SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1Evidence by means of closed circuit television or similar electronic media in South Africa: Does section 158 of the Criminal Procedure Act have extraterritorial application?Military intervention in Syria: The American, British and French alternatives and the Russian option author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

De Jure

On-line version ISSN 2225-7160
Print version ISSN 1466-3597

De Jure (Pretoria) vol.48 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.17159/2225-7160/2015/V48N1A2 

ARTIKELS/ARTICLES

 

Die aanvaardingsvereiste in lewensversekeringskontrakte

 

Acceptance requirement in life insurance contracts

 

 

Rika van Zyl

LLB LLM Nagraadse Diploma in Finansiële Beplanning Lektor by Sentrum vir Finansiële Beplanningsreg, Universiteit van die Vrystaat

 

 


SUMMARY

In the South African stipulatio alteri it is a requirement that the beneficiary must accept the benefit in order for his right to vest. This is against the "privity of contract" doctrine where one may not put the beneficiary of a life insurance contract under any obligations. It seems, however, that the obligation of acceptance by the beneficiary has become set in the South African law through our old writers and legislation that failed to interpret the principle clearly and resulted in a unique application of the agreement on behalf of a third party in South Africa. A distinction must also be drawn between revocable and irrevocable life insurance contracts and the impact thereof on the acceptance by the beneficiary. The moment of acceptance by the beneficiary has important implications for the application of the rights for the beneficiary. Acceptance by the beneficiary before the death of the life insured, seems to have no effect, and no rights vest for the beneficiary. It is only after the death of the life insured that the nominated beneficiary can accept, and with this a right immediately vests in the beneficiary. The question of what the beneficiary must accept, may be seen as nugatory as this is confirmation that acceptance by the beneficiary should not be an obligation or a requirement before the right vests. Otherwise, the third party creates a right for himself by his actions, which is not the intention of a contract in favour of a third party. A look at English law might shed some light on the South African position because of the fact that they implemented a set of formal rules regarding a contract in favour of a third party. It is suggested that South Africa should also include a set of formal rules in legislation to govern the unique South African application of the stipulatio alteri.


 

 

1 Inleiding

Lewensversekering word algemeen in die praktyk gebruik. Daar is egter praktiese probleme waar 'n begunstigde in die polis benoem word om die opbrengs van die polis te ontvang in plaas daarvan dat die polishouer dit ontvang.1 Die grootste kwessie vir bespreking is die Romeins-Hollandse beginsel wat met hierdie tipe polis verband hou. Waar 'n begunstigde in 'n lewensversekeringskontrak benoem word, word die kontrak in die Suid-Afrikaanse reg gesien as 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party, oftewel 'n stipulatio alteri. Hierdie beginsel, wat van die Romeins-Hollandse gemenereg afkomstig is behels dat die promittens en die stipulans 'n ooreenkoms sluit ten einde die voordeel wat uit die kontrak voortspruit, aan 'n derde party, die begunstigde, voortspruit, en nie aan die stipulans self nie.2

Wat egter in Suid-Afrika as 'n stipulatio alteri aanvaar word, blyk te verskil van die oorspronklike toepassing van die stipulatio alteri. Volgens die stipulatio alteri-beginsel is die derde party nie veronderstel om 'n aktiewe party tot die ooreenkoms te wees nie, en hoef die derde party selfs nie bewus te wees van die benoeming nie.3

Die Suid-Afrikaanse toepassing van die beginsel behels egter dat wanneer hierdie voordeel uit die polis betaalbaar word, dit deur die promittens aan die derde party aangebied word en die derde party dan die geleentheid het om die voordeel te aanvaar of te verwerp. Die wese van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party is dat die derde party nie deur sy eie aksie vir hom 'n reg tot die voordeel behoort te skep nie. Die verpligting wat op die begunstigde geplaas word om die voordeel te aanvaar of te verwerp, moet dus ondersoek word om vas te stel of hierdie verpligting geldig is.

Hierdie bydrae kyk gevolglik na beginsels wat sodanige verpligting verbied, en loods ook 'n dieper ondersoek na die betekenis van die stipulatio alteri in terme van die aanvaardingsvereiste. Daar word ook oorweeg of die Engelse reg 'n beter oplossing bied vir die probleem van 'n aktiewe derde party in die stipulatio alteri.

 

2 Aanvaarding deur die Begunstigde: Geëvalueer deur die "Privity of Contract"-Leerstuk

Die leerstuk van "privity of contract", wat in die Engelse reg bestaan, behels dat slegs die direkte partye tot die kontrak (versekeraar en versekerde) regte en verpligtinge verkry.4 Die leerstuk is ook in die Romeinse reg gevolg waar 'n reël ontwikkel is vir 'n totale verbod op ooreenkomste ten behoewe van 'n derde party, alteri stipulari nemo potest.5Daar heers die standpunt dat die leerstuk van "privity of contract" geskep is juis om die derde partye te beskerm teen die gevolge van 'n kontrak wat deur ander partye geskep is.6 Die derde party kan dus nie verpligtinge opgelê word uit hoofde van 'n kontrak waarby hy geen seggenskap het nie. Hierdie beginsel word egter verslap wanneer daar vir 'n derde party regte geskep word, aangesien daar niks afkeurenswaardig is om 'n voordeel aan 'n derde party te verleen nie.7 Malan is verder van mening dat: "Geen beswaar kan egter gemaak word indien die verkryging van regte afhanklik gemaak word van die aanvaarding deur die derde nie".8

Malan is derhalwe van mening dat 'n derde party regte mag verkry in teenstelling met die "privity of contract"-beginsel, maar trek dan onwetend 'n verpligting daarby in, naamlik aanvaarding. Die vraag wat gevolglik ontstaan is hoe aanvaarding anders is as 'n vereiste, en wat is die vereiste of voorwaarde9 in die geval anders as 'n verpligting wat vir die derde party opgelê word? Die derde party word moontlik nie verplig om die voordeel te aanvaar nie, maar hy word verplig om kennis te gee van sy aanvaarding of verwerping van die voordeel. Sonder hierdie aksie is dit onmoontlik vir die derde party om 'n reg tot sy voordeel te kry. Malan huldig voorts as volg: "In die Suid-Afrikaanse reg word nie meer daaroor getwis dat die derde eers met aanvaarding en mededeling daarvan 'n vorderingsreg teen die promissor uit die beding ten behoewe van 'n derde verkry nie".10

Die derde party sal waarskynlik nie stry teen regte wat vir hom in 'n kontrak geskep word nie, maar regte kan ook negatiewe belastinggevolge skep wat die derde party nooit voorsien het nie.11 Daarom behels die vereiste bloot kennis van sy aanvaarding. Indien hy nie die kennis openbaar wanneer die voordeel aan hom gebied word nie, kan dit stilswyend beteken dat hy die aanbod verwerp.

Dit is dan ook die geval vir 'n lewensversekeringskontrak waar 'n begunstigde as derde party benoem word. So 'n geval word gesien as 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party wat dan beskou word as 'n moontlike uitsondering op die "privity of contract"-leerstuk waar die begunstigde regte uit die kontrak verkry, maar wel 'n verpligting het om sy aanvaarding te kenne te gee. Hierdie aanvaarding is niks anders as 'n verpligting nie. Skrywers is geneig om die selfde mening to huldig en gevolglik word die interpretasie onomwonde erken as aanvaarbaar sonder dat dit getoets word vir geldigheid volgens die "privity of contract"-leerstuk.

Daar kan aangevoer word dat daar niks teen hierdie verpligting is nie, aangesien die verpligting ontstaan uit 'n reaksie tot die regte wat vir die begunstigde beding is. Die verpligting loop dus ten nouste saam met die regte wat die begunstigde verkry. Daar moet dus bepaal word of daar by die letter van die reël gehou moet word en of dit moontlik is dat verpligtinge in sommige gevalle toelaatbaar sal wees. Dit sou 'n ander geval gewees het indien die begunstigde van die polis verplig was om byvoorbeeld die premies te help betaal om sodoende aanspraak te kan maak op die opbrengs van die polis. Hierdie verpligting sou daartoe lei dat die derde party aktief betrokke sou wees by die kern van die kontrak en van die begin af aan die kontrak sou deelneem.

Vir die "privity of contract", moet daar versigtig omgegaan word met die regte en verpligtinge wat die derde party toekom. In die geval van lewensversekering voldoen die kontrak slegs as 'n uitsondering aan die vereistes van die leerstuk. Regte ten opsigte van die voordeel kan die begunstigde bevoordeel, maar hy het die verpligting om die aanvaarding of weiering daarvan te kenne te gee.

 

3 Aanvaarding deur die Begunstigde: Evaluasie aan die Hand van die Stipulatio Alteri beginsel

3 1 Inleiding

Uit die bespreking, is dit duidelik dat die enigste "plig" wat moontlik vir die begunstigde kan ontstaan, die aanvaarding van die voordeel is.12 Hierdie aanvaarding van die stipulasie wat tot sy voordeel gemaak is, beteken dat die derde party die beloofde voordeel aanvaar, en hy bevestig daarmee sy wense om die prestasie te verkry wanneer dit tyd is daarvoor.13 'n Essensiële karaktereienskap van aanvaarding is dan die sameloop met die aanbod.14

Hierdie aanvaardingsvereiste spruit voort uit die interpretasie van die stipulatio alteri-beginsel. Daar sal vervolgens na die ontwikkeling van die aanvaardingsvereiste gekyk word waar ou skrywers en vroeë regspraak in Suid-Afrika hierdie vereiste in Suid-Afrika gevestig het. Ondersoek na die aard van aanvaarding of die oomblik van aanvaarding is veral belangrik vir die lewensversekeringskontrak met 'n benoemde begun-stigde.

3 2 Die ontwikkeling van die aanvaardingsvereiste by 'n stipulatio alteri

Sover terug as die dae van die Corpus Iuris het daar 'n reël ontstaan dat daar nie vir 'n derde party gestipuleer kan word nie.15 Die reël is egter al meer verslap om sekere uitsonderings te aanvaar. Die Corpus Iuris het in die sewentiende en agtiende eeu die meeste van sy gesag verloor en daar is toegelaat dat 'n kontrak ten behoewe van 'n derde party aangegaan kon word.16 Juriste het hulle eie leerstukke op grond van die natuurreg begin ontwikkel en die ou skrywers het 'n groot invloed gehad op die ontwikkeling van die stipulatio alteri-beginsel in Suid-Afrika.17

Daar was egter onsekerheid18 oor die werking van hierdie stipulasie. De Groot19 het seker een van die grootste bydraes gelewer tot die interpretasie van 'n belofte wat aan 'n derde party gemaak word. Volgens hom moet die promisee die belofte dat iets aan 'n afwesige begunstigde gegee gaan word, aanvaar.20 Hy het verder verklaar dat die begunstigde hierdie 'reg' (of die promisor se aanbod)21 moet aanvaar sodat die promisor nie die belofte kan herroep nie.22 Hallebeek is van mening dat De Groot nie 'n verpligting wou skep met die aanvaarding nie, maar dat dit net bevestig dat die promisor sy woord hou tot voor die begunstigde aanvaar het. Dit is egter belangrik dat dit blyk dat De Groot wel van mening was dat die afwesige begunstigde die belofte kon aanvaar en daardeur vir homself 'n reg vestig.23

De Wet24 argumenteer dat De Groot egter ratifikasie van 'n ongemagtigde handeling bedoel het en dat Voet,25 aan die ander kant, nie aanvaarding vereis nie.26 Hy meen dat Voet die man is aan wie ons die stipulatio alteri te danke het, en nie De Groot nie. Een van Voet se teorieë was dat die derde party sy reg kan vestig deur 'n ooreenkoms met die stipulans te sluit in teenstelling met De Groot se aanvaardings-vereiste.27

De Wet en Van Wyk28 kritiseer die ou skrywers wat nie 'n behoorlike onderskeid tref tussen 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party en verteenwoordiging onderskei nie. Hierdie skrywers meen ook dat Voet se uiteensetting van die sogenaamde fideicommissum inter vivos 'n groter invloed gehad het op die ontwikkeling van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party. Volgens Voet kry die derde party 'n reg direk uit die ooreenkoms, maar voorwaardelik op grond daarvan dat die stipulans nie die promittens van sy verpligting verlos nie. Die derde party vestig hierdie reg deur die voordeel van die stipulans te aanvaar.29 Kritiek word egter gelewer met betrekking tot die konstruksie waarvolgens die derde party eers 'n reg teen die promittens verkry indien hy iets van die promittens aanvaar het en noem dit 'n miskenning van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party. Hierdie skrywers argumenteer dat die derde party 'n reg verkry, nie as gevolg van sy aanvaarding nie, maar bloot uit die konstruksie van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party. Die aanvaarding deur die derde party vestig bloot die reg.30

De Wet en Van Wyk is dan ook van mening dat die regspraak wat in Suid-Afrika ontwikkel het rakende die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party, ook 'n miskenning van 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party is.31 In die tweede saak32 wat in verband met die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party in die Suid-Afrikaanse reg ontstaan het, was daar moontlik verwarring tussen 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party en verteenwoordiging.33 De Villiers HR het in hierdie aangeleentheid34 onder andere De Groot en Van der Keessel se beginsels van aanvaarding van verteenwoordiging geneem en dit toegepas op die saak waar daar ongetwyfeld 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party was.35 Daar is ook na aanleiding hiervan die kritiek gelewer dat ratifikasie buitendien nie ter sprake is by die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party nie en dat aanvaarding alleen ter sprake kom in verband met die vraag of die stipulans die promittens kan ontslaan.36

Daar word vermoed dat die regter in Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz,37wat op appèl geneem is het, onder die invloed was van die hoofregter se uitspraak in Tradesmen's Benefit Society v Du Preez.38Innes R stel dan ook die vereiste van aanvaarding voor die derde party 'n reg kan verkry as volg: "If the third party desires to enforce a stipulation made in his favour, he must accept this; for until he has notified his decision to the promisor, there is no vinculum juris between them".39

Hierdie uitspraak in die Hotz-saak40 is dan ook vervleg met aspekte van aanvaarding wat uit die konstruksie van verteenwoordiging voortspruit en neem ook nie die bedoeling van die oorspronklike partye in ag nie.41

Dit blyk dat hierdie aanvaarding gevolglik vasgelê is in die Suid-Afrikaanse reg, en slaafs nagevolg is in daaropvolgende regspraak. In Van der Plank v Otto42wat ná die Hotz-saak aangehoor is, is daar soos volg deur De Villiers HR beslis:

Now our law recognises the right of a third party to sue upon a contract made for his benefit, provided only that he has accepted the stipulation made in his favour ... there can be no valid acceptance by the third party until he has notified his decision to the promisor.

Gevolglik, het die bogenoemde aanvaarding wortel geskiet en is daar gemeen dat dit die sleutel tot die hele konsep is, aangesien dit nie net die ooreenkoms vervolmaak sover dit die derde party aangaan nie, maar ook die juristiese aard en die grondslag van die reg bepaal:

It is this act of 'acceptance' which is the key to the entire concept, since not only does it perfect the arrangement so far as the third party is concerned, but it also determines the juristic nature and foundation of his right.43

In 'n ware ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party, bevestig 'n derde party bloot die ooreenkoms. Aanvaarding is nie 'n vereiste vir die derde party om 'n reg te verkry nie, die derde party het as sodanig reeds 'n reg.44 Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party, vestig die aanvaarding die reg ten opsigte van die derde party.45 Die vraag ontstaan gevolglik of dit enigsins 'n verskil sal maak indien daar aangevoer word dat aanvaarding nie 'n vereiste is nie, maar dat die stipulasie vir die derde party se voordeel oop bly, tensy die benoemde derde party die voordeel repudieër. Dit kan egter steeds as 'n stilswyende aanvaarding beskou word. Hierdie aanvaarding moet egter beter gereguleer word sodat dit nie tot gevolg het dat die derde party só spoedig moet aanvaar ten einde sy reg, te vestig, en dit sodoende vir die stipulans onmoontlik word om die stipulasie te herroep nie.

3 3 Die Aard van Aanvaarding

Suid-Afrika volg die aanvaardingsleerstuk soos toegepas in Nederland.46 Artikel 6:253(1) van die Burgerlijk Wetboek,1992 bepaal dat die kontrak regte skep vir die derde party om te eis teen een van die kontrakterende partye wanneer die kontrak so 'n klousule bevat en die derde party die klousule aanvaar. Lande soos Duitsland, Frankryk en Engeland volg die "confirmation doctrine" waardeur die derde party se regte nie voorwaardelik is ten opsigte van sy aanvaarding nie.47 Die reg bestaan reeds by die opstel van die kontrak vir die derde party. Hierdie leerstuk is onder gesag van Voet se analise van die fideicommissum inter vivos.48 De Wet volg ook vir Voet se standpunt en is van mening dat De Groot se aanvaardingsvereiste na verteenwoordiging verwys. De Wet kon egter nie die howe en verklaar Sutherland and Johnston dat: "South African law is the poorer for recognizing third-party rights only following acceptance".49

In Suid-Afrika behels die aanvaardingsvereiste dat die derde party die aanbod wat deur die promisor gemaak is, aanvaar en eers dan vir homself 'n reg vestig.50 Daar het egter binne hierdie aanvaardings-vereiste verdere benaderings ontstaan ten aansien van die impak van sodanige aanvaarding op die kontrak. Een van die benaderings stel dit dat die derde party deur sy aanvaarding nie net 'n reg verkry nie, maar ook die stipulans as kontraksparty vervang.51 Daar is slegs die een oorspronklike kontrak. Na aanvaarding deur die derde party val die stipulans uit die prentjie en is daar slegs die kontrak tussen die promittens en die derde party.52

Volgens die tweede benadering skep die derde party na aanvaarding 'n nuwe kontrak, afsonderlik van die oorspronklike kontrak tussen die promittens en stipulans. Hierdie tweede kontrak is nou tussen die derde party en die promittens.53

Volgens die derde benadering word die derde party, na sy aanvaarding, as kontraksparty deel van die oorspronklike kontrak. Na aanvaarding het die kontrak dan drie partye.54

Hierdie drie benaderings bevestig die onduidelikheid en onsekerheid ten aansien van die toepassing van die aanvaardingsvereiste in die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party vir die Suid-Afrikaanse kontrak.

Die aanvaarding kan skriftelik geskied, of dit kan deur optrede blyk. Die begunstigde moet die versekeraar egter inlig oor sy aanvaarding sodat die versekeraar seker kan wees aan wie die voordeel uitbetaal moet word.55

Die aanvaarding moet binne 'n redelike tyd geskied. Die tydperk begin loop vanaf die dag waarop die polis betaalbaar word.56 Indien die begunstigde versuim om binne hierdie redelike tyd kennis te gee, sal die benoeming van die begunstigde verval, 57 maar hierdie redelike tyd neem egter wel die belang van die begunstigde en versekeraar in ag.58 Dit is egter die versekeraar se plig om die benoemde begunstigde op te spoor, welke nie die begunstigde se tydperk van aanvaarding kan inperk nie.59

Daar word kortliks onderskei tussen die aanvaarding by 'n herroepbare benoeming, en die aanvaarding by 'n onherroepbare benoeming. By 'n onherroepbare benoeming kan die benoeming of voordeel enige tyd voor of na die dood van die versekerde aanvaar word. Daar bestaan selde nog onherroepbare benoemings by lewensversekeringskontrakte, en daar moet ook daarop gelet word dat dit nie 'n pactum successorium60uitmaak, waar die stipulans bedoel om die bate in sy boedel te beskik wat deur aanvaarding voor sy dood onherroeplik gemaak word nie.61 Ten opsigte van herroepbare benoemings in lewensversekeringskontrakte word aangevoer dat die aanvaarding deur die begunstigde slegs op sekere tye geldig kan wees. Vir die lewensverskeringskontrak bestaan daar verskillende stadiums; naamlik die ontstaan van die kontrak waar die begunstigde benoem word, wat ook die stadium voor die dood van die lewensversekerde is; die stadium na die dood van die lewensversekerde maar voor aanvaarding deur die begunstigde; en die stadium na die aanvaarding deur die begunstigde.62

3 3 1 Aanvaarding vóór die dood van die lewensversekerde by herroepbare benoemings

Daar kan geen verbod of riglyn in regspraak of deur die ou skrywers gevind word oor die vraag wanneer die begunstigde sy aanvaarding mag gee nie. De Groot stel dit egter dat die promittens die derde persoon 'n reg gee, indien hy ook aanvaar, sodat die stipulator nie meer die belofte kan herroep nie.63 Dit blyk die effek te hê dat aanvaarding eerstens 'n reg skep vir die derde party en tweedens dat die kontrak dan onherroepbaar word.

Die polishouer kan egter steeds op enige stadium voor sy dood die benoeming wysig. Ou skrywers is dit eens dat die stipulans die promittens te eniger tyd voor die derde party se aanvaarding kan verlos van sy prestasie teenoor die derde party.64 Enige aanvaarding sou voortydig wees en sal geen effek hê op die wysiging van die benoeming nie.65 Dit impliseer dat daar geen regte is waarop die begunstigde voor die dood van die versekerde kan steun nie.

Sommige skrywers is dus van mening dat daar voor die dood van die versekerde geen aanvaarding kan wees nie en dat die versekeraar en die versekerde kan besluit watter regte die benoemde begunstigde op watter tydstip moet besit.66 Daarvolgens word lewensversekeringskontrakte opgestel met sogenaamde "geen-regte"-klousules wat die regte van die begunstigde voor die dood van die versekerde inperk. So 'n klousule sal byvoorbeeld lees:

Die begunstigde het geen reg in of tot hierdie polis voor die dood van die versekerde lewe, of na gelang van die geval, van die aansoeker nie, en totdat dit gebeur -

(a) kan met hierdie polis in alle opsigte gehandel word asof geen begunstigde benoem is nie;

(b) kan die aansoeker die benoeming sonder toestemming van die begunstigde terugtrek deur die hoofkantoor van [die versekeraar] skriftelik daarvan in kennis te stel.67

So 'n polis tussen die versekerde en versekeraar funksioneer as 'n aanbod tot die begunstigde met dien verstande dat die begunstigde geen regte daartoe besit nie.68 Daar is aangevoer dat:

... where the insured has reserved the right to revoke or change the beneficiary, there can be no effective acceptance by the person nominated unless and until the insured dies without having changed that nomination. For if the nominated beneficiary accepts and the insured thereafter selects another beneficiary, the first nominee's acceptance is rendered nugatory.69

Dit word dus as bloot waardeloos of nutteloos gesien vir 'n begunstigde om iets te aanvaar wat moontlik nooit na hom oorgedra kan word nie. 'n Polis met 'n herroepbare klousule bly dan die eiendom van die versekerde.70

Dié siening is ook in regspraak aangeneem. In Wilcocks NO v Visser and New York Life Insurance Co71het Maasdorp HR dit gestel dat die versekerde die volle regte gehad het om met die dokument te handel soos hy wou. Maasdorp HR het verder die vraag gestel of daar dan vir die benoemde begunstigde enige regte in die polis oorbly, en hy het tot die gevolgtrekking gekom dat slegs indien die dokument (polis) onveranderd gelaat word, die opbrengs van die polis by die versekerde se dood aan die begunstigde betaal sal word - voor dit bly dit die eiendom van die versekerde se boedel.

In Warricker NO v Liberty Life Association of Africa Ltd72is daar opgemerk dat: "Upon the death of the insured, the beneficiary became entitled to accept or reject the benefit." En ook: "While the insured is alive, the policy remains the property of the insured and he has, subject to the terms of the policy, the full right to deal with it as he likes."

Daar word aangevoer dat selfs waar daar nie 'n "geen-regte"-klousule in die polis is nie, en die benoemde begunstigde aanvaar, dit nie beteken dat die versekerde die benoeming van die begunstigde kan herroep nie.73

Indien daar so 'n voortydige aanvaarding is wat altyd deur 'n latere herroeping getroef word, is die regsgevolge minimaal. Die enigste waarde wat so 'n voortydige aanvaarding kan hê, is as die polishouer die voordeel nie voor sy dood herroep het nie en dit 'n feitelike vraag raak of daar aanvaarding was of nie, en ook in die geval waar 'n polishouer aan die versekeraar bevestig dat daar geen herroeping van die benoemde begunstigde se nominasie gaan wees nie.74

In PPS Insurance Company v Mkhabela75is die benoemde begunstigde oorlede voor die lewensversekerde, wat net daarna ook te sterwe gekom het. Die appèlhof, per meld Cachalia AR, het die volgende bevind:

The full court was correct in its view that Ms Sebata's nomination of her mother as the beneficiary under the policy was a contract for the benefit of her mother as a third party, which was capable of acceptance upon the death of the policy holder. But it then, with respect, erroneously found that Ms Mkhabela's acceptance of her nomination as a beneficiary had some legal significance.76

Die appèlhof erken dus hier die aanvaarding van die begunstigde, maar meld dat daar nie soveel klem gelê kan word op die aanvaarding om een of ander unieke werking te moet hê nie. Die hof bevind verder per Cachalia AR dat:

It is well established that a nominated beneficiary does not acquire any right to the proceeds of a policy during the lifetime of the policy owner. It is only on the policy owner's death that the nominated beneficiary is entitled to accept the benefit and the insurer is obligated to pay the proceeds of the policy to the beneficiary. Until the death of the policy owner, the nominated beneficiary only has a spes (an expectation) of claiming the benefit of the policy - the nominated beneficiary has no vested right to the benefit.

It follows that if the nominated beneficiary predeceases the policy owner, she would have had no right to any benefit of the policy at the time of her death.

Put simply, when the nominated beneficiary dies, the spes evaporates. It falls away. The fact that a nominated beneficiary accepts the nomination cannot change this.77

Die hof verduidelik gevolglik dat tot en met die dood van die versekerde, die benoemde begunstigde geen reg op die voordeel van die polis sal kry nie. Indien die benoemde begunstigde dus voor die versekerde se dood te sterwe sou kom, verdwyn enige hoop wat hy ten opsigte van die voordeel gehad het. Die eksekuteur kan gevolglik nie 'n voordeel namens die oorlede begunstigde aanvaar nie. Cachalia AR bevind gevolglik dat: "There was thus no enforceable right that was transmissible to the Mkhabela estate. The benefit remained with the insured, Ms Sebata, until her death approximately two months later, when it fell into her estate".78

Dit is dus duidelik dat daar weereens deur ons regspraak aanvaar word dat 'n benoemde begunstigde 'n kontrak ten behoewe van 'n derde party is. Dit bevestig ook dat voor die dood van die lewensversekerde, die benoemde begunstigde geen reg verkry nie, slegs 'n spes, en dat aanvaarding van hierdie voordeel dus nutteloos sal wees. Dit is slegs op die oomblik van die dood van die lewensversekerde wat die benoeming oopgestel word vir aanvaarding. Indien die benoemde begunstigde dan nie bestaan nie, is daar niks wat hy kan aanvaar nie. Die begunstigde se verwagte spes verdwyn dan en die voordeel sal weer in die versekerde se boedel terugval indien hy/sy nie 'n ander begunstigde benoem nie.

3 3 2 Aanvaarding ná die Dood van die Lewensversekerde in die Geval van Herroepbare Benoemings

Soos in paragraaf 3 3 1 aangedui, kan die begunstigde die benoeming voor die dood van die lewensversekerde aanvaar, maar dit vestig geen reg vir hom nie aangesien die lewensversekerde die benoeming te eniger tyd voor sy dood kan herroep. Dit is om hierdie rede dat aanvaarding ná die dood van die lewensversekerde geskied, en dan meer effektief is aangesien die derde party dan onmiddellik 'n reg uit hierdie aanvaarding verkry. Dit is die oordeel van een van die eerste sake oor die benoeming van 'n begunstigde waar daar gesê is: "If the third party desires to enforce a stipulation made in his favour, he must accept it; for until he has notified his decision to the promisor, there is no vinculum juris between them".79

Dit is ook later bevestig in die saak van Warricker NO v Liberty Life Association of Africa Ltd:80"Upon the death of the insured, the beneficiary became entitled to accept or reject the benefit."

Aanvaarding deur die begunstigde bewerkstellig dus 'n vinculum juris (regsband) tussen homself en die promittens.81

Hierdie aanvaarding het in Suid-Afrika die vereiste geword vir die benoemde begunstigde om voordeel te trek uit die kontrak.82 Voor die aanvaarding gegee word, kan die stipulans die promittens onthef van sy verpligting om die voordeel aan die begunstigde te lewer. Daar moet egter ook genoem word dat dit die begunstigde vry staan om die begunstiging te verwerp.83

Daar kan ook geargumenteer word teen die stelling dat aanvaarding deur die derde party teenoor die promittens moet geskied. Dit is die stipulans, nie die promittens nie, wat die stipulasie maak en dit is 'n natuurlike uitvloeisel dat dit dan teenoor die stipulans is wat aanvaarding deur die derde party moet geskied en nie teenoor die promittens nie.84 Wat dit egter moeilik maak, is die feit dat die stipulans gewoonlik ook die lewensversekerde is, en dus op die oomblik wat aanvaarding moontlik word, alreeds oorlede is. Gevolglik sal dit moontlik wees dat die benoemde begunstigde sy aanvaarding aan die afgestorwe versekerde se eksekuteur sal moet laat blyk. Dit is om hierdie rede dat daar eerder aan die promittens kennis gegee moet word van die derde party se aanvaarding, aangesien dit hierdie promittens is wat die prestasie na aanvaarding aan die derde party sal lewer.

Hierdie kwessie ten aansien van die oomblik van aanvaarding is 'n besonderse komponent van die Suid-Afrikaanse toepassing van die stipulatio alteri. Die kwessie is spesifiek belangrik vir die geval van lewensversekering. Sodra die begunstigde aanvaar, verkry hy 'n reg.85 'n Soortgelyke toepassing kan egter ook gevind word waar die stipulatio alteri op die diskresionêre inter vivos trust in Suid-Afrika van toepassing gemaak word. In hierdie geval is daar ook geen gevestigde regte vir die begunstigde van hierdie trust nie tot die trustees hulle diskresie uitoefen om aan die begunstigdes iets oor te dra en dit aan te bied aan die begunstigdes. Die begunstigdes is ook hier verantwoordelik om hulle aanvaarding te kenne te gee.86 Dit is dan ook die oomblik wat die voorwaardelike reg verander na 'n gevestigde reg. Die trustbegunstigde kan ook nie sy aanvaarding gee voor die diskresie van die trustees uitgeoefen word nie, maar slegs op die oomblik wat dit vir hom aangebied word.

 

4 Die Vraag oor Wát Aanvaar Moet Word

Die siening oor wát die derde party moet aanvaar, is al dikwels betwyfel.87 Dondorp interpreteer Christian Wolff se siening hieroor as 'n "stipulasie" wat die begunstigde moet aanvaar of 'n "aanbod van die stipulator om sy eis aan die begunstigde te sedeer". De Groot is egter van mening dat dit die aanbod van die promisor is wat die begunstigde moet aanvaar.

Regspraak het ook al klei getrap oor die regte bewoording ten opsigte van wat die begunstigde moet aanvaar. In Louisa and Protector of Slaves v Van den Berg88blyk dit of die hof meen dat die derde party, saam met die stipulans, die "belofte" van die promittens moet aanvaar. In Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz89meen die hof dat die derde party die "kontrak" moet aanvaar, wat ook deur McCullogh v Fernwood Estate Ltd90aanvaar is. In Van der Planck NO v Otto91sê die hof dat die "stipulasie" deur die derde party aanvaar moet word. Ander gesag praat weer gereeld van 'n "voordeel" of die "reg tot die voordeel" wat deur die begunstigde aanvaar moet word.92

In Commissioner for Inland Revenue v Estate Crewe93het die regter 'n middeweg probeer vind en dit verwoord as 'n kontrak vir die voordeel van 'n derde party, wat gesien kan word as 'n "aanbod van 'n voordeel" wat gemaak word en wat oop bly tensy dit gerepudieer word.

Hoewel aanvaarding in die kontraktereg voorkom waar 'n aanbod altyd gerig word aan een party welke die teen party moet aanvaar, is daar aangevoer dat die aanvaarding van 'n "aanbod" nie aanvaar kan word binne die konteks van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party nie, aangesien die enigste aanbod wat gemaak word, aan die "promisee" is en nie aan die derde party nie.94 Daar kan ook nie saamgestem word met die aanvaarding van die "kontrak" nie, aangesien die kontrak tussen die promittens en die stipulans is en die aanvaarding deur die derde party nie die geldigheid van die kontrak beïnvloed nie en die benoeming nog enige tyd voor aanvaarding herroep kan word. Die vraag wat gevolglik ontstaan is of dit nie moontlik is, in die geval van 'n benoemde begunstigde by lewensversekering, dat die "opbrengs van die polis" aanvaar moet word nie? Dit is immers wat vir die derde party beding word.

Daar word aangevoer dat die "voordeel", "stipulasie", "promissio", "voorsiening" of "opbrengs" wat aanvaar word, slegs woorde met dieselfde betekenis is en dat dit nie nodig is om te onderskei watter woord die juiste is nie. Wat belangriker is, is wat die aanvaarding beteken.

Die stelling dat die derde party geen reg verkry voordat hy iets aanvaar nie, of dit dan nou 'n "belofte" of "stipulasie" is, is strydig met die wese van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party in dié sin dat die derde party dan sy reg uit sy eie wilsverklaring verkry en nie uit die ooreenkoms nie.95

Om 'n ware ooreenkoms ten behoewe van die derde party daar te stel, moet die ooreenkoms tussen die promittens en die stipulans bestaan, wat hul verbind tot 'n prestasie aan 'n derde party. Dit wil dus weereens blyk dat dit nie 'n vereiste kan wees vir 'n begunstigde om die stipulasie te aanvaar ten einde 'n reg te verkry nie. Vir 'n ware derde-party-kontrak bevestig aanvaarding bloot die reg. "In South Africa, acceptance creates the third party right. In the true third-party contract, acceptance merely entrenches it." 96

Die reg word dus bloot bevestig en bestendig deur aanvaarding: "Gevolglik beteken aanvaarding in hierdie verband nie die aanvaarding van 'n gewone aanbod nie, maar is dit 'n eensydige regshandeling wat dien om die reg van die derde te bevestig en bestendig".97

Hulle meen ook dat hierdie aanvaarding regverdiging is vir die verlening van 'n reg vir die derde party wat uit hoofde van die oorspronklike kontrak ontstaan.

Opsommenderwys kan daar met die volgende stelling saamgestem word: "Hierdie gespartel met die akseptasie en veral die "iets" wat die derde party dan moet aksepteer, is die gevolg van die miskenning van die gevolge van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde ...".98

 

5 Aanvaarding deur die Begunstigde: Uit die Oogpunt van die Engelse Reg

Hoewel die Engelse reg nie die stipulatio alteri van die Romeins-Hollandse reg aanvaar nie, bestaan daar ook "derde-party-kontrakte". Die "privity of contract"-leerstuk word deur Engeland gevolg en die ooreenkoms bestaan ten behoewe van 'n derde party as 'n uitsondering op die leerstuk.99 Lewensversekering word spesifiek as 'n uitsluiting beskou in die lig van artikel 11 van die Married Woman's Property Act van 1882 waar 'n lewensverskeringspolis deur 'n persoon op sy eie lewe uitgeneem word en hy dan die voordeel van die polis aan sy gade of kinders bemaak.100

Die Engelse reg het ver gevorder om die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party statutêr te reël by wyse van die Contracts (Right of Third Parties) Act 1999. Ingevolge hierdie wet verkry die derde party 'n reg direk uit die kontrak:

Subsection to the provisions of this Act, a person who is not a party to a contract (a 'third party') may in his own right enforce a term of the contract if -

(a) the contract expressly provides that he may, or

(b) subject to subsection (2), the term purports to confer a benefit on him.101

Dit lyk egter of hierdie wet voorsiening maak vir onherroeplike kontrakte en dit blyk dat die reg nie van die begunstigde weggeneem kan word indien hy nie sy reg uit bogenoemde artikel verkry het nie.102

Daar is ook The Principles of European Contract Law wat deur die Commision on European Contract Law opgestel is. In artikel 6:110 handel hulle spesifiek met 'n Stipulation in Favour of a Third Party. In die artikel word gesê dat die derde party 'n reg uit die kontrak verkry slegs indien en wanneer die promisee die derde party in kennis stel van die voordeel:103

(1) A third party may require performance of a contractual obligation when its right to do so has been expressly agreed upon between the promisor and the promisee, or when such agreement is to be inferred from the purpose of the contract or the circumstances of the case. The third party need not be identified at the time the agreement is concluded.104

Die artikel verklaar verder:

(2) If the third party renounces the right to performance the right is treated as never having accrued to it.

(3) The promisee may by notice to the promisor deprive the third party of the right to performance unless:

(a) the third party has received notice from the promisee that the right has been made irrevocable, or

(b) the promisor or the promisee has received notice from the third party that the latter accepts this right.

Hierin word daar voorsiening gemaak vir herroepbare kontrakte, maar dit word ook gesien dat aanvaarding die reg vir die derde party bewerkstellig. Die aanvaardingsvereiste blyk nie om so 'n groot probleem te wees vir Engeland nie en daar word nie veel gereël in verband met die aanvaarding deur die derde party nie.

Ander lande het ook die kontrak vir die voordeel van 'n derde party statutêr gereël.105 Die Regskommissie vir Engeland en Wallis was ook 'n groot hulp in die ontwikkeling van die Contracts (Right of Third Parties) Act. Alle aspekte van die kontrakte vir derde partye is in 'n gedetailleerde verslag uiteengesit en bespreek vir die toepassing in dié regstelsel.

Die Suid-Afrikaanse Regskommissie het in 1987106 vergader oor die kwessie ten aansien van trustadministrasie waarna die Wet op die Beheer oor Trustgoed in 1988 gevolg het. Die kommissie het, onder andere, die kwessie rakende die inter vivos-trust, wat as 'n stipulatio alteri gesien word, bespreek en het ook die kritiek teen die aanvaardings-vereiste bespreek.107 Die kommissie het egter nie besluit om dié saak in wetgewing te vervat nie.

Suid-Afrika sal baie baat vind indien die Kommissie die Suid-Afrikaanse toepassing van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party kan bespreek en dit moontlik daarna vir wetgewing oorweeg kan word. In die Suid-Afrikaanse konteks kan die verskillende vorme van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party ondersoek en geëvalueer word, onder meer verteenwoordiging, lewensversekering waar begunstigdes benoem word en die inter vivos-trust. Aspekte soos die regte en verpligtinge, asook die aanvaardingsvereiste, kan geëvalueer word vir die korrekte toepassing, met inagneming van die gemenereg en die ontwikkeling wat in Suid-Afrika in die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party plaasgevind het. Dit sal lei tot 'n seker, eenvormige toepassing van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party.

 

6 Gevolgtrekking

Hoewel die leerstuk van "privity of contract" enige verpligtinge vir derde-party-begunstigdes tot kontrakte belet, blyk dit dat die Suid-Afrikaanse reg wel 'n verpligting daargestel het vir derde-party-begunstigdes in 'n ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party. Hierdie plig is om die begunstiging of stipulasie wat tot sy voordeel gemaak is, te aanvaar. Die aksie van aanvaarding word egter steeds nie beskou as 'n verpligting wat die begunstigde 'n aktiewe party tot die kontrak laat word nie, en is dus steeds aanvaarbaar vir die korrekte toepassing van die stipulatio alteri.

Dit mag blyk dat die probleem nie teen die aanvaardingsaksie as sodanig is nie, maar die effek wat die aanvaarding skep, naamlik regte. Dit blyk verder dat die aanvaarding 'n produk is van verwarring onder ou skrywers wat nie die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party en verteenwoordiging behoorlik onderskei het nie. Hierdie verwarring is egter nagepraat in die regspraak wat gevolg het en die Suid-Afrikaanse reg sit nou met 'n uitsonderlike toepassing. Die Suid-Afrikaanse ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party is 'n unieke leerstuk.

In die tyd van die ou skrywers blyk dit dat aanvaarding slegs nodig was om herroeping onmoontlik te maak. In die konsep van hedendaagse lewensversekeringskontrakte is dit egter nou meer die norm om herroepbare kontrakte te sluit. Hierdie aanvaarding dan kan ook geen uitwerking hê op die herroepbaarheid van die kontrak nie. Daar is nou 'n tydstip verbonde aan die kennisgewing van aanvaarding. Wat betref die aanvaarding vóór dood vir herroepbare benoemings, is dit nou duidelik dat dit nutteloos sal wees aangesien die versekerde die benoeming, waarop die verleë begunstigde geen aanspraak het nie, steeds te eniger tyd kan herroep of kanselleer.

Die aanvaarding deur die benoemde begunstigde wat ná die dood van die lewensversekerde geskied, is nou volgens regspraak die enigste en die effektiefste manier vir die derde party om 'n reg tot die voordeel te verkry.

Dit blyk dat daar opnuut gedink sal moet word oor die verpligting van aanvaarding deur die derde party en dat regspraak moontlik nodig is om 'n diep gewortelde toepassing in Suid-Afrika te herdefinieer. Dit sal die begrip en toepassing van die Suid-Afrikaanse beginsel van die begunstigde in 'n lewensversekeringskontrak bepaal, asook wat die omvang van die begunstigde se rol in die kontrak is.

Die tyd het aangebreek om weer die toepassing van die stipulatio alteri te beoordeel uit die oogpunt van die oorspronklike doel van hierdie ooreenkoms. Die Suid-Afrikaanse regskommissie moet sit rakende hierdie onsekerhede. Dit kan moontlik lig werp op die huidige verwarring oor wát presies aanvaar moet word. Dit blyk dat meer en meer skrywers mekaar napraat eerder as om na die oorspronklike bronne te gaan kyk om die toepassing te toets. Die daarstel van formele riglyne en vereistes vir aanvaarding is 'n moontlikheid. Sodoende kan daar gestipuleer word aan watter vereistes die partye tot die kontrak moet voldoen. Daar bestaan ook geen algemene reël vir die toepassing van alle vorme van die stipulatio alteri in Suid-Afrika nie, maar daar is afsonderlike reëls vir spesifieke gevalle, soos die lewensversekeringskontrak of die inter vivos-trust. Hierdie riglyne word nie konsekwent in die regspraak toegepas nie.

Sutherland merk tereg op: "Third-party contracts cannot be recognised without establishing an intricate set of rules for dealing with them".108

Die Engelse reg het so 'n stel reëls opgestel wat die situasie formeel reël waar derdes by 'n kontrak betrokke is. Al voldoen hierdie reëls dalk nie aan 'n ware derde-party-kontrak soos wat dit in die Suid-Afrikaanse reg bekend staan nie, kan dit wel sekerheid oor die stand van sake gee.

In Suid-Afrika het die tyd aangebreek om 'n stel formele reëls aan te neem ten einde die unieke ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party in lewensversekeringskontrakte te reël. Sodoende kan verwarring uitgesakel word en alle gevalle kan konsekwent hanteer word.

 

 

1 In die artikel word aanvaar dat die polishouer ook die lewensversekerde en premiebetaler is.
2 De Wet & Van Wyk Suid-Afrikaanse Kontraktereg en Handelsreg (1992) 105;         [ Links ] Henckert 'Die begunstigdeklousule in die versekeringsreg: regsoorwegings en-gevolge' 1995 THRHR 178;         [ Links ] Getz 'Contracts for the benefit of third parties' 1962 Acta Juridica 47.         [ Links ]
3 Sutherland Third-party Contract (2006) 221.
4 Sutherland & Johnston Contracts for the Benefit of Third Parties in Mixed Legal Systems in Comparative Perspectives: Property and Obligations in Scotland and South Africa (2004) 209;         [ Links ] Sutherland supra n 3 op 204; Scott 'Cession of whole life insurance rights' 2003 Stellenbosch Law Review 96.         [ Links ]
5 Sutherland & Johnston 210; Hallebeek & Dondorp Contracts for a Third-Party Beneficiary: A Historical and Comparative Account (2008) 8.         [ Links ]
6 Sutherland supra n 3 op 205.
7 Hutchinson Kontraktereg in Suid-Afrika (2010) 231.         [ Links ]
8 Malan 'Gedagtes oor die beding ten behoewe van 'n derde' 1976 De Jure 86; sien ook Sutherland & Johnston supra n 4 op 209 wat sê dat regte aan die derde party gegee kan word solank die derde party ontslae kan raak van die regte.
9 Sutherland & Johnston supra n 4 op 210.
10 Malan 86.
11 Idem 206. Of insolvensiegevolge volgens Sutherland & Johnston supra n 4 op 210.
12 Joubert General Principles of the Law of Contract (1987) 43; Van der Merwe & Reinecke 'Ekstensiebedinge en die Modus' 1997 TSAR 796.
13 Reinecke & Nienaber 'A suggested Template for Beneficiary Nominations' 2009 SA Merc LJ 22.         [ Links ]
14 Joubert supra n 12 op 44.
15 Hallebeek & Dondorp supra n 5 op 7.
16 Idem 47.
17 Idem 48.
18 Joubert 188.
19 De Groot De Jure Belli et Pacis Bk 2 c 11 par 18; De Groot Inleidinge 3 3 37 & 38.
20 Hallebeek & Dondorp 55.
21 Idem 57.
22 Idem 56.
23 Idem 62; Keeton 'Alteri Stipulari Nemo Potest in the Law of South Africa' 1929 Journal of Comparative Legislation and International Law 82.         [ Links ]
24 De Wet Die ontwikkeling van die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde (LLD-proefskrif 1940 Leiden) 117.
25 Voet Commentary on the Pandects (vertaal deur Gane) (1957) arts 36 1 9, 36 1 67 & 39 5 43.
26 Joubert supra n 12 op 188.
27 De Wet supra n 24 op 146.
28 De Wet & Van Wyk supra n 2 op 104-105.
29 Idem 104.
30 Ibid.
31 Idem 105.
32 Trademen's Benefit Society v Du Preez 1 887 5 SC 269.
33 De Wet en Van Wyk supra n 2 op 106.
34 Trademen's Benefit Society v Du Preez supra n 32 op 269.
35 De Wet supra n 24 op 146.
36 Idem 148.
37 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz 1911 (AD) 567.
38 Trademen's Benefit Society v Du Preez 269.
39 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz 567 supra n 37.
40 Ibid.
41 De Wet supra n 24 op 150.
42 Van der Plank v Otto 1912 (AD) 353 362.
43 Getz supra n 2 op 42.
44 Hoewel slegs voorwaardelik in die opsig dat die stipulans voor aanvaarding nog die promittens kan verlos van sy verpligting teenoor die derde party. Wanneer die stipulans dan nie die stipulasie herroep het nie, en die polis betaalbaar word, kan dit aan die derde party aangebied word vir aanvaarding. Die oomblik wanneer aanvaarding kan geskied om die ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party te reël, is dus belangrik. Kyk par 3 3.
45 Hierdie "ware" ooreenkoms ten behoewe van 'n derde party is Sutherland (supra n 2 op 208) se siening oor die oorspronklike bedoeling van die stipulatio alteri. Hier onder word aangevoer dat die derde party nie 'n aktiewe party tot die ooreenkoms is nie. Hy het dus geen bevoegdheid om die kontrak te kanselleer nie, maar kry steeds regte direk vanuit hierdie ooreenkoms. Daar word ook nie regte aan die derde party opgedwing nie, maar die derde party kry die geleentheid om die reg te verwerp. Sien Sutherland supra n 3 op 221 hieroor.
46 Hallebeek & Dondorp supra n 5 op 148.
47 Idem 147.
48 Voet XXXVI, 1, 9 & 67 & XXXIX, 5, 43.
49 Sutherland & Johnston supra n 4 op 214.
50 Hallebeek & Dondorp 149.
51 De Wet & Van Wyk supra n 2 op 107 volgens McCullogh v Fernwoord Estate Ltd 1920 (AD) 204. Kyk ook Reinecke et al General Principles of Insurance Law (2002) 301, Total SA (Pty) Ltd v Bekker NO 1992 1 SA 617 (A) 625E.
52 Evans 'Should a repudiated inheritance or legacy be regarded as property in an insolvent estate' 2002 SA Merc LJ 695; Joubert supra n 12 op 189; Sonnekus 'Enkele opmerkings om die beding ten behoewe van 'n derde' 1999 TSAR 603.
53 Crookes v Watson 1956 1 SA 277 (A) 291 E; Davis Gordon & Getz: The South African Law of Insurance (1993) 277; Evans supra n 52 op 695; Getz supra n 2 op 43; Van Zyl 'Die Regte van lewensversekeringsbegunstigdes' 2013 TSAR 636.
54 Sien meer hieroor in NKP Kunsmisverspreiders (Edms) Bpk v Sentrale Kunsmis Korporasie (Edms) Bpk 1969 3 SA 82 (T) 87B; Scott 'Vooroorlye van begunstigde in lewensverskeringskontrak - die Hoogste Hof van Appèl beslis' 2012 TSAR 803; Henckert supra n 2 op 180; Reinecke & Nienaber supra n 13 op 6.
55 Reinecke et al supra n 51 op 297; Reinecke & Nienaber supra n 13 op 22.
56 Ibid.
57 Ibid. Dit sal ook die geval wees by onvoldoende verwerping van die voordeel.
58 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz supra n 37 op 567.
59 Oor die algemeen in die praktyk is die opsporing van begunstigdes nie 'n probleem nie en word die inligting in die polis vervat. Gevolglik kom vertragings selde voor.
60 Die pactum successorium het die uitwerking dat die persoon sy eie testeervryheid inperk en dat dit dus ongeldig is. Sien hieroor Henckert supra n 2 op 177-193; Keetse 'Is our law on beneficiary nominations and pacta successoria outdated?' 2004 Insurance and Tax 3-7; en Hutchinson 'Isolating the pactum successorium' 1983 SALJ 208 - 226.
61 Scott supra n 54 op 804.
62 Oor die regte vir die derde party in hierdie stadiums, kyk Van Zyl supra n 53 op 640-647.
63 De Groot art 18(1) (bl 337).
64 De Wet & Van Wyk supra n 2 op 108; De Wet supra n 24 op 144.
65 Reinecke & Nienaber supra n 13 op 22.
66 Henckert 'The life assurance policy, beneficiary clauses and marriage: A few aspects' 1994 TSAR 514 (hierna Henckert (2)).
67 Wolmarans en 'n ander v Du Plessis en andere 1991 3 SA 703 (T).
68 Henckert (2) supra n 66 op 514.
69 Davis supra n 53 op 335.
70 Ibid.
71 1910 (OPD) 99.
72 2003 (6) SA 272 (W).
73 Reinecke & Nienaber supra n 13 op 23.
74 Ibid.
75 2012 3 SA 292 (HHA).
76 PPS Insurance Company v Mkhabela supra n 75 op 6.
77 Idem 7 & 8.
78 Idem 9.
79 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz supra n 37 op 556-567.
80 2003 6 SA 272 (W).
81 Getz supra n 2 op 43.
82 Sien par 3 3 oor die ontwikkeling van aanvaarding in die Suid-Afrikaanse reg.
83 Sutherland supra n 3 op 210.
84 Getz supra n 2 op 44; De Wet & Van Wyk supra n 2 op 109.
85 Die aard van die regte wat die begunstigde verkry, word nie hier bespreek nie. Daar word voorgestel dat die begunstigde 'n gevestigde reg verkry sodra hy aanvaar. In die tydperk tussen dood en aanvaarding word 'n voorwaardelike reg voorgestel.
86 Crookes NO and another v Watson and others 1956 1 SA 277 (AD).
87 Getz 42.
88 1830 1 (Menz) 471.
89 Supra n 37.
90 Supra n 51.
91 Supra n 42.
92 Hutchinson supra n 7 op 237.
93 1943 (AD) 656.
94 Getz supra n 2 op 42.
95 De Wet & Van Wyk supra n 2 op 108.
96 Sutherland supra n 3 op 216.
97 Van der Merwe et al Kontraktereg: Algemene Beginsels (2007) 289.
98 De Wet supra n 24 op 152.
99 Min 'When do third party rights arise under the Contracts (Rights of Third Parties) Act 1999 (UK)' 2001 Singapore Academy of Law Journal 34.
100 The Law Commission Privity of Contract: Contract for the benefit of third parties (1996) par 2.53.
101 Contracts (Rights of Third Parties) Act 1999 art 1.
102 Idem art 2.
103 Sutherland supra n 3 op 208.
104 Lando & Hugh (eds) Principles of European Contract Law (1999) art 6: 110.
105 Nieu-Seeland Contract (Privity) Act 1982 art 4; Queensland Queensland Property Law Act 1974 art 55; Wes-Australië Western Australia Property Law Act 1969 art 11.
106 Suid-Afrikaanse Regskommissie 'Verslag oor die hersiening van die trustreg' June 1987 1-106.
107 Idem 90-91.
108 Sutherland supra n 3 op 207.