SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.81 issue3Cultural pathways and pitfalls in South Africa: A reflection on moral agency and leadership from a Christian perspectiveDialogical inquiry as an instrument of the reconciliation of conflict in the hands of Christian leaders author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.81 n.3 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.19108/koers.81.3.2258 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die universiteitswese in Suid-Afrika: 'n bestekopname van huidige tendense en die vooruitsig vir Afrikaans

 

 

T. EloffI; W. N. GreffrathII

IVoorsitter, Trust vir Afrikaanse Onderwys
IINavorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Die doel van hierdie artikel is die identifisering en analitiese omskrywing van die mees prominente politieke tendense wat tans die Suid-Afrikaanse universiteitswese beïnvloed, met spesifieke verwysing na Afrikaanse universiteite en hoër onderwys. Die bydrae neem as vertrekpunt die teoretiese beginsel van transformasie, en die spesifieke en eiesoortige ideologiese toepassing van dié konstruk in Suid-Afrika sedert 1994. Die ingrypende invloed van hierdie ideologiese transformasiebeskouing op openbare instellings in Suid-Afrika word bespreek, insluitend die institusionele en sosio-politiese impak op universiteite. Teen hierdie teoretiese agtergrond word sleutelkwessies bespreek wat betrekking het op die Suid-Afrikaanse universiteitswese en die plek en rol van Afrikaans in besonder, insluitend in 'n bestekopname van die posisie van Afrikaans in die hoër onderwyssektor; 'n evaluering van die transformasie van die hoër onderwyssektor; die rasionele argumente en gronde vir die behoud en bevordering van Afrikaans in die sektor; en die reaksie vanuit die Afrikaanssprekende gemeenskap teenoor die marginalisering van die taal by universiteite 'n Evaluerende toekomsperspektief word gebied waarin die behoud van Afrikaans oorweeg word, met inbegrip van aktivisme, geregtelike strategieë en die uitbouing van Afrikaans deur middel van n privaat hoër onderwysinstelling.

Sleutelwoorde: Hoër onderwys in Suid-Afrika; studenteprotes; transformasie; universiteite


ABSTRACT

The purpose of this article is the identification and analytical description of the most prominent political trends which are at present exerting an influence on the South African university sector, with specific reference to Afrikaans universities in the contect of higher education. The contribution has as its point of departure the theoretical concept of transformation, and the specific ideological application of this construct as it has become current in South Africa since 1994. The radical influence of this ideological vision of transformation on public institutions in South Africa is discussed, as well as the institutional and sociopolitical impact of this on universities. Against this theoretical background key issues are discussed which have an impact on the place and role of the South African university scene and the place and role of Afrikaans more particularly, including a survey of the position of Afrikaans in the higher education sector, an evaluation of the transformation of the higher education sector, the rational arguments and grounds for the retention and promotion of Afrikaans in the sector, and the reaction from the Afrikaans-speaking community to the marginalization of the language at universities. An evaluative future perspective is offered in which the retention of Afrikaans should be considered, with the inclusion of a consideration of activism, legal strategies and the promotion of Afrikaans by means of a private higher education institution.

Keywords: Higher Education in South Africa, student protests, transformation, universities


 

 

1. INLEIDING: DIE GRONDWET EN DIE REGSTELLING VAN DIE VERLEDE

Dit is vandag onomstrede dat apartheid 'n ideologie was waarin die konstruk van ras verabsoluteer is. Seliger (1976:119-120) omskryf 'ideologie' as 'n samehangende stel idees wat die basis bied vir georganiseerde politieke optrede, hetsy om bestaande magsverhoudings omver te werp of te preserveer. In die geval van apartheidsideologie was die sentrale onderliggende 'idee' of konstruk dié van ras.

Die statutêre fondament van die apartheidsideologie was die Bevolkingsregistrasiewet van 1950, wat vereis het dat elke Suid-Afrikaner volgens sy/haar rassekarakteristieke geregistreer word. Terwyl die blote registrasie en rekordfunksie van dié wet nie opsigself boos was nie, het dit as vertrekpunt gedien vir verdere wetgewing wat ten nouste geassosieer sou word met die euwels van klein en groot apartheid. Wette op die Verbod van Gemengde Huwelike (1949), Ontug (1950), Groepsgebiede (1950), Bantoe-onderwys (1953) en vele ander het elke Suid-Afrikaner se burgerskap, woonplek, huwelik en vryheid van beweging en toekoms bepaal - alles gebaseer op grond van 'n aanvanklike administratiewe rasseklassifikasie. Dus, al was die wet wat as wortel van apartheid gedien het opsigself onskadelik, was die vrugte wat daardie boom gedra het telkens giftig.

As politieke vors en interpreteerder van die apartheidsideologie was die Nasionale Party gemoeid met die 'normalisering' van die voortspruitende uitkomstes. Die kerke is gebruik om die moraliteit daarvan te verdedig, en die meerderheid van die wit (en veral die Afrikaanse) bevolking is wysgemaak dat dit die enigste middel tot selfpreservering in Afrika was (Hofmeyr, 2012:447). Terselfdertyd is die visie van afsonderlike ontwikkeling en etniese selfbeskikking aan die swart bevolking blootgelê. Mettertyd het selfs dele van die swart bevolking apartheid met gelatenheid aanvaar of vir die onafhanklikheid van hulle tuislande gekies.

Suid-Afrika se post-apartheid Grondwet, wat dien as hoeksteen van die huidige demokratiese staatsbestel, neem op verskeie plekke as vertrekpunt die beginsel van regstelling van die onreg van die apartheidsverlede. Die aanhef van die Grondwet stel dat "Ons, die mense van Suid-Afrika, erken die onregte van die verlede" en verder "... daarom neem ons ... hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die republiek ten einde die verdeeldheid van die verlede te heel ... " (Suid-Afrika 1996). Dit is natuurlik noodwendig dat 'n post-apartheid bedeling, soos wat die Grondwet in die vooruitsig stel, ten dele gegrond sal wees op n regstellingsbeginsel - n nuwe bedeling kan tog nie bloot n voortsetting van die verlede wees nie.

In die politieke sfeer vind hierdie regstellingsbeginsel sterk neerslag in die progressiewe beleidsoriëntering van die ANC-regering oor die afgelope twee dekades. Inderdaad word die sosialistiese identiteit van die ANC as regerende party goed gekomplementeer deur die progressiewe aard van die Grondwet (Marais, 2001:90). Die produk van hierdie samevloeiing van Grondwetlike intensie en die ANC se politieke karakter en mandaat is n korpus wetgewing wat oënskynlik sterk gegrond is in die regstellingsbeginsel, waaronder regstellende aksie (indiensnemingsgelykheid), swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming- en onteiening. n Verdere en meer subtiele uitkoms van hierdie samevloeiing was die 'ideologisering' van die regstellingsbeginsel tot n nuwe en ander konstruk - dié van transformasie. Ten spyte daarvan dat die term transformasie in feitlik elke hedendaagse beleidstuk, wet en persverklaring voorkom, verskyn dié woord nêrens in die Grondwet nie.

Daar is reeds verwys na die vorige regime se verabsolutering van ras en die pogings om die voortspruitende apartheidsideologie te normaliseer, legitimeer en as aanvaarbaar voor te hou. Vandag is dit moontlik om 'n soortgelyke tendens te identifiseer in die ANC se verabsolutering van transformasie. n Historiese parallel word dus openbaar: ondanks die Grondwetlike wortels van regstelling en geregtigheid, het n ideologiese boom van transformasie die lig gesien - waarvan die vrugte nou gepluk word.

 

2. 'n IDEOLOGIESE TRANSFORMASIEBESKOUING

Alvorens die ANC se ideologiese beskouing van transformasie vir die doeleindes van hierdie artikel dieper geanaliseer word, is dit nodig om die transformasiebegrip vanuit n ander hoek te benader. Transformasie is nie, in die eerste instansie, n politieke konstruk nie, en dit is nog minder n produk van die ANC as politieke party.

Transformasie breedweg beskou hou ten nouste verband met diepliggende verandering. In chemie verwys transformasie na die verandering van materie van een fase na n ander, byvoorbeeld vanaf n vaste stof tot n vloeistof tot n gas. In die biologiese wetenskappe hou transformasie verband met die verandering van n organisme op n merkwaardige wyse na geboorte, oftewel metamorfose. Die mees gepaste beskrywing van transformasie is dalk dié van die HAT, waar dit gedefinieer word as 'die oorbring in 'n ander vorm' (sien ook Krog, 2005:134 en Bosman, 2008:26). In lyn met die motief van ingrypende verandering, definieer Duvenhage (2005:11) die huidige begrip politieke transformasie as:

Die snelle progressiewe, omvangryke en fundamentele politieke verandering van die samelewing, voortspruitend uit 'n onaanvaarbare politieke verlede, wat die vorm aanneem van sentrale beplanning (sosiale ingenieurswese en politieke manipulasie) soms hegemonies bedryf, met die beklemtoning van verandering in die algemeen en konflikbestuur in die besonder [eie klemplasing].

Hierdie sentralistiese en hegemoniese1karakter van trans-formasie in die ANC se ideologiese beskouing word verteenwoordig word deur die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Die party beskryf dié ideologie soos volg (ANC 2000):

The strategic objective of the NDR is the creation of a united, non-racial, non-sexist and democratic society. This, in essence, means the liberation of Africans in particular and black people in general from political and economic bondage. It means uplifting the quality of life of all South Africans, especially the poor, the majority of whom are African and female [eie klemplasing].

Vanuit hierdie beskrywing blyk dit duidelik dat die NDR se ideologiese interpretasie van transformasie gekoppel is aan ras en etnisiteit. Sodanige interpretasie is natuurlik ook gesetel in 'n regstellingsbeginsel, vanweë die feit dat apartheid institusioneel gediskrimineer het teen swart Suid-Afrikaners. Dit is verder ook duidelik dat die spesifieke vertolking van die begrip van nie-rassigheid nie gelykgestel kan word aan die afskaffmg van differensiëring tussen rasse nie. Dit blyk eerder dat nie-rassigheid wesenlik gelyk gestel word met die 'bevryding' van swartmense in die algemeen en Afrikane (Africans) in besonder. In die ANC (1997) besprekingsdokument "Nation-Formation and Nation Building" bevestig die party hierdie interpretasie met die standpunt dat "what is required is a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society".2 Dus, op 'n andersoortige manier, verteenwoordig ras steeds een van die mees deurslaggewende ideologiese komponente van die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing.

Ten einde hierdie ideologiese beskouing van transformasie te operasionaliseer in die Suid-Afrikaanse samelewing, moes daar prakties uitvoerbare riglyne, maatstawwe en beleid ontwikkel word wat beide polities en statutêr toegepas kon word - "sosiale ingenieurswese", aldus Duvenhage. Die ANC self beskryf so 'n projek as "a programme aimed at speeding up the de-racialisation of South African society in all respects" [eie klemplasing] wat gegrond is op "African leadership and balanced representation in racial, gender, ethnic and class terms" [eie klemplasing] (ANC 1997). Dié projek word as volg deur die ANC (1998) in konkrete terme verduidelik:

Transformation of the state entails, first and foremost, extending the power of the national liberation movement over all levers of power: the army, the police, the bureaucracy, intelligence structures, the judiciary, parastatals, and agencies such as regulatory bodies, the public broadcaster, the central bank and so on. This is not in contradiction to the provisions of the constitution which characterise most of these bodies as independent and non-partisan. Control by democratic forces means that these institutions should operate on the basis of the precepts of the constitution; they should be guided by new doctrines; they should reflect in their composition the demographics of the country; and they should owe allegiance to the new order [eie klemplasing]

Dit is dus duidelik dat die ANC transformasie beskou as 'n hibriede ideologiese en rassekonstruk, waarvan die party volkome eienaarskap neem in nasionale en staatsbelang. Anders gestel, verteenwoordig die ANC se eksklusiewe transformasiebeskouing die primêre sosio-ekonomiese en politieke spelreël in Suid-Afrika. Die maatstaf van sukses waaraan die transformasieprojek gemeet word, is n eenvoudige rassetelling volgens die parameters van "demografiese verteenwoordigendheid" en gevolglik moet die rassedemografie van Suid-Afrika vergestalt word in elke domein van die samelewing, soos volg geïllustreer:

 

 

Uiteindelik beteken demografiese verteenwoordigendheid dat n rasseverhouding van min of meer 80% swart, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiërs nagestreef moet word. Soos reeds aangedui is, sal hierdie 80-9-9-2 verhouding volgens die ANC se ideologiese transformasiebegrip ook gelykstaande wees aan "nie-rassigheid".

As uitvloeisel van die regerende party se transformasieprojek word die 80-9-9-2 verhouding sedert die laat negentigerjare op talle terreine in die openbare sektor toegepas onder die vaandel van regstellende aksie. Daar is egter tans breë konsensus dat regstellende aksie oor die afgelope twee dekades gelei het tot die verlies van noodsaaklike vaardighede (hoofsaaklik weens emigrasie) wat ekonomies tot Suid-Afrika se nadeel strek (kyk bv. Rasool en Botha, 2011; Brits, 2012:562; Calland, 2006:76; Johnson, 2009:111). Nietemin spreek hierdie skadelike uitkoms nie teen die beginsel van regstelling nie, soos vroeër bespreek, maar bevraagteken dit wel die dogmatiese en eng toepassing van so n ideologiese transformasiebeskouing. Dit is ook hierdie einste transformasiebeskouing wat nou teweeggebring word in die Suid-Afrikaanse universiteitswese en wat bepaalde skadelike nagevolge het vir Afrikaans in hoër onderwys.

Die voorafgaande rekonstruksie se doel was om die eiesoortige ideologiese beskouing van transformasie in Suid-Afrika te verken. Hierdie transformasiebeskouing strek gevolglik verder as net veranderingsbestuur en word nouliks geassosieer met addisionele kriteria, waarvan ras die mees deurslaggewende is. Verder, ingevolge die NDR, word die beginsel van nie-rassigheid gelykgestel aan die uitkoms van swart beheer (hegemonie) oor alle terreine van die staat en samelewing. Nie-rassigheid is dus ideologies sinoniem met swart hegemonie. Vanuit die voorafgaande besprekings oor beide apartheid en die NDR is dit merkwaardig dat beide stelle denke 'n ideologieras nexus deel. Verder is die wyse waarop beide denksisteme hierdie ideologie-ras nexus verhef het tot aanvaarbaarheid en legitimiteit ook opvallend. Terwyl die NP die impuls tot rassedifferensiasie geklee het in eufemistiese terme van "afsonderlike ontwikkeling" en "separate but equal", neem die ANC dieselfde beginsel en operasionaliseer dit op hegemoniese wyse deur middel van die oënskynlik legitieme projek van "transformasie". Die woord transformasie kom egter nêrens in die Grondwet voor nie, en dit is te betwyfel of die Grondwetlike bedoeling van regstelling weerspieël word deur die ANC se dogmatiese transformasieprojek. Wat wel seker is, is dat ras steeds een van die vernaamste politieke veranderlikes in Suid-Afrika vergestalt.

 

3. AFRIKAANS IN HOËR ONDERWYS: 'n KONTEKSBEPALING

Die transformasiebegrip wat hierbo gerekonstrueer is dien effektiefby verstek as'n makro-konteks vir enige Suid-Afrikaanse openbare instelling. In hierdie verband, is dit belangrik om te onthou dat die hegemoniese karakter 'n sleutelkomponent is van sodanige transformasie. So word transformasie verhef tot 'n alomteenwoordigheid wat dogmaties (80-9-9-2) toegepas moet word. Daar is egter verdere perspektiewe wat verdiskonteer moet word in die konteks van die hoër onderwys in Suid-Afrika ten einde n sinvolle bestekopname van Afrikaans se toekoms in die universiteitswese te doen.

Eerstens, ten spyte van die pogings tot transformasie oor die afgelope twintig jaar, is daar wydverspreide frustrasie in die Suid-Afrikaanse samelewing wat voortspruit uit persepsies rondom die regering se mislukking om tasbare vooruitgang te bewerkstellig. Die duidelikste en mees voortdurende getuienis in hierdie verband is diensleweringsproteste, wat direk spreek van die burgery se onvervulde verwagtinge en aspirasies. Verder ondermyn teleurstellende ekonomiese groei en 'n basiese onderwysstelsel wat onderpresteerder die vooruitsigte van werklike sosio-ekonomiese transformasie.

Tweedens, en as gevolg van die relatiewe onderprestasie van die regering, word daar opnuut na sondebokke gesoek te midde van toenemende ontevredenheid. Gevolglik, soos die voorheen benadeelde meerderheid die ANC-regering begin verwyt, so verwyt die regering en die ANC intellektuele weer op hulle beurt die vorige maghebbers (dikwels wit en/of Afrikaanse mense) omdat hulle nie genoegsaam getransformeer het nie.

Derdens, en meer onrusbarend, is die opkoms van 'n nuwe radikale swartbewussynsgevoel by jong en gemarginaliseerde, maar ook professionele swart Suid-Afrikaners. Hierdie groep, waarvan die sogenaamde vrygeborenes nou aan universiteitsdeure klop, assosieer nie noodwendig met die konvensionele politiek nie en verwerp die kompromieë van 1994. Sake wat verband hou met die demokratiese oorgang soos die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie, die reënboognasie-idee en veral die gebrek aan regstelling en werklike apologie deur wit Suid-Afrikaners word opnuut bevraagteken deur vandag se swart jeug. Daar heers n sterk behoefte om die oorgang "oor te begin", wat ook beteken dat kardinale aspekte van die Grondwet bevraagteken word. Volgens Ferial Haffajee (2015) wil die swart jeug nie net eie (swart) ruimtes hê nie, maar wil hulle ook in alle ander ruimtes domineer. Dit spruit onder andere voort uit 'n reaksie op die Amerikaanse konsep van 'n "culture of whiteness" en n dominante Westerse wêreldbeskouing. Hierdie denke het reeds 'n beduidende invloed gehad in die #RhodesMustFall- en Open Stellenbosch-veldtogte.

Hierdie kwessies kleur verder die konteks in rondom die Suid-Afrikaanse universiteitswese en dui op die uiters hoë verwagtinge wat tans onder die jeug bestaan. Die vlugtige (soms plofbare) politieke klimaat wat ons tans ervaar is skynbaar vêr verwyder van die kompromie van 1994 en die versoening en verdraagsaamheid van die onmiddellike post-apartheidsjare. Dit wil inderdaad blyk dat die onluste by universiteite deel is van n regeerkundige mislukking waarvoor Afrikaanse individue en instellings nou (verkeerdelik) verantwoordbaar gehou word. Die skynbare gevolg is dat die voortbestaan van Afrikaanse skole en universiteite of kampusse 'n polities onaanvaarbare realiteit geword het, ten spyte van die verskansing van minderheidsregte en moedertaalonderrig in die Grondwet.

 

4. TRANSFORMASIE VAN DIE SEKTOR

Oor die afgelope jare, en veral tydens die ministerskap van dr. Blade Nzimande, is die ideologiese transformasieprojek ook aggressief uitgebrei na die universitêre sektor. In 2013 het Nzimande die stigting van 'n departementele transformasiekomitee aangekondig, onder leiding van professor Malegapuru Makgoba (toe visekanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal), wat later berug was vir die publikasie van n studie waarin "kwantitatiewe maatstaf van transformasie" voorgehou word (sien Govinder, Zondo & Makgoba, 2013). Ten spyte daarvan dat die studie sterk kritiek ontvang het op beide normatiewe en wetenskaplike gronde, was die boodskap duidelik - die 80-9-9-2 rassetelling wat ingevolge ideologiese transformasie vereis word moet op universiteite van toepassing gemaak word. Met betrekking tot die staatsdiens (wat nie die universiteitsektor insluit nie) stel die grondwet in beginsel dat die sektor (slegs) "in die breë verteenwoordigend" moet wees. Hierdie uitgangspunt word ook gereeld deur Nzimande (2015) beklemtoon in die hoër onderwyssektor:

One of the major focus areas of the transformation agenda is to ensure that the composition of the student body progressively reflects the demographic realities of broader society. Institutions are therefore required to develop their own race and gender equity goals and plans.

So ook die toepassing van die rassekwota op individuele instellings (hier met betrekking tot die Universiteit Stellenbosch):

The student demographic profile clearly does not match the racial demographics in the country. The 2014 mid-year population estimates released by Statistics South Africa show that the Black Africans constitute approximately 80% of the total South African population, followed by Coloureds at 8.8%, Whites at 8.4%, and the Indians/ Asians at 2.5%.

Dit is egter bedenklik of dieselfde drempel nougeset toegepas sal word op instellings soos die Universiteit van Fort Hare of die Walter Sisulu-Universiteit, waar die studentebevolking bykans heeltemal swart is.

Die realiteit is dat die hoër onderwys landskap reeds grootliks demografies "getransformeer" is, en met verloop van tyd toenemend so sal word. 'n Vergelyking van inskrywingskoerse volgens ras skets die volgende beeld (IRR, 2016:524):

 

 

In 2013 (nuutste beskikbare data) was meer as 70% van alle inskrywings aan Suid-Afrikaanse universteite swart studente ("Africans") gewees. Altesaam 82.5% van alle inskrywings was generies swart studente gewees (IRR, 2016:525). Soortgelyk aan die transformasiebeskouing van die NDR, is die demografiese kwantum nie die enigste aspek ter sprake in die transformasie van hoër onderwys nie. Tesame met die bereiking van demografiese verteenwoordigendheid, moet universiteite ook verinheems en ver-Afrikaniseer word, in lyn met die "African hegemony" gedagte van die NDR. Hierdie idee word soos volg deur Nzimande geartikuleer:

We live with the reality that our institutions still carry the scars of the past - that of having been black, Zulu or Sotho, white or Afrikaner institutions. We have to confront this past as part of Africanising our universities ... To be Africanised means they must become universities capable of contributing in all respects (research, curriculum, etc) to the developmental goals of our country. They must be conscious of both backward and forward linkages in the task of transforming themselves and our country.

Benewens die problematiese kwessie van Afrikanisering, behels sodanige uitgangspunt n andersoortige universiteits-beskouing waarin universiteite ideologies-gefundeerde sosio-maatskaplike samelewingsfunksies verrig. Indien ver genoeg ontplooi, sal ideologiese transformasie noodwendig dus ook behels dat universiteite verlengstukke van die staat word. Institusionele outonomie en akademiese vryheid sal dus die slagoffers word van transformasie. Watter ruimte los hierdie uitkoms vir kwessies soos diversiteit en meertaligheid? Die rol en status van minderheidsgroepe onder n getransformeerde bewind van "African hegemony" is onduidelik, maar dit is n voldonge (en tog ironiese) feit dat die verstektaal van "Africanisation" Engels sal wees - die werklike koloniale taal in Afrika.

Die ideologiese transformasieparadigma word egter nie net deur die regering op hoër onderwys afgedwing nie. Gedurende die afgelope jaar het die massa-optrede en eise van studente ook getuig van 'n heelhartige inkoop tot die vereistes van ideologiese transformasie. Hierdie samevloei van ideologiese agendas is heel moontlik nie deur die ANC regering beplan nie, maar insover as wat beide groeperinge se belange oorvleuel rakende demografiese verteenwoordigendheid en die marginalisering van Afrikaans, sal studenteprotes verdra word en implisiet ondersteun word as "transformatief".

 

5. DIE SAAK VIR AFRIKAANS BY UNIVERSITEITE

Teen hierdie agtergrond, en ter wille van volledigheid, is dit gepas om weer kortliks etlike redes te bevestig ter ondersteuning van Afrikaans se plek op universiteitskampusse. Die eerste en belangrikste argument bly steeds grondwetlike, waarvan artikel 29(2) die kern vorm:

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is ...

Hiermee saam is daar ook n sterk politieke argument -een wat selfs deur die ideologiese lens van transformasie as sinvol beoordeel kan word. Volgens die regering se eie 80-9-9-2-formule behoort daar vir ongeveerd 9% van die Suid-Afrikaanse bevolking toegang te wees tot n instelling waar Afrikaans as onderrigmedium gehandhaaf word (hierdie berekening neem die helfte van die wit en bruin bevolkings as aanname). Siende dat daar tans 25 universiteite in Suid-Afrika bestaan, is dit nie onredelik om te verwag dat twee instellings of kampusse só 'n mandaat moet kan vervul nie. Die toegangsargument wat so dikwels geopper word ter stawing van ideologiese transformasie moet dus ook om regverdigheidsonthalwe en konsekwentheid toegepas word ter voordeel van studente wat toegang in Afrikaans verlang.

In 2002 het die destydse Minister van Onderwys, Kader Asmal, die Raad op Hoër Onderwys opdrag gegee om insette te lewer oor 'n beoogde hoër onderwys taalbeleid, en om in besonder ook te adviseer rondom:

... ways in which Afrikaans, whose achievements as scientific and academic language had been recognised as a national asset by the National Commission on Higher Education, can be assured of continued long term maintenance, growth and development as a language of science and scholarship in the higher education system without non-Afrikaans speakers being unfairly denied access within the system, or the use and development of the language as a medium of instruction wittingly or unwittingly becoming the basis for racial, ethnic or cultural division and discrimination (RHO, 2002:3).

Die Raad op Hoër Onderwyskomitee, onder leiding van professor Jakes Gerwel, het uiteindelik aanbeveel dat elkeen van Suid-Afrika se amptelike tale by ten minste een universiteit stelselmatig op akademiese vlak uitgebou en ontwikkel moet word. Oor Afrikaans in die besonder het die komitee se verslag aanbeveel dat:

The University of Stellenbosch and Potchefstroom University are the two [universities] that the Committee would recommend for being tasked with having as one of their main responsibilities attending to the sustained development of Afrikaans as academic and scientific medium (RHO 2002:13).

Die Departement van Onderwys het in die finale taalbeleidsdokument hierdie aanbevelings erken, maar ook die voorbehoud uitgespreek dat die aanwysing van twee universiteite waar Afrikaans ontwikkel word sal lei tot die vestiging van eksklusiewe Afrikaanse instellings en dat: "The notion of Afrikaans universities runs counter to the end goal of a transformed higher education system" (DvO 2002:12). Nietemin het die amptelike hoër onderwys taalbeleid beslis dat:

... the Ministry will, in consultation with the historically Afrikaans medium institutions, examine the feasibility of different strategies, including the use of Afrikaans as a primary but not a sole medium of instruction (DvO, 2002:12)

Verder is daar 'n gevestigde pedagogiese argument wat akademiese prestasie koppel aan moedertaalonderrig. Hierdie argument is gegrond op internasionale navorsing wat nie deur Afrikaanssprekendes gedoen is nie (sien bv. Baker, 2000 en Cummins, 2000). Dit is as gevolg hiervan dat Afrikaanssprekende studente as n groep bogemiddeld presteer op sekondêre vlak en dus ook relatief suksesvol is met tersiêre studies. Die middelklasherkoms van Afrikaansprekende studente beteken verder ook dat hulle as n groep goeie betalers van klasgelde is - iets wat geen universiteit in hierdie dae van finansiële onsekerheid in die hoër onderwyssektor kan minag nie.

 

6. AFRIKAANSSPREKENDES SE HOUDING TEENOOR EN REAKSIE OP POLITIEKE DRUK

Die politieke konteks wat tot dusver in hierdie artikel bespreek is, verteenwoordig n belangrike deel van die breër konteks waarin Afrikaans as taal van hoër onderwys funksioneer. Ewe belangrik, maar dikwels minder ooglopend, is die wyse waarop die Afrikaanssprekende gemeenskap self reageer teenoor die druk wat op hul moedertaal uitgeoefen word. Laasgenoemde is egter n deurslaggewende komponent van die dinamika rondom die behoud en ontwikkeling van Afrikaans in hoër onderwys. Die aspekte wat hieronder aangeraak word, spruit uit persoonlike ervaring van universiteitsbestuur en waarnemings oor talle jare in die Afrikaanse akademiese konteks. Dié sake kry weinig aandag in die media of akademiese literatuur, omdat dit alledaagse bestuurskwessies verteenwoordig. Dit is egter juis belangrik om melding te maak van hierdie kwessies wat dikwels oorgesien word.

Eerstens blyk dit dat daar onder lede van universiteitsrade, universiteitsbesture en akademici soms 'n onbegrip van die groter politieke en ideologiese konteks is. Die rede hiervoor is grotendeels omdat hierdie individue, kollektief of individueel, nie deel van "politiekery" wil word nie. Akademici en universiteitspersoneel regverdig op dieselfde manier ook hul apatie jeens enige kwessie wat as "polities" beskou mag word. Die uiteinde van hierdie ingesteldheid is die weg van die minste weerstand, wat feitlik altyd tot Afrikaans se ernstige nadeel strek.

Hiermee gepaard is daar ook 'n toenemende mate van politieke korrektheid by die bestuur en personeel van Suid-Afrikaanse universiteite, insluitend die historiese Afrikaanse universiteite. Dit is duidelik dat daar n oorsensitiwiteit heers oor die artikulering van robuuste, maar redelike, standpunte ter bevordering en verdediging van Afrikaans. Sulke standpunte word te dikwels gesmoor deur die vrees van wat kollegas, mede-raadslede of politici sal dink en of dit moontlik sal aanstoot gee. Só 'n ingesteldheid lei baie vinnig tot politieke gedienstigheid wat afbreuk doen aan die gees van akademiese vryheid wat universitêre diskoerse moet rig.

Sommige akademici handhaaf n selfs meer beperkte uitgangspunt, naamlik dat die taak van die dosent kennisoordrag is en die dat taal waarin dit geskied irrelevant is. Die eise van parallelmedium onderrig is welbekend, veral die impak daarvan op navorsingsuitsette. Sommige Afrikaanssprekende dosente praat van 'n sogenaamde "taalbelasting" wat verwys na die addisionele werkslading van parallelmediumonderrig, waarvan Engelsprekende dosente kwytgeskeld word (kyk Giliomee, 2015). Gevolglik sê baie akademici openlik dat hulle, eerder as 'n groter werkslading om Afrikaans te behou, Engels as enigste onderrigtaal sal ondersteun. Die grootste risiko van so n uitganspunt is om die werklike impak van transformatiewe Afrikanisering te onderskat - sal n bruin of wit Afrikaansprekende dosent genoegsaam as "African" geskat word in terme van ideologiese transformasie, selfs al gee hy/sy in Engels klas?

Daar is verder ook n blywende kultuur-historiese nalatenskap wat steeds Afrikaansprekendes se verhoudings met mekaar beïnvloed. Die soms bittere binnegevegte in die Afrikaanssprekende gemeenskap het immers nie die posisie van die taal by universiteite bevoordeel nie. Die ou noord-suid-vetes onder Afrikaansprekendes is steeds lewendig, en soms is aanvalle op mekaar giftiger as dié wat poog om Afrikaans by universiteite tot niet te maak.3 Daar is van liberale verdraagsaamheid geen sprake nie, selfs, en soms veral, by diegene wat hoog daaroor opgee. 'n Verdere dimensie van die spanning tussen Afrikaanssprekendes is die breuk tussen wit en bruin. Sommige voel dat as daar groter samehorigheid oor die waarde van Afrikaans by al haar sprekers is, die regering sal móét luister. In antwoord hierop wys bruin Afrikaansprekendes op hul marginalisering gedurende apartheid (asook in sosio-ekonomiese terme, steeds) en die ironie dat hul samewerking nou verlang word. Dit is beslis nie maklike kritiek om op te antwoord nie. Dit is egter so dat die bevordering van beide die taal en die sosio-ekonomiese omstandighede aandag moet geniet - en die behoud van Afrikaans op universiteitsvlak het die potensiaal om albei hierdie kwale doeltreffend aan te spreek.

 

7. TOEKOMSPERSPEKTIEWE

'n Kort opname van Afrikaans se status as onderrigtaal by die voorheen Afrikaanse universiteite dui daarop dat die taal onder aansienlike druk verkeer. By die universiteite van Pretoria en die Vrystaat is Afrikaans reeds feitlik uitgefaseer, en die kantelpunt van taaldemografie gaan dit verder negatief beïnvloed. By die Universiteit Stellenbosch is daar hernieude pogings om Afrikaans te elimineer deur die bestuur en die Open Stellenbosch beweging, wat skynbaar voorkeurtoegang tot die universiteitsbestuur geniet. Gegewe huidige ontwikkelings op dié kampus is dit myns insiens onwaarskynlik dat Afrikaans verder as vyf jaar hiervandaan nog as institusionele of akademiese taal sal oorleef. Wat die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus betref, blyk dit dat die huidige universiteitsbestuur gefokus is op demografiese transformasie en institusionele en administratiewe sentralisasie. Gevolglik is die taalbeleid op dié kampus nog nie verander nie. Afrikaanssprekende studente (wit, bruin en swart) maak steeds ongeveer 80% van die kampus se studente uit. Die horison vir Afrikaans by die NWU lê dus verder as by enige ander universiteit, alhoewel dit vorentoe onder groter transformatiewe en politieke druk sal kom.

Die toekoms van Afrikaans in die hoër onderwyssektor word verder deur n stel dinamiese faktore beïnvloed. Eerstens word die grondwetlike reg wat artikel 29(2) omskryf nie gesetel in hoër onderwysinstellings per se nie, maar eerder in die huidige en voornemende studente. Artikel 38 van die grondwet wat handel oor die afdwinging van regte stipuleer duidelik wie die reg het "om aan te voer dat daar op n reg in die Handves van Regte inbreuk gemaak is of dat so n inbreukmaking dreig" en sluit in (a) individue wat in eiebelang optree, (c) iemand wat as lid van n groep of klas persone optree, of (e) n vereniging wat in die belang van sy lede optree. Dus berus die opeising van die reg verskans in artikel 29(2), asook artikel 31, op Afrikaanssprekende leerders en studente, ondersteun deur lede van die Afrikaanse taalgemeenskap en -organisasies. n Klas-aksiesaak deur studente moet dus in die Grondwethof getoets word - veral waar daar reeds deur die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat effektief op hulle regte inbreuk gemaak is toe onderrig in sekere vakke en kursusse tot Engels verskraal is. Soos Afrikaanssprekendes toegang tot onderwys in hul moedertaal ontneem word, so sal n grondwetlike strategie meer lewensvatbaar word. Of die Afrikaanse taalgemeenskap (wit en bruin en swart) bereid sal wees om so hul regte in die grondwetlike hof op te eis sal net die tyd leer - hulle kan egter daarvan verseker wees dat fondse vir sulke aksies beskikbaar is.

Tweedens sal lede van universiteitsbesture en -rade, asook akademici en studenteleiers, hulleself moet vergewis van die werklike kwessies wat onderliggend is aan ideologiese transformasie in die hoër onderwyssektor. Onlangse gebeure by universiteite regoor die land het bevestig dat studenteprotes in meeste gevalle gefundeerd is in konsepsuele raamwerke wat politieke radikalisme, dekolonisering en swartbewussynsdenke beklemtoon. Verder, soos reeds bespreek, word die transformasieprojek vanuit die regering deur eksplisiete ideologiese uitgangspunte gedryf. Die punt is dat die Suid-Afrikaanse universiteitswese se toekoms bepaal sal word deur die stryd van idees wat tans in die sektor plaasvind. In só 'n konteks is die effektiwiteit en dienlikheid van passiewe of gelate politieke korrektheid hoogs bedenklik.

Derdens is dit belangrik om deurgaans die moontlikheid en selfs wenslikheid van n politieke skikking vir en oor Afrikaans in gedagte te hou. Dit is egter nie moontlik in die huidige onstuimige politieke klimaat nie. Eers as breë politieke konsensus gevestig en Suid-Afrika op 'n nuwe (post-Zuma) trajek geplaas is, sal so 'n proses moontlik wees. Dit sal n vensterperiode vir dialoog en skikking oor kwessies van nasionale belang bied, waarvan die rol en status van minderhede sekerlik een van die belangrikste is. Ten tye van so 'n 'opvolgskikking' sal dit van kardinale belang wees om Afrikaans te posisioneer as n prominente saak waaroor verantwoordelike besluite geneem moet word. Dit sal van taktiese en strategiese belang wees om ook die plaaslike diskoers oor Afrikaans en minderhede te belyn met internasionale beleid en praktyk. In hierdie opsig is daar reeds presedente gestel wat só n saak sal bevorder, byvoorbeeld die Den Haagse aanbevelings ten opsigte van die opvoedkundige regte van nasionale minderhede (OSCE, 1996:7-8):

Persons belonging to national minorities should have access to tertiary education in their own language when they have demonstrated the need for it and when their numerical strength justifies it. Minority language tertiary education can be legitimately made available to national minorities by establishing the required facilities within existing educational structures provided these can adequately serve the needs of the national minorities in question. Persons belonging to national minorities may also seek ways and means to establish their own educational institutions at tertiary level. In situations where a national minority has, in recent history, maintained and controlled its own institutions of higher learning, this fact should be recognised in determining future patterns of provision.

Die Verenigde Nasies se Verklaring oor Minderheidsregte beaam soortgelyke regte vir taal- en kultuurminderhede (VN,1992).

Ten laaste, is daar toenemende konsensus onder besorgde lede van die akademie, sowel as die groter burgerlike samelewing, dat terwyl Afrikaans op openbare universiteitsvlak beskerm moet word, die moontlikhede van private inisiatiewe ook ontwikkel moet word. Die Akademia-inisiatief van die Solidariteit-beweging is een so n voorbeeld wat reeds sukses behaal het. Dit poog om 'n inklusiewe en Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit met 'n Christelike onderbou te vestig.

Akademia het in die afgelope drie jaar goed gevorder om deur middel van tegnologiese vernuwing kwaliteitonderrig aan werkende jongmense te bied, met baccalaureusgrade in die bestuurswetenskappe. Die akademiese aanbod word tans ook na die regte en verpleegkunde uitgebrei. Nieteenstaande hierdie suksesse, sal daar in die mediumtermyn hard gewerk moet word om 'n volwaardige residensiële komponent in Afrikaans te vestig, ten einde die taal as universitêre medium by Akademia te grondves. Finansiële hulpbronne bly 'n uitdaging in so n oefening, maar daar is aanduidings dat steun vanuit onwaarskynlike oorde ontvang kan word, soos wat alumni van historiese Afrikaanse universiteite ontnugter word deur die marginalisering van die taal by hul alma maters. Dit is ook so dat vele uitnemende universiteite wêreldwyd met uiters min begin het - wat egter van deurslaggewende belang is, is 'n duidelike visie en onwrikbare wil. Om so n pad te stap is altyd n lang reis, maar om telkens die eerste tree uit te stel, dien ook geen doel nie.

 

8. ERKENNING

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordeling kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

9. BIBLIOGRAFIE

ANC 1997. Nation-Formation and Nation Building: The National Question in South Africa. http://www.anc.org.za/show.php?id=309. Geraadpleeg: 2 April 2016.         [ Links ]

ANC. 1998. The State, Property Relations and Social Transformation: A Discussion Paper towards the Alliance Summit. Umrabulo No.5, 3de kwartaal, 1998.         [ Links ]

ANC. 2000. Tasks of the NDR and the Mobilisation of the Motive Forces. http://www.anc.org.za/show.php?id=2356. Geraadpleeg: 6 Mei 2016.         [ Links ]

BAKER, C. 2000. A parents' and teachers' guide to bilingualism, 2de uitgawe. Clevedon, VK: Multilingual Matters.         [ Links ]

BOSMAN, F. 2008. Die politiek van transformasie: 'n Analise van ekonomiese verandering in Suid-Afrika. Ongepubliseerde D.Phil-proefskrif. Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

BRITS, J. 2012. Suid-Afrika na apartheid, 1994-2004 (In Pretoruis, F. Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg. pp. 549-580).         [ Links ]

CALLAND, R. 2006. Anatomy of South Africa: Who Holds the Power? Kaapstad: Zebra Press.         [ Links ]

CUMMINS, J. 2000. Language, power, and pedagogy. Bilingual children in the crossfire. Clevedon, England: Multilingual Matters.         [ Links ]

DUVENHAGE, A. 2005. Politieke transformasie: 'n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1-40.         [ Links ]

GILIOMEE, H. 2015. The battle for Afrikaans at the University of Stellenbosch. Politiscweb, 12 November. http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/the-battle-for-afrikaans-at-the-university-of-stel. Geraadpleeg: 21 April 2016.         [ Links ]

GOVINDER KS, ZONDO NP, MAKGOBA MW. 2013. A new look at demographic transformation for universities in South Africa. SA Tydskrif vir Wetenskap, 109(11/12).         [ Links ]

HAFFAJEE, F. 2015. What if there were no whites in South Africa? Kaapstad: Pan MacMillan.         [ Links ]

HOFMEYR, J.W. 2012. Die Afrikaanse kerk in die 20ste eeu (In Pretoruis, F. Geskie denis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg. pp. 443-452).         [ Links ]

INSTITUTE FOR RACE RELATIONS (IRR). 2016. South Africa Survey 2016. Houghton IRR.         [ Links ]

JOHNSON, R.W. 2009. South Africa's brave new world. Johannesburg: Allen Lane.         [ Links ]

KROG, A. 2005. 'n Ander Tongval. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

MARAIS, H. 2001. South Africa: Limits to change: The political economy of transition. Londen: Palgrave McMillan.         [ Links ]

NZIMANDE, B. 2015. Remarks in Portfolio Committee for Higher Education and Training on Stellenbosch University. Department of Higher Education and Training. 7 September 2015. http://www.gov.za/speeches/minister-blade-nzi-mande%E2%80%99s-remarks-portfolio-committee-higher-educa-tion-and-training. Geraadpleeg: 16 April 2016.         [ Links ]

ORGANIZATION FOR SECURITY AND CO-OPERATION IN EUROPE (OSCE). 1996. The Hague recommendations regarding the education rights of national minorities. http://www.osce.org/hcnm/32180. Geraadpleeg: 6 Mei 2016.         [ Links ]

RAAD OP HOËR ONDERWYS (RHO). 2002. Report on the position of Afrikaans in the university system. www.gov.za/sites/www.gov.za/files/afripolicy0.pdf. Geraadpleeg: 29 April 2016.         [ Links ]

RASOOL, F. & BOTHA, C. 2011. The nature, extent and effect of skills shortages on skills migration in South Africa. SA Tydskrif vir Menslikehulpbronbestuur, 9(1):1-12.         [ Links ]

SELIGER, M. 1976. Ideology and politics. Londen: Allen & Unwin.         [ Links ]

SUID-AFRIKA. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukkery.         [ Links ]

SUID-AFRIKA. DEPARTEMENT VAN ONDERWYS (DVO). 2002. Language policy for Higher Education. Pretoria: DvO.         [ Links ]

VERENIGDE NASIES (VN). 1992. Declaration on the rights of persons belonging to national or ethnic, religious and linguistic minorities. Soos aanvaar deur die Algemene Vergadering resolusie 47/135 op 18 Desember 1992. http://www.ohchr.org/EN/ProfessionalInterest/Pages/Minorities.aspx. Geraadpleeg: 6 Mei 2016        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Theuns Eloff
Posbus 92129, Mooikloof 0059, Pretoria
theuns@dabiko.co.za

Wynand Greffrath
Private Bag X6001 Potchefstroom 2520
wynandgreffrath@gmail.com

15 Dec. 2016

 

 

1 Die ANC self beskryf die party as 'the leader of the process of transformation' (ANC 2000)
2 Die dokument stel ook elders dat "It is debatable whether the popular imagery of a 'rainbow nation' is useful".
3 Lees byvoorbeeld Piet Croucamp se repliek op Breyten Breytenbach se ope brief aan die Visekanselier van die Stellenbosch, gedateer 11 April 2016.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License