SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.27 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Lexikos

versión On-line ISSN 2224-0039
versión impresa ISSN 1684-4904

Lexikos vol.27  Stellenbosch  2017

 

RESENSIES REVIEWS

 

 

Die Taaikommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Elfde, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe. 2017, xxxiii + 757 pp. ISBN: 978-1-86890-201-1 (Sagteband). Kaapstad: Pharos Woordeboeke. Prys: R450.

 

Rooier meestai mooier

Dat die samestelling van die AWS aan dieselfde prosesmatige uitdagings onderhewig sou kon wees as wat die samestellers van groot, grondliggende religieuse tekste in die gesig staar, is moontlik nie 'n vergesogte analogie nie - dit is weliswaar ook al monnikewerk genoem. Hier word immers in die eerste plek by wyse van sowel beskrywing as voorskrywing reëls saamgevat waarvolgens die taalgemeente, by wyse van spreke, hul talige handel en wandel moet inrig. Die boek kan buite konteks en sonder behoorlike bestudering maklik vir ongewenste politiekery aangewend word. Apokriewe inhoud (byvoorbeeld talige eendagsvlieë of ander idiosinkrasieë) moet uit die teks geweer word en as geheel moet die eindproduk samehangend, realisties, oortuigend en goed gefundeerd aandoen. Dit is 'n bron wat uit die aard van die saak moet poog om so na as moontlik daaraan te kom om alles vir almal te wees in die taal, terwyl hierdie bykans onmoontlike taak boonop moet geskied in 'n taalruimte wat toenemend omstrede is. Die Taalkommissie kry dit egter met die jongste uitgawe reg om vir 'n groter deel van die taalgemeenskap as tevore 'n normeringsbron daar te stel wat toeganklik, gebruikersvriendelik en steeds gesaghebbend is.

In hierdie resensie word kortliks na enkele hoofpunte en voorbeelde verwys ter illustrasie1, maar dit is uiteraard onmoontlik om die teks werklik grondig te bespreek in hierdie beperkte bestek en hierdie verkenning moet daarom hoogstens as oriëntasie voor verdere eie verdieping gesien word. Die fokus val eweneens doelbewus nie primêr op die reëls nie, buiten waar volledige nuwe reëlhoofstukke bygevoeg is, en word hoofsaaklik vanuit die hoek van die woordelys as vertrekpunt benader. Laastens sal die insluiting van woorde uit die variëteite Kaaps en Oranjerivierafrikaans nie hier uitgesonder word nie, hoewel dit in betekenisvolle mate voorkom, aangesien dit reeds elders genoem is (vergelyk in hierdie verband byvoorbeeld Germishuys (2015)2, Hendricks, aangehaal in Odendaal, 20173, asook Luther, 20174) en as sodanig meer omvattende aparte ondersoek regverdig.

Die 11de uitgawe van die AWS (hierna AWS11) is 'n lywige teks met 457 reëls teenoor die vorige uitgawe se 355. Dit is 742 bladsye in omvang teenoor die vorige uitgawe se 593. Die eerste indruk wat by die gebruiker geskep word, is van 'n groter boek5, maar nie 'n swaarder een nie. Opsigtelike inhoudelike toevoegings is die hoofstukke oor leestekens (13) en trappe van vergelyking (16) onder die reëls, die uiters nuttige en toeganklike "Gebruikersgids" wat 'n welkome uitbreiding is vergeleke die "Wenke vir gebruikers" van die vorige uitgawe, asook vier nuwe bylaes waarin omvattende bevestiging van Afrikaans as internasionaal relevante taal en as wetenskapstaai neerslag vind (hier is onder meer landname, geldeenhede, chemiese elemente en geografiese eiename van die Ooste, alles gestandaardiseer vir die Afrikaanse gebruiker). Die boek het bruikbare kleurblokke en 'n toeganklike makrostruktuur. Die lettertipe en veral die ligblou blokke by reëls val veel minder strak op die oog, en as 'n naslaanbron is dit 'n aangenamer boek as AWS10 om te gebruik, oftewel sélfs aangenamer, aangesien AWS10 allerweë en met reg beskou is as die beste tot nog toe in hierdie verband.

Die terminologielys agterin AWS11 verdien voorts spesifieke vermelding. Hier is 26 nuwe definisies toegevoeg en hoewel die nota vooraan, soos in die verlede, dit stel dat hierdie definisies slegs betrekking het op die gebruik van die betrokke term in die AWS self, is dit nietemin vir die gewone gebruiker 'n nuttige algemene hulpbron en vir studente bykans onontbeerlik. Nuwe insluitings wat veral vir gebruikers nuttig behoort te wees, sluit in "affek", "fleksie"/ "infleksie", etlike terme wat met dialoog te doen het, die veel voorkomende nuwe nosie "meerledige eienaam" of "multiwoordeienaam", "parentese" en "selfnoemfunksie", asook verwysings na tipes sinne en tipes voegwoorde. Daar is egter ook insluitings waarvan die definisies moontlik heel voor die hand liggend of selfs minder relevant is, byvoorbeeld "getal", "nommer" en "syfer" onderskeidelik, of die onderskeid tussen 'n "lys" en 'n "reeks". Dit is wel jammer dat daar in die huidige tydsgees, iets wat volgens die teks deur elke teenswoordige uitgawe van die AWS daarin weerspieël word, by die definisie van "Standaardafrikaans" in die terminologielys 'n uitspraak gemaak word oor gebruiksdomeine vir "die gesproke vorm" daarvan, terwyl dit onder "Werkswyse" tereg gestel word dat die AWS "slegs die ortografiese konvensies (spelling en skryfwyse)" bereël. Die eerste sin onder die definisie van "Standaardafrikaans" sou, vir die doeleindes van hierdie terminologielys, voldoende wees. Dit is egter verblydend dat soveel klem by meer as een punt in die teks daarop gelê word dat Standaardafrikaans die dinamiese en lewende produk van uitgebreide en ingewikkelde prosesse is wat deurentyd voortgaan en waarvoor alle variëteite van die taal belangrik is.

Die nuwe bylaes is veral vir taalpraktisyns nuttig en ruim potensieel 'n klomp voormalige onsekerheid, onduidelikheid en gebrek aan eenvormigheid uit die weg. Die nuwe hoofstuk oor die trappe van vergelyking is eweneens 'n welkome formalisering van 'n taalverskynsel wat tot op hede nêrens so samehangend in een band saamgevat is nie. Die gebruik van die woord "meestal" in sekere reëls, sonder dat daar voorbeelde gebied word van gevalle waar die betrokke reël dan nou nié geld nie, is egter in hierdie hoofstuk effe steurend.

Die hoofstuk oor leestekens is ook 'n nuttige nuwigheid, veral die reëls oor hoof- of kleinletters na die dubbelpunt, die reëls oor kommagebruik, asook dié vir die hantering van uitgeligte en aangehaalde inligting. Vir studentegebruikers en redigeerders van akademiese tekste sal die afdeling oor die gespesialiseerde gebruik van leestekens ook besonder bruikbaar wees. Oor reël 13.84 het hierdie leser egter 'n vraag. Onder taalwerkers is daar lank reeds onsekerheid oor die gebruik van 'n opeenvolgende uitroepteken en vraagteken aan die einde van een sin en dit is verblydend dat dit nou bereël is. Volgens die nuwe reël kan die uitroepteken direk ná die vraagteken gebruik word om affek in 'n vraagsin aan te dui. Gedagtig daaraan dat die vraagteken volgens reël 13.63 gebruik word om 'n vraag af te sluit (my kursivering), moet daar egter gevra word of reël 13.84 dit nie eerder moes stel dat die uitroepteken eerste kom en die vraagteken laaste wanneer die twee tesame gebruik word nie (d.w.s. eerder as "?!").

By die afdeling oor Omgangsafrikaans is nie wesenlike veranderinge aan die riglyne aangebring nie, buiten dat daar in terme van bewoording voorsiening gemaak is daarvoor dat Omgangsafrikaanse woorde nie net aan Engels nie, maar ook aan ander tale, ontleen kan word. Die leser kry egter (steeds) voorbeelde slegs uit Engels. AWS10 se "element van humor, spot, kleinering of platheid" in verwysing na verafrikaansings soos "baisiekel" word in die nuutste AWS 'n "geurtjie van veral humor, spot, geringskatting of platheid". Regdeur die teks kom soortgelyke idiomatiese belyning of vernuwing voor, soos geïllustreer met die sinvolle woordkeuse "geringskatting" in plaas van "kleinering", hoewel daar ook soms vreemde en oënskynlik idiosinkratiese woordkeuses in dieselfde kader voorkom, soos "geurtjie" in plaas van die meer neutrale en formele "element". 'n Sinvolle toekomstige insluiting in hierdie afdeling sou die spelling van Afrikaanse vloek- of taboewoorde, of minstens riglyne daarvoor, wees. Hoewel die gebruiker begrip het vir oorwegings van fatsoenlikheid en sensitiwiteit, en met dank kennis neem van die reëls wat wys hoe om byvoorbeeld die asterisk te gebruik om bepaalde letters in hierdie soort woorde te versteek, is die realiteit dat taalpraktisyns gereeld op verskillende forums probleme met die spelling en skryfwyse van sekere algemene vloek- en taboewoorde vermeld. Hierdie woorde kom byvoorbeeld wel in gepubliseerde literêre werk voor, asook in ander gesaghebbende taalhulpbronne, en probleme met hul spelling of skryfwyse val direk binne die Taalkommissie se mandaat.

In die woordelys self sluit AWS11 nagenoeg 2000 nuwe lemmas in. Weens lengtebeperkings word hier slegs op 'n seleksie uit hierdie nuwe insluitings gewys ter illustrasie van bepaalde neigings. Die seleksie kom ook slegs uit die lukraak verkose letters "A" en "W", ter wille van bondigheid, hoewel verdere voorbeelde in bykans elke letter se geval voorkom.

Die insluiting van 'n woord soos "Afrikaanssintaksis" skep die indruk dat een van die potensiële teikengebruikers vir die AWS die redelik gevorderde taalstudent is. By die woord "agroëkonomies" is 'n addisionele reëlverwysing toegevoeg wat verwys na die gebruik van die deelteken om uitspraakverwarring te voorkom; soortgelyk word by "weimaraner" nou nie net kruisverwys na die reël oor vreemde woorde nie, maar ook na reël 9.7 (d) oor hoof- of kleinlettergebruik by die name van o.a. diererasse. Hierdie uitbreiding van reëlkruisverwysings by woorde in die woordelys is 'n welkome toevoeging, soos ook die aanvanklike toevoeging van hierdie verwysings in die vorige uitgawe. Die insluiting van lemmas soos "Amsterdam-Johannesburg/Johannesburg-Amsterdam-vlug of Amsterdam-Johannesburg/Johannesburg-Amsterdamvlug" en "wit leuen of witleuen of wit leuentjie of witleuentjie" is waarskynlik nie soseer voorbeelde van insluiting ter wille van erkenning nie, maar eerder van komplekse woorde waaruit die gebruiker dan ook ander soortgelyke komplekse se spelling kan aflei. Eersgenoemde geval verwys ook terug na die nuwe hoofstuk oor leestekens en is dus waarskynlik om daardie rede ook in die woordelys opgeneem. Laastens is die skrapping van die onsensitiewe "witmens" en "witman" met behoud van slegs "wit mens" in die woordelys besonder verblydend; so ook die gepaardgaande kruisverwysing na die reël wat dit stel dat die kleuradjektiewe los geskryf word. (Dieselfde patroon geld in die gevalle "swartmens"/"swartman" vs. "swart mens" en "bruinmens"/"bruinman" vs. "bruinmens".) Hieragter sit meer as bloot 'n taalkundige gegewe - hier stel die Taalkommissie dit ook baie duidelik dat velkleur in Afrikaans nie meer 'n tipe mens onderskei nie, maar bloot op een van die betrokke mens se arbitrêre attribute dui. Dit is 'n lofwaardige standpunt om in te neem, soos ook met die insluiting en erkenning van die woord "selfdood".

Etlike begrippe wat verwys na nuwe ontwikkelinge in veral die wetenskap word ook ingesluit, byvoorbeeld die eienaamvorm "Antroposeen, -e" plus afgeleide adjektief "Antroposeens, -e". Sover dit nuwe lemmas uit gebruiksvariëteite betref, is die woord "antie" byvoorbeeld ingesluit (terloops, dit geld ook "ant of tant" plus die aanwysing dat dié vorme voor eiename gebruik word). Volgens die beginsel dat Standaardafrikaans uit alle variëteite gevoed word en sekere woorde ter wille van erkenning insluit, is dit 'n sinvolle keuse, hoewel daar bevraagteken kan word of dit werklik 'n voorbeeld van formele, geskrewe Standaardafrikaans is of sal word.

Buiten die toevoeging van lemmas as sodanig, word daar in sommige gevalle ook betekenisleiding toegevoeg waar dit voorheen nie gestaan het nie, of minder uitgebreid was. Vergelyk byvoorbeeld die lemma "angora" in AWS11:

angora, -s of angorabok, -ke 1.11, 9.7 (d), 20.5

angora (soort dier), -s 1.11, 9.7 (d)

angora (soort tekstielstof 1.11

angoraooi, -e 9.7 (d), 12.1 (a)

Daarteenoor staan in die vorige uitgawe slegs die volgende:

angora, -s 1.11

angorabok, -ke 18.5

angoraooi, -e

In heelparty gevalle is die toegevoegde leiding wel nuttig, maar daar is ook gevalle soos die bostaande waar die leser wonder of dit werklik nodig is om soveel addisionele betekenisleiding te verskaf waar daar eintlik geen (nuwe) probleem met spelling of skryfwyse voorkom nie en waar die betrokke voorbeelde in elk geval almal tot dieselfde woordsoort behoort en dus logieserwys aan dieselfde spelreël onderhewig is. Bosman et al. (201 76) het oor AWS10 daarop gewys dat die aanbod van mikrostrukturele inligting by lemmas miskien met meer sorg bedink kan word en dit blyk ook die geval te wees by sekere elemente in AWS11. Die gebruiker wonder in hierdie verband ook oor lemmas soos "wit suiker" en "witsuiker" wat skynbaar as wisselvorme opgeneem is, sonder betekenisleiding of kruisverwysing na 'n reël, en oor iets soos "wel" wat net so uit AWS10 oorgebring is tesame met die etiket (bw.) - lewer hierdie spesifieke vorm werklik betekenisvolle spelling- of skryfprobleme op?

Lemmas wat nuutskeppings, leenwoorde en/of verwysings na tegnologiese ontwikkelinge omvat, verdien aparte vermelding. In hierdie verband is daar heelparty uiters sinvolle insluitings waarvan gebruikers met dank kennis behoort te neem. Voorbeelde sluit in die nou reeds gebruiklike "hommeltuig", die werkwoord- en naamwoordvorme van "whatsapp" (maar nie ander moontlikhede soos "instagram" of "snapchat" nie, hoewel hul spelling dienooreenkomstig afgelei sou kon word), "selfie", "Wi-Fi/"wi-fi", "meem" en "venue". Aan die ander kant is daar ongelukkig ook die ortografies skrikwekkende "googleloer", die nou helaas verewigde vertaalfout "gladdejantjie" (vir "smoothie", wat gelukkig self ook ingesluit is) en die semanties uiters twyfelagtige dog kennelik veel voorkomende "potgooi" (hier wonder die gebruiker telkens of dit vir die Taalkommissie moontlik sou wees om die taalgemeenskap teen sigself se soms absurde maaksels te beskerm, hoewel daar seker min is wat gedoen kan word as gebruikers sulke onsinnighede algemeen genoeg gebruik).

Spelling in die woordelys word ook in etlike gevalle verander om met veranderinge aan reëls te strook. Hiervan is die geval "anglis" uit AWS10, nou "Anglis" in AWS11, 'n voorbeeld wat saamhang met die redelik ingrypende en meestal sinvolle herbereëling van eiename om voorsiening te maak vir die hantering van onder meer die sogenaamde "multiwoordeienaam". Reël 9.19 in AWS10 het dit gestel dat hoof- of kleinletters gebruik kan word by byvoeglike naamwoorde en selfstandige naamwoorde wat uit eiename afgelei word, terwyl daar in AWS11 by die reëls oor eiename en afleidings 'n uitsondering ingeskryf word vir afleidings uit "multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met 'n koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings". Die nuwe reël 9.19 stel dit dan vervolgens dat die hoofletter(s) van die basis in sodanige gevalle behoue bly, terwyl die nuwe reël 9.18 die res van die ou reël 9.19 inkorporeer. As gevolg van, of minstens tesame met, hierdie taalkundig verklaarbare en verstaanbare herbereëling, word die ou reël 9.20 ("Afleidings op -s, -isme, -istiek en -isties wat uit eiename gevorm is, kan met 'n hoofletter of 'n kleinletter begin.") geskrap. In die plek daarvan staan egter die volgende opmerking wat in 'n mate die netjieser aanpak kelder: "'n Gebruik het in (veral) die taalkunde ontstaan om sommige afleidings van taalbenamings met kleinletters te skryf; dit moenie as foutief beskou word nie, byvoorbeeld angiisisme (naas Angiisisme[)]", ensovoorts. Daar sou gevra kon word waarom daar nie beter daarvoor voorsiening gemaak is in 'n reël wat in elk geval wysiging ondergaan het as dit in die taalkunde gebruiklik is nie? Dit sou moontlik meer wenslik wees as die huidige teenstrydigheid wat daaruit voortspruit dat iets soos "Suid-Afrikanisme" volgens die reël met 'n hoofletter gespel moet word, terwyl byvoorbeeld "neerlandisme"/"nederlandisme" (naas "Neerlandisme"/ "Nederlandisme") volgens die betrokke opmerking ook nie as verkeerd beskou moet word nie. Die hele gedeelte oor taalbenaminge en hul afleidings moet dalk in die volgende uitgawe grondig herbekyk word. Nietemin is die insluiting van byvoorbeeld die religiebenaming "Wicca" en die afgeleide naamwoorde "Wiccan"/"wiccan", met kruisverwysing na dieselfde 9.18, weer 'n sinvolle voorbeeld van sowel erkenning (van die betrokke groepering), paradigmatiese volledigheid en die moontlikheid van afleidings uit ander eiename op 'n soortgelyke patroon. Melding moet ook gemaak word van die insluiting van heelparty woorde uit die Islam-leefwêreld, byvoorbeeld in die vorm van "sjaria of sjari'a", en ook uit die leefwêreld van verskeie ander geloofs- en/of kultuurgroepe regdeur AWS11.

Die bostaande voorbeelde en oorsig dien slegs as inleiding tot wat AWS11 aan die Afrikaanse taalgemeenskap bied. Dit kan vir alle taalgebruikers, maar veral vir diegene wat gretig is om (dit wat hulle dink) Standaardafrikaans (is) te verguis, lonend wees om hierdie uitsonderlike taalhulpbron self in die hand te neem, dit grondig te bestudeer en werklik bewus te raak van wat dit is en hoe 'n formidabele stuk werk ten grondslag daarvan lê - dit is die nuutste vergestalting van 'n moderne, omvattende, dinamiese, gestandaardiseerde taalvariëteit wat as hulpbron aan alle lede van die taalgemeenskap beskikbaar is.

Marius Swart
Departement Afrikaans en Nederlands
Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch
(mariusswart@sun.ac.za)

 

 

1. Sekere gegewens en getalle word met dank aangehaal uit dr. Frikkie Lombard se aanbieding Maak kennis met AWS11. Beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/die-aws-100-jaar-middaguurgesprek-video/.
2. Germishuys, G. 2015. 'Skanghagha' nou ook in AWS. Volksblad, 20 April.
3. Odendaal, G. 2017. LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus. Beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-kaaps-fokus/.
4. Luther, J. 2017. Nee, my ou suikerpot, die lewe is nie net skanghagha nie. Beskikbaar by: https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/290-sabela.
5. Vir die doeleindes van hierdie resensie word slegs van die gedrukte weergawe gebruik gemaak. Die bron is ook elektronies verkrygbaar, en die woordelys is ook apart elektronies beskikbaar via die Virtuele Instituut vir Afrikaans se databasis.
6. Bosman, N., E. Taljard en D. Prinsloo. 2017. Honderd jaar Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - 'n Oorsig en waardering. Deel 1: Die woordelys. Tydskrf vir Geesteswetenskappe 57(2-1): 285-301.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons