SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32Teaching Lexicography as a University Course: Theoretical, Practical and Critical ConsiderationsA Critical Evaluation of Three Sesotho Dictionaries índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Lexikos

versão On-line ISSN 2224-0039
versão impressa ISSN 1684-4904

Lexikos vol.32  Stellenbosch  2022

http://dx.doi.org/10.5788/32-1-1740 

ARTICLES

 

'n Prototipe-aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek

 

A Prototype Afrikaans Online Dictionary for Academic Editing Purposes

 

 

Maret Blom de Wet

Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika (maretblom@sun.ac.za)

 

 


OPSOMMING

Die nagraadse studente aan hoeronderwysinstellings in die Suid-Afrikaanse konteks het volgens Van Aswegen (2007: 1141) onvoldoende akademiese skryfvaardighede en 'n tekort aan navorsingsvaardighede; daarom groei die aanvraag na die diens van redigeerders wat spesifiek akademiese tekste redigeer. Die redigeerders van Afrikaanse akademiese tekste onder-vind egter probleme met naslaanbronne (stylgidse of standaardiseringsbronne) wat hulle kan gebruik om konsekwentheid in die akademiese tekste te verseker. Gevolglik het hierdie redigeerders 'n behoefte aan 'n Afrikaanse woordeboek wat spesiaal gerig is op die behoeftes van akademiese redigeerders (Blom 2020: 18).'n Model vir die ontwerp van 'n aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek (Blom se 2018-woordeboekmodel) is opgestel as die eerste deel van 'n groter projek wat daarop gemik is om 'n volledige aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek saam te stel. Ten einde Blom se 2018-woordeboekmodel te implementeer om 'n volledige woordeboek saam te stel, moet 'n prototipewoordeboek ontwikkel word en dan getoets word deur sy teikengebruikers (akademiese redigeerders).
In hierdie artikel is die beginsels van die funksieteorie (Fuertes-Olivera en Tarp 2014), Gouws (2014a; 2014b; 2018a; 2018b; 2018c; 2018d) se aanpassings van die algemene leksikografieteorie en bruikbaarheidsteoriee (ISO-standaard 9241 (1998a)(1998b)(2006)) gebruik om die genoemde prototipe-Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek saam te stel. Hierdie geintegreerde teorie maak die samestelling van 'n gebruikersvriendelike prototipewoordeboek moontlik, wat in 'n opvolgstudie deur herhaalde bruikbaarheidstoetse met die eind- of teikengebruikers as toetsdeelnemers geevalu-eer sal word.

Sleutelwoorde: woordeboeksamestelling, akademiese redigeerwoordeboek, prototipewoordeboek, elektroniese leksikografie, funksieteorie, algemene leksikografieteorie, bruikbaarheidsteoriee, geintegreerde teorie


ABSTRACT

The academic writing and research skills of postgraduate students at higher education institutions in the South African context are inadequate (Van Aswegen 2007: 1141), and therefore there is a growing demand for the services of editors of specifically academic texts. The editors of Afrikaans academic texts, however, experience problems in terms of reference sources (style guides or standardisation sources) that they can use to ensure consistency in the academic texts. Consequently, these editors have a need for an Afrikaans dictionary that is specially aimed at the needs of academic editors (Blom 2020: 18). A model for the design of an Afrikaans online dictionary for academic editing purposes (Blom's 2018 dictionary model) was set up as the first part of a larger project that aims to compile a complete online Afrikaans academic editing dictionary. In order to implement Blom's 2018 dictionary model to compile a complete dictionary, a prototype dictionary must be developed and then tested by its target users (i.e. academic editors).
In this article the principles of the function theory (Fuertes-Olivera and Tarp 2014), Gouws' (2014a; 2014b; 2018a; 2018b; 2018c; 2018d) adaptations of the general lexicography theory and usability theories (ISO-standard 9241 (1998a)(1998b)(2006)) were used to compile the said prototype Afrikaans academic editing dictionary. This integrated theory enables the compilation of a user-friendly prototype dictionary that will be evaluated through repeated usability testing with the end or target users as test participants in a follow-up study.

Keywords: dictionary compilation, academic editing dictionary, prototype dictionary, electronic lexicography, function theory, general lexicography theory, usability theories, integrated theory


 

 

1. Inleiding

In die akademiese konteks lei studente se gebrekkige akademiese skryfvaardighede en 'n tekort aan navorsingsvaardighede (Van Aswegen 2007: 1141), asook hoeronderwysinstellings se verpligting dat studente se tesisse as deel van die afrondingsproses daarvan geredigeer moet word, tot 'n definitiewe aanvraag na die diens van redigeerders wat spesifiek akademiese tekste redigeer (Blom 2021: 1). Hierdie redigeerdiens sluit die redigering in van verskillende soorte tekste wat studente en dosente in die sfeer van akademiese instellings publiseer, insluitend akademiese of wetenskaplike artikels, referate en studies vir publikasiedoeleindes, konferensievoorleggings, proefskrifte en tesisse (Law 2011: 227). Volgens die omskrywing van die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum (2019) se diens vir teksredigering en soos uitgelig in Lourens (2014: 267) moet akademiese redigeerders 'n veelheid van take kan verrig wat in die praktyk hoofsaaklik bestaan uit werk op die vlakke van kopieredigering en styl1. Ten einde hierdie redigeertake te kan verrig, het akademiese redigeerders taalbronne (taalhulpmiddels) nodig om onder andere die taalgebruik na te gaan en te help om verskillende probleme op te los wat tydens die redigeerproses ontstaan (Carstens en Van de Poel 2012: 406). 'n Stylgids of normeringsbron moet ook gebruik word om kopieredigeringsaspekte soos spel-, tik en basiese grammatikale foute volgens die stylkonvensies uit te wys of te korrigeer (Blom 2021: 2). Aangesien teksredakteurs nie oor die volledige kennis van 'n taal beskik nie, moet redigeerders juis daarna streef om die beste ondersteuning (dus naslaan- en kontrolebronne) te kry om probleme in die redigeerproses te kan oplos (Carstens en Van de Poel 2012: 406-407). In die Afrikaanse akademiese redigeerpraktyk is dit egter 'n probleem dat van die naslaanbronne in Afrikaans verouderd is en van die vakwoordeboeke uit druk en moeilik bekombaar is (Carstens en Van de Poel 2012: 408).

In Blom (2020) is daar ondersoek ingestel na die huidige Afrikaanse naslaanbronne wat vir akademiese redigeerders beskikbaar is, en 'n empiriese studie is gedoen om Suid-Afrikaanse vryskutredigeerders se behoeftes ten opsigte van Afrikaanse naslaanbronne te bepaal. Die webblaaie van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SATI), die Professional Editors' Guild (PEG) en die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum gee toegang tot heelwat beskikbare Afrikaanse stylgidse, terminologielyste, spesialiswoordeboeke vir spesifieke vakgebiede, asook gespesialiseerde woordeboeke wat handel oor die teoretiese aspekte en spesialisveld van teksredigering (Blom 2020: 7). Die probleem is dat hierdie bronne redelik wyd versprei is op die webblaaie van SAVI, PEG en die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum en nie een van die bronne bevat al die aspekte wat 'n akademiese redigeerder benodig om 'n vinnige en akkurate redigeerdiens uit te voer nie (Blom 2020: 7). In Blom (2020) is daar tot die gevolgtrekking gekom dat daar 'n behoefte is vir 'n naslaanbron wat spesifiek gemik is op die redigeerders van Afrikaanse akademiese tekste. Die vryskutredigeerders het in die empiriese studie, as motivering vir 'n nuwe Afrikaanse naslaanbron, aangevoer dat indien al die inligting op een plek beskikbaar sal wees, dit 'n groter sin vir eenheid onder redigeerders sal skep en sal sorg vir opleiding van nuwelinge en konsekwentheid in akademiese tekste (Blom 2020: 13). Na afloop van hierdie ondersoek en terugvoer, is 'n projek begin om 'n omvattende aanlyn akademiese redigeerwoordeboek saam te stel, wat akademiese redigeerders se werk sal vergemaklik en konsekwentheid in die redigering van Afrikaanse akademiese tekste sal verseker (Blom 2020: 8). In die eerste gedeelte van die projek is 'n model vir 'n aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek (Blom se 2018-woordeboekmodel2) opgestel sodat dit in verdere studies as raamwerk vir die beplanning en samestelling van die akademiese redigeerwoordeboek gebruik kan word (Blom 2020: 8).

Die kernidees in Fuertes-Olivera en Tarp (2014) se funksieteorie vir gespesialiseerde aanlyn woordeboeke is gebruik om die akademiese redigeerders se gebruikersbehoeftes, asook die redigeerwoordeboek se funksies en datatipes te bepaal, en Blom se 2018-woordeboekmodel op grond hiervan saam te stel. Daar is vasgestel dat die teikengebruikers van die akademiese redigeerwoordeboek (voortaan ARW) gevorderde akademiese redigeerders is, sowel as studente wat nog opleiding ontvang om as redigeerders te praktiseer, en beide partye is semi-deskundiges of leke ten opsigte van verskillende vakgebiede (Blom 2020: 19). Verder het hierdie akademiese redigeerders hoofsaaklik 'n behoefte aan teg-niese aspekte, taal-, spel- en interpunksiereëls, vakterme van verskillende vakgebiede, afkortings en akronieme, 'n beskrywing van die redigeerder se rol, eiename wat gereeld in die akademie gebruik word en uitvoerige voorbeeld-materiaal wat van toepassing is op akademiese Afrikaans (Blom 2020: 19). Die gebruiksituasies en ooreenstemmende funksies van die ARW is dus kommunikatiewe, kognitiewe en operatiewe situasies, waarin die woordeboek vir teksproduksie, teksresepsie, teksregstelling, ekstra inligting oor spesifieke vakgebiede en riglyne oor etiese redigering geraadpleeg sal word (Blom 2020: 20). Die datatipes wat moontlik in die leksikografiese databasis vir die ARW ingesluit kan word, sluit onder andere in: grammatikale data, kollokasies of voorbeeldsinne wat die redigeerder kan help om 'n lemma in 'n akademiese teks te gebruik of verstaan (Blom 2020: 21). Verder kan leksikografiese en proskriptiewe notas vir die redigeerder meer duidelikheid gee oor die korrekte gebruik van 'n lemma in byvoorbeeld 'n spesifieke vakrigting, en kruisverwysings kan die redigeerders na ander inskrywings in die ARW, of 'n eksterne bron soos 'n ander aanlyn woordeboek lei (Blom 2020: 21). (Sien Blom 2020 vir 'n gedetailleerde uiteensetting van die datatipes in die leksikografiese databasis vir die ARW.)

Die volgende stap in die samestellingsproses van die ARW, is om Blom se 2018-woordeboekmodel te verfyn, ekstra data by te voeg en aan teikengebruikers bloot te stel, sodat die bruikbaarheid daarvan getoets kan word (Blom 2020: 25). As deel van 'n MA-studie aan die Universiteit Stellenbosch is 'n prototipe-akademiese redigeerwoordeboek (voortaan prototipe-ARW) opgestel sodat redigeerders die konsepontwerp van die ARW aanlyn kon toets (Blom 2021). Hierdie studie het uit drie hooftake bestaan (Blom 2021): Eerstens is Blom se 2018-woordeboekmodel verder saamgestel in 'n prototipe-ARW, deur besluite te neem oor die moontlike woordeboekstrukture en tegnologiese kenmerke wat die woordeboek moet vertoon. Tydens die tweede taak is die effektiwiteit van die voorlopige woordeboek bepaal deurdat akademiese redigeerders die prototipe-ARW moes gebruik om redigeertake te voltooi. Die derde taak was om die akademiese redigeerders se probleme of tekortkominge ten opsigte van die datavoorlegging en databeskrywing in die prototipe van die aanlyn woordeboek vas te stel. In hierdie artikel word daar verslag gedoen van die eerste taak, naamlik die opstel van 'n prototipe-ARW. Die funksieteorie (Fuertes-Olivera en Tarp 2014), Gouws (2014a; 2014b; 2018a; 2018b; 2018c; 2018d) se aanpassings van die algemene leksikografieteorie en bruikbaarheidsteoriee (ISO-standaard 9241 (1998a)(1998b)(2006)) word gei'ntegreer om besluite oor die databeskrywing/ -inhoud en datavoorlegging/-uitleg van die prototipe woordeboek te maak. Die bruikbaarheid van die prototipe-ARW se databeskrywing en datavoorlegging, en verbeteringsriglyne vir die verdere samestelling van die akademiese redigeerwoordeboek word in 'n opvolgartikel behandel.

 

2. Navorsingsdoelwit en rasionaal

Die navorsingsdoelwit van hierdie studie is om 'n prototipe-aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek saam te stel, nadat Blom se 2018-woorde-boekmodel aangepas is en die funksieteorie (Fuertes-Olivera en Tarp 2014), algemene leksikografieteorie (Gouws 2014a; 2014b; 2018a; 2018b; 2018c; 2018d) en bruikbaarheidsteoriee (ISO-standaard 9241 (1998a)(1998b)(2006)) gei'ntegreer is om besluite oor die databeskrywing/-inhoud en data-aanbieding/-uitleg van die prototipe-ARW te neem.

'n Geintegreerde teorie (waar die teoretiese beginsels van die ISO-stand aarde geintegreer is met die leksikografieteoriee), is gebruik aangesien die funksie- en algemene leksikografieteorie, soos uitgelig in Du Plessis (2015: 2017), nie aandag gee aan die tegnologiese eienskappe en bruikbaarheid van elektroniese naslaanbronne nie, en die navorser die akademiese redigeerders se erva-ring met die tegnologiese aspekte van die ARW wou verbeter. Die beginsels van 'n bruikbaarheidsbenadering is juis nuttig, aangesien hierdie benadering gebruikerservaring, produkdoeltreffendheid en produk-mens-interaksie gebruik om grootliks op die teikengebruiker (bv. akademiese redigeerder) te fokus, asook hoe effektief, doeltreffend en bevredigend hy/sy met die prototipe-ARW omgaan (Du Plessis 2017: 4).

 

3. Die prototipe-akademiese redigeerwoordeboek (ARW)

Die prototipe-ARW is op grond van leksikografie- en bruikbaarheidsteoriee ontwerp en saamgestel om die inligting vir die ARW se databasis, asook die aanbieding van die data in ooreenstemming met die akademiese redigeerders se leksikografiese en tegnologiese behoeftes te bepaal.

Eerstens is Fuertes-Olivera en Tarp (2014) se funksieteorie vir gespesialiseerde aanlyn woordeboeke gebruik om 'n verduideliking van die teikengebruiker, leksikografiese funksies en datatipes van die prototipe te verskaf. Die ARW moet ontwerp en saamgestel word om inligting te bied vir redigeerders in die praktyk asook studente-redigeerders, wat onder andere Afrikaanse akademiese tekste soos tesisse, proefskrifte en wetenskaplike artikels redigeer (Blom 2021: 82). Die ARW moet, soos vasgestel in Blom (2020: 25), die rol van 'n stylgids en normeringsbron aanneem en die volgende kwessies behandel om aan die akademiese redigeerders se reeds genoemde gebruikersbehoeftes in kommunikatiewe, kognitiewe en operatiewe situasies te voldoen: tegniese aspekte in akademiese tekste, taal-, spel- en interpunksiereêls soos die korrekte woordgebruik, skryfof spelwyse wat die akademiese redigeerder nuttig sal vind, asook ander inlig-ting oor taalgebruik in bepaalde vakgebiede. Verder moet die spesialisveld van akademiese redigering behandel word, 'n afdeling vir vakterminologie ingesluit word, asook skakels na ander reeds bestaande algemene en beperkte woordeboeke (insluitend vakwoordeboeke) verskaf word (Blom 2020: 25). Vervolgens is die inhoud van die prototipe-ARW in ooreenstemming met die teikengebruikers se behoeftes en die prototipe se funksies (kommunikatief, kognitief en operatief) gekies en in 16 verskillende afdelings verdeel.

3.1 Databeskrywing of inhoud in die prototipe-ARW

Die tegniese aspekte in akademiese tekste (insluitend bronverwysings) en die taal-, spel- en interpunksiereêls word onder andere in die afdelings "Afkortings en akronieme", "Akademiese verwysingstelsels", "Getalle, syfers en simbole", "Hoof- en kleinletters", "Interpunksie", "Kursivering en Romeinse syfers", "Spelling en skryfwyse - los en vas", "Tabelle en grafieke" en "Wiskundige notasie" behandel om die akademiese redigeerders met kopie-, stilistiese en strukturele probleme in akademiese tekste te help. Verder bied die afdelings "Algemeenste foute in akademiese tekste" en "Spesialisveld van akademiese redigering" riglyne oor die hantering van verskillende redigeerkwessies, asook hulp met die gebruik van die "track changes"-funksie op die Microsoft Word-program. Die afdelings "Algemene woordeboeke", "Vakterminologie", "Vakwoordeboeke", "Wetenskap, wiskunde en rekenaars" en "Wette en verwysings na wette" is laastens nodig om redigeerprobleme in spesifieke vakgebiede te op te los, en in hierdie verband bied die afdelings oor "Algemene woordeboeke" en "Vakwoordeboeke" ook skakels na eksterne bronne wat die akademiese redigeerders kan raadpleeg om meer inligting oor die vakgebiede te verkry. Die inhoud van hierdie 16 verskillende afdelings word in tabel 1 weergegee:

Ná die beginsels van Fuertes-Olivera en Tarp (2014) se funksieteorie in Blom (2020; 2021) toegepas is om die inhoud van die ARW te bepaal, is die beginsels van die algemene leksikografieteorie, wat hoofsaaklik aandag gee aan die woordeboekstrukture vir die aanlyn medium, asook die beginsels van die bruikbaarheidsbenadering, ondersoek. Die aspekte wat van toepassing is op aanlyn woordeboeke is soos volg in afdeling 3.2 op die prototipe-ARW toegepas om die aanbieding van die data te bepaal.

3.2 Data-aanbieding of uitleg van die prototipe-ARW

3.2.1 Woordeboekstrukture vir die prototipe-ARW

Die strukture wat van toepassing is op die aanbiedingsvlak van die prototipe-ARW, insluitend die makro-, artikel-, mikro-, medio-, toegang- en skermskoot-struktuur, word meer noukeurig in hierdie afdeling bespreek en met behulp van skermgrepe geillustreer. Voordat hierdie strukturele eenhede in die prototipe-ARW saamgestel is, moes die dataverspreiding van die datatipes eers uitgevoer word. Die dataverspreidingstruktuur word dus eerste bespreek, aangesien dit die basiese leksikografiese struktuur is wat ander strukture bepaal en moontlik maak (Tarp 2015: 223).

Dataverspreiding

Die verspreiding van leksikografiese data in die ARW is 'n sirkulêre proses wat van nuuts af begin ná elke versoek van die akademiese redigeerder, en plaas-vind vanaf die databasisvlak (met ander woorde vanaf die leksikografiese databasis) na die aanbiedingsvlak, oftewel gebruikerskoppelvlak (Blom 2021: 49).

Eerstens kan die verspreiding van data in die ARW tot die posisies in die artikels of buitekomponente plaasvind. Indien die akademiese redigeerder byvoorbeeld 'n behoefte aan die tegniese aspekte in akademiese tekste; taal-, spel- en interpunksiereéls of vakterminologie het, kan hy/ sy die term of frase in die soekblok intik, of op die relevante afdeling op die tuisbladsy klik. Die versoek word dan na die databasis gestuur en deur middel van tegniese prosesse3 in die ARW se databasis word daar 'n verbinding gemaak dat 'n spesifieke woordeboekartikel waarin die term of inligting voorkom op die redigeerder se rekenaarskerm moet verskyn. In die betrokke woordeboekartikel kan die redigeerder dan verder op die "voorbeeld"-, "nota"-, of "ekstra bronne"-ikoon klik indien hy/sy 'n behoefte het aan voorbeeldsinne in die akademiese kon-teks, ekstra inligting oor die kwessie of vakterm benodig, of skakels na eksterne webblaaie met meer inligting of demonstrasies oor die kwessie wil volg. Hierdie internetskakels vul dus die sentrale teks van die ARW met buitekomponente aan.

Naas die woordeboekartikels en buitekomponente, is daar ook 'n woordeboekportaal, naamlik 'n woordeboekversameling (soos gedefinieer in Engelberg en Müller-Spitzer 2013: 1027) in die prototipe-ARW aanwesig, waar akademiese redigeerders skakels na ander aanlyn woordeboeke kry. Die afdeling "Vakwoordeboeke" gee vir die redigeerders toegang tot onder andere aanlyn bronne of webtuistes soos Open Educational Resource Term Bank, Pharos Aanlyn, Professional Editors Guild, ensovoorts. Sien skermgreep 1 vir 'n voorbeeld van die prototipe-ARW se woordeboekversameling. Volgens Gouws (2018c: 185) vereis 'n woordeboekportaal dan 'n omvattende dataverspreidingstruktuur waar daar voorsiening gemaak word vir die tradisionele dataverspreidingstruktuur van die individuele aanlyn woordeboek (byvoorbeeld die ARW), asook vir die verspreiding van die data in die woordeboekportaal (Gouws 2018c: 185).

 

 

Makrostrukturele eenhede

Die ARW het 'n sentrale tuisblad en soekenjin wat 'n kitssoekproses moontlik maak, en daarom verval die behoefte om die makrostrukturele ordening te hand-haaf wat in gedrukte woordeboeke gebruik word. Volgens Gouws (2018c: 182) bly die makrostruktuur 'n ordeningstruktuur in aanlyn woordeboeke, en die ordeningstrukture in die prototipe-ARW vertoon die volgende makrostruktu-rele kenmerke:

'n Tematiese ordening word gebruik om die inhoud in die prototipe-ARW volgens afdelings te organiseer (sien die rooi blok in skermgreep 2). Indien die redigeerder op een van hierdie afdelings op die tuisblad klik, verskyn die lemmas in die spesifieke afdeling in alfabetiese volgorde. Verder kan die soek-woord in die soekblok op die openingskerm van die prototipe-ARW ingevul word (sien die blou blok in skermgreep 2). 'n Subtematiese ordening sal dan verskyn wat die soekwoord as komponent binne die spesifieke afdelings in die prototipe-ARW bevat. Die redigeerder kan net op die verlangde afdeling klik om toegang te kry tot die inligting wat betrekking het op die soekwoord in die afdeling (sien skermgreep 3 vir 'n illustrasie van die afdelings, in rooi gemerk, waarin die soekwoord "kursivering" verskyn).

 

 

 

 

Artikel- en mikrostrukturele eenhede

Die artikelstruktuur in die prototipe-ARW bied, soos Gouws (2014a: 164) voorstel, 'n dinamiese data-aanbod wat uit veelvoudige lae bestaan, en drie strukturele komponente, naamlik teksgedeeltes, kommentaartipes en soek-sones (Gouws 2014a: 160) bevat. Die teksgedeeltes in die prototipe-ARW se woordeboekartikels kan verder tussen aanduiders en struktuurmerkers onderskei word (Gouws 2014a: 161). Die aanduiders in die ARW is datadraers waaruit die akademiese redigeerder spesifieke inligting oor die woordeboekonderwerp kan onttrek. Die "antwoord" vir die akroniem PKR in skermgreep 4 is byvoorbeeld 'n aanduider, aangesien die redigeerder inligting oor die akroniem uit hierdie inskrywing kan onttrek.

 

 

Die struktuurmerkers identifiseer sekere aanduiders of artikelgleuwe (Gouws 2014a: 161), en die struktuurmerkers in die prototipe-ARW bestaan hoofsaaklik uit tipografiese struktuurmerkers soos kursivering, vetdruk en letterkleur om sekere aanduiders in die prototipe uit te lig (soos geillustreer in die groen, rooi en blou blokke in skermgreep 4). Die enigste nietipografiese struktuurmerker in die prototipe-ARW is die "sien meer"-ikoon (+). Hierdie struktuurmerker is eie aan die elektroniese sfeer en gebruikers wat vertroud is met die rekenaaren webruimte sal weet dat die inligting vir 'n spesifieke datakategorie sal verskyn wanneer hulle daarop klik (Blom 2021: 56).

Verder word die kommentaartipes in die prototipe-ARW gebruik om verskillende toegangsroetes tot verskillende leksikografiese datatipes te verskaf. Die opskrifte wat elke datatipe bekendstel, byvoorbeeld "Antwoord" en "Voorbeeld" (in blou gemerk in skermgreep 4 en 5), en die vrae onder die lemma (in groen gemerk in skermgreep 4 en 5) help met eksplisiete en vinnige toegang tot die relevante datatipes, en vervang dus die tradisionele vorm- en semantiese kommentaar wat in gedrukte woordeboeke voorkom.

 

 

Die derde kategorie van strukturele komponente wat Gouws (2014a: 169) onderskei, is soeksones, wat die onderafdelings van woordeboekartikels is (elke datatipe word in 'n afsonderlike soeksone aangebied). Die datatipe in elke afsonderlike soeksone van die prototipe-ARW word aangebied deur middel van data-identifiserende inskrywings soos "Antwoord", "Nota", "Voorbeeld", ens. (in blou gemerk in skermgreep 5), en dit gee 'n duidelike afbakening van die gleuwe vir die verskillende datatipes.

Gouws (2014a: 175) meen dat verskillende soorte mikrostrukture oorweeg moet word om die beste struktuur te kry vir die ordening van die aanduiders in die spesifieke woordeboekartikels. In die prototipe-ARW word 'n gei'ntegreerde mikrostruktuur gebruik om die verspreiding van data in die woordeboekartikels te reguleer, wat beteken dat die betekenisparafrase (die "antwoord" in skermgreep 4) en die koteksinskrywing (die voorbeeldsin in skermgreep 4) in 'n enkel soekveld van die artikel "PKR" verskyn. Volgens Gouws en Prinsloo (2005: 139) veroorsaak hierdie nabyheid tussen die betekenisparafrase en koteksinskrywing dat die gebruiker vinnig inligting oor die lemma, soos aangebied in die betekenisparafrase en gepaardgaande koteksinskrywing, kan onttrek. Voordat die redigeerder hierdie inligting kan onttrek moet hy/sy eers 'n bepaalde soekroete volg, en moet daar vervolgens gepaste toegangstrukture aangewend word om optimale toegang tot die data in die ARW te verseker.

Toegangstruktuur

In die prototipe-ARW word daar onderskei tussen eksterne en interne toegangstrukture, wat lei tot eksterne en interne soekroetes om by spesifieke inskrywings in die prototipe-ARW en buitetekste uit te kom. Die prototipe-ARW steun hoofsaaklik op die woordeboek se soekenjin as eksterne toegangstruk-tuur, en hierdie toegangstruktuur bied hoofsaaklik twee eksterne soekroetes na 'n spesifieke woordeboekartikel. Die redigeerder kan eerstens 'n woord/frase in die soekblok op die tuisbladsy (sien skermgreep 2) intik, waarna 'n lys resultate met die bewerking van die soekopsie in verskillende afdelings van die prototipe-ARW verskyn (sien skermgreep 3). Die redigeerder kan dan op 'n spesifieke afdeling klik om hom/haar na die verlangde woordeboekartikel te lei. Vervolgens kan die redigeerder ook op een van die afdelings op die tuisbladsy klik (sien skermgreep 2) en deur 'n alfabetiese lys lemmas vir daardie spesifieke afdeling blaai om by die verlangde woord uit te kom. Die akademiese redigeerder wat vertroud is met die ARW sal, soos Gouws (2018d:45) noem, sommige fases in die eksterne toegangsproses kan oorslaan, en dadelik op die relevante afdeling klik, terwyl die redigeerder wat nie die ARW ken nie, deur al die stappe in die eerste eksterne soekroete moet gaan voordat hy/sy by die verlangde artikel uitkom.

Wiegand en Gouws (2013: 113) definieer die soekroete na buitetekste ook as deel van die eksterne toegangstruktuur. In die prototipe-ARW word verskeie buitetekssoorte gebruik, byvoorbeeld 'n eksterne skakel (sien die rooi blok in skermgreep 6) na 'n Google-soektog oor hoe om 'n kommentaarblokkie in 'n Microsoft Word-dokument te voeg.

 

 

Daar word ook in die prototipe-ARW se afdeling "Vakwoordeboeke" toegang tot eksterne naslaanbronne en webwerwe gegee, deur skakels en logo's van die betrokke webwerwe te verskaf (sien voorbeelde van skakels en logo's in skermgreep 1).

Die interne toegangstruktuur bepaal hierna die interne soekroete wat die redigeerder binne die relevante artikel oriênteer om by 'n bepaalde aanduider of datakategorie uit te kom (Gouws en Prinsloo 2005: 170; Wiegand en Gouws 2013: 139). Hier help die tipografiese en nietipografiese struktuurmerkers, soos Gouws en Prinsloo (2005: 170) voorstel, om vinnige toegang te verseker, en sommige stappe in die interne soekroete oor te slaan, sodat die verlangde soeksone vinniger bereik word. In die onderstaande skermgreep 7 is die vraag onder die lemma (omkring in blou) in kursief om die redigeerders se aandag daarop te vestig en vir hulle 'n idee te gee van die inligting wat hulle kan verwag indien hulle op die antwoord- of voorbeeld-ikoon klik. Verder is die sleutelaspekte onderaan die artikel (omkring in rooi) in vetdruk om die redigeerders se aandag dadelik op hierdie aspekte te vestig wanneer hulle op die data-identifiserende inskrywing "Voorbeeld" klik. Die data-identifiserende inskrywings, "Antwoord", "Nota" en "Voorbeeld" is in oranje, sodat die redigeerders duidelik tussen die verskillende datakategorieê kan onderskei. Die data-identifiserende inskrywings dien ook elkeen as aanwysers in die prototipe-ARW se onderskeie woordeboekartikels aangesien hulle die redigeerders na die relevante soeksone lei en 'n eksplisiete identifikasie gee van die tipe data wat in die betrokke soeksone opgeneem word (Blom 2021: 69).

 

 

Mediostrukturele eenhede

Die medio- of kruisverwysingstruktuur word in die prototipe-ARW gebruik om, soos Gouws en Prinsloo (2005: 177) voorstel, die data toegankliker vir die akademiese redigeerders te maak en 'n verhouding tussen die woordeboek-komponente in die prototipe-ARW te vestig. Die kruisverwysings in die prototipe-ARW neem die redigeerders meestal direk deur middel van hiperskakels (in swart en oranje) na die interne of eksterne kruisverwysingsadres. In skermgreep 8 neem die kruisverwysingsinskrywing, "Sien ekstra bronne" (omkring in rooi), die redigeerder vanaf die kruisverwysingsposisie, "Antwoord", na die interne kruisverwysingsadres, "Ekstra bronne". Die redigeerder word ook deur middel van die kruisverwysingsinskrywing, "Sien ook Wetenskap, wiskunde en rekenaars" (omkring in blou), vanaf die kruisverwysingsposisie, "Ant-woord", na die eksterne kruisverwysingsadres, naamlik 'n ander afdeling in die woordeboek (in hierdie geval "Wetenskap, wiskunde en rekenaars") geneem. Die kruisverwysingsinskrywings, "skakel" en "lys" (omkring in groen), neem die redigeerder na woordeboekeksterne kruisverwysingsadresse, wat in hierdie geval 'n webwerf met 'n interaktiewe weergawe van die periodieke tabel en 'n meertalige lys van die elemente is. Hierdie kruisverwysingstruktuur in die prototipe-ARW maak dit dus moontlik om verskillende datatipes met mekaar te skakel, en die skakels na woordeboekeksterne webwerwe of naslaanbronne ver-wys die redigeerders na die groot naslaanruimte van die internet (Blom 2021: 72).

 

 

Skermskootstruktuur

Die prototipe-ARW is saamgestel om hoofsaaklik op 'n rekenaarskerm te ver-skyn en die skermskootstruktuur bied ruimte op die rekenaarskerm aan dele van die struktuurtipes wat reeds bespreek is, naamlik die makro-, mikro-, artikel- en toegangstruktuur (Blom 2021: 73). Hierdie struktuurtipes is, soos geillustreer in skermgrepe 1 tot 8, as volg georganiseer dat die redigeerders nie oorlaai word met data of deur te veel vlakke moet klik voordat hulle by die verlangde data uitkom nie.

Die 16 verskillende afdelings word as deel van die makrostruktuur in twee blokke op die prototipe-ARW se tuisblad gerangskik sodat die akade-miese redigeerder al die afdelings in een skermgreep kan sien en nie deur 'n lys hoef te blaai nie. As deel van die mikro-, artikel- en toegangstruktuur is die lettertipe eenvoudig genoeg sodat die redigeerder vinnig deur die inskrywings kan lees, en help die oranje kleur wat vir die aanduiders en hiperskakels gebruik word, asook die tipografiese merkers (vraagsin in kursief, lemma en verkorte antwoord in vetdruk en data-identifiserende inskrywings in oranje) en nietipografiese merkers ("sien meer"-ikoon (+) en data-identifiserende inskrywings soos "Antwoord") die redigeerders om tussen die data-inskrywings op die skerm te onderskei. Die oorgang van een skermgreep na 'n ander is vinnig, en die redigeerder kan kies watter data in die artikel op die skerm moet verskyn deur eers op die (+)-ikoon te klik voordat die data vir 'n spesi-fieke inskrywing vertoon word. Soos reeds genoem, wil die navorser die akademiese redigeerders se ervaring met die tegnologiese aspekte van die ARW verder verbeter deur ook aandag aan bruikbaarheidsbeginsels te gee. In die volgende afdeling word die teoretiese beginsels van die bruikbaarheidsbenadering, wat op aanlyn woordeboeke van toepassing is, ondersoek en gebruik (in kombinasie met die funksie- en algemene leksikografieteorie) om die samestelling van die prototipe-ARW uiteen te sit.

3.2.2 Bruikbaarheidsbeginsels

Die bruikbaarheid van die prototipe-ARW verwys, soos Du Plessis (2015: 81) noem, na die effektiwiteit waarmee die akademiese redigeerder inligting kan waarneem en onttrek om spesifieke redigeertake te voltooi, en dit is belangrik dat die ARW se bruikbaarheid op sekere regulasies en riglyne gebaseer is (Du Plessis 2017: 4). Du Plessis (2015: 80) het drie hoofstukke uit die ISO-standaard 9241 (sien die ISO-standaard 9241-110:2020 (2006); die ISO-standaard 9241-11:2018 (1998a) en die ISO-standaard 9241-12:2017 (1998b)4), wat regulasies en beginsels vir die ontwerp van gebruikersgerigte rekenaartoestelle en -programmatuur bevat, in een oorkoepelende stel beginsels vir mens-rekenaarinteraksie geintegreer. Die onderstaande stel beginsels van Du Plessis (2015; 2017), soos uiteengesit in Blom (2021: 75), is ook in ag geneem tydens die samestelling van die prototipe-ARW.

1. Taakgepastheid: Die gebruikerskoppelvlak van die ARW moet geskik wees om 'n reeks take (kommunikatiewe, kognitiewe en operatiewe take) te prosesseer en die data op so 'n manier aan te bied dat die akademiese redigeerder dit kan interpreteer.

2. Selfbeskrywings: Die gebruikerskoppelvlak van die ARW moet vir die akademiese redigeerder duidelike terugvoer oor die program kan lewer, byvoorbeeld terugvoer oor onsuksesvolle soektogte.

3. Duidelikheid en netheid: Die data in die ARW moet in gepaste kleure, lettertipes en lettergroottes verskyn, sodat die akademiese redigeerders dit maklik kan raaksien en lees.

4. Beheerbaarheid en diskrimineerbaarheid: Die akademiese redigeerders moet in beheer van die interaktiewe elemente van die ARW wees. 'n Hoofspyskaart kan byvoorbeeld help om na bepaalde woordeboekdele te beweeg.

5. Ooreenstemming met gebruikersverwagtinge (konsekwentheid): Die aanbieding van die data in die ARW moet ooreenstem met die akademiese redigeerders se verwagtinge van hoe data in aanlyn woordeboeke moet vertoon. Hierdie data moet ook konsekwent aangebied word deur deurgaans gebruik te maak van dieselfde artikelstruktuur en vertoningsformaat.

6. Bondigheid en opspoorbaarheid: 'n Woordeboekartikel in die ARW moet die akademiese redigeerder se aandag slegs na die relevante inligting trek, sodat die redigeerder nie oorlaai word met data of sukkel om die relevante data op te spoor nie.

7. Foutkontrole: Die ARW moet die akademiese redigeerders in die regte rigting lei wanneer hulle foute maak, byvoorbeeld wanneer 'n term verkeerd in die soekblok gespel is.

8. Individugepastheid: Die gebruikerskoppelvlak van die ARW moet gemanipuleer kan word sodat elke akademiese redigeerder sy/haar eie profiel kan skep.

9. Leergepastheid: Die ARW moet eenvoudig genoeg wees dat alle akademiese redigeerders dit kan verstaan. Hulle moet ook in staat wees om byvoorbeeld vorige soektogte en gunstelingsoektogte te stoor.

Hierdie beginsels beklemtoon die aanbieding van die data, die akademiese redigeerder se ervaring met die programmatuur, en hoe effektief, doeltreffend en tevrede die redigeerder met die ARW omgaan (Du Plessis 2017: 6). Die beginsels is as volg tydens die besluitneming oor die uitleg en aanbieding in die prototipe-ARW se tuisbladsy, woordeboekartikels en gebruikersgids toegepas:

Tuisbladsy

Die uitleg van die tuisbladsy is eerstens in ooreenstemming met die beginsel oor duidelikheid en netheid ontwerp, aangesien die wit agtergrond in skermgreep 9 dit vir die redigeerders makliker maak om die swart en oranje letters te lees, terwyl die hoof- en kleinletters, en vetdruk en kursief die belangrike data vir die gebruikers uitlig (Blom 2021: 83). Verder bevat die tuisbladsy in skermgreep 9 'n hoofspyskaart (omkring in blou) met skakels na "tuis", "afdelings", "gebruikersgids", "oor die ARW" en "kontak", asook interaktiewe blokke na verskillende gebruikersgidse in die prototipe-ARW (omkring in rooi) en 16 interaktiewe afdelings (omkring in groen), wat die redigeerders kan help met beheerbaarheid en diskrimineerbaarheid sodat hulle na bepaalde woordeboekdele van die prototipe-ARW kan beweeg.

 

 

Woordeboekartikels

Die data-uitleg van die woordeboekartikels in die prototipe-ARW is ook volgens Du Plessis (2015; 2017) se beginsels saamgestel. Die taakgepastheid van die woordeboek word verseker, aangesien die gebruikerskoppelvlak van die prototipe-ARW geskik is vir die verwerking van kommunikatiewe, kognitiewe en operatiewe take (deur toegang te gee tot 'n "antwoord"/definisie, "notas", "voorbeelde" en "ekstra bronne" (in groen gemerk in skermgreep 10). Verder vertoon die woordeboekartikels bondigheid en opspoorbaarheid deur die data onder elke ikoon in skermgreep 10 eers te versteek, en indien die redigeerder byvoorbeeld besluit om op die voorbeeld-ikoon te klik, word die belangrikste data in vetdruk aangedui (soos geïllustreer in skermgreep 10) sodat die redigeerder nie oorlaai word met data nie (Blom 2021: 86). Die data in die prototipe-ARW se woordeboekartikels word ook konsekwent aangebied deur deurgaans gebruik te maak van dieselfde artikelstruktuur en vertoningsformaat.

 

 

Gebruikersgids

Die uitleg van die gebruikersgidse oor soekroetes, ikone, inhoud, uitleg en etiek in die prototipe-ARW is saamgestel om met die leergepastheid van die ARW te help en onder andere nuwe gebruikers van die woordeboek vinniger vertroud te maak met die verskillende soekroetes en ikone wat in die ARW voorkom. Die riglyne in die etiek-gebruikersgids (sien skermgreep 11) kan ook nuweling-redigeerders se vaardighede en kennis oor etiese redigering opskerp deurdat daar riglyne gegee word vir die soort veranderinge wat in verskillende situasies aangebring moet word, byvoorbeeld om die fout te korrigeer, of om eerder 'n kommentaarblokkie met 'n voorstel in te voeg.

 

 

4. Slot en opvolgstudie

In hierdie artikel is 'n uiteensetting gegee oor die eerste taak in Blom (2021) se studie oor "die samestelling van 'n prototipe-ARW met die doel om die bruik-baarheid daarvan te toets", deurdat hierdie samestelling op grond van teoretiese beginsels uit die leksikografie- en bruikbaarheidsveld gedemonstreer is. Fuertes Olivera en Tarp (2014) se funksieteorie vir gespesialiseerde aanlyn woordeboeke was 'n gepaste beginpunt vir die samestelling van die prototipe-ARW, aangesien die teikengebruikers, gebruiksituasies en funksies van hierdie woordeboek in 'n presamestellingsfase in Blom (2020) bepaal is, en die relevante datatipes, inhoud en woordeboekstrukture vir die prototipe-ARW slegs op grond van die akademiese redigeerders se behoeftes en die ARW se kommunikatiewe, kognitiewe en operatiewe funksies geselekteer kon word. Die inhoud in die prototipe-ARW is, soos uiteengesit in tabel 1, in 16 verskillende afdelings verdeel om aan die akademiese redigeerders se gebruikersbehoeftes te voldoen. Hierna bied Gouws (2014a; 2014b; 2018a; 2018b; 2018c; 2018d) se aanpassings van die algemene leksikografieteorie en Du Plessis (2015; 2017) se oorkoepelende stel beginsels vir mens-rekenaarinteraksie (ISO-standaard 9241 (1998a) (1998b)(2006)) 'n voldoende grondslag om te besluit oor 'n aanlyn woordeboek (soos die prototipe-ARW) se woordeboekstrukture en tegnologiese kenmerke te neem. Die aanbieding en uitleg van die data in die prototipe-ARW is gekies sodat die akademiese redigeerders hulself kan oriênteer en vinnig in die prototipe-ARW en buitetekste soos 'n webblad op die internet kan rondbeweeg; nie oorlaai word met data in die onderskeie woordeboekartikels nie; en weet waar om vir hulp te soek indien enige van die eersgenoemde onduidelik is.

 

 

In 'n opvolgstudie word daar verslag gedoen oor die tweede en derde take in Blom (2021) se studie, waar die volgende stap in die ontwikkelingsproses van die aanlyn woordeboek, naamlik die toetsing van die prototipe-ARW, uitgevoer is. Soos reeds in Blom (2020: 25-26) genoem, is die bruikbaarheid van die databeskrywing/-inhoud en die data-aanbieding/-uitleg in die prototipe-ARW empiries getoets deurdat studenteredigeerders die prototipe-ARW moes gebruik tydens akademiese redigeertake, en na afloop van die take 'n posttoetsvraelys moes voltooi om hulle gebruikertevredenheid aan te dui. Rubin en Chisnell (2008) se boek Handbook of Usability Testing is as riglyn gebruik om kwantitatiewe prestasiedata oor fout- en suksesevaluering, en kwalitatiewe voorkeurdata oor die gebruikers se ervaring tydens die gebruik van die prototipe, met die voltooiing van die redigeertoetse in te samel. Hierdie bruikbaarheidstoetsing kon help om te bepaal of die tegnologieê suksesvol gebruik is vir die aanbieding van die prototipe-ARW se inhoud, of die studenteredigeerders die prototipe-ARW kon gebruik om die redigeertake effektief te voltooi, en watter aanpassings aan die ARW 'n beter gebruikerservaring vir die redigeerders sal bied. Aanbevelings- en verbeteringsriglyne vir die verfyning en samestelling van die finale ARW is na aanleiding van hierdie resultate opgestel.

 

Eindnote

1 Mossop (2014) onderskei tussen vier tipes redigering, naamlik inhoudelike, strukturele, stilistiese, en kopieredigering. Die laasgenoemde twee tipes sluit die volgende redigeertake in: die korreksie van spel-, tik- en basiese grammatikale foute, die nagaan van interpunksie, asook die uitwys en aanpassing van ontoepaslike woordgebruik en sinstruktuur vir spesifieke lesers van 'n teks.
2 Die woordeboekmodel bestaan uit 'n tuisbladsy met verskillende afdelings wat die aka-demiese redigeerder kan gebruik, vyf artikels van voorbeelde uit verskillende vakgebiede, asook 'n minihulp-gebruikersleiding (sien Blom 2020 vir 'n gedetailleerde illustrasie van Blom se 2018-woordeboekmodel).
3 Die data in 'n leksikografiese databasis word meestal gestruktureer in 'n tabel en volgens waardes (soos getalle) gestoor. Hierdie waardes kan slegs deur 'n databasisbestuurstelsel ("database management system" of DBMS) opgesoek en gesorteer word, sodat IT-spesialiste 'n programmatiese onttrekking van die waardes kan gebruik om data te skep en op te dateer wat dan aan die leksikograaf of gebruiker in 'n gebruikerskoppelvlak verskyn (Bergenholtz en Nielsen 2013: 81).
4 Sedert Du Plessis se studie in 2015, is nuwe weergawes van hierdie drie ISO-standaarde gepubliseer. Vandaar die twee publikasiejare by elk van dié standaarde.

 

Bronnelys

Bergenholtz, H. en J.S. Nielsen. 2013. What is a Lexicographical Database? Lexikos 23: 77-87.         [ Links ]

Blom, M. 2020. 'n Teoretiese model vir die ontwerp van 'n Afrikaanse aanlyn Akademiese Redigeerwoordeboek. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 27(1): 5-29.         [ Links ]

Blom, M. 2021. 'n Aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek: Die bruikbaarheid van 'n prototipe. M.A.-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. en K. van de Poel. 2012. Teksredaksie. Hersiene uitgawe. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

Du Plessis, A.H. 2015. 'n Analise van die selfoon-WAT: 'n Grondslag vir die verbetering van selfoonwoordeboeke. M.A.-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Du Plessis, A.H. 2017. Die rol van die bruikbaarheidsbenadering binne die e-leksikografie. Literator 38(2): 1-11.         [ Links ]

Engelberg, S. en C. Müller-Spitzer. 2013. Dictionary Portals. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 1023-1035.

Fuertes-Olivera, P.A. en S. Tarp. 2014. Theory and Practice of Specialised Online Dictionaries: Lexicography versus Terminography. Berlyn/Boston: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014a. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2014b. Makrostruktuuraanpassings vanaf gedrukte na e-woordeboeke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(3): 481-504.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018a. Accessibility, Access Structures and Access Procedures. Jesensek, V. en M. Enceva (Reds.). 2018. Wörterbuchstrukturen zwischen Theorie und Praxis: 35-56. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018b. Internet Lexicography in the 21st Century. Engelberg, S., H. Kämper en P. Storjohann (Reds.). 2018. Wortschatz: Theorie, Empirie, Dokumentation: 215-236. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018c. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke. Lexikos 28: 177-195.         [ Links ]

Gouws, R.H. 2018d. Dictionaries and Access. Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018. The Routledge Handbook of Lexicography: 43-58. Londen: Routledge.         [ Links ]

Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlyn/New York: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, R.H. en D.J. Piinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: SUN PReSS.         [ Links ]

International Organisation of Standardisation. 2017 (1998b). ISO 9241-12. [Internet]. Beskikbaar: https://www.iso.org/standard/64839.html [20 Oktober 2020].

International Organisation of Standardisation. 2018 (1998a). ISO 9241-11. [Internet]. Beskikbaar: https://www.iso.org/standard/63500.html [20 Oktober 2020].

International Organisation of Standardisation. 2020 (2006). ISO 9241-110. [Internet]. Beskikbaar: https://www.iso.org/standard/75258.html [20 Oktober 2020].

Law, M.A. 2011. The Development of Core Standards for Editing in South Africa. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 29(3): 275-292.         [ Links ]

Lourens, A. 2014. Produk teenoor proses tydens akademiese redigering: Opmerkings as aanduiders van redigeergerigtheid. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus 43: 261-296.         [ Links ]

Mossop, B. 2014. Revising and Editing for Translators. Derde uitgawe. Manchester: St. Jerome.         [ Links ]

Rubin, J. en D. Chisnell. 2008. Handbook of Usability Testing: How to Plan, Design, and Conduct Effective Tests. Second edition. Indianapolis, IN: John Wiley.         [ Links ]

Universiteit Stellenbosch Taalsentrum. 2019. Redigering van jou tesis of navorsingsverslag. [Internet]. Beskikbaar: http://www0.sun.ac.za/taalsentrum/assets/files/TaaldiensDokumente/Tesisredigering_2019_Okt.pdf [28 Maart 2020].

Tarp, S. 2015. Structures in the Communication between Lexicographer and Programmer: Database and Interface. Lexicographica 31: 217-246.         [ Links ]

Van Aswegen, E.S. 2007. Postgraduate Supervision: The Role of the (Language) Editor: Sed quis custodiet ipsos custodes? South African Journal of Higher Education 21(8): 1139-1151.         [ Links ]

Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013. Macrostructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013: 73-109.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons