SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53Principles and challenges of programme planning at a language centre serving two Swiss universitiesDie ontwikkeling van 'n gestruktureerde indiensontwikkelings-program vir opvoedkundige tolke aan die Universiteit Stellenbosch índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)

versión On-line ISSN 2224-3380
versión impresa ISSN 1726-541X

SPiL plus (Online) vol.53  Stellenbosch  2017

http://dx.doi.org/10.5842/53-0-747 

RESEARCH NOTES

 

Vriendskap teenoor vyandskap in taalbeplanning vir die Universiteit Stellenbosch: Die bydrae van Leon de Stadler

 

 

Anton van Niekerk

Departement Filosofie, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika E-pos: aavn@sun.ac.za

 

 

Dit is my voorreg om Leon de Stadler reeds 45 jaar lank te ken. Ons was saam in die Afrikaans en Nederlands-eerstejaarklas van 1972 aan die Universiteit Stellenbosch (US) - 'n klas waarvan die mooi, hoogs intelligente en altyd vermaaklike Amanda Müller ook lid was. Dit was gou duidelik dat dié twee se paaie bestem is om spoedig te begin saamloop. Min het ons almal toe geweet dat hierdie studentekennisse lewenslange vriende sou word, en dat ons op persoonlike sowel as professionele vlak in die toekoms 'n hele paar sakke sout saam sou opeet.

Kan 'n mens ooit die indrukke vergeet wat karakters soos professore Willem Kempen en WEG Louw, sowel as (toe nog) meneer Henning Snyman (die indrukwekkendste klaskamervirtuoos wat ek tot nog toe meegemaak het) en mejuffrou Annette Theron (wat ons met bitter droë materiaal kon boei) op ons brose gemoedere gemaak het? Laasgenoemde twee het in ons studentetyd boonop op mekaar verlief geraak en getrou - 'n huwelik wat vroeg en wreed beëindig is deur Annette se dood in 'n sinnelose motorongeluk naby Lynedoch.

Ons het dit saam beleef dat professor Kempen min beïndruk was daardeur dat ons die grootste klas tot in daardie stadium was en dat heelwat studente op die trappe van die onderste Wilcockssaal moes sit. Sy manier (na eie erkenning) om die getalle so te verminder dat almal op stoele kon sit, was om af te haak met die onverstaanbaarste taalkundige spitsvondighede, gepaard met 'n onverbiddelike aandrang daarop dat ons moes probeer om vrae te beantwoord waarop daar, meen ek tot vandag toe, geen antwoorde bestaan nie. As hy nie reaksie uit die klas gekry het nie, het hy eenvoudig ophou praat en ons in Nederlands meegedeel: "Wij kunnen wachten, wij hebben de tijd", totdat iemand skoorvoetend 'n (meesal futiele) antwoord gewaag het. Ons het dit insgelyks saam meegemaak dat professor WEG Louw 'n prys van presies een rand ('n aardige bedraggie vir 'n student in 1972) uitgeloof het vir die student wat midde in 'n (volgens Louw) lagwekkend swak Nederlandse gedig één aanvaarbare reël poësie kon herken: "de zwaluw glipte 't weivlak over".

Taalkunde was Leon se eerste liefde, en die Departement Afrikaans en Nederlands het spoedig sy akademiese en professionele tuiste geword en gebly, ook al het hy aan die begin van ons eeu die gedugte taak aanvaar om 'n taalsentrum vir die hele Universiteit te ontwikkel. Leon was van meet af aan geïnteresseerd in die groter sosiale konteks waarin taal funksioneer, en was altyd baie bekommerd oor die skade wat apartheid Afrikaans berokken het. Ek het in 1988 help skryf en redigeer aan 'n boek met die titel Wat kom na apartheid? (Landman, Nel en Van Niekerk 1988). Die medewerkers was almal jong Afrikaanssprekende akademici wat apartheid lankal afgesweer het en uiters bekommerd was oor wat die toekoms inhou. Leon het ook 'n hoofstuk geskryf, en wel met die veelseggende titel (deels ontleen aan 'n frase van Sheila Cussons) "Afrikaans: Van die liggaam van Afrika geamputeer" (De Stadler 1988). Benewens talle ander belangrike publikasies ('n mens dink dadelik aan Die Groot Tesourus van Afrikaans (De Stadler 1994), waarmee Amanda ook gehelp het), is Leon ook vir 'n lang tyd aangestel as besoekende hoogleraar aan die Radboud-universiteit in Nijmegen, Nederland, waar hy sy latere spesialisasieterrein, dokumentontwerp, met die nagraadse studente daar kon deel.

My en Leon se paaie het weer behoorlik gekruis vanaf 2003, naamlik oor die kwessie van 'n nuwe taalbeleid vir die US. Leon was voorsitter van die taakspan wat 'n nuwe beleid aanbeveel het op versoek van die pas aangestelde Rektor, professor Chris Brink. Daardie beleid is vanaf 2003 geïmplementeer, en 'n nuut aangestelde taalkomitee moes toesig hou en aanbevelings aan die Senaat en Raad maak oor die toepassing daarvan. Leon was ten nouste betrokke by die formulering van daardie beleid en was vanselfsprekend ook lid van die taalkomitee. Ek is deur die Raad van die Universiteit afgevaardig as hul verteenwoordiger in die taalkomitee, en is boonop deur die komitee self as voorsitter aangewys - een van die minder gemaklike take wat ek in my lewe moes aanpak, en waarvoor ek slegs kans gesien het omdat ek kon reken op die kundigheid van Leon en ander deskundiges in die (taamlik groot) komitee.

Dinge het aanvanklik relatief vlot verloop, totdat die taalkomitee in 2004 'n versoek van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aanbeveel het. Hierdie versoek was dat die (vir 'n sekere buite-akademiese groepering) 'berugte' T-opsie, wat afwisselende Afrikaanse en Engelse onderrig in dieselfde klas behels het, vanaf die eerste jaar tot die derde jaar uitgebrei word. Daarmee is die teerling gewerp in 'n 'taaldebat' wat met wisselende - soms selfs skokkende - heftigheid tot vandag toe voortduur. Ruimte laat my nie toe om my eie belewing van daardie 'stryd' hier te bespreek nie; ek het dit wel elders gedoen (Van Niekerk 2012).

Ek sluit af deur enkele indrukke te bied van die rol en belang van Leon se bydrae tot veral laasgenoemde debat. Hy is en bly oortuig van die noodsaak van ingrypende transformasie aan die US, veral in die lig van ons problematiese verlede as intellektuele bakermat van apartheidsdenke (vgl. Thom 1965). Hy besef hoe broos en kwesbaar Afrikaans as gevolg van hierdie verlede is. Leon verwerp die idee dat dit 'n universiteit se taak is om die voortbestaan van 'n taal te verseker. Afrikaans is wel 'n kosbare kleinood - een van die min tale wat die afgelope eeu gestandaardiseer is tot 'n volwaardige wetenskapstaal - en dit sal 'n groot verlies wees as die taal onomkeerbare skade ly. Maar die manier om Afrikaans te beskerm en uit te bou is nie militante, taalonvriendelike agitasies en selfs hofsake nie. As die toekoms van Afrikaans afhang van dwang oor onderrigmedium aan die Universiteit, is die taal gedoem; dít sien ons al sedert die Soweto-opstand van 1976. Afrikaans moet en kan konstruktief ondersteun word, soos Leon hom die laaste twee dekades beywer het om te doen via die Taalsentrum. Alleen dáárdeur sal mense lief word vir die taal, en dit graag aanhou gebruik, ook in 'n akademiese konteks.

Leon en Amanda se styl van taalbevordering kom die heel beste tot uitdrukking in die organisasie waarmee hulle die afgelope dekade ten nouste geassosieer is: Vriende van Afrikaans. Die vyandskap van dwang en dominasie is, in die lig van ons geskiedenis, 'n heillose weg vir die taal.

Die ganse Stellenbosse universiteitsgemeenskap is Leon daarom veel dank verskuldig vir die visionêre leierskap wat hy oor drie dekades heen verskaf het ten opsigte van taalbeplanning aan die Universiteit. My beste wense vergesel Leon en Amanda in die nuwe lewensfase wat hulle nou betree.

 

Bronnelys

De Stadler, L. 1988. Afrikaans: Van die liggaam van Afrika geamputeer. In J.P. Landman, P. Nel en A. van Niekerk (reds.) Wat kom na apartheid? Johannesburg: Southern Boekuitgewers. pp. 97-110.         [ Links ]

De Stadler, L. 1994. Die Groot Tesourus van Afrikaans. Johannesburg: Southern Boekuitgewers.         [ Links ]

Landman, J.P., P. Nel en A. van Niekerk. 1988. Wat kom na apartheid? Johannesburg: Southern Boekuitgewers.         [ Links ]

Thom, H.B. 1965. Universiteit en maatskappy. Elsiesrivier: Nasionale Handelsdrukkery.         [ Links ]

Van Niekerk, A. 2012. Op soek na identiteit - Die taaldebat op Stellenbosch. In H. Ester, C. van der Merwe en E. Mulder (reds.) Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Stellenbosch: SUN PrESS. pp. 215-230.         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons