SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 número1Character (and absence) as a narrative key in installation artUittogboek - 'n ryk boek vir jou laaste reis índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.40 no.1 Mafikeng  2019

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v40i1.1588 

BOOK REVIEW

 

Literêre subtiliteite onder 'n growwe oppervlak

 

 

Gerdus Senekal

kademia Uitgewery, Centurion, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die helaasheid van die dinge
Author: Dimitri Verhulst (vertl. Daniel Hugo)
ISBN: 978-1-4853-0711-2
Publisher: Protea Boekhuis, 2018, R225*
*Book price at time of review

Die oorspronklike teks, die Vlaamse skrywer Dimitri Verhulst se De helaasheid der dingen, verskyn reeds in 2006. Die boek is positief deur kritici en lesers in die Lae Lande ontvang. Of dít die publikasie as 'n seminale teks daarstel, een waarvan toegang daartoe meer as 'n dekade later vir die Afrikaanse leser verrykkend is, is egter 'n ope vraag.

Die boek bekyk die lewe van Dimitri Verhulst (daar word nie hier daarop ingegaan tot watter mate die verhaal werklik outobiografies is nie), 'n laerskoolseun wat saam met sy dranksugtige pa en drie ooms op 'n Vlaamse dorpie woon. Omdat hierdie mans selferkende - en trotse - deugniete is, bly hulle in Dimitri se ouma se huis, welke arme vrou hulle van drank bevuilde onderbroeke moet was en van tyd tot tyd in die nag deur die polisie wakker geklop moet word om te hoor dat een van haar seuns in 'n komateuse toestand in die hospitaal opgeneem is.

Hulle verafgod Roy Orbison, wie se 'tragiese lewe' goed met hulle eie triestigheid versoenbaar is. Vir hierdie mans is drankmisbruik 'n werklikheidsbeskouing; dit bepaal hulle menseverhoudings ('wie se naam ons skaars geken het en van wie se drinkvermoëns ons nog minder geweet het', bl. 10) en ideologie ('As die moontlikheid dreig dat ons weens onvoorsiene spaarsamigheid die einde van die maand met 'n finansiële oorskot gaan haal, trek hy sy bankrekening leeg en suip hy sy volle salaris uit om ons te beskerm teen die verleiding van die kapitalisme', bl. 11).

Deur tydspronge heen leer ons dat Dimitri uiteindelik deur kindersorg uit sy twyfelagtige omstandighede weggeneem word. Hierdie maatskaplike ingryping hou 'n betekenisvolle literêre konnotasie in. As kind tussen die drankverslaafde mans word daar uitsluitlik van 'ons' gepraat - en dan in die Verhulsts se bepaalde dialek. Dit is nie Dimitri, of Pierre, of Potrel wat bestaan nie, maar 'onse Dimitri', 'onse Pierre' en 'ons Potrel', Wat met een lid van die stam gebeur, gebeur op 'n manier met almal. Hulle is verenig in hulle nare droewigheid. Die skeiding wat die tussenkoms van kindersorg veroorsaak, maak egter van Dimitri 'n individu wat meer met die samelewing belyn is, 'n 'ek' wat standaard-Nederlands besig.1

By die resenseer van 'n vertaalde werk wil 'n mens poog om nie té pedanties te wees nie - veral omdat die algemene leser waarskynlik nie toegang tot die oorspronklike teks het nie. Gegewe die familieverband tussen die bron- en doeltale in hierdie geval, is daar egter enkele notas te maak. Trouens, selfs die Afrikaanse leser wat nie eers rakelings met die Nederlandse taal bekend is nie, sal die versteurings in die teks se vloei opmerk en ongevraagd herinner word dat hulle 'n vertaling lees.

Met inagname daarvan dat dit hier om 'n laer sosiale klas gaan, val die gebruik van 'gediskusseer' (bl. 21) as vertaling van 'gepalaverd' vreemd op. In die eerste plek word 'palawer' as Afrikaanse ekwivalent van die Nederlands erken, en tweedens kon daar waarskynlik - gegewe die Verhulsts se belesenheid - bloot by 'gedebatteer' volstaan word. Die direkte behoud van 'ja, tante' (onderskeidelik bl. 25 en bl. 28) is ook hinderlik. In Afrikaans, en veral aan die spreekwoordelike verkeerde kant van die treinspoor, sal eerder net 'ja, tannie' (of dalk selfs 'antie') gehoor word.

Ander beuselagtighede wat die vertaling deur Daniel Hugo aanbetref, sluit in verwysings na 'n dame se onderklere wat in Afrikaans eerder panty word. (Dit is weereens lastig, aangesien 'onderklere' heeltemal voldoende sou wees, en iemand wat 'tante' sê waarskynlik nie van panties gaan praat nie). Engels seëvier ook in die vertaling waar Elvis Costello se pseudo-intellektuele 'uitstraling' in Afrikaans sy pose (bl. 75) is, waar poster (bl. 100) nie 'plakkaat' word nie, die leser met 'non-stop-ryende treintjies' (bl. 125) tevrede moet wees, waar sorry (bl. 125) maar so bly, en waar daar na Duitse 'televisie-shows' (bl. 140) eerder as (televisie)programme gekyk word.

Die welwillende leser sou kon aanneem dat hierdie Engelse gebruike ten doel het om iets van die Verhulsts se dialek en sosiale stand weer te gee. Uiteindelik voel hierdie gevalle egter meer soos terloopse nagedagtes, aangesien dit nie konsekwent en deurlopend genoeg gebruik word om oortuigend te wees nie.

Die Verhulsts se besoek aan 'n niksvermoedende Irannese paartjie (hulle gaan kyk na 'n uitsending van Roy Orbison daar, aangesien ouma se televisie onteien is weens die mans se drank- en dobbelskuld) is wel uitstekend idiomaties vertaal. Die gaste se neerhalende, gebroke manier van praat (soos wat baie Afrikaanses maak wanneer hulle met bepaalde groepe in Afrikaans kommunikeer) is erg ironies, aangesien die buitelanders se taalbeheersing aansienlik beter en meer verfyn is.

Die helaasheid van die dinge word volgens die reklameteks aangebied as 'n 'pragtige ode aan [] en 'n skreeusnaakse afrekening met' die skrywer se jeug. Uiteindelik is hierdie vertaling na my mening nóg pragtig (of 'n tipiese ode), nóg skreeusnaaks, maar is daar wel elemente hiervan. Die stukke oor Dimitri se pa se poging tot vaderskap, wanneer hy sy seun se drafstokperdjie probeer ondersteun, is roerend, en so ook Dimitri se afskeid van sy ouma. Die hoofstuk waar die Tour de France in terme van drank aangepak word, is ook goed geskryf en stel 'n stewige stuk donker komedie daar. Uiteindelik verberg Die helaasheid van die dinge heelwat literêre subtiliteite onder 'n growwe oppervlak, maar die deursnitleser sal moontlik nie juis moeite wil doen om dié vrugte te pluk nie.

 

 

Correspondence:
Gerdus Senekal
gerdus@akademia.ac.za

 

 

1 . Die kwessie en gebruik van dialek het in die Afrikaanse weergawe effens uitgesak. ʼn Meer indringende essay sou kon ingaan op die kwessie van dialek, wat ʼn belangrike sosio-ekonomiese bepaler - ook veral ten opsigte van die 'ons' (interafhanklike, selfvernietigende familiestam) versus 'ek' (selfstandige, sosiaal aanvaarbare individu) - in die roman daarstel.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons