SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.80 issue3Connected leadership: Jeremiah 8:18-9:3 - a case study author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Koers

On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.80 n.3 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.19108/koers.80.3.2237 

ORIGINAL RESEARCH

 

Mistiek: van verwarring na waarheid? 'n filosofiese verkenning

 

Mysticism: From confusion to clarity? A philosophical reconnaissance1

 

 

B.J. van der Walt

Skool vir Filosofie Potchefstroomkampu, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Correspondence

 

 


ABSTRACT

In spite of the fact that a great variety of mystical and semi-mystical spiritualties are again popular today, for many people past and present mysticism is a mystery, something misty and vague. According to others, however, a mystical experience is nothing extraordinary since it can even be produced instantly by simply taking a chemical drug. Again, some other proponents of a religious kind of mysticism believe that (semi)mysticism can be an antidote against stagnant beliefs and dying churches, a vitamin capable of revitalising any religion. They are opposed by other Christian thinkers who regard any kind of mysticism as unbiblical and thus to be totally rejected. Such disagreements and confusion call for a clarification of what mysticism really entails.
Many approaches to this phenomenon, like psychological, theological, sociological ones and more are available today (cf. e.g. Stanford Encyclopedia of Philosophy, 2014). This essay tackles the issue from a philosophical perspective, trying to determine some basic characteristics of mysticism.
The investigation is divided into the following five main sections. In the first a bibliographical summary is given of some works on mysticism and their more general definitions. The second contains a selection of philosophical definitions of mysticism. The third reviews the contributions of a few authors to arrive at some basic characteristics or typologies of mysticism. The fourth section is devoted to differing viewpoints about the possibility of instant chemical mysticism. It is followed by a brief review of the latest research on mysticism. The concluding section provides a summary of the final results of this reconnaissance.


ABSTRAKTE

Ten spyte van die feit dat 'n groot verskeidenheid mistieke en semi-mistieke spiritualiteite vandag baie gewild is, bly die mistieke figure en geskrifte van die verlede en die hede vir baie mense enigmas. Vir ander weer is 'n mistieke ervaring niks buitengewoons nie. Volgens sommiges kan dit selfs vinnig met een of ander chemiese middel opgewek word. Nog ander persone is van mening dat 'n religieus-gekleurde (semi-)mistiek as vitamiene diens kan doen om 'n verstarde geloofslewe en sterwende kerke te laat herleef. Hulle standpunt word egter bestry deur ander Christelike denkers wat daarvan oortuig is dat enige vorm van mistiek onskriftuurlik is en geen plek in die lewe van 'n Bybelgelowige behoort te hê nie. Sulke uiteenlopende en botsende standpunte met gevolglike onduidelikheid oor wat mistiek presies behels, is die motivering vir hierdie verkenning. Van die baie benaderings tot hierdie verskynsel (bv. histories, psigologies, teologies, sosiologies) probeer hierdie een mistiek vanuit 'n diepermeer filosofiese perspektief benader. By 1.5 hieronder word vyf stappe genoem wat in hierdie ondersoek gevolg sal word om uit die huidige verwarring die waarheid oor n aktuele saak te probeer uitkristalliseer.


 

 

1 'N AGTERGRONDSKETS

Ter inleiding enkele opmerkings oor (1) die huidige gewildheid van mistieke denke; (2) die onduidelikheid oor wat mistiek presies inhou; (3) oor die groot verskeidenheid soorte mistiek; (4) hoe hedendaagse herlewing daarvan met die tydsgees verband hou, en (5) die fokus en opset van hierdie ondersoek.

1.1 Huidige gewildheid

Reeds in die vorige eeu het Schaeffer (1971) geskryf dat spiritualiteit in die toekoms 'n belangrike saak gaan word. Veertig jaar later, tydens sy afskeidsboodskap, bevestig Waaijman (2010) hierdie voorspelling. Hierdie internasionaal-erkende gesaghebbende op dié gebied (vgl. Waaijman, 2002) sê dat spiritualiteit intussen tot 'n selfstandige teologiese dissipline ontwikkel het en dat die wetenskaplike refleksie daaroor eksplosief toegeneem het (vgl. ook Sheldrake 1998 en 2013). Vandag verskyn daar 'n onophoudelike stroom van publikasies oor een baie gewilde vorm van spiritualiteit, naamlik mistiek. 'n Ongelooflike aantal publikasies (artikels en boeke) oor veral mistieke denkers van die verlede het reeds die lig gesien. Hulle word nie net deur geleerdes bestudeer nie, maar ook deur die man in die straat (vgl. die vorige drie artikels deur Van der Walt).

Hierdie boeke sluit nie net manlike mistici uit die geskiedenis in nie, maar ook talle vroulike mistieke denkers se geskrifte is deesdae blitsverkopers - ook in Suid-Afrika. So byvoorbeeld die oorspronklike Engelse werk van Forster en Beebe waarvan n Afrikaanse vertaling in 2006 verskyn het. Dit bevat seleksies uit die werke van manlike en vroulike mistici deur die eeue.

Ook die internet gons. Oosthuizen (2015) voer op LitNet onderhoude met Willem Nicol, vroeër 'n NG Kerk predikant en tans n vryskutpredikant in kontemplatiewe spiritualiteit (vgl. ook Nicol, 1989 en 2002) en Ronel Bezuidenhout van die Fontainebleau Gemeenskapskerk. Volgens hulle sal die kerk en Christendom in die toekoms óf 'n mistieke inslag hê óf van die toneel verdwyn.

Volgens laasgenoemde persoon word hierdie soort spiritualiteit ook reeds in sekere NG Kerke beoefen. In die onderhoud word verder die boeke van Rohr (2011) en Cox (2010) geadverteer. Laasgenoemde het n teologiese bollemakiesie gemaak sedert sy vroeëre geskrifte waarin hy die dood van God aangekondig het. Nou sien hy tog 'n toekoms vir die Christelike geloof in wat hy die "Age of Spirit" noem.

Om kritiekloos met die gees van die tyd saam te gaan, was nog altyd die maklikste. En as jy boonop boeke skryf en kursusse aanbied wat daarby inpas, kan jy behalwe populêr ook ryk word! Hierdie populariteit van allerlei soorte mistiek wêreldwyd beteken egter nie dat daar duidelikheid (hoef te) bestaan oor wat mistiek presies inhou nie.

1.2 Onduidelikheid oor die woord en die inhoud

In die voorafwoord tot haar klassieke werk (oorspronklik van 1911) skryf Evelyn Underhill (1967:xiv) reeds dat die woord "mistiek" een van die mees misbruikte woorde is wat in n groot verskeidenheid (selfs onderling weersprekende betekenisse) gebruik word. Ongelukkig gebruik sy self die woord taamlik kritiekloos en vaag (vgl. 3.1 hieronder).

'n Eeu later vra McColman (2010) waarom "mistiek" so 'n "vuil" ("dirty") woord geword het. Hy antwoord daarop dat die woord bederf is omdat dit gebruik word om so baie verskillende dinge aan te dui. Dit het daarom n nuttelose begrip geword wat eenvoudig op allerlei wonderlik-vreemde verskynsels kan dui.

Die basiese rede is natuurlik dat n mens se visie op mistiek bepaal word deur jou eie geloof en filosofiese uitgangpunte. Daarom kan dit vir sommige iets slegs aandui, terwyl dit vir ander die pad na ware geluk bied.

Dieselfde Roomse mistikus (McColman, 2010), skryf dan ook dat - ook al maak dit jouself onpopulêr - n mens deesdae nie anders kan nie as om jou eie norme aan te lê ten einde te kan onderskei tussen aanvaarbare, goeie mistiek en onaanvaarbare, slegte mistiek.

Hierdie ondersoek wil egter nog verder gaan en die vraag stel of daar werklik iets soos "goeie mistiek" kan bestaan. Om dit te bepaal word in hierdie artikel 'n filosofiese ondersoek na die dieper grondslae van mistieke denke onderneem. Hoewel die skrywer n objektiewe weergawe probeer bied, sal sy Christelik-filosofiese vertrekpunte nie verdoesel kan word nie. (Dit sal nog duideliker blyk uit Van der Walt, 2016.)

Een van die grootste probleme om oor hierdie onderwerp iets sinvols te skryf, is die groot verskeidenheid van mistieke denke en belewenisse. Hier volg slegs enkele voorbeelde.

1.3 'n Byna onoorsigtelike verskeidenheid

Godsdienstige mistieke strominge het bestaan en bestaan nog steeds onder byvoorbeeld Christene, Moslems en Hindoes wat in een of ander god glo. Maar van oudsher af bestaan daar ook mistieke tendense by gelowe soos die Boeddhisme wat nie 'n godheid erken nie. Ook ateïstiese mistiek is moontlik soos in die geval van die Westerse eksistensialistiese filosoof Karl Jaspers (vgl. Knudsen, 1958). Blykbaar hou sekere soorte mistiek dus nie verband met die mens se verhouding teenoor een of ander hoëre wese nie.

Die gebruik van een of ander narkotikum om sogenaamde mistieke ervarings te hê is al eeue oud. Vanaf die vorige eeu word daar egter selfs op wetenskaplike gronde beweer dat n mistieke ervaring baie vinniger en beter bereik kan word deur net n pil te sluk, jouself met een of ander chemiese dwelm in te spuit, dagga te rook of n ander narkotikum te snuif. Is so n tegnologies-chemiese kitsmistiek werklik moontlik of net 'n narkotiese droom?

Wie op hierdie gebied navorsing probeer doen, word dus met n legio ander vrae, soos onder andere die volgende, gekonfronteer. Is dit werklik moontlik om n objektiewe omskrywing en tipologie van mistiek te bied? Hoe interpreteer 'n mens mistieke geskrifte uit die verlede? Bestaan daar nie 'n groot gevaar om gewoon jou eie, hedendaagse visie daarin te lees nie? Hoe is dit moontlik om iets verstaanbaars oor mistiek te sê as 'n kenmerk daarvan juis is dat dit nie iets rasioneels wil wees nie en n taal gebruik wat gekenmerk word deur retoriese oordrywings, metafore en dubbelsinnighede?

Hier volg ter inleiding net enkele opmerkings na aanleiding van n ander vraag, naamlik waarom mistieke denke juis vandag so besonder byval vind.

1.4 Die gees van die tyd: die wending van rasionalisme na irrasionalisme

Hoewel meer redes genoem sou kon word vir die hedendaagse gewildheid van mistiek, beperk ons ons hier net tot een daarvan.

Historíese ondersoeke wys daarop dat mistieke strominge veral opbloei wanneer n kultuur, beskawing of geloof in verval raak en nie meer mense kan inspireer nie. Die heel belangrikste rede vir die geleidelike opkoms vanaf die vorige eeu en die huidige oorweldigende belangstelling in die mistiek is ongetwyfeld die grondige lewensbeskoulike en filosofiese verskuiwing wat daar in die Westerse kultuur plaasgevind het. Dit is die oorgang van die rasionalisme (ook modernisme genoem) van ongeveer 1600-1900 na die verskillende vorme van irrasionalisme.

Die verskillende vorme van rasionalisme se vertroue was op die ratio (rede) - 'n verabsoluteerde verstand - as norm vir die hele lewe (vgl. Vollenhoven, 2005:75-83). In die loop van die vorige eeu het dit al duideliker geword dat hierdie afgodiese vertroue op die menslike verstand nie net misplaas was nie, maar katastrofaal kan wees (vgl. maar net die twee wêreldoorloë).

Die dogmatistiese wetenskap moes in die daaropvolgende irrasionalisme dus van sy troon onthef word, gedegradeer word (irrasionalisme verwerp nie die rasionele geheel en al nie). Iets van die praktyk word toe bo die rede tot hoogste norm verhef. In die lewensfilosofie was dit die mag van lewe, in die eksistensiefilosofie menslike vryheid en in die pragmatisme nuttigheid (vgl. Vollenhoven, 2005:83-88). Let egter daarop dat die irrasionalisme nog steeds, net soos die rasionalisme, subjektivisties dink. Die subjek, iets van die skepping -uiteindelik die mens self - word die maatstaf. Wat aan God se verordeninge onderworpe moet wees, word self die norm. Eenvoudig gestel: Wat is, word ook wat behoort te wees.

Die huidige postmodernisme is n potpourri van al die vorige geestesstrominge - met die mens self al meer in die sentrum. Vandaar die groot klem op persoonlike bevrediging en ervaring. Ook godsdiens word verander van diens aan God tot eie, mistieke spiritualiteit. In die plek van God se riglyne vir die lewe, word die eie subjektiewe belewenisse nou die maatstaf.

Die voorafgaande beteken nie dat mistiek net in n relativistiese postmodernistiese klimaat kan groei en bloei nie. Mistieke geloof en denke is soos n klimplant of parasietplant wat sigself graag aan 'n bestaande godsdiens, kultuur, lewensvisie of filosofie heg. Daarom dat n mens alreeds gedurende die Middeleeue intellektualistiese mistici soos byvoorbeeld Bonaventura (1221-1274) vind en was 'n harde rasionalis, soos Spinoza (1632-1677), voorstander van 'n rasionele mistiek - in albei gevalle iets anders as die deesdae meer populêre gevoelsmistiek. 'n Mistieke lyn loop - in verskillende vorme - vanaf die antieke Grieke dwarsdeur die Westerse denke (vgl. vorige bydraes in hierdie reeks). Dit het vandag net weer n ongekende bloeiperiode ingegaan, omdat dit in n irrasionalisties-relativistiese klimaat meer aanvaarbaar geword het.

Wat die selfgerigtheid van mistiek betref, het Lasch (1974) vroeër ook al op 'n narsistiese trek in die hedendaagse Westerse kultuur die aandag gevestig. Sekere Christelike skrywers oor die mistiek (bv. McColman, 2010) sien 'n verband tussen hierdie narsistiese trek en die mistieke honger. In baie vorme van hedendaagse mistiek gaan dit nie meer om iets of Iemand buite jouself nie, maar bloot om die eie ervaring, die "idolatry of self-experience". Twenge (2006) tipeer die huidige geslag dan ook as "generation Me".

Die huidige kulturele konteks word verder gekenmerk deur versaakliking as gevolg van toenemende verwetenskapliking en vertegnisering. Persoonlike, menslike kontak word byvoorbeeld deur die digitalisering (vgl. bv. die internet) verskraal met vereensaming en geestelike honger tot gevolg (vgl. Turkle 2011).

1.5 Fokus en opset

Van al die moontlike benaderings tot die mistiek (vanuit n historiese, psigologiese, teologiese, sosiologiese en nog meer) is hierdie verkenning hoofsaaklik van wysgerige aard. Dit verloop soos volg.

1. Ter oriëntasie word eers 'n bibliografiese oorsig van n aantal belangrike (Westerse) bronne oor die mistiek in die algemeen gebied. Daarna

2. volg daar n oorsig van verskillende pogings om mistiek te definieer.

3. Dit word gevolg deur te let op drie belangrike denkers se uiteensetting van die besondere kenmerke van mistiek.

4. Daarna word aandag gegee aan die debat oor die moontlikheid van chemiese mistiek.

5. n Vlugtige blik word gebied op die nuutste navorsing oor die aangeleentheid en

6. ten slotte word n aantal gevolgtrekkings gemaak.

 

2. 'n BIBLIOGRAFIESE OORSIG VAN BELANGRIKE WERKE OOR DIE MISTIEK

Werke van mistici deur die eeue asook publikasies daaroor sal vandag maklik n biblioteek kan vul. Een voorbeeld hiervan is die uitgebreide bibliografie (nie minder nie as veertien bladsye) net oor Christelike mistiek in Nelstrop e.a. (2009:257-270).

Hier volg dus slegs 'n baie klein seleksie van meer filosofiese bronne (vanaf ongeveer die middel van die vorige eeu). Hoewel die bronne soms oorvleuel, word hulle hier tog ter wille van oorsigtelikheid onder enkele opskrifte ingedeel.

2.1 Die geskiedenis en vorme van mistiek in die algemeen

Ouere bronne is dié van James (1958, 2010), Stace (1960b), Zaehner (1961), Happold (1963), Smart (1967), Wainwright (1981) en Underhill (1967). Meer resent is Borchert (1994), Guiley (1993), Blommenstijn & Huls (2000) en Bears e.a. (2003).

2.2 Mistiek in verskillende godsdienste

Hoe wyd mistieke visies en lewenswyses in die wêreld by verskillende godsdienste voorkom, is in baie publikasies te vind. Van Praag (1986) handel byvoorbeeld oor die Chinese, Indiese, Japannese en Christelike mistiek. Borchert (1994:43159) bespreek agtereenvolgens die mistiek van die Ooste, Iran en Israel, maar ook dié gedurende die Hellenisme, die Joodse- en Middeleeuse mistiek tot op vandag. Ook Baers e.a. (2003) gee aandag aan verskillende mistieke tradisies deur die eeue. Deur verskillende skrywers in die bekende Religion und Geschichte der Gegenwart (deel 4, 1960:1242-1262) word die hele geskiedenis tot by die Protestantse mistiek gedek (vgl. Galling, 1960). So ook Smart (1967:420 e.v.), wat mistiek in Indië (Boeddhisme, Hindoeïsme en joga), in China, Japan (Taoïsme, Confucianisme), in die Judaïsme (Kabbalisme en Hasidisme) en die Christendom tot by die Protestantisme behandel. Vir 'n oorsig van mistiek binne die Gereformeerde Protestantisme kan verder Van der Linde (1976:45-61) geraadpleeg word.

2.3 Westerse mistiek

Aangesien Oosterse mistiek van 'n ander aard is (vgl. Van der Walt, 2015a), word dit verder hier uitgelaat. Vir die Westerse vorme daarvan kan die volgende geraadpleeg word: Heidrich (1984), Louth (1999), Ruh (1990-1999) Van Schaik (1993) en veral die omvangryke, vyfdelige studie van McGinn (1991) asook nog n hele aantal van sy ander bydraes (vgl. daarvoor Nelstrop 2009:265).

2.4 Christelike mistiek

King (2004) bied 'n populêre oorsig tot op die hede. Van meer akademiese aard is McGinn en McGinn (2003), Van Schaik (2005), Lamm (2012) en Hollywood en Beckman (2012). Afgesien hiervan is talle vertaalde werke van individuele Christelike mistici deur die eeue beskikbaar. Die reeks "The classics of Western spirituality" (in New York uitgegee deur Paulist Press) beslaan alreeds 25 bande wat ook die geskrifte van n groot aantal mistici in die Christelike tradisie insluit.

2.5 Die mistieke weg

Verskillende mistici beveel verskillende roetes aan om uit-eindelik n ekstatiese staat te kan belewe. So byvoorbeeld word daar besin oor ontwaking, selfontkenning, swye, kontemplasie, die hoor van stemme en sien van visioene. In dié verband is Van Praag (1986), Underhill (1967) en McColman (2010) nuttig.

Hierdie is bloot n klein grepie uit die massa materiaal wat enige navorser tegemoetkom, maar moontlik is dit tog as algemene oriëntering vir oningewydes van waarde.

Die fokus val nou op die vraag of dit moontlik is om hierdie soort spiritualiteit in sowel sy sekulêre as religieuse vorme in die Weste naastenby te kan omskryf.

 

3. POGINGS TOT 'n OMSKRYWING VAN MISTIEK IN DIE ALGEMEEN

Die groot probleem in hierdie verband is dat, soos reeds duidelik geblyk het, daar so n groot verskeidenheid mistieke rigtings bestaan. As n illustrasie van die onderlinge verskille kan Plotinos (205-270) se eenheidsmistiek, Averroës (11261198) se Arabiese mistiek, Meister Eckehart (1260-1327) se Christelike mistiek, die rasionalistiese mistiek van Spinoza (1632-1677), die tydsmistiek van Bergson (1859-1941) en die ateïsties-irrasionalistiese mistiek van Jaspers (1883-1969) dien.

Nogtans het verskillende skrywers oor hierdie verskynsel probeer om n gemeenskaplike "kern" te midde van al die verskeidenheid te vind. Hier volg (in kronologiese volgorde) n seleksie van sulke pogings.

3.1 Daar word begin met die klassieke werk van Underhill van 1911 (waarvan in 1930 al n twaalfde uitgawe verskyn het, teen 1967 nege maal herdruk is en in 1993 nog weer herdruk word). Hierdie "moeder van die hedendaagse mistiek" gee die volgende omskrywing van mistiek:

Broadly speaking, I understand it [mysticism] to be the expression of the innate tendency of the human spirit towards complete harmony with the transcendental order; whatever be the theological formula under which that order is understood... whether that be called the God of Christianity, the Wordsoul of Pantheism, the Absolute of Philosophy, the desire to attain it and the movement towards it - so long as this is a genuine life process and not intellectual speculation - is the proper subject of mysticism (Underhill, 1967:xiv-xv).

Die sin van haar omskrywing tussen aandagstrepe word later in haar boek (vgl. p. 26-43) duideliker. Sy was n voorstander van die destydse irrasionalistiese lewensfilosofie van onder andere Henri Bergson. Hieruit blyk reeds hoe 'n mens se definisie van mistiek bepaal word deur jou eie filosofiese uitgangspunt. (Underhill se filosofiese konsepsie toon groot ooreenkomste met Vollenhoven, 2000:244, se tipering van dié van Bergson.)

3.2 Obbink (1962) wys op die gemeenskaplike Neoplatoniese agtergrond van die Westerse mistiek. Plato se filosofie was alreeds op die bo-wêreldse ideëwêreld gerig. In die Neoplatonisme word dit verander tot n strewe na n direkte assimilasie met die goddelike Een.

3.3 Smart (1967) erken dat mistiek moeilik definieerbaar is, maar gee nogtans die volgende omskrywings. Mistiek beteken die onmiddellike gevoel van eenheid met God; n instelling waarin alle verhoudinge opgeneem word in die verhouding van die mens se siel tot God; n numineuse ervaring waarin regstreekse kontak met die transendente gemaak word.

3.4 Volgens Heidrich (1984) is mistiek 'n loslating van die materiële wêreld om met die goddelike wêreld verenig te kan word.

3.5 Stenius (1984). Vanuit 'n filosofiese hoek bevestig hierdie skrywer Obbink en Smart se omskrywings.

3.6 Honderich (1995) aanvaar James se vier kenmerke van die mistiek (vgl. 4.2 hieronder), maar voeg n vyfde by, naamlik n veranderde staat van bewussyn, wat n onderdrukking van die kognitiewe kontak met die gewone werklikheid impliseer asook n verlies aan eie selfgevoel. Hy onderskei ook tussen n monistiese mistiek (wat die eenheid van alles beklemtoon en dus nie duidelik tussen die transendent-goddelike en die nie-transendente wêreld onderskei nie) en n dualistiese tipe (meer populêr onder Christene, aangesien hulle vir panteïsme gevrees het.)

3.7 Volgens Hanegraaff (2005) is mistiek 'n enigma wat wel gelokaliseer maar nie geanaliseer kan word nie. Etimologies kom die woord "mistiek" van die oorspronklike Grieks mu, wat wys op n geslote mond, muo om geslote te wees en mustes wat dui op die geïnisieerde persoon wie se lippe verseel is. Mistiek dui op die onuitspreeklike, intieme teenwoordigheid van God in die mens en die mistikus is die persoon wat hierdie (bo die natuurlike kennis van sintuie en verstand uitgaande) eenheid met die goddelike ervaar.

3.8 Ten Kate (2007) wys (soos Obbink hierbo) op die groot invloed van die antieke Neoplatonisme waarin die onderskeid tussen God en mens opgehef is, omdat die mens se onsterflike siel sigself van die stoflike, liggaamlike sou kon losmaak om met die goddelike wese één te word. Verder wys ook hy daarop dat hierdie mistieke band n sterk emosionele karakter vertoon.

3.9 In Bremmer e.a. (2007) lees n mens dat mistiek n persoonlike sensasie is wat vir n kort moment die gewone menslike vermoëns deurbreek om n eenheid te ervaar met die groot geheel of die universele waarbinne hy/sy lewe. Hy noem dit ook spiritualiteit met openheid vir die transendente.

3.10 Volgens Gessmann (2009) is die woord mystikos oorspronklik gebruik om 'n ingewyde in verskillende geheime misterie-godsdienste aan te dui. Mistiek beteken volgens hom om die bosinnelike, transendent-goddelike onmiddellik ervaarbaar te maak en daarmee te versmelt.

Hoewel hulle verskillende aksente plaas, help hierdie tien skrywers se omskrywings alreeds om 'n vat op die (Westerse) mistiek te kry. Nou word daar breedvoeriger aandag gegee aan enkele outeurs uit die vorige eeu, wat nie net kort definisies van mistiek gegee het nie, maar ook sekere uitstaande kenmerke daarvan beskryf het.2

 

4 NADERE KENMERKE VAN DIE MISTIEK GEÏDENTIFISEER

Net soos in die voorafgaande pogings tot n omskrywing, speel by hierdie skrywers ook hulle implisiete eie visies n duidelike rol. Russell was byvoorbeeld aanvanklik 'n laat-rasionalistiese denker, maar word uiteindelik n irrasionalistiese pragmatis (vgl. Vollenhoven, 2000:153). James was ook n irrasionalistiese pragmatis (vgl. Vollenhoven, 2000:114), terwyl Stace n verteenwoordiger was van die eksistensialistiese vorm van irrasionalisme, gekombineer met n fenomenologiese metode (vgl. Vollenhoven, 2000:159).

4.1 Bertrand Russell (1872-1970)

Van hierdie denker se visie is n nuttige samevatting na sy dood gepubliseer (vgl. Russell, 1972). Hy noem (op p. 252) die volgende drie gemeenskaplike trekke van mistiek. (1) Die eenheid van alles, omdat alle verskeidenheid of verdeeldheid as onwerklik beskou word; (2) die kwaad is n illusie; (3) tyd is onwerklik, aangesien die werklikheid self ewig is in dié sin dat dit buite die tyd val, botydelik is en die mistikus n deel daarvan sou kan word. Volgens die mistiek is dit dus misleidend om te glo dat daar n opeenvolging van gebeurtenisse sou wees -verlede, hede en toekoms val sáám.

Russell se kritiek op die eerste trek is dat dit innerlik teenstrydig is: As daar nie n veelheid bestaan nie, waarom sal n mistikus dan na eenheid streef? Volgens hom kan die kwaad in die werklikheid ook nie ontken word nie. Ook die geloof in die tydloosheid van die werklikheid is volgens hom absurd.

Russell se hoofkritiek is egter dat mistiek iets van 'n emosionele aard is en dus geen logiese waarde kan inhou nie. Emosies bied geen feite nie (p. 255). 'n Mens kan volgens hom ook soortgelyke psigiese ervaringe opwek - nie net deur middel van askese, gebed, vas en selfkastyding nie, maar ook met behulp van opium, dagga, alkohol en chemiese dwelmmiddels.

Nóg religieuse nóg chemiese mistiek lewer egter 'n bydrae tot enige waarheid. As destyds nog n rasionalistiese denker, skei Russell (p. 256) religie en wetenskap. Volgens hom kan emosies (dalk) wel tot religie lei, maar slegs die wetenskap bied werklik waarheid.

4.2 William James (1842-1910)

Volgens hierdie denker (wat as een van die vaders van die moderne studie van die mistiek beskou word) is mistiek een van die baie "varieties of religious experience" (vgl. James, 1958 en 2010) en hy beskryf dit aan die hand van die volgende vier kenmerke:

1. Die onsegbaarheid of onuitspreekbaarheid van mistieke ervarings, sodat hulle meestal net in negatiewe terme (wat hulle nie inhou nie) agteraf beskryf kan word.

2. n Waarheidsaanspraak, wat regstreekse insig sou gee in n dieper waarheid wat nie vir die menslike intellek toeganklik sou wees nie.

3. Die kortstondigheid daarvan, sodat 'n herinnering daaraan slegs in die mistikus se geheue oorbly.

4. Passiwiteit, omdat van n mistikus verwag word om van sy eie verstand, wil en so meer afstand te doen.

4.2.1 Nog meer kenmerke

Die vier trekke hierbo genoem verraai reeds James die psigoloog wat hoofsaaklik op die mens en sy gevoel se rol in mistieke ervarings gefokus het. Hy bied daarna talle voorbeelde uit die geskiedenis van die Oosterse en Westerse mistiek om sy eie tipologie te bewys en waardeur ook ander, dalk belangriker trekke daarvan, blootgelê word.

Van die ander trekke wat hy na vore bring, is dat mistiek 'n opgaan in óf die bonatuurlike óf die natuurlike kan beteken. Dit vereis egter dat die menslike sintuie in die mistieke ervaring opgehef, gedood moet word. Solank god in die mistikus is of die mistikus se siel in god, hoor, sien, voel, proe en verstaan die mens niks nie. En volgens sommige mistici is god self dan ook n onwerklikheid.

Volgens James word die paradoksale karakter van die mistiek hier duidelik: Hoe kan 'n mens seker wees van iets wat jy nie met jou sintuie ervaar het nie? Paradoksale ja-en-nee uitdrukkings (soos helder onduidelikheid, 'n fluisterende stilte, 'n vrugbare woestyn) is egter tipies van mistiek.

Net soos Russell, stel James die vraag of mistiek nie maar net n hipnotiese staat of patologiese histerie is nie. Wat is per slot van sake die verskil tussen godsdienstige mistiek en die hallusinasies wat met sekere gasse en chemikalieë opgewek kan word?

4.2.2. Opgaan van die individuele in die universele

Myns insiens kom James later nader aan die filosofiese kern van die mistiek wanneer hy skryf dat die mees blywende mistieke tradisie die eenwording van die kleine of individuele met die grote of universele is, van die druppel in die oseaan, die vonkie in die vuur (James 1958:319).

Na so 'n versmelting is daar nie meer sprake van 'n "ek" of "my" nie, want in die eenheid word alle onderskeid opgehef. Die mens wat homself vernietig het, hoor die stem "Ek is god" (p. 322). Die mistikus Heinrich von Suzo (1295-1366) het byvoorbeeld gesê: "My gees sterf, maar leef voort in God". Angelus Selesius (1624-1677) het selfs beweer dat hy net so groot as God is! (James 1958:320).

4.2.3 Nog twee trekke

James wys op nog twee ander belangrike trekke van mistiek. Eerstens (vgl. James 1958:306) dat die mistieke denke nie n duidelike eie identiteit besit nie en daarom verhoudings met die mees uiteenlopende filosofieë en religieë vorm. Die voorwaarde is egter dat sulke geestelike rigtings ruimte bied vir mistieke belewings. In n beeld verduidelik: mistiek is soos n indringer klimplant, wat sigself graag aan bestaande lewensvisies heg, soos 'n parasietplant op hulle teer - om uiteindelik die moederplant te oorwoeker?

Die tweede belangrike trek wat James (1958:323) identifiseer (ook reeds deur Russell vermeld), is (omdat mistiek 'n vereniging met n ewige, goddelike wese sou inhou) dit ook tydloos, botydelik en selfs ewig sou wees.

4.2.4 'n Evaluering

Eers in die derde afdeling van sy hoofstuk oor mistiek kom James tot sy eie evaluering: Bevat mistiek enige waarheid?

Volgens hom (1958:326) bevat religieuse mistiek meer waarde, aangesien dit meer optimisties sou wees as andere "laere" vorme daarvan wat tot pessimistiese aanvaarding geneig sou wees. Volgens hom kom laasgenoemde mistieke vorme neer op n misleidende, vervlakte geestestoestand, kranksinnigheid, paranoia.

Dit is dus nogtans merkwaardig dat hierdie skrywer (anders as Russell) aan die einde (1958:327) tog tot die gevolgtrekking kom dat mistiek ook waarde kan hê, omdat die menslike gees daarin n breër, meer inklusiewe werklikheid sou ontdek, wat nuwe betekenis, rus en vrede sou bied. Sy simpatieke visie op mistiek moet heelwaarskynlik toegeskryf word, nie net aan sy sterk psigologiese benadering nie, maar ook aan sy pragmatisties-irrasionalistiese filosofie waarvolgens (anders as die rasionalisme) die nuttigheidswaarde as hoogste norm beskou is.

4.3 Walter T. Stace (1886-1967)

Ook hierdie skrywer (vgl. Stace 1960a en 1960b) erken vooraf dat mistiek n onsegbare, paradoksale karakter het, maar soek (volgens n fenomenologiese metode) nogtans na die universele "wese" van alle mistiek. Hy vind dit in die wegsmelt van die individuele in die oneindig universele.\

4.3.1 Twee hooftipes

Daarby onderskei hy tussen twee hooftipes, naamlik n ekstroverte en n introverte. Volgens eersgenoemde vorm rig die mistikus hom/haar op die buitewêreld om eenheid daarmee te vind, terwyl by laasgenoemde die een(heid) in die eie, hoogste self of gees gevind word. (n Mens sou die eerste n soort kosmiese mistiek kon noem en die tweede n antropologiese mistiek.)

Stace skep verder die indruk dat mistiek alleen by streng monistiese filosofieë (wat die prinsipiële eenheid van alles beklemtoon) voorkom en nie by dualistiese konsepsies (wat van n oorspronklike tweeheid uitgaan) nie. Die veronderstelling moet egter bevraagteken word. Waarom na eenheid strewe as daar nie n tweeheid bestaan nie? In die monisme word die eenheid reeds veronderstel, in die dualisme moet dit nagestreef word. (Vir 'n antwoord hierop, vgl. Van der Walt 2016.)

4.3.2 Verskillende kenmerke

Na sy dood verskyn daar ook nog n kort weergawe van sy gedagtes (vgl. Stace 1972). Weer beklemtoon hy die eenheid wat die mistiek nastreef. Net soos by Russell en James kom ook die onwerklikheid van tyd, die sogenaamde bo-tydelike karakter van mistiek asook die paradoksale aard daarvan na vore. Hy vra tereg ook hoe daar n bewussyn van so n ervaring kan wees wat nie n duidelike objek het nie. Of, as die bewussyn verdwyn, hoe kan die objek nog bestaan?

n Ander (nou reeds bekende) kenmerk is mistieke leegheid. Dit kan byvoorbeeld alleen negatief sê wat god nie is nie. God word selfs n niks, n woestyn of wildernis genoem. Stace vestig ook die aandag daarop dat mistiek (soos in die geval van die Boeddhisme) nie eers n godheid nodig het nie.

4.3.3 Simpatieke evaluering

Omdat hierdie skrywer ten slotte (soos James) ook mistiek probeer verdedig (vgl. Stace 1972:249), staan hy afwysend teenoor die gedagte dat so n lewensbeskouing selfgerig sou wees, sigself in die eie sielelewe en ekstase sou terugtrek om van eie en ander se nood te vergeet, eie verantwoordelikheid ontduik en dus min morele waarde sou hê. Mistiek bied volgens hom wel n fondament vir vryheid tot altruïstiese liefde.

Nie alle skrywers oor mistiek sou egter met Stace saamstem dat mistiek morele gedrag sou bevorder nie. Volgens hulle is mistiek en etiek onversoenbaar. Nog ander (bv. Wainwright 1981:225) wys op n gemengde situasie: soms, maar in ander gevalle nie, kan mistiek positiewe morele gevolge inhou. Byna soortgelyk as James konkludeer Stace nogtans dat mistiek, as n verhouding met iets wat groter is as jyself (die Geestelik-Oneindige), n poort na saligheid bied wat tot die grootste liefdesdade sal lei. In sy klem op vryheid om n mistikus te wees en die vryheid wat mistiek sou bevorder, kom sy eksistensialistiese oriëntasie na vore.

Maar hoe oordeel n mens oor die reeds genoemde chemiese induksie van n soort mistieke belewenis?

 

5. KITS OF CHEMIESE MISTIEK

By die weergawe van Russel is genoem dat (alreeds aan die begin van die sewentigerjare van die vorige eeu) op wetenskaplike wyse daaroor gedebatteer is of mistieke ervarings nie eenvoudiger en vinniger deur middel van natuurlike plante of nuwe chemiese middels bereik kan word nie. Hier volg enkele grepe uit hierdie debat.

5.1 Drie standpunte

Ginsberg (vgl. Abelson e.a. 1972:261 e.v.) is daarvan oortuig - hy het dit self beproef - dat outentieke religieuse ervarings in "trips" met dwelms haalbaar is. Hy is dus van mening dat psigiese gevoelens tot godsdiens kan lei of ten minste tot n besef van ewigheid. God kan in n pil of spuit gevind word.

Wyshogrod (Abelson e.a. 1972:266 e.v.) glo wel in religieuse ervarings, maar verwerp die idee dat dit met chemiese middele bereik kan word, omdat dit volgens hom blote outosuggestie is. Abelson (1972:271 e.v.) betwyfel die egtheid van sowel religieuse as psigedeliese mistieke ervarings.

5.2 Kritiese kommentaar

Wyshogrod gaan heelwaarskynlik van n Joodse of Christelike geloof uit. Hy merk in die lig daarvan op dat die ware God nie aan die einde van n sillogisme gevind kan word nie. (In die sg. natuurlike teologie is met verskillende logiese sillogismes probeer om die bestaan van God te bewys.) God kan ook nie met n teleskoop ontdek word nie. Net so min kan ware gemeenskap met Hom by wyse van n chemiese middel gekoop word (Wyshogrod 1972:268). Om dit te probeer, is volgens hom niks anders nie as om van ware godsdiens n belaglike parodie te maak nie.

Volgens hom bestaan daar dan ook n radikale verskil tussen godsdiens en mistieke magie, want met magiese praktyke soek die mens na eie selfbevrediging en mag, terwyl ware godsdiens deur gebed, dit wil sê deur afhanklikheid van God gekenmerk word.

Wyshogrod lewer ook kritiek op drie kenmerke van die mistiek reeds vroeër genoem. Hy skryf (Abelson e.a. 1972:268) dat dit eenvoudig op menslike hoogmoed neerkom dat die menslike gees met die Gees van God een sou kon word. Dit is ook n illusie dat n mens jou op n mistieke wyse aan die werklikheid sou kan onttrek. Verder (1972:272) vestig hy die aandag daarop dat n mistieke ervaring (insluitende n chemies bewerkte) n mens bokant elke morele kriterium wil verhef. Die onderskeid tussen goed en kwaad sou dan opgehef word. Om net te sê dat so n ervaring goed voel, beteken nog nie dat dit werklik goed is nie.

5.3 Die debat gaan voort

Lesers wat in die verdere verloop van die debat oor kits chemiese mistiek belangstel, kan Wainwright (1981:54-81) raadpleeg. Hy verwys na verskillende eksperimente met verskillende middele, maar beskou hulle as nutteloos aangesien daarby nie duidelik onderskei is tussen teïstiese (religieuse) en ander vorme van mistiek (soos die monistiese) nie. Volgens hom is dit ook nie moontlik om outentieke religieuse belewenisse statisties te meet en natuurlike verklarings daarvoor te bied nie. Dit is onmoontlik om met een of ander dwelm God te beïnvloed of selfs te noop om Homself te openbaar.3

Die Joodse ateïs, Haidt (2006:201 e.v.) stem egter nie saam nie. LSD en psilosibien is volgens hom middele wat n god van binne die mens uit kan genereer. Dit veroorsaak volgens hierdie psigoloog werklike mistieke piekervarings van die transendente. Dit is egter duidelik dat daar n wêreldse verskil bestaan tussen wat Wainwright God noem en Haidt die transendente. Ook hulle mensbeskouings verskil radikaal.

 

6. VERDERE NAVORSING

Behalwe Russell, James en Stace, hierbo as voorbeelde bespreek, het reeds in die vorige eeu meer skrywers oor mistiek gehandel, soos byvoorbeeld Otto (1957), Zaehner (1961), Katz (1962) en Happold (1963) om maar weer net enkeles te noem. Wainwright (1981) bespreek hulle onderlinge ooreenkomste en verskille.

Vir die nuutste navorsing op hierdie gebied kan onder andere die Stanford Encyclopedia of Philosophy onder "mysticism" (03/03/2014) op die webtuiste gebruik word - en jy ontvang dertig bladsye informasie met 'n bibliografie van vyf bladsye, maar met weinig prinsipiële rigting. Beperkte ruimte laat dit hier net toe om slegs op drie gepubliseerde werke kortliks die aandag te vestig.

6.1 Van Schaik (2005)

Hierdie skrywer (Van Schaik, 2005:213 e.v.) maak 'n onderskeid tussen (1) die tradisionele Christendom (wat God met die geloof en/of verstand wou ken); (2) mistiek, wat volgens hom die suiwerste vorm van spiritualiteit is (wat God sou aanskou en ervaar) en (3) esoterie (wat gnostiese godskennis voorstaan).

Volgens hom (vgl. Van Schaik 2005:215) gaan dit in mistiek om n vereniging tussen God en die mens se siel of gees. n Mens soek God nie (soos in die tradisionele Christendom) in geloof nie, maar in die diepte van jou eie siel, die woning van God. Hoewel God van die skepping of in die mensesiel is, moet die mens dit ervaar, bewus word van sy teenwoordigheid (vgl. Van Schaik 2005:217).

Van Schaik bevestig dus die kenmerkende van mistiek soos op die voorafgaande bladsye reeds aangetref.

6.2 Nelstrop, Magill en Onishi (2009)

Hierdie skrywers bied n goeie oorsig oor verskillende teoretiese benaderings op of interpretasies van mistiek gedurende die afgelope eeu tot by die postmodernisme van Derrida en Lyotard.

Die eerste is die altyddurende ("perennialist") weergawes, wat van die veronderstelling uitgaan dat mistiek (iets onsegbaars) steeds naastenby dieselfde, vaste eienskappe vertoon. Tweedens is daar die kontekstuele posisies, wat mistiek in die lig van verskillende filosofiese, historiese, kerklike, sosiale en politieke omstandighede interpreteer en ook aanvaar dat mistieke belewenisse nie iets onmededeelbaars is nie. Derdens vind ons n linguistiese benadering, wat op mistieke taalgebruik fokus. Vierdens is daar n feministiese teorie wat (teenoor die nadruk op die intellektuele in die eerste teorie) die liggaamlike element in mistiek beklemtoon.

Volgens Nelstrop en andere bied mistiek egter meer vrae as antwoorde (2009:256). Maar, konkludeer hulle, so behoort dit ook te wees, omdat mistiek n mens bo jouself uitlig na die ander/Ander. Volgens hulle is Christelike mistiek eenvoudig n vorm van gebed, n roep uit die mens se diepste siel na die goddelike, 'n dialoog met dit wat buite jouself lê.

6.3 Christensen en Wittung (2007)

Hierdie werk handel oor deïfikasie of vergoddeliking (theosis) deur die Christelike tradisie en toon aan hoe gewild dit vandag weer geword het. Gesien die verskillende figure wat behandel word, kon dit ook n boek oor "Christelike" mistiek gewees het, want die kern van sulke religieuse mistiek (so het reeds duidelik geblyk) is die strewe na vergoddeliking.

Hoewel sommige skrywers wel noem dat Plato en die Neoplatonisme se denke die filosofiese agtergrond vir die idee van deïfikasie ook by Christendenkers was, word die gevaar van hierdie heidense invloed nie duidelik uitgewys nie. Die theosis-gedagte word oorwegend onkrities behandel en selfs as iets positiefs beskou.

Die skrywer se indruk is dat veral resente skrywers oor mistiek (heelwaarskynlik as gevolg van hulle relativisties-postmodernistiese oriëntasie) huiwerig is om hierdie fenomeen duidelik te tipeer en veral te beoordeel. So n benadering mag voordele inhou, maar bly filosofies onbevredigend.

 

7. SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKINGS

Ook vanuit die filosofiese hoek beskou, is dit nie maklik om 'n tipologie van mistiek te bied nie. Rekening moet gehou word met die persoonlikhede en geslag van verskillende mistici asook die historiese, godsdienstige, sosiale en politieke omstandighede waarbinne hulle geleef en geskryf het. Verder speel die eie lewensvisie, filosofie en teoretiese paradigma van waaruit hulle geïnterpreteer word n belangrike rol.

Die skrywer is nogtans van mening dat sekere basiese trekke van hierdie verskynsel geïdentifiseer kan word en - ter wille van duidelikheid - ook moet word. Terugskouend kan samevattend en puntsgewys die volgende tien trekke genoem word.

Van heidense oorsprong

By die meeste navorsers bestaan daar nie twyfel nie - ook al aanvaar hulle die feit soms kritiekloos - dat die Westerse mistieke denke sy oorsprong vind by die pagane Griekse filosoof, Plato (427-347 v.C.), en sy baie Neoplatoniese navolgers deur die geskiedenis.

'n Verkleurmannetjie

Een van die redes waarom daar soveel vorme van mistiek bestaan, is omdat daar soveel religieë en lewensvisies is waaraan mistiek sigself heg. Soos n verkleurmannetjie neem dit die "kleur" van die betrokke geloof aan en skep dit die indruk van groot verdraagsaamheid teenoor uiteenlopende gelowe.

Die antropologiese grondslag

Mistiek kan, filosofies beskou, slegs bestaan wanneer daar nie n duidelike onderskeid erken word tussen die goddelike en menslike wêrelde nie. Dit veronderstel iets (semi-)goddeliks in die mens - gewoonlik sy siel of gees of 'n onderdeel daarvan.

'n Strewe na eenheid

Mistiek behels n strewe na die synseenheid van die individuele menslike siel/gees met iets of Iemand hoër en belangriker as die mens. Dit waarmee 'n eenheid nagestreef word, kan verskillend wees. Dit kan 'n god/God wees (deïfikasie), 'n eenheid tussen die mens met die kosmos (aardse mistiek), die eenheid van die individuele (mens) met die universele (universalistiese mistiek), of 'n mengsel van al hierdie moontlikhede.

Selfvernietiging

Wat ookal die eenheid behels of waarmee die mens ook al moet saamsmelt, die vereiste is dat die eie menswees eers opsy geskuif, verloën, opgehef, vernietig moet word.

Die weg daarheen

In die meer tradisionele mistiek is die mistieke weg tot eenwording gewoonlik in verskillende stappe beskrywe en was dit n moeisame proses. Maar volgens sekere skrywers is dieselfde resultaat vandag veel vinniger met chemiese middele bereikbaar.

Botydelik maar kortstondig

Die uiteindelike ekstatiese eenheid wat bereik word, word as n tydlose, ewige ervaring beskryf, maar duur nooit lank nie.

Onmededeelbaar

So n toppuntervaring is nie van n intellektuele aard nie. Dit kan wel deur mistici self in herinnering geroep word, maar is nie logies analiseerbaar nie, onsegbaar en onmededeelbaar. Dit is die rede waarom baie mistieke mense net (negatief) kan sê wat hulle ervaringe nie behels het nie as om (positief) te beskryf wat dit wel inhou. Die eindresultaat is egter dikwels leegheid, duisternis, die niks. Ander skrywers oor die mistici is egter van mening (omdat van die mistieke denkers nogtans hulle ervaringe op skrif gestel het) dat mistieke ervarings wel kognitiewe waarde besit.

' Groot variasie

Hoewel sommige (veral vroeëre) navorsers van mening was dat mistiek bloot iets gevoelsmatig of psigies van aard sou wees, bestaan daar verskillende nuanses. Filosofies beskou, hang dit af van die betrokke antropologie van die mistikus. Klem op die intellek het byvoorbeeld n intellektualistiese mistiek tot gevolg; nadruk op die wil 'n voluntaristiese, terwyl prioriteit toegeken aan die emosionele (of hart) tot gevoelsmistiek lei.

Behalwe vir iemand se filosofiese konsepsie en mensvisie, bepaal ook die normatiewe tydstroming waarbinne iemand leef en dink hoe sy mistiek daar uitsien en/of hoe sy/hy mistieke spiritualiteit sal beoordeel. Die vitalistiese mistiek van Bergson, De Chardin en Underhill verskil byvoorbeeld van dié van die postmodernistiese van Derrida. Die verskil in die beoordeling van mistiek as verskynsel blyk duidelik uit Russell se rasionalistiese, James se pragmatistiese en Stace se eksistensialistiese benadering daarvan.

Normatiewe onduidelikheid

Volgens sekere navorsers (almal stem weer nie saam nie) is mistici van oortuiging dat hulle, omdat hulle tot n goddelike staat verhef sou word, bo gewone wette en norme verhewe is, sodat sulke maatstawwe nie vir hulle sou geld nie. Die verskil tussen goed en kwaad vervaag en die kwaad word as n illusie beskou. Mistiek bied dus nie n duidelike normatiewe koers vir die mistikus self nie en impliseer ook 'n quiëtistiese lewenshouding teenoor die buitewêreld, inspireer nie om wat verkeerd is reg te stel nie.

 

8. TER AFSLUITING

In die lig van die voorafgaande filosofiese besinning word dit reeds duidelik dat Christene liewer afskeid behoort te neem van enige vorm van mistiek en nie moet poog om dit in die Bybel in te lees en deur God se Woord te laat sanksioneer nie (soos vroeër in die geval van bv. Deissner, 1921; Van de Weg, 1949 en Schweitzer, 1954). Word so n soort spiritualiteit in die lig van die Skrif bevraagteken, word dit ook sinloos om tussen ware, aanvaarbare en valse, onaanvaarbare mistiek te onderskei - eersgenoemde "mistiek" genoem en laasgenoemde "mistisisme". Dan kom daar - ten minste vir Christene - te midde van die heersende onduidelikheid groter helderheid oor hierdie gewilde hedendaagse soort spiritualiteit. My volledige motivering vir so n standpunt moet egter oorstaan tot n slotartikel (Van der Walt, 2016).

 

BIBLIOGRAFIE

Abelson, R., Ginsberg, A. & Wyshogrod, M., 1972, Psychedelics and religion. (In Rotenberg, P. & Rotenberg, K.J., eds. Philosophy now; an introductory reader. Random house, New York, 259-273.         [ Links ])

Baers, J., Jelsma, A., Steggink, O., Brinkman, G., reds. 2003, Encyclopedie van de mystiek; fundamentele tradities en mogelijkheden, Kampen, Kok.         [ Links ]

Blommestijn, H. & Huls, J., 2000. Een spoor van liefde, Gent/Kampen, Kok.         [ Links ]

Borchert, B. 1994, Mystiek; het verschijnsel, de geschiedenis, de nieuwe uitdaging, Haarlem, J.H. Coottmer.         [ Links ]

Bremmer, R., Ten Kate, L. & Warrink, E., reds. 2007. Encyclopedie van de filosofie van de oudheid tot vandag. Amsterdam, Boom, 362-364.         [ Links ]

Christensen, M.J. & Witting, J.A., eds. 2007, Partakers of the Divine Nature; the history and development of deification in the Christian tradition, Grand Rapids, Michigan, Eerdmans.         [ Links ]

Cox, H. 2010, The future of faith, San Franciso, HarperOne.         [ Links ]

Deissner, K.,, 1921, Paulus und die Mystik ziener Zeit, Leipzig, Deichert.         [ Links ]

Forster, R.J. & Beebe, G.D., eds. 2006, 'n Dieper verlange na God, Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Galling, K., red. 1960, De Religion in Geschichte und Gegenwart, (3e Ausgabe), Band 4, Tübingen, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck),1237-1262.         [ Links ]

Gessmann, M., red. 2009, Philosophishes Wörterbuch, (23e Ausgabe), Stuttgart, Kroner, 507.         [ Links ]

Guiley, R.E., 1993, Encyclopedia of mystical and paranormal experience, London, Grange Books.         [ Links ]

Haidt, J. 2006, The happiness hypothesis, London, Arrow Books (Random House).         [ Links ]

Hanegraaff, W.J., red. 2005, Dictionary of gnosis in Western esotericism, (2 vols.), Leiden/Boston, Brill.         [ Links ]

Happold, F.C., 1963, Mysticism, Baltimore, Penguin Books.         [ Links ]

Heidrich, P., 1984, 'Mystik, mystisch', (In Ritter, J. & Gründler, K. (Herausgebers), Historisches Wörterbuch der Philosophie (Band 6), Darmstadt, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, 268-273.         [ Links ]

Hollywood, A. & Beckman, P.Z., eds. 2012, The Cambridge companion to Christian mysticism, Cambridge, Cambridge Univ. Press.         [ Links ]

Honderich, T., ed. 1995, The Oxford companion to philosophy Oxford, Oxford Univ. Press.         [ Links ]

James, W., 1958, 'Mysticism', (In James, W. The varieties of religions experience, New York, : New American Library. p. 292-328.         [ Links ])

James, W., 2010, Vormen van religieuse ervaring; een onderzoek naar de menselijke aard, Mysticism: p. 281-320, Amsterdam, Abraxas.         [ Links ]

Katz, S.T., ed. 1962, Mysticism and philosophical analysis, London, Sheldon Press.         [ Links ]

King, U., 2004. Christian mystics; their lives and legacies throughout the ages, London/New York, Routledge.         [ Links ]

Knudsen, R.D., 1958, The idea of transcendence in the philsophy of Karl Jaspers, Kampen, Kok.         [ Links ]

Lamm, J.A., ed. 2012, The Wiley-Blackwell companion to Christian mysticism, Malden/Oxford, Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Lasch, C., 1974, The culture of narcissism, New York, Norton & Co.         [ Links ]

Louth, A., 1999, The origins of the Christian mystical tradition, Oxford, Clarendon Press.         [ Links ]

McColman, C., 2010, The big book on Christian mysticism; the essential guide to contemplative spirituality, London, Hampton Roads Publishing.         [ Links ]

McGinn, B. & McGinn, P.F., eds., 2003, Early Christian mystics, New York, Crossroad Pub. Co.         [ Links ]

McGinn, B., 1991, The presence of God; a history of Western mysticism, 5 volumes, New York, Crossroad Pub. Co.         [ Links ]

Nelstrop, L., Magill, K. & Onishi, B.B., eds., 2009, Christian mysticism; an introduction to contemporary theoretical approaches, Farnham, Surrey, Ashgate.         [ Links ]

Nicol, W., 1989, Stem in die stilte; ' werkboek in Christelike meditasie, Pretoria, Orion.         [ Links ]

Nicol, W., 2002, Gebed van die hart; word stil en beleef God, Wellington, Lux Verbi.         [ Links ]

Obbink, H.W., 1962, Mystiek, In Oosterhoeks Encyclopedie, 10, p. 413-415, Utrecht, Oosterhoek's Uitgeversmaatschappij.         [ Links ]

Oosthuizen, J., 2015, Mistieke teologie dalk die kerk se reddingsboei. http:www.litnet.co.za/mistieke-teologie-dalk-die-kerk-se-reddingsboei.html Datum van toegang: 07 Jan. 2016.         [ Links ]

Otto, R., 1957, Mysticism East and West; a comparative analysis of the nature of mysticism, New York, Meridan Books.         [ Links ]

Rohr, R., 2011, Falling upward; a spirituality for the two halves of life, Oxford, Wiley.         [ Links ]

Ruh, K., 1990-1999, Geschichte der abendlandische Mystik, 4 bande, München, Verlag C.H. Beck.         [ Links ]

Russell, B., 1972, Mysticism, in Struhl, P.A. ed., Philosophy now; an introductory reader, 251-256, New York, Random House.         [ Links ]

Schaeffer, F., 1971, True spirituality, Wheaton, Illinois, Tyndale House.         [ Links ]

Schweitzer. A., 1954, Die Mystik des Apostels Paulus, Tübingen, Mohr.         [ Links ]

Sheldrake, P., 1998, Spirituality and theology; Christian living and the doctrine of God, Maryknol, Orbis.         [ Links ]

Sheldrake, P., 2013, Spirituality; a brief history, Hoboken, John Wiley & Sons.         [ Links ]

Smart, N., 1967, Mysticism; history of, In Edwards, P., ed. The encyclopedia of philosophy, 5,p. 419-429, New York: Macmillan & Free Press.         [ Links ]

Stace. W.T., 1960a, Mysticism and philosophy, Philadelphia, Lippincott.         [ Links ]

Stace, W.T., 1960b, The teachings of the mystics, New York, The New American Library.         [ Links ]

Stace, W.T., 1972, What is mysticism? In Struhl, P.A., ed., Philosophy now; an introductory reader, p. 235-251, New York, Random House.         [ Links ]

Stanford Encyclopedia of philosophy sub voce "mysticism". 2014. http://plato.stanford.edu/entries/mysticism Datum van toegang: 07 Jan. 2016.         [ Links ]

Stenius, E. 1984, Die philosophische Kritik der Mystik, In Ritter, J. & Gründler, K. (Herausgebers), Historisches Wörterbuch der Philosophie, Band 6, 273-280, Darmstadt, Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Ten Kate, L., red. 2007, Encyclopedie van de filosofie van de oudheid tot vandag, Amsterdam, Boom.         [ Links ]

Turkle, S., 2011, Alone together; why we expect more from technology and less from each other, New York, Basic Books.         [ Links ]

Twenge, J.M., 2006, Generation Me, New York, Free Press.         [ Links ]

Underhill, E., 1967, Mysticism; the nature and development of spiritual consciousness, Oxford, One World.         [ Links ]

Van de Weg, A., 1949, Mystiek bij Paulus, Baarn, Bosch & Keunings.         [ Links ]

Van der Linde, S., 1976, Mystiek en bevinding in het Gereformeerde Protestantisme, In Quispel, G., De Reuver, A., Van der Linde, S. & Moerkerken, A. Mystiek en bevinding, p. 45-61, Kampen, Kok.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2015a, 'Johan Bavinck in gesprek met Westerse en Oosterse mistiek. 'n Boodskap vir vandag', Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 51(2):131- 147.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2015b, 'Die tragiese geestelike odussee van Lourens Ingelse. Anteunis Janse oor die spiritualiteit van die Nadere Reformasie', Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 51(3) verskyn binnekort.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2015c, 'Semi-mistieke spiritualiteit by Johannes Calvyn en Abraham Kuyper. Die invloed daarvan tot op vandag, Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 51(4) verskyn binnekort.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2016, "n Reformatories-Christelike filosofiese evaluering van hedendaagse (semi-)mistieke spiritualiteit', Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 52(1) aanvaar vir publikasie in 2016.         [ Links ]

Van Praag, H., 1986, De agt wegen der mystiek, Naarden, Strengholds.         [ Links ]

Van Schaik, J., 2005, In het hart is Hij te vinden; een geschiedenis van de Christelijke mystiek, Zeist, Uitgeverij Christofoor.         [ Links ]

Van Schaik, J.L.M., red. 1993, Mystiek in onze tijd; wat westerse mystici van vroeger en nu ons te zeggen hebben, Zeist, Uitgeverij Vrij Geestesleven.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2000, Schematische Kaarten; filosofische concepties in probleem-historisch verband, reds. K.A. Bril & P.J. Boonstra, Amstelveen, De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2005, The problem-historical method and the history of philosophy, ed. K.A. Bril, Amstelveen, De Zaak Haes.         [ Links ]

Waaijman, C.J., 2002, Spirituality: forms, foundations, methods, Leuven, Peeters.         [ Links ]

Waaijman, C.J., 2010, Spiritualiteit als theologie, Nijmegen, Radboud Universiteit (Afscheidscollege).         [ Links ]

Wainwright, W.J., 1981, Mysticism; a study of its nature, cognitive value and moral implications, Brighton, Sussex, The Harvester Press.         [ Links ]

Zaehner, R., 1961, Mysticism, sacred and profane, New York, Oxford Univ. Press.         [ Links ]

 

 

Correspondence
B.J. van der Walt
Email: benniejvanderwalt@gmail.com

8 Dec 2015

 

 

1 Readers should keep in mind that this is the fourth in a series of five research articles (for the previous three cf. Van der Walt, 2015a, 2015b and 2015c) which preferably should be read together. Abundant bibliographical references to contemporary research on mysticism can be found in the three preceding contributions, while the fifth and last essay (cf. Van der Walt, 2016) will provide the author's final evaluation of this type of spirituality. While the primary focus of the three preceding articles was on mystical spirituality in the Christian tradition, the focus on this fourth essay will be on Western secular philosophical analyses of the same phenomenon.
2 Die rede waarom hier eerder op ouere skrywers gesteun word, is omdat hulle nog pogings gewaag het om mistiek te probeer tipeer, terwyl kontemporêre postmoderniste nie meer so duidelik is oor wat mistiek presies inhou nie (vgl. bv. 6.2 hieronder).
3 Die vraag kom op of een van die oorsake vir die wêreldwye toename in dwelmgebruik nie dalk die soeke na 'n soort mistiek-spirituele ervaring is nie. 'n Antwoord hierop sou egter 'n afsonderlike studie verg.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License