SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 special issue 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1731 

ARTIKELS/ARTICLES

 

Innoverende toegangsroetes in selfoonwoordeboeke

 

Innovative Access Structures in Mobile Dictionaries

 

 

André H. du Plessis

Buro van die WAT, Stellenbosch, Suid-Afrika; Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika (ahdp@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

Die toegangstruktuur van enige woordeboek is 'n belangrike struktuur omdat dit vir gebruikers 'n manier gee om die verlangde data te verkry of inligting te onttrek. Hierdie struktuur oorvleuel dikwels met alle ander woordeboekstrukture, hetsy die makro-, mikro- of kruisverwysingstruktuur, en sodoende vorm al hierdie strukture in werklikheid die roetes wat gebruikers volg om sy of haar leksikografiese behoeftes te probeer bevredig. In gedrukte woorde-boeke word die toegangstruktuur reeds op die voorblad aangetref, terwyl dit in elektroniese of aanlyn woordeboeke gewoonlik al op die tuis- of landingsblad sigbaar is (Du Plessis 2015: 51-52). Gouws en Prinsloo (2005: 64) verwys na twee verskillende tipes toegangstrukture, naamlik die eksterne toegangstruktuur, wat verband hou met die soekroetes wat die gebruiker na die lemma neem, en die interne toegangstruktuur, wat o.a. die soekroetes en -sones binne die artikel self behels. Met aanlyn en selfoonwoordeboeke word die tradisionele funksies en gebruike van woordeboekstrukture aangepas vir die medium en om die gebruiker se behoeftes vinniger en makliker te bevredig. Dit het egter die gevolg dat dit soms moeilik is om tussen die verskillende woordeboekstrukture te onderskei (Müller-Spitzer 2013: 368-369). Die gelukkige toeval daarvan is dat e-woordeboeke meer vryheid het om op nuwe en innoverende maniere gebruikers na leksikografiese materiaal te lei. Hierdie artikel het ten doel om van hierdie innoverende toegangsroetes in veral selfoonwoordeboeke uit te lig en te evalueer. Dit word gedoen ten einde te bepaal watter toegangsroetes verdere aandag verdien of wat as standaardpraktyk in selfoon- en ander e-woordeboeke oorweeg moet word.

Sleutelwoorde: eksterne toegangstruktuur, e-leksikografie, elektroniese woordeboeke, interne toegangstruktuur, selfoonleksikografie, selfoonwoordeboeke, slimfone, slimfoon, soekroetes, toegangroetes, toegangstruktuur, toepassings, woordeboekstrukture


ABSTRACT

The access structure of any dictionary is an important one. it provides the user with a means to obtain the required data or to extract valuable information. This dictionary structure mostly overlaps with other structures such as the macro-, micro- and mediostructure, which in turn creates different access routes a dictionary user can follow to try and satisfy his or her lexicographic needs. In printed dictionaries, the access structure can already be found on the cover, while in electronic or online dictionaries this structure is usually visible on the home or landing page (Du Plessis 2015: 51-52). Gouws and Prinsloo (2005: 64) differentiate between two types of access structures: the outer access structure, which relates to the access or search routes that lead a user to the lemma sign, and the inner access structure, which, among other things, involves the search routes and zones within a dictionary article. The traditional functions and uses of dictionary structures are adapted for the online and mobile medium in order to better satisfy user needs. The disadvantage of this, however, is that it is becoming increasingly difficult to distinguish between different dictionary structures (Müller-Spitzer 2013: 368-369). Fortunately, e-dictionaries have the freedom to provide new and innovative ways for users to access lexicographic material. The goal of this article is to highlight and evaluate some of these innovative access routes, particularly in mobile dictionaries. This is done to determine which access routes deserve further investigation or should be considered as a standard practice in mobile and other e-dictionaries.

Keywords: access routes, access structure, cellphone dictionaries, dictionary structures, electronic dictionaries, e-lexicography, inner access structure, mobile applications, mobile dictionaries, mobile lexicography, outer access structure, search routes, smart phones


 

 

1. Inleiding

Net soos 'n watermassa loop taal onstuitbaar waar hy wil; niemand kan dit werklik beheer nie - dr. W.F. Botha.

Soos Botha (in Van der Spuy 2018) tereg aandui, kan 'n taal nie sommer beheer word nie. Wat wel beheer kan word, is hoe taalgebruikers toegang tot taal, taal-data en taalhulpbronne kry. Soos die wêreld die digitale en virtuele sfere met spoed en ywer betree, en tegnologie steeds vinniger verbeter en verander, raak die aanvraag na en toegang tot data al hoe meer en al hoe belangriker. Dit is veral opvallend as daar gekyk word na die ontwikkeling van en die tendense in slimtegnologie en datatoegang (vgl. Maiman 2022, Mayer-Schönberger en Ramge 2022, en Woolley 2022). Een van die slimtoestelle wat binne hierdie kon-teks van kardinale belang is, is selfone.

In 2017 was daar sowat 4,5 miljard selfoongebruikers ter wêreld, terwyl dit tans blyk dat daar ongeveer 6 miljard selfoongebruikers wêreldwyd is en die verwagting is dat daar aan die einde van 2026 omtrent 7,5 miljard selfoongebruikers1 wêreldwyd sal wees (Statista 2021). Hierdie toename bevestig dat daar 'n aanvraag na mobiele, toeganklike en altydteenwoordige tegnologie is. Gebruikers wil enige tyd en enige plek toegang tot inligting hê. Die noodsaak vir hierdie soort tegnologie het ernstige implikasies vir die praktiese en metaleksikografie (vgl. Bothma en Gouws 2020, en Ferret en Dollinger 2021), en die feit dat daar betreklik min navorsing oor selfoonleksikografie en selfoonwoordeboeke beskikbaar is of gedoen word, vergroot die erns van dié saak (vgl. Holmer en Sköldberg 2014, en Caruso et al. 2019).

Woordeboeke as draers van data moet gebruikers van verskillende maniere voorsien om daardie data te bekom en inligting daaruit te onttrek. Daarsonder sal gebruikers nie hul leksikografiese behoeftes kan bevredig nie. Die woordeboekmaker en woordeboekgebruiker bevind hom/haar dikwels in die stryd tussen dit wat in die woordeboek opgeneem is en die toeganklikheid van daardie woordeboekdata en -inligting (Atkins en Rundell 2008: 21). Daar kan daarom met min twyfel aanvaar word dat die toegangstruktuur een van die belangrik-ste en veelsydigste strukture in woordeboeke is. Die elektroniese medium het reeds gesorg vir aanpassings in die meta- en praktiese leksikografie wat betref die toegangstruktuur (vgl. Müller-Spitzer 2013, Gouws 2014a en 2014b, en Bothma 2018), maar daar is altyd ruimte vir verbetering en innoverende prak-tyke. Hierdie artikel het ten doel om van hierdie innoverende toegangsroetes in veral selfoonwoordeboeke uit te lig en te evalueer. Let wel, hier word slegs op selfoonwoordeboektoepassings gefokus en nie op selfoonvriendelike weer-gawes van e-woordeboeke nie, juis omdat die selfoontoepassings as medium ruimte vir unieke, andersoortige of aanpasbare toegangsroetes bied. Dit word gedoen ten einde te bepaal watter toegangsroetes verdere aandag verdien, of wat as standaardpraktyk in selfoonwoordeboeke oorweeg moet word. Daar moet hier genoem word dat 'n innoverende praktyk nie altyd 'n nuttige prak-tyk is nie, maar die ruimte wat dit skep vir nuwe of aanpasbare leksikografiese strukture en bronne, is wel noemenswaardig.

Die toegangstruktuur as leksikografiese begrip moet egter eers kortliks onder die loep geneem word, asook die verandering wat hierdie struktuur ondergaan het in die elektroniese leksikografie. Die bestaande praktyke in die e-omgewing en die eienskappe van selfone en selfoongebruikers sal ook kortliks bespreek word om verder te beklemtoon waarom die toegangsroetes as innoverend beskou kan word.

 

2. Die toegangstruktuur

Bosman (2013: 42) stel tereg dat die begrippe "toegang" en "toegangstruktuur" geyk is in die leksikografie. Derhalwe is dit nie nodig om hierdie struktuur ten volle te bespreek nie, maar wat tog tersaaklik is, is om kortliks vas te stel wat hierdie struktuur behels en hoe hierdie struktuur met ander woordeboekstrukture oorvleuel. Daarna kan bepaal word tot watter mate hierdie struktuur aangepas is vir elektroniese woordeboeke.

Gebruikers moet deur 'n woordeboek gelei word sodat hy/sy by die relevante inligting kan uitkom waarna gesoek word. Hierom is die toegangstruktuur 'n noodsaaklike deel van enige woordeboek. Volgens Müller-Spitzer (2013: 368) is die toegangstruktuur, soos die indeks of die alfabetiese ordening van trefwoorde, die struktuur wat bepaal hoe gebruikers toegang kry tot die leksikografiese data. Hierdie stelling suggereer reeds dat hierdie struktuur met ander woordeboekstrukture soos die makrostruktuur oorvleuel. Gouws en Prinsloo (2005: 165) dui aan dat die toegangstruktuur die soekroetes skep wat gebruikers volg tydens die raadpleging van 'n woordeboek. Hierdie soekroetes berus nie net op die toegangstruktuur nie maar ook op die mikro-, artikel-, medio- en dataverspreidingstruktuur, omdat bv. buitetekste, kruisverwysings, struktuurmerkers en aanduiders ook vir die gebruiker toegang tot data gee (Du Plessis 2015: 53). Die toegangstruktuur maak dit dus moontlik vir 'n gebruiker om tydens die raadpleging van 'n leksikografiese hulpbron relevante data op te spoor of inligting te onttrek, hetsy binne of buite die hulpbron. Om die sukses van 'n gebruiker se raadplegingsprosedure verder te begryp, moet daar onderskeid getref tussen die eksterne toegangstruktuur en die interne toegangstruktuur.

Die eksterne toegangstruktuur is op die woordeboek as tekssoortdraer gerig, en bepaal die toegangsroetes tot die sentrale lys, asook op die voor- en agtertekste en die woordeboekindeks. Gouws en Prinsloo (2005: 64) vereenvoudig hierdie idee deur vas te stel dat die eksterne toegangstruktuur bloot verband hou met die soekroetes wat die gebruiker na die lemma neem. Soos genoem, oorvleuel die toegangstruktuur telkens met die makro- en dataverspreidingstruktuur juis omdat die soekroete wat gebruikers deur die makrostruktuur volg die lemmalys, lemmas as aanduiders en die artikeltrajekte as toegangselemente insluit, asook buitetekste en buitetekstuele elemente wat inligting verskaf en data dra wat gebruikers kan help om die woordeboek te gebruik, onder meer om kognitief-georiënteerde data te verskaf of makliker deur die woordeboek te soek (Du Plessis 2015: 52-53). Dit beteken dat die eksterne toegangstruktuur eerder soos deur Wiegand en Beer (2013: 113) verklaar moet word:

An outer access structure is a linear [...] structure, whose elements are outer access text elements, which can be accessed externally [...] [which] applies to all types of outer access structures [... ] so that e.g. inner text entries, insert entries, outer text entries and index entries are taken into consideration as well.

Die oorgang tussen eksterne en interne toegangstrukture word deur die lemmateken vergestalt.

Die interne toegangstruktuur is die soekroete wat die gebruiker oriënteer binne die relevante artikel nadat die gebruiker suksesvol daarheen gelei is deur die eksterne toegangstruktuur (Wiegand en Beer 2013: 139). Gouws en Prinsloo (2005: 64; 170) omskryf die interne toegangstruktuur as die soekroete wat die gebruiker na die relevante data-inskrywing lei, dit wil sê die soekroete wat 'n gebruiker volg binne 'n woordeboekartikel om by 'n bepaalde aanduider of datakategorie uit te kom. Die interne toegangstruktuur het ook 'n effek op die gebruiker se raadplegingsvermoë en -tyd (Gouws en Prinsloo 2005: 170). Gouws en Prinsloo (2005: 170-171) is verder van mening dat 'n artikel só gestruktureer moet wees dat die gebruiker vinnig en maklik kan onderskei tussen die verskillende datakategorieë. Hierom stel 'n woordeboekartikel wat gebruik maak van verskillende nietipografiese struktuurmerkers as interne toegangstrukturele elemente die gebruiker in staat om moeiteloos deur die artikel te soek vir die relevante data. Die plasing van leksikografiese data in 'n woordeboek kan die toegang tot daardie data belemmer of vergemaklik.

2.1 Gedrukte teenoor elektroniese woordeboeke

Almind (2005: 38) toon aan dat die sukses van enige e-woordeboek deur een enkele begrip bepaal word, naamlik toeganklikheid. Met aanlyn en selfoon-woordeboeke, veral selfoonwoordeboektoepassings, word die tradisionele funksies en gebruike van woordeboekstrukture aangepas vir die medium en om die gebruiker se behoeftes vinniger en makliker te bevredig. Dit het egter tot gevolg dat dit soms moeilik is om tussen die verskillende woordeboekstruk-ture te onderskei (Müller-Spitzer 2013: 368-369). Elektroniese woordeboeke moet egter verkieslik nie die gebruiker ten opsigte van sy/haar verwagting van 'n woordeboek en woordeboekartikel vervreem nie. Die uitdagings en voordele wat die elektroniese sfeer vir leksikograwe inhou, stel nuwe eise aan die maak van 'n elektroniese woordeboek en vir die gebruik van daardie woordeboek. Daar is ook reeds bepaalde praktyke in die digitale ruimte wat deur leksiko-grawe in ag geneem moet word en wat deur gebruikers verwag word. Dit het ook implikasies vir die metaleksikografie (vgl. Tarp 2012 en Bothma 2018).

In gedrukte woordeboeke word die toegangstruktuur reeds op die buiteblad aangetref, terwyl dit in elektroniese of aanlyn woordeboeke gewoonlik al op die tuis- of landingsblad sigbaar is (Du Plessis 2015: 51-52). In gedrukte woordeboeke gebeur dit dikwels dat die toegangsalfabet, as deel van die hooftoegangstruktuur, parallel loop met die makrostruktuur (Wiegand en Gouws 2013: 77). Soos genoem, begin die toegangsroete wat deur hierdie struktuur bepaal word reeds op die woordeboeke se buiteblad en/of rugkant en dui hier vir gebruikers aan watter tipe woordeboek dit is en of die woordeboek moontlik die gebruiker se behoeftes kan bevredig (Gouws en Prinsloo 2005: 165). Soos gebruikers deur 'n gedrukte woordeboek blaai, gebruik hulle ook bladsynommers en gidswoorde bo- of onderaan die bladsy om by die relevante data uit te kom (Gouws en Prinsloo 2005: 168). Hierdie elemente vorm deel van die eksterne toegangstruktuur van gedrukte woordeboeke. Daarteenoor is elektroniese woordeboeke dinamies van aard en word dit grootliks nie belemmer deur ruimtebeperkings nie. Dit beteken dat die toegangsalfabet nie noodwendig op die tuisblad sigbaar is nie, maar eerder in bv. alfabetbalke, dinamiese hiperskakellyste of spyskaartskakels vertoon word. Elektroniese woordeboeke veronderstel vinniger en makliker toegang tot data as gedrukte woordeboeke. Die grootste en belangrikste verandering in die toegangsroete tot woordeboekdata is die implementering van soekenjins, soekbalke of skakels wat gebruikers direk na lemmas, sublemmas, buitetekste (oftewel "outer-features" - vgl. Klosa en Gouws 2015) of eksterne hulpbronne lei. Dit beteken dat gebruikers nie deur die woordeboek hoef te blaai nie, hoewel sekere aanlyn woordeboeke dit wel moontlik maak, maar dat daar eerder tussen of na woordeboekdata gespring kan word met die klik van 'n muis, druk van 'n knoppie of vee van 'n vinger. Dit is egter nie die enigste manier hoe gebruikers deur 'n e-woordeboek navigeer nie.

Wat die interne toegangstruktuur betref, is daar tipies meer oorstemming tussen gedrukte en elektroniese woordeboeke. Hoewel elektroniese woordeboeke in die meerderheid van gevalle van 'n aangepaste interne toegangstruktuur gebruik maak, is dit steeds meer tradisioneel as die eksterne toegangstruktuur.

Wat wel voordelig vir die elektroniese medium is, is dat daar ook 'n bepaalde dinamika of interaktiwiteit aan die toegangstruktuur gekoppel kan word. Dit kom gewoonlik voor in die gebruik van hiperskakels in die mikro- of mediostruktuur, of die gebruik van interaktiewe nietipografiese struktuurmerkers wat uniek is aan die elektroniese sfeer, soos die luidspreker-ikoon wat vir gebruikers die uitspraak van die betrokke lemma speel, die ster-ikoon wat die gebruiker kan klik om die betrokke lemma as een van sy/haar gunstelinge te stoor, of die "sien meer"-ikoon of -skakel, wat versteekte data of toegangsroetes oproep of die gebruiker na 'n ander inskrywing, woordeboekdeel of eksterne bron kan neem. Gouws (2014a: 163-164) wys daarop dat die artikelstruktuur in elektroniese woordeboeke nie noodwendig oor dieselfde kommentaartipes as gedrukte woordeboeke beskik nie, en dat die kommentare eerder verskillende toegangsroetes vir verskillende leksikografiese datatipes is. Gouws (2014a: 170) dui verder aan dat die elektroniese medium nie net op nietipografiese struktuurmerkers hoef staat te maak nie vanweë die feit dat e-woordeboeke 'n "multi-layered presentation of search zones" kan integreer as deel van die toegangstruktuur. Die verskillende soeksones hoef dus nie deur nietipografiese struktuurmerkers aan die gebruiker uitgewys te word nie, maar eerder met knoppies of duimgidse waarop geklik kan word wat die verskillende datainskrywings weergee.

Die bostaande uiteensetting is geensins 'n volledige bespreking om die aanpassings van die toegangstruktuur tussen gedrukte en e-woordeboeke weer te gee nie. Die dinamiese en interaktiewe, tog tradisionele aard van die toegangstruktuur in elektroniese woordeboeke word wel hier weerspieël en dien as 'n basis vir die ontleding van die selfoonwoordeboektoepassings wat verder bespreek word. Vir meer inligting oor die verskille in toegang- en verwante strukture van elektroniese en gedrukte woordeboeke vgl. Gouws 2018, Dziemianko 2018 en Klosa-Kückelhaus 2022.

2.2 Standaardpraktyke in die e-omgewing

Die maak van 'n elektroniese woordeboek veronderstel dat die leksikograaf en sy/haar medewerkers bewus is en gebruik maak van bepaalde standaardpraktyke van die e-omgewing. Vir die doeleindes van hierdie artikel moet daar enkele verklarings hieroor gemaak word sodat die toegangsroetes wat in afdeling 3 geanaliseer word, tog as innoverend, vernuwend of aanpasbaar beskou kan word.

Daar moet aanvaar word dat daar standaard- of verwagte praktyke is wat, soos in die gedrukte leksikografie, slegs in die betrokke onderafdeling van die e-omgewing geld of daarin bepaal word, bv. die vee-funksie wat nie vir tipiese skoot- en persoonlike rekenaars met nieraakskerms hoef te geld nie. In die breër e-omgewing is daar praktyke wat deur beide die ontwikkelaar en gebruiker verwag word wanneer daar met 'n webwerf, toestel, toepassing, of dergelike gewerk word. Vooruitgang in tegnologie veroorsaak dat daar gereeld nuwe praktyke gevestig word wat spoedig as standaardpraktyke beskou word. Dit maak dit dus soms moeilik om werklik te bepaal wat die norm is vir standaardfunksies, praktyke en verwagtinge. Daar is egter sekere norme wat só konvensioneel is dat dit as vanselfsprekend aanvaar word. Dit sluit rekenaar- of internetgebruike soos knip-en-plak, hiperskakels, deelknoppies of -skakels, drukfunksies en kortpadsleutels in. By tabletrekenaars en slimfone sluit dit ook praktyke soos die vee-, raakskerm-, kamera- en roteerfunksies in. Derhalwe word hierdie praktyke nie as innoverend beskou nie, tensy daardie praktyk of funksie op 'n beduidende of unieke manier gebruik, verbeter of aangepas is.

 

3. Selfone en selfoonwoordeboeke

3.1 Unieke eienskappe en aard

'n Selfoon is 'n gebruiksinstrument wat sekere funksies het of behoeftes bevredig. Selfoongebruikers is 'n unieke tipe gebruiker binne die e-omgewing met unieke behoeftes en gebruiksomstandighede. simonsen (2015: 84) en Carolus et al. (2019: 915) stel tereg dat selfone alomteenwoordig is en dat hierdie toestelle o.a. ons werkswyse, lewe en leermetodes heeltemal verander het. Dit geld ook vir die manier waarop gebruikers leksikografiese data verkry. Daarom moet daar 'n vinnige oorsig van die unieke eienskappe en aard van selfone en selfoongebruikers gegee word. Hierdie oorsig sal ook wys hoe die geëvalueerde toegangsroetes die selfoongebruiker en sy/haar unieke gebruiksituasies in ag neem of bevoordeel.

Budiu (2015) en Restyandito en Kurniawan (2017) dui daarop dat die beperkte skerm van 'n selfoon en die grootte van die toestel (veral in vergelyking met ander toestelle soos rekenaars) 'n beduidende rol speel op die manier hoe 'n gebruiker daarmee werk om inligting of data te bekom, asook die bruikbaarheid van die toestel en/of toepassing beïnvloed. Verder noem Budiu (2015) en Simonsen (2014) dat selfooneienskappe soos draagbaarheid, funksionaliteit en die gebruikskonteks 'n invloed het op die tipe data wat aan gebruikers vertoon word, die tyd en plek wat gebruikers neem om data te soek en die vermoë om die data of inligting te interpreteer of te internaliseer. Die volgende drie eienskappe van selfoongebruikers word deur Simonsen (2014: 259-260) gestel:

1. selfoongebruikers is tipies aan 't beweeg of besig met ander take terwyl hulle hul selfone gebruik. Dit beteken dat hulle dikwels haastig, onnoukeurig, ingedagte en ongeduldig is.

2. Die selfoongebruiker soek eenvoudige dog kundige inligting. Die selfoongebruiksituasie vereis daarom eenvoudige, stiptelike en kommunikatiewe data.

3. Die selfoongebruiker moet twee navigasie-prosesse terselfdertyd uitvoer - die fisiese omgewing waarin hulle beweeg en die gebruikerskoppelvlak van die toestel of toepassing. Dit vereis weereens dat data eenvoudig en toeganklik moet wees en dat die gebruikerskoppelvlak van so 'n aard moet wees dat selfs groot datastukke leesbaar en sonder verwarring verskyn.

'n Belangrike punt wat by die bogenoemde eienskappe gevoeg kan word, is dat die interaksie en verbintenis tussen selfoongebruiker en toestel veel nouer is as in vergelyking met ander rekenaargedrewe toestelle, juis omdat dié toestel tipies altyd by die gebruiker is, basiese menslike behoeftes bevredig en dit as 'n primêre bron van inligting, vermaak of sosiale interaksie gebruik kan word (Carolus et al. 2019: 934-935 en Chu et al. 2021). Die voortdurende gejaag na die dringende bevrediging van gebruikersbehoeftes forseer toepassings om weg te skram van data-oorlading, en interaktiewe en funksionele toegangsroetes te implementeer. Kortom, 'n groter behoefte aan onmiddellike, verstaanbare en toeganklike data word verwag wanneer selfone as inligtingsbron gebruik word. Leksikograwe moet bewus wees daarvan dat die toestel waarop 'n gegewe woordeboek verskyn, die funksionaliteit daarvan bepaal. Dit geld in 'n groter mate vir selfoonwoordeboeke as aanlyn woordeboeke omdat selfone verskil t.o.v. bedryfstoestelle, knoppies, funksies, ens. Dit is daarom, soos Du Plessis (2015: 149) noem, van kardinale belang dat 'n selfoonwoordeboek van meet af as 'n selfoonproduk ontwerp word.

3.2 Innoverende toegangsroetes2

In hierdie afdeling word die toegangstrukture en -roetes in ses selfoonwoordeboektoepassings bespreek. Hoewel daar 'n duidelike onderskeid tussen eksterne en interne toegangstrukture in afdeling 2 getref is, is dit, soos reeds bepaal, telkemale nie moontlik om die toegangstrukture van mekaar en van ander strukture te skei nie. Vir daardie rede en om die studie sistematies uiteen te sit, word die toegangstrukture per woordeboek eerder as per struktuur bespreek. Dit is ook nie moontlik om die gebruikerstipe en woordeboektipologie van elke woordeboek te bespreek nie, maar waar dit van toepassing is, sal dit uitgelig word.

3.2.1 Merriam-Webster (MW)

Du Plessis (2015) het reeds die toegang- en ander strukture van die Merriam-Webster-selfoonwoordeboektoepassing bespreek. In daardie studie word daar gefokus op die innoverende gebruik van die raakskerm as toegangsmetode tot enige leksikale item in die woordeboek. Dit wil sê, die gebruiker kan op enige leksikale item binne die artikelstruktuur klik om na daardie bepaalde lemma te gaan. Hier word elke leksikale item wat in enige betrokke lemma se artikel-struktuur verskyn dus 'n moontlike kruisverwysingspunt (fig. 1). Dit beteken dat hierdie selfoonwoordeboek weliswaar 'n multidimensionele kruisverwy-sings bewerkstellig. Die lastigheid is egter dat wanneer 'n gebruiker per abuis op 'n leksikale item klik, word daardie artikel dadelik vertoon. Dit kan frustrerend wees aangesien gebruikers gereeld aan die skerm moet raak om deur 'n artikel te blaai, en so 'n ongeluk kan die naslaanprosedure vertraag. Daar is ook die verdere tekortkoming dat nie alle leksikale items as lemmas opgeneem is nie en sou 'n gebruiker op so 'n item druk in die artikelstruktuur, gebeur daar niks nie. Ideaal gesproke moet die woordeboek terugvoer gee aan die gebruiker om aan te dui dat daardie bepaalde toegangsroete nog gesluit is totdat die woord of leksikale item opgeneem is.

 

 

Hoewel hierdie toegangstrukturele element moontlik nie meer as uniek beskou kan word nie, is dit interessant dat slegs enkele ander woordeboeke (sien bv. 3.2.2) gebruik maak van hierdie nuttige en vinnige verwysingstelsel (vgl. Du Plessis 2015).

Figuur 2 vertoon 'n aanpassing wat ná Du Plessis (2015) se studie aan MW se toegangstruktuur gemaak is. Daar verskyn 'n rekord van die gebruiker se soektogte tussen die soekbalk en die lemma wat geraadpleeg word. Hierdie lys word aangevul soos 'n gebruiker soektogte uitvoer, op kruisverwysings klik of die genoemde multidimensionele artikelstruktuur gebruik. Dit is ook heel vinnig om deur hierdie lys te beweeg deur óf na links of regs op die skerm te vee, afhangend van watter lemma betrek word, óf om deur die lys te rol en op 'n bepaalde lemma te druk. Hoewel dit al standaardpraktyk is om vorige en gunstelingsoektogte vir 'n gebruiker te stoor, word dit dikwels versteek of onder 'n bepaalde spyskaart, skerm of duimgids vertoon. MW maak dit maklik vir gebruikers om vorige soektogte te raadpleeg deur die eksterne toegangstruktuur so aan te bied dat vorige lemmatekens sigbaar is en maklik deurblaai kan word. Dit gee ook vir die gebruiker 'n goeie aanduiding van sy/haar soekgeskiedenis sonder om 'n ander deel van die toepassing te raadpleeg. So 'n funksie kan nuttig wees vir selfoongebruikers, veral as hulle besig is met 'n bepaalde taak oor verwante woorde of onderwerpe, juis omdat hulle met betreklik min moeite tussen soektogte kan spring.

 

 

3.2.2 Oxford Dictionary of English (ODE) en Collins English Dictionary (CED)

Omdat Oxford en Collins se selfoonwoordeboektoepassings deur dieselfde maatskappy ontwikkel is, funksioneer die toepassings grotendeels dieselfde en word dit dus saam bespreek. Daar is wel enkele verskille wat tersaaklik is vir hierdie analise. Hierdie twee toepassings bied 'n rits innoverende toegangsroetes aan gebruikers.

Soos MW, wend die ODE en CED ook die multidimensionele kruisverwysingstruktuur aan. Die enigste opvallende twee verskille hiermee is dat beide die ODE en CED se funksionaliteit effens stadiger (een of twee sekondes) is as MW, en dat die ODE en CED die gebruiker inlig as 'n leksikale item nie as lemma opgeneem is nie. ODE en CED het wel 'n meer omvattende kruisverwysingstruktuur omdat daar meer leksikale items opgeneem is en selfs ander elemente in die artikel- of mikrostruktuur, soos etikette, etimologie of woordsoortaanduiding, as kruisverwysingspunte dien (fig. 3). Indien daar bv. homonieme of afkortings is wat deur hierdie toegangsroete opgeroep word, word 'n lys van die verskillende opsies aan die gebruiker vertoon. Daar word gepoog om die gebruiker te lei na die betrokke artikel deur die vergestalting van die kruisverwysing bo-aan die lys. Die gebruiker kan egter dikwels aan sy/haar eie kundigheid oorgelaat word, omdat die lys nie meer inligting aan die gebruiker verskaf nie en hy/sy self moet vasstel watter van die moontlike artikels die gewenste een is (soos met die voorbeeld van tr in fig 4).

 

 

 

 

Die ODE en CED is twee toepassings wat werklik poog om die tegnologiese moontlikhede van selfone aan te gryp. Een knap funksie wat vir gebruikers help om data meer leesbaar te maak en sodoende toegang van data op die koppelvlak te versterk, is die verstelbare teksgroottefunksie. Gebruikers kan via die "A"-ikoon, regs bo in 'n betrokke lemma, die teksgrootte van die inskrywing stel met behulp van 'n "slider" sodat dit makliker gelees kan word (fig. 5). Sou daar te veel teks op die skerm wees, kan die teks weer kleiner gestel word om meer inligting op een slag te vertoon.

 

 

Verder bied ODE en CED 'n multidimensionele en interaktiewe soekruimte vir gebruikers. Dit sluit ook aan by die verwagte tog unieke praktyke van selfone deur toegang na die toepassing te bied via 'n eksterne bron, of om eksterne data in die woordeboek in te trek. Dit word veral deur die volgende funksies weerspieël.

Die ODE en CED maak gebruik van die selfoon se kamera om vir gebruikers die opsie te gee om werklike teks waarmee hy/sy besig is, as toegangsroete tot woordeboekinskrywings te gee (fig. 6). Gestel 'n gebruiker is besig met 'n taak wat teksresepsie betrek, kan 'n bepaalde woord of woorde wat in die teks verskyn met behulp van die selfoonkamera inskandeer word om dit sodoende op te soek deur op die geskandeerde en korrekte soekresultaat te druk.

 

 

Hoewel dit 'n innoverende funksie is, is die soektogte wat daarmee uitgevoer kan word nie altyd almal ewe geslaagd nie. In die evaluering hiervan het dit geblyk dat die kamerafunksie wispelturig is en dikwels nie woorde enigsins of korrek identifiseer nie, terwyl dit ook soms nie sekere lettertipes of skermtipes, bv. 'n woord op sekere rekenaarskerms, registreer nie (fig. 6). Indien die kamera wel die teks kan skandeer, sit die gebruiker gewoonlik met 'n lys woorde, karakters of onverstaanbare kombinasies van letters. Dit is ook nie duidelik wat die gebruiker moet doen om 'n woord of term te skandeer as die "detect"en "auto-focus"-instelling afgesit word nie. Ongelukkig word daar geen hulp aan die gebruiker verskaf nie. Hoewel hierdie funksie gebrekkig is, bied dit wel vir die gebruiker 'n bykomende toegangsroete tot data, veral vir gebruikers wat aan 't beweeg is en vinnig 'n woord of term wil probeer opsoek. Dit is gelykstaande aan Google Lens (https://lens.google/), 'n toepassing wat o.a. woorde, foto's en produkte kan skandeer en dit dan via Google se soekenjin opsoek, maar moet nog verder verfyn word om op daardie standaard te wees. Hierdie tipe funksie moet egter meer in die selfoonleksikografie benut word en dit is 'n stap in die regte rigting om die selfoon as meerfunksionele leksikografiese gebruiksinstrument te vestig.

'n Funksie wat reeds prominent is in aanlyn en e-lesers, is die integrering van woordeboeke met webwerwe, programme of e-tekste. Hoewel Google reeds hierdie funksie met hul woordeboeklisensiëringdata van o.a. Oxford vir selfone ook beskikbaar gestel het, moet die gebruiker toegang tot die internet hê om hierdie funksie te kan gebruik (vgl. Dickson 2018 en Oxford Languages 2022). ODE en CED kan op die gebruiker se selfoon afgelaai word en het dus nie internettoegang nodig nie. Die gebruiker kan daardeur enige tyd in 'n teks, ander toepassing3 of webwerf (sou hulle wel die internet raadpleeg) toegang tot hierdie toepassings kan hê. Daar is twee maniere waarop gebruikers woordeboekinskrywings kan raadpleeg via 'n eksterne bron.

Eerstens, wat in hierdie geval slegs vir die ODE (en Dictionary.com) geld, kan 'n woord of frase verhelder word d.m.v. 'n "long press" op die raakskerm, waarna 'n standaardlys funksies, soos kopieer en deel, opgeroep word. In hierdie lys is 'n meer opsies-ikoon waar 'n lys van die gebruiker se geïnstalleerde woordeboeke verskyn. Die gebruiker kan gewoon op die gekose woordeboek druk en 'n soektog vir daardie gegewe woord, term of frase, of naaste verwante inskrywing daarvan, sal plaasvind (fig. 7). Hoewel hierdie soort soekfunksie al 'n standaardpraktyk in die breër e-omgewing is, moet dit nog neerslag vind in die selfoonleksikografie. Hierdie praktyk lewer 'n toegevoegde waarde tot die selfoonwoordeboek omdat dit weereens die gebruiker in staat stel om vinnig, maklik en tydens 'n betrokke ander taak, toegang tot woordeboekdata te verkry. Dit versterk die reeds bestaande verwagting dat selfoontoepassings multifunksioneel en -dimensioneel moet wees, veral wanneer dit die hantering of toeganklikheid van data betref.

 

 

Tweedens, sluit ODE en CED weer by die gevestigde Google- of internetpraktyk aan deur vir gebruikers 'n "tap to translate"-funksie te verskaf. As hierdie funksie geaktiveer word by die woordeboekinstellings, kan gebruikers teks in 'n eksterne bron met behulp hiervan opsoek in die woordeboek. Die gegewe soektog kan op twee maniere plaasvind. Eerstens kan 'n woord of frase deur middel van 'n "long press" verhelder of gekopieer word. Daarna moet daar afgerol word tot die selfoon se kennisgewingpaneel ("notification panel") verskyn. Die gebruiker sal 'n sagte kennisgewing ("gentle notification") sien wat die "translate"-funksie bevat. As daar op "translate" gedruk word, word die toepassing oopgemaak, die verhelderde of gekopieerde teks in die woordeboek se soekenjin geplak en 'n soektog word onmiddellik uitgevoer (fig. 8). Tweedens gee ODE vir gebruikers die opsie om 'n swewende ikoon op die skerm te laat vertoon. Hierdie ikoon is altyd teenwoordig en word bo-oor ander blaaie, ikone en toepassings vertoon. 'n Gebruiker het dus altyd daardeur toegang tot die woordeboek. Dieselfde proses word gevolg om soektogte uit te voer, behalwe dat die gebruiker nou net op die ikoon hoef te druk om die woordeboekraadplegingsprosedure te begin (fig. 9).

 

 

 

 

Vir twee Engelse eentalige woordeboeke is dit egter vreemd dat hierdie funksie nie herbenoem is nie aangesien 'n gebruiker nie werklik teks daarmee kan vertaal nie. Afgesien van die wanbenaming, is hierdie toegangsroete wel redelik nuttig. Dit bied kitstoegang tot die woordeboektoepassing se soekenjin sonder dat die gebruiker self die toepassing moet oopmaak en die soektog moet onderneem. Vir gebruikers wat besig is met 'n bepaalde taak op hul selfoon, kan hierdie funksie veral handig te pas kom juis omdat daar met betreklik min moeite tussen die eksterne bron en woordeboek beweeg kan word. Die sagte kennisgewing en swewende ikoon kan wel vir sekere gebruikers steurend wees omdat dit altyd teenwoordig moet wees om hierdie funksie te gebruik, maar dit bly 'n goeie toevoeging tot die eksterne toegangstruktuur van hierdie selfoonwoordeboeke.

3.2.3 Dictionary.com (DC)4

Nog 'n woordeboek wat die moontlikhede van die selfoonomgewing volkome probeer aangryp is Dictionary.com se selfoonwoordeboektoepassing. DC is van meet af as 'n aanlyn woordeboek ontwerp. Derhalwe kan daar geargumenteer word dat hierdie woordeboek nie die gesukkel moes ondervind om van gedrukte weergawe na elektroniese weergawe te gaan nie. Dit stel hierdie woordeboek in staat om telkens die e-omgewing se nuanses beter te verstaan en te manipuleer.

Reeds op die tuisskerm van DC word 'n reeks toegangsroetes aan die gebruiker beskikbaar gestel. Naas die verwagte soekbalk is daar ook drie ander opsies wat onder die "woord van die dag" verskyn, naamlik "browse", "random" en "explore" (fig. 10). "Browse" is nie 'n innoverende toegangstruktuur nie, maar die aanbieding daarvan as toegangsroete saam met ander toegangsroetes is 'n praktiese praktyk omdat alle bykomende toegangsroetes saam gegroepeer word. As 'n gebruiker op "random" druk, word 'n lemma lukraak uit die woordeboek opgeroep. Dit kan ook met behulp van die twee deurkruisende pyltjies in die soekbalk gedoen word. Daar kan geargumenteer word dat hierdie soekopsie nutteloos is of net vir vermaaklikheidsdoeleindes gebruik word, maar dit gee tog vir woordliefhebbers en woordeboekgebruikers die geleentheid om lemmas op te spoor wat hulle andersins nooit sou raadpleeg nie. Die algemene selfoonwoordeboekgebruiker sal dit waarskynlik net as 'n oulike, maar onbelangrike funksie ("gimmick") beskou. Daarteenoor is "explore" 'n heel waardevolle deel van die toegangstruktuur. As 'n gebruiker daarop druk, word hy/sy na 'n buiteteks geneem waar woordeboekdata tematies aangebied word (fig. 10). Hierdie tematiese indeling betrek tipies gegewens wat 'n selfoongebruiker in die digitale sfeer sal teëkom soos emoji's, memes en popkultuur. Die gebruiker kan op een van hierdie afdelings druk en verkorte woordeboekinskrywings met ostensiewe materiaal nagaan (fig. 10). As daar op een van die woordeboekartikels gedruk word, kry die gebruiker 'n meer volledige bewerking met 'n uitgebreide betekenisparafrase, voorbeelde, ens. Let wel, hierdie inskrywings lyk anders as die woordeboekartikels wat deur die hooflemmalys vergestalt is en lees amper soos bloginskrywings met voorbeelde wat met ander toepassings soos Twitter geïntegreer is. Onderaan elke tematiese onderafdeling, word 'n toegangsroete na die ander onderafdelings aangebied (fig. 10). Dit sorg vir beter navigasie tussen hierdie kognitief-geörienteerde inligting in die buiteteks.

 

 

DC se tuisskerm bied verder vir gebruikers toegang tot gonswoorde wat deur onlangse woordeboeksoektogte gegenereer word (fig. 10.) Gebruikers het kitstoegang tot hierdie woorde deur op die woord langs "trending" te druk. Daar word ook 'n aanduiding gegee van hoe soektogte vir dié woorde vermeerder het. Dit is nie noodwendig bruikbare data vir die gebruiker nie, maar wys wel wat die huidige en moontlike gonswoorde in die wêreldleksikon is. As daar verder afgerol word op die tuisskerm, kry die gebruiker toegang tot nog buitetekste wat oor taal- en leksikografiese verwante onderwerpe handel (fig. 11). Hierdie tekste word gereeld bygewerk of verander, wat 'n bepaalde dinamiese eienskap aan die toepassing gee. Dit kan wel steurend wees en tot data-oorlading lei, maar die doel- of taakgerigte gebruiker sal nie sommer hierdie buite-tekste besoek nie. Vir gebruikers wat wel meer kognitief-georiënteerde behoeftes het, kan hierdie toegangsroetes tot waardevolle data lei. Soortgelyke buite-tekste wat veral taal, teksproduksie, wetenskap en grammatika betrek, kan ook via die toepassing se spyskaart verkry word (fig. 11). Dit is op sigself nie 'n innoverende praktyk nie, maar die feit dat hierdie data netjies gekategoriseer word en so maklik toeganklik is, is tog uniek binne die breër selfoonleksiko-grafie5. DC verskaf ook die verwagte "woord van die dag" aan gebruikers, maar hierdie toepassing gaan een stappie verder deur onderaan die tuisskerm ook 'n "sinoniem van die dag" in die vorm van 'n vraag te plaas. Hierdeur kry gebruikers 'n nuwe soort toegangsroete tot woordeboekinskrywings en word hulle ook uitgedaag om te kyk of hy/sy die sinoniem reg kan raai.

 

 

Laastens, is DC se artikel- en mikrostruktuur ook dinamies en interaktief. Gebruikers het toegang tot lettergreep- en klemaanduiding of die fonetiese alfabet en kan met die druk van 'n vinger tussen hierdie opsies spring (fig. 12). so 'n eenvoudige toegangsroete is 'n aanwins vir gebruikersvriendelikheid omdat die gebruiker self kan bepaal watter uitspraakleiding hy/sy verkies. Die artikelstruktuur self wyk ook af van standaardwoordeboeke omdat die gegewe soeksones, soos voorbeeldmateriaal, uitdrukkings en verwante woorde, binne die artikel onder verskillende duimgidse verskyn. Dit verbeter die leesbaarheid op 'n selfoonskerm en onderverdeel die artikel in verstaanbare en toeganklike afdelings. Verskillende vakspesifieke of pedagogiese data word ook so aangebied indien dit relevant is, soos by abstract in fig. 12. Daar is selfs toegang tot verdere buitetekstuele elemente soos ensiklopediese of grammatiese data of woorde wat met die betrokke lemma rym, wat ook waarde tot die woorde-boekartikel en sy struktuur bied (fig. 12). Let wel, hierdie data is slegs toeganklik indien die gebruiker die verskillende afdelings afsonderlik aankoop of die volle woordeboekpakket koop. Dit kan ook gelukkig enige tyd via die artikelstruktuur gedoen word, omdat daar toegang tot "upgrades" verskaf word (fig. 12). Hierdie benadering tot die interne toegangstruktuur is bepaald gebruikersvriendelik en sorg vir verteerbare datastelle wat die selfoongebruiker met meer gemak kan nagaan en interpreteer.

 

 

3.2.4 Muiswerk Woordenboek (MWWB)

MWWB is 'n Nederlandse woordeboek gerig op leerders en het daarom 'n bepaalde pedagogiese funksie. Hierdie woordeboek is ook in 'n basiese vorm aanlyn beskikbaar, maar blyk om eerder op selfone of tabletrekenaars gerig te wees. Omdat MWWB se primêre teikengebruikergroep leerders is, implementeer hierdie woordeboek ander soekmoontlikhede in die eksterne toegang-struktuur. In die eerste plek kan 'n gewone soektog soos in enige ander woor-deboek uitgevoer word met behulp van die soekenjin. Die resultate van die soektog, of die voorstelle wat verskyn soos daar in die soekbalk getik word, vertoon tipies met bykomende grammatikale inligting soos by blom in fig. 13. Gebruikers kry dus dadelik toegang tot ekstra taalkundige inligting wat die gebruiker kan help om die korrekte lemma in die soekresultate te raadpleeg. Die soekenjin self kan ook gemanipuleer word om drie verskillende soekopsies uit te voer (fig. 13), naamlik om lemmas te soek wat met die gegewe karakters/letters begin, waar die gegewe karakters/letters in die middel van 'n lemma verskyn, of waar die gegewe karakters/letters aan die einde van 'n lemma voorkom (soos voorgestel deur die soektog vir -agen in fig. 13). Hierdie soekmoontlikhede verbreed die gebruiker se toegang tot die makrostruktuur omdat verskillende lemmas op drie verskillende maniere opgespoor kan word. Dit is verbasend dat so min woordeboektoepassings hierdie soort soekfunksie aan gebruikers verskaf, juis omdat dit waarde toevoeg tot die eksterne toegangstruktuur en sodoende vir gebruikers nuwe maniere gee om by lemmas uit te kom. Hierdie soekopsies is nie net vir leerders bruikbaar nie, maar ook vir taalnavorsers, studente, blokkiesraaiselspelers, ens.

 

 

MWWB maak ook gebruik van 'n dinamiese interaktiewe artikelstruktuur wat gebruikersgerig is en funksioneel benut word binne die selfoonruimte. Deur op die "meer opsies"-ikoon regs bo te klik, kry die gebruiker die opsie om foto's of illustrasies op te laai wat deel word van die semantiese kommentaar as ostensiewe inskrywings vir die betrokke artikel, soos by blom in fig. 14. Die gebruiker het die keuse om 'n foto te neem of om 'n bestaande foto of illustrasie te kies vanuit die selfoon se bergruimtes. Die betrokke gebruiker kry amper onmiddellike toegang tot die opgelaaide foto of illustrasie, maar sou hulle dit aan ander gebruikers wil bekendstel, moet dit deur 'n keuringsproses gaan wat deur MWWB se redakteurs behartig word. Hierdie funksie, hoewel knap, kan problematies wees, sou die gebruiker nie die betekenisparafrase(s) van die betrokke lemma verstaan nie en 'n foto oplaai wat nie gepaard gaan met die gegewe betekenisparafrase(s) nie of as die keuringsproses 'n verwarrende illus-trasie toelaat, soos in die geval van slaap (fig. 15) wat nie by die regte betekenisparafrase verskyn nie. Verder kan dit gebeur dat die betrokke foto of illustrasie se lêertipe nie meer ondersteun word deur bv. die woordeboek of bedryfstelsel nie, of dat dit 'n ou, gebroke of foutiewe skakel in die woordeboekdatabasis is. Dit kan tot onbevredigende resultate lei omdat die illustrasie soos by lopen in fig. 15 nie korrek vertoon nie.

 

 

 

 

Hoe dit ook al sy, hierdie toegepaste funksie beteken dat die gebruiker 'n rol speel in die aanbieding van data binne die artikelstruktuur. MWWB benut hierdeur die tegnologiese moontlikhede waaroor selfone beskik en betrek die gebruiker by die leksikografiese proses, wat derhalwe betekenisvol is vir die vestiging en voortbestaan van 'n volhoubare (selfoon)woordeboekkultuur.

3.2.5 Duden Wörterbucher (DW)

Laastens bevat DW se toegangstruktuur ook enkele unieke eienskappe. DW se toepassing dien as 'n soort woordeboekportaal omdat dit verskillende woordeboeke of woordeboekpakkette aan die gebruiker verskaf, hoewel soektogte beperk is tot een enkele woordeboek. Dit is iets wat tans nog primêr by bepaalde aanlyn woordeboeke gevind word. DW sluit twee gratis woordeboeke in, een vir spelling en punktuasie, en een vir werkwoorde. Die gebruiker het daarna die keuse om of die volle DW-pakket aan te skaf of slegs die woordeboeke wat vir hom/haar nodig is (fig. 16). Altesaam is daar nege woordeboeke wat in hierdie toepassing geïntegreer kan word. Hierdie aanslag kan aangemoedig word, veral vir uitgewers wat verskillende woordeboeke en leksikografiese produkte publiseer. Dit kan van die selfoonwoordeboektoepassing 'n alles-in-een-woordeboekproduk maak wat gebruikers se verskeie leksikografiese en taalbehoeftes kan bevredig. Dit skakel ook die noodsaaklikheid of moeite uit van verskillende toepassings wat ontwerp moet word vir verskillende woordeboeke van dieselfde uitgewer. Sou die uitgewer nie alles in een portaal wil aanbied nie, kan hierdie benadering gebruik word om woordeboek-tipes saam te groepeer in een toepassing. DW word wel nie baie goed ontvang as daar na die Google Play Store se terugvoer gekyk word nie, maar dit is deurgaans weens die oudmodiese en onpraktiese aanbieding van woordeboekdata of die feit dat baie van die woordeboeke reeds gratis aanlyn beskikbaar is. Die besigheidsmodel wat verband hou met hierdie soort toegang tot woordeboeke sal noukeurig bedink moet word en word nie verder hier bespreek nie.

 

 

Net soos die ODE en CED, gee DW ook vir gebruikers die opsie om die teksgrootte te verander. Dit word wel nie by die lemma self gedoen nie, maar is deel van die toepassing se instellings. Die opsie word gegee om die trefwoord en inskrywing se lettergrootte dieselfde te maak, of die trefwoord en inskrywing kan van lettergrootte verskil (fig. 16). Waarom die onderskeid getref word, is nie duidelik nie maar ten minste gee dit vir gebruikers toegang tot leesbare woordeboekdata soos hulle dit verkies.

Een baie innoverende funksie wat in hierdie analise slegs deur DW gebruik word, is dat die selfoon se raakskerm as toegangsroete vir soektogte dien deur handskrif te herken. Die sogenaamde "Handschrifterkennung"- of "PenReader"-funksie word saam met die stemsoektogte as ekstra soekroete versteek en laat gebruikers toe om op die skerm met hul vinger(s) te skryf waarna dit geanaliseer word en die skrif omgesit word in karakters wat in die soekbalk vertoon (fig. 17). Hoe nuttig dit werklik is, is onseker aangesien selfoongebruikers waarskynlik eerder net die soekbalk self sal gebruik, maar ten minste poog die DW om die tegnologiese moontlikhede wat selfone bied, te bevorder. Hierdie funksie sal egter verfyn moet word as dit behoue wil bly aangesien daar 'n hele paar gevalle was waar die handskrif verkeerd ontleed is.

 

 

4. Gevolgtrekking

Kwary (2013) en Gouws (2018: 178) is van mening dat talle aanlyn en selfoonwoordeboeke nie met die nodige teoretiese basis en leksikografiese kennis ontwikkel word nie. Hoewel dit in die selfoonleksikografie nog die geval mag wees in gratis woordeboektoepassings, wys hierdie studie tog dat daardie tendens besig is om te verander, veral ten opsigte van meer erkende uitgewers of leksikografiese bronne. Die drastiese toename in selfoongebruikers beteken dat daar reeds en al hoe meer woordeboekgebruikers gaan wees wat meer gevorderde tegnologiese behoeftes het en wat woordeboeke gaan raadpleeg wat hierdie behoeftes, sowel as hul leksikografiese behoeftes, moet bevredig. Om hierdie ideaal 'n werklikheid te maak, is dit nodig dat selfoonwoordeboeke die innoverende praktyke soos in hierdie analise uitgelig, aangryp, implementeer en verfyn. Die feit dat daar al hoe meer selfoonwoordeboeke is wat innoverende en soms unieke toegangsroetes vir gebruikers aanbied en dat daar 'n beter interaksie tussen gebruiker en selfoonwoordeboek is, soos wat verwag word van 'n selfoongebruiker, wys hoe die leksikografiepraktyk reeds besig is om interdissiplinêr te werk en te dink. Dit dui ook daarop dat die praktyk reeds gedurig aanpas by die veranderende e-omgewing en vindingryk is met die toepassing van nuwe of bestaande funksies of gegewens. Hoewel die geëvalueerde woordeboeke nie almal oral ewe geslaagd is in die integrering van bruikbare toegangstrukture nie, is daar wel bepaalde funksies wat as standaardpraktyke geag moet word. Die benutting van eksterne bronne, eksterne soekmoontlikhede en ekstra soekopsies lewer vir die gebruiker 'n kragtiger, meer volronde en nuttiger toepassing wat sy/haar taal- en leksikografiese behoeftes kan bevredig. Die moontlikhede wat tegnologie bied, is nie te versmaai nie en woordeboektoepassings wat die toestel se eienskappe of funksies soos die kamera, raakskerm en selfoonbergruimtes betrek, sorg oor vir 'n meer gevorderde en interessanter produk. Laastens is dit nodig dat die gebruiker deel voel van die woordeboek of die woordeboek sy eie kan maak. Daar is reeds 'n leemte in die vestiging van woordeboekkulture en 'n groter skeiding tussen woordeboekraadpleging- en toestelraadplegingsvermoë onder "digital natives" (Simonsen 2015: 88). Toepassings wat die gebruiker deel van die leksikografiese proses maak, toelaat om die woordeboek op 'n manier te manipuleer of sy/haar eie te maak, kan die verhouding tussen leksikografie, gebruiker en toestel versterk.

 

Eindnote

1 Die term selfoon sluit beide selfone sowel as slimfone in. in hierdie studie word daar nie 'n onderskeid tussen sel- en slimfone getref nie aangesien die geanaliseerde toepassings slegs op slimfone, as soort selfoon, beskikbaar is.
2 Weens die feit dat selfoontoepassings deurlopend aangepas en opgedateer word, mag van hierdie toegangsroetes, kommentaar en bevindinge nie meer ten tyde van publikasie akkuraat of geldig wees nie.
3 Let wel, dit word bepaal deur die tipe toepassing en die toestemmingsbeleid van daardie toepassing of die bedryfstelsel, of gebruiker se selfooninstellings. In hierdie studie het toepassings soos Gmail, Microsoft Outlook en My Vodacom die funksie toegelaat, terwyl News24 of Adobe Acrobat dit gekeer het.
4 LW: Hoewel DC 'n selfoonwoordeboektoepassing is, het die gebruiker internettoegang nodig om dié woordeboek te gebruik.
5 Die ODE het 'n soortgelyke "outer feature" maar dit is minder dinamies omdat dit waarskynlik uit bestaande gedrukte woordeboeke se buitetekste aangepas is. Hierdie buitetekste behels lyste teks oor "spesiale onderwerpe" soos "Countries of the World", "The European Union" en "Collective Nouns".

 

Bronnelys

Woordeboeke

Dictionary.com LLC. 2022. Dictionary.com. Selfoontoepassing [Weergawe 10.0.5.0579].

Merriam-Webster Inc. 2022. Merriam-Webster Dictionary. Selfoontoepassing [Weergawe 5.3.3].

MobiSystems. 2020. Collins English Dictionary Complete and Unabridged. Selfoontoepassing [Weergawe 11.0.561].

MobiSystems. 2022. Oxford Dictionary of English. Selfoontoepassing [Weergawe 12.0.802].

Paragon Software. 2020. Duden Wörterbucher. Selfoontoepassing [Weergawe 5.6.36].

Schijf, T.T.A. 2015. Muiswerk Woordenboek Pro. Selfoontoepassing [Weergawe 1.3].

Ander bronne

Abel, A., C. Vettori en N. Ralli (Reds.). 2014. Proceedings of the XVI EURALEX International Congress: The User in Focus, 15-19 July 2014, Bolzano/Bozen. Bolzano/Bozen: EURAC Research.         [ Links ]

Almind, R. 2005. Designing Internet Dictionaries. Hermes, Journal of Linguistics 18(34): 37-54.         [ Links ]

Atkins, B.T.S. en M. Rundell. 2008. The Oxford Guide to Practical Lexicography. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Bosman, N. 2013. Die gebruik van ANNA in 'n Nederlandse taalverwerwingskursus - toegangsgemak en inligtingkoste. Botha, W.F., P. Mavoungou en D. Nkomo (Reds.). 2013: 39-54.

Botha, W.F., P. Mavoungou en D. Nkomo (Reds.). 2013. Festschrift Rufus H. Gouws. Stellenbosch: SUN MeDIA.         [ Links ]

Bothma, T.J.D. 2018. Lexicography and Information Science. Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018: 197-216.

Bothma, T.J.D. en R.H. Gouws. 2020. e-Dictionaries in a Network of Information Tools in the e-Environment. Lexikos 30: 29-56.         [ Links ]

Budiu, R. 2015. Mobile User Experience: Limitations and Strengths. Nielsen Norman Group, 19 April 2015. https://www.nngroup.com/articles/mobile-ux/ (7 Maart 2022 geraadpleeg).

Carolus, A., J.F. Binder, R. Muench, C. Schmidt, F. Schneider en S.L. Buglass. 2019. Smartphones as Digital Companions: Characterizing the Relationship between Users and their Phones. New Media & Society 21(4): 914-938.         [ Links ]

Caruso, V., B. Balbi, J. Monti en R. Presta. 2019. How Can App Design Improve Lexicographic Outcomes? Examples from an Italian Idiom Dictionary. Kozem, I. et al. (Reds.). 2019: 374-396.

Chu, J., S. Qaisar, Z. Shah en A. Jalil. 2021. Attention or Distraction? The Impact of Mobile Phone on Users' Psychological Well-Being. Frontiers in Psychology 12, 20 April 2021. https://www.frontiersin.org/articles/10.3389/fpsyg.2021.612127/full (10 Junie 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Dickson, A. 2018. Inside the OED: Can the World's Biggest Dictionary Survive the Internet? The Guardian, 23 Februarie 2018. https://www.theguardian.com/news/2018/feb/23/oxford-english-dictionary-can-worlds-biggest-dictionary-survive-internet (10 Junie 2022 geraadpleeg).

Du Plessis, A.H. 2015. 'n Analise van die selfoon-WAT: 'n Grondslag vir die verbetering van selfoonwoor-deboeke. Ongepubliseerde MA-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Dziemianko, A. 2018. Electronic Dictionaries. Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018: 663-683.

Ferrett, E. en S. Dollinger. 2021. Is Digital Always Better? Comparing Two English Print Dictionaries with their Digital Counterparts. International Journal of Lexicography 34(1): 66-91.         [ Links ]

Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018. The Routledge Handbook of Lexicography. Londen/New York: Routledge.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014a. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014b. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(3): 481-504.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke. Lexikos 28: 177-195.         [ Links ]

Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlyn/New York: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: AFRICAN SUN MeDIA.         [ Links ]

Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012. Electronic Lexicography. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Holmer, L. en E. Sköldberg. 2014. Appifiering till allas lycka? Om danska ordboksappar med sàrskilt fokus pá DDO. LexicoNordica 21: 235-252.         [ Links ]

Jackson, H. (Red.). 2022. The Bloomsbury Handbook of Lexicography. Tweede uitgawe. Londen: Bloomsbury Academic.         [ Links ]

Klosa, A. en R.H. Gouws. 2015. Outer Features in e-Dictionaries. Lexicographica 31: 142-172.         [ Links ]

Klosa-Kückelhaus, A. 2022. The Design of Internet Dictionaries. Jackson, H. (Red.). 2022: 405-421.

Kosem, I., M. Jakubícek, J. Kallas en S. Krek (Reds.). 2015. Electronic Lexicography in the list Century: Linking Lexical Data in the Digital Age. Proceedings of the eLex 2015 Conference, ii-i3 August 2015, Herstmonceux Castle, United Kingdom. Ljubljana/Brighton: Trojina, Institute for Applied Slovene Studies/Lexical Computing Ltd.

Kosem, I., T. Zingano Kuhn, M. Correia, J.P. Ferreria, M. Jansen, I. Pereira, J. Kallas, M. Jakubícek, S. Krek en C. Tiberius (Reds.). 2019. Proceedings of the eLex 2019 Conference, i-3 October 2019, Sintra, Portugal. Brno: Lexical Computing CZ, s.r.o.

Kwary, D.A. 2013. Principles for the Design of Business Dictionaries on Mobile Applications. Hermes, Journal of Language and Communication in Business 26(50): 69-81.         [ Links ]

Maiman, M. 2022. Top 5 Technology Trends for 2022. Electronic Design, 12 Jan. 2022. https://www.electronicdesign.com/resources/industry-insights/article/21213883/intelligent-product-solutions-top-5-technology-trends-for-2022 (7 Maart 2022 geraadpleeg).

Mayer-Schönberger, V. en T. Ramge. 2022. Access Rules: Freeing Data from Big Tech for a Better Future. Oakland, California: University of California Press.         [ Links ]

Müller-Spitzer, C. 2013. Textual Structures in Electronic Dictionaries Compared with Printed Dictionaries: A Short General Survey. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 367-381.

Oxford Languages. 2022. Oxford Languages and Google. https://languages.oup.com/google-dictionary-en/ (10 Junie 2022 geraadpleeg).

Restyandito, S. en E. Kurniawan. 2017. The Effect of Screen Size and Interaction Style on Mobile Device Usability. Engineering Letters 25(4): 354-359.         [ Links ]

Simonsen, H.K. 2014. Mobile Lexicography: A Survey of the Mobile User Situation. Abel, A., C. Vettori en N. Ralli (Reds.). 2014: 249-261.

Simonsen, H.K. 2015. Mobile Lexicography: Let's Do it Right This Time! Kosem, I., M. Jakubícek, J. Kallas en S. Krek (Reds.). 2015: 84-104.

Statista. 2021. Number of Smartphone Subscriptions Worldwide from 2016 to 2026. https://www.statista.com/statistics/330695/number-of-smartphone-users-worldwide (1 Maart 2022 geraadpleeg).

Tarp, S. 2012. Theoretical Challenges in the Transition from Lexicographical p-Works to e-Tools. Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012: 107-118.

Van der Spuy, M. 2018. Afrikaans is waar hy tuis voel. Eikestadnuus, 11 Junie. https://www.netwerk24.com/netwerk24/za/eikestadnuus/nuus/afrikaans-onstuitbaar-se-willem-20180606-2 (6 Maart 2022 geraadpleeg).

Wiegand, H.E. en S. Beer. 2013. Access Structures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 110-148.

Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013. Macrostructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 73-110.

Woolley, D. 2022. Key Technology Trends for CIOs. ITWeb, 9 Februarie 2022. https://www.itweb.co.za/content/O2rQGqAn1EYvd1ea (6 Maart 2022 geraadpleeg).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License