SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.41 issue1'n Baldadige rit saam met Pieter Fourie se Gert GarriesRosarium: A four-part collage author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.41 n.1 Mafikeng  2020

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v41i1.1687 

BOOK REVIEW

 

Die Wonderwese - 'n klankryke verbeeldingservaring

 

 

Nastasha van Rensburg

History of Art Subject Group, Visual Narratives and Creative Outputs Research Niche, Faculty of Humanities, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die Wonderwese
Author: Carina Stander
ISBN: 978-1-4853-1013-6
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2019, R 240*
*Book price at time of review

Gibor Verberger het al meermale vir sy seun Eron vertel dat 'jy die lewe met jou eie verstand en al honderd jou sintuie moet ontdek'. Carina Stander se boek Die Wonderwese moet met dieselfde benadering aangepak word. Stander se suggestieryke hantering van sintuiglike verbeeldingservaring en die klankrykheid van haar skryfstyl neem die leser op 'n reis van ontdekking saam met Eron Verberger. Die Wonderwese (2019) is die tweede boek wat volg in Stander se Bergengel-trilogie. Stander is 'n kranige digter met twee bundels wat haar Berg-reeks voorafgaan, naamlik Die vloedbos sal weer vlieg (2006) en Woud van nege en negentig vlerke (2009). Sy het as romanskrywer gedebuteer met Wildvreemd (2011).

Die voorblad van Die Wonderwese toon 'n inkskets deur die skrywer, wat die leser reeds begin wegvoer na die avontuurreis waarop Eron hulle gaan neem. Die illustrasie verbeeld die magiese Wonderwese-figuur waarvan lesers in die eerste boek Die Bergengel slegs al gehoor het. Die vervlegte doringtakke, vlietende voëls en diggeweefde woud-agtergrond word van 'n engelfiguur op die voorgrond vergesel. In die woudagtige plantasie kan 'n mens die karakters Eron Verberger en Velvel Azazel (die antagonis) waarneem. Aansluitend by die titel en 'n aanhaling op die voorplat, verskaf die voorwoord 'n uiteensetting van die oorsprong en betekenis van die woord Wonderwese.

In Die Bergengel (2017) volg die leser Eron en Gibor Verberger op 'n klokreis nadat Eron die eerste keer van aangesig tot aangesig te staan kom voor die goëlkunstenaar, wat as Verbluffende Bluffer, Reënboogmaker en Velvel Azazel bekend staan. Nadat Eron uit Velvel se lokval in Nisistad ontsnap, moet hy met sy pa by die Waterplek probeer herenig. Ons volg Eron op sy reistogte en sien hoe die jong klokgieter sy eie volwassewordingsreis aanpak. In Die Bergengel vind ons uit dat Gibor Verberger die agt-en-negentigste Bergengel van Gabriëllië is en dat die Verberger-familie deel is van 'n geheime rewolusie teen Vuurstorms. Dit is juis hierdie wending wat daartoe lei dat Eron as voetwerker vir die Rewolusie teen Vuurstorms moet optree en die Agt Geseëndes vind soos versoek in sy pa se brief.

In Die Wonderwese volg die leser Eron op sy veeleisende tog om die res van die Geseëndes te vind en die Vuurstorm met die hulp van die Wonderwese te beveg. Eron se verminkte hand kry hom nie onder nie, en hy gaan voort om bosagtige streke en uitdagende bergreekse te oorkruis, ongeleerdes en kundiges te ontmoet, wolftroppe te ontvlug en vriende te versamel. Wanneer die boeinde narratiewe dekmantel teruggetrek word, blyk dit dat Die Wonderwese onderwerpe soos ekokritiek en mensehandel takel. Stander se vermoë om werklike probleme in die wêreld te belig in die vorm van 'n avontuurverhaal, is ontsagwekkend.

Die Wonderwese is 'n enigmatiese, avontuurryke en byna poëtiese werk. As fantasieverhaal maak dit deurlopend gebruik van simboliek, allegorieë vanuit Bybelboeke en vindingryke metaforiek, wat tot die andersheid van die roman bydra. Die narratief maak ook van genreverbuiging gebruik, gedra deur die intrinsieke magiese realisme wat deurgaans te vinde is. Die denksfeer wat die leser betree, is met diggeweefde natuurelemente en emotiewe vokalisering gevul, wat jou met die natuur, sowel as die menslike natuur konfronteer.

Die Wonderwese moet egter as 'n narratiewe kunswerk gelees en geïnterpreteer word. Die taal- en woordgebruik is voortreflik en die liriese aard van die teks moet geprys, eerder as gekritiseer word. Die verhoudings tussen pa en seun, natuur en mens, vriendskap en romanse staan sentraal in die roman. Lees gerus Die Wonderwese, maar onthou om ál jou sintuie in te span om hierdie vervlegte heiligdom te ontrafel.

 

 

Correspondence:
Nastasha van Rensburg
nastashavanrensburg@gmail.com

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License