SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.43 número1Verdunde Tolkien vir die kindersThe plague of Athens índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Literator (Potchefstroom. Online)

versión On-line ISSN 2219-8237
versión impresa ISSN 0258-2279

Literator vol.43 no.1 Mafikeng  2022

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v43i1.1830 

BOOK REVIEW

 

Coelho se werk leef voort in Afrikaans - 'n Resensie van Veronika besluit om te sterf

Coelho's work lives on in Afrikaans - A review of Veronika decides to die

 

Laurinda van Tonder; Herculene Kotzé

School of Languages, Faculty of Humanities, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Veronika besluit om te sterf
Author: Paulo Coelho
ISBN: 978-1-4853-1038-9
Publisher: Protea Boekhuis, 2020, R225.00
*Book price at time of review

 

 

Paulo Coelho se Portugese boek, Veronika decide morrer, is in 1998 gepubliseer en is sedertdien in meer as 50 tale vertaal (Paulo Coelho & Christina Oiticica Foundation, n.d.). Die Afrikaanse weergawe, Veronika besluit om te sterf, wat in Afrikaans deur Kobus Geldenhuys vertaal is, word in 2020 deur Protea Boekhuis uitgegee, en volgens die boek se metadata is dit uit Engels vertaal (ook die geval met Geldenhuys se vertaling van The alchemist). Dit is dus ʼn indirekte vertaling wat die intermediêre teks, Veronika decides to die vertaal deur Margaret Jull Costa, as bronteks gebruik en nie die oorspronklike Veronika decide morrer nie.1 Met bogenoemde as vertrekpunt, is die tekste ondersoek deur die Engelse en Afrikaanse vertalings met mekaar te vergelyk, bykomend tot ʼn ontleding van die Afrikaanse weergawe onafhanklik van die bronteks(te).

Veronika decides to die is ʼn besonders uitdagende boek om te vertaal weens die lang kronkelende sinne, deurdrenk met meervuldige idees, bysinne en syspore. Die Engelse skryfstyl gee die boek ʼn introspektiewe toon wat Veronika se denkproses, afwykings en al, akkuraat weerspieël. Weens die verskil tussen die Engelse en Afrikaanse sintaksis, kan ʼn vertaling van sulke lang, komplekse sinne vinnig in ʼn onduidelike gemors met vreemde sinskonstruksies ontaard. Nietemin het die vertaler van Veronika besluit om te sterf die taak suksesvol aangepak deur die volgorde van sinne om te swaai, sinne op te breek en gedeeltes meer eksplisiet te stel. Die inhoud is maklik om te verstaan en daar is baie min gevalle waar dit moeilik is om die trant van sinne te volg. ʼn Ongelukkige byproduk van die opbreek van die sinne ten gunste van bondige groeperings, is dat die toon van die boek effens verwring word en die stem van Veronika nie so treffend aanwesig is nie.

Afrikaans is ʼn innoverende taal wat spog met interessante en aangrypende uitdrukkings wat ook ruimte laat vir kreatiewe skepping. In die geval van Veronika besluit om te sterf het die vertaler die unieke moontlikhede wat Afrikaans bied, benut en ʼn doelteks geskep wat in baie gevalle selfs meer uitdrukkingsvol as die bronteks is. Alhoewel dit aan die een kant as ʼn afwyking van die bronteks beskou kan word, is dit een van die beste eienskappe van die vertaling. Vertaling as ʼn konsep word uit verskeie invalshoeke deur akademici benader, en die debat oor wat as vertaling (spesifiek goeie vertaling) geld, bied geen eenparige of allesomvattende antwoord nie. Lefevere (1992) beskou vertaling as die herskep van ʼn teks, wat binne die perke van die toepaslike taal en kultuur geskied. Binne dié benaderingswyse kan die vertaler se keuse om veranderinge aan die teks aan te bring, ten einde dit meer natuurlik en gemaklik in die Afrikaans te laat voortleef, beskou word as bloot ʼn keuse eerder as ʼn afwyking.

Uitgesoekte voorbeelde hiervan word in Tabel 1 tot Tabel 3 uiteengesit.

Die keuses wat die vertaler gemaak het, toon dat hy nie buitensporig aan die doelteks gebind voel nie. In die meeste gevalle kan die uittreksels op ʼn meer letterlike manier vertaal word en steeds sinvol bly. Dit blyk dat daar besluit is om die vertaling op ʼn minder direkte wyse te benader en die nodige ruimte te laat om die teks te herskep, deur gebruik te maak van unieke en treffende Afrikaanse gesegdes, uitdrukkings en woorde.

Die onderstaande uittreksels illustreer die mate van beheer wat oor die taalgebruik uitgeoefen word. Verskillende woorde binne dieselfde reeks word in die Afrikaans gebruik in die plek van verbuigings van dieselfde woord soos dit in die Engels verskyn. Die Engelse mad (d.w.s. madmen, madness, mad) word deur middel van drie verskillende Afrikaanse ekwivalente vertaal (waansinniges, kranksinnigheid, sielsiek). Die Engels is treffend, omdat dieselfde woord herhaal word, terwyl die Afrikaans treffend is omdat dit die rykheid van die woordeskatkeuses in Afrikaans ten toon stel.

Wanneer die geleentheid hom voordoen, is daar vindingryke veranderinge aan die teks aangebring. Een so ʼn voorbeeld sluit die bywerk van alliterasie in, waar dit nie in die bronteks voorkom nie.

Veronika besluit om te sterf voldoen in baie opsigte aan die maatstawwe van ʼn goeie vertaling. Die vertaalproses was kreatief, maar tog getrou aan die boodskap van die oorspronklike teks. Daar is egter enkele probleme te bespeur:

'n Vergelykende analise toon aan dat die vertaalbenadering nie deurgaans dieselfde is nie. Alhoewel daar nie verwag kan word dat ʼn vertaler altyd dieselfde vertaalbesluite sal maak nie, kan daar wel verwag word dat die algehele benadering tot die besluite op ʼn konsekwente wyse geskied. Dit wil voorkom asof spesifieke vertaalbesluite en -benaderings op bepaalde plekke voorkeur geniet het en op ander plekke nie. In een gedeelte word ʼn noue bronteksgerigte benadering gevolg, terwyl daar op ʼn ander weer ʼn meer doelteksgerigte benadering gevolg word. Een hoofstuk spog met verduidelikings in 'n poging om betekenis optimaal oor te dra, terwyl ʼn ander op die oog af slegs fokus op pittige sinne met suiwer Afrikaanse uitdrukkings. Die mengelmoes van benaderings versteur die samehang van die teks, omdat dit afwissel - klaarblyklik sonder enige rede.

Die vertaling laat ook gedeeltes van die bronteks uit. In die meeste gevalle is dit slegs kort sinne of gedeeltes van sinne wat nie ʼn uitwerking op die betekenis van die teks het nie, maar daar is enkele gevalle waar groter weglatings voorkom. Op bladsy 63 van die bronteks is daar twee opeenvolgende paragrawe wat baie eenders begin. Die vertaling (op bladsy 83) laat die een paragraaf weg - moontlik omdat dit met die voorafgaande paragraaf verwar is. Die paragraaf lees soos volg:

She pounded on the keys again, and again the dissonant notes reverberated about her. 'I'm mad. I'm allowed to do this. I can hate, I can pound away at the piano. Since when have mental patients known how to play notes in the right order?'

Die weglating van die paragraaf het ʼn groot impak op die betekenis van die spesifieke teksgedeelte. Daarsonder lyk dit of Veronika gaan sit en haar woede onmiddellik wegsmelt. Die waarheid is egter dat sy haar eie woede eers voel en aanvaar, voordat sy dit laat wegvloei.

Verder is daar ook ʼn aantal tikfoute wat gedurende die redigeringsproses deurgeglip het. Voorbeelde hiervan sluit in die stad Vled wat as Bled op bladsy 11 verskyn en die karakter Zedka na wie op bladsy 69 verwys word as Zedna.

Afgesien hiervan, is daar wel aandag geskenk aan die redaksionele proses. Die tipografie in die Afrikaanse vertaling word baie slim aangewend. In die Engelse weergawe word skuinsdruk gebruik om klem te lê op spesifieke woorde, terwyl dieselfde bereik word in die Afrikaans deur die gebruik van diakritiese tekens, spesifiek die akuutaksent op vokale. Dit skep ruimte om skuinsdruk op ʼn ander wyse toe te pas, naamlik om Veronika se interne dialoog te merk sodat die leser kan onderskei wanneer haar gedagtes aan die beurt is. Die Afrikaanse teks is baie makliker om te volg weens die kreatiewe gebruik van tipografie.

In die geheel slaag Geldenhuys daarin om een van Coelho se topverkopers in Afrikaans beskikbaar te stel en dieselfde boodskap en gevoel by die leser te ontlok. Die verdere fyn afronding van die teks soos hierbo voorgestel, sou selfs meer waarde aan die bestaande weergawe verleen het, en dit is daarom ʼn jammerte dat dit nie gedoen is nie - ʼn gesoute leser (veral ʼn aanhanger van Coelho se anderstalige werke) sal die vertaalleemtes steurend vind. Nietemin moet die geweldige taak om so ʼn teks te vertaal, nie onderskat word nie en kan die eindproduk bepaald as 'n sukses beskou word.

 

Literatuurverwysings

Coelho, P., 1999, Veronika decides to die, English translation by Margaret Jull Costa, Thorsons, London.

Coelho, P., 2020, Veronika besluit om te sterf, Afrikaanse vertaling deur Kobus Geldenhuys, Protea Boekhuis, Pretoria.

Lefevre, A., 1992, Translation, rewriting, and the manipulation of literary fame, Routledge, London.

Paulo Coelho & Christina Oiticica Foundation, Veronika decides to die, Paulo Coelho & Christina Oiticica Foundation, viewed n.d., from https://paulocoelhofoundation.com/books/paulo-coelho-veronika-decides-to-die/.

 

 

Correspondence:
Herculene Kotzé,
Herculene.Kotze@nwu.ac.za

 

 

1 . Desnieteenstaande kan daar nie met sekerheid gesê word tot watter mate die vertaler ook die Portugese teks geraadpleeg het nie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons