SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 special issue 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1732 

ARTIKELS/ARTICLES

 

C. Louis Leipoldt se bydrae tot die materiaalversameling van J.J. Smith se Afrikaanse standaardwoordeboek

 

C. Louis Leipoldt's Contribution to the Collection of Materials for J.J. Smith's Afrikaans Standard Dictionary

 

 

J.C.M.D. du Plessis

Buro van die WAT, Stellenbosch, Suid-Afrika. (jcmddp@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

Die vriendskap tussen Smith en Leipoldt het gedurende hul studiejare in Londen ontstaan. Dit het daartoe gelei dat Leipoldt van sy gedigte aan Smith gewys het. Oom Gert vertel en ander gedigte met 'n inleiding deur Smith was die eerste bundel deur Leipoldt. Daaropvolgende bundels van hom is deur Smith taalkundig versorg. J.C. Kannemeyer skryf uitvoerig hieroor in sy biografie van Leipoldt.
Toe Smith begin het met die materiaalversameling vir die Afrikaanse standaardwoordeboek, het Leipoldt op 'n kleiner skaal bydraes gelewer deur die verduideliking van plant- en diername, en volksmedisyne. Hierdie artikel bespreek 'n verteenwoordigende versameling van hierdie materiaal ten opsigte van aard, werkwyse, e.s.m.

Sleutelwoorde: afrikaanse standaardwoordeboek, plantname, diername, volksmedisyne


ABSTRACT

The friendship between Smith and Leipoldt originated during their years of study in London. This led to Leipoldt showing some of his poems to Smith. Oom Gert vertel en ander gedigte with an introduction by Smith was the first poetry collection by Leipoldt. Subsequent collections of his were linguistically edited by Smith. J.C. Kannemeyer writes extensively about this in his biography of Leipoldt.
When Smith started with the collection of materials for the Afrikaans standard dictionary, Leipoldt on a smaller scale made contributions with the elucidation of plant and animal names, and folk medicine. This article discusses a representative collection of this material with regard to kind, method, etc.

Keywords: afrikaans standard dictionary, plant names, animal names, folk medicine


 

 

W.F. Botha wys in sy proefskrif daarop dat J.J. Smith aanvanklik, in ooreen-stemming met S.P.E. Boshoff se uitspraak, ten gunste was van 'n omvattende benadering ten opsigte van die materiaalversameling vir 'n Afrikaanse standaardwoordeboek. Een van die kategorieë wat Boshoff noem, is "volksname vir plante en diere, siektes, ens." (Botha 2003: 13). In hierdie opsig sou Leipoldt 'n waardevolle bydrae lewer. Ek dra dus graag hierdie artikel aan dr. W.F. Botha op by die bereiking van sy sewentigste verjaarsdag.

Die artikel bestaan uit vier afdelings. In afdeling I word kortliks beskryf hoe Smith en Leipoldt ontmoet het, en hoe hulle vriendskap en samewerking, na al twee se terugkeer, verder in Suid-Afrika ontwikkel het. 'n Kort uiteensetting van hoe Leipoldt se belangstelling in die botanie en soölogie gewek is, word in afdeling II gegee. Afdeling III, wat uit drie dele bestaan, behandel Leipoldt se bydrae tot die materiaalversameling bestaande uit plant- en diername, en volksmedisyne. In afdeling IV word 'n paar gevolgtrekkings na aanleiding van die materiaal in afdeling III gemaak, veral ten opsigte van die tweede gedeelte.

 

I

Vanaf die einde van 1898 is Leipoldt in Kaapstad joernalis by The South African News totdat die blad op 14 Oktober 1901 onder krygswet gestaak word. Aan die einde van Januarie 1902 vertrek hy na Londen, aanvanklik met die bedoeling om as vryskutjoernalis vir verskillende koerante te werk. Met die beëindiging van die oorlog aanvaar hy sy vriend Harry Bolus se finansiële aanbod om vanaf September 1902 in die geneeskunde by Guy's Hospital in Londen te studeer. (Sien Kannemeyer 1999: 115-116, 138-140, 150.)

Nadat Smith sy graad in moderne tale aan die Victoria-Kollege, Stellenbosch, behaal het, studeer hy vanaf 1906 met 'n Hiddingh-studiebeurs aan die Universiteit van Londen met Engels as hoofvak en by Middle Temple in die Regte. Die doel van sy studie was ook om sy kennis van die ou Germaanse tale te verruim en die herkoms van Afrikaans na te vors. Sy groot ideaal was toe reeds om sy loopbaan te wy aan die bestudering en die uitbouing van Afrikaans. (Vgl. Gericke 1991: 121-122.)

Vroeg na sy aankoms in Londen leer hy Leipoldt ken. In 'n brief van 25 Februarie 1906 aan sy moeder skryf Smith oor sy eerste kennismaking met Leipoldt, die seun van ds. Leipoldt van Clanwilliam: "Hij is ... student al drie jaar hier in Londen voor dokter in de medicynen. Hij lijkt mij een heel flinke kêrel, en ook geen domkop, hoor!" Op 29 Junie 1906 skryf Smith weer hoe hy Leipoldt raakgeloop het: "Hij is een rechte flinke Afrikaner, en ik kom net goed met hem klaar." Op 13 Desember 1907 deel Smith sy moeder mee dat hy by Leipoldt was: "Maandagaant het ik Leipoldt besoek in die hospitaal waar hy dokter is; en ik het 'n heel aangename aant met hom deurgebring." (Die oorspronklike briewe van Smith waaruit hier en elders in die artikel aangehaal word, is in die J.J. Smith-versameling, Universiteitsbiblioteek Stellenbosch.)

Reeds as student word Leipoldt in 1906 tot redakteur van die Guy's Hospital Gazette benoem, en doen hy ook op uitnodighing van sir Henry Burdett redaksionele werk vir The Hospital. Nadat hy in 1907 sy eindeksamen geslaag het, hou hy hom besig met 'n aantal mediese bedrywighede, onder andere om as medikus by Guy's Hospital te werk, om 'n studiereis deur Europa te onderneem en 'n ruk sy eie praktyk te behartig. Wanneer hy vanaf September 1910 tot die einde van 1913 by die skoolmediese diens van die London County Council ingeskakel word, doen hy wye ervaring op. Dit bring hom in aanraking met die uiteenlopende mediese en persoonlike probleme van kinders. (Sien Kannemeyer 1999: 221-224, 236-237, 239-244, 268-270, 271-278.)

In 1909 slaag Smith in die finale regseksamen van die Inns of Court, en behaal kort daarna 'n Hons.B.A. in Engels. Reeds in dié tydperk begin hy materiaal versamel vir 'n Afrikaanse woordeboek.

Leipoldt gee in 1910 sy gedigte aan Smith wat die keuse wat hy daaruit maak, ook taalkundig versorg. Dit lei tot die publikasie in 1911 van Oom Gert vertel en ander gedigte met Smith se inleiding wat 'n kragtige pleidooi vir Afrikaans bevat. (Vir 'n kort samevatting van Leipoldt se samewerking met Smith, sien Kannemeyer 2007.)

Gedurende die tweede helfte van 1911 verskyn daar in enkele Suid-Afrikaanse tydskrifte (Die Brandwag 2(5): 139, 1 Augustus, en Stellenbosch Studenten Kwartaalblad 2(3): 15-16, September (ook uit laasgenoemde blad oorgeneem deur De Goede Hoop 9(17): 387-388, 1 November) 'n brief dat die Afrikaanse Vereniging van Londen op 11 Mei 1911 gestig is met die eerste bestuur bestaande uit Johannes J. Smith (Voorsitter), C. Louis Leipoldt (Ondervoorsitter), Guill. F. Marais (Sekretaris) en Oswald Pirow (Penningmeester). Die brief bevat onder andere die volgende:

Die doel van die Vereniging is: (a) Om die band tussen Afrikaners in Londen te versterk; (b) Om belangstelling te wek in alles wat kan strek tot die opbou van 'n nasionale Afrikaanse karakter; en (c) Om onderhandelinge aan te knoop met ander Afrikaanse Vereniginge wat v'r dieselfde beginsels ijwer.

Die taal van die Vereniging sal wees Hollands met sij twee gewestelike standaarde, hoewel die Vereniging meer bepaaldelik v'r die handhawing en ontwikkeling van die Afrikaanse standaard sal ijwer.

In sy huldeblyke aan Guillaume Marais, wat gedurende 1918 aan die griep oorlede is toe hy as veearts in Transvaal gewerk het, skryf Leipoldt (1918b: 201 en 1919: 66) entoesiasties oor die byeenkomste van die lede waar volk- en landsake bespreek is. Hy noem ook 'n verdere aantal medewerkers uit hierdie eerste jare van die Vereniging: adv. H.A. Fagan, G. de Kock van Onderstepoort, dr. C.F. Beyers, H.H. Fraser, P.R. Viljoen van Krugersdorp, R. Viljoen van Bredasdorp, veearts Melck van Hopefield en dr. J. van Schalkwyk.

Smith se taalkundige versorging van Leipoldt se gedigte, asook die byeenkomste van die Vereniging, het sekerlik bygedra om hul vriendskap te versterk. Dit lei tot gereelde besoeke van Leipoldt soos blyk uit sy briewe van 3 Januarie 1913 en 25 Mei 1913 aan sy moeder. Op 27 September 1913 skryf Smith weer: "Donderdagaand was Dr. Leipoldt hier gewees. Hij is 'n trou besoeker bij ons, en dit is ons ook altijd 'n genot om hom hier te ontvang." Smith meld ook dat hul tyd in Europa kort word. Aan die einde van 1913 word Leipoldt deur die Transvaalse administrateur uitgenooi om vir die nuwe pos van mediese inspekteur van skole aansoek te doen. (Sien Kannemeyer 1999: 365-367.) Aan die begin van 1914 verlaat hy dus Brittanje.

Hoeveel die byeenkomste van die Afrikaanse Vereniging vir Leipoldt beteken het, blyk uit twee briewe aan Smith. Op 12 Mei 1914 skryf hy uit Pretoria aan Smith wat toe nog in Londen was: "Ik (het) Pirow, Marais en Moerdyk op-gesoek. Daar's kans dat ons vereniging van Londen hier in S.A. kan voortlewe - Marais het gepraat oor die stigting van so iets hier." In 'n brief van 24 Augustus, sonder jaartal, net na Smith se terugkoms in Suid-Afrika, dus waarskynlik ook 1914, sê Leipoldt weer in 'n brief uit Pretoria: "Ons klein vereeniging op die Londense model, gaan ook goed." Hy vermeld 'n lesing wat Grosskopf gelewer het en lesings wat Hoogenhout en hyself gaan gee. (Die oorspronklike briewe van Leipoldt waaruit hier aangehaal word, is in die J.J. Smith-versameling, Universiteitsbiblioteek Stellenbosch.)

Aanvanklik was dit Leipoldt se taak om 'n behoorlike infrastruktuur vir skoolmediese dienste in Transvaal tot stand te bring. Omdat dié stelsel so suksesvol was, tree hy daarna as adviseur in Natal en Kaapland vir soortgelyke dienste op. (Sien Kannemeyer 1999: 372, 398.) Gedurende die tweede helfte van 1919 word hy vir ses maande na die Kaapstadse Onderwysdepartement gesekondeer om die mediese inspeksiediens daar te organiseer. In die loop van Junie besoek hy Smith vir wie hy belowe om bydraes vir Die Huisgenoot te lewer.

Smith het vanaf 1914, maar veral vanaf 1919 toe hy professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch geword het, sy studente aangespoor om woorde en uitdrukkings uit hul tuisdistrikte te versamel en op te teken. Ook as redakteur van Die Huisgenoot (1916-1923) het Smith by herhaling 'n beroep op sy lesers gedoen vir die versameling en optekening van die Afrikaanse woorden idioomskat. Daarna het die ekserpering van Afrikaanse boeke en tydskrifte vir die Afrikaanse standaardwoordeboek begin. (Vgl. Gericke 1991: 8-9.)

Op informele vlak bly Leipoldt en Smith se vriendskap voortduur. So skryf Leipoldt op 24 Desember 1920 in Die Brandwag 'n verslag van 'n skooltoer wat hy vir seuns in die Bosveld gereël het. Een van die gaste was prof. Smith "wat bijgedra het om die uurtjies rondom die kampvuur leersaam en plesierig te maak" (1920: 172).

Aan die begin van September 1922 bedank Leipoldt as mediese skoolinspekteur. Met ingang van Januarie 1923 begin hy as assistentredakteur van De Volkstem met F.V. Engelenburg as hoofredakteur werk. Wanneer Engelenburg uittree, word Gustav Preller in sy plek aangestel. Vanweë spanning tussen Leipoldt en Preller, beëindig Preller Leipoldt se dienste in Februarie 1925. In April 1925 vestig Leipoldt hom as pediater in Kaapstad. Benewens sy aanstelling as redakteur van die South African Medical Journal in 1927 word hy ook sekretaris van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. (Sien Kannemeyer 1999: 464-465, 485-486, 510.)

Na sy terugkeer in Kaapstad sou Leipoldt en Smith se persoonlike kontak weer groter word, veral ook deurdat Smith bepaalde drukke en uitgawes van Leipoldt se digbundels taalkundig versorg, bv. die tweede uirgawe van Dingaansdag (1925), die vierde druk van Oom Gert vertel (1926k) en die derde druk van Uit drie wêrelddele (1928). (Vgl. Leipoldt se dank aan Smith in sy artikel (1940: 15) waar hy oor sy eie werk skryf.) Optekening van woorde mondeling deur Leipoldt meegedeel dateer ook merendeels uit 1925.

Vanaf die begin van 1926 is Smith aangestel as redakteur van die Afrikaanse standaardwoordeboek. Dit is moontlik dat Leipoldt se verklaring van plant- en diername en die optekening van volksmedisyne veral gedurende hierdie tydperk plaasgevind het toe Smith medewerkers vir die versameling van woorde en uitdrukkings gewerf het. (Vgl. Gericke 1991: 26-27.)

 

II

In sy jeugherinneringe vertel Leipoldt hoe die reis in 1886 na Kaapstad, waarheen sy vader vir die sinodesitting gegaan het, sy oë oopgemaak het vir die blommerykdom en waarskynlik as prikkel gedien het vir sy belangstelling in die botanie wat sy geliefde stokperdjie sou word (1953a: 174). Toe hy later begin plante versamel, kon hy, weens gebrek aan die nodige naslaanwerke, nie 'n noukeurige klassifikasie van die plante maak nie. Sy versameling van plante het daartoe gelei dat hy in briefwisseling en later in persoonlike aanraking gekom het met dr. Peter MacOwen en deur hom met dr. Harry Bolus in wie se herbarium Rudolph Schlechter werksaam was. In sy huldeblyk by die afsterwe van Schlechter vertel Leipoldt (1927c: 13) hoe hy Schlechter se reisgeselskap ontmoet het, hoe hy saam met Schlechter plante versamel het en hoe sy vader hom as twaalfjarige seun toegelaat het om hulle tot by Garies op hul tog na Namakwaland en verder te vergesel: "Die paar weke was vir my een van die allerinteressantste ondervindinge wat ek in 'n ondervindingryke lewe opgedoen het." In 'n kort opmerking by Leipoldt se artikel meld Verduijn den Boer (1927: 15) dat Leipoldt as seun honderde plante versamel en geklassifiseer het. Hy noem dan Schlechter se besoeke aan Riversdal. Later wy Verduijn den Boer (1928) 'n uitvoerige artikel aan Schlechter in sy reeks oor Kaapse botaniste.

MacOwen en Bolus het Leipoldt aangemoedig om joernalistieke bydraes vir Kaapstadse koerante te lewer. In 1898 vestig Leipoldt hom as joernalis in Kaapstad waar hy eers by De Kolonist en daarna by The South African News werksaam was. Tydens sy verblyf in Kaapstad leer hy MacOwen en Bolus beter ken, asook Rudolf Marloth wat hy slegs as skoolseun ontmoet het. Hy maak kennis met F.C. Kolbe en sy vriend Alfred Bodkin vir wie hy byna elke Saterdagmiddag op botaniese uitstappies op die Kaapse Vlakte vergesel het.

Tydens sy verblyf in Londen kry Leipoldt soms kans om sy belangstelling in die botanie lewendig te hou. In Junie 1902 gaan hy saam met die kinders van sy oom Ewald Esselen na 'n spa naby Androssan aan die Skotse weskus waar hy plante op die hoogland versamel. Saam met Alfred Bodkin van Kaapstad, wat op besoek aan Engeland was, stap hy oor die heuwels van Dorking in Surrey. Die somer van 1903 bring hy deur in Dwygyfylchi, Noord-Wallis, waar hy 'n paar plante versamel. In Mei 1904 wanneer Bolus en sy niggie Lulu Kensit in Londen is, besoek Leipoldt Kew Gardens saam met hulle. In die somer van 1905 wanneer Bolus en Lulu Kensit weer in Londen is, gaan hulle na Ely in Cambridgeshire om na plante te kyk. In die somer van 1906, toe Bolus en Lulu Kensit nogmaals in Engeland is, besoek hulle weer Kew en Ely. (Sien Kannemeyer 1999: 179, 188, 190, 191 en 233 oor hierdie uitstappies.)

Vanaf die einde van Januarie tot die middel van Mei 1912 gaan Leipoldt per boot na Oos-Indië. Hy kry die geleentheid om die tropiese oerwoud ten noorde van Balikpapan aan die ooskus van Borneo te verken (Kannemeyer 1999: 350-353). By sy aankoms in Batavia reis hy suidwaarts vir 'n besoek aan die botaniese tuin Buitenzorg, tot stand gebring deur J.E. Teijsmann (Kannemeyer 1999: 355-357).

Na sy terugkoms in Suid-Afrika kry Leipoldt verdere nuwe botaniese vriende. Gedurende Oktober 1919 gaan hy tydens 'n besoek aan Kaapstad na Clanwilliam waar hy kennis maak met die plaaslike geneesheer, dr. Pieter le Fras Nortier, wat, soos hyself, intens geïnteresseerd is in plante, sodat 'n vriendskap onmiddellik ontstaan wat lewenslank sou duur. (Sien Kannemeyer 1999: 401.)

Toe Smith redakteur van Die Huisgenoot was, het Leipoldt in die Desember 1918-uitgawe 'n artikel geskryf waarin hy hom uitspreek ten gunste van meer navorsing oor die medisinale eienskappe van Suid-Afrikaanse plante. Hy gee dan 'n lys van sulke plante waarvan hy bewus is, met kommentaar op hul vermoëns om sekere kwale of siektes te verlig of te genees. Slegs enkele van hierdie plante word later deur hom op kaartjies verklaar met vermelding van hul botaniese name en geneeskragtige eienskappe. Die rede hiervoor is dat sy artikel 'n ander doel gehad het as die verklaring van die plant- en voëlname wat hy in sy gedigte gebruik.

Oor die volgende plante in die artikel verskaf hy inligting op kaartjies:

Kankerbossie (Sutherlandia frutescens) het 'n baie groot naam as middel teen kanker. Dit het glad nie die minste effek op 'n werklike kanker nie. Daarenteen is dit, as aftreksel op brandewijn, 'n goeie maagmiddel, bijna net soos gentiaan.

Droedas (Pharnaceum lineare) word teen hoes gebruik.

Platdoring of Sieketroos (Arctopus echinatus) is 'n surrogaat vir sarsaparilla, en is goed as 'n versterkingsmiddel. ... Ons weet dat die wortel 'n alkaloïde bevat, wat bijna dieselfde uitwerking het as atropine.

Voëlent (Viscum) word ook in gevalle van hoes gebruik.

Bossiespeper (Piper capense) is 'n surrogaat vir gewone peper.

Maerman (Ornithogalum sp) word ook teen asma en hoes gebruik.

In 'n artikel in die Januarie 1919-uitgawe van Die Huisgenoot wys ook J.H. Malan, ter ondersteuning van Leipoldt, op die groot kennis van sommige lede van die Suid-Afrikaanse bevolking betreffende kruiemiddels. Hy noem dan 'n aantal verbeterings op en aanvullings by Leipoldt se lys.

Voëlent. Met die wit bessies is dit Viscum capense; en met die rooi bessies, V. rotundifolium.

Maerman. Ek glo nie dat dit 'n ornithogalum-spesies is nie. Dit is Urginea altissima, waarvan die bolblare warm opgesit, die jig verdrijf.1

Dan maak hy nog 'n aantal toevoegings van medisynekruie, o.a.:

Klipdagga (Leonotis leonitis of L. ovata), teëgif teen slangbijt; Hottentotsvije (Mesembryanthemum edule) - "sop" van die blare vernietig beslis die douw-wurm deur die kop gereeld daarmee te was.

Hy vervolg met middels deur Thunberg genoem, bv.:

Suidissel (Sonchus oleraceus), met heuning en vet vermeng, uitmuntend vir sere en wonde.

Gedurende 1926 publiseer Leipoldt 'n aantal artikels oor Suid-Afrikaanse wildevoëls (sien Leipoldt 1926c-j). Hulle handel veral oor die koekoeke, die bergswawels, die trekvalke, die windswawels, die ooievaars en die duiwe en hul verwante. Slegs enkele van die voëlname wat hy in die artikels noem, word ook op kaarte vermeld en behandel. Hulle is waterhoender, visvanger, bromvoël, diederik, bosduif en tortelduif. Van Pletsen (1926) maak verder enkele opmerkings oor windswawels na aanleiding van Leipoldt se artikel.

 

III

Omdat die kaarte waarop Leipoldt bydraes geskryf het, tussen die meer as drie miljoen kaarte van die versameling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal ingesorteer is, het ek al Leipoldt se gepubliseerde werke geëkserpeer met die oog op plant- en diername, asook mediese terme. Hierdie name en terme het ek dan almal in die kaartversameling nagegaan om die bydraes van Leipoldt te bekom. Dit het die materiaal opgelewer wat ek in hierdie afdeling bespreek.

Die bydraes van Leipoldt is van 'n drieërlei aard: eerstens, mededelings van Leipoldt wat deur ander persone op kaarte aangebring is, tweedens, inligting oor woorde uit sekere van Leipoldt se werke wat deur homself op kaarte geskryf is, en derdens, optekeninge wat Leipoldt op eie inisiatief op kaarte aangebring het.

Talle van die volksname van plante en voëls sal vandag as beledigend of neerhalend beskou word, maar dit was nie die geval honderd jaar gelede nie. Aangesien dit 'n wetenskaplike artikel is, behou ek die benamings onveranderd, ook omdat baie van hulle in Leipoldt se gedigte voorkom waar hulle skaars as beledigend of neerhalend geïnterpreteer kan word. (Vgl. Leipoldt se Versamelde gedigte (1980), versorg deur J.C. Kannemeyer.)

 

1. Mededelings van Leipoldt deur ander persone opgeteken

In hierdie groep val 'n aantal plant- en voëlname waaroor die inligting mondeling deur Leipoldt meegedeel is, en toe deur personeellede van die Afrikaanse standaardwoordeboek op kaarte aangebring is.

Uit September 1925 dateer seepbossie wat as "soort Mesembryanthemum" beskryf word en heuningpotjie waarby die wetenskaplike naam Massonia gegee word. Sowel seepbossie (Leipoldt 1926a: 79) as heuningpotjie (Leipoldt 1927a: 212) word in sy werke gebruik. Uit September 1925 dateer ook maerman wat volgens Leipoldt Senecio arenarius is: "Dra geel blommetjies, groei op maer grond en ook op dakke."2

Ook uit September 1925 kom borrelvink met die aanduiding dat dit sinoniem is met geelvink, altwee benamings wat Leipoldt in Praatjies met die kinders, p. 73 gebruik: "Geel- en borrelvinke in die populierbos." Die benaming borrelvink is moontlik 'n volksetimologiese vervorming van borrievink, wat na die vink se borriekleur verwys. En verder uit September 1925 dateer drie sinonieme vir steenuil met die aanduiding "Leipoldt (mondeling)": braakuil, hoenderuil en grootuil. 'n Ongedateerde mededeling van Leipoldt meld dat bontkwartel 'n sinoniem is van harlekynkwartel (Coturnix delegorguei Deleg.). Die taksonomiese outeur is hier Louis Adulphe Delegorgue.

'n Ongewone optekening uit September 1925 noem dat miangpens, volgens Leipoldt in Lambertsbaai gebruiklik, dieselfde is as psalmpens.

Onder die datum 7 Mei 1928 deel Leipoldt aan 'n sekere mnr. Cruse mee dat die galgsalmander 'n koggelmandersoort is wat onder andere by Groenpunt voorkom: "Die Groenpuntse plein was vroeër baie moerassig, ook het die galg daar gestaan. Dié soort koggelmannetjies het op die bossies, en selfs op die galg geklim - vandaar die naam."3

 

2. Verklaring van woorde uit sekere van Leipoldt se werke

In hierdie groep val plant-, voël- en ander verwante name wat uit Leipoldt se drie digbundels Oom Gert vertel en ander gedigte, Uit drie wêrelddele en Dingaansdag kom. Dit is onduidelik waarom sekere name uit die bundels gekies is. Die name is boaan die kaartjies geskryf met 'n verwysing na die digbundel waaruit die aanhaling kom. Die uitgawe of druk van die betrokke digbundels word nie genoem nie. Ek gebruik aanhalings uit die uitgawes of drukke uit die 1920's, want dit is die tydperk toe Leipoldt skynbaar die meeste bydraes gelewer het. Hy het die wetenskaplike naam en soms 'n kort beskrywing in potlood of swart ink op die kaartjies geskryf, soms met sy voorletters CLL daaronder. Die name wat behandel word, is maar 'n klein aantal van die talryke name wat in hierdie drietal digbundels voorkom.

Die plantname uit Oom Gert vertel en ander gedigte (1921) is die volgende: kafferskuil ("Oor al die seekoegate / is kafferskuil gegroei", p. 13) met die wetenskaplike naam Prionium palmitum,4 die verwysing "Sie Harvey, Marloth, Thun-berg" en geteken CLL; katjiepiering ("Orals in die tuin rond / ruik jy ... / Jasmyn en katjiepiering", p. 14) met die verklaring: "Gardenia florida is die ingevoerde makkatjiepiering. Die wildekatjiepiering is 'n ander inheemse soort afkomstig van die bosveld en boswêreld in die Transkei." en geteken CLL; ruigte ("Die seekoegate, waar / Die kafferskuil en ruigte groei", p. 17) met die verklaring: "Grassoorte wat geil groei. Gewoonlik Cyperussoorte."; kameeldoring ("Hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal", p. 46) met die verklaring: "Orals bekend, Acacia giraffae, gewoonlik op die ope veld, met 'n taamlik plat kroon" en geteken CLL; en klossie ("Klossies uit die kuil", p. 70) met die verklaring: "Ixiasoorte. Die naam word in Clanwilliam onverskillig gebruik vir ander Iridaesoorte soos Aristea en Klattia."

Die plantname uit Uit drie wêrelddele (1926b) word op verskillende maniere behandel. Daar is 'n aantal waar slegs die wetenskaplike naam in potlood op die kaartjies geskryf is. Sulke gevalle is witvleilelie ("Die witvlei-lelie, wat sierlik staan en geur soos ryp kaneel", p. 20) met die wetenskaplike naam Satyrium odorum; suidissel ("Suidissels martel die week gras, / Verwit en verfyn", p. 49) met die wetenskaplike naam Sonchus oleraceus; tamboekiegras ("Skuilte vir die leeus was die lang tamboekiegras", p. 54) met die wetenskaplike naam Cymbopogon validus; wateruintjie ("Geurige ruik van die wit water-uintjies wat sluimer", p. 65) met die wetenskaplike naam Aponogeton distachyus; soetgras ("Daar het ons soet-gras saam herkou / Op die son-gevlekte vlei", p. 150) met die wetenskaplike naam Panicum laevifolium; sukkeldoring ("In 'n gat daar onder die sukkeldoring", p. 175) met die wisselvorme sekeldoring en sikkeldoring en die wetenskaplike naam Dichrostachys nutans; en witdoring ("'n Pêrel-besaaide witdoring met sy bas en sy blare nat", p. 178) en die wetenskaplike aanduiding Acaciasp. By twee gevalle gee hy ook die taksonomiese outeur na die wetenskaplike naam: suurvy ("Gerimpelde rondtes en duine, / Ryk van suurvy se ranke", p. 64) met die wetenskaplike naam Mesembryanthemum edule Linn. en tjienkerientjee ("'n Tjienkerientjee om viool te speel", p. 104) met die wetenskaplike naam Ornithogalum thyrsoides Jacq. Op 'n kaartjie van koejawelboom verwys Leipoldt na guavaboom, maar hy het nie 'n ooreenstemmende kaartjie van guavaboom met die wetenskaplike naam gemaak nie. By rietruigte ("'n Vlei met diep water ... / Rondom rietruigte en keurbos, verwilderd en dig", p. 64) lui Leipoldt se verklaring: "Riet wat ruig groei."

Dan is daar dié met uitvoeriger beskrywings. Sulke gevalle is: ghnarra-struik ("Die wye veld / ... Waar kanniedood ... / spog / Oor kruidjie-roer-my-nie en ghnarra-struik", p. 13) met die verklaring: "Gnarrabos is 'n soort Rhus. Die naam word toegepas op allerhande soorte."; waterbos ("Die seekoegate ... / Waar nog die woeste waterbos verberg / Die wilde neushoringdier", p. 13) met die verklaring in potlood: "Baie soorte word so genoem. Hier bedoel ek glo geen bepaalde soort nie maar bosse in algemeen rondom water."; vinkel ("Die gemmerstruik wat bloei / Daar tussen die vinkel en tuin-anys", p. 21) waar hy vier verskillende soorte verklaar: "wildevinkel is Carum capense Sond. (sie Harvey Flora II 538); makvinkel is Foeniculum officinale All.; tandpynvinkel is Sium thunbergii D.C.; glievinkel is Glia gummifera Sonder (gli, sê Harvey, is afkomstig van 'n Hotnotwoord wat vir die bier wat uit die plant gemaak word, gegee word Flora Cap. II 547)", geteken CLL; suikerbos ("Die wind van die suikerbosrandjie / Maak kouer die kou van die nag", p. 44) met die verklaring: "Proteasoort. Die soort op die suikerbosrand is Protea abyssinica."; boer-in-die-nag ("Die boer-in-die-nag vou sy blare", p. 51) met die opmerking: "Ook geelaandblom genoem, is Oenothera nocturna Jacq. (Harv. Flora Cap. II 506)."; minjonet ("Gemmer-geur in die tuin en die mirre van minjonet", p. 146) met die verklaring: "Reseda odorata - ingevoerde tuinplant"; en krulkrans ("Die klimop en krulkrans pluk sy [die seekoegat-vrou] af", p. 163) met die opmerking: "Verskillende soorte Smilax word krulkrans genoem. Hierdie soort is S. capensis."

Die behandeling van die plantname in Dingaansdag (1925) is soortgelyk aan dié in Uit drie wêrelddele (1926b). Gevalle waar slegs die wetenskaplike naam in potlood gegee word, is die volgende: bospeper ("Hier is 'n tuin van weelde, wierook-vol - / Met ... / Bospeper, velskoenblaar", p. 14) Piper capense; droedaskruid ("Droedaskruid wat op die droogte teer", p. 14) Pharnaceum lineare; graweelkruid ("Hier is 'n tuin van weelde, wierook-vol - / Met . / Graweelkruid, roosmaryn", p. 14) Stobaea atractyloides; sieketroos ("Hier is 'n tuin van weelde, wierook-vol - / Met sieketroos en wilde kamomille", p. 14) Arctopus echinatus (ook platdoorn genoem); skilpadbossie ("Hier is 'n tuin van weelde, wierook-vol - / Wilde skilpadbossies in bloei", p. 14) Muraltia spinosa (ook duinbossie genoem); rooibos ("As ... die rooibos-hout / Vooruitgestoot word ... / Om groter vuur en vlam te win", p. 63) Ochna arborea; doringtou ("Lang doring-toue slinger daar", p. 102) (ook bobiaanstou) Dalbergia armata; en sikkeldoring ("Die klowe en kranse ... / Met die sikkeldoring se ruik vergeur", p. 134) met die verwysing: "Sie sukkeldoring, Dichrostachys nutans."

Dié met uitvoeriger beskrywings is die volgende: koningsblom (Die lotosland waar ... / die koningsblom op die boomstam bloei", p. 31) met die verklaring: "Takorgidee, Vandasoorte. Die egte koning- of rajablom is 'n Bulbulphyllum-of 'n Laetiasoort, of ook 'n Dendrobium."; jakaranda ("Teen die blou van die jakarandas is die blou van die lug maar bleek", p. 50) met die opmerking, sonder die wetenskaplike naam: "'n Ingevoerde boomsoort uit Suid-Amerika. Die blomme is wit en blou. Net die blou soort word hier aangeplant."; bontblom ("Die bontblom wat orals die bosse oor rank", p. 93) met die Engelse benamings pride of the Kaap en Barberton pride, die sinoniem spiesblaar en die wetenskaplike naam Bauhinia galpini R.B.; suurknol ("Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar [op die vlakte]", p. 93) met die verklaring: "Antholyzasoort. Ook 'n Watsoniasoort in sommige distrikte."; en klooflelie ("Rooi en blou klooflelies geur die lug", p. 102) met die verklaring: "Amaryllis belladonna. Bloei in late somermaande."

Daar is 'n enkele plantnaam tiemie uit 'n ander werk Die Heks (1927b) wat Leipoldt vermeld. Dit is die volgende: "'n Koppie water, sonder eens 'n bietjie tiemie daarin", p. 4 waarby hy net sê: "Ingevoerde tuinkruid."

Slegs een voëlnaam hamerkop uit Oom Gert vertel (1921) word behandel: "Die hamerkop verlaat die vlei", p. VII, met die wetenskaplike naam Scopus umbretta, die Engelse benaming tufted umbrette en geteken CLL.

Meer voëlname uit Uit drie wêrelddele (1926b) word bespreek. By waterhoender ("Die sugvoor ... / Waar waterhoendertjies die water trap", p. 2) word slegs die wetenskaplike naam Gallinula chloropus Linn. gegee. By makou ("Die voor, / Waar statige makoue raad kom hou", p. 74) kom geen wetenskaplike naam voor nie, slegs die opmerking: "Gewone mak makoue. Ingevoerde eendsoort uit Macao." Ander voëlname word uitvoeriger behandel. By glaasogie ("Groen glaasogies gly van boom tot boom", p. 2) gee hy die sinonieme witogie, kersogie, blesogie en ringogie, die wetenskaplike naam Zosterops capensis waar hy die etimologie van zosterops vermeld as zoster wat "gordel" en ops wat "oog" beteken en die opmerking: "Orals deur die Unie bekend as 'n voëltjie wat in klein klompies bymekaarhou, en gesê word skade aan vrugteboorde te doen. Sie John Doe5 se The Kingfisher and Other Poems, 1924.", alles geteken CLL. By singvalk ("Die berge ... waar die grysvaal sing-valk skree", p. 20) lui die verklaring: "Melierax canorus, 'n groot valksoort amper so groot soos 'n sekretaarsvoël, deur heel S.A. verspreid. Sy geluid is skerp en skel en met 'n bietjie verbeelding kan jy daaruit 'n deuntjie maak." By tingtinkie ("Bly die gekwetter van bruin tingtinkies", p. 109) gee hy die wetenskaplike aanduiding Anthussp. met 'n vraagteken, gevolg deur die opmerking: "Verskillende klein soorte voëls word so genoem." By rooibekkie ("Diep water omring met palmiet, waar ... / rooibekkies nes maak as winter die wêreld verlaat", p. 147) is die verklaring: "Estrilda astrild, 'n voëltjie wat in groot troppe rondtrek en 'n gesamentlike nes bou."; en by visvanger ("Die wilde visvanger wat fladder in vinnige strale van kleur", p. 147) is die verduideliking: "Verskillende soorte van Halcyon en Ceryle. Die gewone blou visvanger word hier bedoel."

By die vier voëlname uit Dingaansdag (1925) wat vermeld word, word slegs die wetenskaplike name gegee: kwêvoël ("Die klaaglied van die kwê-voël", p. 40) Schizorhis concolor; veldkanarie ("Veldkanaries, bly-gesind", p. 40) Emberiza flaviventris, gevolg deur die opmerking: "Bergkanarie is Alario alario."; loerievoël ("Loerie-voëls wat, pragtig blou, / Met trots-gekuifde hoogmoed die laeveld aanskou", p. 100) Turacus corythaix Wag.; en steenuil ("Die wyse steenuil waag sy woord", p. 131) Bubo maculosa.

Buiten plant- en voëlname kom daar verklarings vir enkele insekname in Oom Gert vertel (1921) voor: duiwelby ("In die tabaktuin gons die duiwelby", p. VII): "Is die groot mot Acherontia atropos Linn., heeltemal ongevaarlik en sonder 'n angel."; en papie ("Hy [die verkleurmannetjie] draai sy nek ... / soos 'n papie uit die klei", p. 29): "Pupae van motte word papies genoem. Die gewone rooibruin papie is dié van Colias electra, die tuinskoenlapper."

Die taksonomiese outeurs wat in hierdie gedeelte by die wetenskaplike name genoem word, is: Linn., Carl Linnaeus; Jacq., Nikolaus Joseph von Jacquin; Sond./Sonder, Otto Wilhelm Sonder; All., Carlo Allioni; D.C., Augustin Pyramus de Candolle; R.B., Robert Brown; en Wag., Johann Georg Wagler.

Daar is twee ander woorde uit sy digbundels wat verklaar word:

Die benaming groenspaan in Uit drie wêrelddele (1926b) ("Groenspaan op 'n koper-oulap", p. 124) omskryf Leipoldt as "koperroes, patiena, koperoksied, swartgroen van kleur".

By sawaland uit Dingaansdag (1925) ("Die reën / Sy gloed ontel'bre trane ween ... / Oor fyn-bewerkte sawaland", p. 31) gee Leipoldt sawaveld as sinoniem saam met die verduideliking: "Sawa is 'n moeras. Sawagrond is moerasagtige akkers gebruik vir ryskultuur."

 

3. Optekeninge deur Leipoldt op eie inisiatief gedoen

Leipoldt se behandeling van sy selfopgetekende plant- en voëlname is ooreenstemmend met dié uit sy eie werke.

By 'n aantal plantname word slegs die wetenskaplike naam vermeld. Dit is die geval by klipdagga (Leonotis ovata) en katjangboontjies (Vigna catjang), "ook mak-katjangboontjies genoem en kardoeskatjangs", asook by keurbos (Lebeckia grandiflora Benth.), wildelemoenhout (Parkinsonia africana Sond.), ysterhout (Millettia caffra Meisn.) en wildevinkel (Carum capense Sond.) en makvinkel (Foeniculum officinale All.) wat albei op een kaart geskryf is en wat ook by vinkel uit Uit drie wêrelddele (1926b) saam met nog twee ander vinkelsoorte verklaar word. By kafferboom word gesê dis 'n Erythrinasoort, gevolg deur 'n meer spesifieke opmerking: "Die gewone hoë soort is E. caffra Th." In die meeste van hierdie gevalle word die naam van die taksonomiese outeur by die wetenskaplike naam gevoeg.

By plakkies (Cotyledon fascicularis Ait.) kom ook 'n verwysing na Harv. in Flora II 374 voor. Soortgelyke verwysings na Harvey is te vind by hotnotsvy, rooiblaar, suurvy en tontelbos waar ook by elkeen verskeie sinonieme gegee word. By hotnotsvy kom t'gaukum en gladvy as sinonieme voor, gevolg deur die wetenskaplike naam Mesembryanthemum acinaciforme Linn. en die verwysing Harv. in Flora II 412. By rooiblaar verskaf Leipoldt die sinonieme meiblaar en afrikanerblaar ("in Marico - miskien weens kleur van Afrikanerosse"), die wetenskaplike naam Combretum erythrophyllum Sonder, die verwysing Harv. in Flora II 509, met die opmerking "kleurvolle bosse in die wintertyd". By suurvy word verskeie sinonieme, perdevy, strandvy, sandvy, skurwevy en tossievy (kinders), vermeld, gevolg deur die wetenskaplike naam Mesembryanthemum edule Linn. wat hy ook by 'n sitaat uit Uit drie wêrelddele (1926b) gee en die verwysing Harv. in Flora II 412. By tontelbos (Hermas gigantea Linn.), met 'n verwysing na Harv. II 566, gee Leipoldt as sinonieme tontelboom en tontelbasboom met die opmerking: "Baie keer word dit tontelbas genoem, wat waarskynlik net 'n verbastering van die meer gewone tontelbos is. Die bas is nie uiters geskik vir tontel nie."

Sinonieme kom ook voor by boerboon, kankerbos, sambreelboom en voëlent. By boerboon word die wetenskaplike naam Schotia speciosa Jacq. gevolg deur die opmerking: "'n Soort groei by Gouritzrivier en word klawerboer genoem; dieselfde soort heet donkerboer in Laingsburg." By kankerbos met die wetenskaplike naam Sutherlandia frutescens R.B. word die beskrywing "'n wydverspreide peulbos met silwergrys blare wat gebruik word - en nutteloos is - as 'n kankermiddel" en die sinoniem kankerklappertjies gegee. By sambreelboom word gesê dis Cussoniasoorte met die opmerking: "Die gewone soort in die Kaap en Transvaal is C. spicata, maar daar is 'n halfdosyn ander soorte." Twee sinonieme noiensboom en peterselieboom word vermeld. By voëlent lui die definisie: "Verskillende soorte van Viscum of Loranthus. Die gewone voëlent is V. pauciflorum Thun." Talle sinonieme word gelys: voëlslymbos, voëlvlierbos, vasklou, lakbos en inkruipertjie.

Verwant aan die plantname is die volgende twee optekeninge: goemsi/ goemsibessies, "die vrugte van Abrus precatorius, Engels jequirity, Hindi gumchi, ook genoem kraal- of bidbessies, gebruik as oogmiddel deur die Maleiers (inge-voer)"; en saffraan, "die gedroogde stigmas van Crocus sativus".

'n Ander interessante optekening is ghokoffie: "Die koffie gemaak van die vrugte van die wildeamandel of ghoboontjie (Brabeium stellatifolium Linn.) nadat die harige skil (dop) daarvan afgetrek is en die vergif daarvan (syan-suur6) uitgedamp is deur water of brand."7

Leipoldt gebruik al hierdie volksname verskeie kere in sy werke, maar byna nie een van die sinonieme wat hy so uitvoerig vermeld nie.

By die voëlname gee Leipoldt meestal net die volksnaam en die wetenskaplike naam. Dit is die geval by dikkop (Oedicnemus capensis), krombek(voël) (Sylviella rufescens), asook by die tien verskillende eende wat hy almal op een kaart geskryf het: knobbeleend (Sarcidiornis melanota), dwerggans (-eend) (Nettopus auritus), berggans (-eend) (Alopochen aegyptiacus), bergeend (Casarca cana), geelbekeend (Anas undulata), swarteend (Anas sparsa), teeleendjie (Nettion capense), hotnotseendjie (Nettion punctata), smee-eendjie (ook rooibekeendjie) (Paecilonetta erythrorhyncha) en witrugeendjie (Thalassornis leuconota). Soortgelyke gevalle met die taksonomiese outeur by die wetenskaplike naam is: bosduif (Columba phaenota Gray), groenbosduif (Vinago delalandii Bp.), kwartel (Coturnix africana Temm. et Schleg.), lemoenduif (Haplopelia larvata Temm. et Knip), swartknorhaan (Otis afra Gmel.), tarentaal (met die sinonieme en wisselvorme poelpetaan, poelpetart en kwarrelhoener) (Numidia coronata Gray) en tortelduif (Turtur capicola Sundev.).

Slegs by enkele van die voëlname wat hy selfstandig opgeteken het, gee hy effens uitvoeriger gegewens. Dit is die geval by bromvoël: "'n Boskraaisoort (Bucorac cafer), so genoem omdat sy geluid soos veraf gebrom of dreun is."; diedrik: "Chrysococcyx cupreus. Lê sy eiers in mossie- en vinkneste en het 'n eienaardige geluid. Is 'n swerwelingvoël en ook 'n trekvoël."; kakkelaar: "'n Groen voël wat in bosruigte skuil, Irrisor viridis. Kom nie verder af as Cradock - Burghers-dorp nie, maar is orals taamlik skaars."; en wildemakou: "Plectropterus gambiensis, 'n watervoël volop in Transvaal."

Leipoldt gebruik die meeste van hierdie voëlname in sy werke, van die bekendstes verskeie kere.

Die taksonomiese outeurs wat in hierdie gedeelte by die wetenskaplike name gegee word, is die volgende: Th./Thun., Carl Peter Thunberg; Sond./Sonder, Otto Wilhelm Sonder; R.B., Robert Brown; Jacq., Nikolaus Joseph von Jacquin; Linn., Carl Linnaeus; Benth., George Bentham; Ait., William Aiton; All., Carlo Allioni; Meisn., Carl Meissner8; Gray, Robert Gray; Bp., Charles Lucien Bonaparte; Temm., Coenraad Jacob Temminck; Schleg., Hermann Schlegel; Knip, Pauline Knip; Gmel., Johann Friedrich Gmelin; en Sundev., Carl Jakob Sundevall.

'n Groep interessante optekeninge is die volksname vir medisyne. In baie gevalle gee hy slegs die farmakologiese benamings as verklarings. Dit is die geval by staaldruppels (tinctura ferri perchloridi), lemoenolie (oleum limonis, oleum citris), jalapdruppels (tinctura jalapae) en hoffmansdruppels/ hoffmansdrup (spiritus aetheris compositus) waar hy ook die Engelse benaming Hoffmann's anodyne vermeld. In ander gevalle gee hy 'n effens uitvoeriger verklaring waarin ook van die bestanddele genoem word. Sulke gevalle is paregoor (tinctura camphorae composita, "bevat opium en is vergift"), lemoensout (sal limonis, "'n mengsel van potass. oxalate en potass. tetroxalaat"9) en jalappoeier (pulvis jalapae compositus (off.), "jalap 5. kalitartras 9. gember 1").

By haarlemmerolie word die volgende verduideliking gegee: "'n Mixtuur van terpentynolie, guaiaktinktuur en naeltjieolie, gebruik vir rimetiek." By rubbelsolie/roebelsolie lui die verklaring: "Verbastering van aqua rebeliana van die ou Switserse pharmacopoeia (eau de rabe), 'n elixir acidum met swawelsuur daarin. Die Nederlandse ekwivalent is sulfas aethylicus acidus cum spiritu." En ook by kajapoetolie (met wisselvorme kaipoetie, kaipoelie en kaipololie) word 'n uitvoerige verklaring gegee: "Ol. cajaputi, olie van die blare van Melaleuca leuca-dendron, is 'n mengsel van cineol en terpentyn. Synoniem cineol caja of caja-putol. C10H14O, die gedeelte van eukalypolie10 wat afwasem tussen 347° en 351°F en wat op 30°F kristalliseer. Het 'n roem as middel teen verkoudheid - glad nie geregverdig of verdien nie. Is 'n smeerolie en 'n ruikolie."

Verder is daar twee gomsoorte wat as geneesmiddels aangewend word. Hulle is perubalsam/ proebalsam met die verklaring: "'n Gom van Myroxylon pereirae, gebruik as 'n middel in gevalle van hoes."; en duiwelsdrek met die verklaring: "Asafoetida. Gom van die wortel van Ferula fetida. Word gebruik as gom of, as opgelosde gomtinktuur, gewoonlik vir hysteriese aandoenings. Het 'n nare ruik en is prikkelend vir die slymvlies van mond en neus."

Laastens is daar spaansvlieg met die wetenskaplike naam Lytta en die verklaring: "die gedroogde vlieg self of die pleister, emplastrum cantharides".

 

IV

In die uitgebreide woordversameling van die WAT vorm die bydraes van Leipoldt maar 'n geringe deel. Buiten Leipoldt se optekeninge is daar ook talle ander bewyse van dieselfde name en terme wat Leipoldt gedefinieer het.

Die plant- en diername uit sy gedigte wat verklaar word, is 'n minimale aantal van die talle wat hy in sy volledige gedigte gebruik. Vir die leksikograaf is sy verklarings van belang omdat dit 'n aanduiding gee by watter definisie 'n bepaalde aanhaling hoort, veral as 'n benaming op meer as een plant- of diersoort slaan, wat dikwels die geval met volksname is. Vir die leser van Leipoldt se poësie is dit nuttig om te weet presies watter plant- of diersoort hy bedoel in sy gedigte wat dikwels so 'n enumerasie van plant- en diername bevat dat dit moeilik vir die leek is om te visualiseer wat hy presies in gedagte gehad het toe hy die gedigte geskryf het.

Vir sowel die leksikograaf as die poësieleser sou dit van onskatbare waarde en belang gewees het as Leipoldt 'n verklaring van al die name in sy gedigte kon gegee het. Uit die klein versameling wat in afdeling III bespreek word, kry 'n mens 'n interessante aanduiding.

 

Notas

1 Volgens C.A. Smith (1966: 328) word Ornithogalum prasinum maerman genoem.
2 Dit is die enigste bewys dat Senecio arenarius maerman genoem word. Volgens C.A. Smith (1966: 249) is die volksnaam vir S. arenarius en ook vir S. littorus hongerblom.
3 Dit is moontlik die latere prof. dr. H.P. Cruse. Leipoldt (1929a: 31) self verklaar die naam: "Die geitjies, wat die mense hier (in die Olifantsrivierkloof) 'galgsalmandertjies' noem - 'n naam wat ek in my kinderdae die eerste maal gehoor het uit die mond van oubaas Combrinck, die stigter van die Koelkamers, wat ons vertel het van die galg wat op Drie-Ankerbaai gestaan het, en hoe die geitjies daar op- en afgeseil het." In sy outobiografiese vertelling van sy kin-derdae beskryf Leipoldt (1953a: 183-184) hoe hy tydens 1890, toe hulle sy vader na die sino-desitting in Kaapstad vergesel het, in Drieankerbaai kennis gemaak het met mnr. Combrink. Later gebruik Leipoldt dié gegewe in Galgsalmander (1932) wat in die Olifantsrivierkloof afspeel (sien veral die verklaring op p. 93 van die roman).
4 Von Wielligh (1925: 63) skryf dat die plant in Clanwilliam en Tulbagh kaffer(s)kuil genoem word. "Waarom die s agter kaffer ingelas word, het ek probeer naspoor. Dr. Leipoldt, wat in Clanwilliam opgegroei is, verklaar dat hy die woord met 'n s skryf omdat die veronderstelling is die Kaffers skuil daarin. 'n Dergelike verklaring het ek ook van Tulbagh ontvang" (Von Wielligh 1925: 139). Soos in papkuil is die kuil in kaffer(s)kuil 'n volksetimologiese vervorming van kul, penis (sien Boshoff en Nienaber 1967: 375 onder kul II).
5 Victor Sampson (1855-1940), prokureur-generaal in die Jamesonkabinet en regter van die Hooggeregshof van die Unie van Suid-Afrika, het sy digbundels onder die skuilnaam John Doe gepubliseer. Sampson (1926: 30) vermeld hoe F.C. Kolbe hom in sy jeug aangemoedig het om 'n aantal gedigte te skryf, maar dat hy eers veertig jaar later weer met poësie sou begin.
6 Leipoldt se verafrikaansing van cyan acid, siaansuur.
7 In die artikel deur Leipoldt (1927c: 13) oor Schlechter vertel hy hoe die lede van die geselskap kennis gemaak het met ghokoffie. Een van die lede, C.W. Mally, het die wildeamandels waarvan die koffie berei word, in Duitsland laat ontleed waaruit geblyk het dat hulle nie so ryk aan voedingstowwe is soos vermoed was nie. Bolus (1919: 434) publiseer, moontlik deur toedoen van Leipoldt, 'n artikel oor die wildeamandel, 'n plant wat ook Malan (1919: 599) as inheems in sy lys noem. Leipoldt gebruik ghokoffie verskeie kere in sy werke, o.a. in Galgsalmander, p. 76 en p. 264.
8 Hy is Meisner gedoop, maar het later sy van na Meissner verander.
9 Leipoldt se spelling van chemiese name is soms 'n vermenging van Engels en Afrikaans. Die bedoeling hier is potassium oxalate, kaliumoksalaat, en potassium tetraoxalate, kaliumtetraoksalaat.
10 Leipoldt se verafrikaansing van eucalyptol, eukaliptool.

 

Dankbetuiging

My dank aan Marieta Buys en haar assistente van Spesiale Versamelings, Universiteitsbiblioteek Stellenbosch wat my toegang verleen het tot briewe in die J.J. Smith-versameling, en Leanne Dreyer en Savel Daniels van die Departement Botanie en Soölogie, Universiteit Stellenbosch, wat aan my inligting verskaf het oor taksonomiese benamings en taksonomiese outeurs.

 

Bronnelys

Bolus, H.M.L. 1919. Die wilde-amandel. Die Huisgenoot 4(44): 434, Desember.         [ Links ]

Boshoff, S.P.E. 1926a. 'n Standaardwoordeboek van Afrikaans. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns 4(3): 155-177, Maart.         [ Links ]

Boshoff, S.P.E. 1926b. 'n Standaardwoordeboek van Afrikaans. Gedenkboek ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875-1925): 307-328. Potchefstroom: Die Weste-Drukkery.

Boshoff, S.P.E en G.S. Nienaber. 1967. Afrikaanse etimologieë. Pretoria: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.         [ Links ]

Botha, W.F. 2003. Die impak van die leksikografieteorie op die samestelling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. D.Phil.-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Gericke, Werner. 1991. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal: 'n Kultuurhistoriese verkenning. M.A.-skripsie. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Harvey, William H. en Otto Wilhelm Sonder. 1894. Flora Capensis: Being a Systematic Description of the Plants of the Cape Colony, Caffraria, & Port Natal. Volume II. Leguminosae to Loranthaceae. Brook, Nr. Ashford: L. Reeve.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C. 1999. Leipoldt: 'n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C. 2007. C. Louis Leipoldt en sy samewerking met J.J. Smith. Kannemeyer, J.C. 2007. "Uit puur verstrooiing": Lesings, praatjies, artikels, onderhoude en besprekings: 210-227. Stellenbosch: Inset-Uitgewers.

Leipoldt, C. Louis. 1911. Oom Gert vertel en ander gedigte. Met 'n inleiding deur Johannes J. Smith. Kaapstad: Holl.-Afr. Uitg.-Mij. / Pretoria/Johannesburg: J.H. de Bussy.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1918a. Ons veldmiddels. Die Huisgenoot 3(32): 563-566, Desember.         [ Links ]

L(eipoldt), C. L(ouis). 1918b. Guillaume Marais. Ons verlies 'n voorbeeldige Afrikaner in hom. Die Brand-wag 9(7 en 8): 201-203, 10 Desember.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1919. Lewensskets. Guillaume François Marais. Die Huisgenoot 4(39): 65-66, Julie.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1920. Ons skoolkamp in die Bosveld. Die Brandwag 12(6): 171-173, 201, 24 Desember.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1921. Oom Gert vertel en ander gedigte. Met 'n inleiding deur Johannes J. Smith. Derde, hersiene druk. Pretoria: J.H. de Bussy / Kaapstad: Holl.-Afrik. Uitgevers-Mij.

Leipoldt, C. Louis. 1925. Dingaansdag. Tweede uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik        [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926a. Praatjies met die kinders. Met 'n voorwoord deur W.J. Viljoen. Vierde, verbeterde druk. Pretoria: J.H. de Bussy / Kaapstad: Holl.-Afrik. Uitgevers-Mij.

Leipoldt, C. Louis. 1926b. Uit drie wêrelddele: Gedigte. Tweede druk. Kaapstad/Stellenbosch/Bloemfontein: Nasionale Pers.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926c. Ons wilde-voëls. I Wat 'n voël is. Die Huisgenoot 11(224): 17, 2 Julie.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926d. Ons wilde-voëls. II Parasitisme en die trekgees onder voëls. Die koekoek en die bergswawel. Die Huisgenoot 11(225): 27, 35, 9 Julie.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926e. Ons wilde-voëls. III Die bergswawel. Die Huisgenoot 11(228): 18-19, 30 Julie.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926f. Ons wilde-voëls. IV Die trekvalkie of rooivalkie. Die Huisgenoot 11(232): 15, 17, 63, 27 Augustus.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926g. Ons wilde-voëls. V Die windswawel. Die Huisgenoot 11(233): 29, 31, 3 September.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926h. Ons wilde-voëls. VI Piet-my-vrou. Die Huisgenoot 11(234): 19, 21, 10 September.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926i. Ons wilde-voëls. VII Die ooievaar. Die Huisgenoot 11(235): 35, 37, 17 September.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926j. Ons wilde-voëls. VIII Ons duiwe. Die Huisgenoot 11(236): 19, 23, 24 September.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1926k. Oom Gert vertel en ander gedigte. Met 'n inleiding deur Johannes J. Smith. Vierde, verbeterde druk. Pretoria: J.H. de Bussy / Kaapstad: Holl.-Afrik. Uitgevers-Mij.

Leipoldt, C. Louis. 1927a. Waar spoke speel: Verhale. Kaapstad/Stellenbosch/Bloemfontein: Nasionale Pers.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1927b. Die Heks: 'n Toneelstuk in een bedryf. Tweede druk. Kaapstad/Bloemfontein/Pretoria: Nasionale Pers.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1927c. Botaniste aan die Kaap. Rudolph Schlechter: 'n Paar persoonlike herinneringe. Die Huisgenoot 12(273): 11, 13, 15, 17 Junie.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1928. Uit drie wêrelddele: Gedigte. Derde druk. Kaapstad/Stellenbosch/Bloemfontein: Nasionale Pers.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1929a. Die Olifantsrivierkloof I. Die Huisgenoot 13(364): 31, 33, 22 Maart.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1929b. Die Olifantsrivierkloof II. Die Huisgenoot 13(365): 37, 39, 29 Maart.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1932. Galgsalmander. Bloemfontein/Kaapstad/Stellenbosch: Nasionale Pers.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1940. Oor my eie werk. Die Huisgenoot 26 (976): 15, 23, 6 Desember.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1947. Die Olifantsrivierkloof. De Villiers, Ryno B., samesteller. 1947. Suid-Afrika, ons mooi land: 191-210. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Leipoldt, C. Louis. 1953a. In Clanwilliam en Kaapstad. Viljoen, J.M.H. 1953: 167-184.

Leipoldt, C. Louis. 1953b. Oor my eie werk. Viljoen, J.M.H. 1953: 191-195.

Leipoldt, C. Louis. 1980. Versamelde gedigte. Versorg deur J.C. Kannemeyer. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

M(alan), J.H. 1919. Ons kruie-medisyne. Die Huisgenoot 3(33): 598-599, Januarie.         [ Links ]

Sampson, Victor. 1926. My Reminiscences. Londen: Longmans, Green and Co.         [ Links ]

Smith, C.A. 1966. Common Names of South African Plants. Geredigeer deur E. Percy Phillips en Estelle van Hoepen. Botanical Survey Memoir No. 35. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Van Pletsen, J. Sauer. 1926. Windswawels. Die Huisgenoot 11(235): 29, 39, 17 September.         [ Links ]

Verduijn den Boer, J.H. 1927. Rudolph Schlechter. Die Huisgenoot 12(273): 15, 17 Junie.         [ Links ]

Verduijn den Boer, J.H. 1928. Botanisten aan de Kaap. In memoriam. Rudolf Schlechter (1872-1925). Die Huisgenoot 13 (342): 25, 27, 35, 19 Oktober.         [ Links ]

Viljoen, J.M.H. 1953. 'n Joernalis vertel. Met Jeugherinneringe van C. Louis Leipoldt. Kaapstad/ Bloemfontein/Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Von Wielligh, G.R. 1925. Ons geselstaal: 'n Oorsig van gewestelike spraak soos Afrikaans gepraat word. Met 'n inleiding deur Johannes J. Smith. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License