SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.78 número2An ontological exploration of change and constancyTeaching for a transformative engagement with our context: The importance of care in Christian pedagogical suggestions for higher education índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Koers

versión On-line ISSN 2304-8557
versión impresa ISSN 0023-270X

Koers (Online) vol.78 no.2 Pretoria ene. 2013

http://dx.doi.org/10.4102/koers.v78i2.63 

ORIGINAL RESEARCH

 

Homo ludens of homo respondens? 'n Christelik-filosofiese reaksie op 'n hedendaagse idee van die mens as primêr spelende in plaas van antwoordende wese

 

Homo ludens or homo respondens? A Christian-philosophical response to a contemporary view of the human being as primarily a player instead of an answerer

 

 

Barend J. van der Walt

School of Philosophy, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die kontras tussen 'n kontemporêre idee van die mens as primêr 'n spelende wese (homo ludens) en die Bybelse visie op die mens as in die eerste plek 'n antwoordende wese (homo respondens) bekyk. Ter inleiding word die leser oorsigtelik bekendgestel aan die groot verskeidenheid mensbeelde wat die westerse denke reeds opgelewer het. Hierdie oorsig sluit die hedendaagse, postmoderne karakterisering van die mens as homo ludens in. Vervolgens word 'n kort verduideliking gegee van hoe 'n reformatoriese filosofie die mens as multidimensionele religieuse wese beskryf. Hierdie denkrigting verwerp alle eensydige 'ismes', wat menswees slegs na aanleiding van een (of twee) van die fasette daarvan probeer definieer en alle ander aspekte tot die verabsoluteerde een wil reduseer. Die vraag word gestel of daar nie 'n omvattende term gevind kan word om vanuit 'n Christelik-filosofiese perspektief menswees te beskryf nie. Die suggestie dat die mens basies 'n antwoordende wese is, is reeds deur ten minste drie Christelike filosowe gemaak. Matteus 11 (waarin die spelende en antwoordende mens gekontrasteer word) dien vervolgens as voorbeeld van so 'n idee wat algemeen in die Skrif gebruik word. Aangesien hierdie artikel bedoel is as huldeblyk aan professor Ponti Venter, word in die slotgedeelte daarop gewys hoe ook die jubilaris, op pad na sy sewentigste verjaarsdag, in sy lewe en publikasies die gedagte van die mens as homo respondens vergestalt het.


ABSTRACT

In this article the contrast between a contemporary view of the human being as primarily a player (homo ludens) and the biblical view of a responding being (homo respondens) is investigated. The contribution develops as follows. The reader is first provided with an overview of the multiplicity of anthropologies developed in the course of western philosophy. This overview includes the contemporary, postmodern characterisation of the human being as structurally a homo ludens. This is, in the second place, followed by a brief exposition of how a reformational anthropology regards the human being as multidimentional and religious in nature. It therefore rejects all kinds of 'isms' which one-sidedly try to explain human nature from only one (or two) of its many facets, reducing all other aspects to the one absolutised. The question is then asked whether, from a Christian-philosophical perspective, a more comprehensive, directional concept should not be used to describe who a human being is. Such an embracing idea may be that humans can basically be defined as answering creatures. Matthew 11 (where the two concepts of a homo ludens and homo respondens stands in sharp contrast) serves as example of the fact that the idea of a homo respondens is employed generally in the Bible. Since this article is a tribute to Professor Ponti Venter, the concluding part indicates how also the jubilaris, approaching his seventieth birthday, in his life and publications embodied the idea of a homo respondens.


 

 

Inleiding: Grensprobleem en opset

Ter inleiding word die aandag gevra vir die volgende twee sake.

'n Grensprobleem - Deur die eeue

Meer as 2000 jaar gelede reeds het die volgende opskrif bokant die ingang tot die Orakel van Delphi geskrywe gestaan: 'Ken uself!'. Dit lyk egter asof die opdrag van 2500 jaar gelede selfs in die vorige eeu nog steeds nie afgehandel was nie. Boeke oor die mens van destyds dra titels soos Man the unknown (Carrel 1935); of die eerste hoofstuk van 'n boek lui: 'Die raaisel van die mens' (vgl. Kwee & Van Peursen 1969), 'Die raaiselagtige mens' (vgl. Kraan, Pijlman & Rietveld 1960) of 'Die mens as probleem vir homself' (vgl. Niebuhr 1951).

Maar weet ons nie vandag veel meer oor die mens nie? Waarom nog 'n artikel oor die mens vir wetenskaplikes wat die afgelope dekades al soveel oor die mens ontdek het? - en dan nog bowendien 'n filosofiese opstel? Is filosofie dan nie 'honderdmaal sluk sonder iets in jou mond nie'?

Die vraag wie die mens eintlik is, bly vir die mens self sowel as vir ander, gelyktydig onoplosbaar en onontwykbaar. Dit is dus 'n tipiese filosofiese grensprobleem. Selfs diegene wat dink dat hulle liewer nie hieroor wil filosofeer nie, filosofeer tog. Iemand wat byvoorbeeld dink dat nadenke oor die wese van ons menswees geen sin het nie, voed nietemin sy of haar kinders op volgens 'n bepaalde mensheidsideaal!

Vooraf moet hier dus duidelik gestel word - en dit sal in die res van hierdie artikel bevestig word - wat die reformatoriese filosoof Hart (1995:82) tereg opmerk: ' ultimately we are a mystery to ourselves and others So our full self is a mystery receding before our rational-theoretical enquiries '. ['...ten diepste is ons vir onsself 'n misterie ... Dus: ons volle self is 'n misterie ... wat wegskuif, al voor ons rasionele teoretiese ondersoeke uit ...'] Selfs 'n filosofiese antropologie - wat gewoonlik 'n omvattende mensbeeld nastreef - sal volgens Hart nog altyd beperk en voorlopig wees, 'n tydelike fragment van selfkennis. Dit sal veral skeef en krom wees wanneer ons probeer om alles oor die mens te weet:

We will run the risk of losing ourselves in who we think we are. But who do we think we are when we think that we can think who we finally are? [Ons loop die risiko om onsself te verloor in ons denke oor wie ons is. Maar wie dink ons dat ons is, wanneer ons dink dat ons [wel] kan dink wie ons ten diepste is?] (Hart 1995:84)

Hierdie stelling van Hart (1995) sal in die volgende punt bevestig word met 'n blitstoer deur die westerse denkgeskiedenis oor menswees - 'n byna onoorsigtelike en verwarrende verskeidenheid van gedagtespinsels!

Opset

Die artikel ontwikkel soos volg: Ter inleiding word op die talryke definisies van menswees gewys wat alreeds in die westerse geskiedenis na vore gekom het. Die kursoriese oorsig oor die geskiedenis word afgesluit met 'n tipering van die hedendaagse, postmoderne mens as homo ludens, 'n spelende wese. In die tweede plek volg dan 'n kort weergawe van hoe 'n Christelik-reformatoriese visie die mens as 'n multidimensionele wese tipeer. Dit verwerp dus alle -ismes wat die mens tot slegs een of meer van die fasette probeer reduseer. Vervolgens word nagegaan of die gedagte van homo respondens vanuit die Bybel geregverdig kan word. In die algemeen blyk dit wel so te wees. Ter illustrasie word een skrifgedeelte (Matt 11, vgl. ook Luk 7:18-35) gebruik. Uit hierdie gedeelte blyk dat die homo respondens reeds in Christus se tyd teenoor 'n homo ludens te staan gekom het. Israel van ouds het met die boodskap van Johannes en Christus - en só met die besonder belangrike tye waarin hulle gelewe het en dus ook met hulle eie lewens - gespeel in plaas daarvan om dit baie ernstig te bejeën. Ten slotte word kortliks iets gesê oor die mens Ponti Venter as voorbeeld van 'n homo respondens.

 

Talle westerse mensbeskouings die afgelope 2500 jaar

Ter inleiding moet gestel word dat 'n byna onoorsigtelike aantal antropologieë gedurende die afgelope twee-en-'n-halwe millennia alreeds na vore getree het. Uit almal kan wel iets geleer word. (Let daarop dat hier slegs 'n oorsig gebied word om die groot verskeidenheid mensvisies te illustreer en nie om 'n beredenering en beoordeling van elkeen te bied nie - iets wat nie moontlik is in een artikel nie.) Ter wille daarvan om 'n tipe oorsig te bied, kan 'n mens óf histories, óf sistematies te werk gaan.

Histories bekyk

In 'n historiese blik kan verskillende eras, stromings, wetenskappe en individuele denkers bekyk word.

Mensvisies van verskillende eras Wanneer 'n mens na groot periodes gedurende die geskiedenis kyk, sou die volgende sesdelige indeling moontlik wees: die gelowige mens van die Middeleeue (vgl. Freemantle 1955), die avontuurlike mens van die Renaissance (vgl. De Santillana 1956), die redelike mens ten tye van die vroeë rasionalisme van die sewentiende eeu (vgl. Hampshire 1956), die verligte, redelike mens van die agtiende eeu (vgl. Berlin 1956), die ideologiese mens van die negentiende eeu (vgl. Aiken 1956) en sesdens die analitiese mens van die twintigste eeu (vgl. White 1955).

Omdat die westerse denkgeskiedenis na hierdie reeks publikasies (uit die helfte van die vorige eeu) al verder gevorder het, het nog meer nuwe mensbeelde intussen bygekom. Daar word vandag byvoorbeeld gepraat van die homo postmodernus.

Ander chronologiese indelings is byvoorbeeld die sosiale groepsmens - die sogenaamde 'eerste mens', die mitologies-irrasionele mens van die antieke kulture - die 'tweede mens', die religieus-rasionele mens - die 'derde mens', en die ontkerstende, hedendaagse mens - die 'vierde mens'.

Vanuit 'n Christelike perspektief vind 'n mens ook die volgende historiese oorsig: die voor-Christelike mens, (tot ongeveer 100 n.C.), die Christelike mens (ongeveer 200-1600 n.C.), die anti-Christelike mens (1700-1900), en die post-Christelike mens (twintigste eeu).

Mensbeelde gedurende verskillende filosofiese stromings Verskillende tydstromings (wat verband hou met verskillende visies oor normatiwiteit) het mekaar in die loop van die lang geskiedenis opgevolg (vgl. Vollenhoven 2005a:153-156).

Vollenhoven dui hierdie stromings self nie volgens hulle antropologieë aan nie, maar 'n mens sou dit effens vereenvoudig tog kon doen, aangesien iemand se mensvisie 'n belangrike rol in sy of haar hele filosofie speel.

Enkele voorbeelde hiervan is die homo-dualismus (tiperend van die Patristiek en Middeleeue) en die homo logicus (van die rasionalisme). By die verskillende stromings binne die irrasionalisme vind 'n mens die homo potens (die magsmens van die lewensfilosofie), die homo liber (die vryheidsmens van die eksistensiefilosowe) en die homo utilis (die nuttige mens van die pragmatisme).

By sommige eksistensialistiese denkers vind 'n mens verder ook die idee van die homo viator (vgl. Berkhof 1960) - die mens wat altyd onderweg is - wat nooit sy of haar bestemming mag bereik nie, omdat dit sy of haar outentieke menswees (van onderwegwees) sou vernietig. Onder Christene word soms ook gepraat van die homo inquietus, die onrustige mens.

Denkers in 'n volgende stroming reageer gewoonlik ook op die mensbeelde van vorige stromings. Adam Smith beskou byvoorbeeld die mens primêr as ruilende wese (homo economicus), terwyl Karl Marx dit met die produserende, werkende mens (homo faber) vervang en Johan Huizinga (1949) van oortuiging is dat die mens van sy tyd as 'n spelende mens (homo ludens) beskou behoort te word.

Nog 'n benadering sou wees om na te gaan hoe die verskillende lewensvisies deur die eeu deur verskillende mensbeelde geïnspireer is (vgl. Tarnas 1991).

Mensbeelde in verskillende wetenskappe

Verskillende wetenskappe bestudeer verskillende aspekte van menswees (vgl. Sirks, Kraus & Bouman 1955 oor die mens van die Biologie, Psigologie, Sosiologie, Reg en Godsdienswetenskap, of Bavinck et al. 1956 oor die mens van/in die Teologie, Regte, Biologie, Geneeskunde en Filosofie). Daar bestaan egter 'n groot gevaar dat wetenskaplikes hulle beperkte, eensydige kennis kan beskou as 'n volledige prentjie ten opsigte van wat menswees beteken. Daarom vind ons ook reaksies op sodanige wetenskaplike reduksies wat tot die verlies van die mens as persoon lei in byvoorbeeld die Tegnologie, Psigologie en Sosiologie (vgl. Evans 1977).

Verskillende antropologieë van individuele filosowe

Vanaf mensbeelde wat bepaalde periodes karakteriseer, kan die kring nouer getrek word na tipiese mensbeskouings gedurende bepaalde filosofiese stromings, na verskillende wetenskappe en uiteindelik, nog nouer, na die antropologieë van individuele filosowe of ander wetenskaplikes. Sonder moeite kan die volgende bundels genoem word waarin verskillende denkers se mensvisies óf weergegee óf bespreek word: Fromm en Xirau (1968); Peters (s.a.) en Stevenson (1974, 1980).

Wanneer 'n mens die konsepsies van verskillende filosowe analiseer volgens Vollenhoven se probleem-historiese metode (vgl. Vollenhoven 2000) staan jy verstom oor die honderde verskillende mensvisies: impetusteorie, parallellisme, prioriteitsleer, wisselwerkingsteorie, instrumentisme, okkasionalisme, ennoëtisme, digotomisme en trigotomisme, kreatianisme en tradusianisme, subsistensieteorie en vinculum-teorie, semi-mistiek en nog vele meer: 'n kaleidoskoop van opinies oor die mens! Onthou ook dat ons ons tot hiertoe nog net tot die westerse mensbeskouings beperk het. In die ooste en suidelike deel van ons aardbol (China en Afrika) bestaan nog meer en totaal ander mensvisies.

Hierdie onoorsigtelikheid kan meer beperk en oorsigtelik gemaak word deur na te gaan op watter fasette van die mens hierdie verskillende wetenskappe fokus.

'n Oorsig vanuit 'n sistematiese hoek

Dit behoort vir die leser duidelik te wees dat Stevenson (1974) se sewe teorieë oor die aard van die mens uiters misleidend kan wees. Daar bestaan nie net sewe nie, maar honderde beskouings oor die mens. Vanuit die perspektief van die verskillende wetenskappe kan die volgende lysie opgestel word:

  • Vir godsdienswetenskaplikes en teoloë is die mens veral die homo religiosus.
  • Etici en moraliste fokus op 'n homo ethicus.
  • Regsgeleerdes se belangstelling is primêr in 'n homo juridicus of politicus.
  • Estetici is in die mens as homo aestethicus geïnteresseerd.
  • Vir die ekonomie en die moderne verbruikersamelewing is die mens hoofsaaklik 'n homo oeconomicus.
  • Die een geesteswetenskaplike beskou die mens primêr as 'n homo individualis, terwyl die ander (sosioloog) hom as homo socialis tipeer.
  • 'n Taalkundige vestig sy volle aandag op die homo linguatus.
  • Historici is veral geïnteresseerd in die homo historicus of die skeppende mens.
  • Die homo logicus/rationalis het nie alleen die volle aandag tydens die rasionalisme geniet nie, maar is ook die fokus van die logika en aanverwante vakke.
  • Psigoloë, psigiaters en diesulkes se primêre aandag is op die homo sentiens gevestig, die mens as emosionele gevoelswese.
  • Terwyl groot klem vroeër op die mens as homo spiritualis, 'n geestelike wese (met 'n onsterflike siel) gelê is, val die nadruk vandag op die fisies-biotiese (homo materialis et bioticus). Die mens is bloot die produk van chemies-biologiese prosesse in sy of haar brein - 'n homo cerebri (vgl. Jeeves 1994, 2004).

Hierdie lysie is nie naastenby volledig nie. Daar is ook nog die homo machine, homo technicus, homo sexualis, homo communicans, homo audiens, homo festivans, die mens as homo relationis, primêr 'n wese in verhouding tot die medemens (vgl. Buber 1947) en nog talle meer. Dit is interessant om te besef dat agter baie nuanses in 'n wetenskap 'n bepaalde antropologie dikwels skuilgaan soos byvoorbeeld die teologie van hoop, bevryding, ervaring en so meer.

Enkele kontemporêre mensbeelde

'n Bepaalde kulturele omgewing skep 'n bepaalde mensbeeld en spesifieke idees aangaande die mens lei omgekeerd ook tot 'n spesifieke kulturele milieu. Kan 'n mens 'n tipiese mensbeeld in ons hedendaagse kultuur identifiseer? Verskillende opsies is wel moontlik waarvan slegs vyf genoem word.

Homo oeconomicus

Vroeëre samelewings het markte gehad, maar in die hedendaagse neo-kapitalistiese samelewing word van alles 'n mark gemaak. Samelewingsverbande wat vroeër nie as van ekonomiese aard beskou is nie, word tans verkommersialiseer. Mense word slawe van Mammon, gereduseer tot blote produseerders en verbruikers (vgl. bv. Conradie 2010). Let op hoe daar vandag van menslike, sosiale, kulturele en intellektuele kapitaal gepraat word en dat studente en pasiënte deesdae kliënte genoem word. Byna letterlik alles moet in geld getel en daartoe gereduseer word - met 'n gevolglik skrikwekkend verarmde mensbeskouing.

Homo sentiens

Uit 'n ander hoek bekyk, lewe die mens vandag in 'n belewingsgerigte ervaringskultuur. Die mens is daarin 'n wese wat goed moet voel, lyk en optree. Van der Stoep (2007) stel byvoorbeeld die volgende:

Mensen zijn in de samenleving van vandaag op zoek naar belevingen en ervaringen die hun diepste innerlijk raken en met een hoge mate van intensiteit gepaard gaan. Stond tot voorheen vaak het gesproken woord centraal en moesten overtuigingen in rationele argumenten worden omgezet, nu wordt het primaat gegeven aan de ervaring en is het voor de acceptie van opvattingen van belang dat we erdoor geraakt worden. Waar is wat goed voelt. Daarmee wordt afscheid genomen van een rationalistische cultuur waarin de lichamelijke affecten gecontroleerd en in bedwang gehouden moesten worden In de belevingscultuur van vandag ligt alle nadruk op de volle zintuigelijkheid van het bestaan en willen we niet afstandelijk dingen waarnemen, maar ze ook pakken, aanraken, proeven en ruiken. We willen opnieuw intens van het leven genieten en ervaar wat het leven waard is. [In die samelewing van vandag is mense op soek na belewings en ervarings wat hulle diepste innerlike aanraak en wat met 'n hoë mate van intensiteit gepaard gaan. Voorheen het die gesproke woord dikwels sentraal gestaan en oortuigings moes in rasionele argumente gevoer word. Deesdae staan die ervaring sentraal en is dit vir die aanvaarding van opvattings belangrik dat die mens daardeur geraak word. Om goed te voel, is belangrik. Hiermee is afskeid geneem van 'n rasionalistiese kultuur waarin die liggaamlike gevoelens gekontroleerd en in toom gehou moes word In die belewingskultuur van vandag word alle nadruk op die volle sintuiglikheid van die bestaan geplaas en die mens wil nie dinge op 'n afstand waarneem nie, maar dit ook ervaar, aanraak, proe en ruik. Die mens wil opnuut die lewe intens geniet en die sake ervaar wat die lewe die moeite werd maak.] (bl. 11, [outeur se eie vertaling])

Homo ludens

'n Derde opsie wat by die verbruikersmentaliteit en belewingstendens aansluit, is die reeds genoemde spelende mens (Huizinga 1949). Dalk het sy destydse tipering van die mens as homo ludens vandag eers werklik begin waar word. Moontlik is dit ook 'n reaksie op die groot klem wat in die kapitalisme se homo oeconomicus op kompetisie en prestasie gelê word. Hierdie reaksie blyk uit baie simptome soos byvoorbeeld die groot klem op spel, ontspanning en sport (Van der Walt 2007). Werk is vir baie mense nie meer 'n lus (roeping) nie, maar 'n noodsaaklike las. Ook hierdie verskynsel is nie heeltemal nuut nie - vergelyk byvoorbeeld die klem op brood en spele tydens die verval van die Romeinse ryk.

Verband met die postmodernisme: Die noue verband tussen die hedendaagse postmodernisme en die spelende mens word deur verskillende skrywers bevestig. Slegs enkele voorbeelde word genoem.

Middleton en Walsh (1995) skryf:

Instead of taking ourselves too seriously we should honestly recognize and embrace our postmodern identity lived out in a series of irrelevant posturings. Instead of seriousness, we are to play with the truths of the day, shake them about, try them on like bunny hats. Serious concerns are left at the carnival gate. [In plaas van onsself te ernstig op te neem, moet ons ons postmoderne identiteit, uitgeleef in 'n reeks irrelevante houdings, eerlik erken en toeëien. In plaas van erns moet ons speel met die waarhede van elke dag, hulle rondskud, probeer opsit soos haasoortjies. Ernstige kwessies laat ons by die karnavalhek.] (bl. 53)

Later meen hulle dat '[i]n reaction to the autonomous modern subject that took itself too seriously, postmodernity breeds a pluriform culture of jokesters, pranksters, jesters and carnival hustlers.' ['{i}n reaksie op die outonome moderne subjek wat ditself te ernstig geneem het, verwek postmoderniteit 'n veelvormige kultuur van grapjasse, poetsbakkers, narre, en karnavalsmouse.'] (Middleton & Walsh 1995:54). Hierdie houding geld volgens hulle ook ten opsigte van morele waardes: 'Moral discourse is, like all discourse, a game to be played. And since it is a game, it should not be played with much seriousness' ['Morele diskoers is, soos alle diskoers, 'n spel om te speel. En omdat dit 'n spel is, moet dit nie met te veel erns gespeel word nie'.] (Middleton & Walsh 1995:61).

Nürnberger (2007) stel die volgende oor die postmodernisme:

Life must be fun, it must provide instant and constant highs; it must stimulate the adrenalin. Traditional boundaries, taboos, prohibitions, no-go areas, inhibitions and scruples are broken down. This is done very deliberately and effectively by the advertising and entertainment industries. Postmodernism links up effectively with the commercial motivation of modernity. People have to consume for profits to rise. [Die lewe moet pret wees, dit moet onmiddellik en konstant op vleuels wees; dit moet die adrenalien aanjaag. Tradisionele grense, taboes, verbiedings, afsperrings, inhibisies en skroom word afgebreek. Dit word heel opsetlik en effektief deur die advertensie- en die vermaakbedrywe gedoen. Postmodernisme verbind ditself effektief met die kommersiële intensie van moderniteit. Mense moet verbruik sodat winste kan styg.] (bl. 11)

Volgens Nürnberger (2007:12) word selfs godsdiens en lewensvisies ingesluit, want '[p]ostmodernism is a spending spree in the religious shopping mall' [{p}ostmodernisme is 'n spandeerfuif in die godsdienstige winkelsentrum]. Volf (2011) praat in hierdie verband van die 'selfsatisfied self' en skryf die volgende oor hedendaagse mense:

For them, flourishing consists in having an experientially satisfying life. No satisfaction, no flourishing ... What matters is not the source of satisfaction but the fact of it. What justifies a given lifestyle or activity is the satisfaction it generates - the pleasure ... Desire - the outer shell of love - has remained, but love itself, by being directed exclusively to the self, is lost. [Vir hulle bestaan floreer uit 'n sinlik-bevredigende lewe. Geen bevrediging; geen gedy ... Wat saak maak is nie die bevredigingsbron nie, maar die aktualiteit daarvan. Wat 'n bepaalde leefstyl of optrede regverdig is die bevrediging wat dit gee - die genot ... Begeerte - die skilletjie van liefde - het oorleef, maar die liefde self, omdat dit uitsluitlik selfgerig is, is verlore.] (bl. 59-60)

Bloom (2010) vind dat die najaag van spel en plesier al selfs tot in die wetenskap ontwikkel.

Spel word nie verwerp nie: Wat die homo ludens betref, moet ten slotte 'n moontlike misverstand by die leser ondervang word. Die outeur beweer glad nie dat 'n mens nooit mag speel en dit geniet nie. Om te kan speel, is ook 'n godgegewe gawe en vereis ook 'n antwoord wat aan bepaalde norme behoort te voldoen. Uit die voorafgaande en ook die verklaring van Matteus 11 wat gaan volg, behoort dit duidelik te wees dat die kritiek op die idee van 'n spelende mens gaan oor wanneer, met wat en hoe verkeerderlik gespeel kan word.

Homo quaerens

'n Vierde moontlikheid wat geliefd is by filosowe (bv. Heidegger) is om die mens as 'n vraende wese te beskou. Filosowe, so word soms spottend gesê, het nie die antwoorde op al die vrae nie, maar die vrae op ander mense se antwoorde! Vir 'n Christelike totaalvisie op die mens lyk hierdie tipering egter te eng en ook ietwat negatief. Is die mens primêr 'n vraer of dalk eerder 'n antwoorder?

Homo mortalis

Die feit dat die mens uiteindelik moet sterwe, het ook weerklank gevind in verskillende mensbeelde. Hoewel dit 'n onderwerp op sy eie vorm, moet tog gesê word dat in ons westerse kultuur - soos ook enige ander kultuur - ook tans besin word oor die menslike sterflikheid. Sulke konfrontasies met en refleksies oor wat met die mens en sy of haar medemens by die dood gebeur, gee dikwels 'n skerper sig op wat die lewe eintlik is. 'n Voorbeeld van sodanige besinning oor kontemporêre doodsbeskouings vind 'n mens in die boek van Weren (2010).

Hiermee moet die oorsig oor mensbeelde in die weste - nog steeds onvolledig - afgesluit word. Dit was insiggewend en tog verwarrend. Insiggewend, want elkeen van die genoemde mensbeelde bevat beslis waarheidsmomente. Niemand sal byvoorbeeld ontken dat die mens nie ook 'n chemies-biologiese wese is nie. Dit is egter terselfdertyd verwarrend, aangesien die mens nie net 'n chemies-biologiese wese is nie. Indien dit die geval is, wat kan dan eintlik nog meer oor die mens gesê word? Die volgende vraag wat die aandag vra, is dus wat die Christelik-reformatoriese tradisie in die filosofie oor die mens na vore gebring het. Bied dit meer lig?

 

Die bydrae van 'n Christelik-reformatoriese filosofiese visie op die mens

Die belangrikste fasette van menswees wat deur die verskillende wetenskappe opgemerk en bestudeer word (vgl. 'Enkele kontemporêre mensbeelde'), word ook in die Christelik-reformatoriese denke teties erken met 'n kritiese waarskuwing daarby.

Teties

Hoewel hulle onderling mag verskil oor presies hoeveel fasette of aspekte by die mens onderskei kan word (Stoker noem twaalf, Dooyeweerd en Vollenhoven veertien en Fowler sestien - vgl. Van der Walt 1999:312-314), stem hulle saam dat die mens nie as 'n een- of tweedimensionele wese nie, maar multidimensioneel verstaan moet word.

Tussen al hierdie aspekte (funksies, modaliteite of sus-en-so-bepaaldhede van die mens) bestaan daar ook 'n noue verband. Omdat hulle onderling vervlegd is, kan nie een van hierdie kante van menswees werklik goed begryp word indien dit van al die ander geskei word nie. Die mens is egter nie bloot 'n uiters komplekse, strukturele konfigurasie van verskillende funksies nie. Die mens is 'n wese met 'n hart, die religieuse sentrum van sy of haar bestaan en hierdie religieuse rigting word deur gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God se gebooie bepaal.

Krities

In die lig van sy of haar multidimensionele aard wat in die hart gesentreerd is, lewer reformatoriese denkers veral twee kritiekpunte op vroeëre en gangbare antropologieë. In die eerste plek waarsku hulle, ten spyte van waarheidsmomente, teen eensydige, reduksionalistiese mensbeskouings wat die mens slegs volgens een van sy of haar baie kante wil beskryf, byvoorbeeld slegs as homo oeconomicus of homo biologicus.

Omdat die verskillende fasette van die mens so intiem met mekaar verweefd is, is 'n volgende stap ook eenvoudig: Die baie ander fasette van die mens word maklik vanuit slegs die een oorbeklemtoonde aspek verklaar of daartoe herlei. 'n Voorbeeld hiervan is die genoemde hedendaagse chemies-biologiese visies wat die mens se geloof, morele oortuigings en so meer bloot as produkte van die chemiese prosesse in sy of haar brein beskou. Alle soortgelyke visies word in 'n reformatoriese antropologie as verabsoluterings van een (of twee) fasette van menswees beskou en word dus as 'n -isme (bv. ekonomisme of biologisme) afgewys, omdat dit 'n vertekening van die ware menswees impliseer.

In die tweede plek bied 'n bloot funksionele of strukturele analise van die mens ook 'n verarmde mensbeeld, omdat dit die direksionele of religieuse element (die rigting van die menslike hart) nie verreken nie. In die geskiedenis van die westerse denke is die hart meestal vergeet. Dit het daartoe gelei dat die mens as 't ware net van buite af of struktureel bekyk is. Volgens die reformatoriese filosofie mag die hart en funksies wel onderskei, maar nie geskei word nie. Dit is die religieuse gesteldheid van die hart wat, in gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God se liefdeswet, tot 'n goeie of ongesonde etiese, ekonomiese of ander tipe lewe lei.

 

'n Oorsigtelike, omvattende visie

Die vraag kan egter gestel word of daar nie 'n eenvoudiger en omvattender begrip bestaan om menswees in die lig van die Skrif te beskryf nie. Selfs die reformatoriese filosofie wat twaalf tot sestien kante van menswees onderskei, laat 'n mens immers met 'n baie komplekse mensbeeld. Moontlik sou 'n eenvoudiger visie terselfdertyd ook as opsie kan dien teenoor dié van homo ludens.

Die voorstel van Stoker en Geertsema

Destyds toe die outeur (in 1961) as student by Stoker klas geloop het, het hy dit beklemtoon dat die mens nie in die eerste plek 'n vraesteller is nie, maar primêr as 'n antwoorder beskou moet word. Meer onlangs (vgl. Buijs et al. 2005 en veral Geertsema 2005) vind 'n mens weer dieselfde gedagte wat as 'n oorkoepelende visie op menswees beklemtoon word. (Deur die verskillende skrywers van Buijs se bundel word die sentrale gedagte vir verskillende lewensterreine en vakgebiede uitgewerk. Verkerk (1997), wy selfs 'n hele boek aan geslagtelikheid as antwoord.)

Geertsema gaan van die gedagte uit dat die mens se God-geskapenheid beteken dat God direk met jou spreek en jou tot 'n antwoord (verantwoordelikheid) uitnooi. Dit geld nie net vir die godsdienstige lewe nie, maar vir alle lewensterreine waarin 'n mens leef en jou antwoord word nooit werklik afgehandel nie. Geertsema (2005) stel dit treffend:

Het zelfverstaan is een opgave. Dit betekent ook dat het nooit is afgesloten. De zoektocht van het zelfverstaan blijft onvoltooid. Niet alleen in de zin dat ik nooit uitputtend weet wie ik zelf ben, ook daarin dat ik zelf in mijn bestaan als antwoord niet voltooid ben. Mijn bestaan als antwoord in verantwoordelijkheid is zelf open. [Selfverstaan is 'n taak. Dit beteken dat dit nooit voltooi is nie. Die soektog van die selfverstaan bly onvoltooid. Nie alleen dat ek nooit volledig weet wie ek self is nie; ook daarin dat ek self in my bestaan-as-antwoord, nooit voltooid is nie. My bestaan as antwoord in verantwoordelikheid is self oop.] (bl. 33)

Wat Geertsema hier sê, is belangrik. Antwoorde op God se Woord (drieërlei openbaring) word nie eenmaal finaal gegee nie. Elke mens en elke geslag moet onder nuwe omstandighede nuut antwoord. Die mens antwoord altyd in 'n spesifieke tyd en moet daarom die eie tyd goed verstaan (vgl. 'Die spelende antwoord-ontkennende mense van die tyd van Christus' hieronder ten opsigte van Matt 11).

'n Vraag

Geertsema lê myns insiens tereg groot klem daarop dat, vir die mens om 'n antwoordende wese te wees, dit verantwoordelikheid op alle lewensterreine impliseer - verantwoordelikheid teenoor God, jou medemens, die natuur en ook teenoor jouself.

Die maatstaf waarvolgens hierdie verantwoordelikheid beoefen moet word, kom volgens die outeur egter by Geertsema slegs implisiet en dus nie duidelik genoeg na vore nie. Dit is myns insiens juis die norm wat die antwoordende rigting van die mens se kant bepaal. Indien dit nie so is nie, kan die (Christen)mens subjektivisties self bepaal hoe sy of haar antwoord daar sal uitsien. Eenvoudig gestel: Geertsema behoort dus - nog voordat hy van die mens as antwoordende skepsel melding gemaak het - klem daarop gelê het dat die mens 'n luisterende wese (homo audiens) is. Sonder om eers na God se openbaring of Woord (in die skepping, Skrif en in Christus) te luister, het die mens niks om op te antwoord nie en kan daar ook nie werklik van gehoorsame ver-antwoord-elikheid sprake wees nie.

Bogenoemde kan verduidelik word met die bekende onderskeid (nie skeiding nie) tussen struktuur en rigting in die reformatoriese filosofie (vgl. Wolters 1992:72-95). Struktureel het God die mens wel as antwoordende wese geskep. Na die sondeval is tweërlei religieuse rigting (ongehoorsaamheid en gehoorsaamheid) egter moontlik. Die mens kan dus op twee wyses antwoord. Hierdie antwoord word bepaal deur die feit of dit volgens God se fundamentele en belangrikste gebod plaasgevind het of nie, naamlik die liefdeswet in sy verskeidenheid gestaltes.

'n Korreksie

Ek mis, by al die waardevolle dinge wat Geertsema oor antwoord en verantwoordelikheid sê, hierdie diep religieuse grondslag van menswees. Dit kom byvoorbeeld baie duidelik na vore by Vollenhoven, een van die grondleggers van die reformatoriese filosofie. Vollenhoven (2005b:78) omskryf religie as die verhouding van die mensheid (nie net van Christene nie!) tot die God van die verbond in gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan sy fundamentele liefdesgebod (kursivering deur outeur).

So 'n definisie impliseer alreeds (soos by Geertsema) God as Skepper wat met die mens 'n verbond sluit en die mens wat daarop moet antwoord. Die hoogste norm waarvolgens die antwoord moet plaasvind en die koers van die mens se hele lewe bepaal, word by Vollenhoven egter eksplisiet gestel. Dit geld vir alle mense, ongeag watter geloof hulle mag aanhang. God se sentrale liefdesgebod waarvolgens die mens se antwoord moet geskied word, soos 'n prisma wat wit lig in helder kleure opbreek, in die alledaagse lewe op verskillende manier vergestalt, naamlik as oorgawe in geloof, trou in die huwelik, geregtigheid in die politiek en nog vele meer.

Ten slotte moet opgemerk word dat die gedagte van die mens as antwoordende wese slegs een van die baie perspektiewe op menswees is. Dit impliseer dus nie dat elke ander mensbeeld noodwendig verkeerd sou wees nie. ('n Voorbeeld is die bybelse openbaring aangaande die mens as beeld van God.)

Stoker, Geertsema en (implisiet ook) Vollenhoven se idee van die mens as antwoordende wese blyk nogtans 'n duidelik bybelsbegronde gedagte te wees. God self openbaar dit van die mens in sy geskrewe Woord. Om hierdie goue draad deur die Skrif te volg, is binne die beperkte lengte van 'n artikel egter onmoontlik. Slegs een Skrifgedeelte word hier ter illustrasie gebruik. 'n Gedeelte is gekies waarin die kontras tussen die spelende en die antwoordende mens duidelik deur Christus self - God se finale openbaring - na vore gebring word.

 

Die spelende, antwoord-ontkennende mense in die tyd van Christus

Hierdie gedeelte vorm - na die voorafgaande oriënterende en oorsigtelike deel - die outeur se spesiale bydrae. Behalwe vir 'n ou studentepreek van baie jare gelede (waarvoor verskillende kommentare oor die betrokke Skrifgedeelte geraadpleeg is, maar nie hier vermeld hoef te word nie), maak die outeur ook met dankbaarheid gebruik van insigte wat Vollenhoven (2011) oor Matteus 11 geskryf het.

'n Belangrike onderskeid

Die menslike lewe is vol kontraste soos lag en huil (vgl. Plessner 1965), vreugde en smart, spel en erns. 'n Mens moet egter tussen die twee begrippepare onderskei. Vreugde en hartseer, lag en traan oorval 'n mens as 't ware, terwyl die mens se verantwoordelikheid by spel en erns op die voorgrond staan.

Natuurlik is vreugde of hartseer en spel of erns ook nie heeltemal van mekaar te skei nie. 'n Mens kan vreugde in jou spel ervaar en swaarkry kan jou ernstig stem. Die fokus val hier egter op erns of spel ten opsigte van die tye en omstandighede waarbinne Israel van destyds (en per implikasie ook ons vandag) lewe.

Waaroor dit in die Skrifgedeelte handel

Die Here Jesus kyk hier terug en stel vas wat die uitwerking van die optrede van Johannes die Doper asook sy eie werk tot dusver was. Dan spreek Hy hom uit oor die besluitloosheid en wispelturigheid van die skare wat hom gehoor en sy wonders gesien het asook hulle houding teenoor sy voorganger, Johannes die Doper.

Christus se oordeel word voorafgegaan deur 'n gesprek tussen Johannes en Jesus (Matt 11:1-15). Die drie hoofdele van die hoofstuk is dus die gesprek tussen Johannes en Jesus, Jesus se woorde aan die skare oor Johannes, en Jesus se vermaning aan die skare oor hulle onwilligheid tot 'n beslissende lewenskeuse. Die eerste twee gesprekke is egter belangrik om die derde goed te kan verstaan.

Die heel belangrikste is dat Christus hier die aandag vestig op wat ware menswees ten diepste beteken. Religieus beskou, kan geen mens 'n fundamentele beslissing ontwyk nie: óf oorgawe aan, óf verwerping van die Verlosser.

Die gesprek tussen Johannes en Jesus

Johannes was die herout vir die koms van Christus. Hy het geweet dat wanneer die ware Môrester verskyn, hyself moet verdwyn. Hy het ook besef dat die koms van die langverwagte Messias wêreldomvattende betekenis sou hê. Hý sou die oplossing bied vir die probleem van die sonde en selfs die dood. Dit sou egter 'n andersoortige koninkryk wees as die politieke ryk wat die Joodse leiers verwag het.

Johannes se vraag aan Jesus

Johannes het sy roeping as laaste profeet van Israel so ernstig opgeneem dat hy dit selfs gewaag het om die hoogmoedige koning Herodus op sy immorele lewe te wys. As 'beloning' vir sy dapperheid sug hy egter nou eensaam in die gevangenis. Hy wag en wag, dag na dag vir die koms van die koninkryk wat hy moes aankondig, maar niks gebeur nie. Dit is nie dat sy geloof in gedrang gekom het nie. Hy glo nog aan die Messias, maar omdat Christus blykbaar nie gekom het (soos Johannes moes profeteer) om Israel te oordeel nie, wonder Johannes of Jesus nie maar slegs die voorloper van die eintlike Verlosser is nie. Daarom stuur hy vanuit die benoude gevangenis 'n paar van sy dissipels met hierdie vraag aan Christus: 'Is U die een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?' Die skare hoor ook hierdie vraag.

Jesus se antwoord aan Johannes

Jesus antwoord Johannes (Matt 11:4-6) eers voordat hy Hom tot die omstanders wend. Sy dissipels moet aan Johannes gaan vertel wat hulle sien (al Christus se wonderwerke), maar ook wat hulle hoor (dat aan eenvoudige armes nou ook die evangelie verkondig word). Dan volg ook 'n baie sagte vermaning aan Johannes self in die vorm van 'n saligspreking: 'Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.' (Dit kan ook lees: '... elkeen wat hom nie aan My erger nie'). Daarna rig Jesus Hom tot die skare aangaande Johannes.

Jesus aan die skare oor Johannes

Natuurlik doen Hy dit altyd in groot ontferming. In sy bewoënheid wil Hy hulle iets laat sien van die geweldig ernstige tyd waarin hulle lewe en hulle waarsku teen 'n verkeerde houding tydens so 'n belangrike epog in die wêreldgeskiedenis.

Wat die skare van Johannes gedink het

Die mense het heel waarskynlik verkeerde gedagtes oor Johannes gekoester. Daarom moet Jesus vir hulle vra wie hulle dink Johannes is en daarna vertel Hy hulle presies wie hierdie man eintlik is. Heel moontlik was Johannes vir hulle 'n baie interessante figuur. Eers woon hy alleen in die woestyn en leef van sprinkane en wilde heuning. Toe begin die man in sy eenvoudige klere preek en doop - 'n eienaardige karakter! Maar nou vind hulle dit moontlik nog interessanter dat dieselfde oortuigde prediker tog ook maar, net soos 'n gewone mens, begin twyfel het - soos 'n riet wat deur die wind heen en weer geslinger word.

Wie Jesus sê Johannes werklik is

Jesus wys die skare daarop dat diegene wat Johannes bloot as 'n eienaardige persoonlikheid beskou hoegenaamd nie besef wie hy werklik is nie. Die Bybel ken terloops nie interessante of belangrike mense nie, maar wel belangrik in dié sin dat God belang stel om hulle in sy diens te gebruik - maar dan kom sý Woord altyd eerste.

Elia was 'n groot profeet. Hy het op die latere profete so 'n indruk gemaak dat die heel laaste teks van die Ou Testament (Mal 4:5-6) nog na hom verwys: 'Ek [die Here] gaan voor die dag van die Here [Christus se koms] vir julle 'n profeet [Johannes] stuur, sodat daar bekering sal wees en Ek julle land nie hoef te vernietig nie.' Jesus bevestig hierdie profesie (Matt 11:14) oor die tweede Elia.

Volgens Christus is Johannes egter groter, selfs belangriker as Elia, omdat hy die direkte en heel finale wegbereider van die koms van Christus en sy koninkryk is. Selfs onder alle mense, sê Hy, was daar nooit iemand belangriker nie. Maar selfs dan is die geringste in die koninkryk nog steeds groter as Johannes. Die uitspraak beteken heel waarskynlik dat Johannes in 'n sekere sin nie werklik deel gehad het - soos die Christene na hom - in die koms van die koninkryk soos dit in Christus se optrede vergestalt is nie.

Dít was Johannes die Doper - soos die skare hom gesien het en wie hy werklik volgens Christus self was. Dit lei tot die derde gesprek, naamlik die gesprek van Christus met die skare.

Christus aan die skare oor hulle besluitlose houding in 'n tyd wat swanger is van betekenis

Nadat Christus aan die omstanders verduidelik het wie Johannes eintlik was, wend Hy hom regstreeks tot hulle. Hy wys hulle op die gevaar waarin hulle self verkeer deur die tyd waarin Johannes en Hyself optree as onbelangrik te beskou en letterlik te verspeel. Soos in baie ander gevalle, tipies Oosters, beskuldig Hy hulle nie regstreeks nie, maar vertel hulle op 'n indirekte manier by wyse van 'n gelykenis die waarheid. Hierdie wyse is geensins minder effektief nie - inteendeel.

Die gelykenis

'n Gelykenis is eintlik 'n uitgebreide metafoor wat 'n raaisel bevat. Die destydse hoorders (vandag lesers) moes die geheime deur vind voordat die skatte van die koninkryk van God, wat met die koms van Christus aangebreek het, vir hulle oopgegaan het. Die beeld of verhaal omsluier die dieper betekenis van dit wat Christus bedoel (Smit 2010).

Soos al Christus se gelykenisse kom ook hierdie een uit die alledaagse lewe van destyds. Die boodskap daaragter is egter skerp. Dit gaan hier nie oor die kinderlikheid van die kindertjies wat op die markplein speel nie, maar oor hulle wispelturige kinderagtigheid.

'Waarmee sal ek hierdie geslag vergelyk?', vra Jesus. Die vraag suggereer dat die mense van destyds se optrede so onbegryplik is dat selfs Christus dit moeilik vind om iets te kry waarmee Hy dit kan vergelyk. Dan vergelyk Hy hulle met verveelde, spelende kinders. Met hierdie geslag word die mense bedoel wat in hierdie spesifieke tyd lewe. Christus veroordeel nie die hele geslag of skare uit die hoogte nie. Daar was wel mense wat Johannes en Jesus se boodskap ernstig as die Woord van God self geneem het en hulle bekeer het. Dit is nie hulle wat Christus hier in die oog het nie. Hy rig hom spesifiek tot diegene wat Johannes bloot as 'n kuriositeit beskou het. Christus verwyt hulle dat hulle alles so ligtelik opneem, spelend omgaan met die besondere tye wat God hulle gun om aan deel te hê.

Christus veroordeel hier beslis nie spel en ontspanning nie - nóg by kinders nóg by volwassenes. Dit gaan hier oor wanneer en waarmee gespeel word. 'n Mens kan met baie dinge en op baie terreine óf reg óf verkeerd speel: eties, esteties, juridies, ekonomies, sosiaal, linguaal, histories, logies, psigies, bioties en so meer. 'n Mens kan selfs met God probeer speel (vgl. Lowrie 1944 oor Kierkegaard se kritiek op die spelende Christendom van sy tyd). Jy kan ook, verkeerdelik, met jou medemens, met jouself en met die werklikheid speel. Myns insiens val die fokus in hierdie gelykenis op 'n spel met die tyd waarin 'n mens gegun word om te lewe.

Wat die kinders speel

Kinders boots graag na wat hulle in die grootmenswêreld hoor en sien en wat hulle beïndruk. Natuurlik speel hulle graag 'bruilof-bruilof' met die gedagte dat wanneer hulle eendag groot is, hulle ook só gaan trou. 'n Bruilof was destyds 'n belangrike okkasie wat dae lank geduur het en wat vereis het dat almal saamspeel. Behalwe die bruidspaar, moet daar ten minste ook 'n fluitspelertjie wees en 'n paar gaste wat kan sing en dans. Dalk was dit 'n warm middag en was die kinders al uitgespeel, want die vrolike fluitspel kon hulle nie in beweging kry nie.

Toe gaan daar 'n begrafnisstoet verby - ook 'n belangrike gebeurtenis in Israel van destyds. (Dit was nie soos hedendaagse westerse kitsbegrafnisse wat binne 'n paar uur afgehandel is nie.) Daar was selfs gehuurde klaagsangers! Nou rig die kinders hulle verbeelding daarop: 'As julle dit eerder verkies, dan speel ons begrafnis', word voorgestel. Die vorm van die spel verander dus, maar speel sal hulle speel - die hele dag lank!

Die boodskap

'n Pragtige prentjie uit die alledaagse lewe van kinders word geteken. Christus se boodskap daarmee is egter nie mooi nie. Die soort speletjie is nie so belangrik nie, maar eerder die feit dat sekere mense onder Christus se toehoorders hulle lewe verspeel. Eintlik kom die skerpste punt van die gelykenis nog. Dit lê in die woorde wat party van die kinders die ander verwytend toeroep (Matt 11:17): 'Julle wou, ten spyte van die feit dat ons eers iets vroliks en toe iets treurigs wou speel, nie saamspeel nie.' Diegene wat nie wil saamspeel nie, word dus as spelbrekers beskou.

Wie hierdie spelbrekers in werklikheid was, word ook duidelik uit dit wat Christus vervolgens sê. Die eerste spelbreker was Johannes en die tweede Hyself.

Die eerste spelbreker

Die Jode was 'n selfingenome klomp mense. Is hulle dan nie die uitverkore volk van God, die saad van Abraham wat in 'n beloofde land woon nie? Daarom speel hulle 'bruilof-bruilof' as die ernstige Johannes op die toneel verskyn. Hulle het geen erg aan sy ernstige oproep tot bekering nie. Waarvan moet hulle hulle bekeer? Vir wat moet hulle (Jode) hulle laat doop? (Slegs proseliete moes destyds gedoop word.) Hulle het egter nie goed na Johannes geluister nie: 'Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.' Daar gaan groot dinge gebeur en om daarop voorbereid te wees, is bekering en doop - nie speletjies nie - nodig.

Johannes was 'n boeteprediker wat waaragtige berou, skuldbelydenis en droefenis oor die volk se sondes wou hê, sodat hulle in Jesus se verlossingswerk kon deel. Soos baie van die vorige profete moes sy eie lewe ook sy boodskap konkreet maak: 'n sober lewe in die woestyn, geen wyn ('n teken van feestelikheid) en geklee in 'n kameelvel.

Sy boodskap was duidelik: hou op om julleself as so belangrik, as 'n uitverkore volk, te beskou. God kan ook uit klippe vir Hom kinders maak. Die byl lê ook al aan die wortel van die wonderlike land waarop julle roem. Pasop dat julle nie julle laaste kans verspeel nie ...

Maar Israel wou niks daarvan hoor nie. Johannes is hoogstens vir hulle 'n sonderlinge, snaakse, swaarmoedige figuur. Sy ernstige begrafnisgesig staan hulle nie aan nie. Meer nog: Johannes is eenvoudig 'n spelbreker. Hulle konklusie was dat hy van die duiwel besete moes wees. Vergeet dus van hom!

Die tweede spelbreker

Terwyl hulle teenoor Johannes hulle bruilofspel speel, word daar in die tweede tafereel 'n nuwe spel teenoor Christus gespeel - dié van 'n begrafnis. Teenoor Christus neem hulle skielik die veronderstelde donker toon van Johannes oor. Soos reeds gesê, is die vorm van die spel nie die belangrikste nie - solank daar maar net voortgespeel kan word. Die ironie is dat Christus die ware Bruidegom is wat bruilof - sý koninkryk - op die aarde sou bring!

Waaroor sou die Fariseërs en die Skrifgeleerdes dan kon treur? Natuurlik oor al die Romeinse heidene wat hulle land regeer (die Fariseërs en die ander groepe). Verder kan hulle ook treur oor die groot massa gewone mense wat God se Woord en wet nie ken nie (die Skrifgeleerdes se rede).

Christus is egter nie bereid om aan hulle begrafnisspeletjies deel te neem nie. Hy kyk nie hooghartig neer op die massa nie - tollenaars, sondaars en selfs heidene ingesluit. Hy is met innerlike ontferming bewoë oor hulle vir wie die lewe nie maar 'n speletjie is nie, maar 'n swaar juk. Hy ontferm hom oor tollenaars en afpersers soos Levi (Luk 5:27-32) en Saggeus (Luk 19:1-10), want die seun van die mens het nie gekom om dié te red wat op die regte pad is nie, maar juis sulke sondaars (Luk 5:32). Hy bemoei hom met 'n sondares wat sy voete met haar trane was, met haar hare afdroog en met haar hande salf (Luk 7:37-50). As ware Bruidegom het Christus ook nie beswaar gehad om 'n eenvoudige boerebruilof in Kana by te woon en die feesvreugde daar te red deur water in eersteklas wyn te verander nie (vgl. Van der Walt 1991:1-22).

Ook Christus word as 'n spelbreker bestempel en afgemaak as 'n vraat en wynsuiper - bloot omdat Hy bereid was om saam met eenvoudige mense en sondaars te praat, te eet en te drink.

Saamgevat: Geen gehoor of antwoord nie

Nóg Johannes, nóg Christus kon 'n antwoord by die selfingenome Fariseërs en Skrifgeleerdes ontlok. Hulle het nie eers werklik na Johannes en Christus geluister nie. Volgens hulle was eersgenoemde te ernstig - 'n regte suurknol - en laasgenoemde te oppervlakkig - 'n regte losbol. Gebalanseerde gelowiges luister tog nie na sulke ekstremiste nie. Dit was dus maklik om twee sulke uiterstes teen mekaar af te speel. Die Jode het nie verstaan dat Johannes en Jesus se uitnodigings eintlik twee kante van dieselfde munt was nie.

Die groot vreugde van die koninkryk wat met Christus gekom het, was die rede vir Johannes se erns. Hy het met soveel erns opgetree, omdat hy wou hê dat hulle in die aanstaande vreugde moes deel. Die pad van die koninkryk loop immers oor begrafnis na bruilof, van afsterwing van die oue mens na die opstanding van die nuwe. Sy gehoor wou egter nie erns maak met hierdie vreugde nie.

Omgekeerd het Christus gekom om die groot gawe van God se ryk te skenk - heeltemal uit genade. Daar kan geen erns wees indien hierdie groot vreugde nie eers uit God se hand ontvang is nie. 'n Mens kan nou verstaan waarom Christus sy tydgenote van kinderagtigheid beskuldig het. Hulle leef in die volheid van die tyd - tydens die heel belangrikste gebeurtenis nog in die wêreldgeskiedenis - maar hulle verstaan nie die tekens van die tyd nie (Matt 16:3) en verspeel dit letterlik.

Elders (Matt 18:3-4) vergelyk Christus volwasse mense nie met die kinderagtigheid van verveelde kinders nie, maar met hulle kinderlikheid; met die erns waarmee kinders hulself kan oorgee - ook aan hulle spel. Volwasse gelowiges moet leer om weer só, soos kindertjies te word: om erns te maak met die vreugde daarvan om kinders van God te wees. Dan verspeel 'n mens nie die tyd nie; dit gaan nie nutteloos by jou verby nie, maar dit word vol sin en betekenis.

Uit hierdie afdeling blyk dus baie duidelik waarom die skrywer van mening is dat dit gevaarlik kan wees om die mens primêr as homo ludens te beskryf. Hy verkies om eerder van 'n homo audiens en homo respondens te praat.

Die slotgedeelte

Die laaste gedeelte van hierdie besondere hoofstuk in die Bybel mag egter nie oorgeslaan word nie. Christus sluit eers die gelykenisgedeelte af (Matt 11:19c) met die woorde dat God met wysheid optree en dat 'n mens dit uit sy werke sal sien.

Die laaste verse (Matt 11:20-24) het vir die destydse Jode, wat met God se Woord gespeel het, nie goeie nuus ingehou nie. Wie met God se genadetyd speel, gaan spelenderwys sy oordeel tegemoet.

'n Verskriklike oordeel

'Ellende wag vir Gorasin, Betsaida en Kapernaum!' In hierdie stede het die kerkmense van destyds (Israel) gewoon. Hulle was besonder bevoorreg, omdat hulle Christus se wonderdade kon sien en sy verlossende woorde kon hoor, maar het hulle nogtans nie bekeer nie - hulle het daarvan speletjies gemaak.

Indien die heidense stede (Tirus, Sidon en selfs die berugte Sodom) Christus kon sien en hoor, sou hulle hulle hartgrondig in sak en as bekeer het. Christus sê selfs dat die oordeel vir sulke heidense plekke verdraagliker sal wees as vir sy eie volksgenote, sogenoemde gelowiges. Wat 'n verskriklike oordeel!

'n Finale woord

Christus wys ten slotte (Matt 11:25) daarop dat die slim en geleerde mense (die Fariseërs en Skrifgeleerdes van destyds - en ook van vandag) sy woorde nie sal verstaan nie. Dit is egter vir die eenvoudiges of 'armes van gees' (Ou Afrikaanse Vertaling) of 'hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is' (Nuwe Afrikaanse Vertaling van Matt 5:3) glashelder.

Soos altyd gaan God se oordeelsaankondigings egter ook gepaard met 'n belofte van redding vir dié wat wil sien, hoor en antwoord: 'Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee' (Matt 11:28). 'Almal' sluit ook diegene in wat moeg van speel is. Om in jou eie tyd eers in alle erns die koninkryk van God en sy wil te soek (Matt 6:33) beteken 'n juk wat veel sagter is en 'n las wat veel ligter is (Matt 11:30) as om maar voort te speel - en boonop diegene wat nie met jou godsdienstige speletjies wil meedoen nie as spelbrekers te veroordeel.

 

'n Toepassing op die jubilaris?

Ek vertrou dat my voorafgaande woorde ook vir Ponti Venter en sy vrou, Heinie, van betekenis en bemoediging mag wees. Sover ek hom (die afgelope byna 50 jaar) leer ken het, sien ek self wel sekere ooreenkomste tussen my vriend se lewe en werk en wat destyds - al is dit 2000 jaar gelede - plaasgevind het. Soos die mense ten tye van Johannes en Christus, leef ons wel in ander maar nie minder ernstige tye nie. Anders, omdat ons ná die koms van Christus, sy dood, opstanding en die uitstorting van sy Gees lewe. Sy koninkryk het reeds aangebreek. Tog bly die wêreld baie dieselfde, omdat ons tans wag op sy finale wederkoms. Dit beteken nie net wagtyd nie, maar ook werktyd, nie speeltyd nie, maar antwoordtyd. In Ponti Venter het 'n mens 'n voorbeeld van iemand wat fyn na hierdie unieke tyd (en ook die tyd van baie eeue daarvoor) geluister het en in die lig van God se Woord daarop geantwoord het - 'n voorbeeld van homo audiens et respondens.

Vooraf kortliks iets oor Ponti as mens en dan oor sy werk.

Die mens Ponti Venter

Die Skepper het hom met besondere talente geseën: hiperintelligent (ek ken niemand anders wat so 'n skerp verstand soos hy het nie), maar terselfdertyd fyngevoelig en met 'n kunstenaarstemperament. (Sulke mense - veral die filosowe onder hulle - kan natuurlik soms ook baie onprakties wees!) Die diepgang in sy filosofie getuig van sy skerpsinnigheid. Die manier waarop hy met 'n alledaagse storie 'n mens kan meevoer, sowel as sy vertalings uit verskillende Europese tale, wys op sy estetiese aanleg. Daarby is hy geseën met 'n geheue soos die hardeskyf van 'n rekenaar.

Ponti is verder 'n eerlike, opregte mens op wie se integriteit 'n mens kan staatmaak. Teenoor sy studente was hy vriendelik, toeganklik en hulpvaardig en bereid om sy insigte met hulle te deel. Ook as kollega was 'n gesprek met hom altyd verrykend.

'n Belangrike kenmerk wat ek graag wil uitlig, is sy visie van Christelik-filosofiese denke. Dit was vir hom 'n roeping van Bo. As professor het hy daarvan getuig. (Hy verteenwoordig reeds die derde geslag reformatoriese filosowe in Suid-Afrika.)

Sy werk

As filosoof het hy ook die homo quaerens vergestalt en diep, indringende vrae oor die reuse in westerse denkgeskiedenis gestel. (Vgl. sy diktate oor die geskiedenis van die filosofie asook sy nuutste vertalings met kommentaar in Venter 2011, 2012a, 2012b). Hy was egter nie 'n ivoortoringfilosoof, wat net met die verlede of met sy eie gedagtes omgegaan het nie. Hy was deurentyd betrokke by sy eie tyd.

Hy word groot in die apartheidsjare, maar distansieer hom daarvan. Hy studeer aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en die Vrije Universiteit van Amsterdam - twee bakermatte van die Christelike filosofie - maar hy moet met hartseer ervaar hoe eers laasgenoemde en later ook eersgenoemde gesekulariseerd raak. Lank voordat dit 'n werklikheid geword het, het Ponti egter besef wat besig is om te gebeur en met woord en geskrif daarteen gewaarsku. Om saam te speel, sou populariteit beteken; as spelbreker word 'n mens soms maklik gemarginaliseer.

As homo gravis het hy - soos Sokrates van ouds - sy skerp vrae soos perdevlieë op ongemaklike plekke laat steek. Manmoedig het sy gevoel vir geregtigheid hom daartoe gedryf om mense in hoë poste se beleid te kritiseer en onreg en gekonkel te ontmasker. Hy was daarvan oortuig dat leiers nie oor van-God-afgeleide en dus goddelike gesag beskik nie en daarom is hulle feilbaar en nie bo verantwoording verhewe nie. Ongelukkig is dit nie altyd verstaan dat sy kritiese vrae positief bedoel was om 'n situasie te verbeter nie. Sy skerp uitsprake is dikwels as ondiplomaties beskou en moes noodwendig verontwaardiging ontlok. Dit moes nie altyd maklik gewees het vir 'n versiende mens nie. In alle geval het Ponti die pad van roepingsbesef en van 'n verantwoordelike homo respons in sy eie tyd geloop.

As homo gravis was hy egter geen homo tristis nie. Saam het ons twee - alreeds in die tagtigerjare, toe dit nog ongewoon was vir 'n wit mens om sy of haar gesig daar te wys - ver paaie in ander Afrikalande geloop. As toermaat het ek toe ook 'n ander kant - die homo felix en avonturier in Ponti ontdek.

Ten slotte kan hy, na sy uittrede in 2009 uit die aktiewe diens in die Skool vir Filosofie aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, ook die spelende mens (in die goeie sin van die begrip) vergestalt. Hy het nou die tyd om nie net met sy gedagtes te speel nie, maar hulle ook neer te pen en te publiseer. Hy het op sy Vyfhoekhoewe ook die geleenthede om as noodsaaklike afleiding op ander maniere 'rond te speel'.

Die allerbeste toegewens

Ponti, die Here het jou met besondere gawes, deeglike opleiding en jarelange ervaring geseën. Hy gee jou nou ook die tyd om dit alles op skrif met 'n veel breër publiek en met komende geslagte te deel. Ons wens is dat Hy jou - en Heinie - ook met goeie gesondheid sal begenadig, sodat jy die tyd - met vreugdevolle erns en ernstige vreugde - vrugbaar sal kan gebruik. Ons wéét immers dat ons arbeid in die Here nooit tevergeefs is nie (1 Kor 15:58).

Sjaloom!

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Aiken, H.D., 1956, The age of ideology: The 19th century philosophers. The New American Library, New York.         [ Links ]

Bavinck, J.H., Diepenhorst, I.A., Lever, J., Lindeboom, G.A. & Zuidema, S.U., 1956, De mens in de wetenschap, Kok, Kampen.         [ Links ]

Berkhof, H., 1960, De mens onderweg, Boekencentrum, 's-Gravenhage.         [ Links ]

Berlin, I., 1956, The age of enlightenment: The 18th century philosophers, The New American Library, New York.         [ Links ]

Bloom, P., 2010, How pleasure works: The new science of how we like what we like, W.W. Norton & Company Inc., New York.         [ Links ]

Buber, M., 1947, Between man and man, Routledge & Kegan Paul, London.         [ Links ]

Buijs, G.J., Blokhuis, P., Griffioen, S. & Kuijper, R. (reds.), 2005, Homo respondens: Verkenningen rond het mens-zijn, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam.         [ Links ]

Carrel, A., 1935, Man the unknown, Harper, New York.         [ Links ]

Conradie, E., 2010, Christianity and a critique of consumerism, Bible Media, Wellington.         [ Links ]

De Santillana, G., 1956, The age of adventure: The Renaissance philosophers, The New American Library, New York.         [ Links ]

Evans, C.S., 1977, Preserving the person: A look at the human sciences, Baker Publishing Group, Grand Rapids.         [ Links ]

Freemantle, A., 1955, The age of belief: The medieval philosophers, New American Library, New York.         [ Links ]

Fromm, E. & Xirau, R. (eds.), 1968, The nature of man (readings), Collier-Macmillan, London.         [ Links ]

Geertsema, H.G., 2005, 'Het antwoord-karakter van het mens-zijn', in G.J. Buijs, P. Blokhuis, S. Griffioen & R. Kuyper (reds.), Homo respondens: Verkenningen rond het mens-zijn, bl. 25-45, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam.         [ Links ]

Hampshire, S., 1956, The age of reason: The 17th century philosophers, The New American Library, New York.         [ Links ]

Hart, H., 1995, 'The self as a question', in S. Griffioen & B.M. Balk (eds.), Christian philosophy at the close of the twentieth century, pp. 7-84, Kok, Kampen.         [ Links ]

Huizinga, J., 1949, 'Homo ludens': A study of the play element in culture, Routledge & Kegan Paul, London.         [ Links ]

Jeeves, M., 1994, Mind fields: Reflections on the science of mind and brain, Baker Publishing Group, Grand Rapids.         [ Links ]

Jeeves, M. (ed.), 2004, From cells to souls and beyond: Changing patterns of human nature, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.         [ Links ]

Kraan, K.J., Pijlman, E. & Rietveld, B., 1960, De mens, Kok, Kampen.         [ Links ]

Kwee, S.J. & Van Peursen, C.A., 1969, Wijsgerige teksten over de mens, Van Loghum Slaterus, Arnhem.         [ Links ]

Lowrie, W., 1944, Kierkegaard's attack upon 'Christendom', 1854-1855, Princeton University Press, Princeton.         [ Links ]

Middleton, J.R. & Walsh, B.J., 1995, Truth is stranger than it used to be: Bilical faith in a postmodern age, InterVarsity, Downers Grove.         [ Links ]

Niebuhr, R., 1951, Wezen en bestemming van de mens, 2 dele, Ten Have, Amsterdam.         [ Links ]

Nürnberger, K., 2007, The living dead and the living God, Cluster Publications, Pietermaritzburg.         [ Links ]

Peters, J. (red.), s.a., Hedendaagse visies op den mens, Uitgeverij Winants, Heerlen.         [ Links ]

Plessner, H., 1965, Lachen en wenen: Een onderzoek naar de grenzen van het menslijk gedrag, Aula Boeken, Utrecht.         [ Links ]

Sirks, M.J., Kraus, G. & Bouman, P.J., 1955, De mens in het licht der wetenschap, Wolters, Groningen.         [ Links ]

Smit, J., 2010, Jesus se raaisel-stories, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Stevenson, L., 1974, Seven theories of human nature, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Stevenson, L. (ed.), 1980, The study of human nature (readings), Oxford University Press, New York.         [ Links ]

Tarnas, R., 1991, The passion of the western mind: Understanding ideas that have shaped our world view, Pimlico, London.         [ Links ]

Van der Stoep, J., 2007, 'Inleiding', in J. van der Stoep, R. Kuiper & T. Ramaker (reds.), Alles wat je hart begeert? Christelijke orientatie in en op beleving gerichte cultuur, bl. 11-19, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1991, 'Christ as wedding guest - John 2:1-12', in B.J. van der Walt (ed.), More precious than gold, pp. 14-22, Institute for Reformational Studies, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 1999, Visie op die werklikheid, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Walt, B.J., 2007, 'Spotlight on sport', in B.J. van der Walt (ed.), Transforming power, pp. 347-377, The Institute for Contemporary Christianity in Africa, Potchefstroom.         [ Links ]

Venter, J.J., 2011, Einstein: Meetkunde en ervaring/Geometry and experience, Vraagteken/Question Mark, Potchefstroom.         [ Links ]

Venter, J.J., 2012a, Mussolini en Gentile, Vraagteken/Question Mark, Potchefstroom.         [ Links ]

Venter, J.J., 2012b, Ontmoet 'n personae genaamd 'natuur'/Meet a personae called 'nature', Vraagteken/Question Mark, Potchefstroom.         [ Links ]

Verkerk, M.J., 1997, Sekse als antwoord, Buijten & Schipperhijn, Amsterdam.         [ Links ]

Volf, M., 2011, A public faith: How followers of Christ should serve the common good, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2000, Schematische kaarten: Filosofische concepties in probleemhistorisch verband, K.A. Bril & P.J. Boonstra (reds.), De Zaak Haes, Amstelveen.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2005a, The problem-historical method and the hisitory of philosophy, K.A. Bril (ed.), De Zaak Haes, Amstelveen.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2005b, Isagôgè Philosophiae: Introduction to philosophy, J.H. Kok & A. Tol (eds.), Dordt College Press, Sioux Centre.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th., 2011, 'Erns of spel', in K.A. Bril & R.A. Nijhoff (reds.), Gastcolleges: Erfenis voor het heden, bl. 183-188, De Zaak Haes, Amstelveen.         [ Links ]

Weren, W., 2010, Dood en dan? Stemmen uit de Bijbel, echo's in onze cultuur, Meinema, Zoetemeer.         [ Links ]

White, M., 1955, The age of analysis: 20th century philosophers, The New American Library, New York.         [ Links ]

Wolters, A.M., 1992, Die skepping herwin: Bybelse grondslae vir 'n reformatoriese lewensbeskouing, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Instituut vir Reformatoriese Studie), Potchefstroom.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Barend van der Walt
7 Bezuidenhout Street, Oewersig, Potchefstroom 2521, South Africa

Received: 24 July 2012
Accepted: 24 July 2013
Published: 13 Dec. 2013

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons