SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 special issue 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1730 

ARTIKELS/ARTICLES

 

Aspekte van vernuwing in die Afrikaanse leksikografie: Standaard- en pedagogiese woordeboeke as barometer

 

Innovative Aspects of Afrikaans Lexicography: Standard and Pedagogical Dictionaries as Barometer

 

 

Herman L. BeyerI; Phillip A. LouwII

ISkool vir Geesteswetenskappe, die Gemeenskap en Ontwikkeling, Universiteit van Namibië, Windhoek, Namibië, en Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika (hbeyer@unam.na)
IIOxford University Press Southern Africa, Kaapstad, Suid-Afrika (phillip.louw@oup.com)

 

 


OPSOMMING

Die doel van hierdie bydrae is om 'n oorsig te bied op die areas van grootste vernuwing in die Afrikaanse leksikografie oor die afgelope twee dekades, met spesifieke verwysing na standaard- en pedagogiese woordeboeke, aangesien dít die tipologiese klasse is waarin die meeste vooruitgang te bespeur is. Daar sal egter ook na ander woordeboeksoorte en kontekste verwys word waar dit relevant is vir die bespreking. Eerstens sal kortliks na die huidige stand van sake in die Afrikaanse leksikografie gekyk word, in terme van bestaande leksikografiese produkte. Tweedens word enkele opmerkings aangebied oor die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie - 'n onderwerp wat nog nie eintlik aandag in metaleksikografiese ondersoek geniet het nie. Die rol van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en die kommersiële woordeboekuitgewers word ook uitgelig. Daarna word kommentaar gelewer op sekondêre en spesifieke leksikografiese prosesse, met verwysing na korpusleksikografie en lemmaseleksie, makrostrukturele vernuwing, en mikrostrukturele vernuwing. Die bespreking van mikrostrukturele vernuwing sluit in geïntegreerde mikrostrukture in vertalende woordeboeke, leksikografiese definisies in verklarende woordeboeke, koteksinskrywings, en aspekte van grammatikale data. Die stand van sake van en 'n toekomsblik op die Afrikaanse e-leksikografie word ook aangeraak. Laastens sal enkele opmerkings oor spesiale woordeboeke gemaak word.

Sleutelwoorde: e-leksikografie, kommersiële leksikografie, korpusleksikografie, leksikografiese definisie, makrostruktuur, mikrostruktuur, pedagogiese leksikografie, skoolwoordeboek, verklarende woordeboek, vertalende woordeboek


ABSTRACT

The aim of this contribution is to offer an overview of the areas of most significant innovation in the Afrikaans lexicography over the past two decades, with specific reference to standard and pedagogical dictionaries, since they represent the typological categories in which most development is visible. However, reference will also be made to other dictionary types and contexts where relevant. Firstly, the current state of affairs with regard to the Afrikaans lexicography will be outlined in terms of existing lexicographic products. Secondly, some comments will be offered on the professionalisation of Afrikaans lexicography - a topic which has not really been dealt with in metalexicographical research. The roles of the Bureau of the Woorâeboek van die Afrikaanse Taal and commercial dictionary publishers will also be highlighted. Thereafter, secondary and specific lexicographic processes will be discussed, with reference to corpus lexicography and lemma selection, macrostructural innovation, and microstructural innovation. The discussion of the latter will include integrated microstructures in bilingual dictionaries, lexicographic definitions in monolingual dictionaries, cotext entries, and aspects of grammatical data. The state of affairs and future of the Afrikaans e-lexicography will also be addressed. Finally, some comments on special dictionaries will be offered.

Keywords: commercial lexicography, corpus lexicography, e-lexicography, explanatory dictionary, lexicographic definition, macrostructure, microstructure, pedagogical lexicography, school dictionary, translation dictionary


 

 

1. Inleiding

Willem F. Botha se termyn as Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het tydens 'n kritieke periode in die geskiedenis van die omvattendste leksikografieprojek vir Afrikaans aangebreek. Danksy sy transformerende leierskap staan die projek tans op 'n sterker basis as ooit. Botha het die enorme finansiële uitdagings wat elke Suid-Afrikaanse nasionale leksikografie-eenheid in die gesig staar trompop geloop en suksesvol 'n innoverende befondsingsplan geïmplementeer wat nuwe hoop gebring het vir die spoedige voltooiing van die WAT - asook dít wat daarná sal moet gebeur (vgl. Meyer en Botha 2018). Afgesien van sy verantwoordelikheid om die volhoubaarheid van die WAT-projek te verseker, was Botha, met die ondersteuning van die eindredakteur, senior mederedakteurs en mederedakteurs by die Buro, uiteraard ook dié beampte wat uiteindelik aanspreeklik is vir die gehalte van die leksikografiese werk aan die WAT.

'n Akademiese studie van die Botha-era by die Buro van die WAT moet oorgelaat word aan die leksikografiese historiologie. Hiérdie bydrae wil hulde bring aan Botha se veelsydigheid as ongetwyfeld een van dié mees ervare en kundige Afrikaanse leksikograwe. Dit neem 'n hibridiese karakter aan wat enigsins strook met die uiteenlopende aard van die veeleisende taak waarvan Botha hom volgens alle aanduidinge met onderskeiding gekwyt het. Aan die een kant word bepaalde aspekte onder bespreking wetenskaplik benader. Aan die ander kant word 'n oorsig op ontwikkelinge met betrekking tot Afrikaanse woordeboeke gegee uit die perspektief van die kommersiële leksikografie en die woordeboekmark. Sodanige oorsig word baseer op waarnemings en ondervinding in die veld wat nie noodwendig geboekstaaf is nie, aangesien kommersiële woordeboekuitgewers oor die algemeen nie gretig is om publikasieplanne en -evaluerings asook produksie-, verspreidings- en verkoopsyfers te publiseer nie. Daarom sou aspekte van die kommentaar hierin moontlik kon voorkom as ongestaafde stellings. Hiervoor kan slegs die kennis en ondervinding van die outeurs, en die diensbepalings en -voorwaardes van hulle werkgewers, as verweer aangebied word. Tog word gehoop dat hierdie kommentaar wel sinvol tot die metaleksikografiese gesprek kan bydra.

Die doel van hierdie bydrae is om 'n oorsig te bied op die areas van grootste vernuwing in die Afrikaanse leksikografie oor die afgelope twee dekades, met spesifieke verwysing na standaard- en pedagogiese woordeboeke, aangesien dít die tipologiese klasse is waarin die meeste vooruitgang te bespeur is. Daar sal egter ook na ander woordeboeksoorte en kontekste verwys word waar dit relevant is vir die bespreking. Gevolglik val die fokus nie op die WAT as sodanig nie. Die bespreking word egter aangebied in die gees van Botha se vernuwende invloed op die werk aan die WAT.

Eerstens sal kortliks na die huidige stand van sake in die Afrikaanse leksikografie gekyk word, in terme van bestaande leksikografiese produkte. Tweedens word enkele opmerkings aangebied oor die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie - 'n onderwerp wat nog nie eintlik aandag in metaleksikografiese ondersoek geniet het nie. Daarna word kommentaar gelewer op korpusleksikografie as een van die onlangse vernuwings in die Afrikaanse skoolwoordeboekleksikografie. Vierdens sal vernuwing met betrekking tot sekondêre en spesifieke leksikografiese prosesse aan die bod kom, waarna die stand van sake van en 'n toekomsblik op Afrikaanse e-leksikografie aangebied word. Laastens sal enkele opmerkings oor spesiale woordeboeke gemaak word.

 

2. Bestekopname

Carstens (2018: 413-429) bied 'n insiggewende opname van die versameling Afrikaanse woordeboeke, min of meer aan die hand van Gouws (1989: 60-72) se woordeboektipologie. Hiervolgens is die volgende leksikografiese naslaanbronne in Afrikaans beskikbaar:

- Die sinchroniese, omvattende WAT as vlagskipprojek van die Afrikaanse leksikografie;

- Drie eentalige handwoordeboeke, waarvan die negende uitgawe van die Verklarende Afrikaanse woordeboek (Labuschagne en Eksteen 2010 - voortaan VAW9) en die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Luther, Pheiffer en Gouws 2015 - voortaan HAT6) in druk is;

- Minstens 50 vakwoordeboeke, 44 vakwoordelyste en 60 beperkte woordeboeke, sommige tweetalig, sommige slegs (nog) aanlyn beskikbaar. Onder die beperkte woordeboeke ressorteer drie aanleerderswoordeboeke.

- 'n Betreklik groot versameling (15) tweetalige woordeboeke wat Afrikaans met Engels, Duits, Japannees, Nederlands, Xhosa of Zoeloe paar, waarvan die standaard Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans Woordeboek (Du Plessis 2005 - voortaan PAED) en 'n makrostruktureel gereduseerde weer-gawe daarvan, naamlik Kernwoordeboek/Concise Dictionary Afrikaans-Engels/ English-Afrikaans (Pheiffer 2007), die bekendste eksponente is, soos te verwagte in 'n land waar Engels die de facto lingua franca is. Die jongste toevoeging tot hierdie kategorie is Pharos Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands (Martin 2011 - voortaan ANNA) en Kotzé (2016) se Afrikaans-Japannese Woordeboek, elk met beperkte oplae; eersgenoemde is ook aanlyn beskikbaar.

- Ses veeltalige vertalende woordeboeke, waarvan die mees onlangse eksponent Bennett en Tsoeu (2010) se Multilingual Illustrated Dictionary met sewe Suid-Afrikaanse tale is.

Uit hierdie opname blyk dit dat Afrikaans op die oog af oor 'n uitgebreide en selfs indrukwekkende woordeboektipologie beskik, veral in vergelyking met die ander Suid-Afrikaanse en Namibiese tale.1 Wat egter opvallend is van Carstens (2018) se opname, asook van bestekopnames van die ryk geskiedenis van die Afrikaanse leksikografie (vgl. Gouws en Ponelis (1992) en Gouws (2013)), is dat die fokus byna uitsluitlik op woordeboeke vir volwassenes val. Hoewel Carstens (2018) se opname aanleerderswoordeboeke (vir volwassenes) insluit, word geen melding van skoolwoordeboeke gemaak nie, ten spyte daarvan dat Gouws (1989: 71) se woordeboektipologie daarvoor voorsiening maak (hoewel skoolwoordeboeke saam met aanleerderswoordeboeke tot verklarende pedagogiese woordeboeke beperk word). Indien produksievolumes en verkope van Afrikaanse woordeboeke in ag geneem word, is dit egter ongetwyfeld skoolwoordeboeke wat die mark domineer. Selfs die monumentale handwoordeboeke, wat aanvanklik met 'n volwasse teikengebruiker in gedagte saamgestel is, word merendeels vir gebruik in hoërskoolklaskamers aangekoop. (Dit geld ook vir Engelse woordeboeke in Suid-Afrika en Namibië.) Trouens, die dominansie van skoolwoordeboeke is sodanig dat hulle verkope as kruissubsidie vir alle ander leksikografiese werk by Suid-Afrikaanse kommersiële woordeboekuitgewers dien. Dus, in terme van die aantal potensiële gebruikers wat besondere leksikografiese naslaanwerke raadpleeg, bewys blote verkoopsyfers dat skoolwoordeboeke bo die res van die Afrikaanse woordeboektipologie uittoring, met standaardwoordeboeke (wat ook in hoërskoolklaskamers gebruik word) in die tweede plek. 'n Gebruikersgerigte leksikografie kan hierdie stand van sake nie ignoreer nie. Daarom is dit nie verrassend nie dat baie van die onlangse leksikografiese vernuwing juis in skoolwoordeboeke asook standaardwoordeboeke neerslag gevind het - vernuwing wat reeds meer as twee dekades gelede deur Ponelis (1996) bepleit is.

 

3. Die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie2

Volgens Callaghan (2014) vind professionalisering plaas wanneer 'n beroep die volgende kenmerke verwerf: (i) 'n etiese kode, (ii) 'n stel gevestigde opleidingspraktyke, (iii) 'n vasgestelde stel gespesialiseerde vaardighede, (iv) 'n professionele liggaam, en (v) 'n proses van selfregulering. Daarbenewens moet die betrokke beroep in die breër samelewing as 'n professie erken word: Die status van die professie as sodanig is dus afhanklik van 'n kultuurtoestand waarin sy praktyke as die moeite werd en as sosiaal aanvaarbaar gereken word.

Die totstandkoming van die Buro van die WAT in 1926 kan beskou word as die legging van die hoeksteen vir die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie. Op hierdie hoeksteen is van vroeg af aansienlike bouwerk verrig in terme van kenmerk (iii) deur die personeel van die Buro en van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (vgl. o.m. Odendaal 2016a, 2016b). Die vestiging van 'n program vir leksikografie in die negentigerjare aan dié departement onder leiding van prof. Rufus Gouws het verder voorsien in die groot behoefte aan formele opleiding en navorsing in die leksikografie in Suid-Afrika (Gouws 1996: 107; 2001), wat tot die vervulling en versterking van kenmerk (ii) en (iii) bydra. In die periode 1986-2012 alleen is nie minder nie as 29 magister- en 22 doktorale studies in die leksikografie uit hierdie program afgelewer (vgl. Botha, Mavoungou en Nkomo 2013: 295-299). Hierbenewens het die Buro van die WAT substansiële bydraes gelewer met opleidingsprogramme in die praktiese leksikografie en die verskaffing van dienste om die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse leksikografie te bevorder (vgl. Van Schalkwyk 1996). 'n Besondere mylpaal is die stigting van die leksikografievaktydskrif Lexikos in 1991 deur die Buro van die WAT. Lede van die Buro (onder wie Botha) dra ook wetenskaplike artikels tot hierdie publikasie by, saam met ander Afrikaanse metaleksikograwe. In 1995 word die African Association for Lexicography (Afrilex) gestig, wat as 'n volgende mylpaal in die professionalisering van die leksikografie beskou kan word (kenmerk (iv)). Gestimuleer deur die relatief groot aantal referate oor skoolwoordeboeke by Afrilex se jaarlikse internasionale kongresse, word op 3 September 2013 in Stellenbosch 'n spesialebelangeroep gestig wat fokus op navorsing oor skoolwoordeboeke, naamlik SchoolLex. By die stigtingsvergadering was agt (meta)leksikograwe sowel as verteenwoordigers van die uitgewerye Oxford University Press Southern Africa (OUPSA), Pearson en Pharos teenwoordig (Beyer 2014). Wat leksikografiese etiek (kenmerk (i)) betref, dien veral wetgewing rondom kopiereg en intellektuele eiendom as norm (vgl. bv. Alberts en Jooste 1998). In die metaleksikografie geld die norme van etiese navorsing in die sosiale wetenskappe. Indien tentatief aanvaar kan word dat kenmerk (v) meer pertinent op wetlik gereguleerde professies in byvoorbeeld die regswese en gesondheidsdienste betrekking het, is die voorlopige gevolgtrekking dat die Afrikaanse leksikografie in 'n beduidende mate geprofessionaliseer is, danksy bogenoemde bydraes. Tog is daar een kenmerk wat Callaghan (2014) nie aanroer nie, waarskynlik omdat dit as vanselfsprekend aanvaar word en deur die ander kenmerke en die sosiale dimensie daarvan veronderstel word. Dit is naamlik dié kenmerk dat die betrokke professie die voltydse beroep van 'n beduidende aantal kundiges is.

Vir lank was die betreklik klein komplement leksikografiese personeel verbonde aan die Buro van die WAT die enigste professionele Afrikaanse leksikograwe. Hierdie getal het egter gegroei met die vestiging van vakterminologiedienste en taalburo's by verskeie staatsdepartemente en universiteite,3 wat aanleiding gegee het tot die publikasie van die indrukwekkende versameling vakwoordeboeke en -woordelyste wat Carstens (2018) hier bo rapporteer. In sy opgawe van die leksikografiese behoeftes van Afrikaans, meld Ponelis (1996: 30-31) egter dat Afrikaanse standaardwoordeboeke en skoolwoordeboeke op deeltyde basis deur akademici bewerk word wat nie oor die tyd en hulpbronne beskik om deeglike empiriese leksikografie te beoefen nie. Ponelis (1996: 31) meld ook dat skoolwoordeboeke gebaseer is op "the obsolete lexicographic examples of their more extensive counterparts" (m.a.w. standaardwoordeboeke). Die vraag kan dus tereg gestel word in welke mate die Afrikaanse standaard- en skoolwoordeboekleksikografie ten tye van Ponelis se verslag geprofessionaliseer was. Hierop sal toekomstige navorsing 'n antwoord kan bied.

Drie jaar voor Ponelis (1996) se verslag verskyn die eerste Afrikaanse leksikografiese produk by Oxford University Press (OUP) in die vorm van Die Oxford Kortspelgids (Coetser 1993). Ponelis (1994: 301) sluit sy resensie van dié werk soos volg af:

Hiermee het Oxford University Press, wat een van die vernaamste woordeboek-bedrywe ter wêreld huisves, sy kleintoontjie in die waters van die Afrikaanse leksikografie natgemaak. Kan dit die begin van groter dinge wees?

Die antwoord op Ponelis se vraag begin vorm aanneem in die vroeë 2000's, toe oUPSA begin met 'n ambisieuse plan om fokus te verskuif en benewens Engelse eentalige woordeboeke ook tweetalige woordeboeke uit te gee. Hiervoor is noodwendig op die insette van eksterne vakkundiges en vryskutleksikograwe gesteun, maar mettertyd is ook 'n spesiale span permanente personeel aangestel. Dit is oUPSA se tweetalige skoolwoordeboeke wat uiteindelik op Ponelis antwoord. Ook die uitgewer Pharos het 'n permanente kernspan leksikograwe in diens.

In die periode 2007-2012 stel Pearson twee voltydse leksikograwe aan om 'n omvattende herbewerking van die vyfde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal en Gouws 2005 - voortaan HAT5) te onderneem, ter voorbereiding op die publikasie van HAT6. Die resultaat is "die grootste hersiening sedert die verskyning van die derde uitgawe in 1993" (HAT6: vii). Dus, die feit dat minstens twee leksikograwe voltyds aan HAT6 kon werk, het tot gevolg gehad dat die redaksie 'n diepgaande hersiening kon onderneem en veel meer kon deurvoer as tydens die vorige hersienings, wat deur Ponelis (1996: 30) as grootliks kosmeties bekla is. (Vergelyk wel Odendal (2006) vir insig in die samestellings- en hersieningsprosesse tot en met HAT5.)

Dit is duidelik dat die voortgaande professionalisering van die Afrikaanse leksikografie, veral wat uitgewers se indiensneming van voltydse leksikograwe betref, sonder twyfel bygedra het tot die vernuwing wat oor die af gelope twee dekades in die Afrikaanse leksikografie aantoonbaar is.

Die uitgewersbedryf is egter uitgelewer aan dinamiese markkragte, en as gevolg hiervan is daar 'n redelike omset van professionele Afrikaanse leksiko-grawe. Botha se befondsingsplan vir die Buro van die WAT het tot gevolg gehad dat die Buro tans die grootste werkgewer van professionele Afrikaanse leksikograwe is. Wanneer die WAT tot by Z voltooi is, blyk dit nie onmoontlik te wees nie dat die komplement leksikografiese personeel by die Buro egter afgeskaal sal word (vgl. Meyer en Botha 2018). Die tyd sal leer of die onlangse en huidige komplement voltyds aangestelde leksikograwe by kommersiële uitgewers en die Buro van die WAT die hoogtepunt in die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie verteenwoordig.

Uiteindelik is die vraag of die Afrikaanse leksikografie inderdaad kan, wil en moet geprofessionaliseer word, en indien wel, presies hoe 'n geprofessionaliseerde leksikografie daar sou uitsien. Vergelyk byvoorbeeld Noordegraaf (2007) oor semiprofessionele beroepe, deprofessionalisering en hibriede professionalisme, waarop hier nie verder ingegaan word nie. In hierdie afdeling is die kwessie van professionalisering as 'n aspek van ontwikkeling in die Afrikaanse leksikografie sedert 2000 bloot aan die orde gestel, met die hoop dat verdere navorsing hierdeur gestimuleer sal word.

 

4. Aspekte van vernuwing in sekondêre en spesifieke leksikografiese prosesse

Hierdie afdeling fokus op sommige ontwerpkenmerke van Afrikaanse standaard- en pedagogiese woordeboeke wat die vooruitgang van die afgelope twee dekades weerspieël. Dit is tydens hierdie periode dat die grootste vernuwing met betrekking tot die tersaaklike kenmerke tot dusver plaasgevind het.

4.1 Korpusleksikografie en lemmaseleksie4

Korpusleksikografie is onderliggend aan die meeste aspekte van die onlangse vordering in die leksikografie. Empiriese leksikografie strek natuurlik veel verder terug as hierdie onlangse vooruitgang. Die Buro van die WAT het 'n omvattende versameling van ongeveer vier miljoen indekskaartjies wat met die aanvang van die projek in 1926 van stapel gestuur is. Hierdie kaartjies (wat ook nou gedigitaliseer is) bevat data wat uit boeke, tydskrifte, koerante, ensovoorts geëkserpeer is, maar ook dialektiese gebruike van bepaalde woorde in hulle makrosintaktiese kontekste. Uiteraard sal hierdie versameling nie besonder gunstig teen die moderne norme van verteenwoordigendheid of balans opweeg nie, aangesien hulle hoofsaaklik anekdoties is en dikwels uitsonderlike eerder as prototipiese gebruik verteenwoordig. Die WAT maak egter ook gebruik van ander elektroniese hulpbronne om hierdie data aan te vul (vgl. Meyer en Botha 2018).

Elektroniese korpora wat vinnig en effektief deur middel van kragtige programmatuur ontleed kan word, stel leksikograwe in staat om baie ryker beskrywings van die leksikon te gee as vroeër, toe grootliks op introspeksie staatgemaak is (Granger 2012: 3). De Schryver (2003: 167) is van mening dat "no serious compiler would undertake a large dictionary project nowadays without one (and preferably several) [korpora] at hand." Daar moet egter in gedagte gehou word dat die hulpmiddels vir die bou, annoteer en ondersoek van Afrikaanse korpora steeds ontwikkel en verfyn word. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) (2022) meld byvoorbeeld dat die korpora op sy korpusportaal "outomaties gelemmatiseer (~90% akkuraat) en van woordsoortetikette voorsien [is] (~75% akkuraat)," maar dat "[g]een kwaliteitskontrole toegepas [is] nie." Hierdie soort hulpmiddels is nog redelik onlangse ontwikkelings en hulle effektiwiteit en invloed het nog nie volledig na die Afrikaanse kommersiële leksikografie deurgespoel nie. Hierteenoor beskik die Engelse leksikografie byvoorbeeld reeds vir 'n geruime tyd oor baie gevorderde hulpmiddels: Die eerste groot Engelse woordeboek wat op 'n elektroniese korpus baseer is, is die Collins Cobuild English Language Dictionary (Sinclair 1987), die eerste produk van die COBUILD-megakorpusprojek wat in 1980 aan die Universiteit van Birmingham begin is (Landau 2001: 286-287). Dit was eers met die bewerking van HAT5 dat "'n verteenwoordigende, uitgebreide en gebalanseerde elektroniese korpus" in die Afrikaanse verklarende leksikografie gebruik is (Odendal 2006: 288). VAW9 se makrostruktuur is aangevul op grond van woorde se "frekwensietelling in Pharos se elektroniese databanke", en daarom is woorde wat "in hedendaagse koerante, tydskrifte en boeke voor[kom]" gelemmatiseer (VAW9: vii). PAED is die eerste Afrikaanse tweetalige woordeboek waarin gemeld word dat dit "gerugsteun [is] deur omvattende papier- en elektroniese teksbronne" (PAED: vii) (ons kursivering - HLB & PAL).

Al is daar geredelik toeganklike en relatief gesofistikeerde Afrikaanse korpora wat vir akademiese of niekommersiële leksikografiese gebruik gebou is (bv. VivA se korpusportaal en die Afrikaanse korpora in die Leipzig Corpora Collection (2014)), is die mees direkte toepassing van Afrikaanse korpora in die Afrikaanse leksikografie die korpora wat by die verskillende uitgewerye saamgestel en onderhou word. Pharos beskik oor 'n reeks korpora wat uit die groot verskeidenheid mediabronne tot sy beskikking as deel van die Media 24-groep ontwikkel is. OUPSA en Pearson het eerder gefokus op kleiner handboekkorpora. Albei hierdie uitgewers het toegang tot reekse handboeke in Afrikaans wat die meeste vakke in die Suid-Afrikaanse kurrikulum dek. Hierdie korpora vorm die grondslag vir die lemmakeuse vir alle nuwe skoolwoordeboeke en bied ook baie van die kollokasies en voorbeeldsinne wat 'n kenmerk van die nuwe generasie Afrikaanse skoolwoordeboeke is. Handboekkorpora is besonder nuttig vir lemmaseleksie, aangesien hulle tekste spesifiek geskryf is met ouderdomsgepaste taal vir leerders op skool. Waar handboeke wel gekritiseer kan word dat hulle nie altyd op die vlak van die teikenleser geskryf is nie, is dit des te meer belangrik dat dié tekste die basis vir lemmaseleksie vir skoolwoordeboeke vorm. 'n Sorgvuldig bepaalde steekproef en gepaardgaande korpusanalise laat leksikograwe dan ook toe om relevante sleutelwoorde en multiwoordterme uit die taal-vir-spesiale-doeleindes-strata in die skoolkurrikula te identifiseer, op te neem, en van vaktaalekwivalente of definisies te voorsien.

Hoewel korpusleksikografie in tale soos Engels reeds verskeie dekades lank 'n ingrypende invloed op die kwaliteit van woordeboeke uitoefen, is dié soort invloed eers sedert die begin van die 21ste eeu in die Afrikaanse leksikografie merkbaar. Veel meer kan dus nog in hierdie opsig van die Afrikaanse leksiko-grafie verwag word.

4.2 Makrostrukturele vernuwing

ANNA verteenwoordig 'n besondere geval van leksikografiese vernuwing as die eerste tweetalige woordeboek met 'n geamalgameerde makrostruktuur, dit wil sê een makrostruktuur wat die lemmatekens van albei behandelde tale bevat. Vergelyk die volgende artikelsubtrajek (ast1) uit dié woordeboek:

In ast1 is die romein gedrukte lemmatekens watervliegtuig, watervogel en watervoorziening Nederlandse lemmata, terwyl die kursief gedrukte water-vloertjie, watervoor en watervoorraad Afrikaanse lemmata is. Hierdie innoverende makrostruktuur hou uiteraard ook implikasies vir die mikrostruktuur in, soos wat uit ast1 blyk. Hierop word egter nie nou ingegaan nie - vergelyk Gouws (2011, 2016) en Martin (2011) vir verdere bespreking. Die interessante vernuwing wat ANNA bring, is uiteraard beperk tot 'n woordeboek wat twee genealogies nou verwante tale behandel.

4.3 Mikrostrukturele kenmerke

Mikrostrukturele vernuwing is tekenend van die onlangse vooruitgang in die Afrikaanse leksikografie. Die kerneksponente hiervan word vervolgens uitgelig.

4.3.1 Geïntegreerde mikrostrukture in vertalende woordeboeke

Ietwat verrassend en in teenstelling met die heersende internasionale leksikografiese praktyk, vertoon die huidige standaard- vertalende Afrikaans-Engelse woordeboeke nie die tipiese geïntegreerde mikrostrukture nie, dit wil sê mikro-strukture waarin die vertaalekwivalente en koteksinskrywings van 'n bepaalde betekenisonderskeiding in 'n enkele integraat (hetsy in 'n teksblok of paragraaf) aangebied word voordat die volgende betekenisonderskeiding in 'n aparte integraat verskyn. (Vergelyk Gouws en Prinsloo (2005: 138-142) vir 'n bespreking van mikrostruktuurtipes.) Die volgende woordeboekartikel (wa1) uit die verkorte standaard- vertalende woordeboek Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans Kernwoordeboek/Afrikaans-English/English-Afrikaans Concise Dictionary (Pheiffer 2007) dien as voorbeeld:

In hierdie tipe mikrostruktuur is daar geen aantoonbare adresseringstruktuur tussen die lemma en verwante vertaalekwivalente aan die een kant en die koteksinskrywings aan die ander kant nie. Ruimtebeperkings maak nie voorsiening vir 'n volledige uiteensetting van die verskeie gebruikersvriendelikheidsprobleme van hierdie tipe mikrostruktuur en die kritiek daarteen in die literatuur nie (vgl. wel Gouws 2003.) Hierdie konvensie is duidelik die nalatenskap van die eerste relatief omvattende Afrikaanse vertalende woordeboeke, die Bilingual Dictionary English-Afrikaans (Bosman, Van der Merwe et al. 1931) en die Tweetalige Woordeboek Afrikaans-Engels (Bosman, Van der Merwe et al. 1936). Ongelukkig is hierdie nalatenskap voortgesit in die skoolwoordeboeke wat tot in die eerste dekade van hierdie eeu die mark oorheers het, naamlik die Skoolwoordeboek/ School Dictionary Afrikaans-Engels/English-Afrikaans (Kromhout et al. 2007) en die Tweetalige Skoolwoordeboek Afrikaans-Engels/Bilingual School Dictionary EngelsAfrikaans (Bosman, Van der Merwe en Barnes 2008).

Die verskyning van die eerste Afrikaans-Engelse aanleerderswoordeboek vir volwassenes, Tweetalige Aanleerderswoordeboek/Bilingual Learner's Dictionary (Du Plessis 1998) toon 'n duidelike beweging weg van hierdie tradisie deur 'n aansienlik meer gebruikersvriendelike geïntegreerde mikrostruktuur in te span. Vergelyk die volgende woordeboekartikel (wa2) uit dié woordeboek (p. 201):

Die verskil tussen die mikrostrukture van wa1 en wa2 is onmiskenbaar: In wa2 word elke betekenisonderskeiding duidelik genommer, en die vertaalekwivalent plus koteksinskrywings wat op 'n bepaalde betekenisonderskeiding betrekking het, word in dieselfde integraat aangebied voordat die volgende betekenisonderskeiding aan die beurt kom.

Hierdie welkome tradisiebreuk is deurgevoer na skoolvlak met die verskyning van die Oxford Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Skoolwoordeboek/School Dictionary (Louw et al. 2007) en die Longman-HAT English-Afrikaans/Afrikaans-Engels School Dictionary/Skoolwoordeboek (Luther 2011 - voortaan Longman-HAT-AE/EA), terwyl Pharos ook sedertdien sy skoolprodukte dienooreenkomstig aangepas het, byvoorbeeld in die Pharos Tweetalige Skoolwoordeboek/Bilingual School Dictionary (Smith 2012).

Die nuutste mikrostrukturele innovering in hierdie verband word verteenwoordig deur die Longman-HAT-AE/EA en die English Dictionary for South Africa (Smith 2011, voortaan EDSA), uitgegee deur Pharos in samewerking met K Dictionaries. EDSA is die eerste semitweetalige woordeboek met Afrikaans as hoofdoeltaal, en dit maak ook gebruik van 'n geïntegreerde mikrostruktuur aan die Engels-Afrikaans-kant. Vergelyk die volgende artikel (wa3) uit EDSA (p. 113):

In wa3 word definisies in die brontaal gevolg deur doeltaalekwivalente in blou by elke betekenisonderskeiding. In die Longman-HAT-AE/EA geld dieselfde soort mikrostruktuur aan beide kante. Dit is 'n algemene verskynsel in aanleerderswoordeboeke in tweetalige markte, veral in Asië. Vergelyk hierteenoor die volgende artikel (wa4, nie tipografies verteenwoordigend nie) aan die Afrikaans-Engels-kant in EDSA (p. 900):

wa4 kode cipher, code

Wa4 vertoon 'n eenvoudige mikrostruktuur sonder enige konteks- of koteks-inskrywings. Op aspekte van die omkeerbaarheidsbeginsel wat hier ter sprake is (vgl. Gouws 1989: 162-163), word nie uitgebrei nie.

Ten spyte van die mikrostrukturele vernuwing in die EDSA en die Long-man-HAT-AE/EA, toon verkoopsyfers (soos dié wat deur Nielsen BookScan aan woordeboekuitgewers verkoop word) egter dat dit nie 'n suksesvolle benadering in Suid-Afrika was nie.

Dit is dus oor die algemeen in die Afrikaanse tweetalige pedagogiese leksikografie en spesifiek met die skep van skoolwoordeboeke dat die belangrikste vooruitgang in mikrostruktuurtipes bereik is. Tog blyk dit dat sekere vernuwings óf té progressief is vir die Suider-Afrikaanse mark, óf om die een of ander rede nie aan 'n behoefte voldoen nie. Nietemin sou die algemene woordeboekgebruiker goed gedien word as die geïntegreerde mikrostruktuur uiteindelik na die standaard- vertalende leksikografie, waarin primitiewe mikrostrukture steeds figureer, kon deursuur.

In teenstelling met Afrikaanse vertalende woordeboeke, het Afrikaanse verklarende woordeboeke nog altyd polisemiese lemmata in geïntegreerde mikrostrukture behandel. Vergelyk die volgende Woordeboekartikel (wa5) uit Deel I van die WAT (Schoonees 1950: 31) as bewys:

Die WAT se voorbeeld is in alle eentalige standaard- en pedagogiese woordeboeke gevolg.

4.3.2 Vernuwing met leksikografiese definisies

Die leksikografiese definisie (of betekenisparafrase - vgl. Gouws en Prinsloo 2005: 143) is gewoonlik die belangrikste tipe leksikografiese datakategorie in 'n verklarende woordeboek. Definisies word ook gebruik in Afrikaanse vertalende woordeboeke: met 'n beperkte omvang in PAED en meer omvangryk in die Longman-HAT-AE/EA en die semitweetalige EDSA waarna hier bo verwys is. Die definisies in hierdie vertalende woordeboeke verskil in vorm en funksie van dié in die eentalig verklarende (skool)woordeboeke (vgl. Beyer 2009). Hierdie afdeling poog om 'n kort oorsig te bied oor die beginsels van definiëring in Afrikaanse verklarende woordeboeke, en in besonder verklarende skoolwoordeboeke.

4.3.2.1 Definiëringswoordeskat

Afrikaanse skoolwoordboeke bied geen bewyse in hulle bemarkingstekste of voorwerktekste vir die gebruik van definiëringswoordeskatte nie. Dit beteken egter nié dat hierdie woordeboeke nie definisies bevat wat op die een of ander wyse gereguleer is nie (vgl. Geeraerts 2003, Atkins en Rundell 2008, Svensén 2009); hoogstens suggereer dit dat leksikograwe nie noodwendig van 'n definiëringswoordeskat voorsien is nie. Redakteurs kontroleer definisiestrategieë en -formulerings streng (soos ook in voorwerktekste geïmpliseer word). Hierdie status quo bestaan dalk weens die gebrek, tot dese, aan definiëringswoordeskatte vir Afrikaans (soortgelyk aan die Engelse Oxford 3000). Terwyl sekere probleme, risiko's en nadele van definiëringswoordeskatte uitgewys word deur Rundell (1998), Atkins en Rundell (2008) en Svensén (2009), behoort die ontwikkeling van sodanige woordeskatte vir die Afrikaanse pedagogiese leksikografie steeds as dringende behoefte beskou te word om Afrikaanse woordeboeke op standaard met die heersende leksikografiepraktyk te bring.

4.3.2.2 Volsindefinisies

Volsindefinisies kom nie in alle Afrikaanse verklarende skoolwoordeboeke voor nie. Die eerste Afrikaanse woordeboek waarin hierdie tipe definisie verskyn het, was die aanleerderswoordeboek Basiswoordeboek van Afrikaans (Gouws, Feinauer en Ponelis 1994). Hierdie woordeboek het nie 'n tweede uitgawe beleef nie en is tans uit druk. Ses jaar later het die Kernwoordeboek (Odendal 2000) verskyn, ook met volsindefinisies. Al word dit nie eksplisiet so gestel nie, dui die titel se betekenis ("kernwoordeskatwoordeboek") en ontwerpkenmerke daarop dat dit heel moontlik 'n skoolwoordeboek vir eerste- en tweedetaalsprekers van Afrikaans is (Beyer 2005: 4). Die gebruik van volsindefinisies word as 'n innoverende betekenisbeskrywingstegniek in die bemarkingsteks en inleiding gekarakteriseer, asook in Beyer (2005) se bespreking van dié woordeboek. Interessant genoeg het die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek (Luther 2009 - voortaan Skool-HAT), wat volgens die voorwerk op die Kernwoordeboek gebaseer is en dit in die mark vervang het, teruggekeer na die tradisionele frasedefinisieformaat. Die nuutste toevoeging tot die Afrikaanse verklarende skoolwoordeboekspektrum, die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek (Louw 2012), waarin melding gemaak word dat dit op moderne navorsing geskoei en dus van nuuts af ontwerp is vir eerste- en tweedetaalleerders van Afrikaans tussen die ouderdomme 10 en 15 (grade 4 tot 9), het ook frasedefinisies as hoofdefinisietipe.

Atkins en Rundell (2008: 442-443) bied moontlike redes aan waarom volsindefinisies nie universeel gebruik word nie, met die mees toepaslike rede vir Afrikaans die gebrek aan ruimte in gedrukte woordeboeke. Die huidige denk-rigting in Afrikaanse verklarende skoolwoordeboeke blyk te wees die beperking van die makrostruktuur en 'n behoud van tradisionele tipes definisies om plek te maak vir voorbeeldsinne. Sinclair (2007: 46) bevind (met verwysing na die volgorde van betekenisonderskeidings) dat "[t]here may be a conflict between the commercial side of lexicography and the linguistic", en dat uitgewers sal voortgaan om aan gebruikers se behoeftes te voldoen eerder as om linguisties (en selfs metaleksikografies) heeltemal korrek te wees. Gegewe dat uitgewers nie graag hulle gebruikersnavorsing publiseer nie, moet aanvaar word dat voldoende motivering bestaan vir die behoud van tradisionele definiëringstrategieë ten koste van volsindefinisies. Woordeboeke se bekostigbaarheid kan ook beskou word as die voldoening aan 'n geldige behoefte in 'n gebruikersgedrewe (meta)leksikografie.

Afrikaanse leksikograwe het ná Kernwoordeboek nie dadelik die idee van volsindefinisies verwerp nie: Dit is gebruik in die Nuwe Woordeboek Sonder Grense (Gouws, Stark en Gouws 2004), 'n skoolwoordeboek wat die teikengroep duidelik as Afrikaanse taalleerders tussen die ouderdomme van 10 en 12 jaar (grade 4 tot 6) uitwys. Weer eens het hierdie woordeboek egter nie in die kommersiële werklikheid gedy nie, en 'n beplande nuwe uitgawe het nooit verskyn nie.

Uiteindelik geld Bogaards (2003) se voorvereiste van eksperimentele gebruikersnavorsing meer as ooit indien effektiewer definiëringstegnieke vir Afrikaanse skoolwoordeboeke ontwikkel wil word. Maar, soos die oënskynlik uiteindelike verwerping van volsindefinisies in die huidige konteks bewys, sal vernuwing altyd in ewewig met die behoudendheid van die Afrikaanse woordeboekmark moet plaasvind.

4.3.3 Vernuwing met koteksinskrywings

In hierdie afdeling word die verbreiding van koteksinskrywings en onderskeiding van kollokasies bespreek.

4.3.3.1 Die verbreiding van koteksinskrywings

Tesame met die invoer van geïntegreerde mikrostrukture, is die verbreiding van koteksinskrywings sekerlik dié kenmerkendste én suksesvolste onlangsste vernuwing wat woordeboekstrukture en -inhoud betref. Met die uitsondering van PAED, VAW9, Skoolwoordeboek/School Dictionary Afrikaans-Engels/English-Afrikaans (Kromhout et al. 2007) en die Tweetalige Skoolwoordeboek Afrikaans-Engels/ Bilingual School Dictionary Engels-Afrikaans (Bosman, Van der Merwe en Barnes 2008), is daar nie 'n nuwe Afrikaanse verklarende of vertalende standaard- of skoolwoordeboek wat die afgelope twintig jaar verskyn het waarin elke betekenisonderskeiding nié van minstens een koteksinskrywing voorsien is nie. Laasgenoemde twee woordeboeke is intussen vervang deur die Pharos Tweetalige Skoolwoordeboek/Bilingual School Dictionary (Smith 2012), wat ook konsekwent koteksinskrywings aanbied. In die geval van VAW9 moet 'n beperkte koteksaanbod egter nié noodwendig as verouderde leksikografiepraktyk beskou word nie: Dié woordeboek se gebruikersosiologie regverdig waarskynlik hierdie stand van sake, en dit skep ruimte vir 'n meer omvattende makrostruktuur.

Rademeyer (1992) verteenwoordig die intensiefste studie oor koteksinskrywings in verklarende woordeboeke tot op hede. Gouws (2000) en Beyer (2011)

het navorsing oor die adresseringstruktuur tussen koteksinskrywings en vertaalekwivalente in vertalende woordeboeke onderneem. Meer indringende navorsing oor vrye voorbeelde in veral skoolwoordeboeke ontbreek egter steeds.

4.3.3.2 Die onderskeiding van kollokasies

In die koteksafdelings van die primitiewe mikrostrukture in PAED (soos in wa1 hier bo) word kollokasies en vaste uitdrukkings sonder onderskeid (d.w.s. sonder die aanwending van tipografiese of nietipografiese struktuurmerkers) naas mekaar geplaas. Tot en met HAT5 word voorbeelde en kollokasies ook nie van mekaar onderskei nie, al word vaste uitdrukkings tog in aparte en duidelik afgebakende afdelings binne woordeboekartikels geplaas. Hierteenoor fokus VAW9 veel meer op die aanbod van kollokasies en vaste uitdrukkings en bied dus veel minder vrye voorbeelde as HAT6. In die koteksafdelings word egter geen tipografiese onderskeid getref tussen kollokasies en vaste uitdrukkings nie. Innovering in hierdie verband is ingevoer in ten minste een van die moderne skoolwoordeboeke, naamlik Skool-HAT, waarin vrye voorbeelde, kollokasies en vaste uitdrukkings almal in aparte afdelings van die woordeboekartikels aangebied en duidelik deur middel van nietipografiese merkers onderskei word. Kollokasies is ook behandelde eenhede in eie reg en word van definisies (waar hulle nie semanties deursigtig is nie) en voorbeelde voorsien om hulle gebruik te illustreer. Vergelyk die volgende woordeboekartikel (wa6) uit Skool-HAT (p. 572):

In wa6 word die kollokasies trompop loop en trompop botsing vetgedruk en deur 'n identifiserende vertikale streep voorafgegaan. Semantiese en kotekskommentaar word bygevoeg. (Die koteksinskrywing Die motors het trompop teen mekaar gebots as klaarblyklike illustrasie van die kollokasie 'n trompop botsing kan wel bevraagteken word.) Ongelukkig word hierdie vernuwing onsistematies in Skool-HAT ingevoer. In talle woordeboekartikels waar die aanbod van kollokasies verwag sou word, is daar geen sodanige aanbod nie; vergelyk die woordeboekartikels van aandag (sonder aandag skenk aan, die aandag vestig op, die aandag aflei), verbeter (sonder verbeter op) en vuur (waarin vuur blus en vuur maak as vrye voorbeelde in plaas van kollokasies gemerk is), om maar enkele gevalle uit te lig.

Uiteindelik volg HAT6 die voorbeeld van Skool-HAT en onderskei ook deur middel van struktuurmerkers tussen gewone voorbeelde en kollokasies, en wel meer sistematies en (uiteraard) meer uitgebreid as Skool-HAT, waarskynlik danksy die effektiewer benutting van elektroniese korpora.

Dit is duidelik dat die behandeling van kollokasies oor die algemeen steeds 'n relatief onderontwikkelde element in Afrikaanse woordeboeke is, iets wat ietwat teleurstellend is as in ag geneem word hoeveel literatuur reeds hieroor bestaan: Vergelyk onder meer Gouws (1989: 227-228), Otto (1989, 2013), Lombard (1992), Rademeyer (1992: 14-25) en Van Niekerk (1992).

4.3.4 Vernuwing met grammatikale inligting

Volgens Atkins en Rundell (2008) kan grammatikale data in drie inskrywingstipes in woordeboekartikels enkodeer word, naamlik (1) die tradisionele aanduiders van leksikale kategorie, (2) tradisionele grammatikale etikette, en (3) konstruksieaanduiders. Konstruksieaanduiders dui op wat beskou word as die lemma se "'syntactic valency', i.e. all the constructions which a speaker of the language must know in order to use the word flexibly and fluently" (Atkins en Rundell 2008: 219-220). Skool-HAT is tans die enigste Afrikaanse woordeboek wat konstruksieaanduiders as gidselemente vir verskillende betekenisonderskeidings benut. Vergelyk in hierdie verband die artikel vir die lemma brei2 (wa7) in hierdie woordeboek, waarin die konstruksieaanduiders iets brei, iem. brei en gebrei word die verskillende betekenisonderskeidings inlei:

Afrikaanse skoolwoordeboeke benut ook buitetekste om bykomende grammatikale inligting aan te bied, waaronder (a) ingevoegde tekste met kommentaar oor grammatikale aspekte van die lemma wat direk op die betrokke artikel volg, (b) buitetekste in die voor-, middel-, of agterwerk wat byvoorbeeld woordsoorte behandel, soos in die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek (Louw 2012), of (c) volledige minigrammatikas wat tot die helfte van 'n volledige woordeboek kan beslaan, soos in die HAT-Longman Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers (Luther, McLachlan en Barnby 2011).

Die gebruik van konstruksieaanduiders in artikels asook buitetekste om grammatikale inligting aan te bied, is baie onlangse ontwikkelings in die Afrikaanse pedagogiese leksikografie. Veral skoolwoordeboeke het hierdie vooruitgang gedryf.

 

5. E-leksikografie

Selfs 'n blote oorsig van onlangse leksikografiese ontwikkeling en vernuwing (soos in hierdie bydrae) mag nie die elektroniese medium ignoreer nie. Daarom word hier kortliks opmerkings oor die Afrikaanse e-leksikografie aangebied.

5.1 Die huidige stand van die Afrikaanse e-leksikografie

Die Afrikaanse woordeboekmark is op vele terreine steeds agter Westerse lande, en die verste só in die e-leksikografie.

Aan die tegniese woordeboekskeppingskant is daar egter groot vordering met die modernisering van woordeboekproduksiestelsels. Al die kommersiële uitgewers gebruik gevorderde korpussagteware om hulle korpora te bou en analiseer. Hulle gebruik ook moderne woordeboekskeppingsagteware wat datauitsette in veelvuldige formate (insluitende XML) lewer.

Aan die gebruikerskant blyk die vordering stadiger te wees, maar dit is nie noodwendig 'n slegte uitkoms nie. Stadiger as verwagte digitale transformasie van die Suider-Afrikaanse woordeboekmark het aan kommersiële uitgewers in Suid-Afrika tyd en ruimte gebied om die verskillende sakemodelle wat Europese en Amerikaanse uitgewers volg, waar te neem. Tans is daar 'n taamlike verskil in die benaderings deur verskillende uitgewers in Suid-Afrika. Pharos het 'n aanlyn biblioteek van Afrikaanse verklarende en vertalende woordeboeke gebou, wat in verskillende pakkette aan individuele of institusionele verbruikers verkoop word. Pearson het 'n soortgelyke produkaanbod gehad wat HAT6 en verwante skoolwoordeboeke insluit, maar die toekoms daarvan is tans onseker aangesien die subskripsiemark aan die kwyn is - 'n teken dat hierdie sakemodel (wat wêreldwyd uitgefaseer word) dalk nie lank sal oorleef nie. Een interessante variasie van hierdie sakemodel word aangebied deur 'n nietradisionele teenstander van die kommersiële uitgewers, naamlik VivA, wat 'n mengsel van gratis en subskripsiewoordeboeke (insluitende HAT6 en die WAT via toepassingsprogrammeringskoppelvlakke van die oorspronklike webbladsye af) aanbied. Die tyd sal leer of hierdie aggregatormodel dalk langer sal oorleef.

OUP het egter besluit om 'n heel ander rigting in te slaan en op twee ander moontlike digitale sakemodelle te fokus. Eerstens word daar deur die Oxford Global Languages-program die gebruik van Afrikaanse woordeboekdata aan 'n wye verskeidenheid tegnologiese maatskappye gelisensieer - Facebook was een van die eerste kliënte. Tweedens word daar tans geëksperimenteer met die inbedding van woordeboekdata in leerplatforms en -sagteware, sodat opwipsoektogte verbind kan word met woordeboekdata wat die leerders se spesifieke ouderdomme en vaardighede in ag neem. 'n Proeflopie met Engelse data is reeds onlangs suksesvol met die leesplatform Oxford Reading Safari voltrek. Die volgende stap in OUP se Suid-Afrikaanse mark sal wees om verklarende en vertalende woordeboekdata met die innoverende en omvattende Eduzoneleerplatform te integreer; die verkenningswerk daarvoor het reeds begin.

Bykomend tot inisiatiewe deur kommersiële uitgewers, het die Buro van die WAT ook 'n proses van modernisering en rekenarisering ondergaan (vgl. bv. Harteveld 1994), wat voltooi is met die implementering van databasistipe woordeboekskeppingsagteware en die produksie van 'n volledige aanlyn TSD(taal-vir-spesifieke-doeleindes)-weergawe van die WAT, hoewel helaas agter 'n betaalskerm. Die breë publiek kan toegang kry via die Buro van die WAT se eie webtuiste of inteken via VivA, maar dit is ook beskikbaar op die netwerke van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite. Die gedrukte WAT het by Deel XVI (artikeltrajek S) geëindig (Meyer en Botha 2018).

5.2 'n Blik op die toekoms van die kommersiële e-leksikografie

Die verwagting is dat institusionele e-handel met universiteite of skole (soos in Pharos se geval) veel meer winsgewend as individuele verkope van e-produkte sal word. Soos die onderwysowerhede in Suid-Afrika en Namibië hulle digitaliseringsinisiatiewe verder uitbrei, sal dit ook interessant wees om te sien wat die implikasies vir woordeboeke gaan wees. Die groot vraag wat met net die verloop van tyd beantwoord kan word, is of woordeboeke enigsins nog as afsonderlike produkte (selfs as deel van 'n subskripsiepakket) sal bly bestaan. Toenemend wil dit voorkom asof onderwysowerhede se verwagtings verskuif: Woordeboeke moet ingebed word by die internet- of intrawebleerplatforms waartoe skole toegang het, sodat leerders via opwipsoektogte toegang tot verklarende of vertalende woordeboekdata kan kry as daar woorde in die leermateriaal (handboeke, leesboeke, ens.) op die platform voorkom wat hulle nie verstaan nie. Hoewel dit uiteindelik die einde van woordeboekverkope kan beteken, sal dit woordeboeke as "moet hê"-elemente van die platform vestig, en die woordeboekontwikkelingskoste kan dan deur die verkope van die platform of die leermateriaal gekruissubsideer word. Afrikaansmediumonderrig (hetsy in staats- of private verband) bly egter dan 'n voorvereiste vir Afrikaanse woordeboekontwikkeling - en die toekoms daarvan is geen uitgemaakte saak nie.

Tog is daar ook, soos genoem in die bespreking van OUP se aktiwiteite hier bo, ander moontlike digitale verkoopsroetes. Datalisensiëringhandel met maatskappye soos Amazon, Google, Apple, Microsoft en ander om Afrikaanse woordeboekinhoud as ingebedde produkte (bv. in e-lesers soos Kindle of in ander sagtewarepakkette) of as suiwer datastelle vir ander leksikale doeleindes aan te bied, is snel besig om 'n winsgewende bedryf te word. OUP ondervind ook nou 'n groot sprong in die aanvraag na woordeboekdatastelle vir nieleksikale doeleindes, soos die verfyning van virtuele sleutelborde.

Hoewel Afrikaanse woordeboeke as unieke artefakte uiteindelik dalk nie die stadige maar onafwendbare globale digitale transformasie sal oorleef nie, is daar duidelike bewyse dat veelsydige woordeboekdatastelle die toekoms van leksikale data (en die leksikograwe wat daaraan werk) in die lang termyn sal beveilig. Vergelyk in hierdie verband Tarp (2019: 231) oor die gebruik van leksikale data waardeur leksikograwe se "own work is increasingly presented in forms different from the traditional dictionary."

5.3 Gemeenskapsleksikografie

Aanlyn tegnologieë het aanleiding gegee tot aanlyn gemeenskapsleksikografie, byvoorbeeld die Afrikaanse Wiktionary. Hierdie stand van sake open 'n nuwe dimensie, wat in die diskoers oor die toekoms van die professionalisering en kommersialisering van die Afrikaanse leksikografie verreken moet word. Weens beperkte ruimte word hier egter nie op dié aspek ingegaan nie.

 

6. Ontwikkeling van die Afrikaanse vakleksikografie

Hoewel die voorgaande bespreking verslag doen van beduidende ontwikkelinge met betrekking tot die algemene en pedagogiese leksikografie, skyn daar agteruitgang in die vakleksikografie te wees. Afrikaans het 'n baie ryk geskiedenis van tweetalige terminologielyste, saamgestel deur die Nasionale Terminologiediens onder die vorige bedeling waar Afrikaans 'n meer bevoorregte status gehad het (vgl. Alberts 2010 en afdeling 2). Ongelukkig is hierdie terminologielyste nie in stand gehou of bygewerk nie. Daar is egter resente tekens van herlewing: Pharos het 'n beperkte aantal taal-vir-spesifieke-doeleindeswoordeboeke (TSD-woordeboeke) onder hulle aanlyn aanbod; Protea Boekhuis het 'n rekenaarwoordeboek uitgegee; VivA bied 'n aanlyn tuiste vir heelwat ou woordelyste; en Juta is leksikografies aktief in 'n beperkte aantal domeine. Vergelyk ook Alberts (2017) oor die rol van Prolingua in Afrikaanse terminologieontwikkeling.

Een area wat kommer wek, is die gebrek aan TSD-woordeboeke met 'n skolefokus. Tans is die enigste Afrikaanse eksponente 'n aantal veeltalige woordeboeke, in besonder die Longman Multilingual Science Dictionary for South African Schools (Deyi, Mzi en Ngcoza 2007), die Longman Multilingual Maths Dictionary (Deyi, Minshall en Tokwe 2008) - albei gemik op leerders in die senior primêre en junior sekondêre fases) - en die Oxford Mathematics Dictionary Grades 10-12 (Tapson, Van der Vlugt en Potgieter 2013). In 'n land wat sukkel met swak prestasievlakke in Wiskunde en Wetenskap en waar taal 'n beduidende struikelblok in die onderwysstelsel is, is die ondersteuning wat twee- en veeltalige vakspesifieke hulpbronne kan bied van kardinale belang, veral vir jonger leerders.

 

7. Gevolgtrekking

Ten spyte van die ryk geskiedenis van en vooruitgang in die afgelope jare in die Afrikaanse leksikografie, moet erken word dat dit nie op gelyke stand met die ontwikkeling van die leksikografie in die Westerse wêreld, in besonder met betrekking tot elektroniese ontwikkeling en die lisensiëring van data is nie. Om op die vaste grondslag van die innoverende praktyk geskoei op moderne metaleksikografiese beginsels voort te kan bou, sal Afrikaanse leksikograwe moet let op die struikelblokke wat hulle Europese eweknieë in die onvoorspelbare digitale landskap moes omseil. Vir die kommersiële leksikograwe bied die relatief stabiele verkope in die hoofsaaklik papiergebaseerde onderwysstelsels in Suid-Afrika en Namibië vir die afsienbare toekoms steeds 'n buffer teen ontwikkelingskoste benodig om effektief tot die digitale ruimte toe te tree. Tot dan behoort empiriese gebruiker- en gebruiksnavorsing, asook woordeboekpedagogiek enige verdere innoverings wat 'n kommersiële voordeel kan bewerkstellig, te lei.

 

Eindnote

1 Baie van hierdie bronne is egter erg verouderd, vergelyk afdeling 6.
2 Hierdie afdeling wil geensins voorgee om 'n volledige of volledig akkurate beeld van die professionalisering van die Afrikaanse leksikografie te bied nie. Die hoop is dat die onderhawige opmerkings wel hierdie onderwerp aan die orde stel en verdere navorsing daaroor sal stimuleer.
3 Die Xhosa-woordeboekprojek (in 1968 aan die Universiteit van Fort Hare begin), die Dictionary Unit of South African English (in 1969 aan Rhodes Universiteit gestig) en die ander nasionale leksikografie-eenhede wat sedert 1994 gestig is, word nie negeer nie. Hulle het ongetwyfeld bygedra tot die professionalisering van die breër Suid-Afrikaanse leksikografie (waarby die Afrikaanse leksikografie uiteraard ingesluit is).
4 Kommentaar oor die stand van die Afrikaanse korpuslinguistiek val buite die bestek van hierdie bydrae. In hierdie afdeling word slegs aandag geskenk aan die benutting van korpora vir standaard- en skoolwoordeboeke.

 

Verwysings

Woordeboeke

Bennett, J. en N. Tsoeu. 2010. Multilingual Illustrated Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Bosman, D.B., I.W. van der Merwe et al. 1931. Bilingual Dictionary English-Afrikaans. Kaapstad/Bloemfontein/Port Elizabeth: Nasionale Pers.         [ Links ]

Bosman, D.B., I.W. van der Merwe et al. 1936. Tweetalige Woordeboek Afrikaans-Engels. Kaapstad/Bloemfontein/Port Elizabeth: Nasionale Pers.         [ Links ]

Bosman, D.B., I.W. van der Merwe en A.S.V Barnes. 2008. Tweetalige Skoolwoordeboek Afrikaans-Engels/Bilingual School Dictionary Engels-Afrikaans. Twaalfde uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Coetser, A.S. 1993. Die Afrikaanse Kortspelgids. Kaapstad: Oxford University Press.         [ Links ]

Deyi, S., S. Minshall en T. Tokwe. 2008. Longman Multilingual Maths Dictionary for South African Schools. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Deyi, S., M. Mzi en K. Ngcoza. 2007. Longman Multilingual Science Dictionary for South African Schools. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Du Plessis, M. 1998. Tweetalige Aanleerderswoordeboek/Bilingual Learner's Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Du Plessis, M. (Red.). 2005. Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans Woordeboek/Afrikaans-English/English-Afrikaans Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Gouws, R., I. Feinauer en F. Ponelis. 1994. Basiswoordeboek van Afrikaans. Pretoria: J.L. van Schaik        [ Links ]

Gouws, R., M. Stark en L. Gouws. 2004. Nuwe Woordeboek Sonder Grense. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Kotzé, E. 2016. Afrikaans-Japannese Woordeboek. Tokio: Research Institute for Languages and Cultures of Asia and Africa (ILCAA), Tokyo University of Foreign Studies.         [ Links ]

Kromhout, J. et al. (Reds.). 2007. Skoolwoordeboek/School Dictionary Afrikaans-Engels/English-Afrikaans. 35ste uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Labuschagne, F.J. en L.C. Eksteen. 2010. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Negende hersiene uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Louw, P.A. et al. (Reds.). 2007. Oxford Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Skoolwoordeboek/School Dictionary. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Louw, P.A. (Red.). 2012. Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Luther, J. et al. (Reds.). 2009. HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek. Kaapstad: Pearson Education South Africa.         [ Links ]

Luther, J. (Red.). 2011. Longman-HAT English-Afrikaans/Afrikaans-Engels School Dictionary/Skool-woordeboek. Kaapstad: Pearson Education South Africa.         [ Links ]

Luther, J., T. McLachlan en A. Barnby (Reds.). 2011. HAT-Longman Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers. Kaapstad: Pearson Education South Africa.         [ Links ]

Luther, J., F. Pheiffer en R.H. Gouws (Reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Martin, W. (Hoofred.). 2011. Pharos Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Odendal, F.F. 2000. Kernwoordeboek. Midrand: Perskor.         [ Links ]

Odendal, F.F. en R.H. Gouws (Reds.). 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde uitgawe. Kaapstad: Pearson Education South Africa.         [ Links ]

Pheiffer, F. (Red.). 2007. Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans Kernwoordeboek/Afrikaans-English/English-Afrikaans Concise Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Schoonees, P.C. 1950. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Eerste Deel A-C. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Sinclair, J. et al. (Reds.). 1987. Collins Cobuild English Language Dictionary. London: HarperCollins.         [ Links ]

Smith, W. (Red.). 2011. English Dictionary for South Africa. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Smith, W. (Red.). 2012. Pharos Tweetalige Skoolwoordeboek/Bilingual School Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Tapson, F., J. van der Vlugt en R. Potgieter. 2013. Oxford Mathematics Dictionary Grades 10-12. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

Ander bronne

Alberts, M. 2010. National Language and Terminology Policies - A South African Perspective. Lexikos 20: 599-620.         [ Links ]

Alberts, M. 2017. Prolingua se bydrae tot terminologieontwikkeling in Afrikaans. Lexikos 27: 16-49.         [ Links ]

Alberts, M. en M. Jooste. 1998. Lexicography, Terminography and Copyright. Lexikos 8: 122-139.         [ Links ]

Atkins, B.T.S. en M. Rundell. 2008. The Oxford Guide to Practical Lexicography. Oxford/New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2005. Standaardwoordeboek en kernwoordeboek: 'n Vergelykende evaluering. Lexikos 15: 1-37.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2009. 'n Teoretiese basis vir kontekstualisering in tweetalige woordeboeke. Lexikos 19: 1-22.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2011. Voorbeelde en ooradressering in tweetalige woordeboeke. Lexikos 21: 78-94.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2014. SchoolLex. Aanbieding tydens sessie 2: "Lexicographic Teaching and Teaching of Dictionary Use". 19de internasionale kongres van die African Association for Lexicography, Potchefstroom, Suid-Afrika, 30 Junie-3 Julie 2014.

Bogaards, P. 2003. Uses and Users of Dictionaries. Van Sterkenburg, P. (Red.). 2003. A Practical Guide to Lexicography: 26-33. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.

Botha, W., P. Mavoungou en D. Nkomo (Reds.). 2013. Festschrift Rufus H. Gouws. Stellenbosch: SUN MeDIA.         [ Links ]

Callaghan, J. 2014. Professions and Professionalization. Teo T. (Red.). 2014. Encyclopedia of Critical Psychology. New York: Springer. (https://doi.org/10.1007/978-1-4614-5583-7_239) 4 Junie 2022.

Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. Sesde uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

De Schryver, G.-M. 2003. Lexicographers' Dreams in the Electronic-dictionary age. International Journal of Lexicography 16(2): 143-199.         [ Links ]

Geeraerts, D. 2003. Meaning and Definition. Van Sterkenburg, P. (Red.). 2003. A Practical Guide to Lexicography: 83-93. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.

Gouws, R.H. 1989. Leksikografie. Pretoria/Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Gouws, R.H. 1996. A Sequence for Meeting Lexicographic Needs. Mitchell, R. (Red.). 1996. Lexicography as a Financial Asset in a Multilingual South Africa. Seminar held at the Bureau of the WAT, University of Stellenboch, 12 April 1996: 97-110. Language Planning Report No. 5.3. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology.

Gouws, R.H. 2000. Doeltaalgerigtheid teenoor lemmagerigtheid in vertalende woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 40(1): 39-47.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2001. Lexicographic Training: Approaches and Topics. Emejulu, J.D. (Red.). Elements de Lexicographie Gabonaise. Tome I: 58-94. New York: Jimacs-Hillman.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2003. Types of Articles, their Structure and Different Types of Lemmata. Van Sterkenburg, P. (Red.). 2003. A Practical Guide to Lexicography: 34-43. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2011. ANNA: 'n Nuwe leksikografiese benadering met nuwe strukture vir ou funksies en gevestigde gebruikers. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 18(2): 3-13.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2013. Aspects of Afrikaans Lexicography. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard and H.E. Wiegand (Eds.). 2013. Dictionaries: An International Encyclopedia of Lexicography, Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography: 827-835. Berlyn/New York: De Gruyter Mouton.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2016. Oor ANNA en ander andershede in die Afrikaanse leksikografie. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 23(1): 58-80.         [ Links ]

Gouws, R.H. en F.A. Ponelis. 1992. The Development of Afrikaans and the Lexicographical Tradition. Zgusta, L. (Red.). History, Languages and Lexicographers: 77-104. Tubingen: Max Niemeyer.         [ Links ]

Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: SUN MeDIA.         [ Links ]

Granger, S. 2012. Introduction: Electronic Lexicography - From Challenge to Opportunity. Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012. Electronic Lexicography: 1-11. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Harteveld, P. 1994. Die invloed van rekenarisering op die leksikografiese praktyk in die Buro van die WAT. Ongepubliseerde M.A.-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Landau, S.I. 2001. Dictionaries. The Art and Craft of Lexicography. Tweede uitgawe. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Leipzig Corpora Collection. 2014. (https: //korpora.uni-leipzig.de) 4 Junie 2022.

Lombard, F.J. 1992. Voorbeeldmateriaal in woordeboeke. Lexikos 2: 148-164.         [ Links ]

Martin, W. 2011. ANNA: Een WOORDENBOEK met een NAAM (en wat er ACHTER steekt). Tyd-skrif vir Nederlands en Afrikaans 18(2): 14-27.         [ Links ]

Meyer, N. en W. Botha. 2018. Woordeboek van die Afrikaanse Taal: Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT. LitNet. (https://Www.litnet.co.za/woordeboek-van-die-afrikaanse-taal-tienjaarplan-vir-die-voltooiing-van-die-wat/) 6 Junie 2022.

Noordegraaf, M. 2007. From "Pure" to "Hybrid" Professionalism. Present-Day Professionalism in Ambiguous Public Domains. Administration & Society 39(6): 761-785.         [ Links ]

Odendaal, G. 2016a. Die rol van die US se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie: Die Nederlands-Afrikaans-stryd gedurende die aan-vangsjare. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56(1): 257-276.         [ Links ]

Odendaal, G. 2016b. Die rol van die US se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie onder Nederlandse invloed: Verklarende standaard-woordeboeke. Lexikos 26: 193-219.         [ Links ]

Odendal, F.F. 2006. HAT veertig jaar - 'n persoonlike oorsig. Lexikos 16: 280-289.         [ Links ]

Otto, A.N. 1989. Kriteria vir 'n Afrikaanse aanleerderwoordeboek. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Otto, A.N. 2013. 'n Kritiese waardering van die hantering van kollokasies en idiome in die HAT (2005). Botha, W.F., P. Mavoungou en D. Nkomo (Reds.). 2013. Festschrift Rufus H. Gouws: 188-195. Stellenbosch: SUN MeDIA.         [ Links ]

Ponelis, F. 1994. Resensie van Die Oxford Kortspelgids (Coetser 1993). Lexikos 4: 301.         [ Links ]

Ponelis, F. 1996. The Lexicographic Needs of Afrikaans. Mitchell, R. (Red.). 1996. Lexicography as a Financial Asset in a Multilingual South Africa. Seminar held at the Bureau of the WAT, University of Stellenboch, 12 April 1996: 27-35. Language Planning Report No. 5.3. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology.

Rademeyer, L. 1992. Die funksies van verbale voorbeeldmateriaal in eentalige woordeboeke. Ongepubliseerde M.A.-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Rundell, M. 1998. Recent Trends in English Pedagogical Lexicography. International Journal of Lexicography 11(4): 315-342.         [ Links ]

Sinclair, J. 2007. Defining the Definiendum. De Schryver, G.-M. (Red.). 2010. A Way with Words: Recent Advances in Lexical Theory and Analysis. A Festschrift for Patrick Hanks: 37-47. Kampala: Menha.         [ Links ]

Svensén, B. 2009. A Handbook of Lexicography. The Theory and Practice of Dictionary-making. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Tarp, S. 2019. Connecting the Dots: Tradition and Disruption in Lexicography. Lexikos 29: 224-249.         [ Links ]

Van Niekerk, A.E. 1992. Kollokasies: 'n Leksikografiese perspektief. Lexikos 2: 254-264.         [ Links ]

Van Schalkwyk, D.J. 1996. The Bureau of the WAT. Mitchell, R. (Red.). 1996. Lexicography as a Financial Asset in a Multilingual South Africa. Seminar held at the Bureau of the WAT, University of Stellenboch, 12 April 1996: 149-154. Language Planning Report No. 5.3. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology.

Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2022. Korpusportaal. (http://viva-afrikaans.org.) 4 Junie 2022.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License