begin der 79de eeuw. Utrecht: Geen uitgewer vermeld.         [ Links ]

De Moor, J.C. 1925. 'Hieronymus van Alphen', Christelijke Encyclopaedie, dl. 1. Kampen, J.H. Kok. 89.         [ Links ]

Dilthey, W. 1976. Studien zur Geschichte des Deutschen Geistes. Gesammelte Schriften, dle. I- III. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht,         [ Links ].

Graafland, C. 1976. Van syllogismus practicus naar syllogismus mysticus. Balke, W., Graafland. C., Harkema, H. (reds.), Wegen en gestalten in het gereformeerd protestantisme. Amsterdam: Ton Bolland, 105-122.         [ Links ]

Graafland, C., Op 't Hof, W.J., Van Lieburg, F.A. 1995. Nadere Reformasie: opnieuw een poging tot begripsbepaling, Documentatieblad Nadere Reformasie, 19(2):107-122.         [ Links ]

Hanekom, T.N. 1959. Helperus Ritzema van Lier. Kaapstad/Pretoria: N.G. Kerk Uitgewers.         [ Links ]

Heppe, H. 1879. Geschichte des Pietismus und der Mystik in der reformierten Kirche, namentlich der Niederlande. Leiden: Brill.         [ Links ]

Hoffman, B. Luther and the mystics. Minneapolis, Minnesota: Augsburg Publishing House.         [ Links ]

Kruger, H.C. c.1750. Oordenkingsbundel, ongepubliseerde en ongepagineerde manuskrip. Kopie in die versameling van A.W.G. Raath, Brandfort.         [ Links ]

Lodensteyn, J., c.1730. Uytspanningen. Amsterdam: Joannes Kiesewet.         [ Links ]

Lutjeharms, W. 1935. Het philadelphisch-oecumenisch streven der herrnhutters in de Nederlanden in de achttiende eeuw. Zeist: Zendingsgenootschap der Evangelische Broedergemeente.         [ Links ]

McGinn, B. 1991. The presence of God: a history of Western Christian mysticism. New York: Dl. I. Crossroads.         [ Links ]

Molhuysen, P.C., Blok, P.J. 1911. Nieuw Nederlandsche biographisch woordenboek. Leiden: Dl. I, A.W. Sijthoff.         [ Links ]

Nepveu, J.I.D. 1839. Dichtwerken van Hieronymus van Alphen, dl. 3. Utrecht: J.G. van Terveen en Zoon.         [ Links ]

Otto, R. 1975. The idea of the Holy. Vert. deur J.W. Harvey. New York/Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Post, S.D. 1995. Pieter Boddaert & Rutger Schutte: piëtistische dichters in de achttiende eeuw. Houten: Den Hertog B.V.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2003. Eensaam in die Voortrekkergemeenskap: askese en geloofsbelewing in die teologie van die Voortrekkervrou Susanna Smit (1799-1863). Hervormde Teologiese Studies, 59(1):121-150.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2004. Bevinding en geestelike verlating op die limiete: Die historiese en teologiese kontekstualisering van die pioniersvrou Hester Venter (c. 1750-c. 1830) se Ondervindelijke Bekeeringsweg. Hervormde Teologiese Studies, 60(4):1449-1489.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2014. Petit bourgeoisie, female piety and mystical Pietism on the South African frontier, 1760-1860. Studia Historiae Ecclesiasticae, 40(1):95-116.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2016. The spiritual mentality profile of female pietists on the South African frontier, 1750-1860. Acta Theologica, 36(1):170-192.         [ Links ]

Raath, A.W.G. Tussen die aardse Jerigo en die hemelse Jerusalem. Rutger Schutte (1708-1784) en die pelgrimsmotief in Susanna Smit (1799-1863) se godsdienstige dagboeke. Studia Historiae Ecclesiasticae, 42(2):1-17.         [ Links ]

Smit, S. 1842-1863. Dagboeke. Ongepubliseerde godsdienstige oordenkingsbundels. Dle. 1-28, Kopieë in die versameling van A.W.G. Raath, Brandfort.         [ Links ]

Stoeffler, F.E. 1976. 'Introduction', Stoeffler, F.E. (red.), Continental Pietism and early American Christianity. Oregon, Eugene: Wipf & Stock Publishers.         [ Links ]

Van der Aa, A.J. 1936. Biographisch woordenboek der Nederlanden, dl. 1. Haarlem: J.J. van Brederode.         [ Links ]

Van Lier, A.C. 1806. Dagboek, gemeenzame brieven en eenzame overdenkingen van L.C. Amsterdam: Willem van Vliet.         [ Links ]

Van Loo, J. 1814. Dagboek van J. van Loo, in leven predikant te Ootmarsum. Amsterdam: A.B. Saakes. Von Spee, F. 1817. Trutznachtigal. Berlyn: Ferdinand Dümmler.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Andries Raath
Faculty of Law, University of the Free State
Nelson Mendela Avenue, Bloemfomtein, 9300
Email: RaathA@ufs.ac.za

Published: 3 Apr. 2017

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License