SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 special issue author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.33 spe Stellenbosch  2023

http://dx.doi.org/10.5788/33-2-1834 

ARTICLES

 

Voorlopige kriteria vir wie en wat die leksikograaf is

 

Proposed Criteria for Being a Lexicographer

 

 

Marius SwartI; André H. du PlessisII

IDepartement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika (mariusswart@sun.ac.za)
IIBuro van die WAT, Stellenbosch, Suid-Afrika; Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika (ahdp@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

Daar is verbasend min sistematiese akademiese ondersoek na wie presies leksikograwe is. Rufus Gouws wys hierdie problematiek reeds 'n dekade gelede uit. Gouws (2012) ondersoek nie net die aktiwiteite wat verband hou met Leksikografie nie, maar vra krities watter rolle die persone speel wat binne hierdie vakgebied bedrywig is. Gouws (ibid.) se bespreking lei af dat dit nodig is om ondubbelsinnige kriteria te ontwikkel vir wie 'n leksikograaf genoem kan word. Om hierdie kriteria te help ontwikkel, neem hierdie artikel die werk van Gouws onder die loep in die vorm van 'n gevallestudie met 'n onderliggende tematiese analise. Gouws se eie bydrae op metaleksikografiese vlak, maar ook tot die leksikografiese praktyk en leksikografie-opleiding, spreek vanself in terme van produktiwiteit, kundigheid en relevansie. Die gevallestudie behels 'n literatuuroorsig oor Gouws se navorsingsartikels uit die afgelope 10 jaar sedert die verskyning van die genoemde 2012-artikel. Die artikels is tematies ontleed en 'n stel rolle word afgelei wat algemeen blyk uit hierdie leksikografiese publikasies. Hierdie rolle of aktiwiteite word indringend bespreek, en uit die bespreking word uiteindelik 'n voorlopige stel kriteria afgelei vir wie 'n leksikograaf genoem kan word.

Sleutelwoorde: leksikograaf, metaleksikograaf, woordeboekmaker, pedagoog, taalkundige, taalburgerskap, aktivisme


ABSTRACT

There is surprisingly little systematic academic research on who exactly lexicographers are. This issue was identified a decade ago by Rufus Gouws. Gouws (2012) not only investigates the activities of those involved in Lexicography, but critically questions the roles of the active participants. Gouws (ibid.) concludes by emphasising that it is imperative to develop unambiguous criteria for who can be called a lexicographer. This article aims to help develop these criteria by placing the work of Gouws under the microscope in the form of a case study with an underlying thematic analysis. Gouws' own contributions to the meta- and practical lexicography, as well as to dictionary didactics and pedagogy, attests to his productivity, expertise and relevance. This case study includes a literature review of Gouws' research articles from the last 10 years since the publication of the 2012 article mentioned above. The articles are analysed thematically to deduce the general roles and activities of the lexicographer. These roles or activities are discussed incisively, and from this discussion, a set of tentative criteria is proposed for who can be called a lexicographer.

Keywords: lexicographer, metalexicographer, dictionary maker, educator, linguist, linguistic citizenship, activism


 

 

1. Inleiding

Die leksikograaf is binne die leksikografie 'n noodwendigheid. Nieteenstaande hierdie logiese gegewe, is daar verbasend min sistematiese akademiese ondersoek na wie presies leksikograwe is, of, op die sosiologiese vlak, na die leksikograaf as sodanig. Die leksikograaf word in navorsing geïmpliseer, maar skynbaar selde bestudeer.

Hierdie onderbestudering van die leksikograaf in die leksikografie blyk 'n wydverspreide verskynsel te wees. In die gesaghebbende Routledge Handbook of Lexicography (Fuertes-Olivera 2018) is 47 hoofstukke, verdeel in 5 tematiese afdelings. Nie een van hierdie afdelings handel spesifiek oor die leksikograaf nie. Wat ondersoek word, is die basis van die leksikografie, die interdissiplinêre aard daarvan, woordeboektipes, vernuwende woordeboeke, en die verband tussen die leksikografie, wêreldtale en die internet (ibid.). In nie een van die hoofstuktitels word die leksikograaf by name genoem nie.

Nog meer onlangs, in die Bloomsbury Handbook of Lexicography (Jackson 2022), is daar 24 hoofstukke in 3 tematiese afdelings. Heelwat word gesê oor die samestelling van woordeboeke of die leksikografiepraktyk as sodanig; die toekoms van die leksikografie en woordeboeke word ook onder die loep geneem. Daar is egter ook hier geen bydrae wat spesifiek die leksikograaf as noodwendige betrokkene ondersoek of bespreek nie.

Hierdie vreemde verskynsel is nie beperk tot die hoofstroom- Engelse vakleksikografiese bronne nie. In De Gruyter se Lexicographica. Series Maior kom eweneens nie volumes voor wat spesifiek die leksikograaf sosiologies of sosiaal-maatskaplik ondersoek nie (vgl. die volledige lys hier: https://www.degruyter. com/serial/lexsm-b/html#volumes). In die afgelope 10 jaar het daar 21 boeke in hierdie gesaghebbende boekreeks verskyn, hoofsaaklik in Engels en Duits. Die hoofonderwerpe in hierdie boekreeks is die metaleksikografie (4 volumes), historiese ondersoeke (4 volumes), die semantiek of semiotiek (3 volumes) en die woordeboekdidaktiek (3 volumes). Een boek noem samestellers van mediese woordeboeke (McConchie 2019), maar verder maak die leksikograaf ook hier nie die onderwerp uit nie.

Rufus Gouws wys hierdie problematiek reeds 'n dekade gelede uit in 'n artikel in Lexikos. Volgens Gouws (2012: 218) bestryk mense se betrokkenheid by die leksikografie 'n wye verskeidenheid aktiwiteite. Hierdie mense het miskien te make met nietradisionele aktiwiteite soos die ontwikkeling van rekenaarprogrammatuur, proefleeswerk en dies meer, asook die maak van nietradisionele - maar in wese leksikografiese - bronne soos ensiklopedieë (2012: 220-221), benewens die tradisionele maak van woordeboeke.

Die vraag is dan (ibid.) of hierdie mense wel "leksikograwe" genoem kan word. Volgens Gouws (2012: 223) kan énige iemand wat "woordeboeke skryf", 'n leksikograaf genoem word. Daar is byvoorbeeld diegene wat praktiese leksikografie beoefen sonder dat hulle enige teoretiese agtergrond het, diegene wat teoreties besig is sonder om praktiese werk te lewer, en 'n groep wat effe meer na een van hierdie kante neig hoewel hulle ook iets van die ander kant doen (Gouws 2006: 75).

Die saak word verder gekompliseer deur die opkoms in formele opleidingsprogramme - Gouws (2012: 219) vra of persone met hierdie opleiding "leksikograwe" is alvorens hulle self prakties aan woordeboekprojekte gewerk het. Hierin word dus 'n tweedeling geïmpliseer: Daar kan iets soos 'n "praktiese leksikograaf" wees, en ook iets soos 'n "teoretiese leksikograaf". Volgens Gouws (ibid.) vorm hierdie onderskeid in wese twee hoofkomponente van die leksikografie.

As daar vir 'n oomblik afgestap word van woordeboeke en soortgelyke leksikografiese hulpbronne, kom 'n volgende verklaring van hierdie problematiek na vore. Gouws (2012: 222) wys daarop dat daar ook mense is wat handboeke oor die leksikografie skryf, akademiese navorsing daaroor doen en publiseer, en teoretiese modelle vir die maak van woordeboeke ontwikkel. Hierbenewens is hierdie mense tipies by onderrig en opleiding betrokke (ibid.). Is hulle leksikograwe? Gouws (ibid.) noem hierdie mense "metaleksikograwe", maar wys ook dadelik op die feit dat dit onduidelik is watter kriteria eintlik geld om iemand 'n "metaleksikograaf" te kan noem, net soos met "leksikograaf" hierbo. Verder is daar ook nog vrae oor die graad van direkte betrokkenheid by 'n woordeboekprojek wat 'n hiërargie impliseer (Gouws 2012: 223-224).

Dit is vervolgens, volgens Gouws (2012: 224-225), nodig om ondubbelsinnige kriteria te ontwikkel vir wie 'n leksikograaf genoem kan word, omdat hierdie gebrek aan kriteria potensieel die ontwikkeling van die vakgebied aan bande kan lê.

Om hierdie kriteria te help ontwikkel, neem hierdie artikel vir Rufus Gouws onder die loep in die vorm van 'n gevallestudie met 'n onderliggende tematiese analise. Die aanname word eerstens gemaak dat Rufus Gouws wel 'n leksikograaf genoem kan word. Gouws se eie bydrae tot die leksikografie, op metaleksikografiese en teoretiese vlak, maar ook tot die leksikografiese praktyk en leksikografie-opleiding, spreek vanself in terme van produktiwiteit, kundigheid en relevansie. Hy publiseer meer as 200 navorsingsartikels en boekhoofstukke, en meer as 20 boeke, benewens die meer as 100 vakkundige referate wat hy al gelewer het en sy groot getalle afgestudeerde nagraadse studente (LitNet 2022), baie van laasgenoemde ook op hulle beurt ten nouste in die leksikografie betrokke.

Die gevallestudie behels 'n literatuuroorsig oor Gouws se navorsingsartikels uit die afgelope 10 jaar sedert die verskyning van die 2012-artikel waarin hy vra wie 'n leksikograaf genoem kan word. Alle artikels waarin hy alleen- of mede-outeur was en wat in geakkrediteerde akademiese tydskrifte verskyn het, is in die ondersoek ingesluit. Die artikels is tematies ontleed en 'n stel rolle word daargestel wat algemeen blyk uit hierdie leksikografiese publikasies. Hierdie rolle of aktiwiteite word indringend bespreek, en uit die bespreking word uiteindelik 'n voorlopige stel kriteria afgelei vir wie 'n leksikograaf genoem kan word. Hierdie kriteria word voorgestel om die gaping te help vul wat Gouws 10 jaar gelede uitgewys het.

 

2. Die leksikograaf as woordeboekmaker of leksikografiese praktisyn

In die ontwikkeling, vestiging en voortdurende verandering van die leksikografiepraktyk staan die mense wat in hierdie praktyk werk sentraal, hoewel hulle, soos later bespreek, nie naastenby die nodige akademiese bestudering ondergaan nie. Sonder die maker van 'n leksikografiese produk, kan daar nie 'n produk of praktyk wees nie. Gouws (2016a; 2017: 135) wys dat die leksikografiepraktyk veel ouer as die teorie is en dat die ontwikkeling van die praktyk gekenmerk word deur ingrypende aanpassings en verskeie beduidende oorgange, soos die oorgang van primitiewe woordeboeke op kleitablette en perkament na gedrukte boeke en uiteindelik gevorderde elektroniese produkte.

Een oorgang waarvan die impak nooit geminag mag word nie, is, volgens Gouws (2017: 135), die oorgang vanaf die tematiese na die alfabetiese ordening in woordeboeke. Hierdie oorgang "was [] nie net 'n oorgang met betrekking tot 'n ordeningsmetode nie, maar ook 'n oorgang in die manier waarop woordeboeke as houers van kennis gesien, beplan en saamgestel is" (ibid.). In die aanvang van die leksikografiepraktyk het woordeboekmakers slegs gepoog om die taal vas te vang en weer te gee, terwyl die tematiese geordendheid van vroeë woordeboeke, veral in die Middeleeue, ook kennis oorgedra het (Gouws 2016b: 358). Die skolastici wat die praktyk aanvanklik ontgin het, wou "kennis organiseer, sorteer en klassifiseer, en hulle het gepoog om die sogenaamde omne scibile (= alles wat wetenswaardig is) vas te vang" (Gouws 2016b: 358). Hierdie oordrag van wetenswaardige kennis is steeds 'n belangrike mandaat in die moderne leksikografiese praktyk, maar die taalkundige en leksikografiese behoeftes van die gebruiker is die eerste prioriteit. Die evolusie van die praktyk het, saam met die uiteindelike vestiging van die metaleksikografie en die onlangse digitale revolusie, vir, inter alia, woordeboektipologieë, spesifieke teikengebruikers en sinvolle raamwerke of riglyne vir die saamstel van woordeboeke gesorg (vgl. Gouws 2015a, 2016a, 2018b). Dit is hierdie dinamiese, veranderlike aard van die praktyk, sowel as die teorie, wat veroorsaak dat die leksikograaf telkens aanpasbaar moet wees (Gouws 2018c: 225) en nie los van die leksikografiese praktyk kan staan nie.

Gouws (2020b: 4) beklemtoon dat 'n goeie woordeboek gekenmerk word deur die getroue uitoefening en nakoming van 'n deurdagte, sistematiese woordeboekplan, veral een wat op gevestigde metaleksikografiese modelle of beginsels berus1. Dit beteken dat die leksikograaf, ongeag die medium, telkens bewus moet wees van die besondere kenmerke van die beplande woordeboek, soos die funksies, inhoud en strukture, asook die teikengebruikers wat daardie woordeboek moet raadpleeg, en hulle behoeftes (Gouws 2018c: 226; 2022b: 97). 'n Leksikograaf wat bewus is van veral woordeboekstrukture, en die verskeie maniere om hulle te gebruik, sal aldus Gouws (2022a: 113) 'n beter woordeboek skep wat data toegankliker vir die gebruiker maak (vgl. ook Gouws 2018c).

Praktiese leksikograwe neem té gereeld nie kennis van die diverse strukture wat in woordeboeke gebruik (kan) word nie (Tarp en Gouws 2020). Daar word dikwels net op enkele strukture soos die makro- of mikrostruktuur gefikseer (ibid.). Die aanbieding van en toegang tot data in 'n leksikografiese produk is egter 'n bepalende faktor in die geslaagheid daarvan, nie net vir die gebruiker nie maar ook vir die leksikograaf. Woordeboeke is mensgerigte gebruiksinstrumente wat so ontwerp moet wees dat dit die mens wat dit uiteindelik gebruik, se behoeftes kan bevredig (Tarp en Gouws 2020: 472; Bothma en Gouws 2022). Dit is fundamenteel dat 'n leksikograaf noukeurig moet wees in die sifting, opneem en aanbieding van data in 'n woordeboek, juis sodat die gebruiker nie die skuld kry as 'n hulle nie die nodige inligting kan opspoor of onttrek uit die woordeboek nie (Tarp en Gouws 2020: 494-495). Byvoorbeeld, selfs iets so elementêr soos die aanbieding van sinonieme in tweetalige woordeboeke moet van so 'n aard wees dat die gebruiker binne die bepaalde konteks maklik en vinnig die gepaste sinoniem moet kan opspoor (Gouws 2013a: 347). Gebrekkige data-aanbieding of toegangsroetes kan 'n gebruiker frustreer, in die verleentheid laat, of die raadplegingsproses onnodig vertraag (vgl. Gouws 2018a). Dit geld nie net vir die data wat in die sentrale teks, die data tipies tussen die alfabettrajekte van A tot Z, opgeneem is nie. Gouws (2018a: 186-187) stel daarom tereg die volgende:

[I]n die benutting van leksikografiese korpora, die saamstel van die databasis en die ontrekking van data aan die databasis om as aanduiders in woordeboekartikels of inskrywings in buitekomponente te dien, speel die leksikograaf die bepalende rol. Die leksikograaf maak naamlik die keuse, weliswaar gebaseer op die vasgestelde behoeftes van 'n geïdentifiseerde teikengebruiker. In gedrukte woordeboeke is daar 'n vaste en statiese verhouding tussen gebruiker en leksikograaf met 'n eenrigtingverskaffing van data. [...] Vir woordeboeke in die dinamiese aanlyn omgewing word 'n vergelykbare verhouding gehandhaaf van die leksikograaf wat die verskaffer van data is deur keuses uit 'n korpus te maak en met behulp van 'n spesifieke databasisprogram die data 'n neerslagplek in woordeboekartikels of in buitekomponente te laat vind.

Verder voer Klosa en Gouws (2015: 171) aan dat die leksikograaf nie net op die woordeboekdata en die aanbieding van daardie data kan fokus nie, maar dat die skakels na relevante eksterne bronne of data 'n noodsaaklikheid word. Gouws (2021b: 61) eggo hierdie gedagte ten opsigte van woordeboekportale: "die toegang tot en benutting van ander woordeboeke in dieselfde soekportaal stel gebruikers aan bykomende leksikografiese data bekend, maar 'n nog belangriker aspek is die toegang tot nieleksikografiese bronne soos die internet." Begrip van en kundigheid oor leksikografiese sowel as nieleksikografiese data is daarom uiters belangrik in die samestelling van enige leksikografiese produk - dit is 'n grondbeginsel waarvolgens die praktiese leksikograaf moet werk. Bothma en Gouws (2022: 54) noem dat dit dikwels die ekstra-leksikografiese situasies is waarin gebruikers hulle bevind wat maak dat daar verskillende raadplegingsprosedures gevolg word. Soos genoem, moet die leksikograaf bewus wees van die raadplegingsprosedures van gebruikers maar ook van die navorsingsmoontlikhede wat 'n bepaalde produk kan bied. Die leksikograaf moet juis in die digitale era waar gebruikers maklik oorweldig kan word deur data-oorlading (vgl. Gouws en Tarp 2017), noukeurig met eksterne materiaal omgaan om uiteindelik die minder kundige of bekwame gebruiker ter wille te wees.

Gouws en Tarp (2017: 391) wys daarop dat die voortdurende vooruitgang van moderne tegnologie en die oorgang na elektroniese media, nuwe werktuie en werksmetodes inlei vir die skep, aanbieding of ontwikkeling van leksikografiese produkte of platforms. Die feit dat daar in die onlangse verlede, eintlik steeds, te veel e-woordeboeke is wat nie na wense is nie, dui daarop dat die leksikograaf nie meer net op die erkende of tradisionele leksikografiese proses of tendense steun nie (vgl. Gouws 2014a; Tarp en Gouws 2020). Gouws (2018c: 226) noem dat wanneer die aanlyn leksikografie betrek word, die bestaande leksikografiese praktyke en teorieë wat hoofsaaklik vir gedrukte woordeboeke geskik is steeds gebruik word, maar dit word telkens aangepas of verfyn. Die moderne praktyk dwing die leksikograaf om meer as net woordeboekmaker te wees: Hy of sy moet ook iets weet van koppelvlakontwerp, elektroniese korpusse, taaltegnologie, die bruikbaarheidsbenadering ten opsigte van rekenaars en selfone, en programmatuur (vgl. Bergenholtz et al. 2015, asook afdeling 4). Aangesien tegnologiese innovasie eksponensieel ontwikkel, word hierdie kundigheid en die diversiteit van die leksikograaf se vaardigheid al hoe belangriker (Gouws en Tarp 2017: 391). Die leksikograaf moet bewus wees van die moderne gebruiker se vaardigheide en verwagtinge, want gebruikers in die "digitale samelewing" is gewoond daaraan om inligting amper onmiddellik en op verskillende maniere te bekom (Bothma en Gouws 2020: 49). Die feit dat toekomstige gebruikers grotendeels sogenaamde "digital natives" gaan wees, beklemtoon weereens dat die (moderne) leksikograaf meer bedrewe as hulle voorgangers moet wees, veral om die aanbiedingsruimte en toegangsmoontlikhede van die aanlyn of elektroniese omgewing werklik te benut (ibid.). Gouws (2018a: 180) se punt dat woordeboeke werktuie moet wees waarmee lede van veral Generasie Z inligting kan bekom wat aan hulle leksikografiese behoeftes voldoen, is daarom 'n leuse vir die huidige en toekomstige leksikografiese praktyk.

As leksikograwe weet dat hulle teikengebruikers die nodige raadplegingsvaardighede het om hulle woordeboeke te kan gebruik, sal, volgens Tarp en Gouws (2020: 494), 'n woordeboekkultuur in swang wees. Hierdie idee is nie noodwendig in die praktyk verwesenlik nie. Daar bestaan telkens 'n skeiding tussen die leksikograaf en die gebruiker, juis omdat daar verwag word dat die leksikograaf verantwoordelik moet wees vir die maak van die produk en die teikengebruiker vir die gebruik daarvan, ongeag hoe goed of swak die produk en die gebruiker se vaardighede is (Tarp en Gouws 2020: 494). Volgens Gouws (2016b: 361) blyk dit in die (onlangse) leksikografiese praktyk dat die teikengebruikers van 'n woordeboek ook die geleentheid gegun word om deel te neem aan die leksikografiese proses, veral "vir die daarstelling van ʼn woordeboek wat op hulle behoeftes gerig is." Bergenholtz et al. (2015: 5) suggereer dat die leksikograaf self ook 'n ervare woordeboekgebruiker is en daarteenoor dat ervare en ingeligte gebruikers hulle ook van die taak van die leksikograaf kan vergewis.

Die leksikografie hoef dus nie altyd beperk te word tot die werk van opgeleide spesialiste nie. Die gebruiker as leksikografiese deelnemer kan die praktyk sowel as die vakgebied verryk. Volgens Gouws (2016b: 361) kan gebruikers besluit om 'n bepaalde woordeboek te maak, of die behoeftes van 'n bepaalde taalgemeenskap of gebruikersgroep noop iemand wat nie 'n opgeleide leksikograaf is nie, om aan die samestelling van 'n woordeboek te begin werk (vgl. ook Gouws 2018a: 189). Dit is sigbaar in projekte soos die Urban Dictionary (https:// www.urbandictionary.com/) wat volledig deur gebruikers aanlyn saamgestel en onderhou word, of die N|uu-Nama-Afrikaans-Engels-Woordeboek (Sands en Jones 2022) wat grootliks deur of met behulp van die N|uu- en Nama-taalgemeenskap saamgestel is. Selfs 'n leksikografiese baanbreker soos die Woordeboek van die Afrikaans Taal sou nie sonder die hulp van sy taalgemeenskap en gebruikers kon ontstaan en voortbestaan nie (vgl. Gouws 2021a). Gouws (2016b: 361) noem dat hierdie soort woordeboeke (veral in Afrikaans) as "leksikografiese monumente" gesien kan word en dat hierdie bydraes tot die leksikografiese praktyk nooit onderskat mag word nie.

 

3. Die leksikograaf as teoretikus en akademiese navorser

Soos reeds bepaal is die leksikografiese praktyk veel ouer as die teorie. Die praktyk het in 'n pre-teoretiese era ontstaan met die nagevolg dat die teorie, oftewel die metaleksikografie, as deel van die breër vakgebied, telkens die praktyk moes inhaal, of dat die teorie grotendeels slegs deur die praktyk beïnvloed is (Klosa en Gouws 2015: 143). Dit is byvoorbeeld sigbaar in die terminologie wat in die praktyk geskep is of die tipologiese onderverdeling van woordeboeke wat uit die praktyk ontstaan het en vandag steeds met vrug in die teorie gebruik word, hoewel dit soms onakkuraat of onkrities gehandhaaf word (Gouws 2015a: 345). Gouws (2016a: 104) noem verder dat daar, met dié dat die praktyk veel ouer as die teorie is, talle aanpassings was wat uitsluitlik op die praktyk gerig en deur praktiese behoeftes bepaal is. In ander gevalle het die leksikografieteorie, of minstens bepaalde vroeë teoretiese insigte, wel 'n rol gespeel. Samuel Johnson se preskriptiewe benadering tot sy A Dictionary of the English Language (1755) is, volgens Gouws (2016a: 105), 'n vroeë voorbeeld van waar die teorie uiteindelik die praktyk begin beïnvloed het. Met die vestiging van die leksikografie as dissipline in eie reg (nie as bv. onderafdeling van die taalkunde nie - vgl. Zgusta 1971 en Wiegand 1996), het die metaleksikografie ook erkenning en vergestalting gekry. Daar is wel uiteraard steeds oorvleueling tussen die taalkunde en leksikografie, maar die begrippe of konsepte word dikwels anders geïnterpreteer of toegepas, en die leksikograaf moet telkens besluit watter interpretasie geldig is (Bergenholtz en Gouws 2013b: 1-2).

Volgens Wiegand et al. (in Gouws 2020b: 3) is die metaleksikografie die oorkoepelende teoretiese domein van die leksikografie wat die teoretiese grondslag vir alle leksikografiese aktiwiteite en prosesse omvat. Gouws (2018a: 180) lys enkele verskillende afdelings van die metaleksikografie, naamlik historiese woordeboeknavorsing, navorsing oor woordeboekkritiek, navorsing oor woordeboekgebruik en sistematiese woordeboeknavorsing. Die metaleksikografie betrek dus, onder andere, navorsing oor al die onderskeie leksikografiese aktiwiteite en prosesse, navorsing oor en opnames van die geskiedenis van die vakgebied, die bestudering van woordeboekgebruikers, asook die kritiese beskouing en beoordeling van die praktyk as geheel en leksikografiese produkte wat daaruit voortvloei (vgl. ook Bergenholtz en Gouws 2016; Gouws 2018b, 2020a).

Dit is ook in die metaleksikografie waar twee van die bekendste en mees gesaghebbende leksikografiese teorieë ontwikkel, verfyn en toegepas word, nl. die Algemene Leksikografieteorie (vgl. Wiegand 1996) en die Funksieteorie (vgl. Tarp 2013). Teoretiese modelle vir navorsing oor of met woordeboeke, of vir die samestelling van bepaalde leksikografiese produkte, berus gereeld op dié twee teorieë en hierdie teorieë word ook tipies aangepas om 'n verskeidenheid leksikografiese probleme te probeer oplos (vgl. Faaß et al. 2014, Gouws 2014a, 2014b, 2018a, en Gouws en Prinsloo 2021a, 2021b). Vanweë hierdie wesenlike rol wat teorie, navorsing en kritiese beoordeling en beskouing in die leksikografie speel, kan daar geargumenteer word dat allerlei teoretici, kritici en navorsers ook leksikograwe kan wees.

In afdeling 5 en 6 word die leksikograaf as pedagoog en taalkundige bespreek. Hierdie rolle oorvleuel in 'n mate met die leksikograaf se rol as teoretikus, veral ten opsigte van die nodige teoretiese kennis en kundigheid rondom die spesialiteitsgebied van die leksikografie. Gouws (2018b) noem tereg dat daar in leksikografiekursusse, tipies op universiteit, 'n aanslag moet wees wat wyer strek as die eng taalkundige blik op woordeboeke. Verder stel Gouws (ibid.) weer dat beplanning en samestelling van woordeboeke nie sonder die nodige teoretiese basis en kundigheid suksesvol kan wees nie. Klosa en Gouws (2015: 164) is daarvan oortuig dat metaleksikograwe verantwoordelik is vir die formulering van teoretiese benaderinge wat die praktyk uiteindelik kan bevoordeel. Dit is ook vanuit die metaleksikografie dat die belang van die identifisering van 'n teikengebruikersgroep en die vasstelling van die leksikografiese behoeftes en naslaanvaardighede van daardie groep as voorvereistes gestel word om uiteindelik suksesvolle woordeboekgebruik te help verseker (Gouws 2016a: 110). Dit geld ook vir woordeboekstrukture (vgl. o.a. Gouws 2018a) en die aanbieding van data m.b.v. daardie strukture (vgl. Gouws en Tarp 2017). Woordeboeke met 'n teoretiese basis is daarom, volgens Gouws (2014b: 483), beter gebruiksinstrumente, en hierdie woordeboeke is streng gerig op die bevrediging van gebruikers se behoeftes.

Dit is egter problematies dat daar steeds woordeboeke of ander leksikografiese produkte ontstaan wat geen teoretiese onderbou het nie, of dat daar produkte is wat té gespesialiseerd is en so ook die (leke)gebruiker in die steek laat (vgl. Gouws 2020a, 2020b). Die belang van navorsing oor en die beplanning en implementering van 'n woordeboekkultuur kan vir die gebruik van en die begrip oor leksikografiese produkte nie onderskat word nie - dit is 'n formele komponent van die metaleksikografie (Gouws 2020b: 5). Die wisselwerking tussen die teorie en die praktyk kan ook daarom nie misken word nie, maar die onus lê by die diegene wat hul met die formulering van die leksikografieteorie bemoei. Gouws (2018a: 179) beklemtoon dat vernuwende denke daarop gerig moet wees om gebruikers en potensiële gebruikers daarvan bewus te hou dat woordeboeke steeds voorkeurbronne vir die oplossing van bepaalde probleemtipes kan wees.

Soos die praktyk verander en aanpas, so moet die metaleksikografie ook daarby aanpas en voortuitgang maak. Die aanvang van die digitale era het in hierdie verband ernstige implikasies vir die metaleksikograaf (vgl. Gouws 2021a: 1159). Die vroeë ontwikkeling van die aanlyn leksikografie het ongelukkig die pre-teoretiese tydperk van gedrukte woordeboeke nagevolg. Die samestellers van die eerste elektroniese en aanlyn woordeboeke was só ingenome met die moontlikhede van die e-omgewing dat hulle telkens vergeet het van die nodige teoretiese onderbou vir hulle produkte (Klosa en Gouws 2015: 143). Gedrukte woordeboeke, anders as elektroniese woordeboeke, is reeds enigsins verouderd wanneer hulle verskyn (Gouws 2022b: 119). Die teorieë en modelle wat vir e-woordeboeke geld, hoef nie dieselfde roete te volg nie. Al is die gevestigde metaleksikografie op gedrukte woordeboeke gerig, kan metaleksikograwe besluit of hulle hierdie teorieë en modelle vir die e-omgewing kan aan- en toepas, en of daar sal moet besin word of 'n nuwe teoretiese rigting ingeslaan moet word wat slegs geld vir e-produkte (Gouws 2022a: 114). Klosa en Gouws (2015: 143) voel sterk dat die metaleksikografie en metaleksikograwe, ongeag die verkose benadering, pro-aktief moet wees binne die e-omgewing, juis sodat leksikografiese teorie nie weer net "a follower and not a leader" word nie. Gouws (2022a: 112) verduidelik dat daar wel onlangs vordering gemaak is op hierdie front, maar dat aan die een kant, metaleksikograwe nog nie oral die nuwe moontlikhede wat die e-omgewing aanbied, aangegryp het nie, en dat daar aan die ander kant nog nie sinvol oor die innoverende ondernemings in die praktyk nagedink is nie.

Bothma en Gouws (2020: 53) stel dat dit vanuit 'n leksikografiese perspektief duidelik is dat die dinamika van die e-omgewing metaleksikograwe dwing om noukeurig te besin oor die aard en omvang van die relevante leksikografiese prosesse. Dit is reeds sigbaar wanneer die strategieë wat leksikograwe wat e-woordeboeke saamstel en bestudeer, onder die loep geneem word (vgl. Gouws 2014a). 'n Voorbeeld hiervan is die ontwerp en publisering van selfoonwoordeboeke. Gouws (2016a: 108) demonstreer dat aanlyn woordeboeke wat saamgestel word met die oog op 'n slimfoon as werktuig se strukture sal verskil van dié van 'n woordeboek wat met behulp van 'n rekenaar geraadpleeg word. Hier word bestaande strukture aangepas en verfyn vir 'n baie spesifieke soort werktuig en gebruiker.

Die metaleksikograaf se taak is juis om hierdie nuwe aanpassings in die teorie verder te ontwikkel en omskryf, sodat toekomstige of soortgelyke produkte bevredigend en suksesvol gebruik kan word. Die voortdurende verandering van tegnologie vereis dat die moderne metaleksikograaf ook soos hulle praktiese teenhanger interdissiplinêr te werk moet gaan. Kundigheid oor bv. die rekenaarwetenskap of van bruikbaarheidsbenaderinge is belangrik vir die suksesvolle aanpassing en toepassing van leksikografiese modelle, benaderinge en teorieë in die moderne en toekomstige leksikografiese milieu (vgl. Tarp en Gouws 2020). Die metaleksikografie moet nie medium-spesifiek wees nie. Klosa en Gouws (2015: 144) sluit hierby aan deur aan te voer dat die suksesvolle aanpassing van die (algemene) leksikografieteorie noodsaaklik is vir die uitdagings en vereistes van die e-praktyk, en sodat die metaleksikograaf in 'n posisie is om nuwe en vindingryke maniere aan te beveel vir die beplanning en samestelling van elektroniese leksikografiese produkte.

 

4. Die leksikograaf as medewerker

'n Wesenskenmerk van die kontemporêre leksikografie is waarskynlik dat diegene wat by die maak van woordeboeke betrokke is, ook nie in isolasie werk nie. Die maak van leksikografiese hulpbronne berus nie by een individu nie, maar kan spanne mense insluit met verskillende kennisvelde, vaardighede en fokuspunte. Tarp en Gouws (2020: 496) verwys na kenners soos inligtingsingenieurs, programmeerders, ontwerpers, gebruikstoetsers en so meer, en bepleit 'n situasie waar hierdie samewerking die norm word. Spanwerk en samewerking is in die digitale era meer as ooit tevore 'n voorvereiste vir suksesvolle leksikografiese werk (Tarp en Gouws 2019: 266).

Gouws (2022b: 97) beklemtoon ook die belang van hierdie wesenlik interdissiplinêre interaksie tussen die metaleksikografie en velde soos die rekenaarwetenskap. Leksikograwe werk saam met vakkundiges uit hierdie veld (ibid.) om woordeboeke te maak, maar hierdie samewerking is ook in die beplanningsfase, oftewel metaleksikografies, belangrik. In die metaleksikografie word onder meer op woordeboekelemente se inhoud en leksikografiese funksie gefokus, wat hierdie interaksie en samewerking se belang beklemtoon (Gouws 2022a: 112). Selfs iets soos grafika is byvoorbeeld van belang - as 'n leksikografiese instrument - en daarom moet die leksikograaf ook by die ontwerp daarvan inspraak hê sodat dit nie bloot aan uitgewers oorgelaat word nie (Gouws et al. 2014: 37).

Dit is egter nie net eenrigtingverkeer waardeur 'n metaleksikografiese oriëntasie kan bydra tot die woordeboekproduk en produksieproses nie. Gouws (2018a: 188) wys uit dat daar ook op grond van ontwikkelinge in die verwante dissiplines, soos die inligtingwetenskap, nuwe werkswyses ontwikkel kan word binne die metaleksikografiese omgewing. Dit kan bydra tot die ontwikkeling van nuwe stelsels en praktyke (Bothma en Gouws 2020: 54).

Hierdie interdissiplinariteit is in die geval van moderne leksikografiese produkte 'n noodwendigheid (Tarp en Gouws 2020: 476). Benewens mede-kundiges, is daar boonop in die hedendaagse aanlyn omgewing ook die moontlikheid vir deurlopende en oombliklike gebruikerskommentaar en -terugvoer. Hierdie terugvoer kan vinnig ingesamel word en selfs tydens die maak van die woordeboek reeds in ag geneem word (Gouws 2016b: 361).

Hierdie interdissiplinêre tweerigtingverkeer en uiteindelike multidissiplinariteit dra daartoe by dat gebruikers se behoeftes in 'n verskeidenheid kommunikatiewe situasies bevredig kan word. Aangesien die leksikografie primêr gemoeid is met inligtingshulpbronne met data vir gebruikers in kommunikatiewe situasies (Bergenholtz et al. 2015: 3), dien hierdie prosesse en samewerking duidelik en ondubbelsinnig die oorhoofse doel van die leksikografie.

 

5. Die leksikograaf as pedagoog

Volgens Gouws (2018b) is die woordeboekdidaktiek 'n belangrike element van 'n omvattende woordeboekkultuur, en moet woordeboekgebruik binne so 'n kultuur op 'n praktiese wyse onderrig word, aangesien woordeboeke in wese praktiese gebruiksinstrumente is. Die doelwit hiermee is nie net die bevordering van praktiese woordeboekgebruik as sodanig nie, maar ook die beplanning van 'n geskikte kurrikulum (ibid.).

Leksikografiese onderrig, net soos die leksikografie self en die aard van die leksikograaf, is 'n veelvlakkige saak. Dit kan hoofsaaklik verdeel word in die onderrig van nuwe leksikograwe en die onderrig van woordeboekgebruikers.

In die eerste geval, die onderrig van nuwe leksikograwe, moet 'n leksikografiekursus ten eerste 'n oorsig bevat van ontwikkelinge in die praktiese sowel as die teoretiese leksikografie (Gouws 2018b). Daar moet van 'n algemene leksikografieteorie gebruik gemaak word, wat volgens Gouws (2018b) ook belangrik is by die skakeling van die leksikografie-opleiding as sodanig met verwante vakgebiede soos die breëre taalkunde en die inligtingwetenskap.

'n Groot komponent van Gouws se werk fokus egter ook op die tweede deel, naamlik die onderrig van (veral nuwe) woordeboekgebruikers as onderdeel van die ontwikkeling van 'n nasionale (en omvattende) woordeboekkultuur. Hierdie onderrig moet eerstens wyer strek as die tradisionele gedrukte woordeboek (of elektroniese weergawes van hierdie soort produk), want daar is 'n groot verskeidenheid aanlyn hulpbronne wat as nietradisionele woordeboeke getipeer kan word. Volgens Gouws (2016a: 118) moet woordeboekvaardighede ook opleiding in die gebruik van hierdie andersoortige aanlyn naslaanbronne bewerkstellig; verder moet dit nie aan 'n enkele medium gekoppel (hoef te) word nie, en hier is die waarde van 'n algemene leksikografieteorie weereens ooglopend (Gouws 2018b). Sodanige opleiding moet verder veral ook tred hou met die gebruiker se behoeftes: Gouws et al. (2014: 38) beklemtoon byvoorbeeld dat daar nie sommer net gebrekkige inligting in 'n woordeboek gegee kan word omdat dit byvoorbeeld op grondslagfaseleerders gemik is nie.

In hierdie soort ideale situasie wat deur Gouws et al. (2014) geskets word, moet die persoon wat ander opvoed in woordeboekgebruik, byvoorbeeld onderwysers en dosente, ook bekend wees met die eiesoortige kenmerke of eienskappe van die woordeboeke ter sprake. Hulle leer studente en skoolkinders nie soseer die inhoud van die woordeboek nie, maar eintlik 'n stel navorsings- en naslaanvaardighede wat uiteindelik aanleiding gee tot suksesvolle woordeboekgebruik, en potensieel tot meer geslaagde navorsing as sodanig. Om hierdie rede is dit onontbeerlik dat hierdie opvoeders en dosente sélf ook goed onderlê moet wees in die leksikografie (Gouws et al. 2014).

Selfs so vroeg as in die grondslagfase waar leerders heel moontlik die eerste keer met woordeboeke kennis maak, is dus 'n groter onderliggende proses in werking wat berus op die kundigheid van die opleier. Gouws et al. (2014: 40-41) sit uiteen hoe 'n benadering wat kinders reeds hier op 'n goed-gefundeerde en kundige manier aan woordeboeke bekendstel, nie net oor woordeboeke as sodanig gaan nie - dit gaan weliswaar oor die woordeboek as 'n integrale deel in die lewenslange leerproses.

Dit blyk ooglopend uit Gouws se gepubliseerde navorsing dat die rol van pedagoog 'n belangrike element van die leksikograaf se taak is, hetsy vir die opleiding van 'n volgende generasie praktiese of teoretiese leksikograwe, of vir die opleiding van die gebruikers en die vestiging van 'n woordeboekkultuur.

 

6. Die leksikograaf as taalkundige en linguis

In een van sy mees onlangse artikels skryf Gouws (2022b) onderhoudend oor ruimtelike en temporele deiktiese verankering in die leksikografie. Hierdie soort navorsing beklemtoon die feit dat die leksikograaf ook tipies 'n spreekwoordelike klap van die taalkunde weg het, hetsy taalwetenskaplik (algemeen) of taalkundig (van 'n spesifieke taalkunde), wat vir die doeleindes van hierdie rolbeskrywing saamgegroepeer kan word. Woordeboeke bestaan uit materiaal wat as taalkundige data geklassifiseer kan word, maar volgens Gouws (2022b: 98) sluit dit hierbenewens ook in die benutting, in leksikografiese vorm, van die taalkunde se begrippe-apparaat, veral in die "meta-taal" (2022b: 99) van woordeboeke.

Dit is uiteraard belangrik dat diegene wat hulle met die leksikografie besig hou, bepaalde taal- en taalkundekennis moet hê - Gouws (2022b: 98) noem samewerking tussen die linguistiek en die leksikografie "noodsaaklik". Daar moet byvoorbeeld sinchronies en diachronies na taalgebruik gekyk (kan) word (Gouws 2013b: 138). Sekere begrippe uit die taalkunde staan ook sentraal in die leksikografie, waarvan polisemie en homonimie sekerlik van die bekendstes is. Gouws (2018b) beskou hierdie soort inhoude as onontbeerlike kennis vir leksikografiestudente. Hierdie soort begrippe word ook in die leksikografie geproblematiseer en verryk (Bergenholtz en Gouws 2017) en voed daardeur weer die taalkundekennis - die leksikografie voed uiteindelik ook die linguistiek.

Die taalkundige omgewing binne die woordeboek is vervolgens ooglopend belangrik vir die woorde daarin. Die leksikograaf moet egter nie net na woorde as sodanig kyk nie, maar ook na ander taalbousels (vgl. Bergenholtz en Gouws 2013a). Bergenholtz en Gouws (2013b: 2) verwys byvoorbeeld na items wat uit meer as een woord bestaan, sowel as items op die subwoordelike vlak. Om woordeboekprodukte te skep wat op hierdie veelvlakkige wyse nuttig kan wees, is 'n stuk beplanning, en wel beplanning aan die hand van taalkundige kennis, noodsaaklik. Daar moet byvoorbeeld gepaste klassifikasiemeganismes wees om hierdie soort items op die regte manier te hanteer, eerstens in die databasis waaruit die woordeboek saamgestel word, en ook in die woordeboek as sodanig (Bergenholtz en Gouws 2013b: 17).

Volgens Gouws (2014b: 502) is die uiteindelike onttrekking van inligting uit die woordeboek ten nouste gekoppel aan goeie beplanning in die samestelling van die databasis waaruit die data kom. Hierdeur word dan ook nie net 'n gedekontekstualiseerde woord weergegee nie, maar verder 'n stuk kotekstuele leiding verskaf. Gouws (2015b: 171, 180) beklemtoon die belang daarvan om tipiese gebruik te illustreer binne die parameters van die bepaalde taal se sintaksis. Vir hierdie aspekte van die woordeboekmakery is eweneens grondige taalkundekennis nodig.

Die taalkundige omgewing buite die woordeboek is egter ook nie vir die leksikograaf van min belang nie. Volgens Gouws (2020b: 4) moet 'n uitdrukking se betekenis en gebruik behoorlik ingebed wees by 'n kulturele konteks, anders is daar die gevaar dat die gebruiker se onttrekking van inligting uit die woordeboek suboptimaal kan wees. Die leksikograaf moet dus nie net na die taalkundige eienskappe van 'n sekere taalvorm kyk nie (ibid.), hoewel dit belangrik is, maar ook na die kultuuromgewing waarbinne dit voorkom en na die moontlike buitetalige inhoud wat daardeur oorgedra (kan) word. (Vgl. in hierdie verband ook afdeling 7.)

Dit gaan dus oor sowel taalkennis as interpretatiewe kennis. Volgens Bergenholtz et al. (2015: 2) is kommunikatiewe kennis en vaardighede uiteraard belangrik, maar daarbenewens is daar ook operatiewe kennis en vaardighede, en interpretatiewe kennis waardeur bepaalde nietalige tekens verstaan kan word. Al hierdie faktore is vir die leksikograaf van belang, en kan deur 'n taalkundige onderbou ondersteun word. Met woordeboeke wat in die sentrale woordelys leksikografiese bewerkings bied wat die soort data daarstel waaraan byvoorbeeld taalpraktisyns 'n behoefte het (Gouws 2021b: 54) word die gebruiker se behoefte vervul op grond van die leksikograaf se oorwegings op taalkundige vlak.

'n Verdere belangrike funksie van taalkundige opleiding en kennis, is dat dit (aldus Gouws 2018b) kan bydra tot die "belangrike intellektuele aktiwiteit van woordeboekkritiek". Woordeboekkritiek, in die vorm van sowel resensies as portuurbeoordeling, hou volgens Bergenholtz en Gouws (2015: 107) aansienlike waarde vir outeurs in, waaronder die belangrikste sekerlik 'n stuk gehalteversekering is. Die woordeboekkritiek omvat 'n breë leksikografiese aktiwiteit wat nie net die woordeboekproduk self insluit nie, maar ook metaleksikografiese literatuur (Bergenholtz en Gouws 2016: 62). Hierdie kritiek situeer die betrokke werk binne 'n spesifieke wetenskaplike gemeenskap (Bergenholtz en Gouws 2015: 109) en dra dus ook by tot die daarstel en ontwikkeling van die veld as geheel. Hiervoor is kundigheid nodig; kundigheid wat heel spesifieke kriteria skep en operasionaliseer (ibid.) - en dit is veral en spesifiek taalkundige kundigheid. Daar is reeds in afdeling 3 verwys na die belang van die metaleksikografie vir die leksikograaf. Die koppeling met hierdie afdeling blyk ook duidelik.

Vir die leksikograaf om los van enige taalkunde te probeer werk, is soos vir 'n soogdier om onder die water te probeer asemhaal, of vir 'n vis op land.

 

7. Die leksikograaf as taalburger en aktivis

Die leksikograaf se werk word toenemend nie beperk tot dit wat direk woordeboekintern of binne die leksikografiepraktyk gedoen word nie, maar kan ook 'n aktivistiese dimensie aanneem. Gouws (2016b: 137) verwys na woordeboeke wat "monumente [word] ter erkenning van en ter ere van 'n taal". Die werk wat op die oppervlak beskou vir die gebruiker gedoen word en oor die gebruiker handel, het die newe-effek dat dit ook die taal, en per implikasie die taalgemeenskap as sodanig, tot voordeel strek.

In die domein van taalbeplanning is statusbeplanning een van die belangrike konseptuele vlakke waarop gefokus word. Dit betref die relatiewe posisie van een taal ten opsigte van 'n ander binne die tradisionele oriëntasie van 'n nasiestaat wat sekere tale ampstaalstatus gee. Dit slaan egter ook op die status van tale relatief tot mekaar, en relatief tot die gebruiksdomeine waarin hulle voorkom. Gouws (2016b: 358, 360) verwys na die belang van byvoorbeeld vakwoordeboeke in die status van Afrikaans as 'n taal wat vir wetenskapsbeoefening geskik is, en derhalwe ook vir ander gebruike, sowel op hoëfunksie- as die meer algemene domein. Aan woordeboeke word immers in die oë van die gebruikerspubliek "gesag" (ibid.) toegeken. In die gekontesteerde Suid-Afrikaanse taalwerklikheid met durende en skreiende taalongelykhede moet die belang van die leksikograaf as bemiddelaar in 'n konteks van ongelyke magsverhoudinge dus nie geringgeskat word nie.

Hier is die rol van die leksikograaf dus ook 'n sosiaal betrokke een. In die geval van 'n omvattende woordeboek moet daar byvoorbeeld na die "hele geografiese omgewing" (Gouws 2022b: 102) van die teikengebruikersgroep gekyk word, en waar dit 'n sinchrone fokus het, moet die "verskillende variëteite" (Gouws 2022b: 110) van die betrokke taal in ag geneem en weerspieël word. Te gereeld is en was woordeboeke uitsluitend. Volgens Gouws (2022d: 50) is daar byvoorbeeld histories in verskeie Afrikaanse woordeboeke weens lengtebeperkings slegs op die standaardvariëteit gefokus, tot nadeel van ander variëteite - 'n situasie wat daartoe aanleiding gegee het dat so 'n woordeboek nie optimaal bruikbaar is in die leer- en onderrigkonteks nie. Hierbenewens gee dit ook aanleiding tot ernstige etiese vraagstukke.

Hierdie sosiale betrokkenheid impliseer ook 'n sensitiwiteit vir gebruikers se vermoëns, en nie net hul behoeftes nie. Gouws (2018b) bepleit die erkenning van die nosie van 'n "woordeboekkultuur" binne die terrein van woordeboeknavorsing, waardeur die leksikografie ook by veranderende omstandighede kan aanpas. So 'n kultuur kan nie gevestig word in 'n konteks waar leksikografiese produkte nie voldoende op die gebruiker toegespits is nie (Tarp en Gouws 2020: 488). Die nosie van 'n "woordeboekkultuur" is natuurlik nie onproblematies nie. Gouws (2016b: 361) sistematiseer die nosies van "woordeboekkultuur" en "gebruikersvriendelikheid" as twee punte van 'n spektrum. Onder die noodsaak van 'n "woordeboekkultuur" word implisiet gesê dat die gebruiker by die leksikografie moet aanpas, terwyl "gebruikersvriendelikheid" daarna verwys dat die leksikografie by die gebruiker moet aanpas (ibid.). Leksikograwe misken volgens Gouws (2020: 3) nog te veel die noodwendig interaktiewe verband wat daar tussen leksikografie en kultuur behoort te bestaan wanneer hulle woordeboeke maak.

In die maak van woordeboeke lewer die leksikograaf immers nie slegs linguistiese kommentaar nie; dit is volgens Gouws (2022d: 40) ook 'n geleentheid waar dominante ideologieë, onderliggende houdings, denkwyses en dies meer weerspieël word. Woordeboeke affekteer mense se gedrag, en woordeboeke het daarom mag (Gouws 2022d: 59). Met ander woorde, die leksikografiese produk kan, op dieselfde manier as die heersende kultuur, inklusief of eksklusief wees, en dit is iets waarvan leksikograwe moet kennis neem, met potensiële gevare waarteen gewaak moet word. Van die vroegste Afrika-woordeboeke is byvoorbeeld deur (eksterne) agente soos sendelinge, koloniale administrateurs of taalkundiges geskep (Gouws 2022d: 44), en nie deur die gemeenskappe aan wie hierdie normeringsbronne uiteindelik oorgedra is nie. Dit is nie die ideaal nie, omdat 'n reeds ongelyke magsituasie dan ook in die woordeboek uitgebeeld, genormaliseer en uiteindelik geperpetueer word.

Leksikograwe is ook bloot menslik, en daarom moet hulle bewus daaraan aandag gee om onbevooroordeeld en objektief te wees in dit wat Gouws (2022d: 41) sistematiseer as die seleksie, aanbieding en behandeling van uitdrukkings. Die leksikograaf is inherent besig om die twee pole op die reeds vermelde spektrum tussen "maak gebruikers vir die woordeboek" en "maak woordeboeke vir die gebruikers" met mekaar te probeer versoen.

Die reikwydte van die leksikografie, en dus die leksikograaf, strek egter ook verder. Volgens Gouws (2022c) dien 'n taal wat as wetenskapstaal gevestig is, nie slegs sy eie taalgemeenskap nie, maar dra dit ook by tot die internasionale statuur van daardie taal. Afrikaans beskik oor 'n "gevestigde leksikografiese vaktaal" (ibid.) - in geen geringe mate nie te danke aan die werk van metaleksikograwe wat in Afrikaans aktief is, waaronder Rufus Gouws seer sekerlik die leiersfiguur is. Dit is 'n stuk geslaagde taalaktivisme met 'n wye reikwydte, gebou op 'n stewige vakkundige basis.

Hierdie taalaktivisme plaas Afrikaans midde-in 'n vakkundige diskoers wat, volgens Gouws (2022c) ook Bulgaars, Engels, Frans, Hongaars, Italiaans, Portugees, Russies en Spaans insluit. Wanneer hierdie lysie tale beskou word, is dit maklik om spore te sien van die soort epistemiese ongeregtigheid wat Stroud en Kerfoot (2021: 20) bekla:

Both within and outside of universities worldwide, and South Africa in particular, languages and languaging practices continue to be ranked and regulated in ways that privilege communication and knowledge production through European languages - with insidious consequences such as educational failure.

Afrikaans staan egter tussen hierdie tale, en die Afrikaanse vakleksikografie maak sodoende die Afrikaanse taalgemeenskap in die breë deel van die groter vakkundige wêreld, en vestig ook daardeur die middele en die vermoë om leksikografiese produkte vir en deur die hele taalgemeenskap te laat skep.

Hoewel woordeboeke in die verlede ook as instrumente van beheer, afgrensing en onderdrukking misbruik is (vgl. Stroud en Kerfoot 2021: 24), is die soort werk wat gedoen is en word om Afrikaans 'n leksikografiese register te gee, 'n goeie voorbeeld van die "forms of meaning-making able to transcend the constraints of fixed understandings of legitimised language" wat Stroud en Kerfoot (2021: 34) bepleit as 'n wenslike vorm van taalburgerskap. 'n Leksikografiese register in Afrikaans is uiters bruikbaar in die "re-borderings, processes of equivocal translation" (Stroud en Kerfoot 2021: 37) wat gesien word as onontbeerlik in 'n taalburgerskapsbenadering tot groter epistemiese geregtigheid vir gebruikers van gemarginaliseerde vorme, oftewel variëteite, van Afrikaans.

Hoewel Stroud en Kerfoot (2021) krities is oor nosies van tale as opvoedkundige hulpbronne, en waarsku teen die inherent koloniale wêreldbeeld wat ingebed is in sienings van tale as streng afgebakende afsonderlike entiteite en die implikasie dat tale geïntellektualiseer moet word alvorens hulle tot hoëfunksiegebruiksdomeine kan toetree, is dit ooglopend dat die taalaktivisme wat beoefen word deur Afrikaans metaleksikografies relevant te maak, oorspoeleffekte het wat vir die totale Afrikaanse gemeenskap van waarde is en nuwe vorme van semiotisering en uitdrukking moontlik maak. Weereens is dit die prototipiese definisie van taalburgerskap; 'n taalburgerskap wat hier beliggaam word deur die leksikograaf.

In hierdie verband is Gouws (2016c) se artikel oor ANNA belangrik, en 'n interessante geval om te ondersoek. Dié artikel handel oor Prisma se Groot woordenboek Afrikaans en Nederlands. Met die eerste oogopslag is dit maklik moontlik om te dink dat hier al weer 'n hele woordeboek is wat die historiese verband tussen Afrikaans en Nederlands oorbeklemtoon, ten koste van die erkenning van die ander invloede in die taal se ontstaansgeskiedenis. Dit is egter opmerklik dat hierdie woordeboek "veral op die verskille tussen die twee tale [fokus]" (Gouws 2016c: 59). In hierdie klein opmerking sit weereens 'n groot stuk taalburgerskap opgesluit. Daar word erken en beklemtoon dat daar vele verskille tussen die twee tale is, wat 'n noemenswaardige punt maak oor populêre sienings dat Afrikaans bloot 'n dogtertaal van Nederlands is.

Gouws (2016c: 75) skets naamlik 'n historiese trajek waar Afrikaans aanvanklik as wordende jong taal deels deur middel van koördinering met Nederlands gestandaardiseer is, maar daardie koördinering het juis 'n nuwe taal tot stand help bring. Op dieselfde manier is daar hedendaagse leksikografiese produkte waar Afrikaans hierdie rol vervul vir van die oudste en mees bedreigde tale van Suid-Afrika. In die geval van Gouws (2016c: 75) gaan dit naamlik oor "Ju|'hoan, 'n noordelike Khoesantaal, en N|uu, 'n nie-Bantoe-kliektaal wat deel van die !Ui-familie is, as niegestandaardiseerde tale wat vir hulle vroeë leksikografiese toetrede afhanklik is van die mede-optrede van 'n gestandaardiseerde taal". Afrikaans verskaf hier die leksikografiese skouers waarop "van die mees bedreigde tale" (Gouws 2016c: 76) kan staan deurdat dit die enkele sprekers van hierdie tale se "verkeerstaal" (Gouws 2016c: 77) is.

Dit vergestalt leksikografie as taalburgerskap en aktivisme, wat durende epistemiese ongeregtighede by die spreekwoordelike horings pak.

 

8. Gevolgtrekking

Die bovermelde ses onderverdelings is verkry deur middel van 'n grondige tematiese analise van Rufus Gouws se artikels wat oor die afgelope dekade in geakkrediteerde vaktydskrifte gepubliseer is. Gouws (2012: 224-225) se versugting is na ondubbelsinnige kriteria vir wie 'n leksikograaf genoem kan word.

Die belang van hierdie soort kriteria moenie geringgeskat word nie. Daar is reeds bestaande wetgewing oor die gebruik van die Suid-Afrikaanse ampstale (Wet 12 van 2012), asook oor die professionalisering van die taalpraktyk deur die instelling van 'n taalpraktisynsraad (Wet 8 van 2014), en duidelike stappe in die rigting van groter regulering van die taalpraktyk deur middel van 'n proses van akkreditasie vir sulke praktisyns (vgl. Adams 2023), wat noodwendig effekte op die leksikografie ook sal hê.

Vanuit die bovermelde tematiese analise kom daar ses belangrike rolle vir die leksikograaf na vore, deurdat die leksikograaf tipies in etlike van hierdie ses rolle optree, wat hier in die volgorde van die afdelings hierbo gelys word:

- Leksikografiese praktisyn

- Teoretikus en akademiese navorser

- Medewerker

- Pedagoog

- Taalkundige en linguis

- Taalburger en aktivis

Hoewel die rol van die leksikograaf as pedagoog nie geringgeskat moet word nie, is dit die een van die ses rolle wat waarskynlik die mins noodsaaklike is om afsonderlik te definieer en as kriterium te stel. Hierdie rol word in die ondersoekte literatuur beklemtoon, hoewel dit onses insiens nie absoluut noodsaaklik is nie en eintlik meer indirek figureer, of in baie gevalle implisiet ingesluit word by die eerste en tweede rolle. Leksikografiese pedagogie vind nie slegs in formele opleidingsprogramme plaas nie, maar ook in die praktykomgewing waar praktiserende leksikograwe byvoorbeeld hul juniors deurlopend oplei. Die metaleksikografie-vereiste waarna hieronder verwys word, ondervang ook grotendeels die vereiste dat die leksikograaf op die gebruiker ingestel moet wees. 'n Bereidwilligheid tot hierdie ingesteldhede kan wel as belangrike onderliggende etiese beginsel uitgelig word. Dit is tegnies heeltemal moontlik om die ander vyf rolle te vervul sonder om direk by die woordeboekpedagogiek betrokke te wees, maar dit is onwaarskynlik dat die werkende leksikograaf nie in elk geval informeel met opleiding doenig sal wees nie.

Daar bly dus vyf rolle oor wat die leksikograaf nie behoort te kan ontwyk as daar sinvol en logies nagedink word oor wat dit behels om by die leksikografie betrokke te wees in Suid-Afrika, maar ook internasionaal, nie. Geen woordeboek word van begin tot einde gemaak sonder om saam met ander mense te werk nie (rol 3), hetsy op praktiese of metaleksikografiese vlak. Dit maak nie saak wat die aard van die leksikografiese bedrywigheid is nie, daar gaan met taal gewerk word, en daarom is taalkundige kennis belangrik (rol 5). Dit blyk ook duidelik dat "teorie ter wille van teorie" nie voldoende of wenslik is nie, terwyl die praktiese leksikografie eweneens die rigtinggewende rol van die metaleksikografie moet in ag neem; daar is dus 'n onlosmaaklike en veronderstelde verband tussen die praktiese en die teoretiese leksikografie (rolle 1 en 2).

Rol 6 beweeg sterker op die terrein van 'n stuk leksikografiese etiek. Etiese beginsels is logieserwys dwarsdeur die leksikografie van belang, maar die aktivistiese kant van die leksikografie word in die huidige era toenemend belangrik, gedagtig aan die maatskaplike werklikhede van die tyd. Woordeboeke is die weerspieëling van die taalgemeenskap se verhoudinge met mekaar en met ander, van benoemingskonvensies, voornaamwoorde, taboes, en van die kultuur as sodanig. Dit is reeds onontbeerlik, en sal toenemend selfs dringender raak, dat die leksikograaf hiervoor sensitief moet wees en met groot omsigtigheid daarmee te werk moet gaan. Die leksikograaf moet bewus wees van die noodwendig politiese aard van enige werk met taal in die hedendaagse samelewing, en daarom bewus aktivisties optree. Daar kan nie geskuil word agter die wanindruk dat daar "slegs met taal" of "slegs met woordeboeke" gewerk word nie. Om met taal en met woordeboeke te werk, is om 'n effek op mense en op die wêreld te hê, en die ware leksikograaf neem hiervan kennis.

Hieruit kan afgelei word dat daar vyf minimumvereistes waaraan die hedendaagse leksikograaf behoort te voldoen. Die leksikograaf is iemand wat:

- prakties by die maak van leksikografiese produkte betrokke is;

- kennis neem van ontwikkelinge in die meta- of teoretiese leksikografie, hetsy deur formele opleiding daarin of deur ander kanale;

- 'n stuk taalkundige of taalwetenskaplike agtergrond het;

- kundigheid het in verwante velde soos die inligtingwetenskap, of geredelike toegang het tot sulke kundigheid deur medewerkers; en

- bewus is van hulle eie posisie en mag as taalpolitiese agent, en dit eties operasionaliseer aan die hand van 'n regstellende ingesteldheid.

Die bovermelde vyf kriteria is 'n eerste poging om die vraag "Wie is die leksikograaf?" te beantwoord vanuit tematiese data uit die werk van een van die grootste leksikograwe van ons tyd, en sekerlik die grootste een in hierdie taal.

 

Eindnoot

1 Gouws se eie bydraes as praktiese leksikograaf ondersteun hierdie gedagte, vgl. o.a. sy werk aan die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal en Gouws 2005; Luther et al. 2015), die Basiswoordeboek van Afrikaans (Gouws et al. 1994) en die Longman Grondslagfasewoordeboek Afrikaans/English (Gouws et al. 2010).

 

Bronnelys

Adams, N. 2023. UWC Professor Assumes Chairmanship of the South African Language Practitioners Council. [Aanlyn]. Beskikbaar: https://www.uwc.ac.za/news-and-announcements/news/uwc-professor-assumes-chairmanship-of-the-south-african-language-practitioners-council. [07/09/2023].

Bergenholtz, H.J. en R.H. Gouws. 2013a. The Presentation of Word Formation in General Monolingual Dictionaries. Lexikos 23: 59-76.         [ Links ]

Bergenholtz, H.J. en R.H. Gouws. 2013b. A Lexicographical Perspective on the Classification of Multiword Combinations. International Journal of Lexicography 27(1): 1-24.         [ Links ]

Bergenholtz, H.J. en R.H. Gouws. 2015. Proposals for the Writing of Peer Reviews in Lexicography. Hermes. Journal of Language and Communication in Business 54: 107-114.         [ Links ]

Bergenholtz, H.J. en R.H. Gouws. 2016. On the Metalexicographic Genre of Dictionary Reviews, with Specific Reference to LexicoNordica and Lexikos. Lexikos 26: 60-81.         [ Links ]

Bergenholtz, H.J. en R.H. Gouws. 2017. Polyseme Selection, Lemma Selection and Article Selection. Lexikos 27: 107-131.         [ Links ]

Bergenholtz, H.J., T.J.D. Bothma en R.H. Gouws. 2015. Phases and Steps in the Access to Data in Information Tools. Lexikos 25: 1-30.         [ Links ]

Bothma, T.J.D. en R.H. Gouws. 2020. e-Dictionaries in a Network of Information Tools in the e-Environment. Lexikos 30: 29-56.         [ Links ]

Bothma, T.J.D. en R.H. Gouws. 2022. Information Needs and Contextualization in the Consultation Process of Dictionaries that are Linked to e-Texts. Lexikos 32(2): 53-81.         [ Links ]

Faaß, G., S.E. Bosch en R.H. Gouws. 2014. A General Lexicographic Model for a Typological Variety of Dictionaries in African Languages. Lexikos 24: 94-115.         [ Links ]

Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018. The Routledge Handbook of Lexicography. Londen/New York: Routledge.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2006. Leerdergedrewe leksikografie. Tydskrif vir Taalonderrig 40(1): 72-84.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2012. Who can Really be Called a Lexicographer? Lexikos 22: 217-225.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2013a. Contextual and Co-textual Guidance Regarding Synonyms in General Bilingual Dictionaries. International Journal of Lexicography 26(3): 346-361.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2013b. Die leksikografiese aanbieding en behandeling van vaste uitdrukkings. Lexikos 23: 135-149.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014a. Article structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014b. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(3): 481-504.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2015a. Wie is die teikengebruikers van eentalige aanleerderwoordeboeke? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(3):343-355.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2015b. The Presentation and Treatment of Collocations as Secondary Guiding Elements in Dictionaries. Lexikos 25:170-190.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2016a. Op pad na 'n omvattende woordeboekkultuur in die digitale era. Lexikos 26: 103-123.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2016b. Enkele minder bekende Afrikaanse woordeboekmonumente. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56(2-1): 355-370.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2016c. Oor ANNA en ander andershede in die Afrikaanse leksikografie. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 23: 58-80.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2017. Van tematiese na alfabetiese na tematiese ordening in woordeboeke - wisselwerking tussen teorie en praktyk. Spil plus 53: 133-148.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018a. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke. Lexikos 28: 177-195.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018b. Woordeboekdidaktiek in 'n omvattende woordeboekkultuur. Literator 39(2): 1-8.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018c. Expanding the Data Distribution Structure. Lexicographica 34: 225-238.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2020a. Special Field and Subject Field Lexicography Contributing to Lexicography. Lexikos 30: 143-170.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2020b. Metalexicography, Dictionaries and Culture. Lexicographica 36: 3-9.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2021a. Op pad na 'n omvattende aanlyn woordeboek - met spesifieke verwysing na die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(4-1): 1156-1176.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2021b. 'n Verbeterde leksikografiese dataverspreiding- en inligtingsonttrekkingstruktuur. Spil Plus 61: 49-64.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2022a. Extended Article Comments in Online Dictionaries. Lexicography 9(2): 111-138.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2022b. Ruimtelike en temporele leksikografiese deiktiese verankering. Lexikos 32(3): 95-122.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2022c. Afrikaans is geen bonsai. Netwerk24. [Aanlyn]. Beskikbaar: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/rufus-gouws-afrikaans-is-geen-bonsai-20220611. [16/06/2023].

Gouws, R.H. 2022d. Dictionaries as instruments of exclusion and inclusion: some South African dictionaries as case in point. Lexicographica 38: 39-61.         [ Links ]

Gouws, R.H., I. Feinauer en F. Ponelis (Reds.). 1994. Basiswoordeboek van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Gouws, R.H., L. Potgieter en S. Burgess (Reds.). 2010. Longman Grondslagfasewoordeboek Afrikaans/ English. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2021a. Lexicographic Data Boxes. Part 1: Lexicographic Data Boxes as Text Constituents in Dictionaries. Lexikos 31: 330-373.         [ Links ]

Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2021b. Lexicographic Data Boxes. Part 3: Aspects of Data Boxes in Bilingual Dictionaries and a Perspective on Current and Future Data Boxes. Lexikos 31: 402-433.         [ Links ]

Gouws, R.H., D.J. Prinsloo en M. Dlali. 2014. A Series of Foundation Phase Dictionaries for a Multilingual Environment. Spil 43: 23-43.         [ Links ]

Gouws, R.H. en S. Tarp. 2017. Information Overload and Data Overload in Lexicography. International Journal of Lexicography 30(4): 389-415.         [ Links ]

Jackson, H. (Red.). 2022. The Bloomsbury Handbook of Lexicography. Londen: Bloomsbury.         [ Links ]

Klosa, A. en R.H. Gouws. 2015. Outer Features in e-Dictionaries. Lexicographica 31: 142-172.         [ Links ]

LitNet. 2022. Aankondiging: Rufus Gouws wen die Jan H Maraisprys vir 2022. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/aankondiging-rufus-gouws-wen-die-jan-h-maraisprys-vir-2022/. [25-05-2023].

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson Education.         [ Links ]

McConchie, R.W.I. 2019. Discovery in Haste. English Medical Dictionaries and Lexicographers 1547 to 1796. Berlyn/Boston: De Gruyter.         [ Links ]

Odendal, F.F. en R.H. Gouws (Reds.). 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde uitgawe. Kaapstad: Pearson Education.         [ Links ]

Sands, B. en K. Jones (Reds.). 2022. Nǀuuki Namagowab Afrikaans English ǂXoakiǂxanisi/Mîdi di ǂKhanis/ Woordeboek/Dictionary. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

Stroud, C. en C. Kerfoot. 2021. Decolonizing Higher Education: Multilingualism, Linguistic Citizenship and Epistemic Justice. Bock, Z. en C. Stroud (Reds.). 2021. Language and Decoloniality in Higher Education. Reclaiming Voices from the South: 19-46. Londen: Bloomsbury Academic.         [ Links ]

Tarp, S. 2013. Lexicographic Functions. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography: 460-468. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Tarp, S. en R.H. Gouws. 2019. Lexicographical Contextualisation and Personalization: A New Perspective. Lexikos 29: 250-268.         [ Links ]

Tarp, S. en R.H. Gouws. 2020. Reference Skills or Human-centered Design: Towards a New Lexicographical Culture. Lexikos 30: 470-498.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 1996. A Theory of Lexicographic Texts. An Overview. SA Journal of Linguistics 14(4): 134-149.         [ Links ]

Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License