SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 special issue 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1735 

ARTIKELS/ARTICLES

 

Laat ons boeke vat Illustrasie van die nut van 'n leesprogram in 'n era van korpusleksikografie met aanbevelings vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

 

An Illustration of the Usefulness of a Reading Programme in a time of corpus lexicography, with Recommendations for the Woordeboek van die Afrikaanse Taal

 

 

Jana Luther

Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Stellenbosch, Suid-Afrika (janaluther@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), 'n omvattende sinchroniese woordeboek waarvan die eerste deel in 1951 verskyn, stel hom ten doel om die woordeskat van Afrikaans in sy wydste omvang, van vandag tot sowat honderd jaar gelede, te bewerk. Nes soortgelyke woordeboeke van ander tale is die WAT vir sy totstandkoming in hoë mate afhanklik van poëme en sitate wat gewone taalgebruikers in die laaste dekades van die vorige millennium per gewone pos na die woordeboek gestuur het. Vir byna elke trefwoord van U tot Z, wat nog gedefinieer en toegelig moet word, bly hierdie versameling van sowat 4,5 miljoen handgeskrewe en getikte kaartjies die beginpunt. Maar sedert die koms van die rekenaar, in die 1980's, het nuwe tegnologieë die maniere waarop woordeboekmakers werk, ingrypend verander. In die era van korpusleksikografie word kaartversamelings stelselmatig aangevul deur elektroniese korpusse van werklike taalgebruik waarin woorde onmiddellik en op verskillende maniere gesorteer en ondersoek word. Hoe groter, omvattender en gebalanseerder die korpus, hoe minder hoef redakteurs op persoonlike indrukke terug te val. Tog het van die WAT se eweknieë, soos die (veel groter) Oxford English Dictionary (OED), in dié tyd van aanlyn teksversamelings ou leesprogramme voortgesit en selfs etlike nuwes begin. Groot korpusse bevat dikwels teks uit koerante, tydskrifte, romans en dergelike, waarin die hedendaagse, algemene, geskrewe variëteit van die taal die botoon voer en ander variëteite (streektaal, vaktaal, geselstaal, woorde en uitdrukkings van vorige geslagte) minder goed verteenwoordig is. Deur vir vrywillige en betaalde lesers spesifieke tekste te kies, probeer leesprogrambestuurders dié leemtes aanvul. Deur 'n semi-outomatiese ontleding van een so 'n uit-gesoekte teks, die roman Draaijakkals (1999) deur George Weideman, illustreer hierdie artikel, met aanbevelings ten slotte, hoe 'n leesprogram in 'n hersieningsfase tot nuwe en bygewerkte artikels in die WAT kan bydra.

Sleutelwoorde: omvattende woordeboek, sinchroniese woordeboek, leesprogram, lesers, teksontleding, teksontledingsagteware, nuwe materiaal, ekserpering, woorde, spelling, wisselvorme, woordsoorte, uitdruk-kings, betekenis, gebruik, sitate, datering


ABSTRACT

The Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is a comprehensive, synchronic dictionary, the first volume of which was published in 1951. Its aim has been to treat the vocabulary of Afrikaans in its broadest scope, from today back to about one hundred years ago. Like similar dictionaries for other languages, the WAT originally came into existence dependent to a large degree on the phrases and citations ordinary language users sent to the dictionary by surface mail during the last decades of the previous millennium. For almost every headword from U to Z that still needs to be defined and elucidated, this collection of more than 4,5 million hand-written or typed cards has remained the starting point. However, since the arrival of computers in the 1980s, new technologies have fundamentally changed the way dictionary makers work. In the era of corpus lexicography, card collections have been systematically supplemented by electronic corpuses reflecting real language use, in which words can be sorted and analysed directly and with the use of various criteria. The larger, more comprehensive and more balanced the corpus, the less editors have to rely on personal impressions. Yet, in these days of online text collection, some of the WAT's peers, such as the (much more extensive) Oxford English Dictionary (OED), have maintained established reading programmes and even initiated several new ones. Large corpuses contain mostly texts from newspapers, magazines, novels and such like, in which the current, general and written varieties of the language dominate and other varieties (regional language, technical language, colloquial language, words and expressions of previous generations) are less well represented. By selecting specific texts for volunteer and paid readers, reading-programme managers have attempted to fill these gaps. Through a semi-automatic analysis of such a selected text, the novel Draaijakkals (1999) by George Weideman, this article demonstrates and subsequently recommends how a reading programme in a reviewing phase may contribute to new and augmented entries in the WAT.

Keywords: reading programme, comprehensive dictionary, synchronic dictionary, readers, text analysis, text analysis software, new material, excerpting, words, spelling, variants, parts of speech, expressions, meaning, usage, citations, dating


 

 

VOORAF

1. Inleiding

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is 'n omvattende sinchroniese woordeboek. Dit belig Afrikaans soos sprekers en veral skrywers dit in die praktyk en hede, van ongeveer die begin van die twintigste eeu tot vandag gebruik (anders as 'n diachroniese woordeboek wat uitstippel hoe 'n taal histories, oor tyd heen, ontwikkel).

Die kerndoel van die WAT is om die woordeskat van Afrikaans so omvattend moontlik te dek, nie net die algemene, gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans nie, maar ook elke streekvariëteit. Die eerste deel van die WAT (die letters A tot C) verskyn in 1951 en deel 16, die laaste van drie dele van S en die laaste gedrukte boekdeel, in 2021. Wanneer die WAT voltooi is (die teikenjaar vir voltooiing is 2029) sal 20 dele as geheel op die internet raadpleegbaar wees.

In die geval van 'n lessenaar- of handwoordeboek wat reeds bestaan en waarvan 'n nuwe uitgawe voorberei word, word elke aspek van elke leksikale item daarin, noukeurig oorweeg of heroorweeg. Party inskrywings word onveranderd gelaat, ander hersien, sommige word uit die papierweergawe van die woordeboek weggelaat en nuwe inskrywings word bygevoeg (vgl. Luther 2019: E).

In die geval van 'n omvattende woordeboek, soos die WAT, daarenteen, waarvan die laaste dele nog geskryf moet word, is elke inskrywing en artikel 'n nuwe inskrywing en artikel waarvoor die redakteurs self, vir die skryf daarvan, eers al die nodige materiaal moet vind.

 

METALEKSIKOGRAFIE

2. Materiaalversameling

Werk aan die WAT behels die opspoor van soveel moontlik Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Van elke vonds moet onder meer die gebruiklikste betekenisse vasgestel word; elke betekenis moet gedefinieer word; en elke definisie moet toegelig word met werklike voorbeelde, wat illustreer hoe die woord of uitdrukking in die betrokke betekenis in verskillende kontekste gebruik word.

Vandag geskied materiaalversameling vir die WAT op verskillende maniere, maar die versamelaars is hoofsaaklik sy redakteurs self: Ander naslaanwerke word geraadpleeg. Die Buro van die WAT in Banghoekweg, Stellenbosch, huisves 'n kosbare biblioteek. Daar word uitgebreid van bronne op die internet gebruik gemaak. Elektroniese weergawes van ander woordeboeke, ensiklopedieë, vaktydskrifte, waarvan baie nie meer in gedrukte formate beskikbaar is nie, word geraadpleeg. Koerantargiewe. Die internet self. Die sosiale media word ontgin, ook deur deelname aan taalgesprekke, soos op Facebook. Vir tegniese terme, terme uit die wetenskappe, word spesialiskennis per e-pos ingewin. Groot elektroniese teksdatabasisse, korpusse van werklike taalgebruik, soos dié van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), word deursoek en trefslae - woorde, woorddele, kollokasiepatrone, frases en sinne - op verskillende maniere gesorteer. So word die werklike gebruik van verskillende leksikale items deurentyd nagevors.

Vir moderne materiaalversamelingsmetodes is 'n rekenaar en spesiale teksontledingsagteware noodsaaklik, maar aan die WAT is daar begin werk lank voor die koms van die rekenaar. Sedert die ontstaan van die woordeboek in 1926 tot en met die aanbreek van die rekenaarera hier, was die redakteurs vir hulle materiaalversameling uitsluitlik op papierbronne aangewese en veral, van die vyftiger- tot eindjare tagtig van die vorige eeu, die vrywillige hulp van buitelesers.

3. Eerste leesprogramme, twee omvattende woordeboeke

3.1 Die Oxford English Dictionary (OED)

Nes die WAT ná hom, het die OED, as definitiewe woordeboek van die Engelse taal, 'n groot deel van sy status aan vrywilligers te danke - belangstellende medewerkers wat oor jare heen, met enkele onderbrekings reeds sedert 1857, op strokies papier, woorde en sinne met die hand neergeskryf en dit na die woordeboek gestuur het. Danksy die entoesiastiese deelname van gewone taalgebruikers is miljoene aanhalings gevind, ondersoek, geassesseer en uiteindelik in woordeboekartikels opgeneem. Die materiaal wat oor honderd jaar en nog etlike dekades so versamel is - en steeds versamel word - lê die OED ten grondslag.

Van al die verskillende soorte inskrywings in die OED is sy sitaatversame-ling een van die belangrikste komponente; voorbeelde van werklike taalgebruik is vir sy gesag noodsaaklik: Met behulp van sitate word die geskiedenis van elke lemma, van die vroegste tot die mees onlangs aangetekende gebruik daarvan, gedokumenteer. Sitate is noodsaaklike hulpmiddels wat leksikograwe akkurate definisies help skep. Voorbeelde van werklike taalgebruik help die woordeboekgebruiker om hierdie definisies te verstaan.

Vir die beplande New English Dictionary het die werwing van vrywillige lesers in 1857 begin. Tientalle het betrokke geraak, maar aanvanklik is hoof-saaklik literêre tekste gefynkam. Daar is ook te sterk op esoteriese woordeskat gelet en nie genoeg op alledaagse, algemeen gebruikte woorde nie. Dit lei tot leemtes in die woordeboek, wat James Murray, van 1879 tot sy dood in 1915 hoofredakteur van die OED, sy leesprogram laat aanpas om 'n groter verskeidenheid lesers en bronne te verseker.

In sy eerste jaar as redakteur laat Murray 'n pamflet versprei, nie net in Brittanje nie, maar ook in Amerika en die destydse Britse kolonies. Daarin vra hy Engelssprekendes en die Engelslesende publiek om met ekserpering van veral "moderne boeke" te help sodat ook lewende Engels weerspieël kon word - van die alledaagse woorde van gewone mense tot gevorderde spesialis- en vak-terme.

Omtrent 500 medewerkers in Amerika en 800 in Brittanje dra by. Van die produktiefste lesers is nie geleerdes nie, maar belangstellende leke. In die drie jaar voor die verskyning van sy eerste aflewering ontvang die OED meer as 'n miljoen aanhalings.

Van 1884 tot 1928 verskyn die eerste uitgawe van die woordeboek in 125 agtereenvolgende bundels wat onmiddellik daarna in 13 volumes gebind word. Die gedetailleerde beskrywing van Engels in hierdie omvattende bron berus grootliks op aanhalings wat deur lesers ingesamel is - sowat 1,8 miljoen gebruiksvoorbeelde, sitate uit romans, koerante, tydskrifte, wetenskaplike en filosofiese verhandelings, manuskripte en ander dokumente wat van die Anglo-Saksiese tyd tot die vroeë twintigste eeu in Engels geskryf is. Maar toe die woordeboek voltooi word, is daar nog baie sitate oor. Om dié ekstra, ongebruikte inligting nie verlore te laat gaan nie, word daar op die maak van 'n enkelvolumesupplement besluit, die eerste van uiteindelik vier, wat in 1933 saam met 'n heruitgawe van die OED verskyn. Nou is daar nog sowat 140 000 aanhalings oor. Hierdie ongebruikte stof word geargiveer of aan ander historiese woordeboekprojekte geskenk. Die leesprogram is voorlopig op 'n end en die woordeboekmakers gaan uiteen.

Hierdie geskiedenis is op die OED se webtuiste te lees.

3.2 Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

Net soos Murray by die OED, 70 jaar voor hom, doen dr. P.C. Schoonees, eerste redakteur van die WAT, op 25 Januarie 1947 op "liefhebbers van Afrikaans" sy eerste beroep om samewerking. Jaarliks daarna, in toesprake, praatjies oor die radio, artikels in Afrikaanse koerante en tydskrifte, herhaal hy sy pleidooi: Help ons met die groot taak. Help ons om materiaal te versamel. Deur hierdie gereelde publisiteit kom die WAT onder die aandag van (hoofsaaklik as wit geklassifiseerde) Afrikaansgebruikers en sitate begin instroom: tussen 2 000 en 3 000 per maand.

In 1963 ontvang die WAT sy miljoenste sitaat, in Januarie 1970 word die tweemiljoenkerf verbygesteek, in Augustus 1983 is daar drie miljoen (Gericke 1991: 88-89, 104, 112). In 2012 omvat die versameling, volgens die WAT se webblad, sowat 4,5 miljoen handgeskrewe en getikte kaartjies en knipsels waarsonder "dit vir die Woordeboek onmoontlik [sou] gewees het om die taal te probeer weerspieël soos dit in die algemeen, maar ook in elke uithoek van die land gepraat word" (Snijman 1963 in Gericke 1991: 211).

4. Nuwe en hersiene leesprogramme

4.1 By die OED

In 1957 begin die OED werk aan 'n tweede supplement. Hiervoor begin die redakteur Robert Burchfield 'n nuwe leesprogram. In die oorspronklike is tekste uit die hele geskiedenis van Engels bestudeer; die fokus van die nuwe is eietydse taalgebruik: Engels, soos dit in 'n verskeidenheid algemene, populêre en wetenskaplike bronne gebruik word.

Vir die eerste keer kom ook internasionale variëteite van Engels onder die loep.

Ná die tweede supplement word 'n derde voltooi en 'n vierde en laaste in 1986, maar in plaas van die leesprogram te laat vaar, word dit hierdie keer vergroot en nog verder uitgebrei. Vandag bedien die leesprogramme hier onder, naas die OED, ook verskeie ander woordeboeke van Oxford University Press (OUP), soos die Shorter Oxford English Dictionary, die Concise Oxford Dictionary, en spesialisbronne soos die Dictionary of Modern Slang en neologismewoordeboeke.

- Die UK Reading Programme (UKRP) fokus op Britse tekste wat onlangs gepubliseer is: plaaslike en nistydskrifte, romans, outobiografieë, briewe, dagboeke; nuwe woorde en nuwe maniere waarop bestaande woorde gebruik word; woorde en betekenisse wat in 'n bepaalde streke en sosiale groepe ontstaan; woorde wat met nuwe kulturele ontwikkelings verband hou.

- Die Science Reading Programme (SciRP) dateer van die 1980's en fokus op nuwe terme in joernale, tydskrifte en gewilde publikasies wat die fisiese en lewenswetenskappe in die kollig hou; wiskunde, medisyne, tegniese vakke, want nuwe tegnologieë en ondersoekvelde baar voortdurend nuwe woorde en betekenisse.

- Die North American Reading Program (NARP) word in 1989 gestig om die OED se dekking van Amerikaanse Engels te vergroot. Amerikaanse en Kanadese tekste, veral van die 21ste eeu, word gekies vir die tipe woorde en betekenisse wat hulle waarskynlik bevat en hulle potensiaal om nuwe woorde en betekenisse op te lewer.

- Die Historical Reading Programme (HRP) (wat as model beskou kan word vir die teksontleding waarvan daar in hierdie artikel verslag gedoen word) word in 1994 aangelê om die OED se dekking van Vroeë Moderne Engels tot die middel van die twintigste eeu uit te brei. Lesers vir hierdie program verskaf hoofsaaklik materiaal om die OED te hersien. Hulle probeer veral vroeëre voorbeelde vind van woorde en uitdrukkings wat reeds opgeneem is, maar 'n aansienlike aantal nuwe woorde en betekenisse duik ook op. om seker te maak dat die materiaal wat hulle ekserpeer werklik nuut of relevant is, word elke gebruiksvoorbeeld - voordat dit ingestuur word - eers vergelyk met wat reeds in die woordeboek staan. Vir lank was die tekste vir die OED se historiese leesprogram hoofsaaklik in gedrukte formaat beskikbaar, soos in biblioteke, maar danksy die ontwikkeling van digitisering en digitalisering kan al hoe meer tekste vandag ook aan- en vanlyn op 'n skerm gelees en met behulp van spesiale programme selfs vollediger ontleed word.

- Die Scholarly Reading Programme (SRP) is saam met die HRP vir Middel-Engels, die variëteit van Engels (Engels-Gaelies) wat in Skotland gepraat word, en tekste in verskillende streeksvariëteite begin. Verder word materiaal van oral in die Engelssprekende wêreld geïn: Brittanje, Amerika, Afrika, Asië, die Stille Oseaan-gebied. Alles, van handboeke en vakpublikasies tot minder algemene tekste, soos televisiedraaiboeke en liedtekste, kom in aanmerking, maar veral akademiese joernale, monografieë en woorde- en terminologielyste. Dit verseker dat die OED met gepubliseerde navorsing oor Engels tred hou, van spelling en betekenis tot etimologie.

- Ter aanvulling word aparte leesprogramme ook deur die Australian National Dictionary, die Canadian Oxford Dictionary en die Dictionary of South African English bestuur.

- Ook hierdie inligting is op die OED se webtuiste te lees.

As 'n geheel beskou, omvat die OED se leesprogramme van die mees uitgebreide opnames van Engels wat tot nog toe onderneem is. En ten spyte van - en danksy - modernisering bly die oorspronklike doelwit onveranderd: Om voorbeelde van die voortdurend veranderende woordeskat van Engels uit 'n hoogs diverse reeks bronne te versamel en die redakteurs wat aan die OED werk, van 'n pal bygewerkte, steeds gedetailleerder rekord van die taal van beide die hede en verlede te voorsien.

Volgens OED.com bevat die leesprogramdatabasis in Januarie 2022 meer as 40 miljoen woorde in ongeveer 1,3 miljoen afsonderlike sitate, wat daagliks verder aangevul word.

4.2 By die WAT

In teenstelling met die OED wat naas sy ontginning van reuse- elektroniese woordkorpusse sy leesprogramme voortsit en uitbrei, ontvang die WAT van die einde van die 1980's af al hoe minder sitate van buitelesers. Hoewel die uitnodiging om sitate te stuur steeds af en toe gerig word en hoofsaaklik die redakteurs self nog in hulle vrye tyd nuwe publikasies ekserpeer, is die hoofdoel van 1987 af rekenarisering, gevolg deur 'n "proses van strategiese beplanning met die oogmerk om die WAT so vinnig en doeltreffend moontlik tot by Z te voltooi", soos blyk uit 'n tydlyn op die WAT se webblad:

- In 2000 neem die WAT sy eerste elektroniese werkbank in gebruik.

- In 2003 word die eerste elektroniese boekdele op CD-ROM vrygestel.

- In 2015 word die CD-ROM deur 'n aanlyn weergawe vervang.

- In 2012 begin digitisering van die WAT se sitaatversameling (4,5 miljoen indekskaartjies).

- In 2016, die WAT se 90ste bestaansjaar, word sowat 1 000 nuwe woorde en gewysigde artikels by WAT Aanlyn gevoeg en in 2019 as bylae in deel 15.

- In 2018 begin 'n tienjaarplan vir die voltooiing van die woordeboek. Vyf bykomende redakteurs word aangestel en nog twee op kontrakbasis.

- In 2021 verskyn deel 16, die derde en laaste van S, met nog 'n addendum.

- In 2022 bly daar van die WAT se voltooiingsplan sewe jaar oor.

5. Riglyne vir ekserpering

5.1 OED

Naas sy leesprogramme met lesers wat vir hulle leeswerk vergoed word, nooi die OED op sy webblad ook vrywilligers tot deelname uit: "We are always pleased to receive details of ..." Gevolg deur die volgende riglyne en instruksies:

 

 

 

 

5.2 WAT

In Februarie 2022 is daar op die webblad van die WAT geen verwysing na 'n leesprogram nie; geen ekserperingshulp word gevra nie en geen riglyne vir ekserpering word gegee nie. Belangstellendes wat uit hulle eie navraag doen, ontvang per e-pos 'n geskandeerde dokument van ses bladsye, Handleiding vir ekserpeerders, met inligting oor die volgende:

- Waarom moet materiaal versamel word?

- Watter leksikale items moet versamel word?

- gewone of kernitems van Afrikaans wat in 'n ongewone betekenis gebruik word; ongewone woorde (nuwe woorde, vreemde woorde, eienaardige woorde); verouderde of verouderende woorde; gewestelike taalgebruik

- Waar of waaruit moet materiaal versamel word?

- gepubliseerde geskrifte (boeke, tydskrifte, koerante en ander publikasies) en geskrewe dokumente (argiefstukke, briewe, memoranda)

- spreektaal

- Gebiede van materiaaloptekening.

- gewone woorde met 'n effens ongewone betekenis of in 'n ongewone sintaktiese verband of toepassing gebruik: selfstandig gebruikte werkwoorde, selfstandig gebruikte byvoeglike naamwoorde, selfstandig gebruikte teenwoordige deelwoorde, deelsgenitiewe by byvoeglike naamwoorde, herhalingsamestellings, en so meer

- beroepstaal: landbou, vissersbedryf, verouderde en verouderende beroepe, ambagte en dergelike

- vaktaal

- samestellings

- eiename wat as soortname in uitdrukkings voorkom

- vreemde woorde en leenwoorde

- groeptaal

- sporttaal

- vaste uitdrukkings

- Vindplek van elke leksikale item.

- literêre werke, beskouende werke, vakliteratuur

Die ekserpeerder word gevra om daarop te let dat 'n leksikale item nie sonder meer geëkserpeer moet word nie, maar altyd in sinne waaruit die betekenis of funksie duidelik blyk.

- "Moenie op hoogs tegniese vakterme konsentreer nie.

- "Die aantal optekeninge van dieselfde woord moet beperk word.

- "Ekserpeer sowel omskrywings van leksikale items as die gebruik van die leksikale item in die teks" (WAT 2022: 6).

As die WAT

- naas sy spoedeisende taak om die woordeboek te voltooi;

- naas ander (rand)aktiwiteite waaroor besoekers op sy webblad kan lees (Borg 'n woord; woordpret- en middaguurpraatjies; neologismekompetisies; sosialemediabestuur; deelname aan radioprogramme; demonstrasies aan besoekende studente; ontvangs van besoekers; aanbied van kursusse in algemene en rekenaarleksikografie, van tyd tot tyd)

... nog 'n bietjie tyd kon afknyp om 'n leesprogram aan die gang te bring - nie net met die oog op die deel van die woordeboek wat nog voltooi moet word nie, maar ook met die oog op die sowat 220 706 artikels wat (in Februarie 2022) reeds voltooi is:

Wat sou gehalteopbrengs uit so 'n leesprogram vir die WAT kon beteken? Indien 'n teks

- doelbewus gekies sou word vir die soort woorde en betekenisse wat dit waarskynlik bevat en die geskatte potensiaal daarvan om nuwe woorde en betekenisse op te lewer; en

- dalk selfs elektronies bekom kan word (ongelukkig weier sommige uitgewers van Afrikaanse boeke dikwels om tekste vir taalnavorsing beskikbaar te stel) ...

Watter waarde sou ekserpering (dalk voorafgegaan deur masjienmatige ontleding) van so 'n uitgesoekte teks, selfs net een, tot voltooiing van die WAT en - in 'n hersieningsfase veral - tot nuwe en bygewerkte artikels in die WAT kon bydra?

Dit probeer ek vervolgens vasstel aan die hand van 'n semi-outomatiese ontleding van 'n skelmroman: Draaijakkals (1999) deur George Weideman.

 

PRAKTYK

6. Draaijakkals, 'n skelmroman

OFTE WEL DIE ONGELOOFLIKE EERSTE JEUG VAN NICOLAAS ALETTUS LAZARUS - STOFPOEPERTJIE, TUSSENINNER EN AARTSKALANT VAN DIE ONDERVELD

Waarin die verteller se wedervaringe oor sowat drie dekades aan die leser voorgehou word, beginnende met 'n ontvangenis in 'n bakoond, padlangs verder verby samaritane wat op hul moer kry, gehoorsame en ongehoorsame meisies, 'n spul Nazi's en diverse holmolle, en eindigende met 'n tuiskoms tussen 'n klomp skewe brode in 'n anderster bakoond.

In 1998-'99 versorg ek saam met die redakteur Charles Fryer hierdie roman by Tafelberg. 'n Paar jaar tevore was ek redakteur van Weideman se jeugverhaal Los my uit, paloekas! (1992). Sowel die man as die skrywer en sy taalgebruik het 'n onuitwisbare indruk op my gelaat.

In haar resensie van Draaijakkals skryf Louise Viljoen (1993: E) onder meer:

By die lees van Draaijakkals is dit duidelik dat hy [Weideman] die vorm van die skelmroman nougeset navolg, maar dat hy ook daarin slaag om aan sy weergawe van hierdie romansoort 'n heel besondere Suid-Afrikaanse tekstuur en plaaslike toepaslikheid te gee. Dit kom veral deurdat die avonture van die hoofkarakter geplaas word in daardie deel van Suid-Afrika wat vandag die NoordKaap genoem word, maar ook in die huidige Namibië en Botswana. ('n Mens kan jou skaars voorstel dat die ylbevolkte en barre landstreke waarin die grootste deel van die roman afspeel, so kan léwe van die mense, sêgoed, ellende, luste en plesiere.) Die "plaaslikheid" van die roman word verhoog deurdat die gebeure in die roman ook afspeel teen die agtergrond van bepaalde historiese gebeure wat hulleself uitspeel in die tydperk vanaf 1913 (wanneer die hoofkarakter gebore word) tot waar die roman afsluit aan die einde van die dertigerjare met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Eerder as wat Weideman konsentreer op die groter samehang van historiese gebeure, wys hy watter uitwerking ontwikkelinge soos die Land Act van 1913, die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep van 1918, die opkomende Nasionaal-Sosialisme in Duitsland, die Ossewatrek en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gehad het op die randfigure van die samelewing wat hulle bevind het in plekke soos sendingstasies, afgesonderde plase, bordele en armoedige dorpsbuurte.

In die roman bespiegel die verteller (Weideman 1999: E):

Is dit belustigheid wat die eerste mense in die voor-voortyd hiernatoe laat trek het agter wild aan, nog lank voordat Olifants en Buffels se name na verdigsels begin lyk het; toe die Weskus, so word vertel, 'n paradys was? Vandag is van hul verblywe nog net slypklippe en potskerwe en gravures en hier en daar 'n versteende sandsteenspoor oor. Miskien 'n kopbeen wat nog sy verhaal moet vertel.

Is dit redeloosheid wat die Namakwas hul vetstertskaap oor die oop vlaktes laat instoot het agter weiding aan? Wat hulle laat besluit het om 'n staning langs 'n vlei of fontein 'n blýplek te maak?

Is dit redelose instink wat vryslaaf en vryburger en vrybuiter die Olifants en die Troe-Troe laat oorsteek het? Om hulle te vestig in die gebrokenheid van die Namakwalandse bergwêreld, met sy baie klowe en sy blesberge soos broodkorsies oor die landskap? Die Kaap was vêr.

In die slotparagraaf van sy "Naskrif", die paragraaf waarmee Draaijakkals afsluit, skryf Weideman (1999: E) self:

In die Onderveld (wat, vir die doeleindes van hierdie kroniek, die grootste deel van die Noord-Kaap insluit) en in Namibië kom woorde en uitdrukkings voor wat Afrikaans nog deur al die jare op 'n besondere manier verryk het. Omdat dié woorde selde in woordeboeke opgeneem is, beteken dit nie dat hulle nie 'n plek in die hoofstroom het nie. Baie van hierdie woorde is Afrikaanse nuutskeppinge; ander kom uit die taalwêreld van die Khoe-Khoe of Koi-Koi; sommige het selfs broertjies en sustertjies in Nama en Nama-Damara. Ook woorde is grootmaakkinders.

Op 23 Augustus 2010 huldig die onlangs ontslape digter Thomas Deacon (4 Februarie 1942-21 Januarie 2022) die digter en skrywer George Henry Weideman (2 Julie 1947-28 Augustus 2008) met 'n gedig waarvan die eerste helfte lui:

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring

het george henry weideman ook eens

van katstert en kanniedood

van kinkelbos en klipkersie gesing

tussen springbok en pofadder

tot by aggeneys, by onseepkans

en kenhardt verby

hoor ek sy woorde doedelsak

van botterblom en bossiegras

van bokbaaivyg en bloumelkbos

en bitterbos

Daarom kies ek vir hierdie artikel hierdie teks.

7. Werkwyse

7.1 Agtergrond

By die meeste woordeboeke het die reeks stappe waardeur sitate hulle weg daarheen gevind het, lank onveranderd gebly. Eers is die aanhalings ingesamel. By die woordeboek is elke sitaat, op 'n indeksstrokie of -kaartjie met 'n bronverwysing daarby, alfabeties volgens trefwoord geliasseer. Dan het dit gewag, of wag dit steeds, op 'n leksikograaf wat dit kom haal om miskien te gebruik wanneer sy of hy eendag die betrokke woord se artikel moet skryf.

In rye en rye laaikabinette kan redakteurs slegs soek na spesifieke woorde en terme wat gedefinieer moet word. Soektogte na ander, belangrike of interessante woorde in die omringende konteks is onmoontlik tydrowend.

Met nuwe sitate, wat masjienleesbaar ingesamel word, asook sitate van vroeër wat gedigitiseer (na 'n digitale formaat omgeskakel word deur dit te skandeer), en dalk selfs gedigitaliseer (na gewone, masjienleesbare, deursoekbare, manipuleerbare teks verander) word, doen 'n mens meer. (Die WAT se sitaatversameling is gedigitiseer, maar nie gedigitaliseer nie.)

Elektronies kan masjienleesbare sitate vinnig en direk deursoek word. Vir enige trefwoord kan al die relevante aanhalings onmiddellik uit 'n sitaatdatabasis opgeroep word. In 'n woordeboekwerkbank, soos die WAT se TLex-stelsel, sou nuwe sitate met min moeite selfs in verskuilde velde by elke trefwoord self bewaar kon word om daar, direk, uit te keur en te kies. In 'n sitaatdatabasis kan die leksikograaf ook verskillende ander soorte (volteks)soektogte doen. Elke woord, woorddeel en frase is onmiddellik vindbaar. Met behulp van korpusontledingsagteware kan relevante materiaal nog fyner ontleed word.

Waar materiaal elektronies vasgelê word, word 'n leesprogram van kaartjies en papierlêers bevry.

7.2 Teksontleding en ekserpering

Hedendaagse leksikograwe het toegang tot 'n verskeidenheid teksontledings-programme - van gratis en basies tot gevorderd en duur. Vir hierdie ontleding word met die teks en kontrolelys in gewone teksformaat (*.txt) in Notepad++, Microsoft Excel en Laurence Anthony se AntConc Corpus Analysis Toolkit gewerk.

7.2.1 Woorde en woorddele

- Draaijakkals (hierna "die teks" genoem) bestaan uit 209 427 woorde.

- 'n Alfabetiese lys met frekwensietellings van unieke woorde in die teks word in AntConc genereer. Die alfabetiese lys, wat geaffigeerde woordvorme insluit, bevat 18 823 items.

- Om relevante woorde en woorddele te vind (wat moontlik van makrostrukturele belang vir die WAT kan wees), word die alfabetiese lys met 'n kontrolelys in Excel vergelyk.

- Die kontrolelys word geskep deur die volledige lemmaversameling van die WAT saam te voeg met 'n spellys wat ook geaffigeerde woordvorme insluit. Die kontrolelys bevat 317 514 unieke items.

- Van die 18 823 unieke woorde in die teks staan 14 554 ook in die kontrolelys; 4 269 kom slegs in die teks voor. Hiervan word die gedeelte T tot Z weggelaat, aangesien die WAT by die skryf hiervan nog net tot by S voltooi is.

- Die oorblywende woorde, van A tot S, wat uniek is tot die teks word deurgelees en deur eiename van persone, geografiese eiename, handelsname, sommige tussenwerpsels en ander teksspesifieke woorde te verwyder tot 942 items gereduseer.

- Hierdie 942 voorlopige kandidate word deegliker bekyk. In AntConc word woord-in-konteksreëls (konkordansies) gegenereer.

- Uiteindelik word 295 woorde geïdentifiseer wat nog nie in die WAT opgeneem is nie en wat moontlik vir sy redakteurs van belang kan wees.

- Van hierdie 295 kandidate word sitate geëkserpeer.

7.2.2 Betekenis, frases en uitdrukkings

- Vir die vind van uitdrukkings en woorde wat reeds in die WAT opgeneem is, maar wat in die teks anders, in ander betekenisse, gebruik word, word die teks gewoonweg vinnig gelees.

- Woordbetekenisse en uitdrukkings wat die belangstelling prikkel, word gekontroleer aan wat reeds in die WAT staan.

- Vir 'n betekenis of items wat (nog) nie in die WAT opgeneem is nie, word 'n konkordansie gegenereer en 'n sitaat (of meer as een) geëkserpeer.

8. Resultaat

Die bestek van hierdie artikel laat nie ruimte vir 'n volledige opgawe en bespreking van al die items wat vir moontlike insluiting in die WAT gevind is nie. Om die oes en wins te illustreer, word met enkele voorbeelde uit die geëkserpeerde materiaal volstaan.

8.1 Woorde en woorddele

Uit die gekose teks kom die volgende items wat (nog) nie as lemmas of erkende wisselvorme, of as onverklaarde samestellings of onverklaarde afleidings in die WAT opgeneem nie. Hierdie woorde kan vir nuwe en bygewerkte artikels in die WAT oorweeg word:

aanpuf, aanmekaarlekkers, aanstrep, aardling, aardskuddend, aartskalant, aartsverraaier, abba-kjeend, abbakros, abbatoon, AB-jap, aggenysbos, agtuurtjie, ai-jai-jai, akkedisoë, aksenawel, alleengeid, alpesokkie, ammal, ammelie, ander-manskind, annerding, annerdinges, armdruk, armdrukker, armvrag, asemfluit, asemgefluit, asem-in-die-keel, asem-ophou, babawit, bakhande, bakhandjie, balanseerkunstenaar, balanseeroefening, balanseertoertjie, bedônner, begrafnisroeper, begrafnisweer, bek-en-klou, bek-en-klousiek, bekerpaal, bêrestorie, be-uilery, bewehande, bewesiek, biegbankie, bieghokkie, biegvenstertjie, biltongrig, biltongtaai, binneboudvleis, binneboudwarm, blêrrie, blinkboude, blinkmeneer, bloekomlat, bloemer, bloemieng, bloemin, blouswis, blow-job, boepensdak, Boerejiddisj, boetman, bokgevreet, boksalf, bondelslaan, botterboombene, boudwarm, bratwurst, briekklip, broeklosmaak, broodkombers, broodpens, brötchen, bruidsboom, buitegemak, chutzpah, daaimins, dabbieboom, dagga-ogies, daggarym, dakwater, deegkaros, derdegelui, desmoers, dêssit, deurskynwit, diekens, donnerwetter, doughnut, dourie, draadrugboek, drievingerdop, droomlandskap, dubbeldop, duiweldons, duuskoring, dwaalgeur, dwaaloog, dwarsbeen, edelknewel, eenoogbril, eisbein, elmbooghoogte, entoerasie, etterse, falsies, fedora, feeskalot, feesklapper, floustoertjie, fluistervra, fondswerwing, fortuinjagter, fratsvloed, frilletjies- (frilletjies-hoed, frilletjieskappie, frilletjieslampkap), fyngoedjies, fynkrul, gatbrood, gatlakei, gatskuurklip, gatstotnogtoe, gedagtespoor, gedres, geha, gehande-viervoet, gehoeren-rumoer, gehoer-en-rumoerdery, gekkegoud, konsert (ww.), gemütlichkeit, geruimig, getrain, ghaaifoks, ghrênd, gie (gie-gie, gie-gie-gie), giggelbui, goddonderbliksem, godedruppels, godenektar, godsgenadiglik, godsielsalig, godweet, godweetwat, gonsbors, gots, grammadoelapad, grasasem, griesgram, groenpampoen, haantjie-kordaat, haarmisdruppels, haelverdriet, hagend, halfjek, halfkroonvy, hangogie, hartseerlik, hingsding, hinkswaai, hoëboordjieman, hoedjieskulp, holmol, hoogstaanson, hoorstorie, houthaalplek, houtmaak, houtmaaktyd, houtoog, huiloorlog, indonner, inkussing, inkoes, inwriemel, Jaansburg, jakkalswakker, jerman, jirre, jirreweet, jis(-)ja, joegaai, kamasdraer, kantfril, karakoelfyn, kasarring, keelflap, kerjaans, kerkgesiggie, kersorent, Kinderbybelbaard, kjind, kleinsonop, klipvratjie, klouskerp, kloutjiekrom, knakkerig, knobbelrug, koera-siebos, kooitoegaanstorie, koplekkerte, koudleirympie, kraakvarse, kroegkraai, kruipkjeend, kruipkjind, krummelbestaan, kwit, langbeensit, leuterig, lillend, Lilliputaner, lippedons, luisgat, maagkwab, marsepeinwit, matterjaal, mettiejare, middagmaak, minteneerder, mintofveel, misvinger, molleveer, muggel, muggielyf, Noagsreën, nonnetjie-goups, noutis, noutisgeld, ntwangweer, obstruktpil, ondanig, oorstalligheid, oorstootdeeg, opsymens, paljasgoed, pekaters, pennedraer, pensjoendag, platbosskerm, platfles, pluimwolk, pluiswolk, poeper, pot-nagdonker, praaimus, raaiselmaker, ribbetjiewolk, rinkelfyn, roebie, rolvaatjie, rooiseep, rooiskemer, ruitjiesdeur, ruweling, rykmaakklip, saais, sakfles, samelewinkie, siepoog, skaapwolwolk, skawagtersny, skilpadbraai, skottelpaddastoel, skraalnaat, skroefswingel, skudlag, soeroe-soeroe, soetemalingbrief, soetgoedjies, soetjie, soetpraatjies, soetsalie, songelooi, Spaansgriep, splienakend, sporrieblou, spreeuneus, spreeustappie, spulsgeit, stokkiesbesem, stokspuls, stokstyfregop, stoot-die-bokker, storiedraer, storiepap, streepbaadjie, swynebry

- In baie van hierdie woorde is taalkundige aspekte van Gariepafrikaans (voorheen Oranjerivierafrikaans) te sien (vgl. Theys 2021): "Gariepafrikaans het sy wortels te danke aan die taalkontak tussen die eerste nasies en die Nederlandse nedersetters aan die Kaap. Gariepafrikaans is deur die Khoen en hul nasate gepraat en toon groot beïnvloeding van Khoekhoegowab op leksikale en sintaktiese vlakke. Dit kom hoofsaaklik in die Noord-Kaap voor en kan as basis vir Namakwalands en Griekwa-Afrikaans beskou word" (Theys 2021: 12). Of al die geëkserpeerde woorde steeds algemeen in Gariepafrikaans voorkom en of van hulle verouder(en)d is, sal deur navorsing in die spraakgebied self vasgestel moet word.

- Voorbeelde van woorde wat naas die wisselvorm of 'n naverwante sinoniem in die gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans erkenning verdien - woorde met 'n ongewone morfologie en/of waarvan die spelling die uitspraak weerspieël - is die volgende:

ammal (naas almal) - Daar was vir ammal te ete en te vrete [...] nie soos nou nie.

ammelie (naas almelewe) - Julle weet almal hoe gevaarlik die pad na die suiping toe is.

dourie (naas daardie) - Jy kon in sy ogies sien hoe gooi jakkals sy lyf dan dié kant toe en dan dourie kant toe om bekende paadjies te vermy.

geruimig (naas geruim) - Katrina Vermaak is al geruimige tyd alleen.

hartseerlik (naas hartseer) - Dis dié wat Pou so hartseerlik skrou.

kjeend (naas kind) - Hy het vertel hoe hy hom as [kruip]kjeend sit en verwonder het hoe die kalbas [...] se inhoud staan en wérk.

kjind (naas kind) - "Slim kjind!" het Amy gegrinnik.

ondanig (teenoor danig) - Nie 'n ondanige baas om te hê nie.

- Voorbeelde van streeksname wat na entiteite eie aan die Noord-Kaap verwys, is:

bruidsboom - Toe hulle uitstap, gryp Skewetand my hoed en balanseer dit in die binne-plaas op 'n droë tak van die bruidsboom.

dabbieboom - Selfs die onaansienlike dabbieboom verkry die status van 'n paradysbos. Sien jy die boom van vêr af sambreel maak oor die sandvlak, bedink jy terstond 'n loflied.

koerasiebos - Houtmaaktyd sou ons haar koggel [...] Dan het sy ons oor Dwarsrivier se sand gejaag tot sy so pers soos koerasiebos was.

nonnetjie-goups - Elke keer as hy begin praat, gaan die bont werfhaan aan die kraai, en die nonnetjie-goups vlieg uit hul versamelneste op.

- Voorbeelde van ongewone woorde uit die omgangstaal van die spraakgebied is:

bondelslaan - Dis 'n waar storie, dis nie [...] sommer 'n optelstorie nie, sou Stryker ons voorlig, terwyl ons bondelslaan om sy voete. | Ons het op 'n dag teen hoogstaanson in die skraal koelte van 'n kokerboom bondelgeslaan soos skaap.

duiweldons - Sy pluk die pêrels om haar nek met soveel geweld af dat hulle oor die vloer saai. Ek grawe hulle onder die stof en duiweldonse uit.

haantjie-kordaat - Ek is die maan, jy is die son; ek is die vink met die rooi borsie, jy haantjie-kordaat; ek lewerik, jy diederik; ek hou my nessie warm vir jou.

hagend - In die stil, hagende hitte, die drukkende opbou van die weer, kan ons dit nie waag om 'n hand op te lig en onsself koel te waai nie.

hoogstaanson - Ons het op 'n dag teen hoogstaanson in die skraal koelte van 'n kokerboom bondelgeslaan soos skaap.

Jaansburg - Krisjan droom van 'n breë pad [...] sommer reguit deur die Bosveld Jaansburg toe.

koplekkerte - Die koplekkerte wanneer Jasper Repink jou 'n pruimpie klaar geswete

kougoed in die hand gestop het en onder vir jou boonste bo word en bo onderste onder.

middagmaak - [...] toe ons middagmaak onder die afdakkie wat Johnny opgeslaan het.

mintofveel - Anaat was mintofveel agt jaar ouer as ek.

pennedraer - Ons kyk hoe voer Johanna haar ystervarkie [...] Mias sê Rooistasie se bokwagter het gesê hoeke lekker vleiskos die ou pennedraer het.

ribbetjiewolk - Soos wat die treintjie die gelykmatige afdraandes vat, kan ek my sit en verwonder aan die koddige klipformasies, die verslonste bloekoms by 'n verlate opstal, die stofdwarrels, die ribbetjiewolkies wat die westewind uitwaai [... ]

siepoog - Haar siepoë hang sak op sak, haar tong wriemel in haar mond rond, haar fut is uit.

skraalnaat - "G'n mens kan van brood alleen leef nie." Dit het Uncle later altyd gesê wanneer hy vir sy dubbeldop wag, sy oë gefikseer op die skraalnaat van die kroegmeisie se sitvlak [...] wanneer sy buk om 'n vars bottel onder die kroegtoonbank uit te haal.

splienakend - Joy, wydsbeen gespalk op die werkbank [...] Lot Hamerkop, splienakend, bo-oor haar gesekel.

stokpuls - Haar tepeltjies beloer die wêreld soos twee erdmannetjies, stokstyfregop. Ek kan dit nie verhelp nie: ek raak stokspuls.

- Voorbeelde van verafrikaansings uit Engels en volksetimologie is: bloemer < bloomers - Hy praat 'n meisiekind skoon uit haar bloemer uit. | Elkeen wat met die skuit oor die rivier kom, kom loop stywestok hier rond, kom sê: laat sak jou bloemer.

bloemieng < blooming - Hy sal nog in 'n bloemieng koei verander soos Nebukadnésar.

bloemin < blooming - Bloemin verdiende loon.

daaimins < diamonds - Is vreemdelinge dan nie wéér besig om die Onderveldse ryk-dom - daaimins wat die Here self daar geplant het - in hul sakke te pak nie?

diekens < diggings - Ek was by die diekens, in die Wes-Transvaal.

entoerasie < entourage - Hy was dus net so verbaas as [...] al die ander wat oopmond staan en kyk het hoe [...] Winifred en haar entoerasie te voorskyn tree.

ghaaifoks < Guy Fawkes - Die vuurwerk - eintlik 'n paar groot feesklappers - is Uncle se idee, want ons behoort 'n dag of wat voor ghaaifoks daar aan te kom.

halfjek < half-jack - Hy raap sonder om te kyk 'n halfjekkie onder die bed uit. | Danksy 'n halfjekkie jenewer het hulle nie agtergekom waar presies die kuur plaasvind nie.

Jerman < German(s) - Duitswes is so lekker, Duitswes is so soet, Duitswes is so vol van die Jerman se bloed.

noutis < notice - Toe Piet nog 'n klompie poskantoorwerkers ompraat om swart pette aan te skaf en na toesprake te gaan luister, het hy 'n week se noutis gekry.

roebie < ruby - Hy't 'n storie gehoor van 'n kalbas vol daaimins en roebies, maar mens moenie sommer agter elke storie aan nie.

saais < size - Amy se suster het op 'n dag uit die bloute by die Mission opgedaag: haar ewebeeld, maar dubbel haar saais.

soetjie < suit - Net een keer daarna, dit was net voor die Groot Griep, het die Silver Ghost opnuut uit die stof te voorskyn gekom, en die heer met die deftige hoed en soetjie was weer by. | Die man in die strepies-soetjie het haastig gelyk, asof hy vêr moes ry.

- Opvallend baie kragwoorde, woorde wat uitroepe verteenwoordig wat gebruik word met die opset om te skok, of wat emosionele ontlading aan-dui, ontbreek nog in die WAT. Ook buitekonteksgebruikte woorde wat met godsdiens verband hou. 'n Mens kan wonder of van hierdie woorde dalk met opset uit van die eerste, ouer dele weggelaat is. 'n Paar voor-beelde:

blêrrie - Hy's die lááste een om te praat, die blêrrie haas.

desmoers - Die lewe is soos 'n kraaines, jy sukkel jou desmoers om al die knope uit te kry.

dêssit - "Ek weet niks van paspoorte af nie, meneer." "Dêssit!"

donnerwetter - "Donnerwetter!" sê Baardman vir die blonde kelnerin, "maar die muggies hier in julle wêreld is groot!"

etterse - [...] móér, móér, jou etterse spinnekop.

goddonderbliksem - Toe hy die eerste sluk vat, het hy die hele koeler vol gespoeg en goddonderbliksem geskree, en toe weer 'n maal móér, móér, [... ]

godsgenadiglik - Godsgenadiglik het die treintjie nie ontspoor nie.

godsielsalig - Intussen het Clarissa vet geword van die skille wat sy onder Mary Kardinaal se wakende oog met Ottilie en Josephine deel. En van pure godsielsalige niksdoen.

godweet - Godweet, Dok, ek weet nie waarvoor hy vrees nie, want g'n ordentlike army sal twee keer na hom kyk nie. 'n Regte stofpoepertjie.

godweetwat - Daar staan ek, totaal onskuldig ingetrek by 'n komplot waarvan ek niks verstaan nie; beskuldig van spioenasie en godweetwat.

indonner - Tuisgebroude brandewyn; hulle noem dit Kalahari Konjak. Mopaniewurms en gegiste maroelas word daar ingedonner.

jirre - Jirre maar jý't verander.

jirreweet - Hy's nie vrederegter se gat nie! Hy kan dan nie eens in sy eie huis vrede gemaak kry nie! En jirreweet, 'n man is mos altyd reg! Wat weet 'n man?

kwit - "Weet julle wat het dié Klaas Duimpie gesê toe hy hoor hy is voëlvry verklaar?" [... ] '"Kwit, ' het hy gesê, 'Ek het nooit gedink my voël is ónvry nie!'"

luisgat - Dit was 'n Sondag, en die twee luisgatte het die tuinkamp se hek gaan oopmaak.

 

8.2 Uitdrukkings en frases

Benewens die woorde hier bo, bevat die teks ook uit verskeie registers uitdrukkings en gesegdes wat nog nie in die WAT opgeteken is nie, soos:

jou ballas opgeskep kry - Al is dit die laaste ding wat ek doen. As ek met hom klaar is, sal hy sy ballas opgeskep kry.

aan iets vashou/vasklou soos duiwelsklou aan 'n wolkaros - "Jou fortuin, " het sy gesê, "jou geluk ... kom net van jouself af, van jou cleverness." Hieraan hou ek vas soos duiwelsklou aan 'n wolkaros.

hond se doilie - "Toe, wat sê jy nou?" "Hond se doilie!"

slaap soos 'n dooie os - Die diender slaap soos 'n dooie os [...] hy sal teen vaaldag nog so slaap.

riem proe - Bybelstories wat vir seer harte was soos boksalf vir stukkende voete. Of wanneer jy riem geproe het by Vader Grau en op jou knieë gaan slaap.

so ramboelie soos 'n hanshaan - Hy was so ramboelie soos 'n hanshaan; g'n gesag om hom vas te vat nie.

so rooi soos t'ngarrabosbessies - Joy, haar wange so rooi soos twee t'ngarrabosbessies, het teen 'n pilaar geleun asof sy daarteen vasgegroei het.

8.3 Aanvullende betekenisse, woordsoorte en -vorme

Voorbeelde van bestaande trefwoorde, maar in betekenisse of as woordsoorte en -vorme wat nog nie in die WAT staan nie, is:

bakhande (in die meervoud) - Ek skep moed; ek drink bakhande vol van die wilde water en begin draf.

fyngoedjies (as meervoudige verkleinwoord met die betekenis "onderklere") - As jy gewoond is aan tuisgemaakte onderklere is hierdie fyngoedjies soos skuinskoek na dáe se klinkers.

houtoog (as bywoord met die betekenis "grootoog") - Die drietal [...] kyk die gerangskikte skulpies houtoog aan, asof dit orakeltaal kan praat.

konsert (as werkwoord met die betekenis "konsert hou") - "Het jy al gekonsert?" vra Uncle.

8.4 Aanvullende sitate

By baie artikels in die WAT, veral in die eerste, vroeë dele, word streektaalwoorde wat as trefwoorde opgeneem is, (nog) nie deur werklike gebruiksvoorbeelde gesteun nie. Vir die vind van sitate vir sulke lemmas is hierdie teks 'n ryke bron. Die voorbeelde wat hier onder by reeds bestaande artikels uit die WAT gevoeg word, bied daarvan maar 'n geringe illustrasie:

baroe [... ] Naam vir 'n aantal inheemse soorte knolplante [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Daar was genóg kos: ou Blinkboude kon uintjies en baroe grou, reier kon paddas vang, vir die wild was daar gras; daar was vir ammal te ete en te vrete, en die waters was volop, nie soos nou nie.

bekoms [...] Sat [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Die bokribbetjie was vét, en die aartappeltjies en die uitjies en die suring het geswém in die bredie. Voorstebos. Ek het my so bekoms geëet dat ek sleg geslaap het.

gatskuur [...] Benaming in Namakwaland [...] vir handmaalstene [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Stryker moes 'n handmeul, 'n gatskuur, maak en in die platbosskerm het Let en Anaat die klipmeul beurtelings get'kam en die duuskoring gedraai tot daar genoeg meel was.

dreunlyf [...] Kwaad of omgekrap [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Party boere het [...] nie vergeet dat koningin Victoria dié stuk grond uit erkentlikheid "for services rendered during the Anglo-Boer War" aan die Vikariaat afgestaan het nie. En al kon hulle aan dié nie vat nie, kon hulle seer sekerlik dreunlyf raak oor vergunningsgrond.

heue [...] Minder gebruiklike wisselvorm van heug [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Ek heue my feitlik niks van haar gesig nie, behalwe haar oë - maar ek onthou die sagtheid en die geurigheid van haar arms en haar bors.

huidjiehu [... ] Blaasopsprinkaan [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Hy eet sy halwe brood en luister hoe 'n huidjiehu ondertoe af in 'n perdebos fluit, en hy rus uit en wag sy kans af.

kamiemie [...] Volksnaam vir die knolgewas Albuca canadensis [...]. Voorbeeld in Draajakkals: Die vreemde sensasie wanneer kamiemie se slymstammetjie tussen jou vingers inglip en uitglip, en saam daarmee die veldgebod: Moenie dáárvan eet nie.

 

TOT SLOT

9. Aanbevelings

Uit die voorafgaande bespreking blyk dit duidelik: 'n Moderne leesprogram is vir 'n moderne, omvattende sinchroniese woordeboek uiters waardevol en selfs onontbeerlik. Selfs al is die skaal daarvan beperk. Die masjienmatige ontleding en ekserpering van die enkele bron wat vir hierdie artikel gekies is, alleen, het verskeie hiate in die WAT ontbloot. Die versameling sitate wat ontsluit is, kan van hierdie gapings vul.

Aan 'n lewende woordeboek van 'n veranderende taal kan 'n klein span leksikograwe nie anders werk as die Korinthiese koning Sisufos, wat volgens die Griekse mitologie van die gode opdrag kry om 'n rotsblok teen 'n berg uit te stoot, waarna dit van die kruin af terugrol tot onder en hy telkens van voor moet begin nie. Uiteraard is hierdie kruin nog nie bereik nie. Die WAT moet voltooi word. Eers dan sal sy eerste artikels en oudste inskrywings behoorlik hersien kan word. Eers dan sal 'n grootskaalse vernuwing en uitbreiding aan-gepak kan word. Maar vir die volgende sewe jaar tot bo, mag Z nie al mylpaal voor oë wees nie.

Tyd en geld is min, maar sorg moet gedra word dat die kerndoel - om die woordeskat van Afrikaans so omvattend moontlik te dek - in geen stadium uit die oog verdwyn nie. 'n Deurdagte leesprogram is een van die belangrikste maniere om dit te verseker.

Ekserpering vir die WAT behoort meer te behels as vinnig soek in korpusse en volteksargiewe en redakteurs wat af en toe, in hulle vrye tyd, 'n nuwe publikasie ter hand neem.

Benewens die skryf van woordeboekartikels lewer heelparty van die huidige redakteurs reeds ander, ondersteunende bydraes om strategiese doelwitte wat vir die voltooiing van die woordeboek gestel word, te verwesenlik. Dit behoort nie te veel gevra te wees om nog een aan die stuur van 'n weldeurdagte leesprogram te sit om die WAT se sitaatversameling as een van sy belangrikste komponente intyds te verryk nie.

Voorbeelde van werklike taalgebruik uit elke variëteit van Afrikaans, uit elke uithoek van die land, is vir die WAT se gesag noodsaaklik. Dit is die rede vir sy bestaan.

 

Bibliografie

Woordeboeke

Oxford English Dictionary. Oxford: Clarendon Press / Oxford/New York: Oxford University Press. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Deel I tot XVI (A-S). Stellenbosch: Buro van die WAT. Aanlyn by: https://woordeboek.co.za (Februarie 2022).

Hoofteks

Weideman, George. 1999. Draaijakkals: 'n Skelmroman. Kaapstad: Tafelberg. Persklaar manuskrip, soos in 1999. (Die uitgewer het toestemming verleen dat die teks vir hierdie artikel masjienmatig ontleed word.)

Ander bronne

Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. 2022. Handleiding vir ekserpeerders. (Interne dokument; op aanvraag beskikbaar; Februarie 2022).

Deacon, Thomas. 2010. george henry weideman. Die Burger, 23 Augustus 2010.

Gericke, Werner. 1991. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal: 'n kultuurhistoriese verkenning. Onge-publiseerde tesis. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Luther, Jana. 2019. Afrikaans se verklarende woordeboeke: gister, vandag en môre. LitNet. 19 Desember 2019. Aanlyn by: https://www.litnet.co.za/afrikaans-se-verklarende-woordeboeke-gister-vandag-more (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. Contribute to the OED. Aanlyn by: https://public.oed.com/contribute-to-the-oed (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. Reading Programmes: The Art of Reading for the OED. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/reading-programmes-the-art-of-reading-for-the-oed (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: Chuck Deodene. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-the-oed-chuck-deodene (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: Colin Bagnall. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-for-the-oed-colin-bagnall (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: John Birchall. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-for-the-oed-john-birchall (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: John Healey. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-the-oed-john-healey (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: Joy Winnington. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-for-the-oed-joy-winnington (Februarie 2022).

Oxford English Dictionary. 2022. The Art of Reading for the OED: Vivienne Painting. Aanlyn by: https://public.oed.com/blog/the-art-of-reading-for-the-oed-vivienne-painting (Februarie 2022).

Theys, Hendrik. 2021. Die kartering van Gariepafrikaans. Paarl: Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Aanlyn by: http://www.taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2021/03/Gariepafrikaans-2021.pdf (Februarie 2022).

Viljoen, Louise. 1999. George Weideman - Draaijakkals. LitNet, Desember 1999. Aanlyn by: https://oulitnet.co.za/seminaar/draaijakkals.asp (Februarie 2022).

Sagteware

Anthony, L. 2022. AntConc. A Freeware Corpus Analysis Toolkit for Concordancing and Text Analysis. Aanlyn by: https://www.laurenceanthony.net/software.html (Februarie 2022).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License