SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)

versão On-line ISSN 2224-3380
versão impressa ISSN 1726-541X

SPiL plus (Online) vol.67  Stellenbosch  2023

http://dx.doi.org/10.5842/67-1-1003 

AFRIKAANS LINGUISTICS

 

/e/en/o/, of/iə/en/uə/?

 

 

Daan Wissing

Centre for Text Technology, North-West University, Potchefstroom Campus, Potchefstroom, South Africa. E-mail: daan.wissing@nwu.ac.za

 

 

1. Inleiding

Dit is tans nog praktyk dat die lang vokale van woorde soos bees en boot fonemies as /e/ en /o/ getranskribeer word1. Dit word egter foneties nie as monoftonge geproduseer nie2, maar ongeveer as [ia] en [ua], 'n proses wat as breking of diftongering bekend staan. Hierdie verskynsel kom ook in ander Germaanse tale voor, met name in Fries (Visser 2020). In gesprekke met Andries Coetzee het dit geblyk dat hy in hierdie geval /ia/ en /ua/ as foneme gunstig oorweeg, omdat dit foneties slegs as [ia] en [ua] gehoor word. Dit is in lyn met die getrouheidsbeginsel van die optimaliteitsteorie, wat abstrakte vorme soos /e/ en /o/ verbied, asook met die siening van die natuurlike generatiewe fonologie (Hooper 1976) en die konstruksiegrammatika (Booij 2010). Aan die ander kant het ek nog altyd /e/ en /o/ as foneme aangeneem, waarvan allofoniese variante per fonologiese reëls afgelei word; dus ook dat [ia] per brekingsreël van /e/ afgelei word, en [ua] insgelyks van /o/. In hierdie kort stukkie skenk ek vanuit akoesties-fonetiese hoek aandag aan hierdie kwessie.

Ek beperk hier die aandag tot die twee middelhoë vokale, /o/ en /e/, en sluit dus in hoë mate die derde een, /0/, uit, omdat dit in groot mate ontrond tot /e/. Die wisseling tussen die drie geronde fonetiese agtervokale, [ua], [u] en [o], is bekend, so ook dié tussen die drie (ongeronde) fonetiese voorvokale [ia], [i] en [ε]. Die vraag wat ons hier konfronteer is hoe sodanige wisseling beskryf en, indien moontlik, verklaar moet word. Verder moet bepaal word of elke stel as allofone van 'n enkele vokaalfoneem is, en indien wel, wat daardie foneem is: /e/ respektiewelik /o/, dan /ia/ respektiewelik /ua/.

 

2. Data

Die vokale /e/ en /o/ word gewoonlik in beklemtoonde posisies as [ia] en [ua] geproduseer, soos in bees en boot, of in besete en verbode, asook in sinsverband in monosillabiese woorde wanneer dit sinsaksent ontvang (bv. Ag, nee, man! En Ek het dit só baie geniet!!). Soms word dit egter ook gehoor as [i] en [u]3, sowel toniese asook in bytoniese sillabes. As die produk van 'n proses van koartikulasie-op-'n-afstand4 word /e/ deurgaans [i]. Voorbeelde hiervan is die verkleiningsvorme van woorde wat op <ee> eindig, soos in die voorbeelde in (1-3)5

Volgens De Villiers en Ponelis (1987) word /ua/ "gelykgemaak tot [u:]" in vorme soos droë, droër, hoë, hoër, oë, ook nog in vorme op -oë uit -oog, soos oorloë, teoloë, verhoë. Wat [i] uit /e/ betref noem dié outeurs gevalle soos eroties, eteries, elegies, elasties, eleksie, elektries, elite, emosie, enorm, spelonk.6 Wissing (2020) wys daarop dat aanbieders van Radio Sonder Grense die foneem /e/ ook reëlmatig uitspreek as [i] in woorde soos algemene, geleenthede en Vredendal. So word /o/ as [u] uitgespreek in so, asook in samevoeginge van so met woorde soos dat, wat, dra, veel, wat en wel. Die /o/ in die tweede en derde sillabes van Limpopo is n besondere geval. Beide word afwisselend in radioverslae gehoor as lang [ua] of [u], of soms selfs as [o], die laasgenoemde waarskynlik in nabootsing van die inheemse uitspraak daarvan7. Daarenteen is /o/ in Ermelo sonder uitsondering [ua], 'n verskynsel wat waarskynlik toe te skryf is aan die feit dat dit in 'n bytoniese sillabe val (anders as by Limpópo, waar dit direk na hoofklem van die tweede sillabe voorkom). Ek noem dié geval hier, omdat klemtoonposisie in multisillabige woorde kennelik van belang is wat die betrokke vokaalvariante betref. Dit moet nog goed bestudeer word.

In artikulatoriese terme word /e/ > [i], /o/ > [u] (en ook /0/ > [y]) tans nog hoofsaaklik as vokaalverhoging beskryf, sonder 'n verklaring van waarom dit gebeur. Die vraag wat hier sprake is, is of vokaalverhoging dalk eerder vokaalwysiging, of gelykmaking, of bloot oorgang is. De Villiers en Ponelis (1987) kom die naaste aan 'n verklarende beskrywing as hulle met betrekking tot /o/ > [u] beweer: "Deur die skrapping van die schwa-afloop voor [a] word brekingsdiftonge gelykgemaak en omgeskakel tot lang hoë vokale: /buax/ 'boog' - [bu:wa]". Hulle beperk dié beskrywing egter tot /ua/. Hierdie proses beïnvloed myns insiens baie meer as slegs /o/ in gevalle soos dié, maar raak egter ook die vokale /e/ en /0/. Ook dié aspek verg nadere ondersoek.

Die akoestiese fonetiek8 kan wel n verklaring bied vir nie net /ua/ > [u] nie, maar ook vir /ia/ > [i], asook ook vir die vokaal van seuntjie, waarop ek nie nou ingaan nie. Mens kan dit 'n tipe vokaalreduksie noem, 'n proses wat ook buiten hierdie gevalle baie algemeen optree. Reduksie in hierdie geval dui op die wegval van [a] in sowel [ia] as [ua], met as resultaat [i] en [u]9. Dit kom dus baie meer algemeen voor as net in die geval van schwa ná [u], soos in /buax/ - [bu:wa], soos beskryf word deur De Villiers en Ponelis (1987).

Figuur 1 gee 'n visuele voorstelling van die akoestiese eienskappe van die vokale /e/ en /o/ in die woorde bees en boot, soos ingelees deur Andries Coetzee, aan wie ek hierdie stukkie opdra. Die vokale is ingeboks met soliede reghoeke; vertikale stippellyne begrens die onderskeie vokaliese subsegmente, soos aangedui.

Ten opsigte van die eerste twee formante, F1 en F2, kom die segmente [i] en [u] basies ooreen met dié van die hoë vokale van kies en koek, en [a] in wese met die neutrale vokaal van kis. Dit is n belangrike vraag, wat deur indringende akoesties-fonetiese ondersoeke beantwoord sou kon word, of hierdie ooreenkom tipies is van die spraak van Andries Coetzee, wie se breking van hierdie vokale nogal erg distinktief is, en of dit ook Afrikaans oor die algemeen sou geld.

Die fonetiese realisering [i] indien van /ia/ as foneem uitgegaan word, en so ook [u] wanneer /ua/ as foneem, sluit die postulering van vokaalverhoging as 'n fonologiese proses uit, indien mens dit sien as 'n fonetiese proses van vokaalreduksie. Sodanige beskrywing en verklaring is ondersteunende getuie vir Andries Coetzee se voorstel dat /ia/ en /ua/ as vokaalfoneme aangeneem moet word in plaas van /e/ en /o/, waarvan [ia] en [ua], asook [i] en [u] fonetiese realiseringe is.

Indien die vokale van bees en boot op grond van sulke akoestiese verklaringe as fonemies /ia/ en /ua/ aanvaar sou word, sou dit ook, in die breër perspektief van die vokaalsisteem van Afrikaans, sterk ondersteunend wees vir sodanige aanname indien die proses van vokaalverlaging, soos dit tans nog genoem word, op soortgelyke wyse verklaar kon word. Dit beteken, prakties, dat daar akoestiese redes gevind kan word waarom /ia/ [ε] word, en ook waarom /ua/ [o] word. Indien nie, moet die huidige verlaging steeds as 'n fonologiese proses getipeer word. Dié hele kwessie vra egter om indringende navorsing, met as uitgangspunt die akoestiese eienskappe van al die betrokke vokale.

Ek verskaf voorts gepaste voorbeelde van wat tot op hede as vokaalverhoging en vokaalverlaging getipeer is.

Daar is 'n ingewikkelde dog patroonmatige wisselwerking tussen die drie allofone [o], [u] en [o]. Die vokaal lol word dikwels [u] wanneer die klem direk ná in die sillabe met lol as kern val, soos in m[u]dél en pr[u]féssor, maar dit word [o] wanneer die sillabe direk daarna nie beklem is nie, [o] is dus ook onbeklemd. Soortgelyk is die geval van pr[u]bleem naas pr[o]blematies.11 De Villiers en Ponelis (1987) gee die volgende voorbeelde, waarin die klemtoon op die laaste sillabe lê: dokument, dolomiet, Dorothea, honorarium, logaritme, moderator, nomineer, polemiek ens. Die /o/ in die eerste sillabes word dus gevolg deur 'n atoniese sillabe. Voorts noem hulle ook nog gevalle waar [o] met [u] kan wissel in dieselfde woord: kommissariaat, korrespondeer, moderniseer, en ook nog oriënteer. Om hierdie prentjie volledig te maak, wys ek vlugtig op wat De Villiers en Ponelis (1987) noem die "historiese betrekking" tussen lol en lol in alternasies soos god - gode, gebod - gebooie, - patriot -patrioties, Anton - Antonie, lektor - lektore, senator - senatore, elektron - elektrone, sensor -sensories, waarin onderliggend lo/ die vol [u] word. 'n Omgekeerde orde word deesdae dikwels in radiouitsendings in volledig(e) met lang [ua] gehoor.

 

3. Slot

Dit is my kontensie dat bogenoemde vokaalwisselinge nie organies beskryf en verklaar kan word as die basisvokaal as lual gepostuleer word nie, soos wat wel die geval is met lual > [u], en ook lia/ > [i]. 'n Verandering van /ual in [u], en lial in [i] is aantreklik, maar dieselfde kan nie gesê word van lual > lol nie, net so ook nie van lial > lel nie. Hier is naamlik nie sprake van 'n foneties-verklaarbare wysiging van 'n vokaal nie, maar eerder 'n vervanging van twee foneme. Die totale beeld van vokaalwisseling van hierdie aard moet nog in besonderhede nagevors word voordat n finale keuse tussen /ial en lel, en tussen lual en lol gemaak kan word.

 

Erkenning

Hierdie navorsing is gedeeltelik deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS; Engels: NRF) van Suid-Afrika ondersteun. Opinies en gevolgtrekkings is die outeur s'n, en kan nie noodwendig aan die NRF toegeskryf word nie. Hierdie artikel is ook moontlik gemaak met die ondersteuning van die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR). SADiLaR is 'n navorsingsinfrastruktuur wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie van die Suid-Afrikaanse regering gestig is as deel van die South African Research Infrastructure Roadmap (SARIR).

 

Verwysings

Booij, Geert, 2010. Construction morphology. Language and Linguistics Compass 4(7):543-555. https://doi.org/10.1111/1.1749-818X.2010.00213.x        [ Links ]

De Villiers, Meyer en Friedrich A. Ponelis. 1987. Afrikaanse klankleer. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hooper, Joan B. 1976. An introduction to natural generative phonology. New York: Academic Press.         [ Links ]

Visser, Willem. 2020. Breaking. Taalportaal. https://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-14358346024113628 (19 Oktober 2023 geraadpleeg).

Wissing, Daan. 2020. Quality alternation of front vowels. Taalportaal. https://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-15153060984344629 (19 Oktober 2023 geraadpleeg).

 

 

1 Ook as /e:/ en /o:/, wat vroeër die gebruik was.
2 Met uitsondering van die variant wat in Springbok, in Namakwaland aangetref word.
3 Ek sluit hier gevalle in Kaapse Afrikaans uit van wat De Villiers en Ponelis (1987) noem suiwer verhoging, waardeur loop as [lup] uitgespreek word, gee as [xi] en neus as [nys]; hierdie vorme het dus as fonemiese vorme resp. ook /lup/, /xi/ en /nys/.
4 Waarby die hoë voorvokaal /i/ van die verkleiningsvorm 'n verhogende effek het op die vokaal voor /k/ ([c]).
5 [si: qki] / [si: jici], die diminutiewe vorm van seuntjie, is in lyn hiermee.
6 Dit is wel nie in al dié gevalle duidelik of die onderliggende vokaal wel /e/ is nie.
7 Vir meer voorbeelde vergelyk Wissing (2020).ed
8 Dit kan natuurlik nie sonder die artikulatoriese fonetiek geskied nie, maar die spektrogrammatiese voorstelling is veel meer presies, en bowendien in beginsel in terme van formantmetinge uit te druk. Dit moet in 'n volledige studie hiervan nagegaan word.
9 Schwa is 'n segment wat baie onstabiel is, en in baie ander gevalle ook geredelik wegval, soos in dadelik, nederig, terug en vergadering.
10 Ouditiewe inspeksie ondersteun die akoestiese voorstelling van dié twee vokale as bestaande uit [i] + [a], en uit [u] + [a]. Dit word duidelik deur in 'n ontledingsprogram soos Praat die betrokke segmente te isoleer en daarna te luister. Dit klink grootliks dieselfde as die vokale van woorde soos kies, kis en koek.
11 Meer voorbeelde is te vinde in Wissing (2020)

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons