SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 special issue 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1737 

ARTIKELS/ARTICLES

 

Wat beteken B(b)oer in 2022?

 

What is the Meaning of B(b)oer in 2022?

 

 

Marné Pienaar

Kantoor vir Meertalige Taaldienste, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika (mpienaar@uj.ac.za)

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar ondersoek ingestel na die betekenis van die woorde Boer en boer. Die ondersoek spruit voort uit 'n insident in 2015 toe die Taalkommissie (TK) die moontlikheid oorweeg het om die woord Boer uit die Afrikaanse woordelys en spelreëls weg te laat. Die rasionaal was dat ander rassensitiewe items soos hotnot, kaffer en koelie lank reeds nie meer in die woordelys verskyn nie. Die voorstel vir die moontlike skrapping van Boer het 'n herrie ontketen. In die bespreking wat volg, word die ensiklopediese benadering tot betekenis as vertrekpunt gebruik om te bepaal wat Boer en boer tans beteken. 'n Ondersoek na die leksikale betekenis van die twee woorde word aangevul deur een van die aannames van die ensiklopediese benadering tot betekenis uit te lig, te wete die standpunt dat ensiklopediese kennis dinamies van aard is en dat betekenis altyd in die konteks van gebruik gekonstrueer word. Die hedendaagse gebruik en betekenis van Boer en boer word voorgehou deur voorbeelde uit koerantberigte, literêre tekste, lirieke, 'n handelsmerk en die TK-korpus te ondersoek. 'n Radiale latnetwerk vir die woorde Boer en boer word verskaf om aan te toon hoe die verskillende betekenisse van die woorde aan mekaar verwant is en 'n polisemies semantiese raamwerk vorm.

Sleutelwoorde: boer, ensiklopediese benadering, polisemie, radiale latnetwerk, semantiek


ABSTRACT

This article investigates the meaning of the words Boer and boer in Afrikaans. The study is the result of an incident in 2015 when the Afrikaans Language Commission considered the possibility of omitting the word Boer from the Afrikaanse woordelys en spelreëls. The rationale was that other race sensitive items, such as hotnot, kaffer and koelie, had been scrapped from the word list long ago. The proposal to omit Boer created havoc. in the following discussion, the encyclopaedic approach to meaning is used to determine what Boer and boer currently mean. An investigation into the lexical meaning of these two words is supplemented by highlighting one of the assumptions of the encyclopaedic approach to meaning, namely that encyclopaedic knowledge is dynamic in nature and furthermore that meaning is always constructed in the context of use. The current day use and meanings of Boer and boer are indicated via examples from newspaper articles, literary texts, lyrics, a brand name as well as the corpus of the Language Commission. A radiating lattice diagram for the words Boer and boer is provided to show how the various meanings of the words are related to one another and how they form a polysemous semantic network.

Keywords: boer, encyclopaedic approach, polysemy, radiating lattice diagram, semantics


 

 

1. Inleiding

In die voorwerk tot die elfde omvattend herbewerkte weergawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) stel die samestellers dit duidelik dat die opeenvolgende Taaikommissies (TK's) altyd met oorgeërfde woordelyste werk wat telkens bygewerk word deur sommige inskrywings te skrap, ander te wysig, en nuwes by te voeg. Een van die maatstawwe wat spesifiek uitgespel is deur die TK wat verantwoordelik was vir AWS 11, is dat woorde wat opgeneem word sosiaal, kultureel en polities sensitief moes wees (Taalkommissie 2017: x). Dit is met inagneming van hierdie maatstaf dat die TK tydens 'n sitting in Mei 2015 die moontlikheid oorweeg het om die woord Boer uit die woordelys weg te laat. Die rasionaal was dat ander rassensitiewe items soos hotnot, kaffer en koelie, wat raspejoratiewe is, lank reeds nie meer in die AWS verskyn nie. Gegee die feit dat Boer pejoratief aangewend kan word soos in die haatspraaklied "Kill the farmer, kill the Boer", is die moontlikheid oorweeg om die woord te skrap weens die (moontlike) sensitiewe aard daarvan. Dit was in 2015 nog gebruiklik om, indien die TK self onseker was oor die skrapping, wysiging of opname van 'n woord, die voorstel intyds op Facebook te plaas en reaksie van die publiek te vra. Die voorstel vir die moontlike skrapping van Boer het 'n herrie ontketen wat daartoe gelei het dat die voorsitter selfs met die dood gedreig is, sou die woord verwyder word.1 Ferdieman van Wyk se Facebook-reaksie som waarskynlik dié hewige reaksie op die moontlike skrapping van die woord, die beste op2:

As trotse draer van die edel naam, Boer, versoek ek die TK om die eensydige besluit met betrekking die skrapping van die woord, Boer, uit die Woordelys, terug te trek. Ek is ook van mening dat die TK diegene wat na hulleself verwys as Boere, 'n verskoning verskuldig is. [...] Neem in aanmerking dat, hoewel nie almal wat Afrikaans praat hou van die term, Boer, nie, daar steeds duisende Afrikaanssprekendes is wat die edel naam met trots dra en natuurlik emosioneel sal raak wanneer hulle (ons) volksnaam enigsins bedreig word.

Die TK het kennis geneem dat Boer met 'n hoofletter as 'n volksnaam beskou kan word (veral histories). Gevolglik is drie weergawes opgeneem: Boer (s.nw.), as volksnaam soos veral histories gebruik; boer (s.nw.), met die betekenis van landbouer; en boer (ww.), met verwysing na die aktiwiteit wat voortspruit uit die bedrywighede van landbouers (Taalkommissie 2017: 276):

Boer (- of Brit), -e

boer (die kommersiële -), -e

boer (- met sampioene), ge-

Wat die bostaande insident goed illustreer, is dat die woord Boer kontensieus is en verskillende dinge vir verskillende mense beteken.

In Jeremy van die Elsies gebruik Jeremy Vearey (2018: 2) Boer(e) om na poli-sielede onder die apartheidsregering te verwys:

1. As jy hom nie nou los nie, steek ons jou vrek, jou fokken Boer!3

2. Sy en haar krygsvroue trek weer om my saam en trotseer die Whites Only-duikweg sonder enige Boere ons keer.

Vearey (2018: 4, 5) gebruik ook Boer(e) as volksnaam en plaas dit (soos in die AWS) teenoor Engelssprekendes:

3. Wat is 'n Limey? Is hy dieselfde as 'n Boer?

4. Is Boet en Saartjie van my skool se Afrikaans-leesboek Boere en Janet and John van die Engelse een Limeys?

Boer (met 'n hoofletter) word deur Brian Fredericks (2020: 187) in As die Cape Flats kon praat gebruik om na tronkbewaarders te verwys:

5. Die Boere sal jou nie natspuit en die honne jou laat byt nie.

Ronelda Kamfer (2021: 21) skryf boer sonder 'n hoofletter en aktiveer die betekenis van landbouer, volksnaam, en ook taal:

6. "Wie is die ergste? 'n Engelse boer of 'n Afrikaanse boer?" vra ek sonder op te kyk van die broodplank waarop ek werk. "Jong, hulle is altwee ewe sleg ... jy moet ook maar oppas vir die Engelse boer, want hy dink hy is beter as die bóér-boer, hulle lag eintlik vir die Afrikaners, maar oppas vir hulle. 'n Engelsman het nog 'n huis om na terug te gaan en niks maak jou meer lai-lai as 'n ander plek om te wees nie."

Die verskille in die hantering of gebruik van Boer en boer laat die volgende vraag ontstaan: Wat beteken B(b)oer in 2022?

Ten einde hierdie vraag te beantwoord, word die ensiklopediese benadering tot die konstruksie van betekenis as vertrekpunt geneem om die konsep B(b)oer in Afrikaans te ondersoek. Die vyf uitgangspunte van die benadering word bespreek, naamlik dat (1) daar in beginsel geen onderskeid tussen semantiek en pragmatiek is nie, (2) ensiklopediese betekenis gestruktureerd is, (3) daar 'n onderskeid tussen ensiklopediese en kontekstuele betekenis is, (4) leksikale items toegangspunte tot ensiklopediese kennis is, en (5) ensiklopediese kennis dinamies is.

In ooreenstemming met die idee dat leksikale items toegangspunte tot ensiklopediese kennis is, word die woorde Boer en boer gebruik om toegang te kry tot dít wat die konsep B(b)oer in Afrikaans beteken.

 

2. Die ensiklopediese benadering tot betekenis

Volgens Evans en Green (2006: 214) is betekeniskonstruksie die proses waardeur taal komplekse betekeniseenhede enkodeer of voorstel. Daar word gemeen dat woorde leidrade vir betekeniskonstruksie is eerder as wat dit houers is wat betekenis dra. Teen hierdie agtergrond word betekenis as ensiklopedies beskou. Dié model van die kennisstelsel word volgens Evans en Green (2006: 215) deur vyf standpunte gekenmerk.

Ten eerste word die idee dat daar in beginsel 'n onderskeid tussen kernbetekenis enersyds en pragmatiese, sosiale of kulturele betekenis andersyds is, verwerp. Volgens hierdie siening is kennis oor wat woorde beteken en kennis oor hoe woorde gebruik word, albei semanties (Evans en Green 2006: 215).

Die tweede standpunt stel dit dat ensiklopediese kennis gestruktureerd is. Dit beteken dat, alhoewel betekenis as ensiklopedies gesien word, dit nie ook volg dat betekenis as chaoties gesien word nie. Ensiklopediese kennis word beskou as 'n gestruktureerde kennisstelsel wat as 'n netwerk georganiseerd is, en nie alle aspekte van die kennis waartoe daar in beginsel toegang verkry kan word deur 'n enkele woord, het dieselfde status nie (Evans en Green 2006: 216). Die woord B(b)oer sluit byvoorbeeld ons idees in van hoe 'n B(b)oer lyk, wat sy/ haar rol is, redes waarom iemand (in die geval boer as landbouer) 'n boer word, foto's wat ons al van B(b)oere gesien het, of ons al self geboer het, of iemand hom- of haarself as 'n B(b)oer beskou, en alles anders wat ons met 'n B(b)oer assosieer. Dele van die kennis is egter meer sentraal as ander. Volgens Evans en Green (2006: 217) is daar vier tipes kennis wat verband hou met die sentraliteit van die ensiklopediese kennis van woordbetekenisse, naamlik konvensionele kennis (kennis wat wyd bekend is), generiese kennis (kennis wat eerder algemeen as spesifiek van aard is), intrinsieke kennis (kennis wat afgelei word van die vorm óf van 'n entiteit, óf van 'n verhouding wat ter sprake is), en unieke kennis (kennis wat relatief uniek aan die tersaaklike entiteit of die verhouding is).

Derdens tref Evans en Green (2006: 217) 'n onderskeid tussen ensiklopediese betekenis en kontekstuele betekenis. Dié onderskeid spruit voort uit die idee dat ensiklopediese kennis voortvloei uit die interaksie tussen die vier soorte kennis wat in die voorafgaande paragraaf genoem is. Aangesien ensiklopediese kennis in die konteks van gebruik gekonstrueer word, word ensiklopediese kennis deur kontekstuele faktore onderlê. Dit is byvoorbeeld duidelik dat die woord boer 'n ander betekenis sal hê indien dit in die konteks van sogenaamde opkomende boere, 'n swart boer, 'n vroueboer (teenoor 'n boervrou), of 'n plattelandse boer gebruik word. Evans en Green (2006: 221) lys die verskillende tipes kontekste wat gesamentlik ter sprake is om enige gegewe geval van 'n leksikale item te moduleer wanneer dit in 'n bepaalde gebruiksituasie voorkom: die ensiklopediese inligting waartoe toegang verkry word (oftewel die konteks van die leksikale konsep binne 'n netwerk van gestoorde kennis); die sinskonteks; die prosodiese patroon; die situasionele konteks; en die interpersoonlike konteks wat van toepassing is op die heersende verhouding tussen die gespreksgenote ten tye van die uiting.

In die vierde plek word leksikale items gesien as punte van toegang tot ensiklopediese kennis. Leksikale items word nie beskou as houers wat duidelik voorafverpakte bondels inligting voorhou nie. Leksikale items voorsien toegang tot 'n wye netwerk ensiklopediese kennis (Evans en Green 2006: 221).

Die laaste standpunt in die ensiklopediese benadering tot betekenis, is dat ensiklopediese kennis dinamies is (Evans en Green 2006: 221). Terwyl die sen-trale betekenis wat met 'n woord geassosieer word redelik stabiel is, is die ensiklopediese kennis waartoe elke woord toegang verskaf, oftewel die woord se ensiklopediese netwerk, dinamies.

 

3. Metodologie

Die ensiklopediese verstaan van betekenis wat in afdeling 2 uiteengesit is, vorm die agtergrond vir 'n ondersoek na die konsep B(b)oer in Afrikaans. in ooreenstemming met die idee dat leksikale items toegangspunte tot ensiklopediese kennis is, word die woorde Boer en boer gebruik om toegang te kry ten einde te verstaan wat die konsep B(b)oer in Afrikaans beteken.

Die stelling dat leksikale items as toegangspunte tot ensiklopediese items beskou kan word, stem ooreen met Koselleck (1985: 84, soos aangehaal deur Ifversen 2011: 7), wat dit duidelik maak dat konsepte meer as woorde is:

'n Konsep is aan 'n woord gebonde, maar dit is ook tegelykertyd meer as 'n woord: 'n woord word 'n konsep wanneer die magdom polities-sosiale kontekste van betekenis en ervaring waarin en waarvoor 'n woord gebruik word, gekonsentreer kan word in een woord [...]. Konsepte is dus die konsentraat van verskeie wesenlike betekenisse. [My vertaling - MP]

Terwyl daar gevolglik aanvaar word dat 'n konsep meer as 'n woord is, het die leksikale betekenis, die denotasies, konnotasies, die diachroniese en sinchro-niese betekenis, asook die sintagmatiese en die paradigmatiese verhoudings uiteindelik almal betrekking op dít wat die verstaan van 'n konsep vanuit 'n leksikale toegangspunt konstitueer.

Ten einde te probeer vasstel wat die betekenis van die konsep B(b)oer in Afrikaans is, word 'n veelkantige benadering gevolg: Aangesien leksikale betekenis gesien word as 'n punt van toegang tot die groter ensiklopediese betekenis, word 'n verskeidenheid woordeboeke geraadpleeg om die breër leksikale betekenis van die woord te bepaal. Daarbenewens word die sintagmatiese en paradigmatiese verhoudings van die leksikale items Boer en boer ondersoek.

Ná afloop van die ondersoek na die leksikale betekenis van Boer en boer, sal die dinamiese aard van ensiklopediese kennis ondersoek word deur gebruik te maak van koerantberigte, literêre tekste, lirieke, 'n handelsmerk, en die TK-korpus.

Die verskillende betekenisonderskeidings van Boer en boer word ten slotte met 'n radiale latnetwerk aangedui om aan te toon hoe die verskillende betekenisse van dié twee woorde aan mekaar verwant is en 'n polisemies semantiese raamwerk vorm.

 

4. Leksikale betekenis

in 'n ondersoek na perspektiewe op die veranderende betekenisse van Boer en boer in die Afrikaanse poësie, bespreek Van Zyl (2000: 2, 3) die inskrywings in verskillende woordeboeke wat verband kan hou met die etimologie van veral Boer in Afrikaans. Sy wys daarop dat Van Dale se Etymologisch woordenboek (Van Veen 1989) twee betekenisonderskeidings van boer meld, naamlik (1) dié van landbouer en (2) oprisping, 'n klanknabootsing wat in moderne Afrikaans vertaal kan word as 'n wind of 'n uitbarsting.

Hierteenoor gee die Van Dale Groot woordenboek van hedendaags Nederlands (Van Dale) sewe betekenisonderskeidings, naamlik (1) landbouer, (2) plattelander, (3) 'n lomp, ongemanierde persoon, (4) 'n hoorbare ontsnapping van gasse uit die maag, (5) 'n handelaar of leweransier, (6) 'n speelkaart wat staan tussen die vrou en die tien, en (7) "(met hoofdl.) Hollands sprekenden kolonist van Zuid-Afrika" (Van Sterkenburg en Pijnenburg 1984).

Deel I van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) (Schoonees 1970) handhaaf die onderskeid tussen Boer met 'n hoofletter as benaming vir die lid van 'n groep (dus 'n etnoniem) in ooreenstemming met die sewende betekenis-onderskeiding in Van Dale (soos hierbo uitgewys), en boer met 'n kleinletter wat dui op landbouverwante aktiwiteite:

Boer1. Benaming vir 'n lid v/d Afrikanervolk; vroeër veral gesê van Afrikaners v/d gewese republieke in S.A.: Ek is 'n Boer. Die Boere het dapper teen die Engelse geveg by Majuba. Vgl. afrikaner1.

boer2. I. s. 1. Persoon wat landbou en/of veeteelt as bedryf uitoefen; landbouer; veeboer: Die boere het vanjaar goeie oeste. 'n Boer op sy plaas. 2. Iem. wat op die platteland woon: Ek is sommer 'n plat boer, ek hou my nie op m/d fyn stadsmaniertjies nie. 3. (i/d mv.) Kêrels, maats: Kom boere, almal moet hand bysit. 4. (kaartspel) Kaart net hoër as 'n 10 en net laer as 'n vrou. 5. (skaakspel) Een v/d kleinste en minderwaardigste stukke i/d skaakspel; ook genoem pion. Vgl. kakieboer, tjekboekboer, ens.

boer as ww. word onder boer2 II aangedui:

1. Die boerderybedryf uitoefen; sy werk as boer verrig; Ons boer met skape en mielies. 2. Êrens baie kom, voortdurend daar aangetref word: Hy boer b/d nooi se huis. 3. Vertoef, bly: Waar het jy die hele middag geboer? 4. Lammers gooi; lam: Die ooie het geboer. Vgl. agteruit-, vooruitboer.

Van Zyl (2000: 3) sê die volgende oor die inskrywing in die WAT:

Die uitgawe uit 1950, kort na die Nasionale Party se oorwinning in 1948, se plasing en uiteensetting van die begrippe lyk vanuit 'n hedendaagse perspektief ideologies gelaai: die betekenis van Boer as "Benaming vir 'n lid v/d Afrikanervolk; vroeër veral gesê van die Afrikaners v/d gewese republieke in SA." word eerste geplaas (by Van Dale sewende).

Wat Van Zyl nie meld nie, maar wat vanuit 'n leksikografiese hoek ook van belang is, is dat Boer en boer as homonieme gelys word asof daar nie 'n semantiese verband tussen Boer en boer bestaan nie. Die vierde betekenisonderskeiding in WAT boer2 I (m.b.t. kaartspel) bevestig hierdie stelling. Dit blyk teruggevoer te kan word na die Ossewa-speelkaarte wat in 1938 deur Castle-bier ter herdenking van die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument ontwerp, vervaardig en versprei is.4

 

 

 

 

Dat die kaartspel 'n ideologiese ondertoon het wat nader aan Boer1 lê, word versterk deur die feit dat dit onder meer bemark is in die koerant van die Ossewabrandwag. In die advertensie hieronder wat op 17 Desember 1941 verskyn het, kan die Boer regs gesien word.

P (die ekwivalent van aas) word voorgestel deur 'n afbeelding van die voormalige president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, president Paul Kruger. K (die ekwivalent van koning) word voorgestel deur die Boeregeneraal en latere eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, generaal Louis Botha. Die koningin is vervang deur die Volksmoeder (sien Brink 1990: 273-292 vir 'n uiteensetting van die ideologie van die Volksmoeder), en generaal Koos de la Rey stel die Boer (Jack in Engels) voor. Die vervanging van Jack met Boer is ook te sien in die woord boerpot wat volgens Van Wyk (2003: 59) reeds in 1881 opgeteken is:

Eng. jackpot is 'n samestelling van jack "boer in kaartspel" en pot "pot, prys", met eg. n.a.v. die gebruik in poker om die waarde van die pot of prys te laat groei totdat 'n speler met 'n boerkaart of iets hoër die plaas van weddenskappe volgens die spelreëls kan open.

Alvorens daar aandag geskenk word aan die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal 1979; Luther, Pheiffer en Gouws 2015) se hantering van B(b)oer, is die volgende bevinding van Van Zyl (2000: 4) ook van belang: Volgens haar het die gebruik van Boer as etnoniem of etniese merker waarskynlik sy ontstaan in Engels gehad. Sy staaf haar stelling deur te verwys na 'n verduideliking in 1857 deur die ontdekkingsreisiger Livingstone, waarin hy meld dat Boer gewoon landbouer beteken en nie as sinoniem vir boor (uitgespreek as [boha]) in Engels gesien kan word nie. Nienaber (1953: 292) verskil egter hiervan en noem dat Boer al teen 1700 meer as net 'n beroepsnaam aan die Kaap was en "gedurende die agtiende eeu het die betekenisverwyding5 vas geword om die landman of binnelander van blanke afkoms, die kolonis, aan te dui, ongeag sy beroep". Nienaber (1953: 293) sê verder dat dit vir hom duidelik is dat "Boer (Engels Boor) oorgeneem is deur die Engelse en nie van die Engelse nie, dat dit m.a.w. 'n Afrikaansisme is".

Die tweede uitgawe van HAT (Odendal 1979) volg die uiteensetting in die WAT byna tot op die letter. Die sesde uitgawe van HAT (Luther, Pheiffer en Gouws 2015) wyk egter af van sy voorgangers deur boer met 'n kleinletter eerste te plaas en Boer met 'n hoofletter tweede. Onder boer word drie betekenisonderskeidings gegee:

1 iemand wat sy/haar bestaan maak deur op 'n plaas gewasse te verbou en/of diere te teel; landbouer; op 'n boer se plaas gaan jag Om boer te wees en te werk / in God se sonskyn en reën (W.E.G. Louw). 2 [mv.] manne; kêrels: Dag, boere! 3 (kaartspel) kaart hoër as 'n tien en laer as 'n vrou.

Twee van die betekenisonderskeidings wat in die WAT aangetoon word, naamlik dié van 'n plattelander of van 'n pion, verskyn nie hier nie. Verder is dit ook opmerklik dat boer gekwalifiseer word as iemand wat manlik of vroulik kan wees.

Die inskrywing onder Boer lees soos volg:

1 (wit) persoon (met 'n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal (gewoonlik) Afrikaans is; Afrikaner. w Hoewel bepaalde, konserwatiewe (wit) Afrikaanssprekendes, lede van die taalgemeenskap wat na 'n eie heimat soos die historiese Boererepublieke hunker, na hulle self as "Boere" verwys en hierdie benaming verkies, teken ander (wit) Afrikaanssprekendes eksepsie aan as hulle so genoem word en kan hulle dit as kwetsend/neerhalend/rassisties aanvoel/beskou. 2 (rassisties, neerh.) skeldnaam vir 'n Afrikaner. 3 (rassisties, neerh.) [ook kleinletter] skeldnaam vir 'n lid van die polisie.

(Branford 1980) meld 'n aantal bykomende betekenisse in A Dictionary of South African English, naamlik "a Republican fighter in either of the Boer Wars", dié van 'n tronkbewaarder, 'n lid van die Suid-Afrikaanse weermag, en "An African term of abuse for someone of mixed blood".

Dit is nie moeilik om in te sien hoe die gebruik van Boer as skeldnaam vir 'n lid van die polisie ook kon uitbrei om na 'n lid van korrektiewe dienste te verwys nie, en in die verlede ook na 'n lid van die Suid-Afrikaanse weermag nie. Van Zyl (2000: 4) haal in hierdie opsig vir Ampie Coetzee aan: "Sedert die institusionalisering van apartheid deur 'n Afrikaner-regering het boer Boer geword en 'n besliste ideologiese verbintenis gekry met die polisie, weermag, mag."

Bosman en Pienaar (2017: 307) sê dat leksikale betekenis onder andere weerspieël word in die semantiese verhoudings tussen leksikale items. Twee tipes verhoudings kan onderskei word, naamlik sintagmatiese en paradigmatiese verhoudings. Aangesien hierdie verhoudings nie altyd in woordeboeke terug te vind is nie, word dit nou bespreek ten einde die leksikale betekenis van B(b)oer verder te belig.

Sintagmatiese verhoudings verwys na die moontlike kombinasies wat lek-sikale items kan vorm waar die bepaalde items semantiese verhoudings met ander leksikale items het en redelik voorspelbaar is, byvoorbeeld boer + beskuit, boer + boon, boer + kos. Voorbeelde met Boer sou kon wees Boer(e) + oorlog, Boer(e) + republiek, Boer(e) + hater. In Afrikaans word hierdie verhoudings gewoonlik as samestellings uitgedruk.

Paradigmatiese verhoudings verwys na sinonieme, antonieme, komplementêre pare, teenoorgesteldes, homonieme, deel-geheel-verhoudings, en geordende en ongeordende reekse. As die bronne wat hierbo gemeld is as vertrekpunt gebruik word, val dit op dat Afrikaner meestal as sinoniem vir Boer aangegee word, terwyl landbouer (en deesdae ook produsent) as sinonieme vir boer geld. Die Engelse (Britte) tree as teenoorgestelde vir Boer op, terwyl boer as sodanig nie 'n antoniem het nie. Boer (met 'n kleinletter) veronderstel 'n landelike omgewing wat teenoor 'n stedelike omgewing geplaas kan word. Hiponimies gesien sou Boer as hiponiem kon optree van die superordinaat volksbenaming en boer as hiponiem van die superordinaat beroep. Wat egter nie te betwyfel is nie, is dat Boer uit boer ontwikkel het en, alhoewel dit in al die bronne as homonieme aangedui word, was daar histories bepaald 'n polisemiese verhouding in die sin dat die beroep (om te boer) die basis van die etnoniem Boer is. Giliomee (2004: 27) verwys na die historikus cornelius de Kiewiet wat opgemerk het dat die "Boer-ras in die lang stiltes van die agtiende eeu gevorm is". Dit is ook reeds in hierdie tyd waar die skakel tussen Afrikaner en Afrikaans sy neerslag vind. Giliomee (2004: 41) wys daarop dat die burgers in die Wes-Kaap in die 1770's en 1780's daarop begin aandring het dat hulle regte beter omskryf en uitgebrei word. Die term Africanders is toenemend deur die groep gebruik om na hulself te verwys. Ander waarnemers het die term Afrikaners of Afrikaner gebruik vir mense in die stad en Boeren vir dié op die platteland. Die groep is wel verbind deur wat die reisiger R.B. Fisher (soos aangehaal deur Giliomee 2004: 41) "a very bad sort of Dutch" genoem het.

Die gebeure rondom die Groot Trek, die vestiging van die Boererepublieke in die Noorde, en die Anglo-Boereoorloë in die 19de eeu en vroeg in die 20ste eeu, het die weg gebaan vir uniewording in 1910 en die daaropvolgende opkoms van die Nasionale Party en Afrikanernasionalisme. Afrikaans het die simbool van Afrikanernasionalisme geword. Giliomee (2004: 307) sê dat die simboliese klem op Afrikaans en die poging om 'n eie nasionale kultuur op te bou, 'n reaksie was op die moderne, verstedelikte samelewing en dat ander identiteite, veral dié van Boer wat in die ou republieke belangrik was, in die stedelike omgewing verdwyn het.

B(b)oer, Afrikaner en Afrikaans is histories nou verweef en het die weg gebaan vir die verskillende betekenisonderskeidings en standpunte wat steeds in 2022 rakende die konsep B(b)oer geld. Die pejoratiewe gebruike van B(b)oer as skeldnaam moet teen die agtergrond van rasseskeiding gesien word en was reeds vroeg in die 20ste eeu aan bod. Giliomee (2004: 307) wys daarop dat die term Afrikaner in die eerste drie dekades van die Unie (dus 1910-1940) in meer as een sin gebruik is. Enersyds was daar die eksklusiewe definisie waarin net blanke Afrikaanssprekendes wat die Gereformeerde geloof aangehang het as Afrikaners beskou is. Daarteenoor was daar die inklusiewe definisie waarvolgens Afrikaner bruin mense ingesluit het en na enigiemand verwys het wie se hoogste lojaliteit aan Suid-Afrika was en wat Afrikaans sy regmatige plek in die land gegun het. Boer het egter verbind gebly aan Afrikanernasionalisme (sien byvoorbeeld verwysings na die Boerenasie in Die Burger in Giliomee 2004: 438).

 

5. Die dinamiese aard van ensiklopediese kennis

Volgens die ensiklopediese benadering tot betekenis, is betekenis dinamies en word dit in die konteks van gebruik gekonstrueer (Evans en Green 2006: 221). Daarom word die ondersoek na die leksikale betekenis van Boer en boer vervolgens ondersteun deur data verkry uit resente koerantartikels, onlangse literêre tekste, hedendaagse Afrikaanse lirieke, bemarkingsmateriaal van die handelsmerk Boerboel, en die TK-korpus.

5.1 Koerantartikels

Op 25 Julie 2020 maak Koos Kombuis die volgende opmerking in 'n artikel oor plaasmoorde:

Die aanvalle op boere en hul gesinne en hulle werkers verdien spesiale aandag, nie omdat baie van hulle wit en Afrikaans is nie, maar omdat ons boere in hierdie tye van armoede en hongersnood ekstra nodig het, en ook omdat dit 'n unieke reeks strategieë verg on hierdie aanvalle stop te sit. (Kombuis 2020: 1) [My beklemtoning - MP]

Dit is duidelik dat hy hier na landbouers verwys, maar ook impliseer dat nie alle boere noodwendig wit en Afrikaanssprekend is nie. In voorbeeld 6 in die Inleiding, asook elders, is daar reeds gewys op die gebruik van boer om na wit Afrikaanssprekendes, die bóér-boer(e), te verwys (Kamfer 2021: 21).

In die bespreking oor die ensiklopediese benadering in afdeling 2 is die mening uitgespreek dat die sentrale betekenis wat met 'n woord geassosieer word, redelik stabiel is. In die geval van B(b)oer blyk dit dat "wit" (met verwysing na rasgroep) deel van die sentrale betekenis van (B)boer is. Ten einde van dié sentrale betekenis af te wyk, word verskeie adjektiewe ingespan, byvoorbeeld opkomend. Opkomend impliseer naas ander dinge, gekleurd.6 Op 7 Januarie 2021 lewer Jan de Lange verslag oor 'n opkomende boer in die Wes-Kaap wat vir die derde keer van sy plaas afgesit is. Die berig word vergesel van 'n foto van die boer, mnr. Ivan Cloete, wat op die oog af 'n wit man is. De Lange (2021: 5) berig soos volg:

Ivan Cloete sluit hom aan by 'n rits produktiewe swart boere (Cloete is 'n bruin man, maar swart vir die doeleindes van swart ekonomiese bemagtiging) wat van staatsgrond afgedwing word sodat grond gegee kan word aan dié met beter politieke konneksies - ingevolge die aankondiging verlede jaar dat die staat 700 000 ha landbougrond gaan uitdeel. [My beklemtoning - MP]

Uit die bogenoemde twee artikels blyk 'n hele paar konnotasies wat met B(b)oer verband hou: plaasaanvalle, ras, en swart ekonomiese bemagtiging. Dat B(b)oer besliste politieke en rasgedrewe ondertone het, is ook duidelik uit die berig deur Hendrik Hancke wanneer hy skryf oor die Senekal-insident toe duisende lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) asook B(b)oere opgeruk het na die landdroskantoor in Senekal waar twee mans verskyn het op 'n aanklag van moord op die plaasbestuurder Brendin Hormer. Wat betref die konfrontasie tussen die EFF en die B(b)oere, skryf hy (Hancke 2020: 6):

Van Julius Malema se duisende "vegters" wat "Kill the Boer" dreunsing, tot 'n selferkende bomplanter en moordenaar wat openlik die k-woord gebruik: Senekal kon Vrydag in 'n bloedbad ontaard het.

Die berig word vergesel van 'n foto van die gebeure met die onderskrif "Veglustige EFF-ondersteuners probeer die "Boere" bereik terwyl hul leiers hulle terughou". Dis opvallend dat Boere in aanhalingstekens geplaas word - duidelik in reaksie op die titel van die lied. Die "k-woord" (nie in aanhalingstekens in die oorspronklike teks nie) word egter as een kant van die spektrum van raspejoratiewe teenoor "Boere" gestel - presies die rede waarom die Taalkommissie dit in 2015 momenteel oorweeg het om Boer te skrap.

Dié politieke spanning wat aan B(b)oer gekoppel word, is een van die redes waarom sommige boere (landbouers) verkies dat daar na hulle as produsente en nie as B(b)oer(e) verwys word nie. Op Graan Suid-Afrika se webblad7word daar byvoorbeeld na graanprodusente, maar ook na boere verwys. Dieselfde geld die Melkprodusente-organisasie (MPO). In 'n onderhoud8 met die nuwe hoof Gerhard Kriel op 27 Januarie 2022, verwys hy konsekwent na melkboere en nie na melkprodusente nie.

Is boere dus boere of produsente? Die kompleksiteit oor die korrekte verwysingsvorm word ook goed geillustreer deur die volgende aanhaling uit 'n rubriek van Willemien Brümmer (2020) oor plaasaanvalle waarin sy sê:

In dié vier jaar periode (tot 31 Maart 2020) is 27 voorvalle van moord op plase en kleinhoewes aangemeld. Hiervan was agt op "produsente" (lees: wit boere), twee op opkomende boere, 11 op werkers en voormanne en ses op mense wat op plase en kleinhoewes gewoon het. [My beklemtoning - MP]

Dit is opvallend dat daar in koerantberigte oor aanvalle op boere 'n onderskeid gemaak word tussen boer en boervrou. In 'n berig met die opskrif "Boervrou dood aanvaller met sy eie knopkierie" wat op 28 September 2021 op Maroela Media verskyn het, skryf Tania Heyns (2021): "'n Vermeende plaasaanvaller is dood nadat 'n Vrystaatse boer se vrou hom Maandag uit noodweer met sy eie knopkierie bygedam het in 'n poging om haar man se lewe te red" [My beklemtoning - MP].

Dit is duidelik dat politiek, gender en kleur/ras ter sake is in die verstaan van die betekenis van B(b)oer. Dit word bevestig deur die etnoniem Boere-Afrikaners, waar Boere as 'n soort intensiewe vorm van Afrikaner aangewend word. In 'n artikel oor Kleinfontein, die sogenaamde "Orania van die Noorde", berig Antoinette Slabbert (2021: 7): "Kleinfontein is 'n geslote gemeenskap oos van Pretoria waar slegs 'Boere-Afrikaners' toegelaat word om te woon en werk" [My beklemtoning - MP]. Die blote opskrif met die verwysing na Orania dui daarop dat Boere-Afrikaners spesifiek na wit Afrikaanssprekendes verwys wat 'n politieke ideologie van selfbeskikking aanhang.

5.2 Literêre tekste

Uit die bespreking oor die leksikale betekenis van B(b)oer in afdeling 4, het dit gelyk of B(b)oer op mans en vrouens van toepassing kan wees. Tog wil dit voorkom asof die sentrale betekenis van B(b)oer primêr op mans slaan. In 1 Recce Volume 2. Agter vyandelike linies, haal Alexander Strachan (2020: 21) 'n soldaat soos volg aan:

7. En die Boere dans saam en ek sê vir Gert: "As ons voorvaders ons nou moes sien het hulle boedel oorgegee, heeltemal boedel oorgegee."

In hierdie geval verwys Boere na die Recces (wit mans) wat in die destydse grensoorlog deelgeneem het, wat ná 'n suksesvolle operasie saam met (die swart) genl. Chiwale, toe hoof van Unita se weermag, feesvier.

Streng gesproke sou boerin die vroulike vorm van boer moes wees, maar dit is nie in die moderne Afrikaanse konteks nie. Die vroulike terme skyn boervrou of vroueboer te wees, met dié onderskeid dat 'n boervrou die status het van getroud te wees - sy is 'n boer se vrou (sien 5.1).

Hierteenoor is 'n vroueboer 'n boer uit eie reg, ongeag of sy getroud is of nie. In die bemarkingsmateriaal vir die TV-program Boer soek 'n vrou (seisoen 8), word die een vroulike deelnemer soos volg bekend gestel9:

8. Helen (29) kom uit 'n familie van vroueboere. Dié skaapboer van Bloemfontein hoop om haar huweliksmaat op die program te ontmoet. Haar ideale man is iemand wat haar sal uitdaag en ondersteun.

Geen voorbeelde is gevind waarin die word vroueboer(e) pejoratief gebruik is nie, maar wat boervrou betref, sê een van Kamfer (2021: 129) karakters:

9. Antie Tina paint 'n wit vrou so raak soos 'n Dutch painter. As Vermeer 'n boervrou gepaint het, sal die naam gewees het: 'Girl with the Sago Pudding Hands'".

Hieruit blyk 'n boervrou ook wit te wees. Hierdie voorbeeld sluit aan by dit wat Jantjies (2022: 66) Boermeide noem:

10. Al wat die Boermeide goed kan doen, is om heeldag te sit en tee syp [sic.] en skinder van ander Boermeide. En om Hotnotmeide te hiet en gebied wat vir hulle werk en hulle kinders moet grootmaak.

Die koppeling tussen kleur (wit), Afrikaans en Boere-Afrikaners word weereens bevestig in die volgende aanhaling uit Is Mos Oos deur Jaco Alant (2021: 89), waar die afgetrede professor van Mandie, 'n Zoeloevrou, sê:

11. "Maar hier is nou die ding!" protesteer die kolonel. "Sy het verdomp vlot Afrikaans gepraat, ek sweer, wragtig beter as ek! En geen geEngelse woorde tussenin soos ons kammakastige Boere-Afrikaners nie."

5.3 Lirieke

Daar is reeds verwys na die verhouding tussen B(b)oer en die platteland enersyds en die stedelike omgewing andersyds. Indien lirieke as domein betrek word, is hierdie spanning waarskynlik in die onlangse verlede vir die eerste keer in 1986 vasgelê deur Koos Kombuis in sy liedjie "Boer in beton" vanaf die album "Elke boemelaar se droom"10:

12. Ek's 'n Afrikaner in die stad, ek dra my masker soos 'n kat deur donker stegies en geboue, vat vyf, my broer, vat vat en iewers in my onder bewussyn sien ek nog die Karoo sonskyn

13. Ek's 'n boer in beton soos Oom Paul op ou Kerkplein niemand weet van my pyn, want ek is goed vermom ek's 'n boer in beton

Twintig jaar later behaal Bok van Blerk groot sukses met sy liedjie De la Rey (met verwysing na generaal Koos de la Rey, ook genoem in die bespreking van figuur 3 in afdeling 4) wat handel oor die Anglo-Boereoorlog. Die bekende koorgedeelte lui11:

 

 

14. De La Rey, De La Rey

Sal jy die Boere kom lei?

De La Rey, De La Rey

Generaal, Generaal

Soos een man, sal ons om jou val

Generaal De La Rey

Dit is opmerklik dat Koos Kombuis Afrikaner met boer verbind, maar laasgenoemde deurgaans met 'n kleinletter spel. Van Blerk gebruik konsekwent die hoofletter, wat histories korrek is. Christoph Kotzé, wat die verhoognaam Appel gebruik, reik in 2018 Boer loop in my are uit. Naas die plattelandse hunkering, word volk en Afrikaans ook in sy lirieke betrek12:

15. Want boer loop hier deur my are

In die rooi grond wat na die reën my hande rooi kom vlek

Is dieselfde wat my hart my siel en gees bedek

Ek ruik 'n storm aan kom

Ek sien 'n volk wat saam drom

In Afrikaans het ek geleer hoe om te bid en praat

Dit is my taal my trots die rots wat ek by my dra

Niemand sal dit wegneem

Baie het al probeer

Die musiekvideo van Boer loop deur my are13, wys die verhaal van 'n seuntjie wat saam met sy ouers by sy oupa op die plaas gaan kuier. Die seuntjie is wit en kaalvoet. Hy en sy oupa ry op 'n trekker en loop saam op die plaas rond. Daar is 'n besproeiingstelsel, mielielande en 'n plaasopstal. Ná die vakansie keer die gesin terug na die stad waar die seuntjie op 'n almanak die dae aftel totdat hulle weer by sy oupa op die plaas gaan kuier. Hy breek ook 'n paar bakstene uit die plavleisel by hulle huis en plant 'n saadjie. Soos wat die oupa bid vir reën, bid die seuntjie ook en hou sy saadjie nat totdat dit ontkiem. Uiteindelik breek die vakansie aan en is daar 'n blye weersiens tussen die oupa en die kleinseun.

In teenstelling met dié ernstiger video, is dit van meet af aan duidelik dat Jan Bloukaas sy liedjie Boerseun tong-in die-kies bedoel. Die lirieke gebruik boer en Boer bykans uitruilbaar, maar dryf ook die spot met John Deere-trekkers en veral kleredrag wat tipies deur boere op plase gedra word14:

16. As dit 'n boer is wat jy soek is dit 'n boer wat ek sal wees

Met John Deere trekker sal ek ry, met kakie tot my knieë

My pere is gesond en my damme is nooit leeg

As dit 'n Boer is wat jy soek, is dit 'n Boer wat ek sal wees

Die kwessie rakende kleredrag verdien verdere aandag.

5.4 Die handelsmerk Boerboel Wear

Die handelsmerk Boerboel Wear stel hulself soos volg bekend op hulle web-blad15:

Boerboel Wear is a proudly South African developed and manufactured brand. Inspired by characteristics of the Boerboel, a South African dog breed, our camo and Kalahari ranges offer the perfect blend between reliability and intelligence.

Die logo ondersteun hierdie verduideliking:

 

 

Nadere ondersoek toon egter baie duidelik dat die handelsmerk op B(b)oere gemik is. Volgens Brent Lindeque (2022) is die groep Jan Jan Jan deur Boerboel Wear geskep in wat hy beskryf as Boerboel se eie "Boere Boyband", wat, uitgedos in noupassende Boerboel-kortbroeke en "two-tone"-hemde, aan die einde van 2019 vir hulself naam gemaak het met die ietwat skunnige musiekvideo "Wys jou vleis" 16. Die video betrek teen die agtergrond van tradisionele boeremusiek 'n hele reeks stereotipes wat op B(b)oere betrekking sou kon hê: 'n ou plaasbakkie, 'n grondpad, 'n konsertina en 'n windpomp. Die bedoeling is egter duidelik die bemarking van Boerboel-klere wat veral op mans gerig is:

17. Van Windhoek tot Klerksdorp, selfs Pretoria

Sien jy hoe Bulle trots hulle boerboel outfits dra

Jy is 'n man met keuses, jy kan kies en keur

Jy loop kaalvoet oor klippe en khaki is jou kleur

Jy wys jou vleis, jy wys jou vleis

5.5 Die TK-korpus

Ten einde die insigte rakende die bykomende betekenisse van B(b)oer te toets, is die TK-korpus in Mei 2020 geraadpleeg om leiding te gee oor die mate waartoe B(b)oer daarin gereflekteer word en om die voorkoms van sekere kollokasies en samestellings met veral boer te ondersoek.

Die tabel hieronder dui die vrae en ook die aantal trefslae in die korpus aan.

 

 

Aan die begin van hierdie afdeling is die stelling gemaak dat betekenis dinamies is en in konteks gekonstrueer word. Uit die koeranttekste het dit geblyk dat (B)oere in 'n Suid-Afrikaanse konteks met ras (wit) geassosieer word. Indien 'n onderskeid gemaak moet word, word adjektiewe soos swart of opkomend ingespan. Ten einde dié ongemak te oorkom, word produsente soms as sinoniem vir B(b)oere gebruik. Uit die literêre tekste blyk dit dat boervrou ('n vrou wat met 'n boer getroud is) ook met ras (wit) geassosieer word en soms pejoratief aangewend word (vgl. voorbeelde 9 en 10). Soos in die aanhalings uit koe-rantberigte, wys voorbeeld 11 weer op die band tussen B(b)oer en Afrikaans en dié verhouding word verder geïllustreer aan die hand van verskillende lirieke. Die lirieke bevestig ook dit wat in afdeling 4 bespreek is, naamlik die koppeling van B(b)oer met die Anglo-Boereoorloë, asook die teenoormekaarstelling van die platteland en 'n stedelike omgewing. Die platteland en plase word geromantiseer (vgl. voorbeeld 14) en speel op dié manier ook in op die kwessie van grondhervorming en plaasmoorde (sien afdeling 5.1). Voorbeelde 16 en 17 koppel 'n bepaalde tipe kleredrag aan B(b)oer en dryf grootliks die spot daarmee soos duidelik uit die musiekvideo's blyk.

Die resultate van die korpusondersoek bevestig van die tendense wat in hierdie afdeling bespreek is: B(b)oere is meestal manlik en, indien 'n vrou ter sprake is, word dit leksikaal as vroueboer uitgedruk. B(b)oere is wit en, indien nie, word dit aangedui met hetsy opkomend of swart. B(b)oere boer op plase op die platteland en word geraak deur plaasaanvalle.

 

6. Wat beteken B(b)oer in 2022?

Uit die bespreking tot dusver blyk dit dat Boer uit boer ontwikkel het, maar dat beide woorde in 'n Suid-Afrikaanse konteks polities kompleks is. Grondher-vorming, swart ekonomiese bemagtiging en plaasaanvalle vorm deel van die breë konteks waarin die woord boer betekenis kry. Die behoefte om te onderskei tussen verskillende soorte boere, kom na vore in die terme opkomende boer, swart boer, vroueboere, of die kwalifikasie Engelse boer (met die veronderstelling dat dit teenoor Afrikaanssprekende (wit) boere staan). Boervroue mag boer, al dan nie; die term verwys gewoon na vrouens wat met boere (mans) getroud is.

Die Anglo-Boereoorloë, Afrikanernasionalisme, mag, Afrikaans, en 'n kon-sep soos selfbeskikking (vgl. byvoorbeeld die Facebookblad van Boermedia17) word verbind met Boer. Politieke groepe wat nie selfidentifiseer met Boer nie, gebruik Boer (maar ook boer) in haatspraak. Aan die ander kant is daar by andere 'n vereenselwiging met die etnonimiese waarde van die woord en word dit beskou as 'n "edel naam" wat "met trots (ge)dra word" (sien Inleiding). Hierdie positiewe assosiasie kom ook na vore by iemand soos Panyoti Loizis wat onder die naam Die Griekse Boertjie bekendheid as Afrikaanse sanger verwerf het. Dieselfde geld die aanbieder van die realiteitsreeks Survivor, Nico Panagio, wat in gesprek met Karen Zoid sy herkoms beskryf as "'n Griekse Boeremengsel" (sy pa is Grieks en sy ma Afrikaanssprekend).18

Uit die voorbeelde en aanhalings wat by hierdie studie betrek is, word daar dikwels nie (soos die AWS dit aantoon) gehou by die onderskeid tussen Boer en boer nie. Dit wil voorkom asof die betekenisse van die twee woorde soms vervaag en boer word gebruik waar Boer bedoel word, en andersom.

Hierdie verwarring is ook duidelik in Branford (1980) se A Dictionary of South African English waar daar onder die lemma boer die volgende gesê word: "As a prefix it occurs in numerous combinations in the forms Boer, boer- or boere-. The first of these has a national or political significance, the two latter forms have numerous and not easily separable meanings such as 'Afrikaner style', 'home-made', 'folk', 'country style', 'of or pertaining to farming folk', 'rustic', 'indigenous', etc." [My beklemtoning - MP].

Sonder om ligsinnig te wees, loop die grense soms so na aan mekaar, dat dit waarskynlik die beste opgesom kan word in die redelik unieke samestellings met boer uit Wilnette van Reenen se roman Ragel Petoors in die malhuis:

18. "Anners sal jy maar 'n bietjie moet fake, suster, so nie gan hierie plan van ons flop. Big time. 'n Boereflop, seg ek jou." (Van Reenen 2020: 26).

19. "Miskien sou jy iets meer gepolliesh het soos 'jy praat fiesiebol', of iets soos 'dis 'n fekale aangeleentheid" in pleks van boerekakspul?" (Van Reenen 2020: 41).

Ensiklopediese kennis is egter nié chaoties nie (sien afdeling 2), maar 'n gestruk-tureerde kennisstelsel wat as 'n netwerk georganiseer is. Daar word ook aanvaar dat alle aspekte van die kennis waartoe daar in beginsel deur een woord toegang verkry kan word, nie gelyke status het nie. Die vier tipes kennis van woordbetekenis wat betrekking het, is konvensionele kennis, generiese kennis, intrinsieke kennis, en unieke kennis. Die woorde Boer en boer tree op as leksikale toegangspunte tot ensiklopediese kennis.

In 'n poging om die gestruktureerde aard van ensiklopediese kennis en sentraliteit te illustreer (soos van toepassing op die konsep B(b)oer in die Afrikaans), word Lakoff (1987, in Evans en Green 2006: 275-277) se werk oor saamgestelde prototipes en radiale kategorieë betrek.

Indien saamgestelde prototipes en radiale kategorieë toegepas word op die konsep B(b)oer, sal 'n mens boer (die beroep) waarskynlik in die sentrum plaas, aangesien dit histories die oorspronklike betekenis was waaruit die ander kategorieë ontwikkel het. As sodanig is dit ook 'n saamgestelde prototipe, aangesien dit die idee van die boer oproep en as 'n verteenwoordigende struktuur van die kategorie dien. Die saamgestelde prototipe vir die kategorie boer dui 'n beroep aan wat meestal op die platteland en op plase beoefen word. So tree dit dan op as 'n idealisering vir verdere modelle wat afgelei kan word uit die saamgestelde prototipe wat opkomende en swart boere, vroueboere en moontlik ook boervrouens insluit:

 

 

Indien leksikale items as toegangspunte tot die kennisstelsel optree, verteenwoordig woorde ook radiale kategorieë. Volgens Evans en Green (2006: 331) het radiale kategorieë wat leksikale konsepte verteenwoordig, dieselfde struk-tuur as dié wat konseptuele kategorieë verteenwoordig, met die reeks leksikale konsepte wat ten opsigte van 'n prototipiese leksikale konsep georganiseer word:

This means that lexical conceptual categories have structure: more prototypical senses are "closer" to the central prototype, while less prototypical senses are "further from" the prototype (peripheral senses). (Evans en Green 2006: 331)

In kognitiewe semantiek word radiale kategorieë voorgestel as 'n radiale lat-konfigurasie soos getoon in figuur 6, waar elke onderskeibare betekenis deur 'n node voorgestel word. Terwyl elke unieke onderskeiding aan die ander verwant is deurdat hulle aan dieselfde konseptuele kategorie behoort, dui die pyle tussen die nodes op 'n noue verwantskap tussen die betekenisse.

 

 

Die aanname dat radiale kategorieë in die langtermyn semantiese geheue of mentale leksikon verteenwoordig word, is die kern van hierdie benadering. Wat die woorde Boer en boer betref, sal dit impliseer dat die verskeidenheid betekenisse wat met Boer en boer geassosieer word, gekonvensionaliseerd is.

Radiale kategorieë toon die afwyking van die saamgestelde prototipe. Sekere kategorieë word met verloop van tyd meer gekonvensionaliseerd as ander en verskillende subkategorieë in 'n radiale kategorie kan verskillende grade van prototipiesheid ontwikkel. Radiale kategorieë is egter nie genereerders nie. Die sentrale kategorie genereer nie produktief nuwe subkategorieë nie. In die woorde van Evans en Green (2006: 277): "While the subcategories are motivated in the sense that they are licensed by the prototype, this is a consequence of our cultural experience." Radiale kategorieë is gemotiveerd, maar kennis van die prototipe voorspel nie watter subkategorieë as gekonvensionaliseerd in 'n bepaalde kultuur aanvaar sal word nie. Of anders gestel: die betekenis van Boer (lid van die polisiemag of korrektiewe dienste) is gemotiveer uit die verhouding tussen Boer (Afrikaner) en Afrikanernasionalisme, wat op sy beurt weer gemotiveer is uit boer. Die betekenisuitbreidings is egter direk gekoppel aan Suid-Afrika se geskiedenis en daarom kultuurspesifiek.

Wat egter wel waar is, is dat minder prototipiese betekenisse deur kognitiewe meganismes wat betekenisuitbreiding fasiliteer, afgelei kan word van meer prototipiese betekenisse. Dié meganismes lei tot die sistematiese uitbreiding van leksikale kategorieë wat lei tot betekeniskettings en uitloop in polisemie of 'n semantiese netwerk wat uit 'n veelvoud van verwante betekenisse bestaan vir 'n enkele leksikale item.

 

7. Gevolgtrekking

in afdeling 2 is daar onderneem om die ensiklopediese benadering tot die konstruksie van betekenis as vertrekpunt te neem om die konsep B(b)oer in Afrikaans te ondersoek. Die vyf uitgangspunte van die benadering is bespreek. Die eerste punt was dat daar in beginsel geen onderskeid tussen semantiek en pragmatiek is nie. Die manier waarop 'n woord (in hierdie geval B(b)oer) gebruik word in praktyk, byvoorbeeld as skeldnaam, is net so geldig en deel van die betekenis van die woord as enige ander gebruik daarvan.

Dié aspek van die benadering slaan op die tweede standpunt wat stel dat ensiklopediese kennis beskou kan word as 'n gestruktureerde kennisstelsel wat as 'n netwerk georganiseerd is, en dat nie alle aspekte van die kennis waartoe daar in beginsel toegang toe verkry kan word deur 'n enkele woord, dieselfde status het nie. Figuur 5 en 6 toon die netwerk vir boer en Boer aan en dit is duidelik dat sekere betekenisse van die twee woorde meer sentraal staan as ander (byvoorbeeld die prototipe boer in figuur 6 teenoor die kaart).

Derdens is daar genoem dat ensiklopediese kennis deur kontekstuele fak-tore onderlê word. B(b)oer is weens die unieke Suid-Afrikaanse geskiedenis kompleks. Dit is hierdie konteks wat die betekenisuitbreiding onderlê en vir Suid-Afrikaners sin maak. Dieselfde geld nie farmer in Australië, der Bauer in Duitsland of il contadino in Italië nie.

In die vierde plek word leksikale items gesien as punte van toegang tot ensiklopediese kennis. B(b)oer kan nie as houer(s) beskou word wat duidelik voorafverpakte bondels inligting voorhou nie.

Die vyfde standpunt in die ensiklopediese benadering tot betekenis, is dat ensiklopediese kennis dinamies is. Terwyl die sentrale betekenisse van B(b)oer redelik stabiel is, is die ensiklopediese kennis waartoe dit toegang verskaf, of dan die woord se ensiklopediese netwerk, dinamies. Betekenisse kan wegval (vgl. byvoorbeeld pion) of bykom (vgl. byvoorbeeld Boere Boyband).

 

Eindnote

1 'n Deel van die debat kan nog op die volgende Facebookinskrywings gesien word: https://www.facebookcom/Taalkommissie/posts/pfbid035WXqCAr3h5t4wqeQRbMJEY39H5zjuPfaFuMBBPA1qUZucMdeJs44AXZpymmTTwRwl; https://www.facebook.com/Taalkommissie/posts/pfbid0K2fQfmeCFXLqDV7q1ZVB1AcJAYJUKkJpAN1rm2aVQPaE4U7TRHMjrjPCqTcvFru9l; https://www.facebook.com/Taalkommissie/posts/pfbid02m7souUiAU8s3RrK1NnrAtBgF1RpYHXFvxcp1N7UxFcy6DLA3kw6x3uaFXJygzbCil
2 https://www.facebook.com/Taalkommissie/posts/ope-brief-aan-die-afrikaanse-taalkommissieinsake-skrapping-van-die-naam-boer-uit/880310068692289/
3 Die kursivering van die woord B(b)oer in die voorbeelde is my eie-MP.
4 https://www.facebook.com/Voortrekkermon/photos/pcb.10156786530562103/10156786527317103/?type=3&theater
5 Nienaber se bewoording vir wat deesdae meer algemeen as betekenisuitbreiding beskryf sal word.
6 https://www.landbou.com/landbou/nuus/so-faal-staat-opkomende-boere-20220221
7 https://www.grainsa.co.za/pages/about-grain-sa/overview
8 https://maroelamedia.co.za/tag/melkprodusente-organisasie/
9 https://kyknet.dstv.com/nuus/boer-soek-n-vrou-seisoen-8-so-lyk-die-boere
10 https://lyricstranslate.com/en/koos-kombuis-boer-beton-lyrics.html
11 https://www.google.com/search?q=de+la+rey+lyrics&rlz=1C1GCEB_enZA997ZA997&oq=de&aqs=chrome.0.69i59j69i57j35i39j0i20i131i263i433i512j0i131i433i512j69i60l3.2752j0j4&sourceid=chrome&ie=UTF-8
12 https://www.google.com/search?q=boer+loop+deur+my+are+lyrics&rlz=1C1GCEB_enZA997ZA997&oq=Boer+loop+&aqs=chrome.0.69i59j69i57j46i512j0i512l2j0i22i30.8935j0j4&sourceid=chrome&ie=UTF-8
13 https://www.youtube.com/watch?v=71d0bePGvxg&list=RD71d0bePGvxg&start_radio=1
14 https://www.google.com/search?q=jan+bloukaas+boerseun+lyrics&rlz=1C1GCEB_enZA997ZA997&oq=Jan+Bloukaas+Boerseun+lirieke&aqs=chrome.1.69i57j0i22i30j0i390l3.21177j0j4&sourceid=chrome&ie=UTF-8
15 https://www.boerboelwear.co.za/
16 https://www.youtube.com/watch?v=AGgsXdFdK3s
17 https://www.facebook.com/boermedia
18 https://www.showmax.com/eng/play/80497807-50a5-408a-b0c0663caa2c0a96/979d76a4-1ca1-41b5-823b-b0ed9b530e34/MAiN

 

Verwysings

Alant, J. 2021. Is mos Oos. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Bosman, N. en M. Pienaar. 2017. Afrikaanse Semantiek. Carstens, W.A.M. en N. Bosman (Reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe: 299-328. Pretoria: Van Schaik.

Branford, J. 1980. A Dictionary of South African English. New Enlarged Edition. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

Brink, E. 1990. Man-made Women: Gender, Class and Ideology of the volksmoeder. Walker, C. (Red.). 1990. Women and Gender in Southern Africa to 1945: 273-292. Cape Town: David Philip / London: James Currey.

Brümmer, W. 2020. Bredin Horner: Hou op om plaasaanvalle te kaap. Netwerk 24, 16 Oktober. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/brendin-horner-hou-op-om-plaasaanvalle-te-kaap-20201015 [16 Februarie 2022].

De Lange, Jan. 2021. Boer nou drie keer van plaas verjaag. Rapport, 7 Februarie 2021: 5.

Evans, V. en M. Green. 2006. Cognitive Linguistics. An Introduction. Mahwah, NJ/Londen: Lawrence Erlbaum.         [ Links ]

Fredericks, B. 2020. As die Cape Flats kon praat. Green Eyes en ander stories. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners - 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hancke, H. 2020. Gee ons net ons daaglikse brood. Rapport, 18 Oktober 2020: 6.

Heyns, T. 2021. Boervrou dood aanvaller met sy eie knopkierie. Maroela Media, 28 September 2021. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/boervrou-dood-aanvaller-met-sy-eie-knopkierie/ [23 Februarie 2022].

Ifversen, Jan. 2011. About Key Concepts and How to Study Them. Contributions to the History of Concepts 6(1): 65-88.         [ Links ]

Jantjies, Audrey. 2022. As die katjiepiering blom. Kaapstad: Kwela.         [ Links ]

Kamfer, Ronelda, S. 2021. Kompoun. Kaapstad: Kwela.         [ Links ]

Kombuis, Koos. 2020. Ons beleef ons eie 'ragtime'-era. Beeld, My Naweek, 25 Julie 2020: 1.

Lindeque, Brent. 2022. What Do Two Tannies and Two-tone Have in Common? Jan Jan Jan is Here to Show Us (in their Little Tight Shorts). Good Things Guy, 3 April 2022. https://www.goodthingsguy.com/lifestyle/jan-jan-jan-tight-shorts-two-tone-lyf/ [21 Junie 2022]

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1953. Oor Afrikaans. Tweede Deel. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. Die OB, 17 Desember 1941: 5.

Odendal, F.F. 1979. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Tweede hersiene, uitgebreide uitgawe. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Schoonees, P.C. (Hoofred.). 1970. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Eerste deel, A-C. Derde oplaag. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Slabbert, A. 2021. Pretorianers subsidieer hul eie orania. Rapport, 21 Februarie 2021: 7.

Strachan, A. 2020. 1 Recce. Volume 2. Agter vyandelike linies. Tafelberg: Kaapstad.         [ Links ]

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Van Reenen, W. 2020. Ragel Petoors in die Malhuis. Naledi: Kaapstad.         [ Links ]

Van Sterkenburg, P.G.J. en W.J.J. Pijnenburg. 1984. Van Dale Groot woordenboek van hedendaags Nederlands. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie.         [ Links ]

Van Veen, P.A.F. 1989. Etymologisch woordenboek. De herkomst van onze woorden. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie.         [ Links ]

Van Wyk, G.J. (Red.). 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.         [ Links ]

Van Zyl, D. 2000. Afstand en vereenselwiging: Perspektiewe op die veranderende betekenisse van boer en Boer in die Afrikaanse poësie. Literator 21(3): 1-21.         [ Links ]

Vearey, J. 2018. Jeremy vannie Elsies. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License