SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.80 número2RedaksioneelDo values contain directional-normative value? A review of the value project of the North-West University índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Koers

versão On-line ISSN 2304-8557
versão impressa ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.80 no.2 Pretoria  2015

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die stand van interreligieuse toleransie by 'n groep Suid-Afrikaanse onderwysstudente

 

 

Prof. J.L. van der WaltI; Prof. F.J. PotgieterI; Prof. C.C.WolhuterI; B de MuynckII; N A BroerII

IUnit for Education and Human Rights in Diversity, Faculty of Educational Sciences, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
IIDriestar Pedagogical University, Gouda, Netherlands

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Godsdienstige verdraagsaamheid het een van die belangrikste vraagstukke van die huidige eeu geword, juis vanweë die gewelddadige optredes en dade wat ekstremiste in die naam van godsdiens pleeg. Die vraag by baie onderwysersopleiers is of huidige finalejaar onderwysstudente die nodige godsdienstige verdraagsaamheid aan die dag lê om die godsdienstige verskille in die skole en in die gemeenskappe waarin hulle hulle beroep gaan beoefen, te kan hanteer. 'n Vraelys (waarvan 'n afskrif as bylaag tot die artikel verskyn, en wat ander belangstellendes mag gebruik na verkryging van toestemming daartoe) is opgestel en gefundeer in 'n konseptuele en teoretiese raamwerk waarin die vraagstuk van religieuse verdraagsaamheid in besonderhede ondersoek is. Die vraelys is deur 'n steekproef van 300 studente (uit 'n populasie van nagenoeg 3000) ingevul. Dit blyk uit die resultate dat hoewel daar enkele kommerenswaardige aspekte is soos dat die respondente geneig is om hulle afsydig te hou van diegene met ander godsdienstige oortuigings as hulleself, en ook neig om andersdenkendes te wantrou, daar nie groot kommer oor die mate van religieuse verdraagsaamheid by hierdie groep studente hoef te wees nie.

Kernbegrippe: Godsdiens, Religie, Verdraagsaamheid, Toleransie, Religieuse toleransie, Onderwysstudente


ABSTRACT

Religious tolerance has become one of the most important issues of the current century in view of the many atrocities perpetrated in the name of religion by extremist groups. Of great concern to teacher educators is whether current final year students display the degree of religious tolerance that would be required from them when they have to deal with religious differences among their future students and in the communities in which they will practise their profession. A questionnaire, of which a copy is attached to this article and which may be used by interested parties after having acquired permission to do so, was constructed, based on a conceptual and theoretical framework in which the issue of religious tolerance is examined in detail. The questionnaire was administered to a sample of 300 teacher education students (drawn from a population of around 3000). The results show that while there are certain points of concern, such as that the respondents tend to withdraw from others with different belief systems and tend not to trust them, there are no great concerns about the state of religious tolerance in this particular group of students.

Key concepts: Religion, Faith, Belief, Tolerance, Religious tolerance, Teacher education


 

 

DIE NOODSAAK VAN TOLERANSIE IN DIE HEDENDAAGSE SAMELEWING

Die omvorming van die Suid-Afrikaanse samelewing tot 'n toenemend multikulturele samelewing met die gepaardgaande eise van saamleef met en respek vir ander roep die vraagstuk van interreligieuse toleransie (in 'n konteks waar godsdiensverskeidenheid, soos taaldiversiteit, een aspek van die multikulturaliteit is) na vore. Die afgryslike gebeure van 9/11 tot die aktiwiteite van die Al Shabaab-beweging in Kenia in April 20151 onderstreep die belangrikheid van nadenke oor die vraag van interreligieuse toleransie. Vir universiteitstudente behoort interreligieuse toleransie 'n belangrike uitkoms te wees in hulle vorming ten opsigte van die verstaan en beheersing van die hedendaagse menseregtekultuur (Matilainen, 2012). Dit verteenwoordig 'n belangrike bousteen in die vorming van sowel sosiale kohesie as sosiale kapitaal (wat onder andere 'n gedeelde waardestelselsel, wat vreedsame saambestaan in 'n samelewing moontlik maak, insluit) (United Kingdom 2010: 7). Uiteindelik kan dit lei tot Onderwys vir Wereldvrede (Jackson & Fujiwara 2007).

Rasionaal en teikengroep van die ondersoek

Die doel van hierdie artikel is om verslag te doen oor 'n ondersoek wat onlangs gedoen is na die stand van interreligieuse toleransie onder 'n bepaalde groep Suid-Afrikaanse onderwysstudente. Onderwysstudente verteenwoordig nie net die grootste enkele blok studente aan Suid-Afrikaanse universiteite nie; as toekomstige onderwysers sal hulle 'n kritiese onderdeel vorm van die hele nasionale onderwysprojek. As onderwysers moet hulle aan die volgende geslagte die gewenste gesindhede en opvattings ten opsigte van interreligieuse verhoudings oordra. 'n Gesindheid van interreligieuse toleransie is vir hulle belangrik omdat, blykens onlangse navorsing, onderwysers se persoonlike oortuigings, waardes, norme en vooruitspruitende gesindhede bepalend is vir hulle onderrigpraktyk (Leutwyler, Petrovic & Mantel 2012: 111).

Soos hierbo gestel, is interreligieuse toleransie, as synde respekvolle, gasvrye, herbergsame verdraagsaamheid, van die uiterste belang in samelewings wat weens sosiale mobiliteit, grootskaalse migrasie en ook weens die toenemende nadruk wat in demokratiese lande op die eerbiediging van menseregte (soos onder andere verskans in Hoofstuk 2 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, nr. 108 van 1996) gelê word, toenemend multikultureel en dus ook multigodsdienstig word. Vir enige persoon wat by die onderwys belang het, en veral ook vir onderwysersopleiers, is dit noodsaaklik om te weet tot welke mate onderwysers en toekomstige onderwysers religieus-respekvolle, gasvrye, herbergsame en verdraagsame gedrag openbaar. As opvoeders nie sodanige gedrag en optrede aan die dag lê nie, kan dit kwalik verwag word dat hulle die regte - tolerante - gedrag en gesindhede sal oordra aan die leerders met wie hulle te doen kry.

Om vas te stel wat toekomstige onderwysers in Suid-Afrika se wyses van optrede en gesindheid teenoor religieus / godsdienstig andersdenkendes as hulself is, is 'n ewekansige steekproef (N=300) van vierdejaar-onderwysstudente op drie universiteitkampusse2 getrek. Hulle is versoek om 'n vraelys, saamgestel op grond van 'n konseptuele en teoretiese ondersoek na die verskynsel van religieuse toleransie, te voltooi. Die doel van die ondersoek was om te bepaal of hulle as groep inklusivisties, eksklusivisties, pluralisties, relativisties of "lewensbeskoulik-vreedsaam saamlewend" ingestel is. Hierdie en ander verwante begrippe word in die konseptuele en teoretiese raamwerk hieronder verduidelik.

Konseptuele en teoretiese raamwerk

Die volgende konseptuele en teoretiese raamwerk is die resultaat van die interpretivistiese en sosiaal-konstruktivisties epistemologiese benadering wat gevolg is. Dié teoretiese raamwerk en die literatuur waarop dit gebaseer is, het die teoretiese grondslag gevorm vir die meetinstrument (verderaan genoem: die vraelys) wat ontwikkel is (vgl. Bylaag 1) om die stand van interreligieuse toleransie onder bepaalde groepe Suid-Afrikaanse onderwysstudente te bepaal.

Olthuis (2012: 1-7) voer aan dat die mens die wêreld nie objektief (dit wil sê "soos wat dit [oënskynlik] werklik is nie") kan betrag nie, maar eerder deur die prisma van sy of haar eie lewensbeskouing, en dat dit sy of haar visie, beeld of opvatting van die wêreld bepaal. Om hierdie punt toe te lig gebruik Hawking en Mlodinow (2010: 23) die metafoor van die vis wat deur die ronde visbak 'n beeld van die wêreld daarbuite vorm, en dan meen dat die vervormde beeld is soos wat die wêreld werklik is. Onder gelowige of "godsdienstige" mense3 is 'n persoon se religieuse oortuigings 'n belangrike deel van sy/haar lewens- en wêreldbeskouing asook vir hulle wyse van lewe. Om duidelikheid oor die religieuse dimensie van respondente se lewens- en wêreldbeskouing te verkry,

is hulle eerstens deur middel van die vraelys versoek om aan te dui of hulle aan enige georganiseerde geloofsgemeenskap behoort, en indien wel watter een, en indien nie, of hulle hulself hoegenaamd as gelowig (in die sin van "tradisioneel godsdienstig") beskou (items aenbin die vraelys).

Hoe bepalend sy of haar godsdiens vir die respondent se persepsies, verhoudinge en optrede is, is deur items 1, 2 en 3 bepaal4.

Dit is egter nie slegs mense se lewensbeskouing wat hulle uitsig op en handeling in die wêreld bepaal nie. Dit is ook hoe veilig hulle voel in die wêreld en hoe bereid hulle is om verhoudings te stig met ander mense (cf. Olthuis, 2012). Hierdie faktor is gemeet deur middel van items 4 tot 7.

Soos verduidelik, was die doel van die toepassing van die vraelys om vas te stel wat die stand van religieuse toleransie by hierdie steekproef studente was. Ten einde 'n beter greep op die stand van hulle religieuse toleransie (al dan nie) te kry, is dit nodig om 'n kort oorsig van die verskillende godsdienstige toleransiemodelle te verskaf. Dit sal uit die bespreking van die resultate blyk tot welke mate die respondente hulle met een of meer van hierdie modelle van toleransie (al dan nie) vereenselwig.

In die na-Tweede Wêreldoorlogse tyd, gekenmerk deur multikulturele samelewings en deur toenemende individualisme, ervaar die hedendaagse mens die uitwerking van twee konflikterende magte in sy of haar lewe. Eerstens is daar die drang om die eie belang na te jaag en andersyds die drang om 'n samelewing te skep wat 'n diversiteit van kulture en leefstyle kan akkommodeer. Daar is duidelik 'n behoefte aan 'n versameling van gedeelde waardes waardeur vreedsame naasbestaan moontlik kan wees (Van der Walt, 2007: 156). Wat respondente se menings is ten opsigte van die bestaan van so 'n stel gedeelde/universele waardes in die samelewing, en hoe veilig hulle in so 'n samelewing van lewensopvatlike en religieuse diversiteit voel, is gemeet deur items 8 tot 12 van die vraelys.

Wat betref modelle van interreligieuse wyses van optrede, gesindhede en verhoudings, onderskei Wolhuter, Van der Walt en Potgieter (2014) tussen eksklusivisme, inklusivisme, pluralisme en die model van lewensbeskoulik-saamleef. Hulle dui aan dat persone wat 'n eksklusivisitiese standpunt ten opsigte van hulle eie geloof/religie huldig (vergeleke met dié van ander), hulle eie religie/geloofsoortuigings as die enigste waarheid en enigste korrekte wyse van lewe beskou. Hulle verwerp op grond hiervan alle ander ander godsdienste as vals (Vermeer & Van der Ven, 2004: 39). Items 11, 18 en 19 in die vraelys meet die voorkoms van eksklusivisme. Twee soorte eksklusivistiese interreligieuse wyses van optrede en gesindhede kan onderskei word: 'n wyse van optrede en gesindheid ingevolge waarvan die persoon poog om die aanhangers van ander gelowe tot sy of haar eie godsdienstige oortuiging te bekeer en 'n wyse van optrede en gesindheid ingevolge waarvan aanhangers van ander godsdienste botweg geïgnoreer word op grond van 'n gesindheid van "laat hulle maar aan hulle ongelukkige lot oor". Of en in hoe 'n mate 'n respondent binne hierdie kategorieë val, word gemeet deur items 5, 6, 24 en 25 in die vraelys (die response op die items moet in samehang met mekaar geïnterpreteer word ten einde te bepaal of, in watter een en in watter mate 'n respondent in een van die twee kategorieë val).

Teenoor die eksklusiviste probeer inklusiviste om wat met die eerste oogopslag na teenstellende aansprake op die waarheid of die regte manier van lewe lyk, in een inklusiewe stelsel saam te snoer. Universalisme is 'n uiterste vorm van inklusivisme omdat dit aanvoer dat alle geloofstradisies essensieel of in einddoelstelling eintlik maar dieselfde is. Items 12, 16, 29, 35 en 51 in die vraelys meet die voorkoms van universalisme. In minder ekstreme vorme van inklusivisme word ander godsdienste bloot in terme van die eie geloof benader en verklaar, word die oorsprong van ander religieë uit die eie religie afgelei, òf word ander religieë beskou as onvolledig omdat hulle nog nie die vervulling en volheid van die eie religie bereik het nie. Item 35 in die vraelys meet die voorkoms van hierdie vorm van inklusivisme.

'n Pluralistiese ingesteldheid word gekenmerk deur verdraagsaamheid van religieuse verskille; met ander woorde van al die verskillende aansprake op religieuse waarheid. Pluraliste bou hulle standpunt nie so seer op die beginsel van objektiewe waarheid nie, maar eerder op die individu se subjektiewe belewenis van sy of haar eie geloof. Ten minste drie vorme van pluralisme kan onderskei word (cf. Wolhuter et al., 2014). Ten eerste is daar pluraliste wat op grond van die veronderstelling van die futiliteit van die soeke (met behulp van byvoorbeeld die wetenskaplike metode) na die objektiewe religieuse waarheid 'n lewensbeskoulike opvatting van erkenning en toleransie van andere se geloofsoortuigings bou. Items 36, 38 en 39 in die vraelys meet die voorkoms van futiliteit. Hierteenoor is daar die standpunt van epistemologiese nederigheid wat aanvoer dat elke persoon (en die mens in die algemeen) se kennis beperk, onvolledig of onvolmaak is en dat niemand gevolglik daarop aanspraak kan maak dat die volle waarheid kenbaar sou wees nie. Items 33 en 34 in die vraelys meet die voorkoms van epistemologiese nederigheid. Kulturele relativisme voer op sy beurt aan dat mense se religieuse oortuigings kontekstueel bepaal of medebepaal word en dat daar gevolglik vir 'n verskeidenheid religieuse standpunte voorsiening gemaak behoort te word. Items 14, 28 en 49 in die vraelys meet die voorkoms van kulturele relativisme. Daar is voorts ook die positiewe pluralisme (ook genoem dialogiese pluralisme) wat in die rigting van die inklusivisme neig; eerder as om diversiteit as 'n probleem te beskou, verwelkom die positiewe pluralisme diversiteit as 'n geleentheid om van ander en hulle godsdienste te leer. Die positiewe pluralisme vra vir 'n interreligieuse dialoog ter verryking van verskillende religietradisies. Items 14 en 36 in die vraelys meet die voorkoms van positiewe pluralisme.

Na 'n evaluering van die bogenoemde modelle kom Wolhuter et al. (2014) tot die gevolgtrekking dat hulle almal op die een of ander wyse tekortskiet in die sin dat hulle nie 'n aanvaarbare standpunt tot die verhouding tussen eie en ander religieë kan bied nie. Om met die eksklusivisme te begin: hierdie benadering (dikwels gekenmerk deur 'n oordrewe sendingywer) is nie te versoen met die samelewingstendens van toenemende individualisering ('n tendens wat hom ook op religiegebied manifesteer) en van toenemende diverse samelewings, wat op die leer van eerbied vir menseregte gebou is (en wat onder andere geloofsvryheid insluit), nie. Wat die laissez faire-variant van eksklusivisme betref, is die veronderstelling onverdedigbaar dat religie waterdig geskei kan word van ander samelewingsisteme en -aspekte (soos die politieke, sosiale, ekonomiese, hiërargie van waardes, ens.) (cf. Wolhuter, 2012; Coetzee, 2012). Soos verduidelik, is een van die funksies van religie onder meer die skep van 'n gemeenskaplike etiek. Om die sosiale kapitaal te skep wat nodig is vir die bestaan en die voortbestaan van die mens in die globaliserende samelewing van die een-en-twintigste eeu, met sy vraagstukke soos die omgewingskrisis, vooroordele teen bepaalde kategorieë mense of geweld en terreur, om slegs drie te noem, is 'n dialoog nodig wat in die een of ander religieuse oortuigingsraamwerk gefundeer is.

Die strewes van die inklusivisme, en van die universalisme in die besonder, is ook strydig met die huidige tendens van individualisering en dus by implikasie van 'n al groter diversiteit van religieuse oortuigings. Hierdie benadering skyn ook ooridealisties te wees in 'n wêreld waar interreligieuse konflik (insluitende gewelddadige interreligieuse konflik) aan die orde van die dag is. Die feit dat die verskillende versamelings religieuse oortuigings en hulle aanhangers se beskouinge eenvoudig te wyd van mekaar verskil om in een skema saamgevat te word, kom duidelik na vore in die werk van Gort, Jansen en Vroom (reds.) (2006) waarin aanhangers van die verskillende hoofstroomreligieë in die wêreld hulle sienings uiteensit.

Die pluralistiese standpunt, 'n siening wat sentreer rondom die gedagte van die futuliteit van 'n soeke na religieuse waarheid en sodoende enige interreligieuse dialoog onmoontlik maak, loop dieselfde gevaar as die laissez faire-vorm van eksklusivisme, naamlik dat dit 'n verantwoordelike en deeglike deelname aan 'n gesprek met religieus-andersdenkendes oor die maatskaplike vraagstukke en uitdagings van die een-en-twintigste eeu onmoontlik maak. Daarteenoor hou 'n gesindheid van epistemologiese nederigheid nie behoorlik rekening met die sterk houvas wat 'n individu se religieuse oortuigings op hom of haar het nie; dit is gewoon te veel gevra van mense (die self en alle ander) om al hulle geloofsoortuiginge (dit wil sê, al die lae van hulle religie of godsdiens5, vanaf die mees opsigtelike rituele aspekte, déúr die dogmatiese en etiese tot die diepste en onwaarneembare spirituele) op die altaar van interreligieuse en intergroepsbetrekkinge te plaas.

Wat kulturele relativisme betref: 'n verabsolutering van hierdie wyse van optrede en gesindheid teenoor religieuse verskille beteken dat 'n mens nie tydens 'n dialoog oor aktuele maatskaplike vraagstukke op jou geloofstandpunt kan of mag terugval nie, en dit ten spyte van die feit dat elke vorm van godsdiens (vgl. voetnota 4) bepaalde religieuse wortels het. Verder kan 'n ongebreidelde godsdienstige relativisme meebring dat 'n persoon selfs die ergste vergrype en gruweldade (soos omgewingsvervuiling of die mishandeling van vroue en kinders) moet kondoneer omdat dit strook met die religieuse oortuigings van die betrokke daders. Epstein en Caroll (2005) kom dus tereg tot die gevolgtrekking dat "...indien alle kulture (lees ook: godsdienste) relatief en daarom gelykwaardig is, word kannibalisme 'n saak van persoonlike smaak". Dit geld selfs vergrype soos vreemdelingehaat, kinderpornografie, babamoord en mensehandel.

Ten opsigte van positiewe pluraliteit geld dieselfde beswaar as wat teen epistemologiese nederigheid geopper is: In die lig van die sterk krag wat religie in die lewe van mense is en uitoefen, en gegewe die feit dat die diepste lae van religie (soos die pistiese [geloof] of die spirituele [geestelike gerigtheid]) moeilik deur middel van rasioneel-kritiese logika of wetenskaplike metodes ondersoek kan word, sou dit vir baie mense te veel gevra wees om hulle volledige geloofspakket vir 'n interreligieuse, kritiese dialoog oop te stel.

Aangesien nie een van die konvensionele modelle aanvaar kan word nie, en wel op grond van die besware wat hierbo uitgespel is, het Wolhuter et al. (2014) onlangs 'n meer werkbare alternatief aan die hand gedoen in die vorm van 'n model van "lewensbeskoulik(e) saamleef". Soos nou verduidelik sal word, kan hierdie model as die religie-onderwyskeerkant van die tans gangbare teorie van Interkulturele Onderwys beskou word.

Sedert die groei van multikulturele samelewings vanaf die laaste derde van die vorige eeu in Wes-Europa momentum begin opbou het, het die teorie van multikulturele onderwys deur 'n reeks fases beweeg. Eers is veronderstel dat leerders deur middel van 'n bykomstigheid in die gewone skoolkurrikula (wat die meerderheidskultuur gereflekteer en oorgedra het) aan die dominante of meerderheidskultuur voorgestel sou word en eers daarna aan ander (minderheidskulture) (cf. Swann, 1985). Uit besorgdheid oor xenofobiese aanvalle en interkulturele konflik het multikulturele onderwys in sy volgende fase met antirassistiese onderwys verstrengel geraak (cf. Leicester, 1992). In die daaropvolgende fase het dit ook te midde van die toenemende klem wat Opvoedkunde-deeldissiplines soos die Sosiologie van die Opvoedkunde en Vergelykende Opvoedkunde op ongelyke magsverhoudings in die samelewing geplaas het (cf. Kumashiro, 2002) met anti-onderdrukkingsonderwys ("Anti-oppressive education") vermeng geraak. In die tydperk na 9/11 en in die konteks van toenemende globalisering het multikulturele onderwys daarna in die tans heersende fase van interkulturele onderwys gekulmineer (Wolhuter, 2012: 178). Interkulturele onderwys omvat elemente van antirassistiese onderwys, kritiese multikulturalisme (cf. May, 1999) en reflektiewe multikulturalisme (cf. Rattansi, 1992). Markou (1997) verduidelik die vier basiese beginsels van interkulturele onderwys soos volg:

  • onderwys met empatie, met ander woorde 'n diep begrip vir ander en die inleef in hulle situasies,

  • onderwys in solidariteit, wat daarop dui dat 'n appèl gerig word op die ontwikkeling van 'n kollektiewe gewete en die bevordering van sosiale geregtigheid,

  • onderwys vir interkulturele respek en

  • onderwys vir etiese denke en dialoog.

Verbesonder tot die religie / godsdiens, beteken bogenoemde uitgangspunte dat daar eerbied vir en empatie getoon behoort te word met die geloofsoortuigings van ander en dat 'n dialogiese interaksie met hulle oor etiese vraagstukke gevoer behoort te word. Wat religie-onderwys betref, kan aangesluit word by Schweitzer en Boschki (2004) se navorsingsresultate soos hierbo bespreek, asook die bevinding van Van der Walt et al. (2010) op grond van hulle evaluering van religie-onderrigmodelle teen die agtergrond van die struktuur en wese van religie, naamlik dat die beste model behels dat die leerder in die vroeë lewensfases in een religie, deur 'n beoefenaar van daardie betrokke religie, onderrig sal word. Deur so 'n basiese bekendstelling met die eie religie en die plek daarvan in 'n mens se lewe, en vanuit daardie geborgenheidsruimte, kan die leerder dan tydens 'n later fase aan ander religieë voorgestel word en met aanhangers van ander religiegroeperinge in 'n dialogiese ruimte geplaas word. Dit is ook vanuit die basis van die eie religie dat die leerder onderrig behoort te word om verdraagsaamheid, respek en empatie vir ander religieë te kweek. Sodoende kan verdraagsaamheid ontwikkel word deur 'n appèl tot die filantropiese ("omgee-") en spirituele lae van religieë te rig. In terme van die Christelike geloof het Lähnemann (1998) byvoorbeeld 'n benadering ontwikkel van hoe die religieuse gronde vir toleransie vanuit elemente van die Christelike geloof en vanuit die Bybel gevind kan word. Insgelyks kan 'n interreligieuse gesprek oor etiese vraagstukke plaasvind deur 'n appèl tot die filantropiese en spirituele lae van ander religieë te rig.

Items 4, 5, 7, 8, 9, 10, 11, 21, 23, 26, 27, 29, 31, 32, 37 en 40-52 meet die voorkoms van hierdie laaste vorm van interreligieuse toleransie.

Dit moet egter gestel word dat ten einde response se interreligieuse toleransie te peil, die response op al die items in samehang met mekaar geïnterpreteer behoort te word. Dit is ook die werkwyse wat by die interpretasie van die data gevolg sal word.

Toleransie: 'n Skriftuurlike perspektief

Dit mag uit die voorgaande voorgekom het asof "toleransie" die nuwe towerwoord in die opvoedingswêreld geword het weens die toenemende multikulturaliteit en multireligiositeit wat in die wêreld ingetree het en steeds besig is om die pluraliteit en die diversiteit van die wêreldbevolking te verhoog. Wanneer 'n mens die aangeleentheid van intermenslike samelewing egter vanuit 'n Bybelse perspektief bekyk, dan blyk dit dat toleransie 'n begrip so oud soos die Skrif self is, hoewel onder ander name. Hoewel die Skrif nooit die woord "toleransie" of "verdraagsaamheid" as 'n tegniese begrip vir die beskrywing van 'n sekere wyse van optrede en gesindheid onder en tussen mense gebruik nie, wemel dit van verwante begrippe soos liefde en sorg vir die medemens. Kerntekste in verband met die liefde is onder meer I Joh 4:8, 19; I Kor 13:13, I Joh 4:7; Joh 13:34, Rom 13:8, I Joh 4: 21 en 1 Joh 4: 12. Kernverse in verband met omgee of sorg is onder meer Deut 6:24, Sag 11:16; Deut 11:22; I Pet 5:7, 2 Kor.

Soos Potgieter et al. (2014) vasgestel het, is dit nie maklik om die begrip "toleransie" te omskryf nie. Hulle ondersoek lei hulle daartoe om te konkludeer dat toleransie 'n sosiale konstruk is wat te doen het met keuse-uitoefening op grond van 'n bepaalde waardestelsel en etiese gedrag (vergelyk die liefde en sorg waarna hierbo verwys is), en met inagneming van redelike argumentasie en 'n spektrum van gedragswyses. Alhoewel Boersma (2012) van Christelike kant waarsku teen die oorbeklemtoning van die vryheid en die outonomie van die mens, kom Furedi (2012) op sy beurt nietemin tot die gevolgtrekking dat toleransie ten nouste verbind is met die vryheid van die mens. Soos Saulius (2013) en Van der Walt (2014), stel Furedi (2012: 31-34) dat toleransie neerkom op die saamleef en verdra van wyses van optrede en gesindhede van andere waarmee 'n mens nie saamstem nie, dog sonder om jou reg te laat vaar om krities teenoor sodanige wyses van optrede en gesindhede te staan. As sosiale konstruk is dit uiteraard konteksgebonde. Vir die Christenopvoeder (-onderwyser) word hierdie konteks essensieel deur die liefde en omgee vir andere omlys, soos genormeer in die Bybeltekste wat hierbo aangedui is.

As 'n mens toleransie vanuit 'n Skriftuurlike perspektief benader, dan sou 'n mens soos volg kon konkludeer. Wanneer 'n persoon van Christelike oortuiging met die persepsies, wyses van optrede en gesindheid van 'n ander persoon van ander godsdienstige / religieuse oortuiging gekonfronteer word, dan behoort eersgenoemde aan laasgenoemde die vryheid te gun om te dink en doen soos hy of sy goeddink dog sonder om sy of haar reg en vryheid te laat vaar om krities teenoor sodanige persepsies, wyses van optrede of gesindheid te staan. Hierdie kritiese ingesteldheid is gefundeer in eersgenoemde se opvatting van 'n waardestelsel wat in die Skrifwoord van God gewortel is; anders gestel, in sy of haar Christelike lewens- en wêreldbeskouing. Die ander persoon word die vryheid gegun om op sy of haar eie manier te soek na die "waarheid" soos hy of sy dit verstaan. Vir die Christen word toleransie dus gewortel in die liefde en die sorg vir die medemens, in 'n etiek wat gekenmerk word deur die behartiging van die belange van die medemens. Christelike toleransie gun ruimte aan die ander maar nie tot die mate dat die eer van die God van die Bybel in die gedrang kom nie.

Toleransie is vanuit Skriftuurlike gesigspunt nie 'n "laat maar vaar"- en "aanvaar alles klakkeloos"-ingesteldheid nie. Van der Walt (2007: 157 en 202) vat die Christelike benadering tot verdraagsaamheid kernagtig soos volg saam. "...we simply have to accept that we live in a world with a variety of clashing religions. Religious unity will only become a reality...when the end of the world comes... the way out (therefore) is to allow justice to be done to religious diversity, to respect and to be tolerant towards other religions. .tolerance . does not mean - the way it is seen by the current secularists - to be indifferent and to see anything as right or just. [The task of tolerance] is not to trivialise or ignore religious differences but to establish the right to differ. It depends on both truth and coexistence. Tolerance (therefore) is the degree to which we accept things of which we disapprove, understand differences and learning how to differ from others. This does not exclude appreciation for the good in other religions."

Op sterkte van voorgaande konseptuele en teoretiese raamwerk (vgl. ook Van der Walt, 2014) is die vermelde vraelys saamgestel en gevalideer.

 

BEVINDINGE

Om by die ideaaltipe van eksklusivisme te begin: daar is sterk tekens uit die response (vgl. bylaag 1 vir die rapportering van die frekwensieverpreiding van response) dat respondente hulle eie godsdiens en lewensopvatting en die stel waardes, norme en oortuigings wat daarmee verband hou, as die enigste korrekte en ware beskou. 85 persent van die respondente het verklaar dat hulle baie vertroue het in hulle eie oortuiginge (opsies 4 en 5, item 30), terwyl 60 persent verklaar het dat hulle daarvan oortuig is dat hulle godsdiens/lewensbeskouing die enigste korrekte is (opsies 4 en 5, item 33). Hierdie oortuigings blyk diep gewortel te wees, en kom al feitlik die hele lewe met die respondente saam: 87 persent antwoord dat hulle hulle huidige stel norme en waardes te danke het aan die opvoeding wat hulle ouers aan hulle gegee het (opsies 4 en 5, item 18; vgl. ook response op items 17 en 19).

Wat betref die subtipes van eksklusivisme (missionêre en laissez faire), blyk dit dat respondente wel bereid is om hulle met die oortuigings van mense wat 'n ander lewensbeskouing as hulle huldig, te bemoei. Die meeste respondente het of verskil van of neutraal gestaan teenoor die stelling dat hulle op hulle eie sake konsentreer en hulle so min as moontlik met ander bemoei (item 5); ook het die meeste respondente òf verskil van òf neutraal gestaan teenoor die stelling dat dit hulle nie skeel wat ander mense dink en doen nie (vraag 6) (vgl. ook antwoorde op items 24 en 25). By hierdie respondente kan dus nie sprake wees van 'n laissez faire-wyse van optrede en gesindheid nie. Of hulle bereidheid om hulle met ander se lewensbeskouing te bemoei sterk genoeg is om as 'n missionêre ywer te kwalifiseer, het eers duidelik geword na die ontleding van ander items in die vraelys wat die teenwoordigheid van die ander soorte interreligieuse toleransie meet (kyk hieronder).

Daar is twee items in die vraelys, naamlik 34 en 35, wat die bestaan van universalisme aandui. Die meeste respondente (56 persent) meen dat ander mense die waarheid alleen deur hulle eie (dit is die respondent se) godsdiens/lewensbeskouing kan vind (item 34; 20 persent van respondente neutraal en 23 persent negatief). Eweneens glo 'n minderheid (32 persent) dat alle godsdienste/lewensbeskouinge na dieselfde waarheid lei (item 35; 26 persent neutraal, 42 persent negatief). Inklusivisme blyk dus nie sterk aanhang te geniet nie.

Die sterk geloof in eie oortuigings (soos hierbo aangedui toe die verskynsel van ekslusivisme ondersoek is) maak die bestaan van die subtipes van epistemologiese nederigheid en van die geloof in die futiliteit na die soeke van sekerheid, wat pluralisme betref, onmoontlik. Twee items, naamlik 28 en 49, meet die teenwoordigheid van pluralisme van die kulturele relativisme subtipe. Slegs 'n minderheid (15 persent) meld dat hulle hulself kan verplaas of inbeeld in 'n godsdiens/lewensbeskouing wat totaal anders is as hulle eie (27 persent neutraal, 58 persent het aangedui dat hulle dit nie kan doen nie) (item 28; vgl. ook response op item 49).

Op item 14 was die oorwegende respons dat respondente wel die mening huldig dat waardes en norme wat uit 'n ander godsdienste/lewensfilosofieë voortvloei, rigting aan hulle aanhangers se lewens kan gee. Dié antwoord kwalifiseer die aanduidings van eksklusivisme met missionêre ondertone, soos hierbo vermoed. Terselfdertyd beteken respondente se sterk geloof en vertroue in hulle eie beskouinge (soos hierbo uitgelê) dat daar nie sprake kan wees van 'n wyse van optrede en gesindheid van positiewe pluralisme nie.

Om die voorkoms van die laaste model van interreligieuse toleransie, naamlik lewensbeskoulike saamleef, te ondersoek, moet dit eerstens gestel word dat respondente se sterk vertroue in hulle eie godsdiens/lewensbeskouing (soos hierbo uiteengesit) die teenwoordigheid van die eerste element van dié model, naamlik die sentraal staan van die wesenlike van die eie religie en lewens- en wêreldbeskouing, bevestig. Toleransie in die sin van die verdra van dit waaraan self nie waarde geheg word nie is ook teenwoordig. Die oorgrote meerderheid respondente (64 persent, teenoor 24 persent neutraal en slegs 13 persent negatief) het saamgestem met die stelling "Ek verdra dikwels dinge van ander waaraan ek self geen waarde heg nie, of wat ek self nie aanvaarbaar vind nie" (item 27); terwyl 78 persent (16 persent neutraal, 7 persent negatief) saamgestem het met die stelling "Ek meen dat andere die reg het om hulle eie oortuiginge te volg, selfs al vind ekself sulke oortuiginge verkeerd" (item 31).

Respondente sien egter ook die wenslikheid van 'n gemeenskaplike basis van gedeelde norme en waardes vir die hedendaagse samelewing in (vgl. response op items 10 en 11). Hulle glo dat dit 'n realistiese samelewingsmoontlikheid is en dat daardeur 'n vreedsame samelewing geskep kan word (vgl. response op item 45). Hulle wil self graag op vriendskaplike voet met ander mense verkeer (vgl. response op item 7). Self voel hulle hulle het volle vertroue om met ander mense te verkeer (vgl. response op vrae 4 en 8), en verklaar hulle dat hulle ander se vryhede en regte respekteer (vgl. response op items 50 en 52). Hulle meen ook hulle kan die waardes wat vir hulle belangrik is aan ander mense verduidelik (vgl. response op item 20) en dat hulle die waardes wat vir hulle belangrik is kan verduidelik in algemene stellings waarmee ander mense hulle ook kan vereenselwig (item 21). Hulle glo ook dat daar selfs in mense wat nie aan 'n georganiseerde geloofsgemeenskap behoort nie (item 51), 'n latente spiritualiteit en soeke na 'n hoër mag aanwesig is. Een belangrike moontlikheidsvoorwaarde vir 'n wyse van optrede en 'n gesindheid van lewensopvatlike saamleef om ten volle te kan gedy, is egter afwesig: respondente vertrou nie aanhangers van ander godsdienslewensbeskouings nie. Met die stelling "Ek het 'n sterk neiging om mense met 'n ander godsdiens/lewensbeskouing te vertrou" het slegs 22 persent saamgestem, 31 persent het 'n neutrale antwoord gegee, terwyl die grootste groep, 47 persent, daarmee verskil het (item 29).

 

ALGEMENE GEVOLGTREKKING

Vir die ouers van skoolgaande kinders en ook vir die opleiers van hierdie groep studente behoort die resultate van hierdie ondersoek taamlik gerusstellend te wees, hoewel daar ook enkele punte van kommer uit die resultate na vore gekom het. Daar is in die eerste plek 'n neiging tot godsdienstige eklusivisme by hierdie groep studente: hulle beskou hulle eie godsdienstige waardes en norme as die enigste wat waar is. Hierdie wyse van optrede en gesindheid is deur hulle opvoeding by hulle tuisgebring, en dit is klaarblyklik diep ingewortel by hulle. Ten spyte van hierdie godsdienstig eksklusiewe wyse van optrede en gesindheid is hulle egter nie vyandig ingestel teenoor die aanhangers van ander godsdienste of teenoor die godsdienste as sodanig nie. Op die heel minste kan gesê word dat hulle taamlik ongeërg staan teenoor ander godsdienste en die aanhangers daarvan. Hulle aanvaar egter nie dat dat daar baie weë na die waarheid is nie. Hulle is nie geneig tot inklusivisme nie (vertolking van die ander in terme van die eie) en hulle kan hulle ook moeilik indink hoe die ander godsdienstig ingestel is en dink. Dit is duidelik dat daar by hierdie groep groot respek is vir andere en hoe hulle glo; hulle aanvaar dat andere die reg het om te glo wat en soos hulle wil, asook dat ander mense se godsdienstige oortuigings rigting aan hulle lewens gee. Daar is egter aanduidings dat hulle wantrouig staan teenoor godsdienstig andersdenkendes. Hulle is desondanks tolerant in die sin waarin dit hierbo beskryf is, naamlik om te verdra wat hulle self nie aanvaarbaar vind nie. Daar is ook aanduidings dat hulle groot waarde heg aan waardes wat die verskillende godsdienste met mekaar gemeen het. Vir die meeste van hulle is sodanige waardes noodsaaklik vir vreedsame naasbestaan.

Op grond van die voorgaande sou 'n mens die gevolgtrekking kon maak dat daar, wat hierdie groep vierdejaar onderwysstudente betref, nie veel regstellende werk gedoen hoef gedoen te word om hulle godsdienstig meer tolerant te maak nie. Om enige moontlike wantroue teenoor godsdienstig andersdenkendes uit die weg te ruim, sou die betrokke onderwysersopleiers meer aandag aan bekendstelling met ander groepe en hulle godsdienstige uitgangspunte kon skenk.

 

GERAADPLEEGDE BRONNE

BOERSMA, P. 2012. Persoonlike mededeling. Nederland: Besturenraad.         [ Links ]

BOEVE, L. 2000. "Katholieke" universiteit: vir denkpistes. Ethische Perspektieven, 10(4):250-258.         [ Links ]

COETZEE, M. 2012. 'You are what you think', The Citizen, 29 November 2012: 12.         [ Links ]

EPSTEIN, E.H. & CAROLL, K.J., 2005, ,Abusing ancestors: Historical functionalism and the postmodern deviation in comparative education', Comparative Education Review, 49(1), 62-88.         [ Links ]

FUREDI, F., 2012, 'On Tolerance', Policy, 28 (2), 30-37.         [ Links ]

GORT, J.D., JANSEN, H. & VROOM, H.M., (eds). 2006, Religions view religions. Rodopi, Amsterdam/New York.         [ Links ]

JACKSON, R. & SATOKO, F., 2007, 'Towards religious education for peace', British Journal of Religious Education, 29(1): 1-14.         [ Links ]

KUMASHIRO, K., 2002, Troubling Education: Queer activism and anti-oppressive Pedagogy, Routledge, New York.         [ Links ]

LÄHNEMANN, J. 1998. Evangelische Religionspädagogik in interreligiöser Perspektive. Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

LEICESTER, M., 1992, 'Antiracism versus the new multiculturalism moving beyond the interminable debate', in: Lynch, J., Modgil, C. & Modgil, S. (eds). Cultural Diversity and the Schools: Equity and Excellence? Education and Cultural Reproduction, Falmer, London.         [ Links ]

LEUTWYLER, B., PETROVIC, D.S. & MANTEL, C., 2012, 'Constructivist Foundations of Intercultural Education: Implications for Research and Teacher Training', in: Popov, N., Wolhuter, C, Leutwyler, B., Mihova, M. & Ogunleye, J. (eds). 2011. Comparative Education, Teacher Training, Education Policy, School Leadership and Social Inclusion, Volume 9. Sofia: Bureau for Educational Services: 111-118.

MARKOU, G., 1997, Introduction to Intercultural Education, Pappas Bros., Athens.         [ Links ]

MATIAINEN, M. 2012. Human Rights Education and Religious Education (Paper presented at the XVIII Conference of ISREV, International Seminar on Religious Education and Values, Turku Christian Institute, Turku, Finland, 29 July 2012 - 3 August 2012).         [ Links ]

MAY, S., 1999, Critical Multiculturalism: Rethinking multicultural and anti-racist education, Falmer, London.         [ Links ]

OLTHUIS, J.H. 2012. A vision of and for love: Towards a Christian post-postmodern worldview. KOERS: Bulletin for Christian Scholarship, 77(1), Art#28. http://dx.doi.org/10.4102/koers.v77i.28. Datum van toegang: 14 Junie 2014.         [ Links ]

POTGIETER, F.J., VAN DER WALT, J.L. & WOLHUTER, C.C., 2014, "Towards understanding (religious) (in)tolerance in education.' (http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i3.1977, Ed.) HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 70 (3), 1-8.         [ Links ]

RATTANSI, A., 1992, 'Changing the subject: racism, culture and education', in: Donald, J. and Rattansi, A. (eds.), Race, Culture and Difference, Sage and the Open University Press, London.         [ Links ]

SAULIUS, T., 2013, 'What is "tolerance" and "tolerance education"?' Philosophical Perspectives. Ugdymas.Kuno Kultura. Sportas. Socialiniai Mokslai, 89 (2), 49-56.         [ Links ]

SCHWEITZER, F. & BOSCHKI, R., 2004, What children need: co-operative religious education in German schools: results from an empirical study', British Journal of Religious Education, 26(1): 33-44.         [ Links ]

SWANN, L., 1985, Education for All: the Report of the Commission of Inquiry into the Education of Children from Ethnic Minority Groups. Her Majesty's Stationery Office, London.         [ Links ]

UNITED KINGDOM. 2010. Religious Education in English schools: Non-statutory guidance 2010. [www.teachernet.gov.uk/publicatoins] [Datum van toegang: 8 Desember 2012].         [ Links ]

VAN DER WALT, B.J., 2007, Transforming Power: Challenging contemporary secular society, Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

VAN DER WALT, J.L. 2014. Measuring religious tolerance in education. http://www.driestar-educatief.nl/research/religious-tolerance. Datum van toegang: 2 Julie 2014.         [ Links ]

VAN DER WALT, J.L., POTGIETER, F.J. & WOLHUTER, C.C., 2010, 'The Road to Religious Tolerance in South Africa (and Elsewhere): a Possible "Martian Perspective"', Religion, State & Society, 38(1): 29-52.         [ Links ]

VERMEER, P. & VAN DER VEN, J.A., 2004, Looking at the Relationship between Religions: An empirical study among secondary school students, Journal of Empirical Theology, 17(1): 36-59.         [ Links ]

WOLHUTER, C.C., 2012, Godsdiens in onderwys in Suid-Afrika: Beligting vanuit in-ternasionaal-vergelykende perspektiewe', Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 2012(1&2): 171-201.         [ Links ]

WOLHUTER, C.C., VAN DER WALT, J.L. & POTGIETER, F.J.,2014. Modelle van Interreligieuse Toleransie in die Onderwys van die Een-en-Twintigste Eeu', In die Skriflig, 48(1), Art. #1798, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1798.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Prof. J.L. van der Walt
Email: hannesv290@gmail.com

Prof. F.J. Potgieter
Email: ferdinand.potgieter@nwu.ac.za

Prof. C.C.Wolhuter
Email: Charl.Wolhuter@nwu.ac.za

B de Muynck
Email: A.deMuynck@driestar-educatief.nl

Published: 01 Des. 2015

 

 

1 Hierdie tydperk is gekenmerk deur 'n hele aantal anti-sosiale aanvalle deur religieuse ekstremiste, insluitende die Boston-marathonmoorde, die Kopenhagenmoorde, die Parysmoorde, die Boko Haram-ontvoering van skooldogters uit Chibok in Nigerië, die onthoofding van Koptiese Christene in Egipte deur die Islamitiese Staat. Ekstremisties-terroristiese optredes soos hierdie vind byna daagliks plaas.
2 Weens die sensitiewe aard van die gegewens waaroor hierdie ondersoek gaan, word nadere besonderhede van hierdie groep studente nie vermeld nie. Die groep is getrek uit 'n populasie van 3000 studente, sonder inagneming van ouderdom, geslag, ras, klas, kleur, taal, kultuur, gestremdheid (al dan nie) of sosio-ekonomiese status. Elke student uit die populasie het 'n gelyke kans gehad om in die steekproef opgeneem te word.
3 Alle mense is "gelowig" of "godsdienstig" in die sin dat elke mens hom- of haarself op die een of ander manier aan 'n uiteindelike beginsel of mag verbind wat sy of haar lewe bepaal of wat die sleur van die alledaagse lewe te bowe gaan.
4 'n Eksemplaar van die vraelys verskyn as 'n bylaag tot hierdie artikel. (Enige persoon wat daarin belang stel om hierdie vraelys op 'n groep studente toe te pas moet die nodige toestemming versoek deur met enige van die outeurs van hierdie artikel te skakel. In die proses sal sodanige persoon ook ingelig word oor die etiese klaring vir en rondom die gebruik daarvan.)
5 Hoewel hierdie twee terme in die normale omgang as sinonieme beskou word, bestaan daar sedert die eeuwending in die akademiese literatuur 'n toenemende neiging om eerder na "religie" as na "godsdiens" te verwys. Hierdie neiging is egter akademies en wetenskaplik enigsins verwarrend. Daarom beveel ons aan dat hulle soos volg van mekaar onderskei behoort te word. "Religie" dui op die diepste hartsrigting van die mens, terwyl "godsdiens" meer dui op die diens aan die beginsel of mag op wie daardie hartsoriëntering gerig is. Sodanige diens bestaan uit die ganse lewe van die persoon in toewyding aan die beginsel wat op sy of haar hart beslag gelê het.

 

 

BYLAAG 1 : DIE VRAELYS EN DIE PERSENTASIEFREKWENSIEVERDELING VAN RESPONDENTE SE ANTWOORDE

a. Dui aan met 'n kruisie watter een van die volgende op jou van toepassing is (kies telkens net een opsie) Ek beskou myself as behorende tot een van die georganiseerde geloofsgroeperinge:

Ek glo wel in 'n bonatuurlike mag/krag, maar ek beskou myself nie as behorende tot een van die georganiseerde geloofsgroepe nie

Ek beskou myself nie as behorende tot een die georganiseerde geloofsgroeperinge nie, en ek glo nie in 'n bonatuurlike mag/krag nie

b. Indien jy die eerste opsie in a gekies het, tot watter een van die heersende godsdiensbeskouïnge beskou jy jouself as behorende? (kies slegs een opsie)

Christendom:

Taoïsme

Islam

Judaïsme

Hindoeïsme

Sikhisme

Boeddhisme

Tradisionele Afrikagodsdiens

 


Table - Click to enlarge

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons