SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61Interpreting research in South Africa: A bibliometric studyAfrikaanse taalvariasie: Uitdagings vir regverdige meting van jong kinders se taal author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)

On-line version ISSN 2224-3380
Print version ISSN 1726-541X

SPiL plus (Online) vol.61  Stellenbosch  2021

http://dx.doi.org/10.5842/61-0-912 

Oor Ilse Feinauer

 

 

Rufus Gouws

Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika E-pos: rhg@sun.ac.za

 

 

Reeds sedert haar studentedae het Ilse Feinauer haar onderskei as iemand met 'n besondere en veelsydige gerigtheid op en bekwaamheid in die breër terrein van die (Afrikaanse) taalwetenskap. Sy was in die gelukkige posisie om haar gevorderde nagraadse werk onder die studieleiding van bekwame studieleiers en mentors te kon voltooi - Johan Combrink as studieleier van haar MA-tesis (oor die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans) en Fritz Ponelis as promotor van haar D.Litt-proefskrif (oor woordorde in Afrikaans). Sy word reeds as nagraadse student aangestel as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch waar sy mettertyd senior lektor, medeprofessor en professor word - die eerste vrou om aan hierdie universiteit professor in Afrikaanse taalkunde te word.

Na voltooiing van haar proefskrif sit sy haar onderrig en navorsing voort met sintaksis as voorkeurrigting, maar sy het haar ook tot ander rigtings in die taalkunde gewend - onder meer as medesamesteller van 'n Afrikaanse aanleerderwoordeboek - en as Sekretaris van die Taalkommissie van die SA Akademie het sy meegedoen aan die voorbereiding van die negende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

'n Wesenlike keerpunt in haar akademiese loopbaan het gekom toe sy weens personeelverandering in haar Departement die leiding moes neem in die destydse Nagraadse Diploma in Vertaling. Vertaling as wetenskaplike veld het gou geblyk aan haar die ideale omgewing te bied vir haar veelsydige taalkundige belangstelling. Onder haar leiding is Vertaling uitgeberei om naas die Nagraadse Diploma ook 'n honneurs-, 'n MA- en 'n PhD-program in te sluit. 'n Belangrike toegevoegde waarde wat dit meegebring het, was dat hierdie programme nie net Afrikaanse studente gelok het nie. Uit Suid-Afrika, van elders in Afrika maar ook uit ander vastelande het studente aangemeld vir opleiding in Vertaling. In samewerking met haar kollega Harold Lesch het Tolking ook 'n nis binne hierdie program gekry en kollega Amanda Lourens het Redigering tot die Program gevoeg. Studente kry 'n omvattende opleiding in die breë veld van die taalpraktyk. Die Program vir Vertaling is 'n uitnemendheidsentrum wat reeds aan talle MA- en PhD-studente die geleentheid gebied het om hulle navorsing oor 'n breë onderwerpspektrum suksesvol te voltooi. Studente wat in hierdie program afstudeer, is gesog in die arbeidsmark en die Suid-Afrikaanse taalpraktyk vind baie baat by hierdie taalpraktisyns. In hierdie Program het Ilse 'n aktiewe wisselwerking tussen teorie en praktyk ingebou wat ook daartoe gelei het dat dit 'n trekpleister vir verskeie internasionale vertaalkundiges geword het wat graag hier kom doseer, navorsing doen en in gesprek tree met Ilse Feinauer.

Ilse se eie navorsing fokus tans veral op sosiokognitiewe vertaalteorie wat vertaalprosesse en -netwerke ondersoek. Sy publiseer gereeld en haar artikels in tydskrifte, haar hoofstukke in boeke, haar bydraes in kongresreferaatbundels en haar boeke verryk die vakliteratuur en word wyd aangehaal en bestudeer. Sodoende stimuleer sy verdere navorsing in haar vakgebied. As gevestigde internasionale akademikus tree sy gereeld by internasionale kongresse op en sy doseer as gasdosent aan die KU Leuven, die Universiteit van Gent, Humboldt Universiteit in Berlyn, en die Universiteit van Melbourne.

Haar deelname aan internasionale verenigings en kongresse het daartoe gelei dat die European Society for Translation Studies, die EST, se negende kongres in 2019 vir die eerste keer buite Europa aangebied is en wel op Stellenbosch - met Ilse as die hooforganiseerder. Sy is sedert 2016 ook lid van die EST-Raad.

Haar internasionale betrokkenheid het nooit afgebreek gedoen aan haar gerigtheid op die uitbouing van haar vakgebied op haar eie vasteland en ten opsigte van haar eie taal nie. Sy was stigterslid en is tans Raadslid van ATSA, die Association for Translation Studies in Africa. Dié vereniging skep die geleentheid vir akademiese samewerking tussen vertaalkundiges uit verskeie lande in Afrika. Ilse Feinauer se voortgesette aktiewe betrokkenheid by die Afrikaanse taalkunde lei daartoe dat sy die eerste bekleër word van die Ton en Anet Vosloo-Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Ilse se veelsydigheid is nie beperk tot akademiese werk nie. Aan die Universiteit Stellenbosch speel sy 'n leiersrol met suksesvolle termyne as departementele voorsitter en as visedekaan agter die rug. Sy bly betrokke by verskeie komitees wat put uit haar akademiese, vakkundige en bestuursvaardigheid. Sy was die afgelope termyn ook lid en dagbestuurslid van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en is tans ondervoorsitter van dié Raad.

Met hierdie huldigingstydskrif bring enkele kollegas en oudstudente, ook namens talle ander, hulde aan 'n gesiene, gewaardeerde en toegewyde vriendin, kollega, navorser en akademikus.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License