SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61Construction of deaf narrative identity in creative South African Sign LanguageInterpreting research in South Africa: A bibliometric study índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)

versão On-line ISSN 2224-3380
versão impressa ISSN 1726-541X

SPiL plus (Online) vol.61  Stellenbosch  2021

http://dx.doi.org/10.5842/61-0-914 

'n Vergelykende ondersoek na die Afrikaans- en Zulu-vertalings van "South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects" deur Adam Habib

 

 

Marné Pienaar

Departement Tale, Kuituurstudie en Toegepaste Linguïstiek, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika E-pos: mpienaar@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

In 2013 verskyn South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects deur Adam Habib. Habib het die Wits Language School genader en gevra dat 'n verkorte weergawe van die boek in Zulu, Noord-Sotho en Afrikaans vertaal word. Die vertaalopdrag het gevra dat die vertalings baie na aan die oorspronklike moes wees wat betref terminologie sodat die oorspronklike argument skerpsinnig en oortuigend bly. Die taalgebruik moes so eenvoudig moontlik wees en die titel, prikkelend. In hierdie artikel word die Zulu- en Afrikaanse vertaling met mekaar vergelyk en word daar aangetoon hoe die twee vertaalspanne, weens verskille in teikengehore, maar veral weens verskille in die moontlikhede en beperkings van die tale waarin hulle vertaal, hulle tot verskillende vertaalstrategieë gewend het sodat elke finale produk wesenlik van die ander een verskil. As gevolg van die voorkoms van zero-ekwivalensie moes die Zulu-vertalers dikwels gebruik maak van vertaalstrategieë soos parafrasering en eksplitering wat gelei het tot 'n toegankliker teks as wat die geval met die Afrikaanse teks was. Die Afrikaanse vertaalspan is bykans glad nie met zero-ekwivalense gekonfronteer nie. Die gebruik van gestandaardiseerde terme het egter die toeganklikheid van die teks verlaag sodat die Misindeks van die finale produk 14,2 meet. In terme van die vertaalopdrag het die Afrikaanse teks dus waarskynlik nie in sy doel geslaag nie.

Sleutelwoorde: vertaling; zero-ekwivalensie; vertaalstrategieë; parafrasering; standaardtaal; leesbaarheid


ABSTRACT

In 2013 Adam Habib published South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects. Habib approached the Wits Language School and asked for the translation of a condensed version of the book into Zulu, Northern Sotho and Afrikaans. The translation brief requested that the translations should be very close to the original in as far as the use of terminology was concerned to ensure that the orrignal argument remains shrewd and convincing. The language was to be as plain possible, and the title catchy. In this article the Zulu and Afrikaans translations are compared and it is shown how the two translation teams, due to differences in their respective target audiences, but primarily due to the differences in the possibilities and limitations of the languages into which they translated, made use of differerent translation strategies resulting in the final products differing from each other substantially. As a result of zero equivalence, the Zulu translators often had to make use of translation strategies such a paraphrase and explitation which resulted in a more accessable text as what was the case with the Afrikaanse text. The Afrikaans team was not confronted with zero-equivalence. However, the use of standardised terms made the text less accessable and the Fog Index rating of the final text is 14,2. In terms of the translation brief, the Afrikaans text probably did not succeed in its goal.

Keywords: translation; zero equivalence; translation strategies; paraphrasing; standardized language; readability


 

 

1. Inleiding

Adam Habib se boek South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects verskyn in 2013. Die boek kan beskryf word as 'n analise van die politieke en ekonomiese evolusie in postapartheid Suid-Afrika. Die skrywer ontbloot institusionele struikelblokke en bespreek die magsbalans in Suid-Afrika se politieke arena. Hedendaagse vraagstukke soos dienslewering en verantwoordbaarheid, skuiwe in ekonomiese beleid, die rol van die burgerlike samelewing en die lewensvatbaatheid van 'n sosiale verdrag word uiteengesit. Habib ondersoek die faktore wat politieke en beleidsuitkomste beïnvloed, naamlik die sakesektor, buitelandse beleggers, vakunies, burgerlike organisasies asook globale magte en instellings. Hy werp lig op hoe individue en instellings met 'n bietjie verbeelding kan opstaan teen die kern van 'n gegewe historiese moment en dit kan verander.

Habib het die Wits Language School genader en gevra dat 'n verkorte weergawe van die boek in Zulu, Sotho en Afrikaans vertaal word. Habib het gesê dat die publikasie van die verkorte weergawe in dié drie tale as 'n strategie gesien moet word om wyer toegang tot die politieke debat in Suid-Afrika te verseker.

In 2014 verskyn die verkorte Zulu-weergawe van die boek as Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba, die Sotho-weergawe as Ntwa ya Boitseko e Fanyehuweng ya Afrika Borwa Ditshepo le Ditebello en die Afrikaanse weergawe as Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte.

In 2016 voltooi Bongeka Selepe 'n MA-verhandeling met die titel South Africa's Suspended Revolution in isiZulu Translation - A Critical Reflection waarin sy as een van die vertalers van die Zulu-teks, maar ook as student in vertaalkunde, besin oor die vertaalproses en die finale vertaalproduk. Sy neem die vertaalopdrag as vertrekpunt waarin die oorspronklike outeur versoek dat die vertaling(s) baie na aan die bronteks moet wees wat betref terminologie ten einde te verseker dat die argument skerpsinnig (shrewd), maar ook oortuigend bly. Verder het die vertaalopdrag vereis dat die taalgebruik so eenvoudig moontlik moes wees sodat die boodskap maklik verstaan kan word deur alle Suid-Afrikaners wat sprekers/lesers is van enige een van die drie tale waarin teks vertaal word. Wat die titel betref, is daar versoek dat dit prikkelend (catchy) moes wees.

As een van die vertalers van die Afrikaanse teks, is ek geboei deur Selepe se ondersoek en was dit vinnig duidelik dat die vrae of kwessies wat sy tydens die vertaling van die teks in Zulu teëgekom het, verskil het van dit wat in die vertaalproses in Afrikaans na vore gekom het.

In hierdie bydrae sal daar gevolglik vergelykend gekyk word na die Zulu- en Afrikaanse vertalings van die teks. Daar sal gelet word op die verskille tussen die teikengehore van die twee tekste, die verskille en ooreenkomste in die vertaalproses, vertaalprobleme en die aanwending van vertaalstrategieë.

Die doel van die bydrae is om aan te toon hoe vertalers van dieselfde (Suid-Afrikaanse) teks in twee afsonderlike Suid-Afrikaanse tale, weens verskille in teikengehore, maar veral weens verskille in die moontlikhede en beperkings van die tale waarin hulle vertaal, hulle tot wisselende vertaalstrategieë gewend het sodat elke finale produk wesenlik van die ander een verskil.

Volgens Wits Press1 is die bronteks gerig op veral twee gehore: akademici, studente, navorsers, beleidsanaliste en joernaliste enersyds en andersyds op leke of nonspesialiste met 'n belangstelling in die Suid-Afrikaanse politiek. Selepe (2016: 4) merk tereg op dat daar aanvaar kan word dat die teikenlesers van die doelteks sal verskil van die teikenlesers van die bronteks aangesien daar aangeneem is dat lesers wat werklik vertroud is met onderwerp eerder die vollengte teks in Engels sal lees. Dit sluit ook aan by die vertaalopdrag wat hierbo uiteengesit is. Gevolglik is daar voorsien dat die teikengehore in die drie vertalings Jan en San Publiek sou wees wat nie noodwendig 'n hoë vlak van onderwysopleiding het nie, maar wat geletterd is in een van die drie tale en wat 'n belangstelling in politiek het.

 

2. Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba

Ná afloop van haar kritiese analise van die Zulu-teks, lewer Selepe (2016: 40-70) kommentaar op sekere aspekte van die vertaling, naamlik die omslag van die boek, die vertaling van die titel, die vertaalproses waar sy veral fokus op probleme en die gebruik van vertaalstrategieë, die finale produk en wyses waarop die vertaling moontlik verbeter kon word.

2.1 Die omslag

Wat die omslag van die boek betref, wys sy daarop dat drie verskillende kleure gebruik is vir die omslae van die vertalings. Die oorspronklike Engelse teks het 'n geel omslag, dié van die Zulu-teks is rooi, die Sotho-weergawe is groen en die Afrikaans blou. Volgens haar (Selepe, 2016: 40) is die kleure lukraak gekies en in wese betekenisloos.

 

Figuur 1

 

Inderdaad verskil die omslae van die 3 vertaalde tekste nie wesenlik van mekaar nie. Dit is wel opvallend dat die Engelse teks nie 'n foto van Habib bevat nie.

2.2 Die titel

Selepe (2016: 40-41) bespreek die keuse van die titel in die Zulu-uitgawe en meld dat die term "revolution" probleme opgelewer het. Lede van UMZUKWE, die Nasionale Taalliggaam vir Zulu, taalpraktisyns insluitende die Hansard en die taaleenhede van die Gauteng en KwaZulu-Natal wetgewers, die Pan- Suid-Afrikaanse Taalraad, die Nasionale Taaldiens van die Departement van Kuns en Kultuur, die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut, studente en dosente van Wits en die Universiteit van KwaZulu-Natal asook radio- en televisie-aanbieders en die redakteurs van Zulu-koerante het almal koppe bymekaar gesit. Die meerderheid het aangedui dat "umzabalazo" wat in Engels vertaal word met "struggle", die mees gepaste vertaalekwivalent sou wees. Ander het egter gemeen dat die term sy eie eksklusiewe woord regverdig en die term "inguqukombuso" is gevolglik geskep wat in Engels terugvertaal word as "the changing of government". Daar is lank besin oor die gebruik van die twee terme met die argument dat die meeste Zulu-sprekers vertroud sou wees met die eerste term, maar dat die tweede, as nuutskepping, moontlik nie deur almal verstaan sou word nie. Daar is besluit om die twee terme in die breër Zulusprekende gemeenskap te toets en agt moontlike titels is aan die gemeenskap voorgehou. Uiteindelik is daar op "inguqukombuso" besluit. Die finale titel is Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba wat terug vertaal kan word as "The Revolution of South African that was stirred and then left unattended: Hopes and Prospects".

2.3 Die vertaalproses

Selepe (2016: 6-8) wys op 'n aantal probleme wat die Zulu-vertaling van meet af opgelewer het. Eerstens het die verskynsel van zero-ekwivalensie waar terme wat in die Engelse bronteks gebruik is, nie geredelik beskikbaar is in Zulu nie, hom voorgedoen. Tweedens moes die vertalers (daar was drie) 'n besluit neem oor die variëteit wat gebruik sou word aangesien die Zulu wat in Kwa-Zulu-Natal gepraat word, verskil van die Zulu wat in Gauteng gepraat word. Selfs iets soos die konvensie rakende getalle en datums was problematies. In gestandaardiseerde Zulu is daar streng ortografiese reëls vir die skryf van getalle en datums. Desnieteenstaande vind sommige Zulusprekendes dit moeilik om getalle en datums in Zulu aan te dui op 'n manier wat sin maak. Om die probleem te vermy, het die vertalers besluit om nie by die gestandaardiseerde ortografiese reëls te hou nie, maar om ter wille van toeganklikheid, die getalle in Engels aan te dui.

Weens die verskil in die teikengehoor van die bron- en doelteks, het die vertalers besluit om die taalgebruik bykans te oorvereenvoudig en veral van eksplisitering en parafrasering as strategieë gebruik te maak.

Baker (2011: 23-44) wys daarop dat zero-ekwivalensie op verskillende maniere hanteer kan word en maak die punt dat daar geen vaste resep vir die hantering daarvan is nie. Sy wys egter wel op die volgende nege strategieë wat algemeen deur professionele vertalers wat met hierdie probleem gekonfronteer word, gebruik word:

i. Die gebruik van 'n kultuurspesifieke item om die oorspronklike item mee te vervang. Hierdie strategie is nie in die Zulu-vertaling gebruik nie, maar 'n tipiese voorbeeld sou iets wees soos waar "braai" in Afrikaans met "izoso" in Zulu vertaal word (Cornelius & Pienaar, 2018: 118).

ii. Die vertaling vind plaas deur gebruik te maak van 'n meer algemene woord ('n superordinaat). In Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba word "assassination" vertaal as "being killed" in die Engelse terugvertaling en Selepe (2016: 65) regverdig die gebruik van die strategie soos volg: "In isiZulu, the terms 'kill', 'murder', 'assassinate' are not separated, so instead of coining a new word or using a loan word the translator decided to use the common superordinate".

iii. 'n Meer neutrale woord word gebruik. In die Zulu-teks is die woord "intelligentsia" byvoorbeeld vertaal met die frase wat in Engels terugvertaal kan word as "a group of educated individuals" (Selepe, 2016: 63).

iv. 'n Suiwer of 'n verinheemsde leenwoord word gebruik. Selepe (2016: 63) toon aan dat die woord "scandals" net so in die teikenteks oorgeneem is. Dit sou as 'n voorbeeld van 'n suiwer leenwoord beskou kan word. Daarteenoor is die woord "ombudsman" verinheems as "u-ombudisimani".

v. Gebruik 'n leenwoord plus 'n verduideliking. Hierdie strategie word nie in die Zulu-vertaling gebruik nie, maar 'n voorbeeld sou wees waar "dikkop" in Afrikaans as "dikkop bird" in Engels vertaal word (Müller & Feinauer, 2008: 138).

vi. Parafrasering. Twee tipes parafrasering kan onderskei word, naamlik parafrasering deur die gebruik van verwante woorde of parafrasering deur die gebruik van onverwante woorde. Die Zulu-vertalers het "lifting the state of emergency" geparafraseer deur verwante woorde te gebruik. Die terugvertaling lui soos volg: "Withdrawel of the announcement by government that people should stop everything in order to prepare for the state of emergency". Daarteenoor is onververwante woorde gebruik in die parafrasering van "granting immunity" as "stop the arresting of" (Sepele, 2016: 64).

vii. Weglating. Die strategie behels dat 'n woord gewoon wegvertaal word. In die Zulu-teks is die woord "prism" wegvertaal. Die bronteks lees soos volg: "South Africa's potential future is therefore imagined through the prism of the character of its leaders".

Selepe (2016: 63) verduidelik die vertalers se besluit om "prism" weg te laat: "The term 'lizibonokalisa', which was used to translate 'imagined though', also covers 'prism' which in a sense means 'it reflects' on the leaders of South Africa. There was no need to repeat 'prism' in the translation as the notion of it was already explained by the preceding words in the translation".

viii. Byvoeging. Bykomende inligting word in die doelteks gegee om die woord minder dubbelsinnig te maak of om die implisiete betekenis duideliker te maak. Ten einde die doelteksleser op te lei word "blondir" in Frans as "blondir of braai liggies oor 'n lae hitte" in Afrikaans vertaal. Dié strategie is nie in die Zulu-teks gebruik nie.

ix. 'n Illustrasie, 'n simbool of piktogram soos IMAGEMAQUI word bygevoeg. Dié strategie is nie in die Zulu-vertaling gebruik nie.

Selepe (2016: 63-67) lys 42 (eintlik 41, aangesien een term herhaal word) woorde of uitdrukkings waarvoor daar nie ekwivalente in Zulu beskikbaar was nie. So is "Zanufication" byvoorbeeld geparafraseer en die Engelse terugvertaling is: "It is to imitate what Mugabe of ZANU PF in Zimbabwe does, which is to use dictatorship in his governing style". Die terugvertaling in Engels van "Ultra-leftist" is "people on the side that is sympathetic to the poor but who exaggerate it and do not even want to collaborate with the other groups that are also sympathetic to the poor" en dié van "sunset clause" as "a clause that has a time frame". In 30 van die 41 gevalle van zero-ekwivalensie is parafrasering as vertaalstrategie gebruik.

Die neiging om parafrasering as voorkeurstategie aan te wend kom ooreen met navorsing oor die vertaling van ander tekste in Zulu, maar kom ook in Noord-Sotho voor. In hulle ondersoek na voorkeurstrategieë in die Noord-Sotho-vertaling van Terminologie van het tolken het Cornelius en Pienaar (2018: 124) ook tot die slotsom gekom dat die parafrasering die vertalers se voorkeurstrategie was en sê dat parafrase dit moontlik maak om konteks aan die gebruiker te gee en sodoende beter betekenisleiding aan teikenlesers te bied. Taljard (2008) maak dieselfde aanspraak rakende Noord-Sotho en Ngobeni (2013) en Malindi (2015) meld dat dit ook Zulu geld.

2.4 Die finale produk

Selepe (2016: 68-70) kom tot die gevolgtrekking dat die Zulu-vertaling van South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects uitvoering aan die vertaalopdrag gegee het. Naas die uitdaging wat die terminologie ingehou is (kyk 2.3 hierbo), is die taalgebruik in die vertaling ryk en net so prikkelend as die taalgebruik in die bronteks. Wat haar betref, is die teks op so 'n wyse vertaal dat alle Zulusprekendes, ongeag van waar in Suid-Afrika hulle vandaan kom, die teks sal kan verstaan omdat daar op algemene terme gesteun is en dialektiese woorde vermy is. Sy meen dat dit gedoen is sonder om afbreuk te doen aan die ekonomiese en politieke taal in die bronteks. Die terminologie het toepaslik vir die genre gebly en is getrou aan die oorspronklike doelwitte van die teks. Die Zulu-vertaling bereik die oogmerk van die oorspronklike teks want

... when one is done reading the book, s/he gets that inspiration to want to be part holding the leaders of the country accountable. One gets inspired to be part of making South Africa a better country. The target text has the same effect as per the objectives of the author (Selepe 2016: 68).

Selepe toon nie aan hoe sy tot hierdie gevolgtrekking kom nie en meld wel later dat die vertaalde teks nie voor publikasie aan teikenlesers voorgehou is nie. Sy stel dit wel dat die vertalers aan detail aandag gegee het, en dat die sinne in die boek koherent en verstaanbaar is. Sy sluit haar evaluering af deur te sê dat die struktuur van die teikenteks presies dieselfde as die bronteks is en dat die inligting in elke reël, paragraaf en opskrif in die teikenteks ooreenstem met die bronteks. Daarbenewens is die terminologie wat gebruik is, gepas en is alle afdelings volledig.

2.5 Wyses waarop Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba verbeter kon word

Daar is nie iets soos 'n perfekte vertaling nie. By nabaat voel Selepe (2016: 69-70) dat sekere frases of uitdrukkings wel anders of beter hanteer kon gewees het. Volgens haar het die beperkte tyd wat beskikbaar was (Augustus tot Desember 2013 - dus vier maande) moontlik tog 'n inpak op die finale kwaliteit van die vertaling gehad.

As voorbeeld noem sy die term "culminated" wat volgens haar nie akkuraat in die eerste hoofstuk vertaal is nie. Dit is vertaal met "okwabonakala" (terugvertaal in Engels is dit "which was seen") terwyl die beste term volgens haar "okwahohla" (terugvertaal in Engels is dit "which calmed down") sou wees.

Sy maak verder die punt dat die vertalers waarskynlik die taalaanbod in Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba kon verryk het deur alle Engelse idiomatiese uitdrukkings met gepaste idiomatiese uitdrukkings in Zulu te vertaal in plaas daarvan om eenvoudiger, verduidelikende taal te gebruik. Sy staaf haar stelling deur te verwys na die vertaling van die frase "created political waves" wat vertaal is as "ukususa omkhulu umsimdo" ("causing a big noise") terwyl die idiomatiese uitdrukking "ukususa udweshu" ("causing a serious conflict") meer gepas sou wees.

 

3. Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte

In die gedeelte wat hier volg, word daar na aanleiding van Selepe (2016) se besprekings en bevindinge van die Zulu-vertaling van South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects, vergelykenderwys na die Afrikaanse vertaling gekyk. Dieselfde onderafdelings sal hanteer word, naamlik die omslag, die vertaling van die titel, die vertaalproses, die finale produk en wyses waarop die vertaling moontlik verbeter kon word.

3.1 Omslag

Soos hierbo in 2.1 genoem, is verskillende kleure vir die omslae van die onderskeie tale gebruik. Die oorpronklike Engelse teks het 'n geel omslag, dié van die Zulu-teks is rooi, die Sotho-weergawe is groen en die Afrikaans blou. Dit wil voorkom asof die kleure lukraak gekies en in wese betekenisloos is. Dis wel opvallend dat die omslag van die bronteks nie 'n foto van Habib op het nie, terwyl al drie die vertaalde weergawes wel 'n foto van hom op het.

3.2 Titel

Die Engelse titel South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects is aanvanklik as Suid-Afrika se opgeskorte rewolusie: verwagtinge en vooruitsigte vertaal. Die uitgewer het egter gemeen dat die spanning wat in "suspended" lê, nie genoegsaam deur "opgeskorte" vasgevang word nie. Verder het hulle gevoel dat dit nie genoegsaam aan die vertaalopdrag voldoen wat pertinent gevra het vir 'n prikkelende vertaling nie. "Hopes" vertaal moeilik in Afrikaans aangesien Afrikaans nie 'n meervoudsvorm vir "hoop" het nie. Die mees voor die hand liggende vertaalekwivalent is "verwagtinge". Die uitgewers het gemeen dit is te akademies en het gevoel dat "drome" dalk meer gepas sal wees.

Die titel is toe verander na Suid-Afrika se hangende rewolusie: drome en vooruitsigte. Die uitgewers het hierop gereageer deur daarop te wys dat die woorde "drome" en "vooruitsigte" die titel te lank maak en 'n Hangende rewolusie: Suid-Afrika se vooruitsigte voorgestel. Die uitgewers het steeds gereken die titel is te akademies en uiteindelik is daar op Rewolusie opys - Suid-Afrika se vooruitsigte besluit.

In teenstelling met die roete wat die Zulu-vertalers met die vertaling van die titel gevolg het, waar agt moontlike titels aan kundiges voorgehou is, het die Afrikaanse vertalers nie werklik 'n sê in die finale, na hulle mening, anglisistiese titel gehad nie. "Om iets op ys te sit" is 'n direkte vertaling van die Engelse "to put something on ice". Die aanlyn thefreedictionary2 gee as tweede moontlike betekenisverklaring die volgende: "To postpone or delay acting on or interacting with a person". Alhoewel die uitdrukking (via Engels) moontlik aan Afrikaanssprekendes bekend is, is dit gesels- en nie standaardtaal nie. Dié betekenisonderskeiding in Afrikaans word byvoorbeeld glad nie aangetoon in die 6de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal nie (Luther, Pheiffer & Gouws, 2015: 1610).

3.3 Die vertaalproses

In 2.3 hierbo is daar gewys op veral twee probleme wat die Zulu-vertalers tydens die vertaalproses moes hanteer, naamlik die keuse van die geskikte variëteit en die probleem rakende zero-ekwivalensie. Die Afrikaanse vertalers het nie die moontlikheid van die gebruik van ander variëteite oorweeg nie en Standaardafrikaans is gebruik met inagneming van die vertaalopdrag waarvolgens die taalgebruik toeganklik moes wees.

Die feit dat die standaardisering van Afrikaans reeds in 1917 begin het met die verskyning van die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls (Van Rensburg, 2017), die daaropvolgende verskyning van talle woordeboeke, vakwoordeboeke, grammatikas en so meer het gesorg dat die Afrikaanse vertalers nie gekonfronteer is met die dilemma rakende zero-ekwivalensie soos wat die Zulu-vertalers dit ervaar het nie. Vertaalekwivalente was geredelik beskikbaar.

In vertaalteorie is daar verskillende sienings betreffende wat vertaalekwivalensie behels. Kenny (2001: 77) som die verskillende standpunte soos volg op: Ekwivalensie word gewoonlik bewerkstellig deurdat woorde in die bronteks en die doelteks na dieselfde ding in die werklike wêreld verwys op grond van hulle referensiële of denotatiewe ekwivalensie. Die woorde in die bronteks en die doelteks sneller dieselfde of soortgelyke assosiasies in die gedagtes van moedertaalsprekers van die twee tale; die konnotasie is dus dieselfde. Die term "teksnormatiewe ekwivalensie" word gebruik om te verwys na waar woorde in die bronteks en doelteks in dieselfde of soortgelyke kontekste in die onderskeie tale gebruik word. Pragmatiese (ook genoem dinamiese) ekwivalensie dui daarop dat die bronteks- en doeltekswoorde dieselfde effek op die onderskeie lesers het. Die idee van ekwivalensie kan ook uitgebrei om die ooreenkoms in die inligtingsvloei tussen die bron- en doelteks na aanleiding van die gebruik van soortgelyke kohesiemerkers aan te dui. Dit staan bekend as tekstuele ekwivalensie. Dis is egter ook so dat nie alle veranderlikes in vertaling in elke situasie ter sprake is nie en vertalers moet besluit watter oorwegings hulle wil prioritiseer ten einde 'n tipe funksionele ekwivalensie te bereik.

Wat leksikale ekwivalensie betref (dit wat veral aan die Zulu-vertalers hoofbrekens besorg het), word daar tussen vier soorte onderskei, naamlik een-tot-een-ekwivalensie, een-tot-meer-ekwivalensie (waar daar meer as een vertaalekwivalent in die doelteks is), een-tot-deel-van-een-ekwivalensie (waar 'n doeltaaluitdrukking 'n deel van 'n konsep dek wat in die brontaal met 'n enkele woord aangedui word en zero-ekwivalensie (waar daar geen ekwivalent in die doeltaal is nie) (Kenny, 2001: 78).

Indien die lys van 41 woorde of frases wat deur Selepe (2016: 63-67) aangegee word as voorbeelde van gevalle van zero-ekwivalensie in Zulu, en waar die vertalers hulle gevolglik op vertaalstrategieë moes verlaat, in die Afrikaanse vertaling nagegaan word, blyk dit dat vertaalekwivalente in 40 van die 41 gevalle beskikbaar was:

Die enigste geval waar 'n leksikale vertaalekwivalent nie gebruik is nie, is in die geval van "making political waves". Die sin in die bronteks lees soos volg: "Similarly, Mbeki's suspension of Vusi Pikoli as head of the NPA in 2008 created political waves, and was seen as indirectly protecting then police commissioner Jackie Selebi from prosecution" (Habib, 2013: 6). Die Afrikaanse sin lui soos volg: "Net so is die skorsing van Vusi Pikoli deur Mbeki, as hoof van die NVG gesien as 'n poging om die toenmalige polisiekommisaris, Jackie Selebi teen vervolging te beskerm" (Habib, 2014a: 9). By nabetragting is dit nie duidelik waarom "making political waves" wegvertaal is nie, aangesien dit maklik met "politieke opslae" of "politieke beroering" vertaal sou kon word. Die feit bly dat die Afrikaanse vertalers nie met zero-ekwivalensie gekonfronteer is nie en hulle gevolglik nie tot dieselfde mate tot die gebruik van vertaalstrategieë moes wend soos in die geval van die Zulu-vertaling nie.

Indien die vertaalekwivalente in figuur 2 hierbo nagegaan word, blyk dit dat een-tot-een-ekwivalensie dikwels voorgekom het (bv. "temerity - vermetelheid", "prism - prisma", "cosmopolitan - kosmopolitaanse", "intelligentsia - intelligentsia", "scandals - skandale", "stuff of legend - legendaries", om 'n paar te noem). In sekere gevalle was daar ook gevalle van een-tot-meer-ekwivalensie. "thesis" kan byvoorbeeld met "stelling", "tese" of "hipotese" in Afrikaans vertaal word. "(T)heir chances at the feeding trough" sou sonder verlies aan betekenis direk vertaal kon word as "hulle beurt by die voerbak". "Janus-faced" kan in Afrikaans vertaal word met "Janus-gesig". Die konteks van die teks waarin dit gebruik word, het die vertalers egter daarvan laat afsien:

South Africa's democratic transition has been characterised by two distinct transitional processes: political democratisation and economic liberalisation. The goal of the first is representative government. The aim of the second is the integration of South Africa into the global economy. From the early 1990s, COSATU's leadership was refreshingly aware of the dilemmas spawned by this Janus-faced transition, and during the first few years of the negotiations period, they groped their way towards a new strategic vision.

(Habib, 2013: 83-84)

Alhoewel die vertalers aanvaar het dat die betekenis van 'n Janus-gesig oorspronklik gedui het op 'n Romeinse god met twee gesigte waarvan een na die verlede en een na die toekoms kyk, is daar besluit dat die bykomende betekenis van "huigelagtig" in Afrikaans, die bedoeling van die bronteks kan verwring en is "Janus-faced" met "tweeledige" vertaal.

In teenstelling met die Zulu, het die Afrikaanse vertaalproses nie met die probleem van zero-ekwivalensie te kampe gehad nie en is daar ook nie ernstig besin oor die geskikte variëteit nie - Standaardafrikaans is gebruik.

3.4 Die finale produk

Selepe (2016: 68-70) kom tot die gevolgtrekking dat die Zulu-vertaling van South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects uitvoering aan die vertaalopdrag gegee het (kyk 2.4 hierbo). Sy meen dat alle Zulusprekendes die teks sal kan verstaan en dat die struktuur van die teikenteks presies dieselfde as die bronteks is, dat die gepaste terminologie gebruik is, en alle afdelings volledig is.

Wat Rewolusie opys - Suid-Afrika se vooruitsigte betref, geld dieselfde wat betref die struktuur en terminologie, maar is daar die vermoede dat ALLE Afrikaanssprekendes nie noodwendig die teks (en gevolglik nie in ooreenkoms met die vertaalopdrag) sal verstaan nie. Die rede hiervoor hou moontlik verband met die feit dat die Afrikaanse vertalers nie genoodsaak was om weens zero-ekwivalensie van parafrasering en eksplisitering gebruik te maak nie.

Ten einde die vermoede rakende die moontlike mindere toeganklikheid van die Afrikaanse vertaling te toets, is daar besluit om die leesbaarheid van die finale teks te probeer bepaal. Jansen, Richards en Van Zyl (2017: 149) ondersoek vier leesbaarheidsformules (twee deur Van Rooyen, 1986 een deur McDermid Heyns, 2007 en een deur McKellar, 2008) in Afrikaans met die oog op die uiteindelike ontwikkeling van 'n geoutomatiseerde leesbaarheidtoets in Afrikaans. Hulle wys daarop dat leesbaarheidstoetse, veral na aanleiding van Rudolph Flesch se werk in 1948, heelwat aandag ontvang; aanvanklik grootliks in Engels, maar deesdae ook in ander tale. Flesch se metode neem die gemiddelde aantal woordlengte gemeet aan die hand van die gemiddelde aantal sillabes per woord en die gemiddelde sinslengte in terme van woorde, as vertrekpunt. Jansen, Richards en Van Zyl (2017) kom tot die gevolgtrekking dat met die uitsondering van die McDermit Heyns-formule, die ander drie leesbaarheidsformules nie werklik goeie voorspellers van die uiteindelike leesbaarheid van tekste in Afrikaans is nie.

Cornelius (2012: 68) deel die siening dat leesbaarheidsformules nie altyd betroubaar is nie aangesien formules misleidend of gewoon verkeerd kan wees, nie aandui wat 'n teks moeilik maak of hoe dit verbeter kan word nie en nie noodwendig 'n aanduiding gee van wie die teikenlesers is nie. Verder kan die formules nie die teksontvangers se voor- of domeinkennis en hulle vermoë of onvermoë om geïmpliseerde en komplekse afleidings te maak, voorspel nie. Formules kan ook nie aanduiding gee van "produseerders en ontvangers se motivering, belangstelling, doel, sosiale en kulturele agtergrond en omstandighede nie en ook nie verskille in dekoderings- en ontledingsvaardighede nie" (Cornelius, 2012: 68).

Om terug te kom by Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte en die vermoede dat die teks nie noodwendig deur alle Afrikaanssprekendes verstaan sal word nie (en met inagneming van die feit dat formules nie feilloos is nie), is Combrink se Misindeks (Fog Index) soos uiteengesit deur Cornelius (2012: 68) gebruik om die eerste 100 woorde aan die begin van elke hoofstuk te toets.

Die Misindeks is in 1989 deur Combrink vir Afrikaans aangepas en getoets op basis van die Gunning Fox Index. Die eerste lid van die samestelling (mis-) dui op die mate van ondeursigtigheid of kompleksiteit van die teks. Combrink se Misindeks kan aan die hand van die volgende analogie verduidelik word: 'n motorbestuurder wat deur digte newel ry, sal probleme met sig ervaar. So sal 'n teksontvanger wat 'n teks met 'n hoë Misindeks lees, probleme met begrip ervaar; gebrek aan leesbaarheid beïnvloed begrip, net soos wat newel sig beïnvloed.

Cornelius (2012: 68) wys daarop dat die Misindeks sinslengte en meerlettergrepige woorde gebruik as aanduiders van kompleksiteit. Haar uiteensetting word vervolgens gebruik om die kompleksiteit van Rewolusie opys - Suid-Afrika se vooruitsigte te bepaal.

1. Kies 'n stuk teks van 100 woorde of meer. Indien die 100ste woord in die middel van 'n sin voorkom, tel aan tot aan die einde van die sin: Die geselekteerde gedeeltes in Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte het gemiddeld as die hele sin in berekening gebring is en daar nie by die 100ste woord opgehou tel is nie, uit 116 woorde bestaan.

2. Die gemiddelde sinslengte word dan bereken deur die aantal woorde ... te deel deur die aantal sinne: In Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte was die aantal woorde 116 + deur die aantal sinne (6) = 19,3. Die gemiddelde sinslengte is 19,3 woorde.

3. Tel die aantal woorde in die gedeelte wat uit drie of meer lettergrepe opgebou word en deel deur 2: Die gemiddelde aantal woorde met drie of meer lettergrepe in die geselekteerde uittreksels was 32. 32 + 2 = 16. Die langwoordindeks is dus 16.

4. Tel die gemiddelde sinslengte (19,3) en die langwoordindeks (16) bymekaar en vermenigvuldig die antwoord met 0,4.

19,3 + 16 = 35,3

35,3 x 0,4 = 14,12

Die faktor van 0,4 dui op hoeveel jaar se skoolopleiding 'n teksontvanger moes deurloop het om die kommunikasielading van die teks met gemak te hanteer. Twee skale word onderskei, een vir wetenskaplike en tegniese tekste en een vir algemene tekste. Met inagneming van die vertaalopdrag was die bedoeling met die Afrikaanse teks dat dit juis nie te kompleks moes wees nie en daarom eerder as 'n algemene teks beskou moes word. Die skaal wat vir die evaluering van algemene tekste gebruik word, is:

5 taamlik maklik

7 of 8 standaard

9-11 taamlik moeilik

12-15 moeilik

16+ baie moeilik

Die skaal wat gebruik word vir wetenskaplike en tegniese tekste, waarin sekere woorde en woordgroepe nie geredelik verkort kan word nie, is:

7 taamlik maklik

9 of 10 standaard

11-13 taamlik moeilik

14-17 moeilik

18+ baie moeilik

Ongeag watter skaal gebruik word, bly die Misindeks van 14,12 "moeilik". Dit impliseer ook dat slegs teksontvangers wat 14,12 jaar se (skool)opleiding deurloop het, die teks met gemak sal kan lees en verstaan. In praktyk beteken dit 12 jaar skoolopleiding plus 'n ietsie meer as twee jaar se naskoolse opleiding.

Leesbaarheidstoetse is uiteraard taalspesifiek en dit is nie moontlik om die Misindeks sonder meer op die Zulu-vertaling van toepassing te maak nie en gevolglik kan dit nie anders as om Selepe (2016: 68-70) op haar woord te neem nie. Indien die Misindeks as akkuraat beskou kan word, het die Afrikaanse vertaling nie volvoering aan die vertaalopdrag gegee nie.

Die mees waarskynlike rede vir die verskille in die finale produkte wat toeganklikheid betref, is dat Afrikaans in alle gevalle vertaalekwivalente gehad het selfs in gevalle waar Zulu dit nie gehad het nie en die vertalers van parafrasering gebruik moes maak. Per definisie maak parafrasering terme meer toeganklik. As voorbeeld kan daar na "social pacts" gekyk word wat in Afrikaans vertaal is met "sosiale verdrae". Die terugvertaling van die geparafraseerde Zulu-teks is "agreements between the rulers and the ruled". Nog 'n voorbeeld is "maximalist" wat in Afrikaans vertaal is met "maksimalistiese". Die Zulu-terugvertaling lui: "Those that have big ideas and are not prepared to compromise" (Selepe, 2016: 66). "(C)onsociational theories", in Afrikaans "konsosiatiewe teorieë", lees in Zulu "theories about cooperative association between diverse groups" (Selepe, 2016: 66). "(L)ifting the state of emergency" is in die Zulu-vertaling vertaal as "withdrawal of the announcement by government that people should stop everything in order to prepare for the state of emergency" (Selepe, 2016: 64) en in Afrikaans as "die noodtoestand opgehef". Parafrasering dwing omskrywing en verduideliking af, terwyl vertaalekwivalente dit nie noodwendig doen nie.

Al drie die vertalings is wel van dieselfde glossarium voorsien, maar slegs 16 terme is opgeneem. Daar sou dus geargumenteer kon word dat lesers 'n term sou kon gaan naslaan. In Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte word "konsosiatiewe teorie" byvoorbeeld in die glossarium soos volg toegelig: "Beveel magsdeling tussen rasse-, etniese of geloofsgroepe aan wat in gesegmenteerde en diverse gemeenskappe saamwoon. Die magsdeling sluit verpligte verteenwoordiging vir die leiers van verskeie groepe in asook outonome besluitneming in sekere kulturele en onderwysaangeleenthede" (Habib, 2014a: 156). Die gebruik van indekse en glossariums impliseer egter ook 'n ingeligte teikengehoor of doelteksleseringesteldheid in die saamstel daarvan (Pienaar en Van Zuydam, 2004: 117).

3.5 Wyses waarop Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte verbeter kon word

In 2.5 hierby is daar genoem dat die kwaliteit van die Zulu-vertaling moontlik beter kon wees as die tydsdruk nie groot was nie en dat die taalaanbod in Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba beter sou wees indien alle idiomatiese uitdrukkings in Engels met gepaste idiomatiese uitdrukkings in Zulu vertaal is in plaas daarvan om eenvoudiger, verduidelikende taal te gebruik.

Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte gaan nie mank aan idiomatiese taalgebruik nie, vgl. byvoorbeeld die vertaling van "Scenario two, called the 'Skorokoro' (local slang for a clapped-out old vehicle), would be distinguished by economic growth and modest delivery" is in Afrikaans vertaal as "Scenario twee, 'Skorokoro' (plaaslike sleng vir 'n skedonk) sou gekenmerk wees deur ekonomiese groei en matige dienslewering" (Habib, 2014a: 70).

In soverre as wat leesbaarheidstoetse vertrou kan word, is die teks egter te moeilik en kon die vertaling gebaat het by vereenvoudigde taal. Dit geld nie net die gebruik van terminologie nie, maar ook sinslengte en die moontlike vermyding van lang en komplekse sinne (vgl. Cornelius, 2012 en 2015 vir 'n volledige uiteensetting van die eienskappe van eenvoudige taalgebruik).

 

4. Gevolgtrekking

Die vertaling van South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects in onderskeidelik Zulu en Afrikaans het verskillende uitdagings vir die twee vertaalspanne meegebring. Weens 'n verskil in die Zulu wat in Kwa-Zulu Natal en in Gauteng gebruik word, het die Zulu-vertalers besluit om (in ooreenstemming met die vertaalopdrag) die taalgebruik te vereenvoudig. Die vertaling is ook gekenmerk deur die gebruikmaking van parafrasering en eksplitering as vertaalstrategieë aangesien die verskynsel van zero-ekwivalensie die vertalers nie met veel van 'n keuse gelaat het nie. Hierdie benadering het daartoe aanleiding gegee dat die finale produk toeganklik en maklik leesbaar is.

Die Afrikaanse vertalers, het in ooreenstemming met die hoofstroom- geskrewe tradisie in Afrikaans, Standaardafrikaans gebruik. Zero-ekwivalensie het bykans glad nie voorgekom nie en dit was nie vir die vertalers nodig om vertaalstrategieë soos parafrasering en eksplisitering te gebruik nie. Die finale produk voldoen egter waarskynlik nie aan die vertaalopdrag wat gevra het dat die taalgebruik so toeganklik moontlik moes wees sodat die boodskap maklik verstaan kan word nie. Die vertaling meet 14,2 op die Misindeks, wat ongeag die skaal wat gebruik word (wetenskaplike en tegniese tekste enersyds en algemene tekste andersyds) as "moeilik" bestempel word.

Daar word geredelik aanvaar dat vertalers wat in Afrikaans in werk, meer hulpbronne tot hulle beskikking het en hulle nie tot die mate tot vertaalstrategieë soos parafrasering en eksplitering hoef te wend as hulle kollegas wat byvoorbeeld in Zulu werk nie. Die rede is voor die hand liggend: Afrikaans is gestandardiseer en hulpmiddels soos woordeboeke en terminologielyste is vryelik beskikbaar.

In die vertaling van South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects blyk dit egter dat die beskikbaarheid van terminologie moontlik die Afrikaanse vertaling gepootjie het sodat die finale produk, in teenstelling met sy Zulu-eweknie, uiteindelik te moeilik was in terme van leesbaarheid en sodoende nie reg laat geskied het aan die vertaalopdrag nie.

 

Verwysings

Baker, M. 2011. In other words. A coursebook in translation. 2e uitgawe. London: Routledge. https://doi.org/10.4324/9780203832929        [ Links ]

Cornelius, E. 2012. 'n Linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikers-dokumente vir die algemene Afrikaanssprekende publiek. Ongepubliseerde D.Litt et Phil-verhandeling. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

Cornelius, E. 2015. Sinskonstruksies kenmerkend van Afrikaanse regstaal. LitNet Akademies 12(3): 239-273.         [ Links ]

Cornelius, E. & Pienaar, M. 2018. Voorkeurstrategieë in die Noord-Sotho-vertaling van Terminologie van het tolken. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus 55: 109-131. https://doi.org/10.5842/55-0-781        [ Links ]

Habib, A. 2013. South Africa's Suspended Revolution: Hopes and Prospects. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Habib, A. 2014a. Rewolusie op ys - Suid-Afrika se vooruitsigte. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Habib, A. 2014b. Inguqukombuso YeNingizimu Afrika Eyabondwa Yashiywa: Amathemba Namathuba. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Habib, A 2014c. Ntwa ya Boitseko e Fanyehuweng ya Afrika Borwa Ditshepo le Ditebello. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

https://idioms.thefreedictionary.com/put+on+ice Toegang verkry op 24 Mei 2019.

Janse, C., Richards, R. & Van Zyl, L. 2017. Evaluating four readability formulas in Afrikaans. Stellenbosch papers in Linguistics Plus 53: 149-166. https://doi.org/10.5842/53-0-739        [ Links ]

Kenny, D. 2001. Equivalence, in Baker, M. (red.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. London en New York: Routledge.         [ Links ]

Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 6de uitgawe. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Malindi, N.Y. 2015. Solving non-equivalence problems when translating a highly technical text into isiZulu through investigation and analysis of term formation strategies. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

McDermid Heyns, J. 2007. Readability statistics for Afrikaans. Referaat gelewer by die gesamentlike LSSA/SAVTO/SAALA-kongres, 4 Julie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika.

McKellar, C.A. 2008. A readability formula for Afrikaans. Plakkaataanbieding by PRASA, 2728 November, Kaapstad, Suid-Afrika.

Müller, M.B, & Feinauer, I. 2008. Die literêre vertaler as kulturele bemiddelaar. Literator 29(2): 125-147. https://doi.org/10.4102/lit.v29i2.119        [ Links ]

Ngobeni, M.M. 2013. An analysis of zero equivalence in the translation of scientific terms from English into Northern Sotho. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Limpopo: Universiteit van Limpopo.         [ Links ]

Pienaar, M. & Van Zuydam, E. 2004. Die Indekseerder as Taalpraktisyn. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalonderrig 38(1): 117-130. https://doi.org/10.4314/jlt.v38i1.6030        [ Links ]

Selepe, B.B. 2016. South Africa's Suspended Revolution in isiZulu Translation - A Critical Reflection. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

Taljard, E. 2008. Terminology Practice in a Non-standardized Environment: A Case Study, in E. Bernal en J. de Cesaris (reds.). Proceedings of the XIII Euralex International Congress. 15-19 Julie 2008. Barcelona: Universitat Pompeu Fabra: 1073-1080.         [ Links ]

The translation revolution. Wits University Press. [Intyds]. Beskikbaar: http://witspress.co.za/news/the-translation-revolution [2019, Mei 14].

Van Rensburg, C. 2017. Die totstandkoming van die eerste Afrikaanse woordelijs en spelreëls, in Le Roux, T.H., Malherbe, D.F. & Smith, J.J. (reds.). Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Faksimilee-uitgawe. Pretoria: Protea Boekehuis. https://doi.org/10.5842/10-0-580        [ Links ]

Van Rooyen, R. 1986. Eerste Afrikaanse leesbaarheidsformules. Communicatio: South African Journal for Communication Theory and Research 12(1): 5969. https://doi.org/10.1080/02500168608537810        [ Links ]

 

 

1 http://witspress.co.za/news/the-translation-revolution
2 https://idioms.thefreedictionary.com/put+on+ice

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons