SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 special issue author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.33 spe Stellenbosch  2023

http://dx.doi.org/10.5788/33-2-1835 

ARTICLES

 

Semantiese betrekkinge en woordeboekstrukture in 'n Afrikaanse tesourus

 

Semantic Relations and Dictionary Structures in an Afrikaans Thesaurus

 

 

Michele F. van der Merwe

Departement Kurrikulumstudie: Afrikaans, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch (michelevdm@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

In 'n tesourus word die struktuur van die woordeskat en die besondere verhoudings tussen die leksikale items in daardie woordeskat op die voorgrond geplaas. 'n Woordeskat vertoon 'n bepaalde struktuur waarbinne die verskillende leksikale items op grond van veral hulle betekenisse met mekaar saamhang. Die onderwerp van hierdie navorsing is die leksikografiese aanbieding van onderskeie semantiese betrekkinge tussen leksikale items in die verskillende uitgawes van die Groot Tesourus van Afrikaans. In 'n vergelykende studie tussen die twee uitgawes word die volgende navorsingsvraag gevra: Watter veranderings en verskille, indien enige, kan daar ten opsigte van die aanbieding van semantiese betrekkinge tussen die twee uitgawes waargeneem word? Semantiese betrekkinge tussen leksikale items (onder andere sinonimie, hiponimie en teenoorgesteldheid) en die aanbieding daarvan in albei tesourusuitgawes word belig. Die leksikografiese hantering van semantiese betrekkinge word bespreek teen die agtergrond van die leksikografieteorie rakende woordeboekstrukture en e-leksikografie. Aanbevelings ten opsigte van 'n meer gebruikersgerigte hantering van semantiese betrekkinge word gemaak, ook met betrekking tot 'n elektroniese tesourus.

Sleutelwoorde: tesourus, sinoniem, teenoorgesteldheid, hiponiem, meroniem, semantiese verhouding, woordeboekstruktuur, kontekstuele leiding, gebruikersgerig, elektroniese tesourus


ABSTRACT

In a thesaurus, the structure of the vocabulary and the particular relationships between the lexical items in that vocabulary are foregrounded. A vocabulary shows a specific structure within which the different lexical items are connected to each other based on especially their meanings. The topic of this research is the lexicographic presentation of different semantic relations between lexical items in the different editions of the Groot Tesourus van Afrikaans and the Pharos Tesourus van Afrikaans. In a comparative study between the two editions, the following research question is asked: What changes and differences, if any, can be observed regarding the presentation of semantic relations between the two editions? Semantic relations between lexical items (among others synonymy, hyponymy and oppositeness) and their presentation in both thesaurus editions are highlighted. The lexicographic handling of semantic relations is discussed against the background lexicography theory regarding dictionary structures and e-lexicography. Recommendations regarding a more user-oriented handling of semantic relations are made, also in relation to an electronic thesaurus.

Keywords: thesaurus, synonym, opposite, hyponym, meronym, semantic relations, dictionary structure, contextual guidance, user directed, electronic thesaurus


 

 

1. Inleiding

Die Groot Tesourus van Afrikaans (voortaan GT), verskyn in 1994 en 26 jaar later word 'n uitgebreide hersiene uitgawe, naamlik die Pharos Tesourus van Afrikaans (voortaan TA), deur dieselfde samestellers gepubliseer.

Die tesourus is tematies georden en beskik oor drie tematies geordende toegangstrukture, naamlik die indeks, die klassifikasieplan en 'n sentrale teks. Die klassifikasieplan is identies vir beide uitgawes, aangesien dit "'n aftekening van ons konseptuele leefwêreld is" (De Stadler 2022).

In die tesourus is daar 855 konsepte ingedeel onder groter konsepkategorieë. Leksikale items wat op die genommerde konsepte betrekking het, is dan daaronder ingedeel. Sommige konsepbenamings het verander. Daar is oor die 140 000 leksikale items ingedeel in dié raamwerk, met 20 000 nuwe items. 'n Vernuwende rigting is ingeslaan deur die opname van meer variëteite van Afrikaans (De Stadler 2022).

Die 2020-uitgawe is ook elektronies beskikbaar via 'n intekenportaal van die uitgewer, Pharos. Met bestudering van die elektroniese weergawe blyk dit 'n identiese weergawe van die hardekopie-uitgawe te wees, met die enigste ooglopende verskil die voordeel om met behulp van rekenaartegnologie 'n aanlyn soektog na leksikale items uit te voer.

Die fokus van hierdie artikel is op die aanbieding van semantiese betrekkinge deur die twee verskillende uitgawes van die tesourus. 'n Vergelykende studie tussen die GT en TA word uitgevoer ten einde die volgende navorsingsvraag te beantwoord: Watter veranderinge en verskille, indien enige, ten opsigte van die aanbieding van semantiese betrekkinge kan tussen die twee uitgawes waargeneem word? Terselfdertyd word die aanbieding van semantiese betrekkinge teen die agtergrond van die leksikografiese teorie rakende woordeboekstrukture en e-leksikografie bespreek. Dit sluit aan by die leksikografiese teorie van die gebruikersgerigtheid van 'n tesourus. Hoe suksesvol word gebruikersgerigtheid ten opsigte van die aanbieding van semantiese betrekkinge in beide publikasies nagevolg? Die uitgangspunt van die artikel is dat gebruikersgerigtheid ten opsigte van die oordrag van semantiese betrekkinge suksesvol kan figureer alleenlik wanneer voldoende kontekstuele leiding aan die gebruiker verskaf word.

Eerstens word die eiesoortige tematiese aard van 'n tesourus bespreek; tweedens word semantiese betrekkinge tussen leksikale items (onder andere sinonimie, hiponimie en teenoorgesteldheid) en die aanduiding daarvan in beide tesourusse belig; en derdens word woordeboekstrukture en semantiese betrekkinge in 'n elektroniese tesourus met verwysing na toepaslike leksikografiese voorbeelde ontleed. Aanbevelings word gemaak en moontlike wysigings voorgestel vir meer gepaste leksikografiese hantering van tesourusartikels, ook gesien in die lig van die eiesoortige aard van 'n elektroniese tesourus.

 

2. Onomasiologiese benadering van 'n tesourus

Tydens 'n literatuursoektog blyk dit dat 'n tesourus nie baie aandag geniet in leksikografiekringe nie en nog minder in die Afrikaanse leksikografie. Bronne wat opgespoor kon word, sluit in 'n artikel van prof. R.H. Gouws (2017), aan wie hierdie bundel opgedra word, asook 'n resensie oor die GT deur Van Schalkwyk (1996). Gouws (2017: 133) verwys na die belangrike bydrae van die GT tot die Afrikaanse leksikografie. Met die strekking van beide artikels in ag geneem, lewer die tesourus 'n beduidende bydrae tot die Afrikaanse leksikografie en is daarom dus navorsingswaardig. (Die skrywer is bewus van Woordkeusegids: 'n Kerntesourus van Afrikaans in 1992 deur Southern Boekuitgewers gepubliseer en in 2006 as Sinonieme en verwante woorde deur Pharos heruitgegee. Dit is tans aanlyn beskikbaar, maar vorm dit nie deel van die fokus van hierdie artikel nie. Vos resenseer die tesourus in 1994.)

Gouws (2017: 133) wys in die tipologiese klassifikasie van woordeboeke op die tesourus as die een opvallende uitsondering op die alfabetiese ordening van woordeboeke en beskryf 'n tesourus as 'n woordeboeksoort wat met sy onomasiologiese benadering 'n ordening volgens begrippe eerder as 'n alfabetiese ordening van woorde daarstel. 'n Ordening volgens begrippe, met ander woorde 'n tematiese ordening, is volgens Gouws (2017: 134) kenmerkend van vroeëre leksikografiese werke. Leksikograwe het geredeneer dat 'n woordeboek as houer van kennis 'n afspieëling moes wees van die menslike verstand (die bekendste houer van kennis) en dat die menslike verstand nie alfabeties georden is nie, maar dat 'n mens eerder tematies dink (Gouws 2017: 134).

Dit is opvallend dat die onomasiologiese aard van 'n tesourus telkens deur navorsers as 'n wesenlike kenmerk aangedui word wanneer daar oor 'n tesourus navorsing onderneem word. Marello (1989: 1083) beskryf 'n tesourus as 'n woordeboek waarin die leksikale items gerangskik word met inagneming van hulle verhouding tot bepaalde konsepte of konsepkategorieë, maar ook met inagneming van hul onderlinge betekenisbetrekkinge. Hartmann en James (2000: 142) verwys na die sistematiese opsporing van sinoniemnetwerke tussen woorde binne semantiese domeine. Kilgarriff en Yallop (2000: 1373) definieer 'n tesourus as 'n bron waar woorde met soortgelyke betekenisse saamgegroepeer is. Volgens Kay en Alexander (2016: 367) is 'n tesourus 'n leksikografiese naslaanwerk wat leksikale feite binne semantiese domeine weergee. 'n Tesourus vermeng feite rakende taal met feite rakende die wêreld waarin taal gebruik word en as gevolg daarvan verteenwoordig die klassifikasiesisteem 'n sintese van die konseptuele woordeskat van 'n taal en die relatiewe plek van elke konsep in die groter konseptuele sisteem waarvan dit deel vorm (Kay en Alexander 2016: 367).

Volgens Hartmann (2005: 78) is konvensionele tesourusse wesenlik onomasiologies, aangesien dit gewoonlik met 'n gegewe konsep begin waarna die mees toepaslike woord(e) gevind moet word. Aangesien die onomasiologiese aard van 'n tesourus as wesenskenmerk beskou word en dit as't ware die tesourus se konseptualisering rig, beskik 'n tesourus na verwagting oor 'n relevante teoretiese leksikografiese fundering. 'n Leksikografiese fundering kan spesifieke woordeboekstrukture insluit, gegrond op die teorie van woordeboekstrukture volgens Wiegand1 (2002; 2003; 2005), asook 'n gebruikersgerigte paradigma. 'n Gebruikersgerigte paradigma voorveronderstel leksikografiese inligtingsoordrag op 'n betekenisvolle wyse met voldoende steun aan die gebruiker om die besondere aard van die tesourus voordelig te vind tydens woordeboekkonsultasie. Inligting oor semantiese betrekkinge en die weergee van byvoorbeeld 'n semantiese konseptualiseringsraamwerk wat tot effektiewe inligtingsontsluiting lei, kan as gebruikersgerigtheid beskou word.

In die volgende afdeling word daar na verskillende semantiese betrekkinge verwys wat in 'n tesourus figureer.

 

3. Semantiese betrekkinge

Konsepte in 'n tesourus word met inagneming van hul onderlinge betekenisbetrekkinge rangskik (Marello 1989: 1083). In 'n tesourus word die struktuur van die woordeskat en die besondere verhoudings wat tussen die leksikale items in daardie woordeskat bestaan op die voorgrond geplaas. 'n Woordeskat vertoon 'n bepaalde struktuur waarbinne die verskillende leksikale items op grond van veral hulle betekenisse met mekaar saamhang.

Volgens De Stadler en De Stadler (2021: voorwoord) kan verskillende soorte verhoudings binne hierdie struktuur onderskei word, waaronder veral die volgende vier:

a. Sinonimie, die verhouding tussen twee woorde waarvan die betekenisse min of meer dieselfde is, soos in die geval van gierigheid, behaagsug en hebsug.

b. Teenoorgesteldheid, die verhouding wat bestaan tussen twee woorde waarvan die betekenisse in opposisie tot mekaar staan, soos in die geval van liefde en haat.

c. Hiponimie, die verhouding tussen 'n superordinate term (oorkoepelende term) en daardie terme wat as subordinate (of hiponieme) dien. Dit is die verhouding wat bestaan tussen 'n woord soos dier en sy subordinate of hiponieme bees, skaap, koedoe, springbok, leeu, renoster, olifant, ens.

d. Die deel-geheel-verhouding (meronimie), 'n verhouding wat bestaan tussen woorde soos voertuig en stuurwiel.

'n Tradisionele, kumulatiewe tesourus verskaf slegs 'n geklassifiseerde inventaris van sinonieme of ander semanties verwante items sonder verdere betekenisverklarings of gebruiksverklarings, en leksikale items word onder 'n bepaalde konsep gerangskik sonder om vir hulle betekenisverklarings aan te bied. In die voorwerk van GT word genoem dat dit veral tot sy reg sal kom as die tesourus saam met 'n goeie verklarende woordeboek gebruik word (De Stadler en De Stadler 2021: voorwoord). Die implikasie is dus dat tesourusgebruikers addisionele ondersteuning met behulp van 'n verklarende woordeboek kan benodig. Addisionele ondersteuning met betrekking tot betekenisverklarings, polisemiese onderskeidings en semantiese verhoudings kan moontlik benodig word. Taalgebruikers benodig inligting rakende die nuanses van woorde sowel as sintaktiese, semantiese en pragmatiese kennis vir doeltreffende taalgebruik. In die volgende afdeling word 'n tesourus se hantering van sinonimie ondersoek.

3.1 Sinonimie

Die voorkoms van sinonimie in tesourusse word deur verskeie navorsers bespreek, naamlik Marello (1989), Kilgarriff en Yallop (2000), Peters en Kilgarriff (2000), Hüllen (2006), Knappe (2013), Murphy (2013), asook Gao en Liu (2019).

Volgens Murphy (2016: 442) bereik die studie van semantiese betrekkinge tussen woorde 'n hoogtepunt in die teorie van strukturele semantiek van die Saussure-, Bally- en Wortfeld-bewegings. Lyons en Lehrer ontwikkel verdere teorie vir semantieseveldebenaderings (Murphy 2016: 442). Daarvolgens word 'n semantiese leksikon intern gestruktureer volgens sinonimie, teenstelling en hiponimie. Murphy (2016: 442) wys daarop dat die benadering ten opsigte van semantiese komponent-ontleding voorsiening maak vir die aflei van verhoudinge tussen betekenisonderskeidings van woorde se betekeniskomponente: sinonieme deel sleutelkomponente, antonieme verskil in 'n sleutelkomponent en hiponieme beskik oor dieselfde komponente as hulle subordinate, plus ten minste een addisionele komponent.

Zgusta2 (1971: 89) beskryf sinonieme as woorde met verskillende vorme, maar met identiese betekenis. Volgens Zgusta (1971: 89) kan die veronderstelde identiese betekenis op twee wyses verstaan word: eerstens as 'n absolute identiteit of tweedens as 'n baie groot ooreenkoms. Die absolute identiteit van leksikale betekenis is uiters ongewoon en kom volgens Zgusta (1971: 89) dus nie baie voor nie. Hy stel dus eerder die gebruik van naby-sinonieme in die leksikografie voor, met die veronderstelling dat een van die drie basiskomponente van betekenis (te wete aanduiding, konnotasie en toepassing) teenwoordig is.

Die leksikografiese hantering van naby-sinonimie noodsaak twee tipes inligting, naamlik sinoniemidentifikasie en sinoniemdifferensiasie (Murphy 2016: 449). Sinoniemdifferensiasie word byvoorbeeld in spesiale ingevoegde tekste in sinoniemwoordeboeke verskaf, maar tesourusse wat sinonieme lys is meer algemeen (Murphy 2016: 449). Tydens sinoniemlysting stel 'n tesourus een sinoniem as die mees neutrale lid van die kategorie voor en dit word die sentrale sinoniem, kernsinoniem of voorkeursinoniem genoem (Van Sterkenburg in Murphy 2016). TA hanteer byvoorbeeld dood as die sentrale sinoniem en lys sterfte, sterfgeval, oorlye as deftig en verouderd, en einde, graf, slaap, die ewige slaap as sinonieme. Die sinoniemlysting bevat naby-sinonieme met wisselende mate van formaliteit en gebruiksfere. Naby-sinonieme soos sterfte, sterfgeval en oorlye kan as voorbeelde van meer formele taalgebruik beskou word, einde as informele taal en slaap, die ewige slaap as eufemisties. Tesourusgebruikers is produktiewe skeppers van tekste en soek dikwels meer formele woorde om die minder formele of kru woorde te vervang waaraan hulle gedink het (Murphy 2016: 449). Tydens die sinoniemlysting in TA word geen kontekstuele leiding aan die gebruiker gebied om tussen die wisselende mate van formaliteit en gebruiksfeer te onderskei nie.

Vervolgens word etlike lukraak gekose artikels se hantering van sinonimie met verwysing na GT en TA bespreek. In sommige gevalle word verskille en/of verbeterings tussen die twee uitgawes van die tesourus waargeneem.

Eerstens word die sinoniemlysting van kok onder die artikel 419 Voedselbereiding in GT en TA bespreek. In beide uitgawes word kok as sentrale sinoniem gelys. Die inskrywing in GT is soos volg:

 

 

Die sinoniemlysting bevat sinonieme met aansienlike verskille in gebruiksfeer en betekenis. Daar is beduidende nuanseverskille tussen 'n sjef en 'n koksmaat, 'n bereider en 'n spysenier, en 'n huishoudkundige en 'n koksmaat.

In die artikel van TA kan 'n verskil waargeneem word, naamlik die byvoeging van die woord huiskok. Die inskrywing in TA is soos volg:

 

 

Die woord huiskok kan heel moontlik eerder as 'n subordinaat van die woord kok in die hiponimiese verhouding tussen die leksikale items beskou word. In beide artikels word nie rekenskap gegee van verskille in die sinoniemlysting nie en onvoldoende gebruiksleiding word verskaf. Deur te verwys na opleidingsverskille of die moontlike plek waar die persone werk, byvoorbeeld 'n sjef in 'n hotel of restaurant en 'n koksmaat op 'n skip, kan meer konteks aan die gebruiker verskaf word.

Tweedens word sinoniemlysting van predikant onder die artikel 849 Prediking in GT en TA bespreek. In beide uitgawes word predikant as sentrale sinoniem gelys. Die inskrywing in GT is soos volg:

 

 

Daar bestaan nuanseverskille tussen byvoorbeeld 'n sieleherder en 'n prediker, 'n hulpprediker en 'n lekeprediker, 'n straatprediker en 'n leraar, 'n wykslerares en 'n kapelaan, en 'n evangeliedienaar en 'n eerwaarde. Dit is 'n voorbeeld van semanties verwante woorde wat langs mekaar gegroepeer word en met behulp van kommas van mekaar geskei word. Dit laat die gebruiker onder die indruk dat hulle naby-sinonieme of sinonieme is, terwyl dit nie die geval is nie. 'n Gebrek aan konteksleiding veroorsaak dat gebrekkige inligtingsoordrag plaasvind en dat die gebruiker nie voldoende leiding ontvang nie.

 

 

Met 'n eerste lees word en met behulp van 'n elektroniese woordtelling word gemerk dat die artikel van GT uit 58 leksikale items bestaan en die artikel van TA uit 63 leksikale items. Sekere verskille tussen die twee uitgawes kan waargeneem word, naamlik die byvoeging van leksikale items in TA.

Die eerste vier naby-sinonieme en hulle volgorde is identies in beide artikels. Twee leksikale items word as naby-sinonieme in TA bygevoeg, naamlik evangelis (ook eerste genoem) en offisiant. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) word die woord evangelis as "'n ongeordende prediker" verklaar en 'n offisiant as "priester wat die mis opdra". Laasgenoemde is van 'n etiket, naamlik "Rooms-Katoliek" voorsien. Die woord evangelis beskik oor drie polisemiese onderskeidings, wat die semantiese intrige verder kompliseer. Die twee woorde kan dus nie as naby-sinonieme gelys word nie. Konteksgebaseerde leiding word nie verskaf nie, maar ter versagting kan daar aangevoer word dat offisiant tussen aartsdeken en biskop staan en as deel van die gebruiksfeer beskou behoort te word; iets waarvan 'n gesofistikeerde tesourusgebruiker moontlik bewus kan wees.

Die artikel in TA word met drie leksikale items uitgebrei, naamlik chatieb, gatiep en predikamp. Die eersgenoemde twee woorde is geensins naby-sinonieme nie, maar is wisselvorme van mekaar en behoort so aangedui te word.

Die woord predikamp word met 'n kommapunt van ander gelyste woorde geskei. Volgens die toeligtende aantekeninge skei kommas leksikale items in 'n artikel en word kommapunte gebruik om fyner onderskeidings aan te dui. 'n Betekenisverskil kan dus tussen die gelyste groep naby-sinonieme en predikamp bestaan. Die toeligting in verband met die gebruik van die tipografiese konvensies in hierdie verband is nie voldoende nie, aangesien die gebruiker nie weet of daar 'n sinonimiese betrekking al dan nie tussen die leksikale items bestaan nie. Die gebruiker weet ook nie in watter volgorde, indien enige, die leksikale items verskaf word nie.

Derdens word semantiese betrekkings tussen leksikale items van atletiekbroekie onder die artikel 729 Atletiek in GT en TA bespreek.

In die GT-artikel word daar nie sinonieme of naby-sinonieme van die lemma verskaf nie; vergelyk byvoorbeeld atletiekbroekie wat 'n subparagraaf onder atletiek vorm. Daar kom atletiekfrokkie, atletiekskoen, hardloopskoen, spykerskoen, wegspringblokke, skyf, werpskyf, diskus, gewig, spies, hamer, hoogspringpale, dwarslat, paalspringtoerusting, paal, springpaal, springstok, hekkie, stophorlosie voor. Die leksikale items kan nie as sinonieme of naby-sinonieme van mekaar of van die sentrale sinoniem atletiekbroekie beskou word nie. Dit wil voorkom asof leksikale items lukraak bymekaar gebondel is in 'n artikel, met geen waarneembare semantiese betrekking tussen mekaar of ten opsigte van hul gebruik of betekenis nie.

In TA word die artikel aansienlik verbeter met die vervanging van atletiekbroekie met die leksikale item atletiektoerusting. Die leksikale item atletiektoerusting dien as hiponiem vir die subordinate atletiekdrag, atletiekklere, atletiekbroekie, atletiekfrokkie, atletiekskoen, hardloopskoen, spykerskoen, wegspringblokke, skyf, werpskyf, diskus, gewig, spies, hamer, hoogspringpale, dwarslat, paalspringtoerusting, paal, springpaal, springstok, hekkie, stophorlosie en die korrekte semantiese verhouding tussen leksikale items word verskaf.

Alhoewel leksikale items tot dieselfde semantiese veld behoort, word hulle bymekaar gebondel in groot en losse groepe, en geen leiding word aan die gebruiker verskaf oor hul presiese betekenis en toepassing nie. Daar word nie voldoende tussen die betekenis en die gebruik van die leksikale items onderskei nie. Die volle semantiese prentjie word dus nie aan die gebruiker verskaf nie. Met innovasie kan die saak reggestel word en 'n beter tesouruservaring kan aan die gebruiker gebied word. Daar kan op 'n deurlopende basis konteksleiding aan die gebruiker verskaf word, veral met die gebruik van etikette of ingevoegde tekste. Konteksleiding, waar 'n leksikale item gekwalifiseer word deur verdere semantiese onderskeidinge te verskaf, kan ook tussen hakies na die spesifieke leksikale item voorsien word.

Murphy (2016: 449) wys daarop dat die semantiese betrekkinge in tesourusartikels in The New Collins Thesaurus van so 'n aard is dat die sinoniempad tussen woorde en hul sinonieme in die meeste gevalle binne ses stappe na semantiese teenstelling lei. As voorbeeld word authentic genoem wat tot die teenstelling unauthentic lei:

authentic-believable-probable-ostensible-pretended-spurious-unauthentic.

Vergelyk die hantering van vermoedelik in die subparagraaf onder die artikel glo in TA, wat binne vier stappe tot die teenstellings agterdogtig, wantrouig, onseker, twyfelagtig lei. Die semantiese teenstelling volg na 'n kommapunt as struktuurmerker.

 

 

Vervolgens word 'n verdere semantiese betrekking tussen leksikale items ondersoek, naamlik teenstelling.

3.2 Semantiese teenstelling

Binêre opposisie is een van die belangrikste eienskappe van taalstrukture en volgens Lyons (1977: 271, 272) kan die opvallendste manifestasie hiervan in antonimie gevind word. Lyons (1977: 271, 272) definieer 'n aantal terme, naamlik kontras, teenstelling, antonimie, gradeerbare teenstelling en komplementêre teenstelling. Kontras is die algemeenste term en dra geen implikasie nie. Teenstelling word beperk tot digotomie of binêre kontraste. Antonimie word beperk tot gradeerbare teenstelling, byvoorbeeld groot-klein of hoog-laag. Gradeerbare teenstelling manifesteer die eienskap van polariteit die beste van alle ander teenoorgesteldheid, byvoorbeeld lank-kort of vinnig-stadig. Komplementêre teenoorgesteldheid verwys na ongradeerbare opposisie, naamlik manlik-vroulik. Bosman en Pienaar (2014: 261) onderskei ook die voorkoms van omkeerbare teenoorgesteldes, waar leksikale items sintakties as teenoorgesteldes beskou word, byvoorbeeld pasiënt-dokter.

Die voorkoms van semantiese teenstelling in 'n tesourus kan gebruikers ondersteun om 'n leksikale item dadelik in 'n semantiese veld te plaas en sodoende kan betekenisbetrekkinge duideliker raak vir die tesourusgebruiker. Duideliker betekenisbetrekkinge kan 'n tesourus meer soortgelyk aan die gebruiker se mentale leksikon maak.

Betrekkinge van semantiese teenstelling word in die verskillende strukture van GT en TA aangetref, te wete die inhoudsopgawe, klassifikasieplan en sentrale teks. In die inhoudsopgawe van beide tesourusse word byvoorbeeld na skepping, lewe en dood, vreugde en droefheid, hoop en wanhoop, moed en vrees, gramskap en sagmoedigheid, liefde en haat verwys. Die betrekkinge word nie pertinent aangedui of aan die gebruiker uitgewys met behulp van struktuurmerkers nie.

Die klassifikasieplan bestaan eweneens uit 'n digotomie van teenoorgesteldes wat vindbaar is aangesien hulle in numeriese volgorde is en langs mekaar in die klassifikasieplan voorkom. Vergelyk byvoorbeeld bestaan en nie-bestaan, selfstandigheid en onselfstandigheid onder die hofie Bestaan in die klassifikasieplan. Met die lees van die klassifikasieplan kan die oplettende tesourusgebruiker 'n netwerk van semantiese betrekkings ontdek. Dit word egter nie aan die gebruiker verduidelik nie. Die gebruik van struktuurmerkers kan hier van groot waarde wees, aangesien dit gebruik kan word om betrekkinge van teenoorgesteldheid vir die gebruiker aan te dui.

Indien daar 'n betrekking van teenoorgesteldheid tussen die leksikale items bestaan, volg hul op mekaar in die klassifikasieplan en in die sentrale teks (tesourusgedeelte). Die volgende lemmas volg op mekaar in GT en staan in 'n betrekking van teenoorgesteldheid ten opsigte van mekaar: (158) opstyg - (159) neerdaal, (161) bedek - (162) ontbloot, (211) opgaan - (212) afgaan, (249) lewe - (250) dood, (631) nodig - (632) onnodig en (633) nuttig - (634) nutteloos. In TA is die tersaaklike lemmas behou met een verandering, naamlik (158) word vervang met na bo en (159) met na onder. Alle leksikale items wat op mekaar volg, staan egter nie in 'n betrekking van teenoorgesteldheid ten opsigte van mekaar nie.

Vervolgens word 'n voorbeeld in die sentrale teks van GT bespreek. In die artikel 590 Bestuur kom die subartikel regeer, wat 'n subparagraaf vorm, voor. Die eerste sewe leksikale items wat as inskrywings verskaf word, kan as naby-sinonieme van mekaar beskou word, naamlik gesag uitoefen, staatsgesag uitoefen, die land bestuur, die bewind voer, heers, heerskappy voer, bevel voer. Dan volg 'n hele aantal leksikale items wat nie sinonieme van regeer is nie. Geen konteksleiding word verskaf nie en die gebruiker word in die duister gelaat oor hul semantiese betrekking met die lemma regeer en met mekaar. Die volgende leksikale items volg na die kommapunt (wat fyner betekenisonderskeidinge aandui): politiek bedryf, verpolitiseer, institusionaliseer, demokratiseer, nasionaliseer, privatiseer, die gesag sentraliseer, desentraliseer, gesag afwentel, sit (die parlement), in sitting wees, debat voer (parlementêre - - ), 'n spreekbeurt neem, eerste lesing van 'n wetsontwerp hou, promulgeer ('n wet -), afkondig ('n wet -), interpelleer, 'n regering saamstel, 'n portefeulje hê, van portefeulje verander.

Bevredigende oordrag van semantiese betrekkinge vind nie plaas nie en 'n voorstel in hierdie verband word gemaak: 'n Verdere onderskeid kan tussen die leksikale items getref word met behulp van 'n struktuurmerker. Die simbool kan byvoorbeeld gebruik word om leksikale items wat semanties nader aan mekaar verwant is, te groepeer. Konteksleiding kan tussen hakies verskaf word. Die res van die artikel kan soos volg daar uitsien:

politiek bedryf verpolitiseer ('n saak) institusionaliseer (instel), saamstel (regering), sentraliseer, desentraliseer, (gesag) afwentel demokratiseer, nasionaliseer, privatiseer sit (parlement), in sitting wees, (parlementêre) debat voer, spreekbeurt neem, interpelleer, eerste lesing van wetsontwerp hou (wet) afkondig of promulgeer 'n portefeulje hê, van portefeulje verander.

Van die leksikale items wat in die artikel saamgebondel is, kan as teenoorgesteldes van mekaar beskou word en nie as sinonieme of naby-sinonieme nie; vergelyk nasionaliseer en privatiseer, die gesag sentraliseer en desentraliseer. Die leksikograaf maak ongelukkig nie melding van hierdie betekenisbetrekkinge nie.

Met 'n vergelyking van die TA-inskrywing blyk dit dat die inhoud van die artikel onveranderd gebly het.

 

 

Dieselfde aanbeveling kan dus ook by TA gemaak word. Kruisverwysings kan op 'n konsekwente wyse gebruik word om semantiese betrekkinge suksesvol aan te dui.

Die derde algemene semantiese betrekking wat deurgaans in tesourusse voorkom, naamlik hiponimie, word in die volgende afdeling bespreek.

3.3 Hiponimie

Hiponimie en meronimie word volgens Murphy (2016: 443) as simmetriese of hiërargiese betrekkings beskou, aangesien indien A 'n tipe (deel van) B is, B nie 'n tipe (deel van) A kan wees nie. Die gebrek aan simmetrie maak hierdie betrekkings belangrik in die definiëringsproses, aangesien 'n definiendum beskryf kan word sonder om sirkeldefiniëring te gebruik. Hiponimie en meronimie word direk in nielinguistiese betrekkinge tussen denotata reflekteer (Murphy 2016: 443). Hiponimie kan gedefinieer word as 'n semantiese betrekking van insluiting en Bosman en Pienaar (2014: 264) verskaf die volgende voorbeelde: affodil-blom; hond-dier. Die betrekking insluiting beteken dat indien iets 'n affodil is, dit ook noodwendig 'n blom is en indien iets 'n hond is, dit ook noodwendig 'n dier is. Die woord wat 'n oorkoepelende klas of algemene term (byvoorbeeld soogdier) benoem, heet die superordinaat en die woorde wat die ingeslote klas (soos hond) benoem, heet hiponieme of subordinate. Die betekenis van die superordinaat is dus meer algemeen en die betekenis van die hiponiem(e) meer spesifiek, aldus Bosman en Pienaar (2014: 264). Murphy (2016: 443) wys egter op ons sinmaak van hiponimie as 'n paradigmatiese "soortvan"-verhouding, byvoorbeeld alle professore is soogdiere, maar die uiting "alle professore is soogdiere" kan as 'n vreemde uiting ervaar word.

Bosman en Pienaar (2014: 264) meld dat die voorbeelde wat gewoonlik gebruik word om die betrekking van hiponimie aan te dui, selfstandige naamwoorde is, maar in 'n WordNet-analise van werkwoorde is bevind dat veral die betrekking van insluiting en troponimie gebruik word. As voorbeeld word die werkwoorde snork en slaap genoem, waar daar 'n verhouding van insluiting voorkom: As jy snork, hou dit in dat jy slaap. Neurie is ook 'n voorbeeld van sing (Bosman en Pienaar 2014: 264).

Hiponimie is een van die leksikale betrekkinge wat in 'n tesourus aangedui word en in die voorwerk van GT en TA word dit pertinent genoem. Spesifieke hiponimiese betrekkinge word nie aangedui nie. In die tesourus word daar geen leiding aan die gebruiker verskaf ten opsigte van hiponimiese betrekkinge tussen leksikale items nie. Voorbeelde uit GT en TA word ter illustrasie bespreek.

In die geval van die artikel 363 Waterdier kan amfibie in die eerste plek as 'n sinoniem beskou word, maar dit kan ook as subordinaat van die superordinaat waterdier in GT dien. Die volgende subafdelings van die lemma waterdier kan almal as subordinate van die hiponiem waterdier beskou word: manteldier, skulpdier, seekat, seeanemoon, koraal, seewurm, strandluis, vis, varswatervis, seevis en watersoogdiere. Die subafdelings vertak verder in naby-sinonieme van die verskillende subordinate, byvoorbeeld vis, wat soos volg lui:

 

 

Die eerste 11 inskrywings kan as naby-sinonieme van die woord vis beskou word en die volgende inskrywings, geskei deur 'n kommapunt, eerder as dele van 'n vis se anatomie. Daar word nie duidelike kontekstuele leiding ten opsigte van die hiponimiese betrekking tussen die leksikale items in die artikel, maar ook in ander artikels, byvoorbeeld vissery en seekos, aan die gebruiker verskaf nie. Daar is ook nie 'n verwysing na die uitdrukking nóg vis, nóg vlees, wat onder die artikel bestaanswyse voorkom, nie. Die volledige netwerk van semantiese betrekkinge tussen die leksikale items word dus nie vir die gebruiker duidelik nie.

Die artikel van 363 Waterdier in TA sien soos volg daaruit:

 

 

By nadere ondersoek blyk dit dat die artikel hersien is, met 12 subordinate wat gelys word. Die sinoniem amfibie is bygevoeg en die volgorde het verander na vis, seevis, varswatervis, manteldier, amfibie, skulpdier, seekat, seeanemoon, koraal, seewurm, strandluis en watersoogdiere. Die nuwe volgorde van verskillende kategorieë vissoorte kan as 'n verbetering beskou word deurdat dit semantiese konsepte wat nader aan mekaar is en meer natuurlik op mekaar volg na aan mekaar geplaas is. Ter illustrasie van die verbetering kan vis, wat as hiponiem vir die volgende optree, verder ontleed word: seevis, soutwatervis, pelagiese vis, varswatervis, soetwatervis, beenvis, kraakbeenvis, roofvis, eetvis, hengelvis, lynvis, sportvis, vingerling. 'n Kommapunt skei die volgende inskrywing wat eerder 'n deel-van-verhouding uitbeeld, naamlik vin, stekelvin, rugvin, eerste rugvin, dorsale vin, tweede rugvin, stert, stertvin, anaalvin, buikvin, borsvin, sylyn, kieu, kief, brangieë (meervoud), kieudeksel, kiefdeksel, kieuspleet, kieuboog, kieudraad, kieukammetjie, kieuhark, halfkieu, asemhalingsgat (walvis), spuitgat (walvis), neusgat (walvis), skub, grom (ingewande), graat, visgraat, visbeentjie. Hierdie artikel lys dus eerder hiponimiese betrekkinge tussen woorde as sinonimiese betrekkinge. Konteksleiding ontbreek egter om 'n volledige oordrag van semantiese betrekkinge tussen woorde te illustreer.

Verdere voorbeelde van hiponimie-artikels is soogdier, reptiel, voël, oerdier, insek, groenteverbouing, vrugteverbouing en hul subordinate. Die leksikograaf kan beter leiding verskaf deur van 'n tipografiese konvensie, wat in die toeligtende aantekeninge aan die gebruiker verduidelik word, gebruik te maak om 'n hiponimiese betrekking aan te dui.

Tot dusver was die onderwerp van bespreking die bestaan van semantiese betrekkings tussen leksikale items, met verwysing na woordeboekstrukture soos die sentrale teks, klassifikasieplan en indeks. Daar is deurgaans na die elektroniese weergawe van TA verwys sonder verdere bespreking daarvan, en in die volgende afdeling is die fokus op semantiese betrekkinge en woordeboekstrukture in die elektroniese weergawe.

 

4. Woordeboekstrukture en semantiese betrekkinge in die elektroniese tesourus

Leksikografie bly geensins onaangeraak deur verskeie uitvindings en ontwikkeling op tegnologiese gebied nie, soos tereg deur verskillende navorsers opgemerk. Fuertes-Olivera en Tarp (2020: 258) wys onder andere op die invloed van nuwe tegnologie op alle aspekte van die leksikografie, naamlik vanaf empiriese databronne vir die insameling, verwerking en stoor van data tot die aanbieding daarvan vir eindgebruikers. Klosa en Gouws (2015: 143) bespreek 'n teoretiese basis vir die aanbieding van data aan eindgebruikers met verwysing na woordeboekstrukture, spesifiek buitetekste, in die elektroniese woordeboeke. Volgens Gouws (2014; 2014a) is dit noodsaaklik vir die suksesvolle aanpassing van 'n algemene teorie vir leksikografie om medium-onspesifiek te word en aan die behoeftes van die praktyk van aanlyn woordeboeke te voldoen sodat voldoende aandag geskenk word aan verskillende woordeboekstrukture relevant vir aanlyn woordeboeke. Klosa en Gouws (2015: 143) ondersoek buitetekste in elektroniese woordeboeke deur dit met buitetekste in gedrukte woordeboeke te vergelyk en die dataverspreidingstruktuur in gedrukte en elektroniese woordeboeke te vergelyk, en tref 'n onderskeid tussen woordeboek-interne en woordeboek-eksterne buitetekste. In die navorsing word daar na verskillende buitetekste in elektroniese woordeboeke (gebruikersgidse, aanwysers na woordeboekinhoud en taalspeletjies) verwys (Klosa en Gouws 2015: 143). Teoretiese insigte uit laasgenoemde artikel word vervolgens op strukture in die elektroniese tesourus toegepas.

Aangesien woordeboeke as houers van inligting beskou word en uit verskillende tekstipes bestaan, word nie net die sentrale woordelys in die aanbied van leksikografiese data in gedrukte woordeboeke benut nie (Klosa en Gouws 2015: 146). Voorwerk- en agterwerktekste word ook gebruik om die ware doel van 'n woordeboek te verwesenlik en die artikelstruktuur van 'n gedrukte woordeboek bestaan uit verskillende komponente, naamlik tekssegmente, kommentaar en soeksones (Klosa en Gouws 2015: 146).

Die gedrukte TA kan as 'n politoeganklike woordeboek beskou word, aangesien dit oor meer as een toegangstruktuur en soekroete beskik. Dit beskik oor drie tematies geordende toegangstrukture, te wete die inhoudsopgawe, die klassifikasieplan en die sentrale teks, asook 'n inisieel-alfabetiese toegangstruktuur.

Die inhoudsopgawe lys die verskillende konsepkategorieë waarin die tesourus verdeel is, asook die 10 hoofkategorieë. Naas die hoofkategorieë word die konsepnommers verskaf en by die konsepkategorieë word die spesifieke konsepnommer asook die bladsynommer verskaf. Alhoewel die inhoudsopgawe as deel van die toegangstruktuur beskou moet word, gaan die gebruiker dit nie as 'n soekroete vir die inwinning van kitsinligting gebruik nie, tensy die gebruiker al die lemmas onder 'n spesifieke konsepkategorie wil naslaan, aangesien die verskillende lemmas wat in die makrostruktuur voorkom nie gelys word nie. Die inhoudsopgawe vorm nie deel van die elektroniese weergawe van TA nie en dit sal nie funksioneel wees om dit deel te maak daarvan nie, aangesien die gebruiker leksikale items deur middel van 'n soekblok naslaan.

Die tweede tematies geordende toegangstruktuur van TA is 'n klassifikasieplan. Daarin word die verskillende hoofkategorieë genommer, die konsepkategorieë met hoofletters genommer en die verskillende lemmas genommer. Verdere tematiese indelings onder die konsepkategorieë word gemaak en met kleinletters genommer. Die klassifikasieplan dien as 'n uiteensetting van die konseptuele raamwerk van die woordeboek en die gebruiker kry die verskillende konsepkategorieë en onderafdelings wat in die woordeboek voorkom. Dit vorm tans nie deel van die elektroniese weergawe van TA nie, maar die skrywer beskou dit wel as 'n funksionele buiteteks. Dit kan as funksioneel beskou word vir die eiesoortige aard van die tesourus, aangesien ondersteuning vir die identifisering van 'n netwerk van semantiese betrekkings tussen leksikale items en konsepte aan die gebruiker verleen kan word. Hierdie toegangstruktuur kan as 'n soekroete deur die gebruiker gebruik word om 'n artikel na te slaan, aangesien die nommer van die artikel verskaf word en 'n elektroniese soektog so moontlik kan wees.

Die tweede tipe toegangstruktuur van TA is 'n inisieel-alfabetiese een. Aangesien tesourusse nie 'n tradisionele alfabetiese toegangstruktuur het wat as 'n maklike soekroete vir inligting dien nie, het TA 'n gebruikersgerigte hulpmiddel, naamlik 'n alfabeties geordende indeks. Die indeks vorm nie deel van die elektroniese weergawe van TA nie en dit sal nie funksioneel wees om dit deel daarvan te maak nie, aangesien die gebruiker leksikale items deur middel van 'n soekblok naslaan. Met behulp van 'n soekveld bereik die gebruiker 'n artikel in die sentrale teks van die elektroniese weergawe. Vergelyk figuur 9 hier onder.

 

 

Volgens die soekblok in die elektroniese weergawe is daar drie opsies waarmee jou soektog aangepas kan word, naamlik Soek vir: Enige van hierdie woorde, Al hierdie woorde of Presiese frase. Die soekblok beklee 'n prominente posisie in die middel van die bladsy en die gebruiker weet presies waar om 'n leksikale item na te slaan. Volgens Klosa en Gouws (2015: 163) blyk inleidende aantekeninge oor die gebruik van 'n woordeboek onnodig te wees, maar 'n prominente soekveld is belangrik. Dieselfde geld navigasie binne die sentrale teks, waar gebruikers in die meeste gevalle weet hoe om deur lang artikels te navigeer en hiperskakels te gebruik. Die voorwoord en inleidende artikel oor die aard en gebruik van die tesourus is aanwesig in die elektroniese weergawe, maar slegs indien daar pertinent 'n soektog daarna uitgevoer word. Dit is dus een van die buitetekste wat as oortollig beskou kan word in 'n elektroniese weergawe.

Met ondersoek blyk dit dat die sentrale teks van TA identies is aan die elektroniese teks. 'n Sentrale teks in elektroniese formaat bied baie leksikografiese moontlikhede wat tot voordeel van die gebruiker aangepas kan word. Met die fokus op meer kontekstuele leiding rakende die verskaffing van 'n semantiese netwerk van konsepte en betekenisbetrekkinge tussen leksikale items, kan leksikografiese vernuwing op twee wyses plaasvind. Eerstens kan onderskeid tussen verskillende semantiese betrekkinge (sinonimie, hiponimie) getref word deur hiperskakels na ander verwante artikels in te voeg. Aangesien die tesourus deel vorm van die aanlynwoordeboekportefeulje van Pharos (en dus ook 'n verklarende woordeboek), kan hiperskakels na betekenisverklarings ingevoeg word. Sodoende kan kontekstuele leiding verskaf word vir die tans slegs gelyste items in 'n tesourus. Die moontlikhede met hiperskakels is eindeloos en die uitgewer kan skakels na die Afrikaanse WordNet of ander nuttige webwerwe oorweeg.

Tweedens word 'n soektog wat meer gerig is op die semantiese betrekkinge tussen leksikale items in die elektroniese tesourus voorgestel. Soektogte om die samehang in die leksikon te kontekstualiseer, kan uitgebrei word. Die skrywer stel dus vrae soos volg in die soekveld voor:

Wat is 'n sinoniem van X? Wat is 'n hiponiem van X? Wat is subordinate van X? Wat is die teenoorgestelde van X?

Met die gebruik van bogenoemde vrae kan die sentrale teks se data gebruik word vir spesifieke soektogte wat semantiese betrekkings insluit en meer eenduidige antwoorde op 'n gebruiker se moontlike vrae verskaf. Die manier waarop leksikale items tans in die sentrale teks gelys word, maak dit nie vir die gebruiker moontlik om te onderskei watter leksikale items nie onderling vervangbaar is nie, en sodoende kan die samehang in die leksikon vir die gebruiker gekontekstualiseer word.

 

5. Gevolgtrekking

Kay en Alexander (2016: 380) skets 'n rooskleurige prentjie van die toekomstige waarde van 'n elektroniese tesourus teen die agtergrond van die tegnologiese integrasie van 'n databasis. Tegnologiese ontwikkeling op leksikografiese gebied sluit onder andere die gebruik van 'n tesourus as databasis in, waar 'n gebruiker nie meer van 'n alfabetiese toegangstruktuur gebruik maak om inligting te bekom nie. Die voordele van 'n tesourus, waar leksikale items volgens semantiese betrekkinge gerangskik word, is aansienlik meer aantreklik as alfabetiese ordening in 'n tradisionele gedrukte woordeboek (Kay en Alexander 2016: 380). Kay en Alexander (2016: 380) beskou 'n tesourusformaat as 'n voorbeeld van naatlose integrasie in die digitale era vir gebruikersgerigtheid en voorspel dat die oudste vorm van leksikografie en die dominate vorm voor die koms van alfabetisering weereens dominant in die postdruk- digitale toekoms sal wees.

Fuertes-Olivera en Tarp (2020: 257) se waarneming is dat leksikografiese produkte nie meer woordeboeke par excellence is nie, maar wel leksikografiese data wat óf in woordeboekformaat óf deur 'n verskeidenheid van hulpmiddels, platforms en dienste aan 'n gebruiker verskaf word. Hulle beskryf die funksionaliteite van 'n digitale skryfassistent as voorbeeld van so 'n hulpmiddel en hoe 'n databasis daarvoor saamgestel kan word (Fuertes-Olivera en Tarp 2020: 257). TA beskik reeds oor 'n elektroniese databasis en kan moontlik vir 'n digitale skryfassistent in Afrikaans aangepas word. TA vorm reeds deel van die aanlyn platform vir Pharos se leksikografiese produkte en is dus goed geposisioneer om 'n sekondêre produk van die tesourus te skep, wat aansluit by die idee van volhoubare leksikografie (Colman 2016: 141).

Aansluitend by die verskaffing van 'n diens aan gebruikers in die digitale omgewing, is die voorkoms van leksikovermaak as buiteteks, soos deur Klosa en Gouws (2015: 164) beskryf. Leksikovermaak verwys onder andere na 'n verskeidenheid taalspeletjies en onderrigmateriaal wat in gedrukte formaat of op 'n interaktiewe wyse gebruik kan word (Klosa en Gouws 2015: 164). Tans is 'n "Woord van die week", 'n "Spreekwoord" en "Het jy geweet?" as leksikovermaak op die Pharos-platform beskikbaar. Daar bestaan egter 'n leemte in die leksikovermaak rakende tesourusgebruik en die skrywer stel 'n fokus op inligting oor semantiese betrekkings tussen leksikale items vir leksikovermaak voor. Inligting rakende betrekkinge van sinonimie, hiponimie en teenoorgesteldheid kan op 'n opvoedkundige, vermaaklike en interaktiewe wyse aan die gebruiker gebied word ten einde die gebruik van 'n tesourus op die voorgrond te plaas.

 

Eindnote

1 Doelbewuste verwysing, op grond van die hegte (ook akademiese) vriendskap met die persoon aan wie die bundel opgedra word.
2 Doelbewuste verwysing, op grond van die persoonlike en akademiese vriendskap met die persoon aan wie die bundel opgedra word.

 

Bibliografie

Woordeboeke

De Stadler, L.G. en A. de Stadler. 1994. Groot Tesourus van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers.         [ Links ]

De Stadler, L.G. en A. de Stadler. 2021. Tesourus van Afrikaans. Kaapstad: Pharos (aanlyn).         [ Links ]

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson Education.         [ Links ]

Ander bronne

Bosman, N. en M. Pienaar. 2014. Afrikaanse semantiek. Carstens, W.A.M. en N. Bosman (Reds.). 2014: 245-273.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (Reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Colman, L. 2016. Sustainable Lexicography: Where to Go from Here With the ANW (Algemeen Nederlands Woordenboek, an Online General Language Dictionary of Contemporary Dutch)? International Journal of Lexicography 29(2): 139-155.         [ Links ]

De Stadler, L.G. 2022. Navraag oor tesourus. E-poskommunikasie, 10 November.

Durkin, P. (Red.). 2016. The Oxford Handbook of Lexicography. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Fuertes-Olivera, P.A. en S. Tarp. 2020. A Window to the Future: Proposal for a Lexicography-assisted Writing Assistant. Lexicographica 36(2020): 257-286. Beskikbaar: https://doi.org/10.1515/lex-2020-0014 [2 Desember 2022].         [ Links ]

Gao, J. en H. Liu. 2019. Valency and English Learners' Thesauri. International Journal of Lexicography 32(3): 326-361.Beskikbaar: https://doi:10.1093/ijl/ecy025/ [2 Desember 2022].         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014a. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(3). 481-504.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2017. Van tematiese na alfabetiese na tematiese ordening in woordeboeke - wisselwerking tussen teorie en praktyk. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus 53: 133-148.Beskikbaar: https://doi:10.5842/53-0-737 [2 Desember 2022].         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. 2005. Teaching and Researching Lexicography. Beijing: Foreign Language Teaching and Research Press.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. en G. James (Reds). 2000. Dictionary of Lexicography. Beijing: Foreign Language Teaching and Research Press.         [ Links ]

Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991. Worterbücher, Dictionaries, Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlyn: Walter de Gruyter.         [ Links ]

Hüllen, W. 2006. Roget's Thesaurus, 1852 to 2002. Lexicographica 21(2005, 2006): 71-82.Beskikbaar: https://doi.org/10.1515/9783484604742.71 [2 Desember 2022].         [ Links ]

Kay, C. en M. Alexander. 2016. Diachronic and Synchronic Thesauruses. Durkin, P. (Red.). 2016: 367-392.

Kilgarriff, A. en C. Yallop. 2000. What's in a Thesaurus? Proceedings of the Second International Conference on Language Resources and Evaluation (LREC'00), May 2000, Athens, Greece. European Language Resources Association (ELRA): 1371-1379. Beskikbaar: https://aclanthology.org/L00-1134/ [26 April 2022].

Klosa, A. en R.H. Gouws. 2015. Outer Features in e-Dictionaries / Außentexte in Online-Wörterbüchern / Caractéristiques extérieures dans les dictionnaires en ligne. Lexicographica 31(1): 142-172.Beskikbaar: https://doi.org/10.1515/lexi-2015-0008 [2 Desember 2022].         [ Links ]

Knappe, G. 2013. Phrasal and Phraseological Synonymy in the Historical Thesaurus of the Oxford English Dictionary. International Journal of Lexicography 26(3): 305-328.         [ Links ]

Lyons, J. 1977. Semantics: Volume 2. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Marello, C. 1989. The Thesaurus. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 1083-1094.

Murphy, M.L. 2013. What We Talk about When We Talk about Synonyms. International Journal of Lexicography 26(3): 279-304.         [ Links ]

Murphy, M.L. 2016. Meaning Relations in Dictionaries: Hyponymy, Meronymy, Synonymy, Antonymy, and Contrast. Durkin, P. (Red.). 2016: 439-456.

Peters, W. en A. Kilgarriff. 2000. Discovering Semantic Regularity in Lexical Resources. International Journal of Lexicography 13(4): 287-312.         [ Links ]

Van Schalkwyk, C. 1996. Resensie: De Stadler, L.G. en Amanda de Stadler. Groot Tesourus van Afrikaans. Lexikos 6: 283-293.         [ Links ]

Vos, I.L. 1994. Resensie: Harteveld, P. (Red.), L.G. de Stadler en D.C. Hauptfleisch. Woordkeusegids: 'n Kerntesourus van Afrikaans. Lexikos 4: 305-307.

Wiegand, H.E. 2002. Über textuelle Strukturen der Wörterbuchartikel und Artikelnischen im de Gruyter Wörterbuch Deutsch als Fremdsprache. Zugleich ein Betrag zur Weiterentwicklung einer Theorie der Wörterbuchform. Wiegand, H.E. (Red.). 2002a: 497-595.

Wiegand, H.E. (Red.). 2002a. Perspektiven der pädagogischen Lexikographie des Deutschen II. Untersuchungen anhand des de Gruyter Wörterbuchs Deutsch als Fremdsprache. Lexicographica. Series Maior 110. Tübingen: Max Niemeyer.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 2003. Überlegungen zur Typologie von Wörterbuchartikeln in Printwörterbüchern. Ein Betrag zur Theorie der Wörterbuchform. Lexicographica 19: 169-313.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 2005. Angaben, funktionale Angabezusätze, Angabetexte, Angabestrukturen, Strukturanzeiger, Kommentare und mehr. Ein Betrag zur Theorie der Wörterbuchform. Lexicographica 21: 202-379.         [ Links ]

Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. Den Haag: Mouton.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License