SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue2Burial or cremation - who decides?Is post-commencement finance proving to be the thorn in the side of business rescue proceedings under the 2008 Companies Act? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


De Jure Law Journal

On-line version ISSN 2225-7160
Print version ISSN 1466-3597

De Jure (Pretoria) vol.49 n.2 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.17159/2225-7160/2016/v49n2a4 

ARTICLES

 

Politokratiese kommunitarisme en publieke geregtigheid

 

Politocratic communitarianism and public justice

 

 

Andries Raath

Blur LLB MA DPhil; Navorsingsgenoot, Departemente Geskiedenis en Publiekreg, Universiteit van die Vrystaat1

 

 


ABSTRACT

Politocratic communitarianism is based on Nisbet's, Sandel's and Maclntyre's interpretation of Aristotle's sociology and theory of justice. It fosters Aristotle's views on the growth manifested in the organismic state under which the whole of society is subsumed. The physis (growth) of the state is expressive of the whole of reality. In this sense, the city-state is by nature clearly prior to non-state entities and individual persons, since the state is of necessity prior to its parts. The Aristotelian organismic teleology is related to the doctrine of the great chain of being, which sees every element of society as an infinitesimal gradation of ascent to transcendental reality, and which informs the politocratic communitarian philosophy of community. Society as a whole, its structure and processes, is deemed to be representative of the organismic state; society and all its institutions, participates in the entire realm of organismic reality, an idea fundamental to politocratic communitarianism and National-Socialistic state and legal philosophy. The ideal forms of community and public justice are expressive of the biopolitical aims of the power-state: the plurality of non-state entities are subsumed under the universalistic state, the pluriformity of legal spheres in society are encapsulated within the organismic political society and the principles of liberty and equality in civil private law are negated to the point where material injustices are legitimised by state aims. The Aristotelian concept of the biopolitical state is, arguably, the highest barrier for politocratic communitarians and National-Socialists to overcome in their aspirations to meet the benchmarks of the law-state and to satisfy the requirements for ensuring public justice. This essay investigates the implications of politocratic communitarianism, its shared Aristotelian heritage with National-Socialism, and the law-state implications emanating from this tradition's organismic and biopolitical state and legal philosophy.


 

 

1 Inleiding

Die afgelope dekades het politokratiese kommunitarisme skerp kritiek teen liberale regstaatlikheid geopper2 en die Aristoteliese publieke geregtigheidsideaal as regssosiologiese alternatief op die voorgrond gestel.3 Met verrekening van Nisbet,4 Sandel5 en MacIntyre6 se kommunitêre regssosiologie, formuleer politokratiese kommunitariërs staats en regsparadigmas wat tot 'n groot hoogte op die lees van Aristoteles se geregtigheidstandpunte geskoei is. Politokratiese kommunitarisme het ook vir die Suid-Afrikaanse politologie en staatsregtelike denke relevant geword. In die Suid-Afrikaanse literatuur is Malan7 en Goosen8 verteenwoordigend van dié herlewing van regssosiologie regsparadigmas wat Aristoteles se geregtigheidsteorie as vertrekpunt neem. Malan se veroordeling van die 'territoriale staat' en die idee van individuele outonomie moet teen die agtergrond van dié regsteoretiese vertrekpunte beoordeel word: die reg is nie 'n objektiewe neutrale normkompleks nie; regsreëls is grondliggend onbepaald en beskik nie oor 'n vaste normatiewe inhoud nie; bygevolg beskik regsreëls vanweë die onbepaaldheid daarvan nie oor die vermoë om regsekerheid te bewerkstellig nie; die reg is bloot dit wat die hof en administrateurs wat die reg toepas 'van beslissing tot beslissing sê dit is';9 die reg is nie 'n eiestandige werklikheidsgegewe nie maar is bloot 'n 'manifestasie van die politiek',10 die politieke konteks waarin reg en geregtigheid funksioneer is 'n natuur-gegewene wat aan voortdurende organiese ontwikkeling onderhewig is. Dié implikasies vloei voort uit Malan se aanvaarding van die Aristoteliese poli's-staat as normatief vir gemeenskap en dié se geregtigheidsteorie as normatiewe konteks vir die nastrewing van publieke geregtigheid.11

Goosen neem die Aristoteliese idee van die pofe-gemeenskap as vertrekpunt vir die ordening van die regs en politologiese werklikheid. In sy kritiek teen die modernisme, liberalisme, kapitaal en individuele regte,12 bespeur Goosen die spanning tussen staat en individu en dié tussen gesag en instemming as uitvloeisels van die antitetiese spanning tussen die voorskriftelike staat en die beroep op individuele regte: hoe meer die staat sy gesag - onder meer by wyse van territoriale standaardisering - opeis, des te meer doen die individu 'n beroep op sy/ haar regte. Laasgenoemde verkeer onder die indruk dat die beroep op regte 'n alternatief tot staatlike gesag verteenwoordig. In der waarheid verteenwoordig dit, volgens Goosen, slegs die teenkant van dieselfde modernistiese denkraamwerk: staatlike gesag en die liberale beroep op regte bevoordeel mekaar, hou mekaar in stand - die een roep die ander op.13 Teenoor die 'territoriale staat' kies Goosen vir die Griekse polis-staat as vorm van 'n volwaardige gemeenskapslewe: die polis is ontologies die gemeenskap van gemeenskappe; deugde is deur die Griekse polis 'gekultiveer en oorgedra' en die 'Tradisie' manifesteer vanselfsprekend in die 'stad of polis'.14

Beide Malan en Goosen se politokratiese kommunitarismes is gemodelleer op die Aristoteliese politologiese en regsfilosofiese kommunitarismes van Nisbet, Sandel en MacIntyre15 vir sover dié outeurs die biopolitieke onderbou van die Griekse stadstaat as grondslag vir die verwesenliking van die ideale gemeenskap en publieke geregtigheid beskou.16 In navolging van die kommunitêre regssosiologie vertoon sowel Malan as Goosen se politokratiese kommunitarisme verskeie fasette van die Aristoteliese geregtigheidsdenke - in die plek van die liberale geregtigheidsdenke word Aristoteles se geregtigheidsdeug as normatief vir eietydse geregtigheidsuitdagings gestel: in plaas van die klem op die individu word die fokus na die transpersonale aard van die regs en politieke lewe verplaas;17 'n beroep word op die historiese opvatting van gemeenskap gedoen ingevolge waarvan gemeenskap as grondslag van die regs en politieke bestaan van die mens beskou word;18dit verwerp die liberaal-individuele opvatting van menseregte en gemeenskap word as voorwaarde vir die individuele bestaan van die mens en dié se regte beskou,19 en gemeenskap pretendeer om betekenis aan die individu se lewe en die mens se rol in die sosiale lewe te gee.20Die gemeenskap waarbinne die strewe na gemeenskap vervul moet word, is 'n samelewingsorde sonder die staat as territoriale entiteit. Die polis-staat wat 'anderkant' die territoriale staat verrys is 'n politieke entiteit wat hiërargies-struktureel uit talle klein plaaslike gemeenskappe saamgestel is.21 Die idee van die polis-staat as ideale mikro-gemeenskap vorm bygevolg die sluitsteen van politokraties-kommunitêre regs en staatsteorieë.22

Belangrike regsfilosofiese en politologiese vraagstukke word deur die politokratiese regssosiologie en geregtigheidsdenke na vore gebring. Vir doeleindes van hierdie opstel word die aandag slegs bepaal by die vraag tot welke mate die politokraties-Aristoteliese geregtigheidsdenke as normatiewe raamwerk vir sosiale geregtigheidsvraagstukke kan dien en aan die drempel van regstaatlikheid beantwoord. Voorts word kortliks aandag aan enkele implikasies van politokratiese geregtigheidstandpute gegee. Dié implikasies hou direk verband met Aristoteles se organismiese staatsteleologie, sy biopolitiese siening van menslike waardigheid en die kollektivistiese inslag van sy publieke geregtigheids-benadering. Dit betrek aspekte van die staatlike versorging van die publieke belang (salus publica), die kompetensiebeperkings van die materiële staatlike regsterreine en die pluriformiteit van staatlike en nie-staatlike regskompetensies, sowel as die normatiewe eise van menslike waardigheid en die verrekening daarvan as rigtinggewende regsbeginsel. Vir doeleindes van hierdie bespreking word staatlike geregtigheid oorweeg as synde publieke verbandsgeregtigheid gerig op die regstaatlike versorging van die salus publica, met verrekening van die prinsipiële eise van materiële staatlike regsterreine en die eerbiediging van die pluriformiteit van nie-staatlike regskompetensies ter beskerming van menslike waardigheid as regulatiewe regsbeginsel.

 

2 Die Aristoteliese Geregtigheidsbegrip en die Publieke Belang

2 1 Regssosiologiese Vertrekpunte en die Staat as Publieke Regsverband

Politokratiese kommunitariërs volg 'n benadering van historistiese identifisering van die Aristoteliese gemeenskap, wat uitdrukking aan die ideaal van deugdelikheid gegee het. Historistiese staatsteorieë neig tot verselfstandiging van staatsvorme ten koste van die tipies bowe-historiese staatlike struktuurelemente en beperk die regssosiologiese horison van menslike ervaring tot 'n bepaalde manifestasie van samelewingstipes. Dit kom daarop neer dat die maatskaplike feite as synde volkome veranderlik, vloeiend en veranderlik beskou word, sonder om daarin 'n vaste a-historiese struktuur te bespeur wat self nie aan verandering onderhewig is nie. Onderskeid behoort dus gemaak te word tussen die konstante strukture, wat aan menslike samelewingsverhoudinge te grondslag lê aan die een kant, én die veranderlike, wisselende vorme, wat hierdie verhoudinge in die historiese ontwikkelingsproses aanneem aan die ander kant.23 Die staat neem in sy historiese ontwikkeling allerlei vorme (of gestaltes) aan wat, hoewel verskillend, nie van die struktuurtipiese aard van die staat as sodanig losgemaak kan word nie. Staatsvorme bly in hul historiese verskeidenheid steeds vorme van die staat. Die struktuurtipiese aard van die staat is die relatief konstante draer van die historiese ontwikkelingsproses waarin 'n staat allerlei veranderderlike vorme kan aanneem. Die historistiese verheffing van staatsvorme tot ideale struktuurtipes is vorme van funksionalisme, omdat dit slegs die historiese funksie van die samelewing ondersoek en die res buite beskouing laat; dit verteenwoordig wat J. Zwart noem 'een reductionistische versimpeling' van die komplekse struktuuraspekte waaraan die staat deel het.24 Historistiese staatsteorieë verhef dus vloeiende en veranderlike staatsvorme tot supra-tydelike strukture van menslike samelewingsverhoudinge. Historiese ontwikkeling van staatsvorme veronderstel struktuurtipiese elemente wat ten spyte van veranderlike vorme steeds die konstante draers van staatlike ontwikkelingsprosesse is. A. Fives reageer soos volg op die relativistiese onderbou van politokratiese teorieë in dié verband: '... MacIntyre is left with the familiar problem of relativism or perspectivism: that is, if reason discovers first principles only within traditions, then there can be no way to determine what is to count as a good reason to choose one tradition over the other'.25 Politokratiese kommunitarisme behoef dus 'n normatiewe regssosiologiese samelewingsvisie wat dié relativistiese implikasie kan ondervang.

Tereg toon Schuyt aan dat die regssosiologie géén hulpwetenskap van die regswetenskap is nie, maar tot die terrein van die algemene sosiologie behoort en op eiesoortige wyse reg en maatskaplike verskynsels ondersoek.26 Die analise van die onderskeie regsterreine van die menslike samelewing behoort te geskied aan die hand van 'n wysgerig-sosiologiese ondersoek na die aard van die verskeidenheid menslike samelewingsverbande. Vir sover menslike samelewing-strukture 'n pluriforme eiesoortigheid weerspieël, samelewingstrukture op eiesoortige struktuurbeginsels berus en op eiesoortige wyse in die menslike samelewing funksioneer, word 'n wetenskaplike analise van die kwalifiserend-eiesoortige aspekte van samelewingsverbande behoef ten einde tot die unieke aard en funksie van elke samelewingstruktuur deur te dring.27 In verskillende wetenskaplike tradisies word die gevare van postulering van 'n valse dilemma tussen atomistiese (indivi-dualistiese) en holistiese (universalistiese) geregtigheidsbenaderings ingesien. Om dié dilemma van atomisme (individualisme) en holisme (universalisme) te oorkom word erken dat die identifisering van die eie aard van onderskeie samelewingsvorme die sluitsteen van 'n a-relativistiese regstaatparadigma behoort te wees. Dié insig is aanwesig by verskillende prominente outeurs in die veld van die publieke geregtigheidsteorie. John Rawls skryf byvoorbeeld dat 'it seems natural to suppose that the distinctive character and autonomy of the various elements of society requires that, within some sphere, they act from their own principles designed to fit their peculiar nature'.28 Jürgen Habermas verwys na 'citizens within their own private spheres of life'.29 Hy maak melding van 'differentiated forms of life'.30 In sy uitgebreide werk oor kommunikatiewe handelinge praat hy eksplisiet van die 'own laws' van 'specific social spheres' wat in die menslike ervaringshorison na vore kom: den sogenannten Eingesetzlichkeiten einzelen sozialer Sphären'.31 Dieselfde insig onderlê Dooyeweerd se analise van die interne struktuurtipes (of struktuurprinsipes) wat regssosiologies relevant is en 'n komplekse verskeidenheid van maatskaps en gemeenskapsfunksies na vore bring.32 Die regshistoriese ondersoek na staatsvorme bring aan die lig dat ten spyte van wisselende staatsvorme, die onderliggende struktuurprinsipes van staatlikheid egter onveranderd bly. Die onontbeerlike staatlike struktuurtipe is dié van 'n publieke regsverband wat aan die eise van handhawing van 'n ewewig en harmonie van regsbelange in die samelewing ter waarborg van publieke geregtigheid moet voldoen. Die historiese vormgewing van dié struktuurtipiese elemente van die staat vertoon 'n wye verskeidenheid staatsvorme waarvan sommiges nie in staat was om aan dit wat van Eikema Hommes die 'normatiewe benedengrens' van regstaatlikheid noem, te kon beantwoord nie.33 Staatsvorme kan op minder of meer geslaagde wyse die struktuurtipe van die staat as regstaat tot uitdrukking bring: 'Zo kan in bijvoorbeeld onze tijd de ene concrete staat een hogere realiseringsvorm van de rechtsstaatsidee zijn dan de andere, terwijl nochtans beide concrete staten binnen de grenzen van het normatieve statelijke structuur-principe vallen en dus het predicaat staat verdienen'. Voorts veronderstel dit dat 'een staat op meer of minder talrijke punten van zijn wetgeving en administratie zodanig met de zin-inhoud van de rechtsstaatidee in strijd kom, dat hij ... beneden de normatieve benedegrens zinkt, die in het structuurtype van de staat besloten ligt'.34Die gevolg is dat 'n staatsvorm dermate 'n verwronge weergawe van die normatiewe aard van die staat weerspieël dat dit tot 'n terreurorganisasie degenereer en nie die predikaat 'staat' verdien nie, of hoogstens as magstaat tipeer kan word.35

Voorts stuit die staat nie alleen op die grense van die interne publiekreg van die staat nie, maar ook op die juridiese organisasievorme van owerheidsgesag, wat aan die struktuurprinsipes van die staat gebonde bly. Derhalwe is die demokrasie byvoorbeeld 'n tipies-staatlike, politieke regeringsvorm, wat tot die terrein van die staat se kernfunksies behoort. Die toepassing van dié politieke beginsels op nie-staatlike samelewingskringe, behels dus 'n onkritiese nivellering van die onderlinge struktuurverskille van samelewingsverbande.36

Met verwysing na die Aristoteliese polis-staat en die neerslag daarvan in politokraties-kommunitêre staatsteorieë, word oorweeg tot welke mate dié staats- en regsteorieë aan die drempel-vereistes van regstaatlikheid beantwoord. Die aspekte wat besonderlik aandag verdien is die vraag na die struktuur-eiesoortige elemente van die staat as regsverband: die eis van publieke verbandsgeregtigheid, die regstaatlike versorging van die res publica, die prinsipiële aard van materiële regsterreine, die eerbiediging van die pluriformiteit van nie-staatlike regskompetensies en die beskerming van menslike waardigheid as regulatiewe regsbeginsel.

2 2 Aristoteles se Staatsteleologie en die Publieke Belang

Die idee van die res (of salus) publica behoort aan die struktuurtipiese aard van die staat georiënteer te word ten einde te verhoed dat dit as instrument van staatsabsolutisme gebruik word of ter beliggaming van willekeurige opvattings van uitwendige staatsdoelwitte degenereer. Die salus publica-prinsipe is 'n staatlike integreringsbeginsel wat alle staatsaktiwiteite bind aan die leidende idee van publieke geregtigheid in die verhouding tussen owerheid en onderdaan. Peter Badura verwoord die noue verband tussen publieke belang en die eise van publieke geregtigheid soos volg: 'Das Gemeinwohl ist, nicht anders wie die Gerechtigkeit, eine Maxime der staatlich zu vermittelnden Rechtsidee'.37Dié prinsipe dien ter ewewigtige harmonisering van alle belange vir sover dit met die eise van die staatsgeheel vervleg is en met eerbiediging van die pluriforme eiestandigheid van nie-staatlike samelewingsterreine rekening hou.38 Die publieke belang vereis dat die beskerming van staatlike publiekreg en burgerlike privaatreg, asook die eerbiediging van nie-staatlike privaatregtelike verhoudinge wesenlike fasette van die staat se beantwoording aan die normatiewe ladings van die salus publica onder leiding van die publieke geregtigheidsidee vorm. Dit is veral die kwesbaarheid van die burgerlike privaatreg wat by die degenerasie van regstaatlikheid en die versinking van staatsvorme onder die drempel vir regstaatlikheid aandag verdien. Die wesenlike belang van die burgerlike reg vir die regstaat word deur Dooyeweerd soos volg vertolk: Degenerasie van dié reg beteken onherroeplik 'n versinking van die moderne samelewing in 'barbaarsheid en despotisme'; die burgerlike reg is 'het juridisch asyl der individuele menselijke persoonlijkheid en de burcht der individuele vrijheid. En het blijft ook onlosmakelijk verbonden met de grondslagen van het rechtsstaat en met diens publiek-rechtelijke39 verbandssfeer'. Dooyeweerd dui byvoorbeeld spesifiek aan wat die implikasies van Leon Duguit se aanvalle op die burgerlike reg is, soos dit in die strewe na sosialisering van die reg, gestalte gekry het.40 Tot welke mate beantwoord die Aristoteliese vorm van die polis-staat aan die vereistes van regstaatlikheid met besondere verwysing na die burgerlike reg?

Die Aristoteliese geregtigheidsteorie kry beslag binne die konteks van 'n teleologies-bepaalde samelewingsbeskouing: alle menslike assosiasie-vorme staan in 'n doelmatigheidsverhouding teenoor mekaar, waardeur die laere gemeenskapsvorme as afhanklike komponente op die polis-staat as hoogste samelewingsgeheel betrek word.41 Die hiërargiese opbou van die samelewing waarbinne geregtigheid as deug vergestalt word, word trapsgewys vanaf die familia tot die polis-staat as hoogste sosiale samelewingsvorm opgebou: die mees basiese samelewing-sentiteit is die familia waartoe die man as huishoof met vrou, kinders en slawe behoort - 'n entiteit wat benewens die tipiese struktuur van die gesin ook die eerste bousteen van die ekonomiese lewe vorm.42 Families word in eenhede bekend as dorpsgemeenskappe of sibbes, waarvan in vroeë tye die koning die patriarg daarvan was, saamgesnoer. Uit hierdie gemeenskappe is die poli's-staat opgebou - 'n totaalverband wat die familia en dorpsgemeenskappe as dele van die geheel omvat. Sowel die familia as die sibbe is diensbaar aan die polis:

every state is as we see a sort of partnership, and every partnership is formed with a view to some good... It is therefore evident that, while all partnerships aim at some good, the partnership that is the most supreme of all and includes all the others does so most of all, and aims at the most supreme of all goods; and this is the partnership entitled the state, the political association.43

Op die voetspoor van Plato beskou Aristoteles die staat as die volmaakte gemeenskap, die hoogste uitdrukking van menslike assosiasie en die individuele aard van die mens.44 Die staat is 'n uitdrukking van die redelik-sedelike wesensvorm van die mens en alle wetgewing moet gerig wees op die opvoeding van die burgery tot 'n deugdelike lewe in 'n omvattende sin van die woord.45 Volgens MacIntyre se universalistiese inkapseling van die individuele belange in die polis-belang:

the polis, at least the best kind of polis, is directed toward achieving all the goods of its citizens, and for human beings the highest good to be achieved, that which in an individual life is for the sake of which all other activity is undertaken, is theoria, a certain kind of contemplative understanding. The virtuous activities which enable someone to serve the polis well culminate and are perfected in an intellectual achievement which is internal to the activity of thinking.46

Bygevolg ontbreek die materiële regsbeginsels wat - soos byvoorbeeld in die Nasionaal-Sosialisme en ander vorme van staatsabsolutisme - die gelykskakeling van mag, orde en reg ter verwesenliking van willekeurige staatsdoelwitte moes verhoed. Kan staatsdoelwitte die rol van materiële staatlike struktuurbeginsels oorneem? Sosiale doelwitte kan nie die materiële regsaard van staatlike regsfunksies bepaal nie, omdat sosiale doelwitte buite die staatsstruktuur lê. Die staatsdoelwit-benadering van Aristoteles het wel belangrike implikasies vir sy siening van die publieke belang.

In die Aristoteliese regs en staatsteorie figureer die staat nie as egte res publica nie. Die staat as publiekregtelik entiteit impliseer dat daar benewens die staat se publieke belange ook private regssfere van 'n nie-staatlike aard bestaan. Reeds in sy Du contrat social (1762) bespeur Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) die noodsaak daarvan dat elke staatlike regering 'n 'republikeinse' inslag behoort te hê.47 Dit veronderstel dat die staat 'n 'publieke saak' is. Die publiekregtelike struktuur van die staat impliseer dus dat elke individuele staat, afgesien van die spesifieke vorm wat dit mag aanneem, 'n republikeinse instelling behoort te wees wat op die handhawing van die publieke belang gefokus is.48 As publiekregtelike entiteit is die staat normatief geroepe om as publieke regsverband onder leiding van 'n publieke geregtigheidsidee te funksioneer. Die geregtigheidsidee wat rigting en koers aan staatlike optrede moet gee is egter by politokratiese kommunitariërs onderhewig aan relativistiese en wisselende kriteria - dit wat MacIntyre noem die eis 'to abide by your own conventions' in die verdeling van die voorregte waarop elke persoon geregtig is.49 Voorts bepaal die staat dit waarop elkeen geregtig is. Bykomend is geregtigheid slegs van toepassing op vrye en gelyke burgers, terwyl die toekenning van burgerskap uitsluitlik 'n staatlike aangeleentheid is.

2 3 Sedelike Deug en Onderwerping aan Staatlike Wetgewing

Volgens Aristoteles is sedelike volmaaktheid slegs binne die polis-staat moontlik en die hoogste vergestalting van sedelike deug is gehoorsaamheid aan die wette van die polis. Geregtigheid in dié vorm (politokon dikaion) is 'n omvattende deug: dit omvat alle moraliteit, die staat behartig die omvattende sedelike opvoeding van die burgery en dit eis die gehoorsaming van alle geskrewe en ongeskrewe wette en etiese eise van die staat. Bygevolg beskik algemene geregtigheid nie oor 'n juridies gekwalifiseerde betekenis nie en die reg is slegs 'n middel vir die sedelike opvoeding van die mens. Voorts behels die publieke belang by Aristoteles dat die totale sedelike versorging en ontplooiing van die mens in die hande van die staat gelaat word.50 Hoewel Aristoteles ruimte laat vir die staat om slegs op homself te neem wat die burgery nie in staat is om ter vervolmaking van sigself te verrig nie, bied dit geen normatiewe begrensingsmaatstaf van die staat se kompetensieterrein nie. Hierdie kriterium - wat in die staats en regsfilosofie van Thomas Aquinas (c 1225-1274) geyk geraak het - plaas nie strukturele bevoegdheidsperke aan die staat se sedelike opvoeding van die burgery nie.51 Dié sogenaamde beginsel van 'subsidiariteit' word byvoorbeeld deur Sandel voorgehou as vryheidswaarborg vir die regsbelange van individue in die samelewing. Die feit dat die verhouding tussen die individu en die samelewing deur allerlei gedesentraliseerde vorme van 'politieke assosiaisie' bemiddel word, bevestig reeds die universalistiese oorkoepeling van alle samelewingsbelange deur staatlike politieke strukture. By afwesigheid van materiële struktuurbeginsels wat die materiële kompetensiegrense van staatlike en nie-staatlike optrede bepaal, is Sandel se 'self-government republic' ewe seer die slagoffer van Aristoteliese staatsoorwoekering.52 Dieselfde beswaar geld teen Robert Nisbet se beklemtoning van gesinstrukture, kerklike organisasies en plaaslike woonbuurte sonder om die regssosiologie prinsipes ter bepaling van die onderskeidelike kompetensieterreine van elk te bepaal.53Derhalwe is subsidiariteit op sigself onvoldoende om aan die eise van die salus publica binne die raamwerk van 'n gedifferensieerde regs en staatssosiologiese orde uitdrukking te gee: 'The principle of subsidiarity operates with the idea of relative autonomy of the various subordinate parts of society, understood as parts of the encompassing nature of the state'.54

Omdat Aristoteles nie prinsipiële perke aan die staat se juridiese taakbehartiging plaas nie, vervloei staatlike en nie-staatlike kompetensieperke tot hoër en laer doeleindes wat transpersonaal alle individuele en sosiale belange opeis wat aan die staat se etiese doelwitte ondergeskik gestel word. Die omvattende staatsbelang (in die latere regs en staatsfilosofie geformuleer as salus rei publica suprema lex) oorwoeker ander individuele en partikuliere belange:

For even if the good of the community coincides with that of the individual, it is clearly a greater and more perfect thing to achieve and preserve that of a community; for while it is desirable to secure what is good in the case of an individual, to do so in the case of a people or a state is something finer and more sublime.55

Met die oog op die verdere bespreking van Aristoteles se geregtigheidsleer en die gebrek aan staatlike kompetensiebeperkings, is die volgende aspekte van deurslaggewende belang: die polis-staat se behartiging van die algemene belang stoel op 'n staatsopvatting wat nie oor materiële regsgrense beskik nie; die publieke belang wat deur die polis-staat behartig word, sluit in die redelik-sedelike deugdelikheids-doelwitte soos deur die staatsowerheid bepaal; die menslike neiging na gemeenskap vind in die polis-staat sy doel en beperking; samelewings-vorme naas of buite die polis-staat beskik hoogstens oor gedelegeerde kompetensies wat van staatsweë vergun en herneem kan word; alle nie-staatlike lewensvorme verteenwoordig onselfgenoegsame deel-aspekte van die oorkoepelende staatsgemeenskap.56 Nisbet se standpunt dat die moderne staat 'n noodsaaklike euwel is en plaaslike gemeenskappe as bolwerke van ware vryheid dien, word tereg deur Harold afgewys:

This is false for all the reasons we have seen: Unless we know the character of the small social groups we cannot know whether they are worth preserving. The state could very well be a positive social good if it intervenes against the injustices perpetuated by smaller societies, and true freedom might, on occasion, take the unfortunate form of striving for security rather than local liberty. Nisbet, however, sees freedom one-dimensionally as the absence of state power and the proliferation of local authorities - a surprisingly negative definition from someone who supposedly upholds a positive view of freedom, but the one Nisbet is left with, since he does not get into nitty-gritty discussions of the substantive goods concrete communities pursue.57

2 4 Die Staat as Omvattende Deugdelikheidsorde

Die Aristoteliese soeke na 'n omvattende gemeenskapsbegrip waarbinne geregtigheid die sedelike deugde van die totaal-gemeenskap moet weerspieël, speel 'n deurslaggewende rol in die politokraties-kommunitêre politieke en regsdenke. Sandel onderskei byvoorbeeld tussen die 'sentimentele' en 'konstitutiewe' opvattings van gemeenskap. Die sentimentele konsepsie van gemeenskap beperk die waarde van gemeenskap tot die sentimente van voorafgaande ('antecedently') geïndividualiseerde subjekte, terwyl die konstitutiewe konsepsie die individu se selfbegrip en identiteit van die gemeenskapsbegrip maak.58Tot die mate dat die mens se konstitutiewe selfbegrip 'n groter subjek as slegs die individu alleen betrek, maak dit byvoorbeeld die Aristoteliese polis-staat konstitutief vir die identiteit van die individu.59 Wat geregtigheid in die konstitutiewe gemeenskap betref, word 'n gemeenskap van 'n bepaalde soort en op 'n bepaalde wyse georden, veronderstel, 'such that community describes its basic structure and not merely the disposition of persons within the structure'. Die geregtigheidsbegrip is van 'n transpersonale aard vir sover dit veronderstel 'not simply an attribute of certain of the participants' plans of life'.60 Die transpersonale aard van geregtigheid gaan aan die (regs) belange van individue vooraf: 'justice as fairness describes a "basic structure" or framework that is likewise distinguishable from and prior to the sentiments and dispositions of individuals within it'.61 Volgens Maclntyre beskik slegs burgers wat die deugdelike lewe in die polis ondersteun oor die vereiste rasionele insig in geregtigheid:

the rational justification of the life of virtue within the community of the polis is available only to those who already participates more or less fully in that life. The Nicomachean Ethics and the Politics should therefore be read as directed to a particular type of audience, that composed of the mature citizines of the polis. They alone will have that kind of experience which will enable them to understand the standards and values implicit in the life of any tolerably well-ordered polis, as Aristotle presents it.62

Wat word met 'goed geordende polis' bedoel? Dit wat teleologies deur die staatsowerheid nagestreef word en wat die staat in die algemene belang ag.63 Bygevolg word die redelik-sedelike deugdelikheids-oogmerke van staatdoelwitte die oortroewende oorwegings, dit bepaal die regsaard van die polis-staat; die polis-staat word van sy status as regsstaat onttroon en staatsdoelwitte neem die plek van grondliggende regsprinsipes in. Geregtigheid word aan die historiese vorm van die polis-staat ondergeskik gestel en a-juridiese staatsdoelwitte word deur middel van die reg as redelik-sedelike eise afgedwing.

Die Aristoteliese polis-staat staan midde in die antitetiese politieke en juridiese spanningsvelde: die trekkragte van rasionalisme en voluntarisme - die polis is 'n natuurlik-rasionele orde wat sy bestemming in die wilsbeslissings van die staatlike regsvormende organe vind; die staatsorde staan in die spanningsveld van regstaat en magstaat - die sintese wat uit hierdie antitese voortkom is die voluntaristiese deugdelikheidstaat wat die reg transendeer. Die staat vorm dus 'n vermeende grootste geheel in die samelewing wat alle ander lewensvorme as integrale dele omvat en alle samelewingsoptrede as staatsoptrede beskou.64 Wat is die implikasies van die Aristoteliese skroomvalligheid om konstante struktuurbeginsels te onderskei met die oog op die normatiewe oriëntasie aan sleutel-belangrike fasette van geregtigheid van 'n bowe-tydelike aard in die menslike ervaringshorison? Die antwoord op die vraag hou verband met die Aristoteliese onderskeid tussen distrubutiewe en kommutatiewe geregtigheid, publieke geregtigheid, die Aristoteliese geregtigheidsargument en die regs-kompetensies onderliggend tot die Aristoteliese polis-orde.

 

3 Aristoteles se Besondere Geregtigheidsteorie

3 1 Distributiewe en Kommutatiewe Geregtigheid en die Materiële Kompetensiebeperkings van Staatlike Mag

Aristoteles se onderskeid tussen distributiewe (publiekregtelike) geregtigheid en kommutatiewe (privaatregtelike) geregtigheid bied nie die versekering van die afbakening (en beskerming) van 'n regsterrein van individuele regte en die beskerming van die integriteit daarvan nie. Daar is met ander woorde nie voldoende kompetensiebeperkings op die materiële staatlike regsterreine wat die integriteit van private regte kan waarborg nie. Die Aristoteliese kommutatiewe geregtigheidsbegrip bevat 'n aritmetiese gelykheidskriterium ingevolge waarvan inter-individuele regsverhoudinge in die vorm van kontraktuele en deliksverhoudinge op grondslag van gelykheid beoordeel moet word. Dit impliseer egter geensins dat Aristoteles die terreine van die burgerlike en nie-burgerlike privaatreg as eiestandige regsterreine onderskei nie. Daarenteen behels distributiewe geregtigheid die verdeling van eer, ampte en uiteenlopende gemeenskapsgoedere op grond van die persoonlike hoedanighede en status van persone in die polis. Enersyds is die onderskeid tussen die publiek en privaatregtelike regsverhoudinge in die polis nie aan materiële regsgrense gebind nie. Andersyds geniet die onderskeid tussen burgerlike en nie-burgerlike regbelange in die polis nie erkenning nie. Sowel publiekregtelike as privaatregtelike belange is aan die eksterne staatsdoelwitte ter sedelike opvoeding van die burgery ondergeskik. Die mate van erkenning wat publiekregtelike en privaatregtelike belange geniet is uitgelewer aan die politieke mag waaroor die staatsowerheid beskik om beslag aan die sedelike opvoeding van die onderdane te gee. Sosiale doelwitte kan egter nie die materiële aard van publieke geregtigheidstoebedelings bepaal nie omdat die maatskaplike doel van publiekregtelike norme buite die grense van die reg lê. Wat die status en beskerming van die burgerlike en nie-burgerlike private regssfere in Aristoteles se geregtigheidsteorie betref, is die onderdane uitgelewer aan wisselende staatsdoelwitte en 'n manipuleerbare staatsetos. 'n Tipiese voorbeeld van die ongenuanseerde verrekening van die volle spektrum van regsbelange binne die staatsterritorium vind ons by Aristoteles se klem op burgerskap van die polis. Vir Aristoteles druk die status van staatsburgerskap die essensie van menslike waardigheid uit. Persone wat nie oor burgerskap van die polis beskik nie, beklee die status van diere of soortgelyke regsobjekte. Voorts is burgerskap 'n manipuleerbare statushebbendheid wat in die hande van die polis-owerheid berus. Slawe, vroue, boere en hande-arbeiders beskik byvoorbeeld nie oor burgerskap nie en geniet derhalwe nie die regstatus en beskerming wat aan polisburgers toekom nie. MacIntyre gooi dit oor die boeg van die vermoë ter identifisering en ordening van die deugdelike lewe in die polis: 'The immature are excluded from this audience, because not sufficiently experienced or disciplined in respect of their passions'.65 Publieke geregtigheid kan nie tot ontplooiing kom sonder versorging van die salus publica met verrekening van die regstaatlike eise van die erkenning en handhawing van die pluriformiteit van staatlike en nie-staatlike regskompetensies en die versekering van menslike waardigheid as regulatiewe regsbeginsel nie.

3 2 Publieke Geregtigheid as Uitdelende Geregtigheid

Is Aristoteles se geometriese gelykheidsmaatstaf voldoende om publieke geregtigheid in die staat te bewerkstellig? Die antwoord op dié vraag vereis 'n bespreking van die kriteria waarvolgens gelyke en ongelyke behandeling in die staat bepaal word en die waardes aan die hand waarvan die verdeling van ampte, eerbewyse en publieke goedere moet geskied. Aristoteles se bespreking van hierdie aspekte is vervat in sy Politica boek III saamgelees met die relevante opmerkings in boek V van sy Ethica Nicomacheia: Uitdelende geregtigheid (Bgu) impliseer vir Aristoteles sowel 'n deug ('political good') as 'n vorm van gelykheid.66

Gelykheid dui op die wyse van verdeling van ampte, eerbewyse en goedere deur die staatlike owerheid aan die onderdane binne die polis.67Meer spesifiek behels die wyse van verdeling dat daardie onderdane wat gelykwaardig geag word gelyke ampte, eerbewyse en materiële voordele behoort te ontvang, terwyl diegene wat ongelyk is, ongelyke dele behoort te kry. Dié maatstaf is doelmatig bepaal vir sover sommige onderdane aanspraak maak op gelyke behandeling, terwyl 'n ander groep die basis vir regverdige verdeling in die ongelyke behandeling van ongelykes vind.68 Volgens Aristoteles is hierdie meningsverskil toe te skryf aan die menslike sug na eie gewin (pleonexia) en die feit dat elke individu regter in sy eie saak wil wees. Die subjektiewe menings van die onderskeie groepe kan egter geen basis vir Bgu wees nie: die vrye burgers redeneer immers dat hul gelyk is vir sover hulle 'n gelyke vryheid deelagtig is; daarteenoor is die welgestelde burgers van oordeel dat rykdom bepalend is vir die vraag of persone gelyk is al dan nie. In sy Politica formuleer Aristoteles die gelykheidsprobleem onderliggend tot Bgu soos volg: 'But there still remains a question: equality or inequality of what?'.69Derhalwe moet Aristoteles alle relevante faktore identifiseer wat vir die beantwoording van die gelykheidsvraag in die polis relevant is.70Aristoteles gebruik die metafoor van die fluitspeler om aan te dui welke kriteria relevant (en irrelevant) met die oog op verdeling van 'n musiekinstrument sal wees. Omdat goeie afstamming geen bydrae tot uitmuntende fluitspel lewer nie, behoort die beste fluit aan die beste fluitspeler gegee te word.71 Selfs adellike afkoms kan nie kompenseer vir minderwaardige fluitspel nie;72 net so min as wat atletiekprestasies deur politieke eerbewyse beloon kan word. Die voorbeelde van sowel fluitspel as atletiekprestasies resorteer egter buite die domein van publiekregtelike verdelings. Hoe sou die kriteria vir verdeling op die méér komplekse terrein van publieke geregtigheid daar uitsien? Die kriteria wat Aristoteles in dié verband identifiseer sien soos volg daaruit:

(a) Geregtigheid behels die gelyke behandeling van gelykes en ongelyke behandeling van ongelykes.

(b) Die waardeskaal waarvolgens verdeling behoort te geskied, behoort te onderskei tussen twee kategorieë van waardes:

(1) Waardes wat noodsaaklik is vir die bestaan van die polis: afkoms (O), rykdom (M) en vryheid (Y), sodat O, M en Y by publiekregtelik verdelings in aanmerking geneem moet word in plaas van atletiese vermoëns en fluitsspel.

(11) Waardes (of eienskappe) wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van die polis: één daarvan is politieke deugdelikheid (PD).73

Teenoor fluitspel is M 'n essensiële (konstitutiewe) politieke waarde, terwyl PD op sy beurt 'n bydrae tot goeie regering van die polis lewer. Hoewel fluitspel nie met M uitruilbaar is nie, is sowel M as PD relevante politieke waardes in die polis en dus wel uitruilbaar. Die kriteria vir meriete (axia) met die oog op publiekregtelike toebedelings sluit dus sowel die waardes van (b)(i) as (b)(ii) in - sowel noodsaaklike politieke waardes as voldoende politieke waardes is vir juridiese verdelings relevant. Dit behels voorts dat uiteenlopende politieke voortreflikhede vergelykbaar (uitruilbaar) is. Die vraag word nou verplaas na die vraag oor hoe 'n bepaalde hoeveelheid van M of Y met 'n sekere kwantum van PD vergelyk kan word. Aristoteles se standpunt behels dat indien Bgu 'n 'gelykheid van verhoudinge' ten grondslag het, en indien so 'n geometriese gelykheid nie verwesenlik kan word tensy die verskillende waardes (wat bydrae tot gemeenskaplike welvaart) vergelykbaar is nie, dan sou die standpunt van die onvergelykbaarheid van die verskillend kategorieë waardes lei tot die ontkenning van die gelykheidsubstraat onderliggend tot Bgu. Deur die twee groepe waardes van die onderskeie belangegroepe in die staat met mekaar te vergelyk, tref Aristoteles 'n kompromie tussen die botsende belangegroepe in die staat. Derhalwe kan die faktore wat volgens die onderskeie groepe in die staat vorme van voortreflikheid verteenwoordig, by publiekregtelike toebedelings deur Aristoteles verreken word en die diverse belange (heterogeniteit) in die polis vir regsdoeleindes verreken word om politieke harmonie te bewerkstellig. Hoewel die rykes benewens hul rykdom ook vry en deugdelik mag wees en die polities-deugdelikes ook oor M en Y mag beskik, is die geometriese gelykheid van Bgu veronderstel om politieke harmonie in die staat te bewerkstellig. Die oogmerk van Aristoteles se Bgu-maatstaf is die behoud van orde in die polis - om die onderskeie aansprake op O, M, Y en PD tot politieke harmonie te bring.74 Ter behoud van die polis word sowel O, M, Y en PD vereis hoewel dié 'voortreflikhede' tot verskillende kategorieë behoort. Ál hierdie voortreflikhede word egter in 'n bepaalde verhouding vereis. Voorts vereis die pragmatiek van die politieke lewe dat op die tyd en plekgebonde voortreflikhede wat vir polis-burgers relevant (en belangrik) is gelet moet word wanneer staatlike ampte, eerbewyse en publieke goedere verdeel word.

Die maatstawwe waaraan publieke geregtigheid moet voldoen, het nie betrekking op die juridiese struktuurprinsipes van staatwees as sodanig nie. Die onderskeie kategorieë van maatstawwe word uit die terrein van politieke konflik na die terrein van die reg verplant. Daarom verwys Sandel deurgaans na Aristoteles se geregtigheidsmodel as 'political conceptions of justice'75 en volgens MacIntyre 'failure (of justice) in one is failure in the other' samelewingsvorme.76 Die vorm wat geregtigheid in die staat anneem, is formalisties en kontingent; dit is afhanklik van die aard van politieke oorwegings wat op 'n gegewe moment in 'n bepaalde staatsvorm relevant mag wees. Voorts beteken dit dat 'minderheidsgroepe' wat oor een of méér van die genoemde kategorieë 'voortreflikhede' beskik, aan die oorwoekerende 'voortreflikheid' van meerderheidsgroepe uitgelewer is. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat 'n minderheidsgroep vir politieke doeleindes oor so min 'voortreflikheid' beskik dat by verdeling van beperkte hoeveelhede publieke goedere, hul geen aanspraak op voordele (of bykans geen voordele) sou hê nie. Wiskundige berekenings om politieke konflik te besweer bied nog geen kriteria wat die staatstruktuur aan bowe-tydelike prinsipes met universele gelding bind nie.77 Voorts kan die geometriese uitruilbaarheid van kriteria van pragmatiese aard ernstige gevolge vir die menswaardigheid van bepaalde groepe in die staatslewe hê. Die mees ingrypende implikasies van wetgewing met die oog op bevordering van 'n deugdelikheidsideologie, die oorwoekering van herkoms teenoor persoonlike vryheid, die pragmatiese integrasie van hierdie 'voortreflikhede' op grond van relevante politieke oorwegings en die afdwinging daarvan deur die reg blyk uit die Nazi-wetgewing wat hier onder kortliks aan die orde gestel word - tasbare implikasies vir regsordes wat die weg van die Aristoteliese polis-staat bewandel. Daarbenewens moet in aanmerking geneem word dat slegs polis-burgers toegang tot Bgu geniet en dat vreemdelinge, slawe en ander kategorieë van nie-burgers nie toegang tot Bgu had nie. Die groteske regs en politieke implikasies daarvan word verhoog na mate die Aristoteliese Bgu-maatstawwe as vorme van 'beloning' vir die 'voortreflikhede' van die staatlike burgery beskou word. Michael Sandel verklaar byvoorbeeld onomwonde dat geregtigheid nie vir alle persone binne die staatsdomein geld nie, maar as beloning 'verdien' moet word.78 Dit impliseer dat nie-burgers en kategorieë van minderheidsgroepe volgens die mening van die staat oor onvoldoende 'voortreflikheid' mag beskik om beloon te word. Die hoofrede waarom politokratiese kommunitariërs 'n geslote oog op die implikasies van Aristoteles se Bgu-maatstawwe nahou, spruit waarskynlik uit die buite-konteks metaforiese toepassing van die meriete van die fluitspeler op die terrein van publieke geregtigheid, sonder verrekening van die volle lading van Aristoteles se Bgu-argument in sy politieke en etiese hoofwerke.

3 3 Geregtigheid en die Pluriformiteit van Regskompetensies in die Aristoteliese Polis-orde

3 3 1 Gelykheid, Vryheid en die Burgerlike Privaatreg

In die Aristoteliese regsteorie word regstatus en die regsposisie van onderdane in 'n individuele en sosiale hoedanigheid volgens 'n biopolities-sedelike maatstaf bepaal. Die biopolitiese onderbou van sy religious-etiese denke het in twintigste eeuse absolutistiese benaderings tot menslike waardigheid na vore gekom en sy meegaande publieke geregtigheidsbegrip is aangegryp om growwe publieke onreg te legitimeer en menslike waardigheid in terme van biopolitiese doelwitte te relativeer. Dié implikasies het veral in die twintigste eeuse Nasionaal-Soisialistiese staatsdenke tot ontluiking gekom:

This Aristotelian idea of the state was the philosophical expression of the ancient Greek popular conviction. ... It was very much like the idea of the totalitarian state as recently taken up by Facism and National-Socialism, although here the idea is no longer based on a so-called "metaphysical" order of reason, but is oriented irrationally to the community feeling of the people.79

Waarom tref Dooyerweerd 'n noue verband tussen die Aristoteliese polis-staat en Nasionaal-Sosialistiese magstaatpraktyke en wat is die implikasies daarvan vir menslike waardigheid?

In die Aristoteliese polis beskik slawe, vroue, boere en hande-arbeiders vir politieke en geregtigheidsdoeleindes oor mindere waarde en belang. Tesame met die gebrek aan erkenning van regte wat teenoor die polis-staat afdwingbaar is, die eksklusiewe beskouing van burgerskap en die gebrek aan staatlike kompetensiebeperkings, is van sowel menseregte as die klassieke grondregte in die Aristoteliese regsteorie geen sprake nie.80Voorts maak Aristoteles nie voorsiening vir die beskerming van die individu as staatsdoel nie. Die universele sedelike belange van die staatsorde fnuik die effektiewe beskerming van die individu teen staatsoptrede.81 Die Aristoteliese polis-staat gaan eerstens mank aan 'n ontslote en verfynde juridiese integreringsnorm met die oog op die versorging van 'n openbare regsorde wat beantwoord aan die eise van publieke verbandsgeregtigheid. Dit impliseer dat die staat oor die normatiewe taak ter handhawing van ewewig en harmonie in die veelheid van regsbelange in ooreenstemming met die staat as publieke regsentiteit behoort te beskik. Die staat se versorging van die salus publica (publieke welsyn) ontleen sy tipiese aard aan die staat se regstaatlike inslag. Kommunitêre regsteorieë ontleen egter hul staats en regsgrondslae aan die Aristoteliese biopolitieke polis-orde. Bygevolg ontbreek die staatlike verbandsregtelike kwalifikasie in hul regsfilosofiese teorieë. 'n Belangrike implikasie van dié gebrek aan juridiese onderskeiding is die afwesigheid van burgerlik-privaatregtelike belange wat - soos hierbo aangetoon - neweskikkende regsverhoudinge tussen individue orden, afgesien van die a-juridiese vorme waarvolgens nie-staatlike samelewingstrukture funksioneer. Die burgerlike privaatreg as keersy van sowel die nie-burgerlike privaatreg as die publieke verbandsreg van die staat vereis die beskerming van die juridiese persoonlikheidswaarde van regsubjekte ongeag taalverskille, rasverskille, geloofsverskille, ekonomiese verskille en so meer. Dooyeweerd beskryf die grondliggende aard van burgerlike privaatreg in die volgende terme: 'Civil private law, in its nature, constitutes the juridical asylum of the human personality, the stronghold of individual freedom and as such it is destined to provide a beneficial counter balance against the excessive pressure of communal demands within legal life'.82 Die burgerlike privaatreg behoort dus regsvoorsiening te maak vir elkeen wat op die staat se territorium aanwesig is ongeag die sosiaal-gedifferensieerde veelheid van verbintenisse wat individue mag hê, en die regulering van individuele optrede wat op grondslag van vryheid en gelykheid naas en teenoor mekaar te staan kom.83

3 3 2 Die Organismiese Staat en Menslike Waardigheid

Die staat as 'natuurlike' verband en 'organiese' gemeenskap figureer prominent in politokratiese kommunitarisme.84 Die ongedifferensieerde organiese polis-orde laat nie ruimte vir 'n ontslote uitsig op burgerlike vryheid en gelykheid volgens die eise van publieke geregtigheid nie, menslike waardigheid geniet nie die juridiese beskerming wat die staat as publieke regshandhawer veronderstel is om aan alle ingesetenes te bied nie en laat ruimte vir staatlike ingrepe vir biologiese en godsdienstige redes in die interne kompetensiesfere van nie-staatlike samelewingsinstellings: volgens Aristoteles se redelik-sedelike religieuse maatstawwe bepaal die staat die posisie van mense in die samelewing;85mans is verhewe bo vroue;86 vroue beskik oor in bepaalde opsigte dieselfde status as slawe;87 die staat beskik oor die kompetensie van gedwonge aborsie waar staatsgoedgekeurde geboortes oorskry word en misvormde kinders moet gedood word;88 fundamentele grondregte geniet geen erkenning in die polis-staat nie89 'barbare' en slawe beskik nie oor betekenisvolle vryheid nie;90 landbouers beskik oor dieselfde status as slawe;91 onderwys is gerig op die verwesenliking van politieke oogmerke en alle onderwys word deur die staat beheer;92 die staat bepaal die status en posisie van mense in die staatshuishouding;93 die huwelikslewe is onderhewig aan regulering van owerheidsweë ten einde bioties aanvaarbare nakomelinge te verwek,94 vir welke doeleindes toesighouers aangestel moet word om as 'inspekteurs van kinders' op te tree;95 sommige mense is van nature bestem om aan andere onderworpe te wees96 en die staatsgodsdiens moet ter wille van die voortbestaan van die staat gehandhaaf word.

Is die politokraties-kommunitêre strewe na gemeenskap voldoende waarborg vir 'n regverdige staatsorde? Nee. Omdat die modale integriteit van die reg en die regssosiologiese onderbou van politokratiese kommunitarisme aan materiële struktuurprinsipes mank gaan en diensbaarheid van die reg aan buite-juridiese oorwegings wesenlike gevare is. Die materiële regstaatlike gebreke van politokratiese kommunitarisme is analoog aan dié van die Nasionaal-Sosialistiese regime in die twintigste eeu. Verwringing van die reg en instrumentalistiese aanwending van ongenormeerde mag in die gedaante van reg, volgens die Aristoteliese geregtigheidsdenke, is geen hersenskimme nie. Die groteske implikasies van eksterne staatsdoelwitte wat op grond van hoër sedelike motiewe in die staatsorde beslag kry, het navolging in totalitêre staatsordes - waarskynlik vir Aristoteles onvoorsiens - gehad. Regsstandaarde is onderhewig gestel aan eksterne staatsoogmerke. In Hans Frank se Nationalsozialistisches Handbuch für Recht und Gesetzgebung (1935) is dit juis die vertolking wat aan Aristoteles se beskouing van die mens as 'politieke dier' (zoon politokon) geheg word:

Man vergasz, dasz schon Aristoteles den menschen als ein "Zoon politicon" bezeignet hattem das heiszt als ein Wesen, das nicht in seiner Vereinzelung allein denkbar ist, sondern das erst dann entfaltbar und erklärbar ist, wenn man es, in den Rahmen des Gemeinschaft hineingestellt, betrachtet und erklärt.97

Tydens die Nasionaal-Sosialistiese regime in Duitsland is wetgewing -deels met beroep op Aristoteles se regsfilosofie - aanvaar en deur regsteoretici uit dié kringe regverdig. Met 'n beroep op Aristoteles se minderwaardige beeld van vroue, verklaar Alfred Rosenberg - 'n vooraanstaande denker ter ondersteuning van dié indertydse regime -oor die minderwaardige karakter van vroue: 'Das Weibchen ist Weib kraft einer gewissen Fähigkeitslosigkeit'. Hy vervolg:

Die fähigkeitslosigkeit ist die Folge des auf das Pflanzenhafte und auf das Subjektive gerichteten Wesens. Es fehlt der Frau aller Rassen und Zeiten die Gewalt einer sowohl intuitiven als geistigen Zuzammenschau: überall da, wo ein mythische weltgestaltung, ein groszes Epos oder Drama, eine dem Kosmos nachforschende wissenschaftliche Hypothese in der Weltgeschichte auftauscht, steht ein Mann als Schöpfer dahinter ... und ein männlicher Geist ist es überall, der gegen das Chaos eine Weltordnung gebiert.98

In die regspraktyk het die Gesetz zur erhütung erbkranken Nachwuchses (van 14 Julie 1933) het vir sterilisasie van misdadigers voorsiening gemaak ten einde 'ungesunden und unheilbar kranken kindern' te verhoed; die Gesetz gegen Missbräuche bei der Eheschliessung und Annahme an Kinder Staat (van 23 November 1933) het bepaal dat huwelike nietig verklaar kon word indien dit nie met die oog op die belang van die gemeenskap gesluit is nie, maar vir persoonlike voordeel; die Gesetz zur Verminderung der Arbeitslosigkeit (van 1 Junie 1933) het finansiële ondersteuning van bioties 'gesonde' egpare gemagtig, en die Gesetz über den Ausbau der Standesämpter zu Zippenämptern het bepaal dat die bloedsuiwerheid van elke sibbe met die oog op versekering van die 'wichtigsten erbgesundheitlichen Feststellung' ... bepaal moes word.99

3 3 3 Bemiddelende Groepe en die Valse Dilemma

Is dit moontlik om die 'territoriale staat' as publieke regshandhawer uit te skakel? Tereg verklaar Harold dat 'n regssosiologiese ondersoek na die strukturele voorwaardes vir handhawing van 'n publieke regsorde nie die staat as regsentiteit wat publieke geregtigheid moet verseker, kan ontbeer nie:

take away the state and you are left with mediating institutions which no longer mediate anything to anyone. They then become the new state, the new final authority which on principle must be destroyed for freedom to arise. In the end there would be no logical stopping point at which the condemnation of authority would cease.100

Die opvatting van sommige kommunitariërs dat bemiddelende groepe wat onderling in kompetisie tot mekaar staan, die beste waarborg teen magsmisbruik is, is slegs moontlik indien 'n meganisme (die staat) bestaan om konflik te verhoed. Die valse dilemma waarop Nisbet en andere se regssosiologiese standpunte berus, lê opgesluit in die keuse wat hul tussen plaaslike gemeenskappe en die staat as regshandhawer afdwing: 'In its general form, this is a false conclusion, because it can never be a question of giving precedence to one of the terms of the relation or of choosing between alternatives'.101

 

4 Konklusie

Beantwoord die Aristoteliese geregtigheidsmodel aan die drempelgrens van regstaatlike geregtigheid? Immanent-krities beoordeel, skuil 'n wesenlike teenstrydigheid in politokratiese kommunitarisme. Enersyds word betoog vir die uitskakeling van die staat, in die plek waarvan 'n verskeidenheid van 'tuistelike gemeenskappe' moet tree; andersyds word van subsidiariteit as staatlike delegasienorm melding gemaak en die beginsel van 'korreksie' deur die staat as politieke owerheid vir onreg wat deur (en binne) tuistelike gemeenskappe gepleeg word. In die lig van Harold se opmerkings is die vraag of die weerstand van kommunitariërs teen die staat as sodanig nie misplaas is nie. Behoort die kritiek nie teen die totalitêre onregstaat as sodanig te wees nie? Voorts sinspeel Harold daarop dat 'n normatief sterk geregtigheidsbenadering 'n belangrike troef teen sentralisering van staatlike mag is. Die vraag is nou tot welke mate 'n materiële geregtigheidsparadigma by politokratiese kommunitariërs aanwesig is en binne die praktiese regslewe gestalte ter die versorging van die publieke belang kan kry.

Politokratiese kommunitarisme bly in gebreke om die juridies-relevante fasette van Aristoteliese biopolitiese deugdelikheid as politieke integreringsnorm aan te dui. Voorts is deug geen begin-sel aan die hand waarvan die regsorde integraal saamgesnoer behoort word nie. Deug is hoogstens 'n end-sel oftewel 'n aksiale oordeel wat gefel word na aanleiding van die vraag of 'n bepaalde handeling in ooreenstemming met die sinsinhoud van die sedelike is. Die Christen sal die vraag byvoorbeeld met verwysing na die sentrale liefdesgebod beantwoord, die Nasionaal-Sosialis met verwysing na die biopolitiese sug na Ariese meerderwaardigheid en die Aristoteliaan deur 'n biopolities-organiese gemeenskapsnorm aan te lê. Regstaatlik behoort die staat egter op die terrein van die sedelike met uiterste terughoudendheid op te tree omdat 'n egte regstaat sigself nie met die vermeende onsedelike gedrag van die onderdane as sodanig behoort te bemoei nie. Sedelike opvoeding en bekamping van onsedelikheid lê nie primêr op die terrein van die staat se juridiese kompetensies nie omdat dit nie primêr tot die struktuureise van die staat behoort nie en dit die persoonlike verantwoordelikheid van staatsonderdane geweld aandoen. Die staat as regstaat mag nie as sedemeester op die sedelike lewe van sy onderdane toesig hou nie. Die staat behoort aan die eise van regstaatlike belangebehartiging ter versekering van publieke geregtigheid in die publieke belang op te tree. As regshandhawer is die regstaat slegs marginaal met die sedelike lewe van sy onderdane gemoeid, naamlik slegs wanneer en vir sover die publieke regsorde in gedrang kom.

Bo en behalwe hierdie strukturele eis aan die regstaat, vereis regstaatlike geregtigheid dat die pluriforme konstitutiewe regsbeginsels onderliggend aan die regstaat gehandhaaf word wat vir die onderlinge regsgebiede onmisbaar is. Dít sluit in die burgerregtelike beginsels van vryheid en gelykheid, die staatlike verteenwoordigingsbeginsel enso-meer. Die hiërargiese samelewingsorde wat die kompetensiegebied van politokratiese kommunitarisme uitmaak, maak nie vir die verrekening van hierdie beginsels voorsiening nie. Die ontkenning van vryheid en gelykheid as materiële burgerlik-privaatregtelike ordeningsbeginsels reduseer die terrein van die burgerlike privaatreg tot dié van die domein van owerheidsbemoeiing en outoritarisme.

Die versorging van die publieke belang geskied voorts sonder verrekening van die pluriforme verskeidenheid van eiesoortige same-lewingsterreine wat struktureel elk oor nie-burgerlike privaatregtelike kompetensies beskik. Elke nie-staatlike samelewingsverband ontvang 'subsidiêr' gedelegeerde kompetensies wat voorts deur 'korreksie' volgens staatspolitieke doelwitte ingeklee kan word.102

Publieke verbandsgeregtigheid vereis dat die staat om regstaat te wees, aan al die materieël-strukturele eise van die staat as regsentiteit ter versorging van die publieke belang moet beantwoord. Die verwatering van regstaatlikheid in die politokraties-kommunitêre benadering bring meteen die idee van publieke verbandsgeregtigheid in gedrang, dit sny die menswaardige behandeling van onderdane by die wortel af en bevorder politieke bevoordeling as primêre staatsdoelwit. Bygevolg bly politokratiese kommunitarisme in gebreke om menswaardigheid as regulatiewe norm beslag te gee. Waarskynlik is die belangrikste les wat uit politokraties-kommunitêre diskoerse geleer kan word, dat bloot formele beroepe op 'deugdelikheid' en 'gemeenskap' by verre nie voldoende is om aan die eise van publieke verbandsgeregtigheid te voldoen nie. Vir sover politokratiese kommunitarisme van die grondliggende vereistes van publieke verbandsgeregtigheid afwyk beantwoord dit nie aan die normatiewe drempel wat vir die bestaan van 'n regstaat vereis word nie.

 

 

1 My dank aan Danie Strauss vir insiggewende kommentaar oor die wysgerige grondidees van eietydse kommunitêre geregtigheidsparadigmas.
2 Sandel Liberalism and the Limits of Justice (1983) 174 & 183; Knight 'Aristotelianism versus Communitarianism' 2005 Analyse und Kritik 259.         [ Links ]
3 Sien b.v. Malan Politokrasie. 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop (2011); Goosen Oor Gemeenskap en Plek. Anderkant die onbehae (2015).
4 Nisbet Community and Power (1962); Nisbet Tradition and Revolt (1968); Nisbet History of the Idea of Progress (1980).
5 Sandel Justice. What's the Right Thing to do? (2009).
6 MacIntyre After Virtue (1984); MacIntyre Marxism and Christianity (1995); MacIntyre Ethics and Politics II (2007).
7 Sien Malan ''n Kritiese evaluering van menseregte as eietydse globale politiek-juridiese verskynsel' 2003 Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) 94-111;         [ Links ] Malan 'Die brose wisselwerking tussen die (reg op) eierigting en die (falende staat)' 2007 TGW 119-134.         [ Links ]
8 Goosen 'Demonisering en Demokrasie' 2007 TGW 142-154;         [ Links ] Goosen 'Oor die Republikeinse Gedagte. 'n Oefening in Herinnering' 2010 Historia 182203;         [ Links ] Goosen 'Die Teoretiese Lewe. Perspektiewe vanuit die Tradisie' 2011 TGW 490-506;         [ Links ] Goosen 'Oor die Geestelike' 2012 TGW 707-718;         [ Links ] Goosen 'Politieke Denke en Praktyke; boekbespreking van Koos Malan, Politokrasie (PULP))' 2012 TGW 761-764;         [ Links ] Goosen 'Monsters en Mense: Oor die geestelike en haar moderne afwesigheid' 2013 TGW 515-529;         [ Links ] Goosen Oor Gemeekskap en Plek (2015).
9 Malan supra n 3 op 169.
10 Ibid.
11 Idem 280 ev.
12 Sien b.v. Goosen supra n 3 op 132, 227 & 317.
13 Hy doen 'n beroep op Knight ('n ondersteuner van MacIntyre): 'Liberal politics presupposes the authority of the state, and the first task of liberal political philosophy is, logically, that of justifying the state's claim to authority as the political actor' (Goosen supra n 3 op 317).
14 Idem 289. Soos Gadamer (Wahrheit und Methode (1975) 265) tereg aantoon is die betiteling van 'n enkele filosofiese stroming as die 'Tradisie' hoogs betwyfelbaar.
15 Sien Malan supra n 3 op 156; en Goosen Die Nihilisme: notas oor ons tyd (2007) 83, 203, 327, 435 & 437; Goosen supra n 3 op 42, 67-68, 112, 132, 203, 227, 309, 315, 317 & 420.
16 Nisbet The Quest for Community (1953) 175; Sandel supra n 2 op 173; Sandel supra n 5 op 9-12, 186-188 & 244-269; MacIntyre Whose Justice? Which Rationality? (2008) 31-32.
17 Transpersonale regs en staatsteorieë hou direk verband met die regsfilosofiese weerstand teen die individualisties-nominalistiese opvatting van menslike vryheid en individuele outonomie van die Verligtingsdenke.
18 Sien b.v. Goosen supra n 15 op 37 en Goosen supra n 3 op 34 & 37.
19 Goosen supra n 3 op 33.
20 Sien Goosen supra n 15 op 42 & 64. Die gemeenskapsomsluitende effek van die historiese gemeenskapsidee word soos volg verwoord: 'Vroeër het gemeenskappe my nie net besit nie. Hulle het my ook in staat gestel om hoegenaamd enige keuse - ook oor wat ek kan besit - uit te oefen'.
21 Malan supra n 3 op 126, 228, 276-278 & 280.
22 Idem 276: 'Die begrip politokrasie is ontleen aan die Klassieke Griekse begrip polis - die stadstaat'. Dit neem kennis van die denke van die Klassieke Griekse politiek en heg 'besondere waarde aan die aspekte van veral Aristoteles se denke'.
23 Zwart 'Over waardevrije sociologie, normatieve sociologie en hulpbehoevende rechtsfilosofie' 1987 Philosophia Reformata (Phil Ref) 71.         [ Links ]
24 Idem 70.
25 Fives 'Aristotle's ethics and contemporary political philosophy: virtue and the human good' 2006 Twenty First Century Society 212.         [ Links ]
26 Schuyt 'Discussie' 1975 Rechtsphilosophie en Rechtstheorie. Orgaan van de Vereniging voor Wijsbegeerte van het Recht 29.
27 Sien Dooyeweerd De Wijsbegeerte der Wetsidee III (1935/1936) 550 oor die individualiteitstrukture synde die tipiese strukture van konkrete dinge, gebeurtenisse, handelinge en samelewingsverhoudinge wat binne alle aspekte van ons ervaringswêreld op tipiese wyse fungeer en hierdie aspekfunksies tot 'n tipiese struktuureenheid verbind.
28 Rawls Political Liberalism (1996) 262.
29 Habermas The Postcolonial Constellation. Political essays (2001) 8 & 81.
30 Idem 82.
31 Habermas Theorie des kommunikativen Handelns II (1995) 437.
32 Dat Dooyeweerd se insigte in dié verband méér aandag verdien, is beklemtoon deur Stellinga Grondtrekken van het Nederlands Staatsrecht (1953) 1 & n 3; Couwenburg De Omstreden Staat (1974) 37; en Hommes De grenzen van de rechtsmacht van de staat (1975) 17 & n 3.
33 Hommes De Wijsgerige Grondslagen van de Rechtssociologie (1986) 109.
34 Ibid.
35 Idem 110.
36 Sien Dooyeweerd De Crisis in de Humanistische Staatsleer in het Licht eener Calvinistische Kosmologie en Kennisleer (1931) 150-155; Mekkes Proeve eener critische beschouwing van de ontwikkeling der humanistische rechtsstaatstheorien (1940) 617-618.
37 Badura 'Die Tarifautonomie im Spannungsfeld' 1979 Archiv für öffentliches Recht 259.
38 Sien Dooyeweerd A New Critique of Theoretical Thought III (1969) 446; Dooyeweerd Verkenningen in de Wijsbegeerte, de Sociologie en de Rechtsgeschiedenis (1962) 128.
39 Zwart 'De Staatsleer van Herman Dooyeweerd' 1980 Phil Ref 132.
40 Ibid.
41 Mekkes supra n 36 op 59; Pretorius Die Begrip Openbare Belang en Burgervryheidsbeperking (LLD proefskrif UFS 1986) 9.
42 Nagle The Household as the Foundation of Aristotle's Polis (2006).
43 Aristoteles The Politics (1921) I 1 1 1-8 (1252a-b).
44 Aristoteles Ethica Nicomachea (1925) I ii (1094a-b).
45 Aristoteles supra n 43 op I i (1252a). Kyk ook Barker The Political Thought of Plato and Aristotle (1955) 102, 111, 133, 207, 324 & 521.
46 MacIntyre supra n 16 op 107.
47 Rousseau Du contrat social (1762) 259.
48 Strauss 'Prinsipiële Besinning oor die Regstaat' in Landman (red) Christelike Geloof en Politiek (1998) 96-97.
49 MacIntyre supra n 16 op 121.
50 Aristoteles supra n 43 op I i (1252a-b). Individue is die materie waaruit die staat opgebou is.
51 Strauss 'The Transition from Greco-Roman and Medieval to Modern Political Theories' 2007 Politikon 58.         [ Links ]
52 Sandel Democracy's Discontent (1998) 27.
53 Nisebet supra n 16 op 175.
54 Strauss 'Sphere sovereignty, solidarity and subsidiarity' 2013 Tydskrif vir Christelike Wetenskap 93.         [ Links ]
55 Aristoteles supra n 44 op I ii (1094b).
56 Pretorius supra n 41 op 13.
57 Harold 'Robert Nisbet's Visible and Invisible Communities' 2010 The Catholic Social Science Review 184.         [ Links ]
58 Sandel supra n 2 op 161.
59 Idem 172.
60 Idem 173.
61 Idem 174.
62 MacIntyre supra n 16 op 110.
63 Idem 109.
64 Aristoteles supra n 43 op I ii (1253a).
65 MacIntyre supra n 16 op 110.
66 Raath Die Juridies Wysgerige Grondslae van Vryheid en Gelykheid. Die Grieks-Romeisne Aanloop (Ma verhandeling UFS 1983) 210.         [ Links ]
67 Van der Vyver 'Die Regsleer van Aristoteles' 1962 Koers 224.
68 Raath supra n 66 op 214 n 297.
69 Idem 21 5; Aristoteles supra n 43 op III ix-xi (1281a-1282b).
70 Aristoteles supra n 43 op III vii (1279b).
71 Raath supra n 66 op 215-216.
72 Aristoteles supra n 43 op III xi-xii (1282b-1283a).
73 Aristoteles supra n 44 op V iii (1131a-b).
74 Sien Raath supra n 66 op 218.
75 Sandel supra n 52 op 20 & 22.
76 MacIntyre 'Politics, Philosophy and the Common Good' in Knight (red) The MacIntyre Reader (1998) 31.
77 De Graaff Lot en Daad, Geluk en Rede in het Griekse Denken (1957) 74-75: 'Zaken kunnen wiskundig worden gedefinieerd, maar niet personen. Met alle waardering, die het modern rechtsleven voor de subtiele determinaties op juridisch gebied van Aristoteles moge hebben, moet worden vastgesteld, dat hij het wezen der rechtvaardigheid voorbijziet... De rechtvaardigheid moet haar fundamenten in een andere, hogere orde leggen, zal zij de beperkingen, die Aristoteles haar oplegde, te boven komen'.
78 Sandel supra n 5 179 & 186-188.
79 Dooyeweerd The Christian Idea of the State (1978) 8-9.
80 Sien Van der Vyver supra n 67 op 224-260.
81 Pretorius supra n 41 op 12.
82 Strauss supra n 48 op 107.
83 Idem 110.
84 Sien b.v. Nisbet Social Change and History (1969) 8-9; Goosen supra n 3 op 11 & 67.
85 Barker supra n 45 op 428.
86 Aristoteles Historia Animalium (Hist Anim) (1910) 9.608b7; Aristoteles De Partibus Animalium (1911) 2.648a14.
87 Aristoteles Hist Anim 9.1.608a22-24.
88 Aristoteles supra n 3 op VII 16 xvi (1334b-1336a).
89 Rushdoony The Institutes of Biblical Law III (1999) 155.
90 Douma Natuurrecht - een Betrouwbare Gids? (1978) 14.
91 Barker supra n 45 op 410.
92 Idem 423.
93 Kyk b.v. Aristoteles supra n 43 op I ii-I vi (1252b-1255a).
94 Barker supra n 45 op 426.
95 Idem 431.
96 Douma supra n 90 op 36.
97 Frank Nationalsozialistisches Handbuch für Recht und Gesetzgebung (1935) 18.
98 Rosenberg Der Mythus des 20. Jahrhunderts (1936) 483.
99 Frank supra n 97 op 16.
100 Harold supra n 57 op 209.
101 Idem 185.
102 Spesifiek Malan supra n 3 op 285 se idee van 'korreksie'.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License