SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53Vriendskap teenoor vyandskap in taalbeplanning vir die Universiteit Stellenbosch: Die bydrae van Leon de Stadler índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)

versión On-line ISSN 2224-3380
versión impresa ISSN 1726-541X

SPiL plus (Online) vol.53  Stellenbosch  2017

http://dx.doi.org/10.5842/53-0-746 

RESEARCH NOTES

 

Die ontwikkeling van 'n gestruktureerde indiensontwikkelings-program vir opvoedkundige tolke aan die Universiteit Stellenbosch

 

 

Jackie van WykI; Juanli TheronII

ITaalsentrum, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika E-pos: jrudman@sun.ac.za
IITaalsentrum, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika E-pos: juanli@sun.ac.za

 

 

1. Inleiding

Sedert die vroeë 2000's is daar toenemend gebruik gemaak van opvoedkundige tolking by tersiêre instellings in Suid-Afrika en die waarde daarvan spesifiek by die Universiteit Stellenbosch (US) is ook ondersoek (Clausen 2011; Brewis 2013; Booysen 2015). In 2011 het die US 'n loodsprojek in die Fakulteit Ingenieurswese van stapel gestuur. Onder die leiding van prof Leon de Stadler is daar aanvanklik 'n samewerkingsooreenkoms met Noordwes-Universiteit aangegaan en dit is uit hierdie ooreenkoms wat die US se Tolkdiens - onder die vaandel van die Taalsentrum - gegroei en ontwikkel het. Prof De Stadler se visie en leiding het gehelp om opvoedkundige tolking een van die US se beste antwoorde op die vraagstukke rondom meertaligheid in hoër onderwys te maak, aangesien hy reeds van vroeg af die geleenthede wat tolking bied herken het en 'n integrale rol gespeel het in die permanente vestiging daarvan.

 

2. Assessering en gehaltebeheer

Toe die moontlikheid van 'n tolkdiens aan die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ondersoek is, was Clausen van mening dat assessering een van die belangrikste aspekte is wat die sukses van só 'n diens bepaal (2011:108). Clausen het ook klem gelê op gehaltebeheer in die vorm van terugvoer, opnames en transkripsies (2011:109). Sedert die ontstaan van die Tolkdiens, is assessering - as 'n komponent van omvattende gehaltebeheer - as onontbeerlik beskou. Daar was egter ruimte vir die verdere ontwikkeling van tolke, veral namate ervaring opgebou is en dit nie meer noodwendig nodig was om op basiese beginsels te fokus nie. Indiensontwikkeling het wel sporadies plaasgevind, maar tolke kon beslis baat vind by 'n meer gestruktureerde indiensontwikkelingsprogram.

 

3. Indiensontwikkeling

Aangesien assessering (intern en ekstern) reeds in plek was in die Tolkdiens, is die terugvoer oor die diens gebruik as maatstaf om te bepaal waar daar ruimte vir verbetering was. Die benadering was dus van meet af dat die inligting wat uit assessering kom, die rigting van indiensontwikkeling sou bepaal.

In 'n poging om sekere beginsels vas te stel wat as fondament vir indiensontwikkeling kon dien, is vyf tipes kennis waaroor tolke behoort te beskik, geïdentifiseer. Hierdie tipes kennis is gebaseer op aspekte wat geassesseer word, sowel as tolke se ervaring van hul eie, sowel as kollegas, se prestasie. Die assesseringsinstrument wat die Tolkdiens gebruik is oorspronklik gebaseer op die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se instrument wat tydens akkreditasie-eksamens ingespan word, maar dit is ten volle pasgemaak vir die US-konteks en word voortdurend bygewerk om relevant en doeltreffend te bly.1

 

4. Die vyf tipes kennis onderliggend aan indiensontwikkeling

Omdat tolke se werklike terugvoer en behoeftes deur middel van assessering en terugvoer bepaal kon word, kon dit as riglyn vir beplanning dien. Dit het die ontwikkeling meer gefokus gemaak, en het daartoe gelei dat vasgestelde ontwikkelingsgeleenthede vooraf bepaal is en gereeld kon plaasvind. Die vyf tipes kennis volg hier na, met 'n kort beskrywing van elkeen en 'n voorbeeld van hoe dit uitgebou is.

4.1. Tolkkennis

Daar is bepaalde tipes kennis wat spesifiek verband hou met tolking, soos met enige beroepsveld. Dit kan vir elke tolkkonteks verskil, maar vir die US Taalsentrum se Tolkdiens is daar gekyk na wat in plek moet wees vir tolking om so glad as moontlik te verloop (byvoorbeeld mikrofoontegniek, volgafstand en oorlewingstrategieë). Hierdie tipe vaardighede is ingeoefen in praktiese sessies met die tolkspan, waar daar telkens op 'n spesifieke vaardigheid gefokus is, tolke in kleiner groepe na mekaar geluister het en hulle dan vir mekaar diepgaande terugvoer daaroor kon gee en idees uitruil.

4.2. Taalkennis

'n Goeie kennis van die bron- en doeltaal (Afrikaans en Engels in die US se geval) vereis dat die tolk goed vertroud moet wees met die grammatika, idiomatiese uitdrukkings en uitspraak van al twee tale. Relevante taalkennis is ontwikkel deur die verspreiding van weeklikse vraelyste met taalvrae, gebaseer op inligting wat uit transkripsies van werklike tolkopnames geneem is (as deel van die gehaltebeheerproses).

4.3. Algemene kennis

Aangesien dosente inderwaarheid oor enige onderwerp in 'n klaskamer kan praat, is dit noodsaaklik dat tolke kennis moet hê van 'n wye verskeidenheid onderwerpe, en nie slegs temas wat verband hou met die inhoud van die kursus nie. Vrae oor algemene kennis (toegelig met gepaste inligting of bronne om feite mee op te spoor) is weekliks aan tolke gestuur.

4.4. Terminologiese kennis

'n Uitstekende vakspesifieke woordeskat is uiteraard van kardinale belang in die opvoedkundige konteks. Tolke het toegang tot uitgebreide termlyste, asook voorbereidingsmateriaal vir elke module waar getolk word (byvoorbeeld MS PowerPoint-skyfies wat die dosente verskaf). Terminologie is verder ontwikkel in praktiese tolksessies, in samewerking met dosente en deur middel van weeklikse elektroniese vraelyste.

4.5. Kontekskennis

Tolke is in die indiensontwikkelingsprogram blootgestel aan konteksspesifieke terminologie (soos assesserings- en eksamenverwante inligting) deur middel van inligtingsessies oor die US in die algemeen (op fakulteitsvlak) en in meer besonderhede (oor konsepte soos 'n predikaat of dekaanvergunningseksamen). Tydens vasgestelde sessies is relevante dokumente (soos jaarboeke) breedvoerig bespreek.

 

5. Slotsom

Deur verbeterde beplanning en struktuur kon die wisselwerking tussen indiensontwikkeling, assessering en gehaltebeheer binne die Tolkdiens opgeskerp word. Die sukses van hierdie verbetering lê in die goeie kwaliteit tolking wat so konsekwent moontlik gelewer word, en is bevestig toe die posisie van opvoedkundige tolking in die nuwe US Taalbeleid verstewig is (US 2016:5).

Die Tolkdiens moet egter deurlopend kan groei en ontwikkel soos die konteks aan die US dit vereis. Daarom is 'n weldeurdagte indiensontwikkelingsproses onontbeerlik om die tolke te bemagtig - 'n doelwit wat steeds nagestreef word.

 

Bronnelys

Booysen, L. 2015. Educational interpreting in undergraduate courses at a tertiary institution: Perceptions of students, lecturers and interpreters. Ongepubliseerde magistertesis, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika.

Brewis, C. 2013. Die bevorderlikheid van opvoedkundige tolking vir effektiewe onderrig en leer binne die konteks van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch. Ongepubliseerde magistertesis, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika.

Clausen, M. 2011. Die potensiaal van tolking in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe (US): Die Departement Maatskaplike Werk as gevallestudie. Ongepubliseerde magistertesis, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika.

US (Universiteit Stellenbosch). 2016. Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch. Aanlyn beskikbaar: http://www.sun.ac.za/english/Documents/Language/Finale%20Junie%2 0Taalbeleid%20November%202016.pdf (18 Oktober 2017).

 

 

1 Redaksienota: Sien die artikel deur Foster en Cupido in hierdie bundel vir meer inligting oor die ontwikkeling en verfyning van die assesseringsinstrument wat die Tolkdiens gebruik.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons