SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 número1Literêre subtiliteite onder 'n growwe oppervlakVan Dis is terug índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.40 no.1 Mafikeng  2019

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v40i1.1594 

BOOK REVIEW

 

Uittogboek - 'n ryk boek vir jou laaste reis

 

 

Hein Viljoen

Unit for Languages and Literature in the South African Context, Faculty of Humanities, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence

 

 

 

 

Book Title: Uittogboek
Author: Johan Myburg
ISBN: 978-1-4853-07766-1
Publisher: Pretoria, Protea, 2017, R195*
*Book price at time of review

Johan Myburg se vierde bundel, Uittogboek (2017), is besonder erudiet en geleerd. Na die kort flitsmomente in sy debuutbundel Vlugskrif (Perskor, 1984) en die sterk religieuse laag in Kontrafak (Human & Rousseau, 1994), volg die oorwoë bundel Kamermusiek (Lapa, 2008). Deurlopende lyne in sy werk is musiek en musiektaal, klem op die visuele, 'n bemoeienis met tuine en ook 'n ryk intellektuele verwysingswêreld.

Tipies hiervan is dat Uittogboek open met 'animula vagula blandula', 'n Latynse gedig wat keiser Hadrianus vermoedelik op sy sterfbed geskryf het en waarin hy afskeid neem van sy siel. Naas Romeins is die bundel se verwysingswêreld ook Europees, Arabies en veral Egipties, wat van die leser 'n speurtog deur Wikipedia en die Internet verg. Wat lateraan duidelik word, is dat die bundel ook 'n verkenning is van vreemdheid, vervreemding en die liminale toestand tussen kwesbaarheid en geborgenheid.

Die digter werk die duisterheid van die opdraggedig dadelik teen deur sy eie vertaling by die honderde vertalings daarvan te voeg:

animula vagula blandula

liewerdste klein swerwersiel

metgesel en gas van die lyf

waarheen mik jy nou: 'n oord

waar jy kaal en koud en styf

geen grap meer kan verwoord

Dit is nie, soos Helize van Vuuren (2017) meen, 'n verafrikaansing van die invloedryke vertaling deur Marguerite Yourcenar in haar roman Mémoires d'Hadrien (1951), 'n denkbeeldige biografie van die keiser nie. Dit is Myburg se eie vertaling, waarmee hy sy werk in 'n hele netwerk van intertekste plaas, vertalings deur onder andere John Donne, Pope, Byron, en opsetlik aweregs deur Ezra Pound. Myburg rakel hierdie netwerk op in 'Memoires' (bl. 15) waarin hy vir Hadrianus in die taal van Yourcenar aan die woord stel. Hadrianus getuig hier van 'n wêreld wat aan die verbygaan is, al bly hy klou aan die gedagte dat sekere enkelinge in die loop van die geskiedenis sal bly uitstaan.

Die hele eerste afdeling stel trouens die figuur van die keiser en sy bespiegelinge oor die dood sentraal. Die digter identifiseer direk met die keiser self in 'Hadrianus' (bl. 13). Die kwesbaarheid van sy liggaam lei tot 'n besinning oor die dood en die verwoording daarvan wat ek as die kern van die bundel beskou:

My memoires

is terugskouend blote tanatografie. Tussen die ek

wat hier skryf en die lewe wat ek dalk sal hê

gaap hierdie woorde op papier.

Die bundel is in 'n sterk mate 'n geskryf oor thanatos, die dood; 'n opskryf van die dood; die skryf van gedigte om verval en die dood teen te werk. Die gaping, die leemte, die leë liminale toestand is ook 'n belangrike gegewe in die bundel. Die gaping kan ook 'n wond wees, maar min gedigte verwoord die verval so treffend soos 'Kennisgewing' (bl. 10), waarin die digter sy eie nalatenskap beskryf, en dit bestaan hoofsaaklik uit sy vervalle huis:

Hy word oorleef deur stygende vog in bros

mure vrotter wordende plafonne muf agter

rakke boeke laaie vergeelde papiere.

Hierdie ruimte waarvan die digter die verval met herhaalde ô-klanke uitdruk, is kennelik leeg - die digter is afwesig.

Die lyf, die korpus, is instrinsiek deel van die besinning oor die dood en oor vreemdheid, wat opvallend is in afdeling II. Hierdie afdeling bestaan uit ses gedigte onder die titel 'Fremdkörper'. Fremdkörper is letterlik vreemde liggame of voorwerpe wat in die liggaam van 'n organisme aangetref word. Oordragtelik beteken dit, soos hier, vreemde elemente wat in die land of die kultuur opgeneem raak, soos uitheemse plante.

Myburg gebruik die jakaranda as prototipe daarvan, maar besin ook oor die vreemde inheemsheid van sy ma se dahlias, wat per slot van rekening ingevoerde hibriede is. Die gedig is ingegee deur Jamaica Kincaid se artikel oor dahlias in die New Yorker van 1992.

In die slotgedig van die reeks is dit die spreker self wat met sy 'pakkaas' 'n vreemde liggaam in sy omgewing geword het, 'gemaak vir migreer'. 'Hier staan ek. Ek kan nie anders nie', begin hy ironies, maar eindig met 'n staan en 'bedink hoe ánders om vreemdheid as die voorhande te formuleer'. 'Formuleer' is hier die laaste woord in 'n reeks rymende -eer-woorde, vanaf 'meer' oor 'leer' en 'verweer', tot by 'migreer', 'negeer', 'stagneer'. Die slotfrase kom so reg uit Heidegger - 'n frase wat die paradoks van die vreemdheid van wat voorhande is vir die eksisterende 'ek' probeer vasvang. Dit is 'n frase ingewikkeld vol filosofiese eggo's van 'wees' en 'bestaan' - of dalk 'die wesende'. Inderdaad, 'g'n land vir 'n ou man' nie. Hierdie gedig is een van die gaafste formulerings in die bundel van die kwesbaarheid van die ouer wordende subjek - en van die mens in die algemeen.

Kwesbaarheid is ook die tema van afdeling III, wat sowel 'die voorspooksels die omens van die ouderdom' as kuriositeite 'teen vergeet' bevat, soos dit staan in 'Vertoonkas' (bl. 27). Die gedig is 'n herinnering aan 'n vrou se 'menagerie van porselein' en ander lukraak versamelde snuisterye wat egter deur die spreker se voetstappe begin vibreer en beweeg. Hierdie beweging word geëggo in die gedig se dinamiese sintaksis, die vloei van sinne oor die verseindes heen, weer rondom 'n reeks rymwoorde op die morfeem -eer as stolpunte.

Die gedig is ook vol intertekstuele eggo's. In die frase 'in die hande van die klein kaptein sweerlik 'n narwalspeer' hoor ek eggo's van sprokies, Paul Biegel, Herman Melville en Van Wyk Louw. Die grillige versameling onderstreep ook 'n ander element van die bundel, en dit is die esteties-dekadente karakter daarvan; die instelling op bewus gekonstrueerde skoonheid by al die postmoderne relatiwiteit wat dit kenmerk. Helize van Vuuren (2017) oordeel negatief oor die hiperbewustheid van die bundel, en ervaar 'iets moegs, iets déjà-vu' in die bundel. As bewus gemaakte kuns weerspreek die bundel m.i. hierdie indruk, met name in die gedigte oor Venesië wat Van Vuuren as presieus beskou.

Hierdie gedigte staan in afdeling IV wat plekke en stede aan die orde stel, vanaf Jozi, oor Düsseldorf via Potchefstroom tot by Venesië. Dit is meestal plekke van tussentoestande, soos die eerste gedig, 'Idille' (bl. 37), oor die 'rojale aantog van die skemeruur' onthul: 'die son nog hoog maar onafwendbaar aan 't taan'. Die gedigte oor Venesië is aanvanklik raaiselagtig, want 'Passacaglia' (bl. 45) het byvoorbeeld niks met musiek te make nie, maar wel met die stad se water en die 'lesse' wat dit 'oorgeneem het van verf' en van die skilders wat hulle kwasse en hande daarin afgespoel het. Soos wat 'n passacaglia 'n reeks variasies op 'n herhaalde baspatroon is, is die gedig 'n klompie variasies op die water van Venisië. Die digter herskryf die water egter in skildersterme, skildersmetafore. So byvoorbeeld 'verbloem' die water wat 'self kunstenaar is' 'teen skemer in 'n warreling lyn in wolkakwarelle'. Die gedig is kortom 'n gewaagde (en geslaagde!) eksperiment in intermedialiteit: dit skryf oor die water in 'n musiekvorm, maar in skilderstaal. Die water 'swart, viskeus soos olie' kan ten slotte 'filmies met lig en skadu speel'. So sluit hierdie gedig aan by die reeks ekfrastiese gedigte 'Skilder met woorde' in afdeling III.

Soos in sy ander bundels skryf Myburg hier ook 'n aantal tuingedigte - 'n motief wat deurloop vanaf 'Pastoraal' in sy eerste bundel. Die tuingedigte in afdeling V bring hulde aan herinnering as beswering teen dood en verval, maar dra andersyds juis tekens van verval. Die doel van 'n tuin 'is geborgenheid en gerief', volgens Myburg se verwerking van 'Kitab al-filaha', 'n Arabiese handleiding oor landbou uit die 12de eeu (bl. 56). Tuinmaak word in hierdie afdeling sterk aan skryf verbind, nes in die huldegedig aan T.T. Cloete, 'Reitzstraat, Potchefstroom' (bl. 44). Die digter moet 'die taal van tuin [leer] lees'; die 'boeket van tuine' leer rym met 'die toorkrag van 'n rymende koeplet', soos hy dit hier formuleer.

Tuinmaak en skryf is albei vorme van bewus gekonstrueerde skoonheid. Dit blyk ook uit die 'Prelude' (bl. 51) tot afdeling V, waarin die tuin 'droewig' maar vindingryk herbeskryf word in die taal van musiek en dans, maar ook met tekens van ondergang en apokalips: 'die liewe olyf is 'n klein kernontploffing'. Die reeks Ombrai mai fu (bl. 52-53) verheerlik bome en die twee gedigte oor die hadida vier die paradoksale aard van hierdie 'agent van Toth' - die Egiptiese god wat afgebeeld word met die kop van 'n ibis, arbiter oor geskille tussen die gode en god van toorkuns, skryfkuns en wetenskap en beoordelaar van siele. In 'Sentripetaal' en 'Mater hortensis' (Latyn 'vir moeder van die tuin') bring die digter ontroerend hulde aan sy ouers. In albei gedigte speel lemme 'n sentrale rol: die pa se 'dungeslypte' knipmes en die ma se lem 'wat skerp kan sny, kan fatsoeneer' volgens haar leuse dat bome en struike se wildgroei getem moet word. Besig met fatsoeneer, is die spreker egter bewus van die groeikrag in die bome wat sy pogings sal 'oorwoeker'.

Dié afdeling eindig ironies met 'Gereedskap' - 'n gedig waarin die spreker sy tuingereedskap sorgvuldig skoonmaak en slyp, selfs al kan hulle teen hom gebruik word, maar nie verstaan wat gereedheid beteken nie, en eerder sit en kyk 'hoe alles om my ten gronde gaan'. Die bundel onderstreep telkens die relatiwiteit van menslike pogings en planne.

Afdeling VI bevat liefdesgedigte, deels van vervulde liefde, maar hoofsaaklik van afstand, verlange en die moontlikheid van verlies. Die eerste reeks, 'Infinitiewe briewe' (bl. 65 e.v.), bevat gedigte wat uitreik na die oneindigheid en daarvoor ook die einders van die taal probeer versit met 'n fyn spel van woorde. Om anders te probeer formuleer, lui dit, is 'om myself te begryp begryp te word 'n greep te kry op nuwer woorde skat'.

Die spelling word doelbewus gemanipuleer in 'n poging 'om te kreet'. Dit gaan, soos die derde gedig laat blyk, oor 'nuanses, innuendo's en nagelate frases', oor 'ongehoorde woorde' - dit wat nie gesê word nie, maar agter of tussen die woorde opgeroep of gesuggereer word. Dit gaan nie oor 'besit' nie, maar eerder oor afwesigheid, 'verlang'. Die digter probeer die geliefde se moontlike verdwyning teen te werk in en deur taal, soos uit 'Scherzo' (bl. 71) blyk.

In die reeks 'Gloorliedere' speel die digter vindingryk met die eeue-oue tradisie van aubades of daeraadsliedere: liedere waarin die koms van die dag die geliefdes dwing om afskeid van mekaar te neem. Die daglumier word meedoënloos gerym op 'gier' - 'n vyandige aanwesigheid wat die geliefdes bedreig soos 'n menigte 'met klippe in die hand'. In dieselfde trant word 'n lugtige episode uit die Decamerone tot 'n hartseerder einde omgedig. Die slotindruk van die reeks is egter een van voldoening na 'n nag van liefde.

In die laaste afdeling van die bundel keer die figuur van Hadrianus terug in gedigte waarin die digter die Egiptiese Dodeboek en die Egiptiese gode oproep. Sy bundel is dus ook, soos hy die Dodeboek in 'Prosopopeia' beskryf, 'kwotasies as 'n soort gids deur die git van die onbekende', want die Egiptiese Dodeboek is 'n reeks hulpmiddels en inkantasies om die afgestorwene te help op sy tog deur die doderyk. Hierdie gedig sinspeel op 'n greep uit die Egiptiese Dodeboek waarin Anubis die hart van die afgestorwene weeg met 'n veer in die ander pan van die skaal.

Die slotafdeling onderstreep dus die donker tema van die dood; die sterk bewussyn van verbygaan, aftakeling en verval - liggaamlik maar ook in die huis en die tuin - maar dit is deel van 'n wyer tematiek van ingeperk wees teenoor vry of oop, infinitief teenoor eindig, vreemd en ontheemd teenoor geborge. Die reeks 'Kiskwatryne' in die laaste afdeling (bl. 89) is 'n soort kulminasiepunt hiervan. Die spreker, soos algaande duidelik word, is die gebalsemde liggaam in die kis in gesprek met sy hart. Die lyf probeer nog steeds om merke, tekens agter te laat. In die slotkwatryn laat die siel ook, 'tans nog uilend in hoë bome', 'sy laaste merk' op die lyf wat ''n blanko vel' geword het. Tekens, skrif is al wat oorbly.

Vanselfsprekend kan die digter met sy slim en meevoerende verskuns nie die dood besweer kry nie. Die digter is bewus van sy kunstenaarskap. Die woord 'oprakel' is 'n kenmerkende woord vir die bundel, want 'een woord rakel meteen verwante woorde op, kalante van dieselfde stoffasie' ('Medepligtige', bl. 33). Soos 'roet wroet [roep]' word musiek en musiektaal ingevleg in die gedigte, parallel aan die wyse waarop die spreker die geliefde se afwesigheid hoor 'trotzdem ingevleg in 'n toonsoort' ('Spätsommerstag', bl. 42).

'Klanke vorm 'n eselsbrug oor die onbekende in', verduidelik die spreker in 'MB3'. 'Woorde [lok] ander woorde', klank is 'lokaas vir ritme', en die proses lei tot sinne en tot skryf van die self in die lewe in (maar ook daaruit). Dit verklaar waarom Myburg se gedigte ryk is aan klank en aan fyn maar effektiewe rymwoorde. Soos uit laasgenoemde gedig ook blyk, word die digter se eksperimente met tema, vorm en klank deur 'n dinamiese organiserende sintaksis gedra.

Uittogboek is 'n uitdagende bundel, maar ook 'n bundel wat die leser veel leesplesier verskaf. Die ontrafeling van die ryk web van intertekste is 'n intellektuele plesier, maar die bundel ontroer die leser ook met sy sprekende verwoording van agteruitgang en verval. Dit is vol sterk gedigte uit die hand van 'n ervare verskunstenaar. Dit is kortom 'n boek wat die leser gerus kan saamneem ter voorbereiding op die finale uittog.

 

Erkenning

Die navorsing vir hierdie resensie is gedeeltelik befonds uit insentiefgeld bewillig deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika.

 

Literatuurverwysings

Kincaid, J., 1992, 'Flowers of evil', New Yorker, 05 October, p. 154.

Myburg, J., 1984, Vlugskrif, Perskor, Johannesburg.

Myburg, J., 1994, Kontrafak, Human & Rousseau, Kaapstad.

Myburg, J., 2008, Kamermusiek, Lapa Uitgewers, Pretoria.

Myburg, J., 2017, Uittogboek, Protea Boekhuis, Pretoria.

Van Vuuren, H., 2017, 'Uittogboek deur Johan Myburg: 'n Resensie', LitNet, geraadpleeg 15 Februarie 2019, https://www.litnet.co.za/uittogboek-deur-johan-myburg-n-resensie/

Yourcenar, M., 1951, Mémoires d'Hadrien [Memoirs of Hadrian], Farrar, Straus and Giroux, New York, NY.

 

 

Correspondence:
Hein Viljoen
hein.viljoen@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons