SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31Studies on Multilingual LexicographyExploring the Documentation and Preservation of African Indigenous Knowledge in a Digital Lexical Database author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Lexikos

On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904

Lexikos vol.31  Stellenbosch  2021

http://dx.doi.org/10.5788/31-1-1657 

REVIEWS

 

W.F. Botha (Hoofredakteur). Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Sestiende Deel: SRP-SZONDITOETS. 2021, xx + 759 pp. ISBN-13 978-1-990998-46-1 (leerband), ISBN-13 978-1-990998-45-4 (plastiekband). Stellenbosch: Büro van die WAT. Prys: R900 (leerband) / R550 (plastiekband).

 

 

Inleidend

By die terhandneming van WAT XVI (2021), is 'n mens bewus van die historíese waarde van hierdie laaste gedrukte oplaag, 'n indrukwekkende foliant wat 'n voortsetting is van die formaat wat mettertyd gevestig geraak het as kenmerkend van hierdie vlagskippublikasie. Hierdie derde en laaste deel van die letter S strek van die lemma SRP, die afkorting vir sekuriteitsregulerings-paneel, tot die lemma Szonditoets. Aangesien die oorblywende dele ná S slegs aanlyn beskikbaar sal wees, word die papier-era hiermee afgesluit en die elek-troniese medium ten volle ingespan. Deur voortgesette hersiening en bywerking, wat hierdeur moontlik gemaak word, bly die WAT 'n aktuele bron van kennis oor die Afrikaanse woordeskat. Hierdie uitgawe beslaan 779 (759 + xx) bladsye, met 7 606 verklaarde lemmas in die sentrale teks. Hierby kom ook 'n addendum wat ongeveer 1 560 bygewerkte lemmas van AAHS tot Sri Lankaans bevat, en dus prakties deel vorm van die sentrale teks.

Vorderingstempo

Die eerste 15 dele (met 11 bykomende oplae) van die WAT het teen 'n frekwensie van gemiddeld 4 jaar en 10 maande per deel sedert 1950 van die pers gekom.

Deel sewentien (T) word vroeg in 2023 in die vooruitsig gestel, en die mikpunt vir die voltooiing van die woordeboek tot Z (ten minste voor 'n beoogde volledige herbewerking) is nou 2028. Dit is moontlik gemaak deur bykomende befondsing en personeeluitbreiding, waardeur die beplande voltooiingsdatum met 10 jaar vervroeg is. Vanaf 2020 het die effek van die heersende pandemie terselfdertyd maatreëls genoodsaak om die voorgenome voortgang van die werk te verseker, ten spyte van afsonderlike werkstasies.

Beoordelingsperspektief: Die WAT as omvattende woordeboek

'n Belangrike faktor by die beoordeling van enige woordeboek is die aard en doel van die betrokke publikasie, wat soos volg lui:.

Die missie van die WAT is om 'n omvattend verklarende woordeboek en ander leksikografiese produkte in Afrikaans saam te stel, en sodoende die Afrikaanse taal, sy gebruikers en die leksikografie te dien.

As teikengebruikers word uit die breë spektrum dan veral "hoërskoolleerders tot Afrikaans-akademici" uitgesonder, vir wie die aanbiedingswyse toeganklik behoort te wees. 'n Verdere eienskap wat beklemtoon word, is dat dit 'n sin-chroniese woordeboek is, en dus nie aanwysings van die herkomstyd of geskie-denis bevat nie, en voorbeeldmateriaal ook nie chronologies gerangskik is nie. Dit beteken egter nie dat ouer (en verouderende) vorme nie opgeneem word nie - wel dat sulke vorme deur etikette gemerk word.

In die onderstaande bespreking word daar eers 'n kort oorsig gegee van die hoofkomponente, waarna bepaalde kenmerke van die hoofteks bespreek en ook met mekaar in verband gebring word.

Die voorwerk

In die voorwerk word omvattende inligting verstrek, in aansluiting by die reeds bekende formaat van WAT XV en die voorafgaande dele. Daarby word 'n beskrywing van die mediostruktuur, of die wyse waarop kruisverwysings en bronverwysings aangebied word, aangevul deur 'n wye verskeidenheid aktuele inligting, wat die produksieproses, ander leksikografiese produkte, die personeel, skakeling met deskundiges en die publiek, en die missiestelling van die WAT (hierbo vermeld) insluit. 'n Enkele punt van kritiek wat betref die indrukwekkende lys vakkundige medewerkers is dat postume bydraers nie as soda-nig aangedui word nie - o.a. vdr. B. Hinwood en mnr. C. de Ruyter, wat beide al 'n geruime tyd oorlede is. Of dit wel ter sake is, is wel 'n ander vraag, maar dit sou waarskynlik nodig wees om nuwe deskundiges te betrek vir die toekomstige dele.

'n Eienskap van die toeligting (in die voorwerk) by die gebruik van die woordeboek is die uitvoerige beskrywing van die leksikografiese bewerking - iets wat vir die gebruiker grafies voorgestel word aan die hand van die (nou reeds bekende) skematiese voorstelling van inskrywings (hier op bl. vi).

Die makrostruktuur

Die feit dat die WAT 'n omvattende woordeboek is, beteken dat die makro-struktuur (d.w.s. die geheel van leksikale items wat as lemmas ingesluit word) 'n aansienlike mate van vryheid kan weerspieël wat betref die keuse van lemmas, en by alle waters kan skep.

In 'n onderhoud op RSG op 6 Junie 2021 wys Alet Cloete daarop dat die omvattende aard van die makrostruktuur weerspieël word deur die opname van historíese of verouderde woorde, nuutskeppings, vaktaal, formele, informele en plat vorme, en alle variëteite, wat streektaal- en geselstaalvorme insluit. Die insluiting van al hierdie kategorieë, asook betekenisonderskeidings wat met verloop van tyd verandering ondergaan, veroorsaak dat daar tydens die samestelling van die betrokke deel ordeningsbesluite geneem moet word op grond van die huidige gebruiklikheid. (Hierop word daar verder in die bespreking uitgebrei.)

Die mikrostruktuur

Wat die mikrostruktuur van artikelinskrywings betref - dus die wyse waarop die inligting oor elke lemma gestruktureer is - word aspekte soos gramma-tiese inligting, lettergreepverdeling, spelling, uitspraakleiding, woordsoortelik-heid, morfologie, etimologie en sintaksis gedek. Hierdie struktuur maak voor-siening vir 'n breë spektrum van moontlikhede, vanaf 'n enkele item (bv. 'n afkortingsvorm soos "Swaz. afk. Swaziland" tot 'n omvang van 5 200 woorde (in die geval van steek), of selfs langer. Oor die rangskikking van die elemente wat deel kan vorm van die mikrostruktuur word in die toeligting altesaam 12 kategorieë bespreek, wat kumulatief bydra tot die mees volledige struktuur van 'n artikel, maar wat uiteraard selde almal aan die beurt kom. Ook aspekte soos die aanduiding van samestellings en afleidings, verwysings en wissel-vorme kom ter sprake.

Bylaes

Benewens die lys van 55 bladsye met bronne waaruit in die artikelinskrywings aangehaal is, voorafgegaan deur 'n toeligtingsbladsy, is daar 'n enkele bylae (Addendum A, wat ongeveer 1 560 nuwe byvoegings vanaf Deel I tot XV insluit).

Die deskriptiewe en preskriptiewe aard van die woordeboek

As naslaanbron het die WAT nie 'n eksplisiet preskriptiewe funksie nie, maar weerspieël dit die breeds moontlike spektrum van geskrewe Afrikaans. Hoewel dus oorwegend deskriptief, sou die aanbieding van alle leksikografiese teks (bv. lemmas, definisies en mikrostrukturele inligting) wel ortografiese AWS-norme volg wat op Afrikaans van toepassing is. Vergelyk egter, by wyse van uitsondering, die lemmas sulu en Sulu, waarvan die meervoudsvorme as sulus en Sulus (sonder meervoudsapostroof) aangedui word.

Ten spyte van die feit dat die WAT teoreties die grense oorskry van wat as ortografíes genormeerde Afrikaans beskou kan word (wat betref die weergawe van sitate), word daar in die omgang deur die deursnee-taalgebruiker dikwels na hierdie bron verwys om 'n bepaalde gebruiksvorm as gemagtig of gesank-sioneer te staaf. Definisies van lemmas in die WAT as verklarende woordeboek word uiteraard wel as gesaghebbend aanvaar en stawend gebruik, 'n funksie wat daartoe lei dat die WAT deur die gewone gebruiker ook oor 'n breër spektrum van normering gebruik word.

Lemmatisering van fonetiese spelwyses (wat uitspraakverskynsels weerspieël)

Deur die opname van sitate uit variëteite wat (nog) nie ortografies genormeer is nie, bv. uit Kaaps, kom daar variante spellings voor wat dikwels op die fone-tiese interpretasie van individuele skrywers berus. Dit is in sulke gevalle waar die sitaat, en in sommige gevalle die lemma wat daardeur geïllustreer word, 'n tentatiewe normerende funksie het. 'n Voorbeeld van 'n geselstaalvariant, wat ook in verskillende variëteite voorkom, is spieg (p. 701), wat eerder 'n ontronde geselstaalvariant is van spuug, waarna daar nie verwys word nie, as van die meer neutrale spoeg. 'n Vergelykbare voorbeeld van die lemmatisering van fonetiese spelwyses is die opname van spien (met 'n kruisverwysing na 2speen), 'n enkele voorbeeld uit 'n veel groter aanbod in die sitate, soos ernstagge, 'ie, vloe, gie, suste, dieselle wot, vrint, vanaan, nuh, ds, ens., wat almal fonologiese kenmerke van Kaaps weerspieël). Dit onderstreep die behoefte aan ortografíese normering ten opsigte van veral informele variëteite. Daar sou aan die hand gedoen kon word dat so 'n tentatiewe normering kan berus op 'n frekwensie-gebaseerde aanduiding in die etikette, waardeur daar met groter stelligheid 'n keuse uitgeoefen kan word van hoe relatiewe frekwensie beskryf word. Dit het bv. betrekking op die onderskeid tussen etikette soos "meer dikw." (by stêre en ook stêrre), "ongewoon" (by sterde), en "selde ook" (by sterde en stêre), waarna hieronder verwys word.

Etikette - motivering en toepassing

Deur die gebruik van etikette word sommige geselekteerde lemmas gemerk wat benewens 'n basiese (denotatiewe) betekenis, ook spesifieke konnotasies dra waarvan die gebruiker kennis behoort te dra. Sulke etikette kan moontlik in algemene kategorieë verdeel word:

(a) Register, wat deur die stylvlak bepaal word, of die mate van formaliteit - redaksioneel word hierna as sosiostilistiese etikette verwys (Voorbeelde: geselstaal, skertsend, formeel, verhewe, ens.);

(b) Streeks- of groepsaanduidend (Voorbeelde: streektaal, visserstaal, studente-taal, sleng);

(c) Tegniese of vakterminologie (Voorbeelde: anatomie, oudheidkunde, skeep-vaart, stylleer, kookkuns, chemie);

(d) Stigmatisering (Voorbeelde: vloek, plat, vulgêr, neerhalend, rassisties, seksis-ties, skeltaal - as teenhanger van sulke terme word die etiket eufemisties ook gebruik);

(e) Gebruiklikheid en tydsgebondenheid (Voorbeelde: minder gebruiklik, ongewoon, selde ook, meer dikwels, verouderd, verouderend, histories);

(f) Inligting wat nie kontekstueel uit die sitaat of poëem afgelei kan word nie, soos by suursmaak, hoewel die sitaat hier deur die gebruik van "(sauerkraut)" reeds voldoende inligting bevat.

Die gebruik van etikette om registers, variëteite e.d.m. aan te dui, is 'n nood-saaklike komponent van die mikrostruktuur, gegewe die seleksie uit alle soorte variëteite waaruit sitate onttrek word, en kan van groot waarde wees om die variasiemoontlikhede van die taal leksikografies te struktureer. Aan die ander kant het sulke etikette ook die funksie om die beperkings ten opsigte van register en konteks onder die aandag te bring. By die bewerking van die betrokke lemma word die kontekstuele beperkings ook, al is dit implisiet, deur die sitate geïllustreer.

Een kategorie uit die lys etikettipes hierbo word met meer as gewone aan-dag onder die loep geneem, naamlik stigmatiseringsetikette. Omdat taal soveel aspekte van die gemeenskaplike bestaan van 'n taalgemeenskap (en verskillende taalgemeenskappe in 'n land soos Suid-Afrika) benoem, sluit dit ook die problematiek van sodanige saambestaan in. In taalkommunikasie dien die woord dikwels ook as wapen, en kom veral as uitdrukking van rassistiese en seksistiese houdings in die taalgebruik van sommige gebruikers na vore. Ter-wyl die bestudering van sulke items wetenskaplik onproblematies kan wees, kan die opname van emosioneel gelaaide items vir die deursnee-gebruiker dui op 'n erkenning van die gebruik daarvan, en dus as genormeerd (soos hierbo vermeld). 'n Duidelike uiteensetting van die opname van sulke items (bene-wens die gebruik van etikette) word in par. 6 van die voorwerk verstrek, iets waarvan die gebruiker met vrug kan kennis neem.

Opmerkings oor ortografíese aanbiedingswyse van lemmas

Wat betref die skryfwyse van samevoegings wat los of vas geskryf kan word, veral dan as bywoord plus voltooide deelwoord, sou die een en ander oor die aanbiedingswyse opgemerk kan word. Ook hier geld die waarneming dat vorme wat in die WAT gelemmatiseer word, deur heelwat sprekers as norm aanvaar word. In die geval van voorbeelde soos

sterkontwikkel, sterkruikend, sterkgewortel, sterkgroeiend

word die vas geskrewe (in die teks vasgeskrewe) vorme wel gelys op grond van die voorkoms daarvan in sitate, maar die etiket lui "(meer dikw. los)", wat by korpusondersoek dikwels blyk slegs los te wees. In die definisie van sterkontwikkel lui dit ook (los) "Wat sterk ... ontwikkel is". Die indruk kan hierdeur geskep word dat slegs die attributiewe vorme vas geskryf word, bv. ook sterk-skemer, en die predikatief los. Die antonimiese vorme met swak (bv. swakont-wikkelde, maar ook swak ontwikkelde, wat beide wel in korpora voorkom) volg dieselfde patroon, waar swak- as koppeltekenlemma aan die begin van 'n lys onverklaarde lemmas geplaas word, met 'n etiket wat aandui dat dit meer dikwels los geskryf word. Daardeur kan die afleiding (tereg of ten onregte) ook gemaak word dat daar in 'n mate selektief omgegaan is met die keuse van lemmas wat deur konvensie of semantiese verbleking (naas die los geskrewe by-woord plus naamwoord, wat uiteraard nie gelemmatiseer hoef te word nie) as vaste vorme kan voorkom.

In teenstelling hiermee word die mees gebruikte vorm, meestal los geskrewe, by idiomatiese en gespesialiseerde uitdrukkings (wat ook vas geskrewe teenhangers met 'n laer frekwensie het) as basis gebruik (vgl. die tweede alinea van par. 5.3 op p. xvii).

Slot

WAT XVI voeg in verskeie opsigte waarde toe aan sy voorgangers, o.a. deur die uitgebreide terminologieverklaring, die insluiting van klassieke (bv. Romaanse of Grieksgebaseerde) ekwivalente van Germaanse vakwoordeskat, en duidelike uitspraakleiding. Met inagneming van bepaalde kritiese opmerkings, kan hier-die sestiende deel beskou word as 'n uitstekende bron vir taalpraktisyns, navorsers en studente. Die redelik gekompliseerde mikrostruktuur maak dit ook van nut vir meer gevorderde gebruikers, en voldoen aan leksikografiese vereistes op 'n hoë vlak. Dit kan beskou word as 'n model vir kennis oor omvattende, verklarende woordeboeke.

Die grootste uitdaging wat betref die afhandeling van die woordeboek as geheel is waarskynlik om 'n konsekwente formaat van aanbieding van A tot Z in die uiteindelike aanlyn weergawe tot stand te bring.

Ernst Kotzé

Emeritus Nelson Mandela-Universiteit Port Elizabeth (ernst.somerstrand@gmail.com)

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License