SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 issue1Reframing migrant identities: Namelessness and impersonation in Dinaw Mengestu's All Our NamesDie medereisiger wat sin aan die reis gee author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.40 n.1 Mafikeng  2019

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v40i1.1624 

BOOK REVIEW

 

Op die spoor van die verlede

 

 

Neil van Heerden

Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa, Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Tweespoor
Author: Helena Gunter
ISBN: 978-1-4853-0931-4
Publisher: Protea Boekhuis, 2018, R180*
*Book price at time of review

Tweespoor (2018) van Helena Gunter is 'n dubbelloop-bundel wat bestaan uit twee min of meer selfstandige kortverhaalsiklusse. Ek gebruik die begrip, kortverhaalsiklus, hier na aanleiding van Cochrane en Botes (2011) om te verwys na 'n reeks kortverhale wat losweg deur 'n aantal bindingsmerkers aan mekaar verbind word - vernaam die figurering van 'n kontinue hoofkarakter.

Die eerste verhaalsiklus draai om die hoofkarakter, Tilla, en omvat vier grepe uit haar grootword-jare op die platteland: 'Diefstal' handel oor Tilla se molestering as jong meisie aan die hand van die walglike oom Trapinniegaatjie; 'Kapokeiers' handel oor 'n hewige pak slae wat sy en haar sussie een keer ontvang het (maar wat eintlik dui op haar ma se onvergenoegdheid met die plaaslewe); in 'Padkos' gaan dit oor die onderliggende spanning en prekêre versoening tussen ma en pa nadat laasgenoemde 'n buite-egtelike verhouding aangeknoop het; 'Ons diamant' beskryf laastens pa se psigiese agteruitgang (hy beleef 'n 'senu-ineenstorting') deur die oë van 'n jong Tilla.

Al vier die verhale eindig telkens met 'n voorwaartse tydsprong na waar Tilla as ouer vrou terugdink aan die betrokke gebeure uit haar jeug. Jy as leser reis dus telkens saam met Tilla, terug op die stowwerige spoor van haar verlede en herleef al die oomblikke van ysige spanning en subtiele kwetsing - maar eweneens ook die oomblikke van doodmenslike broosheid en vertedering - in al hul geskakeerdheid.

Die tweede siklus dra die titel 'Angelus Novus Africanus' (meer hieromtrent in 'n volgende paragraaf) en handel oor die eksistensiële krisis van 'n 'middeljarige wit vrou van Afrika' (bl. 67) met die naam Fransina.

Fransina is 'n afgetrede onderwyser met 'n uitgebreide woordeskat en 'n skerp - dikwels wrang - sin vir humor. Sy geniet klaarblyklik 'n gemaklike bestaan in 'die Bolandse dorp met die wit mure' (bl. 70) en al die voordele van sogenaamde wit bevoorregting, maar sy voel oorbodig, vervreem en misnoeg in die hedendaagse Suid-Afrika. Só ontnugter is sy deur haar omstandighede dat Fransina selfs allerhande maniere ondersoek om haar eie lewe te neem. 'Eksistensieel-bedonnerd' is hoe haar susters haar beskryf (bl. 71), maar ek is onwillekeurig dol oor haar.

Dan word Fransina en haar man die slagoffers van 'n kaping en word sy gewelddadig verkrag (vergelyk die ironies getitelde, 'Plesierrit'). Asof met 'n yspik - soos wat Kafka se bekende analogie lui (bl. 119) - is Gunter se beskrywing van hierdie ontbering onherroeplik in my geheue ingekap. Dit veroorsaak uiteraard ook 'n ingrypende wending in Fransina se lewensuitkyk en die laaste vyf verhale in die siklus ('Man met tamaties', 'Landmyn', 'Tussen sterre', 'Opvaart' en 'Naskrif') handel oor haar gevolglike (soeke na) katarsis.

Tilla en Fransina se stories oorvleuel nêrens uitdruklik nie, en daar kan miskien gevra word of die twee siklusse nie elk 'n bundel van hul eie regverdig nie. Die jukstaponering van Tilla en Fransina se uiteenlopende leefwêrelde (die tradisionele plaasmilieu teenoor 'n meer eietydse, voorstedelike ruimte) en karakterisering demonstreer wel bo twyfel die skrywer se veelsydigheid. Daar is ook belangrike tematiese raakpunte. Vergelyk in hierdie opsig die motto voorin, 'n aanhaling uit Dan Sleigh se 1795: 'Praat met die verlede, dáár sal jy leer.'

Ons sien hoedat Tilla telkens die verlede herbesoek, en Fransina redeneer insgelyks in een stadium: 'Ja, van alle mense behoort sy dít te weet: Jy kan nie kop of stert uitmaak van die nóú as jy nie die tóé onder die knie het nie.' (bl. 85).

Daarby kan ook melding gemaak word van die betekenisryke omslag, want op die voorblad is 'n afdruk van 'n Paul Klee-olieverfskildery (1920) getiteld, 'Angelus Novus'. Dit lyk asof die skildery in bruinpapier toegedraai is en die bruinpapier oopgeskeur word - soos 'n soort palimpses waarvan die boonste laag afgeskil word.

As ek een puntenerige stukkie kritiek ten opsigte van die omslagontwerp mag opper: Die lae-resolusie grafika wat gebruik is - veral merkbaar in die gepiekseleerde rande van die bruinpapier - kan die boek gou goedkoop laat lyk. Dit sal jammer wees, want die verhale sélf is dit allermins.

Op bl. 66 kry ons dan 'n verduideliking van die Klee-interteks: Die titel van die Fransina-siklus is daardeur geïnspireer, en meer spesifiek deur 'n vertaalde aanhaling van 'n passasie daaroor uit Walter Benjamin se Über den Begriff der Geschichte (1940) wat op sy beurt in die digbundel Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle van Andries Bezuidenhout (2014) teruggevind word. Ek haal kortliks aan:

Waar iets vir ons soos die ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy [die engel-figuur in die skildery] 'n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. (bl. 66)

Hierdie aanhaling verwoord myns insiens die bundeltema onverbeterlik. Die lewe ontplooi nie noodwendig as 'n netjiese, samehangende storie of 'plot' nie. Dit is in werklikheid meer soos die opeenstapeling van wrakstukke voor ons voete: 'n onophoudelike stroom grepe, gebeurtenisse en herinneringe. Dikwels onthutsend. Soms ontroerend. Meestal onvoorspelbaar. Soos die verhale in Tweespoor.

Juis dáárom is die kortverhaalgenre miskien so 'n geskikte voertuig waarmee ons die menslike kondisie kan verken en - soos Tilla en Fransina - op die spoor van die verlede kan teruggaan.

 

Literatuurverwysings

Bezuidenhout, A., 2014, Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, Protea Boekhuis, Pretoria.

Botes, N. & Cochrane, N., 2011, 'Generiese merkers in die kortverhaalsiklus, Deel 1, Teoretiese uitgangspunte', LitNet Akademies 8(2), 112-151.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Neil van Heerden
vheern@unisa.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License